SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue4The profile of the adult male as a mentor for adolescent boys from the West coastSwartskaap: Odette Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.50 no.4 Pretoria Dec. 2010

     

    AKTUEEL

     

    Globale mediavryheid en plaaslike uitdagings: referaat gelewer tydens 'n simposium van die Akade mie vir Wetenskap en Kuns, 1 oktober 2010

     

     

    Anne-Marie Mischke

    e-pos: amischke@mweb.co.za

     

     

    Dit kom my gepas voor om te begin met die woorde van 'n wyse man oor die aanslae op vryheid van spraak, en dus ook mediavryheid:

    The struggle is always between the individual and his sacred right to express himself and... the power structure that seeks conformity, suppression and obedience.

    Kommentaar op Suid-Afrika, waar die magstrukture die media tot konformiteit en gehoorsaamheid wil dwing? Dit sou wel kon wees, maar aan die woord is regter William O. Douglas van die Amerikaanse hooggeregshof. En gedagtig aan die hewige debat oor die vryheid van die media wat die afgelope maande in óns land woed, sou 'n mens al wou sê dié Amerikaner klink mos na iemand wat met 'n witbrood onder die arm kla. Is sy land nie by uitstek die toonbeeld van vryheid en demokrasie, en wat dit vir vrye spraak en 'n vrye media impliseer nie?

    Dalk is dié vryheid nie so onaangetas soos ons dink nie. Nie so lank gelede nie, in 2008, om presies te wees, argumenteer die New Yorkse skrywer en politieke konsultant, Naomi Wolf, dat Amerika besig is om 'n onvrye en geslote gemeenskap te word, en wat die media betref, skets sy 'n onrusbarende prentjie, goed gedokumenteer, van onder meer intimidasie, dagvaardings, hofsake en 'n weiering om 'n federale wet deur te voer wat dit vir joernaliste makliker sal maak om hulle bronne te beskerm.1

    Sy het dit weliswaar gehad oor gebeure in die laaste ses jaar van die Bush-era, tot 2008, maar dit val op dat Freedom House, 'n internasionale nie-regeringsorganisasie wat hom die afgelope 30 jaar aan die vryheid van verskeie instellings wêreldwyd wy, in sy jongste oorsig oor mediavryheid, Amerika nie naastenby die eerste plek toeken nie. Dié land kry saam met die Tsjeggiese Republiek maar die 24ste plek uit 196 lande waarvan die persvryheid gemeet is, met 'n gradering van 18 punte op 'n skaal waar 100 die ongunstigste is. (Finland, Ysland, Noorweë en Swede is eerste, elk met 'n gradering van tien, en Noord-Korea laaste, met 99.)2

    Maar Amerika vaar nog goed: hy is een van die 69 lande (uit die 196 wat in oënskou geneem is) waar Freedom House die media as heeltemal vry bestempel. In nog 64 lande is die media gedeeltelik vry en in die orige 63 glad nie vry nie. Rofweg is die lande ter sprake dus min of meer eweredig in die drie kategorieë ingedeel.

    Naas die feit dat min of meer tweederdes van 196 lande net gedeeltelike of glad geen mediavryheid het nie, is die onrusbarendste aspek van Freedom House se bevindings dat mediavryheid wêreldwyd die afgelope agt jaar elke jaar agteruitgegaan het. En met dié dat China, met sy reuse-bevolking, glad nie mediavryheid het nie, en Indië, eweneens met 'n baie groot bevolking, slegs gedeeltelike mediavryheid het, woon net 16% van die wêreld se mense in lande met algehele mediavryheid. Dié persentasie is die laagste sedert 1996.

    Wat Afrika betref, is die prentjie bra duister: in Afrika suid van die Sahara is daar net vyf lande met algehele mediavryheid (Mali, Ghana, Mauritius, die Kaap Verdiese Eilande en Sao Tome en Principe), in 19 lande is daar gedeeltelike mediavryheid en in 24 lande is daar geen mediavryheid nie.

