SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue3Government and non-profit organisations: Dysfunctional structures and relationships affecting child protection servicesThe impact of youth gang violence on the educational attainment of male high school learners in Khayelitsha author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Social Work

On-line version ISSN 2312-7198
Print version ISSN 0037-8054

Social work (Stellenbosch. Online) vol.55 n.3 Stellenbosch  2019

http://dx.doi.org/10.15270/52-2-758 

ARTICLES

 

'N lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders: Aanwending van die lewenskaartetegniek in maatskaplike groepwerkverband

 

A life skills programme for street children: Application of the life skills technique in the context of social group work

 

 

Elzahne SimeonI; Alida HerbstII; Herman StrydomIII

IDepartment of Social Work, North West University, Potchefstroom Campus, Potchefstroom, South Africa
IIDirector School for Psychosocial Health, COMPRES, North West University, Potchefstroom Campus, Potchefstroom, South Africa
IIICOMPRES, North West University, Potchefstroom Campus, Potchefstroom, South Africa

 

 


ABSTRACT

The focus of this article is to indicate how the life map technique was applied in the development of a life skills program for street children in order to promote the psychosocial functioning of street children. A literature study was undertaken to determine the existing legislature for and service rendering to street children. After the literature study a needs assessment was undertaken to determine the specific needs of street children. According to the results of the literature study and the needs assessment the programme was developed, which is scientifically based on the real needs of these children. The content of such a programme is reported on in this article.

Keywords: lewensvaardighede (life skills), lewensvaardigheidsprogram (life-skills programme), straatkinders (street children), lewenskaarte (life maps), lewenskaartetegniek (life-map technique), maatskaplike groepwerk (social groupwork)


 

 

INLEIDING

Die artikel dui aan hoe die lewenskaartetegniek as terapeutiese hulpmiddel in maatskaplike groepwerkverband gebruik is om 'n lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders te ontwikkel. Hierdie program beoog om die psigo-sosiale behoeftes van straatkinders te bevorder. 'n Literatuurstudie is onderneem ten einde die terrein van wetgewing vir en dienslewering aan straatkinders af te baken. 'n Volledige behoeftebepaling is hierna onderneem om die spesifieke behoeftes van hierdie teikengroep te kon vasstel.

Op grond van beide die literatuurstudie en die behoeftebepaling is hierdie program ontwikkel, wat wetenskaplik op die werklike behoeftes van hierdie kinders gebaseer is. Die inhoud van hierdie program word aan die hand van nege sessies aangebied. Elke sessie is op 'n bepaalde lewenskaarttema gebaseer en sluit onder andere die volgende in, naamlik selfkennis, interpersoonlike verhoudings, "coping", toekomsbeplanning, groepsdruk, substansmisbruik, probleemoplossing, konflikhantering, 'n gesonde leefstyl, kommunikasievaardighede, positiewe funksionering en die toepassing van al die vaardighede in hul lewensituasie.

Die studie kan as uniek beskou word omdat dit die eerste keer is, volgens die standpunte van die outeurs, dat navorsing gedoen is oor die gebruik van die lewenskaartetegniek in die ontwikkeling van 'n lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders. Verder bestaan daar ook min navorsing oor die psigo-sosiale funksionering van straatkinders en hul behoefte aan lewensvaardighede.

 

PROBLEEMSTELLING

Die straatkindverskynsel kom wêreldwyd voor (Kit, 2004:1; Louw, 2008:3), maar is 'n besliste maatskaplike probleem in Suid-Afrika (Benghait, 2002:34; Lefeh, 2008:10; Ward, 2007: 225). Betroubare statistiek is moeilik te bepaal aangesien die kinders nie lank op een plek bly en werk nie en swak sosio-ekonomiese en maatskaplike omstandighede die verskynsel beïnvloed (Ashoka, 2004:1). Straatkinders beleef baie uitdagings in terme van misdaad, dwelmmisbruik, prostitusie, uitbuiting en swak interpersoonlike verhoudings (Barette, 1995:11; Shaw, 2001:1).

Suid-Afrikaanse wetgewing rakende straatkinders het verander in die sin dat die Children's Act, Wet no.38 van 2005 (South Africa Children's Act, 2005) nou voorsiening maak vir die behoeftes van straatkinders en hul word nou beskou as kinders wat sorg en beskerming benodig. Die ondersoek is binne die Thakaneng Kinder- en Jeugsorgsentrum (TKJS), Potchefstroom uitgevoer wat onder andere voorsiening maak vir residensiële versorging van straatkinders. Alhoewel daar in die kinders se fisiese behoeftes voorsien word, behoort die psigososiale en opvoedkundige behoeftes ook aandag te geniet (Idemudia, Kgokong & Kolobe, 2013:164; South Africa Children's Act, 2005). Die TKJS vorm deel van die Gauteng Alliansie vir Straatkinders en word die toename in straatkinders aan armoede, werkloosheid, gesinsprobleme en kindermishandeling toegeskryf (TKJS, 2014:4). Alhoewel die TKJS omvattende dienste aan straatkinders lewer, beskik hulle nie oor 'n spesifieke lewensvaardigheidsprogram vir hierdie kinders nie. Nolte (2002) beweer dat daar juis 'n gebrek aan sodanige programme bestaan wat dringende aandag benodig.

Die taak van die maatskaplike werker in die werk met straatkinders is belangrik in om voorkomende programme te loods ten einde te voorkom dat kinders hul aanvanklik tot die strate wend, maar ook om bemagtigende en terapeutiese programme in plek te stel om straatkinders se psigososiale funksionering te bevorder en gevestigde lewenspatrone om te keer. In hierdie ondersoek is die lewenskaartetegniek binne groepwerkverband benut. Mulligan (1998:12) en Strydom en Herbst (2007:244) omskryf lewenskaarte as instrumente tot selfontdekking, waar die individu deur sy/haar lewensfases geneem word ten einde met die self, betekenisvolle ander persone, hindernisse, keuses en die toekoms te werk ten einde bemagtig te word om bestaande remminge in hul situasie uit die weg te ruim (Mayne & Mayne 2002:6).

Benewens die hede en toekoms, is veral die verlede belangrik sodat die kliënt perspektief kan kry oor wat gebeur het en kan cope met die verandering wat plaasgevind het kan hanteer (Harbenas, 2001:191; Strydom & Herbst, 2007:244). Lewenskaarte kan die individu help om betekenis aan sy lewe te verleen (Herbst & De La Porte, 2006:2). Selfuitdrukking kan bevorder word deur middel van skryfwerk, lewensboeke, tekeninge, collages, musiek, foto's of kleiwerk (Smart, 2003: 62). Deur hierdie tegniek kan straatkinders gehelp word om om 'n eie-identiteit, toekomsvisie en siening van die self te ontwikkel wat die psigo-sosiale ontwikkeling bevorder.

Die lewenskaartetegniek behels sewe lewensvrae wat die individu moet beantwoord. Dit bied aan die individu die geleentheid vir selfondersoek, en belangrike gebeurtenisse in ʼn persoon se lewe kan deur die tegniek uitgewys word. Verder bied hierdie tegniek aan die individu die geleentheid om verbande te trek tussen gebeure van die verlede en maniere waarop dit die toekoms kan beïnvloed en bevoordeel. Vir die doel van hierdie studie sal die sewe lewensvrae egter aangepas word om gebruik te word vir die spesifieke groep straatkinders. Na aanleiding van die literatuurstudie en behoeftebepaling is nog twee lewensvrae bygevoeg om dit nog meer toepaslik te maak vir die straatkind se omstandighede, naamlik Wat het met my gebeur? en Wat moet ek doen om op die regte pad te bly? Die temas van die lewenskaartetegniek is geïntegreer met die lewensvaardighede wat hanteer moet word. Herbst (2002:142) en Strydom en Herbst (2007:244-248) beskryf die volgende onder andere as voordele van die lewenskaartetegniek, naamlik om beheer oor jou lewe te neem, om 'n eie-identiteit te bevorder, emosionele hindernisse te oorkom en is die narratiewe grondslag van die tegniek kultuurvriendelik.

Maatskaplike groepwerk is by uitstek geskik om psigososiale behoeftes van straatkinders aan te spreek, juis omdat groepwerk op die individu binne die groep en die groep as geheel gerig is (Toseland & Rivas, 2014:11). Die groepwerkproses word benut om groei, verandering en ontwikkeling by die individuele lede van die groep te weeg te bring sodat probleemoplossingsvaardighede aangeleer word binne die groep (Nicholas, Rautenbach & Maistry, 2010:122; Pierson & Thomas, 2010:242). Binne groepsverband kan straatkinders 'n gevoel van behoort aan ervaar, groepsdinamika kan die groeplede bemagtig om hul eie sterktes te identifiseer en daarop voort te bou, asook om mekaar te ondersteun (Beck, 2004:30; Corey & Corey, 2002:92-93; Nicholas, Rautenbach & Maistry, 2010:122). Vir die doel van die program is ʼn behandelingsgeoriënteerde groep beplan, met klem op ondersteuning, groei, hulpverlening, sosialisering en self help (Toseland en Rivas, 2014:20; Zastrow, 2014:7).

Die volgende navorsingsvraag kan dus gevra word: Hoedanig kan die lewenskaartetegniek in 'n maatskaplike groepwerk lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders ingesluit word ten einde hul psigo-sosiale funksionering te bevorder ?

 

DOELSTELLING

Die doel van die artikel is om aan te dui hoe die lewenskaarte tegniek toegepas is, in die ontwikkeling van 'n lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders. Die inhoud van sodanige program word bespreek.

 

TEORETIESE BEGRONDING

Hierdie studie berus op die sterkte - en bemagtigingsbenadering wat hand aan hand loop in Maatskaplike Werk om die sterktes binne persone en hul omgewing te identifiseer sodat groei bevorder kan word, probleemoplossing moontlik kan word en bemagtiging kan plaasvind (Cowger & Snively, 2002:110; Hassim & Herbst, 2016:208; Saleebey, 2013:110; Zastrow, 2010:409; Zastrow & Kirst-Ashman, 2016:14). Uiteindelik beoog die studie om straatkinders te bemagtig om 'n eie identiteit, toekomsvisie en selfpersepsie te ontwikkel en om hul toe te rus met die nodige vaardighede om die eise van die alledaagse lewe suksesvol te kan hanteer wat psigo-sosiale funksionering in geheel behoort te verbeter.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Die ondersoekers het aanvanklik 'n literatuurstudie onderneem om die spektrum van moontlike programme vir straatkinders en die behoeftes van straatkinders te bepaal. Ten einde die behoeftes van straatkinders te kon vasstel, is 'n selfontwerpte vraelys ontwikkel wat uit beide 'n kwalitatiewe en kwantitatiewe afdeling bestaan het, wat beide 'n verkennende en beskrywende doelstelling nagevolg het (Rubin & Babbie, 2011:133-134). Gemengde metode navorsing (Wagner, Kawulich & Garner, 2012:161-162) is dus vir hierdie ondersoek benut in die sin van dat beide kwalitatiewe en kwantitatiewe data-insamelingsmetodes benut is (Creswell, 2014:228; Creswell & Plano Clark, 2011:15; Delport & Fouche, 2011:433-448). Die literatuurstudie en behoeftebepaling wat vooraf gedoen is, het die inhoud van die lewensvaardigheidsprogram bepaal.

 

DIE INHOUD VAN DIE LEWENSVAARDIGHEIDSPROGRAM

Die inhoud en verloop van die lewensvaardigheidsprogram sal vervolgens deur ʼn skematiese uiteensetting gegee word. Daarna volg ʼn volledige bespreking van die inhoud van die program.

 

Table 1

 

Sessie 1: Wie is ek? (Selfkennis, selfvertroue en selfhandhawing)

· Doelwitte

Die doelwitte vir hierdie sessie is om groeplede te verwelkom, hul op hul gemak te laat voel, geleentheid vir selfontfdekking te gee en selfkennis, selfvertoue en selfhandhawing by lede te bevorder. Die tema fokus op die breër konsep van identiteit en identiteitsvorming.

· Programaktiwiteite

Die sessie begin met 'n ysbreker waar 'n bal van kind tot kind gegooi word. Die een wat die bal vang moet sy naam hardop sê en iets oor homself aan die groep vertel. Hierna moet elke lid 'n skets maak oor homself of narratiewe gebruik soos byvoorbeeld persoonlike voor- en afkeure. Hierna vind 'n bespreking plaas rakende die lede se terugvoer met die fokus op selfkennis, selfvertroue en selfhandhawing.

'n Volgende aktiwiteit handel oor die maak van elke lid se vingerafdrukke om die uniekheid van elke persoon te beklemtoon. Op die bladsy waar die vingerafdrukke gemaak word, moet elke lid dan drie dinge oor homself neerskryf waarvan hy hou en drie waarvan hy nie hou nie. 'n Gesprek vind hierna plaas oor hoekom elke persoon uniek is en unieke keuses in die lewe moet maak. Vervolgens word 'n gesprek gefasiliteer oor die belang van selfhandhawing ten einde verantwoordelike keuses te kan maak en nie weer onder groepsdruk te swig nie. Hierna word die gesprek deur die groepwerker saamgevat en word lede versoek om die sessie te evalueer in terme van die belangrikheid van selfkennis, selfvertroue en selfhandhawing in hul eie lewe. Literatuur beklemtoon ook die belangrikheid van hierdie aspekte in die lewens van kinders (Louw & Louw, 2014: 360; Thompson, 2009:3; Van Heerden, 2015:21).

Sessie 2: Waar kom ek vandaan? (Interpersoonlike verhoudings en vertroue)

· Doelwitte

Die doelwitte vir hierdie sessie is om lede te help om 'n oorsig oor hul verlede te kry en die rol wat interpersoonlike verhoudings daarin gespeel het, juis omdat straatkinders meestal uit disfunksionele gesinne kom en nie kontak met hul gesinne en gemeenskappe het nie. Hierdie lewenskaarttema beoog om aan straatkinders perspektief te gee oor hul agtergrond en die aanleidende faktore wat 'n rol in hul huidige omstandighede gespeel het. Verder moet lede gehelp word om die belangrikheid van interpersoonlike verhoudings en vertroue te verstaan, om die verskillende interpersoonlike verhoudings te identifiseer, en om groeplede aan te moedig om gesonde en opbouende interpersoonlike verhoudings te handhaaf.

· Programaktiwiteite

Nadat lede verwelkom is, word 'n gedig oor vriendskap voorgelees, waarna die lewenskaart oor interpersoonlike verhoudings voltooi word en die verskillende verhoudingsaktiwiteite en verskillende interpersoonlike verhoudings bespreek word. Die fokus is om jou agtergrond en wie almal ʼn rol in jou lewe gespeel het, te omlyn en daaroor te kan praat. Dit sluit die goeie en die slegte uit die verlede in en hoedanig dit jou lewe steeds beïnvloed en wat daaraan gedoen kan word. Die eienskappe van positiewe en opbouende interpersoonlike verhoudings word ook aan groeplede voorgehou. Dit word beklemtoon dat hulle nie hul nie verhoudings van die verlede kan verander nie, maar wel verantwoordelikheid kan neem vir toekomstige verhoudings.

Groeplede word hierna in groepies van twee of drie verdeel om 'n lied, dans of gedig saam te stel wat 'n goeie vrienskapsverhouding uitbeeld. Hieroor vind vervolgens 'n groepsgesprek plaas, met die klem op positiewe interpersoonlike verhoudings soos liefde, respek, kommunikasie en aanvaarding, waarna die sessie geëvalueer word. Literatuur (Bademci, Karadayi & De Zulueta, 2015:21; Heineman & Ehrensaft, 2006:25; Van Heerden, 2015:70) bevestig die belangrikheid van hierdie aspekte.

