SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 n.3 Pretoria Sep. 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Afrikaner- en Zoeloeperspektiewe op die Slag van Bloedrivier, 16 Desember 1838

 

Afrikaner and Zulu perspectives on the Battle of Blood River, 16 December 1838

 

 

Jackie Grobler

Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria. E-pos: Jackie.Grobler@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die telkens uiteenlopende Afrikaner- sowel as Zoeloeperspektiewe oor een van die mees omstrede gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, naamlik die Slag van Bloedrivier, onder die loep geneem. Dit sluit beide geskrewe verslae en herinnerings oor die geveg in. Aangesien daar heelwat meer in Afrikaans en deur Afrikaners as deur Zoeloes oor die geveg geskryf is, word daar meer aandag aan Afrikaner as Zoeloeperspektiewe gegee. Dit is opvallend dat die menings van Afrikaners en Zoeloes oor verskeie belangrike aspekte, veral wat die verloop en uitslag van die geveg betref, ooreenstem. Tog is daar verskille wat in die artikel aangetoon word. Voorts is dit opvallend dat daar van ongeveer 1970 af by verskeie Afrikaanse skrywers 'n groot interpretasie-verandering ingetree het. Waar ouer skrywers geneig was om die Voortrekkeroorwinning aan goddelike ingryping toe te skryf, asof dit 'n wonderwerk was, het 'n nuwe geslag Afrikaanse skrywers na rasioneel-verklaarbare redes vir die oorwinning gesoek. En waar vroeëre skrywers geneig was om die uitslag as 'n oorwinning van Christendom oor barbarisme te beskou, neig die nuwe skrywers weg van sodanige oordele en toon hulle heelwat meer empatie met Dingane se bedreigde posisie as wat vroeëre skrywers gedoen het. Die finale gevolgtrekking in die artikel is dat die laaste woord oor Bloedrivier steeds nie gespreek is nie - geskiedenis is en bly 'n vakgebied van veranderende perspektiewe

Trefwoorde: Voortrekkers, Groot Trek, Bloedrivier, Afrikaners, Zoeloes, Dingane, Andries Pretorius, walaer, perdekommando, amabutho, gelofte, goddellike ingryping, Dingaansdag (Geloftedag)


ABSTRACT

The purpose of this article is to investigate the divergent ways in which Afrikaner and Zulu commentators have treated the events of the Battle of Blood River, and also how interpretations have changed in the course of years and generations. This battle is a controversial event in South African history and an impressive number of studies on it have been produced. The battle furthermore figures prominently in Zulu oral tradition. Each report represents a standpoint. There is no single, generally accepted Afrikaner perspective and indeed neither a unitary Zulu viewpoint. The mere fact that appreciably more studies of the battle by authors who can be regarded as Afrikaners (or who regard themselves as such) than studies by Zulus have appeared over the years, means that there are more detailed and extensive Afrikaner than Zulu perspectives. As a result more attention is given in the article to Afrikaner than to Zulu viewpoints.
The article also provides a broad overview of the events that led to the Battle of Blood River as well as the events of the battle itself and of its consequences. This will assist a reader who only has limited knowledge of the events to follow the analysis of perspectives. It is noticeable that the opinions of Afrikaners and Zulus on numerous important aspects, including the course and the outcome of the battle, often concur. There are nevertheless differences which are indicated in the article.
It is pointed out in the article that previous studies, especially in Afrikaans, have tended to be extremely one-sided and offensive towards the Zulus, but that later generations of writers tended to reveal empathy for the position in which the Zulu monarch Dingane found himself by the end of 1838. Furthermore, earlier Afrikaans writers tended to overlook the military sophistication of the Zulu army that participated in the battle.
Probably the biggest change in Afrikaner perspectives occurred from the 1970s onwards. Whereas previous generations of Afrikaans authors tended to ascribe the Voortrekker victory to divine intervention, latter day Afrikaans historians focused on factors of a more mundane nature. Secondly, earlier Afrikaans authors tended to interpret the outcome of the battle as a victory of Christianity over barbarism - a perspective that has now largely disappeared from Afrikaans studies.
The conclusion reached in the article is that the final word on Blood River will probably never be spoken - history is by nature a subject of changing perspectives.

Key concepts: Voortrekkers, Great Trek, Blood River, Afrikaners, Zulus, Dingane, Andries Pretorius, waggon laager, horse commando, amabutho, covenant, divine intervention, Dingaan's Day (Day of the Covenant)


 

 

************************

Die Slag van Bloedrivier1 is 'n omstrede kwessie waaroor daar al baie gepraat en geskryf is. Dit is onmoontlik om een enkele Afrikanerperspektief op die Slag van Bloedrivier te identifi seer, net soos dit moeilik is om te bepaal presies wie en wat die Afrikaner is of was. Dit is insgelyks nie moontlik om van een Zoeloeperspektief te praat nie. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die begrip Afrikaner gebruik om 'n kultuurgemeenskap met 'n gemeenskaplike taal, naamlik Afrikaans, 'n gemeenskaplike godsdiens, naamlik die Calvinisme en 'n gemeenskaplike volksgevoel te omvat. Zoeloeperspektiewe wys op die persepsies van persone wat hulle as Zoeloes beskou het en as sodanig gereken word.

Oor die jare heen het daar in die Afrikanergemeenskap 'n aantal perspektiewe op die verloop van die Slag van Bloedrivier ontstaan, 'n tyd lank algemene aanhang geniet en dan weer gekwyn. 'n Mens kan nie van een algemeen-geldende Afrikanerperspektief praat nie - nie tans nie en ook nie in die verlede nie. Die vraag kan met reg gestel word of mens hoegenaamd van 'n Afrikanerperspektief op enige kwessie kon of kan praat. Wat in hierdie artikel volg, is 'n oorsig oor vroeëre Afrikanerperspektiewe oor die Slag van Bloedrivier vervleg met kommentaar uit hedendaagse Afrikanergeledere asook met Zoeloeperspektiewe op beide die geveg en op vroeëre perspektiewe daarop.

Wat Zoeloeperspektiewe betref, is dit veel minder omvattend as Afrikanerperspektiewe gedokumenteer. Daarom is dit moeilik om veranderende perspektiewe te identifiseer. In hierdie artikel kom slegs enkele Zoeloeperspektiewe op sekere omstrede kwessies onder die loep.

 

GEBEURE VOORAF

Ten einde te verduidelik wat op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gebeur het, is dit noodsaaklik om kortliks te wys op sekere gebeure wat die geveg voorafgegaan het. Van 1835 af het etlike honderde ontevrede Boere, wat spoedig enkele duisende geword het, uit die Ooskaap getrek met die oog daarop om 'n nuwe toekoms in die Suid-Afrikaanse binneland, vry van Britse beheer, te bou. Hulle het in trekgeselskappe die noordgrens van die Kaapkolonie oorgesteek en hulle later byna almal in die noorde van wat hulle die Transgariep - vandag die Vrystaat - genoem het, bevind. Een van die trekgeselskappe daar, naamlik dié van Andries Hendrik Potgieter, is in Oktober 1836 deur 'n krygsmag van die Ndebeles van Mzilikazi aangeval. Die Voortrekkers van ouds het na die Ndebeles verwys as die Matebeles. Die Voortrekkers wat in Oktober 1836 by Vegkop deur die Ndebele aangeval is, het daarin geslaag om hulle te handhaaf en inderdaad honderde van die aanvallers dood te skiet. Hulle sukses was grotendeels te danke aan die skuiling wat hulle walaer aan hulle gebied het. Mzilikazi se krygsmag het egter al hulle vee en trekosse buitgemaak en na sy vesting by Mosega in die huidige Noordwes weggevoer (Van der Merwe 1986:45-107). Al die Voortrekkergeselskappe in die Transgariep het vervolgens saamgestaan en in respektiewelik Februarie en November 1837 twee sogenaamde strafekspedisies teen die Ndebele onderneem. Tydens albei veldtogte het die Voortrekkers hoogs mobiele perdekommando's aangewend. Albei ekspedisies was suksesvol. Die uitkoms was dat Mzilikazi noordwaarts gevlug en hom in die omgewing van Bulawayo in die huidige Zimbabwe gevestig het (Van der Merwe 1986:130-177, 190-223). Sy mag suid van die Limpoporivier was vir altyd vernietig.

Dit is insiggewend om te let op die interpretasie wat die Zoeloehistorikus J.S.M. Maphalala, wat vroeër aan die Universiteit van Zoeloeland verbonde was, aan hierdie gebeure heg. Hy skryf dat die Voortrekkers op 16 Oktober 1836 die Ndebele van Mzilikazi aangeval het en sowel duisende beeste as hulle land afgevat het nadat die Ndebele heldhaftig weerstand gebied het. Mzilikazi en sy volgelinge is in Januarie 1837 na Zimbabwe verdryf nadat die Voortrekkers hulle belangrikste vesting, wat hy Moseka noem, afgebrand het (Maphalala 1998:55).

Die vernietiging van die mag van die Ndebele in die Suid-Afrikaanse binneland is vir die doeleindes van hierdie artikel om twee redes van belang. Eerstens het 'n gesiene boer van die distrik Graaff-Reinet, Andries Pretorius, 'n gedeelte van die tweede strafekspedisie meegemaak. Twee jaar tevore het Pretorius in die Sesde Grensoorlog (1834-35) 'n kommando van 800 Graaff-Reinetse burgers teen die Xhosa aangevoer (Liebenberg 1972:573). Dit was dieselfde Pretorius wat bestem was om die Voortrekkers se aanvoerder in die Slag van Bloedrivier te word. Mens kan aanvaar dat hy waardevolle ervaring van veldtogte teen swart krygers tydens die ekspedisie teen die Ndebele opgedoen het, al was hy nie by die gevegte teenwoordig nie.

Tweedens het die Voortrekkers se verdrywing van die Ndebele uit die Oorvaalse gebied 'n besliste invloed op die latere verhoudinge tussen die Zoeloes en die Voortrekkers gehad. Mzilikazi se domein is in die winter van 1837 weer deur 'n groot Zoeloemag aangeval, met ander woorde na die eerste strafekspedisie, maar die Zoeloes kon weer nie die oorhand oor die Ndebele kry nie (Van der Merwe 1986:178-184). Die Voortrekkerleier Piet Retief het in Desember 1837 'n brief aan Dingane geskryf om hom in te lig oor die Voortrekkers se suksesvolle tweede strafekspedisie teen die Matebeles. Die sendeling Francis Owen moes die brief aan Dingane voorlees. Volgens hom het daar in die brief gestaan dat die Voortrekkers sowat 500 Matebelekrygers doodgeskiet en 3 000 beeste buitgemaak het. Hulle het self geen verliese gely nie. Dingane se eie mense het hom reeds vroeër omtrent die Voortrekker-oorwinning ingelig (Owen 1926:93). Dit was ongetwyfeld vir koning Dingane ontstellende nuus, want kort tevore was Retief self in sy hoofvesting Mgungundhlovu om hom mee te deel dat hy en sy mede-Trekkers hulle graag suid van die Tugelarivier wou vestig. Die Zoeloekoning het sekerlik aangevoel dat sy domein bedreig word (Laband 1998:24).

