SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue2S.J.P. Kruger and landownership in the TransvaalHistoric bells in Moravian Missions in South Africa's Western Cape author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

On-line version ISSN 2309-8392
Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.59 n.2 Durban Nov. 2014

 

ARTIKELS

 

Nelson Mandela se houding teenoor die kommunisme

 

 

Leopold ScholtzI; Ingrid ScholtzII

IAfgetrede joernalis en navorsingsgenoot in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Skrywer van Die SAW en die Grensoorlog, 1966-1989. Werk aan 'n boek oor die ontwikkeling van die ANC/SAKP se politieke en militêre denke in die jare van ballingskap
IIAfgetrede dosent in geskiedenis, Universiteit van die Wes-Kaap en in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Tans buitengewone dosent aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy werk saam met Leopold Scholtz aan bogenoemde boek oor die ANC/SAKP

 

 


OPSOMMING

Die doel van dié artikel is om wyle oudpres. Nelson Mandela se houding teenoor die kommunisme, wat 'n wit vlek in die geskiedenis vorm, uit te lig en die mitevorming rondom die saak op 'n akademiese wyse af te breek. Die doel is pertinent nie om sy beeld af te breek nie; slegs om 'n versweë aspek van sy lewe te belig. Om dit te bereik is grotendeels staat gemaak op Mandela se eie geskrifte in die jare vyftig, voor hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, asook twee belangrike geskrifte uit die jare sewentig, waarvan een die onlangs gepubliseerde, geheime outobiografie is wat hy op Robbeneiland geskryf het. Daar is ook staat gemaak op die nuutste bevindings van akademiese historici rakende Mandela se relatief kortstondige lidmaatskap van die SA Kommunistiese Party. Die gevolgtrekkings is kortliks dat Mandela in die laat vyftigs en vroeë sestigs 'n senior lid van die SAKP was, en dat hy dit toe om taktiese redes en met toestemming van die party laat vaar het. Verder was hy reeds in die vroeë jare vyftig 'n onkritiese aanhanger van die Marxisme-Leninisme, en hy het dié geloof minstens tot die laat jare sewentig gehou. In die loop van die jare tagtig, en veral ná sy vrylating in 1990, het hy klaarblyklik ingesien dat hy sy geloof moet wysig.

Sleutelwoorde: ANC; SAKP; kommunisme; Nelson Mandela; bevrydingstryd.


ABSTRACT

The purpose of this article is to highlight the late President Nelson Mandela's attitude towards communism, which forms a white spot in history, and to break down the myths surrounding this debate in an academic manner. The aim is not to break down his image; it is merely to throw light on a somewhat veiled aspect of his life. To do this, use was made of Mandela's own writings in the 1950s, before he was sentenced to life imprisonment, as well as two important documents written in the seventies. One is the recently published secret autobiography which he wrote on Robben Island. Use was also made of the most recent research by historians on Mandela's relatively short-lived membership of the SA Communist Party. The conclusions reached are that Mandela was indeed a senior member of the SACP in the late fifties and early sixties, and that he then let his adherence to this ideology lapse for tactical reasons and with permission of the Party. Furthermore, it is clear that as early as the 1950s he was an uncritical supporter of Marxism-Leninism, a belief which he retained at least until the late seventies. During the course of the eighties, and especially after his release in 1990, he apparently realised it was expedient to change his outlook on communism.

Key words: ANC; SACP; communism; Nelson Mandela; liberation struggle.


 

 

Probleemstelling

Dit is buitengewoon moeilik vir enige historikus, al is sy of haar bedoeling ook hoe akademies suiwer, om enigiets te skryf wat afwyk van die ikonografie wat rondom wyle Nelson Mandela tot stand gekom het. By sy afsterwe was daar tussen die honderde aanbiddende hagiografieë, sover vasgestel kon word, slegs twee wat 'n paar treë teruggestaan en nugter-objektief na sy historiese rol probeer kyk het.1 Mandela word om verskeie redes, deur honderdduisende - dalk selfs miljoene -Suid-Afrikaners van alle groepe as die toppunt van wysheid, versoening en vergewingsgesindheid gesien. Dit is immers 'n onomstootlike feit dat hy die gevangenis ná 27 jaar sonder sigbare bitterheid verlaat het. Sterker nog: 'n Groot deel van sy openbare loopbaan ná sy vrylating, veral tydens die vyf jaar van sy presidentskap, is gewy aan versoening tussen die eertydse bittere vyande. As staatshoof sal hy veral onthou word vir simboliese dade soos die dra van die Springboktrui met die eindstryd van die rugby-Wêreldbeker in 1995, sy teedrinkery met die weduwee van dr. Hendrik Verwoerd, ensovoorts. Hy is wyd gesien as die vriendelike, milde oupa van die nasie. Mandela se verdienste ná 1990 kan beslis nie betwis word nie.

