SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 número2Resolving P.W. Botha's 1985 Rubicon riddlePath-breaking study on Victorian expeditionary literature of Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Historia

versión On-line ISSN 2309-8392
versión impresa ISSN 0018-229X

Historia vol.64 no.2 Durban nov. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2309-8392/2019/v64n2a7 

ARTICLES

 

Koos Kombuis: Ikonoklas na ikoon

 

 

Wouter de Wet*

Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat (QwaQwa-kampus)

 

 


OPSOMMING

Die Afrikaanse skrywer en musikant Koos Kombuis word vandag wyd as 'n ikoon beskou. In die 1980's was hy egter 'n randfiguur van die Afrikaner-establishment. Hoe het hierdie transformasie van ikonoklas na ikoon oor tyd plaasgevind? Kombuis het sy loopbaan as digter en skrywer in die 1980's begin. Hy het homself aan die spits van die sogenaamde Tagtigerbeweging in die letterkunde bevind, en in 1989 het hy aan die berugte Voëlvry-toer deelgeneem wat sy status as dwarstrekker verskans het. Sy letterkunde en musiek van dié dekade het gepoog om die waardes en norme van die heersende Afrikaner-establishment omver te gooi. Die vroeë 1990's het bepaalde veranderinge in sowel die breër sosio-politieke konteks van Suid-Afrika as Kombuis persoonlik gesien. Sy beeld onder Afrikaners het stelselmatig begin verander, en soos sy loopbaan in die jare sedertdien ontwikkel het, het hy algaande ikoonstatus bekom. Hierdie artikel stel ondersoek in na Koos Kombuis se transformasie van ikonoklas na ikoon binne Afrikaner geledere.

Sleutelwoorde: Koos Kombuis; ikoon; ikonoklas; Tagtigers; Voëlvry; Afrikaners; Suid-Afrika.


ABSTRACT

The Afrikaans author and musician, Koos Kombuis, is widely regarded as an icon today. In the 1980s, however, he was a fringe figure, arguably even an iconoclast of the Afrikaner establishment. How did this transformation from iconoclast to icon happen over time? Kombuis began his career as poet and author in the 1980s. He found himself as a leading figure of the so-called Tagtiger movement in Afrikaans literature, and in 1989 he participated in the Voëlvry tour which entrenched his image as an Afrikaner iconoclast. His literature and music of this particular decade attempted to overthrow the accepted norms and values of the reigning Afrikaner establishment. The early 1990s saw certain changes in the broader South African socio-political context as well as in Kombuis personally. His image among Afrikaners started changing and as his career developed in the years since, he gradually obtained icon status. This article investigates Koos Kombuis's transformation from iconoclast to icon within Afrikaner society.

Keywords: Koos Kombuis; icon; iconoclast; Tagtigers; Voëlvry; Afrikaners; South Africa.


 

 

Inleiding

Koos Kombuis beklee vandag ikoonstatus in Suid-Afrika. Met 'n loopbaan wat oor byna 40 jaar strek, is hy een van die mees prominente figure op die Afrikaanse literêre, musikale en kulturele gebiede. In teenstelling met sy hedendaagse ikoonstatus, was hy vroeër 'n randfiguur van die Afrikaner samelewing. Sy letterkunde en musiek van die 1980's, toe hy nog as André Letoit bekend gestaan het, het krities teenoor die Afrikaner-establishment van die tyd gestaan. Die 1990's het belangrike veranderinge gesien wat op die lang duur 'n daadwerklike invloed op Kombuis se beeld gehad het. Die NP, en by verlenging dan ook die Afrikaner, het hul politieke mag in die land verloor. Dít het beteken dat die Afrikaner homself tot 'n mate moes herdefinieër in 'n post-apartheid Suid-Afrika, wat vervolgens tot 'n bepaald nuwe establishment gelei het. Verder het Kombuis ook 'n persoonlike verandering ondergaan - hy het sy naam van André Letoit na Koos Kombuis verander, en nuwe temas in sy werk aangespreek. Die wisselwerking van al hierdie veranderinge het hom van Afrikaner randfiguur na ikoon verander.

Hierdie artikel het dit ten doel om Koos Kombuis se transformasie van Afrikaner ikonoklas na ikoon te beskryf. Dít gaan gedoen word deur te kyk na die aard van sy werk sedert die 1980's, en hoe sy beeld in Afrikanergeledere daardeur bepaal is. Kombuis se beeld - dít wat hy versinnebeeld en verteenwoordig het - gaan dan in kontekstuele verband nagevolg word, voordat daar laastens bestek geneem word van sy posisie in die Afrikanergemeenskap vandag. Só sal die ikoonstatus wat hy beklee, belig word.

 

Letterkunde in die 1980's

Wat is my regte werk dan? het ek gewonder. Elke keer dat ek myself hierdie vraag afgevra het, het ek gedink aan al die onvoltooide liedjies in my kop, al die gedigte, al die stories. Die antwoord was dus in my kreatiwiteit.1

Koos Kombuis is in 1954 as André le Roux du Toit gebore, en het in 1981 die naam André Letoit aangeneem.2 Hy het dit gedoen om verwarring met die skrywer André le Roux te vermy, asook om "'n skiet op Etienne Leroux en die hele boksemdais" te wees.3 Dit is ook in 1981 wat Letoit as digter gedebuteer het met die bundel Brekfis met vier, saam met drie ander digters, naamlik Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden. Die doel van hierdie bundel was om jong, onbekende digters aan 'n breër publiek bekend te stel.4 Letoit se gedigte is "goed geskryf en afgerond en verseker hom van 'n sterk debuut".5 Van die hooftemas van sy gedigte in Brekfis met vier is liefde, geloof, die dood, skrywerskap, en apartheid, en dié temas blyk deurgaans nou verweef te wees. In sy gedig "Laaglied", wat 'n woordspeling op die Bybelse "Hooglied" is, kom die kwessie van rassepolitiek ter sprake, en hy spreek hom dan implisiet ook daarteen uit.6

Letoit se eerste solo digbundel, Suburbia, het in 1982 verskyn. Soos in Brekfis met vier, is die hooftemas hierin ook die liefde, skrywerskap, en geloof. In gedigte wat laasgenoemde tema aanspreek, distansieer die spreker homself van die kerk.7 Só distansieer Letoit homself van die Afrikanersamelewing van die tyd, 'n gemeenskap wie se identiteit deels op die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk gebou is. Suburbia lewer ook sosiale kritiek. Afrikaners se vyandige houding teenoor swart mense word in die gedig "Maar een maal jonk" aangespreek, en in "Romeo" word met die Ontugwet gespot. Met Suburbia het Letoit "nie net geveg teen die vorige maatskaplike en kulturele orde nie, [maar] hy [het] ook geskop teen die PW [Botha] in elkeen se kop: daardie stemmetjie wat so vingerwys".8

Letoit se volgende digbundel, Die geel kafee is in 1985 gepubliseer. Dié bundel skakel tematies met Suburbia, en spreek fel kritiek teenoor die politieke bestel van die tyd uit.9 Alhoewel dit as "duidelik[e] beginnerswerk" beskryf is,10 het Die geel kafee gewys dat "Letoit op pad was om 'n stewige digterskap te ontwikkel".11 Later in dieselfde jaar het André Letoit se eerste vollengte roman, Somer II, verskyn. Soos in sy vorige bundels staan die tema van skrywerskap hierin ook sentraal. Die roman is semi-outobiografies, en is 'n "doelbewuste eksperimentering met vorm en 'n uitdaging van literêre (en ander) taboes."12 Verder bied dit ook 'n "satiriese blik op die Afrikaanse letterkundige establishment van daardie tyd".13 Letoit se eerste werke het die beeld geskep van iemand wat die heersende politieke, sosiale en literêre ordes teëstaan.

In die eerste helfte van die tagtigerjare het hy ook enkele kortverhaalbundels gepubliseer. Nou's die Kaap weer Hollands het in 1982 verskyn, gevolg deur My nooi is in 'n tikmasjien (1983) en Breekwater en ander verhale (1986). Ondanks die tematiese skakeling van sy kortverhale met sy poësie en prosa van hierdie dekade, het die onderskeie titelverhale van hierdie drie kortverhaalbundels ook in die hoofstroom Afrikaanse tydskrif Huisgenoot verskyn.14 Dít opper dan die vraag oor waar die lyn tussen Letoit se verset teen die establishment en sy betrokkenheid daarby, getrek kan word. In 'n onderhoud in 1983, werp hy lig hierop:

My stories vir die Huisgenoot is in 'n mate 'n kompromie en afWyking van Tagtig, eerstens om finansiële redes, tweedens ook omdat ek die laaste tyd my verstand begin kry het en besef het dat ek as skrywer nie alleen my vervreemding hoef uit te spel nie, ek kan ook my deel bydra tot die skep van 'n gawer leefwereld vir die geslagte Afrikaanse kinders wat na my kom.15

Ondanks sy Huisgenoot-verhale was Letoit 'n anti-establishment Afrikaner op die rante van die samelewing. Sy beeld as Afrikanerdwarstrekker het verskans ná sy betrokkenheid by die kabaret Piekniek by Dingaan. Die stuk is deur homself, Ralph Rabie, wat later as Johannes Kerkorrel bekend sou staan, Marion Holm, en die regisseur Gerrit Schoonhoven, geskryf. Dit is vir die eerste maal by die Grahamstadse Kunstefees in 1988 opgevoer en was 'n sterk polities gemotiveerde teaterstuk wat eksplisiete kritiek teen die heersende establishment van die tyd uitgespreek het. Piekniek by Dingaan het gespot met, onder andere, die beperkings wat die NP op die media geplaas het, die noodtoestande van die 1980's, konserwatiewe Afrikaanse kunstenaars soos Sonja Herholdt en Bles Bridges, en het verder ook sosiale taboes soos seks baie eksplisiet aangespreek.16 Dit het ook die Afrikaners se waardesisteme en vrese oor die toekoms van die land aangespreek, sowel as verskeie aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis ondervra.17Piekniek by Dingaan het vir groot omstredenheid gesorg. Buiten talle ontstoke lesers wat briewe na koerante gestuur het, is die stuk ook by die Nico Malan-teater verbied weens die "alternatiewe en hoogs omstrede" aard daarvan.18

Letoit het die lirieke van Piekniek by Dingaan in bundelvorm in Die bar op De Aar: ballades, blues en bevliegings gepubliseer. Die konsep van 'n liriekbundel was in 1988 nog 'n relatiewe "nuutjie in Afrikaans", en Hennie Aucamp som die bundel as volg op:

Kunswerke wat mank gaan aan artistieke gehalte het geen krag nie, hoe progressief hulle ook polities mag wees. Die bar op De Aar lewer talle voorbeelde van lirieke wat progressief is én artistiek slaag_... [Hierdie bundel is] 'n politieke tydsdokument soos daar nog nie vantevore in Afrikaans was nie.19

Piekniek by Dingaan en Die bar op De Aar wat daaruit voortgespruit het, het dan André Letoit se status as Afrikaner ikonoklas bevestig - iemand wat, per definisie, die tradisionele opvattings en instellings van die heersende establishment probeer omvergooi. Hierdie sentimente is ook te sien in sy tweede roman, Suidpunt jazz (1989]. Letoit het krities gestaan teenoor die sosiopolitieke orde van die tyd deur spottenderwys oor byvoorbeeld rugbyspanne en politieke partye te skryf, en daar is verder ook parodies na die volkslied verwys.20 Dieselfde anti-establishment houding is ook te vinde in sy eerste Engelse roman, Paradise Redecorated (1990]. 'n Resensent het dit as 'n "alternatiewe roman met 'n satiriese blik op die gekhede van die Suid-Afrikaanse werklikhede" van die tyd beskryf.21

Benewens sy poësie, prosa en kortverhale, was Letoit ook betrokke by die skryf en publikasie van klein tydskriffies, of "little magazines" soos dit meer algemeen bekend was. "Little magazines" was literêre tydskrifte wat deur onafhanklike uitgewers of enkelpersone uitgegee is om publikasie-geleenthede aan jong, onbekende skrywers, en skrywers van eksperimentele literêre werke, te gee.22 In sy outobiografie beaam hy dat "little magazines" 'n belangrike rol gespeel het in die sogenaamde "alternatiewe kultuur" van die 1980's, en dat sommige van hierdie ondergrondse "obskure tydskrifte" deur die Publikasieraad verbied is.23 Van die noemenswaardige little magazines van dié dekade was Donga, Graffier, Kabelkarnimfe, Taaldoos, Spadu, Stet, Die Nieuwe Poes, The Bloody Horse, Vlieg, Standpunte, Penseel, en Inspan.24

Letoit se eerste "little magazine", Hunch, het in 1980 onder sy volle naam André le Roux du Toit verskyn. Slegs 12 eksemplare is gedruk, en hy het dit aan van sy naaste vriende en bekende skrywers soos André P. Brink en Ampie Coetzee gestuur. Dit was 'n vier-bladsy bylae en het uit strokiesprente, foto's, tekeninge, gedigte en graffiti bestaan. Die doel van Hunch, aldus Letoit, was om 'n "radikale linksgesinde immorele agitasie teen die FAK-sangbundel" te wees.25 In 1982 het hy nóg 'n "little magazine" gepubliseer, naamlik Die Tagtiger, wat homself vir die bevordering van die Afrikaanse letterkunde beywer het. Die eksperimentele aard van Die Tagtiger het jong skrywers en digters aangemoedig om die letterkunde op 'n meer onortodokse wyse te benader, sowel as om meer ernstige werke te publiseer, in baie gevalle met 'n sterk politieke ondertoon.26

André Letoit se oeuvre van die 1980's het deel gevorm van die sogenaamde Tagtigerbeweging. Dit was 'n beweging in die Afrikaanse literatuur in hierdie dekade waar skrywers gepoog het om, kortom, die grense van die Afrikaanse letterkunde te verskuif. Die Tagtigers, soos skrywers behorende tot die beweging bekend gestaan het, het met die verstegniese aspekte van hul werk geëksperimenteer, sosiopolitieke kritiek uitgespreek, en nuwe temas soos byvoorbeeld skrywerskap ontgin. Tagtig is verder gekenmerk aan 'little magazines", skrywers se bewustheid van aktuele gebeure soos die Grensoorlog, die gebruik van taalvariante soos "Kaapse Afrikaans", die vloeibaarheid tussen verskillende genres soos rockliedjies en literêre kabaret, die ontstaan van gay-literatuur, én 'n oplewing in die kortverhaal.27 Die Tagtigers se breuk met die literêre orde was simptomaties van hul groter poging om hulself van die greep van party, staat, en kerk te bevry.28

Of die Tagtigerbeweging hoegenaamd 'n beweging genoem kan word, is egter betwisbaar. Etienne van Heerden maan dat ons versigtig moet wees om Tagtig as 'n beweging te beskou omdat die Tagtigers nie 'n literêre generasie in die ware sin van die woord was nie.

Daarvoor steun die sogenaamde Tagtigerskrywers te veel op die temas en verteltegnieke van 'n ouer geslag skrywers. Hulle het die dinge wat mense soos [Hennie] Aucamp, [André P.] Brink, [Abraham] de Vries_..._ensomeer gedoen het, verder geneem en geradikaliseer binne 'n postmoderne sfeer.29

Elize Botha stel die saak as volg: "Daar was nie 'n Tagtigerbeweging nie, maar daar was beweging in die Tagtig."30 Hoe dit ookal sy, die Tagtigers - beweging of nie - het Afrikaanse literatuur 'n nuwe fase ingelei, naamlik die postmodernisme. Die eienskappe en aard van Letoit se letterkunde plaas hom dan beslis in Tagtig. Hy word ook as een van die sentrale figure van Tagtig beskou. Hennie van Coller beskryf Letoit as "[die] skrywer wie se werk dalk die duidelikste tekens van 'n postmodernistiese gees in die Afrikaanse prosa laat blyk".31

Deur sy Tagtiger-literatuur het André Letoit homself dus as Afrikaner afvallige, of selfs ikonoklas, geposisioneer. Sy beeld was een van dié wat wou breek met die heersende waardes en norme van die Afrikaanse letterkundige én sosiopolitieke orde. Of hierdie beeld van hom al by die breër Afrikaanse publiek bestaan het, is egter betwisbaar. Die Tagtigers was relatief onbekende skrywers wat op die rand van die literêre establishment gefunksioneer het. Hul werk is hoofsaaklik nie deur hoofstroom-uitgewers gepubliseer nie, en die lesers daarvan was immers 'n klein onderdeel van die Afrikaner bevolking en 'n selfs kleiner groep van die totale Suid-Afrikaanse populasie. André Letoit was in die laat 1980's dus nie veel meer as 'n ondergrondse kultusfiguur nie. Die verset en vernuwing wat hy versinnebeeld het, het 'n beperkte trefkrag in die breër konteks gehad. Met sy toetrede tot die musiekbedryf en groeiende gewildheid sou sy anti-establishment sentimente 'n groter gehoor vind. Met kitaar in die hand sou Letoit voortgaan "om die stomme Afrikaners se kultuur van 'n kant af op te f-k".32

 

Musiek in die 1980's

Dit was nie 'n subtiele aanval soos die letterkunde van Breytenbach of Brink, of selfs die toneelstukke van Pieter-Dirk Uys nie. Dit was 'n 'in your face', f-k jou konsert. Ons wou 'n kulturele rewolusie aan die gang sit.33

André Letoit het tot die musiekwêreld toegetree met sy eerste album, Ver van die ou Kalahari, in 1987. Sy besluit om 'n loopbaan in musiek te begin, was deels polities I geïnspireerd. "Politiek het 'n rol gespeel...._en natuurlik omdat ek die regering verpes het en hulle wou slegsê, en ek het nie geweet van 'n beter medium vir uitkak as rock 'n roll nie."34 Hiervoor het Letoit die perfekte platemaatskappy gevind. Shifty Records was 'n klein ondergrondse anti-apartheid platemaatskappy, en gedurende die tagtigerjare was hul studio in 'n karavaan.35 Letoit se debuutalbum het dus die lig gesien in dieselfde gees as sy selfgepubliseerde "little magazines", of Brekfis met vier by Skoppensboer. Die liedjies op Ver van die ou Kalahari het die anti-establishment sentimente van sy Tagtiger-letterkunde verder gevoer. Die sosiopolitieke kritiek van sy poësie en prosa het in sy folk-rockmusiek 'n meer toeganklike vorm gevind. "Ontug in die lug" spot met die apartheidswet wat seksuele verhoudings oor die kleurgrens verbied, en in "Swart Transvaal" veroordeel Letoit die Afrikaners vir hul aandeel in die Suid-Afrikaanse status quo van die laat 1980's. Hy noem die Afrikaners "vroueslaners", "k-fferslaners", en "jaag-kak-aners", en sê dat "God die hel in vir die Boerenasie" is.36

