SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2The roles of social auxiliary workers in drop-in-centres: addressing the biopsychosocial needs of children living with HIVThe experiences of abused older persons in resource-poor settings author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Social Work

On-line version ISSN 2312-7198
Print version ISSN 0037-8054

Social work (Stellenbosch. Online) vol.57 n.2 Stellenbosch  2021

http://dx.doi.org/10.15270/52-2-930 

ARTICLES

 

Skollies in my skool - menings wat saak maak/Skollies in my school - opinions that matter

 

 

Dr Glynnis Dykes; Ms Fairoza Brey; Dr Shernaaz Carelse; Dr Ronel Davids; Dr Anja Human-Hendricks; Ms Nomvuyo Lukelelo

Department of Social Work, University of the Western Cape, Cape Town, South Africa

 

 


Trefwoorde: apartheid, bendebedrywighede, jeug, Kaapse Vlakte, skoolbendes, townships


ABSTRACT

Dr Glynnis Dykes, Ms Fairoza Brey, Dr Shernaaz Carelse, Dr Ronel Davids, Dr Anja Human-There is considerable concern about the increasing phenomenon of school gangs on the Cape Flats. This article emanatedfrom a larger research study undertaken over a three-year period (2016-2018) by Social Work students from the University of the Western Cape. The objective was to explore and describe the experiences of school learners about youth in gangs, and to develop appropriate interventions. This article presents the findings of the 2016 study. A qualitative approach, utilising an exploratory and descriptive design, was used. Individual interviews were conducted with 400 learners from eight schools on the Cape Flats using purposive and convenient sampling. Six main themes are presented that emerged from thematic data analysis. These include poverty and unemployment, unsafe spaces in townships, substance abuse, the power of gangs, peer pressure and bullies as well as family relationships andfamily dynamics. Ethics approval to conduct the study was obtained from the research ethics committee of the University.

Keywords: apartheid, Cape Flats, gang activities, school gangs, townships, youth


 

 

INLEIDING

Bendes bestaan regoor die wêreld en die lede is meestal mans, alhoewel vroue deesdae ook al hoe meer by bendes aansluit en self bendes vorm (Wijnberg, 2012).

'n Bende kan gedefinieer word as 'n groep mense wat funksioneer as 'n eenheid met 'n spesifieke identiteit en wat betrokke is by verskeie misdade en onwettige bedrywighede (Curry, 2015; Franzese, Covey & Menard, 2016). Bendes in gevangenisse het bygedra tot die oorsprong en ontstaan van bendes in Suid-Afrika. Hierdie bendes in gevangenisse, bekend as en genommer die 26's, 27's en 28's, verteenwoordig en is kenmerkend van die waardes en norme van die verskeie bendes. Die bendes word gekenmerk deur misdaad en geweld; soos winkeldiefstal, aanranding en moord (Van der Merwe & Swanepoel, 2017; Waltorp & Jensen, 2019). Hierdie verskynsels het oor die jare in die samelewing uitgebrei, veral in die woongebiede waar die meerderheid swart en bruin inwoners is (Chetty, 2015; Chetty, 2017; Chetty & Ramson, 2016). Bendeaktiwiteite het die afgelope 30 jaar wêreldwyd toegeneem en meer geweldadig geword. Hierdie aktiwiteite het van gevangenisse na die breër samelewing, insluitende gemeenskappe en selfs skole versprei (Brown-Luthango, 2018; Chetty, 2015; Waltorp & Jensen, 2019).

Bendegeweld in Suid-Afrika het as gevolg van apartheid, en met die implementering van die Wet op Groepsgebiede 41 van 1950, veral in swart en bruin gemeenskappe toegeneem (Dos Reis, 2007; Howell, 2019; Waltorp & Jensen, 2019;). Hierdie wetgewing het Suid-Afrikaners volgens ras geklassifiseer en mense is gewelddadig uit hulle gemeenskappe verwyder en na die uithoeke van Kaapstad verskuif. Hierdie gebiede is deur die inwoners bekend as die Kaapse Vlakte en townships. Die Globe-bende is in die 1940's in hierdie gebiede gestig om die gemeenskap teen indringers te beskerm, en orde en veiligheid te handhaaf, veral in die Distrik Ses-woongebied (Howell, 2019).

Mense wat op soek na werksgeleenthede van regoor Suid-Afrika na Kaapstad migreer het, is as indringers beskou (Wijnberg, 2012). Gevolglik het bendes toegeneem en meer georganiseerd geraak, in so 'n mate dat die bendekuituur tans in die Suid-Afrikaanse samelewing geïntegreer is, met die hoogste getalle in die Wes-Kaap (Magidi, 2014; Waltorp & Jensen, 2019; Stastistiek Suid-Afrika [Stats SA], 2018).

Geweld en misdaad is tans 'n daaglikse tendens in Suid-Afrika. Bendemisdaad soos dwelmbedrywighede en geweld, is aan die orde van die dag in geweldgeteisterde townships regoor Suid-Afrika. Dit is egter meer prominent op die Kaapse Vlakte (Petrus & Kinnes, 2019; Waltorp & Jensen, 2019). Hierdie tipe geweld kom tans byna daagliks in skole op die Kaapse Vlakte voor (Chetty, 2015; De Wet, 2016; Kinnes, 2019). Die verskynsel van skoolmeisies wat by bendes aansluit, is deesdae ook al hoe meer algemeen (Kinnes, 2019; Petrus & Kinnes, 2019). Skoolbendes is egter nie net 'n Kaapse probleem nie. Dit kom ook in ander provinsies soos Gauteng en Kwazulu- Natal voor (De Wet, 2016, Shields, Nadasen & Hanneke, 2015).

Daar is veskeie redes waarom skoliere aan bendes behoort. Die belangrikste redes waarom hulle by bendes aansluit, is volgens verskeie navorsingstudies, 'n behoefte aan identiteit, groepsdruk asook ekonomiese redes, soos die basiese behoeftes aan kos en klere en om veilig te voel in hul gemeenskappe (Magidi, 2014; Pertus & Kinnes, 2019; Pinnock & Doughlas-Hamilton, 1997; Shields et al, 2015; Van der Merwe & Swanepoel, 2017; Wijnberg, 2012).

Alhoewel daar verskeie studies oor bendes op die Kaapse Vlakte bestaan (Pertus & Kinnes, 2019; Magidi, 2014; Shields et al., 2015; Van der Merwe & Swanepoel, 2017), is daar baie min studies wat op skoolbendes fokus. Leemtes in navorsing sluit in die redes waarom skoliere by bendes aansluit, asook die intervensie met lede wat by bendes betrokke is deur professies soos maatskaplike werkers en ander professionele hulpverleners (Breen, Daniels & Tomlinson, 2019; Magidi, 2014). Ten einde die leemte in navorsing aan te spreek, het hierdie studie gefokus op die maatskaplike dienste wat benodig word op mikro-, meso- en makrovlakke ten einde die probleem aan te spreek, en jong mense, families en gemeenskappe te ondersteun. Daarbenewens het die studie ook gefokus op die persepsies en ervarings van skoliere ten opsigte van skoolbendes as algemene verskynsel op die Kaapse Vlakte (Breen et al., 2019; Bryant, Berry & Cevik, 2019; Kinnes, 2019; Pertus & Kinnes, 2019).

 

TEORETIESE RAAMWERK

Die ekologiese sisteem teorie (EST), ontwikkel deur Bronfenbrenner (2005), is gebruik as teoretiese raamwerk vir die studie. Die ekologiese sisteem teorie fokus op die persoon-in-omgewing-verhouding wat positief, negatief of neutraal kan wees (Bronfenbrenner, 2005). Die belangrikste uitgangspunt van die teorie is dat daar op verskeie vlakke interaksie tussen mense en hul omgewing bestaan. Die interaksie is interafhanklik en wedersyds tussen die individu en sy/haar omgewing, of ekologie (Germain, 1991).

Die vlakke bestaan uit die mikro-, meso-, makro-, ekso-, asook die krono- en tegnosubsisteme (Duerden & Witt, 2010; Leonard, 2011). 'n Individu se identiteit raak versteurd wanneer 'n disekwilibrium en teenstrydighede tussen die verskillende vlakke bestaan. D it gee gevolglik aanleiding tot stres, sielkundige en maatskaplike probleme (Germain, 1985). Teenstrydige interafhanklike verhoudings tussen die individu, familie, vriende of groepsdruksisteme kompliseer die ekologie.

Die rasionaal vir die keuse van die teorie is gebaseer op die feit dat die skoliere wat by bendebedrywighede betrokke is, dit in die konteks van sy omgewing of ekologie beoefen. Die teorie is ook gebaseer op die beginsel dat die individu en die omgewing of ekologie interafhanklik is (Bronfenbrenner, 2005; Gitterman & Germain, 2008; Gitterman & Shulman, 1993). Die individu kan derhalwe slegs volkome verstaan word in die konteks van 'n wedersydse verhouding; waarvan albei interafhanklik is.

Die EST is 'n gepaste teoretiese raamwerk vir hierdie studie ten einde te bepaal waarom skoliere by bendes in die skool betrokke raak. Die verskillende sisteme in die skolier se omgewing het 'n invloed op alle aspekte van sy/haar lewe, en die ekwilibrium word versteur deur die skolier se reaksie teenoor probleme in die omgewing (Duerden & Witt, 2010; Gitterman & Germain, 2008; Leonard, 2011). Kritiek teen die ekologiese sisteem in Sosiale Wetenskappe is die feit dat dit veeleisend en tydrowend is om die individu in sy/haar totaliteit te bestudeer, ongeag die sosiale konteks.

 

NAVORSINGSMETODE

Studiekonteks

Hierdie studie fokus op skoliere se opinies en ervarings van jeugdiges wat by bendes op die Kaapse Vlakte betrokke raak. Die Kaapse Vlakte is woonbuurte wat gedurende apartheid, ingevolge die Wet op Groepsgebiede 41 van 1950, mense volgens velkleur gekategoriseer het, verwyder het uit hul huise wat naby die stad was, en na die buitewyke van die stad verskuif het om plek te maak vir wit woonbuurte naby die stad (South African History Online, 2019).

Doel en doelwitte van die studie

Die doel van die 2016-studie was om die persepsies en ervarings van skoliere ten opsigte van die betrokkenheid van jeugbendes op die Kaapse Vlakte te ondersoek. Die doelwit was om die persepsies en ervarings van skoliere rakende jeugbendes op skool te verken en te beskryf.

Navorsingsbenadering en ontwerp

Die navorsingsbenadering vir die studie was kwalitatief met die fokus daarop om in diepte die ervarings van die deelnemers te verken (Babbie & Mouton, 2007; Harding, 2019). Die navorsingsontwerp was verkennend en beskrywend (Creswell, 2007) aangesien daar leemtes in die verkenning van hierdie onderwerp bestaan; veral die persepsies en ervarings van skoliere aangaande hierdie sensitiewe onderwerp.

Populasie en steekproef

Die populasie van die studie het al die sekondêre skole op die Kaapse Vlakte ingesluit. Skole binne die geografiese gebied van die Kaapse Vlakte is genader ten einde deelnemers te werf. 'n Nie-waarskynlike gerieflikheidsteekproef is gebruik en het 400 skoliere van agt skole ingesluit. Die steekproef het bestaan uit skoliere tussen 14-18 jaar oud en wie se ouers toestemming verleen het dat hul kinders kon deelneem. Dit het 50 onderhoude by elke skool, en gesamentlik 400 semi-gestruktureerde onderhoude by agt skole ingesluit.

Data-insameling en -analise

Elke deelnemende skool het eers toestemming verleen dat hierdie studie by die betrokke skool kon plaasvind. Die 80 studente in die vierde (finale) jaar maatskaplikewerkklas was in groepe van 10 by skole ingedeel. Elke student het vyf semi-gestruktureerde onderhoude met skoliere gevoer, en 'n semi-gestruktereerde onderhoudskedule gebruik om sodoende die tipe vrae konsekwent te hou, asook om 'n balans te handhaaf tussen gestruktureerde en spontane (asook ondersoekende) vrae.