Sessie 3: Wat het met my gebeur? ("coping" en hantering van gevoelens)

· Doelwitte

Om aan groeplede die geleentheid te bied om te praat oor gebeure wat in hul verlede moontlik ʼn invloed op hulle gehad het soos geweld, misdaad en mishandeling. Verder moet hul aangemoedig word om uiting te gee aan gevoelens soos hartseer, woede en angs en toepaslike hanteringsvaardighede aan te leer. Lede word ook aangemoedig om mekaar te ondersteun.

· Programaktiwiteite

Lede word verwelkom en 'n ysbreker word aangebied. Lede word versoek om in 'n sirkel te staan en elkeen moet iets byvoeg by die vorige lid oor wat die vorige sessie vir hul beteken het. Groeplede maak vervolgens elkeen sy eie collage oor gebeure wat in die verlede in sy lewe plaasgevind het en 'n invloed op hom gehad het. Hierna vind 'n besprekling plaas oor hierdie gevoelens soos woede, hartseer en vrees, met klem op die lewenskaarttema waar "coping" en hantering van emosies bespreek word. Voordat die sessie geëvalueer word, beklemtoon die groepwerker die noodsaaklikheid van emosies en word moontlike hanteringsvaardighede aan die groep voorgehou. Bademci et al. (2015:22); Mukherjee (2005: 3-4) en Wexler (2008:546) bevestig die belang van hierdie aspekte in sodanige program.

Sessie 4: Waarheen is ek op pad? (Toekomsbeplanning, besluitneming en geldbestuur)

· Doelwitte

Groeplede word tydens hierdie sessie bemagtig om 'n toekomsvisie te kan formuleer en die belangrikheid van effektiewe besluitneming en die rol daarvan op die toekoms te kan insien. Verder word lede ingelig oor moontlike en realistiese beroepskeuses, terwyl die basiese beginsels van geldbestuur ook behandel word.

· Programaktiwiteite

Nadat lede verwelkom is en 'n ysbreker aangebied is, word die volgende lewenskaart geteken met klem op die belangrikheid van effektiewe besluitneming vir die toekoms. Die invloed van hul regte en verkeerde besluite word hanteer aan die hand van voorbeelde. 'n Bespreking vind hieroor plaas, sowel as rollespel oor die verskillende beroepe met klem op realistiese beroepskeuses. Lede word versoek om verskillende beroepe wat op papiere in 'n hoed rondgestuur word aan die groter groep te mimiek. Daarna word geldbestuur bespreek aan die hand van 'n winkelspeletjie waar verskillende leë houers van produkte uitgestal word en lede elkeen 'n bedrag Monopoly-geld otnvang. Een lid tree op as die winkelassistent wat lede moet probeer oortuig om hul geld op onnodige produkte te spandeer. Selfhandhawende gedrag word dus by lede ingeskerp ten einde self te kan besluit wat hul dink nodig is om te koop. Hierna word die sessie geëvalueer. Bronne soos Atkinson (2008:195); Strydom (1994:82) en Van Heerden (2015:253) bevestig die belangrikheid van hierdie aspekte in sodasnige lewensvaardigheidsprogram.

Sessie 5: Wat moet ek doen om struikelblokke oorkom? (Groepsdruk, substansmisbruik, probleemoplossing en konflikhantering)

· Doelwitte

Om lede bewus te maak van struikelblokke wat op hul pad mag kom/gekom het, en om te besef dat struikelblokke deel bly van enige persoon se omstandighede. Lede word ook geleer om groepsdruk korrek te kan hanteer, om te kan nee sê vir substansmisbruik en om lede toe te rus met problemoplossings- en konflikhanteringsvaardighede.

· Programaktiwiteite

Nadat die verwelkoming plaasgevind het, is 'n ysbreker benut waar elke groeplid 'n ballon moes opblaas. Die ballon stel dan 'n struikelblok in hul lewens voor en moes lede kreatiewe maniere vind om daarvan ontslae te raak. Hierna is die betrokke lewenskaart geteken en bespreek. Lede moes moontlike struikelblokke teken, of van prente of narratiewe gebruik maak om enigiets te identifiseer wat hul toekomsdrome in die wiele kan ry. Hierop volg 'n bespreking van temas soos groepsdruk, konflik, probleemoplossing en substansmisbruik en word 'n verskeidenheid speletjies en moontlike scenario's benut om hierdie sake prakties toe te lig. Hierna word die sessie geëvalueer en afgesluit. Die belang van hierdie aspekte word deur Koller (1999:61); Malindi en Theron (2010: 319) en Van Heerden (2015: 39-40) bevestig.

Sessie 6: Hoe gaan ek my doel bereik? (Gesonde leefstyl en keuses vir die toekoms)

· Doelwitte

Die doelwitte vir hierdie sessie is om lede te motiveer om verantwoordelike keuses te maak ten einde ʼn gesonde leefstyl en toekomsperspektief te handhaaf, en om aan lede te demonstreer dat ʼn gesonde liggaam en gees nodig is om jou drome vir die toekoms te bereik. Die gevare van substansmisbruik word onder lede se aandag gebring, asook 'n bewustheid rakende MIV/Vigs en voorkoming daarvan by lede te kweek.

· Programaktiwiteite

Na die gebruiklike verwelkoming is 'n ysbreker benut. Hiervoor moes lede saam besin om 'n liedjie saam te stel wat handel oor 'n gesonde liggaam en gees ten einde jou lewensideale te bereik. Die betrokke lewenskaart word hierna geteken of met prente aangedui, naamlik hoe om jou doel in die lewe te bereik en gevare om dit te bereik uit die weg te ruim of te vermy, soos byvoorbeeld substansmisbruik en MIV. Lede word hierna versoek om collages saam te stel ten einde aan te dui hoedanig hulle in die toekoms struikelblokke gaan vermy. Die eienskappe van 'n gesonde en florerende boom word aan die hand van 'n skets behandel soos byvoorbeeld dat sy krag in sy wortels lê, dat hy genoeg water en sonskyn moet kry.

