SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.50 número4The differences between the Netherlands and Flanders with respect to South Africa during the apartheid era: an analysisA critical assessment of a few of the literary prizes awarded by The South African Academy for Science and Arts índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados



Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.50 no.4 Pretoria dic. 2010




Die kontraktuele dimensie van grondwette: nuwe uitdagings vir Suid-Afrika?


The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa?



Francois Bredenkamp

Departement Griekse en Latynse Studies, Universiteit van Johannesburg



Trefwoorde: Suid-Afrikaanse grondwet, Suid-Afrikaanse sosiale verbond, Calvinistiese politieke teorie, Calvyn, Althusius, federale grondwet Verenigde State van Amerika, Suid-Afrikaanse regering van Nasionale Eenheid, onderlinge verbond, toekoms, Suid-Afrikaanse sosiale akkoord


Despite the fact that the SA Constitution of 1996 has variously been lauded as a "model constitution," even as "one of the world's best constitutions" - especially when viewed from a liberalist-individualist perspective - this contribution maintains that the Constitution displays several shortcomings when viewed from the perspectives of the Afrikaner and Afrikaans-speaking communities, and probably that of other minority-communities in South Africa, as well. These shortcomings from the outset point to the incomplete closure of the social contract and of the constitutional guide-lines generated in the run-up to the first democratic elections for a new government in 1994. The article first draws attention to the historical and dynamic factors which usually act as foundation for social contracts and attempts to identify problems in the South African process, after which it suggests possible remedies for such problems. An exposition of the political theory of political covenant and mutual social contract is given, with special reference to the federalist process leading to the constitution of the United States of America. Having then treated the transference of the social covenant to a secular and social setting, the future of the social contract in South Africa is interrogated and the pressing need identified for the renewal and renegotiation of the solemn social contract between all South African citizens. The role and the potential of the political parties in this visualised process is briefly discussed, but largely discounted because of the steady erosion in the public's perceptions of politicians' credibility and trustworthiness. The article closes with a plea for a renewal of the solemn social accord between South Africans, a process to be initiated by civilian organisations and individuals from the grassroots upwards, so that the country might re-enter its destined path with a new sense of purpose and unity. The germs of such a movement are, in fact, already discernible.
The deterioration in Afrikaner (and other minority) perceptions of the efficacy of the South African constitution ran concomitantly with the drafting and implementation of the constitution of 1996 (which set aside many important constitutional guide-lines determined by the national Convention for a Democratic South Africa) (Codesa), the one-sidedness of the Truth and Reconciliation Commission and its processes and the failure of the "Government of National Unity" (Giliomee(2003): The Afrikaners: the Biography of a People). Chief among these perceptions is the dwindling of the legitimate interpretative community of the constitution down to the government and its supporters and, in addition, the poor representation of minorities in parliament, the continuance of the Westminster "winner takes all"-approach to the outcomes of elections and the general abuse of the rights of minorities, in particular those pertaining to language rights.
In surveying the rather modern notion of the social accord as the result of a covenant reached, initially, between God and man and, later, between a ruler and his subjects, attention is given to the substantial contribution of Jean Cauvin (Calvin) and his adherents (Althusius and others). The American federal constitution is treated as a case-study in the attainment of a solemn, yet mostly secular, covenant or accord between citizens with varied interests and inhabiting widespread and substantial territories.
In the last instance, the future of the social accord in South Africa is discussed and the suggestion is made that an informal process, from the grass-roots level upwards, and with the inclusion of all civic communities, be set in motion in the search and formulation of a new and solemn social accord which would truly embody a common set of social and community values. A groundswell of consensus could set the scene for a re-interpretation or even partial re-phrasing of the South African constitution which may put to rest many of the present objections to it. A new consensus in South Africa could cure many of the social maladies presently experienced and set the scene for a new era for political success in South Africa, one that is sorely needed.

Key concepts: South African constitution, South African social accord, Calvinist political theory, Calvin, Althusius, federal United States constitution, South African Government of National Unity, mutual covenant, future of South African social accord




Ten spyte daarvan dat die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 wyd hoog aangeslaan word, veral gesien vanuit die hoek van die liberalistiese individualisme, stel hierdie artikel die gesigspunt dat die Grondwet talle gebreke vertoon wanneer dit uit die perspektief van die Afrikaner en Afrikaanssprekende gemeenskappe en waarskynlik dié van ander minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika beskou word. Vanuit die staanspoor dui hierdie tekortkomings op die onvolledige sluiting van die sosiale akkoord en van die grondwetlike riglyne wat tydens die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing vir 'n nuwe regering in 1994 gegenereer is. Die artikel vestig die aandag op die histories-dinamiese faktore wat normaalweg as grondslae vir 'n sosiale akkoord dien en poog dan om probleme in die Suid-Afrikaanse proses te identifiseer en om voorts moontlike remedies daarvoor voor te stel. 'n Uiteensetting van die politieke teorie van die sosiale akkoord en onderlinge sosiale verbond word verskaf met besondere verwysing na die federalistiese proses wat tot die vorming van die grondwet van die Verenigde State van Amerika gelei het. Nadat gewys is op die verplasing van die verbond na 'n sekulêre en sosiale konteks, word die toekoms van die sosiale verbond in Suid-Afrika ondersoek en gewys op die dringende behoefte aan die hernuwing en her-onderhandeling van die plegtige onderlinge sosiale verbond onder alle Suid-Afrikaanse burgers. Die potensiële rol van die politieke partye word in hierdie verband kortliks bespreek. Die artikel sluit af met 'n pleidooi vir die hernuwing van die plegtige sosiale verbond onder alle Suid-Afrikaners. Hierdie proses behoort deur die burgerlike samelewing en individue aangevoor te word sodat die land weer sy bestemde pad met 'n sin van doelgerigtheid en eenheid kan betree.

To the
Constitution of the Republic of South Africa
Act 108 of 1996

We, the people of South Africa,
Recognize the injustices of the past;
Honour those who suffered for justice and freedom in our land;
Respect those who have worked to build and develop our country; and
Believe that South Africa belong to all who live in it, united in our diversity.
We therefore, through our freely elected representatives, adopt this Constitution as the
supreme law of the Republic so as to -

Heal the divisions of the past and establish a society based on democratic
values, social justice and fundamental human rights;

Lay the foundations for a democratic and open society in which g
overnment is based on the will of the people and every citizen is equally
protected by law;

Improve the quality of life of all citizens and free the potential of each
person; and

Build a united and democratic South Africa able to take its rightful place as
a sovereign state in the family of nations.

May God protect our people.
Nkosi Sikelel' iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seën Suid-Afrika. God bless South Africa.
Mudzimu thalutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika.



In die laaste hoofstuk van sy vername bydrae, The Afrikaners: Biography of a People (2003:635 e.v.) bespreek Hermann Giliomee die grondwetlike oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika en die gevolge daarvan vir die Afrikanergemeenskap. Hy beskryf hoedat die nuwe Suid-Afrika op 10 Mei 1994 tot stand gekom het nadat die African National Congress (ANC) 'n stewige aantal stemme (62,7% van die kiesers) in die voorafgaande verkiesing behaal het, en 'n sogenaamde Regering van Nasionale Eenheid (RNE) die lig gesien het. Hierin het agtien ministers van die ANC, ses van die Nasionale Party (NP) - en Mnr. FW de Klerk as een van twee adjunk-presidente - en drie ministers van die Inkhata Vryheidsparty (IVP) gedien.

