SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue4Globale mediavryheid en plaaslike uitdagings author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.50 no.4 Pretoria Dec. 2010

     

    BOEKBESPREKING / BOOK REVIEW

     

    Swartskaap (2009)
    deur Odette Schoeman
    Kwela Boeke
    Die hoerkind, die swartskaap, en swerwer wat nooit vind

    Dit was Igor Stravinsky wat gesê het "My childhood was a period of waiting for the moment I could send everyone and everything connected to it to hell." Dis min of meer hoe Claudie Diago moes gevoel het oor haar kinderdae. Swartskaap is die verhaal van Claudie en haar broers, maar eintlik die verhaal van Claudie die hoerkind (bl. 182), soos een van haar onderwysers haar gedoop het, omdat haar ma nie kon besluit "by watter man sy haar lê moet kry nie" (bl. 181).

    In hierdie boek, wat terloops een van die drie finaliste was vir die Jan Rabie Rapportprys vir debuutwerk in prosa, skilder Odette Schoeman die landskap van die moderne milieu waarin menige Suid-Afrikaanse kind vir hulself 'n toekoms moet oopkap - oopbaklei as dit moet - want die noodwendige alternatief is om onder te gaan. 'n Mens kan natuurlik ook die raad volg van Duane Hahn wat gesê het "Train the parent and spare the child." Hierdie advies strook nogal met my eie mening. In my vorige lewe as skoolhoof en inspekteur van onderwys het dit my min of meer vyf jaar geneem om te besef dat daar in hierdie lewe eintlik nie van probleemkinders gepraat moet word nie, maar veel eerder van probleemouers. Claudie se ouers staaf hierdie teorie perfek.

    Claudie en haar boetie besluit gevolglik reeds op jeugdige ouderdom dat hulle nie soos hulle ma en pa wil wees nie (bl. 268). Sy wat Claudie is, wil 'n joernalis word. Het sy toe al geweet sy wil ander kinders wat dieselfde onreg aangedoen word as dit waardeur sy moes gaan, die pyn en hartseer spaar deur die skuldige ouers aan die pen te laat ry? Dat sy elke saak wil ondersoek en die leed tot op die been sal oopvlek? Die boek swyg hieroor, maar die leser kan sy of haar verbeelding gebruik.

    'n Anonieme skrywer het op 'n keer gesê "We are born wet, naked and hungry. After that things just get worse." Maar min kan die leser dink dat dit so sleg met Claudie sal gaan. Sy moet die vernedering smaak om deur haar eie pa verkrag te word: "die fokken vark het vir Claudie gerape. Ek gaan hom vrek maak," beloof haar ouer broer, Theuns (bl. 229). Sy moet op 'n baie jong ouderdom vrede maak met die idee dat haar ma haar en haar broer weggegooi het: "Ek kan nie glo sy het dit gedoen nie, nie eens 'n hond gooi haar kinders weg nie," wroeg sy (bl. 211). Selfs die aand toe sy op 11-jarige ouderdom vir die eerste keer begin menstrueer (iets waarvoor sy glad nie gereed is nie, want geen ma het haar ingelig nie), kan sy net verbouereerd 'n handvol toiletpapier in haar broekie druk om die bloed te stop. Op daardie selfde aand rand haar ma haar vir die soveelste keer op wreedaardige wyse aan. Maar dit sal die laaste keer wees, besluit sy.

    Want Claudie weier om haarself te bejammer. Niemand verwag dat sy die hoofmeisie sal word nie, want sy is nie die voorbeeldigste leerling in die koshuis nie (bl. 236), en haar pa dien nie in die skoolraad nie; trouens, haar pa is in die tronk. "Children begin to love their parents, as they grow older they judge them; and sometimes they even forgive them," het Oscar Wilde gesê. Al het sy die kans om haar pa weer tronk toe te stuur omdat hy haar verkrag het, bly sy hom vergewe, want hoe sal sy met die wete kan saamleef dat sy hom teruggestuur het tronk toe? Dat hy eintlik daar hoort, maak vir haar nie saak nie.

    Swerwers sonder rigting

    Die boek vertel hoe die moderne jeug op jong ouderdom met drank en dwelms eksperimenteer (bl. 288). Op vyftien word Claudie vir die eerste keer dronk (bl. 284), maar die smaak van drank is so sleg dat sy vir ewig gespaar word van alkoholisme (bl. 287).

