SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue1Sustainability reporting in the mining sector: identifying critical issuesThe interactive approach to reading instruction: an alternative to traditional ways of teaching reading author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 n.1 Pretoria Mar. 2011

 

AKTUEEL

 

Demografie - die toekoms wat reeds gebeur het: wêreldtendense met spesiale verwysing na Suid-Afrika*

 

 

Flip Smit

Kareesmit@mweb.co.za

 

 

"Demography is destiny'
Auguste Compte

"Demography is the future that happened"
Peter Drucker

1. INLEIDING

Bevolking is 'n land se belangrikste natuurlike hulpbron. Demografi ese struktuurveranderinge hou derhalwe verreikende sosio-ekonomiese en politieke implikasies in. Ontleding van die uitdagings van die toekoms wentel tot 'n groot mate om die bevolkingsgroei - samestelling en veranderinge daarin.

Prof. Peter Drucker, wêreldbekende bestuurskundige, is reg wanneer hy verklaar dat demografie die toekoms is wat reeds gebeur het.

Kinders wat vandag gebore word, vra oor ses jaar skoolonderrig en oor agtien jaar naskoolse opleiding of 'n werkgeleentheid. Die atoombomskok op Japan het veroorsaak dat die land nie ten volle die "baby boom" soos meeste ander lande na die Tweede Wêreldoorlog beleef het nie. Lae bevolkingsgroei en veroudering is gedeeltelik daarvoor verantwoordelik dat die land onlangs sy posisie as tweede ekonomiese moondheid aan China afgestaan het.

Bevolkingsgroei korreleer sterk met faktore soos ekonomiese voorspoed, die toetrede van vroue tot die arbeidsmark en politieke onstabiliteit. In dié verband het prof. Sadie byvoorbeeld uitgewys dat die vinnige daling in Afrikaner-geboortes gedurende 1975-80 "... ongetwyfeld aan politieke oproer van daardie tyd gewyt (moet) word" (Sadie 1998:20).

Die Afrikaners se inkome het tussen 1948 en 1974 bykans vier-voudig toegeneem en dit het ook geboortekoerse vinnig laat daal.

Figuur 1 toon dié daling in Totale Fertiliteit en is tot 'n groot mate daarvoor verantwoordelik dat die wit bevolking in Suid-Afrika in absolute en relatiewe terme dalende neigings toon.

 

2. SA: 'N SPIEËLBEELD VAN DIE WÊRELD

Demografies gesproke is Suid-Afrika in vele opsigte 'n spieëlbeeld, 'n mikrokosmos, van die wêreld. Die belangrikste ooreenkomste kan soos volg saamgevat word:

• Daar is ongelyke bevolkingsgroei tussen wit en swart mense in Suid-Afrika. Die ontwikkelde of ryk lande van die wêreld ondervind geringe groei of selfs afnames, terwyl 97% van die wêreld se bevolkingsgroei tot 2050 in ontwikkelende of arm lande sal plaasvind.

• Alhoewel fertiliteit 'n dalende neiging toon, is dit nog relatief hoog in ontwikkelende lande en by name in Afrika, maar bevolkingsgroei vind hoofsaaklik plaas as gevolg van dramatiese afnames in sterftes vanweë beter mediese dienste, inenting en die bestryding van byvoorbeeld malaria.

• Laer fertiliteit en verbetering in die lewensverwagting lei tot veroudering wat 'n al groter las op die werkende bevolking plaas om welsyndienste te bekostig.

• Vinnige verstedeliking wat veroorsaak dat feitlik al die groei in die wêreldbevolking in die stedelike gebiede van ontwikkelende lande sal plaasvind. In Suid-Afrika vind vinnige verstedeliking plaas en plakkersgebiede neem toe.

Daar is nog talle ooreenkomste en verskille tussen Suid-Afrika en die res van die wêreld, soos toenemende immigrasie en emigrasie, groeiende werkloosheid in kennisgedrewe ekonomieë van groei sonder werk en toenemende ongelykhede in inkomste tussen die ryk Noorde en arm Suide asook binne landsgrense.

In hierdie kort voordrag val die klem slegs op bevolkingsgroei, geboorte- en sterftekoerse, veroudering en verstedeliking.

 

3. VOLGEHOUE BEVOLKINGSGROEI

Meeste lande van die wêreld ondervind ongekende vinnige demografiese veranderinge. Na eeue van baie stadige en ongelyke bevolkingsgroei het die wêreldbevolking een miljard teen 1800 bereik. Teen 1950 was die getal 2,5 miljard, maar in die volgende 60 jaar is 4,3 miljard bygevoeg om die huidige getal van 6,8 miljard te bereik (Bogaarts 2009 en Population Reference Bureau 2009).

Na raming sal die wêreldbevolking teen meer as 82 miljoen per jaar (227 000 per dag of 158 per minuut) tot 8,9 miljard in 2050 toeneem om 'n piek van 9,22 miljard in 2075 te bereik.