Die oënskynlike versoening en vrede wat in die RNE beliggaam was, was van korte duur. Binne 'n jaar na die vestiging van die RNE het die verhore van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) op dreef gekom. Gesien vanuit Afrikanerperspektief was die Kommissie oorweldigend sterk gelaai met ANC-ondersteuners en gretig om menseregte vergrype van die ou regeringsmagte en die IVP uit te sonder vir beskuldiging. Rassisme en apartheid is volledig die skuld gegee vir die lyding van slagoffers, sonder dat die volle konteks waarin oortredings gepleeg is, ooit werklik verdiskonteer is. Die WVK het die krake van botsende politieke lojaliteite en ras, ook tussen Afrikaners en Engelse, in die Suid-Afrikaanse gemeenskap duidelik na vore gebring en onderstreep. Dit het ook 'n nuwe politieke kloof tussen die Nasionale Party en die ANC oopgemaak. Geeneen van die politieke partye en hulle onderskeie ondersteuningskorpse was gelukkig met die uitkomste wat deur die Kommissie bereik is nie (Giliomee 2003:647-655).

Die algemene ontevredenheid het in 1996 gelei tot die verwerping, deur die ANC, van die grondwetlike riglyne, veral die beginsel van magsdeling tussen duidelike meerderheids- en minderheidspartye wat in 1992-1993 opgestel is. In daardie jaar het mnr. FW de Klerk dan ook die Nasionale Party aan die RNE onttrek. Ontnugtering en teleurstelling het onder Afrikaners ingetree en is vererger deur die vlaag van misdaad en 'n duidelike afname in die doeltreffendheid van die regstelsel om dit hok te slaan. Daarby het regstellende aksie 'n geweldige tol onder Afrikaners in alle vertakkinge van die staatsdiens begin eis. Die grondwet het min of geen beskerming aan Afrikaners in hierdie benouende situasie gebied nie (Giliomee 2003:656-658).

Teen 2002 is besef dat Afrikaans en Afrikaners in 'n krisis verkeer. Die regte van Afrikaans en sy sprekers en instellings is direk bedreig: Afrikaans as voertaal aan skole en universiteite is voortdurend onder verdenking geplaas en die druk om dit af te skaf het toegeneem. Tradisioneel Afrikaanse besighede het ook op groot skaal verengels. Sulke druk op Afrikaners het omgesit in politieke ontevredenheid en het gelei tot die disintegrasie van die Nasionale Party en die uiteindelike opname daarvan in die Demokratiese Party en die ANC. Die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk, vir lank die Christelike denominasionele tuiste van Afrikaners, het sowat nege persent van sy lidmate tussen die jare 1981 en 1999 verloor en, op die tydstip van hierdie skrywe, is daar steeds geen teken dat hierdie proses omgekeer kan word nie.

Afrikaners en Afrikaanssprekendes is kennelik veel dieper geraak deur die kulturele veranderinge wat deur die ANC-regering teweeggebring is. Teen 2000 het Lawrence Schlemmer bevind dat bykans tagtig persent van Afrikaners ontevrede is oor die wyse waarop met hulle taal- en kultuurregte in Suid-Afrika omgegaan word. Afrikaners was teen daardie tyd 'n minderheidstaalgroep eerder as 'n georganiseerde etniese groep met gemeenskaplike oorsprong- en verwantskapsmites wat as 'n kragtige mag gemobiliseer kon word (kyk Giliomee 2003:658665).

Selfs vóór die politieke oorgang van 1994, het Giliomee (1991:65-86) op die besonder moeilike opgaaf van nasiebou gewys, selfs wanneer dit vanuit verskillende strategiese hoeke benader word. Hy het die skerp onderlinge politieke skeidings binne Suid-Afrika en die kulturele heterogeniteit van die bevolking as besondere struikelblokke beskou, en in die lig daarvan voorgestel dat 'n weg waarbinne politieke pluralisme die botoon voer, gevolg behoort te word. Invloedryke persone uit alle sektore (die privaatsektor, ekonomie, die pers, die universiteite en die kerk) moet elk in eie reg nasiebouers wees. Dit sou steeds baie moeilik wees om 'n samehangende staat te bou waarin burgers wat nooit tevore sentimente oor etnisiteit, ontwikkeling en hulle politieke lot gedeel het nie, dit wél sou deel.

Oor die afgelope dertien jaar wat sedert die inwerkingtreding van die grondwet verloop het, het daardie kontroverse nog geensins begin afneem nie, maar wel rondom bepaalde aspekte daarvan verskerp en verdiep. Onder laasgenoemdes tel waarskynlik en veral die enge beperktheid van die interpreteringsgemeenskap rondom die grondwet (slegs diegene wat tot die regerende party behoort en sy ideologie aanhang, is tot 'n geldige interpretasie van grondwetlike bepalings in staat); die swak direkte verteenwoordiging van die Suid-Afrikaanse minderhede in die bevolking in die nasionale vergadering (die proporsionele kiesstelsel verseker dat geen parlementêre verteenwoordiger regstreeks aan 'n bepaalde kieserskorps of -groep binne 'n bepaalde streek verantwoording verskuldig is nie); die voortsetting van die Westminister-beginsel dat die wenner van enige verkiesing totale beheer oor die staat en die regering verkry en die miskenning van minderheidsbelange (veral in die sfeer van taalregte) binne 'n unitaristiese staatsbestel. Volgens verskeie ontleders kon geeneen van hierdie probleme skynbaar geredelik binne die bestaande neergelegde grondwetlike beslegtingsmeganismes (soos die Menseregte-kommissie, die Regterlike Dienste-kommissie en selfs, in 'n mate, die Grondwetlike hof) aangespreek en tot die breë bevrediging van litigante uit die Afrikaner kultuurkring opgelos word nie.

Die tekortkominge in die Suid-Afrikaanse Grondwet, én in die uitvoering én toepassing daarvan, dui vanuit die staanspoor op die onvolledige sluiting van die sosiale kontrak wat tot die Suid-Afrikaanse Grondwet aanleiding gegee het. Hierdie bydrae wil die aandag vestig op die histories-dinamiese aard, formeel of andersyds, wat sulke sosiale kontrakte normaalweg onderlê en wil poog om die vinger op gebrekkige sosiale kontraksluiting te lê en moontlike remedies daarvoor aan die hand te doen.



Moontlik is die mees negatiewe belewenis vir Afrikaners op voetsoolvlak hul gewaarwording dat die skeppingsproses van die grondwet hulle sleg benadeel het. Immers, terwyl die 1994grondwetlike riglyne nog verminderde minderheidsregte in die vooruitsig gestel het, is daardie beperkte minderheidsregte deur die ANC-oorheersde nasionale vergadering uit die 1996-grondwet geskryf. Van die voornemens tot 'n sosiale kontrak wat deur die Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), die media en die partye voorgehou is, het uiteindelik in 1996 weinig tereggekom. En terwyl Afrikaners hulself nog tot 'n mate met die 1994-grondwet kon versoen, het hulle beslis tydens en na 1996 besef dat hulle inderwaarheid - en vir alle praktiese doeleindes - van die kontrak wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet geïmpliseer word, uitgesluit is. Vandaar ook hul volgehoue en toenemende pogings sedertdien om vreedsame, dog effektiewe weë te vind waarlangs die bepalings van die grondwet óf ook in hulle voordeel geïmplementeer word óf selfs geherformuleer word. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en sy vennote het trouens oor die afgelope twee jaar (2008 tot 2009) 'n volle kongres en 'n aantal seminare aan die bespreking van sulke grondwetlike knelpunte gewy en 'n hernieude bewuswording van die uitsonderlike dimensies van die probleem het daaruit gespruit.

Dit is egter duidelik dat ons verder terug, sover as tot in die ontstaan van die kontrakteorie, moet gaan delf om Afrikaners (en ander minderheidsgroepe) se juiste verhouding tot die aard en inhoud van die sosiale kontrak vas te stel.



A covenant is a morally informed agreement or pact between people or parties having an independent and sufficiently equal status, based upon voluntary consent and established by mutual oaths or promises witnessed by the relevant higher authority. A covenant provides for joint action or obligation to achieve defined ends (limited or comprehensive) under conditions of mutual respect which protect the individual integrities of all the parties to it. Every covenant involves consenting, promising and agreeing. Most are meant to be of unlimited duration, if not perpetual.