Nie lank na Ver van die ou Kalahari verskyn het nie, het Letoit vir Ralph Rabie, wat later as Johannes Kerkorrel bekend sou staan, ontmoet. Met die hulp van die bedrewe jong bestuurder Dagga-Dirk Uys, het Letoit en Rabie saam begin optree. Hulle het enkele optredes by die Sterrewag-teater in Bloemfontein gedoen, waarna "die Lennon en McCartney van Afrikaans" op gereelde basis by The Black Sun teater in Yeoville in Johannesburg opgetree het.37 Híér het hulle byvoorbeeld die musiek van die omstrede kabaret Piekniek by Dingaan gespeel, sowel as liedjies soos "Swart September". Dié liedjie eindig met die volgende subwersiewe laaste strofe op die wysie van die nasionale volkslied: "Ons sal traangas / Ons sal Treurnicht / Ons sal offer wat jy vra / Ons sal dobbel by Sun City / Ons vir jou Suid-Afrika."38

The Black Sun het vir baie musikante en kabaret kunstenaars die geleentheid gebied om hul eiesoortige anti-establishmentwerke op te voer. Hierdie vertonings het mettertyd ál gewilder geword, en groter en meer entoesiastiese gehore het opgedaag.39 Dit is in hierdie gees dat die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rock Konsert dan ook georganiseer is. Kunstenaars wat hier opgetree het, was Letoit, Kerkorrel en sy groep die Gereformeerde Blues Band, Bernoldus Niemand (James Phillips) en die Swart Gevaar, The Kêrels, Koos, en The Genuines. Die oogmerk van die konsert was "om Afrikaans van sy politieke kettings te bevry", en dit het heelwat ondersteuning van die ondergrond uitgelok.40 Die groei van Afrikaanse anti-apartheid protesmusiek in Johannesburg in die laat jare tagtig het stellig aanleiding gegee tot die sogenaamde "Alternatiewe Afrikaanse Beweging". Koos Kombuis, jare later, reflekteer hierop:

Dis daar waar die f-kken koerante die idee gekry het ons is "Alternatiewe Afrikaners", asof ons "weird" mense was. Eintlik wou ons net 'n alternatief daarstel vir die "mainstream" van daardie tyd. Die "mainstream", in my opinie, was oneindig meer "weird" as wat ons kon droom om te wees.41

André Letoit was dus 'n alternatiewe Afrikaner in die sin daarvan dat hy 'n alternatiewe identiteit vir die Afrikaner bepleit het, een los van die Christelik-Nasionale identiteit wat die establishment in stand probeer hou het. Met sy deelname aan die Voëlvry-toer van 1989 is hierdie beeld van hom as Afrikaner-afvallige by die breër publiek tuisgebring.

Die Voëlvry-toer is al relatief goed gedokumenteer in die populêre en akademiese geskiedskrywing.42 In Maart en April 1989 het die Voëlvry musikante, bestaande uit André Letoit, Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, en James Phillips onder die verhoognaam Bernoldus Niemand, deur Suid-Afrika en Namibië vir 'n reeks optredes getoer. Terwyl die onmiddellike doel van die toer was om 'n kompilasie-CD van Shifty Records bekend te stel, was die groter beweegrede egter om snerpende sosiopolitieke kritiek uit te spreek - "in rock 'n roll styl, met 'n dosis punk, het kragtige lirieke die staat, Afrikaanse politici, die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), die apartheidsbestel, en wit middelklas waardes gesatiriseer".43Kombuis noem self hoe Voëlvry "die idealistiese droom gehad [het] om die Apartheidregime met 'n paar liedjies vol woede, bravade en vloekwoorde omver te werp."44

Voëlvry het vir groot omstredenheid onder Afrikaners gesorg. Die toer het opslae in verskeie Afrikaanse en Engelse koerante gemaak,45 en die musikante is op verskeie plekke belet om te speel, universiteitskampusse veral. Hieronder tel byvoorbeeld die Randse Afrikaanse Universiteit, die Universiteit van die Vrystaat, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, die Vaaldriehoek Technikon en die Universiteit van Stellenbosch. Só het 'n sentrale deel van die Afrikaner-establishment hul afkeur in Voëlvry laat blyk. Verder het die geselskap ook doodsdreigemente tydens die Stellenbosse been van die toer gekry. Die Wit Wolwe, 'n ver-regse Afrikaner groep, het die Voëlvry-lede met die dood gedreig indien hulle met die konsert sou voortgaan. Daar het egter niks van gekom nie.46 Alhoewel 'n regse militante groep nie soseer deel uitmaak van die Afrikaner-establishment nie, is dit duidelik dat Voëlvry 'n sensitiewe snaar onder Afrikaners aangeroer het.

Hoe het Letoit se betrokkenheid by Voëlvry sy beeld beïnvloed? Voëlvry het relatief groot golwe in die Afrikaner gemeenskap van die laat 1980's gemaak. Die omstrede aard van die toer het die publiek se aandag getrek op 'n manier waarop Letoit se letterkunde nooit het nie. Voëlvry het Letoit van 'n ondergrondse kultusfiguur in 'n meer bekende publieke figuur omskep, en met sy teenkanting van die Afrikaner-establishment wat met Voëlvry 'n hoogtepunt bereik het, het hy die beeld as 'n verstokte Afrikanerdwarstrekker gekry.

 

Veranderinge in die 1990s

Die vroeë jare neëntig was.... die oog van die storm. Vir die eerste keer na die warrelwindlewe wat ek in die jare tagtig gevoer het, het ek weer tyd vir myself gehad. Om te dink.47

In die vroeë 1990's het daar 'n reeks veranderinge plaasgevind wat André Letoit se beeld in Afrikanergeledere sou verander. Op 'n breër, kontekstuele vlak, het die aanloop tot en begin van 'n demokratiese politieke bestel in die land veroorsaak dat Afrikaners hul identiteit ondervra en begin herdefinieer het. Dít het tot die totstandkoming van 'n bepaald nuwe Afrikaner-establishment gelei. Op 'n persoonlike vlak het Letoit sy naam na Koos Kombuis verander, en die werk wat hy voortaan sou produseer, het 'n nuwe rigting ingeslaan. Die wisselwerking van al hierdie veranderinge het op die lange duur beteken dat Koos Kombuis ikoonstatus sou bekom.

Suid-Afrika het in die vroeë jare negentig etlike belangrike politieke verwikkelinge gesien. Die vernaamste was president F.W. de Klerk se aankondigings tydens die opening van die parlement op 2 Februarie 1990 waar hy, onder andere, die verbod op die African National Congress (ANC] en ander bevrydingsbewegings opgehef het, en Nelson Mandela se onvoorwaardelike vrylating uit die tronk aangekondig het. Mandela is op 11 Februarie 1990 vrygelaat, en die amptelike onderhandelingsproses vir 'n demokratiese bestel het daarna 'n aanvang geneem. Die uiteinde hiervan was Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in April 1994 wat die ANC gewen het. Die NP-bewind en apartheid was iets van die verlede.

Die Afrikaner was ná 1994 nie meer 'n minderheid-in-bewind nie, maar slegs 'n minderheidsgroep binne 'n veelrassige en multikulturele samelewing. Hierdie nuwe realiteit het die Afrikaners genoop om hul identiteit in die konteks van die nuwe demokratiese Suid-Afrika te herdefinieer. Die kwessie van post-apartheid Afrikaner-identiteit blyk in die jare sedert 1994 'n relatief gewilde onderwerp in beide akademiese en populêre kringe te wees.48 Die kern van die saak is dat Afrikaners as 'n minderheidsgroep sonder politieke mag in post-apartheid Suid-Afrika bedreig voel. Daar bestaan die gevoel dat hul kultuur, taal en simbole gemarginaliseer word en dat daar binne die raamwerk van 'n liberale demokrasie selfs teen hulle gediskrimineer word. In 'n poging om by hul nuwe konteks aan te pas, het Afrikaners hulself tot 'n mindere of meerdere mate geherdefinieer. Die vernaamste aspek hiervan is die depolitisering van die Afrikaner-identiteit die bewustelike poging om hul kulturele identiteit van die negatiewe konnotasies van apartheid te bevry.49

Met hierdie vernuwing in die Afrikaner se identiteit het daar ook 'n bepaald nuwe Afrikaner-establishment tot stand gekom. Die pre-1994 Afrikaner-establishment - die een waarteen Letoit in opstand gekom het - het 'n stellig outoritêre, kollektiewe, Christelik-Nasionaal, ekslusief wit Afrikaner-identiteit bevorder.50 Die NP en sy leiers, die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk en sy dominees, die Broederbond, en Afrikaanse universiteite was van die vernaamste toonaangewers in die Afrikanersamelewing. In die jare ná 1994 sien sake anders daarna uit. Die NP bestaan nie meer nie en sy voormalige leiers is irrelevant in die hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks. Die NG Kerk het ondersteuning en dus ook sy houvas op die Afrikaner verloor, ondanks die feit dat hulle steeds in groot getalle die Christelike geloof beoefen.51 Verder voer Afrikaans as onderrigtaal 'n stryd om oorlewing aan sommige universiteite, terwyl dit aan ander reeds gesneuwel het. Die waardes wat die post-apartheid Afrikaner-establishment probeer bevorder, is dié van aanpasbaarheid, verdraagsaamheid, en inklusiwiteit. Vir die Afrikaner om in postapartheid Suid-Afrika as 'n minderheidsgroep met 'n kennelik negatiewe politieke geskiedenis te oorleef, is hierdie waardes noodsaaklik.