Retief se onderhandelinge met Dingane en die moord op hom en al die lede van sy geselskap by Mgungundhlovu op 6 Februarie 1838 is van direkte belang vir die onderwerp van hierdie artikel. Uit Zoeloegeledere het die sekretaris-generaal van Inkatha, Oscar Dhlomo, in 1988 verklaar dat die moord die aanleidende oorsaak van die slag van Bloedrivier was, want die agtergeblewe Voortrekkers het op weerwraak aangedring. Hulle het die uitdelging van Retiefhulle as 'n verraderlike daad van Dingane beskou. Aan die ander kant het die Zoeloes die Voortrekkers as berekende gronddiewe beskou wat die Zoeloes van hulle land wou kom beroof (Dhlomo 1988:19). Die tradisionele Zoeloegeneser en skrywer Credo Mutwa trek ook 'n direkte verband tussen die Retiefmoord en die Bloedriviergebeure. Hy skryf dat Zoeloes by Bloedrivier gestraf is vir die bloedbad toe Retief en sy manne op Dingane se bevel afgemaai is (Mutwa c1965:195).

Daar was ongetwyfeld wraakgevoelens gaande onder die Voortrekkers. Jan Bantjes, wat die Bloedrivierveldtog as Pretorius se sekretaris meegemaak het, het destyds oor die doel van die veldtog in sy joernaal aangeteken:

[O]m wraak te nemen, wegens den wreedaardigste en onmenselikste moord van het gewezen Hoofd der Uitgewekenen, Pieter Retief, en zyne zestig med-gezellen en de daarop gevolgde onmenselike slagting, van mannen, vrouwen en kinderen, gepleegd door DINGAAN, en zyn volk; - alsmede ter herovering der goederen en bezittingen, by die gelegenheid door hen geroofd. (Bantjes 1938:38)

Dat Bantjes reguit verklaar het dat die doel van die veldtog deels was om wraak te neem op die uitwissing van Retief en sy manne asook die Voortrekkergesinne by Bloukrans en elders, is nie verrassend nie. Dit was in alle waarskynlikheid 'n algemene gevoel onder die Voortrekkers, want talle van hulle het gesins- of familielede aan die hand van die Zoeloes verloor. Sarel Cilliers se ouer broer, Piet, was byvoorbeeld een van die slagoffers van die bloedbad (Heese & Lombard 1986:566).

Die Retiefmoord het nie net duidelik getoon dat die onderhandelinge tussen die Voortrekkers en die Zoeloes misluk het nie, maar het die gewelddadige fase in die verhoudinge tussen dié twee gemeenskappe ingelui. Die Zoeloe-aanvalle op die Trekkerlaers by die Bloukrans- en Boesmansrivier en elders aan die bolope van die Tugelarivier het in die nag, elf dae na die Retiefmoord, gevolg. Die Voortrekkers het by laasgenoemde geleentheid swaar verliese gely maar het daarin geslaag om die Zoeloeregimente af te slaan (Thom 1947:218). In April 1838 het die Trekkerleiers Potgieter en Uys 'n strafekspedisie van 347 man te perd, maar sonder waens, in Zoeloeland gelei. Hulle veldtog was 'n mislukking, want by eThaleni (Italeni) het 'n Zoeloemag van etlike duisende krygers onder leiding van Nzobo kaSobadli aan hulle swaar verliese, wat onder andere Uys en sy seun Dirkie ingesluit het, toegedien en die inval afgeslaan. Vir die Voortrekkers was dit 'n les dat dit 'n gevaarlike onderneming was om Zoeloeland sonder 'n walaer binne te val (Van der Merwe 1986:250-261; Laband 1998:27). In Augustus 1838 het die Zoeloes weer van hulle kant tot die offensief oorgegaan en die Voortrekkers drie volle dae lank by Veglaer langs die Boesmansrivier aangeval. Die Voortrekkers was verskans in 'n versterkte laer bestaande uit sowat 290 waens en het die aanval afgeslaan, al was daar net 75 mans in die laer. Dit was nou duideliker as ooit dat die sleutel tot sukses teen die Zoeloemag in die gebruik van 'n walaer geleë was (Malan 1918:334-335; Steenkamp 1920:40-43; Laband 1998:27).

Die Voortrekkers was, ten spyte van hulle sukses by Veglaer, teen September 1838 in 'n desperate posisie. In die loop van die voorafgaande reeks konfrontasies het die Zoeloes telkens groot getalle van die Voortrekkers se vee weggevoer. Boonop was die Trekkers bykans leierloos, want Retief en Uys was slagoffers van die stryd, Maritz is weens siekte oorlede en Potgieter en sy mense is terug na die Hoëveld omdat hulle in 'n toekoms in Natal gewanhoop het (Van der Merwe 1986:265-269). In die volgende maand het die Trekkers egter met blydskap verneem dat Andries Pretorius met 'n groot groep Voortrekkers na Natal onderweg was. Pretorius het in November sy trek by die Modderrivier in die Transgariep agtergelaat en hom, vergesel van sowat 60 weerbare mans, na Natal gehaas (Liebenberg 1977:14). Op 22 November het hy sy opwagting by die Trekkerlaers aan die bolope van die Tugelarivier gemaak. Dit was volgens alle aanduidings vir die Trekkers 'n heuglike oomblik. Die kerkhistorikus G.B.A. Gerdener het daaroor geskryf (1919:47): "Met die koms van Pretorius het die hele Voortrek 'n beter dag tegemoet gegaan. Toe die nag op sij donkerste was, was die daeraad nabij".

Kort na sy aankoms by die Trekkerlaers in Natal is Pretorius onbestrede verkies tot hoofkommandant van 'n strafkommando wat Zoeloeland moes binneval en moes gaan probeer om die vee van die Voortrekkers wat deur die Zoeloes weggevoer is, terug te kry (Liebenberg 1977:21). Die Zoeloes het vroeër in 1838 die Britse handelspos by Port Natal aangeval en verwoes, met die gevolg dat enkele Britse handelaars wat die aanval oorleef het, hulle by die Voortrekkers aangesluit het (Bantjes 1938:50). Dit was teen die einde van November 1838.

 

DIE VOORTREKKERS SE OFFENSIEF EN GEESTELIKE VOORBEREIDING

Aan Voortrekkerkant was hoofkommandant Pretorius onder geen illusie dat hy met 'n uiters gevaarlike onderneming besig was nie. Reeds voor sy aankoms by die Tugelarivier het die Natalse Voortrekkers besluit om nie soos Potgieter en Uys in 1837 teen die Ndebele gedoen het (met sukses) en weer in April 1838 teen die Zoeloes (met rampspoed), met 'n mobiele perdekommando alleen aan te val nie, maar om met 'n walaer Zoeloeland binne te trek. Pretorius se kommando is vergesel van sowat 64 waens, gelaai met voorrade en ammunisie. Indien die Zoeloes sou aanval, kon die waens soos by Vegkop, in 'n sirkel getrek word en as verdedigingskans of laer dien. Vanselfsprekend was die Voortrekkers se perde ook saam, want ruiters moes verkenningstogte onderneem en die perde kon gebruik word in opvolgoperasies teen die vyand. Pretorius het, soos wat die kommando dieper in Zoeloeland inbeweeg het, elke aand laer laat trek. J.H. Malan (1918:339-340) skrywe dat dit bittere ondervindinge in die verlede was wat die Voortrekkers by hierdie geleentheid oortuig het om só deeglik te werk te gaan. Hulle het aldus Malan op hierdie veldtog nie 'n enkele strop, spaartrektou of voorslag vergeet nie. Regulasies is opgestel ten einde goeie dissipline te verseker. Na die aanvang van die intog in Zoeloeland het die Voortrekkers deurentyd patrollies uitgestuur en brandwagte geplaas ten einde te verseker dat hulle nie onverhoeds gevang word nie. Die historikus F.A. van Jaarsveld (1979:46) het die veldtog 'n waagstuk genoem, want die "handjievol manne wat die offensief teen Zoeloeland geneem het" het geweet dat hulle teen 'n "geweldige oormag" te staan sou kom.

Sekerlik een van die bekendste en betekenisvolste aspekte van die Voortrekkers se intog in Zoeloeland, was die aflegging van die Gelofte op 9 Desember en die herbevestiging daarvan elke aand tot en met die Slag van Bloedrivier (Engelbrecht 1938:127, 133). Die oorsprong en inhoud van die Gelofte is nie hier ter sprake nie. Wat wel belangrik is, is dat die Gelofte waarskynlik 'n deurslaggewende invloed op die verloop van die veldtog gehad het, omdat dit die Voortrekkers met geloofskrag en selfvertroue vervul en geestelik weerbaar gemaak het.

 

ZOELOE-VOORBEREIDINGS VIR 'N KONFRONTASIE

Die literatuur in Afrikaans oor die Slag van Bloedrivier neig deurgaans om aansienlik meer aandag aan Pretorius se kommando en hulle aktiwiteite as aan die Zoeloes te gee. Dit kan deels verklaar word deur die eenvoudige feit dat daar veel meer besonderhede oor die Voortrekkerkommando as oor die Zoeloes by Bloedrivier op skrif beskikbaar is. Een gevolg van hierdie toedrag van sake is dat die neiging by Afrikaanse skrywers bestaan om die Zoeloes veralgemenend uit te beeld as bloot 'n groot oormag krygers, met skild en assegaai bewapen, wat holderstebolder en doodsveragtend op die Voortrekkerlaer by Bloedrivier afgestorm het. Hulle aanslag is na 'n hewige geveg afgeslaan en hulle het groot verliese gely. Dit was, soos die Slag van Bloedrivier op paneel 21 van die historiese fries in die Voortrekkermonument uitgebeeld word, volgens daardie siening "'n stryd tussen oerdrif en beskawing" (Grobler 2001:128; Moerdyk 1949:54).