(Elazar 1980:6)

Afrikaners het oor die algemeen nie nodig om aan die aard en inhoud van die Gelofte van Danskraal, gesluit op die vooraand van die slag van Bloedrivier, herinner te word nie. Die Voortrekkers, onder die geestelike leiding van Sarel Celliers, het onderneem om, indien God hulle op die dag van hul konfrontasie met hul opponente 'n oorwinning sou gee, hulle altyd daarna dié datum as 'n geleentheid van dank sou benut ("soos 'n Sabbat") en ook 'n spesiale kerkgebou hiervoor sou oprig (Kapp 1975:46-54). Die gelofte, of verbond met God, was duidelik 'n Ou-Testamentiese kontraktuele meganisme wat min of meer lewend in die kollektiewe (onder)bewussyn van die Voortrekkers werksaam was en by dié diep-ernstige geleentheid op die vooraand van die slag van Bloedrivier opgediep en met God aangegaan is.

Die gelofte het weldeeglik sy oorsprong na die Midde-Ooste en die Bybelse Israeliete wat gelofte-ooreenkomste met hul onderhoriges gesluit het, teruggevoer. Kenmerkend, vanuit die staanspoor, was die standaardvorm wat steeds in geloftes, of ooreenkomste (Elazar 1980:7), aangetref word: 'n proloog, of aanhef, waarin die betrokke partye opgenoem word; 'n uiteensetting van die doelwitte en onderliggende beginsels van die ooreenkoms; die substansiële liggaam van die ooreenkoms, met voorwaardes en operasionele beginsels; laastens, die eed wat aan die gelofte of ooreenkoms morele bindingskrag verleen en 'n uiteensetting van die sanksies verbonde aan die skending van die eed.

Met die koms van die Christendom het die gelofte (of ooreenkoms of kontrak) 'n ander kleur en voorkoms begin aanneem. Christene het die geloftegedagte as van fundamentele belang aangegryp, maar het die Ou Testamentiese gelofte waardeur 'n volk en 'n staat gekonstitueer is, as 'n genadeverbond tussen God en individue geïnterpreteer, as een wat eensydig deur Jesus toegeken en bemiddel word. En alhoewel Joodse plaaslike gemeenskappe dwarsdeur die Middeleeue politieke ooreenkomste veral met hulle (koninklike) heersers ter oorlewing gesluit het, was dit eers tydens die Hervorming - wat binne die breër konteks van die Renaissance plaasgevind het - dat die gelofte weer sy sentrale belang as 'n dinamiese kategorie in die politieke teologie en die politieke filosofie herwin het. Elazar (1980:8-9) meen dat, alhoewel dit onduidelik is watter kulturele gesteldheid die mense uit daardie bepaalde kultuurgebied ontvanklik vir die geloftegedagte gemaak het, dit geen toeval is dat die federale teologie (wat sterk op die gelofte of ooreenkomste steun) tegelykertyd in vier gebiede van Switserland in die sestiende eeu na vore tree nie. Konfederale politieke reëlings was sedert die laat dertiende eeu reeds hier aan die orde van die dag.1

Terwyl die Middeleeuse Christelike politieke teorieë van die Rooms-Katolisisme en die Ortodoksie deur hul gedeelde leer van die vennootskap van God en keiser die aardse heerskappy feitlik onaantasbaar voor 'n kwesbare en dikwels ontevrede burgery gestel het (Ulmann 1968:4558), het die Calvinistiese politieke teorie 'n baie duidelik antimonargale standpunt in die debat ingebring (Foster 1916:481-482). Calvyn het geweier om die burgery te verbied om teen die "buitensporige bandeloosheid" van konings weerstand te bied; trouens, het hy gesê, indien die burgery die moedswillige en tierende optrede van die heerser oor die gemeenskap sou goedpraat en verdra, sou sodanige apatie 'n bose geloofs- en kontrakbreuk verteenwoordig omdat die vryheid van persone binne die staat in die gedrang gebring word en die burgery juis as hul beskermers deur God self aangewys is (Foster 1916:481).2 Calvyn se Institutiones het 'n teorie van grondwetlike weerstand deur die volk se verkose verteenwoordigers (sy magistratuur) verkondig. Hieruit het een van die Calvinisme se sentrale politieke opvattings gegroei, naamlik die verbondsgedagte.

Calvyn se vertrekpunt was naamlik dat God die absolute, Soewereine Heerser is, en dat sy Woord, dit wil sê die Bybel, die hoogste gesag dra. Die absolute gesag van God en van sy Woord het grense geplaas op alle aardse gesag en het sowel koning as verteenwoordigende magistratuur verantwoordbaar aan God en mens gestel. God het steeds aan die stuur van die kosmos gestaan.

Calvyn se leerstelling van die geloofsbreuk is binne 'n jaar, in 1537, opgevolg deur die vestiging, in die staat van Genève, van nog 'n sentrale Calvinistiese opvatting, dié van die stadstaat as manifestasie van die (gelofte)verbond. Die Geneefse Konfessie of Belydenis het alle burgers, inwoners en onderdane beveel om hierdie belydenisverbond, wat die tien gebooie bevat het en moraliteit bo teologie benadruk het, te onderhou. Calvyn het daarin die geloftes deur die Israeliete met God aangegaan (o.a. deur Moses, Josia, Asa, Esra en Nehemia), aangehaal as voorbeelde van gelofteverbonde. Later in sy loopbaan sou hy eers 'n "gematigde demokrasie" (gesamentlike regering deur die aristokrasie en demokraties-verkose verteenwoordigers) propageer en, steeds later, 'n grondwetlike regering wat deur 'n demokratiese meerderheid regeer word. Die laasgenoemde stelsel sou verseker dat indien enigeen in die staat méér opeis as waarop hy geregtig is, die meerderheid as sensors en meesters kan intree om sy ambisies aan bande te lê.

Teen die einde van sy loopbaan sou Calvyn verteenwoordigende regering op grond van algemene instemming in teorie en praktyk as "verreweg die te verkose opsie" onderskryf. Selfs wanneer persone konings word by wyse van vererwing en opvolging, strook dit nie met die vryheidsgedagte nie (Foster1916: 481-485).3 Foster wys daarop dat Calvyn in die wedersydse verpligting van én hoof én lede van die staat geglo het: enige gemenebes berus op wette en ooreenkomste waardeur "iedereen soos deur 'n toom by sy roeping gehou word".

Vanuit sy premisse van die allerhoogste gesag van God en van Sy Woord ("gehoorsaam God eerder as mense"), vloei die vereiste om nie maar passiewe nie, dog aktiewe (let wel: niegewelddadige) weerstand teen die dwalende heerser te bied. Dit is nie maar alleen die weerstand gebied deur private individue nie, maar 'n verpligting wat op goddelik-ingestelde verteenwoordigers, soos raadslede of parlementslede, wat verantwoordbaar teenoor God en die mense is, rus. Sodanige weerstand is grondwetlik, rasioneel en ordelik omdat dit deur drie beginsels beheers word: 'n geskrewe dokument (die geopende Woord van God) wat met gelykmatigheid en rede vertolk moet word; 'n politieke verbond of ooreenkoms wat verkieslik uitgeskryf moet wees, en een of ander grondliggende reg, soos die natuurreg (lex naturae), wat goedskiks ons herinnering aan daardie wette wat God "op die tafels van ons harte geskryf het" verteenwoordig. Die eerste puriteinse staat, Calvyn se staat van Genève, was die suksesvolle beliggaming van Calvyn se politieke teorie.4