Hierdie ontwikkeling in die aard van die Afrikaner-establishment kan aan die hand van twee voorbeelde verduidelik word. Eerstens is daar die transformasie van die Afrikaner Broederbond, wat in die twintigste eeu 'n sentrale rol in die Afrikaner se sosiopolitieke bevordering gespeel het. Sedert die stigting van die Broederbond in 1918 kon slegs wit Afrikaanssprekende mans lede wees. In 1993, op die vooraand van demokrasie in Suid-Afrika, is dit na die Afrikanerbond hernoem, lidmaatskap is oopgestel vir Afrikaanssprekende mans en vroue van alle rasse, en die hoë premie wat die Bond in die verlede op geheimhouding geplaas het, is verslap.52 Die Bond het by die realiteite van die "nuwe Suid-Afrika" aangepas en meer inklusief geword. Tweedens is daar die uitslag van die 1992 referendum waar president De Klerk aan wit Suid-Afrikaners gevra het of hulle die voortgang van die politieke hervormingsproses steun. Meer as 87% van wit kiesers het aan die referendum deelgeneem, waarvan 69% "ja" gestem het.53 Alhoewel nie alle wit kiesers Afrikaners was nie, en daar 'n mate van dubbelsinnigheid aan die ja-stem gekoppel was, kan die uitslag van die referendum as 'n kopskuif in Afrikanergelederde geïnterpreteer word. Die Afrikaner-establishment van voor 1994 het ten einde geloop, en die een wat in sy plek herrys het, is meer inklusief van aard. Hermann Giliomee skryf hoedat daar sedert die politieke omwenteling in die land diegene is wat probeer om "nuwe inhoud en krag aan Afrikaans te gee en 'n inklusiewe en veelsydige gemeenskap te help bou".54 Die establishment waarteen Letoit homself so sterk in die 1980's uitgespreek het, het vanaf die vroeë jare negentig nie meer bestaan nie.

Saam met die veranderende sosiopolitieke strominge het Letoit in hierdie tyd ook 'n persoonlike metamorfose ondergaan. Vroeg in 1990 het hy sy naam na Koos Kombuis verander. Al Lovejoy, 'n bekende figuur in die Stellenbosse ondergrond van die tyd, onthou dié gebeurtenis as volg:

Some completely mal writer ou lived in our kitchen. His name was André. Real funny fucker too. Woke up one morning and announced brightly that he needed to piss off to the nearest Wimpy. Bum lots of coffee and start writing furiously, because he needed to pull off a cultural revolution - but only after he shaved his head and changed his name to Koos Kombuis.55

Kombuis verduidelik die beweegrede agter sy naamsverandering:

Ek het geweet 'n drastiese verandering is nodig_... Maar die verandering in my lewenstyl moes dieper gaan. Ek was vasgevang in 'n verkeerde image, 'n ander man se Struggle. Die battle teen Apartheid sou nie vir altyd nuus bly nie. Musiek, kuns is groter as politiek, en oortree net soms, by wyse van hoë uitsondering, op laasgenoemde se terrein. Ek wou wegkom, ontsnap van die identiteit wat die media vir my geskep het....56

Sy naamsverandering was dus 'n doelbewuste poging om sy beeld te verander.

Parallel met die Afrikaners in die breë, wou Kombuis ook sy indiwiduele beeld depolitiseer en homself van die negatiewe politieke konnotasies wat aan sý verlede gekoppel was, bevry. Die aard van die werk wat hy voortaan sou produseer, sou óók anders wees.

In 1990 het Koos Kombuis sy eerste album onder sy nuwe naam vrygestel. Niemandsland and Beyond het "nuwe liedjies oor nuwe onderwerpe" bevat.57 Ballades soos "Lisa se klavier" en "Onder in my whiskeyglas" het hierdie vernuwing versinnebeeld. In die liedjie "Paranoia" het Kombuis ook, in sy kenmerkende satiriese styl, kommentaar gelewer op die posisie van Afrikaners in die veranderende Suid-Afrikaanse konteks van die vroeë 1990's. Buiten die feit dat die titel opsigself as 'n opsomming van die Afrikaner-psige gedurende die oorgangstyd gelees kan word, sing hy verder: "Ek weet ek is verslaaf aan drank. / Ek is oortrokke by die bank. / My dogter is 'n Boere-punk, / maar dank God ek's ten minste blank."58 Kombuis skryf dat hy na Niemandsland and Beyond nog steeds nie ryk en bekend geword het nie, maar dat hy steeds as "alternatief" en "ongewens" gebrandmerk is.59

Kort na Niemandsland and Beyond se verskyning het Kombuis van platemaatskappy verander. Hy het die ondergrondse Shifty Records vir die meer kommersiële Gallo Music verruil. Sy eerste album by hierdie maatskappy, Elke boemelaar se droom (1994), het hom dan ook sy eerste smakie kommersiële sukses gegee. Saam die sosiale kommentaar waarmee hy sinoniem geword, het hierdie album ook liefdesballades in "Bicycle sonder 'n slot" en "Prayer for Port St. Johns" bevat. Sy nuwe musiek het sagter op die oor geval en hom in die proses meer toeganklik vir Afrikkanse luisteraars gemaak. Kombuis se musiek ná sy naamsverandering het wegbeweeg van die noue sosiopolitieke kritiek op Ver van die ou Kalahari en die Voëlvry-toer. Dit blyk ook die geval met sy letterkunde van die tyd te wees. In 1993 het Afrikaans my Darling, 'n bundel rubrieke, uit sy pen verskyn. Alhoewel hy plek-plek hierin steeds politieke kwessies aanspreek, is dit veel eerder 'n stuk sosiale kommentaar. Opmerklik egter van die politieke kommentaar in Afrikaans my Darling is dat hy homself uitspreek teenoor die swart politici van die dag. In 'n resensie skryf Willem Anker dat daar 'n onderliggende "siddering vir die land se toekoms in die sweterige hande van die politici" is.60

In die vroeë 1990's het die wisselwerking tussen al hierdie veranderinge - 'n nuwe politieke konteks in die land, 'n nuwe Afrikaner-establishment, en 'n nuwe persona - meegebring dat Kombuis vir homself 'n bepaald ander publieke beeld as dié van André Letoit begin skep het. Alhoewel die stigma van "alternatiewe musikant" nog vir 'n tyd aan hom sou kleef,61 het hy aan die begin van dié dekade sy eerste tree nader aan die nukleus van die ontwikkelende post-apartheid Afrikaner-establishment gegee.

 

Kommersiële sukses en aanvaarding deur die establishment

Met die aanvang van die 1990's was Koos Kombuis steeds die Afrikaner-afvallige met die negatiewe bagasie van Voëlvry, maar sy beeld was besig om te verander. In die jare sedertdien het Kombuis se gewildheid as musikant gegroei en word hy toenemend met die hoofstroom geassossieer. Daarby is sommige van sy werke in die Afrikaanse literêre kanon opgeneem, terwyl hy ook 'n meningsvormer in die hoofstroom-Afrikaanse media geword het. Die gevolg was dat hy op verskeie vlakke deel geword het van die post-apartheid Afrikaner-establishment.