    Swartskaap is die universele verhaal van kinders wat deur hul ouers mishandel word, net, die leser het die onderhawige geval nog nie gesien of daarvan gehoor nie. Dis die storie van ouers wat so behep is met hul eie selfsugtige strewes dat hulle nie eens agterkom dat hulle die lewens van hul kinders onherstelbaar verwoes nie. Dis ouers wat mekaar so haat dat hulle nie net hulself nie, maar ook hul gesinne in die proses vernietig: "[D]is Ma self wat Ma se gesin destroy het," tug Claudie haar ma toe dié al haar selfrespek reeds vir die varke gevoer het. Dis die swerwersverhaal van kinders wat nie die veiligheid en warmte van 'n eie huis ken nie, omdat hulle voortdurend aan die swerf is, van skool na koshuis na skoolbus, van huis na woonstel na ouma se huis, van pleegouer tot pleegouer tot uiteindelik by die weeshuis.

    Soekers wat nooit vind

    En net as sy begin dink dat sy 'n surrogaatmoeder in tannie Erna (haar pleegmoeder) gevind het, pleeg die tannie selfmoord omdat haar dikvellige en burokratiese man haar tot raserny gedryf het. En so beland Claudie uiteindelik in 'n weeshuis, 'n plek wat sy self beskryf as " 'n huis vir stukkende kinders waar 'n pisreuk alewig in die lug hang". Waar die letsels op die kinders se lywe en gesigte haar nie so afskrik soos die letsels op hul siele nie (bl. 300). En juis daarom moet Claudie weer padgee, dan maar liewers weghardloop en by die Heilsleër gaan bly.

    Hier vind sy haar redding, soos die woord "Salvation" tereg aandui. Sy werk bedags as kelnerin om geld bymekaar te maak vir klere en studie, en snags leer sy haar byna bewusteloos om 'n beurs te kry. Want 'n beurs is die sleutel tot haar nuwe bestaan, 'n lewe weg van die hartseer, pyn en wanhoop. Maar ook hierdie strewe is nie sonder pyn nie; sy moet Theuns en Poena, haar broers, agterlaat.

    Uiteindelik raak al die woede, haat en frustrasie in haar stil en bly net 'n gevoel van algehele hartseer en verlies oor (bl. 242). Hartseer en wanhoop word uiteindelik haar enigste twee identifiseerbare emosies (bl. 299).

    Kinders van die wind

    Vir my is die sleuteloomblik in die roman die toneel waar mevrou Smith, die maatskaplike werkster, vir Claudie vra: "Het ek jou gefaal, Claudie?" Die baie hartseer wat sy moes verduur ten spyt, skud Claudie weer haar kop. Sy wat so baie seergekry het, wil nie ander seermaak nie, nie eens diegene wat vir haar eie seer verantwoordelik is nie. Maar die waarheid klink duidelik en helder op: Hier is 'n kind - weliswaar 'n hoerkind - maar 'n kind wat gruwelik deur die stelsel in ons land in die steek gelaat is.

    Die maatskaplike stelsel van die staat kan nie eens meer faal nie; dit is bankrot. Duisende kinders wat vir hulle daaglikse bestaan van hierdie stelsel afhanklik is, word wees agtergelaat. Sommiges wat bomenslik sterk is, soos Claudie, slaag daarin om te ontsnap na kinderlike menswees, maar die meeste wesies is tot 'n troostelose lewe gedoem. In Poena se woorde: "Ons is almal fucked up" (bl. 377). Inderdaad.

    Swartskaap boei die leser, maar wees gewaarsku, geagte leser, 'n mens kan nie hierdie boek lees sonder dat jy 'n boks snesies byderhand het nie. En as jy nie beheer oor jou emosies het nie, moet jy die boek liefs nie tussen ander mense - of soos in my geval, op 'n vliegtuig - lees nie. Want dit kan ek die leser belowe: jy gaan jou hart stukkend huil as jy die verhaal van Claudie, die hoerkind, die swartskaap, lees. Jeanne Goosen het gesê: "Laat ek maar ruiterlik erken dat Swartskaap die eerste Afrikaanse roman is wat my aan't huil had."

    Die relevansie van die roman vir die huidige Suid-Afrikaanse situasie is die vraag of daar enige hoop vir hierdie kinders is. Is daar enige hoop dat hierdie patetiese stelsel tot 'n einde sal kom? As ek luister na wat rondom my aangaan, is ek bevrees dat ek slegte nuus het vir Suid-Afrika. Om Winston Churchill aan te haal: "Now this is not the end. It is not even the beginning of the end."

    Ek kan gevolglik aan geen beter beskrywing vir hierdie kinders en al die ander kinders in soortgelyke omstandighede dink nie as die woorde van Koos du Plessis: "Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind ... En eindelik was almal maar net kinders van die wind."

     

    Michael le Cordeur
    Universiteit van Stellenbosch