SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue4The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa?Surrogate equivalence in bilingual dictionaries with specific reference to zero equivalence in dictionaries for African languages author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.50 no.4 Pretoria Dec. 2010

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    'N Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

     

    A critical assessment of a few of the literary prizes awarded by The South African Academy for Science and Arts

     

     

    Hennie van Coller

    Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans Universiteit van die Vrystaat E-pos: vcollerh@ufs.ac.za

     

     


    Trefwoorde: Literêre pryse en toekennings, literêre prestige, literêre evaluering, borgskappe van literêre pryse


    ABSTRACT

    The literary prizes awarded annually by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (The South African Academy for Science and Arts) are widely recognized as prestigious awards. The Hertzog prize for literature is in pecuniary terms not the most important literary award in the Afrikaans Literary Field, but due to its historical importance (dating back to 1917) and its canonizing influence it is still regarded as the most important registration of literary prowess, "mapping of the literary field", thus contributing to the literary prestige of writers. In this critical assessment of the literary prizes by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Die Akademie) the literary prizes of Die Akademie (the composition/ structure and functioning of the literary commission, its rules of procedure and several contentious awards in the past) are scrutinized against the backdrop of international literary awards. Although it is widely accepted that literary awards and prizes make a contribution to sales and prestige, not everyone is convinced of the primate of literary considerations in the awarding of prizes. Often literary prizes and awards are seen by skeptics as dictated by economic trends and influence of sponsors. Subsidy by the state can also be seen as a subtle form of censureship. What must be borne in mind is that the concept of value as a so-called inherent property of an object has been vehemently refuted in the past decades and the current view is that value is seen as relative and relational, "as the product of the dynamics of the economic system" (Herrnstein-Smith). ln the remaining part of the article several contentious literary awards made by Die Akademie in the last 100 years, and the criticism levied against (some of) these awards, are evaluated.This criticism often entails speculation that Die Akademie has yielded to political and ideological pressures. The conclusion is that although this has indeed been the case in a few instances (like that of Uys Krige) in the majority of cases Die Akademie's judgement and evaluation have been grounded in fairly objective literary criteria and has stood the test of time.

    Key concepts: Literary prizes and awards, literary prestige, literary evaluation, sponsorship of literary prizes


     

     

    OPSOMMING

    Hierdie artikel is 'n kritiese ondersoek na aspekte van die literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hoewel gekonsentreer word op enkele omstrede literêre prystoekennings (soos dié van die Hertzogprys) in die verlede, word die samestelling en funksionering van die Letterkundekommissie én die reglemente van die verskillende pryse ook onder die loep geneem. In die proses word 'n kort oorsig gegee van literêre pryse in internasionale verband en kritiek wat geopper is ten aansien van literêre pryse en toekennings, veral die moontlikheid van subtiele sensuur waar die staat as borg optree en ander vorme van manipulering waar die borge van sodanige pryse en toekennings ekonomiese belange daarby het, byvoorbeeld versekeringsmaatskappye, bierbrouerye, en dergelike meer. In die tweede helfte van die artikel word enkele van die genoemde omstrede Hertzogprystoekennings in historiese konteks geëvalueer en bevind dat in die meeste gevalle die oordele van Die Akademie die toets van die tyd deurstaan het.

     

    1. INLEIDENDE OPMERKINGS: DIE LITERÊRE VELD, LITERÊRE EVALU ERING EN LITERÊRE SMAAK

    Die doel van hierdie artikel is om aspekte van enkele literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (vervolgens Die Akademie) krities te evalueer. Dit sal geskied aan die hand van bepaalde uitgangspunte ten aansien van prystoekenning in die algemeen en met toespitsing op enkele omstrede (Hertzog)prystoekennings van Die Akademie in die verlede.1

    Wanneer oor literêre pryse gepraat word, impliseer dit 'n gesprek oor verhoudings binne die "literêre veld" en literêre evaluering, wat weer gebaseer is op (diverse) literatuuropvattings, literêre smaak én literêre prestige. Die opvattings van die Franse smaaksosioloog, Pierre Bourdieu, het in die afgelope dekades 'n groot invloed uitgeoefen op die literêre teorie, veral in institusionele verband - ook hier te lande. Volgens Bourdieu (1993) se metaforiese omskrywing van die literêre veld (verwant aan die literêre sisteem) is dit 'n omvattende geheel bestaande uit verskeie rolspelers en institusies wat voortdurend posisies inneem binne 'n magsveld waar almal op soek is na simboliese "kapitaal", of in die geval van die literêre veld, prestige. Hierdie veldteorie van Bourdieu speel onder andere 'n belangrike rol in die geïnstitusionaliseerde literatuurnavorsing in Nederland (kyk Dorleijn & Van Rees 1999). Holt (1997) vind Bourdieu se teorie besonder bruikbaar binne die eietydse Amerikaanse literêre veld, omdat ekonomiese oorwegings daar voorop staan. Bourdieu se teorieë is egter ook kwaai gekritiseer juis vanweë die onderliggende markmetafoor daarvan (kyk Fokkema 1997).

    Bourdieu (1984) het geredeneer dat lede van 'n sogenaamde sosiale klasgroepering dieselfde leefstyl deel en dat dit ooreenstem met sosiale posisies. Lede van 'n dominante sosiale klas met groot besteebare inkomste word gesien as diegene wat beskik oor die sogenaamde "legitieme" smaak, dit wat ook bekendstaan as "highbrow taste" (Van Rees et al. 1999:350). Omdat mense graag op soek gaan na identifikasie met mense met wie hulle kan gesels oor gedeelde belange, beskrywe De Maggio (1987:443) smaak as 'n vorm van rituele identifikasie "and a means of constructing social relations (and of knowing what relationships need not be constructed)". Binne hierdie teorieë word smaak gesien as sosiaal-bepaald en gekodeerd.

    Vanselfsprekend is daar sprake van 'n bepaalde "stabilisering" van smaak binne bepaalde sosiale groeperings, ongeveer soos daar sprake is van gedeelde literatuuropvattings onder persone wat weer dieselfde opleiding geniet, deel is van dieselfde literêre paradigma, ensovoort (kyk ook Dorleijn & Van Rees 1999). So 'n "relasionele" benadering skakel duidelik met die skepsis oor sogenaamde inherente waarde. Barbara Herrnstein-Smith het juis beweer (1984:11) dat "all value is radically contingent being neither an inherent property of objects nor an arbitrary projection of subjects but, rather the product of the dynamics of the economic system".

     

    2. LITERÊRE PRESTIGE

    Die toekenning van pryse en ander vorme van erkenning wat aan 'n skrywer gemaak word, is maniere om literêre prestige toe te ken. Literêre prestige hou uiteraard verband met Bourdieu se opvatting van simboliese kapitaal. 'n Skrywer se prestige is onder andere afhanklik van die agting wat hy of sy van ander rolspelers binne die literêre veld geniet en van sy of haar "posisie" binne die literêre veld. Hierdie posisie is weer afhanklik van verhoudings met institusies en agente, asook van karakteristieke en strategiese posisionering (kyk Verboord 2003:262).

    Gore Vidal het by geleentheid opgemerk dat daar meer literêre pryse in die Verenigde State van Amerika is as skrywers (English 2002:109). Daar word ook 'n (waarskynlik fi ktiewe) anekdote vertel van 'n bekende Afrikaanse skrywer wat by 'n Boekebyeenkoms opgedaag het waar hy die enigste skrywer teenwoordig was wat nog nie 'n prys gewen het nie. Terloops laat hy val dat hy jare gelede die wenner was van die (nie-bestaande) Carl Niehausprys vir Betrokke Literatuur, min wetende toe dat hy dit paslik vernoem het na die man wat homself later sou bekroon met niebestaande pryse wat hy sou boekstaaf in 'n fi ktiewe CV.

    Edmund Wilson weer het in 'n lysie van dienste wat hy nooit sou verrig nie, geskrywe "die beoordeling van literêre kompetisies". Vandag is daar kwalik enige gerespekteerde letterkundige, kritikus, skrywer en dergelike wat dit nie as deel van sy of haar taakomskrywing sien nie (kyk Showalter 2006:1). Dalk is die rede hiervoor dat skrywers en letterkundiges berug is vir hul liefde vir goeie kos en wyn en dat prysoorhandigingsdinees gewoonlik spoggerige geleenthede met duur kos en drank is. Dálk is hul bereidwilligheid om deel te hê aan die beoordeling van pryse hul behoefte om literêre smaak te bestuur en op te tree as hekwagters. Maar moontlik is dit bloot toe te skrywe aan hul liefde vir die letterkunde (Showalter 2006:2).

