SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue3Afrikaans speech norms and prescriptive Afrikaans norms: is there enough scope for grammatical diversity in standard Afrikaans? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.50 no.3 Pretoria Sept. 2010

     

    BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

     

    Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902

     

     

    deur D.Langner; P. Alberts (reds.), 2009.
    Uitgegee deur Kraal-uitgewers, Brandfort, in opdrag van Solidariteit Helpende Hand.
    272 bladsye.
    ISBN 978-0-9814009-3-8

    Sewentien wetenskaplikes het hoofstukke geskryf vir hierdie versamelwerk wat, soos die titel aandui, handel oor armoede in die Afrikaanse gemeenskap sedert 1902. Hoewel alle Afrikaanssprekendes deur die redakteurs as deel van die Afrikaanse gemeenskap beskou word, handel die boek tog, wat die tydperk voor 1994 betref, slegs oor armoede onder die blanke Afrikaners. Indien twee of drie hoofstukke oor armoede onder die bruin bevolking voor 1994 bygevoeg is, sou dit moontlik gewees het om hierdie probleem te oorkom. Daar is heelwat inlgting oor armoede onder bruin mense beskikbaar wat vir dié doel benut sou kon word, byvoorbeeld die verslag van die bekende Erika Theronkommissie (1976). Die feit dat die eerste Carnegieondersoek, in die jare 1929-1932, net op die sogenaamde armblankevraagstuk gefokus het, moet gesien word binne die konteks van daardie tyd. Die meer inklusiewe siening van die Afrikaanse gemeenskap wat vandag bestaan, behoort ook in die geskiedskrywing weerspieël te word.

    Teen hierdie agtergrond gesien, is die indeling van armoede onder Afrikaanssprekendes in drie fases, soos in die boek gedoen word, problematies. Die drie fases wat hier onderskei word, is die jare direk na die Anglo-Boere-oorlog van 1899-1902, die depressie van die dertigerjare en die tydperk na 1994 (p. 7). Daar het van die vroegste tye tot vandag toe groot armoede onder alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika, en eintlik in die meeste dele van die wêreld, voorgekom. Ook onder die Europese koloniste in die vroeë Kaapkolonie was armoede geen onbekende verskynsel nie. In die laat negentiende eeu het grootskaalse mynbou-aktiwiteite die proses van industrialisasie en verstedeliking in Suid-Afrika ingelui. 'n Skaarste aan landbougrond het onder meer daartoe bygedra dat lede van die blanke bevolkingsgroep na die mynbou- en nywerheidsentra verhuis en daar dikwels in armoede geleef het, soos Wessel Visser in sy hoofstuk aantoon (p. 119). In hierdie lig beskou, het daar met die Anglo-Boere-oorlog nie 'n nuwe fase van blanke armoede begin nie, hoewel die oorlog beslis die toestand vererger het. In die bydraes van Jackie Grobler, Wessel Visser en Grietjie Verhoef, en ook in ander hoofstukke, word goed aangetoon hoedat Afrikaners reeds in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog en ook daarna baie gedoen het om die armoedevraagstuk onder volksgenote uit te wis. Tog word die vraag waarom daar betreklik min armoede onder blanke Suid-Afrikaners van die 1960's tot die 1980's voorgekom het en dit daarna weer toegeneem het deur geen van die skrywers volledig beantwoord nie. Daar word onder meer gewys op die invloed van verminderde staatsteun aan welsynsorganisasies na 1994, maar die rol van die apartheidstelsel in die beperking van blanke armoede word nie bespreek nie. So 'n bespreking is noodsaaklik om die oorsprong van die armoede wat vandag onder 'n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap voorkom, te verstaan.

    Hiermee kom 'n verdere probleem na vore, naamlik dat, soos in die meeste versamelwerke, die hoofstukke nie altyd goed bymekaar aansluit en saam 'n duidelike geheelbeeld skep nie. 'n Hoofstuk wat armoede onder Afrikaanssprekendes, tans en in die verlede, in die wyer konteks van armoede in Suid-Afrika plaas, sou kon gehelp het om 'n duideliker perspektief op die onderwerp te gee. Sommige leemtes sou redelik maklik vermy kon word. Daar word byvoorbeeld heelwat geskryf oor die rol wat die N.G. Kerk vandag en in die verlede in armoedeverligting gespeel het, maar byna nie na die rol van ander kerke verwys nie. Die toevoeging van enkele paragrawe tot die betrokke hoofstukke sou gehelp het om hierdie leemte te vul. Aan die ander kant is daar bydraes opgeneem wat nie baie direk met die armoedevraagstuk te doen het nie, soos dié oor N.J. van der Merwe en oor plattelandse eksekuteurskamers en trustmaatskappye.

