SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.50 no.1 Pretoria Mar. 2010

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Hoëronderwysstudente se persepsies van die invloed van 'n wegbreekjaar op hul persoonlike ontwikkeling

 

The perception of higher education students of the influence of their gap year experiences on their personal development

 

 

Marietha Nieman

Departement Opvoedkunde, Unisa, Pretoria. E-pos: niemanm@unisa.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar gerapporteer oor 'n aantal hoëronderwysstudente se persepsies oor die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar en die invloed daarvan op hul persoonlike ontwikkeling. 'n Wegbreekjaar word beskryf as 'n tydperk wat wissel van 3 tot 24 maande wat "afgeneem" word tydens enige stadium van 'n mens se lewe om 'n verskeidenheid van aktiwiteite uit te voer. Dit kan vrywillige of betaalde werk plaaslik of oorsee behels. 'n Kwalitatiewe navorsingsbenadering is gevolg. Data is versamel deur middel van 25 individuele, semi-gestruktureerde onderhoude wat gevoer is met hoëronderwysstudente wat 'n wegbreekjaar geneem het voordat hulle met hul universiteitsopleiding begin het. Dit blyk uit die bevindings dat studente op die volgende drie maniere by 'n wegbreekjaar kan baat: hulle ervaar persoonlike groei en ontwikkel 'n aantal lewensvaardighede tydens 'n wegbreekjaar, hul interpersoonlike en kommunikasievaardighede verbeter en hulle ontwikkel 'n breër siening van en 'n beter perspektief op die lewe. Alhoewel daar 'n toename was in die aantal Suid-Afrikaners wat die afgelope dekade en 'n half 'n wegbreekjaar geneem het, is daar in Suid-Afrika nog baie min wetenskaplike navorsing gedoen oor hierdie groep jongmense se ervarings.

Trefwoorde: wegbreekjaar; hoëronderwysstudente; persoonlike ontwikkeling; lewensvaardighede; interpersoonlike vaardighede; kommunikasievaardighede; lewensbeskouing; voordele van 'n wegbreekjaar; nadele van 'n wegbreekjaar


ABSTRACT

This article reports on a number of higher education students' perceptions of the advantages and disadvantages of taking a gap year, and the effect of a gap year on their personal development.
A gap year can be described as taking "time out" during any stage of one's life in order to undertake any of a number of activities. It may involve various combinations of paid and voluntary work locally or overseas, but in some instances a gap year is spent travelling, doing an adventure course or a course in self-development. Sometimes young people devote a gap year to religious studies or activities. A gap year is usually taken before entering a higher education institution, between college/university and starting a career, or even before making a career change. It may last from three months to a year, but is often extended to two years and in some instances even continue for longer periods. This article deals only with the gap year students take immediately after their final school year, before entering a higher education institution. Matriculants mainly decide to take a gap year because they are uncertain about whether (and what) they want to study, want to earn money or simply want to take a break from studying.
In this research project a qualitative approach was followed. To gather data, the researcher conducted 25 individual, semi-structured interviews with higher education students who had taken a gap year before entering university. The questions that were asked dealt inter alia with the reason why they took a gap year; what they did during their gap year; how the gap year influenced their social and academic adjustment at university; what life skills they acquired during their gap year; what they regard as the advantages and disadvantages of a gap year; what problems or challenges they experienced; and what the gap year meant for their personal development. Follow-up questions were asked when necessary.
The findings identified a range of benefits enjoyed by students as the result of a gap year. These benefi ts can be divided into the following three categories: (1) They experience personal growth and develop a number of life skills during a gap year. This category can be subdivided into the following subcategories: growing up quickly; acquiring greater independence, responsibility and self-confidence; gaining life and work experience, self-knowledge and a better perspective on the future; learning to persevere, to work with money, to treat freedom with responsibility; and learning how to handle difficult situations in everyday life and in the workplace.(2) Their interpersonal and communication skills improve. These include making new acquaintances; improving interpersonal relationship and communication skills; and learning how to handle conflict in the workplace. (3) They acquire a broader world-view and a better perspective on life. Because they are confronted with the realities of life they gain a more objective perspective on life and learn to understand other cultures better.
The investigation also revealed a number of disadvantages of a gap year. Gap year students have fallen behind their peer group and will start earning money at a later age. It takes time to adjust to academic studies after a year of non-academic activities. Many young people do not utilise their gap year to gain valuable experience and struggle to fi nd their feet afterwards.
Although there has been an increase in the gap-year phenomenon over the past decade, very little scientific research has previously been done on South African students' experiences of a gap year.

Key Terms: gap year; higher education students; personal development; life skills; interpersonal skills; communication skills; world-view; gap year advantages; gap year disadvantages.


 

 

1. INLEIDING

Omdat baie skoolverlaters nog onseker is oor hul toekomsplanne, het die gebruik om 'n jaar na skool "af te vat" voordat hulle met verdere studie begin of die beroepslewe betree, die afgelope dekade baie gewild geword onder Suid-Afrikaanse jeugdiges. Soos in die res van die wêreld is dit hier ook veral middelklas, blanke, goed geskoolde jongmense (vgl. Duncan 2004:5; Heath 2007:100) wat die geleentheid aangryp om vir 'n jaar oorsee te gaan werk, plaaslik as vrywilliger of teen vergoeding te werk, 'n postmatriekjaar te doen, te reis, of om 'n geloofs- of selfverrykingskursus (slypskool) by te woon. Volgens Coetzee en Bester (2009:608) tref betrokkenheid by 'n betekenisvolle aktiwiteit soos werk of doelgerigte reis die vernaamse onderskeid tussen 'n gapingjaar en 'n vakansie. Haigler en Nelson (2005:21) beklemtoon dat 'n wegbreekjaar met 'n spesifieke doel voor oë geneem moet word en dat 'n blote vakansie nie as 'n wegbreekjaar beskou kan word nie.

'n Wegbreekjaar word beskou as 'n oplossing vir diegene wat nog onseker is oor 'n moontlike studierigting, wat geld bymekaar wil maak om vir hul eie studie te betaal, wat lewenservaring wil opdoen of wat moeg is vir studeer en iets anders wil doen voordat hulle met universiteitsopleiding voortgaan. Baie ouers verkies selfs dat kinders wat nog nie gereed is om met verdere studies te begin nie, of wat onseker is oor 'n geskikte studierigting, 'n wegbreekjaar neem en absoluut seker maak van dit wat hulle wil studeer in plaas daarvan om ten duurste 'n jaar op universiteit deur te bring en dan te besluit om van rigting te verander.

Ten spyte daarvan dat 'n wegbreekjaar 'n baie algemene verskynsel onder Suid-Afrikaanse skoolverlaters is en dat oorsese navorsing getoon het dat dit skoolverlaters beter voorberei vir verdere studies (Griffith 2008:4; Jones 2004:59) en bydra tot hul persoonlike ontwikkeling (Haigler & Nelson 2005:29, 37; Jones 2005:2-3; Heath 2007) is daar plaaslik nog baie min wetenskaplike navorsing gedoen oor Suid-Afrikaanse studente se wegbreekjaarervarings. Die meeste navorsingsverslae of artikels oor die waarde van 'n wegbreekjaar wat wel bestaan, handel oor oorsese jongmense se belewing van hul wegbreekjaar. Navorsing oor oorsese studente se ervarings kan nie sonder meer op Suid-Afrikaanse studente van toepassing gemaak word nie, omdat laasgenoemde groep meer geneig is om 'n betaalde werk te doen, terwyl eersgenoemde groep baie op vrywillige werk en reis (dit word dikwels voluntourism1 genoem) ingestel is. Daar kan gevolglik tereg gevra word in watter mate Suid-Afrikaanse jeugdiges by die neem van 'n gapingjaar baat vind en of so 'n gapingjaar wel tot hul persoonlike ontwikkeling en groei bydra. Hierdie artikel het ten doel om die leemte in wetenskaplike navorsing oor die gapingjaarverskynsel te vul en die kennisveld oor die neem van 'n wegbreekjaar aan te vul deur spesifiek te fokus op die wyse waarop hoëronderwysstudente se ervarings tydens hul gapingjaar hul persoonlike ontwikkeling en groei beïnvloed het.

 

2. WAT BEHELS 'N WEGBREEKJAAR?

Haigler en Nelson (2005:21) voer die ontstaan van 'n wegbreekjaar baie ver terug. Volgens hulle is dit 'n eeue-oue tradisie wat diep gesetel is in baie kulture, mites, en klassieke letterkunde wat handel oor jong avonturiers wat op reis gaan en daardeur groter wysheid en selfbegrip bekom. Hulle noem The Pilgrim's Progress, Gulliver's Travels en Siddhartha, die "walkabout"-tradisie van Australiese inboorlinge en die Duitsers se "Wanderjahr" as voorbeelde hiervan.

Die Centre for Career Development van die University of Nottingham (2008) in Brittanje beskou 'n wegbreekjaar as 'n blaaskans ("time-out") in enige stadium van 'n mens se lewe om 'n aantal moontlike aktiwiteite te verrig. Alhoewel die woord "jaar" gebruik word om die verskynsel te tipeer, wissel die wegbreektyd volgens Jones (2004:24) van drie maande tot twee jaar. (Die onderhawige navorsingsprojek het egter aangetoon dat dit soms selfs langer kan duur.) 'n Wegbreekjaar (of -jare) word meestal voor die jongmens se toetrede tot 'n universiteit of kollege geneem, maar studente neem soms ook tydens hul kollege- of universiteitsloopbaan 'n blaaskans. Ander neem 'n wegbreekjaar voor hulle die beroepswêreld betree of selfs voordat 'n beroepsverandering gemaak word (Griffith 2008:9-10). Hierdie artikel fokus slegs op 'n wegbreekjaar wat studente direk na hul skoolloopbaan en voor hul toetrede tot 'n hoëronderwysinstelling geneem het.

Die bestaande literatuur oor die neem van 'n wegbreekjaar vermeld 'n groot verskeidenheid redes waarom jongmense 'n wegbreekjaar neem. Volgens Jones (2004:37), Haigler en Nelson (2005:26-27), die Centre for Career Development van die University of Nottingham (2008) en Griffith (2008:2-5) is die vernaamste redes waarom skoolverlaters dit doen die volgende: Hulle neem 'n gapingjaar om geld (verkieslik in sterk geldeenhede) te verdien; om mense van verskillende kulture en lande te leer ken; om tyd te hê om oor 'n toekomstige beroep of studierigting te besluit; om meer selfvertroue te kry en waardevolle lewens- en werkservaring op te doen; om mense te help of 'n maatskaplike bydrae te maak (byvoorbeeld deur vrywillige werk te doen); om iets te doen waarvoor daar nie later in die lewe tyd gaan wees nie; of om geestelik verryk te word (byvoorbeeld deur 'n diensjaar vir Christus of 'n kursus van godsdienstige aard te doen).

Dit blyk dat 'n wegbreekjaar 'n groot aantal voordele kan inhou. Daar word aangevoer dat 'n wegbreekjaar studente beter voorberei op hoër onderwys en dat studente wat eers 'n wegbreekjaar geneem het hul studie baie meer gefokus aanpak. Griffith (2008:4) sê dat studente herhaaldelik aandui dat reis, werk of vrywillige gemeenskapsdiens oorsee hulle help om hul gedagtes te fokus op dit wat hulle regtig wil doen. Volgens Haigler en Nelson (2005:29, 37) kan 'n wegbreekjaar ook baie bydra tot die persoonlike groei en ontwikkeling van 'n persoon. In hierdie artikel word 'n aantal hoëronderwysstudente in Suid-Afrika se persepsies ten opsigte van hul wegbreekjaarervaring onder die loep geneem met die oog daarop om vas te stel wat húlle as die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar beskou en om te bepaal op watter wyse hul ervarings tot hul persoonlike ontwikkeling bygedra het.

 

4. NAVORSINGSONTWERP EN -METODE

Die navorsingsbenadering wat gevolg is, is kwalitatief omdat dit 'n beskrywing en analise van mense se aksies, oortuigings, idees en persepsies is (McMillan & Schumacher 2006:315). Die volgende aanhaling van Psathas (1973) uit Bogdan en Biklen (1992:32) is van toepassing op die wyse waarop die onderhawige navorsing benader is en dien as verdere motivering vir die kwalitatiewe aard daarvan:

Qualitative researchers in education can continually be found asking questions of the people they are learning from to discover 'what they are experiencing, how they interpret their experiences, and how they themselves structure the social world in which they live'.

Volgens Lodico, Spaulding en Voegtle (2006:16) poog fenomenologiese studies (as een van die tipes van kwalitatiewe navorsing) om die "essensie" van menslike ervaring vas te vang. Elke individu se perspektief op die realiteit is belangrik en ten einde daardie perspektief na vore te laat kom, maak fenomenologiese navorsers dikwels van deurtastende onderhoudvoering gebruik. Die navorsingsontwerp is dus 'n fenomenologiese studie in die sin dat 'n noukeurig geselekteerde steekproef van deelnemers se pesepsies, perspektiewe en belewenis van 'n spesifi eke gebeurtenis of situasie (in hierdie geval 'n wegbreekjaar) in onderhoude ondersoek is (Leedy & Ormrod 2005:139) en omdat dit beskrywend en interpreterend van aard is (Denscombe 2003:96). Aangesien daar nog min navorsing oor hierdie onderwerp onder Suid-Afrikaanse studente gedoen is, was die navorsing in 'n groot mate verkennend van aard.

Die doel met die navorsing is om diepgaande ondersoek in te stel na verskeie aspekte van die ervarings van hoëronderwysstudente wat 'n wegbreekjaar geneem het ten einde te bepaal wat die studente as voor- en nadele van 'n wegbreekjaar beskou en om hul persepsie oor die wyse waarop dit hul persoonlike ontwikkeling en aanleer van lewensvaardighede beïnvloed het, te ondersoek. Die navorsing word as van belang beskou omdat die aantal jongmense wat 'n gapingjaar neem die afgelope dekade toegeneem het. Die navorsingsbevindings kan voornemende nemers van 'n gapingjaar (oftewel "gappers" soos wat hulle allerweë bekend staan) help om die regte gapingjaaropsie te kies en om soveel as moontlik waarde uit hul gapingjaar te put. Vanweë die kwalitatiewe en verkennende aard van die navorsing word 'n veralgemening van bevindings nie beoog nie.

Vyf-en-twintig studente by verskeie Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings wat 'n wegbreekjaar geneem het voordat hulle met naskoolse studies begin het, het aan die navorsingsprojek deelgeneem. Geskikte deelnemers is deur 'n proses van doelmatige steekproefneming ("purposive sampling") en sneeubalsteekproefneming ("snowball sampling") gekies. 'n Groep van sewe studente wat 'n gapingjaar geneem het, is aanvanklik geïdentifiseer deur navraag onder studente te doen. Daarna is elke student gevra om iemand anders wat ook 'n gapingjaar geneem het, te nomineer. Slegs studente wat direk na hul skoolloopbaan 'n wegbreekjaar (of wegbreekjare) geneem het voordat hulle met hul naskoolse opleiding begin het, is geselekteer. Eerste-, tweede- en derdejaarstudente asook honneursstudente verbonde aan vier verskillende universiteite het aan die navorsing deelgeneem. Twaalf manstudente en 13 damestudente, waarvan 11 Engelssprekend en 14 Afrikaanssprekend is, is by die navorsing ingesluit. Twintig studente het hul wegbreekjaar hoofsaaklik in die buiteland deurgebring en vyf het plaaslik gewerk. Daar is seker gemaak dat verskillende tipes wegbreekjare en verskillende studierigtings in die steekproef verteenwoordig is.

Die data-insamelingstrategie van individuele onderhoudvoering was 'n gepaste keuse omdat die inligting wat versamel is hoofsaaklik op emosies, belewenisse en gevoelens eerder as "straightforward factual matters" (Denscombe 2003:165) gegrond is. Die onderhoudskedule het bestaan uit 12 oop vrae wat op verskeie aspekte van 'n wegbreekjaarervaring gefokus het. Die vrae het gehandel oor die rede waarom hulle op 'n wegbreekjaar besluit het; wat hulle tydens hul wegbreekjaar gedoen het; hoe die wegbreekjaar hul beroepskeuse en studierigting beïnvloed het; hoe die wegbreekjaar hul aanpassing op sosiale en akademiese vlak beïnvloed het; die lewensvaardighede wat hulle tydens hul wegbreekjaar aangeleer het; die voor- en nadele van 'n wegbreekjaar; watter probleme of uitdagings wegbrekers die hoof moes bied; en wat die wegbreekjaar vir hulle persoonlike ontwikkeling beteken het.

Indien nodig, is opvolgvrae gevra. Die duur van onderhoude het gewissel van 30 minute tot een uur 15 minute. Die onderhoude is op band opgeneem en daarna verbatim getranskribeer. Die analise is gedoen deur die data in eenhede vir ontleding te verdeel en die eenhede daarna te kategoriseer (Denscombe 2003:271).

Daar is aan etiese oorwegings aandag gegee deurdat die deelnemers skriftelik verklaar het dat hulle bereid is om aan die projek deel te neem en dat hulle geen beswaar het dat die gesprekke op band opgeneem word nie. Deelnemers is skriftelik van hul anonimiteit verseker.

 

5. BESPREKING VAN BEVINDINGS

5.1 Die wyse waarop 'n wegbreekjaar studente beïnvloed het

Uit die bevindings het drie hooftemas na vore gekom, naamlik invloed op die studente se (1) persoonlike ontwikkeling en verwerwing van lewensvaardighede; (2) interpersoonlike verhoudings en vaardighede; en (3) hul lewens- en wêreldbeskouing. Uit hierdie drie temas is 19 subtemas geïdentifi seer.

Die temas en subtemas word vervolgens bespreek en met aanhalings uit die onderhoude toegelig. Waar toepaslik is bevindings in verband gebring met menings en uitsprake in bestaande oorsese literatuur oor die wegbreekjaarervaring.

5.1.1. Invloed op die studente se persoonlike ontwikkeling en hul verwerwing van lewensvaardighede

Deelnemers het sonder uitsondering aangedui dat die wegbreekjaar hulle gehelp het (sommige het die woord "gedwing" gebruik) om vinnig "groot te word" of "volwasse te word". Een student het dit soos volg verduidelik: "... (R)egtig, as jy daar buitekant wil cope, moet jy baie vinnig grootword." Hierdie siening is deurtastend ondersoek deur middel van opvolgvrae. Daar is gevind dat die gevoel van meerdere volwassenheid meestal te make gehad het daarmee dat baie studente voel hulle is uit hul gemaksone geneem en dat hulle met 'n onvoorspelbare waagstuk begin het. Hulle het niemand geken nie en het hulle in 'n werksomgewing ("die grootmenswêreld"), bevind waar "kinderagtigheid" nie geduld word nie en waar hulle vir die eerste keer met die verantwoordelikhede wat 'n werk meebring, gekonfronteer is. Een het dit soos volg gestel:

"I think it is when you get out, like, you are absolutely in the deep end, you know what I am saying, like you don't know anyone, you are in a new country, in a new job, you now all of a sudden have to do things for yourself. You just get thrown in and that is when you grow up a lot."

Hierdie bevinding stem ooreen met navorsing deur Jones (2005:3) wat bevind het dat die nuwe, dikwels moeilike werks- en sosiale omgewings bydra tot studente se gevoel van meerdere volwassenheid. Dit is opvallend dat baie studente gesê het dat hulle 'n verskil kan opmerk tussen studente wat direk na matriek gaan studeer het en dié wat eers 'n wegbreekjaar geneem het. Laasgenoemde groep het volgens hulle 'n baie meer volwasse benadering tot die lewe as die eersgenoemde groep.

Alhoewel selfstandigheid, verantwoordelikheid en onafhanklikheid baie nou met volwassenheid verband hou, het al die deelnemers baie tyd daaraan bestee om te verduidelik hoe die wegbreekjaar tot die ontwikkeling van hierdie lewensvaardighede bygedra het. "Om te kon leer om selfstandig te lewe was seker die grootste wins uit die hele ervaring uit", het een gesê. Die verantwoordelikhede wat 'n werk meebring (stiptelikheid, afhandeling van take, die handhawing van sekere standaarde), asook die noodsaaklikheid om self werk te soek, blyplek te kry en te betaal, self kos te koop, te maak en daarna op te ruim, betyds op te staan in die oggende "sonder dat jou ma jou wakker maak", met hul geld uit te kom en nog 'n bietjie te spaar ook, self besluite te neem sonder dat hulle hul ouers se raad kon vra, "vir jouself te dink", self probleme te moes "uitsorteer" en om "op jou eie voete (te) moet staan", is van die aspekte wat volgens die navorsingsdeelnemers bygedra het tot groter selfstandigheid en onafhanklikheid. Soos blyk uit die volgende woorde, het dit hulle met 'n gevoel van tevredenheid gelaat: "And everything that I achieved I did myself. So that was a bit of self-pride there and self-achievement." Dit is nie net studente wat oorsee was wat meer verantwoordelikheid geleer het nie. Studente wat plaaslik gewerk het, het ook in hierdie opsig by hul wegbreekjaar gebaat, soos blyk uit die volgende aanhaling: "... ja, and the responsibility, because my mom wouldn't let me sit at home and do nothing, she said no, you must go and find a job and do something because sitting at home is just not on, because you wanted to have a gap year and now you must do something". Dit vind aansluiting by Jones (2004:66) se mening dat wegbrekers gewoonlik meer onafhanklik is en leer om besluite te neem, asook Haigler en Nelson (2005:29, 37) se siening dat 'n wegbreekjaar lei tot groter onafhanklikheid.

Die lewens- en werkservaring wat hulle tydens hul wegbreekjaar opgedoen het, was vir 'n groot groep baie waardevol. Die meeste het dit as een van die belangrikste voordele van 'n wegbreekjaar beskou. Omdat sommige van hulle gedurende die jaar verskillende tipes werk gedoen het, het dit hulle 'n goeie idee gegee van wat beskikbaar is en wat die verskillende tipes werk behels. Een van hulle het dit soos volg gestel: "The fact that you get experience. More work experience and you experience different fields of work, marketing or construction, promotions and that kind of thing, so you get a wider variety of ideas of what is out there". Veral diegene wat oorsee gaan werk het, het gemeld dat hulle baie lewenservaring daar opgedoen het. In antwoord op opvolgvrae het hulle dié stelling verduidelik deur aan te voer dat om oorsee te reis op sigself goeie lewensondervinding gebied het; dat hulle vir hulself moes sorg; dat hulle self keuses moes maak; dat hulle uit hul foute geleer het; en dat hulle ervaar het "hoe mense in ander lande leef en dinge doen". Hulle het byvoorbeeld die gebruik van openbare vervoer of die feit dat hulle geleer het hoe om in 'n ander land te bestuur (aan die "verkeerde kant" van die pad) as goeie ervarings beskou. Baie van die studente wat plaaslik of oorsee gewerk het, het gesê dat hulle na hul wegbreekjaar meer voorbereid gevoel het vir die lewe en die beroepswêreld. Hulle het ook aangedui dat hulle in die proses baie selfvertroue opgedoen het.

Dit blyk dat diegene wat 'n wegbreekjaar neem genoeg tyd kry om oor hulself, hul toekoms en hulle verwagtinge van die lewe na te dink. 'n Groot groep het te kenne gegee dat hulle hulself beter leer ken het en een het selfs aangedui dat sy haarself gedurende die jaar "gevind" het. Die volgende woorde is verteenwoordigend van hoe baie van hulle die invloed van 'n wegbreekjaar op hul selfkennis verduidelik het: "En 'n mens leer jouself ken. Mens leer jouself actually verstaan. Jy het meer tyd om oor jouself te dink en oor wat jy wil doen, hoe wil jy dit doen en waar wil jy dit doen". Omdat die meeste van die studente 'n wegbreekjaar geneem het omdat hulle onseker was oor 'n moontlike studierigting, het hulle die jaar gebruik om na te dink oor hul studie- of beroepsrigting. Sommiges het na die eerste jaar reeds 'n besluit geneem, terwyl ander (ses van die 25) nog onseker was en hul wegbreekjaar verleng het. Nog drie moes dit noodgedwonge verleng omdat hulle hul aansoekvorms om universiteitstoelating te laat ingehandig het.

Die feit dat baie van die deelnemers aan die navorsing hulle dikwels in moeilike situasies bevind het, het nie net bygedra tot selfkennis nie ("Dit wys 'n mens waartoe jy in staat is as jy net jouself het om op staat te maak"), maar het hulle ook geleer hoe om sulke situasies te oorkom en 'n sterker mens anderkant uit te kom. 'n Deelnemer wat op 'n seiljag in die Middellandse See wou werk, het byvoorbeeld 'n maand lank gesukkel om werk te kry. Sy sakgeld was teen daardie tyd amper op en hy het onder baie moeilike omstandighede gebly en geleef. Hy het egter soos volg oor sy ondervinding gerapporteer:

"Daai eerste maand waar ek niks werk gehad het en net van brood gelewe het, was vir my moeilik, dit was vir my verskriklik moeilik, maar daarna as jy daardeur kom ... jy word 'n beter persoon. Jy word net 'n beter persoon."

Nog een het gesê dat hy geleer het om reg te kom onder slegte omstandighede en dat hy slegte dinge nou beter kan hanteer, terwyl 'n ander dit soos volg gestel het: "Daar het 'n paar rowwe goed gebeur en als, maar weer eens, dit het my groot gemaak, ek sien dit as 'n voordeel, 'n positiewe ding. Dit het my baie geleer".

As 'n mens "aan die diep kant ingegooi word" (omtrent almal wat oorsee was, het hierdie uitdrukking gebruik om hul ondervinding te verwoord) en jy sink nie, maar slaag in wat jy doen, is dit volgens hulle 'n bewys van deursettingsvermoë. Hierdie deursettingsvermoë help dan weer om deur te druk met moeilike studierigtings, soos blyk uit die volgende woorde van twee van die deelnemers:

"Ek was half in die diep end ingegooi. So dit wys vir my ek kan as ek net my mind reg kry en besluit ek gaan iets doen, dan kan ek dit doen en klaarmaak. Soos ek sien met my graad ook. Ons was 200 aan die begin. Ons is nou 35. En ek byt net vas. Jy weet, dit gaan nie altyd so goed nie, maar ek sal dit deursien, maak nie saak wat nie. So, ek het baie daaruit geleer en dis 'n goeie gevoel as jy weet, as jy dit van jouself weet, dat jy kan deurdruk."
"Sometimes you just wanted to give up and stuff, but you actually just carried on. Because promotions are easy money but the work is sometimes not nice and you have to stick through it because it is just what you have to do. And sometimes with studying it is just like that. Sometimes it feels like too much and then you know you have to get through it and you can, there is always a way that you will get through it. The work that I did last year helped me to keep on."

Diegene wat oorsee gegaan het, het almal gesê dat die eerste maand weg van die huis af in 'n vreemde land, tussen vreemde mense, vir hulle baie sleg was en dat hulle van baie mense weet wat na 'n ruk huis toe gekom het. Hulle was baie trots daarop dat hulle die deursettingsvermoë gehad het om enduit te bly.

Op 'n vraag oor die aspek van die wegbreekjaar wat vir hulle die lekkerste was, was "die vryheid" 'n groot groep se antwoord, maar sonder uitsondering het elke een wat só geantwoord het, bygevoeg dat hy of sy geleer het om vryheid met verantwoordelikheid te hanteer. Hulle het besef dat 'n mens die gevolge van jou dade self moet dra. Een van die deelnemers het byvoorbeeld so gereageer:

"My freedom. Being on my own, making my own choices, taking my own decisions, making my own mistakes and having to learn from them. Knowing that, OK if I do something wrong, Dad is not going to be there to help out, Mom is not going to be there to help out, I have to sort it out myself, so there would be real consequences for what I did. "

Nog een het verduidelik: "Jy weet jy kan die aand uitgaan, maar jy moet die volgende dag van agt tot vyf werk, so dan gaan jy liewers nie uit nie, want jy weet jy gaan suffer as jy uitgaan, so jy leer maar verantwoordelikheid op die harde manier aan".

Hierdie bevinding stem ooreen met Haigler en Nelson (2005:29-30) se stelling dat studente tydens hul wegbreekjaar leer hoe om hul nuutgevonde vryheid met verantwoordelikheid te hanteer en dat wegbrekers geneig is om 'n groter sin van finansiële verantwoordelikheid aan die dag te lê. Alhoewel navorsingsdeelnemers in die onderhawige ondersoek aangedui het dat dit vir hulle baie lekker was om hul eie geld te verdien, was hulle verdeeld in hul opinie oor die mate waarin die wegbreekjaar hulle geleer het om met geld te werk. Omtrent die helfte het aangedui dat hulle geleer het om te begroot en om geld oordeelkundig te bestee, terwyl ander weer gesê het dat hulle nog altyd goed met geld kon werk en dat die wegbreekjaar nie noodwendig hierdie vermoë verbeter het nie. Enkeles het al hulle geld bestee aan beuselagtighede ("... klere en speelgoed en gadgets en allerhande dinge ..."), het gesukkel om met hul geld uit te kom en kan steeds nie goed met geld werk nie.

5.1.2 Invloed op interpersoonlike verhoudings en vaardighede

Uit die data wat tydens die onderhoude verkry is, blyk dit dat die wegbreekjaar 'n groot invloed op die deelnemers aan die navorsing se interpersoonlike verhoudings en vaardighede uitgeoefen het. Die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede word ook deur Jones (2004:66) genoem as een van die voordele van 'n wegbreekjaar.

Die feit dat wegbrekers baie nuwe mense ontmoet het en nuwe vriende gemaak het, is deur die meerderheid genoem as voordele wat die wegbreekjaar vir hulle ingehou het. Dit het weer daartoe bygedra dat hul sosialiseringsvaardighede en selfvertroue verbeter het. Diegene wat oorsee gegaan het, moes vinnig leer om "uit te gaan" en nuwe vriende te maak omdat hulle alleen was en niemand daar geken het nie. Dié wat plaaslik gewerk het of vrywillige werk gedoen het, het in die werksituasie met nuwe mense te make gekry en moes gou leer om met mense wat baie ouer as hulle was, oor die weg te kom. Een van die deelnemers het dit soos volg gestel: "Ek weet nou waaroor om met mense te praat en alles. Ek kan baie makliker met mense assosieer. My, hoe sê mens, person-to-person skills was baie, ongelooflik baie groter gemaak". Deelnemers het aangetoon dat dit nou vir hulle makliker is om nuwe vriende te maak en dat hulle baie meer vrymoedigheid het om met 'n vreemde persoon te gaan praat of om te vra as hulle oor iets onseker is.

Nuwe sosiale verhoudings en veral interaksie met ander mense in die werksplek het daartoe gelei dat van die studente gevoel het dat hulle baie mensekennis opgedoen het. Sommiges het ook aangedui dat hulle geleer het om verskillende tipes mense verskillend te hanteer. Veral diegene wat in beknopte spasies saam met ander huismaats of bemanningslede moes bly, het geleer hoe om "die ouens se moods te lees" en dan op gepaste wyse teenoor 'n persoon op te tree. Op die vraag watter lewensvaardighede hy aangeleer het, het een soos volg geantwoord:

"Om met mense te werk. Ek dink ek het dit nogal goed gedoen, want ek het nie met enigiemand gebots op die boot nie en as jy kyk hoe baie druk en tension daar was in die omstandighede het ek half gesien hoe om mense te hanteer. Die bootmense is ook ander tipe mense. Jy weet, dis hul werk en hulle sal nooit 'n gesin hê nie. So dis almal maar snaakse tipe mense. Maar ek het geleer om hulle te verstaan."

Volgens baie van die deelnemers is hul interpersoonlike kommunikasievaardighede een van die lewensvaardighede wat hulle tydens hul wegbreekjaar aangeleer het. Omdat hulle met baie mense te make gekry het, moes hulle vinnig leer om op 'n sekere vlak met mans én vroue van verskillende kulture en ouderdomme te kommunikeer. Konflik in die werksplek is 'n algemene verskynsel en daar was 'n paar wat aangedui het dat hulle besef het dat daar altyd konflik sal wees waar 'n klomp mense saamwerk en dat hulle daarom beter weet hoe om in sulke situasies op te tree. Dit stem ooreen met Haigler en Nelson (2005:30) se siening dat organisatoriese en praktiese vaardighede wat wegbrekers tydens hul wegbreekjaar in die werksplek opdoen, hulle baie beter op die beroepslewe voorberei. Veral sogenaamde "sagte" vaardighede soos kommunikasie, die hantering van terugslae, probleemoplossing en die hantering van konflik in die werksplek word tydens 'n wegbreekjaar verwerf.

5.1.3 Invloed op 'n mens se lewens- en wêreldbeskouing

Deelnemers aan die navorsing het aangetoon dat die ervaring wat hulle tydens die wegbreekjaar opgedoen het, hulle 'n ander uitkyk op die lewe gegee het en hul perspektief verbreed het. Hulle is meer objektief teenoor die lewe, want "jy sien jou wêreldjie is nie die beste en die enigste nie en almal dink nie soos jy dink nie en hoe jy dink is nie altyd reg en hulle verkeerd nie". Een van die deelnemers het dit soos volg gestel: "Dit het my, ek dink, 'n wyer perspektief gegee, dit het bietjie my oë oopgemaak vir dinge om my". Soos blyk uit die volgende aanhaling, het die werklikheid 'n paar ontnugter: "Ek sal amper sê ek is nou 'n kouer mens. Of ek is nie meer so gullible of naïef, ja, ek is nie meer so naïef oor die lewe soos wat ek was nie. Ek dink die wêreld is 'n koue plek". Veral diegene wat oorsee was vir hul wegbreekjaar het 'n groter prentjie van alles gekry en kyk nou met ander oë na hul eie land en omstandighede. Dit was ook vir hulle insiggewend om te hoor hoe ander lande se mense oor Suid-Afrika dink.

Die realiteite van die lewe was vir baie 'n nuwe ervaring en vir sommige 'n ontnugtering. Die feit dat 'n werksituasie sekere vereistes stel, dat 'n werkgewer "niks vir jou voel nie" en net verwag dat jy jou werk moet doen, dat 'n mens moet uitkom met die geld wat jy verdien en dat vakansies (anders as op skool) nie 'n gegewe is nie, is genoem as dinge wat hulle oor die lewe geleer het en wat bygedra het tot 'n begrip van wat die "regte lewe" behels. Die ervaring van harde handearbeid of eentonige administratiewe werk het diegene wat dit gedoen het, baie vasberade gemaak om te gaan studeer, want soos een gesê het: "Jy besef net, OK, hierdie is my lewe as ek nie gaan swot nie". Hierdie bevinding stem ooreen met Griffith (2008:4) se opmerking dat die blote ervaring van harde ongeskoolde arbeid tydens 'n wegbreekjaar genoeg is om selfs diegene wat nie baie entoesiasties is oor die voordele van hoër onderwys nie, te laat besluit om te gaan studeer.

Van die deelnemers wat oorsee gaan werk het, het dit as 'n groot voordeel beskou om ander kulture te leer ken en verstaan, en om te besef dat almal nie dieselfde gewoontes het en dieselfde oor dinge dink nie. Die vier deelnemers wat oorsee gaan au pair het, het almal aangedui dat dit vir hulle interessant was om te sien hoe anders daardie mense hul kinders opvoed. Om te kon reis, nuwe plekke te kon sien en dinge te kon doen wat hulle nooit in Suid-Afrika sou kon doen nie, was vir die wegbrekers wat oorsee gegaan het 'n ervaring wat bygedra het tot hul veranderde siening van die lewe. Hulle sal in die toekoms graag ook ander lande wil besoek en gereeld wil reis. Drie van die wegbrekers wat plaaslik gewerk het, het gesê as hulle weer 'n wegbreekjaar kon kry, hulle oorsee sou gaan.

5.2 Die skadukant van 'n wegbreekjaar

Alhoewel die studente wat aan die onderhoude deelgeneem het die wegbreekjaar deurgaans as baie positief ervaar het, het hulle ook enkele negatiewe aspekte genoem. Die meeste hiervan het verband gehou met die feit dat hulle hul familie gemis het en die eerste ruk baie alleen was, kontak met skoolmaats verloor het, gesukkel het om na 'n jaar sonder enige akademiese aktiwiteite weer te begin studeer, en dat hulle 'n jaar "agter" hul ouderdomsgroep is en eers 'n jaar later met 'n beroep sal kan begin.

Daar moet in gedagte gehou word dat die navorsing slegs universiteitstudente wat 'n wegbreekjaar geneem het, ingesluit het. In 'n sekere opsig kan daar dus geredeneer word dat daar net met die "suksesvolle gevalle" onderhoude gevoer is, want die realiteit is dat daar 'n groep mense is vir wie 'n wegbreekjaar weens verskeie redes nie goed uitgewerk het nie. Dit was opvallend hoeveel van die studente wat aan die navorsingsprojek deelgeneem het na hierdie groep wegbrekers verwys het toe hulle gevra is om die nadele van 'n wegbreekjaar uit te lig. Hulle het gesê dat baie van hul maats na hul wegbreekjaar nie "rigting kon kry" nie en nog steeds "drift". Hulle is óf nog oorsee waar hulle as onwettige immigrante werk, óf hulle het teruggekom, maar doen nou niks of val rond tussen werke.

Diegene wat in Londen gaan werk het, het almal verwys na Suid-Afrikaners wat daar op 'n wegbreekjaar was en hulle sleg gedra het, by bakleiery betrokke geraak het of dwelms gebruik het. Woorde wat gebruik is om hierdie groep te beskryf, sluit in: "hulle haak uit"; "hulle het verkeerde keuses gemaak"; "hulle mors dit op"; "het die plot heeltemal verloor" en "hulle gee Suid-Afrikaners 'n slegte naam". Wetenskaplik gefundeerde navorsing om uit te vind waarom 'n wegbreekjaar vir sommige 'n positiewe lewenservaring is en vir ander nie, is dus nodig sodat aanbevelings gemaak kan word om te voorkom dat so 'n blaaskans sinneloos word.

 

6. BEPERKINGS EN VOORSTELLE VIR VERDERE NAVORSING OOR SUID-AFRIKANERS SE WEGBREEKJAARERVARINGS

Die navorsing is slegs onder persone gedoen wat ná afhandeling van hul wegbreekjaar hul studie voortgesit het. Die navorsing het dus jongmense wat direk na hul wegbreekjaar gaan werk het, persone wat nie na hul wegbreekjaar gaan studeer het nie en tans sukkel om "rigting te kry" (in die idioom van die studente se taal), en jongmense wat nog steeds na etlike jare op 'n wegbreekjaar is, uitgesluit. Die bevindings kan dus nie veralgemeen word nie. Verdere navorsing onder wegbrekers se naasbestaandes, vriende en dosente om wegbrekers se persepsies van die wyse waarop die wegbreekjaar hul beïnvloed het, te verifieer, is nodig. Een deelnemer het hierdie aangeleentheid aangeraak toe hy soos volg opgemerk het: "Man, ek dink ek en my vriende is baie meer volwasse as ons vriende wat hier agtergebly het. Dis dalk net 'n persepsie wat ons het, maar soos my een vriend se ma gesê het: ons was seuntjies toe ons hier weg is, maar ons het groot manne teruggekom".

Die navorsing word verder beperk deurdat dit slegs onder blanke Engels- en Afrikaanssprekende studente gedoen is. Daar is ook nie 'n onderskeid gemaak tussen studente wat plaaslik gewerk het en dié wat oorsee gaan werk het, of tussen diegene wat vrywillige werk gedoen het en dié wat vir vergoeding gewerk het nie. Verdere navorsing om aan te toon watter invloed hierdie veranderlikes op die bevindinge kan hê, is noodsaaklik aangesien dit skoolverlaters wat oorweeg om 'n gapingjaar te neem kan help om die regte keuse te maak wanneer hulle verskilende gapingjaaropsies oorweeg.

Navorsing oor die langtermyninvloed van 'n wegbreekjaar behoort gedoen te word, terwyl daar ook vasgestel behoort te word of studente wat 'n wegbreekjaar geneem het, beter of swakker presteer as studente wat direk na skool gaan studeer het. Daar moet ook vasgestel word of Suid-Afrikaanse werkgewers enigsins ervaring wat tydens 'n wegbreekjaar opgedoen is, by die aanstelling van werknemers in ag neem. Dit is dus duidelik dat daar nog baie onbeantwoorde vrae oor die neem van 'n wegbreekjaar is en dat meer navorsing oor die onderwerp noodsaaklik is. Die navorsing waaroor daar in hierdie artikel gerapporteer word, is hoofsaaklik verkennend van aard en kan as 'n vertrekpunt gebruik word vir opvolgnavorsing. Daar is veral 'n behoefte aan kwantitatiewe navorsing oor die onderwerp.

 

7. SAMEVATTING

Die aantal Suid-Afrikaanse skoolverlaters wat 'n wegbreekjaar neem voordat hulle met hul studie aan 'n hoëronderwysinstelling voortgaan, het die afgelope dekade baie toegeneem. Ten spyte daarvan is daar tot op hede nog baie min wetenskaplike navorsing oor die ervarings van hierdie groep mense gedoen.

Kwalitatiewe navorsing in die vorm van individuele, semi-gestruktureerde onderhoude met 25 hoëronderwysstudente het hul persepsies van die wyse waarop 'n wegbreekjaar hulle beïnvloed het, aan die lig gebring. Volgens wegbrekers het die wegbreekjaar hoofsaaklik 'n invloed uitgeoefen op hul persoonlike ontwikkeling, die aanleer van 'n aantal lewensvaardighede en die vorming van interpersoonlike vaardighede en hul wêreld- en lewensbeskouings.

Persoonlike ontwikkeling en aanleer van lewensvaardighede: Studente wat 'n wegbreekjaar geneem het, ervaar almal 'n gevoel van groter volwassenheid en is van mening dat hulle meer volwasse is as hul maats wat nie 'n wegbreekjaar geneem het nie. 'n Wegbreekjaar dra veral daartoe by dat studente hulself as selfstandig, verantwoordelik en onafhanklik beskou. Studente doen waardevolle lewens- en werkservaring op, en dit is veral vir diegene wat oorsee gaan 'n verrrykende ervaring. Hulle leer hulself beter ken en verstaan, en kry kans om sekerheid oor hul studierigting en beroepskeuse te kry. Wegbrekers wat moeilike situasies in die werksplek moet oorkom, leer in die proses belangrike lewenslesse en deursettingsvermoë aan. Hulle leer ook om hul vryheid op 'n verantwoordelike wyse te hanteer. Die wegbreekervaring dra nie in alle gevalle daartoe by dat studente beter met geld kan werk nie.

Interpersoonlike verhoudings: Die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede word as 'n belangrike voordeel van 'n wegbreekjaar beskou. Wegbrekers leer baie nuwe mense ken, maak nuwe vriende, doen baie mensekennis op en voel oor die algemeen dat hulle geleer het hoe om met mense saam te werk en om verskillende mense verskillend te hanteer. Hulle voel ook dat hulle interpersoonlike kommunikasievaardighede baie verbeter het.

Wêreld- en lewensbeskouing: Die wegbreekjaarervaring gee studente 'n breër perspektief op die lewe en dra by tot 'n meer objektiewe beskouing van hul eie land en omstandighede. Die realiteite van die lewe en die kennismaking met die "regte" lewe kan tot 'n beter begrip van die lewe lei, maar dit kan ook ontnugterend wees. Om nuwe kulture te leer ken en verstaan en om te reis en die wêreld te sien, is een van die voordele wat 'n wegbreekjaar inhou.

'n Wegbreekjaar het ook 'n skadukant. Dit is moeilik om weer by akademiese aktiwiteite betrokke te raak na 'n jaar waarin die wegbreker nie studeer het nie. Studente is ook 'n jaar agter hul skoolmaats en gaan gevolglik eers 'n jaar later begin werk en geld verdien. Die grootste probleem met 'n wegbreekjaar is dat sommige wegbrekers nie hul nuutgevonde vryheid met verantwoordelikheid kan hanteer nie, die verkeerde keuses maak en dan die pad byster raak, of dat hulle nie na die wegbreekjaar rigting kry nie.

Ten slotte is aangetoon dat die veld van navorsing oor Suid-Afrikaanse persone se wegbreekjaarervarings nog braak lê en dat verdere navorsing oor verskillende aspekte van wegbreekjare gedoen behoort te word ten einde hierdie kenisveld te verbreed.

Die groei in die getal jongmense wat jaarliks 'n gapingjaar neem, plaas die fokus op hierdie groep en noodsaak wetenskaplike navorsing oor hul ervarings ten einde aan skoolverlaters wat van voorneme is om 'n gapingjaar te neem die nodige leiding te kan gee en hulle te kan help om die regte gapingjaaropsie te kies.

 

BIBLIOGRAFIE

Bogdan, R.C. & Biklen, S.K. 1982. Qualitative research for education. 2nd ed. Boston: Allyn & Bacon.         [ Links ]

Coetzee, M. & Bester, S. 2009. The possible value of a gap year: A case study. South African Journal of Higher Education, 23(3):608-623.         [ Links ]

Denscombe, M. 2003. The good research guide for small-scale research projects. Maidenhead: Open University Press.         [ Links ]

Duncan, T. 2004. Livin' the dream: working and playing in a ski resort. Tourism and Leisure IGU Pre-Meeting. Loch Lomond. 13-15 Augustus.         [ Links ]

Griffith, S. 2008. Your gap year. Surrey: Crimson.         [ Links ]

Haigler, K. & Nelson, R. 2005. The gap-year advantage. Helping your child benefit from time off before or during college. New York: St. Martin's Griffin.         [ Links ]

Hawkins, D., Lamoureux, K. & Clemmons, D. 2005. Voluntourism as catalyst for developing the potential of tourism destinations. Tedqual, 17(1):13-17.         [ Links ]

Heath, S. 2007. Widening the gap: pre-university gap years and the 'economy of experience'. British Journal of Sociology of Education, 28(1):89-103.         [ Links ]

Jones, A. 2004. Review of gap year provision. Research report No. 555. London: University of London.         [ Links ]

Jones, A. 2005. Assessing the benefits of a gap year. Prospects Career Services' Desk. Beskikbaar by: http://www.prospects.ac.uk [Besoek op 26-10-2008]         [ Links ].

Leedy, P.D. & Ormrod, J.E. 2005. Practical research. 8th ed. New Jersey: Pearson.         [ Links ]

Lodico, M.G, Spaulding, D.T. & Voegtle, K.H. 2006. Methods in educational research. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

McMillan, J.H. & Schumacher, S. 2006. Research in education. 6th ed. New York: Longman.         [ Links ]

Stehlik, T. 2008. Mind the gap: researching school leaver aspirations. Paper delivered at the 17th National Vocational Education and Training Research Conference. University of Tasmania, Newham campus, Launceston.         [ Links ]

University of Nottingham, Centre for Career Development. 2008. Gap Year Options. Beskikbaar by: http://www.nottingham.ac.uk/careers/students/options/gap-year/index.php [Besoek op 29-07-2008]         [ Links ].

 

 

MARIETHA NIEMAN is medeprofessor in die Departement Opvoedkunde aan Unisa. Sy is verantwoordelik vir die opleiding van taalonderwysers en is die programbestuurder vir die Nagraadse Diploma in Volwasseneonderwys. Sy het 'n wye belangstellingsveld wat onderwerpe soos assessering, die neem van 'n wegbreekjaar en die problematiek van tweedetaalonderrig insluit. Haar belangstelling in jeugliteratuur het ontstaan toe sy haar verhandeling vir 'n meestersgraad in Afrikaans oor die uitbeelding van vrouekarakters in die jeugliteratuur gedoen het.
MARIETHA NIEMAN is an associate professor in the Department of Educational Studies at Unisa. She is responsible for the training of language teachers and is the programme manager for the Postgraduate Diploma in Adult Education. Her broad spectrum of interests includes topics such as assessment, taking a gap year and the issue of second-language tuition. Her interest in youth literature was triggered by a dissertation on the portrayal of female characters in youth literature for her master's degree in Afrikaans.

 

 

1. Vergelyk Hawkins, Lamoureux & Clemmons (2005:13); Stehlik (2008).