SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 n.4 Pretoria Dec. 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die profiel van die volwasse man as mentor vir adolessente seuns aan die Weskus

 

The profile of the adult male as a mentor for adolescent boys from the West coast

 

 

J.P.D. SteytlerI; H. StrydomII

IVredenburg E-pos: jsteytler@gmail.com
IIMaatskaplike Werk, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom E-Pos: herman.strydom@nwu.ac.za

 

 


Trefwoorde: mentorprofiel, mentorskap, protégé-mentee, mentorverhouding, adolessente seun, natuurlike mentor, volwasse man, psigososiale perspektief, generasies, gesinstruktuur


ABSTRACT

Historically, mentorship was a role men fulfilled with regard to younger boys and existed even before the word mentoring was ever used. However, in South Africa this role has faded and is no longer necessarily fulfilled purposely by men, particularly if seen from a psychosocial perspective. Adult men as natural mentors for adolescent boys are not always equipped with the necessary knowledge and skills to enter into such a role. The role as mentor in this specific situation demands a considerable amount of time and attention from the adult male and, in addition, it requires an understanding of the perceptions of the adolescent.
Although biological fathers are their sons'first natural mentors, they seem not always to be quite that much involved in their children's lives. Some adolescent boys have the benefit of an external mentor - someone outside the family system. Although the majority of the biological fathers want a mentor for their adolescent boys, only a handful of them are willing to allow someone else to fulfil this role. Many of these biological fathers are also willing to mentor someone else, but only a few actually do it. This mentor relationship exposes the mentee to a broader social network for higher quality of life standards.
The age and generation of the mentor influences the style of the mentor relationship. It is necessary, though, to understand the mentors and the mentees within their generation and the characteristics known to their age. According to the literature, one of the characteristics of the X-er mentors is that they are more stable in their family system with less separation and divorces. The family structure of the mentor also has a known influence both on him and the mentor relationship.
This mentoring with an adolescent boy is not of a corporate nature, but has a psychosocial origin. The personality of the mentor plays a huge role in this kind of mentoring relationship. Certain characteristics of the mentor are touching to the mentees and need to be enhanced. The involvement of the mentor and the mentee in social activities is important to both of them. The mentor's general way of living serves as an example to the mentee. Hence the mentor should, for example, avoid using substances and coming into confl ict with the law.
The spiritual dimension, or the need for transcendence, as referred to in Maslow's hierarchy, is a very important element for the mentor in the mentoring relationship. This article focuses on the profi le of the adult male who mentors an adolescent boy in a natural mentor relationship.

Key terms: mentor profile, mentoring, protégé-mentee, mentor relationship, adolescent boy, natural mentor, adult male, psychosocial perspective, generations, family structure


 

 

OPSOMMING

Deur die geskiedenis heen was mentorskap 'n rol wat mans ten opsigte van jonger seuns vervul het. In Suid-Afrika het hierdie rol egter heelwat vervaag en word nie meer doelbewus deur baie mans vervul nie. Volwasse mans wat as natuurlike mentors vir adolessente seuns intree, is nie altyd toegerus met die nodige kennis en vaardighede om hierdie rol te kan vervul nie. Hierdie rol as mentor verg heelwat van die volwasse man se tyd en aandag, en ook dat die volwassene die persepsies van die adolessente seun moet verstaan. Hierdie artikel fokus op die profiel van die volwasse man as mentor in 'n mentorverhouding.

 

INLEIDING

Die voorkoms van die mentorverhouding is duidelik waarneembaar oor die eeue heen. Die Chinese konings Yao, Shun en Yu het ongeveer tussen die jare 2333 en 2177 VC reeds hulle opvolger opgelei om later in hulle skoene te kon staan (Taylor & Bressler 2000:viii). Enkele voorbeelde uit die Ou Testament is dat Moses vir Joshua, en Elia vir Elisa as mentor opgetree het. In die Nuwe Testamentiese tyd het Paulus Timoteus (Bybel 1983) onder sy vlerk geneem. Dat die hedendaagse seuns behoefte het aan 'n mentor en 'n mentorverhouding is dus nie uniek nie. Chen, Greenberger, Farruggia, Bush en Dong (2003:35-36) het in China asook in die VSA die rol van die nie-ouer volwassene in die ontwikkeling van die adolessent nagevors. Uit genoemde outeurs se navorsing is bevind dat hierdie nie-ouers of natuurlike mentors 'n sterk invloed op die adolessent se lewe uitoefen. Kinders wat gementor word, hetsy deur die ouer of die nie-ouer, het 'n breër maatskaplike netwerk om hulle te ondersteun as dié sonder hierdie leiding. Navorsing deur Steytler (2007:88) het bevind dat adolessente seuns wat in 'n mentorverhouding staan, psigososiaal beter funksioneer.

Adolessente val binne die ouderdomskategorie, kinders, deurdat hulle nog jonger as 18 jaar is. 'n Groot persentasie kennis wat kinders inneem, vind plaas deur waarneming. Hierdie sosiale leerteorie, dat leer deur sosiale interaksie of dialektiese uitruiling geskied, is dekades gelede deur die Russiese psigoloog, Lev Semenovich Vygotsky ontwikkel.1 Die persoon wat die adolessent mentor, moet dus ingestel wees op sy eie optrede en dit wat hy sê, aangesien dit 'n blywende indruk by die mentee laat.

 

PROBLEEMSTELLING

Weens die feit dat seuns vrees dat hulle dalk deur hulle ouers gemarginaliseer, geëtiketteer of veroordeel gaan word, blyk dit juis dat hulle nie hulle ouers nader met betrekking tot hulle probleme nie (Shaffer & Gordon 2005:2). Hierdie tendens wek kommer, want dit gee aanleiding tot die vraag: By wie of hoe gaan die seun dan ontlont en sekere vaardighede aanleer? Genoemde uitkomste is maar enkele gevolge en elk het 'n rimpeleffek op die breër samelewing.