     

    3. SKEPSIS OOR LITERÊRE PRYSTOEKENNING

    Daar is heelwat invloedryke denkers wat skepties staan teenoor literêre pryse. Pierre Bourdieu is vas oortuig daarvan dat korporatiewe borgskappe van pryse intellektuele outonomie bedreig. Vir hom is daar 'n bepaalde interne wetmatigheid binne die literêre veld en is die veld gestruktureer rondom twee opponerende pole, die ekonomiese en die artistieke (Norris 2006:140). Omdat markkragte deesdae alles beheer - selfs die taalbeleid van universiteite en die begintye van sportbyeenkomste - is dit geen wonder nie dat Bourdieu skepties staan teenoor die invloed wat ekonomiese oorwegings kan hê op artistieke beoordeling. In alle lande tree daar al hoe meer borge uit die privaatsektor na vore wat opeens 'n drang het om die kunste te ondersteun. Waarskynlik uit 'n diep-gevoelde behoefte om 'n kultuurbydrae te maak, maar dikwels ook as 'n vorm van legitimasie. Sulke prystoekennings word daarom ook met arendsoë dopgehou. Is die "beste" roman wat bekroon word nie dalk ook die "beste" vir die bepaalde borg nie? Volgens Bourdieu bestaan daar nie so iets soos "liefde vir die kuns" (wat byvoorbeeld langdurige betrokkenheid by die kunste veronderstel) by korporatiewe borge nie. Die onttrekking van borge na willekeur, soos die borge van die "Whitbread Awards" in Engeland en die Louis Luyt- en CNA-prys in Suid-Afrika, bevestig skynbaar hierdie opvatting.

    Soms ondersteun die staat literêre pryse. In 1968 is daar in Suid-Afrika besluit om die H.F. Verwoerdprys vir vaderslandsletterkunde in te stel, genoem na dr.Verwoerd, tot 1966 premier van die Republiek van Suid-Afrika. Volgens Steyn (1998:1090) is dit herdoop tot die Republiekprys wat al om die vyf jaar toegeken sou word vir letterkunde en ook vir akademiese werk. "Die prys is enkele kere toegeken" skryf Steyn, "maar het in 1981 doodgeloop nadat pryswenners dit van die hand gewys het". Waarskynlik omdat dit mank gegaan het aan geloofwaardigheid.

    Staatsubsidie dra orals ter wêreld by tot 'n persepsie dat daar 'n vorm van subtiele sensuur aanwesig is (Norris 2006:144). Hier kan in die verbygaan opgemerk word dat Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 'n stadium wel staatsgesubsidieerd was, maar dat die staat nooit enige formele inspraak gehad het in enige aspek van prystoekenning nie. Tog was daar skynbaar by geleentheid wél direkte inmenging toe Die Akademie dit in 1966 oorweeg het om Uys Krige met die Hertzogprys vir drama te bekroon. Krige was fel gekant teen die destydse regering se verskuiwing van 65 000 bruinmense uit Distrik Ses en het hom ook in die openbaar skerp uitgespreek teen die inperking van mnr. Ian Robertson, toe Voorsitter van die National Union of South African Students (NUSAS), (Carstens 2009:404 en 405). Carstens (2009:410) skryf verder hieroor: "Goosen [destyds die HUB van Die Akademie] het in 1968 beweer dat 'n minister (B.J. Vorster) op 31 Mei 1966, die dag waarop die vyfjarige bestaan van die Republiek herdenk is, Die Akademie "kwaai laat skrik" het deur te sê: "Bekroon hom (Krige) en julle sal seerkry", en dat Vorster gedreig het om Krige te arresteer sodra die Akademie hom bekroon. Vorster se woorde is ook geïnterpreteer as dreigement dat hy die staatsubsidie sou staak. In daardie stadium het Die Akademie 'n bedrag van R32 000 per jaar as staatsteun ontvang, nie 'n onbeduidende bedrag in reële terme nie.

    Direkte borgskappe vir literêre pryse in die geval van Die Akademie bestaan ook nie: alle borge dra volle jurisdiksie oor aan Die Akademie en sy pryskomitees. Terry Eagleton het opgemerk dat die Whitbreadprys verdere bevestiging is dat kritiek sy sosiale funksie verloor het: "... it is either part of the public relations branch of the literary industry, or a matter wholly internal to the academies" (Street 205:820). Op 'n ironiese manier bevestig literêre pryse egter dat in 'n tydperk van relativisme waardeoordele (en norme) nog moontlik is.

     

    4. LITERÊRE PRYSE AS SIMBOLIESE KAPITAAL

    'n Literêre prys is 'n vorm van simboliese kapitaal en kommentatore (kyk English 2002:110) is dit eens dat die kulturele spel nou anders gespeel word as vroeër en dat daar 'n veel groter diversiteit is van agente wat verskillende strategieë toepas. In die denke van Bourdieu (English, ibid.) kan nog onderskei word tussen die sogenaamde "circuits of legitimation" of kringe van legitimasie, met ander woorde: tussen alle groeperinge wat betrokke is by prystoekennings soos verskillende vorme van borgskappe, evalueerders en wydingsagente wat hul seën uitspreek, alles daarop gemik om die magspel te laat lyk na 'n spel van verdienste. Maar waar Bourdieu steeds glo aan 'n digotomiese model: kuns versus verstrooiing, anders gestel, tussen hoë en lae vorme van kuns, word vandag algemeen aanvaar dat selfs die onderhouers van die "hoge" kuns besef dat die spelreëls verander het en dat kulturele kapitaal manipuleerbaar is. Daarom neem Toni Morrison, die bekende Amerikaanse skrywer, nie net elke prystoekenning gretig in besit nie, maar voer sy verbete veldtogte vir nog meer pryse, én por die Nederlandse digter, Maria van Daalen, haar ondersteuners sonder skroom aan om hul stemme vir háár uit te bring in die landswye kompetisie vir die aanwysing van 'n nuwe Dichter des Vaderlands.

     

    5. DIE LITERÊRE SKANDAAL AS INSTRUMENT VAN SIMBOLIESE AKSIE

    Die siniese Bourdieu het opgemerk dat die skandaal by uitstek die instrument van simboliese aksie is (kyk English 2002:112). Gewoonlik word die skandaal gekenmerk deur kwaai uitbarstings en 'n implisiete verwyt is dat die veld van die kunste geweld aangedoen is deur 'n bepaalde toekenning of prys deurdat ekonomiese, ideologiese en persoonlike oorwegings (of swak oordeelvermoë) in die weg gestaan het van "suiwer estetiese" oorwegings. Maar dikwels het daar skynbaar juis die teenoorgestelde plaasgevind in die geskiedenis van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dikwels is naamlik beweer dat 'n bepaalde toekenning "suiwer estetiese" oorwegings oorbeklemtoon het en ander oorwegings (soos religieuse, morele en selfs politieke oorwegings) dan genegeer sou wees. Langenhoven het reeds in 1925 in 'n brief aan Sarah Goldblatt verwys na die "kombinasie van Sap-kliek met 'n malkuns-kliek" in Akademie-geledere (Kapp 2009:165). Daar is ook altyd bespiegel dat Uys Krige nie bekroon is nie omdat hy 'n Verenigde Party-ondersteuner was. Kannemeyer (2002:394) skryf in hierdie verband:

    Sulke ongeregverdigde en onbillike kritiek [dat Krige 'n kommunis sou wees] was jare daarvoor verantwoordelik dat Krige se werk en persoon in Afrikanerkringe met argwaan bejeën is en sy oorspronklike publikasies telkens vir bekronings verbygegaan is. Vir sy vertalings is hy wél bekroon, eenvoudig omdat negering daarvan in die lig van sy weinige mededingers te blatant sou wees en die liggame soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulle kon verskoon dat hulle nie Krige se oorspronklike werk met soms "gevaarlike" ideologiese inhoude bekroon nie, maar sy vaardigheid as vertaler, wat niemand ontken het nie.

    Die "bronne bied geen gronde vir hierdie beweringe [dat Krige herhaaldelik verbygegaan is met literêre pryse] nie", sê Kapp (2009:173) onomwonde in sy geskiedenis van die Akademie.In haar proefskrif kom Carstens (2009) egter tot presies die teenoorgestelde gevolgtrekking. Later meer hieroor.

    In die hele Silberstein-debakel van 1964 het verwyte dikwels opgeklink met die strekking dat Die Akademie volksvreemd was. Met die toekenning van die Hertzogprys aan Van Wyk Louw in 1965 vir Tristia, bo Opperman vir sy bundel Dolosse, was die letterkundekommissie bestaande uit A.P. Grové, Elize Botha en Ernst van Heerden nie eenstemmig nie en is toe weer wyd bespiegel dat persoonlike voorkeure en verbintenisse hierin 'n rol gespeel het. Van Wyk Louw het daarom ook geweier om die prys in ontvangs te neem indien die bekende literator, prof. A.P. Grové, wat gesien is as Opperman-kenner en -pleitbesorger (Steyn 1998:1014) die commendatio sou lewer. Dit is toe gedoen deur T.T. Cloete (Kapp 2009:199). Dit is opvallend dat Van Wyk Louw só ver gegaan het en bevestig nie net die sterk kompetisie tussen Louw en Opperman, die stryd van "bul teen bul" soos dit al genoem is nie, maar ook 'n sekere argwaan jeens Opperman (kyk Steyn 1998:663). Louw het byvoorbeeld in 1960 die Hertzogprys aanvaar vir Germanicus al is die commendatio gelewer deur F.C.L. (Freddie) Bosman vir wie die Louw-broers geen goeie woord gehad het nie. Bosman is die onbekende letterkundige aan wie Louw sy debuutbundel voorgelê het en wat Louw toe aangeraai het om in "Holland die literatuur te gaan bestudeer" (Steyn 1998:93). Later skryf hy ook 'n uiters negatiewe resensie van Louw se versdrama, Die dieper reg (1938) en het hy skynbaar later ook probeer om Louw se aanstelling as hoogleraar in Amsterdam te verhinder (Steyn 1998: 249; 520).

