SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue3Meaningfulness as experienced by a group of South AfricansFranchisees' level of satisfaction with the opportunities and threats of franchising author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.50 no.3 Pretoria Sept. 2010

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Die afrikaner se belewing van transformasie en nasiebou in 'n postapartheid Suid-Afrika

     

    The afrikaner's experience of transformation and nation building in post apartheid South Africa

     

     

    JP van der Merwe

    Departement Antropologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. jvdm@motheo.co.za

     

     


    OPSOMMING

    Baie Afrikaners ervaar nasiebou en transformasie traumaties. Vir hulle is dit omgekeerde rassisme en blatante diskriminasie.
    Op die oog af het Suid-Afrikaners sedert 1994 (en moontlik selfs al vanaf 1990) vordering met spontane nasiewording gemaak. Die verdwyning van gedwonge rasseskeiding, die vreedsame oorgang na demokratiese regering, President Nelson Mandela se versoeningspogings en die prestasies van nasionale sportspanne het alles hiertoe bygedra. Desnieteenstaande is die ANC na sestien jaar van regeer nog steeds vasbeslote om nasiebou van bo af op sentralistiese wyse, te dryf. Die rede, wil 'n mens aflei, is dat die natuurlike roete veels te lank sal duur en dat sukses nie noodwendig verseker is nie.
    Professor Francois Venter, oudvoorsitter van die Afrikanerbond, meld dat die uiteinde van hierdie transformasie en nasiebou inisiatiewe is dat daar vandag onder Afrikaners, en veral denkende Afrikaners, 'n wydlopende kulturele malaise is, wat manifesteer in onttrekking, politieke onbetrokkenheid, swartgalligheid, sinisme, en so meer.
    In hierdie artikel word die voorspelling gemaak, dat ondanks al hierdie moontlike bedreigings van transformasie, Afrikaner-etnisiteit oor die volgende tien jaar baie sterk na vore gaan tree. Die ironie is dat dit juis hierdie geforseerde prosesse van nasiebou en transformasie is wat opnuut weer momentum aan Afrikaners gee om hulle kultuurinhoud en -waardes as 'n kleinood op te pas en te beskerm. Die feit dat die ANC-regering voortdurend in nuwe wetgewing bly fokus op Afrikaners se eksterne identiteitselemente (soos byvoorbeeld velkleur) laat Afrikaners basies met geen ander keuse nie as om 'n samehorigheidsgevoel te ervaar en te ontwikkel.

    Trefwoorde: Transformasie, nasiebou, Afrikaner, postapartheid, nuwe begin, leierskap, kultuur, enkulturasie, akkulturasie, nuwe Suid-Afrika


    ABSTRACT

    In terms of their numbers, Afrikaners have always been in the minority in their locality (South Africa). During the apartheid years, Afrikaners were the dominant role-players in South Africa, and they created rigid legislation that was stringently prescriptive with respect to the other peoples who inhabited South Africa alongside of them (Slabbert 1999:61-63). In many respects, this legislation was discriminatory and degrading (Du Preez 2000:20). In post apartheid South Africa, Afrikaners have lost their dominance in government; and, moreover, their status was diminished, virtually overnight, to that of a minority group within their locality (Slabbert 1999:104). Afrikaners were thus necessarily constrained to make certain adjustments very rapidly in a post apartheid South Africa. Now that they have a full-blown minority status in the new South Africa, Afrikaners are being confronted with the realities of nation building and transformation.
    Outwardly, South Africans appear to have made progress since 1994 (and possibly even since 1990), in spontaneously becoming a nation The disappearance of forced racial separation, the peaceful transition to a democratic government, President Nelson Mandela's reconciliation efforts and the achievements of national sports teams all contributed towards this progress. Notwithstanding these positive developments, the ANC government remains determined to drive nation building from above, in a centralistic manner (Scholtz 1999:6). One is tempted to infer that the reason for this is that the natural route would take far too long to follow, and that success is not guaranteed.
    Although the ANC-in-government has adopted a more accommodating attitude towards nationhood, according to Geldenhuys (2000:13), a strong Jacobinical tendency already seems to have become discernible in this regard. Thus, an ANC discussion document of 1997 refers to the "identity of the South African nation in the making". What is needed - so it is claimed - "is a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society". In the same vein, reference is also made to "a process of building an African nation" and "our Africanness as a nation" (Venter 1999b:22).
    The nation building and transformation process has been, and continues to be, a traumatic one for Afrikaners (Van der Merwe 2010:197-199). Many elements of nation building are experienced by them as reverse racism and blatant discrimination. As a result of the fact that the ANC government persists in building racial labels into its legislation, Afrikaners have developed an aversion to nation building, since the racial labelling is primarily aimed at placing white people in South Africa, and specifically Afrikaners, at a disadvantage, regardless of the fi ne words and noble motives contained in the South African Constitution.
    Despite all of these possible threats that nation building and transformation may hold for the Afrikaner, I would like to make the prediction that Afrikaner ethnicity - notwithstanding the "total onslaught" of nation building and transformation - will come very strongly to the fore in the course of the next ten years. The irony is that it is precisely this process of nation building and transformation that will offer renewed momentum and motivation to Afrikaners to look after and protect their cultural content and values as a precious treasure. The fact that the government continually persists in focusing on the external identity elements of Afrikaners (such as skin colour) in new legislation, leaves Afrikaners with no other choice than to develop a sense of solidarity. The government continues to single out white people in general, and Afrikaners in particular, as people who cannot really be "Africans", or who are not like the rest of the rainbow nation (Buys 2004:15, Slabbert 2006:57-63 and Venter 2004). The rest of the South African peoples are unconditionally considered by the ANC government to be part of the rainbow nation. It is only white people, and in particular Afrikaners, who are first required to carry out penance and to make sacrifices before they can be regarded as part of the rainbow nation (Bornman 2005:366-389). By means of this approach, the ANC government, with its "nation building" initiatives, is in fact achieving the opposite of what is purportedly intended.

    Keywords: Transformation, nation building, Afrikaner, post apartheid, new beginning, leadership, culture, acculturation, New South Africa


     

     

    Die strategiese briljantheid van die begrip 'transformasie' lê daarin dat weerstand daarteen met min moeite afgemaak kan word as moreel verwerplik: Hy wat transformasie teenstaan, so word geargumenteer, veg vir die behoud van onregverdig verkreë voorregte en vir die voortgesette agtergeblewenheid van swart Suid-Afrikaners wat wêreldwyd erken word as die slagoffers van gevoellose wit brutaliteit.

    Van Zyl Slabbert (2006:20-26)

     

    INLEIDING

    Die herstrukturering en transformasie van die breër Suid-Afrikaanse samelewing wat sedert 19941 in volle swang is, het tot dusvêr ingrypende veranderinge vir die Afrikaner2 teweeg gebring. Afrikaners was getalsgewys nog altyd die minderheid in hulle lokaliteit (Suid-Afrika). In die apartheidsjare was Afrikaners die dominante rolspelers in Suid-Afrika en het hulle rigiede wetgewing daargestel wat streng voorskriftelik was teenoor die ander volkere wat saam met hulle in Suid-Afrika gewoon het (Slabbert 1999:61-63). Hierdie wetgewing was in vele opsigte diskriminerend en vernederend (Du Preez 2000:20). In postapartheid Suid-Afrika het Afrikaners hul regeringsdominansie verloor, en is hulle status feitlik oornag verlaag tot dié van 'n minderheidsgroep binne hulle lokaliteit (Slabbert 1999:104). Afrikaners moes dus noodwendig in 'n postapartheid Suid-Afrika baie vinnig sekere aanpassings maak. Afrikaners wat nou in Suid-Afrika 'n volwaardige minderheid status het, word verder ook gekonfronteer met die realiteite van nasiebou en transformasie.