Waarom dan 'n verlede oprakel wat - soos hieronder sal blyk - afwyk van die openbare heiligverklaring? Daar is veral twee redes. Ten eerste, vir die akademiese historikus is dit altyd 'n uitdaging om die wit vlekke van die verlede in te vul. En Mandela se verhouding met die kommunisme voor sy vrylating in 1990 is só 'n wit vlek wat in die ikonografie verswyg is. Ten tweede kan die invulling van die vlek help om die destydse verhouding tussen die African National Congress (ANC) en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) te verklaar. Dit kan ook lig werp op die aard van die struggle-geskiedenis en die ANC-regering se optrede van ná 1994.

Dus, hoe polities inkorrek en ongewild dit ook al in sommige kringe mag wees, is selfs Nelson Mandela nie bo 'n normale akdemies-kritiese analise van sy verlede verhewe nie, ook nie waar dit sy verhouding met die kommunisme betref nie.

 

Mandela se openbare getuienis

In die jare dat hy buite die gevangenis was - met ander woorde, vóór 1962 en ná 1990 - was Mandela begryplikerwys versigtig om sy verbintenis tot die kommunisme openlik te bely. Voor 1962 was dit immers onwettig, en ná 1990 was dit in die lig van die tydsgees (die verkrummeling van die kommunisme en die oorwinning van die liberaal-demokratiese kapitalisme) polities onverstandig.

Daar kan begin word deur te let op hoe Mandela in die openbaar oor sy houding teenoor die kommunisme getuig het.

Voor sy gevangeneming in 1962 het Mandela hom teenstrydig oor sake soos die sosialisme en die liberale veelparty-demokrasie uitgelaat. Toe hy in sy getuienis in die sogenaamde Hoogverraadsaak (hy was een van die aangeklaagdes in dié saak; almal is uiteindelik onskuldig bevind) gevra is of hy 'n kommunis is, was sy antwoord dubbelsinnig:

I do not know if I was a Communist. If by Communist you mean a member of the Communist Party and a person who believes in the theory of Marx, Engels, Lenin and Stalin, and who adheres strictly to the discipline of the party, I did not become a Communist.2

Dit beteken nie dat Mandela die invloed van die Marxisme op sy politieke denke ontken het nie, inteendeel. In sy beroemde "Statement from the Dock" tydens die Rivonia-verhoor (1963) het hy erken dat dit so was. Hy het egter daarop gewys dat kommuniste die parlementêre stelsel as ondemokraties beskou, terwyl hý dit juis bewonder:

I have great respect for British political institutions, and for the country's system of justice. I regard the British parliament as the most democratic institution in the world ... I should tie myself to no particular system of society other than socialism. I must leave myself free to borrow the best from the West and the East .3

In ooreenstemming hiermee het hy in die Hoogverraadsaak 'n paar jaar tevore (1957) getuig dat hy "very much attracted" is tot die sosialisme, maar dat "I have no intention of copying anything that has been done in any other country".4

Tog was hy ambivalent oor die liberale veelpartydemokrasie. In die Hoogverraadsaak het die regter sy mening oor 'n eenpartystaat gevra, waarop sy antwoord vaag en onduidelik was:

My lord, it is not a question of form, it is a question of democracy. If democracy could best be expressed by a one-party system then I would examine the proposition very carefully. But if democracy could best be expressed by a multiparty system then I would examine that carefully. In this country, for example, we have a multi-party system at present, but so far as the non-Europeans are concerned this is the most vicious despotism you could think of.5