    Toe Henriette Grové die Hertzogprys in 1984 verower het vir Die kêrel van die Pêrel is in akademiese wandelgange gepraat oor persoonlike belange wat die deurslag gegee het. Jare lank het Brink glo nie die Hertzogprys ontvang nie omdat hy polities omstrede was en toe hy dit uiteindelik wél kry (vir Die jogger in 2000, maar veral met Donkermaan in 2001) breek daar 'n herrie los omdat die letterkundekommissie nou aan 'n skuldkompleks sou ly (kyk Kapp 2009: 225).

    Waar Die Akademie telkens in sy honderdjarige bestaan teen sy wil deur polemieke ("skandale") geteister is, word daar dikwels skynskandale geskep by ander prystoekennings net om die prys 'n groter sigbaarheid te gee. Dit was veral die geval met die Bookerprys (kyk English 2002:114). Ander wyses om groter omstredenheid en sigbaarheid te verseker, is die toekenning van pryse wat dikwels soos die Oscarseremonie gehanteer word: die beoordelaars se keuses word geheim gehou, genomineerdes moet self teenwoordig wees en die bekendmaking van die prys geskied by 'n spoggeleentheid.'n Ander truuk is om sogenaamde "persoonlikhede" in te sluit in pryspanele en dit is beslis nie net by Idolskompetisies waar dit ter sprake is nie (kyk Street 2005: 825).

    Hier kan dadelik gesien word in watter mate die pryse van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verskil van ander literêre pryse: daar is geen borge wat direk betrokke is in die opsig dat hulle keurders aanwys of strategiese besluite kan neem oor die betreffende pryse se openbare beeld nie. Daar is ook geen gepaardgaande "narratief" wat die Akademiepryse vergesel soos aankondigings oor die beoordelaars, die kortlyste, die prysgeld, ensovoorts nie. Daar is ook geen bepaling dat die wenner van 'n Akademieprys self moet opdaag om sy of haar prys in ontvangs te neem nie; selfs al weier iemand enige Akademieprys word dit steeds gedokumenteer dat sodanige persoon die wenner van die prys was. In die geval van die Bookerprys is al berig dat een potensiële wenner nie die prys gekry het nie, omdat sy (Arundati Roy) té mooi was! (Street 2005: 833).

     

    6. WEIERING VAN PRYSE

    Wat verder bydra tot 'n prys se sigbaarheid is uiteraard wanneer 'n skrywer 'n bepaalde prys sou weier. In die lang geskiedenis van die Hertzogprys was daar gevalle waar die prys geweier is: Langenhoven in 1927; Van Wyk Louw in 1937; Breytenbach in 1984 (Kapp 2009:164,199 en 223).Krige het die Akademie se vertaalprys van die hand gewys in 1969 en André P. Brink die Gustav Prellerprys in 1994.

    English (2002:119) wys daarop dat dit nie so maklik is vir 'n skrywer om 'n belangrike literêre prys van die hand te wys nie; jy moes eers 'n hele klomp simboliese kapitaal vergader het voordat so 'n gebaar gemaak kon word. In dié lig is Van Wyk Louw se weiering in 1937, toe nog 'n relatief onbekende skrywer, ook 'n bewys van sy sélfbewustheid in die Nederlandse betekenis van die woord. Selfs Sartre se hoflike, onderbeklemtoonde weiering van die Nobelprys in 1964 is gesien as 'n daad van simboliese "geweld" (English 2002:119).

    Maar in 1964 was daar 'n duidelike digotomie tussen "hoë" en "lae" kuns; weiering vandag sal nie vanselfsprekend bydra tot die kunstenaar of skrywer se artistieke legitimiteit nie (English 2002:121). Dalk is dit ook die rede waarom weinig Afrikaanse skrywers - selfs die grootstes soos Breyten Breytenbach - in die afgelope jare nie meer die Hertzogprys geweier het nie: in 1984 kon hy dit nog weier; in 1999 én 2008 ontvang hy dit op bedaarde en hoflike wyse. Brink weier in 1994 die Gustav Prellerprys, maar aanvaar én ontvang die Hertzogprys in 2000 én in 2001 (vir verskillende genres).Bourdieu se digotomiese model word gekritiseer deur English (2002) en Norris (2006) omdat dit ietwat naïef sou wees, óf te veel gerig is op die Franse situasie waar daar duideliker onderskeidinge bestaan tussen "hoër" en "laer" vorme van literatuur. Wat egter soos 'n paal bo water staan, is dat ook ernstige skrywers wie se outonomie dan bedreig sou word deur kommersialisering, literêre pryse, en veral die finansiële voordele daarvan, gretig aanvaar het, en sonder glo ek, om hul artistieke integriteit op te offer.

    Thomas Pynchon pas 'n ander procédé toe deur sý prys op satiriese wyse te ontvang. Hy stuur 'n bekende komediant in die gestalte van 'n professor om die National Book Award te aanvaar en 'n aanvaardingstoespraak te lewer vol volslae onsin. Sodoende parodieer hy nie net literêre pryse nie, maar maak van die hele seremonie 'n parodie op sigself (English 2002:122). Ook toekennings van pryse vir die "slegste skildery", "swakste rolprent" of "verveligste boek" bevestig nie alleen al die diversiteit van die kulturele veld nie, maar bevraagteken ten diepste die objektiewe aard van die estetiese oordeel.

     

    7. LITERÊRE PRYSE EN EKONOMIESE VOORDELE

    Kuns is lank nie meer iets wat in isolasie gedy nie; dit is deel van 'n groter sisteem waarin ekonomiese beginsels 'n belangrike rol speel.Dit is oorduidelik dat borge byvoorbeeld nie bloot literêre pryse borg omdat hulle altruïsties is óf as skutheer vir die kunste wil optree nie; hul ondersteuning van die kunste is 'n "ruiltransaksie". Daarom het hierdie tendens ook toegeneem in die Suid-Afrikaanse boekewêreld: Insig (saliger)-boeketafeletes met televisiepersoonlikhede, Volksblad en Exclusive Books se Boek- en teeklub, boekbekendstelings by kunstefeeste (dikwels met duur kos en drank) óf skrywers wat in televisiesepies optree, is almal voorbeelde van hierdie "ruilhandel".

    Benoeming vir 'n prys in die kunste het dikwels die gevolg dat verkope vermeerder. Hoewel Die Akademie se keurkomitees nie werk met nominasies of kortlyste nie, dra die toekenning van pryse altyd by tot beter verkope, veral wanneer die prys in omstredenheid gehul is. Van Leroux se roman, Sewe dae by die Silbersteins (1962) is 30 000 eksemplare verkoop! Prystoekennings is ook 'n kanoniserende handeling wat reputasies vestig of versterk. En wat dalk te min gesê word, dit vestig of versterk bepaalde poëtikale uitgangspunte. In die geval van die bekende Ingeborg Bachmanprys was daar altyd 'n subteks, naamlik die "Duitsheid" en 'n verdeling van "insiders" en "outsiders" (kyk Jankovsky 1997:262). In die geval van die Akademiepryse was daar vir 'n ruk lank 'n bepaling dat 'n bekroonde werk "simpatiek [moet] staan teenoor die aspirasies van die Afrikaanse volk", maar dit is in 1965 weggelaat (Kapp 2009:208). Carstens (2009:345) sê dat hierdie bepaling slegs in 1962 (toe die Hertzogprys vir poësie toegeken is) en 1963 se dramatoekenning geldig was. Tog het die sogenaamde "Beukes-verklaring" wat hy in 1966 opgestel het en waarin hy beklemtoon dat die Hertzogprys " 'n volksprys" is, hierdie hele verbintenis tussen dié prys en die Afrikanervolk lewend gehou (kyk ook Carstens 2009:436 en 437). By geleentheid was daar 'n ernstige meningsverskil of 'n mens sou kon beweer (soos P.J. Nienaber wel gedoen het) dat goeie literatuur nooit die bose of negatiewe kan verheerlik nie (Kapp 2009:197). Hoewel so 'n uitgangspunt nooit 'n amptelike standpunt van die Akademie was nie, is dit terugskouend duidelik hoe hard literatore in Akademie-geledere probeer het om byvoorbeeld Leroux se werk telkens te verdedig juis op grond van die satiries-morele aard daarvan (kyk Botha s.j., Botha 2007 en Grové 1964). Dit het ook bygedra tot 'n bepaalde leesstrategie van sy werk.

     

    8. WAARDETOEKENNING AS OBJEKTIEWE PROSES

    Soms is dit asof daar 'n "aparte" kanon per literêre prys bestaan. In die geval van die Bookerprys sou 'n mens kon praat van 'n "kommersiële" kanon, omdat die prystoekennings al hoe meer na hierdie pool begin beweeg het (Norris 2006:154).Prystoekennings het ook 'n impak op magsverhoudings binne die boekebedryf en dit is opvallend in hoe 'n mate klein, en selfs onafhanklike uitgewers in die afgelope jare presteer wanneer dit kom by die benoeming vir en verowering van Akademie-pryse. 'n Literêre prys gaan gepaard met heelwat prestige hoewel baie uitgewers huiwerig is om die L-woord ("letterkunde") te gebruik omdat dit sou ruik na die elitistiese (kyk Street 2005: 837).

    Waardetoekenning is eie aan die menslike bestaan en berus vanselfsprekend op bepaalde kriteria. Hulle wat in die openbare domein beklee is met gesag om bepaalde waardebepalings te maak (byvoorbeeld beoordelaars van die beste film, wyn, skildery of boek) staan bekend as hekwagters, kenners of wyses en beskik nie net oor gesag en mag nie, maar hulle dade het ook bepaalde ekonomiese gevolge. Dit beteken dat hul oordele gegrond en intersubjektief moet wees, want almal ken die bekende Latynse spreuk: "De gustibus non est disputandum" - overgesetsynde: oor smaak val daar nie te redeneer nie; immers "beauty is in the eye of the beholder".

    En oor skoonheid heers daar al eeuelank 'n nimmereindigende debat. Die Franse kunskritikus, Roger de Piles (1635-1709) was onder die eerstes wat probeer het om die formele kenmerke van skoonheid te omskrywe (Ginsburgh 2003:99). In die eietydse postmodernistiese tydsgewrig staan relatiwiteit voorop en sou 'n mens huiwerig wees om formele eienskappe na vore te stoot wanneer oor waardebepaling gepraat word. Desondanks is die toekenning van veral pryse wat berus op "estetiese" maatstawwe (soos in die geval van prosa, skilderkuns en beeldende kuns) 'n implisiete bevestiging van "objektiewe" maatstawwe of "intersubjektiewe" kwaliteite. Daarsonder sou alle toekennings immers hul legitimiteit verloor.

    Een van die wyses van beoordeling is die onderskeiding van formele eienskappe wat 'n mens gerus kan noem die intrinsieke metode, wel wetende dat waarde altyd relasioneel is en die hele begrip "intrinsieke waarde" 'n mynveld is. Maar in breë trekke kom dit neer op 'n formalistiese omgang met objekte (artefakte) en word verwys na die "treffende karakterisering" in 'n roman, die "geslaagde wyse van vertelling" en die "funksionele achronologie". By digbundels kan 'n mens verwag om te hoor van die eenheidstruktuur, benutting van digvorme, beeldgebruik, rym en ritme.

    Die ekstrinsieke metode, meestal bekend as die kontekstuele metode, stel ander oorwegings voorop soos die betrokke teks of skildery se plek binne 'n tradisie, 'n kanon of sisteem. Ander oorwegings van kontekstuele aard is die ontvangs van die betrokke artefak, selfs deur die breëre publiek. Filosowe is geneig om die bewyslas vir kwaliteit te plaas op die skouers van kenners wat die intrinsieke metode onderskryf, terwyl ekonome weer glo dat die werklike keuse van gebruikers (dus die kontekstuele metode) 'n beter meetinstrument daarstel. Filosowe beklemtoon ook die belangrikheid van tydsverloop (en derhalwe tydloosheid van kunswerke) by evaluering. Die veronderstelling is dat die beter werke by wyse van spreke sal oorlewe (Ginsburgh 2003:100).

     

    9. STRUKTURE EN REGLEMENTE

    Deur die jare het Die Akademie te kampe gehad met heelwat kritiek oor sy literêre prystoekennings wat dikwels te make gehad het met sy onduidelike en selfs omslagtige bestuurstrukture. Hiervan gee Carstens (2009) en Kapp (2009) heelwat voorbeelde. Dit is eers in 'n laat stadium waarin die relatiewe outonomie van die Letterkundekommissie bevestig is, maar steeds moet hul besluite streng gesproke as aanbevelings beskou word wat deur die raad bekragtig moet word. F.I.J. van Rensburg het in 1971 beweer dat "die eintlike beraadslagings" informeel plaasvind en dat koppe dan reeds getel is. Teen die tyd dat die vergadering plaasvind, is "al die kontensieuse dinge klaar gesê en heers daar eenstemmigheid oor wat op só 'n vergadering nie gesê moet word nie, of wat nie genotuleer moet word nie" (Kapp 2009: 210).

    F.I.J. van Rensburg het in 1966 reeds 'n brief geskrywe oor die Hertzogprys vir drama waar Uys Krige se oeuvre ter sprake sou wees en het tydens die huishoudelike vergadering van die Akademie gevra dat die bekroningsprosedures van die Hertzogprys hersien moes word. Die Hertzogprys is oorspronklik ingestel "om de uitbreiding van de Afrikaanse taal te bevorderen", dus "aan de Schrijver of schrijfster van de beste letterkundige werk van bellettristiese aard in de Afrikaanse taal." Dit gaan dus om gehalte alleen. Van Rensburg bedank as Akademielid in 1970 nadat die Raad nie die Hertzogprys toeken aan Etienne Leroux vir 18-44 en Isis Isis Isis (soos deur die letterkundekommissie aanbeveel) nie, maar wel aan Karel Schoeman vir 'n Lug vol helder wolke, soos W.E.G. Louw in sy minderheidsverslag aanbeveel het.

    J.P. Smuts (2005) gee 'n netjiese uiteensetting van Die Akademie se letterkundepryse waaruit blyk dat die wyse waarop Die Akademie se Letterkundekommissie funksioneer eintlik beter is as enige ander pryspaneel. Smuts (2005:8) wys in hierdie verband op die prosedure wat by die CNA-prystoekenning gebruik is. Elke beoordelaar moes vyf boeke in voorkeurorde plaas en dan is vyf punte aan die eerste keuse toegeken, aan die tweede vier punte, ensovoorts. Tereg wys Smuts daarop dat hoewel hierdie prosedure 'n objektiewe indruk maak, dit kan gebeur dat die wenwerk byvoorbeeld deur nie een van die keurders in die eerste plek geplaas is nie. Daar het ook nie die moontlikheid bestaan dat keurders hulle keuses kon verantwoord indien so 'n ongerymdheid ontstaan het nie.

    Smuts (2005:8) verwys ook na die W.A. Hofmeyrprys waar vir jare gebruik gemaak is van drie beoordelaars: 'n literator, 'n joernalis en 'n kenner van kinderboeke. Later is twee letterkundiges as beoordelaars benoem. Indien daar nie eenstemmigheid bereik is nie, word 'n derde letterkundige gevra om 'n beslissende stem uit te bring. Die Helgaard Steynprys is met sy ruim R150 00 prysgeld in finansiële terme dalk die grootste Afrikaanse letterkundeprys in Suid-Afrika. Dit word vierjaarliks toegeken. Daar is 'n keurderspaneel bestaande uit drie letterkundiges wat 'n kortlys opstel en daarna vergader en besprekings voer. Desondanks is daar soos Smuts ook aanvoer, geen rede om te dink dat twee of drie letterkundiges tot 'n beter besluit sal kom as sewe letterkundiges nie.

    Die Akademie se letterkundekommissie bestaan vanaf 11 April 1968 uit sewe kundiges wat om geen ander rede nie as op grond van bewese kwalifikasies, uitsette en prestasies tot die kommissie verkies word, hoewel daar ook getrag word om geografiese verspreiding in ag te neem. Hul benoeming word in finale instansie deur die Raad bekragtig. Die lede vergader en bespreek alle werke wat vir bekroning oorweeg word diepgaande. In alle gevalle word daar 'n verkenner aangestel wat hom of haar deeglik daarvan moet vergewis of die werke van kandidate op die spesifieke terrein binne die bekroningstydperk verskyn het. Dit is ook 'n gebruik wat geldig is vanaf 1 November 1968 (Carstens 2009:461). Advies van kundiges kan ingewin word, hoewel die besluitneming steeds berus by die letterkundekommissie. Werke word voorgelê deur uitgewers, maar dit is die verkenner se plig om toe te sien dat alle verdienstelike werk onder die aandag van die kommissielede gebring word.

    Die Hertzogprys word jaarliks toegeken aan werke wat in die voorafgaande drie jaar in een van die drie hoofkategorieë poësie, prosa en drama gepubliseer is. Dit beteken dat die hoofgenres beurtelings elke drie jaar vir bekroning aan die beurt kom. Hierdie bekroningsbeginsel skep bepaalde probleme wat die drama betref, waar daar veel minder tekste gepubliseer word as in die geval van die poësie en prosa. Nie-bekroning word egter ook beskou as 'n belangrike literatuurhistoriese oordeel en hoewel dit ooit oorweeg is, is spoedig afgesien daarvan om prystoekennings te "versnel" deur oor te gaan tot 'n ander genre as daar byvoorbeeld nie goeie dramatekste voor hande was nie. Werke word ook nie oorgedra van een siklus na 'n ander nie. Soos by alle literêre pryse die geval is, is daar "ryker" en "armer" jare of termyne en spreek dit vanself dat daar voortreflike boeke is wat nooit bekroon is nie, terwyl swakker werke dalk wél bekroon is. Hierdie prosedure het ook veroorsaak dat van die beste Afrikaanse skrywers (soos Jan van Melle, Hettie Smit, Abraham H. de Vries, John Miles, Adam Small, Eben Venter en George Weideman) en ander goeie skrywers (soos Christoffel Coetzee, Marita van der Vyver en Alexander Strachan) nooit met die Hertzogprys bekroon is nie.

    Gewoonlik word aanvaar dat die reglement voorsiening maak dat 'n oeuvretoekenning oorweeg kan word, maar slegs as daar nie verdienstelike enkelwerke gepubliseer is nie én as die betrokke skrywer ook binne daardie bekroningsperiode gepubliseer het. In die reglement staan egter slegs: "Die volgende kom in aanmerking en moet in hierdie volgorde oorweeg word: 2.1Enkelwerke wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer is [... ]2.2 Die oeuvre van skrywers wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer het. Net werke van 'n skrywer in die besondere genre word in ag geneem".

    Dit laat myns insiens wél die ruimte dat wanneer enkele werke oorweeg is en 'n relatiewe gewig daaraan toegeken is, 'n oeuvre daarnaas en daarteenoor oorweeg kan word. Om foute reg te stel, is meestal onmoontlik. Tydens die viering van die Halfeeu van die Akademie in 1959 is daar aanvanklik besluit om persone wat in die verlede oor die hoof gesien is, wél te bekroon. Later is besluit om geen lewende persoon te bekroon nie (Carstens 2009:325). In die Eeufeesjaar - 2009 - is 'n klein klompie (25 in totaal) spesiale Eeufeesmedaljes op voorstel van die voorsitter toegeken aan uitstaande presteerders op 'n verskeidenheid terreine met dien verstande dat hulle nog nooit deur Die Akademie vir hierdie bydrae bekroon is nie. Die skrywers wat so vereer is, was Abraham H. de Vries, Jeanne Goosen, Adam Small en Barend Toerien. So kon enkele groot foute op die gebied van die letterkundebekronings dus wel reggestel word.

     

    10. 'N PAAR GROOT VELDSLAE EN ENKELE SKERMUTSELINGS

    In die honderdjarige geskiedenis van Die Akademie was daar by verskillende geleenthede ernstige botsings tussen Akademielede onderling én tussen Akademielede/Die Akademie en die publiek. Kapp (2009) gee op meerdere plekke aandag hieraan. Dikwels het dit gehandel oor aangeleenthede op die terrein van die Geesteswetenskappe en veral die letterkundebekronings. Carstens (2009) konsentreer wel op die Hertzogprys vir drama, maar verwys ook telkens na die herrie rondom ander pryse.Van die belangrikste redes vir baie van hierdie skerp meningsverskille was:

    Die Akademie se neiging tot verdeling van pryse,

    die feit dat die kundiges op die terrein van die letterkunde dikwels in die minderheid was op letterkundige keurkomitees óf dat hul besluite deur (minder kundiges of selfs onkundiges) verwerp is,

    prosedures, soos voorleggings (skrywers moes aanvanklik self hul boeke voorlê!), afsnydatums en die bepaling van die sogenaamde "stygende lyn", met ander woorde die bepaling dat iemand binne 'n bepaalde afdeling of genre, soos die drama, weer bekroon kan word slegs as die drama-oeuvre 'n opwaartse kwaliteitskurwe toon,

    "eksterne" oorwegings soos getrouheid aan "Afrikanerwaardes",

    Die (soms versweë) aanname by baie mense (ook lede van letterkundige komitees) dat "werk van die hoogste orde" ook moreel moes wees (kyk ook Botha 2007),

    Swak verslae ter motivering van bepaalde keuses (soos in die geval van die Hertzogprystoekenning vir drama in 1952),

    Die gevoel dat Die Akademie nie oop kaarte speel nie, omdat kortlyste normaalweg nie gepubliseer is nie en die stemming van komitees ook nie geopenbaar gemaak word nie. Kapp (2009) en Cartsens (2009) bespreek én evalueer baie van die bovermelde besware.

    As daar na die Hertzogprystoekennings gekyk word, was daar 'n hele paar polemieke. Een van die eerstes was die 1927-toekenning waar die prys verdeel is tussen Jochem van Bruggen, C.J. Langenhoven en Sangiro. Langenhoven het die prys geweier "Sonder bedoeling van onbeleefdheid" (Kapp 2009:164). Ook die 1928-bekroning het probleme opgelewer toe daar onenigheid was tussen die Raad van Die Akademie en die Letterkundige Kommissie (eers sedert 1992 staan dit bekend as die Letterkundekommissie).

    Die 1934-bekroning, toe daar 'n gedeelde prys was (tussen Totius vir Passieblomme, C. Louis Leipoldt vir Skoonheidstroos en W.E.G. Louw vir Die ryke dwaas), was reeds omstrede, maar dit was veral die 1937-toekenning ('n gedeelde prys tussen I.D. du Plessis vir Vreemde liefde en N.P. van Wyk Louw vir Alleenspraak) wat 'n herrie ontketen het. Wat die 1934-toekenning betref: Literatore is hoog gestem in hul lof vir Totius se Passieblomme (1934) wat as hoogtepunt beskou word van sy elegiese poësie én sy kuns in die algemeen (Antonissen 1956:108/ 109; Dekker 1958:82; Kannemeyer 1978: 123).Ook Leipoldt se bundel, Skoonheidstroos word in die algemeen hoog aangeslaan: "sy beste digwerk van later" (Antonisen 1956:121), "Veel hoër staan Skoonheidstroos ..." (Dekker 1958:95) en "'n styging in die poëtiese vormgewing" (Kannemeyer 1978:143). Daarom kan die bekroning van hierdie bundels saam met Louw se bundel, weliswaar vol mankemente, maar as geheel "'n rewolusionêre breuk met die ouer motiewe en die geykte prosodie van die vroeë Afrikaanse digkuns" (Dekker 1958:366), beskou word as bekronings met meriete.

    Op die oog af lyk dit asof die Akademie Van Wyk Louw 'n onreg aangedoen het om hom in 1937 saam met I.D. du Plessis ('n "digter van die tweede plan", om Antonissen se terminologie te gebruik) te bekroon. Veral Antonissen (1956:228) is besonder negatief oor dié bundel, terwyl ook Dekker (1958:190) nie besonder lowend is nie. In bloemlesings van die afgelope jare neem Du Plessis se gedig "As ek my vreemde liefde" 'n vaste plek in (kyk Olivier 1986:34 en Komrij1999:379). Sowel Olivier (1986) as Komrij (1999) neem heelwat van Du Plessis se gedigte in hul bloemlesings op waarin hy sy "vreemde liefde", dus homoseksualiteit (weliswaar versluierd) aanraak. Komrij neem van Du Plessis tien gedigte op (die getal wat hy as sy maksimum stel) waaruit blyk dat hy hom as 'n belangrike digter beskou. In die jongste uitgawe van Groot Verseboek duur Du Plessis se "rehabilitasie" voort deurdat Brink 'n agtal bladsye aan sy werk afstaan wat hom in die geselskap van onder andere Eugène Marais en W.E.G. Louw plaas. Terugskouend neem Du Plessis se bundel, Vreemde liefde, dus 'n belangrike plek in binne die Gay-tradisie in die Afrikaanse letterkunde en is sy bekroning saam met Louw vir dié se debuutbundel, derhalwe nie 'n dwaling nie.

    Die grootste dwaling van die Akademie vind skynbaar plaas in 1952 toe die Hertzogprys aan Gerhard Beukes én W.A. de Klerk toegeken word. Kapp (2009:184) toon aan dat van die voorste Afrikaanse literatore en taalkundiges (Rob Antonissen, D.J. Opperman, W.E.G. Louw, Meyer de Villiers, I.W. van der Merwe en J. du P Scholtz) tot die debat toegetree het. Veral die werk van Beukes is afgemaak as waardeloos (kyk bv. Antonissen 1956:279). Antonissen kon, volgens Kapp (2009:185) slegs sy uitgebreide bespreking van die keurkomitee se verslag doen, omdat F.E.J. Malherbe die vertroulike dokument "te goede trou" aan hom beskikbaar gestel het. Die dramabekroning skep altyd die grootste probleem wanneer dit driejaarliks aan bod kom in die Hertzogpryssiklus. Daar verskyn altyd veel minder dramas as prosawerke of poësiebundels in die bekroningstydperk; boonop is die drama 'n genre wat eers tot sy reg kom tydens opvoering (kyk Smuts 2005: 4). Die keurkomitee was destyds seker verheug dat daar soveel dramas ter tafel was vir hierdie bekroning.