In die Westerse samelewing word ouers soms as dié enkele verantwoordbare persone rakende hulle kinders beskou. Die betrokkenheid van persone buite die gesin word soms as verdag of as ongemaklik beleef. Min volwassenes wil betrokke raak by ondersteuning en rigtinggewing aan die jeug buite hulle families (Rhodes 2002:11,28). Dit kan onder andere toegeskryf word aan vrees vir aanklagte ten opsigte van wangedrag. Adolessente se toenemende seksuele wangedrag soos molestering en verkragting asook geweld kan ook 'n rede wees waarom minder volwassenes veilig voel om betrokke te raak by adolessente buite die familie, oftewel die gesin. Ten spyte van hierdie gevare is daar wel volwasse mans wat bereid is om in te tree as mentors. Dit laat egter die vraag: hoe lyk die profiel van hierdie volwasse man as mentor wat reeds in 'n natuurlike mentorverhouding staan?

Die doelstelling van hierdie ondersoek is om die profiel van die volwasse mans wat reeds as mentor in 'n natuurlike mentorverhouding staan, saam te stel. Hierdie artikel laat ruimte vir verdere navorsing of tot die ontwikkeling van bemagtigingsprogramme waarbinne beide die mentor en die mentee versterk kan word. Om hierdie doelstelling te kan beantwoord, is sekere doelwitte gestel en dit word in subtemas uiteengesit.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Talle verskille kom voor tussen die verskeie kulture - internasionaal asook in Suid-Afrika - en dit is noodsaaklik dat kinders binne hulle eie kultuurverband hanteer moet word. Kulture hanteer egter hulle kinders op hul eie wyse (Bernardes 1997:108). 'n Klein steekproef en meer gefokusde studie is aan die Weskus in Suid-Afrika onderneem waar mentorskap nog 'n relatiewe nuwe begrip is. Weens kultuursensitiwiteit, verskille in geslagte, rasse, taal en geloofoortuigings, fokus hierdie studie op 'n spesifieke groepering mense in daardie samelewing, naamlik die Afrikaanssprekende man en wel vanuit 'n Christelike perspektief.

Die gelyktydig triangulerende strategie vir die empiriese ondersoek van Creswell (2009:203216) is uitgevoer waarin gemengde metodes vir kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing uiteengesit word. Hierdie ondersoek is beide beskrywend en verkennend van aard (Fouché & De Vos 2005:106). Onderhoudvoering is as kwalitatiewe benadering onderneem deur middel van grondige onderhoude met die mentors en verskeie vraelyste wat hulle ingevul het. Hierdie deelnemers staan elkeen reeds in 'n mentorverhouding met 'n seun. Data van hierdie deelnemers is bekom deurdat hulle beide selfgeadministreerde vraelyste (Delport 2005:168) en 'n gestandaardiseerde vraelys van die National Mentoring Center2 van die VSA ingevul het. Die dataverwerking van hierdie gestandaardiseerde vraelys is ooreenkomstig die voorgeskrewe handleiding gedoen. Die selfgeadministreerde vrae was deels gebaseer op die Likert-skaal en deels op oopvraag-stellings (Neuman 2003:197).

Om 'n beter en meer betroubare profiel van die mentordeelnemer te kan saamstel, is daar gedeeltelik van kwantitatiewe navorsing gebruik gemaak deur middel van 'n fokusgroep. Die volwasse mans by hierdie fokusgroep, wat ook mentors vir seuns is, het dieselfde selfgeadministreerde vraelys as die deelnemers by die indringende ondersoek ingevul.

'n Literatuurstudie is onderneem en word deurlopend weergegee om die data te ondersteun, te verwerp of om nuwe insigte te verkry. Opmerkings van die deelnemers word verbatim aangehaal om 'n onderwerp duidelik toe te lig. Weens vertroulikheid en ooreenkomstig etiese riglyne word geen persoonlike of identifiseerbare besonderhede van die deelnemers weergegee nie.

Deelnemers aan die ondersoek is deur middel van die sneeubaltipe steekproef geselekteer (Strydom & Delport 2005:328) en is van die Weskus afkomstig. Hierdie mentors is egter nie almal slegs 'n mentor vir sy eie seun nie, maar van die deelnemers mentor ook seuns buite hulle gesinsisteem. Mentorskap is 'n onbekende en nuwe begrip aan die Weskus van Suid-Afrika, wat die keuse van deelnemers beperk het. Dit skep egter die geleentheid vir nuwe en verdere navorsing. Weens die beperkte beskikbaarheid van deelnemers is slegs 10 deelnemers by die ondersoek betrek.

 

DIE BIO-PSIGOSOSIALE EIENSKAPPE VAN DIE VOLWASSE MAN BINNE 'N MENTORVERHOUDING

Die bio-psigososiale eienskappe van die volwasse mans wat as mentors vir seuns ingetree het en wat aan die ondersoek deelgeneem het, word onder die volgende subtemas uiteengesit: ouderdom, generasie, gesinsamestelling, beroep, persoonlikheid, kriminele oortreding en geestelike welstand.