Hierdie vereenvoudigde voorstelling gee weinig erkenning aan die hoë vlak van sofistikasie wat die krygsmag van koning Dingane gekenmerk het. Elke Zoeloekryger was volgens ouderdom lid van 'n spesifieke regiment (amabutho) wat deur 'n hiërargie van aanvoerders (indunas) gelei is. Die krygsmag as geheel het insgelyks onder 'n hiërargie van bevelvoerders gestaan. Die Zoeloe-aanvoerders aan wie Dingane in Desember 1838 die verdediging van sy koninkryk opgedra het, was volgens die Zoeloehistorikus J.S.M. Maphalala sy opperbevelvoerder Umdunankulu Ndlela Ntuli, bygestaan deur Nzobo kaSobadli (Dambuza) en Nzobo kaSobadli Ntombela (Maphalala 1998:60). Die name van Ntuli as bevelvoerder en Ntombela as onder hoofl eier word ook in Zoeloe-oorleweringe bevestig (Schoeman 1938:135). Volgens die historikus Ben Liebenberg was die aanvoerders die hoofindoenas Dambuza (Nzobo) en Mhlela (Liebenberg 1972:574).

Wanneer daar teen 'n vyandelike mag opgetree moes word, het die Zoeloes van taktieke gebruik gemaak waarin hulle krygers ervare was. Indien die terrein dit toegelaat het, sou hulle poog om die vyand te verras of in 'n hinderlaag te lok, soos wat hulle by Italeni teen die kommando van Piet Uys en Andries Hendrik Potgieter reggekry het. Indien die geveg op 'n oop terrein waar verrassing nie moontlik was nie, sou plaasvind, is die amabutho soos die kop en horings van 'n bul opgestel. Die regimente wat die twee horings gevorm het, was gewoonlik die jonger amabutho wat die vyandelike mag moes omvleuel om te verhoed dat hulle ontvlug. Die ouer, meer ervare amabutho was in die middel en moes die vyand se hoofmag aanval.

Wat bewapening betref, was die krygers van die amabutho wat die vyand moes aanval met kort steekassegaaie bewapen. Daarbenewens het hulle langwerpige skilde gehad om hulle teen die vyand se wapens te beskerm. Hierdie skilde was van beesvel en was gevolglik nie besonder effektief teen vuurwapens nie. Die skilde van elke regiment het 'n unieke kleurpatroon vertoon, wat meegebring het dat die skilde ter wille van uitkenning van die amabutho gebruik kon word. Die jonger amabutho se wapentuig was knopkieries, want daardie regimente sou eers in 'n geveg gebruik word wanneer die oorwinning beklink en die vyand se verset beëindig moes word. Wanneer 'n Zoeloekrygsmag te voet te velde trek om die vyand te konfronteer, is hulle kosvoorrade deur die izindibi of matdraers, wat nog te jonk was om te veg, aangedra. Die matdraers het volgens oorlewering gewoonlik die hoofmag op 'n afstand van sowat 'n kilometer gevolg (Maphalala 1998:60). Ngidi ka Mcikaziswa, 'n Zoeloekryger wat aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het, het jare later vertel dat daar een Zoeloeregiment, die Izitunyisa-regiment, was wat op perde gery en met gewere bewapen was. Hulle het glo die aanval gelei (Ngidi ka Mcikaziswa 1904:72). Dat daar enkele Zoeloes was wat in die geveg met gewere op die Voortrekkerlaer gevuur het, word deur Bantjes in sy joernaal (1938:63) asook deur Pretorius bevestig (1838:271).

Die vordering van Pretorius se kommando is deurentyd deur Zoeloespioene aan koning Dingane gerapporteer. Hy het na oorleg met sy raadgewers opdrag gegee dat die invallers gestuit moes word. Maphalala (1998:60) voeg by dat dit koning Dingane se belangrikste regimente was wat teen die Voortrekkers uitgestuur is.

Dit is eintlik vanselfsprekend dat die Zoeloemagte ook, net soos die Voortrekkers met die aflegging van die Gelofte gedoen het, op die vooraand van die Slag van Bloedrivier hulle geestelik gesterk het. Maphalala (1998:60) vertel dat die izinyanga zempi (spesiale oorlogsdokters) in seremonies wat sowat drie dae lank geduur het, izintelezi (oorlogsmedisyne) voorberei het wat die krygers "onoorwinlik" sou maak.

Die belangrikste aspek van die rituele voorbereiding vir die stryd was die krygers se optog na die grafte van die konings. Tydens die opmars het die krygers prysliedere aangehef, die gestorwe konings meegedeel dat hulle land in gevaar verkeer en gesmeek om die amabutho by te staan wanneer hulle die land moes verdedig. Koning Dingane het opdrag gegee dat die dreunsang van sy vader, Senzangakhona, aangehef moes word. Volgens Zoeloetradisie is die hele krygsmag deur daardie dreunsang tot dapperheid aangevuur. Terwyl die Zoeloeregimente hulle so gemotiveer het, het die getroude vroue besems heen en weer gewaai en dit saans op hulle mans wat sou gaan veg se slaapmatte geplaas in die geloof dat dit sal help om hulle veilige terugkeer te waarborg. Die vroue het hulle velrokke onderstebo aangetrek, met ander woorde met die pelskant na buite, totdat die veldtog verby was (Maphalala 1998:60).

Ngidi ka Mcikaziswa (1904:77), wat as jong krygsman aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het, het jare later ook melding gemaak van oorlogsmedisyne wat oor hulle gesprinkel is en dat Dingane hulle na die graf van koning Senzangakona gestuur het waar hulle 'n krygsdans moes uitvoer. Voorts moes hulle hul assegaaie op die ou slypklip van Senzangakona skerp maak.

 

DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER

Gebeure wat die geveg onmiddellik voorafgegaan het

Pretorius se kommando het naastenby elke dag met hulle waens Zoeloeland dieper ingetrek, terwyl verkenners te perd die omgewing bespied het ten einde te verseker dat hulle nie onverwags aangeval word nie. Op Saterdag, 15 Desember het hulle 'n sytak van die Buffelsrivier bereik, wat deur die Zoeloes die Ncomespruit genoem is en ná die geveg by die Voortrekkers as Bloedrivier bekendgestaan het. Terwyl hulle besig was om met die waens deur die rivier te trek het twee verkenners van kommandant Hans de Lange, die baasverkenner, gerapporteer dat die Zoeloehoofmag net ongeveer twintig kilometer van die laer af was (Visagie 1987:193; Thom 1949:115). Die verkenners kon duidelik verskeie regimente Zoeloekrygers onderskei (Bantjes 1938:63).

Volgens Liebenberg (1972:574) was die waens reeds deur die Ncomespruit toe die verkenners oor die Zoeloekrygers rapporteer het. Aangesien Pretorius nie met die terrein tevrede was nie, het hy beveel dat hulle na die westelike oewer moes terugkeer sodat die laer daar in 'n hoek tussen die spruit en 'n diep sloot getrek kon word. Pretorius het hierna self te perd met sowat 300 man gejaag na die plek waar die Zoeloes opgemerk is (Pretorius 1838:271; Thom 1949:116, 118). Dit het gelyk of die Zoeloes besig was om nader te kom. Met sy aankoms dáár het die hoofkommandant en sy offisiere besluit om nie dadelik aan te val nie. Dit was reeds laatmiddag en verskeie kommandolede was in alle windrigtings op patrollie uit. Hulle was boonop te min om op so 'n ruwe terrein 'n aanval te waag (Liebenberg 1977:36). Boonop was dit die volgende dag Sondag. Aangesien hulle nie die Sondag met bloedvergieting wou ontheilig nie, het Bantjes aangeteken (1938:62), sou dit beter wees om tot die Maandag te wag, al sou dit beteken dat die Zoeloes nog nader sou kom.

Terwyl Pretorius op sy patrollie uit was, is die waens deur sowat 150 man wat deur 'n aantal bediendes bygestaan is, onder leiding van laerkommandant "Rooi" Piet Moolman in 'n laer getrek (Thom 1949:116, 118). Daar bestaan weinig besonderhede oor die aard van hierdie laer. Daar bestaan geen onweerlegbare, oortuigende getuienis oor die vorm daarvan nie. Al wat bo twyfel beweer kan word, is dat die waens in posisie getrek is op die westelike wal van die Ncomespruit wat dáár ongeveer van noord na suid loop, langs 'n diep seekoegat met aan die suidekant 'n donga wat tot in die rivier gestrek en so 'n natuurlike skans teen 'n aanval gevorm het. Dit het meegebring dat die seekoegat die laer aan die oostekant en die droë donga met sy steil wande van ongeveer vier meter die laer aan die suidekant beskerm het. Die laer sou net onbelemmerd vanuit die noorde en die weste aangeval kon word. Gevolglik sou die Voortrekkers hulle verdediging daarop kon toespits.

Aangesien die posisionering van die laer sodanige groot voordele vir die Voortrekkers ingehou het, is dit geen wonder dat Pretorius vir sy keuse van 'n plek geprys is nie. Volgens J.H. Malan (1918:345) sou Pretorius uit die oogpunt van die Voortrekkers nêrens 'n beter terrein vir die geveg kon gevind het nie. Dit is ook die mening van die gesaghebbende historikus Ben Liebenberg (1977:34). Die bekende Sarel Cilliers wat aan die geveg deelgeneem het, het jare later die mening uitgespreek dat die puik keuse van die gevegsterrein aan goddelike voorsienigheid te danke was (aangehaal in Hofstede 1876:59).

Pretorius het na sy terugkeer toegesien dat die laer deeglik verskans word (Bantjes 1938:6263). Die waens is een-een agter en teenaan mekaar getrek, met in elke geval die agterste wa se disselboom onder die een voor hom se agterstel. Houtraamwerke wat veghekke genoem is, is met rieme tussen en onder die waens vasgemaak ten einde te keer dat iemand onder die waens sou kon deurkruip. Boonop is die waens stewig aan mekaar vasgebind, sodat 'n onverskrokke vyand nie 'n bres sou kon slaan deur 'n wa weg te sleep nie. Lunguza ka Mpukane, een van Dingane se krygsmanne wat aan die geveg deelgeneem het, het jare later vertel (1909:312) dat die Voortrekkers boomtakke tussen die waens ingedruk het en dat hierdie takke met osse na die laer aangesleep is. Malan (1918:346) vermeld ook dat die Voortrekkers doringtakke aan die veghekke vasgewoel het om dit nog meer ondeurdringbaar te maak. Voorts het hulle beesvelle oor die wawiele en moontlik ook oor die tentseile getrek om dit te beskerm.