Die kerke van die Hervorming het die gedagte aan 'n gelofte-ooreenkoms aangegryp en dit as besonder geskik vir die uitdrukking van hulle teologiese idees en hul verwagtings vir 'n kerklike staat beskou. Hul federale teologie (afgelei van die Latynse foedus: gelofte, ooreenkoms) het aanleiding tot die hernieude politieke gebruik van die geloftegedagte gegee. Die Duitse politieke filosoof en boeke-uitgewer, Johannes Althusius, het veral hieraan beslag gegee. In die volgende eeue is toenemend sekulêre betekenis aan die konsep deur Hobbes, Locke en Spinoza verleen. 'n Geloftegebaseerde beskawing is vanuit Noord-Wes Europa deur emigrasie op ander vastelande, soos die Noord-Amerikaanse vasteland en ook Suider-Afrika, ingeënt. Die Amerikaanse grondwet is juis die gesekulariseerde neweproduk van die geloftegebaseerde politieke teorie.5

Althusius se politieke teorie het sterker klem op die sekulêre aard van die sosiale kontrak en, daarmee van die politiek, geplaas (Sabine & Thorson 1973:387-390)6 en dit aldus tot 'n genoegsame verklaring van menslike sosiale groepe verhef. So het hy die behoefte aan teologiese verklarings van die sosiale verband uit die weg geruim. Sy teorie het dus 'n veel sterker Aristoteliese kleur as ander Calvinisties-gekleurde politieke teorieë van dié tyd - soos dié van Jean Bodin en Hugo Grotius - vertoon.7 Vir hom het die kontrak 'n spesifiek politieke rol vervul deur die betrekkinge tussen 'n heerser en sy volk (d.w.s. die regeringskontrak) te verklaar, maar hy onderskei ook 'n veel breër kontrak, 'n meer algemene sosiale kontrak wat enige assosiasie of consociatio onderlê. Hiervolgens raak mense "saamwoners" (symbiotici) en deelgenote in die goedere, dienste of wette wat die assosiasie skep en onderhou. Enige assosiasie word dus deur 'n tweeledige "wet" onderlê wat enersyds die soort gemeenskap wat tussen sy lede bestaan, definieer en, andersyds, die gesagsliggaam wat oor sy gemeenskaplike sake regeer, begrond en beperk.

Althusius onderskei vyf soorte assosiasies of gemeenskappe, in 'n volgorde van toenemende sofistikasie: die gesin, die vrywillige korporasie (collegium), die plaaslike gemeenskap, die provinsie en die staat. Binne die meer gesofistikeerde gemeenskappe verleen die onderliggende assosiasies vorm aan die kontrakterende partye; binne nuutgevormde groepe aanvaar 'n groep telkens die beheer slegs oor daardie handelinge wat essensieel tot sy doelwitte is. Ander funksies word aan die beheer van die meer primitiewe groepe oorgelaat. 'n Verskeidenheid sosiale groepe of gemeenskappe kom tot stand as gevolg van die sluiting van 'n reeks sosiale kontrakte. Die staat is daarom die gevolg van een so 'n kontrak - die assosiasie van provinsies of plaaslike gemeenskappe - en word juis gekenmerk deur sy soewereine mag, sy majestas, wat in die korporatiewe liggaam van die burgers rus. Hierdie soewereine mag kan nie vervreem word of in die hande van 'n ander liggaam val nie, maar dit kan wel na administrateurs afgewentel word om die doelwitte van die korporatiewe burgers uit te voer. Uiteindelik was Althusius die eerste politieke teoretikus om aan die gedagte van die sosiale kontrak behoorlike omskrywing te verleen (Höpfl & Thompson 1979:923-924). Die veelgeroemde Duitse teoretikus, Gierke, beskryf sy bydrae as volg:

Althusius takes as the basis of his theory the division of the processes of will assumed to institute the State into two parts, the Social Contract and the Contract of Rulership. This division was commonly accepted until the end of the eighteenth century and was fi rst attacked by Hobbes. The distinction of these two contracts was stated much earlier, but never with such juristic sharpness. In any case, each of these may be separately studied in its genesis and history.

(Höpfl & Thomson:1979:923)

Na Althusius het Junius Brutus (skuilnaam vir die Franse teoretikus, Philippe Du Plessis-Mornay) (Sabine & Thorson 1973:352-357), in sy Vindiciae Contra Tyrannos (gepubliseer in 1579) die kontrakteleer verder uitgebrei deur voor te stel dat 'n gemenebes in die algemeen deur twee geloftes gekenmerk word. Die een was tussen die heerser en die mense (as 'n enkele party) en God as die ander party, terwyl die tweede gelofte tussen die heerser en die mense se verteenwoordigers bestaan het (Höpfl & Thompson 1979:919-944).8 Voortvloeiend hieruit was die insig dat as konings of heersers in tiranne ontaard, weerstand deur "die mense" nie alleen hul reg was nie, maar hul plig. Die inherente tekortkominge van Du Plessis-Mornay se teorieë ten spyt (Höpfl & Thompson 1979:932-3), het die Franse Hugenote veel daarin gevind om substansie aan hul eie posisie te verleen. Dit het 'n moontlike regverdiging verskaf vir hulle standpunt dat 'n verhouding van wedersydse, maar ook voorwaardelike, verpligting tussen heerser en onderdaan bestaan het. Hulle moes 'n manier vind om hul weerstand tot veronderstelde tiranne te legitimeer, en die begrip van 'n gelofte was handig omdat dit taamlik goed met hul geloof in 'n wederkerigheid van regte en pligte gestrook het.9

Foster slaan die Calvinistiese bydrae tot die politieke teorie soos volg aan:

Resistance to tyrants did not originate with Calvinists, nor did the idea remain peculiar to them. It had been proclaimed by scriptural, classical and medieval writers; it was advocated by Lutheran and Catholic. The Calvinist provided a method of resistance that was at once definite, legal, and practicable; combined it with other theories and the sound experiences of self-governing churches and civil communities; and finally worked it out into something of world significance - responsible, representative, constitutional government. (Foster 1916:500-501)

Foster voeg ten slotte ook by dat die Calvinistiese stelsel van elementêre en universitêre onderwys, gerugsteun deur sy sterk geloof dat die bestaan van 'n gewete kennis vooronderstel en die stelsel se kragtige benadrukking van die rede, van volledige bronnemateriaal, oorspronklike tale en die diensbaarheid aan die gemenebes, tesame met sy geneigdheid tot 'n wetenskaplike gees, van vreeslose ondersoek en die maak van gevolgtrekkings, die grondslag van 'n groot aantal Europese universiteite met 'n Calvinistiese inslag en 'n aantal prominente Amerikaanse universiteite uitgemaak het.



There is a twofold liberty, natural ... and civil or federal. The first is common to man with beasts and other creatures.... The other kind of liberty, I call civil or federal, it may also be termed moral, in reference to the covenant between God and man, in the moral law, and the politic covenants and constitutions, among men themselves. This liberty is the proper end and object of authority, and cannot subsist without it.

John Winthrop (1645)

In considering ... the system before us, it is necessary to mention another kind of liberty... federal liberty. When a single government is instituted, the individuals of which it is composed surrender to it a part of their natural independence.... When a confederate republic is instituted, the communities of which it is composed, surrender to it a part of their political independence.... The states should resign to the national government, that part, and that part, only, of their political liberty, which, placed in that government, will produce more good to the whole, than if it had remained in the several states. While they resign this part of their political liberty, they retain the free and generous exercise of all their other faculties, as states, so far as it is compatible with the welfare of the general and superintending confederacy.

James Wilson (1787)10

In 1787 is 'n nasionale Konvensie van Noord-Amerikaanse state - dertien van hulle - in die stad Philadelphia byeengeroep waartydens die Grondwet van die VSA opgestel en aanvaar is. Dit was reeds 'n tweede poging nadat die eerste na 'n interregnum van twee jaar misluk het; nou word dit 'n ware federasie omdat dit 'n sentrale uitvoerende regering met deeglik-omskrewe magte voorsien het. Dit het die staat as geheel so federaal moontlik gemaak deurdat dit die behoefte aan 'n sterk federale regering erken het; dit het 'n volle tien jaar se onderhandeling gekos om die Konfederasie daarna te omskep.11 Die Grondwet het 'n dubbele skeiding onderskryf: eerstens van die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag; en tweedens van die magte van die federale en staatlike magte, en wel op 'n wyse wat die federerende state van hul eie bevoegdhede - daardie magte wat nie algeheel onontbeerlik vir die federale gesag vir die doeleindes van die algemene voordeel was nie - verseker het. Die magte en bevoegdhede van die VSA in die geheel is streng gedefinieer, maar die magte wat aan die state oorgelaat is, het ongedefinieerd gebly. Die sentrale, federale regering is op akkurate wyse beskryf, en die state op dienooreenkomstige wyse. Die Federale Grondwet van die VSA is trouens betekenisloos tensy dit saam met die Staatlike Grondwette gelees word. Slegs vier amendemente is aan die Grondwet aangebring sedert die Amerikaanse burgeroorlog, wat deur die sesessie of afstigting van elf state verhaas is; die Amerikaanse Hooggeregshof se besluite geniet die status van wysigende verstellende maatreëls ter wille van die optimale funksionering van die Grondwet. Die Amerikaanse Hooggeregshof (Supreme Court) is aanvanklik geskep met die uitsluitlike doel voor oë om die konstitusionele balans tussen die sentrale federale regering en die deelstate te handhaaf en dit teen vergrype in hierdie verband te beskerm (De Tocqueville 1965: 88).

Hedendaagse Amerikaners beskou die moderne federasie as 'n oorspronklike bydrae van hul volk tot die demokratiese regeringsvorm. Die Amerikaanse grondwet het dan ook inderdaad die Franse Rewolusie en die totstandkoming van die Franse Republiek voorafgegaan. Ten grondslag daarvan lê hul erkenning dat die begrip foedus - waarvan die term "federasie" ontleen is - op die sluiting van 'n plegtige verbond berus waarin persone of groepe ooreenkom om vir gemeenskaplike doeleindes te verenig sonder om hul basiese regte of hul individuele identiteite prys te gee. Hulle sê ook dat die Amerikaanse federalisme se wortels in die teologie van die Puriteine en die Gereformeerde Protestantisme te vinde is en dat dit die klassieke Engelse kontrakteoretici voorafgegaan het. Honderde Noord-Amerikaanse gemeenskappe is op die verbondsgrondslag vóór die 1780s, en vóór die uitsprake van Thomas Hobbes en John Locke, reeds gevestig (Quigley & Bahmueller 1991:403-404).12 Die vestiging en onderhoud van die gees van die oorspronklike sosiale kontrak wat tot die uiteindelike skepping van hulle unieke grondwet gelei het, is vir die Amerikaners 'n belangrike saak: dit lei tot die voortdurende soeke, in die Amerikaanse politiek, na 'n grondslag van "toereikende konsensus" as die begronding van veral kontensieuse besluitneming onder moeilike omstandighede. Dit is slegs wanneer konsensus binne die sekulêre "verbondspolitiek" bereik word, dat die nasionale sentiment ten gunste van die politici en hul president swaai, vandaar ook dat daar soveel "republikeins-gesinde Demokrate" en "demokraties-gesinde Republikeine" op hul politieke toneel aangetref word.

Dit is 'n feit dat die verbondsgrondslag van die Amerikaanse Grondwet steeds 'n vername rol in die VSA speel. Die voordele van die federale grondwet is vernaamlik dat dit 'n stelsel is wat met die fisies-geografiese uitgebreidheid van hul groot sub-kontinent rekening hou en weldeeglik in staat is om dit te hanteer; en die feit dat dit die demokrasie meer werkbaar en prakties maak deurdat dit die weg gebaan het daarvoor dat etniese, religieuse en taalgemeenskappe die voordele van die sentrale verbondsregering kon geniet sonder om hul soewereine, of basiese, regte van selfregering en gemeenskaplike identiteite aan enige ander groep te hoef af te staan (soos wat wel in die geval van België, Kanada, die voormalige Tsjeggo-Slowakye, Indië, Maleisië, Nigerië, Switserland en Joegoslawië plaasgevind het). Die Amerikaanse Grondwet is egter broos omdat daar maar voortdurende druk tot oplossing van die verbond of tot diktatoriale sentralisasie ervaar word (Quigley & Bahmueller 1991:395).



Reeds tydens die sluiting van die Amerikaanse verbond, en toenemend so met die totstandkoming van die ander, meer resente, federasies (sopas hierbo vermeld) het die religieuse dimensie, te wete die aanroep van 'n Hoër Hand ter wettiging of legitimasie van die plegtige eed waarmee 'n verbond in casu gesluit word, begin afneem en uiteindelik selfs verdwyn. Toenemende onderlinge maatskaplike vertroue, ook ten opsigte van die geldigheid van die aflegging van 'n plegtige min of meer sekulêre eed, of een met 'n selfgekose, gewetensbindende inhoud, het die behoefte aan 'n enkele, alombindende (Protestants-godsdienstige) eed oorbodig gemaak. Burgers in die betrokke samelewing vertrou mekaar eenvoudig om 'n gepaste gewetensbindende eed af te lê en op grond daarvan 'n plegtige en waaragtige onderneming te gee, dit gestand te doen en, by geval van (onwettige) lapsus, daarvoor tot verantwoording geroep te word.



Ons het ten aanvang van hierdie studie melding gemaak van die werklike vervreemding en ontevredenheid waarmee Afrikaners en talle minderhede (vanuit alle gemeenskappe) die werking van die Suid-Afrkaanse Grondwet beleef. Die waarneming het posgevat dat talle van hul basiese regte in die slag bly, met name die regte om hulle taal in die openbaar te besig, op alle vlakke daarin onderrig te word,13 die wetenskap daarin te bedryf en daarin te publiseer; sowel as hul reg tot die besit van private eiendom en hul arbeids-ekonomiese regte in die dampkring van die steeds sentraliserende regering. En Afrikaanssprekendes ('n nasionale minderheid van grofweg 7 miljoen, of bykans 20% van die totale bevolking) beleef toenemend dieselfde probleme ongeag tradisionele kleurgrense. Die afgelope algemene verkiesing (April 2009) het juis weer, met die uitsondering van die Wes-Kaap, die grondliggende onhandelbaarheid van sommige van die demografiese werklikhede van Suid-Afrika vir die politiek onderstreep. Andersyds dui die grootskeepse burgerlike opstand en ontevredenheid oor plaaslike dienstelewering op die verbrokkeling van die verstandhouding tussen die regering en 'n groot gedeelte van sy ondersteuningsbasis. Daar is ook ander tekens van sentrifugale kragte wat in die grondwetlike dinamiek aan die werk is, soos die uiteenlopendheid oor wat die beginsel van die onafhanklikheid van die regbank, wat die etiese basis van mediese parool en wat die pligte en regte van die militêr nou presies sou behels. En dis maar 'n paar van die probleme.

Die kontraktuele grondslag van die Suid-Afrikaanse Grondwet is dus tans onder ernstige beleg en dit sal na alle waarskynlikheid nog verder verswak tensy 'n nuwe leierskap met bykans visioenêre toekomsgerigtheid die probleme trompop loop en dit doelgerig aanpak. Op 'n onlangse konferensie van Solidariteit se Instituut vir Arbeids- en Grondwetlike Navorsing het prof. Edmund T. Gomes van die Universiteit van Maleisië en voorsitter van die Verenigde Nasies se Kommissie insake Regstellende Aksie, melding gemaak van die talle probleme wat daardie land oor dertig jaar - soos Suid-Afrika - sedert die implementering van regstellende aksie aldaar beleef (Gomes 2009). Die emigrasie van die land se mees briljante breinkrag, die ineenstorting van veral die onderwysstelsel en die agteruitgang van die hoër onderwys, en die feitlike mislukking van daardie wetgewing om "regstelling" juis in daardie oorde te bewerkstellig waarvoor dit bestem was, dui vir Gomes (aangespreek in die vraetyd na sy lesing) daarop dat die werklike sosiale dinamiek in die land ver anderkant die oorspronklike argitektuur van die Maleisiese grondwet uitbeweeg het. Hy meen dit is nou tyd om weer te gaan sit en om die sosiale kontrak van Maleisië opnuut te beding en om die grondwet te hersien. Dit sou, volgens hom, die enigste toepaslike meganisme wees om die strukturele probleme van Maleisië die hoof te bied.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet het gebreke wat steeds gerieflikerwys - óf noodgedwonge - deur diegene met gevestigde belange by die oorspronklike totstandkoming daarvan oor die hoof gesien of geïgnoreer word. Die "Suid-Afrikaanse wonderwerk" van die bloedlose oorgang na 'n volle demokrasie en "die mees liberale grondwet in die wêreld" bly in hierdie opsig steeds struikelblokke in die weg tot die eerlike bespreking van die menigvuldige dinamiese gebreke wat daardie Grondwet in die hand werk.