Ouderdom

Gerdes et al. (1998:478) klassifiseer volwassenheid in drie ouderdomstydperke, naamlik vroeë volwassenheid (20-39 jaar), middelvolwassenheid (40-59 jaar) en laatvolwassenheid of bejaardheid (60+ jaar). Zastrow en Kirst-Ashman (2004:388) groepeer volwassenheid in dieselfde kategorieë. Die ouderdomsperke verskil egter. Laasgenoemde outeurs se ouderdomsgroepe is vroeë volwassenheid (17-45 jaar), middelvolwassenheid (40-65 jaar) en laatvolwassenheid (60+ jaar). In laasgenoemde outeurs se klassifisering oorvleuel die laaste vyf jaar van middelvolwassenheid na laatvolwassenheid met mekaar; dus is daar nie 'n duidelike grens tussen middel- en laatvolwassenheid nie. Volgens Bosman-Swanepoel en Wessels (1995:12) en Die Kinderwet, Wet 38 van 2005 (South Africa 2006:20), is 'n persoon onder die ouderdom van 18 jaar 'n kind. Vir doeleindes van hierdie studie is die groepering van vroeë volwassenheid tussen die ouderdomme 18 en 39 jaar, middelvolwassenheid tussen 40 en 59 jaar en laatvolwassenheid of bejaarde persone van 60 jaar en ouer.

Van die tien deelnemers wat aan die ondersoek deelgeneem het, was 8 vroeë volwassenes met 'n ouderdomsverskil van 4 jaar tussen die oudste en die jongste deelnemer. Slegs 2 van die deelnemers was in die groepering middelvolwassenheid met 'n groot ouderdomsverskil van 10 jaar tussen hulle twee. Die goeie ingesteldheid en deelname tot die ondersoek deur die vroeë volwassenes word as baie positief aanvaar. Dit is jammer dat daar net twee mentors uit die ouer ouderdomsgroepe in die studie betrokke was, want laatvolwassenes sou weens hul lewenservaring moontlik heelwat tot die studie kon bydra.

Generasie

'n Persoon se generasie word gekoppel aan die jaar waarin hy/sy gebore is. Anders as die lewenstydperk waarin 'n persoon verkeer en wat verander volgens dié se ouderdom, bly generasies onveranderd. Sekere kenmerkende gedrag en gedragspatrone kom binne elke generasie voor en is uniek aan daardie generasie. Hierdie gedragspatrone kan 'n direkte uitwerking hê op die wyse waarop die mentor sy mentee hanteer. Bepaalde gedragspatrone by die mentor kan sekere gedrag uitlok by die mentee. Dit is dus belangrik dat 'n mentor bewus moet wees watter eienskappe, wat kenmerkend is aan sy generasie, 'n reaksie kan uitlok by sy mentee. Dieselfde geld ipso facto vir die mentee. Hierdie eienskappe en gedrag moet reg bestuur, hanteer en aangepak word.

Enkele unieke voorbeelde van die Boomers is dat hulle die produktiefste blyk te funksioneer indien hulle volgens 'n Missie, Visie en Doel werk (Codrington & Grant-Marshall 2004:152-154). Op hul beurt blyk X-ers persone te wees wat buitemuurse ontspanning soos roei in 'n sport verander en meer geneig is om aan uitdagende sportsoorte soos rotsklim en valskerm-vryval deel te neem.

Volgens Tabel 1 en die geboortejaar van die deelnemers val 8 van die deelnemers op die grens tussen die Boomers en die X-ers, gegewe 'n speling van 5 jaar. Slegs een deelnemer val duidelik in die groepering van die Boomers en een deelnemer in dié van die X-ers. Dit blyk dat die meerderheid deelnemers wat tans 'n mentorverhouding met 'n seun op 'n jong ouderdom aanknoop, self in die oorgangstydperk van een generasie na 'n ander val, met 'n sterker neiging na die X-ers. Volgens die Associated Press (Anon 2009) is die huidige generasiegaping in die VSA die grootste sedert die Viëtnamese oorlog 40 jaar gelede. Die grootste verskille is egter in uitgangspunte met betrekking tot waardes en norme.

Gesinsamestelling

Die tradisionele gesin het bestaan uit die vader, die moeder en ten minste een kind waar die vader die broodwinner was en die moeder die versorger.3 Gesinsamestelling het met verloop van tyd baie verander, met heelwat nuwe vorme van gesinsisteme. Navorsing wat deur Venter (2004:6364) in Suid-Afrika onderneem is, het elf soorte gesinne geïdentifiseer. Hierdie elf vorme het elk sy eie subsisteme wat die verskeidenheid gesinsamestellings heelwat verbreed. Dit sluit homoseksuele, poligame en Child-Headed Household4 -gesinne in. Die deelnemers se gesinsamestelling word in Tabel 2 uiteengesit.

Al die deelnemers is getroud met hulle eerste vrou en maak deel uit van die groepering, "tradisionele gesin". Afwyking van die tradisionele gesin soos per definisie voorgehou, mag wees dat die moeder van die gesin ook werk en 'n inkomste vir die gesin help genereer.

Die deelnemers is almal ouers en het hulle eie biologiese kinders. Geen deelnemer was 'n pleegouer nie. Hierdie bevinding is in lyn met die bevinding dat 90% van getroude persone kinders het of gaan hê (Zastrow & Kirst-Ashman 2004:289). Die meerderheid deelnemers het ewe veel seuns en dogters in die gesin. Geen deelnemer het meer dogters as seuns nie, maar daar is wel deelnemers wat óf net seuns óf meer seuns as dogters in die gesin het.

