SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 n.1 Pretoria Mar. 2010

 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

At home in God's world: A transforming paradigm for being human and for social involvement

 

 

(2010) deur Bennie van der Walt
Potchefstroom: ICCA
Prys: R150
555 bladsye
ISBN 978-1-86822-570-5

Die jongste publikasie uit die produktiewe pen van hierdie Potchefstroomse emeritus-professor in Filosofie is 'n vervlegting van 'n aantal van sy resente artikels met die oorhoofse tema: Tuiswees in God se wêreld. Soos die goed gekose ondertitel aandui, poog die skrywer om die filosofiese diskoers oor mens-wees en sosiale betrokkenheid "omvormend" in hierdie nuwe paradigma tuis te bring. Hy verdeel die vyftien hoofstukke van die boek in vier afdelings: die Bybelse basis van 'n Christelike wêreldbeskouing en filosofi e; Christelik-filosofiese grondslae; 'n multi-dimensionele Christelike beskouing van mens-wees; en 'n Christelike sosiale filosofie.

As daar een impetus is wat hierdie boek voortstu, is dit seker die skrywer se intense waardering vir en uitgesproke promovering van die Nederlander, D.H.Th. Vollenhoven (1892-1978), se besondere gestalte van reformatoriese filosofie. Met wetenskaplike behendigheid, gepaard met 'n passie wat vlak onder sy woorde lê, lei hy die leser in Vollenhoven se - soos hy dit tipeer - "nuwe paradigma van Christelike filosofie" in. Uiteraard wil die skrywer nie in 'n ongebreidelde heldeverering van Vollenhoven verval nie. Tog noem hy Vollenhoven se probleem-historiese ontwerp van geskiedskrywing in die filosofie (soos deur navolgers verfyn en uitgebrei) onbeskaamd: "the only truly Christian philosophical historiography" (p.84).

Self gee hy 'n enigsins verhelderende toepassing (pp.80-126; vgl. 224-258) van hierdie metode, wanneer hy die filosofie van niemand minder as Calvyn nie ("the father of a transforming Christian worldview") daarvolgens behandel. In die tipering van Calvyn se wêreldbeskouing en filosofie word Vollenhoven se sogenaamde Schematische Kaarten (vgl. p. 174 vir 'n oorsigtelike diagram daarvan) ruimskoots gebruik. Dit loop daarop uit dat 'n sterk en diep Bybelse rigting in Calvyn se denke erken word. Terselfdertyd word egter aangetoon hoe sterk ander, buite-Bybelse, Grieks-filosofiese en humanistiese tendense sy denke deurtrek - spesifiek in die manier waarop hy die struktuur van die werklikheid beskou.

Waardering moet uitgespreek word vir die feit dat juis Calviniste op hierdie manier opgeskerp word om Calvyn meer krities te benader as wat meestal die geval is! Dit is inderdaad soms versoberend om deur die skematiese raamwerk van hierdie metode na Calvyn te kyk. Wanneer sy antropologie egter (om 'n enkele voorbeeld te noem) geëtiketteer word as synde semi-mistiesdichotomisties, en daar dan nog 'n verband met 'n horisontale parsieel-universalistiese tipe filosofie van 'n mikro-makro-soort ontdek (p. 95) word, begin die vraagtekens lewensgroot oor hierdie metode rys. Is iemand soos Calvyn en sy beweeglike, lewensegte denkstyl op hierdie manier inderdaad "tuisgebring" in God se werklike wêreld van worstelende maar begenadigde mense, of eerder in ons klein, abstrakte skema'tjies vasgevang - hoe Skrifgetrou hulle ook al geag word?

Our little systems have their day;
They have their day and cease to be:
They are but broken lights of Thee'
And Thou, o Lord, art more than they
( Tennyson, soos aangehaal deur Hendrikus Berkhof)

Miskien is sekere opmerkings van die gereformeerde dogmatikus, Berkouwer, in hierdie verband relevant. 'n Reformatoriese filosoof (die Amerikaner Cornelius van Til, 'n tydgenoot van Vollenhoven) het by Berkouwer - in Van Til se eie woorde - "the principle of the autonomous man, using a Parmedean-Spinozistic principle of continuity" bespeur. Daarop het die dogmatikus in 'n feesbundel vir Van Til (1974) gevra of hierdie manier van omgang met mekaar in kerk en teologie aanvaarbaar is. "I am not interested in the reference to Parmenides or Spinoza when the Scriptures have not been consulted anew...not without having given careful attention to the words of the Scriptures in their deepest meaning and authority. Sacra Scriptura sui ipsius interpres!"(kursivering oorspronklik).

Van der Walt sal die eerste wees om te erken dat geen menslike vertolking van die Skrif onfeilbaar is nie. Die standpunte van wie ook al - Calvyn , Plato of ons eie - moet telkens weer opnuut "in U lig" deurlig word. Dan het ons die belofte dat ons die lig sal sien (Ps. 36:10) - nie net in gelykgesinde denkers se werk nie, maar ook in "onverwagte", as heidens geëtiketteerde struktuurelemente van andersdenkendes. "Ook in die grofste afdwaling" - aldus 'n opmerking (in 1902) van Herman Bavinck, die bekende gereformeerde teoloog - hou 'n waarheidselement hom skuil, wat daardie afdwaling "dra en daaraan bekoring skenk".

Binne die bestek van 'n boekbespreking is dit uiteraard onmoontlik om reg te laat geskied aan die verskeidenheid hoofstukke in hierdie publikasie. Oor die algemeen getuig hulle van die wye belesenheid en wetenskaplike kwaliteit waaraan ons reeds by hierdie skrywer gewoond geraak het. Persoonlik was Hoofstuk 11 vir my die boeiendste: Even death cannot separate us from God and his creation. Na 'n intense en eerlike worsteling met ons reformatoriese tradisie oor die sogenaamde "tussentoestand", stel Van der Walt, in die lig van sy verstaan van die Skrif op hierdie punt, moedig sy eie standpunt. Ek het daarvoor groot respek! Hy erken ook dat hy nog verder eksegeties wil navors wat die Skrif hieroor leer. "For the present", verklaar hy, "I feel myself mostly at home in Vonk's viewpoint, that when we close our eyes in death, we rest in the earth from which God created man in the beginning. We are really dead". Hy ontken daarom ook 'n tussentoestand vir die dooies. Hulle het geen bewustheid van voortgaande tyd nie. "When they close their eyes, they 'simultaneously' open them again at their resurrection at Christ's return". Dit is die naasbestaandes van die gestorwene wat die dood van hulle geliefde in terme van 'n voortgang in die tyd van steeds lewendes ervaar.

Om my kritiese opmerkings saam te vat: Sonder om afbreuk te doen aan my waardering vir die skrywer se indringende Koninkryksvisie, wat deur al sy werke straal, mis ek tog iets van 'n daadwerklike uiting van katolisiteit in sy denke. Wat ek bedoel is daardie "katolieke" ingesteldheid wat bo jou eie filosofiese "skool" of groep-van-betreklik-gelykgesindes uit "wyd en ruim die blik oor die kerke (en, mag ek byvoeg: ook die filosofie) te laat wei..."(Herman Bavinck, 1888).

P Paul Kruger
Departement Sistematiese Teologie
Mukhanyo Teologiese Kollege
KwaMhlanga, Mpumalanga.