In die gepubliseerde memoires wat eers ná sy vrylating (1993) uitgegee is, het Mandela geskryf dat toe hy as jong man sy politieke verstand in die jare veertig kry, hy nogal 'n sterk aanhanger was van die swart denker Anton Lembede, 'n Afrika-nasionalis wat nie veel van die blanke invloed in die SAKP op die ANC wou weet nie. Soos 'n P.W. Botha in sy jeug het die militante Mandela selfs kommunistiese vergaderings ontwrig "by storming the stage, tearing up signs and capturing the microphone". By geleentheid het hy self die Indiërkommunis Yusuf Cachalia van die verhoog gestamp.6 Nietemin kon Mandela en sy medestanders nie verhinder dat drie kommuniste, te wete J.B. Marks, Moses Kotane en Dan Tloome, in 1946 tot die ANC se hoogste uitvoerende liggaam, die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), verkies word nie.7 Dit is duidelik dat Mandela, soos talle ander jong mense, op soek was na 'n soort ideologiese houvas of politieke instrument wat vir hom sin gemaak het of minstens in die vryheidstryd gebruik kon word.

Die regering se verbod op die SAKP in 1950 het hom egter laat verander. Hy het beskryf hoe hy vegters soos Moses Kotane, Ismael Meer, Ruth First, J.B. Marks, Dan Tloome, David Bopape, Yusuf Dadoo en Bram Fischer aanskou en ingesien het dat hy nie langer hul goeie trou as ware vryheidsvegters kon bevraagteken nie. Hy het dus begin om oor die Marxisme te lees en die versamelde werke van Marx, Engels, Lenin, Stalin, Mao Zedong en ander te bestudeer. Volgens hom is hy gestimuleer deur die Kommunistiese Manifes, maar Marx se Das Kapital het hom nogal uitgeput. Tog, sê hy, is hy sterk aangetrek deur die idee van 'n klaslose samelewing, soortgelyk aan dié wat volgens hom ook in die tradisionele swart kultuur bestaan het:

Dialectical materialism seemed to offer both a searchlight illuminating the dark night of racial oppression and a tool that could be used to end it. It helped me to see the situation other than through the prism of black and white relations, for if our struggle was to succeed, we had to transcend black and white. I was attracted to the scientific underpinnings of dialectical materialism, for I am always inclined to trust what I can verify. Its materialistic analysis of economics rang true to me ...

Marxism's call to revolutionary action was music to the ears of a freedom fighter. The idea that history progresses through struggle and that change occurs in revolutionary jumps was similarly appealing. In my reading of Marxist works, I found that a great deal of information that bore on the types of problems that face a practical politician. Marxists gave serious attention to national liberation movements, and the Soviet Union in particular supported the national struggles of many colonial peoples.8

Soos soveel jong mense in die negentiende en twintigste eeu, blyk dit, is hy geïnspireer deur die skynbaar ysere logika van die Marxisme en die ideologie se "wetenskaplike" aanspraak op die waarheid.

Oor die ANC se samewerking met die kommuniste het Mandela in sy "Statement from the Dock" in 1964 dié relatief onskuldige verduideliking gegee: Samewerking met die SAKP "is merely proof of a common goal - in this case the removal of white supremacy - and is not proof of a complete community of interests". Byvoorbeeld, het hy gesê, in die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje, Amerika en die Sowjetunie saam teen Nazi-Duitsland geveg, maar ná die oorlog het die rede vir die samewerking weggeval. Die rede vir die huidige alliansie is dus duidelik: "Theoretical differences amongst those fighting against oppression is a luxury we cannot afford at this stage."9

Dié standpunt het hy lank na buite volgehou. So laat as 1987 het hy uit die tronk aan pres. P.W. Botha geskryf:

As members of the ANC engaged in the anti-apartheid struggle, their [die kommuniste se] Marxist ideology is not strictly relevant. The SACP has throughout the years accepted the leading role of the ANC, a position which is respected by the SaCp members who join the ANC.10

In 1966 het hy in 'n brief aan die departement van justisie geskryf "to emphatically deny that I was a member of the CPSA". Die Brits-Nederlandse historikus Stephen Ellis, wat dié brief opgespoor het, wys egter daarop dat die "CPSA" reeds vroeg in die vyftigs ná die verbod daarop opgehef en in die geheim deur die "SACP" vervang is. Ellis noem dit "a telling formulation".11

In sy gepubliseerde memoires het hy dinge nóg onskuldiger voorgestel:

I was prepared to use whatever means necessary to speed up the erasure of human prejudice and the end of chauvinistic and violent nationalism. I did not need to become a communist in order to work with them. I found that African nationalists and African communists generally have far more to unite them than to divide them ...