In dieselfde opsig moet die mens se liggaam ook goed versorg word soos byvoorbeeld met goeie higiëne, geestesgesondheid, genoegsame slaap, oefening, kleding, huisvesting, gesonde eetgewoontes en goeie opvoeding. Ter afsluiting word die sessie mondelings geëvalueer deurdat lede gevra word wat hul uit die sessie geleer het. Hierdie inligting word op 'n blaaibord aangebring ten einde tydens die afsluitingsessie weer op te reflekteer. Die belangrikheid van hierdie aspekte word deur Heineman en Ehrensaft (2006:24) en Louw en Louw (2014:426) uitgelig.

Sessie 7:Watter hulp het ek nodig? (Kinderregte, kommunikasievaardighede en effektiewe tydsbestuur)

· Doelwitte

Die doelwitte vir hierdie sessie is om die belangrikheid van effektiewe kommunikasievaardighede aan lede te verduidelik, om die kommunikasieproses te verstaan, om lede te bemagtig om effektief te kan kommunikeer, om lede bewus te maak van hul regte en verantwoordelikhede as kinders en om hulpbronne in hul gemeenskappe te identifiseer en te benut ten einde hul doel in die lewe te kan bereik, asook om effektiewe tydsbestuur aan lede te verduidelik.

· Programaktiwiteite

Na die verwelkoming en ysbreker, wat 'n liedjie oor hul regte as kinders behels wat hul as groep moet saamstel, word hul regte en verantwoordelikhede bespreek. Die konsep van elke reg wat verantwoordelikhede meebring, word duidelik aan die groeplede uitgespel. Die betrokke lewenskaart word vervolgens deur lede geteken en daarna bespreek. Alle lede word aangemoedig om deur middel van narratiewe, tekeninge of prente te beskryf watter hulp hul nodig het om hul drome te kan uitleef. Beskikbare hulpbronne soos die kerk, welsynsorganisasies, die polisie en die skool word bespreek. Hierna word 'n kommunikasiespeletjie gespeel waar die fasiliteerder iets in 'n lid se oor fluister en hy dan daarop moet uitbrei en aan die volgende lid fluister. Die laaste lid moet dan vertel wat hy gehoor het. Die groep moet dan bepaal hoe die storie vergelyk met die oorspronklike weergawe om by lede tuis te bring dat korrekte kommunikasie en die interpretering daarvan belangrik is.

ʼn Bespreking oor die kommunikasieproses, die belangrikheid van kommunikasie en die verskillende kommunikasievorme word dan gefasiliteer aan die hand van uitdeelstukke. Hierna word 'n bespreking gevoer oor hoedanig kommunikasie 'n mens kan help om die benodigde hulp te verkry. Na voltooiing van hierdie aktiwiteit word daar aan lede gevra wat hul dink tydsbestuur behels. Lede moet daaglikse aktiwiteite noem wat belangrik, minder belangrik en onbelangrik is. Na afhandeling van die bespreking word wenke om tyd beter te beplan, aan die grope meegedeel. Ter afsluiting word die sessie geëvalueer deurdat groeplede gevra word of hulle weet watter ondersteuning, hulpbronne en vaardighede hulle nodig het om hul doel te bereik. Hierdie aspekte word deur Sasson (2015:2); Thompson (2009: 102) en Wexler (2008:546) beklemtoon.

Sessie 8: Hoe sal dit wees as ek my doel bereik? (Positiewe funksionering en veerkragtigheid)

· Doelwitte

Om groeplede te help om te besef in watter opsigte hul lewensomstandighede tans beter is as wat dit aanvanklik was en om hul toekoms te visualiseer, hoopvol daaroor te wees, om die toekoms as toegerus binne te gaan ten einde veerkragtigheid by lede te bevorder.

· Programaktiwiteite

Na die gebruiklike verwelkoming word 'n ysbreker aangebied. Dit vind plaas in die vorm van 'n refleksiesirkel waar groeplede in ʼn sirkel sit en elkeen ʼn beurt kry om te sê wat hulle tot dusver geleer het omtrent die program. Hierna word die betrokke lewenskaart geteken om te wys hoe elkeen sy lewe voorstel as die lewensdoel bereik is. Lede kry vervolgens die geleentheid om terugvoer te gee oor hul lewenskaarte en voortspruitende temas word bespreek. Positiewe funksioneringsareas soos veerkragtigheid en hoop vir die toekoms word ook bespreek.

By die geleentheid word ʼn voormalige straatkind, wat intussen ʼn volwassene geword het en ʼn sukses van sy lewe gemaak het, na die groep genooi om lede in te lig oor hoe hy die sterktes in sy lewe gebruik het om sy drome te bereik. Groeplede kry ook die geleentheid om vrae te vra en bydraes tot die gesprek te lewer. Lede word nou versoek om 'n brief aan hulself te skryf waarin hulle identifiseer wat die sterktes in hulle lewens is en hoe hulle hierdie sterktes gaan gebruik om hul drome te bereik. Die sessie word hierna geëvalueer aan die hand van vrae wat hulself skriftelik moet beantwoord soos byvoorbeeld of die sessie meer hoop vir die toekoms gegee het. Brendtro en Longhurst (2005:55) en Louw en Louw (2014:444) bevestig die belangrikheid van positiewe funksionering en veerkragtigheid in 'n lewensvaardigheidsprogram.