Aangesien die Voortrekkers verwag het dat die Zoeloes moontlik in die nag sou aanval, het hulle lanterns aan sweepstokke vasgemaak en oral in die openinge tussen die waens gehang sodat hulle nie net die aanvallers sou kon sien nie, maar ook sou kon sien om hulle gewere te laai. Volgens Malan (1918:346) was daar vetkerse in die lanterns. Oor hierdie lanterns is daar aan Afrikanerkant heelwat geskryf. P.J. Coetser, wat aan die geveg deelgeneem het, het jare later (1925:49) beweer dat die Zoeloes van plan was om die laer reeds die aand van 15 Desember aan te val, wat agterna deur hulle bevestig is. Die lanternligte het hulle egter afgeskrik, want dit het só hoog bo die grond gehang dat die Zoeloes gedink het die Voortrekkers hou dit met towerkrag in die lug. Gerdener het in 1919 aangevoer dat die Zoeloes nie in die nag van 15 op 16 Desember aangeval het nie omdat hulle bang was vanweë die swaaiende lanterns, "wat deur hulle dowwe vetkers-ligte seker 'n uiters fantastiese indruk moet gemaak het, en in die oog van die bijgelowige heidene vir die gevreesde towermiddele van die witman aangesien is" (1919:52-53; kyk ook Cachet c1899:200). Opperman (1982:29) haal uit Zoeloe-oorlewering vir Aaron Xulu aan wat vertel dat die Zoeloekrygers, toe hulle in die loop van die nag nadergekom en die ligte van die lanterns rondom die laer gesien het, vir mekaar gesê het: "Nee, maar ons kan nie nou aanval nie want die witmense het hul Mahlozi's om hulle op te pas. Ons moet wag vir die dag".

Hierdie Afrikanermenings dat die Zoeloes die lanterns as tekenend van bonatuurlike magte beskou het, is nie vergesog nie - die historikus John Laband (1995:99) het op grond van Zoeloeoorlewering wesenlik dieselfde beweer. Aan die ander kant het J.H. Hatting (1920:189-190) hom herinner dat juis die besondere donkerte van die nag van 15 Desember die behoud van die laer was, omdat die Zoeloes as gevolg daarvan nie die laer kon opspoor nie! Die historikus F.J. du Toit Spies (1963:35) se afleiding is dat mens miskien maar moet aanneem dat sommige Zoeloes in die nagdonkerte verdwaal het, terwyl ander met vrees vir die lanternligte vervul was.

Die Voortrekkers se vernaamste wapen was hulle voorlaaiers, waarvan daar verskeie tipes was. Die Voortrekkers het ook oor grofgeskut beskik om teen die Zoeloekrygers in te span (Bantjes 1938:63). Sarel Cilliers het later aangeteken dat daar drie klein kanonnetjies was: een van geelkoper wat aan Pretorius behoort het en twee kleineres, sogenaamde drieponders (Gerdener 1919:49). Al drie hierdie kanonnetjies het soos voorlaaiers gefunksioneer en is in 'n laergeveg met lopers of soms selfs met klippe gelaai. Die kanonnetjies was op die onderstelle van perdekarre of bokwaens gemonteer en kon op 'n afstand van tot 300 meter verwoesting onder 'n dik saamgepakte vyand saai. Een van die kanonnetjies het inderdaad die vermoë gehad om 'n soliede koeël enkele kilometer ver te skiet (Laband 1995:99). Malan (1918:346) het beweer dat die Voortrekkers oor twee kanonne beskik het, 'n stelling wat 60 jaar later deur Liebenberg (1977:37) ondersteun is. Soos met talle ander besonderhede in verband met die Slag van Bloedrivier, is die warboel verklarings in verband met die kanonne teenstrydig en onmoontlik om te kontroleer (Spies 1963:33).

Een van Pretorius se grootste uitdagings tydens die geveg was die sowat 700 trekosse en 750 perde van die kommando wat binne-in die laer was. Die hoofkommandant kon dit nie waag om daardie diere buite te laat nie, want dan sou sy manne hulle nie kon beskerm nie en sou die Zoeloes hulle in alle waarskynlikheid weggevoer en die laer gestrand gelaat het. Binne in die laer self was die gevaar dat veral die osse deur die lawaai van die geveg ontsenu kon word en op loop sou gaan (Liebenberg 1977:37). Louis Nel (1939:75) wat aan Voortrekkerkant teenwoordig was, het jare later geskryf dat daar midde-in die laer 'n afskorting was waarbinne die beeste en perde bymekaar gejaag is. Dit het bestaan uit jukke en pale wat in die grond geplant is met trektoue en kettings daaromheen gespan. Hy het bygevoeg dat die stomme diere tydens die geveg so verbouereerd was dat hulle gedurig rondgemaal het en enkeles selfs ernstig beseer is. 'n Ander Voortrekkerdeelnemer, P.J. Coetser (1925:50), het geen melding van versorging van die perde en beeste gemaak nie. Inteendeel, hy dui aan dat daar verwarring en gevaar ontstaan het omdat die diere, aangesien al die skietery aanvanklik net aan die een kant van die laer was, na die ander kant gestorm het. Pretorius het toe opdrag gegee dat daar aan al die kante geskiet moes word en die diere het gevolglik verskrik in die middel van die laer saamgebondel.

Teen laatmiddag op 15 Desember is die Voortrekkerpatrollies wat nog met verkenning besig was, almal deur middel van die alarmsein, naamlik 'n kanonskoot, na die laer teruggeroep (Bantjes 1938:62-63). Teen skemeraand het daar 'n mis oor die laer toegesak (Liebenberg 1972:574). Voordat die Voortrekkers bed toe is, het hulle boekegevat. Die Zoeloekrygers wat toe al naby was, kon hoor hoe die Voortrekkers tydens hulle aandgodsdiens sing. Die historikus Gustav Preller het jare later aangeteken dat 'n hoogbejaarde Zoeloe aan hom vertel het wat hulle van die Voortrekkers gedink het: "Hulle het gesing toe dit donker word net of hulle almal saamhuil, en ons jonges het geluister daarna, en gesê: ja, sing maar julle, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie" (aangehaal in Thom 1949:129). Dit was volgens minstens twee Voortrekkers wat aan die geveg deelgeneem het, J.H. Hatting (1920:187) en W.G. Nel (1925:14), 'n mistige nag en donkermaan.

Aan Zoeloekant het krygers in die loop van die nag in doodse stilte die laer uit die suidooste genader. Dit was 'n ou gebruik dat hulle nie in die nag aanval nie, aangesien hulle mekaar dan per ongeluk kon uitwis (Maphalala 1998:61). Gevolglik het hulle tot dagbreek gewag. Die linkerhoring van die Zoeloemag bestaande uit sowat 3 000 krygers het voor dagbreek die Ncomerivier suid van die laer oorgesteek en tot aan die westekant daarvan beweeg. Kort voor dagbreek het hulle hul aanvalsposisie ingeneem. Hulle het 'n falanks van sowat 200 meter diep gevorm en die naastes het omtrent maar 160 meter van die laer af in gehurkte posisie die aanvang van die geveg afgewag. Volgens oorlewering was hulle hoogs gemotiveerd, op glorie uit en uiters goed gedissiplineerd onder bevel van hulle aanvoerders (Laband 1995:99).

Volgens Bantjes (1938:62) het Pretorius beveel dat al die kommandolede omtrent twee uur vóór dagbreek wakkergemaak moes word. Na hulle nagrus het die kommandolede hierna voortgegaan om hulle op die geveg voor te berei. Toe dit lig word en die wagte nog beswaarlik iets kon sien, het die Voortrekkers opgemerk dat die Zoeloemag besig was om nader te kom.

Kort na dagbreek op 16 Desember het die mis skielik gelig wat 'n wolklose, windlose hemel gelaat het. "Zondag, de 16e December", aldus Bantjes (1938:62), "werd voor ons als geboren; die lucht was open, het weder klaar en helder". Die bekende Sarel Cilliers, wat in die laer was, het agterna verklaar dat die Here dit so beskik het dat dit helder genoeg lig was vir hulle om akkuraat te kon skiet (De Jongh 1987:167). Vir sommige Afrikaanse historici was die feit dat die mis gelig het insgelyks 'n wonderwerk. H.B. Thom (1949:120) het dit toegeskryf aan die "Voorsienigheid."

Die aanvang van die geveg

Die Slag van Bloedrivier het kort na dagbreek op 16 Desember losgebars toe die Zoeloes die laer aangeval het. Dit was die amabutho van die linkerhoring wat eerste, nog voordat die res van die Zoeloemag in posisie was, aangeval het. In die herinneringe van Zoeloekrygers wat by die geveg teenwoordig was, is daar botsende uitsprake oor watter regimente die aanvalle uitgevoer het (Lunguza ka Mpukane 1909:312; Ngidi ka Mcikaziswa 1904:71). Kaptein Garden wie se identiteit nie bekend is nie, maar wat na die geveg met Voortrekkers onderhoude gevoer het en wie se verslag daaroor asook 'n sketskaart in die Killie Campbell-biblioteek in Durban bewaar word, beweer ook die eerste Zoeloeregimente het aangeval nog voordat Dingane se hoofmag op die slagveld was (aangehaal in Spies 1963:38). Bantjes (1938:63) het die eerste aanval as volg beskryf (vry vertaal): "Die vyand nader in volle vaart, ... hulle kom in regimente nader, elke kaptein met sy manskappe agter hom, totdat hulle ons omsingel het".

Die Voortrekkers was gereed vir die Zoeloes en het teruggeskiet. Sommige aanvallers het tot tien meter van die laer af gevorder, maar hulle kon nie, ten spyte van onverskrokke vasberadenheid, 'n bres in die verdediging slaan nie. 'n Swart wolk van kruitrook het spoedig oor die noordwestelike kant van die laer gehang soos die verdedigers met voorlaaier en kanon geskiet het. Na verskeie opeenvolgende aanvalle het die linkerhoring teruggeval. Honderde krygers was dood en tientalle het gedemoraliseerd onder hulle skilde probeer skuil of in die donga ingespring om dekking te vind (Laband 1995:100).

Eerste teenaanval

Nadat die geveg ongeveer twee uur aan die gang was, het Pretorius opdrag gegee dat die poorte of dan hekke van die laer oopgemaak moes word sodat perderuiters die vyand kon bestorm (Pretorius 1838:271). Dit was die eerste van twee of drie teenaanvalle wat die Voortrekkers tydens die geveg geloods het. Toe die perdekommando die amabutho aanval, het verskeie krygers halsoorkop op die vlug geslaan - sommige terug oor die Ncomerivier en ander na die rante in die suidweste wat later deur die Boere Vegkop genoem is. Die agtervolging is egter teen 08:00 gestaak toe Pretorius merk dat die Zoeloehoofmag, wat op daardie stadium nog steeds oos van die rivier was, gereed maak om aan te val. Boonop het die ruiters mettertyd met gedugte Zoeloeaanvalle te kampe gehad en gevolglik die veiligheid van die laer opgesoek. Na skatting het daar toe reeds sowat 500 Zoeloekrygers gesneuwel (Bantjes 1938:64-65; Laband 1995:100).