    Die mees verdienstelike kandidaat in 1952 was sonder enige twyfel Uys Krige wat in daardie stadium in 1941 reeds vir die Hertzogprys oorweeg is, in 1944 die knie moes buig voor Leipoldt en in 1948 weer in aanmerking kon kom. Carstens (2009: 253 e.v.) wys op die vreemde rol wat F.C.L. Bosman in die 1952-toekenning gespeel het. Hy het die administratiewe proses gemanipuleer en duidelik alles in sy vermoë gedoen om De Klerk en Beukes (vir wie hy reeds in 1948 wou bekroon) na vore te stoot. Van Krige was daar enkele knap dramas wat oorweeg kon word: Alle paaie gaan na Rome (1949) en Die sluipskutter (1951). Krige het volgens baie mense reeds in 1941 die Hertzogprys verdien, maar politieke oorwegings (Krige was 'n lid van die Verenigde Party en nie " 'n praktiese Afrikaner" nie) speel volgens baie kommentators weldeeglik 'n rol in die feit dat hy oor die hoof gesien word (Carstens 2009:184 e.v.). Carstens self skryf dat daar geen aanduiding in die verslag van die Letterkundige Kommissie en die stembriewe is dat die besluit om hom nie te bekroon polities gemotiveer was nie (Carstens 2009:213). In 1966 word daar druk uitgeoefen deur minister B.J. Vorster sodat Die Akademie Krige weer eens nie sou bekroon nie en dit is eers in 1985 dat hy wél vir al sy dramatiese werk bekroon word, meer as 40 jaar te laat! Carstens (2009) wys op talle plekke op die negering van Krige deur die Akademie en skryf: "Dit is opmerklik dat oor 'n bekroningsperiode van dertig jaar (1929-1959) die naam van Uys Krige as wenner ontbreek - dit terwyl hy gedurende hierdie periode al die dramas geskryf het waarna spesifiek verwys is toe hy in 1985 die Hertzogprys vir sy hele drama-oeuvre ontvang het" (Carstens, 2009:325).

    Daar moet toegegee word dat die probleemdramas van De Klerk nie net steeds van sy beste werk is nie, maar selfs meer as beduidend binne die totale Afrikaanse dramaliteratuur. Boonop was dit die wegbereider vir die latere politieke dramas van Bartho Smit, Pieter Fourie én die probleemdramas van P.G. du Plessis en Pieter Fourie. Die meerderheid tekste van Beukes wat ter tafel was, kan met die beste wil ter wêreld nie bestempel word as "groot letterkunde" nie, maar sy eenbedrywe en komedies is nie net verdienstelik nie; maar in hoë mate voorbereiding vir die talle eenakters wat later tydens Kampus Toneel en die SANLAM-dramakompetisie oorheersend sou raak. Sy blyspele (eerder klugte) is uiters speelbare dramas, het groot gehore gelok en was sodoende baanbrekend wat betref die klugtige tradisie in Afrikaans wat veral met die televisie-era in belangrikheid toegeneem het. Binne die kontekstuele paradigma is albei se werk belangriker as wat destyds binne 'n intrinsieke paradigma geoordeel is.

    In 1957 weer is Elise Muller se kortverhaalbundel, Die vrou op die skuit bekroon en is Jan Rabie se 21 oor die hoof gesien. Smuts (2005:4) wys daarop dat sekere werke se waarde eers veel later "korrek" (sic) ingeskat word - 'n opmerking wat in ooreenstemming met die kontekstuele benadering is. Hy vermeld die nietoekenning van die Hertzogprys aan Eugène Marais se Dwaalstories (in 1927) in hierdie verband en ook die niebekroning van Rabie se 21 - 'n bekroning wat "beslis die ontwikkelende literêre situasie beter [sou] 'gelees' het" (Smuts 2005:4).Rabie se bundel kortverhale was inderdaad die herout van 'n nuwe beweging omdat dit so radikaal gebreek het met 'n tradisie. Maar reeds in Muller se werk was daar óók baie vroeë tekens van Sestig wat net om die draai gelê het: eksistensiële vrees en wanhoop, buitestanderskap, vervreemding en onthegting (kyk ook Van der Merwe & Lewis 2001).Van Wyk Louw (1961) se paternalistiese opmerking in Vernuwing in die prosa dat ons hier te make het met "'n (m)ooi nuwe werkie van die ou soort", is 'n miskenning van die vernuwende tendense in hierdie verhale. As vernuwing 'n maatstaf was, moes ook die werk van Willem van den Bergh veel meer aandag getrek het - van Louw én van die Akademie.

    Twee van die grootste polemieke oor pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het te make gehad met die Hertzogprystoekennings aan Etienne Leroux (in 1964 vir Sewe dae by die Silbersteins en in 1979 aan Magersfontein, o Magersfontein!). Gemeet aan die intrinsieke én kontekstuele siening was die Akademie in die kol met beide toekennings (kyk ook Carstens 2009:360 e.v.). Sewe dae word vandag steeds beskou as 'n seminale teks binne die Afrikaanse letterkunde omdat dit 'n sleutelteks is binne die belangrike sub-genre van die Afrikaanse plaasroman, die satiriese modus in die Afrikaanse letterkunde en die emblematiese tradisie in Afrikaans én bykans 'n staalkaart is van die Sestigers se stilistiese handgrepe en filosofiese uitgangspunte (kyk Botha 1998:593; Kannemeyer 2005:3314-3316; Van Coller 2009:15). Voorts is hierdie roman vertaal in verskeie tale én is die verkope daarvan van die hoogste van alle Afrikaanse romans wat nie op skool voorgeskryf was nie.

    Wanneer Leroux oor die hoof gesien word vir Een vir Azazel (1964) en ook vir 18-44 (1968) ontstaan daar weer eens 'n polemiek. Hoewel Schoeman later 'n belangrike skrywer sou word en hierdie novelle meer as verdienstelik is, is 18-44 een van Leroux se beste romans en kom die aanvaarding van die Louw-verslag (met sy ernstige mistasting wat 18-44 betref) neer op 'n negering van die Letterkundige Kommissie en moontlik 'n vrees dat 'n toekenning aan Leroux weer 'n herrie sou veroorsraak. Dit kon terloops ook 'n rol gespeel het toe Leroux se roman, Een vir Azazel, nie die prys gekry het in 1967 toe daar geen toekenning was nie, maar toe was die hele beginsel van "'n stygende lyn" ook nog ter sprake. Een vir Azazel (1964) word ook allerweë beskou as een van Leroux se beste werke (kyk Botha 1998:594-595; Kannemeyer 2005:316-317). Drie Akademielede wat dien in die Letterkundige Kommissie (A.P. Grové, Elize Botha en T.T. Cloete) bedank uit die Akademie nadat die Raad in feite die aanbeveling van 'n kundige komitee oorstem.

    Hoe hierdie beginsel dat 'n bepaalde skrywer se oeuvre (binne 'n bepaalde genre) 'n "stygende lyn" moes toon probleme veroorsaak het, word op verskillende plekke deur Carstens (2009) aangetoon. Veral tydens die bekroning van Opperman vir sy drama Voëlvry (1969) het dit tot 'n hele diskussie gelei (Carstens 2009: 468 e.v.). P.G. du Plessis het daarop gewys dat hierdie bepaling aanleiding kon gee tot absurditeite dat 'n "mindere" werk bekroon kan word, terwyl daar 'n veel beter werk van 'n ander skrywer is, maar wat steeds nie binne sy oeuvre 'n "stygende lyn" verteenwoordig nie (Ibid: 470). Die Letterkundige Kommissie het derhalwe op 14 Maart 1969 aanbeveel dat hierdie omstrede bepaling verval. Die Fakulteitsraad verwerp hierdie aanbeveling, maar die Akademieraad aanvaar die Letterkundige Kommissie se voorstel op 9 Mei 1969 (Ibid: 473).

    Magersfontein word wyd gesien as die aankondiger en selfs begin van 'n nuwe (postmodernistiese) periode in die Afrikaanse letterkunde. Ook in die konteks van die belangrike sub-genre van historiese representasie neem dit 'n seminale plek in. Hierdie roman is al verwerk tot strokiesprent en drama en word binne akademiese geledere hoog aangeslaan vir die satiriese aard daarvan, die kosmiese ironie, die styl en karakterisering. Kortom, weer eens stewig gekanoniseerd op grond van intrinsieke én kontekstuele gronde. Net soos Sewe dae is hierdie roman ook heruitgegee in die reeks Klassieke tekste van Tafelberg en Human en Rousseau en het dit hoë verkoopsyfers gehaal. Filosowe én ekonome sou beide rustig kon slaap oor hierdie twee Akademie-toekennings.