Koos Kombuis het hom in die jare negentig hoofsaaklik op sy musiekloopbaan toegespits. Die letterkunde wat hy wél gepubliseer het - Soos die reën: gedigte en lyrics (1993], die digbundel Die tweede reën (1998] en Koos se songs (1998] - het meestal van sy musiek gespreek en het nie veel reaksie by resensente gelok óf merkwaardige kommersiële sukses behaal nie. Sy musiek het voorrang geniet. In sy outobiografie skryf Kombuis hoe hy in dié tyd feitlik konstant getoer het.62 Na sy eerste smakie van kommersiële sukses met Elke boemelaar se droom, en 'n toename in optredes in die 1990's, het Kombuis al populêrde geword. Hierdie groeiende gewildheid het afgespeel teen die agtergrond van die opkoms van Afrikaanse kunstefeeste en 'n ontploffing in die Afrikaanse musiekbedryf. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK] is vir die eerste maal in 1994 in Oudtshoorn aangebied, en jaarlikse Afrikaanse kunstefeeste het sedertdien landwyd opgeskiet. Hieronder tel Aardklop (Potchefstroom], Vrystaat Kunstefees (Bloemfontein], Suidoosterfees (Kaapstad], Innibos Fees (Nelspruit] en die Woordfees (Stellenbosch]. Ongeag die kritiek wat teen kunstefeeste uitgespreek word - sommiges argumenteer dat dit "etniese enklaves" geword het, en dat dit kultuurfeeste eerder as kunstefeeste is63 -het die groei van die Afrikaanse feeslandskap sedert 1994 'n groot aandeel in die oplewing van die Afrikaanse musiekbedryf gehad. Die middel negentigs het 'n "amper irrasionele explosion van Afrikaanse musiek" gesien.64 Enersyds het die groeiende getal kunstefeeste gesorg vir 'n "ontploffing in die hoeveelheid live shows",65en andersyds het die verkope van Afrikaanse albums ook die hoogte in geskiet. Die verkope van die platemaatskappy Select Musiek het tussen 2003 en 2008 jaarliks met meer as 30% gegroei,66 en kommersiële Afrikaanse popmusiek is vandag een van Suid-Afrika se grootste verkopers. Tussen 30% en 40% van verkope van alle plaaslik geproduseerde musiek is Afrikaans.67

Dit is teen hierdie agtergrond dat Koos Kombuis as musikant ál gewilder geword het. Alhoewel sy folk-rockmusiek nie soseer deelmaak van die hoofstroom populêre Afrikaanse musiek nie, het sy loopbaan nietemin gebaat by die verwikkelinge in die Afrikaanse kunste en musiekbedryf. Sy 1997-album, Madiba Bay, het byvoorbeeld die SAMA (South African Music Awards] toekenning vir beste album-ontwerp gewen.68 Die skerp groei van die Afrikaanse musiekbedryf het beteken dat hy, wat toe reeds 'n gevestigde kunstenaar was, groter kommersiële sukses behaal het. Koos Kombuis het 'n gereelde naam op die feesprogramme van Afrikaanse kunstefeeste geword en hy het in die 2000's selfs by die Huisgenoot Skouspel, die jaarlikse Afrikaanse glansgeleentheid by Sun City, opgetree. Hier het hy die verhoog met populêre kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Rina Hugo gedeel. Sommige van Kombuis se liedjies is oor die jare ook in die Afrikaanse hoofstroom opgeneem. "Lisa se klavier", wat deur baie as een van die beste Afrikaanse liefdesliedjies beskou word, is byvoorbeeld deur die populêre sangeres Laurika Rauch én die gewilde rockgroep The Parlotones verwerk. Van sy liedjies verskyn ook op kompilasie CD's, waaronder Sarie - My Inspirasie (2007], 100 Oorspronklike Afrikaanse Treffers, Volume 2 (2009] en Sag en Sielvol - ons Mooiste Ballades (2014]. Op hierdie albums verskyn Kombuis se naam saam met dié van die populêrste Afrikaanse sangers soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en Amor Vittone. Verder is enkele van Kombuis se liedjies ook in die FAKSangbundel Volume 2 (2017] opgeneem.69 Dít is 'n opmerklike insluiting wanneer daar in ag geneem word dat hy vroeër op die Voëlvry-toer die simbole van die Afrikaner-establishment, soos juis die FAK Sangbundel, gesatiriseer het. Dit is n goeie vraag of Koos Kombuis as kunstenaar vandag volkome by die hoofstroom ingesluit is, maar dat hy oor tyd ál nouer daarmee geassossieer het, is nie te betwyfel nie.

Kombuis se gewildheid en assossiasie met die Afrikaanse hoofstroom impliseer dat hy oor die jare groter aansien in die oë van die establishment verkry het. Daar is dus weggebeitel aan sy vroeëre beeld as "alternatiewe Afrikaner", en is hy toenemend as deel van die post-apartheid Afrikaner-establishment beskou. Die trajek van Kombuis se literêre loopbaan het hierdie oorgang van Afrikaner-buitestaander na lid van die binnekring verder ondersteun.

In 2000 verskyn Kombuis se outobiografie getiteld Seks & Drugs & Boeremusiek: Memoires van 'n Volksverraaier. Dit is uitgegee deur Human & Rousseau, een van Suid-Afrika se grootste uitgewersmaatskappye, wat op sigself 'n groot sprong van Kombuis se dae van ondergrondse en onafhanklike uitgewers in die 1980's is. Die boek is goed ontvang en het heelwat positiewe kommentaar by resensente uitgelok. De Ridder beskou dit as "'n dinamiese bydrae tot die literatuurbedryf - eerlik, onthutsend, skreeusnaaks en broodnodig".70Seks & Drugs & Boeremusiek is sedert 2000 elf maal herdruk, waarna daar 'n tweede uitgawe en twaalfde druk in 2015 verskyn het - sekerlik 'n bewys van kommersiële sukses. In 'n resensie van hierdie tweede uitgawe word daar geskryf dat die boek in 2015 nog nét so gewild is en dat die teks "steeds uiters relevant is en tydloos bly".71

Saam met die groter kommersiële sukses is sommige van Kombuis se werke met verloop van tyd ook in die Afrikaanse literêre kanon opgeneem. Raka: Die Roman (2005], 'n hedendaagse repliek op N.P. van Wyk Louw se oorspronklike teks, word op voorgraadse vlak aan sommige Suid-Afrikaanse universiteite behandel. Die bekroonde digter Joan Hambidge skryf in 'n resensie hiervan dat "ons in hierdie dae van taalstryde so 'n boek [benodig] wat uiteindelik bewys: as daar nog lekker met Afrikaans gespeel kan word, gaan dit goed met die taal."72 In die versamelbundel Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse Poësie sedert 1960 (2006) is daar agt van Kombuis se gedigte uit die 1980's, toe hy nog onder die naam André Letoit geskryf het, ingesluit. Die samestellers van Poskaarte noem dat dié bundel nie primêr gaan oor die insluiting van digters se gekanoniseerde werke nie, maar dat dit eerder 'n aanduiding van die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie is. Die feit dat Kombuis se werk hierin verskyn, impliseer die literêre establishment se hoogskatting van sy werk. Hierdie sentiment word geëggo in die Groot Verseboek (2008), stellig die aanwyser van die Afrikaanse poësie-kanon. Vyftien van Letoit se gedigte verskyn in dié hoogaanskrewe versameling, wat dan sy behoort tot die kanon bevestig. In Perspektief en Profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis (2015) wat kort profiele van beide André Letoit en Koos Kombuis bevat,73 wat sy gerespekteerde posisie in die Afrikaanse letterkunde bevestig.

Letoit se Tagtiger-letterkunde het stroomop geswem en nie deel gemaak van die literêre hoofstroom van daardie era nie. Soos dit die geval met die breër establishment was, het die Afrikaanse literêre establishment in die laat twintigste eeu ook 'n metamorfose ondergaan. Dié establishment gooi vandag sy net wyer om nou ook skrywers soos Kombuis (en Letoit) in te sluit. Koos Kombuis se bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse literêre landskap oor die afgelope bykans veertig jaar beteken dat hy vandag deel vorm van die Afrikaanse literêre establishment.

Kombuis se prominensie in die Afrikaanse gemeenskap is in die vroeë jare 2000 verder verskans toe hy 'n rubriekskrywer vir die Sondagkoerant Rapport geword het. Sy rubrieke in dié koerant, wat wyd as 'n mondstuk van die Afrikaner beskou word, spreek prontuit sosiopolitieke kritiek teen die hedendaagse Suid-Afrika uit. Hy krap ook gereeld vere om. Die vernaamste geval is seker 'n 2006-rubriek waarin hy sy bedanking uit die Afrikanerdom aangekondig het. Sy beweegrede was om "ontslae [te] raak van al die onnodige sielkundige bagasie van 'Afrikaner'-wees."74Hy beskryf dié bagasie as die konstante voorskrywe wie en wat 'n Afrikaner behoort te wees, vir wie hy behoort te stem, wat hy moet lees of aantrek, en hoe hy sy vakansiedae moet deurbring. Die tikkie humor ter syde gestel, suggereer hierdie bedanking 'n breër poging om homself te bevry van die negatiewe politieke konnotasies wat vandag in Suid-Afrika aan die term "Afrikaner" geheg word. Dit eggo die rede agter sy naamverandering van jare vroeër. Alhoewel hierdie rubriek heelwat reaksie en 'n vurige debat onder lesers veroorsaak het, was die uiteinde daarvan nie so ernstig as wat gevrees is nie, en Kombuis het aanhou skryf in die Afrikaanse media.

In meer onlangse jare verskyn sy rubrieke in Die Burger. Die aard van Kombuis se rubrieke speel 'n belangrike rol in die manier waarop hy vandag deur die publiek gesien word. Die vernaamste temas wat hy aanspreek, is byvoorbeeld die Afrikaanse taal en kwessies rondom Afrikanerskap in post-apartheid Suid-Afrika. Hy lewer ook skerp sosiopolitieke kommentaar, en spesifiek teenoor die African National Congress (ANC) en die wyse waarop hulle die land regeer.75 Dit is alles kwessies wat die hedendaagse Afrikaner na aan die hart lê en waarby hulle tot 'n redelike mate aanklank vind. Uit die leserskommentaar op Netwerk 24 se webtuiste, waar sy rubrieke in digitale formaat verskyn, blyk dit dat veral sy kritiek teenoor die ANC-bewind 'n sentiment is wat baie Afrikaners deel. Verder identifiseer lesers ook met Kombuis se verwysings na sy middeljarigheid en voorstedelikheid, en maak dit hom aanneemliker vir baie Afrikaanse lesers. Dit is egter nie te sê dat ál Kombuis se opinies gewild is nie. Sy omarming van die liberale waardes van die demokratiese Suid-Afrika, of sy pleidooi dat verskillende taalvariante by standaardafrikaans ingesluit moet word, word nie ewe goed deur alle lesers ontvang nie. Desnieteenstaande het hy oor die afgelope dekade of twee 'n prominente meningsvormer in die Afrikaanse media geword.

