SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 no.2 Pretoria June 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die tanende aantreklikheid van die akademiese professie in Suid-Afrika

 

The diminishing attractiveness of the academic profession in South Africa

 

 

CC WolhuterI; P HiggsII; LG HiggsIII; Im NtshoeIV

INoordwes-Universiteit, Potchefstroom E-pos: Charl.Wolhuter@nwu.ac.za
IIUniversiteit van Suid-Afrika, Pretoria E-pos: higgsp@unisa.ac.za
III
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria E-pos: higgslg@unisa.ac.za
IVUniversiteit van Suid-Afrika, Pretoria E-pos: ntshoim@unisa.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die doel van dié artikel is om met behulp van die data van die CAP (Changing Academic Profession) internasionale ondersoek na die akademiese professie te bepaal hoe aantreklik die Suid-Afrikaanse akademiese professie, vanuit hulle belewenis, die akademiese professie as loopbaan bevind. Uit die ondersoek blyk dit dat akademiese personeel in Suid-Afrika onder groot werkdruk verkeer. In vergelyking met ander professionele lui word hulle onderbesoldig. Boonop het hulle, onder 'n groeiende bestuurskultuur, baie van die vryheid en outonomie wat histories aan die akademiese professie gekoppel is, prysgegee. Dan het hulle ook nog ander frustrasies, byvoorbeeld die instroming van akademies swak voorbereide studente, en 'n gebrek aan toereikende navorsingsbefondsing. Volgens beskikbare getuienis is die aantreklikheid van die akademiese professie as 'n loopbaan in Suid-Afrika besig om te taan, en 'n aansienlike persentasie van akademici oorweeg dit om die professie te verlaat. In die lig van die kardinale belang van die hoër onderwyssektor in die ontplooiende kennissamelewing van die een-en-twintigste eeu, behoort die aangeleentheid as 'n saak van dringende prioriteit aandag te geniet.

Trefwoorde: Akademiese professie, CAP-ondersoek, hoër onderwys, univer siteitsonderrig, navorsing, akademiese ondernemerskap, bestuurskultuur, werkstevredenheid, kennissamelewing, onderwystransformasie.


ABSTRACT

As the twenty-first century's knowledge society - that is societies/economies which have evolved from industrial production and services to the production of knowledge as driving axis - takes form, an ever-increasing value is attached to the higher education sector. Any higher education project stands or falls by the quality of its academic staff complement, which in turn depends on how attractive the academic profession is as a career. The aim of this article is to investigate the attractiveness of the South African academic profession, by means of the data of the CAP (Changing Academic Profession) international survey of the academic profession. Internationally the following factors are impacting on higher education and on the academic profession: globalisation; information-, the communication- and knowledge revolution, the neoliberal economic revolution and democratisation. On top of these world-wide trends, higher education in South Africa is both the scene of a radical make-over of the entire education system (change to outcomes-based education, introduction of a National Qualifications Framework, desegregation, equalisation of opportunities, multiculturalism, democratisation) and it is regarded as a major instrument to effect an ambitious series of societal goals: economic goals, cultural goals, social goals and political goals. The above have radical implications for all aspects of the professional lives of academics: their tuition activities, research, community service, administrative activities, relations with institutional governance, entrepreneurship, and physical facilities and remuneration. From the investigation it appears as if the South African academic profession is under big work pressure. They work longer hours than what South African labour legislation sets as norm. In comparison with other professions they are under remunerated. Moreover, they have been dispossessed of much of their freedom and autonomy that have historically been regarded as an essential part of the professional environment of the academic profession. On top of that they are experiencing other frustrations, such as the influx of academically inadequately prepared students, and a lack of sufficient research funds. Amidst these circumstances a substantial percentage of the academic profession consider leaving the profession. According to available evidence, the attraction of the South African academic profession is diminishing. As the higher education sector (and by implication the academic profession) is pivotal for the nascent knowledge society, the diminishing attractiveness of the academic profession in South Africa should, as a matter of urgent priority, receive attention.

Key concepts: Academic profession, CAP investigation, higher education, university tuition, research, academic entrepreneurialism, managerialism, job satisfaction, knowledge society, education transformation.


 

 

1. INLEIDING

Namate die een-en-twintigste eeu se kennissamelewings - dit is samelewings/ekonomieë wat ontwikkel het vanaf industriële produksie en dienste na die produksie van kennis as sentrale dryfveer - beslag kry, word die waarde van die hoër onderwyssektor al hoër aangeslaan. Suid-Afrika is geen uitsondering op hierdie wêreldwye tendens nie. Enige hoër onderwysprojek staan of val by die kwaliteit van sy akademiese personeelkomponent, wat weer op sy beurt afhang van hoe aantreklik die akademiese professie as loopbaan is, en in watter mate universiteite in staat is om die beste breinkrag te lok. As gevolg van die sameloop van 'n aantal faktore het die akademiese professie in die jongste verlede onder geweldige druk gekom. Dit was een van die redes vir die twee internasionale ondersoeke na die akademiese professie, naamlik die Carnegieondersoek (waarvan die resultate vervat is in die publikasie van Altbach 1996) van die vroeë 1990s, en die huidige Changing Academic Profession (CAP) ondersoek (cf. www.capstudy.org). Die resultate van die CAP-ondersoek bied 'n binneblik na hoe die akademiese professie hulle professionele omgewing beleef.

Die doel van dié artikel is om met behulp van data van die CAP-ondersoek te bepaal hoe aantreklik die Suid-Afrikaanse akademiese professie, vanuit hulle belewenis, die akademiese professie as loopbaan beleef. As sodanig sluit dit aan by Pienaar (2009) se onlangs gepubliseerde teoretiese exposé van die huidige werksbedeling van Suid-Afrikaanse akademici.

Die artikel neem 'n aanvang met 'n skets van die kontekstuele agtergrond van die faktore wat op die Suid-Afrikaanse akademiese professie impakteer en hoe die faktore die verskillende fasette van die professie raak. Daarna word die navorsingsmetode verduidelik, en die resultate aangebied en bespreek.

 

2. KONTEKSTUELE AGTERGROND: INTERNASIONALE EN NASIONALE KONTEKSTUELE FAKTORE WAT OP HOËR ONDERWYS EN OP DIE AKADEMIESE PROFESSIE IN SUID-AFRIKA IMPAKTEER

2.1 Globalisasie

Globalisasie oefen druk uit op alle organisasies om in 'n wêreld waar geografiese afstand nie meer 'n nadeel is nie, internasionaal kompeterend te bly (Friedmann 2004). Insgelyks oefen globalisasie druk uit op hoër onderwysinstellings om internasionaal kompeterend te bly (Tierney 2009:1). Tekenend hiervan is byvoorbeeld die prominensie van internasionale graderings van universiteite (soos dié van die Times Higher Education Supplement, of dié van die Shanghai Jian Tong University Institute of Higher Education) of op Suid-Afrikaanse universiteite se webbladsye, die getal publikasie-uitsette van hulle akademiese personeel in nasionale of internasionaal geakkrediteerde tydskrifte.

2.2 Inligtings-, kommunikasie- en kennisrevolusie

Die inligtings- en kommunikasietegnologierevolusie, die verdubbeling van kennis elke 2.7 jaar (Steyn & Wolhuter 2008:221), en die ontwikkeling van die ontwikkelde lande van ná-industriële dienste ekonomieë na kennissamelewings (dit is, waar die produksie van nuwe kennis by nywerhede en by dienste oorgeneem het as die dryfas van die ekonomie) bied sowel ongekende moontlikhede as druk op hoër onderwys (cf. World Bank 2002). Terwyl inligting en kennis baie meer geredelik toeganklik is, dra dit daartoe by dat akademici al hoe groter hoeveelhede kennis teen 'n al vinniger tempo moet bemeester, ten einde op hoogte van hulle vakgebiede te bly.

2.3 Die neo-liberale ekonomiese revolusie

Tans vind 'n wêreldwye proses van ekonomiese liberalisering en privatisering plaas. Teen die vroeë jare tagtig van die vorige eeu was dit duidelik dat die Westerse welsynstaat homself oorskry het (Davidson & Rees-Mogg 1992:394). Konserwatiewe regerings in Wes-Europa en Noord-Amerika het gevolglik 'n neoklassieke vryemarkrevolusie in ekonomiese teorie en praktyk geloods (Redwood 1993:6-7, 44, 45; Watson, 1996:4). Dié tendens van die wegbeweeg van staatsinmenging, monopolie en regulering na ekonomiese liberalisering en privatisering, het ook in Oos-Europa ingesypel as deel van die algehele maatskaplike herskikking sedert 1990, terwyl die meeste Derde Wêreldlande as deel van strukturele aanpassingsooreenkomste wat hulle met die Wêreldbank aangegaan het ten einde hulle uit hulle ekonomiese predikament (hoë buitelandse skuldvlakke) te red, hulle noodgedwonge ook daartoe moes verbind. As gevolg van die neo-liberale ekonomiese revolusie word sakebeginsels (winsmotief, effektiwiteit, ens.) nou oorgedra op vele terreine waar dit voorheen nie bestaan het nie. Een so 'n terrein is universiteite. Ofskoon die staat sy befondsing aan universiteite afskaal, bly hy wêreldwyd die grootste befondser van hoër onderwys, en eis hy van universiteite rekenpligtigheid vir sy belegging.

2.4 Demokratisering

Die politieke keerkant van die einde ("demise") van die nasie-staat was demokratisering. Die erodering van staatsmag het beteken dat die lokus van mag beweeg het weg van die staat, in twee teenoorgestelde rigtings: opwaarts na internasionale strukture, en afwaarts na gedesentraliseerde strukture en uiteindelik na die individu. Die maatskaplike tendens van demokratisering bring mee dat die outonomie van die universiteit, en die akademiese outonomiteit van die akademiese professie in die besonder, van vele kante geërodeer word:

- van die staat, wat as grootste befondser van universiteite nou inspraak in en rekenskap van universiteite vereis. So is die tendens in die staat-universiteit verhoudinge in die teenoorgestelde rigting as die verhouding tussen die staat en die res van die burgerlike samelewing, waar die staat aan die terugtrek is.

- van studente as kliënte

- van die industrie en van die samelewing, en

- van administratiewe en ondersteuningspersoneel by universiteite.

2.5 Suid-Afrikaanse konteks

Naas bovermelde internasionale tendense, staan hoër onderwys in Suid-Afrika ook nog onder die invloed van 'n nasionale konteks, waar hoër onderwys sowel die toneel van ingrypende hervorming is, as een wat (deur die regering en die samelewing) geselekteer is as instrument wat aangewend moet word om 'n gewenste maatskaplike herkonstruksie teweeg te bring.

Na 1994 het die regering besluit om 'n onderwysstelsel te bou op die volgende beginsels: desegregasie, gelyke geleenthede, desentralisasie, demokratisering en multikulturalisme (Wolhuter 1999). Aangesien baie van die beginsels die diametrale teenoorgestelde is van die voor-1994 onderwys, het dit 'n radikale hervorming van die onderwysstelsel beteken. Verder is twee grootskaalse hervormings deurgevoer. Ten eerste is die stelsel van inhoudsgebaseerde onderwys vervang met 'n stelsel van uitkomsgebaseerde onderwys. Tweedens is 'n statutêre Nasionale Kwalifikasie Raamwerk (NKR) geskep, om 'n netwerk van lewenslange leer vir alle Suid-Afrikaners te skep.

Die onderwysstelsel word geag bevordelik te wees vir die bereik van 'n ambisieuse reeks maatskaplike doelstellings. Dié doelstellings sluit in:

- ekonomiese doelstellings: die uitwis van armoede en die bevordering van die land se ekonomiese produktiwiteit en ontwikkeling

- sosiale doelstellings: die bou van 'n samelewing vry van rasse-, geslags- en ander vorme van onbillike diskriminasie; die skep van 'n maatskaplik-mobiele samelewing en die verwydering van kunsmatige hiërargieë en versperrings in die pad van mense se vooruitgang

- kulturele doelstellings: die bemagtiging van mense sodat hulle doeltreffend kan deelneem aan die prosesse van kulturele uitdrukking

- politieke doelstellings: die bemagtiging van burgers om deel te neem aan alle prosesse in 'n demokratiese samelewing

- nasiebou: die bou van 'n gemeenskaplike waardestelsel vir 'n samelewing wat gekenmerk word deur demokrasie, gelykheid, vryheid, vrede, geregtigheid, verdraagsaamheid en stabiliteit.

Bostaande program, saam met die internasionaal kontekstuele kragte, het radikale implikasies vir al die aspekte van die professionele lewens van akademici: onderrigaktiwiteite, navorsingsaktiwiteite, gemeenskapsaktiwiteite, ondernemersaktiwiteite, administratiewe lading, fasiliteite, salarisposisie, die mate van invloed wat hulle op hulle professionele omgewings het, hulle verbintenis tot hulle velde, departemente/skole en universiteite, en hulle werks-tevredenheid.

2.6 Onderrig

Aangevuur deur bostaande beleid, vind 'n ontploffing in hoër onderwysinskrywingsgetalle tans in Suid-Afrika plaas, wat die onderriglas van akademici al swaarder maak. Vanaf 1994 tot 2006 het die getal studente aan Suid-Afrikaanse universiteite toegeneem vanaf 495 355 tot 741 380 (UNESCO 2009), en die Minister van Onderwys het onlangs die teiken van 'n verdere 100 000 studente in die nabye toekoms gestel (Rademeyer 2007:8). Een gevolg van die toestroming van studente - as dit byvoorbeeld saamgelees word met die dalende matriekresultate - is 'n verswakking in die kwaliteit student wat die stelsel betree. Gedurende 2005 het persberigte gereeld verskyn wat gerapporteer het oor eerstejaarstudente aan Suid-Afrikaanse universiteite wat swakker as vorige jare se eerstejaarstudente in hulle toetse presteer (bv. Rademeyer 2009:13; Dibetle 2009:1). Suid-Afrika se studente het 'n hoë studente attrisiesyfer: slegs 11% en 43% van onderskeidelik Swart en Blanke studente in Ekonomiese Bestuurswetenskappe voltooi by-voorbeeld hulle grade binne die voorgeskrewe tydperk (Gower 2008:15). Boonop het die Minister van Hoër Onderwys in 2009 verklaar dat die huidige stelsel, waarvolgens slegs 18% van matrikulante universiteitstoelating behaal, aangepas moet word omdat dit te veel matrikulante universiteitstoelating ontsê (SAPA 2009:1).

2.7 Navorsing

Histories was Suid-Afrikaanse universiteite primêr onderriginstellings, wat hulle missie gekonsipieer het as die opleiding van hoëvlak menslike hulpbronne vir 'n ontwikkelende ekonomie (cf. Sutherland & Wolhuter 2002:79). Sedert die instelling van 'n nuwe subsidieformule in 1984, wat staatsbefondsing van universiteite koppel aan hulle navorsingsuitset, neem die druk op akademiese personeel om hulle navorsingsuitsette te verhoog, net toe.

2.8 Gemeenskapsdiens

Gebore uit die tradisie van die Britse universiteite van liberale studies ("liberal studies") het universiteite in Suid-Afrika histories 'n ivoortoringkarakter gehad. 'n Sosiale wetenskap soos Opvoedkunde ('n ekstreme maar nie a-tipiese geval nie) is in die voor-1994 tydperk daarvan beskuldig dat dit aan Suid-Afrikaanse universiteite beoefen word as 'n op sigself staande ("self-contained") veld van studie, sonder inagneming van die sosiale en ekonomiese realiteite van Suid-Afrika (Steinberg 1987:14). Gevolglik het gemeenskapsdiens tradisioneel nie hoog op die agenda van Suid-Afrikaanse akademici gefigureer nie. Dit het egter in die onlangse verlede verander, en gemeenskapsbetrokkenheid word ook van Suid-Afrikaanse akademici geëis, namate die wêreldwye tendens van die eis van relevansie van die hoër onderwyssektor ook onder plaaslike regeringsleiers, beleidsformuleerders en openbare meningsvormers weerklank vind.

2.9 Administrasie en bestuur

Die battery van regeringsvoorskrifte, en die imperatief om universiteite op grond van sake-ondernemingsbeginsels te bestuur, skep binne universiteite 'n burokratiese hiërargie, met 'n bestuurskultuur ("managerialism"), waaraan Suid-Afrikaanse akademici ook nie kon ontkom nie (cf. Webster & Mosoetsa 2002; Ntshoe et al. 2008).

2. 10 Ondernemerskap

Die neo-liberale ekonomiese revolusie en die eis om die universiteit op sake-beginsels te laat funksioneer, het verder daartoe gelei dat daar van akademiese personeel verwag word om ondernemers te wees. Wanneer voornemende akademiese personeel tans aansoek om 'n aanstelling aan 'n universiteit in Duitsland doen, word daar van hulle vereis om te verduidelik hoeveel geld hulle vir die universiteit sal kan genereer (Teichler 2006). Gedurende 2003 het Amerikaanse universiteite $1.3 biljoen deur patente verdien (Friedman 2004:317). In Suid-Afrika is druk dienooreenkomstig besig om op te laai. Dit wissel vanaf die ontwerp en aanbied van kortkursusse, tot die nuwe Intellektuele Eiendomsregwet, wat elke Suid-Afrikaanse universiteit verplig om 'n tegnologie-oordragkantoor tot stand te bring, wat sal verseker dat, soos wat die wet dit stel, die intellektuele eiendom wat met behulp van regeringsgeld binne die universiteit ontwikkel is, nie dormant sal lê nie, maar aangewend sal word tot die voordeel van Suid-Afrika, deur middel van patentering en kommersialisering deur entrepreneurs (Terblanche 2009:3).

2.11 Fisiese fasiliteite en salaris

Alhoewel data nie vrylik beskikbaar is nie, kan dit verwag word dat die toestroming van studente en die toenemende finansiële rekenpligtigheid wat universiteite ten laste gelê word, 'n nadelige uitwerking sal hê of druk sal plaas op die fisiese infrastruktuur van universiteite sowel as op die salarisposisie van akademiese personeel.

2.12 Gevolge: Vermindering van werkstevredenheid

Insgelyks kan dit sekerlik sonder vrees vir teenspraak gepostuleer word dat onder die verhoogde werklading, en die wegkalwing van die outonomiteit van akademiese personeel, hulle 'n gebrek aan beheer oor hulle professionele omgewing sal beleef; hulle verbintenis en toegewydheid teenoor hulle universiteite sal begin taan, en hulle werkstevredenheid sal afneem.

 

3. NAVORSINGSMETODE

Die vraelys van die Changing Academic Profession (CAP) maak dit moontlik om die aantreklikheid van die akademiese professie, soos beleef deur die akademiese professie, te meet. Die CAP-projek is 'n internasionale ondersoek na die akademiese professie, wat tans in 22 lande plaasvind (cf. www.capstudy.org). As deel van dié ondersoek, het die skrywers die vraelys in 2008 laat voltooi deur 'n verteenwoordigende steekproef van 700 Suid-Afrikaanse akademici.

Die CAP-ondersoek is die tweede internasionale ondersoek na die akademiese professie. Die eerste ondersoek was die Carnegie-Ondersoek, wat gedurende die vroeë 1990s in 14 lande plaasgevind het, en waarvan die resultate saamgevat is in Altbach (1995). Aangesien Suid-Afrika ten tye van die beplanning van die Carnegie-Ondersoek nog onderworpe was aan die internasionale akademiese boikot, was Suid-Afrika aanvanklik nie deel van dié projek nie. In medewerking met die hoofde van die Carnegie- ondersoek is die vraelys van die ondersoek egter gedurende 2002 voltooi deur 'n verteenwoordigende steekproef van Suid-Afrikaanse akademici, en is die resultate gepubliseer in Wolhuter et al. (2007). Aangesien heelwat vrae in die vraelyste van die twee ondersoeke dieselfde is, maak 'n vergelyking tussen die antwoorde wat uit die twee ondersoeke verkry is dit moontlik om 'n aanduiding te verkry van tendense ten opsigte van die akademiese professie in Suid-Afrika.

 

4. RESULTATE

4.1 Werkdruk

Die getal ure per week wat die gemiddelde Suid-Afrikaanse akademiese personeellid aan verskillende professionele aktiwiteite bestee, soos blyk uit die CAP-ondersoek, verskyn in tabel 1.

Die totale aantal ure wat hulle bestee aan hulle werksaktiwiteite is meer as die 45.00 per week maksimum wat arbeidswetgewing in Suid-Afrika as norm stel. Die tyd wat hulle aan onderrigverwante aktiwiteite bestee - 21.42 uur per week binne die akademiese jaar, 13.34 uur per week buite die akademiese jaar - is verder aansienlik meer as die 12.9 uur per week (algehele gemiddelde) wat die Carnegie-Ondersoek van 2002 gerapporteer het -onderrig is die enigste waarvoor vergelykbare statistiek beskikbaar is (Wolhuter et al. 2007: 510).

4.2 Verhoogde toegang tot universiteite

Respondente is gevra om op die stelling "Ek bestee meer tyd as wat ek graag sou wou om basiese vaardighede te onderrig, as gevolg van studente se tekortkominge", te reageer op 'n semantiese differensiaalskaal. Die resultate verskyn in tabel 2.

Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse akademici hulle in die onwenslike situasie bevind dat hulle in hulle onderrigpraktyk noodgedwonge met sub-universiteitsvlak onderrigtake opgesaal is.

4.3 Onderrig

Soveel as 49% van respondente het aangedui dat hulle universiteite kwantitatiewe teikens stel ten opsigte van die getal ure wat hulle moet onderrig gee; 36% dat hulle universiteite kwantitatiewe teikens het ten opsigte van die getal studente in klasse; en 41% dat hulle universiteite kwantitatiewe teikens het ten opsigte van die persentasie studente wat eksamens moet slaag. Wat hulle onderrigaktiwiteite betref, bevind Suid-Afrikaanse akademici hulleself dus in 'n voorskriftelike omgewing. Verder is klasse groot. Volgens respondente het die mediaan klas 195 studente.

4.4 Navorsing

Respondente is gevra om te antwoord op 'n aantal stellings ten opsigte van die navorsings-omgewing by hulle universiteite. Die antwoorde verskyn in tabel 3.

Suid-Afrikaanse akademici meen hulle bevind hulle in 'n omgewing waar die druk om eksterne befondsing vir navorsing te bekom toeneem, en waar hoë verwagtinge om navorsings-produktiwiteit te verhoog, ten minste volgens hulle eie mening, 'n bedreiging vir navorsings-kwaliteit inhou.

4.5 Besoldiging

Die gemiddelde respondent het sy/haar vergoeding aangegee as R221 373.51 per jaar. As die jare studie in ag geneem word, vergelyk selfs 'n professor se salaris - onlangs in die pers berig as ongeveer R480 000 per jaar (Rademeyer 2009:13) - swak met dié van vele ander beroepe, byvoorbeeld, bankbestuurder: R549 711; hoof uitvoerende beampte R2 421 273; kliniese sielkundige R423 965, ginekoloog: R965 053; psigiater: R815 758 en 'n radioloog: R1 352 213 (Salary Survey 2008).

4.6 Bestuurslokus

Respondente is gevra wie by hulle universiteite die primêre besluitnemingsbevoegdheid oor 'n reeks besluite het. Die resultate verskyn in tabel 4.

Selfs oor suiwer akademiese aangeleenthede, soos die goedkeuring van nuwe programme, of die stel van navorsingsprioriteite, het akademici (hetsy korporatief in fakulteitskomitees/-rade of veral individueel) duidelik maar min besluitnemingsmag.

Soos verwag kan word uit bovermelde, voel akademici redelik invloedloos. Respondente is gevra hoe invloedryk hulle wel is in die vorming van sleutel akademiese beleid op departementsvlak, op fakulteitsvlak en op institusionele vlak, en om te antwoord op 'n vierpunt Likert-skaal. Die frekwensieverspreiding van antwoorde, asook die gemiddeldes, en die gemiddeldes van die Carnegie-ondersoek (wat dieselfde vraag gevra het) verskyn in tabel 5.

Nie slegs voel akademici veral op die vlak van instelling nie baie invloedryk nie; maar op departementele en fakulteitsvlak voel hulle minder invloedryk as ten tye van die Carnegieondersoek in 2002.

4.7 Bestuurskultuur

Akademici se belewing van aspekte van hulle universiteite se bestuur verskyn in tabel 6.

Die meerderheid akademici meen daar bestaan nie goeie kommunikasie tussen bestuur en akademici nie; hulle universiteite het 'n bo-na-onder bestuurstyl en 'n omslagtige administratiewe proses. Verder het hulle administratiewe personeel nie 'n ondersteunende houding ten opsigte van hulle (akademici se) onderrig- en navorsingsaktiwiteite nie.

4.8 Fasiliteite en befondsing

Suid-Afrikaanse akademici se evaluering van fasiliteite en befondsing aan hulle universiteite verskyn in tabel 7.

Die meeste akademici skyn redelik tevrede te wees met fasiliteite en befondsing, alhoewel 'n aansienlike persentasie dit as swak evalueer, veral ten opsigte van navorsingsbefondsing.

4.9 Werktevredenheid

Respondente is gevra om hulle algehele werktevredenheid te evalueer op 'n vyfpunt Likert-skaal wat strek vanaf 1: baie hoog; tot 5: baie laag. Die antwoorde verskyn in tabel 8.

Alhoewel die gemiddelde Suid-Afrikaanse akademikus se algehele werktevredenheid redelik is, en selfs effens beter as in 2002, wek die feit dat 19% hulle algehele werktevredenheid as "laag" of "baie laag" evalueer, kommer.

Antwoorde op verwante vrae verskyn in tabel 9.

Hier is weereens die feit dat ongeveer 'n kwart van Suid-Afrikaanse akademici meen dat dit tans 'n swak tyd is vir enige jong persoon om met 'n akademiese loopbaan te begin; dat hulle werk 'n bron van aansienlike spanning is, en dat, as hulle kon oor kies, hulle nie die akademiese professie sou betree het nie, kommerwekkend. Dieselfde geld vir die bevinding dat bykans die helfte van akademici meen dat, sedert hulle met hulle akademiese loopbane begin het, werksomstandighede in hoër onderwys verswak het; en dat 24.1% van respondente aangedui het dat hulle op een of ander stadium gedurende die vyf-jaar periode voor die CAP-ondersoek dit oorweeg het om te verander van werk na buite die hoër onderwyssektor, en 10.7% aktief werk gesoek het buite die hoër onderwyssektor.

4.10 Verbintenis

Respondente is gevra hoe belangrik elk van die volgende affiliasies vir hulle is:

- hulle akademiese dissipline/veld

- hulle departemente aan hulle universiteite

- hulle universiteit

en om te antwoord op 'n vyfpunt Likert-skaal, wat strek vanaf 1: baie belangrik; tot 5: glad nie belangrik nie. Die antwoorde verskyn in tabel 10.

Akademiese personeel se affiliasie teenoor hulle universiteite is duidelik swakker as teenoor hulle akademiese veld.

 

5. GEVOLGTREKKING

Uit die CAP-ondersoek blyk dit dat akademiese personeel aan Suid-Afrikaanse universiteite onder groot werkdruk verkeer. Hulle werk langer ure as wat arbeidswetgewing in Suid-Afrika as norm stel.

In vergelyking met ander professionele lui word hulle onderbesoldig. Daarby het hulle, onder 'n groeiende bestuurskultuur, baie van die vryheid en outonomie wat histories aan die akademiese professie gekoppel is, verloor. Dan het hulle nog verdere frustrasies, byvoorbeeld die instroming van akademies swak voorbereide studente, en 'n gebrek aan toereikende navorsingsbefondsing. Onder hierdie omstandighede rapporteer 'n aansienlike persentasie dat hulle werksbevrediging laag is, en dat hulle dit oorweeg om die akademiese professie te verlaat. Volgens die beskikbare getuienis is die aantreklikheid van die akademiese professie in Suid-Afrika besig om te taan. Soos aan die begin van die artikel verduidelik, is die hoëronderwyssektor (en by implikasie dus ook die akademiese professie as kernkomponent daarvan) van kritieke belang vir die kennissamelewing wat besig is om sy beslag te kry. Daarom behoort die tanende aantreklikheid van die akademiese professie in Suid-Afrika as 'n saak van prioriteit dringende aandag te geniet van unversteitsbestuurders, en die Ministerie van Hoër Onderwys..

 

BIBLIOGRAFIE

Altbach, P.G. (ed.). 1996. The International Academic Profession: Portraits of Fourteen Countries. Princeton, New Jersey: The Carnegie Foundation for the Advancement of Teaching.         [ Links ]

Davidson, J.D. & Rees-Mogg, W. 1992. The great reckoning - how the world will change in the depression of the 1990s. London: Sidgwick & Jackson.         [ Links ]

Dibetle, M. 2009. First-year fumble. Mail & Guardian higher learning. May 2009:1.         [ Links ]

Friedmann, T.L. 2004. The World is Flat: The globalized world in the twenty-first century. London: Penguin.         [ Links ]

Ntshoe, I.M; Higgs, P.; Higgs, L.G. & Wolhuter, C.C. 2008. Corporation, Managerialism and the new Higher Education Environment in South Africa. South African Journal of Higher Education 22(2):391-403.         [ Links ]

Pienaar, C. 2009. Is die akademiese werksbedeling steeds volhoubaar? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(2):249-265.         [ Links ]

Rademeyer, A. 2007. Pandor sê nog universiteite is dalk nodig: Staat mik na 100 000 ekstra studente. Beeld 28 November 2007:6.         [ Links ]

Rademeyer, A. 2009. Net 17% kom chemie deur: die klagtes. Beeld 16 April 2009:14.         [ Links ]

Redwood, J. 1993. The global marketplace - capitalism and its future. London: Harper Collins.         [ Links ]

Salary Survey. 2008. Are you paid enough? Salary Survey in SA, Friday February 01, 2008. [http://www.tv99.co.za/default.asp?article1D7069&Blogname SalarySurveyinSA]         [ Links ] [Date of Access: 13 October 2009].

Steinberg, B. 1987. Comparative Education in South Africa: An irrelevant academic exercise? In: Young, D. & Burns, R. (eds). Education at the crossroad. Cape Town: The School of Education, University of Cape Town.         [ Links ]

Steyn, H.J. & Wolhuter, C.C. 2008. The education system and probable societal trends of the early twentyfirst century. In Education Systems: Challenges of the 21st Century, H.J.Steyn & C.C.Wolhuter (eds). Noordbrug: Keurkopie, pp. 1-34.         [ Links ]

Sutherland, L. & Wolhuter, C.C. 2002. Do good researchers make good teachers? Perspectives in Education 20(3):77-83.         [ Links ]

Teichler, U. 2006. Mededeling as deel van besprekings by beplanningsvergadering van CAP navorsingsprojek, Universiteit van Kassel, Duitsland, 1-6 September 2006.         [ Links ]

Terblanche, B. 2009. Turning ideas into cash. Mail & Guardian November 27 - December 3 2009:3.         [ Links ]

Tierney, W.G. 2009. Globalization, International Rankings, and the American Model: a reasessment. Higher Education Forum (Japan) 6:1-17.         [ Links ]

UNESCO. 2009. Statistics. Education [http://www.uis.unesco.org] [Datum van toegang: 19 April 2009]         [ Links ].

Watson, K. 1996. Education provision for the 21st century - who or what is shaping the agenda and influencing developments? In: Education and National Development in Southern Africa, P.M.T. Marope & S.G.Weeks (eds). Gaborone: Botswana Educational Research Association.         [ Links ]

Webster, E. & Mosoetsa, S. 2002. At the chalk face: Managerialism and the changing academic workplace. Transformation 48:59-82.         [ Links ]

Wolhuter, C.C. 1999. Sociaal-wetenschappelijke literatuur over onderwijs in Zuid-Afrika: Van verzuiling tot eensgezindheid vanuit verscheidenheid. Pedagogische Studiën (Nederland) 76:361-370.         [ Links ]

Wolhuter, C.C.; Van der Walt, J.L.; Higgs, L.G. & Higgs, P. 2007. Die akademiese professie in Suid-Afrika se belewing van die huidige rekonstruksie van die samelewing en hoër onderwys. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 47(4):501-515.         [ Links ]

World Bank, 2002. Constructing knowledge societies: New challenges for tertiary education. Washington DC: The World Bank.         [ Links ]

 

 

CHARL WOLHUTER het studeer aan die Randse Afrikaanse Universiteit, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch. Hy het sy doktoraat in Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy is 'n voormalige junior lektor in Historiese en Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria en 'n voormalige senior lektor in Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Zoeloeland. Tans is hy professor in Vergelykende Opvoedkunde aan die Potchefstroomse Kampus van die Noordwes-Universiteit. Hy is die skrywer van vele publikasies in Historiese en Vergelykende Opvoedkunde.
CHARL WOLHUTER studied at the Rand Afrikaans University, the University of Pretoria and the University of Stellenbosch. His doctorate was awarded in Comparative Education at the University of Stellenbosch. He is a former junior lecturer of History of Education and Comparative Education at the University of Pretoria and a former senior lecturer in History of Education and Comparative Education at the University of Zululand. At present he is Comparative Education professor at the Potchefstroom Campus of the North-West University. He has published widely on the History of Education and Comparative Education.

ISAAC NTSHOE is professor in onderwysbeleid, beplanning en kurrikulum aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Professor Ntshoe het onderskeidelik 'n MA in opvoedkunde in ontwik-kelende lande aan die Onderwysinstituut van die Universiteit van Londen en 'n PhD aan die Universiteit van die Witwatersrand, Suid-Afrika behaal. Sy navorsingsbelangstelling sluit onder meer die volgende in: globalisering en die nuwe bestuurskultuur in hoër opvoeding, die organisasie van leerderprogramme aan universiteite, rassisme in onderwys, die befondsing van hoër onderwys en kwaliteitsversekering.
ISAAC NTSHOE is professor of education policy, planning and curriculum at the Uiversity of South Africa (UNISA). Isaac read for the Institute of Education, University of London, UK, a Master's degree in education in developing countries, and earned a PhD from the University of the Witwatersrand, South Africa. His research interests include; globalisation and new managerialism in higher education, the organization of learning programmes in Universities, racism in education, funding of higher education and quality assurance.

LEONIE HIGGS is medeprofessor in die Departement Onderwys en Opleiding by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Sy het haar PhD aan die Universiteit van Pretoria behaal en was ook waarnemende direkteur van die Instituut vir Basiese Volwasse Onderrig (ABET) vanaf 1 Junie 2006- 30 Junie 2009. Haar belangstellings sluit basiese volwasse onderrig, lewenslange leer, volwasse onderrig en filosofie van opvoedkunde in.
LEONIE HIGGS is an associate professor in the Department of Teacher Education at the University of South Africa (UNISA). She earned a PhD from the University of Pretoria and also acted as director of the ABET institute from 1 June 2006-30 June 2009. Her interests are adult basic education, life-long learning, adult education and philosophy of education.

PHILIP HIGGS beklee 'n leerstoel in die Filosofie van Opvoedkunde aan die Departement van Opvoedkundige Studies aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Hy is 'n dosent aan die Skool vir Nagraadse Studies in die Kollege van Mens wetenskappe by UNISA.
PHILIP HIGGS occupies a Chair in Philosophy of Education in the Department of Education Studies at the University of South Africa (UNISA). He is at present a member of staff in the School for Graduate Studies in the College of Human Sciences at UNISA.