Beroep

Soos die res van die wêreld beleef Suid-Afrika 'n resessie wat groot druk op die gesin plaas. Volgens Statistics South Africa (2009:v) se kwartaalverslag wat op 28 Julie 2009 vrygestel is, is 23.6% van alle Suid-Afrikaners wat werkmagtig is, werkloos. Dit blyk verder dat die werkloosheidsyfer nie verbeter nie en dat al hoe meer Suid-Afrikaners hulle werk verloor. Die onlangse resessie kan meebring dat groter ekonomiese druk op die werkgewer rus wat kan veroorsaak dat daar nie verhogings gaan wees nie of anders 'n laer persentasie as vorige jare. Hierdie ekonomiese veranderinge kan meebring dat die volwasse man as broodwinner onder groter druk gebuk sal gaan om sy gesin se finansiële sekuriteit te kan verseker en in die gesin se basiese behoeftes te kan voorsien

Die deelnemers staan almal in 'n voltydse beroep, van wie een 'n teoloog, een 'n korrektiewe beampte, twee bestuurders, een 'n visserman, een 'n boer is en vier hulle eie onderneming bedryf. Insluitende die boer en die visserman wat nie deur 'n organisasie in diens geneem is nie, is ses van die deelnemers self verantwoordelik vir 'n maandelikse inkomste deur hulle eie onderneming. Ten spyte van die huidige resessie werk hierdie mentors en voorsien hulle in hul eie finansiële behoeftes.

Volgens die akademiese agtergrond van die deelnemers beskik 4 oor 'n tersiêre kwalifikasie, 5 oor net 'n matriek senior sertifikaat en slegs 1 met net 'n graad 10- kwalifikasie. Die meerderheid deelnemers het dus hulle skoolloopbaan tot graad 12 voltooi. Dit blyk dus dat hierdie mentors akademie baie belangrik ag want die meerderheid het skool voltooi en tersiêre opleiding ontvang.

Persoonlikheid

Welty (1989:55-57) beskryf enkele gewenste eienskappe van 'n mentor. Hierdie eienskappe is dat 'n mentor:

• deel moet uitmaak van 'n netwerk van liefde en ondersteuning;

• die adolessente se ontwikkelingsvaardighede moet verstaan;

• 'n luisterprofiel moet weerspieël;

• vertroue en oortuigings moet vestig;

• die vertroulikheidsomgewing van die mentorverhouding moet verstaan;

• sy eie adolessente ondervinding moet verstaan.

Die eienskappe hierbo aangedui impliseer dat die geaardheid van die mentordeelnemer veel belangriker is, as wat hy vir die menteedeelnemer doen (Welty 1989:58). Die persoonlikheid van die mentordeelnemer en sy oordra en uitleef daarvan het 'n direkte invloed op die mentorverhouding.

Die mentordeelnemers wat aan die bemagtigingsprogram deelgeneem het, skryf verskeie karaktereienskappe aan hulleself toe. Hierdie eienskappe sluit in: doelgerig; lief vir mense; gedissiplineerd; mensgeoriënteerd; humeurig; gefokus op persoonlike tyd; stiptelik; en vriendelik. Sewe deelnemers is van mening dat hulle streng en ferm optree en duidelike grense stel. Die belangrikheid daarvan om duidelike grense te stel en daarop te reageer indien hierdie grense oortree word, word ondersteun in die literatuur soos dit deur Louw, Van Ede en Ferns (1998:354) uitgelig is. Slegs een van die deelnemers blyk meer 'n laissez-faire tipe styl te handhaaf deurdat hy sy mentee baie minder rigting gee en hom meer gereeld aan sy eie oordeel oorlaat.

Die mentees van die bemagtigingsprogram beskryf hulle mentors as positief, vriendelik, gefokus op persoonlike tyd, streng, spontaan, sagmoedig, humeurig, intelligent, rigtinggewend en liefdevol. Volgens die data beleef die mentees hulle mentors se persoonlikhede as besonder positief met 'n sagte sy eerder as harde persone wat sterk fokus op negatiewe dissiplinering. Daar is 'n duidelike ooreenkoms tussen hoe die mentors hulleself sien en hoe die mentees hulle beleef.

Die mentordeelnemers, gesien in die lig van die generasies soos dit in die generasie-paragraaf van hierdie afdeling en in Codrington en Grant-Marshall (2004:36-46, 81-87) beskryf en uiteengesit is, het as Boomers grootgeword. Hulle het baie vryheid gehad, iets wat hulle ouers, die GI's, nie geoorloof was nie, en wat hulle nou hul kinders vrylik gun. Hulle is soms baie materialisties opgevoed. Gepaard met die baie vryheid het negatiewe veranderinge ook ingetree. Morele waardes het verander - nie ten goede nie - en daar moes ingetree word. Voorbehoedmiddels soos die voorbehoedpil asook kondome het op die mark verskyn. Die vrylike beskikbaarheid en/ of gebrek aan kennis daarvan kon onder andere ongewenste swangerskappe of meer onverantwoordelike seksuele bedrywe veroorsaak. Die tendens van laer morele waardes en makliker toegang tot voorbehoedmiddels kon gelei het tot 'n toename in maatskaplike hulpverlening soos vir ongewenste swangerskappe.

Die X-ers word gekenmerk deur oorbelle in die ore en lippe. Dit blyk dat die X-ers kinders was wat van kindsbeen af moes veg om deur hulle ouers raakgesien te word. Die X-er kind het grootgeword in 'n omgewing waarin daar nie juis aandag aan die kind geskenk is nie. Dit blyk dat die ouers van die X-ers te besig was om aandag aan hulself te gee, as om dit op hul kinders te rig (Codrington & Grant-Marshall 2004:87-93). Jeugdige X-ers het van vroeg af reeds die korporatiewe wêreld betree. Wetgewing is opgeskerp om hierdie kwesbare generasie te beskerm en die Wet op Kindersorg, Wet 74 van 1983, is ingestel. Volgens laasgenoemde outeurs beskou die vorige geslagte die X-ers as uiters arrogant. Dit kan moontlik toegeskryf word daaraan dat hierdie generasie hardwerkend is, met 'n sterk individuele lewensbeskouing. Die X-ers kan goed deur middel van 'n mentorverhouding benader word. Hulle reageer baie positief op persoonlike gesag en respekteer kwalifikasies en spesialisering (Codrington & Grant-Marshall 2004:131). Dit blyk dat die X-ers meer beskermend en betrokke optree teenoor hul gesinne en die mense met wie hulle omgaan.

Die meerderheid van die deelnemers is op die grens tussen die Boomers en die X-ers. Dit is belangrik dat die mentor bewus moet wees van sekere karaktereienskappe wat kenmerkend is aan sy generasie. Hierdie kennis kan die mentor help om die mentorverhouding te versterk. Die mentor moet ook kennis dra van sekere kenmerkende karaktereienskappe wat op sigself ook voorkom in die seun wat hy mentor.

Kriminele oortredings

Ten spyte daarvan dat kriminele oortredings in Suid-Afrika blykbaar toeneem, het geen deelnemer aangetoon dat hy 'n kriminele oortreding begaan het en gevonnis is nie. Volgens Artikel 120 van Die Kinderwet, Wet 38 van 2005, mag geen persoon wat 'n misdaad wat met 'n kind verband hou, gepleeg het met kinders werk of betrokke wees by aktiwiteite wat kinders insluit nie (South Africa 2006:82).

Geestelike welstand

Soos reeds na verwys is, kom mentors en mentorverhoudinge eeue lank reeds voor. Hierdie mentorverhoudinge vind binne en buite spirituele kontekste plaas. Die tendens bly egter dat daar 'n spirituele of transendentale vlak is. Hierdie tendens is in die ondersoek bevind en word ook deur die literatuur ondersteun.

Volgens Anon (2009) is geloof of spiritualiteit besig om onder jonger geslagte af te neem. Navorsing wat deur Associated Press van die VSA onderneem is, het bevind dat 66.7% van die deelnemers ouer as 65 jaar geloof as baie belangrik ag. Volgens hierdie ondersoek het persone tussen 30 en 49 jaar geloof skaars bo 50% as belangrik geag en persone tussen 18 en 29 slegs 44% (Anon 2009).

Almal wat aan hierdie ondersoek deelgeneem het, beleef dat hulle rol as mentor 'n geestelike sy het en dat hulle 'n invloed op hulle mentee se verhouding met die Here het. Een van die deelnemers verwoord dit soos volg: "[Die Here is] 100% deel van ons lewe. Ons verhouding met die Here is primêr in ons lewens." Volgens die Likert-skaal van 0 tot 10 waar 0 die minste is en 10 die meeste, het die deelnemers hul verhouding met die Here soos volg op die skaal aangedui. Twee het 'n 5, een 'n 6, een 'n 7, drie 'n 8, een 'n 9 en twee 'n 10 aangedui. Volgens hierdie skaal speel die geestelike dimensie vir die mentordeelnemers 'n besonder noemenswaardige rol in die mentorverhouding. In teenstelling met die bevindinge van die navorsing wat deur Associated Press in die VSA onderneem is, ag die meerderheid deelnemers aan die onderhawige ondersoek geloof baie belangrik.

 

DIE BEHOEFTES VAN DIE GEMIDDELDE MENTOR

Volgens Maslow se behoeftehiërargie, soos in Edwards (1998:423) uiteengesit, het alle mense dieselfde spesifieke behoeftes - sien Tabel 3. Hierdie psigoloog, wat 'n paradigma vanuit 'n humanistiese beskouing skets, onderskei tussen twee vlakke behoeftes (Meyer & Van Ede 1998:70). Op die primêre vlak lê die gebreksbehoeftes wat strek tot by agting, en op die sekondêre vlak, die groeibehoeftes (selfaktualisering en transendensie). Eers wanneer daar in 'n persoon se gebreksbehoeftes voorsien is, of gereeld daarin voorsien word, tree die groeibehoeftes op die voorgrond.

Die behoeftes van die deelnemers aan die bemagtigingsprogram word onderskei as Geestelike groei (f=1), Familie of Gesin (f=3) en Sekuriteit (f=3). Hierdie emosionele behoeftes by die mentors word ondersteun deur Behr, Cilliers en Meyer (1988:26-30) deurdat hulle daarop wys dat elke mens na die vervulling van die basiese behoefte aan liefde, sekuriteit, aanvaarding en erkenning hunker.

Binne hierdie hiërargie het die mentor 'n behoefte aan veiligheid (f=3), liefde en om te behoort (f=3) en transendensie (f=1). Indien daar in die mentor se gebreksbehoeftes voorsien en sy groeibehoeftes gestimuleer word, kan hy meer produktief aandag skenk en tyd afstaan aan sy mentee en sy gesin.

By die mentors wat aan hierdie ondersoek deelgeneem het, is bevind dat die meerderheid hulle aandag na hulle gesinne wend en nie soseer die aandag en fokus op hulleself rig nie. Gemeet aan Maslow se paradigma en hiërargie word in die deelnemers se gebreksbehoeftes sowel as hulle groeibehoeftes voorsien.

 

DIE MENTORVERHOUDING

Adolessente seuns het behoefte daaraan om gementor te word, maar daar is min mans wat bereid is om as mentors in te tree. Baie kennis en vaardighede gaan verlore weens volwassenes wat nie altyd bereid is om tyd en aandag te skenk aan die jonger geslagte nie. In die Westerse kultuur blyk dit meer algemeen voor te kom dat volwassenes geneig is om bejaarde persone, wat oor baie kennis en lewenservaring beskik en hierdie kennis aan nuwer geslagte kan oordra, uit te sluit (Williams 1994). Die voormalige Minister van Welsyn en Bevolkingsontwikkeling, Minister Williams, het dit soos volg verwoord: "Ek kry soms die indruk dat daar by die gemeenskap die persepsie bestaan dat 'n afgetrede of ouer persoon nie langer in staat is om 'n bydrae in die gemeenskap te maak nie" (Williams 1994). Dit blyk dus dat die gemeenskap bejaardes, wat 'n belangrike rol as mentors kan vervul, marginaliseer en as potensiële mentors uitskakel. Die gevolg is dat opvolgende geslagte hierdie kennis en vaardighede sal moet oplees. Sodoende raak dit al minder persoonlik. "Interaction with supportive adults, to whom a young person can turn for guidance and nurturing, is a key to navigating the slippery path to productive adulthood" (Taylor & Bressler 2000:xii). Die inspraak wat die volwassene op 'n jongmens se lewe het, kan groot veranderinge by die jongmens teweeg bring.

Dacey, Kenny en Margolis (2004:229) het aangedui dat die behoefte aan mentors sterk is, maar dat min mans bereid is om doelbewus as mentors op te tree buite hul gesin; veral so met seuns. Desnieteenstaande was 6 van die 10 deelnemers aan hierdie studie bereid om seuns buite hul gesin te mentor. Drie deelnemers het dit reeds gedoen.

Die meerderheid deelnemers is van mening dat hulle seuns mentor, omdat:

• hulle lief is vir die seuns;

• net die beste vir hulle wil verlang;

• bepaalde insette wil lewer - hulle voorberei, geestelik en emosioneel; en

• hulle wil hê dat die mentee 'n sukses van sy lewe moet maak.

Alhoewel die meerderheid deelnemers aangetoon het dat hulle bereid is om 'n seun buite sy gesin te mentor, het slegs 1 aangedui dat hy ten gunste is daarvan dat iemand anders sy seun mentor. Volgens die Likert-skaal van 0 (die laagste) tot 10 (die hoogste) het 4 van die deelnemers 'n 5 aangedui en 1 'n 3. Die ander deelnemers het die vraag egter nie beantwoord nie. Verbatim aangehaal motiveer een van die deelnemers sy gevoelens rakende 'n buitepersoon as mentor vir sy biologiese seun soos volg: "As dit my seun se wens is, sal dit my goedkeuring wegdra." Dit dui op 'n versigtige houding jeens iemand anders as mentor vir sy seun sonder om dit geheel af te keur.

Die resultate dui aan dat die meeste mentordeelnemers van mening is dat hulle 'n positiewe uitwerking op hul mentees se lewens het. Op 'n Likertskaal (met 0 die laagste en 10 die hoogste) het 5 deelnemers 'n "8", 2 'n "9" en 2 'n "10" aangedui. Een deelnemer het nie reageer nie.

Die mentordeelnemers se behoeftes in hierdie natuurlike mentorverhouding is besonder emosioneel georiënteer en fokus op die basiese behoeftes van die seun. Volgens die deelnemers aan hierdie studie het hul mentees 'n sekere invloed op hul eie lewens. Byvoorbeeld: een van die mentordeelnemers het aangedui dat sy mentee hom aangespreek het oor persoonlike groei. 'n Enkele voorbeeld hiervan word verbatim aangehaal: "Hy [die mentee] voel baie sterk daaroor dat jy by jou woord moet hou, dat jy die dinge sal doen wat jy gesê het."

Dit blyk dus dat die mentee op sy beurt ook 'n invloed op die mentor se lewe mag hê deur laasgenoemde van tyd tot tyd te korrigeer en tereg te wys. Dit beteken nie noodwendig dat die mentee dit negatief bedoel nie; sy mentor kan die kritiek ook positief aanwend.

 

GEVOLGTREKKINGS

Vanuit die voorgenoemde literatuur en studiebevindinge is daar tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

Mentorskap is reeds eeuelank deur mans beoefen nog voordat die woord mentor gebruik is.

Die behoefte aan 'n mentor kom nie net in Suid-Afrika voor nie, maar ook in ander lande soos die VSA en China.

Kinders wat gementor word, het 'n breër maatskaplike netwerk.

Volgens Maslow se hiërargie lê die mentors se behoeftes in die mentorverhouding op die tweede, derde en sesde vlak. Die behoefte aan veiligheid en sekuriteit, behoefte aan liefde en om te behoort, en die behoefte aan transendensie.

In hierdie studie was die geestelike dimensie vir die mentors belangriker as wat die literatuur aandui.

Die persoonlikheid van die mentordeelnemers het 'n direkte invloed op die mentorverhouding.

Gesien vanuit 'n psigososiale perspektief blyk mentorskap met die adolessente seun in hierdie studie nie korporatief- of beroepsgebonde te gewees het nie - eerder persoonlikheidsgebonde.

Die meerderheid mentordeelnemers in hierdie studie het aan die einde van die ouderdomskategorie, vroeë volwassenheid gestaan. Die mentees was vroeë adolessente.

Die mentordeelnemers blyk deel uit te maak van 'n stabiele gesin.

Die mentordeelnemers het óf net seuns óf 'n gelyke aantal seuns en dogters in die gesin gehad. Geen deelnemer het meer dogters as seuns nie of net dogters gehad nie.

Die meerderheid mentordeelnemers was self verantwoordelik vir 'n inkomste in die gesin en werk nie vir 'n ander maatskappy of organisasie nie.

Die mentordeelnemers het ferm opgetree en duidelike grense gestel. Tog was hulle in hul optrede sagmoedig teenoor hulle mentees en het hulle positiewe dissiplinering gehandhaaf.

Geen deelnemer het 'n kriminele agtergrond gehad nie.

Die redes wat deelnemers aangegee het om adolessente seuns te mentor, was hulle liefde vir die seuns. Hulle wou die beste vir die seuns gehad het en hulle wou die seuns geestelik en emosioneel voorberei het, sodat hulle 'n sukses van hul lewens kon maak.

Meer as die helfte van die deelnemers was bereid om 'n seun buite die gesinsisteem te mentor.

Baie min van hierdie mentors was ten gunste daarvan dat iemand anders hul biologiese seuns mentor.

Die mentors in hierdie studie was oortuig daarvan dat hul mentorverhouding 'n positiewe bydrae gelewer het tot hul mentees se lewens.

Vanuit wat die deelnemers gesê het, het dit geblyk dat hul mentees ook 'n invloed op hulself het.

 

SAMEVATTING

Hierdie artikel het gefokus op die profiel van volwasse manlike deelnemers wat in 'n mentorverhouding met adolessente seuns ingetree het. Om 'n beter profiel saam te stel is een fokusgroep benut, sodat meer deelnemers by die ondersoek betrek kon word. Die data wat ingesamel is, is met die literatuur vergelyk. Ooreenkomste, vergelykings en verskille is aangeteken. Die behoeftes van die mentordeelnemers rakende hul mentorverhouding is aan die hand van Maslow se hiërargie weergegee en uiteengesit.

Die mentors in hierdie studie blyk persone te wees wat streng en ferm optree en duidelike grense aan hul mentees stel, maar dat hul ook vriendelike, sagmoedige en spontane persone is. Hierdie mentors blyk ook persone te wees wat selfstandig en volwasse is met stabiele huwelike en huishoudings. As mentors fokus hulle daarop om hul mentees met die nodige vaardighede, morele waardes en kennis toe te rus, sodat hulle die volwasse lewenstydperk as standvastige jongmans kan betree.

 

AANBEVELING VIR VERDERE NAVORSING

Hierdie was 'n klein steekproef wat gefokus het op deelnemers afkomstig vanuit 'n geselekteerde groep mense. Derhalwe kan veralgemenings nie gemaak word nie. Soortgelyke, meer omvattende studies op verskillende kultuurgroepe word voorgestel.

 

BIBLIOGRAFIE

Anon. 2009. Study: Generation gap in U.S. largest since '60s. Associated Press, http://www.msnbc.msn.com/id/31598018/ns/us_news-life/[1 August 2009]         [ Links ].

Behr, B., Cilliers, E. & Meyer, C. 1988. Tiener in die kol. Pretoria: Sigma-Pers.         [ Links ]

Bernardes, J. 1997. Family studies: an introduction. London: Routledge.         [ Links ]

Bosman-Swanepoel, H.M. & Wessels, P.J. 1995. 'n Praktiese benadering tot die Wet op Kindersorg. 2de uitg. Pretoria: Digma.         [ Links ]

Bybel. 1983. Die Bybel: nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Chen, C., Greenberger, E., Farruggia, S., Bush, K. & Dong, Q. 2003. Beyond parents and peers: the role of important non-parental adults (VIPS) in adolescent development in China and the United States. Psychology in the Schools, 40(1):35 -50 .         [ Links ]

Codrington, G. & Grant-Marshall, S. 2004. Mind the gap! Penguin Books: Rosebank.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2009. Research design: qualitative, quantitative, and mixed methods approaches. 3rd ed. California: SAGE Publications.         [ Links ]

Dacey, J., Kenny, M. & Margolis, D. 2004. Adolescent development. 3rd ed. Ohio: Thomson Custom.         [ Links ]

De Bruyn, P.J. 1989. Die gesin: Wat sê die Bybel daarvan? Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Delport, C.S.L. 2005. In De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. (eds). Quantitative data-collection methods. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Edwards, D. 1998. In Louw, D.A. & Edwards, D.J.A. (reds.). Motivering en emosie. Johannesburg: Heinemann.         [ Links ]

Erickson, B.M. 1996. Men's unresolved father hunger: intervention and primary prevention. Journal of family psychotherapy, 7(4):37-62.         [ Links ]

Fouché, C.B. & De Vos, A.S. 2005. In De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L., (eds). Problem formulation. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Gerdes, L.C., Louw, A.E., Van Ede, D.M. & Louw, D.A. 1998. In Louw, D.A., Van Ede, D.M. & Louw, A.D. (reds.). Vroeë en middelvolwassenheid. Kaapstad: Kagiso Tersiêr.         [ Links ]

Gurian, M. 1998. A fine young man: what parents, mentors and educators can do to shape adolescent boys into exceptional men. New York: Penguin Putnam.         [ Links ]

Louw, D.A., Van Ede, D.M. & Ferns, I. 1998. In Louw, D.A., Van Ede, D.M. & Louw, A.D. (reds.). Die middelkinderjare. Kaapstad: Kagiso Tersiêr.         [ Links ]

Meyer, W.F. & Van Ede, D.M. 1998. In Louw, D.A., Van Ede, D.M. & Louw, A.D. (reds.). Ontwikkelingsteorieë. Kaapstad: Kagiso Tersiêr.         [ Links ]

Neuman, W.L. 2003. Social research methods: qualitative and quantitative approaches. 5th ed. Boston: Pearson Education.         [ Links ]

Papalia, D.E., Olds, S.W. & Feldman, R.D. 2006. A child's world: infancy through adolescence. 10th ed. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

Rhodes, J.E. 2002. Stand by me: the risks and rewards of mentoring today's youth. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Shaffer, S.M & Gordon, L.P. 2005. Why boys don't talk and why it matters: a parent's survival guide to connecting with your teen. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

South Africa. 2006. Children's Act, no 38 of 2005. Cape Town: Govern Press. (No. 28944).         [ Links ]

Statistics South Africa. 2009. Quarterly labour force survey: quarter 2, 2009. (P0211), http://www.statssa.gov.za/Publications/P0211/P02112ndQuarter2009.pdf [28 July 2009]         [ Links ].

Steytler, J.P.D. 2007. Mentorskap in die maatskaplike funksionering van die seun in sy laat-middelkinderjare. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. (Verhandeling - MA).         [ Links ]

Strydom, H. & Delport, C.S.L. 2005. In De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. (eds). Sampling and pilot study in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Taylor, A.S. & Bressler, J. 2000. Mentoring across generations: partnerships for positive youth development. New York: Kluwer Academic/Plenum.         [ Links ]

Thompson, R. A. 2006. Child development. (In Microsoft® Encarta® 2006.) [CD]         [ Links ].

Venter, H.V. 2004. Die begeleiding van gesinne in die plaaslike kerk binne die konteks van die postmodernisme: 'n prakties-teologiese benadering. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. (Verhandeling - M.Th.: Pastoraal).         [ Links ]

Welty, L.J. 1989. Side by side: mentoring guide for congregation youth ministry. Newton: Faith and Life Press.         [ Links ]

Williams, A. 1994. Toespraak deur Minister A Williams, Minister vir Welsyn en Bevolkingsontwikkeling, by geleentheid van die departement van welsyn se amptelike viering van die internasionale dag van die bejaarde, 29/09/94. http://www.info.gov.za/speeches/1994/311294008.htm [3 Augustus 2009].

Zastrow, C.H. & Kirst-Ashman, K.K. 2004. Understanding human behavior and the social environment. 6th ed. Belmont: Brooks/Cole.         [ Links ]

 

 

JOHAN STEYTLER verwerf sy BMW graad in 2006 aan die NWU Potchefstroomkampus. In 2008 verwerf hy sy MA (MW) Cum Laude en in 2010 sy PhD (MW). In 2008 was hy by Jakaranda Kinderhuis in Pretoria werksaam as maatskaplike werker in die multidissiplinêre ontwikkelingsentrum, maar hy het later na die Weskus verhuis. Hy is tans 'n maatskaplike werker by BADISA Weskus. Twee publikasies van hom op die terreine van mentorskap en die afwesige vader is reeds in geakkrediteerde vaktydskrifte gepubliseer.
JOHAN STEYTLER received the BSW degree in 2006 at the NWU Potchefstroom campus. In 2008 he received his MA (SW) Cum Laude and in 2010 the PhD (SW). During 2008 he worked at Jacaranda Children's home in Pretoria as the social worker in the Multidisciplinary Development Centre but he has since relocated to the West Coast. He is currently a social worker for BADISA Weskus. Two of his publications have already been published in accredited journals in the fi eld of mentoring and the absent father.

HERMAN STRYDOM was voorheen aan die Universiteit van Pretoria verbonde en is sedert 1987 as medeprofessor en vanaf 1999 as professor en vakhoof van Maatskaplike Werk by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit betrokke. Sy belangstelling in vakverband fokus veral op MIV en VIGS, gerontologie, misdaad en navorsingsmetodologie. Hy is die outeur en medeouteur van 80 tydskrifartikels wat in geakkrediteerde vaktydskrifte verskyn het. Hy is ook die outeur en medeouteur van 20 hoofstukke in verskillende handboeke en aanverwante publikasies. Hy is medeouteur van die handboek: De Vos, A.S., Strydom, H., Fouche, C.B. en Delport, C.S.L. Research at grass roots: for the social sciences and human service professions. Die boek het alreeds drie uitgawes gehad, naamlik in 1998, 2002 en 2005, met 'n beplande vierde uitgawe vir 2010. Hy tree gereeld as eksterne eksaminator vir nagraadse kandidate en modules van 'n verskeidenheid universiteite op en het alreeds 39 magisterstudente as studieleier/medestudieleier begelei, asook 21 doktorale studente as promotor/mede-promotor. Herman Strydom is 'n NNS-gegradeerde op vlak C3. Hy het alreeds 66 referate by nasionale, asook 69 by internasionale konferensies, gelewer.
HERMAN STRYDOM previously lectured at the University of Pretoria; thereafter he was appointed as an associate professor at the North-West University in 1987 and since 1999 he has held the position of professor and subject head of Social Work at the Potchefstroom Campus of the North-West University. His interest regarding subject matter focuses on HIV and AIDS, gerontology, crime and research methodology. He is author and co-author of 80 accredited journal articles, while he is also author and co-author of 20 chapters in various text books and related publications. He is co-author of the following text book: De Vos, A.S., Strydom, H., Fouche, C.B. and Delport, C.S.L. Research at grass roots: for the social sciences and human service professions. This book has already been reprinted three times (1998, 2002 and 2005), with a fourth edition being planned for 2010. He often acts as external examiner for postgraduate candidates and modules at various universities. He acted as study leader/co-leader for 39 master's students and as promoter/co-promoter for 21 doctoral students. Herman Strydom is a NRF-rated scientist at level C3. He has already presented 66 papers at national, and 69 at international conferences.

 

 

1 Kyk Meyer & Van Ede (1998:90); Papalia, Olds & Feldman (2006:39); Thompson (2006).
2 Hierdie vraelys is ook deur die Big Brothers Big Sisters van die VSA gebruik.
3 Kyk De Bruyn (1989:1); Erickson (1996:53); Gurian (1998:36).
4 Gesin waar geen biologiese ouers meer deel uitmaak van die gesin nie en die primêre versorger in die gesin onder die ouderdom van 18 jaar is.