SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1The interactive approach to reading instruction: an alternative to traditional ways of teaching readingOns ongehoorde soort: beskouings oor die Werk van Antjie Krog - Louise Viljoen author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 n.1 Pretoria Mar. 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Hoëronderwysstudente se persepsies van die invloed van 'n wegbreekjaar op hul persoonlike ontwikkeling

 

The perception of higher education students of the influence of their gap year experiences on their personal development

 

 

Marietha Nieman

Departement Opvoedkunde, Unisa, Pretoria. E-pos: niemanm@unisa.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar gerapporteer oor 'n aantal hoëronderwysstudente se persepsies oor die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar en die invloed daarvan op hul persoonlike ontwikkeling. 'n Wegbreekjaar word beskryf as 'n tydperk wat wissel van 3 tot 24 maande wat "afgeneem" word tydens enige stadium van 'n mens se lewe om 'n verskeidenheid van aktiwiteite uit te voer. Dit kan vrywillige of betaalde werk plaaslik of oorsee behels. 'n Kwalitatiewe navorsingsbenadering is gevolg. Data is versamel deur middel van 25 individuele, semi-gestruktureerde onderhoude wat gevoer is met hoëronderwysstudente wat 'n wegbreekjaar geneem het voordat hulle met hul universiteitsopleiding begin het. Dit blyk uit die bevindings dat studente op die volgende drie maniere by 'n wegbreekjaar kan baat: hulle ervaar persoonlike groei en ontwikkel 'n aantal lewensvaardighede tydens 'n wegbreekjaar, hul interpersoonlike en kommunikasievaardighede verbeter en hulle ontwikkel 'n breër siening van en 'n beter perspektief op die lewe. Alhoewel daar 'n toename was in die aantal Suid-Afrikaners wat die afgelope dekade en 'n half 'n wegbreekjaar geneem het, is daar in Suid-Afrika nog baie min wetenskaplike navorsing gedoen oor hierdie groep jongmense se ervarings.

Trefwoorde: wegbreekjaar; hoëronderwysstudente; persoonlike ontwikkeling; lewensvaardighede; interpersoonlike vaardighede; kommunikasievaardighede; lewensbeskouing; voordele van 'n wegbreekjaar; nadele van 'n wegbreekjaar


ABSTRACT

This article reports on a number of higher education students' perceptions of the advantages and disadvantages of taking a gap year, and the effect of a gap year on their personal development.
A gap year can be described as taking "time out" during any stage of one's life in order to undertake any of a number of activities. It may involve various combinations of paid and voluntary work locally or overseas, but in some instances a gap year is spent travelling, doing an adventure course or a course in self-development. Sometimes young people devote a gap year to religious studies or activities. A gap year is usually taken before entering a higher education institution, between college/university and starting a career, or even before making a career change. It may last from three months to a year, but is often extended to two years and in some instances even continue for longer periods. This article deals only with the gap year students take immediately after their final school year, before entering a higher education institution. Matriculants mainly decide to take a gap year because they are uncertain about whether (and what) they want to study, want to earn money or simply want to take a break from studying.
In this research project a qualitative approach was followed. To gather data, the researcher conducted 25 individual, semi-structured interviews with higher education students who had taken a gap year before entering university. The questions that were asked dealt inter alia with the reason why they took a gap year; what they did during their gap year; how the gap year influenced their social and academic adjustment at university; what life skills they acquired during their gap year; what they regard as the advantages and disadvantages of a gap year; what problems or challenges they experienced; and what the gap year meant for their personal development. Follow-up questions were asked when necessary.
The findings identified a range of benefits enjoyed by students as the result of a gap year. These benefi ts can be divided into the following three categories: (1) They experience personal growth and develop a number of life skills during a gap year. This category can be subdivided into the following subcategories: growing up quickly; acquiring greater independence, responsibility and self-confidence; gaining life and work experience, self-knowledge and a better perspective on the future; learning to persevere, to work with money, to treat freedom with responsibility; and learning how to handle difficult situations in everyday life and in the workplace.(2) Their interpersonal and communication skills improve. These include making new acquaintances; improving interpersonal relationship and communication skills; and learning how to handle conflict in the workplace. (3) They acquire a broader world-view and a better perspective on life. Because they are confronted with the realities of life they gain a more objective perspective on life and learn to understand other cultures better.
The investigation also revealed a number of disadvantages of a gap year. Gap year students have fallen behind their peer group and will start earning money at a later age. It takes time to adjust to academic studies after a year of non-academic activities. Many young people do not utilise their gap year to gain valuable experience and struggle to fi nd their feet afterwards.
Although there has been an increase in the gap-year phenomenon over the past decade, very little scientific research has previously been done on South African students' experiences of a gap year.

Key Terms: gap year; higher education students; personal development; life skills; interpersonal skills; communication skills; world-view; gap year advantages; gap year disadvantages.


 

 

1. INLEIDING

Omdat baie skoolverlaters nog onseker is oor hul toekomsplanne, het die gebruik om 'n jaar na skool "af te vat" voordat hulle met verdere studie begin of die beroepslewe betree, die afgelope dekade baie gewild geword onder Suid-Afrikaanse jeugdiges. Soos in die res van die wêreld is dit hier ook veral middelklas, blanke, goed geskoolde jongmense (vgl. Duncan 2004:5; Heath 2007:100) wat die geleentheid aangryp om vir 'n jaar oorsee te gaan werk, plaaslik as vrywilliger of teen vergoeding te werk, 'n postmatriekjaar te doen, te reis, of om 'n geloofs- of selfverrykingskursus (slypskool) by te woon. Volgens Coetzee en Bester (2009:608) tref betrokkenheid by 'n betekenisvolle aktiwiteit soos werk of doelgerigte reis die vernaamse onderskeid tussen 'n gapingjaar en 'n vakansie. Haigler en Nelson (2005:21) beklemtoon dat 'n wegbreekjaar met 'n spesifieke doel voor oë geneem moet word en dat 'n blote vakansie nie as 'n wegbreekjaar beskou kan word nie.

'n Wegbreekjaar word beskou as 'n oplossing vir diegene wat nog onseker is oor 'n moontlike studierigting, wat geld bymekaar wil maak om vir hul eie studie te betaal, wat lewenservaring wil opdoen of wat moeg is vir studeer en iets anders wil doen voordat hulle met universiteitsopleiding voortgaan. Baie ouers verkies selfs dat kinders wat nog nie gereed is om met verdere studies te begin nie, of wat onseker is oor 'n geskikte studierigting, 'n wegbreekjaar neem en absoluut seker maak van dit wat hulle wil studeer in plaas daarvan om ten duurste 'n jaar op universiteit deur te bring en dan te besluit om van rigting te verander.

Ten spyte daarvan dat 'n wegbreekjaar 'n baie algemene verskynsel onder Suid-Afrikaanse skoolverlaters is en dat oorsese navorsing getoon het dat dit skoolverlaters beter voorberei vir verdere studies (Griffith 2008:4; Jones 2004:59) en bydra tot hul persoonlike ontwikkeling (Haigler & Nelson 2005:29, 37; Jones 2005:2-3; Heath 2007) is daar plaaslik nog baie min wetenskaplike navorsing gedoen oor Suid-Afrikaanse studente se wegbreekjaarervarings. Die meeste navorsingsverslae of artikels oor die waarde van 'n wegbreekjaar wat wel bestaan, handel oor oorsese jongmense se belewing van hul wegbreekjaar. Navorsing oor oorsese studente se ervarings kan nie sonder meer op Suid-Afrikaanse studente van toepassing gemaak word nie, omdat laasgenoemde groep meer geneig is om 'n betaalde werk te doen, terwyl eersgenoemde groep baie op vrywillige werk en reis (dit word dikwels voluntourism1 genoem) ingestel is. Daar kan gevolglik tereg gevra word in watter mate Suid-Afrikaanse jeugdiges by die neem van 'n gapingjaar baat vind en of so 'n gapingjaar wel tot hul persoonlike ontwikkeling en groei bydra. Hierdie artikel het ten doel om die leemte in wetenskaplike navorsing oor die gapingjaarverskynsel te vul en die kennisveld oor die neem van 'n wegbreekjaar aan te vul deur spesifiek te fokus op die wyse waarop hoëronderwysstudente se ervarings tydens hul gapingjaar hul persoonlike ontwikkeling en groei beïnvloed het.

 

2. WAT BEHELS 'N WEGBREEKJAAR?

Haigler en Nelson (2005:21) voer die ontstaan van 'n wegbreekjaar baie ver terug. Volgens hulle is dit 'n eeue-oue tradisie wat diep gesetel is in baie kulture, mites, en klassieke letterkunde wat handel oor jong avonturiers wat op reis gaan en daardeur groter wysheid en selfbegrip bekom. Hulle noem The Pilgrim's Progress, Gulliver's Travels en Siddhartha, die "walkabout"-tradisie van Australiese inboorlinge en die Duitsers se "Wanderjahr" as voorbeelde hiervan.

Die Centre for Career Development van die University of Nottingham (2008) in Brittanje beskou 'n wegbreekjaar as 'n blaaskans ("time-out") in enige stadium van 'n mens se lewe om 'n aantal moontlike aktiwiteite te verrig. Alhoewel die woord "jaar" gebruik word om die verskynsel te tipeer, wissel die wegbreektyd volgens Jones (2004:24) van drie maande tot twee jaar. (Die onderhawige navorsingsprojek het egter aangetoon dat dit soms selfs langer kan duur.) 'n Wegbreekjaar (of -jare) word meestal voor die jongmens se toetrede tot 'n universiteit of kollege geneem, maar studente neem soms ook tydens hul kollege- of universiteitsloopbaan 'n blaaskans. Ander neem 'n wegbreekjaar voor hulle die beroepswêreld betree of selfs voordat 'n beroepsverandering gemaak word (Griffith 2008:9-10). Hierdie artikel fokus slegs op 'n wegbreekjaar wat studente direk na hul skoolloopbaan en voor hul toetrede tot 'n hoëronderwysinstelling geneem het.

Die bestaande literatuur oor die neem van 'n wegbreekjaar vermeld 'n groot verskeidenheid redes waarom jongmense 'n wegbreekjaar neem. Volgens Jones (2004:37), Haigler en Nelson (2005:26-27), die Centre for Career Development van die University of Nottingham (2008) en Griffith (2008:2-5) is die vernaamste redes waarom skoolverlaters dit doen die volgende: Hulle neem 'n gapingjaar om geld (verkieslik in sterk geldeenhede) te verdien; om mense van verskillende kulture en lande te leer ken; om tyd te hê om oor 'n toekomstige beroep of studierigting te besluit; om meer selfvertroue te kry en waardevolle lewens- en werkservaring op te doen; om mense te help of 'n maatskaplike bydrae te maak (byvoorbeeld deur vrywillige werk te doen); om iets te doen waarvoor daar nie later in die lewe tyd gaan wees nie; of om geestelik verryk te word (byvoorbeeld deur 'n diensjaar vir Christus of 'n kursus van godsdienstige aard te doen).

Dit blyk dat 'n wegbreekjaar 'n groot aantal voordele kan inhou. Daar word aangevoer dat 'n wegbreekjaar studente beter voorberei op hoër onderwys en dat studente wat eers 'n wegbreekjaar geneem het hul studie baie meer gefokus aanpak. Griffith (2008:4) sê dat studente herhaaldelik aandui dat reis, werk of vrywillige gemeenskapsdiens oorsee hulle help om hul gedagtes te fokus op dit wat hulle regtig wil doen. Volgens Haigler en Nelson (2005:29, 37) kan 'n wegbreekjaar ook baie bydra tot die persoonlike groei en ontwikkeling van 'n persoon. In hierdie artikel word 'n aantal hoëronderwysstudente in Suid-Afrika se persepsies ten opsigte van hul wegbreekjaarervaring onder die loep geneem met die oog daarop om vas te stel wat húlle as die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar beskou en om te bepaal op watter wyse hul ervarings tot hul persoonlike ontwikkeling bygedra het.

 

4. NAVORSINGSONTWERP EN -METODE

Die navorsingsbenadering wat gevolg is, is kwalitatief omdat dit 'n beskrywing en analise van mense se aksies, oortuigings, idees en persepsies is (McMillan & Schumacher 2006:315). Die volgende aanhaling van Psathas (1973) uit Bogdan en Biklen (1992:32) is van toepassing op die wyse waarop die onderhawige navorsing benader is en dien as verdere motivering vir die kwalitatiewe aard daarvan:

Qualitative researchers in education can continually be found asking questions of the people they are learning from to discover 'what they are experiencing, how they interpret their experiences, and how they themselves structure the social world in which they live'.

Volgens Lodico, Spaulding en Voegtle (2006:16) poog fenomenologiese studies (as een van die tipes van kwalitatiewe navorsing) om die "essensie" van menslike ervaring vas te vang. Elke individu se perspektief op die realiteit is belangrik en ten einde daardie perspektief na vore te laat kom, maak fenomenologiese navorsers dikwels van deurtastende onderhoudvoering gebruik. Die navorsingsontwerp is dus 'n fenomenologiese studie in die sin dat 'n noukeurig geselekteerde steekproef van deelnemers se pesepsies, perspektiewe en belewenis van 'n spesifi eke gebeurtenis of situasie (in hierdie geval 'n wegbreekjaar) in onderhoude ondersoek is (Leedy & Ormrod 2005:139) en omdat dit beskrywend en interpreterend van aard is (Denscombe 2003:96). Aangesien daar nog min navorsing oor hierdie onderwerp onder Suid-Afrikaanse studente gedoen is, was die navorsing in 'n groot mate verkennend van aard.

Die doel met die navorsing is om diepgaande ondersoek in te stel na verskeie aspekte van die ervarings van hoëronderwysstudente wat 'n wegbreekjaar geneem het ten einde te bepaal wat die studente as voor- en nadele van 'n wegbreekjaar beskou en om hul persepsie oor die wyse waarop dit hul persoonlike ontwikkeling en aanleer van lewensvaardighede beïnvloed het, te ondersoek. Die navorsing word as van belang beskou omdat die aantal jongmense wat 'n gapingjaar neem die afgelope dekade toegeneem het. Die navorsingsbevindings kan voornemende nemers van 'n gapingjaar (oftewel "gappers" soos wat hulle allerweë bekend staan) help om die regte gapingjaaropsie te kies en om soveel as moontlik waarde uit hul gapingjaar te put. Vanweë die kwalitatiewe en verkennende aard van die navorsing word 'n veralgemening van bevindings nie beoog nie.

Vyf-en-twintig studente by verskeie Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings wat 'n wegbreekjaar geneem het voordat hulle met naskoolse studies begin het, het aan die navorsingsprojek deelgeneem. Geskikte deelnemers is deur 'n proses van doelmatige steekproefneming ("purposive sampling") en sneeubalsteekproefneming ("snowball sampling") gekies. 'n Groep van sewe studente wat 'n gapingjaar geneem het, is aanvanklik geïdentifiseer deur navraag onder studente te doen. Daarna is elke student gevra om iemand anders wat ook 'n gapingjaar geneem het, te nomineer. Slegs studente wat direk na hul skoolloopbaan 'n wegbreekjaar (of wegbreekjare) geneem het voordat hulle met hul naskoolse opleiding begin het, is geselekteer. Eerste-, tweede- en derdejaarstudente asook honneursstudente verbonde aan vier verskillende universiteite het aan die navorsing deelgeneem. Twaalf manstudente en 13 damestudente, waarvan 11 Engelssprekend en 14 Afrikaanssprekend is, is by die navorsing ingesluit. Twintig studente het hul wegbreekjaar hoofsaaklik in die buiteland deurgebring en vyf het plaaslik gewerk. Daar is seker gemaak dat verskillende tipes wegbreekjare en verskillende studierigtings in die steekproef verteenwoordig is.

Die data-insamelingstrategie van individuele onderhoudvoering was 'n gepaste keuse omdat die inligting wat versamel is hoofsaaklik op emosies, belewenisse en gevoelens eerder as "straightforward factual matters" (Denscombe 2003:165) gegrond is. Die onderhoudskedule het bestaan uit 12 oop vrae wat op verskeie aspekte van 'n wegbreekjaarervaring gefokus het. Die vrae het gehandel oor die rede waarom hulle op 'n wegbreekjaar besluit het; wat hulle tydens hul wegbreekjaar gedoen het; hoe die wegbreekjaar hul beroepskeuse en studierigting beïnvloed het; hoe die wegbreekjaar hul aanpassing op sosiale en akademiese vlak beïnvloed het; die lewensvaardighede wat hulle tydens hul wegbreekjaar aangeleer het; die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar; watter probleme of uitdagings wegbrekers die hoof moes bied; en wat die wegbreekjaar vir hulle persoonlike ontwikkeling beteken het.

Indien nodig, is opvolgvrae gevra. Die duur van onderhoude het gewissel van 30 minute tot een uur 15 minute. Die onderhoude is op band opgeneem en daarna verbatim getranskribeer. Die analise is gedoen deur die data in eenhede vir ontleding te verdeel en die eenhede daarna te kategoriseer (Denscombe 2003:271).

Daar is aan etiese oorwegings aandag gegee deurdat die deelnemers skriftelik verklaar het dat hulle bereid is om aan die projek deel te neem en dat hulle geen beswaar het dat die gesprekke op band opgeneem word nie. Deelnemers is skriftelik van hul anonimiteit verseker.

 

5. BESPREKING VAN BEVINDINGS

5.1 Die wyse waarop 'n wegbreekjaar studente beïnvloed het

Uit die bevindings het drie hooftemas na vore gekom, naamlik invloed op die studente se (1) persoonlike ontwikkeling en verwerwing van lewensvaardighede; (2) interpersoonlike verhoudings en vaardighede; en (3) hul lewens- en wêreldbeskouing. Uit hierdie drie temas is 19 subtemas geïdentifi seer.

Die temas en subtemas word vervolgens bespreek en met aanhalings uit die onderhoude toegelig. Waar toepaslik is bevindings in verband gebring met menings en uitsprake in bestaande oorsese literatuur oor die wegbreekjaarervaring.

5.1.1. Invloed op die studente se persoonlike ontwikkeling en hul verwerwing van lewensvaardighede

Deelnemers het sonder uitsondering aangedui dat die wegbreekjaar hulle gehelp het (sommige het die woord "gedwing" gebruik) om vinnig "groot te word" of "volwasse te word". Een student het dit soos volg verduidelik: "... (R)egtig, as jy daar buitekant wil cope, moet jy baie vinnig grootword." Hierdie siening is deurtastend ondersoek deur middel van opvolgvrae. Daar is gevind dat die gevoel van meerdere volwassenheid meestal te make gehad het daarmee dat baie studente voel hulle is uit hul gemaksone geneem en dat hulle met 'n onvoorspelbare waagstuk begin het. Hulle het niemand geken nie en het hulle in 'n werksomgewing ("die grootmenswêreld"), bevind waar "kinderagtigheid" nie geduld word nie en waar hulle vir die eerste keer met die verantwoordelik