Voortgesette Zoeloe-aanvalle

Die Zoeloekrygers het hulle aanval op die laer doodsveragtelik voortgesit. Die posisie van die Voortrekkerlaer het die Zoeloe-aanvoerders raadop gehad. Die feit dat die linkerhoring se aanval afgeslaan is, het sake nie vergemaklik nie. Die regterhoring, bestaande uit die umKulutshane-en iziGulutshane-amabutho, het gevolglik tot die geveg toegetree. Pretorius het toe hy merk dat die regimente van die Zoeloes se regterhoring 'n omvleuelingsbeweging noordoos om die laer probeer uitvoer, 'n tweede teenaanval beveel. Die berede Voortrekkers het noord van die laer, van die westelike oewer van die Ncomespruit af, op die amabutho aan die oorkant geskiet. Dit het laasgenoemde wat nog nie eers tot die geveg toegetree het nie, ontwrig en gedemoraliseer. Hierdie teenaanval is, soos die eerste, beëindig toe die Zoeloes teruggeslaan en die ruiters gevolglik weer die veiligheid van die laer opgesoek het (Bantjes 1938:64-65; Laband 1995:100). Dit is moontlik dat hierdie optrede van Voortrekkerruiters teen die Zoeloes se regterhoring deel uitgemaak het van die eerste teenaanval.

In 'n onlangse taamlik gedramatiseerde beskrywing van die slag het die skrywer V.E. d'Assonville (2003:53) vertel dat die Zoeloes verder gedemoraliseer is deur die Voortrekkers se kanonvuur:

En die ander kanon? Dit word heeltemal uit die laer uitgetrek en op die sentrum van uMhlela se leermag oorkant die Ncombe gestel. En toe begin die bomme feitlik gelyktydig op die swartskilde en witskilde val. Die effek was oorweldigend: In Tambuza se agterhoede is daar konsternasie en onder uMhlela se manne is dit asof 'n stok in 'n byenes gesteek word. Hier is meteens 'n grenslose woede ontketen, veral toe twee van die Zoeloeprinse, halfbroers van Dingane dadelik gesterf het.

Kaptein Garden vermeld ook die kanonskoot wat die Zoeloeprinse getref het, maar beweer dit was drie prinse wat met een skoot getref is. Die hoofmag het volgens hom direk daarna tot die aanval oorgegaan (Aangehaal in Spies 1963:38).

Die amabutho van die hoofmag het die Ncomespruit op dieselfde plek as hulle voorgangers oorgesteek en die laer ook uit die noordweste genader. Van die tradisionele kop-enhoringsaanvalstrategie was daar nou geen sprake meer nie. Die Zoeloe-aanval het versand tot 'n ongekoördineerde warboel voordat daar sprake kon wees van enige bedreiging vir die laer. Die hoofmag, bestaande uit die beroemde uDlangezwa-en iziNyosi-amabutho, kon onder dié omstandighede niks meer doen as om bloot die regterhoring te dek nie. Daar bestaan geen twyfel dat die krygers onverskrokke op die laer afgestorm het nie. Malan (1918:347) maak gewag van die Zoeloes se "trotse, fanatieke doodsveragting" by Bloedrivier. Die verdedigers, almal veilig agter hulle verskansings in die laer, het egter die een aanval na die ander met voorlaaier- en kanonvuur afgeslaan. Die aanvallers het in toenemende chaos saamgebondel en in die proses ideale teikens vir die Voortrekkers gevorm. Teen elfuur die oggend het die amabutho geheel-enal gedemoraliseerd in wanorde begin terugval (Laband 1995:100-101).

Die verdrywing van die amabutho

Pretorius het in daardie stadium besef dat hy deur kragdadige, maar wyse optrede die oorwinning kon behaal. Hyself het nou aan die hoof van sowat 160 perderuiters uit die laer beweeg en 'n teenaanval gelei. Toe die Voortrekker-perderuiters al skietend uit die laer jaag, het die Zoeloekrygers soos een man op die vlug geslaan. Die Zoeloes het later hieroor vertel dat die berede Voortrekkers hulle soos 'n swerm perdebye geteister het. Die terugtrekking van die Zoeloemag het binne minute in 'n desperate vlugtog verander. Dit was nou 'n kwessie van elke kryger vir homself (Laband 1995:101). Malan (1918:349) glo dat Pretorius se teenaanval "die slag ongetwijfeld beslis het" - met ander woorde dat dit die keerpunt in die geveg was.

Die Zoeloehistorikus J.S.M. Mphalala (1998:61-62) ontken dat die Voortrekkers uit die laer beweeg en die Zoeloes buite die laer aangeval het. Volgens hom het Ndlela en Dambuza bloot die aanval op die laer gestaak toe hulle besef dat dit nutteloos was om met die bestorming voort te gaan.

Pretorius is tydens die agtervolging van die vlugtende Zoeloekrygers in sy linkerhand gewond en moes na die laer terugkeer sodat sy wond verpleeg kon word (Pretorius 1838:271-272; Bantjes 1938:64-65). Die ander Voortrekkerruiters het intussen hulle teenaanval voortgesit. Lunguza ka Mpukane (1909:312), een van die jong Zoeloekrygers, het agterna vertel dat die Voortrekkerruiters in groepies van vier, vyf of ses die vlugtende Zoeloes wat aanvanklik in verskeie rigtings voet in die wind geslaan het, agternagesit het. Sommige Zoeloes het in erdvarkgate en onder miershope probeer wegkruip of dan hulle koppe daar ingedruk al was die res van hulle liggame nog blootgestel. Ander het hulle onder die lyke van hulle gestorwe kamerade, waarvan daar baie was, probeer verberg. Die Voortrekkers het op hulle geskiet en volgens Lunguza soms Zoeloes wat klaar dood was, weer raakgeskiet. Ngidi ka Mcikaziswa (1904:72) het vertel dat die krygers in die donga probeer wegkruip het. Die Voortrekkers het uit die laer op hulle afgejaag. "Dit het donker geword", het hy bygevoeg, "maar dit was lig aan die Voortrekkers se kant".

Breedweg gesproke, het die Zoeloemag in twee groepe uiteengespat, met een wat noordoos langs die Ncomerivier op en die ander groep wat soos die linkerhoring vroeër die oggend, suidwaarts na Vegkop gevlug het. Die berede Voortrekkers het beide groepe agternagesit. In die noorde is die vlugtende Zoeloes tot teen die rivier gedryf. Hulle het in die riete probeer skuil en sommige het selfs in die seekoegat gespring en probeer deurswem. Die Trekkers het hulle een vir een doodgeskiet. Later het hulle vertel dat die seekoegat naderhand soos 'n poel bloed gelyk het - vandaar die naam Bloedrivier (Gerdener 1919:54; Laband 1995:101). Sarel Cilliers was volgens sy eie mededeling een van die Boere wat te voet uit die laer beweeg en op die krygers in die sloot gevuur het - waar daar volgens hom bykans 400 Zoeloes gesneuwel het (Aangehaal in De Jong 1987:168).

Die Zoeloehistorikus Maphalala (1998:62-63) ontken dat die water van die Ncomerivier soos bloed was. Hy ontken terselfdertyd dat enige deel van die geveg langs die water plaasgevind het. Volgens hom is hierdie mite geskep ten einde die Voortrekkers as 'leeus en vreeslose vegters' op te vysel.

Die berede Voortrekkers het ook die ander groep vlugtende Zoeloes agternagesit en verwoesting onder hulle gesaai. In die proses is nog dosyne Zoeloes doodgeskiet. Sarel Cilliers het op sy oudag in sy Joernaal geskryf dat die Zoeloes se lyke "bijna zoals pampoenen op de land die wel gedragen hebben" verstrooi gelê het (Gerdener 1918:54). Een groep berede Voortrekkers het selfs die Ncomerivier oorgesteek op dieselfde plek waar die Zoeloes vroeër oor is en die vlugtende amabutho suidooswaarts agtervolg. Soveel krygers het daar gesneuwel dat die Zoeloes later van daardie gebied gepraat het as die vlakte van beendere (Laband 1995:101). Ngidi ka Mcikaziswa (1904:71) was een van die Zoeloes wat vir sy lewe moes vlug. Hy het jare later vertel dat hy weggekom het omdat hy deel van 'n groot groep vlugtendes was.

Teen ongeveer twaalfuur dié dag het die agtervolgende Voortrekkerperderuiters na die laer teruggekeer. Volgens Bantjes (1938:64-65) was almal se ammunisie teen daardie tyd op. Hulle was boonop self uitgeput. Daarmee was die geveg afgelope (Laband 1995:101). 'n Zoeloedeelnemer aan die geveg het jare later hieroor vertel: "Die son het vir ons, as Zoeloes, by Ncome (Bloedrivier) ondergegaan toe die skaduwees van die berge nog hoog bo teen die hange was" (aangehaal in Schoeman 1938:135).

Pretorius het opdrag gegee dat almal dadelik hulle gewere moes skoonmaak en moes herbewapen. Dit is gedoen, en hulle het selfs met dié doel voor oë nuwe koeëls gegiet. Nadat dit afgehandel was, het Pretorius weer 'n sterk perdekommando uitgestuur om die Zoeloes sover moontlik te agtervolg. Die kommandolede kon egter nie die vlugtende Zoeloes inhaal nie en het teen die aand na die laer teruggekeer (Bantjes 1938:65-66; Liebenberg 1972:574).

Terwyl Zoeloeboodskappers die slegte tyding van hulle verpletterende nederlaag na Dingane geneem het, het die Voortrekkers die aand na die geveg in hulle laer 'n dankdiens gehou. Die historikus Gert Duvenhage (c1988:161) skryf dat dit Pretorius was wat almal byeengeroep het om God vir die oorwinning te dank, want "die oorwinning was uit Gods hand". Sarel Cilliers het die dankdiens gelei en die Here die eer vir die oorwinning gegee (De Jongh 1987:168-169).

 

NABETRAGTING

Hoe het die strydmagte opgeweeg wat getalle betref?

Oor die aantal Zoeloekrygers wat aan die geveg deelgeneem het, skrywe Bantjes (1938:63) (vry vertaal): "Ek kon hulle nie tel nie, maar iemand het gesê dat 'n gevangene Zoeloe verklaar het dat daar 36 regimente was. Op grond van die aantal regimente kan 'n mens bereken dat daar tussen nege- en tienduisend krygers was." Volgens J.H. Malan (1918:346-347) het die Zoeloemag by Bloedrivier uit tussen 10 000 en 12 000 krygers bestaan. Volgens die gesaghebbende Engelstalige historikus John Laband (1995:98) het daar tussen 12 000 en 16 000 Zoeloekrygers aan die geveg deelgeneem.