 

Samevatting

Koos Kombuis het in die 1980's, toe nog bekend as André Letoit, sy loopbaan as Tagtiger-skrywer en anti-apartheidsmusikant begin. Weens die aard van sy werk het hy die beeld van ikonoklas verkry. Hy het die norme en instansies van die establishment van daardie tyd uitgedaag, en hy het waardes soos verset en vernuwing versinnebeeld. In die vroeë jare negentig het daar etlike belangrike veranderinge plaasgevind, en die wisselwerking daarvan het beteken dat sy beeld stelselmatig sou verander. Waar hy teen die einde van die 1980's op die rand van die Afrikanersamelewing gefigureer het, het hy sedertdien ál nader aan die nukleus van die nuwe Afrikaner-establishment beweeg. As musikant het hy vanaf die 1990's al hoe gewilder geword, toenemend kommersiële sukses behaal en homself oor tyd ook met die Afrikaanse hoofstroom geassosieer. As skrywer het hy, weens sy bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde en die feit dat sommige van sy werk in die Afrikaanse literêre kanon opgeneem is, ook deel geword van die literêre establishment. Kombuis is verder ook 'n prominente meningsvormer in die Afrikaanse media. Waar sy jeugdige rebelsheid van die 1980's die NP-regering en die Afrikaner-establishment van die tyd die stryd aangesê het, spreek sy rubrieke vandag op 'n meer genuanseerde wyse kritiek uit oor kwessies wat die hedendaagse Afrikaner raak. Dit blyk dat Kombuis se opinies by baie Afrikaners resoneer, wat dan impliseer dat hy tot 'n redelike mate namens die post-apartheid Afrikaner-establishment praat. Só is Koos Kombuis dan 'n verteenwoordiger van die Afrikaner van vandag.

Kombuis beklee verder ook 'n mate van kulturele veelbetekenheid. Hy is al vir dekades lank 'n aktiewe digter, skrywer en musikant, en het daarby ook sentraal gestaan in twee noemenswaardige gebeure in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis - die literêre beweging van Tagtig en Voëlvry. Omdat dit seminale oomblikke in die ontwikkeling van die Afrikaanse kunste was en hy so nou daarmee geassossieer word, gee dit hom 'n groot voetspoor in die Afrikaanse kultuur van vandag.

Die ikoonstatus wat Kombuis vandag beklee, is ook te danke daaraan dat hy juis vroeër 'n ikoon van verset was. Sandra Swart skryf hoedat daar in onlangse tye, in 'n poging om rekonsiliasie te bevorder, na voormalige ikone van afvalligheid uitgereik is sodat alle Afrikaners nie as rassiste afgemaak word nie.76 Op dieselfde wyse is Koos Kombuis dan moontlik ook deur die post-apartheid Afrikaner-establishment toegeëien in 'n poging om te bewys dat "ons almal nie so is nie" - dat alle Afrikaners nie ondersteuners van die NP en apartheid was nie, en dat Afrikaners vandag nie noodwendig aan die politieke geskiedenis van hul voorvaders geken kan word nie, maar ook aan figure soos Kombuis.

Koos Ko buis het oor die afgelope sowat 40 jaar 'n erkwaardige transformasie van ikonoklas na ikoon gemaak. Die establishment wat hy in die 1980's met sy Tagtiger letterkunde en anti-apartheidsmusiek probeer omvergooi het, het met die sosiopolitieke verwikkelinge van die vroeë 1990's gekwyn. Hy het in hierdie tyd ook 'n persoonlike metamorfose ondergaan, en die trajek waarvolgens sy loopbaan sedertdien ontwikkel het, het meegebring dat hy oor tyd deel geword het van die post-apartheid Afrikaner-establishment. Vandag praat hy namens baie Afrikaners en word hy wyd as ikoon beskou.

 