Vir hierdie navorser is dit egter duidelik dat die meeste van hierdie probleme uit die gewaande suksesvolle sluiting van die verbondsgrondslag van die grondwet spruit. Dit word ook myns insiens gestaaf deur die toenemende oproepe van bepaalde kommentators en gemeenskapsleiers om die voltrekking van die onderlinge rekonsiliasieproses tussen mense en groepe in Suid-Afrika. Solank 'n diepe en plegtige onderneming deur alle Suid-Afrikaners om mekaar grondwetlik ter wille te wees en almal se behoeftes daarin te ondervang, nie verwesenlik word nie, sal die fondament waarop Suid-Afrika gebou is, steeds wankel. Die bona fides van alle belangegroepe en gemeenskappe sal in so 'n nuwe onderneming met harde werk uitgetrap en verreken moet word.

Dit is juis in hierdie verband dat die Protestantse teologie en kerke, veral diegene wat binne die dampkring van die Calvinisme staan, dié belangrike rol kan speel om Christene in Suid-Afrika te herinner aan en hulle op te skerp ten opsigte van hulle Calvinistiese roepingsbewustheid in Suid-Afrika. Roepingsbesef het juis 'n belangrike funksie in die totstandkoming van die kontrak as grondslag van die staat vervul; dit het 'n bepaalde werksetiek tot gevolg gehad, mense voortdurend aan hulle burgerlike plig herinner en aan die sluiting van die sosiale akkoord 'n plegtige status - met voortdurende verwysing na 'n goddelike opsig daaroor - verleen. Christene sou hul eie morele inhoud aan 'n sosiale akkoord moet gee.



Die soeke na 'n Nuwe Plegtige Sosiale Verbond sal uiteraard die soeke na, en die teboekstelling van, 'n onderlinge konsensus onder alle sosiale gemeenskappe in Suid-Afrika behels. Dit sal enersyds die opbou van 'n voldoende mate van onderlinge vertroue tussen die gemeenskappe inhou en, andersyds, die gedurige uitbouing van 'n werkbare en "toereikende konsensus" onder die Suid-Afrikaanse gemeenskappe veronderstel.

Daar sou gesê kon word dat met die bereiking van die vorige konsensuele grondslag van die Suid-Afrikaanse grondwet, die destydse politieke konteks werklik hoogs geradikaliseer, gelade en verpolitiseer was. Die politieke partye, wat as dinamiese onderhandelingsgrondslag vir die nasionale konvensie geïdentifiseer is, was immers na 'n jarelange vryheidstryd nasionaal en internasionaal onder druk om tot die skrywe van 'n grondwet te kom. Onder daardie toestande, en in 'n maatskappy wat nog altyd gekenmerk is deur diep en wesentlike klowe tussen die verskillende gemeenskappe, kon daar werklik geen sprake wees van 'n (rustige) soeke na 'n konsensuele grondslag oor die welsyn en hart-gevoelde doelwitte van die Suid-Afrikaanse staat, waarin nie alleen die besit en mensregtelike dimensies van elkeen se bestaan nie, maar ook sulke ontwykende sake soos die nastrewing van elkeen en elke gemeenskap se "geluk en tevredenheid" (sake wat by name in die VSA se grondwet aangeroer word) ter sprake gebring word nie (Quigley & Bahmueller 1991:614).14

'n Mens moet nie onder die wanindruk verkeer dat die regering van die dag 'n nuwe soeke na konsensus in 'n sosiale kontrak sal verwelkom nie; inteendeel, so 'n poging sal vir 'n reeds verïdeologiseerde regering hoogs verdag en as 'n antagoniserende gebaar voorkom. Daarom sal die soektog vanuit die spreekwoordelike haarwortel-vlak deurgevoer moet word en deur die hoogste mate van welwillendheid en bereidwilligheid om na die "opponent" se standpunt te luister, gekenmerk moet word. Die konsensuele model veronderstel juis die aangaan van talle kompromieë rondom vasstaande feitelikhede, die sogenaamde "harde posisies".

'n Nuwe proses sal myns insiens ook nie aanvanklik deur die politieke partye aangevoer moet word nie. Die burgery se ondervinding met politici is oor die afgelope dekades wêreldwyd gekenmerk deur afnemende vertroue en toenemende suspisie. Daar sou veeleer na die identifiseerbare gemeenskappe, burgerlike organisasies, toonaangewende burgerlikes en die intellektuele gemeenskap en geestelikes gekyk moet word om die nodige mate van konsensus vanuit 'n geringe en enge basis uit te hamer en die kring van instemming en konsensus steeds maar uit te bou totdat dit die kritieke swaartepunt ("critical mass") bereik en openbare sigbaarheid kan verwerf om as 'n geloofwaardige poging gekrediteer te word.



Prins Mangosuthu Buthelezi, strydros van die Suid-Afrikaanse politiek, parlementariër en steeds leier van die Inkhata Vryheidsparty (IVP), het onlangs in 'n stewige bydrae tot die debat oor die jongste rondte van samesprekings om opposisie-alliansies onder politieke partye in Suid-Afrika te bewerkstellig, die politieke weg daartoe uitgestippel (Buthelezi 2009:11). Prins Buthelezi meen dat die soeke na gedeelde politieke grond tussen die politieke partye van die opposisie lofwaardig is. Namate die politieke landskap en perspektiewe verander, sal dit toenemend vir die partye nodig word om 'n verenigde politieke front in die aangesig van 'n eenpartyregering te vestig. Die veelparty-demokrasie moet versterk word.

Om hierdie doel na te jaag, sal die Suid-Afrikaanse opposisiepartye meer reaktief en uitkomsgedrewe moet optree. Haalbare politieke alternatiewe tot regeringsbeleid sal uitgewerk moet word; trouens, die oogmerk van 'n verenigde politieke opposisie behoort juis in werkbare handeling volvoer te word. Om regerings op ideologiese gronde uit te daag, raak ál moeiliker omdat verskuiwinge in die politieke konteks al meer subtiel raak. Die beste strategie is om te wag dat die haarbarsies in die politieke argument van die dag te voorskyn tree en om dit dan met die spreekwoordelike politieke hamer die beslissende hou toe te dien.

Politieke kampanjes het vandag die gedaante van heeltydse en volgehoue pogings aangeneem. Die persepsies van kiesers, sê Buthelezi, word oor die lang termyn op grond van kumulatiewe indrukke gevestig. 'n Wen-strategie word dus binne 'n langtermyn kampanje geformuleer, en die politieke strateeg moet die regering fyn dophou vir misstappe en skandale. Talle opposisie-politici het juis vir hulself op dergelike wyse naam gemaak.

Opposisiepartye het eintlik maar taamlik onlangs eers op gesamentlike wyse teen die regering begin optree. Maar dit is berug-moeilik vir die politikus om telkens na sy ondersteuners terug te gaan en om sanksie vir sy kompromis-besluite en -ondernemings te verkry. Ten slotte is Buthelezi van mening dat alhoewel die Suid-Afrikaanse opposisie nie daarin sal slaag om beheer oor die regering teen die eersvolgende algemene verkiesing te verkry nie, dit tog moontlik sterk steun in die eersvolgende munisipale verkiesings in 2011 kan wen en talle sleutelstede en -dorpe kan verower. En om hierdie rede, sê hy, is dit goed dat die opposisiepartye tans met mekaar praat.

'n Mens wil dus versigtig jou instemming met Buthelezi betoon, maar daarop wys dat politici in Suid-Afrika en elders in 'n groot mate aan geloofwaardigheid en eerbaarheid oor die afgelope jare ingeboet het. Dit maak dit uiters moeilik vir politici om met stelligheid oor politieke en sosiale akkoorde na hulle ondersteunersgroepe om rugsteuning terug te keer. Daarom wil 'n mens vra om 'n soeke na konsensus oor sosiale waardes vanuit die laagste moontlike vlakke, dit wil sê die haarwortelvlakke, van die burgerlike samelewing waar probleme waarlik ervaar word.


Die beweging vir 'n nuwe akkoord sal voorlopig in 'n nuwe nasionale konvensie van verteenwoordigende instansies moet uitmond, waarop die nuwe akkoord met groot plegtigheid en onder een of ander vorm van eed eenstemmig verseël en aanvaar moet word. Die bereiking van so 'n nuwe akkoord sal waarskynlik ook gevolge vir die Suid-Afrikaanse Grondwet inhou, en sal ernstige druk uitoefen vir die hersiening, of herinterpretasie, van die Grondwet. Tentatiewe voorstelle sal hiervoor ingewag moet word en dan, met die taktvolle bytrek van die politieke partye en die regering, vir implementering oorweeg moet word.

Die soeke na 'n nuwe sosiale akkoord sal ook die wesenlike herkapitalisering en herlewing van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing behels. Kommentators en woordvoerders uit verskillende sektore van ons burgerlike samelewing wys juis op die reuse kulturele klowe wat steeds tussen die samelewingsgroepe in Suid-Afrika bestaan en wat werklik tussengroep kommunikasie in die land beduiwel. 'n Sosiale akkoord sal hiermee moet rekening hou en vanaf die laagste vlakke denkbaar moet begin werk om 'n meer geborge samelewing te bou. Wanneer beskeie doelwitte in hierdie verband ál meer bereik word, en uiteindelik 'n kritieke swaartepunt bereik, sal dit ernstige oorweging van die nasionale en die internasionale politiek afdwing. Die bereiking van die sosiale akkoord is juis onlangs as " 'n instemmingsgenererende ritueel", soos die demokrasie self, beskryf (Butler 2009:15).

Ter erkenning van die dinamiese situasie waarin grondwetlike ontwikkeling, maatskaplike verhoudings en grondwetlike hervorming hulself altyd maar bevind, behoort 'n nuwe sosiale verbond met gereelde tussenpouses, sê maar elke tien jaar, opnuut bespreek en plegtig bevestig te word. So 'n gereelde hersieningsproses sal verseker dat die Suid-Afrikaanse gemeenskap van gemeenskappe hulle telkens binne die verbondsverhouding van die Grondwet tuisvind.



Buthelezi, M. 2009. Political toenadering: Long slog to power for South African opposition parties. Business Day (26 August 2009), p. 11.         [ Links ]

Butler, Anthony. 2009. Unsavoury military manoeuvres and SA's coercive disarray. Business Day 31 August, 2009, p. 15.         [ Links ]

de Tocqueville, Alexis. 1965. Democracy in America, vertaal deur Henry Reeve en uitgegee met 'n Inleiding deur Henry Steele Commager: London: Oxford University Press.         [ Links ]

Elazar, Daniel J. 1980. The Political Theory of Covenant: Biblical Origins and Modern Developments. Publius (Covenant, Polity and Constitutionalism) (Autumn), 10(4):3-30.         [ Links ]

Faure, A.M. e.a. 1987. Die Westerse Politieke Tradisie. Pretoria & Kaapstad: Academica, 2e uitg., pp. 182-209.         [ Links ]

Foster, Herbert D. 1916. The Political Theories of Calvinists before the Puritan Exodus to America. The American Historical Review, 21(3) (April): 481-503.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 1991. Building a New Nation: Alternative approaches. In Cloete e.a. (reds.). Policy Options for a New South Africa. Pretoria: HSRC, pp. 65-86.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2003. The Afrikaners: Biography of a People. Kaapstad: Tafelberg / University of Virginia.         [ Links ]

Gomes, E.T. 2009. Inequalities, Identity and Social Justice: Affirmative Action in Malaysia, referaat gelewer tydens Solidariteit en hul Instituut vir Arbeidsregtelike en Grondwetlike Navorsing se konferensie in Centurion oor regstellende aksie in Suid-Afrka, op 15 Julie 2009.         [ Links ]

Höpfl, Harro & Thompson, Martyn. 1979. The History of Contract as a Motif in Political Thought. The American Historical Review, 84(4) (October):919-944.         [ Links ]

Kapp,P.H. 1975. Die Afrikaner en sy Kultuur, Deel III: Ons Volksfeeste, (reeks onder redaksie van Pieter W. Grobbelaar). Kaapstad: Tafelberg, pp. 46-54.         [ Links ]

Quigley, Charles N. & Bahmueller, Charles F. (eds).1991. CIVITAS: A Framework for Civic Education. Calabassas, CA.: Center for Civic Education.         [ Links ]

Sabine, George H. & Thorson, Thomas L. 1973. A History of Political Theory, 4th edition. Hinsdale, Illinois: Dryden Press.         [ Links ]

Stanford Encyclopedia of Philosophy October 2006, Edward N. Zalta (ed.), URL =         [ Links ]

Strong, C.F. 1966. Modern Political Constitutions: an introduction to the comparative study of their history and existing form, new and revised edition. London: Sidgwick & Jackson.         [ Links ]

Ulmann, Walter. 1968. A History of Political Thought: The Middle Ages. Harmondsworth: Penguin Books.         [ Links ]

Wiechers, Marinus. 2010. Afrikaanse Onderrig aan Suid-Afrikaanse Universiteite: Grondwetlike vereistes. 'n Studie oor Afrikaans op Universiteitsvlak. Plattekloof: F.W. de Klerk Stigting,         [ Links ]



FRANCOIS BREDENKAMP is in die Klassieke aan die Randse Afrikaanse Universiteit opgelei en het in die vroeg-Christelike en Bisantynse Grieks gespesialiseer. Hy het hy vir 'n aantal jare Grieks, Latyn en Antieke Geskiedenis aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer. Hy het ook in die voormalige Instituut vir Navorsingsontwikkeling (INO) aan die RGN gewerk en is sedert 1997 betrokke by navorsingsontwikkeling. Tot onlangs was hy 'n navorsingsprofessor in die Direktoraat: Navorsing, Innovasie en Vennootskappe aan die Tshwane University of Technology. Gedurende 2004 en 2005 was hy 'n Seeger Visiting Research Fellow in die Program for Hellenic Studies by Princeton University. Hy is die outeur van The Byzantine Empire of Thessaloniki (1224-1242) (Thesssaloniki 1997), mede-outeur van Die Staat:Teorie & Praktyk (Pretoria 1997) en Meditasies van Marcus Aurelius Antoninus (Pretoria 2007). Hy is ook die outeur van 'n dertigtal wetenskaplike vakartikels, en lid van die redaksionele komitee, sowel as bydraer tot, die Prosopografiese Leksikon van die Bisantynse Geskiedenis en Beskawing. Nadat hy kortstondig waarnemende Uitvoerende Beampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge was, is hy sedert 2009 'n navorsingsprofessor in die Departement van Griekse en Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg.
FRANCOIS BREDENKAMP was trained in the Classics at the Rand Afrikaans University and specialised in Early Christian and Byzantine Greek. He taught Greek, Latin and Classical Civilisation at a number of South African univer sities for a number of years. He also worked at the Institute for Research Development of the Human Sciences Research Council and has been involved with research development since 1997. Until recently he was a research professor in the Directorate: Research, Innovation and Partnerships of the Tshwane University of Technology. In 2004 and 2005 he was a Seeger Visiting Research Fellow in the Program for Hellenic Studies at Princeton University in the USA. He is the author of The Byzantine Empire of Thessaloniki (1224-1242) (Thesssaloniki 1997), co-author of Die Staat: Teorie & Praktyk (Pretoria 1997) and of Meditasies van Marcus Aurelius Antoninus (Pretoria 2007), a literary translation into Afrikaans. In addition, he is the author of some thirty scientific articles in accredited journals, member of the editorial committee of, and contributor to, the Prosopographical Lexicon of Byzantine History and Civilisation. After having briefly served as the acting executive officer of the Federation of Afrikaans Cultural Organisations (FAK), he was appointed research professor in the Department of Greek and Latin Studies at the University of Johannesburg in 2009.



1 'n Konfederale magsreëling verteenwoordig 'n spesifieke tipe federalisme. Daarin word volmag in die konstituerende politieke gemeenskappe, wat uitdruklik bepaalde magte aan die sentrale regering sedeer, gesetel. Sulke konstituerende politieke gemeenskappe kan hulself met min moeite en eensydig aan die konfederasie onttrek; hulle besit dus taamlik soewereine mag oor hulself en die konfederale regering se wette kan aan geen individu opgedring word nie. Vergelyk Quigley & Bahmueller (1991: 392-393.
2 Foster haal ook Norton se vertaling van die betrokke ekserp uit Calvyn se Institutiones aan. Calvyn (Fr. Jean Cauvin) (1509-1564) het hom as advokaat gekwalifiseer en het onder die invloed van Luther se geskrifte teen ongeveer 1533 'n Protestant geword. Toe die Franse koning, Frans I, die Protestante begin vervolg, het Calvyn gevlug en homself in Genève, Switserland, gaan vestig. Hy het egter sy Institutiones, die sentrale werk in sy oeuvre, in Basel die lig laat sien. Dié werk het 'n leefreël vir Protestante dwarsoor Europa geword in hul stryd teen die pousdom. Hy is later deur die stad Genève genooi om daardie stad te regeer en hy het dit dan ook vir dertig jaar lank gedoen. Hy is een keer uit die stad verban, maar nadat die stad se sake in chaos verval het, herroep. Hy het elke dag gepreek, het die Bybel in Frans vertaal, en talle vlugskrifte geskryf (sien die uitstekende artikel deur P. Brouwer oor hom in Faure e.a. 1987:182-209).
3 Foster siteer die volgende passasie uit Calvyn se preek gebaseer op 1 Samuel, v. 8 (Opera XXIX. 552, 557): "Inasmuch as kings and princes pledge their faith to the people by an oath, it is fair to ask, if they break faith, whether the people may not themselves consult together and apply a fit remedy. The question is certainly difficult and it would not be convenient or expedient to discuss it now; for we see many seeking opportunity for innovations and allowing too great changes. Subjects may not rebel against tyrannical rulers ... Nevertheless, certain remedies against tyranny are allowable, for example when magistrates and estates have been constituted, to whom has been committed the care of the commonwealth: they shall have the power to keep the prince to his duty and even to coerce him if he attempt anything unlawful."
4 Foster (1916: 486) haal die tweede president van die VSA, John Adams, in hierdie verband aan: "Let not Geneva be forgotten or despised. Religious liberty owes it much respect, Servetus notwithstanding".
5 Vgl. my betoog hieronder, "Oorgang na die Sekulêre Sosiale Verbond of Kontrak". Quigley & Bahmueller (1991:386-7) wys daarop dat, hoewel talle godsdienstige denominasies saam met die setlaars vanuit Europa na die VSA gekom het, 'n aantal state met geen denominasie verbind is nie. Die humanistiese denke wat die Franse Rewolusie voorafgegaan het, was ook aan die oplaai in die VSA, en die skeiding van staat en kerk is deur die eerste amendement tot die Amerikaanse grondwet in 1791 afgedwing ("Congress shall make no law respecting an establishment of religion, or prohibiting the free exercise thereof"). Daarmee het die invloed van die Christelike kerke in die grondwetlike dinamiek van die VSA begin afneem.
6 Althusius (1557-1630) was 'n beroemde Duitse skrywer oor sake van sy dag, regsprofessor te Herborn en moedige magistraat te Emden vir ses-en-dertig jaar lank. Hy word dikwels as die vader van die moderne federalisme aangeskryf omdat hy in sy Politica Methodica Digesta (Althusius 1603) 'n betoog gelewer het vir die outonomie van sy stad Emden ten opsigte van die Lutheraanse provinsiale regering en die Katolieke Keiser. Hy is sterk beïnvloed deur die Franse Hugenote en die Calvinisme. Hy het 'n nie-sektariese en nie-godsdienstige federale kontrak wat staatsinmenging selfs met die oog op die bevordering van die regte godsdiens verbied het, geformuleer.
7 Althusius se teorie was meer Aristotelies in dié sin dat dit empiries (op werklike heersende toestande) gerig was en hy nie, soos talle voorgangers, metafisiese verklarings vir die legitimering van sy teorie gesoek het nie. Vgl. die bydrae Federalism in die Stanford Encyclopedia of Philosophy October 2006, Edward N. Zalta (ed.), URL =
8 In die lg. tweede gelofte was die mense die kontraksteller (stipulator) en die heerser die ondernemer (promissor). Die mense het die koning versoek om regverdig te heers en volgens die bepaling van die wet; hy het dan belowe om dit uit te voer. Die mense het daarop geantwoord dat hulle getrou sou gehoorsaam mits sy bevele regverdig was.
9 Höpfl & Thomson (1979:933) en Foster (1916:494), haal Mornay hieroor aan: "Since the will of God alone is always just and that of man very often be unjust, who doubts that it is necessary to obey God always, without exception ... and kings, subject to exception, i.e. provided they do not command anything against the law of God." The king may be punished by "the whole people to whom the king swears and obligates himself no less than the people do to the king".
10 Albei sitate geneem uit Quigley & Bahmueller (1991: 391-392).
11 Sien Strong (1966:108-116) asook de Tocqueville (1965: 86-87).
12 Die Federalist Papers (1787), geskryf deur Alexander Hamilton, James Madison en John Jay, was aanvanklik nie gewild in 1787-88 nie, maar het sedertdien die status van die allerbelangrikste uiting of verwoording van Amerikaanse politieke denke verwerf ("the single most important expression of American political thought").
13 Marinus Wiechers het in sy resente bydrae, "Afrikaanse Onderrig aan Suid-Afrikaanse Universiteite: Grondwetlike vereistes" (2010:7-21), gewys op die talle gebreke in die toepassing van die Suid-Afrikaanse Grondwet op die Afrikaanse universiteite en die aantasting van die taal- en verwante regte van daardie instellings. Dit is juis sulke sake wat op die agenda van 'n konsiliasiegesprek vir die sluiting van 'n nuwe nasionale akkoord behoort te dien.
14 Die najaag van geluk ("the pursuit of happiness") hang ten nouste saam met die gedagte van vryheid in 'n konstitusionele demokrasie. Terwyl geen regering die mate van lewensgeluk van sy burgers kan bepaal nie, bly dit steeds hul reg om hul eie geluk na te streef sonder benadeling van die regte van andere. Maar regerings kan die burger bystaan deur die vreedsame toestande en omstandighede waarbinne elke burger sy potensiaal en vermoëns in volle mate kan ontwikkel en ontgin. Die "najaag van geluk" vooronderstel 'n grondliggende menslike verlange om vervulling te soek en vestig daarom die reg van individue om daardie strewe sonder ongevraagde regeringsinmenging na te streef.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License