Data-analise is gedoen deur gebruik te maak van die tematiese analiseproses van Tesch (Creswell, 2009). Onderhoude is getranskribeer en temas is geïdentifiseer en gekategoriseer met kodes en aanhalings uit onderhoude. Mills, Durepos en Weibe (2010) maak navorsers bewus van die feit dat daar tydens analise sorgvuldig met die data gewerk word sodat belangrike inligting nie in die proses verlore gaan nie. Die dosente het dus 'n belangrike rol gespeel tydens die data-analiseproses om te verseker dat die groot volumes data sorgvuldig hanteer word. Ses temas is gedurende data-analise geïdentifiseer en word volgende bespreek.

 

BEVINDINGE VAN DIE NAVORSING

Ses hooftemas is tydens die data-analise geïdentifiseer en word vervolgens beskryf met narratiewe van die skoliere as deelnemers en vergelyk met bestaande literatuur ten einde die bevindinge te bevestig.

Tema 1: Armoede en werkloosheid

Al die deelnemers het genoem dat armoede en werkloosheid baie prominent in hul gemeenskap is en dat dit een van die ooglopende redes is hoekom skoliere by bendes aansluit. Die volgende narratiewe beskryf die bevinding:

Die meeste leerders, veral seuns, behoort aan bendes as gevolg van armoede. Hulle probeer iets vind, sodat hulle van hul omstandighede kan vergeet, en om mag te verkry om sodoende geld by enigeen in die gemeenskap te kan kry. (R1.01)

As kinders wil ons die nuutste tekkies hê, ons wil die nuutste modes dra. Ons almal wil dit hê, maar ons kan dit nie kry nie, want ons almal is anders, ons families is anders, en hul werk is anders. (P9.36)

Naastenby 17% Suid-Afrikaners leef met 'n laer inkomste as die bestaansminimum wat globaal vereis word, en 17 miljoen mense (of 30%) wat afhanklik is van 'n maatskaplike toelae. Die stygende werkloosheidsyfer in Suid-Afrika op 29% onder jong mense tussen die ouderdom van 15 en 35 jaar (Stats SA, 2018), dra daartoe by aangesien daar, veral op die Kaapse Vlakte, nie hoop op werk vir jong mense is nie. Dit is veral problematies vir jong mense wat nie graad 12 voltooi het nie. Vier uit elke 10 of 1.4 miljoen jong mense was in 2018 werkloos (Stats SA, 2018). Jeugwerkloosheid is dus 'n ernstige probleem. Dit tas 'n mens se waardigheid aan, (Cloete, 2015), verhoog gevoelens van woede (Hussainat, Ghnimat & Al-dlaeen, 2012), affekteer 'n mens se algemene geestesgesondheid - byvoorbeeld depressie en selfmoordgedagtes en/of inderdaad selfmoord (Petering, 2016; Thern, de Munter, Hemmingsson & Rasmussen, 2017; Watkins & Melde, 2016). 'n Kommerwekkende bevinding is dat jeugwerkloosheid jong mense se breër maatskaplike verwantskappe verminder, maar hulle kontak met vriende versterk (Zeng, 2012). Probleme van werkloosheid gee dus aanleiding daartoe dat jong mense kwesbaar is vir die betrokkenheid by skoolbendes, aangesien bendes finansiële sekuriteit verskaf (Aziz, 2017).

Tema 2: Onveilige plekke in townshipgebiede

Die meeste deelnemers het genoem dat die townships op die Kaapse Vlakte oor die algemeen gevare inhou vir die inwoners as gevolg van bendegeweld. Kinders is nie veilig in hul eie woonbuurte nie. Hulle kan nie die beperkte speelareas geniet nie, want bendes verkoop dwelms in die areas. Deelnemers aan die studie het ook genoem dat die vlakke en erns van geweld al hoe erger word.

Jy kan nie alleen loop nie of jy kan nie net enige plek loop nie, want dit is gevaarlik. (P2.06)

Wanneer ek van die een plek na 'n ander gaan, dan moet ek die skollies betaal wat op die hoeke van die strate sit, voordat ek verder kan gaan. (P4.1)

...die parkie is 'n baie negatiewe, onveilige plek, want sommige kinders gaan rook en drink daar, en dit is nie gesond nie, want jong kinders gaan daarheen om te speel, dan sien hulle hierdie goed. (P6.28)

Verskeie studies toon dat onveilige areas en geweld gekoppel is aan onderontwikkeling (World Bank, 2011). Kaapstad was 11de op die wêreldlys van die gevaarlikste stede (Stats SA, 2018). Studies het bewys dat armoede, werkloosheid, verstedeliking, en 'n verswakte finansiële omgewing, bydra tot die toename van geweld (Ansell, Hajdu, Van Blerk & Robson, 2019; Aziz, 2017; Breen et al., 2019; Howell, 2019; Collier, Elliott, Hegre, Hoeffler, Reynal-Querol, & Sambanis, 2003).

Die infrastruktuur in die townships op die Kaapse Vlakte is steeds nie na wense nie (Adams & Savahl, 2017). Dis as gevolg van die ongelykheid in die verspreiding van hulpbronne soos maatskaplike dienste, toegang tot gehalte skoolonderrig en gesondheidsdienste. Geweld en onveilige omgewings het dus in hierdie gemeenskappe aanvaarbaar geraak. So ook in townships, huise en skole (Howell, 2019). Die verdrukking en geweld as gevolg van apartheid het nog steeds 'n impak op swart, bruin en Indiër-mense se welsyn in die gebiede. Skoliere op die Kaapse Vlakte se welsyn, identiteit en geleenthede vir 'n veilige omgewing is daardeur nadelig beïnvloed (Bryant et al., 2019; Savahl, Isaacs, Adams, Carels & September, 2013).

Onveilige plekke en geweld is dus nie net 'n maatskaplike verskynsel nie, maar is meer kompleks, veral in hierdie studieverband. Derhalwe is dit noodsaaklik dat armoede, konflik en geweld gesamentlik aangespreek word om skoolbendes hok te slaan. 'n Geïntegreerde benadering wat verskeie sektore insluit is dus nodig om die verskynsel van skoolbendes aan te spreek.