BRONNELYS

  1. Allan, J., "Afrikaner pride and passion mix with fun and laughter for the new-era boere punks", Sunday Times, 9 Julie 1989.         [ Links ]
  2. Anker, W., "Al laggende skil Koos voort aan die vrot appels in SA", Die Burger, 22 Desember 2003.         [ Links ]
  3. Aucamp, H., "Letoit, die straat-troebadoer", Die Burger, 28 Augustus 1988.         [ Links ]
  4. Aupiais, E., "Rejection of Volk and liberation of Afrikaners", Cross Times, August 1989.         [ Links ]
  5. Botha, E. en Roodt, P.H., "Die Tagtigers en die Tydskrif vir Letterkunde: Was daar 'n Tagtigerbeweging?", Tydskrif vir Letterkunde, 43, 1 (2006], pp 57-67.         [ Links ]
  6. De Ridder, C., "Lank lewe skrywer-musikant Koos", Die Burger, 24 Julie 2000.         [ Links ]
  7. De Vos, P., "Nuwe lied vir jong Suid-Afrika", Die Suid-Afrikaan, 4 Junie 1990.         [ Links ]
  8. De Waal, S., "Bad-mannered Boerepunk's arrived", Mail & Guardian, 26 Mei-1 Junie 1989.         [ Links ]
  9. De Waal, S., "R 'n R headache for guardians of the volkskultuur", Weekly Mail, 4 Junie 1989.         [ Links ]
  10. Dowson, J. and Du Plessis, C., "Kerkorrel & Kie", The Star, 27 Mei 1989.         [ Links ]
  11. Emerson, T. and Getz, A., "Alternative Afrikaners: Words become weapons to fight apartheid", Newsweek, 19 Junie 1989.         [ Links ]
  12. Erasmus, P., "White Afrikaners' Search for New Identities", Acta Academica, 34, 2 (2002].         [ Links ]
  13. Giliomee, H., Die Afrikaners: 'n Biografie (Tafelberg, Kaapstad, 2004].         [ Links ]
  14. Grundlingh, A., "'Rocking the Boat' in South Africa? Voëlvry Music and Afrikaans Anti-Apartheid Social Protest in the 1980s", International Journal of African Historical Studies, 37, 3 (2004].         [ Links ]
  15. Hambidge, J., "Resensie: Koos Kombuis - Raka die Roman", 28 Februarie 2013. Beskikbaar by: http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/koos-kombuis-raka-die-roman-2006.html Besoek op: 17 Augustus 2018.         [ Links ]
  16. Hopkins, P., Voëlvry: The Movement that Rocked South Africa (Zebra Press, Cape Town, 2006].         [ Links ]
  17. Human, T., "Meer chaos om sin te gee aan bestaande chaos", Die Beeld, 28 Augustus 2006.         [ Links ]
  18. John, P., "Digter Kombuis - vir 'n nuwe geslag leser", Die Beeld, 15 September 2003.         [ Links ]
  19. "Johnny en die Maaiers S/T, Part 1". Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=E5LImHtdTIM Besoek op: 14 Augustus 2018.         [ Links ]
  20. "Johnny en die Maaiers S/T, Part 2". Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=SbJuXxLIjWg Besoek op: 14 Augustus 2018.         [ Links ]
  21. Jury, B., "Boys to Men: Afrikaans Alternative Popular Music", African Languages and Cultures, 9, 2 (1996].         [ Links ]
  22. Kombuis, K., "Paranoia", Niemandsland and Beyond, Shifty Records, 1990.         [ Links ]
  23. Kombuis, K., Seks & Drugs & Boeremusiek: Die Memoires van 'n Volksverraaier (Human & Rousseau, Kaapstad, 2000].         [ Links ]
  24. Kombuis, K., Die Tyd van die Kombi's (Human & Rousseau, Kaapstad, 2009].         [ Links ]
  25. Kombuis, K., "Ware wedergeboorte: om uit die laer te ontsnap", Rapport, 15 Januarie 2016.         [ Links ]
  26. Kombuis, K., "Demokrasie is daai tannie wat jy nie wil soen", 15 Julie 2016, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-tienerjare-van-n-kind-en-n-land-20180110
  27.         [ Links ]
  28. Kombuis, K., "Afrikaans Moet almal laat welkom voel", 26 Augustus 2016, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-afrikaans-moet-almal-laat-welkom-voel-20160826
  29.         [ Links ]
  30. Kombuis, K., "Dis nag oor Suid-Afrika", 17 November 2017, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-dis-nag-oor-suid-afrika-20171117
  31.         [ Links ]
  32. Kombuis, K., "Tienerjare van 'n kind én 'n land", 12 Januarie 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-tienerjare-van-n-kind-en-n-land-20180110
  33.         [ Links ]
  34. Kombuis, K., "Wie is 'n Afrikaner?", 4 Mei 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/koos-kombuis-wie-is-n-afrikaner-20180502-2
  35.         [ Links ]
  36. Kombuis, K., "Die wonde van Afrikaans", 27 Julie 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-die-wonde-van-afrikaans-20180725
  37.         [ Links ]
  38. Kombuis, K., "Die storie van my lewe". Beskikbbar bb https://www.kooskombuis.com/biografie Besoek op: 14 Augustus 2018.         [ Links ]
  39. Laubscher, L., "Afrikaner Identity and the Music of Johannes Kerkorrel", South African Journal of Psychology, 35,2, (2005), pp 308-330.         [ Links ]
  40. Le Roux, A., "Alternatief? Nee, ons rock 'n roll!", Die Burger, 20 Mei 1989.         [ Links ]
  41. Letoit, A. "Swart Transvaal", Ver van die ou Kalahari, Shifty Records, 1987.         [ Links ]
  42. Lovejoy, A., Acid Alex (Zebra Press, Cape Town, 2005).         [ Links ]
  43. Marais, R., "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", Ensovoort, 3, 1 (1983).         [ Links ]
  44. Outeur onbekend, "When Boere punks came to town", Sunday Times, 30 April 1989.         [ Links ]
  45. Outeur onbekend, "Voëlvry-groep ontstoke oor Matie-verbod", Die Burger, 5 Mei 1989.         [ Links ]
  46. Outeur onbekend, "J. Kerkorrel en sy Blues Band maak vriende", Die Burger, 15 Mei 1989.         [ Links ]
  47. Outeur onbekend, "Boereblues oor apartheid", Rapport, 4 Junie 1989.         [ Links ]
  48. Outeur onbekend, "Laat kritiek deur musiek toe", Die Burger, 5 Junie 1989.         [ Links ]
  49. Outeur onbekend, "Die toekoms van kunstefeeste", Taalgenoot, Winter 2016. Beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/12/kunstefeeste.pdf Besoek op: 14 Augustus 2018.         [ Links ]
  50. Outeur onbekend, "Piekniek by Dinggan". Beskikbbar by: http://esat.sun.ac.za/index.php/Piekniek by Dingaan Besoek op: 13 Julie 2018.         [ Links ]
  51. Painter, D., "Koos Kombuis se twee somers", Die Burger, 16 Desember 2006.         [ Links ]
  52. Pakendorf, G., "Koos Kombuis se satire deels snaaks, deels saai", Die Burger, 29 November 1990.         [ Links ]
  53. Pelser, D., "5 Examples of why 'Piekniek by Dingaan' was so controversial". Beskikbaar by: https://johanneskerkorrel.com/5-examples-of-why-piekniek-by-dingaan-was-so-controversial/ Besoek op: 7 Oktober 2019.         [ Links ]
  54. Pienaar, C., "Voëlvry and the 'Outlawed' Afrikaners: An Analysis of 'The Alternative Afrikaans Music Movement' and Afrikaner Identity", MA tesis, Universiteit van die Witwatersrand, 2012.         [ Links ]
  55. Roekeloos Redaksie, "Johannes Kerkorrel". Beskikbaar by: http://www.roekeloos.co.za/argief/kerkorrel.html Besoek op: 2 September 2011.         [ Links ]
  56. Roggeband, I., 50 Stemme: Die Grootste Name in Afrikaanse Musiek (Jonathan Ball, Jeppestown, 2009).         [ Links ]
  57. Ross, L., "The Rise, Fall, and Resurrection of Shifty Records", Desember 2006. Beskikbaar by: https://shifty.co.za/records/a-shifty-story/ Besoek op: 14 Julie 2018.         [ Links ]
  58. Suriano, M. en Lewis, C., "Afrikaners is Plesierig! Voëlvry Music, Anti-Apartheid Identities and Rockey Street Nightclubs in Yeoville (Johannesburg), 1980s-90s", African Studies, 74, 3 (2015).         [ Links ]
  59. Swart, S., "The Construction of Eugène Marais as an Afrikaner Hero", Journal of Southern African Studies, 30, 4 (2004).         [ Links ]
  60. Terblanche, E., "Koos Kombuis (1954-)", 21 Januarie 2009. Beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_newsitem&cause_id=1270&news_id=58836 Besoek op: 26 Oktober 2011.         [ Links ]
  61. Van Coller, H.P., Perspektief en Profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, Tweede uitgawe, Deel 1 (Van Schaik, Pretoria, 2015).         [ Links ]
  62. Van der Merwe, S., "The Dynamics of the Interaction between Music and Society in Recorded Popular Afrikaans Music, 1900-2015", PhD tesis, Universiteit van Stellenbosch, 2015.         [ Links ]
  63. Van der Merwe, S.D., On Record: Popular Afrikaans Music and Society, 1900-2017 (African Sun Media, Stellenbosch, 2017).         [ Links ]
  64. Van Heerden, E., "Tagtigers". Beskikbaar by: http://www.oulitnet.co.za/seminaar/tagtigers_etienne.asp Besoek op: 5 Junie 2018.         [ Links ]
  65. Van Zyl, S., "Resensie: Seks & Drugs & Boeremusiek: Memoires van 'n Volksverraaier", Tydskrif vir Letterkunde, 53, 2 (2016).         [ Links ]
  66. Van Zyl, S., "FAK-sangbundel Bygewerk met Nuwe Liedjies", 25 Januarie 2017. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/fak-sangbundel-bygewerk-met-nuwe-liedjies-20170124 Besoek op: 16 Augustus 2018.         [ Links ]
  67. Verwey, C. and Quayle, M., "Whiteness, Racism, and Afrikaner Identity in PostApartheid South Africa", African Affairs, 111, 445 (2012).         [ Links ]
  68. Vestergaard, M., "Who's got the Map? The Negotiation of Afrikaner Identities in PostApartheid South Africa", Daedalus, 130,1 (2001).         [ Links ]
  69. Viljoen, L., "'n Merkwaardige tydsdokument die moeite werd om te herlees", Die Beeld, 14 Februarie 2005.         [ Links ]
  70. Visser, W., "Afrikaner Responses to Post-Apartheid South Africa: Diaspora and the ReNegotiation of a Cultural Identity", New Contree, 54 (2007).         [ Links ]

 

 

