SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 no.1 Pretoria Mar. 2010

 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

Ons ongehoorde soort: beskouings oor die Werk van Antjie Krog

 

 

(2009) deur Louise Vijoen
Stellenbosch, Sun Press.

Louise Viljoen se versameling opstelle oor Antjie Krog se oeuvre is 'n waardevolle bydrae tot die akademiese gesprek rondom die werk van een van die belangrikste digters wat tans in Afrikaans skryf. Die toeganklikheid van Viljoen se prosa verseker ook dat Ons Ongehoorde Soort lesers buite akademiese kringe sal lei tot 'n ryker begrip van die nuanse en tegniese vernuf van Krog se werk. Krog se onlangse kommentaar op Julius Malema en die liedjie "De la Rey" het gelei tot omstredenheid, wat dikwels gekenmerk is deur ondeurdagte reaksies. Viljoen se opstelle help lesers om te sien hoe Krog se kommentaar saam met haar poësie en prosa deel vorm van 'n lewenslange projek, wat spruit uit die behoefte om te bevraagteken, te verstaan en nuwe maniere van dink en wees voor te stel.

Viljoen haal haar titel uit Krog se gedig "Liewe S." wat in 1989 in die bundel Lady Anne verskyn het. Die metafoor van 'n "ongehoorde soort" is 'n uiters toepaslike titel vir 'n blik oor Krog se werk. Die woord "ongehoord" dui op dit wat deur mense as verregaande of ondenkbaar beskou kan word omdat dit so ver buite hulle eie verwysingsvelde lê. Viljoen karteer hoe Krog nog nooit geskroom het om die grense van die gemaklike en konvensionele te oorskry nie. Sy is telkens vernuwend in terme van die inhoud en vorm van haar poësie terwyl die eksperiment met genre-konvensies in haar prosa keer op keer opwindende uitdagings aan haar lesers bied. In haar uiters deeglike ontginning van die "ongehoordheid"-metafoor, wys Viljoen verder hoe Krog se werk erkenning gee aan die vroue wat sy as haar voorgangers beskou en wie se stemme as gevolg van patriargie "ongehoord" gebly het.

Soos Krog, lewer Viljoen 'n belangrike bydrae tot die herstel van die gedempte vroulike stem. Haar teks begin met die hoofstuk "Die gesprek met literêre moeders". Deur middel van 'n omvattende bespreking van literêre teorie, plaas sy Krog se poësie binne 'n tradisie van die vroulike skryfkuns. Sy analiseer die uitdagings wat opduik wanneer 'n vrou haar identiteit as skrywer moet ontwikkel binne 'n omgewing en literêre tradisie wat fundamenteel manlik is. Vanuit 'n feministiese oogpunt is een van die belangrikste aspekte van Krog se werk haar aandrang op die liggaamlike aard van ondervinding. Die teorieë van veral Bakhtin en Elizabeth Grosz word op 'n besonder insiggewende wyse aangewend in Viljoen se analise van die vroueliggame in Krog se poësie. Deurgaans illustreer Viljoen hoe Krog se fokus op die vroulike liggaam sosiale strukture en tradisionele denkwyses bevraagteken, onderwyl sy haar reputasie as a grensoorskrydende digter bevestig. Viljoen identifiseer sommige van hierdie grense wat Krog versit: Die skeiding tussen die private en openbare terreine wat Krog oorskry deur die onbeskroomde artikulasie van mans en vroue se geslagsdele; die skeiding tussen die feitlike en die fiktiewe wat geproblematiseer word deur die outobiografiese elemente in Krog se werk; die poëtiese tradisie wat voorhou dat sekere dinge nie geskikte temas vir die digkuns is nie, word geminag deur Krog se treffende poësie oor die huwelik, moederskap, huishouding, maandstonde en die veroudering van die liggaam. Danksy feminisme weet ons vandag dat hierdie mees intieme aspekte van ons lewenservaring intrinsiek polities is, en daarom beskryf Viljoen tereg Krog se werk as 'n soort "'politiek van die liggaam' waarmee sy rebelleer teen die beperkinge wat daar in die samelewing en binne die estetika gelê word op die uitleef en uitdrukking van (vroulike) liggaamlikheid" (215).

Viljoen se teks is 'n belangrike rekord van die teoretiese veranderinge wat beide Krog se eie werk en die akademiese omgang met haar werk oor die afgelope paar dekades beïnvloed het. In haar hoofstuk "Die verwerking van die geskiedenis" analiseer Viljoen Krog se voorstelling van die geskiedenis van twee vroue (Susanna Smit in "Die leeu en die roos" en Lady Anne) in gedigte uit Otters in Bronslaai (1981) en Lady Anne (1989). Die keuse van gedigte van die begin en einde van die dekade stel Viljoen in staat om te illustreer hoe die postmodernisme se rol in die Afrikaanse letterkunde gedurende die loop van die tagtigerjare toegeneem het. Ook in hierdie hoofstuk word 'n gedetailleerde studie van geselekteerde gedigte uitstekend gegrond in die relevante literêre teorieë. Viljoen wys hoe die postmodernisme se neiging om duidelike grense te problematiseer, 'n nuttige raamwerk bied vir 'n lesing van Krog se werk. Viljoen se jarelange ondervinding as 'n letterkundedosent dra waarskynlik by tot haar indrukwekkende vermoë om die berugte kompleksiteit van postmodernistiese teorie besonder toeganklik vir lesers te maak.

Alhoewel Viljoen hoofsaaklik fokus op Krog se poësie, word twee hoofstukke ook gewy aan Country of my Skull en 'n Ander Tongval. Een van die temas wat deurgaans in Krog se werk opduik, is dié van identiteit en haar plek in die landskap van Afrika. Aan die hand van 'n deeglike teoretiese bespreking, analiseer Viljoen hoe die interaksie tussen identiteit en ruimte fi gureer in Krog se prosa en poësie. Van Krog se ander bekende temas, soos transformasie en vertaling, word ook omvattend deur Viljoen bespreek. 'n Besonder goeie hoofstuk vergelykende analise, getiteld "Die digter as reisiger", verdien spesiale vermelding. In hierdie hoofstuk tref Viljoen 'n vergelyking tussen 'n gedigsiklus van Leipoldt en een van Krog. Eersgenoemde handel oor 'n reis na Nederlands-Indië in 1912 terwyl laasgenoemde gebaseer is op Krog se reis na Timboektoe in 1999. Viljoen betrek ook twee prosatekste waarin elke skrywer hul refleksies oor hul reise noteer. In beide gevalle ondergaan die digter-reisigers 'n proses van selfontdekking en herdefi nieer hulle hul verhouding met Suid-Afrika. Viljoen analiseer hoe hierdie prosesse moontlik gemaak word deur "'n oopstelling vir die ander" (145), wat ook 'n tema is waarna Krog deurgaans terugkeer.

Hierdie boek is 'n belangrike teks wat sonder twyfel wyd voorgeskryf sal word. Die integrasie van die analise van Krog se werk en die omvattende bespreking van die nuutste en belangrikste literêre teorieë is veral indrukwekkend. Saam met ander gereelde lesers van Viljoen se artikels sien ek uit na haar kommentaar op Krog se nuutste prosateks, Begging to be Black.

Jessica Murray
St Augustine College, Johannesburg