    Nasiebou, soos dit tans deur die ANC-regering geformuleer en in werking gestel word, beteken in die praktyk vir Afrikaners gedwonge akkulturasie. Albert Venter (1999b:22-38) meld dat bykans alle regerings, veral dié in heterogene samelewings in ontwikkelende lande, groot waarde heg aan nasionale eenheid en lojaliteit. Hulle beskou die nasie nie as die blote somtotaal van die burgers nie, maar as 'n groep mense saamgebind deur 'n gedeelde patriotisme. In ontwikkelende state word geglo dat so 'n nasionale eenheid noodsaaklik is vir sosio-ekonomiese vooruitgang, iets wat 'n nasionale poging verg. Sodanige sentimente word voorts beskou as 'n teenvoeter vir verdelende groepslojaliteite wat die politieke stabiliteit en selfs territoriale integriteit van die staat kan bedreig. Waar patriotisme ontbreek of gebrekkig is, wend die betrokke regeerders hulle tot die skep van 'n nasionale lojaliteit deur allerlei inisiatiewe van owerheidskant. Hierdie soort oorwegings geld tans by Suid-Afrika se nasiebouers.

    Venter (1999a:8) en Geldenhuys (2004:14) wys daarop dat daar in die geval van Afrikaners 'n bykomende historiese faktor is. Die ANC is onwrikbaar verbind tot die uitwissing van die erfenis van apartheid. Die landsvlag het verander, die volkslied het verander, standbeelde is verwyder, plekname is verander, die nasionale sportembleem het verander, die samestelling van sportspanne het verander, regstellende aksie is van stapel gestuur - alles volgens die ANC se voorskrifte ter wille van nasiebou (Slabbert 2006:48-51).

    Die ANC se beskouings oor nasieskap het reeds tydens sy ballingskap sterk Jakobynse3 elemente bevat. So het Oliver Tambo by geleentheid verklaar dat die ANC "eis om die vorm van ons nasieskap te bepaal". Dit beteken, het doktor Pallo Jordan in 1989 verduidelik, "die reg om te bepaal wie die nasie is", (Geldenhuys 2000:13). Regter Albie Sachs, 'n ander leiersfiguur in die ANC (en regter in die Grondwethof), is die skepper van 'n bekende slagspreuk met 'n sterk Jakobynse inslag: "Vir die nasie om te leef, moet die stam sterf" (Geldenhuys 2000:13). Só beskou, kom nasiebou op 'n vorm van volksmoord neer.

     

    1. NASIEBOU IN 'N POSTAPARTHEID SUID-AFRIKA

    Die ANC-regering is in 'n postapartheid Suid-Afrika onwrikbaar verbind tot die uitwissing van die erfenis van apartheid, ook ten opsigte van die gedwonge verdelingslyne wat tussen mense getrek is op grond van kleur en etnisiteit. Apartheid was 'n nasie vernietigende ideologie in die sin dat dit die bestaan of wenslikheid van 'n inklusiewe Suid-Afrikaanse nasie (saamgestel uit mense van alle kleure en etniese groeperings) verwerp het. Apartheid het wel volksbou beoefen deur die skep van tuislande vir verskillende swart etniese groepe. Dis sulke verdeeldheid wat die ANC die afgelope sestien jaar deur middel van nasiebou probeer oorbrug.

    Die vraag is: Hoe kan 'n nasie gebou word? In die beantwoording van hierdie vraag sê Tempelhoff (2005:10) word van die veronderstelling uitgegaan dat die ANC, sy teenstrydige uitsprake ten spyt, verbind is tot die idee van 'n inklusiewe politieke nasie.

    Volgens Jordaan (2003:17) is een manier om so 'n nasionale eenheid en lojaliteit te bereik, om dit geleidelik en spontaan te laat ontwikkel. Deur gewone, daaglikse wisselwerking tussen mense van verskillende gemeenskappe sal die skanse van die verlede geleidelik afgebreek word en sal Suid-Afrikaners in 'n oorkoepelende patriotisme opgaan. Wat so 'n proses kan bevorder, is onder meer die prestasies van nasionale sportspanne (in die veronderstelling dat hulle soms wen en dat sportbeoefening nie groep gebonde is nie) (Giliomee 1999:13-20). Oordeelkundig gekose nasionale simbole (soos die landsvlag en nasionale lied) en politieke leiers wat versoening in woord en daad bevorder, kan ook 'n waardevolle bydrae tot nasiewording lewer.

    Op die oog af het Suid-Afrikaners sedert 1994 vordering met spontane nasiewording gemaak. Die verdwyning van gedwonge rasseskeiding, die vreedsame oorgang na demokratiese regering, President Nelson Mandela se versoeningspogings en die prestasies van nasionale sportspanne het alles hiertoe bygedra. Desnieteenstaande is die ANC-regering vasbeslote om nasiebou op sentralistiese en Jakobynse wyse te implementeer. So verwys 'n ANC-besprekingsdokument van 1997 na die "identity of the South-African nation in the making". Wat nodig is, word gesê, is "a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society". In dieselfde trant word voorts na "a process of building an African nation" en na "our Africanness as a nation" verwys (Venter 1999b:22).

    ANC politieke leiers soos Butana Kompela (Rapport, 15 November 2009:2) en Julius Malema (Volksblad, 20 Januarie 2010:11) beskuldig die blanke Afrikaners voortdurend van onpatriotisme, rassistiese gedrag en/of 'n traak-my-nie-agtige houding jeens die nuwe Suid-Afrika. Sulke ongevraagde stellings wek agterdog by die Afrikaner.

    Die vraag is: Waar pas die Afrikaner in die ANC-regering se proses van nasiebou in, want dit is hierdie proses van nasiebou wat die stukrag agter transformasie is. Is die ANC-regering nie juis dalk besig met 'n versnelde proses van akkulturasie nie? En is dit nie juis dalk die rede hoekom die Afrikaner die proses van transformasie so traumaties en negatief ervaar nie?

     

    2. DIE AFRIKANER EN DIE TRANSFORMASIEPROSES

    Kultuur en etnisiteit word gekompliseer deur die mens se voortdurende bemoeienis met verandering, verbetering en aanpassing. Transformasie word hoofsaaklik gedoen ten einde die wêreld en die lewe te orden, dit sosiaal te regverdig en 'n konseptuele greep daarop te kan kry. Erasmus (2003:3-5) redeneer dat daar antropologies aanvaar word, dat wanneer mense gekonfronteer word met sosiaal-kulturele transformasie en oorgange waaroor hulle geen beheer het nie, daar dikwels 'n teruggryp na gebruike, opvattings en beskouings van die verlede is. Dergelike situasies, die prysgee van hulle magsposisie en die gevoel dat hulle taal, identiteit en kultuur bedreig word, vorm deel van die rasionaal waarom Afrikanerstrewes by sommige Afrikaners in ekstremisme uiting vind. Uit 'n antropologiese studie wat by die Universiteit van die Vrystaat gedoen is oor Afrikaners in 'n postapartheid Suid-Afrika blyk dit dat Afrikaners tans besig is om die sogenaamde versoeningsproses van die postapartheid Suid-Afrika te deurleef (Van der Merwe 2010).

    Francois Venter het op die Afrikanerbond se Bondsraadvergadering van 24 September 2004 in Durban die volgende opmerking oor die Afrikaner se belewing van transformasie in 'n postapartheid Suid-Afrika gemaak:

    1994 het gekom en gegaan, en ook vir Afrikaners was dit die welkome einde van 'n era van ingeslotenheid en kulturele isolasie. Heel gou sou dit egter duidelik word dat die euforie waarmee Afrikaners die nuwe era tegemoet is, erg oorspanne was. Hetsy met opset of by oorsig sou die nuwe elite van die land die basiese winste van Afrikaans, soos universiteite of die posisie van taal in die staatsdiens, begin wegkalwe. Die Waarheids- en versoeningskommissie sou Afrikaners ten regte of ten onregte met van die donkerste oomblikke in hul geskiedenis konfronteer. Die sistematiese verdrywing van Afrikaners uit die openbare sektor sou lei tot 'n dubbelsinnige omhelsing van private ondernemingskap: enersyds sou dit ongekende ekonomiese ondernemingsgees by Afrikaners aanwakker, andersyds sou dit van minstens Afrikaners, miskien vir die eerste keer in hul geskiedenis, verbete materialiste maak, hetsy by wyse van die smaaklose vertoon van hul welvaart, hetsy by wyse van die onvermoeibare najaag van sodanige welvaart ten einde vir die verlies van hul politieke mag te kompenseer. Maar miskien was die mees dramatiese ontwikkeling na 1994, met die beëindiging van kulturele isolasie, dat Afrikaners, wat hulle nou ook pens en pootjies binne die huidige golf van globalisering bevind het, nie soseer die weg van skeppende weerstand as minderheid sou volg nie, maar eerder die weg van kritieklose kapitulering. (Notule AB-Bondraadsvergadering, 24 September, 2004, Durban.)

    Venter (2004) het ook die dilemmas waarbinne die Afrikaner hom bevind, ten opsigte van transformasie bespreek: Hy sê: "Die trefwoord wat uitdrukking gee aan die kern van die heersende regeringsbeleid op feitlik alle fronte, is transformasie". 'n Taalkundige analise van die woord om vas te stel wat die woord beteken deug nie as 'n mens wil vasstel wat werklik daarmee bedoel word nie. Dit beteken nie maar iets soos "verandering", "omvorming" of "oorbrugging" nie.

    Volgens Venter (2004) en Slabbert (1999:73) is die woordkeuse en benutting van die begrip, as'n mens objektief daarna kyk, strategies briljant. Die woord dra die betekenis van verandering, wat logies sedert 1994 moes plaasvind. Verder impliseer die begrip verbetering, want dit sou nie sinvol wees om 'n projek of 'n program van stapel te stuur om 'n uitkoms wat nie beter as die bestaande is nie, te bewerkstellig. Histories is dit die slegte wat getransformeer moet word na die goeie, die vrugte van die universeel verdoemde apartheidsbedeling. Die "goeie" gevolg van transformasie moet dus inhou dat enige vorm van benadeling waartoe die vorige bedeling aanleiding gegee het, tot niet gemaak moet word, dat enige sistemiese verskansing van bevoorregting wat uit die koloniale en apartheidstye oorbly, afgebreek moet word. Ooglopend moet transformasie dus die verlore geleenthede van die voorheen benadeeldes so spoedig moontlik regstel deur buitengewone bevoordeelde geleenthede te skep en seker te maak dat dit benut kan word. Omdat die benadeling van die apartheidsverlede op ras gebaseer was, so lui die argument, is dit onvermydelik dat die verwydering van die benadeling ook op rasse-oorwegings gebaseer moet word. Kortom, transformasie beteken die oorname deur swart mense van alle voorregte en voordele wat die land in al sy fasette bied. Daar kan dus geen sprake van vernuwing en kreatiwiteit daarin wees nie - dit teer op wat in die verlede tot stand gebring is.

    Venter (2004) het die Afrikanergemoed na 'n proses van tien jaar van transformasie, soos volg opgesom:

    Watter gemoedstoestand kan 'n mens verwag van 'n gemeenskap van mense wat gewoond is aan 'n lewenstandaard gelyk aan die hoogste in die wêreld, wat tien jaar gelede politieke mag vreedsaam prysgegee het, wie se gemeenskaplike politieke vermoë deur versplintering verdwyn het, wat die tendense om hulle beleef as bedreigend vir hulle kulturele, materiële en fisiese voortbestaan en van wie verwag word om die primêre opofferings ter wille van "transformasie" te maak? Kan ons verbaas wees as so 'n gemeenskap tekens toon van magtelose frustrasie, onsekerheid, verlies aan vertroue in gevestigde kulturele, politieke en kerklike strukture en selfs ekstremisme? Ek is bevrees dat al hierdie elemente tans te sien is in die Afrikanergemoed. Daar is ook tekens van onderlinge twisgierigheid, 'n selfsugtige inkeer na binne en wegkeer van gemeenskaplike ideale, 'n verlies aan patriotisme en toenemende beginsellose materialisme.

     

    3. DIE EMPIRIESE NAVORSINGSRESULTATE

    Jong blanke Afrikaners4 (18 tot 30) is in 'n onlangse antropologiese studie aan die Universiteit van die Vrystaat genader oor hulle ervaring, belewenis en emosies rakende die transformasieproses wat die afgelope 16 jaar in die Nuwe Suid-Afrika aanwesig is (Van der Merwe 2010). Vervolgens word hierdie empiriese navorsingsresultate tematies bespreek.

    3.1 Politieke tendense

    Ongeveer een derde van die informante was nie as kiesers geregistreer nie. Nagenoeg die helfte van die informante wat wel as kiesers geregistreer was, het nie in die algemene óf plaaslike regeringsverkiesing gestem nie. Buiten twee het nie een van die informante op enige stadium van hulle lewe vir die ANC gestem nie. Hulle het ook gemeld dat hulle nie van voorneme is om wel op 'n latere stadium vir die ANC te stem nie.

    Die algemene gevoel onder die informante was dat dit werklik belangrik is dat Afrikaners wel moet stem. Hulle het ook almal 'n sterk behoefte uitgespreek dat Afrikaners, veral polities, moet begin saamstaan teen die ANC. Verder was hulle dit ook eens dat die ANC se geweldige meerderheid en die feit dat die Afrikaners oor 'n onvermoë beskik om te kan saamstaan, dié primêre oorsaak is hoekom Afrikaners toenemend polities apaties begin raak.

    Nagenoeg die helfte van die informante het gemengde gevoelens en opinies gehad oor die ANC as regering. Die ander helfte van die informante het doodgewoon net negatiewe verwysings en response teenoor die ANC-regering geopenbaar. Regstellende aksie was by verre die gereeldste punt van kritiek teenoor die ANC-regering.

    Die oorgrote meerderheid (tagtig persent en meer) het genoem dat, ondanks hulle negatiewe kritiek teenoor die ANC-regering, hulle vir hulself tog nog 'n toekoms in Suid-Afrika sien en dat hulle geensins van voorneme is of 'n behoefte het om te emigreer nie.

    3.2 Afrikaanse kultuurorganisasies

    Slegs een van die informante was 'n ingeskrewe en aktiewe lid van Afrikaanse kultuurorganisasies. Slegs twee van die informante kon vyf of meer bestaande Afrikaanse kultuurorganisasies noem. Bitter min van die informante kon twee of meer Afrikaanse kultuurorganisasies vermeld. Die bekendste Afrikaanse kultuurorganisasie is, volgens die informante, ongetwyfeld die ATKV.

    Afrikaanse kultuurorganisasies soos die FAK, Dameskring, AfriForum en Rapportryers is nie deur een enkele informant vermeld nie. Nagenoeg vyftien persent van die informante het aangedui dat hulle wel vroeër, tydens hulle skooldae, aan die Voortrekkers behoort het. Die oorgrote meerderheid van die informante het nie geweet wat die verskil tussen die Afrikanerbond en Broederbond is nie.

    Byna al die informante het aangedui dat hulle nog nooit aan 'n Afrikaanse kultuurorganisasie behoort het nie, of dat hulle enige behoefte en intensie het om wel by 'n Afrikaanse kultuurorganisasie aan te sluit nie. Feitlik al die informante het ondanks die bogemelde respons wel aangedui dat daar inderdaad 'n bestaansreg vir Afrikaanse kultuurorganisasies in die nuwe Suid-Afrika is.

    3.3 Die Afrikaner se geskiedenis

    Al die informante was dit eens dat die Afrikaner se geskiedenis vir Afrikaners van wesenlike belang is, veral as die Afrikaner enigsins as kultuurgroep sou wou oorleef. Meer as die helfte van die informante is daarvan oortuig dat die ANC-regering met 'n doelbewuste plan besig is om die geskiedenis van die Afrikaner te verwaarloos en/of te "verkrag". Een informant het voorbeelde genoem van hoe standbeelde van Afrikanerleiers (byvoorbeeld doktor Hendrik Verwoerd) afgebreek is, hoe plekname verander word en hoe die Suid-Afrikaanse geskiedenis nou skielik herskryf moet word. Volgens haar is dit alles deel van die ANC se strategie om die Afrikaner sy geskiedenis te misken.

    Die res van die informante was van oordeel dat Afrikanerleiers tydens die apartheidsera 'n verwronge beeld van die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan Suid-Afrika voorgehou het en dat die ANC-regering basies nou geen ander keuse het as om dié geskiedenis te herskryf nie. Een vroulike informant het soos volg oor hierdie aangeleentheid gereageer: "Ek het begrip vir wat die ANC doen. Die geskiedenis wat destyds aan ons as Afrikanerjeug voorgehou is, was subjektief en pro-apartheid georiënteerd. Vir my is vertel dat mense soos Lukas Mangope van Bophuthatswana en Mangosuthu Buthelezi van Kwa-Zulu die enigste swart leiers in Suid-Afrika was. Die bestaan en ontstaan van die ANC is doodgewoon deur die Apartheids geskiedenis geïgnoreer en misken. So, dit is te verstane dat die ANC die geskiedenis nou wil herskryf." Die interessantheid wat tydens die gesprekke na vore gekom het, was die respondente se uiters gebrekkige kennis van die Afrikaner se geskiedenis. Tydens die groepsessie is hierdie tendens rakende die gebrekkige kennis van die geskiedenis van die Afrikaner bevestig. Informante se gevoel en mening is ook verkry oor die feit dat die ANC-regering besig is om dorps- en plekname te verander. Almal was teleurgesteld oor hierdie pleknaamveranderings.

    Toe aan informante gevra is wat die oorsprong van hulle dorp of stad se naam is, het die oorgrote meerderheid (meer as 70%) geen idee daarvan gehad nie. Enkele van die informante het slegs 'n vae idee gehad. Dit was duidelik dat ongeag die feit dat hulle 'n sterk gevoel gehad het dat plekname liefs nie moet verander nie, weinig van hulle enige kennis van hulle dorp of stad se geskiedenis en naam gehad het.

    Dieselfde verskynsel het geblyk toe informante se mening gevra is oor die betekenis wat openbare vakansiedae soos Geloftedag (tans bekend as Versoeningsdag) vir die Afrikaner het. Al die informante was dit eens dat hierdie tipe dae belangrik is vir die Afrikaner en dat ons as Afrikaners dit nougeset moet gedenk. Die ironie was egter dat bitter min van die informante enigsins kan onthou dat hulle al ooit die vieringe van so 'n dag (Geloftedag of Republiekdag) bygewoon het. Die enkele informante wat wel kan onthou dat hulle so 'n dag bygewoon het, het erken dat dit laas op skool was en dat hulle binne skoolverband verplig was om te gaan. Nie een van dié informante het sedert hulle skooldae enigsins weer moeite gedoen om by byvoorbeeld 'n Geloftedagviering uit te kom nie.

    3.4 Afrikaans en taal

    Daar was eenstemmigheid onder al die informante dat Afrikaans wel in die postapartheid Suid-Afrika benadeel word. Almal was dit eens dat die felste stryd vir Afrikaans in die onderwys gevoer word. Elke informant het een of ander insident opgehaal waar hulle taalregte hulle op een of ander stadium ontsê is.

    Al die informante het Afrikanerskap en Afrikanerkultuur gedefinieer as, onder andere, "iemand wat Afrikaans praat". Vir almal is die Afrikaanse taal dierbaar en kosbaar en al die informante het die hoop uitgespreek dat hulle kinders ook eendag die wonderlike voorreg sal hê om Afrikaans te kan praat en ervaar. Dieselfde informante se interaktiewe betrokkenheid by Afrikaans was, ondanks hulle besorgdheid, eintlik skokkend swak! So het meer as tagtig persent van hulle aangedui dat die laaste Afrikaanse boek wat hulle gelees het hul voorgeskrewe Afrikaanse boek in matriek was. Slegs drie van die informante het gemeld dat hulle die afgelope vyf jaar 'n Afrikaanse boek gekoop het. Slegs twee van die informante het die afgelope drie jaar 'n Afrikaanse toneelopvoering bygewoon. Dit blyk uit hierdie navorsing dat jong Afrikaners nie meer Afrikaanse boeke koop of lees nie. Verder is hulle skynbaar ook sku en laks om Afrikaanse tydskrifte en koerante te koop en/of Afrikaanse toneelopvoerings by te woon.

    Dit blyk ook dat jong Afrikaners al hoe minder lees. Diegene wat wel die moeite doen om te lees, lees uiters selektief. Die dilemma is dat die geskrewe woord nog altyd 'n baie effektiewe medium vir kultuuropdrag was. Die oorvertel van volksmites en narratiewe het in die verlede grootliks deur middel van die geskrewe woord geskied (Giliomee & Schlemmer 2006:127). Dit is vanuit die bogemelde tendens duidelik dat dit nie meer die geval is nie. Die realiteit is dat die Afrikaner besig is om een van die kernelemente wat kultuurverbondenheid verseker, te verloor.

    Die enigste aspek waarop die informante, ten opsigte van die ondersteuning van Afrikaans, oorweldigend positief gereageer het, was Afrikaanse musiek. Almal was dit eens dat daar die afgelope sestien jaar 'n drastiese verbetering in Afrikaanse musiek was en dat dit veral die verskeidenheid tipes Afrikaanse musiek was waaroor hulle opgewonde en positief is. Almal het toegegee dat hulle gereeld na Afrikaanse musiek luister en Afrikaanse CD's koop.

    3.5 Onderwys

    Al die informante het vertel dat, volgens hulle eie oordeel, die standaard van onderwys in 'n postapartheid Suid-Afrika wel afgeneem het. Al die informante het 'n gedeelte van hulle skoolopleiding in die postapartheid Suid-Afrika afgelê. Op 'n vraag of hulle van mening is dat hulle eie skoolopleiding en akademiese kwalifikasie as gevolg van die voorgemelde inligting wat hulle verskaf het, dus van 'n laer standaard is, was die antwoord elke keer "nee". Volgens die informante het die eintlike verval eers begin toe hulle hul skoolopleiding reeds voltooi het.

    Dit blyk duidelik dat die informante die standpunt huldig dat die standaard van onderwys vir Afrikanerkinders in postapartheid Suid-Afrika besig is om te daal. Indien hierdie informante se persepsie oor die onderwys korrek is, beteken dit dat die volgende generasie Afrikaners, as gevolg van 'n onvermoë om behoorlik te kan lees en spel, nóg minder gaan lees en skryf as die huidige groep jong Afrikaners. Hulle gaan met ander woorde 'n generasie wees wat primêr aangewese gaan wees op volksvreemde televisieprogramme en internasionale vermaak, waar die lees- en skryffaktor geensins nodig of van waarde of belang geag sal wees nie. Die kans dat sinvolle kultuuropdrag van uitsluitlike Afrikaanse kultuurinhoude by hulle gaan plaasvind, sal dus uiters skraal wees.

    3.6 Misdaad

    Daar was konsensus onder die informante dat misdaad sedert 1994 drasties toegeneem het. Hulle was ook eenstemmig in hulle mening dat die ANC-regering tans 'n onvermoë het om die misdaadkwessie sinvol aan te pak. Volgens die oorgrote meerderheid van die informante skep die groeiende misdaadtendens vrees by hulle en het hulle al, as gevolg van hierdie groeiende misdaadtendens, emigrasie ernstig oorweeg.

    Al die informante was van mening dat misdaad nie meer of minder voorkom by enige bepaalde rassegroep in Suid-Afrika nie. Volgens hulle is Afrikaners in 'n postapartheid Suid-Afrika net so geneig tot misdaad as byvoorbeeld swartmense. Die oorgrote meerderheid van die informante was egter van mening dat plaasmoorde inderdaad ras- en politiesgedrewe is.

    3.7 Nasiebou

    Slegs twee informante kon 'n korrekte omskrywing gee van wat met die woord "nasiebou" bedoel word. Slegs hierdie twee informante het 'n opinie oor nasiebou gehad. Informant een was van mening dat die ANC-regering nasiebou verkeerd benader. Informant twee het gesê: "Die regering is besig om nasiebou op ons as Afrikaners af te forseer. Ons moet eenvoudig alles wat die ANC dink en doen sluk. Of hulle nou ons dorpe se name verander of ons rugbyspanne opdonner, ons moet dit alles eenvoudig net ter wille van nasiebou aanvaar. Ek raak gatvol vir nasiebou en die sogenaamde reënboognasie".

    Indien die informante se uitsprake en emosies in ag geneem word oor sake soos regstellende aksie, grondhervorming, pleknaamveranderings, kwotas in sport, en dies meer, is dit duidelik dat die ANC-regering se pogings tot nasiebou 'n wrang smaak by Afrikaners laat. Dit is duidelik dat die meeste informante van mening is dat die ANC-regering geensins op hulle behoeftes as Afrikaners ingestel is nie. Een manlike informant het in 'n driftige stemtoon die situasie soos volg opgesom: "Die ANC gaan totaal en al oorboord met hulle onsensitiewe optredes en pogings om van ons almal tweedeklas swartes te probeer maak". 'n Vroulike informant het weer soos volg gereageer: "Al wat die ANC regkry deur middel van nasiebou is om van onskuldige Afrikaners wedergebore rassiste te maak. Almal van ons is keelvol vir goed soos kwotas in sport en die verandering van plekname".

    3.8 Grondhervorming

    Nagenoeg die helfte van die informante was totaal teen grondhervorming gekant. Hulle het in hulle narratiewe gemeld dat hulle nie die ANC-regering se rede en werkswyse rakende grondhervorming begryp nie. Hulle kan nie verstaan hoekom swart mense nou plase "verniet" moet kry terwyl hulle (as Afrikaners) nooit dieselfde voorreg gehad het nie. 'n Vroulike informant het die verhaal vertel hoe haar oupagrootjie hulle familieplaas by die destydse Griekwaleier, Adam Kok, gekoop het. Een informant, teen wie se plaas daar tans 'n grondeis hangende is, is verbitterd oor die hele proses en doel met grondhervorming. Hy sê: "Ek het my plaas met my polisie salaris gekoop. Ek het aanvanklik, toe ek begin boer het, eers net sestien koeie gemelk, maar melk nou daagliks meer as sestig koeie. Hierdie plaas het nie in my skoot geval nie. Ek het bliksems hard gewerk vir my plaas. Nou wil die ANC dit vir 'n belaglike bedrag by my koop en dit verniet weggee vir een of ander groep swartes. Hoekom kan swartes nie ook vir 'n slag begin werk en spaar nie? Hoekom moet hulle alles verniet op 'n skinkbord kry?"

    Die res van die informante het begrip getoon vir die regering se proses van grondhervorming. Hulle verstaan hoekom grondhervorming plaasvind, alhoewel almal van hulle die regering verkwalik vir die wyse waarop die proses van grondhervorming hanteer word.

    Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid informante 'n renons het in die wyse waarop die ANC-regering grondhervorming hanteer. Dit blyk dat die ANC-regering se onvermoë om effektiewe dienslewering daar te stel die primêre rede is hoekom Afrikaners 'n negatiewe persepsie oor hulle het. Dit is dan ook juis hierdie onvermoë wat vrees by Afrikaners aanwakker, veral wanneer dit by 'n sensitiewe saak soos grondhervorming kom. Die meeste informante (meer as 90 persent) was van oordeel dat Suid-Afrika se grondhervormingsproses gaan ontaard in 'n tweede Zimbabwe.

    3.9 Regstellende aksie, kwotas in sport en Swart Ekonomiese Bemagtiging

    Al die informante het gevoel dat regstellende aksie Afrikaners as etniese groep benadeel. Almal het 'n negatiewe verwysing ten opsigte van regstellende aksie gehad.

    Op 'n vraag aan die informante of hulle as individue al ooit in enige opsig direk deur regstellende aksie benadeel is, het meer as tagtig persent van die informante "nee" geantwoord. Dié respons was insiggewend, naamlik dat al die informante 'n negatiewe persepsie van regstellende aksie gehad het, terwyl weinig van hulle direk daardeur benadeel is.

    'n Vroulike informant het hierdie bogemelde verskynsel die beste verklaar met haar verduideliking: "Die feit is dat al die indikasies daar is dat regstellende aksie blykbaar hier is om vir ewig te bly, en dit is vir my as Afrikaner voor die hand liggend dat regstellende aksie my op 'n stadium gaan benadeel. Al is dit nie vir my as individu nie, gaan dit ongetwyfeld my kinders eendag benadeel en verontreg. Teen die tempo wat die regering regstellende aksie in verskillende vorme op ons afdwing gaan dit nie honderd jaar wees voor dit my gaan raak nie. Eers was dit regstellende aksie, toe was dit kwotas in sport en nou is dit BEE op plase en BEE in die sakewêreld. As dit so aangaan, gaan dit later ook BEE in die huwelik wees".

    Al die informante het gevoel dat die ANC-regering genoeg tyd gehad het om al die ou apartheidsprobleme van die verlede reg te stel en dat hierdie praktyke van "omgekeerde diskriminasie" soos regstellende aksie en kwotas in sport nou uitgefaseer moet word. Al die informante het verder gemeld dat hulle absoluut ten gunste van die beginsel van gelyke geleenthede is. Hulle het ook aangetoon dat hulle 'n weersin in enige vorm van diskriminasie het, ongeag die edele motiewe daarvoor.

     

    4. DIE GEVOLG VAN NASIEBOU EN TRANSFORMASIE VIR DIE AFRIKANER

    Die noodwendige gevolg van nasiebou en transformasie is gedwonge akkulturasie. Akkulturasie, as 'n proses van kultuurverandering, is 'n langdurige proses wat 'n langdurige onewewigtigheid in die etniese korpus daarstel. So 'n langsame proses van verandering bring steurnis in die geordende en georganiseerde korpus van 'n kultuurgemeenskap mee en dit lei gewoonlik tot spanninge tussen die lede van so 'n etnos (Coertze 1982 en Haviland 1999). Die geykte en welbekende weë raak verander en die individue binne 'n etnos, wat nou met mekaar verbind was, begin mekaar "verloor" en word vreemd teenoor mekaar (Coertze 1982:138). Die lewe verloor sy spontaneïteit. Daar tree ook 'n tweeslagtigheid in die lewenspatroon in wat die gladde funksionering van die daaglikse lewe in geykte kanale met sy vaste sisteem van verhoudinge en gedragswyses versteur en uit verband ruk. Daar kom spanning tussen die individue van 'n volk. Hulle word afkerig van mekaar en dit lei selfs tot botsings. Mense wat deur sterk sentimentele bande, ook familiebande, verbind was, kan binne volksverband vyandig teenoor mekaar raak (Walter 1952:59-60).

    Dit alles lei, volgens Coertze (1968:29 en 1982:139-140), tot versteuring en verslapping van die sosiale binding wat nodig is vir gesonde maatskaplike samesyn. Hulle noem dat daar in sulke omstandighede selfs 'n gevoel van vyandigheid kan intree teenoor die draers van die vreemde kultuur wat met hul vreemde gedrag en denke verantwoordelik gehou word vir die spanninge en botsings wat in eie geledere ontstaan.

    Algaande tree daar 'n toestand van disharmonie en tweestryd tussen die lede van so 'n gemeenskap in, en daar kan selfs 'n toestand van disharmonie wees tussen die oornemers en die groep van wie die vreemde kultuur oorgeneem word. Dit kan daartoe lei dat so 'n kultuurgemeenskap in 'n toestand van konflik in disorganisasie en onderlinge stryd verval. Dit is volgens Coertze (1999:11-15) en Radcliff-Brown (1952) wat normaalweg tydens 'n proses van akkulturasie plaasvind, die mens synde wat hy is. Coertze (1982:150-151) noem dat die nadeligste uitwerking egter kan voortvloei uit die feit dat 'n gesonde proses van enkulturasie by die opgroeiende geslag versteur word. Dit gebeur veral wanneer die proses van kultuuroordrag en -oorname te vinnig plaasvind (Coertze 1968:37-39). Alleen die uiterlike lewensvorme word oorgeneem sonder dat die daarby passende innerlike waardes en norme as lewensrigsnoere oorgeneem en verinnerlik kan word. Die jong geslag groei op met 'n nuwe kultuurpatroon sonder dat hulle ouers by hulle die nodige innerlike waarde kan inskerp (Coertze 1968:43). Dikwels staan hulle ook afkerig teenoor die leringe van die ouer geslag, wat hulle as onvanpas beskou. Die innerlike adel wat gepas het onder die vroeëre omstandighede en nog deel uitmaak van die innerlike lewe van die ouer geslag, ontbreek by die nuwe geslag en hulle het niks in die plek daarvan gekry nie. Die karaktervorming wat nodig is vir maatskaplike balans ontbreek. Die ergste is dat die volgende geslag nog meer ontredder gelaat word, want hulle ontredderde ouers kan aan hulle nog minder leiding gee (Coertze 1982:150-152 asook Spiegel & McAllister 1991:77-89).

    Snelle kultuurverandering wat soos in die geval van postapartheid Suid-Afrika met "gedwonge" akkulturasie (nasiebou en transformasie) gepaardgaan, bring maatskaplike chaos tot stand, omdat die kulturele struktuur van 'n kultuurgroep (soos Afrikaners) wat gesonde maatskaplike kohesie moet bewerkstellig en bestendigheid moet meebring, kapot geslaan word.

    Die draers van 'n besondere kultuur druk deur die strukturering en herstrukturering van die werklikheid hulle eie stempel op hulle kultuur af. Dit geld ook vir die veranderinge wat kulture ondergaan. Die vraag is of die Afrikaner as kultuurgroep in die Nuwe Suid-Afrika sy tradisionele en/of bestaande kulturele formaat kan oorleef al dan nie? 'n Antwoord op die vraag vereis ten slotte dat daar aandag gegee moet word aan die rigting of koers van kultuurvloei tydens hierdie prosesse van kultuurverandering.

    As ons die proses van kultuurverandering in Afrika in oënskou neem, dan kan daar veral twee hoofrigtings of -koerse onderskei word, naamlik 'n verwestering koers tydens die koloniale tydvak en 'n Afrikanisering koers gedurende die na-koloniale tydperk (Coertze 1999:11-12). In Suid-Afrika kan dieselfde tendense onderskei word met die toevoeging van die verengelsing koers van Milner (Giliomee 2005:10). Dit impliseer dat daar afwisselende tydperke in die geskiedenis was waar 'n kultuurtradisie 'n oorheersende rol gespeel het met betrekking tot die inkleding van byvoorbeeld die politiek, die ekonomie, die godsdiens, ensovoorts. Die ander kultuurtradisies het dan 'n ondergeskikte rol in dié verband vervul. Die gemeenskaplike faktor wat die rigting van kultuurvloei bepaal, was deurgaans die verwerwing van 'n mags- en gesagsposisie (Erasmus 2003:5). Die werklikheid is dus kultureel hervorm volgens die kultuurbeskouing van diegene wat in beheer van die staat was.

    Hierdie standpunt word deur talle antropoloë (Coertze 1982:140-144, Erasmus 2003:8, Padilla 1980:51 en Pozzetta 1991:107-125) ondersteun en daar is eenstemmigheid daaroor dat die besondere politieke verhouding tussen groepe 'n regstreekse invloed uitoefen op die rigting van kultuurvloei. Hoebel en Weaver (1979) noem hierdie verhouding 'n dominante teenoor 'n ondergeskikte verhouding. Politieke dominansie impliseer dat een groep in 'n gesagsposisie teenoor die ander verkeer waartydens daar sprake van gedwonge kultuurverandering is. Lewin (1996:49) skryf hieroor: "with regard to forced acculturation combined with a position of excessive dominance on the part of one cultural group, it follows that acculturation will be greater in the direction of the dominant group". Handlin (1959), Osler (1994) Pozzetta (1991) en Watson (1952), steun almal die standpunt dat kultuurverandering deurgaans in die rigting van die dominante groep geskied.

    Toegepas op Suid-Afrika beteken dit eerstens dat wesenlike veranderings in die rigting van kultuurvloei reeds duidelik merkbaar is, tweedens dat kulturele reïnterpretasie toenemend formeel beslag en gestalte begin kry (Erasmus 2003:5-8 en Geldenhuys 2004:14). Nasionale simbole en embleme asook plek- en dorpsname het verander (Goosen 2005a:4). Die kultuur binne die werksomgewing het verander danksy regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (Slabbert 2006:21). Hoewel sommige bestaande strukture of idees in stand gehou word, kan ons nou alreeds 'n verandering in die funksies daarvan waarneem. Die omvang, graad en intensiteit van die veranderinge is egter moeilik om aan te dui. Feit is egter dat die kultuur van die Afrikaner toenemend meer op die periferie van die kultuuromgewing van die Nuwe Suid-Afrika begin funksioneer (Goosen 2005a:4). Die realiteit is nou al vir baie Afrikaners toenemend vreemd, en dit bring spanning binne die Afrikanergeledere (Gouws 2005:7). Hulle ervaar emosies van onsekerheid, vervreemding en woede (Goosen 2005b:6-7).

    Die ANC-regering (swart meerderheidsregering) beteken vir die nuwe Suid-Afrika dus nie slegs 'n sosiaal-ekonomiese transformasie nie. Dit beteken ook die oorheersing van een kultuur oor 'n ander of anders gestel, die skepping van 'n nuwe Suid-Afrikaanse kultuur wat geskied onder die vaandel van nasiebou en transformasie. 'n Swart regering het nie bloot 'n bewindsoorname beteken nie, maar ook 'n kulturele omwenteling. In die omwenteling is die swart kultuur vanweë sy gesagsposisie en getalle oorheersend en is die kulturele werklikheid in die nuwe Suid-Afrika reeds besig om daarvolgens georden te word. Dit is toenemend die norm vir gedrag, optrede en denke. Dit is nou praktyk in die nuwe Suid-Afrika want dit is die onafwendbare realiteit van nasiebou en transformasie. Dit is dus duidelik dat die orde in die nuwe Suid-Afrika nie van onder af uit die begripsveld van die gemeenskappe self geskep en waardeer word nie, maar dit word van bo af op almal afgedwing en dit is ook hoe die Afrikaner dit ervaar.

    Dit raak toenemend duideliker dat die ideaal van 'n liberale demokrasie, politieke verdraagsaamheid en 'n ekonomiese stelsel gegrond op 'n vryemarkstelsel nie volgens 'n Westerse resep werklikheid kan word nie (Esterhuize 2005:2). Suid-Afrika is deel van Afrika en reeds ten volle ingeskakel by organisasies soos NEPAD (Botha 2004). Suid-Afrika is verder ook die dryfveer ("champion") van die Afrika Renaissance gedagte, en daarom sal Suid-Afrika, soos in die res van Afrika aangepas word om in die swart kultuur in te pas en sal die Afrikaner kultuurwaardes self geen noemenswaardige funksionele rol speel nie.

    Dit is derhalwe nie realisties om te bly hoop dat Suid-Afrika nog 'n wítmanswêreld met 'n Westerse lewenswyse en denke sal bly nie (Slabbert 1999:61). Die antropoloog, JF Venter (1993:12), was dus korrek toe hy in 1993 al opgemerk het: "Diegene wat dit glo, ly aan Westerse kulturele imperialisme en glo aan die meerderwaardigheid van die Westerse kultuur. Afrika toon dat dit niks anders as 'n droombeeld is nie. Die Swart kultuurgroepe het die reg om 'n eie stempel op die kulturele werklikheid af te druk. Die Nuwe Suid-Afrika kan dus slegs aan die Afrikaner bestaansmoontlikhede en nie 'n lewensmoontlikheid bied nie".

    Die Afrikaner sal naïef en onrealisties wees as hulle hul groot hoop op die regering van die dag plaas, en glo dat dié hulle kultuurerfenis moet oppas, pamperlang en uitbou, wetende dat die Afrikaner maar 'n skamele 7% van die land se totale bevolking uitmaak, en dat daardie 7% se trotse Afrikanergeskiedenis vir die meeste ander Suid-Afrikaners gekontamineer is met apartheid. Die Afrikaners sal gevolglik hul hand in eie boesem moet begin steek as hulle hul kultuur en kultuurerfenisse wil bewaar.

     

    5. SLOT

    Ek wil ten slotte die voorspelling maak, dat ondanks al die moontlike gevare wat nasiebou en transformasie vir die Afrikaner inhou, dat Afrikaneretnisiteit, ondanks die "totale aanslag" van hierdie prosesse, oor die volgende dekade baie sterk na vore sal tree. Die ironie is dat dit juis die proses van nasiebou en transformasie is wat opnuut momentum aan Afrikaners gee om hulle kultuurinhoud en -waardes as 'n kleinood op te pas en te beskerm. Die feit dat die ANC-regering voortdurend in nuwe wetgewing bly fokus op Afrikaners se eksterne identiteitselemente (soos byvoorbeeld velkleur) laat aan Afrikaners geen ander keuse as om 'n samehorigheidsgevoel te ontwikkel nie. Die ANC-regering bly wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder uitsonder as diegene wat nie werklik "Africans" kan wees nie, of wat nie soos die res van die reënboognasie is nie (Buys 2004:15; Slabbert 2006:57-63 en Venter 2004). Die res van die Suid-Afrikaanse volkere word onvoorwaardelik as deel van die reënboognasie gereken. Dit is slegs witmense, en veral Afrikaners, wat eers boetedoening en opofferings moet maak alvorens hulle as deel van die reënboognasie gereken kan word. Die ANC-regering bereik tans met hierdie benadering die teendeel met sy nasiebou-inisiatiewe. Hulle vervreem die witmense, en dan veral by name die blanke Afrikaner van die res van die Suid-Afrikaanse reënboognasie in plaas van om hulle te versoen.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Botha, R.F. 2004. Die nuwe Suid-Afrika het nuwe welvaart vir die Afrikaner geskep. Referaat gelewer vir die Afrikanerbond se Uitvoerende Raad te Thabazimbi op 2004/10/10.         [ Links ]

    Buys, F. 2004. Transformasie is nie vir sissies nie. Rapport, 2004/08/13:15.         [ Links ]

    Coertze, P.J. 1968. Akkulturasie. In: Cronje (red.) Kultuurbeïnvloeding tussen Blankes en Bantoe in Suid-Afrika. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

    Coertze, P.J. 1982. Assimilasie, Integrasie en Amalgamasie. Tydskrif vir Rasse-Aangeleenthede, 33(2):138-152.         [ Links ]

    Coertze, R.D.1999. Afrika Renaissance: Uitdagings en realiteite. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Etnologie, 22(1):11-27.         [ Links ]

    Degenaar, J.J. 1984. Voortbestaan in geregtigheid. Opstelle oor die politieke rol van die Afrikaner. Kaapstad:Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

    Du Preez, M. 2000. Afrikaners ervaar aanpassingsprobleme in die nuwe Suid-Afrika. Beeld, 2000/08/13:20.         [ Links ]

    Erasmus, P.A. 2003. Antropologiese spel met identiteite: Selfrefleksie op die Afrikaner. Professorale intreerede. Universiteit van die Vrystaat, Departement Antropologie: Bloemfontein.         [ Links ]

    Esterhuize, W. 2005. Afrikaners moet weer Voortrekkers word. Rapport Perspektief, 2005/07/10:2.         [ Links ]

    Geldenhuys, D. 2000. Die ANC se Jakobynse benadering tot nasiebou. Rapport, 2000/09/03:13.         [ Links ]

    Geldenhuys, D. 2004. Nasiebou as deel van transformasie. Die Vrye Afrikaan, 2004/10/29:14.         [ Links ]

    Giliomee, H. 1999. Eeu wendings en bestaan keuses vir wit Afrikaner-inboorlinge. Aambeeld, 27(1):13-20.         [ Links ]

    Giliomee, H. 2005. Die Post-nasionale Afrikaner: Ondermynende en opbouende gedagtes. Toespraak gehou by FAK gala-aand. Paarl. 16 September 2005.         [ Links ]

    Giliomee, H. & Schlemmer, L. 2006. 'n Vaste plek vir Afrikaans. Taal uitdagings op kampus. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

    Goosen, D. 2005a. Wat behels Afrikanerskap in 'n postapartheid Suid-Afrika? Die Vrye Afrikaan, 20085/10/21:4. Die politieke toekoms van die Afrikaners: Identiteite verby uitsluiting en onverskilligheid. http://www.vryeafrikaan.co.za/2005/05/05. [Nagevors op 3 Maart 2005:1-7]         [ Links ].

    Gouws, A. 2005. Afrikaneridentiteit is wat ons doen. Die Burger, 2005/05/24:7.         [ Links ]

    Handlin, O. 1959. Boston's immigrants; a study in acculturation. Cambridge: Belknap press.         [ Links ]

    Haviland, W.A. 1999. Cultural Anthropology. (9th Edition). New York: Harcourt Brace College Publishers.         [ Links ]

    Hoebel, E.A. & Weaver, T. 1979. Anthropology and the human experience. New York: McGrawhill.         [ Links ]

    Jordaan, W. 2003. Nasiebou en versoening. Insig, 2003/03/18:17.         [ Links ]

    Lewin, W.L. 1996. The Caribbean: enculturation, acculturation and the role of the churches. Genève: WCC Publications.         [ Links ]

    Osler, A. 1994. Development education: Global perspectives in the curriculum. London: Cassell.         [ Links ]

    Padilla, A.M. 1980. Acculturation: Theory, models and some new findings. Westview Press for the American Association for the Advancement of Science. Colorado: Builder.         [ Links ]

    Pozzetta, G.E. 1991. Assimilation, acculturation and social mobility. New York: Garland.         [ Links ]

    Radcliff-Brown, A.R. 1952. Structure and function in primitive society. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

    Roodt, D. 2005. Om ruim in Afrika te leef. http://www.praag.org/meningings17072005.html.2005/07/14. [Nagevors op 14 Maart 2008:1-13]         [ Links ].

    Slabbert, F. Van Zyl. 1999. Afrikaner Afrikaan: Anekdotes en Analise. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

    Slabbert, F. Van Zyl. 2006. Duskant die geskiedenis. Tafelberg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

    Spiegel, A.D. & McAllister, P.A. 1991. Tradition and transition in Southern Africa. Johannesburg: Witwatersrand University Press.         [ Links ]

    Tempelhoff, J. 2005. Geskiedenis en denke. Volksblad, 2005/09/28:10.         [ Links ]

    Van der Merwe, J.P. 2010. Afrikaners in 'n post-apartheid Suid-Afrika: 'n Antropologiese perspektief. Ongepubliseerde navorsingsverslag. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

    Venter, A. 1999a. WVK ontbloot die NP se duistere verlede. Volksblad, 1999/07/18:8.         [ Links ]

    Venter, A. 1999b. Nasionale identiteitsvraagstukke in postapartheid Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 39(1):22-38.         [ Links ]

    Venter, F. 2004. Notule: Voorsittersrede by Afrikanerbond se Bondsraadvergadering. 2004/09/24 te Durban.         [ Links ]

    Venter, J.F. 1993. Die Afrikaner as kultuurgroep en die toekoms. Tydskrif vir Rasse-Aangeleenthede, 44(1 & 2):12-28.         [ Links ]

    Vosloo, T. 2005. Afrikaners kort visie en leierskap. Die Burger, 2005/01/28:12.         [ Links ]

    Walter, S. 1952. Race and Cultural Relations. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

    Watson, J.B. 1952. Cauya culture change; a study in acculturation and methodology. American Anthropologist, (54)(2)(2):1-144.         [ Links ]

     

     

    JAN PETRUS VAN DER MERWE promoveer as doktorale student in Antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat met 'n proefskrif getiteld Afrikaners in Post-Apartheid Suid-Afrika: 'n Antropologiese perspektief. Jan is 'n voltydse raadslid in die Motheo Distriksmunisipaliteit waar hy verantwoordelik is vir die portfolio van Finansies.
    JAN PETRUS VAN DER MERWE completed his doctoral studies at the Department of Anthropology of the University of the Free State. The theme of his doctoral thesis was: Afrikaners in post- Apartheid South Africa: An Anthropological perspective. Jan is a full time councillor at the Motheo District Municipality, where he is responsible for the Finance portfolio.

     

     

    1 Op 27 April 1994 het Suid-Afrika 'n volwaardige demokratiese staat geword, en kan hierdie gemelde datum tereg gesien word as die einde van die apartheidsera. Gedurende die apartheidsera het blanke Afrikaners oor alle mag beskik en het hulle ook talle wetgewing daargestel wat diskriminerend was teenoor anderskleurige Suid-Afrikaners. Volgens Slabbert (1999:49-51) het daar tot en met 1990 'n amptelike Afrikaner-identiteit bestaan, wat grootliks bepaal is deur 'n meesternarratief wat gekonstrueer is rondom kerklidmaatskap, verbintenis tot politieke mag en partylidmaatskap, en lidmaatskap van kultuurorganisasies soos die Broederbond. Die verlies van hierdie amptelike identiteit ná 1994 het die Afrikaner, volgens skrywers soos Vosloo (Die Burger, 28 Januarie 2005:12) en Roodt (http://www. praag.org/mening/2005:4 van 13), gemarginaliseer en in 'n bestaanskrisis gedompel. In hierdie verband word daarop gewys dat die Afrikaners se emosionele en intellektuele bande met die Afrikaanse kultuur, kerke, politiek en die Afrikaanse taal besig is om te verander, selfs te verskraal, en dat hulle toenemend 'n nuwe, kosmopolitaanse identiteit en leefwyse nastreef.
    2 Desnieteenstaande die problematiek in die daarstelling van definisies, veral binne 'n postmodernistiese konteks, is daar tog besluit om in hierdie artikel van die standpunt uit te gaan dat die Afrikaner 'n blanke groep met 'n eie kultuur is. Afrikaners is waarskynlik een van die mees resente voorbeelde van etnogenese. Verteenwoordigers van verskillende volke uit Europa is in 'n bepaalde konteks, binne 'n bepaalde lokaliteit saamgevoeg en het 'n eie identiteit ontwikkel. Die rol van die lokaliteit (die suidpunt van Afrika) is in die geval van die Afrikaners van besondere belang en het 'n belangrike bydrae tot die Afrikaner se identiteit gelewer.
    3 Die Jakobynse benadering tot nasiebou is ontleen aan die ekstremistiese republikeine van die Franse Revolusie. Hiervolgens moet etniese minderhede gedepolitiseer en gedenasionaliseer word ten einde nasionale homogeniteit - oftewel kulturele eenvormigheid - te bewerkstellig. Dit kom neer op akkulturasie, 'n proses waarin lede van minderheidsgroepe hul tradisies, taal en kultuur moet laat vaar ten gunste van dié van die dominante groep (Degenaar 1984:13 en Venter 1999b:22-25).
    4 Tradisioneel word etnografiese materiaal gewoonlik aangebied (georganiseer) rondom kultuuraspekte. In hierdie studie is daar egter doelbewus weggestuur van hierdie benadering. In aansluiting by dit wat reeds vroeër gesê is oor die betekenis van diskoersvoering, is daar eerstens geredeneer dat die verskillende diskoerse wat Afrikaners op alle vlakke en oor alle onderwerpe voer, belangrik is, want dit bevat en openbaar die waardes, betekenisgewing, ervarings en interpretasies waardeur hulle sin aan die lewe gee en waardeur hulle hulself uitdruk in verhoudings en tasbare en nie-tasbare uitings. Dit was dus belangrik om deur middel van die etnografie begrip te verkry vir die wyse waarop ideologie en diskoers in Afrikanergeledere funksioneer.