    N.P. van Wyk Louw se dramatiese hoorspel, Die dieper reg (1938) is reeds as bekroningswaardig geag deur baie kundiges, maar dit was nog meer die geval met Die pluimsaad waai ver in 1966. Weer eens kon eksterne omstandighede (naamlik Louw se botsing met die destydse premier, dr. H.F. Verwoerd) hierin 'n rol gespeel het. Elisabeth Eybers ontvang die Hertzogprys vir Onderdak in 1971, maar daar was ook 'n sterk gevoel vir die bekroning van Breyten Breytenbach in die Letterkundige Kommissie. Talle briewe in die media het Die Akademie se besluit bevraagteken.

    Meer onlangs was daar die omstrede toekennings van die Hertzogprys aan André P. Brink vir Donkermaan (2001) en aan Ingrid Winterbach vir Niggie (2005). In die eerste geval is Brink se werk afgemaak as 'n niemendalletjie en in die laaste geval is gemeen dat Dan Sleigh se Eilande 'n waardiger wenner sou wees.

    By Brink se Donkermaan en Winterbach se Niggie lê die saak telkens anders: Brink word bekroon omdat sy roman kontekstueel belangrik geag word weens die gesprek met onder andere Etienne Leroux en J.M. Coetzee, veral oor die politieke situasie in Suid-Afrika en die nut van "writing in a time of cholera". Winterbach se bekroning word in die eerste plek gemotiveer deur die intrinsieke gehalte van die werk, maar ook omdat hierdie teks 'n ernstige besinning is oor die verwerking van trauma, een van die oorheersende temas van die literêre diskoers van die afgelope jare. Maar dat die Brink-roman beter was as die voortrefl ike romans Op soek na generaal Mannetjies Mentz (Christoffel Coetzee), Die swye van Mario Salviati (Etienne van Heerden), Draaijakkals (George Weideman) en nog twee tekste van Ingrid Winterbach (kyk ook Smuts 2005:7) sou ek nooit beweer nie.2 Dalk het 'n kontekstuele oorbeklemtoning (en skuldgevoelens by keurders) tóg 'n rol gespeel by hierdie bekroning. En hoe belangrik (en goed) Winterbach se roman ook al is, Dan Sleigh se Eilande is 'n unieke roman met 'n groot internasionale uitstraling en is intrinsieke maatstawwe by hierdie bekroning dalk weer té veel in ag geneem.

    As daar skrywers is wat na my gevoel die Hertzogprys verdien, is dit Adam Small (veral vir Kanna hy kô huis toe (1965) - een van die allerbeste Afrikaanse dramas) en Abraham H. de Vries (vir 'n hele aantal uitstekende kortverhaalbundels waaronder Dubbeldoor (1963), Vliegoog (1965) en Nag van die clown (1989)), al het die ingewikkelde bekroningsprosedures in beide gevalle 'n belangrikste rol gespeel. Veral De Vries se werk moes telkens meeding met van die beste romans in Afrikaans en weens bepaalde bepalings in die prysreglemente kon daar nooit 'n oeuvretoekenning gemaak word nie.

    In die geval van Brink kan ek egter nie saamstem met J.P. Smuts (2005:6) se bewering dat "Brink ... nie verbygegaan is in die sin dat swakker werke as syne bekroon is nie". In 1967 is besluit om geen toekenning te maak nie en was Orgie inderdaad geen groot werk nie. Maar waarom is daar dan nie 'n oeuvre-toekenning oorweeg nie, sou gevra kon word: Lobola vir die lewe (1962) en Die ambassadeur (1963) was immers seminale tekste in die sestigerbeweging. Ook 'n Droë wit seisoen (1979) het die prys verdien eerder as dat oorgegaan is na 'n oeuvretoekenning aan (die weliswaar verdienstelike) Hennie Aucamp. Maar dit is veral Brink se voortrefl ike roman, Houd-den-Bek (1982) (kyk Beukes 1998:317-318) wat in 1984 beslis die prys verdien het bo Henriette Grové met haar haas-vergete werk, Die kêrel van die Pêrel. Dat politiek 'n rol gespeel het in die geval van Brink kan myns insiens kwalik ontken word. Dit is vreemd dat Peter McDonald (2009:263) in sy pasverskene boek, The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences oor Brink beweer dat "The Hertzog always eluded him". Dit in 2009 nadat Brink reeds die Hertzogprys twee keer verower het! Maar dalk is die fout toe te skrywe aan die duidelike ideologiese invalshoek van McDonald. Só beskrywe hy hierdie prys: "this highly politicized, state-sponsored award (sic!), which was intended to strengthen the link between Afrikaner nationalism, the language, and its literature, became the most prestigious volk accolade of the apartheid era ... These quasi-offi cial endorsements were nonetheless always a source of contention, particularly between the literary avant-garde, many of whom served as prize judges for the award (My kursivering, HC), and the more conservative political, cultural, and religious forces within the volk" (McDonald 2009: 263).

    "State-sponsored"? Hoewel die Akademie 'n klein subsidie van die staat ontvang het tot die aanbreek van die nuwe bedeling in die negentigerjare, is pryse van die Akademie nog nooit deur die staat gesubsidieer nie. En was A.P. Grové, Elize Botha, J.P. Smuts, Louise Viljoen en Hennie van Coller werklik lede van die avant-garde wat as keurders van hierdie prys opgetree het, soos McDonald te kenne gee?

     

    11. ANDER PRYSE

    Die Eugène Maraisprys word aan 'n skrywer toegeken vir die eerste of vroeë bellettristiese werk en dra in hom steeds iets van aanmoediging en dit word jaarliks toegeken vir enige werk binne enige van die drie hoofggenres. Hierdie prys dagteken uit 1961 en het in 1971 die huidige naam gekry, juis om te dien as "aanmoedigingsprys", sodat die Hertzogprys gesien kon word as "gehalteprys". Ook hierdie prys het al gesorg vir omstredenheid. As daar kritiek uitgespreek kan word, is dit dat werklike belofte dikwels laer ingeskat is as die sogenaamde afgerondheid van werke. Dit is na my gevoel 'n fout gewees dat Eben Venter se roman Foxtrot van die vleiseters nie in 1994 raakgesien is as aankondiger van 'n belangrike oeuvre nie (Die reuk van appels deur Mark Behr is toe bekroon). Soos Smuts (2005:9) ook betoog, is dit 'n oorsig dat Koos Prinsloo se twee werke, Jonkmanskas (in 1982) en Die hemel help ons (in 1987) by die keurkomitee verbygegaan het. Die twee wenners, E. Kotzé se Halfkrone vir die nagmaal en P.C. Haarhoff se Uit 'n ander wêreld is wel verdienstelik, maar nie baanbrekend nie. Ek wil met Smuts se implikasie saamstem dat die gedurfde aard van die Prinsloo-tekste wél 'n inhiberende uitwerking gehad het op die letterkundekommissie.

    Ek noem verder enkele ander Akademiepryse soos die een vir vertaalde werk wat driejaarliks toegeken word, die Scheepersprys vir jeugliteratuur wat ook om die drie jaar toegeken word, die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur en die Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur wat eweneens om die drie jaar toegeken word net soos die L.W. Hiemstraprys vir niefi ksie. Dan moet ook verwys word na die ander toekennings wat deur die letterkundekommissie toegeken word: die Gustav Prellerprys vir letterkundige kritiek en literatuurwetenskap, die PUK Kanselierstrustprys vir vertaalde jeugliteratuur en die Poortprys vir hoërskoolleerlinge. Op hierdie wyse word die breë terrein van die Afrikaanse literatuur gedek.

    Ander pryse wat dig staan by die Akademie se letterkundepryse is die Olive Schreinerprys vir Engelse literatuur wat reeds in 1972 aan die English Academy of South Africa oorgedra is, pryse vir radiohoorbeelde en televisiedramas en die Elisabeth Eybersbeurs wat bedoel is vir navorsing in Afrikaans en Nederlands. Erepennings van die Akademie word ook sporadies toegeken vir buitengewone prestasies op die gebied van die letterkunde, kritiek en literatuurwetenskap. Ook die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap staan dig by die letterkunde hoewel laasgenoemde prys, soos trouens alle Akademiepryse, deur die Akademieraad toegeken word ná aanbeveling van spesialiskomitees.