* 'N dosent in Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat (QwaQwa-kampus).
1 K. Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek: Die Memoires van 'n Volksverraaier (Human & Rousseau, Kaapstad, 2000), pp 151-152.
2 R. Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", Ensovoort, 3, 1 (1983), p 4.
3 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 4. Daar gaan vervolgens na hom verwys word as 'André Letoit' vir die tydperk wat hy onder hierdie naam bekend gestaan, waarna daar na hom as 'Koos Kombuis' verwys sal word vir die tydperk na hierdie naamsverandering.
4 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 167.
5 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 3.
6 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 3.
7 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 4.
8 P. John, "Digter Kombuis - vir 'n nuwe geslag leser", Die Beeld, 15 September 2003, p 9.
9 E. Terblanche, "Koos Kombuis (1954-)", 21 Januarie 2009. Beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270_&news_id=58836 Besoek op: 26 Oktober 2011.
10 Terblanche, "Koos Kombuis (1954-)".
11 John, "Digter Kombuis - vir 'n nuwe geslag leser".
12 T. Human, "Meer chaos om sin te gee aan bestaande chaos", Die Beeld, 28 Augustus 2006, p 19.
13 D. Painter, "Koos Kombuis se twee somers", Die Burger, 16 Desember 2006, p 8.
14 Terblanche, "Koos Kombuis (1954-)".
15 Marais, 'Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 3.
16 D. Pelser, "5 examples of why 'Piekniek by Dingaan' was so controversial". Beskikbaar by: https://johanneskerkorrel.com/5-examples-of-why-piekniek-by-dingaan-was-so-controversial/ Besoek op: 7 Oktober 2019.
17 Outeur onbekend, "Piekniek by Dingaan". Beskikbaar by: http://esat.sun.ac.za/index.php/Piekniek by Dingaan Besoek op: 13 Julie 2018.
18 H. Aucamp, "Letoit, die straat-troebadoer", Die Burger, 28 Augustus 1988, p 8.
19 Aucamp, "Letoit, die straat-troebadoer".
20 L. Viljoen, "'n Merkwaardige tydsdokument die moeite werd om te herlees", Die Beeld, 14 Februarie 2005, p 13.
21 G. Pakendorf, "Koos Kombuis se satire deels snaaks, deels saai", Die Burger, 29 November 1990, p 16.
22 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 7.
23 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, pp 164-165.
24 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, pp 164-165; Marais, 'Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 6; K. Kombuis, Die Tyd van die Kombi's (Human & Rousseau, Kaapstad, 2009], p 51.
25 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 6.
26 Marais, "Tagtig is great, no doubt, and Letoit its prophet", p 6.
27 E. van Heerden, "Tagtigers". Beskikbaar by: http://www.oulitnet.co.za/seminaar/tagtigers_etienne.asp Besoek op: 5 Junie 2018.
28 Van Heerden, "Tagtigers".
29 Van Heerden, "Tagtigers".
30 E. Botha en P.H. Roodt, "Die Tagtigers en die Tydskrif vir Letterkunde: Was daar 'n Tagtigerbeweging?", Tydskrif vir Letterkunde, 43, 1 (2006), p 66.
31 H.P. van Coller, Perspektief en Profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, Tweede uitgawe, Deel 1 (Van Schaik, Pretoria, 2015), p 169.
32 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 199.
33 Koos Kombuis, onderhoud in "Voëlvry: The Movie (DVD)", in P. Hopkins: Voëlvry: The Movement that Rocked South Africa (Zebra Press, Cape Town, 2006).
34 Kombuis, Die Tyd van die Kombi's, p 42.
35 L. Ross, "The Rise, Fall, and Resurrection of Shifty Records", Desember 2006. Beskikbaar by: https://shifty.co.za/records/a-shifty-story/ Besoek op: 14 Julie 2018.
36 A. Letoit, "Swart Transvaal", Ver van die ou Kalahari, Shifty Records, 1987.
37 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 202.
38 M. Suriano & C. Lewis, "Afrikaners is Plesierig! Voëlvry Music, Anti-Apartheid Identities and Rockey Street Nightclubs in Yeoville (Johannesburg), 1980s-90s", African Studies, 74, 3 (2015), pp 414-415.
39 A. Grundlingh, "'Rocking the Boat' in South Africa? Voëlvry Music and Afrikaans AntiApartheid Social Protest in the 1980s", International Journal of African Historical Studies, 37, 3 (2004), p 486.
40 Roekeloos Redaksie, "Johannes Kerkorrel". Beskikbaar by: http://www.roekeloos.co.za/argief/kerkorrel.html Besoek op: 2 September 2011.
41 Koos Kombuis onderhoud in "Voëlvry: The Movie (DVD)".
42 Sien byvoorbeeld, Grundlingh, "'Rocking the Boat' in South Africa?"; Suriano en Lewis, Anti-apartheid Identities and Rockey Street Nightclubs"; B. Jury, "Boys to Men: Afrikaans Alternative Popular Music", African Languages and Cultures, 9, 2 (1996), pp 99-109; L. Laubscher, "Afrikaner Identity and the Music of Johannes Kerkorrel", South African Journal of Psychology, 35, 2 (2005), pp 308-330; C. Pienaar, "Voëlvry and the 'Outlawed' Afrikaners: An Analysis of 'The Alternative Afrikaans Music Movement' and Afrikaner Identity, MA tesis, Universiteit van die Witwatersrand, 2012; S.D. van
43 Grundlingh, "'Rocking the Boat' in South Africa?", p 485 (eie vertaling).
44 K. Kombuis, "Die storie van my lewe". Beskikbbar by: https://www.kooskombuis.com/biografie Besoek op: 14 Augustus 2018.
45 Kyk "When Boere punks came to town", Sunday Times, 30 April 1989; "Voëlvry-groep ontstoke oor Matie-verbod", Die Burger, 5 Mei 1989; "J. Kerkorrel en sy Blues Band maak vriende", Die Burger, 15 Mei 1989; A. le Roux, "Alternatief? Nee, ons rock 'n roll!", Die Burger, 20 Mei 1989; J. Dowson en C. du Plessis, "Kerkorrel en Kie", Star, 27 Mei 1989; S. de Waal, "Bad-mannered Boerepunk's arrived", Mail & Guardian, 26 Mei-1 Junie 1989; S. de Waal, "R 'n r headache for guardians of the volkskultuur", Weekly Mail, 4 Junie 1989; "Boereblues oor apartheid", Rapport, 4 Junie 1989; "Laat kritiek deur musiek toe", Die Burger, 5 Junie 1989; T. Emerson and A. Getz, "Alternative Afrikaners: Words become weapons to fight apartheid", Newsweek, 19 Junie 1989; J. Allan, "Afrikaner pride and passion, fun and laughter for the new-era Boere punks", Sunday Times, 9 Julie 1989; E. Aupiais, "Rejection of volk and liberation of Afrikaners", Cross Times, August 1989; P. de Vos, "Nuwe lied vir jong SA", Suid-Afrikaan, 4 Junie 1990.
46 Voëlvry: The Movie (DVD)", in Hopkins: Voëlvry.
47 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 244.
48 Sien byvoorbeeld: M. Vestergaard, "Who's got the Map? The Negotiation of Afrikaner Identities in Post-Apartheid South Africa", Daedalus, 130,1 (2001], pp 19-44; P. Erasmus, "White Afrikaners' Search for New Identities", Acta Academica, 34, 2 (2002], pp 89-108; W. Visser, "Afrikaner Responses to Post-Apartheid South Africa: Diaspora and the Re-Negotiation of a Cultural Identity", New Contree, 54 (2007], pp 1-30; C. Verwey and M. Quayle, "Whiteness, Racism, and Afrikaner Identity in Post-Apartheid South Africa", African Affairs, 111, 445 (2012], pp 551-575; Gesprekke oor kwessies rondom Afrikanerskap verskyn dikwels in die Afrikaanse media. Publikasies van Media 24, en koerante soos Die Burger en Rapport, publiseer gereeld artikels daaroor, terwyl dit ook dikwels op ander mediavorme soos die webtuiste LitNet voorkom.
49 Vestergaard, "Who's got the Map? pp 29-30; Visser, "Afrikaner Responses to PostApartheid South Africa", p 28.
50 Vestergaard, 'Who's got the Map? p 35.
51 H. Giliomee, Die Afrikaners: 'n Biografie (Tafelberg, Kaapstad, 2004), pp 625-626.
52 Giliomee, Die Afrikaners, p 625.
53 Giliomee, Die Afrikaners, p 591.
54 Giliomee, Die Afrikaners, p 628.
55 A. Lovejoy, Acid Alex (Zebra Press, Cape Town, 2005), p 256.
56 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 232.
57 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 232.
58 K. Kombuis, "Paranoia", Niemandsland and Beyond, Shifty Records, 1990.
59 Kombuis, "Die storie van my lewe".
60 W. Anker, "Al laggende skil Koos voort aan die vrot appels in SA", Die Burger, 22 Desember 2003, p 11.
61 Kombuis, "Die storie van my lewe".
62 Kombuis, Seks & Drugs & Boeremusiek, p 256.
63 Outeur onbekend, "Die toekoms van kunstefeeste", Taalgenoot, Winter 2016. Beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/12/kunstefeeste.pdf Besoek op: 14 Augustus 2018.
64 S. Hofmeyr onderhoud, Youtube video, "Johnny en die Maaiers S/T Part 1". Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=E5LImHtdTIM Besoek op: 14 Augustus 2018.
65 Youtube video, "Johnny en die Maaiers S/T Part 2". Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=SbJuXxLIjWg Besoek op: 14 Augustus 2018.
66 Youtube video, "Johnny en die Maaiers S/T Part 2". Besoek op: 14 Augustus 2018.
67 S. van der Merwe, "The Dynamics of the Interaction between Music and Society in Recorded Popular Afrikaans Music, 1900-2015", PhD tesis, Universiteit van Stellenbosch, 2015, p 229.
68 I. Roggeband, 50 Stemme: Die Grootste Name in Afrikaanse Musiek (Jonathan Ball, Jeppestown, 2009], p 151.
69 S. van Zyl, "FAK-sangbundel bygewerk met nuwe liedjies", 25 Januarie 2017. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/fak-sangbundel-bygewerk-met-nuwe-liedües-20170124 Besoek op: 16 Augustus 2018.
70 C. de Ridder, "Lank lewe skrywer-musikant Koos", Die Burger, 24 Julie 2000, p 8.
71 S. van Zyl, "Resensie: Seks & Drugs & Boeremusiek: Memoires van 'n Volksverraaier", Tydskrif vir Letterkunde, 53, 2 (2016], p 201.
72 J. Hambidge, "Resensie: Koos Kombuis - Raka die Roman", 28 Februarie 2013. Beskikbaar by: http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/koos-kombuis-raka-die-roman-2006.html Besoek op: 17 Augustus 2018.
73 Van Coller, Perspektief en Profiel, pp 169-171, p 230.
74 K. Kombuis, "Ware wedergeboorte: om uit die laer te ontsnap", Rapport, 15 Januarie 2016.
75 Sien byvoorbeeld: K. Kombuis, "Afrikaans moet almal laat welkom voel", 26 Augustus 2016, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-afrikaans-moet-almal-laat-welkom-voel-20160826; K. Kombuis, "Die wonde van Afrikaans", 27 Julie 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-die-wonde-van-afrikaans-20180725; K. Kombuis, "Wie is 'n Afrikaner?", 4 Mei 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/koos-kombuis-wie-is-n-afrikaner-20180502-2; K. Kombuis, "Tienerjare van 'n kind én 'n land", 12 Januarie 2018, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-tienerjare-van-n-kind-en-n-land-20180110. Sien ook K. Kombuis, "Demokrasie is daai tannie wat jy nie wil soen", 15 Julie 2016, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-tienerjare-van-n-kind-en-n-land-20180110; K. Kombuis, "Dis nag oor Suid-Afrika", 17 November 2017, Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/koos-kombuis-dis-nag-oor-suid-afrika-2017 1117
76 S. Swart, "The Construction of Eugène Marais as an Afrikaner Hero", Journal of Southern African Studies, 30, 4 (2004), p 866.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons