SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1Social workers' experiences of working with children and youths at child and youth care centres in DurbanSocial support networks for youths aging out of residential care to promote positive transition outcomes - a scoping review author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Social Work

On-line version ISSN 2312-7198
Print version ISSN 0037-8054

Social work (Stellenbosch. Online) vol.58 n.1 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.15270/58-1--988 

ARTICLES

 

Die verband tussen psigososiale welstand en supervisie van kinder- en jeugsorgwerkers in kinder- en jeugsorgsentrums

 

The relationship between psychosocial well-being and supervision of child and youth care workers in child and youth care centres

 

 

Chevonne BamI; Hanelie MalanII

IPostgraduate student, Faculty of Health Science, School of Psychosocial Health: Department of Social Work, North-West University, Potchefstroom, South Africa. chevonneb25@gmail.com
IIFaculty of Health Science ,School of Psychosocial Health: Department of Social Work, North-West University, Potchefstroom, South Africa. 10603603@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Kinders wat in residensiële sorg geplaas word, is ernstig getraumatiseerd. Die implikasie hiervan is dat dit 'n direkte invloed op die psigososiale welstand van die kinder- en jeugsorgwerkers het wat daagliks met die kwesbare kinders werk - dit beïnvloed hoe hulle hul daaglikse take verrig en kan selfs tot emosionele uitbranding lei. Die doel van die studie was om kwantitatief die verband tussen supervisie en die psigososiale welstand van kinder- en jeugsorgwerkers te ondersoek. Sewe-en-sewentig kinder-en-jeugsorg werkers (KSW) is met doelgerigte steekproefneming by die studie betrek. Drie vraelyste is gebruik om data in te samel. Die IBM SPSS-weergawe 25 sagteware is gebruik om die data te ananliseer. In sommige gevalle was daar 'n klein effek grootte, tog blyk dit dat etnisiteit, geslag, huwelikstatus en inkomste 'n invloed op die psigososiale welstand van KJW het. Die studie toon ook 'n verband tussen die KJW wat supervisie ontvang en diegene wat nie supervisie ontvang het nie.

Trefwoorde: emosionele uitbranding, kinder- en jeugsorgwerkers, kwesbare kinders psigososiale welstand, residensiële sorg, supervisie


ABSTRACT

Children who are placed in residential care have been severely traumatised, and the implication is that it has a direct impact on the psychosocial well-being of the child and youth care workers who work with the vulnerable children daily. How the care workers perform their daily tasks are impacted upon and can even lead to emotional burnout. The aim of the study was to quantitatively investigate the relationship between supervision and the psychosocial well-being of child and youth care workers.
Seventy-seven child and youth care workers (CYCW) were purposefully sampled for this study. Three questionnaires were used to collect data. The IBM SPSS version 25 software was used to analyze the data. In some cases, there was a small effect size, yet it seems that ethnicity, gender, marital status, and income influence the psychosocial well-being of CYCW. The study also shows a connection between CYCW who received supervision and those who did not receive supervision.

Keywords: emotional burnout, child and youth care workers, psychosocial well-being, residential care, supervision, vulnerable children.


 

 

INLEIDING

Suid-Afrikaanse gesinne staar heelwat uitdagings in die gesig wat hoofsaaklik die gevolg is van maatskaplike, ekonomiese en wetstoepassing (Agere, 2014:1). Suid-Afrika se statistiek oor misdaad, huishoudelike geweld, alkohol- en dwelmmisbruik, seksuele misbruik, sowel as kindermishandeling en -verwaarlosing is beduidend hoog (Agere, 2014:1). Kinders wat blootgestel word aan verskillende vorms van mishandeling, verwaarlosing of verlating, kan ingevolge die 'Children's Act' 38 of 2005 (South Africa, 2005) uit ouerlike sorg verwyder word en in kinder- en jeugsorgsentrums (Hierna verwys as KJS) geplaas word. In 'n residensiële kapasiteit is kinder- en jeugsorgwerkers (Hierna verwys as KJW) hoofsaaklik verantwoordelik vir die welstand, versorging en ondersteuning van getraumatiseerde kinders (Modlin, 2018:1). As gevolg van die trauma en disfunksionele gesinsverhoudings waaraan kinders blootgestel word, kan hierdie kinders emosioneel meer veeleisend wees en kan hulle psigososiale welstand negatief beïnvloed word.

KJW word daagliks met stressors van die kinders gekonfronteer soos skool-, gesins-, portuurgroep-, gedrags-, psigologiese en gesondheidsaspekte (Garfat, Freeman, Gharabaghi & Fulcher, 2018). Take en verantwoordelikhede sluit verder die "monitering van kinders se daaglikse struktuur en roetine, fasilitering van en deelname aan sosiale, rekreasie en opvoedkundige aktiwiteite, verskaffing van gedragsondersteuning en krisis intervensie", (Modlin, 2018:1). KJW word daagliks blootgestel aan hierdie kinders se trauma en gevolglik moeilike gedrag wat tot sekondêre trauma van KJW kan lei (Modlin, 2018:4). Weens die emosioneel veeleisende en dreinerende verantwoordelikheid wat op die skouers van KJW rus, is daar 'n teenstrydigheid tussen die diens en die beskikbare ondersteunings, erkenning en vergoedings om 'n positiewe en stabiele werksomgewing te verseker, vir die belangrike werk wat hulle verrig (Barford & Whelton, 2010; Yorke, 2016:4). Dit kan dit 'n uitwerking hê op die psigososiale welstand en bestaan daar dus 'n groot risiko vir emosionele uitbranding (Greyvensteyn, 2010:53-54; Van Niekerk, 2010:96). Uitbranding kan 'n direkte gevolg wees van individue wat nie in staat is om alledaagse uitdagings te hanteer nie en word gekenmerk deur emosionele en geestelike uitputting, depersonalisering en 'n verminderde gevoel van persoonlike prestasie as gevolg van faktore soos werkoorlading, gebrek aan werkplekondersteuning, en rol-dubbelsinnigheid en konflik (Barford & Whelton, 2010). Molepo (2015:291-306), Rusby, Jones, Crowley en Smolkowski (2012:1590-1593), sowel as Greyvensteyn (2010:53) bevestig dat KJW psigososiale, professionele en sosio-ekonomiese uitdagings ervaar.

Die term 'psigososiale welstand' verwys na die verhouding tussen psigologiese en sosiale funksionering van individue (Kleynhans, 2015:2). Die psigologiese aspek van welstand waarna in die studie gekyk is behels die "interne prosesse wat denke, gevoelens, emosies en persepsies" van die KJW (Weiten, 2007:632). Die sosiale aspek van welstand fokus op die "verhoudings tussen individue, gesinne, gemeenskappe en die omgewing. Dit sluit die individu se inkomste, behuising, opvoeding, gesondheidsorg en persoonlike veiligheid in" (Kleynhans, 2015:2). Die psigososiale uitdagings wat KJW ervaar, behels die onvermoë om van die werk 'af te skakel', persoonlike trauma, onduidelike grense, waardes en risiko, emosionele welstand kwessies, en sosialiseringsaktiwiteite. Professionele uitdagings sluit in die tekort aan onmiddellike resultate, erkenning, netwerkverhoudings, duidelikheid oor die rol van werknemers, opleiding en beroepsbevorderingsgeleenthede. KJW ervaar ook uitdagings met die hantering van kinders se gedrag, moeilike werksomstandighede en inkonsekwente werksverpligtinge. Sosio-ekonomiese uitdagings sluit in onvoldoende vergoedingstrukture en onvoldoende programbefondsing (Molepo, 2015:291-306). Elovainio, Heponiemi, Jokela, Hakulinen, Presseau, Aalto en Kivimäki (2015:290) argumenteer dat daar 'n duidelike verband bestaan tussen psigososiale faktore en welstand.

Supervisie bied nodige ondersteuning om professionele ontwikkeling van KJW aan te moedig (Garfat, Fulcher &, Digney 2013) en is noodsaaklik om uitbranding te voorkom (Brands-Saliba, 2020). Dit is egter noodsaaklik dat KJW en toesighouers 'n goeie supervisie verhouding het. Toderi en Balducci (2018:2) noem dat daar drie aspekte is waar toesighouers 'n direkte invloed het op die werknemers se welstand: (1) toesighouers kan tydens supervisie hulle stres aan die werknemers oordra; (2) toesighouers kan die werkers se welstand deur die kwaliteit van hulle supervisieverhouding (ondersteuning, integriteit ens.) beïnvloed; en (3) toesighouers se leierskapstyl kan 'n direkte invloed hê op die werkers se welstand en vlakke van stres (Toderi & Balducci, 2018:2).

Garfat, Fulcher & Freeman, (2016) het 'n innoverende benadering tot supervisie ontwikkel. Dit behels om ruimte te skep waar die supervisor saam met die KJW reflekteer oor verhoudings binne die werksplek wat bevorderlik is vir effektiewe praktyk en verhoogde werkstevredenheid. As supervisors die model implementeer, demonstreer hulle aan die KJW dat hulle saak maak en trauma en moegheid word verminder wanneer supervisors 'n ruimte bied aan KJW om die emosionele tol van hul werk te ontleed en so hul persoonlike welstand te verbeter (Charles, Freeman, & Garfat, 2016; Radey & Stanley, 2018). Studies toon aan dat die afwesigheid van positiewe supervisie verhoudinge gevoelens van emosionele uitputting vererger, wat 'n aanduiding van uitbranding is, wat die belangrikheid van relasionele supervisie verder bevestig (Boyas, Wind & Kang, 2011; Radey & Stanley, 2018). Dit is duidelik dat die verhouding met die supervisor die werksomgewing kan help of belemmer, en met ondersteunende supervisie word die risiko tot uitgebranding verminder. Bestaande literatuur toon aan dat die gebruik van die benadering tot supervisie, effektief is om werksbevrediging en algemene welstand van werkers te verbeter (Garfat, Fulcher & Freeman, 2016; Lizano & Mor Barak, 2015; Radey & Stanley, 2018).

In die artikel word daar gekyk of daar 'n verband is tussen supervisie en die psigososiale welstand van KJW binne KJS in Suid Afrika.

 

PROBLEEMSTELLING

Daar is beperkte navorsing oor die impak van residensiële sorg op KJW sowel as werkseise en hoe KJW hierdie eise hanteer (Modlin, 2018:7). Meintjies, Moses, Berry & Mampane, 2007 in Yorke (2016:4) voer aan dat daar 'n behoefte is aan navorsing in die veld van kinder- en jeugsorgwerk en spesifiek oor kinder- en jeugsorgsentrums. Soos vooraf genoem, ervaar KJW werksverwante stres as gevolg van hulle emosioneel uitputtende werk wat kan lei tot verminderde psigososiale welstand. Op grond van die bogenoemde werk- en supervisiefaktore wat die effektiwiteit en psigososiale welstand van KJW beïnvloed - asook gebrekkige verslagdoening oor hierdie aspekte - is daar 'n behoefte aan 'n navorsingstudie geïdentifiseer. Eerstens, om die psigososiale welstand van KJW in KJS te evalueer, en tweedens om die moontlike verband tussen psigososiale welstand en supervisie binne die KJW te bepaal. Die artikel ondersoek of KJW wél supervisie binne KJS ontvang, en of die supervisie bydra tot die psigososiale welstand van KJW.

 

DOELSTELLING

Die doelstelling van hierdie artikel was om die verband tussen supervisie en die psigososiale welstand van KJW te verken.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

In hierdie artikel is 'n kwantitatiewe navorsingsbenadering gevolg (Fouché & Roestenburg, 2021:161) om die verhouding tussen veranderlikes te verduidelik. Daar is van 'n nie-eksperimentele ontwerp gebruik gemaak om die psigososiale welstand van KJW in KJS te evalueer, en om die moontlike verband tussen psigososiale welstand en supervisie binne KJW te bepaal. 'n Beskrywende analise is gedoen en gevolgtrekkings is vanuit die resultate geformuleer.

Die populasie het bestaan uit KJW wat vir KJS werk. 'n Doelgerigte steekproefwyse is gebruik. Twintig KJS van verskillende provinsies (onder andere Gauteng, Limpopo, Noordwes, en die Wes-Kaap) is gekontak met die doel om meer verteenwoordiging van Suid-Afrikaanse KJS vir die studie te probeer kry. Verteenwoordiging is egter onmoontlik en nie haalbaar in 'n studie van beperkte omvang nie. Daar is dus van 'n werkbare steekproef gebruik gemaak om nie-parametriese analise moontlik te maak.

'n Totaal van 77 KJW het aan die studie deelgeneem. Die navorsing is uitgevoer by die KJS wat toestemming verleen het om aan die studie deel te neem. Etiese riglyne soos deur Reamer (2012:310312) en Strydom (2021:119) beskryf, is in die studie toegepas: ingeligte toestemming van alle deelnemers, vertroulikheid en privaatheid, die aanbieding van ontladingsessies indien benodig, en die bekendmaking van bevindings ná afloop van die studie.

Etiese goedkeuring is verkry van die Etiekkomitee van die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe van die Noordwes Universiteit met die etiese nommer: NWU-00009-18-S1.

 

METODE VAN DATA-INSAMELING

As data-insamelingsmetode is die opname prosedure gebruik wat gewoonlik meer kwantitatief van aard is en hierdie prosedure vereis dat vraelyste gebruik word. Drie verskillende vraelyste is gebruik om spesifieke data van deelnemers in te samel (McLeod, 2018). Die eerste vraelys ('n selfopgestelde demografiese vraelys) het uit 10 vrae bestaan met die doel om meer inligting van die KJW te verkry en om die groepering van data moontlik te maak. Twee gestandardiseerde vraelyste (Copenhagen Psychosocial Wellbeing Questionnaire II en die Supervisory Relationship Questionnaire) is gebruik om data in te samel en om die interne geldigheid van die studie en uiteindelike betroubaarheid te verhoog. Die Copenhagen Psychosocial Wellbeing Questionnaire II (Kristensen & Borg, 2003) is gebruik om die psigososiale welstand van die KJW te meet.

Daar is kort, medium en lang weergawes van hierdie skaal beskikbaar. Die lang vraelys is in hierdie studie gebruik, maar is verkort om slegs die werkseise en individuele probleem sub-skale te gebruik. Die sub-skale bevat 55 kortvrae wat die volgende faktore meet: werkkwantiteit, werkstempo, kognitiewe eise, emosionele eise, wegsteek van emosies, familie-werk konflik, werk-familie konflik, gesondheid, slaappatrone, uitbranding, depressie, stres, somatiese stres, kognitiewe stres en selfdoeltreffendheid. Dit was nodig om die psigososiale welstand van die KJW te meet om te kon vasstel of die KJW enige uitdagings ervaar en hoe dit verband hou met uitdagings wat hulle in die werksplek ervaar. Die deelnemers kon die opsie Altyd (Always), Gereeld (Often), Somtyds (Sometimes), Selde (Seldom), of Nooit (Never) kies.

Die Supervisory Relationship Questionnaire (SRQ) (Palomo, 2010) is gebruik om die verhouding tussen die toesighouers en die KJW te meet. Die vraelys meet die effektiwiteit en kwaliteit van supervisie en kan gebruik word in 'n kliniese opset waar toesighouers terugvoer wil hê oor die kwaliteit van supervisie (Palomo, 2010:144; Palomo, Beinart & Cooper, 2010:131). Enige individu wat die kwaliteit van supervisie in 'n werksomgewing wil meet, kan die vraelys gebruik. Daar is gebruik gemaak van drie subskale binne die vraelys, naamlik veilige basis, rolmodellering en formatiewe terugvoering. Die veilige basis sub-skaal fokus op konsepte soos wedersydse respek, gevoel van veiligheid en gemaklikheid om gevoelens en bekommernisse te deel tydens supervisie sessies. Die rol modellering sub-skaal behels KJW se persepsie oor toesighouers se kennis en vaardighede in die veld terwyl die formatiewe terugvoering sub-skaal fokus op die opleidingsaspek van supervisie. Die SRQ is 'n 7-punt Likertskaal met die volgende opsies: Verskil sterk (Stronly disagree), Verskil (Disagree), Verskil effens (Slightly disagree), Verskil nie en stem ook nie saam nie (Neither disagree nor agree), Stem effens saam (Slightly agree), Stem heeltmal saam (Strongly agree), en Stem saam (Agree). Die vraelys bestaan uit 38 kortvrae.

 

DATA-ANALISERING

Data is met behulp van die IBM SPSS-weergawe 25 sagteware (SPSS) (IBM Corp, 2017) geanaliseer en die ontleding is deur die statistiese konsultasiediens van die Noord-Wes Universiteit behartig. Die analise is in drie stadiums voltooi. Eerstens, is die interne betroubaarheid van die Copenhagen Psychosocial Wellbeing Questionnaire II (COPSOQ II) en die SRQ geëvalueer met behulp van Cronbach se Alpha. Daarna is die kenmerke van die steekproef verkry met behulp van beskrywende statistiek en weergegee in figure en tabelle. Gevolgtrekkings oor die verspreiding van veranderlikes is gemaak. Laastens is gemiddelde tellings op die twee skale gebruik om verbande tussen gemiddelde tellings en biografiese veranderlikeste te evalueer met behulp van die Spearman-korrelasie. Daar is vir beduidende verskille tussen groepe getoets - spesifiek die groep wat supervisie ontvang het en dié wat nie supervisie ontvang het nie - ten einde te bepaal of supervisie enigsins verband hou met werknemerwelstand in die betrokke werksplek. Die steekproef was groot genoeg om n redelike kans vir normaliteit in die tellings te kon verkry. Normaliteit in die steekproef is met behulp van Q-Q Plots en die Shapiro-Wilk toets geëvalueer.

 

NAVORSINGSBEVINDINGS

Die deelnemers aan die kwantitatiewe studie was KJW wat by KJS in diens is. 'n Lae gemiddeld in die COPSOQ II-vraelys, dui daarop dat meer individue altyd (Always), dikwels (Often) en selde (Seldom) geantwoord het. 'n Hoë gemiddeld in die SRQ-vraelys dui daarop dat meer individue saamgestem (Agree), effens saamgestem (Slightly Agree) of heeltemal saamgestem (Strongly Agree) het.

 

RESULTATE

Die psigososiale welstand van KJW

Die volgende resultate van die psigososiale welstand van KJW is met behulp van die COPSOQ II verkry:

 

 

Die term 'psigososiale welstand' verwys na 'n kombinasie van individue se kognitiewe, emosionele, geestelike en sosiale welstand (Sayed, 2017). Daar is gebruik gemaak van die COPSOQ II (Kristensen & Borg, 2007) se werkseise, familie-werk konflik en individuele probleme sub-skale om die psigososiale welstand van die KJW te meet. Faktore wat die werkseise sub-skaal gemeet het, sluit in kwantiteit, tempo, kognisie, emosies en wegsteek van emosies. Daar was 'n sub-skaal wat familie-werk konflik en werkfamilie konflik gemeet het.

Die sub-skaal wat individuele probleme gemeet het, bestaan uit die volgende faktore: gesondheid, slaap, uitbranding, stres, depressie, somatiese stres, kognitiewe stres en selfdoeltreffendheid. 'n Gemiddeld van drie op die skaal dui 'n lae psigososiale welstand aan. 'n Totaal van 28 KJW het 'n lae psigososiale welstand gemeet. Dit was 36% van die totale steekproef. Vanuit die resultate kon daar afgelei word dat deelnemers voel dat hul werk hulle in emosioneel onstellende situasies plaas. KJW voel ook somtyds emosioneel uitgebrand, hartseer, gestres en slaap sleg. Verskeie nasionale sowel as internasionale studies dui daarop dat KJW geneig is tot uitbranding as gevolg van hulle emosioneel uitdagende beroep (Greyvensteyn, 2010:53; Modlin, 2018:4; Molepo, 2015:291; Rusby, et al, 2012:1590; Van Niekerk, 2010:96).

Supervisie

Die SRQ se uitslae kan soos volg deurgegee word:

Holman (2018) definieer supervisie as die verhouding tussen toesighouers en die individue onder hulle toesig wat fokus op die ontwikkeling van kennis, vaardighede, verantwoordelikhede en etiese standaarde. Daar is gebruik gemaak van die SRQ (Palomo, 2010) om die verhouding tussen die toesighouers en KJW te meet. Daar was 64 deelnemers wat supervisie ontvang en wat die vraelys beantwoord het. Al die gemiddelde van die vrae in die vraelys was bo 5. Daar kon dus afgelei word dat die meeste van die KJW n goeie verhouding met hulle toesighouers gehad het.

Interverhoudings tussen faktore

Daar is gebruik gemaak van die Spearmantoets om nie-parametriese korrelasies te identifiseer. Korrelasie-koëffisiënte is gebruik om die interverhoudings tussen faktore te identifiseer. Korrelasie-koëffisiënte is prakties betekenisvol indien die telling bo 0.2 is (Pallant, 2011:136-139). Daar is gefokus op die interverhoudings tussen die SRQ en faktore van die KJW se psigososiale welstand soos deur die COPSOQ II gemeet. Twee demografiese dimensies het met die SRQ gekorreleer. Slaap, depressie, somatiese stres, kognitiewe stres, selfdoeltreffendheid en individuele probleme is dimensies van die COPSOQ II-vraelys wat met die SRQ gekorreleer het. Die volgende tabel fokus op die korrelasie-koëffisiënte tussen die faktore wat n interverhouding met supervisie het.

 

 

Verhoudings is tussen sekere faktore van die COPSOQ II en supervisie geïdentifiseer om vas te stel of daar 'n verband tussen die psigososiale welstand en supervisie was. Die volgende faktore kan 'n invloed hê op die verhouding tussen KJW en hulle toesighouers: biologiese kinders, vlak van opleiding, slaapprobleme, stres, depressie, somatiese stres, kognitiewe stres, selfdoeltreffendheid, individuele probleme, familie-werk konflik, en uitbranding. Al hierdie faktore het positief met supervisie gekorreleer, behalwe die vlak van opleiding en selfdoeltreffendheid. Ten opsigte van etniese groepe is verskille in die deelnemers se werkstempo, emosionele aspek van die werk, werk-familie konflik, stres, werkseise en die formatiewe terugvoering sub-skaal van supervisie opgemerk.

Vergelykings tussen groepe

Die volgende deel van die resultate fokus op die verskille in opinies tussen groepe wat gebaseer is op die deelnemers se demografiese inligting. Die navorsing was nie-parametries van aard. Pallant (2011:213) noem dat nie-parametriese statistiek gebruik word wanneer die steekproef klein is en data met behulp van nominale en ordinale skale ingesamel word. In hierdie studie is daar gebruik gemaak van korrelasie-koëffisiënte, T-toetse, beskrywende toetse sowel as ANOVA-toetse om eerstens die verskille in die deelnemers se etniese groepe, huwelikstatus en inkomste te meet en tweedens of die demografiese faktore 'n uitwerking op die KJW se psigososiale welstand of verhouding met hulle toesighouers het. Onafhanklike T-toetse word gebruik om die verskille tussen twee groepe te vergelyk terwyl ANOVA-toetse gebruik word om tussen-groep verskille te identifiseer (Pallant, 2011:239;250). Statisties beduidende toetse is gebaseer op die P-waardes en die effek-grootte van die toetse. P-waardes is egter nie van toepassing op kleiner studies nie, maar om die resultate so volledig moontlik deur te gee, is die P-waardes by die resultate gevoeg (Ellis & Steyn, 2003:51). 'n Effekgrootte van groter as 0.2 wys dat die resultate statisties beduidend was (Ellis & Steyn, 2003:54).

Geslag

Die volgende tabel verskaf inligting oor die demografiese inligting wat 'n statisties beduidendheid toon met die COPSOQ II- en SRQ-skaal. Hierdie statistiek is deur middel van T-toetse bereken.

 

 

'n Effekgrootte van 0.2 dui 'n klein effek aan, terwyl 'n effekgrootte van 0.5 op 'n medium effek dui en bo 0.7 dui op n groot, beduidende effek (Ellis & Steyn, 2003:54). Daar was 'n klein verskil tussen die 0.2 en 0.5 effekgroottes tussen die mans en vroue. Die vroulike KJW het oor die algemeen slegter geslaap, meer stres ervaar, meer simptome van uitbranding ervaar en was meer geneig tot depressie. Daar was n klein effek (effekgrootte: 0.25) wat daarop gedui het dat die vroue beter oor die weg gekom het met hulle toesighouers as die mans. Daar was 'n effense verskil (effekgrootte: 0.33 en 0.24) tussen die mans en vroue se gesondheid en selfdoeltreffendheid waar die mans se gesondheid en selfdoeltreffendheid hoër was as die vroue s'n. Daar was n groot verskil tussen die mans en vroue se werkstempo en depressie. Die mans het die werkstempo (effekgrootte: 0.75) beter as die vroue ervaar terwyl die vroue meer geneig was tot depressie (effekgrootte: 0.71) as die mans. Die T-toetse het die verskille tussen die mans en vroue geïdentifiseer ten opsigte van hulle psigososiale welstand en hulle verhoudings met hul toesighouers. Die mans se psigososiale welstand was beter as die vroue s'n en die vroue se verhoudings met hulle toesighouers was beter as die mans s'n. Die afleiding wat gemaak kan word is dat vrouens meer geneig is om die trauma van die kinders in sorg meer intens te ervaar en geneig is om meer om te stres en simptome van uitbranding te ervaar. Mans vind dit moeiliker om gesag van supervisors te aanvaar.

Etniese groepe

Beskrywende statistieke en ANOVA toetse is gebruik om die verskille tussen drie etniese groepe te analiseer.

 

 

Die meeste swart en blanke deelnemers het gevoel dat hulle teen n hoë werkstempo werk en dat hul werk veeleisend is, met n hoë effek grootte van 0.76; -0.21; -0.53 terwyl die kleuring deelnemers met n gemiddeld van drie punt nul agt (3.08) die "Sometimes" opsie gekies het. Die blanke deelnemers het gevoel dat die werk hul in emosioneel onstellende situasies plaas en het ook meer stres ervaar. Modlin (2018) bevestig dat die frustrasie en angs wat die personeel kan ervaar, tesame met die emosionele trauma van die jongmense, lei daartoe dat die KJW meer stres ervaar. Die swart deelnemers ervaar meer werkfamilie konflik en hoër werkseise as die ander groepe. Daar was n aanduiding dat die swart deelnemers meer baat gevind het by die supervisie wat hulle ontvang het as die ander werkers, moontlik omdat die swart werkers vir n korter tydperk in diens van die KJS was en meer ondersteuning en leiding ontvang het. Laroche en Klein (2008) vind dat KJW benodig leiding van ervare supervisors en het gefrustreerd gevoel as sulke ondersteuning nie beskikbaar was nie.

Huwelikstatus

ANOVA-toetse is gebruik om die verskil in opinies tussen die ongetroude en getroude deelnemers asook die weduwees en/of wewenaars te identifiseer.

 

 

Daar was n prakties beduidende verskil tussen die getroude, ongetroude en weduwee/wewenaar-groepe. Dit wou voorkom of die ongetroude KJW die beroep meer emosioneel uitdagend ervaar met 'n effekgrootte van 0.40, meer slaapprobleme ervaar (effekgrootte: 0.48), meer familie-werk konflik (effekgrootte: 0.46) ervaar en meer individuele probleme het as diegene wat getroud of weduwees/wewenaars is. Die getroude KJW het 'n beter verhouding met hulle toesighouers gehad as die ander twee groepe (effekgrootte: 0.65).

Inkomste

ANOVA-toetse is gebruik om die verskille tussen die groepe met verskillende inkomstes te meet.

 

 

Daar was 'n matige verskil tussen die groepe se inkomste en faktore van hulle psigososiale welstand. Die KJW wat tussen R6000.00 en R9000.00 verdien, het gevoel dat hulle hul emosies ten opsigte van hulle werk meer moes wegsteek (effekgrootte: 0.42). Hulle het ook meer werk-familie konflik (effekgrootte: 0.66) en slaapprobleme (effekgrootte: 0.66) ervaar as die KJW wat minder as R6 000.00 per maand verdien. Molepo (2015:277) is van die opinie dat die sosio-ekonomiese omstandighede waarin KJW hulleself bevind hulle geweldig beïnvloed. Strand en Dore (2009:395) argumenteer dat lae salarisse kan beteken dat werknemers se bydra en welstand geminag word.

 

GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

KJW se psigososiale welstand kan 'n direkte invloed hê op die kinders waarmee hulle daagliks werk, maar die werk kan ook 'n direkte invloed op die KJW se psigososiale welstand hê. Daar moet egter altyd in die beste belang van kinders opgetree word; daarom is dit belangrik om te verseker dat KJW genoegsame ondersteuning kry om hulle daaglikse take te kan verrig. Hierdie studie het gehandel oor die verband tussen supervisie en die psigososiale welstand van KJW. n Totaal van 77 deelnemers het aan die studie deelgeneem. In sommige gevalle was daar 'n klein effek grootte, tog blyk dit uit die data dat etnisiteit, geslag, huwelikstatus en inkomste 'n invloed het op die psigososiale welstand van KJW. T-toetse het die verskille tussen mans en vrouens geïdentifiseer ten opsigte van hul psigososiale welstand en hul verhoudings met hul toesighouers. Daar was verskille tussen die mans en vrouens se slaappatrone, gesondheid, uitbranding, stres, selfdoeltreffendheid, depressie, somatiese stres, werktempo en supervisie. Mans se psigososiale welstand is beter as die vrouens en vrouens se verhoudings is beter met hul toesighouers as mans s'n.

Die studie het ook bevind dat daar n verband is tussen die KJW wat supervisie ontvang en diegene wat nie supervisie ontvang nie. Daar was egter verskeie faktore van die KJW se psigososiale welstand wat n invloed op supervisie gehad het, biologiese kinders, vlak van opleiding, slaapprobleme, stres, depressie, somatiese stres, kognitiewe stres, selfdoeltreffendheid, individuele probleme, familie-werk konflik, en uitbranding. Ten opsigte van etniese groepe is verskille in die deelnemers se werkstempo, emosionele aspek van die werk, werk-familie konflik, stres, werkseise en die formatiewe terugvoering sub-skaal van supervisie opgemerk. Daar word voorgestel dat hierdie aspek verder nagevors word.

Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat daar wel n vorm van emosionele ondersteuning aan die KJW gegee moet word, omdat daar n verband tussen die KJW se psigososiale welstand en supervisie bestaan. Op grond van die voorafgaande bevindings word die volgende aanbevelings aan die hand gedoen:

KJW is 24 uur per dag verantwoordelik vir die kinders in hulle sorg en dus moet daar ook omgesien word na hulle psigososiale welstand. Indien toesighouers nie self betrokke wil raak by KJW se persoonlike probleme nie, moet hulle verwys word.

Indien die KJW nie die nodige supervisie binne die KJS kry nie of nie die nodige verhouding met die toesighouer het nie, word dit aanbeveel dat daar van eksterne professionele persone gebruik work wat moontlik groepwerk doen of individuele berading aan KJW voorsien.

Opleiding behoort aan KJW verskaf te word in terme van emosionele intelligensie en die hantering van individuele probleme.

Geleenthede moet vir KJW geskep word ten opsigte van emosionele ontlading wanneer hulle aan traumatiese gebeurtenisse blootgestel word.

Navorsing moet fokus op die inhoud van en leemtes in die supervisie van KJW in KJS.

Navorsing is nodig oor hoe om KJW se psigososiale welstand te verbeter.

Toekomstige studies kan fokus op die invloed wat KJW se psigososiale welstand het op die kinders in hulle sorg.

 

BIBLIOGRAFIE

AGERE, L. M. 2014. An evaluation of the role of child and youth care centres in the implementation of South Africa's Children's Act. Alice: University of Fort Hare. (Master's thesis)        [ Links ]

BARFORD, S. W., & WHELTON, W. J. 2010. Understanding burnout in child and youth care workers. Child and Youth Care Forum, 39(4), 271-287. [On line] Available: https://doi.org/10.1007/s10566-010-9104-8.         [ Links ]

BOYAS, J., WIND, L. H., & KANG, S. 2011. Exploring the relationship between employment-based social capital, job stress, burn out, and intent to leave among child protection workers: An age-based path analysis model. Children and Youth Services Review, 34,50-62. [Online] Available: http://dx.doi.org/10.1016/j.childyouth.2011.08.033        [ Links ]

BRANDS-SALIBA, E. 2020. Relational supervision: A preventative tool for practitioner burnout. Child & Youth Care Practice, 33(3). [Online] Available: file:///C:/Users/10603603/Downloads/RCYCP_33-3-5.pdf        [ Links ]

CHARLES, G., FREEMAN, J. & GARFAT, T. 2016. Supervision in Child and Youth Care Practice. Cape Town: The CYC-Net Press: 22 - 27.         [ Links ]

ELLIS, S. M. & STEYN, H. S. 2003. Practical significance (effect sizes) versus or in combination with statistical significance (P-values). Management Dynamics, 12(4): 51-53.         [ Links ]

ELOVAINIO, M., HEPONIEMI, T., JOKELA, M., HAKULINEN, C., PRESSEAU, J., AALTO, A. & KIVIMÄKI, M. 2015. Stressful work environment and wellbeing: What comes first? Journal of Occupational Health Psychology, 20(3): 289 - 300.         [ Links ]

FOUCHÉ, C.B. & ROESTENBURG, W.H.J. 2021. In: FOUCHÉ, C.B., STRYDOM, H., & ROESTENBURG, W.H.J. (eds.). Research at grass roots: For the social science and human professions. Pretoria: Van Schaik:113-130.         [ Links ]

GARFAT, T., FULCHER, L., & DIGNEY, J.(eds.). 2013. Making moments meaningful in child and youth care practice. Cape Town, South Africa: CYC-Net Press.         [ Links ]

GARFAT, T., FULCHER, L. & FREEMAN, J. 2016. A daily life events approach to child and youth care supervision. In: G. CHARLES, J. FREEMAN & T. GARFAT (eds.). Supervision in child and youth care practice. Cape Town: The CYC-Net Press: 28 - 47.         [ Links ]

GARFAT, T., FREEMAN, J., GHARABAGHI, K. & FULCHER, L. 2018. Characteristics of a Relational Child & Youth Care Approach (Revised). CYC-Online, Issue 236.         [ Links ]

GREYVENSTEYN, E. 2010. A needs assessment of caregivers in children's homes. Pretoria: University of South Africa. (Master's thesis)        [ Links ]

HOLMAN, S. L. 2018. Guidelines for social work practice supervision and consultation. [Online Available: http://www.naswco.org/page/43/Guidelines-for-Social-Work-Practice-Supervision-and-Consultation [Accessed: 23/10/2018].         [ Links ]

IBM CORP. 2017. IBM SPSS Statistics for Windows, Version 25.0. Armonk, NY: IBM Corp.         [ Links ]

KLEYNHANS, L. 2015. Die psigososiale omstandighede van opvoeders betrokke by die Vroeë Kinderontwikkelingsprogram van die Studente Jool Gemeenskapsdiens in Potchefstroom. [Aanlyn] Beskikbaar: http://repository.nwu.ac.za/handle/10394/19914 [Datum van toegang: 05/04/2017]. (M tesis)        [ Links ]

KRISTENSEN, T.S. & BORG, V. 2003. Copenhagen Psychosocial Questionnaire (COPSOQ). [Online] Available: https://webcache.googleusercontent.com/search?q=cache:Tci-hCupOYsJ:www.sjweh.fi/download.php%3Fabstractid%3D948%26filenro%3D1+&cd=1&hl=en&ct=clnk&gl=za [Accessed: 05/05/2017].         [ Links ]

KRISTENSEN, T. S., & BORG, V. 2010. The contruction of the scales Copenhagen Psychosocial Questionnaire (COPSOQ) II. [Online] Available: https://journals.sagepub.com/doi/pdf/10.1177/1403494809349858 [Accessed: 05 Mei 2017].         [ Links ]

LAROCHE, H. & KLEIN, J.D. 2008. Lessons from the front lines: Factors that contribute to turnover among youth development workers. Journal of Youth Development, 2(3), Spring 2008. [Online] Available: https://rhyclearinghouse.acf.hhs.gov/sites/default/files/docs/16913-Lessons_From_the_Front_Lines.pdf        [ Links ]

LIZANO, E. L., & MOR BARAK, M. 2015. Job burnout and affective wellbeing: A longitudinal study of burnout and job satisfaction among public child welfare workers. Children and Youth Services Review, 55, 18-28. [Online] Available: https://doi.org/10.1016/j.childyouth.2015.05.005        [ Links ]

MCLEOD, S. A. 2018. Questionnaire. [Online] Available: https://www.simplypsychology.org/questionnaires.html [Accessed: 07/10/2018.         [ Links ]

MEINTJIES, H., MOSES, S., BERRY, L. & MAMPANE, R. 2007. Home Truths: The phenomenon of residential care in a time of AIDS. Cape Town: Children's Institution, University of Cape Town & Centre for Study of AIDS, University of Pretoria.         [ Links ]

MODLIN, E. 2018. Exploring the experiences of child and youth care workers in residential care through a constructive-developmental lens. University of Victoria.         [ Links ]

MOLEPO, L. 2015. Professional challenges experienced by child and youth care workers in South Africa. Children and Youth Services Review, 56:149-160. [Online] Available: https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0190740915300141 [Accessed:10/10/2016.         [ Links ]

PALLANT, J. 2011. SPSS survival manual: A step by step guide to data analysis using SPSS. 4th ed. Australia: Allen & Unwin.         [ Links ]

PALOMO, M. 2010. The Supervisory Relationship Questionnaire (SQR).https://www.midss.org/sites/default/files/srq.pdf [Datum van toegang: 23 Junie 2017].         [ Links ]

PALOMO, M., BEINART, H. & COOPER, M. 2010. Development and validation of the Supervisory Relationship Questionnaire (SRQ) in UK trainee clinical psychologists. British Journal of Clinical Psychology, 49: 131-149.         [ Links ]

RADEY, M., & STANLEY, L. 2018. "Hands on" versus "empty": Supervision experiences of frontline child welfare workers. Children and Youth Services Review, 91(February): 128-136. [Online] Avaiable: https://doi.org/10.1016/j.childyouth.2018.05.037        [ Links ]

REAMER, F.G. 2012. Codes of ethics. In: GRAY, M., MIDGLEY, J. & WEBB, S.A. (eds.). The SAGE handbook of social work. Los Angeles, California: Sage Publications: 299-315.         [ Links ]

RUSBY, J. C., JONES, L. B., CROWLEY, R. & SMOLKOWSKI, K. 2012. Associations of caregiver stress with working conditions, caregiving practices, and child behaviour in home-based child care. Early Child Development and Care, 183(11):1589-1604. [Online] Avaiable:https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/03004430.2012.742992 [Accessed:05/11/2016.         [ Links ]

SAYED, E. 2017. Humans and their environment: psychosocial wellbeing. [Online Available: ]https://www.linkedin.com/pulse/8-psychosocial-wellbeing-exploration-concept-our-built-ehab-sayed/ [Accessed: 23/10/2018].         [ Links ]

STRAND, W.C., DORE, M.M. 2009. Job satisfaction in a stable state child welfare workforce: Implications of staff retention. Children and Youth Services Review, 31(3):391-397.         [ Links ]

STRYDOM, H. 2021. Ethical aspects of research in the social science and human service professions. In: FOUCHÉ, C.B., STRYDOM, H., & ROESTENBURG, W.H.J. (eds.). Research at grass roots: for the social science and human professions. Pretoria: Van Schaik:117-135.         [ Links ]

SOUTH AFRICA. 2005. Children's Act and Regualtions: Act 38 of 2005. Pretoria: Government Printers.         [ Links ]

TODERI, S., & BALDUCCI, C. 2018. Stress-preventive management competencies, psychosocial work environments, and affective well-being: A Multilevel, Multisource Investigation.         [ Links ]

VAN NIEKERK, K. 2010. Bydraes wat kernrolspelers kan lewer om huisouers binne die huis ouer model in die uitvoering van hulle take te ondersteun. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

WEITEN, W. 2007. Psychology themes and variations. Belmont, CA: Thomson Wadsworth.         [ Links ]

YORKE, C. 2016. The experience of caregivers in registered child and youth care centres in Gauteng, South Africa during the first 21 years of democracy. Pretoria: University of Pretoria.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License