Tema 3: Dwelmmisbruik

Dit is welbekend dat dwelmisbruik gepaard gaan met bendebedrywighede. Die deelnemers aan hierdie studie se narratiewe bevestig hierdie persepsie soos volg:

Want wanneer kinders op skool blootgestel is aan dwelms, dan wil hulle betrokke raak by bendes, hulle wil skollies wees, maar hulle weet nie hoe nie, so nou begin hulle deur dwelms te gebruik, en dink dan dat dit hulle sal help... so hulle doen dit om in te pas. (P2.0)

Jong kinders rook ook gras (dagga) en volwasse ouens verkoop dit (dagga) aan die kinders, dwing hulle om dit te gebruik. (P7.3)

Bogenoemde narratiewe reflekteer die begin van dwelmmisbruik deur jong kinders, veral omdat dit in skole plaasvind. Dwelmmisbruik onder skoliere kom al hoe meer voor. Dwelmmisbruik is toenemend 'n probleem vir onderwysers wat nie die tyd of vaardighede het om dit te hanteer nie, en intimidasie of selfs geweld moet deur onderwysers verduur word (Jordaan, 2018). Dit is bewys dat daar 'n direkte verwantskap tussen bendebedrywighede en dwelmmisbruik bestaan (Breen et al., 2019; Brown-Luthango, 2018; Bryant et al., 2019; White, Loeber & Chung, 2016); en dus ook dwelmmisbruik verhoog (Sanders, 2012). Dwelms speel 'n sleutelrol in die funksionering van bendes omdat dit die basis vorm van hul gedrag en kriminele bedrywighede (Wijnberg & Green, 2015). Die gevolg is dat skoliere hulle skuldig maak aan wetsoortredings, nie net deur onwettig dwelms te gebruik nie, maar selfs om dwelms by die skool te verkoop (Ngqakamba, 2019; Swahn, Bossarte, West & Topalli, 2010). Cepeda, Saint Onge, Nowotny en Valdez (2015) het in hul studie met Mexikaans-Amerikaanse jeugdiges bevind dat informele meganismes vir sosiale beheer, soos familie of skole, nie optimaal funksioneer om bendelidmaatskap te voorkom nie. Bendelidmaatskap hou sterk verband met dwelmmisbruik en kriminele bedrywighede, gepaardgaande met die vrees om die bende se aktiwiteite te verklap. Oor die algemeen, is daar onvoldoende meganismes vir sosiale beheer in geweld-geteisterde gemeenskappe (Cepeda et al., 2015).

Tema 4: Die mag van bendes

Die meeste deelnemers is van mening dat bendes aanloklik is vir sommige kinders omdat hulle 'n behoefte het om aan die aanvaarbare waardes van sekere groepe jong mense te voldoen. Hulle het genoem dat bendes jong kinders gebruik om dwelms te verkoop, en dat gemeenskapslede bang is om bendelede te konfronteer uit vrees dat hulle seergemaak sal word, omdat bendes gewoontlik met messe of pistole gewapen is. Sommige deelnemers is van mening dat skoliere genoodsaak is om by skoolbendes aan te sluit omdat dit veiliger in teenstelling met bende-intimidasie is.

Jong mense dink hulle is "cool" wanneer hulle aan bendes behoort. (P4.1)

Bendes laat jong hinders hul vuilwerk doen, soos om mense te beroof en te steek en dagga te verkoop. (P4.20)

As gevolg van vrees vir ander bendes, want as jy nie aan 'n bende behoort nie, dan mag die ander bende jou moontlik seer maak; maar as jy aan 'n bende behoort, dan is daar mense wat jou kan beskerm. (P8.35)

Bendes het hoofsaaklik territoriale mag wat gepaard gaan met verhoogde inkomste wat deur middel van die verkoping van dwelms verkry word (Maphalala & Mabunda, 2014). Territoriale mag is wanneer 'n bende hom 'n geografiese gebied toeëien en alles moontlik doen om hierdie territoriale gebied te beheer, op te pas en ander bendes daar uit te hou (Pinnock & Douglas-Hamilton, 1997). Sulke gebiede bestaan gewoonlik uit 'n paar strate en/of 'n residensiële blok woonstelgeboue in 'n geografiese omgewing (Maphalala & Mabunda, 2014). In die konteks van hierdie studie, is skole ook 'n territoriale gebied waar mag uitgeoefen word teenoor (veral kwesbare) skoliere wat nie teenkanting kan bied nie, en daardeur oorweldig word. Die inwoners van 'n gebied kan betekenisvol wees en baie waarde inhou vir bendes om hul mag uit te oefen. (McClean, Deuchar, Harding & Densley, 2019). Bendes floreer omdat hulle gestig is in die spesifieke gemeenskap en ondersteun word deur familie en vriendskapsnetwerke vanuit hul kinderjare (McClean et al., 2019).

Die tradisionele manier waarop bendes deur straatbedrywighede hul kapitaal skep, is besig om af te neem (McClean et al., 2019). In die Verenigde Koninkryk, is 'n nuwe operasionele model opgemerk wat meer besigheidsgerig is (Whitaker, Densley, Cheston, Tyrell, Higgins, Felix-Baptiste & Havard, 2020). Voorheen het bendes in straatgebiede hul bedrywighede uitgevoer en het 'n emosionele band gehad met die strate waar hulle grootgeword het (McClean et al., 2019; Whitaker et al., 2020). Deesdae is bendegebiede en territoriale mag ingewikkelder. Bendegebiede word al hoe meer beskou as plekke van bemarking wat deur geweld instand gehou moet word (Whitaker et al., 2020).

Hoe bendes ook al hul gebiede definieer, kommunikeer die bendes hul identiteit op spesifieke wyses soos tatoeëermerke of ander fisieke tekens, byvoorbeeld, hoede, klere, juwele, skoene, asook mense met wie hulle assosieer. Graffiti word ook gebruik om hul gebied te merk. Hierdie kenmerke onderskei 'n bende en weerspieël sy mag (McClean et al., 2019).