    Wat is die rede vir die wêreldwye agteruitgang in mediavryheid die afgelope agt jaar? Freedom House noem veral vier redes:

    • Die meerderheid regerings is onwillig om wette wat joernaliste aan bande lê te wysig of te herroep;

    • In lande waar daar politieke onrus en konflik is, kom regerings baie gou op die media af met beperkings en selfs vervolging (daarvan, sou 'n mens wou byvoeg, is juis die talle Afrikalande met voortdurende konflik en min mediavryheid, sekerlik 'n voorbeeld);

    • In konflikgeteisterde streke, voer Freedom House verder aan, word die moordenaars van joernaliste selde aan die man gebring, weens die gebrek aan politieke wil, gekoppel aan swak regstelsels. Ter sprake is onder meer Irak, Pakistan en Somalië, maar in lande soos Mexiko, Rusland, die Filippyne en Afganistan, is die moordsyfer op joernaliste ook opvallend hoog.

    • Laastens, in wat genoem word die globalisering van sensuur, oefen groepe of state internasionale druk teen die vrye media uit. Lande met Moslem-meerderhede span byvoorbeeld saam onder die sambreel van die Islamitiese Konferensie om bepalings teen godslastering in die internasionale reg ingeskryf te kry, en China blaas voortdurend vuur en swawel teen internasionale boekbeurse, kultuurfeeste, akademiese byeenkomste en rolprentfeeste waar hy meen hy te na gekom sal word. Sommige lande, by name China, probeer telkens om die internet aan bande te lê.

    By hierdie vier redes sou ek ook die wesensaard van totalitêre of wesenlik ondemokratiese bewinde wou voeg. China kom heel eerste in die gedagte, al het dié land in die afgelope twee dekades sekere demokratiese verstellings aan sy strukture gedoen. Dit lyk ook of jakkalse van hare verander, maar nie van snare nie. Rusland is wel nie die Sowjetunie van ouds nie, maar soos baie ander regerings met totalitêre neigings, of ten minste 'n totalitêre verlede, het hy sy beheer oor die tradisionele media eerder gekonsolideer as verslap. In daardie land word wetlike beskerming van die media gereeld geïgnoreer, skryf Karin Deutsch Karlekor in 'n internet-essay oor mediavryheid. Die regbank daar word al hoe meer dienstig aan die uitvoerende gesag en verslaggewers word deur ernstige reperkussies in die gesig gestaar wanneer hulle oor sensitiewe sake rapporteer, aanvalle (en selfs moord) op joernaliste bly ongestraf en mediabesit word steeds deur die staat beheer.

    Die verwysings na moord mag paranoïes klink, maar die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste se 2009-verslag lui dat 17 joernaliste sedert 2000 in Rusland vermoor is, en in net een geval is die moordenaar aan die man gebring. Oor die algemeen was die betrokke joernaliste besig met intensiewe ondersoekwerk, ongemaklik vir die owerhede of hulle meelopers. En Rusland is nie die enigste land waar dit gebeur nie.

    Moord is aan die uiterste van die spektrum, maar 'n mens kan ook na die intimidasie van joernaliste verwys, en 'n mens hoef nie eens verder as ons eie land te soek nie, by name die onlangse geval van die Sunday Times-joernalis, Mzilikazi wa Afrika, wat hom die gramskap van die owerhede op die hals gehaal het met sy ondersoek na die klaarblyklik onregmatige huur van kantoorgeboue vir die polisie se topstruktuur. Hy is hardhandig gearresteer, aangehou en aangekla weens die besit van 'n onverwante dokument wat ongevraag aan hom - en aan etlike ander joernaliste - gefaks is. Die vervolgingsgesag het ná 'n tyd wyslik besluit om die saak uit te gooi. Dis een van die ergste voorvalle nog in ons land, maar joernaliste kla gedurig oor dreigende en intimiderende reaksies wanneer hulle oor sensitiewe kwessies begin navraag doen.

    Dis allermins net 'n Suid-Afrikaanse verskynsel: die stigter van die webwerf WikiLeaks, Julian Assange, het ná onthullings wat die Amerikaanse Pentagon en Wit Huis in die verleentheid gestel het, onverklaarbaar en op bedenklike wyse 'n klag van verkragting teen hom gekry. Die klag is net so skielik en onverklaarbaar laat vaar.

    In 'n boek oor mediabeleid in Suider-Afrika wat pas by Unisa-uitgewers verskyn het, onder redaksie van Dumisani Moyo en Wallace Chuma3 verwys talle skrywers na die rol van staatsbemoeienis (statism op Engels) in lande waar mediavryheid weggekalwe word. Dit verwys na staatsbemoeienis in die wydste sin, waar die staat hom by alles en almal inmeng.

    Ter sprake word ook gebring die kwessie van die sogenaamde ontwikkelingsjoernalistiek, 'n idee wat al hoe meer in ontwikkelende lande na vore kom. Dit hang saam met die idee van 'n ontwikkelingstaat, wat in die tyd van oudpresident Thabo Mbeki ook in Suid-Afrika posgevat het. Dié idee is by 'n paar suksesvolle Asiatiese lande geleen. Dít is onder meer hoe na-oorlogse Japan weer op die been gekom het en behels 'n beduidende mate van sentrale beheer, met ekonomiese beplanningstrukture wat die samewerking van die regering, die staatsdiens, die sakesektor, die nywerhede en die burgerlike gemeenskap sinkroniseer om die land op 'n stewige ontwikkelingspad te plaas. Dit behels 'n ongeskrewe sosiale kontrak tussen die betrokkenes en ofskoon dit stellig raakpunte met sosialistiese sentrale beheer het, moet dit nie daarmee verwar word nie. Hier by ons is die plan steeds nie uit die verf nie, maar soos in die res van Suider-Afrika het die idee posgevat dat die media, in die naam van ontwikkelingsjoernalistiek, ook deel van dié poging moet wees. Ontwikkelingsjoernalistiek impliseer klaarblyklik 'n soort vennootskap tussen die staat en die joernalistiek, ter wille van die algemene welsyn van die ontwikkelingstaat. Dis miskien 'n mooi teorie, maar in die praktyk lyk dit vir my na niks anders as 'n subtiele manier om die media as 'n karperd van die staat in te span nie.

    Die aanslag op die vryheid van spraak was nog voor die tyd van die drukpers en media soos ons dit vandag ken natuurlik niks nuuts nie. Dit gaan terug na die antieke wêreld. Sokrates, wat later die gifbeker moes drink, was vyf eeue voor Christus voortdurend in onguns by die staat weens sy voortdurende kritiek op die konkelary en knoeiery in die staatsbestuur. Ná hom het Euripides dit nodig gevind om die vryheid van spraak te verdedig. Nie-ortodokse Christene se tempels en biblioteke is in die tyd van Konstantyn verbrand. Ná die uitvinding van die drukpers in die 15de eeu het die gedrukte boek 'n soort slagveld geword waar daar van tyd tot tyd probeer is om die verspreiding van bepaalde religieuse en ideologiese idees te smoor. Koning Karel IX van Frankryk het in 1563 bepaal dat niks gedruk mag word sonder die spesiale toestemming van die koning nie.4 En só het dit deur die eeue voortgeduur.

    In Suid-Afrika gaan die aanslag op mediavryheid terug na die tyd van Lord Charles Somerset, wat die uitgewer George Greig in 1824 verbied het om sy The South African Commercial Advertiser, onder redaksie van Thomas Pringle en John Fairbairn, uit te gee sonder dat die fiskaal dit eers onder oë gehad het.

    Die poging van die PW Botha-regering om in 1978 mediamaatreëls in te stel wat baie herinner aan die huidige pogings van die ANC-regering is nog betreklik vars in die geheue, om nie eens te praat van die omvattende sensuurwetgewing in die 1970's en 1980's en die mediasensuur ingevolge die noodtoestande van die 1980's nie.

    Hieruit blyk dit dat die aanslag op mediavryheid internasionaal 'n lang aanloop het, dat dit wêreldwyd steeds meer die reël as die uitsondering is, en dat dit die afgelope dekade hand oor hand toegeneem het. Dis 'n gegewe waarmee ons waarskynlik altyd sal moet saamlewe.

    Teen dié agtergrond gesien, wat is dan die uitdagings vir mediavryheid in Suid-Afrika vandag?

    Die eerste uitdaging sal wees om immer waaksaam te bly, om te besef dat die vryheid van die media baie maklik op 'n glybaan kan beland. Teen bogenoemde globale agtergrond gesien, kan 'n mens waarskynlik, dwaaslik, argumenteer dat dit vergeleke met baie ander lande nie só sleg met ons gaan nie.

    Maar laat ons nie die skrif aan die muur miskyk nie. In Freedom House se 2009-indeks staan Suid-Afrika nou saam met Tonga op nommer 70 op die lys van 196 lande, met 'n gradering van 32. Dit was reeds in 2008 genoeg om ons die status te ontneem wat ons sedert 1994 as 'n land met 'n algeheel vrye media gehad het. Ons media word nou as "gedeeltelik vry" geklassifi seer, en dit het gebeur voor die huidige omstrede beplande maatreëls op die tafel gekom het. Die woord glybaan kom dus ook wat Suid-Afrika betref by 'n mens op, en in dié verband is nog 'n aanhaling van regter Douglas van toepassing:

    As nightfall does not come all at once, neither does oppression. In both instances, there is a twilight when everything remains seemingly unchanged. And it is in such a twilight that we all must be most aware of change in the air - however slight - lest we become unwitting victims of darkness.

    Die maatreëls hier by ons waaroor daar nou al etlike maande 'n hewige debat woed, is teen hierdie tyd goed bekend:

    • Dis die voorgestelde wysigings aan die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, waarvolgens byna enige staatsinligting geheim verklaar sal kan word en dit strafbaar sal wees om sulke inligting te bekom of te besit; en

    • Die ANC se planne vir 'n statutêre Media- Appèltribunaal waaroor weinig besonderhede nog bekend is, en wat waarskynlik eers volgende jaar behoorlik bedink sal word, maar wat klaarblyklik die media aan staatsbeheer sal onderwerp.

    Teen hierdie tyd is die grond snuif getrap oor die onderwerp en ek wil u nie weer met al die argumente teen sulke mediabeheer vermoei nie. Net kortliks: dit het die potensiaal om die media só te inhibeer dat daar nie meer vrylik verslag gedoen sal kan word oor ook die doen en late van die regering en regeringslui nie, en duistere en korrupte optredes eenvoudig onder die mat ingevee sal word. Die vrye vloei van inligting kan só aan bande gelê word, dat die demokrasie daaronder ly.

    Lees 'n mens dit saam met ander bepalings of beplande bepalings wat reeds mediavryheid bedreig of aan bande lê, flits nog meer gevaarligte. Onder meer is daar:

    • Die Wet teen Terrorisme, waarvolgens die regering die publisering van inligting oor die polisie, weermag, tronke en psigiatriese instellings kan verbied en joernaliste kan dwing om bronne bekend te maak;

    • Die Wetsontwerp op die Beskerming teen Teistering, waarvolgens joernaliste aangekla kan word van teistering as hulle bronne lastig val; en

    • 'n Bepaling in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, wat haatspraak só wyd definieer, dat dit moeilik is om te bepaal wat die grense daarvan is en 'n mens laat wonder hoe dit skerp kritiese kommentators en ontleders in die media uiteindelik kan tref.

    In al hierdie gevalle, soos ook met die voorgestelde wysigings aan die inligtingswetsontwerp, is definisies so vaag of wyd, dat 'n mens noodwendig bekommerd moet wees oor willekeurige misbruik. Wanneer word 'n amptenaar of politikus geteister, en wanneer doen 'n joernalis bloot sy of haar werk deur sonder ophou 'n kwessie in openbare belang te ondersoek? Wanneer is kommentaar regverdige kritiek, en wanneer is dit haatspraak? Onder watter omstandighede kan inligting oor die veiligheidsmagte weerhou word omdat dit die veiligheid van die land raak, en wanneer is dit die weerhouding van inligting om misbruike te verdoesel?

    Dis dus verblydend dat ons media en 'n aantal groepe in ons burgerlike samelewing die regering die stryd aangesê het oor die wysigings aan die Wet op die Beskerming van Inligting en die beoogde mediatribunaal. Dit het stellig daartoe bygedra dat die regering aangedui het hy is bereid om aspekte van die wetsontwerp ietwat te versag en om betrokkenes behoorlik te raadpleeg voor die maatreël deurgevoer word.

    In die woordestryd oor mediavryheid kom dit my voor asof die media en hulle ondersteuners enersyds, en dié ten gunste van die voorgestelde maatreëls andersyds, oor 'n wye kloof heen na mekaar skree. Daar is klaarblyklik 'n radikale verskil tussen dié twee groepe se DNS.

    Dis in die media se DNS om korrupsie en magsmisbruik aan die kaak te stel. Dis in die media se DNS om sommige persoonlike kwessies as in openbare belang te ag en daaroor te berig. Maar daarteen het onder meer president Jacob Zuma in die huidige polemiek uitvoerig te velde getrek. Tydens die betrokke parlementêre portefeuljekomitee se verhore oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, het dit opgeval wat ministers en senior regeringslede alles as "private sake" beskou het. Mediaberigte oor buitensporige duur ampsmotors was hoog op die lys van voorbeelde van vermeende misbruik wat maatreëls teen die media sou noodsaak.

    Dié walgooiery teen onthullende mediaberigte is dalk nie soseer 'n DNS-kwessie as selfbeskermingsdrang nie. Wat wel in die regerende ANC se DNS is, is 'n totaal ander begrip van die verhouding van die media tot die staat as dié wat die media huldig. Dit kom van ver af, uit die dae toe die ANC ideologies gevoed is deur die destydse Sowjetunie en sy satellietstate. Van die media word verwag om "die revolusionêre saak" te dien, om deel te wees van strukture wat "die kollektief" dien. Daar word dikwels gepraat van andersdenkende mense en instellings in en buite die ANC wat "revolusionêr gedissiplineer" moet word.

    Tekenend van ANC-denke in 1990, pas ná die wettiging van dié organisasie, skryf Barbara Masekela, toe aan die spits van die ANC se kulturele lessenaar:

    Those who wish to speak on behalf of the South African people must be part of structures which can join with them in shaping and giving mandate to their message so that, when it reaches the world, it truly represents us as a nation.5

    Dit was 1990, ja, maar baie van hierdie benadering skyn nog deur in uitlatings van regeringsmense en hulle ondersteuners in die huidige polemiek.

    'n Mens neem hoopvol kennis van president Zuma se nadruklike onderneming in die ANC se weeklikse aanlynjoernaal dat die ANC en sy regering nie mediavryheid in die visier het nie, dat hulle trouens voorvegters vir dié grondwetlike reg is. Wanneer 'n mens egter 'n paar paragrawe verder die volgende lees, is jy minder hoopvol:

    What is the ideological outlook of the media? Is there an alienation with the post-apartheid democratic order and thinking? Are we on the same wavelength regarding where South Africa should go politically, socially and economically? 5

    Die waarheid is dat 'n vrye media nie op dieselfde golflengte as die regering hoef te wees nie. Net die afgelope week het die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, gesê daar is 'n "liberale offensief teen ons demokrasie". Daarom, het hy aangevoer, is 'n mediatribunaal nodig om die toekoms van sosialisme te beskerm.

    Dit is dus duidelik dat die media en die regerende ANC en sy alliansievennote gans uiteenlopende idees het oor die wese en werking van die media en daar is geen waarborg dat ons gevrywaar sal word van die glybaan waarop mediavryheid in soveel lande, naby en ver, beland het nie.

    Mediavryheid word egter nie net deur amptelike regeringsoptrede bedreig nie.

    Daar is eerstens wêreldwyd 'n neiging tot onverdraagsaamheid by individue en groepe teenoor dié van wie hulle verskil. Enkele voorbeelde is die woede wat oor die kop van 'n Skandinawiese spotprenttekenaar losgebars het weens sy satiriese kommentaar op aspekte van die Islam. Hier by ons loop die bekroonde spotprenttekenaar Zapiro telkens deur wanneer hy sekulêre én religieuse groepe sonder aansien des persoons bykom. Dit het die redakteur van die Mail & Guardian, vir wie hy onder meer teken, sy standpunt oor Zapiro se reg op vrye spraak ietwat laat versag ná 'n gesprek met die Moslemgemeenskap. Rapport se redakteur het dit drie jaar gelede nodig geag om Deon Maas se rubriek in dié koerant te staak ná Christen-lesers met sabotasie, aanranding en boikotte teen die koerant gedreig het oor 'n paar lighartige aanmerkings van Maas oor satanisme. Uit tradisionele Xhosa-geledere is onlangs geëis dat 'n roman met die besnydenis van jong Xhosamans as tema deur die regering verbied word.

    Deur die gedruis van die afgelope maande heen het lede van die media wel toegegee dat die media se hande nie noodwendig vlekkeloos skoon is nie, en dat die media daarby kan baat as hulle 'n slag dalk self 'n bietjie huis skoonmaak. Inderdaad, meer ernstige introspeksie sal die media nie kwaad doen nie.

    In vele opsigte kan die media, of ten minste 'n beduidende deel daarvan, hulleself op die skouer klop. Dit geld veral ondersoekende joernalistiek, en daar moet 'n mens veral die Mail & Guardian uitsonder. Die algehele afwesigheid van dienstigheid teenoor die regerende party, so lank in die vorige eeu kenmerkend van veral die Afrikaanse media, is verblydend.

    Maar daar is heelwat jakkalsies, klein en minder klein, wat skade in die joernalistieke wingerd aanrig deurdat hulle die openbare respek vir die media aantas. Dit het implikasies vir mediavryheid, omdat dit kan lei tot steun vir maatreëls teen die media.

    Die onlangse erkenning deur Ashley Smith van die Cape Argus dat hy deur die destydse Wes-Kaapse premier, mnr. Ebrahim Rasool, nou ambassadeur in die VSA, betaal is om hom in ANC-faksiegevegte te bevoordeel, het elke regdenkende joernalis ontstel, en 'n mens wil net hoop dat dit 'n uitsondering op die reël is. Feitefoute en skeeftrekkings kom gereeld voor, en word net so gereeld reggestel, hetsy op eie stoom ná klagtes van betrokkenes, of in opdrag van die persombudsman - dis 'n wêreldwye probleem wat seker nooit heeltemal hokgeslaan sal word nie.

    Die beheptheid met die private sake van glanspersoonlikhede - 'n internasionale verskynsel - waar dit nie in openbare belang is nie, aangevuur deur die koms van 'n nuwe geslag gelerige tot goudgeel poniekoerante, is sekerlik iets waaroor die media kan dink. Dit hang saam met 'n beduidende vervlakking van baie media oor die afgelope dekade of wat.

    Miskien sou dit ook die media baat om te besin oor nog twee kwessies wat hulle vryheid buite die regeringsfeer kan aantas.

    • Een is die dwingelandy van die mark, wat veroorsaak dat die media die afgelope jare toenemend gee wat hulle meen hulle lesers wil hê. Die ander uiterste was sekerlik dat hulle dikwels ietwat hooghartig gegee het wat hulle gemeen het hulle lesers moet kry. Iewers moet daar 'n tussenweg wees. Natuurlik, die media het hoogs mededingende produkte geword en kan nie hulle mark ignoreer nie. Maar gaan dit dalk te ver, juis in byvoorbeeld die opdis van glanspersoonlikhede se slaapkamersake, sodat 'n deel van die mark al hoe meer daarvan wil hê? Word daar in die naam van wat die mark wil hê, dalk te swaar klem gelê op die seksionele belange van 'n bepaalde koerant se lesers ten koste van 'n breër insluitende blik op die samelewing? Ag koerante hulleself nog vry genoeg om nie net aan die eise van die massas toe te gee nie, soos in die geval van Deon Maas en Rapport?

    • Tweedens kan die voor- en afkeure van media en/of van individuele joernaliste mediavryheid aan bande lê. Objektiwiteit in die media is problematies, want ek glo eerlik nie daar is iets soos algehele objektiwiteit nie, maar die media en mediawerkers behoort immer waaksaam te wees teen voor- en afkeure wat hulle uiteindelik só bind dat hulle eenogig na 'n kwessie kyk. Dit geld kommentators sowel as beriggewers.

    Dit alles gesê, bly die vraag of mediavryheid in Suid-Afrika uiteindelik so gekompromitteer sal word dat Freedom House ons as 'n land met 'n totaal onvrye media sal moet klassifi seer. Daarop het ek nie 'n antwoord nie, behalwe om te sê dat ons - die media, die burgerlike gemeenskap, almal wat vrye spraak hoog ag - nooit ons waaksaamheid sal kan verslap nie. Dit sal ons baat om immer na die onvrye media elders te kyk en te onthou: dit kan met ons ook gebeur.

    Hoop op die vrye vloei van inligting kom uit 'n ander oord as die konvensionele hoofstroommedia: inligting in die era van die internet sal nooit weer geheel en al onderdruk kan word nie. Diegene wat die inligtingstegnologie vaardig kan gebruik, sal regerings en geheimsinnige politici altyd 'n kortkop voor wees. Dit sluit alles in, van sosiale netwerke tot webbladsye en blogs. Ek verwys u na net enkele onlangse gebeure:

    • Toe onluste ná Iran se laaste verkiesing losbars, het die hele wye wêreld van minuut tot minuut geweet wat gebeur, weens die gebruik van Twitter;

    • WikiLeaks het twee keer die afgelope maande vir rooi gesigte in die Pentagon en die Wit Huis in Amerika gesorg. Eers het dié aanlynpublikasie 'n video op die internet geplaas wat toon hoe Amerikaanse helikopters verantwoordelik was vir die dood van talle Irakse burgerlikes en twee Reuters-joernaliste. Daarna het hy tienduisende bladsye geklassifiseerde dokumente oor die oorlog in Afganistan gepubliseer, wat wêreldwyd opslae gemaak het.

    • 'n Oopbron-webwerf, genaamd Ushahidi, het deur SMS'e te publiseer die wêreld ingelig gehou oor die geweld ná die laaste verkiesing in Kenia, 'n land met slegs beperkte mediavryheid.

    Daar is geen rede om te glo dat Suid-Afrika se geesdriftige bloggers en tweeters en webmeesters nie óók hulle landgenote ingelig sal hou nie. Mediavryheid in die konvensionele sin van die woord mag in baie opsigte bedreigd wees, maar in 2010 is die waarheid slegs 'n selfoon ver.

     

     

    Anne-Marie Mischke was voorheen onder meer parlementêre beriggewer van Die Transvaler en later eers politieke redakteur en vervolgens, tot haar aftrede in 2007, senior adjunk-redakteur by Rapport.

     

     

    1 Wolf, Naomi The End of America - letter of warning to a young patriot, 2008.
    2 Freedom House: Press Freedom in 2009
    3 Media Policy in a Changing Southern Africa, ed. Dumisani Moyo and Wallace Chuma.
    4 www.beaconforfreedom.org
    5 ANC Today, Letters from the President.