    In die geheel geoordeel het die Akademie se prystoekennings help karteer aan 'n moeilike terrein vol slaggate en afgronde. Uit die bostaande én uit Kapp en Carstens se historiese oorsigte blyk dat dit nooit moeiteloos geskied het nie, dat daar talle onderstromings was, maar dat dit in hoofsaak geskied het met eerlikheid en ten minste met die wete van voorlopigheid.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Allén, Sture. 2005. In the spirit of cultural communication with reflections on the Nobel prize for literature. European Review, 13(1): 67-72.         [ Links ]

    Antonissen, Rob. 1956. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Bpk.         [ Links ]

    Baddiel, David. 2007. David Baddiel on Doris Lessing's Nobel prize. The Times. October 19 [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article26937...2009/02/06]         [ Links ]

    Beukes, Marthinus. 1998. André P. Brink. In: Van Coller, H.P. Perspektief en profi el. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: J.L. van Schaik, pp. 316-329.         [ Links ]

    Botha, Elize. S.j. Etienne Leroux as sosiale kommentator. In: Die skrywer en die gemeenskap, referate gelewer tydens die vyfjaarlikse landswye skrywerskongres, gehou te Pretoria op 25 en 26 Maart 1976 onder beskerming van die Afrikaanse Skrywerskring. Pretoria, pp. 44-54.         [ Links ]

    Botha, Elize. 1998. Etienne Leroux. In: Van Coller, H.P. Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: J.L. van Schaik, pp. 586-603.         [ Links ]

    Botha, Elize. 2007. Literatuur en moraliteit. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 47(2), Junie: 117-120.         [ Links ]

    Bourdieu, P. 1983.The field of cultural production, or: The economic world reversed. Poetics, 12: 311-355.         [ Links ] Bourdieu, Pierre. 1993. The Field of Cultural Production. Essays on Art and Literature. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

    Brink, André P. 2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Brooks, Richard. 2008. Zadie Smith sinks teeth into book awards. The Times. February 10. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article33420...2009/02/06]         [ Links ]

    Carstens, B.J.C. 2009. Hertzogprystoekennings vir drama: 1915-1971. Ongepubliseerde D. Litt-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

    D'Astous, Alain, Colbert, Francois, Mbarek, Imene. 2006. Factors influencing reader's interest in new book releases: An experimental study.Poetics, 34: 134-147.         [ Links ]

    Dekker, G. 1958. Afrikaanse literatuurgeskiedenis.Kaapstad:Nasou.         [ Links ]

    DiMaggio, Paul. 1987. Classification in art. American Sociological Review, 52 (4): 440-455.         [ Links ]

    Dorleijn, G.J. & Van Rees, C.J. 1999. (reds.). Literatuuropvattingen in het perspectief van het literaire veld. Den Haag: NWO.         [ Links ]

    English, James F.2002. Winning the Culture Game: Prizes, Awards, and the Rules of Art.New Literary History,33: 109-135.         [ Links ]

    Fokkema, Douwe. 1997. The Systems-Theoretical Perspective in Literary Studies: Arguments for a Problem-Oriented Approach. Canadian review of Comparative Literature, 24(1): 177-185.         [ Links ]

    Ginsburgh, Victor. 2003. Awards, Success and Aesthetic Quality in the Arts. The Journal of Economic Perspectives. 17 (2): 99-111, Spring 2003.         [ Links ]

    Grové, A.P. 1964. Motivering by die toekenning van die Hertzogprys vir prosa. In: Standpunte 17(6), Augustus: 65-66.         [ Links ]

    Herrnstein Smith, Barbara. 1984. Contingencies of Value. In: Von Halberg, Robert (ed.). 1984. Canons. Chicago & London: The University of Chicago Press, pp. 5-39.         [ Links ]

    Holroyd, Michael. 2006. All shall not have prizes. The Times. August 12.[http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article10842...2009/02/06]         [ Links ]

    Holt, Douglas B. 1997. Distinction in America? Recovering Bourdieu's theory of taste from its critics. Poetics. Journal of Empirical Research on Literature. The Media and the Arts, 25(2-3): 93-120.         [ Links ]

    Hoyle, Ben. 2007. Shopping trolley's book wins odd title award. The Times. April, 2007. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article16468...2009/02/06]         [ Links ]

    Jankowsky, Karen.1997. "German" Literature Contested: The 1991 Ingeborg-Bachman-Prize Debate,"Cultural Diversity," and Emine Sevgi : Özdamar. The German Quaterly, 70(3): 261-276.         [ Links ]

    Kapp, Pieter. 2009. Die letterkunde bekronings. In Draer van 'n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hermanus: Hemel & See Boeke, pp. 117-178.         [ Links ]

    Kannemeyer, J.C. 1978. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1). Kaapstad & Pretoria: Academica.         [ Links ]

    Kannemeyer, J.C. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad:Tafelberg.         [ Links ]

    Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuuur 1652-2004. Kaapstad / Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Komrij, Gerrit. 1999. De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.         [ Links ]

    Louw, N.P. van Wyk. 1961.Vernuwing in die prosa.Pretoria & Kaapstad:Academica.         [ Links ]

    McDonald, Peter D. 2009. The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    Norris, Sharon. 2006. The Booker Prize: A Bourdieusian Perspective. Journal for Cultural Research,10(2): 139- 158, April 2006.         [ Links ]

    Olivier, Fanie. 1986. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad, Johannesburg: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Showalter, Elaine. 2006. In the age of awards. Times Literary Supplement. March 3. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/the_tls/tls_selection...2009/02/06]         [ Links ]

    Smuts, J.P. 2005. Die Akademie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45 (1): 1-14.         [ Links ]

    Street, John.2005. 'Showbusiness of a serious kind': a cultural politics of the arts prize. Media, Culture & Society, 27(6): 819-840.         [ Links ]

    Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw. 'n Lewensverhaal (deel I en II). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Coller, H.P. 2002. Eenders en anders: die diskursiewe netwerk in Donkermaan van André P. Brink. Stilet, 14(1): 50-71, Maart.         [ Links ]

    Van Coller, H.P. 2004. Is Leroux 'n vergete skrywer? Stilet, 16(1): 1-13,Maart.         [ Links ]

    Van Coller, H.P. 2009. Tussenstand. Letterkundige opstelle. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

    Van der Merwe, C.N. & Lewis M. 2001. Elize Muller: die verrassende in die skynbaar doodgewone. Literator,22(1): 221-229, April.         [ Links ]

    Van Rees, Kees; Vermunt, Jeroen & Verboord, Marc. 1999. Cultural classifications under discussion. Latent class analysis of highbrow and lowbrow reading. Poetics, 27: 249-365.         [ Links ]

    Verboord, Marc, 2003. Classification of authors by literary prestige. Poetics, 31: 259-281.         [ Links ]

    Wagner, Erica. 2008. Erica Wagner on the point of literary prizes. The Times. February 15. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article33749...2009/02/06]         [ Links ]

     

     

    HENNIE VAN COLLER, uitstaande professor en departementshoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, het onder meer die samestelling en redigering waargeneem van die driedelige Afrikaanse literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel wat in die afgelope dekade gepubliseer is. Tans werk hy o.a. aan 'n heruitgawe van hierdie publikasie én aan 'n nuwe Nederlandse Literatuurgeskiedenis. Voorts is hy 'n poësievertaler (Bandelose gedigte van Luuk Gruwez, 2007) en literêre resensent, en daar het reeds meer as 'n honderd wetenskaplike artikels en 'n veertigtal boekhoofstukke uit sy pen verskyn, asook 17 boeke wat deur hom geskryf of geredigeer is. Naas navorsing oor kanonisering(sprosesse), traumaverwerking in literêre werke en aspekte van literêrsistemiese en -intersistemiese funksionering doen hy veral navorsing oor die literêre geskiedenis - 'n hoofstuk deur hom verskyn eersdaags in die Cambridge South African Literary History. Hy was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is lid van ASSAf.
    During the last decade, HENNIE VAN COLLER, Distinguished Professor and Head of the Department of Afrikaans and Dutch, German and French at the University of the Free State, published amongst others the three volume Afrikaans literary history, Perspective and Profile. Currently he is working on among other things a reprint of this publication and a new Dutch literary history. Furthermoe, he is a translator of poetry (Bandelose gedigte by Luuk Gruwez, 2007) and literary critic, and has published more than a hundred scientific articles and about forty book chapters, along with 17 books. Besides research on canonization (processes), trauma treatment in literary works and literary aspects of systemic and intersystemic functioning, he furthermore conducts research on literary history - a chapter by him appears shortly in the Cambridge South African Literary History. He was chairman of the South African Academy of Science and Arts and is a member of ASSAf.

     

     

    1 Carstens (2009) se proefskrif (onder leiding van Réna Pretorius) is 'n omvattende ondersoek na Die Akademie se Hertzogprystoekennings op die gebied van die drama van 1915-1971. Die wetenskaplike objektiwiteit van die studie kom egter ernstig in gedrang omdat (objektiewe) beskrywing van prosesse en eie (subjektiewe) interpretasie en evaluering van skrywers en hul tekste deurgaans vermeng word. Ook Kapp (2009) wy 'n hoofstuk (5) aan literêre bekronings van Die Akademie.
    2 Smuts (2005:7) verwys ook na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe, maar hierdie boek het reeds in 1996 verskyn en was op tafel gedurende 'n vorige rondte.