Jeugdiges sluit by bendes aan vir beskerming, en al hoe meer ter wille van respek. Die begeerte om gerespekteer te word, word beskou as a belangrike rede vir bendelidmaatskap. Respek is 'n sentrale waarde vir bendes omdat bendeverhoudings en kommunikasie op respek gebaseer word. Lede wil dus graag hierdie tipe respek en mag bekom. Bende-identiteit is ook 'n aanduidende aspek van respek (McClean et al., 2019). Bendegebiede en identiteit speel dus 'n belangrike rol in bendemag; al die nodige elemente wat jong mense aanlok tot lidmaatskap van 'n bende.

Tema 5: Groepsdruk en boelies

Deelnemers het genoem dat groepsdruk een van die hoofoorsake is waarom leerders by bendes aansluit. Groepsdruk is 'n sleutelelement in boeliegedrag (Masilo, 2018). Deelnemers noem ook dat skoolboelies baie algemeen by skole voorkom en dat kinders wat geboelie word by bendes aansluit om sodoende beskerming teen sulke boelies te kry.

Hulle wil doen wat hulle vriende doen om aanvaar te word. (P1.0)

Sommige hinders woon nie klasse by nie sodat hulle ander hinders kan boelie en hulle geld afvat om vir hulle sigarette en dwelms te koop. (P7.32)

Alhoewel ons dit nie besef nie, het die mense rondom ons, mense saam met wie ons uithang, 'n groot invloed op ons lewe, en die keuses wat ons maak. (P9.36)

Bogenoemde persepsies van deelnemers weerspieël twee probleme wat 'n geweldige impak op jongmense het. Negatiewe groepsdruk speel 'n beduidende rol in jong mense se gedragsprobleme (Johal & Mehta, 2015). Jong meisies toon angs en onttrekking, en seuns toon aggressiewe gedragsprobleme. Jong mense leer negatiewe gedrag van hul vriende aan omdat hulle baie tyd saam deurbring, veral in die skoolopset. Adolessensie is ook 'n ontwikkelingstadium waar vriende dikwels meer invloed het as ouers (Masilo, 2018). Skole blyk die terrein van wydverspreide geweld te wees (Hendricks & Tanga, 2019). Barnert, Perry, Azzi, Shetgiri, Ryan, Dudovitz, Zima en Chung (2015) se deelnemers het genoem dat die pad deur die skool moeiliker is as die pad na die tronk.

Boelie (afknouery) is gedrag deur 'n individu of groep wat opsetlik en deurlopend 'n ander persoon fisiek of emosioneel beseer (Masilo, 2018). Erika, Pertiwi en Seniwati (2017) beskryf boeliegedrag as 'n maatskaplike probleem omdat dit deur aggressiewe gedrag gekenmerk word (sien ook groepsdruk). Daar is 'n hoë voorkoms van afknouery in skole in Suid-Afrika (Steyn & Singh, 2018). Skoliere wat ander boelie is gewoonlik by skoolbendes betrokke (Erika et al., 2017). Om geboelie te word, het 'n impak op die person se emosies en kognitiewe funksionering. Dit kan lei tot verhoogde vlakke van angs en depressie (Hendricks & Tanga, 2019). Kinnes (2019), Magidi (2014) en Maphalala en Mabunda (2014) het bevind dat skoliere wat ander boelie 'n behoefte aan mag het. Dit is gewoonlik die gevolg van huislike omstandighede waar so 'n skolier moontlik self in sy ouerhuis, en/of die gemeenskap waarin hy of sy woon, onderdruk of geboelie word (Maphalala & Mabunda, 2014; Steyn & Singh, 2018). Bendebetrokkenheid sal by skole aangespreek word indien boeliegedrag ook aangespreek word (Maphalala & Mabunda, 2014).

Tema 6: Familie- en verhoudingsdinamika

Bykans al die deelnemers het genoem dat verhoudings in families grootliks bydra as motivering vir skoliere om by bendes aan te sluit. Twee faktore gee volgens hulle daartoe aanleiding. Sommige kinders kry eerstens nie die nodige aandag van hul ouers nie, en is dan vatbaar om by 'n bende aan te sluit aangesien hulle die wanindruk het dat hulle daar aanvaar sal word. Tweedens is bendelidsmaatskap 'n verskynsel wat in verskillende generasies voorkom en aanvaarbaar is. Daar is die verwagting dat ouers wat aan bendes behoort hul kinders sal motiveer om in hul voetspore te volg.

Soms raak hulle by bendes betrokke, want hulle kry nie spesiale aandag van hul ouers nie. (P3.07)

Mense raak by bendes betrokke uit lojaliteit aan 'n ouer wat self 'n bendelid is, of meisies raak by bendes betrokke omdat 'n kêrel of familielid hulle gewerf het. (P5.25)

Soms is jou eie gesin reeds deel van 'n bende, of hulle dink hul kind(ers) moet in hulle voetspore volg. Hulle kom uit huise waar dinge rof is en daar gebroke verhoudings is; hulle soek na liefde, en jy weet miskien is die enigste oplossing om saam met verkeerde vriende uit te hang. (P7.30)

Deelnemers rapporteer verskeie redes vir die toename in bendelidmaatskap van jong mense, soos gebrek aan aandag van hul ouers, verwagtinge van familiebendelede (intergenerasie bendelidmaatskap), stresvolle gesinslewe, en die soeke na aanvaarding. Verskeie studies het bewys dat die gedrag in families, soos dwelmmisbruik, gesinsgeweld en kinderverwaarlosing, faktore is wat kinders vatbaar maak om by bendes aan te sluit (Maphalala & Mabunda, 2014; Petrus & Kinnes, 2019; Van der Merwe & Swanepoel, 2017; Van Schalkwyk, 2019). 'n Kind is dus meer vatbaar om by bendes aan te sluit wanneer hy of sy nie aandag kry, en onder die toesig van 'n verantwoordelike volwassene is nie (Lenzi, Sharkey, Vieno, Mayworm, Dougherty & Nylund-Gibson, 2015). De Vito (2020) se studie het bevind dat die gebrek aan stabiliteit in die gesin as gevolg van sterftes, egskeiding, en afwesige vaders, aanleiding gee tot hoë getalle enkelouerhuishoudings. Barnert et al. (2015) se deelnemers het hul gesinne, skole en gemeeskappe beskryf as chaoties en onveilig, en bring daarom meer tyd buite hul huise en op straat deur.

Pyrooz en Sweeten (2015) beweer jeugbendelede is buite verhouding oorwegend manlik, swart, en kom uit enkelouerhuishoudings en armoedige gesinne (en gemeenskappe). De Vito (2020) noem dat bendes 'n vervanging van die gesin is, en dis waarvandaan die oorweldigende bendeprobleem kom.

 

SLOTSOM

Apartheid en kolonialisme het verskeie nadelige gevolge gehad, veral op inheemse kulture in Suid-Afrika en die Wes-Kaap. Weinig studies fokus daarop, aangesien navorsers nie altyd die verwantskap tussen apartheid, kolonialisme en bendelidsmaatskap raaksien nie. Hierdie studie het dus 'n gesprek begin oor die verwantskap wat tot ongemak by sommige mense kan lei. Dit is belangrik om kennis en begrip te hê van die oorsprong van bendes sodat dit nie as 'n verskynsel beskou word wat as gevolg van een mens of 'n spesifieke groep ontstaan het nie, maar dat dit sosio-polities van aard is. Trauma en spanning is dus 'n realititeit vir mense wat voortdurend depressie, dwelmmisbruik, geweld, gevoelens van vervreemding en sosiale isolasie in verskeie generasies ervaar. Adolessente en jong volwassenes worstel ook met 'n identiteitskrisis wat verwarring veroorsaak en daartoe kan bydra dat die tradisionele waardes en leefwyses van hul ouers en gesinne nie gevolg word nie.

Dit was belangrik vir die navorsers dat die skoliere wat elke dag in aanraking kom met bendes, geweld en misdaadbedrywe, self hul ervarings kon deel. Die bevindinge reflekteer die daaglikse realiteite van hul ervarings. Maatskaplike werkers wat op die Kaapse Vlakte dienste lewer word daagliks met hierdie realiteite gekonfronteer.

 

AANBEVELING

Die samelewing moet maatreëls daarstel om skoliere en jeugdiges (en ander kwesbare jong mense) te beveilig en veerkragtigheid by hulle te bou. Dit sal bydra dat ouers hulle verpligtinge nakom en die kinders versorg in 'n veilige en positiewe omgewing waar hierdie kinders optimaal kan ontwikkel.

Gemeenskapstrukture kan ouers help en ondersteun. Die waardes van Ubuntu is slegs effektief wanneer dit werklik uitgevoer en die toepassing daarvan in gemeenskappe waargeneem word. Die tradisionele waardes van Ubuntu, naamlik dat 'jou kind my kind is' word nie meer gehandhaaf nie en dit dra daartoe by dat kwesbare kinders en jong mense nie die nodige ondersteuning kry nie.

Maatskaplike werkers en ander soortgelyke beroepe (asook godsdienstige organisasies) kan nie alleen die volle verantwoordelikheid neem om die sosio-politieke strukturele probleme aan te spreek wat vir menslike ontwikkeling nodig is nie. Dit is noodsaaklik dat programme vir maatskaplike werkers fokus op intervensie met bendes en jeugdiges, en dat kennis en ervaring om met die verskynsel te werk, gereeld deur deurlopende professionele ontwikkeling aangebied word. Dit is belangrik aangesien bendebedrywighede een van die primêre maatskaplike kwessies in die Wes-Kaap is, en aangespreek moet word.

Die regering (en sy onderskeie departemente) moet verseker dat toepaslike beleid en wetgewing daargestel word, en dat publieke en privaat inisiatiewe om die probleem aan te spreek, befonds word. Strukturele armoede dra by tot die verskynsel van bendes in skole, maar gemeenskappe en skoliere moet toegerus word om te funksioneer te midde van die verskynsel tot oplossings gevind, en ekonomiese herstel bevorder kan word. Dit is dus duidelik dat 'n omvattende benadering nodig is wat verskeie sektore insluit soos byvoorbeeld maatskaplike dienste, onderwys, ander regeringsinstellings en die privaatsektor, ten einde die komplekse verskynsel van bendes in die skoolomgewing en gemeenskappe op die Kaapse Vlakte, aan te spreek.

Erkenning: Dr Marie Minnaar-Macdonald, Dr Neil Henderson, Dr Anna-Marie Beytell; 2016 maatskaplike werk studente-navorsers.

 

VERWYSINGS

ADAMS, S. & SAVAHL, S. 2017. Children's discourses of natural spaces: Considerations for children's subjective well-being. Child Indicators Research, 10(2):423-446.         [ Links ]

ANSELl, N., HAJDU, F., VAN BLERK, L. & ROBSON, E. 2019. Fears for the future: The incommensurability of securitisation and in/securities among Southern African youth. Social & Cultural Geography, 20(4):507-533.         [ Links ]

AZIZ, G. 2017. Youth ministry as an agency of youth development for the vulnerable youth of the Cape Flats. Verbum et Ecclesia, 38(1):1-6.         [ Links ]

BABBIE, E. & MOUTON, J. 2007. The practice of social research. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

BARNERT, E., PERRY, R., AZZI, V., SHETGIRI, R., RYAN, G., DUDOVITZ, R., ZIMA, B. & CHUNG, P. 2015. Incarcerated youths' perspectives on protective factors and risk factors for juvenile offending: A qualitative analysis. American Journal of Public Health, 105(7):1365-1371.         [ Links ]

BREEN, A., DANIELS, K. & TOMLINSON, M. 2019. Adolescent's views on youth gang involvement in a South African township. Children and Youth Services Review, 98:171-177.         [ Links ]

BRONFENBRENNER, U. 2005. The developing ecology of human development: Paradigm lost or paradigm regained. In: BRONFENBRENNER, U. (ed.). Making human beings human: Bioecological perspectives on human development. Thousand Oaks, CA: Sage.         [ Links ]

BRYANT, K.C., BERRY, J.R. & CEVIK, S. 2019. A South African high-needs school: A case of context driven by history. International Journal of Educational Leadership Preparation, 14(1):113-127.         [ Links ]

BROWN-LUTHANGO, M. M. 2018. "Stuck in Freedom Park"-youth transitions and social inclusion amongst Coloured Youths in Tafelsig, Cape Town. Commonwealth Youth and Development, 16(1):1-16.         [ Links ]

CEPEDA, A., SAINT ONGE, J., NOWOTNY, K. & VALDEZ, A. 2015. Associations between longterm gang membership and informal social control processes, drug use, and delingquent behavior among Mexican American youth. International Journal of Offender Therapy and Comparative Criminology, 60(13). doi:10.1177/0306624X15584985        [ Links ]

CHETTY, R. 2017. Naming my reality: A youth narrative on drug abuse and gangsterism in the Cape Flats. Acta Criminologica: Southern African Journal of Criminology, 30(1):80-95.         [ Links ]

CHETTY, R. 2015. Social complexity of drug abuse, gangsterism and crime in Cape Flats' schools, Western Cape. Acta Criminologica: Southern African Journal of Criminolog (Special Edition), 3:54-65.         [ Links ]

CHETTY, R. & RAMSON, S.M. 2016. Taking strain: Theorising drug use in the Cape Flats. Acta Criminológica: Southern African Journal of Criminology, 29(3): 67-84.         [ Links ]

CLOETE, A. 2015. Youth unemployment in South Africa. A theological reflection through the lens of human dignity. Missionalia, 43(3). doi:10.7832/43-3-133        [ Links ]

CRESWELL, J.W. 2007. Qualitative inquiry and research design - Choosing among five approaches. (2nd ed). London: Sage Publications.         [ Links ]

CRESWELL, J.W. 2009. Research design: Qualitative, quantitative and mixed methods approaches. 3rd ed. London: Sage Publications.         [ Links ]

COLLIER, P., ELLIOTT, V. L., HEGRE, H., HOEFFLER, A., REYNAL-QUEROL, M. & SAMBANIS, N. 2003. Breaking the conflict trap: Civil war and development Policy. Washington, DC: The World Bank.         [ Links ]

CURRY, G.D. 2015. The logic of defining gangs revisited. The handbook of gangs. Wiley Online Library. [Online] Available: https://doi.org/10.1002/9781118726822.ch2 [Accessed: 02/08/2019].         [ Links ]

DE VITO, K. 2020. Seeking a secure base: Gangs as attachment figures. Qualitative Social Work, 19(4):754-769. doi:10.1177/1473325019852659        [ Links ]

DE WET, C. 2016. The Cape Times's portrayal of school violence. South African Journal of Education,36(2):1-12.         [ Links ]

DOS REIS, K. 2007. The influence of gangsterism on the morale of educators on the Cape Flats, Western Cape. Cape Town: Cape Peninsula University of Technology. (M thesis)        [ Links ]

DUERDEN, M. D. & WITT, P. A. 2010. An ecological systems perspective on youth programming. Journal of Park and Recreation Administration, 28(2):108-120.         [ Links ]

ERIKA, K., PERTIWI, D. & SENIWATI, M. 2017. Bullying behaviour of adolescents based on gender, gang and family. Jurnal Ners, 12(1):126-132.         [ Links ]

FRANZESE, R.J., COVEY, H.C. & MENARD, S. 2016. Youth gangs. Springfield, Illinios: Charles C Thomas Publisher.         [ Links ]

GERMAIN, C. B. 1985. The place of community work within an ecological approach to social work. New York: Columbia University Press.         [ Links ]

GERMAIN, C.B. 1991. Human behaviour in the social environment: An ecological view. New York: Columbia University Press.         [ Links ]

GITTERMAN, A. & SHULMAN, L. 1993. Mutual aid groups, vulnerable populations and the life cycle. New York: Columbia Press.         [ Links ]

GITTERMAN, A. & GERMAIN, C. B. 2008. The life model of social work practice: Advances in and practice. 3rd ed. New York: Columbia University Press.         [ Links ]

HARDING, J. 2019. Qualitative data analysis - From start to finish. 2nd ed. London: Sage Publications.         [ Links ]

HENDRICKS, E. & PANGA, T. 2019. Effects of bullying on the psychological functioning of victims. South African Journal of Social Work and Social Development, 31(1):1-17.         [ Links ]

HOWELL, S. 2019. Description of the South African Context. In: HEITMEYER, W., HOWELL, S., KURTENBACH, S., RAUF, M., ZAMAN, M. & ZDUN, S (eds.). The Codes of the Street in Risky Neighborhoods- A cross-cultural comparison of youth violence in Germany, Pakistan, and South Africa. Cham: Springer.         [ Links ]

HUSSAINAT, M., GHNIMAT, Q. & AL-DLAEEN, M. 2012. The impact of unemployment on young people in the Jordanian community: a case study from unemployed perspective. Asian Social Science, 9(1). doi:10.5539/ass.v9n1p155        [ Links ]

JOHAL, D. & MEHTA, R. 2015. Behavioral problems in relation to peer pressure among adolescents. Indian Journal of Health & Wellbeing, 6(2):156-160.         [ Links ]

JORDAAN, N. 2018. Violence in SA schools - by pupils against teachers. Business Day. [Online] Available: https://www.businesslive.co.za/bd/national/2018-06-12-violence-in-sa-schools--by-pupils-against-teachers/ [Accessed: 1/8/ 2019].         [ Links ]

KINNES, I. 2019. Surviving gangs, violence and racism in Cape Town: Ghetto Chameleons. SA Crime Quarterly, (67):43-49.         [ Links ]

LEONARD, J. 2011. Using Bronfenbrenner's ecological theory to understand community partnerships: An historical case Ssudy of one urban high chool. Boston: Sage Publications.         [ Links ]

LENZI, M., SHARKEY, J., VIENO, A., MAYWORM, A., DOUGHERTY, D. & NYLUND-GIBSON, K. 2015. Adolescent gang involvement: The role of individual, family, peer and school factors in a multilevel perspective. Aggressive Behavior, 41(4):386-397. doi:10.1002/ab.21562        [ Links ]

MAGIDI, M. 2014. Experiences of gangsterism by non-gangs affiliated high school learners in Hanover Park Western Cape. Cape Town: University of the Western Cape. (M thesis)        [ Links ]

MAPHALALA, M.C. & MABUNDA, P.L. 2014. Gangsterism: Internal and external factors associated with school violence in selected Western Cape high schools. Journal of Sociology and Social Anthropology, 5(1):61-70.         [ Links ]

MASILO, D. 2018. Social work intervention to address the phenomenon of bullying amongst learners in the school setting: A literature review. South African Journal of Education, 38(1):1-9. doi10.15700/saje.v38nsIa1594        [ Links ]

MCCLEAN, R., DEUCHAR, R., HARDING, S. & DENSLEY, J. 2019. Putting the 'street' in gang: Place and space in the organisation of Scotland's drug-selling gangs. The British Journal of Criminology, 59(2):396-415. doi:10.1093/bjc/azy015        [ Links ]

MILLS, A. J. DUREPOS, G. & WIEBE, E. 2010. Sage Encyclopedia of case study research. Thousand Oaks, CA: Sage.         [ Links ]

NGQAKAMBA, S. 2019. 5 Cullinan pupils arrested for drug dealing. News24. [Online] Available: https://www.news24.com/SouthAfrica/News/5-cullinan-pupils-arrested-for-drug-dealing-20190214 [Accessed: 1/08/2019].         [ Links ]

PETERING, R. 2016. Sexual risk, substance use, mental health, and trauma experiences of gang-involved homeless youth. Journal of Adolescence, 48:73-81. doi:10.1016/j.adolescence.2016.01.009        [ Links ]

PETRUS, T. & KINNES, I. 2019. New social bandits? A comparative analysis of gangsterism in the Western and Eastern Cape provinces of South Africa. Criminology & Criminal Justice, 19(2):179-196.         [ Links ]

PINNOCK, D. & DOUGLAS-HAMILTON, D. 1997. Gangs, rituals & rites of passage. Cape Town: African Sun Press with the Institute of Criminology, University of Cape Town.         [ Links ]

PYROOZ, D. & SWEETEN, G. 2015. Gang membership between ages 5 and 17 years in the United States. Journal of Adolescent Health, 56(4):414-419. doi:10.1016/j.jadohealth.2014.11.018        [ Links ]

SANDERS, B. 2012. Gang youth, substance use, and drug normalization. Journal of Youth Studies, 15(8):978-994. doi:10/1080/13676261.2012.685707        [ Links ]

SAVAHL, S., ISAACS, S., ADAMS, S., CARELS, C. & SEPTEMBER, R. 2013. An exploration into the impact of exposure to community violence and hope on children's perceptions of well-being: A South African perspective. Child Indicators Research, 6(3): 579-592.         [ Links ]

SHIELDS, N., NADASEN, K. & HANNEKE, C. 2015. Teacher responses to school violence in Cape Town, South Africa. Journal of Applied Social Science, 9(1):47-64.         [ Links ]

SOUTH AFRICAN HISTORY ONLINE. 2019. A land dispossession history 1600s-1990s. [Online] Available: https://www.sahistory.org.za/ [Accessed:1/08/2019].         [ Links ]

STATISTICS SOUTH AFRICA. 2018. Youth unemployment still high in Q1: 2018. Pretoria: Government Printer.         [ Links ]

STEYN, G. & SINGH, G. 2018. Managing bullying in South African secondary schools: A case study. International Journal of Educational Management, 32(6):1029-1040. doi:10.1108/IJEM-09-2017-0248        [ Links ]

SWAHN, M., BOSSARTE, R., WEST, B. & TOPALLI, V. 2010. Alocohol and drug use among gang members: Experiences of adolescents who attend school. Journal of School Health, 80(7):353-360. doi:10.1111/j.1746-1561.2010.00513        [ Links ]

THERN, E., De MUNTER, J. & HEMMINGSSON, T. 2017. Long-term effects of youth unemployment on mental health: does an economic crisis make a difference? Journal of Epidemiology and Community Health, 71(4):344-347.         [ Links ]

VAN DER MERWE, M. & SWANEPOEL, L. 2017. Perspectives of former gang members on aspects leading to gang involvement in a semi-rural area in the Western Cape. Child abuse research in South Africa, 18(1):38-48.         [ Links ]

VAN SCHALKWYK, G.J. 2019. A family in distress. School-based family counseling: An interdisciplinary practitioner's guide. New York: Routledge.         [ Links ]

VIGIL, J.D. 2019. Street Gangs: A Multiple Marginality Perspective. Criminology and Criminal Justice. [Online] Available: https://doi.org/10.1093/acrefore/9780190264079.013.425 [Accessed: 17/12/2020].         [ Links ]

WALTORP, K. & JENSEN, S. 2019. Awkward entanglements: Kinship, morality and survival in Cape Town's prison-township circuit. Ethnos, 84(1):41-55.         [ Links ]

WATKINS, A. & MELDE, C. 2016. Bad medicine: The relationship between gang membership, depression, self-esteem and suicidal behavior. Criminal Justice and Behavior, 43(8):1107-1126. doi:10.1177/0093854816631797        [ Links ]

WHITE, H.R., LOEBER, R. & CHUNG, T. 2016. Racial differences in substance use: using longitudinal data to fill gaps in knowledge. In: THOMAS, Y. & PRICE, L. (eds.). Drug use trajectories among minority youth. Dordrecht: Springer.         [ Links ]

WHITAKER, A., DENSLEY, J., CHESTON, L., TYRELL, T., HIGGINS, M., FELIX-BAPTISTE, C. & HAVARD, T. 2020. Reluctant gangsters revisited: The evolution of gangs from postcodes to profits. European Journal on Criminal Policy and Research, 26:1-22. doi:10.1007/s10610-019-09408-4        [ Links ]

WIJNBERG, H. 2012. Exploration of male gang members' perspectives of gangs and drugs. Stellenbosch: Stellenbosch University. (M thesis)        [ Links ]

WIJNBERG, M. & GREEN, S. 2014. Male gang members' perspectives on gang membership and the role of drugs. Social Work/Maasakplike Werk, 50(2):284-302. doi:10.15270/50-2-400        [ Links ]

WORLD BANK. 2011. World Development Report 2011: Conflict, security, and development. Washington, DC: World Bank.         [ Links ]

ZENG, Q. 2012. Youth unemployment and the risk of social relationship exclusion: a qualitative study in a Chinese context. International Journal of Adolescence and Youth, 17(2-3):85-94. doi:10.1080/02673843.2012.656196        [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License