Sessie 9: Wat moet ek doen om op die regte pad te bly? (Toepassing van vaardighede en implementering in daaglikse lewe)

· Doelwitte

Die doelwitte vir die afsluitingsessie is om lede te help om verantwoordelikheid vir hul lewe te neem, die foute van die verlede ten alle koste te vermy en om nie weer op straat te beland nie. Verder word ʼn samevattende gesprek gefasiliteer oor al die lewensvaardighede wat hanteer is en om hul te motiveer om die lewensvaardighede wat aangeleer is in hul lewens te implementeer.

· Programaktiwiteite

Na die verwelkoming tot hierdie afsluitingsessie en 'n ysbreker wat die vorm van 'n samevattende aktiwiteit aanneem, word 'n toepassing van al die vorige sessies gedoen en al die lewensvaardighede wat hanteer is, geëvalueer. Vir die ysbreker word papiere met die name van die lewensvaardighede op in 'n hoed gegooi en elk lid moet een trek en aan die groep demonstreer. Die res van die groep moet raai watter lewensvaardigheid voorgestel is en wat dit behels. Vir die betrokke lewenskaart moet lede 'n voorstelling maak van wat hulle gaan doen om op die regte pad te volhard.

Hierdie voorstelle word dan bespreek waarna 'n lys van die lewensvaardighede aan lede beskikbaar gestel waarop hulle moet aandui en motiveer watter van hierdie lewensvaardighede hul saam neem op hul lewenspad vorentoe. Daarna gee die groepfasiliteerder ʼn opsomming en samevatting van die lewensvaardighede wat tydens die groepwerkreeks bespreek is. Louw en Louw (2014:444) en Panday, Makiwane, Ranchod en Letsoalo (2009:26) bevestig die belangrikheid van om aangeleerde vaardighede in die alledaagse lewe te kan toepas ten einde hoop vir die toekoms te kry.

 

GEVOLGTREKKING

Wetgewing en dienslewering aan straatkinders toon in die laaste jare vooruitgang en wetgewing sluit ook nou straatkinders in by wetgewing wat oor kinders handel. Ten spyte van vordering op die terrein, word wetgewing en dienslewering nie orals doeltreffend geïmplementeer, toegepas en geïntegreer aangebied nie. Die toedrag van sake kan aan verskillende faktore toegeskryf word soos 'n tekort aan kinder- en jeugsorgsentrums, te min beskikbare maatskaplike werkers, finansiële tekorte en tekorte aan ander hulpbronne. Dit is belangrik dat lewensvaardigheidsprogramme deel behoort te vorm van enige kinder- en jeugsorgsentrum se geïntegreerde diensleweringsmodel. Straatkinders het juis 'n behoefte aan lewensvaardighede omdat hul psigo-sosiale omstandighede meestal veel te wense oorlaat en hul as groep as gedepriveerd beskou kan word.

Voordat 'n lewensvaardigheidsprogram aangebied behoort te word, moet die spesifieke omstandighede en agtergrond van elke kind, wat in die program betrek gaan word, ondersoek word. Op die wyse kan vasgestel word dat die kinders wat in die program ingesluit word, by groepwerk sal baat. Sommige kinders mag beter op individuele terapie reageer en behoort dan nie in 'n groep betrek te word nie. Net so belangrik is dit dat 'n behoorlike behoeftebepaling van die onderwerpe vir die voornemende groep gedoen sal word ten einde te bepaal wat in sodanige program aangebied behoort te word.

Die lewenskaartetegniek wat juis in hierdie studie benut is, kan as waardevol beskou word omdat dit aan groeplede die geleentheid bied om hul self te ondersoek, te ontdek en selfuitdrukking aan te leer. Die lewenskaartetegniek is verder uitnemend van toepassing op straatkinders omdat hulle nie lank op een aktiwiteit kan konsentreer nie, dat hul van afwisseling hou en die visuele aard van aktiwiteite kan hul deelname bevorder. Hierdie tegniek help groeplede ook om hul verlede te eksploreer en 'n toekomsgerigtheid by hierdie kinders aan te kweek. Die benutting van die lewenskaartetegniek kan as 'n visuele hulpmiddel beskou word, wat juis straatkinders met 'n kort aandagspan, aggressiewe gedrag, swak skolastiese prestasie en grootliks afwesige lewensvaardighede kan bevoordeel deurdat hul self by die groep se aktiwiteite betrokke moet raak, hul eie opinie oor hul lewe moet gee en verantwoordelikheid vir hul toekoms moet neem. Daar kan vertrou word dat hierdie lewensvaardigheidsprogram aangepas kan word vir soortgelyke groepe of dat sekere sessies met ander inhoud vervang kan word om by spesifieke behoeftes te kan aanpas. Deur verdere evaluering en aanpassings aan die bestaande program kan die program uiteindelik gestandaardiseerd aangebied word wat as nog 'n tegnologie vir Maatskaplike Werk beskikbaar kan word.

 

AANBEVELINGS

Die volgende aanbevelings kan gemaak word:

· Meer navorsing word aanbeveel oor lewensvaardigheidsopvoeding vir straatkinders waarin spesifiek ook die lewenskaartetegniek 'n rol speel.

· Dienslewering aan straatkinders moet gerig word volgens hul spesifieke behoeftes wat van groep tot groep kleiner wysigings mag ondergaan.

· Die spesifieke lewenservaring, ouderdom, ontwikkelingsvlak en skolastiese prestasie moet deeglik in ag geneem word in die samestelling van 'n groep vir straatkinders.

· Sodanige programme moet ook deeglik geëvalueer word sodat die nodige aanpassings gemaak kan word ten einde die program op die ou end as gestandaardiseerd vir straatkinders beskou kan word.

 

SAMEVATTING

Die fokus van hierdie artikel was om aan te dui hoe die lewenskaarte tegniek toegepas was in 'n lewensvaardigheidsprogram vir straatkinders. Grondige literatuurstudie is eerstens onderneem ten einde die terrein van wetgewing vir en dienslewering aan straatkinders af e baken. Hierna is 'n volledige behoeftebepaling onderneem om die spesifieke behoeftes van straatkinders in hierdie opset te kon vasstel. Die program bestaan uit nege sessies wat onder andere die volgende insluit: selfkennis, interpersoonlike verhoudings, "coping", toekomsbeplanning, groepsdruk, substansmisbruik, probleemoplossing, konflikhantering, 'n gesonde lewenstyl, kommunikasievaardighede, en die toepassing van al die verskillende vaardighede in hul alledaagse lewe. Op die wyse word daarna gestreef om gesonde psigo-sosiale funksionering by straatkinders te bevorder. Op grond van die literatuurstudie en die behoeftebepaling is hierdie program ontwikkel, wat wetenskaplik gebaseer is op die werklike behoeftes van hierdie kinders. Maatskaplike groepwerk is as metode van dienslewering gekies juis omdat die kinders by mekaar kan leer, met mekaar positief kan identifiseer en saam oor hul toekomsideale kan besluit.

 

BRONNELYS

ASHOKA. 2004. Helping the street children of South Africa: profile of Ashoka fellow David Fortune. [Aanlyn] Beskikbaar: http://www.shareintl.org/achives/social-justice/sj-helping.htm. [Datum van gebruik: 08/03/2004].         [ Links ]

ATKINSON, M. 2008. Aging out of foster care: towards a universal safety net for former care youth. Harvard Civil Rights/Civil Liberties Law Review, 43:183-212.         [ Links ]

BADEMCI, H.O., KARADAYI, E.F. & DE ZULUETA, F. 2015. Attachment intervention through peer-based interaction: working with Instanbul's street boys in a university setting. Children and Youth Services Review, 49:20-31.         [ Links ]

BARETTE, M.J. 1995. Street children need our care. Pretoria: Kagiso.         [ Links ]

BECK, R. 2004. Group interventions for treatment of psychological trauma, module 8: Unique aspects of group work with trauma. New York: American Group Psychotherapy Association.         [ Links ]

BENGHAIT, L. 2002. Hoop vir Benoni se straatkinders. Lig: 34-35, Jan.         [ Links ]

BRENDTRO, L.K. & LONGHURST, J.E. 2005. The resilient brain. Reclaiming Children and Youth, 14(1):52-60.         [ Links ]

COREY, M.S. & COREY, G. 2002. Group process and practice. Pacific Grove, Calif.: Brooks/Cole.         [ Links ]

COWGER, C.D. & SNIVELY, C.A. 2002. Assessing cient strengths: Individual, family, and community empowerment. In: Saleebey, D., (ed). The strenghts perspective in social work practice. Boston, Mass.: Allyn & Bacon: 106-123.         [ Links ]

CRESWELL, J.W. 2014. Research design: qualitative, quantitative and mixed methods approaches. (4th ed). Thousand Oaks, Calif.: Sage Publications.         [ Links ]

CRESWELL, J.W. & PLANO CLARK, P. 2011. Designing and conducting mixed method methods approaches. (2nd ed). Thousand Oaks, Calif.: Sage.         [ Links ]

DELPORT, C.S.L. & FOUCHÉ, C.B. 2011. Mixed methods research. In: De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L., (eds). Research at grassroots: for the social sciences and human service professions. (4th ed). Pretoria: Van Schaik Publishers: 433-448.         [ Links ]

HARBENAS, T. 2001. History and life stories. Human Development, 44(4):191-194.         [ Links ]

HASSIM, T. & HERBST, A.G. 2016. Strengths-based interventions in trauma counselling. In: Herbst, A.G. & Reitsma, G.Trauma counselling principles and practice in South Africa today. (eds). Cape Town: Juta: 205-230.         [ Links ]

HEINEMAN, T.V. & EHRENSAFT, D. 2006. Building a home within: Meeting the emotional needs of children and youth in foster care. Baltimore, Md.: Paul Brooks Publishers.         [ Links ]

HERBST, A. 2002. Life maps as a technique in a social group work program for young adults living with HIV/AIDS. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. (Proefskrif - PhD)        [ Links ]

HERBST, A. & DE LA PORTE, A. 2006. Memory work: Telling your story through life maps. Pretoria: CB Powell Bible Centre Unisa.         [ Links ]

IDEMUDIA, E.S., KGOKONG, K. & KOLOBE, P. 2013. Street children in Mafikeng, North West Province: a qualitative study of social experiences. Journal of Social Development in Africa, 28(I):162-164.         [ Links ]

KIT, L. 2004. Street children overview. [Aanlyn] Beskikbaar: http://www.kit.nl/specials/html/scstreetchildren. [Datum van gebruik: 13/08/2012].         [ Links ]

KOLLER, S. H. 1999. Methodological and ethical issues in research with street children. New Directions for Child Adolescent, 85 (Fall): 59-70.         [ Links ]

LEFEH, N.R. 2008. South African government responses to the plight of street children: an analysis of policy development and implementation in Johannesburg. Johannesburg: University of Witwatersrand. (Dissertation - MA)        [ Links ]

LOUW, D.A. & LOUW, A.E. 2014. Die ontwikkeling van die kind en adolessent. (2de uitg). Bloemfontein: Psychology Publication.         [ Links ]

LOUW, S. 2008. ʼn Ekologiese perspektief op die straatkindverskynsel. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. (Proefskrif - PhD)        [ Links ]

MALINDI, M.J. & THERON, L.C. 2010. The hidden resilience of street youth. South African Journal of Psychology, 40(3):318-326.         [ Links ]

MAYNE, B. & MAYNE, S. 2002. Life mapping: Create a powerful blueprint to bring out the best in yourself and your life. London: Vermillion.         [ Links ]

MUKHERJEE, N. 2005. Towards evolving a rights-based participatory monitoring tool for sustainable human development and reduction of vulnerability of street children in urban South Asia. (Paper presented at UNICEF-New School University, New York.) [Aanlyn] Beskikbaar: http://www.streetchildren.org.uk/reports/Conference%20%20Children%20and%20Poverty%20-% [Datum van gebruik: 25/04/2016].         [ Links ]

MULLIGAN, J. 1998. The personal management handbook: How to make the most of your potential. London: Sphere.         [ Links ]

NICHOLAS, L., RAUTENBACH, J. & MAISTRY, M. 2010. Introduction to social work. Cape Town: Juta Acedemic.         [ Links ]

NOLTE, G.M. 2002. Lewensvaardighede: 'n bemagtigingsprogram vir vroeë volwassenes. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Proefskrif - PhD)        [ Links ]

PANDAY, S., MAKIWANE, M., RANCHOD, C. & LETSOALO, T. 2009. Teenage pregnancy in South Africa: With a specific focus on school-going learners. Pretoria: Department of Basic Education.         [ Links ]

PIERSON, J. & THOMAS, M. 2010. Dictionary of Social Work: The definitive A to Z of Social Work and Social Care. New York: McGraw Hill, Open University Press.         [ Links ] .

RUBIN, A. & BABBIE, E. 2011. Research methods for social work. Belmont, Calif.: Brooks/Cole.         [ Links ]

SALEEBEY, D. 2013. Strengths perspectives in social work practice. (6th ed). Boston, Mass.: Allyn and Bacon.         [ Links ]

SASSON, R. 2015. Success consciousness mental tools for a great life: Importance of time management. [Aanlyn] Beskikbaar: http://www.successconsciousness.com/blog/time-management/importance-of-time-management/ [Datum van gebruik: 26/09/2015].         [ Links ]

SHAW, G.B. 2001. Street children - community children. [Aanlyn] Beskikbaar: http://www.pangaea.org/streetchildren/kids.htm. [Datum van gebruik: 25/09/2015].         [ Links ]

SMART, R. 2003. Children affected by HIV/AIDS in South Africa: a rapid appraisal of priorities, policies and practices. Arcadia: Save the Children (UK).         [ Links ]

SOUTH AFRICA. 2005. Children's Act no 38 of 2005. Pretoria: Government Printers.         [ Links ]

STRYDOM, H. & HERBST, A.G. 2007. Introducing life maps as technique in a social group work programme for young adults living with HIV/AIDS. Social Work/ Maatskaplike Werk, 43(3):244-260.         [ Links ],

STRYDOM, I. 1994. Besluitnemingsvaardighede: ʼn sielkundige-andragogiese perspektief. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Verhandeling - MA)        [ Links ]

THAKANENG KINDER- EN JEUGSORGSENTRUM. 2014. Besigheidsplan 2013/2014. Potchefstroom.         [ Links ]

THOMPSON, N. 2009. People skills. (3rd ed). New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

TOSELAND, R.W. & RIVAS, F.R. 2014. An introduction to group work practice. (7th ed). Boston, Mass.: Peason.         [ Links ]

VAN HEERDEN, E. 2015. Life skills: my journey, my destiny. (2nd ed). Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

VOLPI, E. 2003. Children living and working in the street: promising practices and approaches. Child, Youth and Environments, 13(1):1-30.         [ Links ]

WAGNER, C., KAWULICH, B. & GARNER, M. 2012. Doing social research: A global context. London: Mcgraw-Hill Higher Education.         [ Links ]

WARD, C.L. 2007. Monitoring child well-being: A South African rights-based approach Dawas, A, R. Bray, R. & van der Merwe, A. (eds). Pretoria: HRSC Publishers.         [ Links ]

WEXLER, L.P. 2008. Street children and U.S immigration law: What should be done. Cornel international law journal, 41(2):545-575.         [ Links ]

ZASTROW, C.H. 2014. Social work with groups: a comprehensive workbook. (8th ed). Pacific Grove, Calif.: Brooks/Cole.         [ Links ]

ZASTROW, C.H. & KIRST-ASHMAN, K. 2016. Understanding human behavior and the social environment. (10th ed). Boston, Mass.: Cengage Learning.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License