Die geografiese wanbalanse van die verlede sal in die toekoms vererger. In die toekoms sal feitlik al die bevolkingsgroei (97%) in die ontwikkelende arm lande van die Suide plaasvind waar 48% van die mense reeds op minder as R15 per dag moet deurskraap. In Suid-Afrika leef net minder as die helfte van die swart bevolking onder die broodlyn. Die huidige bevolking van 5,6 miljard in ontwikkelende lande (82% van die wêreldbevolking) sal na raming met 45% tot 8,9 miljard in 2050 toeneem. Afrika sal die vinnigste groei ondervind met 'n verdubbeling van die huidige een miljard inwoners tot twee miljard.

Teenoor hierdie vinnige toename in die ontwikkelende arm Suide sal die groei in die ontwikkelde ryk Noorde van die huidige 1,2 miljard tot slegs 1,3 miljard toeneem. Europese lande se bevolkings krimp, terwyl Kanada en die VSA wel geringe groei toon hoofsaaklik as gevolg van toename in immigrante (Population Reference Bureau 2009).

Bevolkingsgroei en veral ekonomiese groei geskied nie gelykmatig oor die aardoppervlakte nie. Ongeveer die helfte van die wêreld se produksie word op slegs 1,5% van die oppervlakte geproduseer. Noord-Amerika, die Europese Unie en Japan, met minder as een miljard inwoners, is vir driekwart van die wêreld se rykdom verantwoordelik (World Bank 2009). In die VSA word die helfte van die BNP op slegs 2% van die oppervlakte geproduseer. Kaïro produseer meer as die helfte van Egipte se BNP op 0,5% van die oppervlakte.

Ook in dié opsig is Suid-Afrika geen uitsondering nie. 'n Ontleding van die ruimtelike ekonomie toon dat slegs 26 gebiede en hulle onmiddellike hinterlande van 60 km meer as 84% van die totale bevolking huisves en 95% van alle toegevoegde waarde produseer (National Spatial Development Perspective XII). Meer as tweederdes van Suid-Afrika se BNP word in vier relatief klein gebiede, Gauteng (34%), Durban-Pinetown-Pietermaritzburg (17%), die Wes-Kaap (14,5%) en Port Elizabeth-Uitenhage (3%) geproduseer.

Suid-Afrika se ruimtelike ekonomie vertoon twee ongelykhede. Gebiede met hoë konsentrasie van mense en ekonomiese groei omring deur armoedige plakkersgebiede en gebiede met lae ekonomiese groei waar mense dig op mekaar woon en baie arm mense huisves, soos die voormalige tuislande. Dié twee wêrelde word aanmekaar verbind deur geld en goedere wat trekarbeiders uit ryk gebiede aan familie op die platteland stuur. Dit is feitlik dieselfde model as die R1,500 miljard wat die wêreld se 200 miljoen immigrante jaarliks uit ryk lande aan agterblywendes in arm lande stuur.

Soos in die res van die wêreld, is verandering in die groei, samestelling en mobiliteit van die Suid-Afrikaanse bevolking besig om die sosio-ekonomiese, politieke en ruimtelike landskap te verander soos nog nooit tevore nie.

Volgens die amptelike middeljaarraming (Junie 2010) het die totale bevolking van Suid-Afrika 49,991,300 getel. Hiervan was 39,6 miljoen (79,4%) swart mense, 4,5 miljoen (9,2%) wit mense, 4,4 miljoen (8,8%) bruin mense en 1,3 miljoen (2,6%) Indiërs. As gevolg van die feit dat die fertiliteit by die wit mense reeds in die laat 1980's tot onder die vervangingsvlak (2,1 geboortes per vrou) gedaal het, die Indiërs die vervangingsvlak teen die laat 1990's bereik het en die bruin mense die vervangingsvlak teen 2010 moes bereik, saam met HIV/vigs en verwante sterftes, sal die totale bevolking relatief stadig toeneem en tot + 52 miljoen teen 2021 aangroei. Die swart bevolking sal die vervangingsvlak na raming eers teen ongeveer 2030-35 bereik (kyk Fig. 2).

Die sterftes aan HIV/vigs en verwante siektes bly 'n onseker faktor. Figuur 3, wat die geprojekteerde geboortes, sterftes en HIV/vigs-verwante sterftes vanaf 2001 tot 2021 aantoon, toon dat dié sterftes tans meer as 500,000 per jaar beloop. Amptelik word die voorkoms van HIV/ vigs op 10,5% van die bevolking geraam. Die totale aantal persone wat met vigs geïnfekteer is, word op ongeveer 5,2 miljoen geraam. In 2010 sal 410,000 persone geïnfekteer word (Mid-year Population Estimates 2010). Suid-Afrika het net een persent van die wêreld bevolking maar huisves 17% van die mense wat met vigs geïnfekteer is.

 

 

Tans ontvang reeds meer as een miljoen mense teenvigsmiddels. Volgens ramings benodig 1,6 miljoen persone teenvigsmiddels. Daar is aanduidings dat 'n gesindheidsverandering intree en dat vigsinfeksies afneem. Sommige kenners glo dat die teenoorgestelde waar is. Die nuwe middel wat onlangs aangekondig is, kan infeksies laat afneem. Daling in sterftes kan 'n groot invloed op bevolkingsgroei uitoefen.

Niemand kan die skadelike uitwerking van HIV/vigs op die ekonomie betwyfel nie - die verlies aan vaardighede en die koste van voorkoming en behandeling van pasiënte. Indien sterftes as gevolg van die siektes nie voorgekom het nie, sou die werkloosheidsyfer van 25,3% (eng definisie) veel hoër gewees het en sou daar nog groter druk op dienstevoorsiening soos hospitalisasie en onderwys gewees het.

Die groot verskille in groeikoerse van die verskillende bevolkingsgroepe is opvallend. Die wit bevolking sal vanweë lae geboortekoerse en emigrasie teen 'n negatiewe groeikoers van 0,41% per jaar toeneem. Vanweë die feit dat die swart-, bruin- en Indiërbevolking hoër geboortekoerse handhaaf, sal die wit bevolking se relatiewe aandeel steeds kleiner word (kyk Fig. 4). Negatiewe groei en emigrasie sal veroorsaak dat die wit bevolking tot ongeveer 4,3 miljoen in 2021 krimp. Die bruin bevolking het waarskynlik reeds die wit bevolking getallegewys verbygesteek. Daar is byvoorbeeld 606,000 wit kinders op skool teenoor 953,000 bruin kinders.

 

 

Hierdie bevolkingsamestelling van 79,4% swart mense, 9,2% wit mense, 8,8% bruin mense en 2,6% Indiërs word deur die regering gebruik om regstellende aksie op feitlik allle vlakke van die samelewing af te dwing.

 

4. GEBOORTEKOERSE DAAL, MAAR STERFTEKOERSE DAAL VINNIGER

Fertiliteitskoerse het wêreldwyd van gemiddeld 5,0 kinders per vrou in 1950 tot 2,6 teen 2009 gedaal. Dié koerse bly egter nog hoog in sekere streke. Afrika het die hoogste fertiliteitskoerse van 5,3 kinders per vrou, alhoewel dit gedaal het van 6,7 kinders per vrou teen 1950 (kyk Fig. 5).

 

 

Besondere lae geboortekoerse in Europa wek kommer oor bevolkingsafname. Europa se bevolking van 738 miljoen in 2009 sal waarskynlik afneem tot 702 miljoen teen 2050 as gevolg van lae fertiliteitskoerse en ten spyte van immigrasie van miljoene mense (Population Reference Bureau 2009). Die fertiliteit van immigrante is relatief besonder hoog.

In die VSA neem die bevolking teen ongeveer een miljoen per jaar toe as gevolg van natuurlike aanwas en netto immigrasie. Die fertiliteit van die tradisionele "meerderheid" van die Amerikaanse bevolking is 1,9 kinders per vrou (soortgelyk aan die hoogste koerse in lande van Europa), terwyl die koerse van die groeiende Spaanse bevolking 3,0 kinders per vrou is.

Na die Tweede Wêreldoorlog was daar wêreldwyd 'n toename in geboortekoerse, maar die ekonomiese voorspoed in veral die ontwikkelde lande van die wêreld en deelname van vrouens aan die arbeidsmag het geboortekoerse laat daal.

Die gebruik van die geboortebeperkingspil, wat in 1960 amptelik in die VSA goedgekeur is, het 'n geweldige invloed op geboortekoerse gehad. Wêreldwyd het die gebruik van kontrasepsie gestyg van minder as 10% vir getroude vroue in die vroeë 1960's tot 62% in 2009. In Afrika gebruik slegs 28% van getroude vroue kontrasepsie teenoor 73% in Noord-Amerika en 68% in Europa.

Alhoewel geboortekoerse in baie dele van die wêreld tot onder vervangingsvlakke gedaal het, bly dit nog relatief hoog in sekere lande en lewer 'n groot bydrae tot bevolkingsgroei. Dit was egter die vinnige daling in sterftekoerse na die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van mediese dienste, antibiotika en inenting wat tot vinnige bevolkingsgroei gelei het. Die verbeterde gesondheidsorg het veral sterftekoerse in die arm lande van die Suide laat daal want die lande van die ryk Noorde het al lank dié voordele geniet. Selfs die hoë sterftekoerse van HIV/vigs kon nie die vinnige bevolkingstoename in ontwikkelende lande stuit nie.

Rusland is in sekere opsigte 'n uitsondering. HIV/vigs, alkoholisme en verbrokkeling van gesondheidsdienste het daartoe gelei dat sterftekoerse onder mans meer as drie keer hoër is as in lande op soortgelyke vlakke van ontwikkeling. Vrouesterftes is net ietwat beter.

Beter mediese dienste het veral kindersterftes en infantiele sterftes (onder een jaar) laat daal. Dié sterftesyfer is egter nog onaanvaarbaar hoog in baie lande. Daling in kindersterftes het daartoe gelei dat 1,2 miljard mense of een uit elke vyf mense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar is met groot aansprake op onderwys en werkgeleenthede.

Die verloop van geboortes en sterftes in Suid-Afrika het in baie opsigte wêreldtendense gevolg. Figuur 2 toon dat die totale fertiliteitskoerse by swart mense van 6,57 kinders per vrou in 1960 tot ongeveer 2,9 in 2010 gedaal het. In dieselfde tydperk het die koerse van 3,5 by wit mense tot 1,7 gedaal. By bruin mense was die daling van 6,5 tot 2,1.

Die wit mense se fertiliteitskoerse vergelyk dus goed met dié in hulle stamlande en dié van swart mense is laer as in meeste Afrikalande omdat ekonomiese groei en vinnige verstedeliking in Suid-Afrika fertiliteitskoerse vinniger laat afneem het.

Beter mediese dienste het ook daartoe gelei dat sterftekoerse dramaties gedaal het. Die voorkoms van HIV/vigs het egter sterftekoerse vinnig laat toeneem sedert 2001 (kyk Fig. 3). Dit wil voorkom of verandering in lewenshouding en teenvigsmiddels daartoe lei dat 'n draaipunt in sterftes in 2010 bereik is (Smit 2010).

Soos in die ontwikkelende lande bly kindersterftes nog hoog onder veral die swart mense. Infantiele sterftekoerse het egter van 56,9 in 2001 tot 46,9 in 2010 gedaal (Mid-year Population Estimates 2010).

Hierdie daling in sterftekoerse by kinders en relatief vinnige aanwas by swart mense veroorsaak dat Suid-Afrika 'n relatief jong bevolking het met 31% van die totale bevolking onder die ouderdom van 15 jaar. By swart mense is die syfer egter 33,6% teenoor 17,9% by wit mense en 28,3% by bruin mense. Die aansprake op onderwys en werkverskaffing is dus hoog.

Die verskil in geboorte- en sterftekoerse by die wit mense van Suid-Afrika word deur Figuur 6 geïllustreer. Teen 2009 was daar meer sterftes as geboortes by blankes. Hoër sterftes word aan HIV/vigs, moeilike toegang tot gesondheidsdienste deur 'n gedeelte van die wit bevolking wat verarm en verouder, toegeskryf.

 

 

Daling in wit geboortes veroorsaak dat dié bevolkingsgroep net 'n toename in getalle het as gevolg van veroudering.

 

5. VEROUDERING

Die stelling is al deur kundiges gemaak dat veroudering 'n groter probleem as vinnige bevolkingsgroei is. Daar is waarskynlik geen slegter vooruitsigte as om oud, sieklik en arm te wees nie.

Veroudering is 'n relatief nuwe verskynsel wat groot uitdagings aan pensioen-, welsyn- en gesondheidsdienste stel. Die aantal persone ouer as 60 jaar tel tans net meer as 600 miljoen, maar sal tot meer as 1,3 miljard teen 2040 aangroei. Die gemiddelde lewensverwagting is 82 jaar in Japan, 81 jaar in Frankryk en 78 jaar in die VSA.

In die ontwikkelde wêreld is meer as 19% van die bevolking reeds ouer as 60 jaar, terwyl die syfer ongeveer 7% in die ontwikkelende of arm lande van die wêreld is. In Afrika is die syfer 5,5%, maar veroudering met gepaardgaande verarming is die voorland vir baie bejaardes.

As Duitsland, Frankryk, Italië en Brittanje die verhouding werkers tot afgetredenes in die volgende 40 jaar wil handhaaf, sal 9 miljoen migrante jaarliks gewerf moet word (Martin & Züchner 2008). In die VSA met 305 miljoen inwoners, sal 150 miljoen migrante oor die volgende 40 jaar ingevoer moet word.

Voorafgaande sal die bevolkingsamestelling en kultuur van Europese lande en die VSA ingrypend raak. Veral na die terroriste-aanvalle op 11 September 2001 in die VSA en daarna in Spanje en Brittanje het 'n geweldige reaksie teen immigrante ontstaan. Politieke partye het een slagspreuk in gemeen: Stop immigrasie! Die gevoel is veral teen groeiende getalle Moslems.

Maar werkers moet goedere produseer vir afgetredenes om te verbruik en regerings moet die hoë welsyndienste bly betaal. Welvarende jong mense moet die bates van afgetredes koop anders is daar nie 'n mark nie. Indien immigrante nie aanvaarbaar is nie, en dit is 'n pypdroom dat die ryk Noorde daarsonder kan klaarkom, het regerings drie ander opsies:

• Verminder welsynsbesteding - en verloor die volgende verkiesing;

• Verhoog die aftree-ouderdom - en veg teen vakbonde;

• Probeer gesinsbou aanmoedig - sonder veel sukses.

In Suid-Afrika is daar groot verskille in die lewensverwagting van die verskillende bevolkingsgroepe. Amptelik word die lewensverwagting van mans op 53 jaar en dié van vroue op 55 gestel (Mid-year Population Estimates 2010). Die Buro vir Marknavorsing het die lewens verwagting in 2009 soos volg geraam: swart mense 41,2 jaar, wit mense 68,6 jaar, bruin mense 55,3 jaar en Indiërs 68,9 jaar.

Figuur 7 wat die toename van persone in die ouderdomsgroepe ouer as 60 jaar vanaf 2001 tot 2021 aantoon, toon dat swart bejaardes van 1,9 miljoen in 2001 tot 3,4 miljoen in 2021 sal toeneem. Meeste van dié persone is tans sonder pensioenvoorsiening. Swart vroue kwalifiseer reeds vanaf die ouderdom van 60 jaar vir staatspensioen, terwyl die kwalifiserende ouderdom vir mans in die volgende paar jaar van 65 jaar tot 60 jaar verlaag sal word. Saam met die feit dat die ouderdomsperk vir kindertoelae vanaf 14 jaar tot 18 jaar verhoog sal word, sal dit die aantal persone wat welsyn ontvang, en reeds meer as 14 miljoen tel, vinnig laat toeneem.

Suid-Afrika is reeds die vrygewigste welsynstaat in die wêreld. 'n Belastingbasis van Afrika (met net meer as 5 miljoen belastingbetalers) kan moeilik 'n Westerse welsynstaat bekostig. Ekonome wys daarop dat dit geldelik nie volhoubaar is nie. Verder kweek dit 'n kultuur van afhanklikheid wat niks goed vir die bevolking inhou nie (Smit 2010).

Figuur 8 toon 'n projeksie van blanke bejaardes (66 jaar en ouer) vanaf 2001 tot 2021 aan. Baie bejaardes het nie genoeg voorsiening vir die verlenging van lewensverwagting gemaak nie. Talle is vanweë regstellende aksie uit diens gestel of het hulle werk verloor. Die aantal wit arm mense word op ongeveer 600,000 gestel.

Baie bejaardes is net van die staatspensioen van R1 000 plus per maand afhanklik. Tuistes vir bejaardes is onder geweldige druk. Die koste om 'n bejaarde te huisves, is + R5 000 per maand.

Ten einde vir staatsubsidie te kwalifiseer, moet tuistes vir bejaardes die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika reflekteer en aan uitreikprogramme deelneem. Baie tuistes vir bejaardes is besig om na ekonomiese eenhede oor te skakel en staatshulp uit te faseer. Tuisversorging sal toenemend 'n oplossing moet bied (Smit 2010).

 

6. VERSTEDELIKING

"Die 21ste eeu is die stedelike eeu." So sê mnr. Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies in 'n verslag oor verstedeliking.

'n Belangrike mylpaal in die geskiedenis is in 2008 bereik toe die meerderheid van die wêreld se 6,8 miljard mense in stedelike gebiede begin woon het. Die wêreld se stedelike bevolking groei met 200,000 mense per dag of 6 miljoen per maand (UN-Habitat, State of the World's Cities 2008/2009).

In die toekoms sal 90% van alle bevolkingsgroei in stedelike gebiede plaasvind vanweë natuurlike aanwas en plattelandse-stedelike migrasie. Die grootste deel van die stedelike bevolkingsgroei sal in die arm lande van die Suide plaasvind waar een miljard mense reeds in krotbuurtes woon (Watson 2009). In Afrika Suid van die Sahara woon 72% van die stedelike bevolking in krotbuurtes.

Die huidige 19 stede met meer as 10 miljoen inwoners (Tokio 35,6 miljoen, Mexikostad 19 miljoen, New York 19 miljoen, São Paulo 18 miljoen) sal tot 26 in 2025 vermeerder. Stede in Afrika soos Kinshasa, Lagos en Kaïro met meer as 15 miljoen inwoners, sal dan ook in dié liga val (UN-Habitat, State of the World's Cities 2008/2009).

Baie kundiges wys op die gevare van groeiende stede en ongelykhede wat as 'n tydbom beskryf word (An urban bomb? Population growth and social disorders in cities 2009). Vinnige verstedeliking skep verwagtinge wat moeilik deur regerings bevredig kan word. In China verstedelik byvoorbeeld 15 miljoen mense per jaar.

Volgens die Verenigde Nasies is stede vir 75% van die wêreld se energieverbruik en 80% van die kweekhuisgasse verantwoordelik (State of the World Population 2009. Facing a changing world).

'n Belangrike denkrigting het die laaste tyd na vore gekom ten opsigte van stedelike beplanning en administrasie. Kundiges wys daarop dat die wyse van beplanning, die argitektuur en hoë standaarde wat in Europa en die VSA ontwikkel is en op stedelike gebiede van die ontwikkelende wêreld toegepas word, uitgedien en onhoudbaar geword het (Watson 2009). In Suid-Afrika het die stedelike swart bevolking die wit stedelike bevolking reeds in 1946 verby gesteek. Kan ons nog steeds in Suid-Afrika na ons stedelike gebiede wat beplanning, boustyle en standaarde betref in Westerse terme dink?

Óók ten opsigte van verstedeliking is Suid-Afrika tot 'n groot mate 'n mikrokosmos van die wêreld. Die een groot verskil is dat verstedeliking in Suid-Afrika as gevolg van die vinnige stadwaartse migrasie van veral swart mense verder momentum kry deur die instroming van miljoene immigrante (waarskynlik tussen agt en nege miljoen) uit veral Afrika.

Na die afskaffing van instromingsbeheer in 1986 en die politieke verandering in 1994 het mense van plattelandse gebiede, maar veral uit Afrikalande, na Suid-Afrika se stede en dorpe begin stroom. Soos die hulpbronbasisse van veral die voormalige tuislande uitgeput raak, volg vroue en kinders veral uit die voormalige Transkei en Ciskei die mans wat as trekarbeiders in die Wes-Kaap werk. Die Wes-Kaap ondervind tans 'n immigrasie van meer as 10% per jaar. Mense stroom ook uit Limpopo, Mpumalanga en Noordwes na Gauteng waar die bevolking van 11 miljoen binne 10 tot 15 jaar tot 15 miljoen sal aangroei.

Die plakkersgebiede het toegeneem van ongeveer 300 in 1994 tot meer as 2 600. 'n Nuwe verskynsel is wit plakkersgebiede rondom stede soos Pretoria. Daar is net te veel mense vir bestaande infrastrukture van veral water en sanitasie in baie van Suid-Afrika se stedelike gebiede. Saam met die vinnige stadwaartse migrasie het die plaaslike besture van baie stedelike gebiede deur wanbestuur en korrupsie in duie gestort.

"Stede en dorpe sonder krotbuurtes"met oudpres. Nelson Mandela as beskermheer is die slagspreuk van die Wêreldbank en die Verenigde Nasies se program vir menslike nedersettings. Teen 2020 moet 100 miljoen krotbewoners se lewensomstandighede verbeter wees.

Waarskynlik in navolging van die Wêreldbank en die VN hou die Suid-Afrikaanse regering vol dat informele nedersettings, of plakkerskampe, teen 2014 uitgewis sal wees. Politici gebruik sterk woorde soos "eradicate", "eliminate" en "zero tolerance". Dit vervul plakkerskampe se inwoners met vrees en wrewel.

Kenners sê beide wêreldwyd en in Suid-Afrika is dié verwagtinge opiumdrome. Hoe gouer dit erken word, hoe gouer kan oplossings gevind word. Slegs die helfte van die swart bevolking is verstedelik, teenoor meer as 95% van die wit mense en 80% van die bruin mense. Meer as die helfte van die swart mense leef onder die armoedegrens en waarskynlik is die werkloosheid onder swart mense meer as 35%. Baie mense kan dus nie anders as om in plakkersgebiede te woon nie.

Die grootste konsentrasie van arm mense, van wie baie in plakkersgebiede woon, word in Suid-Gauteng tot by Sasolburg; Noord-Gauteng (Mabopane-Winterveld); die Kaapse vlakte; Durban-Pietermaritzburg en by Polokwane aangetref. Oop ruimtes word toenemend in stedelike gebiede beset en groot getalle mense oornag in skuilings in stedelike gebiede.

Die bou van meer as 2,7 miljoen huise sedert 1994 teen meer as R100 miljard, wat huisvesting aan meer as 13 miljoen mense verskaf, is lofwaardig. Hierdie behuisingsprogram het baie bygedra om armoede te verlig en lewensgehalte te verbeter. Teen 2008 het die getal swart huiseienaars die getal wit eienaars verbygesteek.

Hierdie behuisingsprogram is beslis nie ekonomies volhoubaar nie omdat boukoste styg en beskikbare grond al duurder word. Grootskaalse korrupsie van swak bouwerk en persone wat gratis huise ontvang en dit verkoop of verhuur, kom wyd voor. Maar die agterstande kan nie met die vinnige verstedelikingsproses en onderverdeling van huishoudings uitgewis word nie. Na raming sal die agterstande van 1,5 miljoen in 1994 tot meer as twee miljoen aangegroei. Verder kweek gratis huise 'n gees van groter afhanklikheid, terwyl mense wat normaalweg self vir huisvesting sou sorg, terugsit.

Wêreldwyd is daar 'n groot kopskuif oor krotbuurtes. Die VN stel dit duidelik: "Daar word nou besef dat sekerheid van verblyfreg vir stedelike armes belangriker is as huiseienaarskap"(United Nations Human Settlement Report 2008). Die nuwe denke kan soos volg saamgevat word: Aanvaar plakkerskampe as 'n integrale deel van die verstedelikingsproses; stel grond met basiese dienste soos sanitasie en water betyds beskikbaar waar mense kan vestig om onwettige grondbesetting te voorkom; kortom: beplan vir plakkers; ekonomiese en sosiale integrasie met bestaande stedelike gebiede is die wagwoord; beplan saam met mense pleks van vir hulle; beweeg weg van verskaffing na ondersteuning om eie huise te bou en die opgradering van plakkersgebiede is verkieslik bo opruiming wat baie mense ontwortel.

Voorafgaande dui op die noodsaak vir herbesinning en ongewilde besluitneming. Die proteste oor swak dienslewering se oorsake lê veral dieper en baie kenners sê dat Suid-Afrika op 'n kruitvat sit. Daar is geen kohesie of samehorigheid tussen die nuwe stedelinge nie. Hulle is moeg vir leë beloftes, voel magteloos en vir baie is die lewe uitsigloos. In sulke omstandighede is opgehoopte frustrasie en woede brandhout vir konflik.

 

7. SAMEVATTING

Demografiese projeksies en die gevolge wat dit inhou, is van baie veranderlikes afhanklik. My en ander demograwe in Suid-Afrika se werk word vanaf 'n swak databasis onderneem. Daar is egter redelike eenstemmigheid oor breë tendense.

Thomas Malthus se voorspelling in 1798 en dié van Paul Ehrlich in 1968 van grootskaalse hongersnood was verkeerd. So ook dié van die Klub van Rome in 1972.

Die Groen Rewolusie het egter die wêreld van hongersnood gered want graanproduksie het vanaf 1950 tot 1984 met 250% toegeneem. Vinnige styging in oliepryse, lugbesoedeling, droogtes en die beperkinge van geneties gemanipuleerde saad mag daartoe lei dat Malthus en Ehrlich se kritici nog eendag op hulle neuse kyk. Die hoof wetenskaplike in die Verenigde Koninkryk het onlangs gewaarsku dat die wêreld 50% meer energie, voedsel en water teen 2030 sal benodig (World Population 2010). Die aantal mense wat ondervoed is, het van 832 miljoen in 1995 tot 923 miljoen in 2007 toegeneem.

In die lig hiervan en die krimpende bevolking in baie lande van Europa (36 miljoen tot 2050), kan die werk van Oswald Spengler (1918): Der Undergang des Abendlandes (The decline of the West) weer ter hand geneem word.

Die Verenigde Nasies projekteer dat "Europe's share of the world population is cut in half, 12,0 to 5,9 per cent, while Africa's almost doubles, from 13,1 to 24,9 per cent" (United Nations, World Population to 2300).

Groot getalle immigrante (+ 500,000) stroom wettig en onwettig jaarliks na lidlande van die Europese Unie en hulle geboortekoerse is dikwels dubbel dié van die tradisionele Europeërs. Intussen sukkel Europa om uit die wêreldwye ekonomiese insinking te kom.

Dr. Thilo Sarrazin het onlangs in sy boek Deutscland Schaft sich ab (Duitsland skaf homself af) 'n herrie ontketen toe hy aangetoon het dat immigrante 'n groot gevaar vir Duitsland inhou.

Die volgende opskrifte haal die voorblaaie van tydskrifte: "Why Europe can't get off the ground; Where did Europa go; Is Europe doomed to fail; The lost continent; Would anyone notice if it disappeared?" In die Europese parlement en ander liggame word leiers slegs vir kort termyne verkies en Dominique Moisi van die French Institute for International Relations sê sommige leiers word verkies "... for their limitations rather than their merits" (Time, No. 9, 2010). Dit lei tot die bekende uitspraak van Henry Kissinger "Who do I call if I want to call Europe?"

Koalisieregerings verhoed dat noodsaaklike veranderinge kan plaasvind. Die goue era na die Tweede Wêreldoorlog onder die beskermingsambreel van die VSA het waarskynlik met die beëindiging van die Koue Oorlog ten einde gekom.

In 'n sekere mate volg die VSA ook die Europese patroon. Alhoewel die bevolking groei, is dit hoofsaaklik vanweë immigrasie. Van die 38 miljoen immigrante in die VSA is ongeveer 11 miljoen onwettig. In die toekoms word daar van 'n Engelssprekende en Spaanssprekende Amerika gepraat.

Die geweldige vinnige bevolkingsgroei in die arm lande van die Suide en stagnerende of krimpende bevolkings in die ryk lande van die Noorde veroorsaak dat immigrante in woestyne sterf, in die see verdrink of onder heinings deurgrawe op soek na 'n beter lewe. Die ryk Noorde kan met pogings soos hulpverlening en handel probeer om dié stroom te tem, maar kan dit beslisnie stuit nie. Óf die ryk Noorde ontwikkel die arm Suide óf die armes stroom na die Noorde. Dieselfde geld vir Suid-Afrika. Ontwikkeling in veral die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap kom nie op dreef nie.

Daar is kenners wat van mening is dat ekonomiese groei, welvaart, laer geboortekoerse en veroudering ook in baie Europese lande tot gemaksug en verlies aan geesteskrag gelei het. In sy boek History of Civilization sê Toynbee dat 'n beskawing nie kan ontwikkel as die uitdaging te swak is om die beste in hom na vore te bring nie.

Tot watter mate is die tendense in die stamlande van wit mense ook in Suid-Afrika waar? Die verlies aan politieke mag het 'n groot vakuum gelaat. Twee uiterste pole het ontwikkel: veg en vlug. Die verlies van meer as een miljoen emigrante gedurende die afgelope 20 jaar was 'n gevoelige slag vir wit bevolkingsgroei, terwyl die verlies aan vaardighede onberekenbare skade aan die ekonomie doen. En die stroom emigrante is vanweë die wêreldwye ekonomiese insinking gedemp, maar geensins gestuit nie.

Om weer Toynbee aan te haal. 'n Volk kan onder gaan as die uitdaging te kragtig is sodat hy dit nie kan oorwin nie.

Tussen hierdie twee uiterste pole van veg en vlug, is daar 'n verskeidenheid groeperinge. Regstellende aksie het tot entrepreneurskap gelei. Dit geld ook vir ander bevolkingsgroepe. Waar die meerderheid van die ekonomies aktiewe bevolking wat meer as R14 000 per maand verdien in 1996 vir 'n werkgewer gewerk het, was die meerderheid teen 2006 in diens van hulself. Dit roep herinneringe op van Afrikaner entrepreneurs na die Ekonomiese Volkskongres in 1939.

Die gaping tussen rykes en armes word in Suid-Afrika, soos in die res van die wêreld, al groter. Daar word dikwels na Suid-Afrika verwys as die land met die mees ongelyke verdeling van welvaart in die wêreld. Die ongelykhede in Suid-Afrika se stede en dorpe word veral groter. 'n Nuwe gepolariseerde gemeenskap kom na vore met verskille tussen ryk en arm ongeag ras, geslag en geloof.

Volgens die Buro vir Marknavorsing was daar 'n groot verskuiwing wat persoonlike inkomste per bevolkingsgroep betref. Terwyl die wit bevolking se aandeel van 70,4% in 1940 tot 43% in 2007 gedaal het, het die aandeel van die swart bevolking van 22% tot 43% toegeneem en daarna die wit bevolking verbygesteek (Figuur 9).

Sommige welvarende wit mense onttrek hulle totaal van die samelewing en ontwikkel nuwe lewenstyle. Ander is so akkommoderend dat hulle diepte verloor en vrees om met enigiets geassosieer te wees en sodoende die moed verloor om iets te wees of teen iets te wees. In die proses van transformasie of regstellende aksie oortref wit drywers van die proses dikwels hulle swart kollegas. Sinvolle en kritiese akademiese debatvoering vind selde plaas.

Daar is egter ook 'n groep wat toenemend self verantwoordelikheid vir hulle eie toekoms aanvaar. Self-help, kreatiewe samewerking en alliansievorming oor kleur- en politieke grense heen en 'n positiewe ingesteldheid om van Suid-Afrika 'n wenland te maak, tree na vore. Bo alles moet wit mense en veral Afrikaners nie toelaat dat verskille hulle verdeel en verlam nie.

In die lig van krimpende getalle en verlies aan geesteskrag stel prof. Jan Sadie (1998:2) die geldige vraag of "... die bydrae van 'die Afrikaner' tot die Suid-Afrikaanse ekonomie in die toekoms ... onderskei sal kan word".

Is Suid-Afrika toenemend besig om die bande met die Weste en by name Europa los te maak? Daar is talle tekens dat dit wel gebeur. Vanaf 2000 tot 2009 het Suid-Afrika se totale uitvoere na die wêreld met 103% toegeneem. Hierteenoor het uitvoere na Europa met slegs 71% en na Amerika met 40% toegeneem, terwyl die toename 181% na Asië en 171% na Afrika was.

Daar is toenemende versterking van handelsbande met die sogenaamde BRIC-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China).

'n Magsverskuiwing vind in die wêreld plaas van die Atlantiese Oseaan na die Stille Oseaan. Op wetenskaplike gebied was die fokus tradisioneel op Europa en die VSA. Alhoewel die bande behou word, is daar 'n verskuiwing en verruiming na ander lande van die wêreld. En as 'n ontwikkelende land, kom dit Suid-Afrika ten goede.

Demografiese realiteite en tradisionele denke, gebruike en gewoontes neem toenemend stelling teenoor mekaar in. Demografiese struktuurveranderinge lê die grondslag vir 'n nuwe sosioekonomiese en politieke wêreldorde wat onmiskenbaar na vore tree.

 

VERWYSINGS

Ek is groot dank verskuldig teenoor die Buro vir Marknavorsing van Unisa wat goedgunstig verslae tot my beskikking gestel het. Talle persone het ongepubliseerde dokumente aan my verskaf terwyl baie met stimulerende gesprekke vorm aan die werk gegee het.

An urban bomb 2009: Population growth and social disorder. Oslo: Centre for the study of Civil War.         [ Links ]

Bogaarts, J. 2009: Human population growth and the demographic transition. Phil. Trans. R. Soc. 2009.         [ Links ]

Martin, P. & Züchner, G. 2008: Managing migration: the global challenge. Population Bulletin. March 2008.         [ Links ]

Mid-year Population Estimates. Statistics SA. Pretoria.         [ Links ]

National Spatial Development Perspective. 2006. Johannesburg.         [ Links ]

Population Reference Bureau. 2009: Vol. 64, no. 3. Washington.         [ Links ]

World Population Highlights. World Population Data Sheet, Washington.         [ Links ]

Sadie, J. 1998: Die demografie van die blanke Afrikanergemeenskap. J. Stud. Econ. Econometrics, 1998, 22(3).         [ Links ]

Sadie, J.L. 2002: The fall and rise of the Afrikaner in the South African Economy. Annale van die Universiteit van Stellenbosch, 2002 (1).         [ Links ]

Smit, P. 2010. Die dinamiek van demografie in Suid-Afrika. Voordrag, 18 Feb. 2010, Pretoria. Ongepubliseer.         [ Links ]

Spengler, O. 1926: The decline of the West. MCMXLV. New York : Alfred A. Knopf.         [ Links ]

State of World Population, 2009: United Nations Population Fund, Washington.         [ Links ]

Time magazine, March 8, 2010 & July 12, 2010.         [ Links ]

United Nations, Habitat 2009: The State of the World's Cities 2008/2009. London.         [ Links ]

United Nations 2008: Human settlement report. New York.         [ Links ]

United Nations 2004: World Population 2300. New York.         [ Links ]

Watson, V. 2009: Seeing from the South. Urban Studies 2009. 4C.         [ Links ]

World Population 2010/07/02: Wikipedia, the free encyclopedia.         [ Links ]

World Bank 2009: Reshaping Economic Geography, Washington.         [ Links ]

 

 

 

 

* Voordrag by die algemene jaarvergadering van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 30 September 2010.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License