    Die meeste hoofstukke is gegrond op uitgebreide navorsing wat oor die verskillende temas gedoen is en is van goeie wetenskaplike gehalte. Daar word tog soms aanvegbare stellings gemaak. Hier volg enkele voorbeelde. Op p. 96 word verklaar dat die invloed van Abraham Kuyper se volksromantiese denke veral daarvoor verantwoordelik was dat die N.G. Kerk van die dertigerjare met sy barmhartigheidswerk eerstens die Afrikanervolk van ondergang wou red en die evangeliese uitgangspunt uit die oog verloor het. Daar was in hierdie jare sterk nasionalistiese gevoelens onder die Afrikaners aanwesig, ook onder kerkleiers. Die opkoms van Afrikanernasionalisme is deur verskeie faktore veroorsaak; die invloed van Kuyper se beskouinge het hierby maar 'n klein rol gespeel. Die bewering dat die ANC-regering na 1994 met 'n doelgerigte aanval op die Afrikanerkultuur begin het (p. 183), word beslis nie algemeen aanvaar nie, ook nie onder Afrikaanssprekendes nie.

    Die boek bevat 'n hele aantal foto's wat deels by mekaar gebring en deels self geneem is deur die bekende fotograaf Paul Alberts. Soos Alberts self verduidelik, sien 'n mens armoede "aan 'n persoon se lyf; (h)ande, oë en die krake in 'n gesig vertel van hongerly en swaarkry" (p. 11). Die meeste van die foto's is beslis treffend. Die trefkrag sou miskien nog groter gewees het as daar ook foto's van Afrikaanssprekendes wat 'n weelderige leefstyl voer geplaas is om die kontras tussen ryk en arm na vore te bring. Daar is enkele foto's van blankes in die vroeë twintigste eeu wat hande-arbeid verrig in myne en op plase (veral pp. 37-39), 'n verskynsel wat algemeen in Europese lande en ook in Amerika en Australië gedurende daardie jare voorgekom het en ook vandag glad nie verdwyn het nie. Hoewel dit seker nie Alberts se bedoeling was nie, kan dit die indruk wek dat blanke Suid-Afrikaners wat hande-arbeid verrig as 'n teken van armoede beskou word. Veral inwoners van bogenoemde lande wat hierdie boek onder oë kry, kan moontlik so 'n afleiding maak.

    Hierdie werk is dus nie sonder gebreke nie. Tog is dit 'n waardevolle bydrae tot die literatuur oor die armoedevraagstuk onder Afrikaanssprekendes. Dit bevat nie baie kennis wat nie in ander studies te vinde is nie, maar bring inligting uit 'n verskeidenheid van bronne byeen en maak dit toeganklik vir die algemene leser. Daar is 'n uitgebreide bronnelys, maar ongelukkig geen register nie. Die boek is in koffietafel-formaat gedruk en tegnies goed versorg.

    Solidariteit Helpende Hand het waarskynlik veral bedoel om met hierdie publikasie mense meer bewus te maak van die ernstige armoedevraagstuk wat daar vandag in die Afrikaanse gemeenskap bestaan. Helpende Hand het self 'n lang geskiedenis van hulpverlening en lewer tans, soos die Helpmekaarbeweging, die Reddingsdaadbond en ander liggame van vroeërjare, 'n baie belangrike bydrae om armoede onder, veral, Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te verlig. In die laaste afdeling verklaar Langner, wat ook uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand is, dat armoede in die Afrikaanse gemeenskap as deel van 'n groter Suid-Afrikaanse oplossing te bowe gekom behoort te word en dui hy die organisasie se koers vir die komende jare aan.

     

    Pieter de Klerk
    Vakgroep Geskiedenis
    Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus)