SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 n.2 Pretoria Jun. 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Wie is die goeie Samaritane? Eienskappe van vrywilligers in Suid-Afrika

 

Who are the good Samaritans? Characteristics of volunteers in South Africa

 

 

Waldo Krugell

Skool vir Ekonomie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom E-pos: Waldo.Krugell@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Mense wat vrywillig en sonder betaling hul arbeid aanbied vir die produksie van goedere en dienste waaruit ander voordeel trek, speel 'n belangrike rol in die ekonomie en gemeenskap. As vrywilligers beter verstaan word, kan hul kragte dalk beter gemobiliseer word. Die vraag is dus: Wie is die goeie Samaritane? Hierdie studie ondersoek die eienskappe van vrywilligers in Suid-Afrika met behulp van data uit die Arbeidsmagopname van September 2007. Die resultate toon dat vrywilligers in Suid-Afrika meestal vroulik en meestal blankes is. Dié persone is van werkende ouderdom met 'n beduidende persentasie wat ouer as 55 jaar is. Die meeste vrywilligers is goed opgelei en het kwalifikasies behaal na graad 12. Die meeste vrywilligers is in diens geneem, maar 'n groot persentasie is nie ekonomies aktief nie. Dié wat wel werk, is meestal permanent aangestel en kan baiekeer self oor hul werksure besluit. 'n Beduidende persentasie van mense wat hul eie besighede besit, werk ook as vrywilligers. Wanneer daar na vrywilligers se inkomste per maand gekyk word, is dit duidelik dat 'n groot gedeelte individue in die hoë-inkomste groepe as vrywilligers werk.

Trefwoorde: Vrywilligers, Arbeidsmagopname, Suid-Afrika


ABSTRACT

Volunteers are people who supply labour for the production of goods and services for the benefit of others. They play an important role in the economy and community. One in four Americans work as volunteers and in Sweden 59 per cent of people who are employed also work as volunteers. Volunteer work is of significance in a time when social safety nets are thinning and there are ever increasing demands on welfare organisations. If volunteers are understood better, it may be possible to harness their power for the greater good. The question is, who are these good Samaritans? The consumption model of volunteer work states that individuals choose to spend time on paid work, leisure and volunteer work. It is then an empirical question whether volunteers are high-income or low-income individuals. If the substitution effect dominates, an increase in the wage rate will lead to a decrease in volunteer work as the opportunity cost of an hour of volunteering increases as the remuneration of paid work increases. If the income effect dominates, a higher wage rate means that an individual can work fewer hours to earn the same income as before and this will lead to an increase in volunteer work. By contrast, the investment model of volunteer work states that individuals volunteer as an investment in human capital. Future earnings may be increased if the skills and contacts that are developed in volunteer work can also contribute in the field of paid employment. This study examines the characteristics of volunteers in South Africa through the use of data from the labour force survey of September 2007. The focus is on formal volunteers. They work for organisations in the fields of social and health services, education, emergency services, the environment, politics and religion. The results show that volunteers in South Africa are mostly female and white. They are of working age with an important share of them being older than 55 years. Most volunteers are well educated and have obtained qualifications after Grade 12. Most volunteers are employed, but a substantial portion is not economically active. Of those that are working, most are in permanent positions and often they can determine their working hours themselves. A significant percentage of people who own businesses also do volunteer work. When the monthly income of volunteers is examined, it is clear that greater proportions of people from high-income groups work as volunteers. This is, however, only a first effort to learn more about volunteers in South Africa. A rich international literature exists about the hours that volunteers work, the types of volunteer work and factors that motivate volunteers. The management of volunteer work in non-governmental organisations is another field of study. In South Africa there is a clear need for further research. The HIV/Aids pandemic is putting significant pressure on social safety nets and provides volunteers with a key health care role. Similarly, the organisation of the 2010 Soccer World Cup will depend on the work of volunteers. Official data sources are, however, limited and further research will require good surveys.

Key concepts: Volunteers, Labour Force Survey, South Africa


 

 

1. INLEIDING

Ekonome neem gewoonlik aan dat die hoeveelheid arbeid wat mense aanbied, toeneem in die mate wat lone en salarisse toeneem. Daar is egter individue wat hul arbeid vrywillig en sonder betaling aanbied vir die produksie van goedere en dienste waaruit ander voordeel trek. Die goedere en dienste wat op dié wyse geproduseer word, vorm meestal nie deel van die amptelike maatstawwe van produksie nie, maar vrywilligers maak belangrike bydraes tot die ekonomie en gemeenskap. Een uit elke vier Amerikaners het tussen 2001 en 2005 formeel as vrywilligers gewerk (Pho 2008:220). Die koers waarteen vrywilligers hul arbeid aanbied in Europese lande is die hoogste in Swede, waar 59 persent van mense wat in diens geneem is ook as vrywilligers werk. In Slowakye is die deelnamekoers 55 persent, gevolg deur Denemarke, Griekeland, die Verenigde Koninkryk en Nederland met deelnamekoerse van tussen 41 en 49 persent (Hackl, Hall & Pruckner, 2007:78).

Vrywillige werk word omskryf as produktiewe werk wat menslike kapitaal vereis, kollektiewe gedrag wat sosiale kapitaal vereis en eties-gerigte optrede wat kulturele kapitaal vereis (Wilson & Musick 1997). Bogenoemde is dus nie vryetydsbesteding nie, maar word beïnvloed deur wat ander mense dink en doen en is waarde-gedrewe. Freeman (1997:S141) beskou vrywillige werk as 'n "conscience good" waartoe mense tyd of geld bydra omdat hulle 'n morele saak steun. Vrywillige werk is van besondere belang in 'n tyd waar sosiale veiligheidsnette onder druk is en die eise op welsynsorganisasies toeneem (Carlin 2001). Die rol wat vrywilligers in die gemeenskap speel, noodsaak 'n ondersoek na die belangrikste eienskappe van hierdie goeie Samaritane.

Navorsing oor vrywilligers in Suid-Afrika is egter beperk. Hierdie artikel het ten doel om die belangrikste eienskappe van vrywilligers in Suid-Afrika te ondersoek met behulp van data wat verkry is uit die Arbeidsmagopname van 2007. Die fokus val op formele vrywilligers. Hulle is individue wat werk vir organisasies in die veld van sosiale en gesondheidsdienste, onderwys, noodlenigingswerk, die omgewing, die politiek en godsdiens. Voorbeelde van informele vrywillige werk is om vriende te help of na die kinders van bure om te sien (Hackl et al. 2007).

As die vernaamste eienskappe van vrywilligers beter verstaan word, kan dit moontlik word om hulle beter te mobiliseer. Afdeling 2 gee 'n kort oorsig oor die teorieë van vrywillige werk. Afdeling 3 bied 'n opsomming van die eienskappe van vrywilligers wat in die internasionale literatuur geïdentifiseer is. In Afdeling 4 word die eienskappe van Suid-Afrikaanse vrywilligers ondersoek, terwyl Afdeling 5 die gevolgtrekking en aanbevelings bevat.

 

2. WAAROM IS MENSE VRYWILLIGERS?

Vrywilligers is bereid om hul tyd vir ander op te offer. Waarom homo economicus dit doen, kan verduidelik word aan die hand van Menchik en Weisbrod (1987) se verbruiks- en investeringsbenaderings.

In hierdie verbruiksmodel kies die individu om tyd te bestee aan betaalde werk, ontspanning en vrywillige werk. 'n Nutmaksimerende verbruiker sal besluit hoeveel vrywillige werk sy sal doen volgens haar voorkeure en inkomstebeperking. As die loonkoers verander, het dit 'n inkomste-effek en substitusie-effek op die aantal ure wat die individu as vrywilliger werk. Volgens die substitusie-effek sal 'n toename in die loonkoers lei tot 'n afname in vrywillige werk, omdat die geleentheidskoste van 'n uur vrywillige werk styg wanneer lone vir betaalde werk toeneem. Volgens die inkomste-effek sal die hoër loonkoers beteken dat die individu minder ure hoef te werk om dieselfde inkomste as vroeër te verdien. Die gevolg hiervan is dat die aanbod van vrywillige werk sal toeneem soos die loonkoers toeneem (Hackl et al. 2007). Watter effek die sterkste is, is 'n empiriese vraagstuk. Die inkomstevlak en die ure betaalde werk wat gedoen word, kan dus belangrike aanduiders wees waarom sommige mense vrywilligers is.

Volgens die investeringsmodel, aan die ander kant, werk individue as vrywilligers om menslike kapitaal op te bou. 'n Vrywilliger se toekomstige verdienstevermoë kan verhoog word as werkvaardighede en kontakte gesmee word wat ook in haar betaalde werk gebruik word. Hackl et al. (2007) identifiseer enkele investeringsmotiewe van vrywilligers: Vrywillige werk (i) bied indiensopleiding, (ii) gee toegang tot netwerke, (iii) kan 'n manier wees waardeur voornemende werknemers 'n sein stuur oor hul vaardighede en prestasie, (iv) kan 'n manier wees om markte te ontwikkel wat later winsgewend kan wees, en (v) kan 'n manier wees om afnames in die waarde van menslike kapitaal (byvoorbeeld van mense wat tydelik werkloos is) teen te werk. Mense kan dus as vrywilligers werk om hul curricula vitae te verbeter. Menslike kapitaalveranderlikes, soos geslag, ouderdom, werkstatus en vlak van opleiding is dus belangrike aanduiders van waarom sommige mense vrywilligers is.

Die volgende afdeling gee 'n kort oorsig van internasionale empiriese studies van die eienskappe van vrywilligers.

 

3. ANDER STUDIES VAN DIE EIENSKAPPE VAN VRYWILIGERS

Ander studies is hoofsaaklik beperk tot vrywilligers in die VSA, Kanada en Europa. Die literatuur omvat beskrywings wat strek van die belangrikste eienskappe van vrywilligers tot ekonometriese modellering van aanduiders van hoeveel ure mense as vrywilligers sal werk.

Hayghe (1991) omskryf die eienskappe van vrywilligers in die VSA met behulp van data wat verkry is van die 1989 Bevolkingsopname. Hy bevind dat vrywilligers spesifieke demografiese en ekonomiese eienskappe toon. Vroue het 'n groter geneigdheid om as vrywilligers te werk as mans, terwyl getroudes en mense met kinders in die huishouding ook meer geneigd is om vrywilligers te wees. Daar is ook 'n positiewe verwantskap tussen opleiding en vrywillige werk, waaruit blyk dat sewe uit tien vrywilligers ook 'n betaalde werk het. Hayghe (1991:20) bevind ook dat mense met hoër inkomste meer geneig is om as vrywilligers te werk.

Meer as tien jaar later bied Boraas (2003) 'n soortgelyke ontleding van die VSA se 2002 Bevolkingsopname. Die resultate stem in talle opsigte ooreen met dié van Hayghe (1991), byvoorbeeld dat meer vroue vrywilligers is, of dat daar 'n positiewe verwantskap is tussen vrywillige werk en indiensneming, opleiding en inkomste. Boraas (2003) bevind ook dat mense in die ouderdomsgroep 35 tot 54 jaar meer geneigd is om as vrywilligers diens te doen as jonger of ouer mense. Ouer mense wat onlangs afgetree het, is egter meer geneig om vrywilligers te wees as jonger mense. Dit stem ooreen met dit wat die verbruiksmodel voorspel. Hoërskoolleerlinge doen weer meer vrywillige werk om hul aansoeke vir universiteit te versterk, wat ooreenstem met die investeringsmodel.

Die eienskappe van vrywilligers is ook in 'n aantal ekonometriese studies ondersoek. Vaillancourt (1994) het die eienskappe wat bepaal of 'n individu as 'n vrywilliger werk beraam en bevind dat Kanadese vrywilligers ouer is, getroud is, kinders het, in kleiner stede bly, beter opgelei is en 'n hoër inkomste verdien as mense wat nie vrywillige werk doen nie. Freeman (1997) kry soortgelyke resultate vir die VSA.

Carlin (2001) fokus spesifiek op vroulike vrywilligers in die VSA en die ure wat hulle as vrywilligers werk. Hy vind dat getroude vroue se aanbodkromme van vrywillige werk positief en onelasties is. 'n Toename in die netto loon het 'n klein negatiewe invloed op hul deelname aan vrywillige werk. Om meer kinders te hê, verhoog die waarskynlikheid om as 'n vrywilliger te werk, terwyl getroude vroue met meer kinders minder ure as vrywilligers werk. Skenkings deur middel van tyd en geld blyk substitute te wees (Carlin 2001: 802).

Hackl et al. (2007) gebruik Oostenrykse sensusdata van 2001 en ondersoek die verwantskap tussen inkomste en die aanbod van vrywillige werk in die Europese Unie. Hulle vind dat om as 'n vrywilliger te werk 'n beduidende positiewe verwantskap met lone het - vrywilligers verdien tot 17 persent hoër lone vergeleke met persone wat nie as vrywilligers werk nie. Hackl et al. (2007: 92) bevind ook dat vrywilliger deelnamekoerse afneem tot en met die ouderdom van 44 jaar en daarna weer toeneem. Dit is in teenstelling met die investeringsmodel en dui dalk aan dat afgetrede mense meer deur altruïsme gemotiveer word om as vrywilligers te werk. Hulle bevind ook dat vroue, individue in stedelike gebiede en dié wat saambly minder vrywillige arbeid aanbied. In teenstelling met ander studies, bevind Hackl et al. (2007: 94) dat onderwys nie 'n statisties-beduidende impak het op die aanbod van vrywillige werk nie.

Pho (2008) gebruik 'n Probit-model om die eienskappe van vrywilligers in die VSA te beraam en kry resultate wat baie ooreenstem met dié van Vaillancourt (1994) en Freeman (1997). Sy vind dat minder mans vrywillige werk doen as vrouens. Om getroud te wees en kinders te hê, is positief verwant aan vrywillige werk. Pho (2008:233) bevind ook dat witboordjie-werkers meer geneigd is om as vrywilligers te werk as blouboordjie-werkers, terwyl mense wat in die dienstebedryf werk weer meer geneig is om as vrywilligers te werk as dié in die vervaardigingsbedryf. Meer werkers wat voltyds in diens geneem is, werk ook as vrywilligers. Vroulike werkers met tydelike aanstellings is ook meer geneig om as vrywilligers te werk as vroue wat nie deel van die arbeidsmag is nie.

Uit hierdie kort oorsig van die literatuur is dit duidelik dat vrywilligers oor baie spesifieke eienskappe beskik en dat daar bewyse is ten gunste van die verbruiksmodel en die investeringsmodel van vrywillige werk. Bogenoemde studies is egter beperk tot die ontwikkelde ekonomieë van die VSA, Kanada en Europa. Die volgende afdeling ondersoek die eienskappe van vrywilligers in Suid-Afrika aan die hand van data uit die Arbeidsmagopname van 2007.

 

4. EIENSKAPPE VAN VRYWILLIGERS IN SUID-AFRIKA

Die eienskappe van vrywilligers in Suid-Afrika kan van naderby ondersoek word deur data uit die Arbeidsmagopname van 2007 te ontleed. Die Arbeidsmagopname se vraag oor vrywillige werk is daarop gemik om vas te stel of persone werk doen sonder om betaling daarvoor te ontvang. StatsSA (2007) stel dat mense gewoonlik as vrywilligers werk vir kerke, hospitale of aftreeoorde. Ander aktiwiteite soos sing of stap word slegs ingesluit as dit tot voordeel van 'n groter groep mense strek, byvoorbeeld vir fondsinsameling.

Die September 2007 opname toon dat 3186, of 4.7 persent, van die respondente vrywillige werk doen (StatsSA 2007). Die vrywilligers is meestal betrokke by die versorging van siek mense, kulturele bedrywighede en fondsinsameling (StatsSA 2007). Tabel 1 gee 'n opsomming van die eienskappe van dié vrywilligers. Die inligting is verkry uit kruistabulasies van die diskrete veranderlike wat aandui of 'n persoon 'n vrywilliger is of nie, en die veranderlikes wat die eienskappe van die vrywilligers beskryf.

Tabel 1 toon dat 59.2 persent van Suid-Afrikaanse vrywilligers vroulik is. Dit stem ooreen met die internasionale studies wat toon dat vroue meer geneig is om vrywillige werk te doen as mans. Van die vroue in die opname is 4.9 persent vrywilligers, terwyl slegs 4.0 persent van mans as vrywilligers werk.

Wanneer die ontleding per rasgroep gedoen word, is dit duidelik dat vrywilligers rofweg die samestelling van die bevolking weerspieël. Ongeveer 68 persent van vrywilligers is Swart, gevolg deur Blankes (17.6%), Kleurlinge (11.1%) en Indiërs (2.3%). Die laaste kolom van die tabel toon egter dat blankes 'n relatiewe hoër geneigdheid het om as vrywilligers te werk as die ander rasgroepe. Van die blankes in die opname is 11.8 persent vrywilligers.

Tabel 1 toon ook die provinsies waar die vrywilligers woonagtig is. Die meeste vrywilligers woon in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo provinsie en Wes-Kaap. Slegs 6.4 persent van die vrywilligers in die opname woon in Gauteng. Wanneer die vrywilligers uitgedruk word as persentasie van die provinsie se bevolking, is dit duidelik dat die Oos-Kaap en Limpopo uitstaan as die plekke waar groter persentasies van die bevolking as vrywilligers werk. Slegs 2.8 persent van die bevolking in Gauteng werk as vrywilligers. Die internasionale literatuur het getoon dat vrywilligers in kleiner stede woon en in Suid-Afrika blyk dit dat die meer landelike provinsies ook meer vrywilligers het. Daar is egter nie duidelike verklarings hiervoor in die teoretiese modelle nie.

'n Ontleding van die ouderdom van vrywilligers stem ook ooreen met dit wat internasionaal bevind word. Die grootste persentasie van vrywilligers is van werkende ouderdom. Ongeveer 54 persent is in die ouderdomsgroep 30 tot 54 jaar, 18.1 persent is tussen 20 en 29 jaar oud en 12.8 persent vrywilligers is tussen 55 en 64 jaar oud. Tabel 1 toon ook die vrywilligers as persentasie van die betrokke ouderdomsgroep en dat 'n groter persentasie van die ouer ouderdomsgroepe as vrywilligers werk. Byvoorbeeld, 6.4 persent van die ouderdomsgroep 55 tot 64 jaar werk as vrywilligers, in vergelyking met 3.3 persent van die ouderdomsgroep 20 tot 29 jaar. Dit blyk 'n bewys te wees ter ondersteuning van die verbruiksmodel en dat minder jongmense vrywillige werk sien as 'n geleentheid om menslike kapitaal op te bou.

Wanneer daar gekyk word na vrywilligers se opleiding, stem die Suid-Afrikaanse prentjie duidelik ooreen met dié van die internasionale literatuur. Hoe hoër mense se vlak van opleiding, hoe meer geneig sal hulle wees om as vrywilligers te werk. Tabel 1 toon dat 50 persent van die vrywilligers in die opname net hoërskoolopleiding het, maar slegs 4 persent van die groep met hoërskoolopleiding werk as vrywilligers. Ongeveer 15 persent van die respondente met 'n B-graad en 20 persent van dié met nagraadse kwalifikasies werk as vrywilligers. Dit kan moontlik weer ondersteuning bied vir die investeringbenadering tot vrywillige werk.

Tabel 2 toon die eienskappe van vrywilligers in die arbeidsmark. Ongeveer 50 persent vrywilligers is in diens geneem, 10 persent is werkloos en 40 persent is nie ekonomies aktief nie. Hierdie klassifikasie is volgens die amptelike of beperkte omskrywing van werkloosheid en mense wat nie deel is van die arbeidsmag nie, en sluit dus ontmoedigde werkloses in. Die beperkte definisie van werkloosheid sluit dié mense in wat die sewe dae voor die onderhoud, nie werk gehad het nie, wat wou werk en wat in die vier weke voor die onderhoud aktief werk gesoek het.

Tabel 2 toon ook dat 31.2 persent vrywilligers 'n betaalde werk het en 11.8 persent hul eie besigheid besit. Daar is natuurlik minder entrepreneurs in die ekonomie as diegene wat vir 'n salaris werk, so wanneer die vrywillige werk uitgedruk word as persentasie van die kategorieë ekonomiese aktiwiteit, is dit duidelik dat 9.5 persent van die mense wat hul eie besighede besit ook vrywillige werk doen, vergeleke met 5.4 persent van diegene wat 'n betaalde werk het.

Tabel 2 toon dat die meeste vrywilligers wat betaalde werk het, permanent aangestel is. Tabel 2 toon ook dat die meeste vrywilligers se werksure deur die werkgewer vasgestel word. 'n Groter proporsie van diegene wat self kan besluit oor hul werksure en dié wat fleksie-werksure het, is egter vrywilligers, wat nie 'n verrassende bevinding is nie. Die meeste vrywilligers kry betaalde verlof. Ongeveer 19 persent vrywilligers is nie lid van 'n vakbond nie, teenoor die 13.9 persent wat wel vakbondlede is. 'n Groter proporsie vakbondlede werk egter as vrywilligers.

Laastens bied Tabel 3 'n ontleding van die inkomste van vrywilligers. In Afdeling 2 het die verbruiksbenadering tot vrywillige werk aangetoon dat inkomste 'n invloed kan hê op mense se motivering om as vrywilligers te werk. Volgens die substitusie-effek, sal minder vrywillige werk aangebied word teen hoër vlakke van inkomste, omdat die geleentheidskoste van vrywillige werk styg wanneer inkomste wat verkry is uit betaalde werk toeneem. Volgens die inkomste-effek sal die aanbod van vrywillige werk toeneem teen hoër inkomstevlakke, omdat die individu dit kan bekostig om minder ure te werk (Hackl et al. 2007). Die oorsig van empiriese studies in Afdeling 3 het getoon dat vrywilligers in die VSA, Kanada en Europa tipies hoër inkomstes verdien as mense wat nie vrywillige werk doen nie. Dit blyk ook die geval te wees in Suid-Afrika.

Tabel 3 toon dat 'n klein proporsie (6.4%) van vrywilligers uit die hoë-inkomste groepe (meer as R11000 per maand) kom, aangesien hulle 'n klein gedeelte van die arbeidsmag uitmaak. Desnieteenstaande werk groot proporsies (53%) van individue in die hoë-inkomste groepe as vrywilligers. Ongeveer 13 persent van die individue wat tussen R8000 en R11000 per maand verdien, is ook vrywilligers; 16 persent van die persone wat tussen R11000 en R16000 verdien, is vrywilligers en 21 persent van diegene wat meer as R30000 per maand verdien, werk ook as vrywilligers. Hierdie bevinding oor inkomste, saam met dié oor fleksie-werksure, is dus ten gunste van die inkomste-effek uit die verbruiksmodel.

 

5. GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

Hierdie artikel toon dat mense wat vrywillig en sonder betaling hul arbeid aanbied vir die produksie van goedere en dienste waaruit ander voordeel trek, 'n belangrike rol in die ekonomie en gemeenskap speel. As meer oor vrywilligers bekend word, kan hul kragte dalk beter gemobiliseer word. Die artikel toon dus wie die goeie Samaritane is, met behulp van data wat uit die Arbeidsmagopname van September 2007 verkry is.

Die resultate toon dat vrywilligers in Suid-Afrika meestal vroulik is. Hulle is van werkende ouderdom met 'n belangrike komponent wat kom uit die groep wat ouer as 55 jaar is. Die meeste vrywilligers is goed opgelei en het kwalifikasies behaal na graad 12. Die meeste vrywilligers is in diens geneem, maar 'n groot persentasie is nie ekonomies aktief nie. Dié wat wel werk, is meestal permanent aangestel en kan baiekeer self oor hul werksure besluit. 'n Beduidende persentasie mense wat hul eie besighede besit, werk ook as vrywilligers. Wanneer daar na vrywilligers se inkomste per maand gekyk word, is dit duidelik dat groot proporsies individue in die hoë-inkomste groepe as vrywilligers werk.

Hierdie is egter slegs 'n eerste poging om meer oor vrywilligers in Suid-Afrika te leer. Daar is 'n ryk internasionale literatuur oor die ure wat vrywilligers werk, die tipe vrywillige werk wat hulle doen, asook wat vrywilligers motiveer om hul tyd te gee. Die bestuur van vrywilligers wat in nie-regeringsorganisasies werk, is op sigself 'n studieveld. In Suid-Afrika is daar 'n duidelike behoefte aan verdere navorsing. Byvoorbeeld, die MIV/Vigs-pandemie plaas besondere druk op sosiale veiligheidsnette en gee 'n belangrike rol aan vrywilligers in gesondheidsorg. Die organisasie van die 2010-Sokkerwêreldbeker gaan swaar rus op die werk van vrywilligers. Amptelike databronne is egter beperk en verdere werk sal goeie opnames vereis.

 

BIBLIOGRAFIE

Boraas, S. 2003. Volunteerism in the United States. Monthly Labour Review, 126(8): 3-11.         [ Links ]

Carlin, P.S. 2001. Evidence on the volunteer labour supply of married women. Southern Economic Journal, 67(4): 901-824.         [ Links ]

Freeman, R.B. 1997. Working for nothing: The supply of volunteer labour. Journal of Labour Economics, 15(1): S140-S166.         [ Links ]

Hackl, F., Hall, M. & Pruckner, G.J. 2007. Volunteering and income - The fallacy of the good samaritan? Kyklos, 60(1): 77-104.         [ Links ]

Hayghe, H.V. 1991. Volunteers in the U.S.: Who donates the time? Monthly Labour Review, 124(2): 17-23.         [ Links ]

Menchij, P.L. & Weisbrod, B.A. 1987. Volunteer labour supply. Journal of Public Economics, 32: 159-183.         [ Links ]

Pho, Y.H. 2008. The value of volunteer labour and the factors influencing participation: Evidence for the United States from 2002 through 2005. Review of Income and Wealth, 54(2): 220-236.         [ Links ]

STATSSA. 2007. Labour force survey 16. September 2007. http://interactive.statssa.gov.za:8282/webview/ Datum van gebruik: 26 Aug. 2008.         [ Links ]

Vaillancourt, F. 1994. To volunteer or not: Canada, 1987. Canadian Journal of Economics, XXVI (4):813-826.         [ Links ]

Wilson, J. & Musick, M. 1997. Who cares? Towards an integrated theory of volunteer work. American Sociological Review, 62(5): 694-713.         [ Links ]

 

 

WALDO KRUGELL is 'n medeprofessor in die Skool vir Ekonomie aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomkampus. Hy het 'n MScgraad in Ekonomie van Warwick Universiteit in die V.K. en 'n PhD van die Noord-Wes Universiteit oor die onderwerp van die geografiese ekonomie van Suid-Afrika. Prof Krugell se onderrrigervaring sluit twee jaar by UNISA en tien jaar by die Noord-Wes Universiteit in. Tans is sy doseerverantwoordelikheid die ekonomiese beleid en ekonomiese analise modules. Sy navorsing fokus op ontwikkelingsvraagstukke, spesifiek in die Afrika en Suid-Afrikaanse konteks. Die uitsette kan in twee dele gegroepeer word: dié oor direkte buitelandse investering in Afrika en dié oor geografiese ekonomie. Die werk oor geografiese ekonomie ondersoek tans agglomerasie-ekonomieë in stede en ontleed firma-vlak data.
WALDO KRUGELL is an associate professor in the School of Economics, situated at the Potchefstroom campus of the North West University. He holds the degrees MSc in Economics, obtained from Warwick University in the UK, and a PhD from the North West University, the latter dealing with the topic of the geographical economy of South Africa. Following a period of two years at Unisa, professor Krugell has been teaching economics at the North West University for the past ten years. Currently he is responsible for teaching the modules dealing with economic policy and economic analysis respectively. His research focuses on questions pertaining to development, as these apply specifically to an African as well as a South African context. The research outputs may be divided into two parts: those dealing directly with overseas investment in Africa on the one hand, and those analysing geographical economy on the other. At present the research on geographical economy focuses on the investigation of agglomeration economies in cities and the analysis of data on the level of firms.