Oor die aantal persone aan Voortrekkerkant is daar weinig twyfel. Benewens Pretorius en sy adjunk, Karel Landman, was daar ses kommandante en 464 Voortrekkers. Die drie Britse handelaars in die laer was vergesel deur 60 swartes van Port Natal waarvan sommige opgeleide olifantjagters was en heel moontlik die laer help verdedig het. Laastens was daar ongeveer 130 "gekleurde" wadrywers en touleiers. Dit beteken dus dat daar sowat 660 mense aan Voortrekkerkant was (Liebenberg 1977:37).

Nóg al die Zoeloekrygers, nóg al die mense in die laer was direk by die geveg betrokke. Aan Zoeloekant is dit onder meer bekend dat die jeugdige uKhokhoti-regiment nie aan die aanval op die laer deelgeneem het nie. Lunguza ka Mpukane (1909:312-313) wat as lid van hierdie regiment by Bloedrivier was, het jare later vertel dat hulle net met knopkieries bewapen was. Dit was nutteloos teen 'n vyand wat op 'n afstand met vuurwapens geskiet het. Die uKhokhti-regiment was deel van die isibiba - oftewel die jong regimente van die krygsmag wat teruggehou is en net teen die vyand ingestuur is as die uitslag van die geveg gunstig was. By Bloedrivier het dit nooit gebeur nie. Hulle was vir die hele duur van die geveg aan die oostekant van die Ncomespruit en het eers betrokke geraak toe hulle teen die einde van die geveg saam met die ander krygers op vlug geslaan het. Ngidi ka Mcikaziswa (1904:72) vertel dat sy regiment, die Mvoko, ook nie veronderstel was om daardie dag te veg nie. Hulle is saam om ná die geveg die Voortrekkers se beeste en waens weg te voer. Die Zoeloes was skynbaar van plan om uit die yster van die waens skoffelpikke te maak. Indien 'n mens aanvaar dat 10 000 krygers en 500 man aan Voortrekkerkant wel in die een of ander stadium betrokke was, beteken dit dat die Zoeloes 'n oormag van twintig teen een gehad het.

Ongevalle aan weerskante

Die Zoeloemag het swaar verliese gely. Die dag na die geveg het die Voortrekkers in opdrag van Pretorius probeer tel hoeveel Zoeloegesneuweldes daar was. Hulle skatting was meer as 3 000 benewens diegene wat tydens die agtervolging gesneuwel het (Pretorius 1838:272; Bantjes 1938:66; Preller 1940:53). Dit is vanselfsprekend nie 'n absoluut betroubare berekening nie, maar dit word oor die algemeen deur Afrikaanse historici aanvaar (byvoorbeeld Malan 1918:351; Gerdener 1919:54; Giliomee 2004:165). Nasionalistiese Zoeloe-historici soos J.S.M. Maphalala (1998:6162) glo veel minder krygers is in die Slag van Bloedrivier dood. Hoeveel Zoeloes gewond en later aan hulle wonde dood is, is onmoontlik om te bepaal. Daar bestaan geen twyfel dat daar wel sodanige gevalle was nie. Magidi ka Ngomane (1903:81) verklaar dat sy broer Nkulukudhleni van die Dhlambedhlu-regiment by Bloedrivier gewond, huis toe gekom en gesterf het.

Geen Voortrekker het by Bloedrivier gesneuwel nie. Benewens Pretorius self, was daar twee ander gewondes. Hulle was Gerrit Raath wat op naastenby dieselfde wyse as Pretorius aangeval is en 'n gevaarlike wond in sy sy opgedoen het, asook Philip Fourie wat tydens die Zoeloes se aanval op die laer deur 'n assegaai in sy been getref is. Raath kon nie op eie stoom na die laer terugkeer nie en sy makkers moes hom op 'n katel na die laer terugdra (Bantjes 1938:65). Al drie die gewondes, Pretorius, Raath en Fourie, het van hulle wonde herstel.

Voortrekkerreaksie op die oorwinning

Toe die nuus van die Wenkommando se oorwinning op Kersdag 1838 die laers langs die bolope van die Tugelarivier naby die huidige Colenso bereik, was die Voortrekkers daar aanvanklik huiwerig om die berig te glo. Maar op 3 Januarie 1839 is alle twyfel uit die weg geruim toe 'n skriftelike verslag van Andries Pretorius self oor die verloop van die geveg die laers bereik het. Eerwaarde Erasmus Smit het onmiddellik 'n afskrif van die verslag in sy dagboek gemaak (1988:175-182) en bygevoeg: "'t Gehele leger is verheugd (en zo ik hoop ook dankbaar aan God), over al deze goede tydingen van de voorspoed der ... legermacht." Volgens Smit se biograaf, Fanie de Jongh (1977:163), was daar by die Eerwaarde geen twyfel dat die oorwinning by Bloedrivier beteken het dat die Voortrekkers Natal met die swaard van Dingane ontneem het omdat dit God se wil was.

Waarom het die Voortrekkers die oorwinning behaal?

Talle Voortrekkers en tydgenote van Voortrekkers in Afrikanergeledere asook latere Afrikaanse historici het die Voortrekkeroorwinning by Bloedrivier direk aan God toegeskrywe. In 1890 het president Paul Kruger in sy feesrede met die onthulling van die Paardekraalmonument in Krugersdorp oor die Slag van Bloedrivier verklaar: "En God gaf de overwinning over die duizenden van vijanden, en daarin werd weder Gods hand gezien" (Aangehaal in Van Oordt c1898:557). Die Transvaalse historikus N.J. Hofmeyr (1896:58) beskrywe die Slag van Bloedrivier as "een onvergankelijk monument der Boeren dapperheid". Hy het bygevoeg dat die verslag van die Wenkommando se segetog lees soos 'n hoofstuk in die Bybelboek Rigters, met Pretorius aan die voorpunt "als een Gideon met zijn klein leger van uitverkorenen - de geheele schare Boeren, gelijk de geduchten 'Ironsides van Cromwell', kan even goed bidden als vechten". Die historikus H.B. Thom het meer as 'n halwe eeu later (1949:107) oor die Bloedriviergebeure geskryf dat

'n klein klompie manne, diep onder die besef van hulle menslike swakhede en tekortkomings, maar ewe bewus van die erns van hulle taak, en vas vertrouend op die almag van die God van hul vadere, in die uur van hul bangste nood tot die Here geroep het; dat hulle met die Here 'n plegtige verbond gemaak het; dat Hy hulle smeekstem gehoor, hulle wonderbaarlik gered en hulle 'n groot oorwinning oor die enorme oormag van hulle vyande gegee het.

Vir die historikus D.J. Kotzé (1970:13) was die wonder van Bloedrivier drievoudig en totaal buite die beheer van die Voortrekkers. Dit was eerstens dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie, tweedens dat mis wat die nag voor die geveg oor die laer gehang het, met dagbreek gelig het en derdens dat dit nie tydens die geveg gereën het nie. Volgens Kotzé moet 'n mens aanvaar dat 'n Hoër Hand al drie hierdie dinge só beskik het. Dit stem ooreen met die historikus A.N. Pelzer se uitspraak in 1975 dat die oorwinning by Bloedrivier 'n "wonderwerk" was. Dit was na sy mening "nie verdienste nie - dit was louter genade, 'n bestiering, 'n beskikking" (aangehaal in Van Jaarsveld 1979:54). Die geskiedskrywer-joernalis Leopold Scholtz het tien jaar later (1985:26) 'n soortgelyke mening uitgespreek. So ook A.J.P. Opperman (1982:49). Schalk Jacobsz (1996:41) het geskryf dat daar vroeër dae by die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg 'n skildery was

wat 'n wolk bokant die laer wys met witgeklede ruiters op wit perde [waarmee hy kennelik hemelwesens bedoel] wat op die Zoeloemagte vuur. Daar is oorlewerings onder sommige Zoeloestamme dat hulle nie so bang was vir die Boere wat uit die laer op hulle gevuur het as vir die Boere met die wit klere wat uit die wolk bokant die laer op hulle geskiet het nie.

'n Latere geslag Afrikaanse historici kon hulle nie met hierdie opvattings vereenselwig nie. Ben Liebenberg, skrywer van die gesaghebbende studie Andries Pretorius in Natal, se standpunt was dat die historikus nie die hand van God by Bloedrivier moet betrek nie, maar na ander menslikverklaarbare redes vir die Voortrekkers se oorwinning moet soek. Volgens Liebenberg (1988a:4) was daar "niks wonderbaarliks of bonatuurliks" in verband met die slag van Bloedrivier nie.

Gevolglik weier hy om dit te gebruik as 'n bewys dat God hom aan die kant van die Afrikaners geskaar het. Volgens Liebenberg (1988b:30) is geen historikus in staat om die hand van God in die gebeure in die verlede te bepaal nie. "Van God se gedagtes, motiewe en optrede weet hy niks nie. Dit val buite sy studieveld en buite sy kenvermoë." Op die keper beskou, is geskiedenis bloot 'n verslag van die vergange werklikheid. Geen historikus is sy sout werd as hy nie in sy verklaring van die gebeure alle moontlike getuienis oorweeg om tot 'n billike gevolgtrekking te kom nie. Hy kan nie in moeilike gevalle bloot aanvoer dat goddelike ingryping tot 'n sekere uitslag gelei het nie (Van Jaarsveld 1979:54-55; kyk ook De Jong 1987:169-170).

Wat Bloedrivier betref, het Liebenberg gelyk - geen historikus kan met oortuiging verklaar dat die hand van God hier duidelik sigbaar is nie. Terselfdertyd kan geen historikus ontken dat die hand van God moontlik wel teenwoordig kon gewees het nie, want die weë van God is aan geen mens bekend nie. Talle van die Voortrekkers wat op 16 Desember 1838 by Bloedrivier geveg het, was daar oortuig van dat God aan hulle kant was. Die gelofte het hulle besiel en hulle in hul vasberadenheid gesterk. Dit was waarskynlik een van die belangrikste redes vir die Voortrekkeroorwinning. Ook die historikus C.F.J. Muller (1980:169) is hiervan oortuig. F.A. van Jaarsveld (1979:54) beskou die Voortrekkers se "motivering deur die gelofte" as een van die belangrikste redes vir hulle oorwinning.

Liebenberg gee die volgende redes vir die Voortrekkeroorwinning aan, naamlik die oormag van die vuurwapen bo die assegaai, die beskerming wat die versterkte laer aan die verdedigers gebied het, die gunstige ligging van die walaer wat so geplaas was dat dit net uit twee rigtings onbelemmerd aangeval kon word, die mooi sonskyndag wat beteken het dat die Voortrekkers nie met klam kruit sou moes sukkel nie en die vasberadenheid van die Voortrekkers (Aangehaal in Van Jaarsveld 1979:54). Van Jaarsveld (1979:54) het nog 'n rede bygevoeg, naamlik "die bekwaamheid en die besieling van 'n eersteklas militêre aanvoerder, Andries Pretorius". Hedendaagse Afrikaanse historici beaam dit. Johannes du Bruyn (1986:134) skryf: "Die groot oorwinning wat die Voortrekkers ... met die slag van Bloedrivier behaal het, kan hoofsaaklik toegeskryf word aan Pretorius se krygsvernuf, deeglike voorbereidsels en optimisme." Hermann Giliomee (2004:124) noem Pretorius 'n briljante militêre strateeg en organiseerder. Henning van Aswegen (1989:278) is huiwerig om standpunt in te neem en skryf bloot dat die Voortrekkers se "deeglike militêre voorbereidings" en "volgehoue geweervuur" vir die Zoeloes te veel was.

Afrikaanse historici wys in hulle ontledings 'n hele aantal flaters in die Zoeloes se optrede uit wat tot hulle nederlaag by Bloedrivier aanleiding gegee het. Het die Zoeloes byvoorbeeld 'n fatale fout gemaak deur Pretorius se kommando juis by Bloedrivier aan te val? J.H. Malan (1918:345) was hierdie mening toegedaan. Na sy mening moes die Zoeloes gewag het totdat die verdere planne van die Voortrekkers ontwikkel het en hulle 'n beter plek kon kies waar hulle dan tot die aanval kon oorgaan. Wat by Bloedrivier gebeur het, was dat die Zoeloes hulle by die Voortrekkers se keuse moes neerlê. Malan spekuleer dat hulle miskien nie genoeg voedsel gehad het om die aanvang van die geveg onbepaald uit te stel nie. Of miskien het die Zoeloe-aanvoerders se geduld bloot opgeraak. Hulle het nietemin 'n onherstelbare flater begaan om die Voortrekkerlaer by Bloedrivier aan te val. Dit was volgens Malan hulle ondergang.

Volgens A.N. Pelzer (aangehaal in Van Jaarsveld 1979:54) het die Zoeloes drie foute gemaak wat tot die nederlaag gelei het. Eerstens het hulle nie hul tradisionele krygstaktiek van die "oskopformasie" toegepas nie. Tweedens het hulle die laer in sarsies bestorm en nie in een groot massa aangeval en bly aanval nie. En derdens het hulle nie in die donker, maanlose nag wat die geveg voorafgegaan het, aangeval nie, maar gewag totdat dit lig was en die Voortrekkers dus kon sien om raak te skiet.

 

BETEKENIS VAN DIE VOORTREKKEROORWINNING

Die algemene opinie onder Afrikaners, soos verwoord deur Ben Liebenberg (1972:574), is dat hierdie slag nie alleen een van die skitterendste prestasies in die militêre geskiedenis van die Afrikaners is nie, maar as die groot lewensverlies van die vyand in ag geneem word, is dit moontlik die grootste enkele slag wat nog op Suid-Afrikaanse bodem geveg is. Benewens organiseerder en mensekenner, het Pretorius hom in die slag ook as skitterende strateeg bewys. As die held van Bloedrivier het hy feitlik oornag beroemd geword - en só sy naam in die Afrikanergeskiedenis bevestig.

Al was dit 'n merkwaardige oorwinning het die Voortrekkers self asook latere Afrikaanse historici besef dat die krygsmag van die Zoeloes nie by Bloedrivier verbreek is nie. Dit was eers in 1879, met die Slag van Ulundi, dat die Britte die Zoeloemag finaal geknak het. Volgens G.D. Scholtz (1970:370) het die Voortrekkeroorwinning by Bloedrivier selfs nie eens beteken dat koning Dingane se mag verbreek is nie. Mens kan bloot aanvoer dat Bloedrivier die begin van die einde vir Dingane was. Giliomee (2004:124) se interpretasie is dat die nederlaag Dingane se mag 'n nekslag toegedien het.

Die betekenis van Bloedrivier kan in drie punte saamgevat word:

Militêr: Dingane se aansien is finaal geknou. Hy was volgens Zoeloe-oorlewering nooit 'n gewilde vors nie - moontlik omdat hy by die moord op koning Tsjaka betrokke was (Schoeman 1938:135; Mutwa c1965:190). Die nederlaag by Bloedrivier het spoedig middelpuntvliedende kragte ontketen wat gedreig het om die Zoeloeryk uitmekaar te skeur. Inderdaad het Dingane se halfbroer, Mpande, in 1839 met 'n groot gevolg van die koninkryk weggebreek en in Januarie 1840 die leeue-aandeel in die fi nale vernietiging van Dingane se mag in die Slag van die Makonko-koppe gehad (Liebenberg 1977:8081). Mpande, wat die Voortrekkers goedgesind was, het vervolgens die Zoeloekoning geword. Die "Afrikaner" en die Zoeloe het nooit weer werklik kragte gemeet nie.

Polities: Die Groot Trek is in die oë van die Trekkers self, asook van latere geslagte Afrikaners daardeur van ondergang gered. Die kerkhistorikus S.P. Engelbrecht het byvoorbeeld geskryf (1938:133): "As Dingaansdag nie plaasgevind het nie, sou die Trek 'n mislukking geword het, en dan sou die Hollands-Afrikaanse nasie ten gronde gegaan het". Mens kan maar net dink wat die gevolg sou wees as Pretorius se kommando by Bloedrivier oorwin en uitgewis is. Maar, soos G.D. Scholtz verduidelik het (1970:370), het die oorwinning by Bloedrivier die Voortrekkers in staat gestel om hulle lang gekoesterde ideaal van 'n eie staat op Suid-Afrikaanse bodem te verwesenlik. Boonop het die nuus van die Voortrekkeroorwinning spoedig die Kaapkolonie bereik en nog enkele duisende agternatrekkers geïnspireer om die Kaapkolonie te verlaat en hulle by die Voortrekkers aan te sluit en so tot die uiteindelike sukses van die Groot Trek by te dra.

Godsdienstig: Die Gelofte en herdenkingsgeleenthede het, alhoewel soms omstrede, mettertyd deel van die Afrikanerkultuur geword. C.F.J. Muller (1980:169) se mening in hierdie verband was dat met Geloftedag 'n "nuwe, blywende, Afrikanertradisie geskep [is] wat baie lank na die vroeë negentiende eeu sou voortlewe".

Vroeë Afrikaanse skrywers het in hulle interpretasie van die betekenis van die Slag van Bloedrivier nog 'n element betrek. J. H. Malan (1918:347) het byvoorbeeld geskryf dat daar by Bloedrivier bepaal is wie die oorhand in die ganse Suid-Afrika sou kry: "barbaarse dierlikheid" of "die witman sij beskawing, menslikheid, karakter en edele trekke." G.B.A. Gerdener (1919:55) was 'n soortgelyke mening toegedaan: Bloedrivier was merkwaardig "omdat in daardie oorwinning die waarborg gegee is van die suprioriteit van reg oor mag, van waarheid en regvaardigheid oor valsheid en verraad". Vir Gerdener was dit meer as 'n veldslag tussen Afrikaner en Zoeloe: dit was 'n botsing "tussen Vrijheid en Verdrukking" en het die bedreiging van 'n "barbaarse oorheersing" oor Suid-Afrika afgeweer. Ds J.D. Kestell (1920:103) het dit só gestel: met Dingane se nederlaag by Bloedrivier "het ook die despotisme van die barbaredom in hierdie land te gronde gegaan". Hierdie gedateerde, blanksentriese interpretasie word vanselfsprekend vandag nie meer deur erkende historici in Afrikanergeledere gehuldig nie.

 

ZOELOE-INTERPRETASIES VAN DIE BETEKENIS VAN DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER

Die Zoeloe-historikus J.S.M. Maphalala (1998:54-55) beskou die Slag van Bloedrivier as maar net een van die menigte botsings van inheemse inwoners van Afrika teen invallers uit Europa. Dit was na sy mening 'n direkte gevolg van die inval van die Hollanders in die Kaap in 1652, gevolg deur die inval van die Britte in 1806. Die Groot Trek was 'n integrerende onderdeel van die oorkoepelende skema van Europese kolonialisme en imperialisme wat in 1652 in Suid-Afrika 'n aanvang geneem het, maar vroeër reeds elders in Afrika.

In 'n artikel wat in 1938 gepubliseer is, vermeld P.J. Schoeman (1938:135) 'n addisionele Zoeloe-interpretasie van die Bloedriviergebeure. Hy het naamlik opgeteken dat bejaarde Zoeloes vroeër aan hom vertel het dat koning Tsjaka op die dag toe hy deur Dingane en sy halfbroer Mhlangana vermoor is, net voor hy sy laaste asem uitgeblaas het, uitgeroep het: "My broers, dink julle jul gaan die land regeer as ek weg is? ... Nie julle nie, my broers, maar daardie blankes sal die land regeer". Met Tsjaka se profesie in gedagte, het Schoeman se informante verklaar Bloedrivier "is maar een van die driwwe op die groot paaie van die blankes wat Tsjaka sien kom het".

 

SLOTOPMERKINGS

Oor die werklike gebeurde in verband met die aanloop tot en verloop van die Slag van Bloedrivier is daar weinig meningsverkil tussen Afrikanerhistorici. Die klaarblyklike rede vir hierdie stand van sake is dat daar sedert ongeveer 1930 weinig nuwe, onbenutte bronne oor die gebeure na vore gekom het. Die dispuut of nimmereindigende gesprek oor Bloedrivier gaan oor interpretasie. Daar is veral twee groot verskille tussen hoofsaaklik ouere en meer resente Afrikanerhistorici se interpretasies:

• Die oueres is geneig om koning Dingane van die Zoeloes as 'n "wrede en skelme" barbaar te beskrywe (byvoorbeeld De Villiers 1938:17), maar meer resente historici soos Liebenberg en Van Aswegen het empatie met Dingane as 'n Zoeloenasionalis wat in 'n hoek gedryf was.

• Die hele kwessie van goddelike ingryping. Ouer historici was geneig om die Voortrekkeroorwinning aan die ingryping van God toe te skryf, terwyl resente historici glo daar is oorgenoeg redes waarom die Voortrekkers bykans vanselfsprekend die oorwinning by Bloedrivier behaal het.

Wat Zoeloe-intrepretasies betref, is die situasie dat daar nog geen indringende studie van die Slag van Bloedrivier deur 'n Zoeloehistorikus die lig gesien het nie. Maphalala word in sy interpretasie in 'n mate deur sy Zoeloepatriotisme en vyandigheid teenoor die "Boere" verblind. Nuwe interpretasies oor die Slag van Bloedrivier sal kom en gaan en die diskussie sal voortgaan. Die Geskiedenis kan beswaarlik die aller woord spreek.

 

BIBLIOGRAFIE

Bantjes, J.G. 1938. Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838 (Byvoegsel tot De Zuid-Afrikaan [Januarie - Februarie 1839]), in Preller, G.S. (red.), Voortrekkermense VI, 'n Versameling Oorspronklike Dokumente uit die Voortrek 1838-1852. Kaapstad et.al.: Nasionale Pers, Beperk.         [ Links ]

Cachet, F.L. c1899. De Worstelstrijd der Transvalers aan het Volk van Nederland Verhaalt. Amsterdam: Höveker & Wormser.         [ Links ]

Coetser, P.J. 1925. Herinneringe van Philippus Jeremias Coetser, in Preller, G.S. (red.), Voortrekkermense IV. Dokumente uit die Geskiedenis van die Voortrek. Kaapstad et.al.: Nasionale Pers, Beperk.         [ Links ]

D'Assonville, V.E. 2003. Bloedrivier. Pretoria: Marnix.         [ Links ]

De Jongh, P.S. 1977. Die Lewe van Erasmus Smit. Kaapstad: HAUM.         [ Links ]

De Jongh, P.S. 1987. Sarel Cilliers, 'n biografie oor die Voortrekkerfiguur Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

De Villiers, D.J.J. 1938. Die Groot Trek - 'n oorsig. Die Huisgenoot, Gedenkuitgawe, Desember 1938: 15, 17.         [ Links ]

Dhlomo, O.D. 1988. A Zulu perspective of the Battle of Blood River. The Daily News, 21 January 1988, p. 19.         [ Links ]

Du Bruyn, J.T. 1986. Die Groot Trek. In Cameron, T. (hoofred.), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Duvenhage, G.D.J. c1988. Die Groot Trek : die eerste drie jaar. Deel 3, 1838 - die Gelofte. Pretoria: Die Afrikanervolkswag.         [ Links ]

Engelbrecht, S.P. 1938. Die Gelofte. Die Huisgenoot, Gedenkuitgawe, Desember 1938: 127, 133.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1919. Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag. Lewenskets van die Grote Voortrekker. Kaapstad: Samuel Griffiths.         [ Links ]

Gledhill, E. & J. 1980. In the Steps of Piet Retief. Cape Town et. al.: Human & Rousseau.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grobler, J. 2001. Ontdek die Voortrekkermonument Discover the Voortrekker Monument. Pretoria: Grourie Entrepreneurs.         [ Links ]

Hatting, J.H. 1920. Herinneringe van J.H. Hatting. In Preller, G.S. (red.), Voortrekkermense I, 'n Vijftal oorspronkelike Dokumente oor die Geskiedenis van die Voortrek, met aantekeninge en bijlaë. 2de druk, Kaapstad et.al.: De Nationale Pers, Beperkt.         [ Links ]

Heese, J.A. & Lombard, R.T.J., Suid-Afrikaanse Geslagsregisters Deel I A - C. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1986.         [ Links ]

Hofmeyr, N.J. 1896. De Afrikaner-Boer en de Jameson-Inval. Kaapstad & Amsterdam: Jacques Dusseau & Co.         [ Links ]

Hofstede, H.J. 1876. Geschiedenis van den Oranje-Vrystaat, in verband met eene korte geschiedenis der aangrenzende kolonien, vooral der Kaapkolonie, volgens bezworen verklaringen der Voortrekkers, en de archieven, documenten en proclamatien, met schetsen en kaarten opgeluisterd. 's Gravenhage: D.A. Thieme.         [ Links ]

Jacobsz, S.W. 1996. Die Verbond van Bloedrivier. Mosselbaai: Libanon-uitgewers.         [ Links ]

Kestell, J.D. 1920. Die Voortrekkers. 'n Kort Geskiedverhaal. Pretoria & Amsterdam: J.H. de Bussy (Tweede Uitgawe).         [ Links ]

Kotzé, D.J. 1970. Die wonder van Bloedrivier. Die Huisgenoot, 18 Desember 1970, p. 13.         [ Links ]

Laband, J. 1995. Rope of Sand. The rise and fall of the Zulu Kingdom in the Nineteenth Century. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Laband, J. 1998. The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome. In Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa.         [ Links ]

Liebenberg, B.J. 1972. Pretorius, Andries Wilhelmus Jacobus. In De Kock, W.J. & Krüger, D.W. (reds.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel II. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.         [ Links ]

Liebenberg, B.J. 1977. Andries Pretorius in Natal. Pretoria & Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Liebenberg, B.J. 1988a. Bloedrivier was nie 'n wonderwerk. In Beeld, 23 Januarie 1988, p 4.         [ Links ]

Liebenberg, B.J. 1988b. Bloedrivier-mites. Brief in Rapport, 28 Februarie 1988, p 30.         [ Links ]

Lunguza ka Mpukane. 1909. Persoonlike mededeling, James Stuart Archives of recorded oral evidence relating to the history of the Zulu and neighbouring peoples, Vol 1, pp 297-353.         [ Links ]

Malan, J.H. 1918. Boer en Barbaar, of die Geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-1840 en verder van die Kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het. Bloemfontein: De Nationale Pers, Beperkt.         [ Links ]

Maphalala, J.S.M. 1998. The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838. In Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa.         [ Links ]

Maylam, P. 1986. A History of the African People of South Africa: from the Early Iron Age to the 1970s. London: Croom Helm.         [ Links ]

Moerdyk, G. 1949. Die Voortrekkermonument, in Amptelike Program en Gedenkboek van die Fees ter Inwyding van die Voortrekkermonument 13 tot 16 Desember 1949. Johannesburg: Voortrekkerpers vir Voortrekkermonument-inwydingskomitee, pp 43-55.         [ Links ]

Muller, C.F.J. 1980. Die Groot Trek-Tydperk, 1834-1854. In Muller, C.F.J. (red.), Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Derde hersiene uitgawe, Pretoria et. al.: Academica.         [ Links ]

Mutwa, C.V. c1965. My People. The Incredible Writings of Credo Vusa'mazulu Mutwa. Johannesburg: Blue Crane Books.         [ Links ]

Nel, L.J. 1939. Uit die Voortrekkertyd. Herinneringe van Louis Jacobus Nel. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Nel, W.G. 1925. Herinneringe van Willem Gabriël Nel. In Preller, G.S. (red.), Voortrekkermense IV. Dokumente uit die Geskiedenis van die Voortrek. Kaapstad et.al.: Nasionale Pers, Beperk.         [ Links ]

Ngidi ka Mcikaziswa. 1904. Persoonlike mededeling, James Stuart Archives of recorded oral evidence relating to the history of the Zulu and neighbouring peoples, Vol 5, pp 28-115.         [ Links ]

Opperman, A.J.P. 1982. Die Slag van Bloedrivier. Roodepoort: CUM-Boeke.         [ Links ]

Owen, F. 1926. The Diary of the Rev. Francis Owen, M.A. Missionary with Dingaan in 1837-38. Together with extracts from the writings of the interpreters in Zulu, Messrs Hulley and Kirkman. Edited by Sir Geo E. Cory. Cape Town: The Van Riebeeck Society.         [ Links ]

Preller, G.S. 1940. Andries Pretorius. Lewensbeskrywing van die Voortrekker Kommandant-Generaal. Tweede, Verbeterde en Vermeerderde Uitgaaf. Johannesburg: Die Afrikaanse Pers Beperk.         [ Links ]

Pretorius, A.W.J. 1838. Brief [aan Redakteur, Zuid-Afrikaan], Unkunkinglove [sic], 1838.12.23, [gepubliseer in] Notule van die Natalse Volksraad (volledig met alle bylae daarby) (1838-1845) (Suid-Afrikaanse Argiefstukke Natal No 1). Afgeskryf, toegelig en persklaar gemaak deur J.H. Breytenbach. Parow: Vir Staatsdrukker deur Cape Times Ltd. gedruk [geen datum].

Schoeman, P.J. 1938. Wat die Zoeloes Vertel. Die Huisgenoot, Gedenkuitgawe, Desember 1938: 135.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1970. Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner Deel II 1806-1854. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scholtz, L. 1984. Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne. Kaapstad: Rubicon-pers.         [ Links ]

Smit, E. 1988. Joernaal van 'n trek. Uit die dagboek van Erasmus Smit. Geredigeer deur G.S. Preller, ingelei en versorg deur Merwe Scholtz. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Spies, F.J. du T. 1963. Bloedrivier: 'n ondersoek na die werklike feite. Standpunte 49, jaargang 17(1): 26-41.         [ Links ]

Steenkamp, A. 1920. Gedenkskrif. In Preller, G.S. (red.). Voortrekkermense II. Kaapstad: De Nationale Pers, Beperkt.         [ Links ]

Thom, H.B. 1938. Bloedrivier. Die Huisgenoot, Gedenkuitgawe, Desember 1938: 128-129, 131, 133.         [ Links ]

Thom, H.B. 1947. Die Lewe van Gert Maritz. Kaapstad: Nasionale Pers, Beperk.         [ Links ]

Thom, H.B. 1949. Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van Aswegen, H. 1989. Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854. Pretoria, Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J. 1986. Die Matebeles en die Voortrekkers. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 49 (II). Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Van Jaarsveld, F.A. 1979. Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Oordt, J.F. c1898. Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. Amsterdam: Hollandsch Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij.         [ Links ]

Visagie, J.C. 1987. 'De Lange, Jan Hendrik', in SABW V, pp 192-194.         [ Links ]

 

 

JACKIE GROBLER is 'n senior lektor in die departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria. Hy lê hom toe op studies van aspekte van die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap asook herdenking en herinnering, en sy passie is die popularisering van geskiedenis. Vyf boeke, verskeie vakwetenskaplike asook populêre artikels, bydraes in boeke en resensies het reeds uit sy pen verskyn. Hy spreek gereeld openbare verenigings, skool- en ander jeuggroepe oor historiese onderwerpe toe en het al by verskeie akademiese konferensies in Suid-Afrika asook in die buiteland referate gelewer.
JACKIE GROBLER
is a senior lecturer in the department of Historical and Heritage Studies at the University of Pretoria. His areas of specialisation are aspects of the history of the Afrikaner community as well as commemoration and remembrance, his passion the popularisation of history. He has written five books, numerous academic as well as popular articles, book contributions and book reviews. He often gives talks on historical topics to public societies, to schools and to youth groups. He has presented numerous papers at academic conferences both in South Africa and overseas.

 

 

1 Hierdie artikel is oorspronklik in die vorm van 'n referaat voorgedra by 'n konferensie van die Erfenisstigting oor die Groot Trek, Pretoria, 13 Oktober 2006.