Dan volg 'n heel interessante opmerking: "The cynical have always suggested that the communists were using us. But who is to say that we were not using them?"12

Die vraag is of dié verduidelikings wel akkuraat en die volle waarheid was.

 

Mandela in die jare vyftig

'n Mens sou Mandela moet vergewe as hy sy verhouding tot die kommunisme tydens sy twee hofsake en ná sy vrylating onskuldiger voorgestel het as wat dit in werklikheid was. As hy in die getuiebank openlik sy geloof in die kommunisme bely het, kon dit die verskil gemaak het tussen 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf (wat hy toe wel gekry het) en die doodstraf. En ná sy vrylating was dit in die lig van die demokratiese oorgang in Suid-Afrika en die globale ineenstorting van die kommunisme polities belangrik dat hy homself as 'n vegter vir normale demokratiese menseregte voorstel, nie as 'n geharde kommunis nie. 'n Geskikte plek om die waarheid te begin ontbloot sou dus wees Mandela se geskrifte in die jare vyftig, voordat hy met die gereg te make gekry het.

En inderdaad, uit Mandela se destydse openbare uitsprake blyk die invloed wat die Marxisties-Leninistiese ideologie op sy politieke denke gehad het.

Toe hy die kongres van die ANC Youth League in 1951 geopen het, het Mandela die SAKP se ideologiese raamwerk op die voet gevolg deur die destydse Verenigde Party se politieke oortuigings slegs aan "mining interests and also the rapidly rising industrialist power" toe te skryf, en die regerende Nasionale Party se politieke ideologie in terme van "farming interests and the growing Afrikaner commercial interest" te verklaar. Tussen dié twee partye het hy "a growing affinity" waargeneem, wat albei die "fascist policy of Malan suitable" gevind het. Soos die SAKP het Mandela teen die agtergrond van die groeiende aantal apartheidswette gemeen Suid-Afrika ontwikkel in die rigting van "an openly fascist state" met die Broederbond in die sentrum daarvan en die militêre skietkommando's as "the nucleus of a future Gestapo". Waar die kommunistiese invloed egter die duidelikste blyk, is uit die volgende sin, wat net so goed 'n aanhaling uit enige kommunistiese leier se toesprake kon wees: "True to the pattern depicted for the rest of the imperialist world, South African capitalism has developed [into] monopolism and is now reaching the final stage of monopoly capitalism gone mad, namely fascism." Hy het verder herhaaldelik van "African nationalism" gepraat, maar nie verduidelik wat hy daarmee bedoel het nie.13

In 1953 het hy die internasionale situasie in 'n tydskrifartikel só ortodoks kommunisties ontleed dat hy die kat totaal aan die stert beetgekry het. Ooreenkomstig Wladimir Lenin se dogma (van voor 1914, moet hier bygesê word), ingevolge waarvan die kapitalistiese moondhede mekaar noodwendig in 'n orgie van gewelddadige mededinging oor die beheer oor grondstowwe en markte sou vernietig, het Mandela vir Afrika "a major eruption of the worst type" verwag. Dis naamlik in Afrika dat Brittanje, België, Frankryk, Nederland (sic!), Portugal en Spanje hul vernaamste of selfs enigste kolonies het, het hy geskryf. Dis hier waar hulle meedoënloos meeding "for monopoly control of raw materials and markets". Maar nou begin Amerika hom hier inmeng, en dit wek "the dissatisfaction of the ruling circles of those countries". Die stryd tussen Brittanje en Amerika neem daagliks toe, meen Mandela; Amerika is besig om die Britse invloed sienderoë te laat verminder. Die Europese Navo-lande loop selfs gevaar om hul onafhanklikheid te verloor.

"In their mad lust for markets and profits, these imperial powers will not hesitate to cut one another's throats, to break the peace, to drench millions in blood", hou hy sy lesers voor. "In other words, the rivalries amongst these colonial powers contain the seeds of an extremely dangerous situation to peace and security in Africa." Dis duidelik, sê hy, "that Africa has now become a war base for the imperial powers in in their war preparations and schemes for war and world domination".14

Dit is natuurlik 'n taamlike jong Mandela wat hier skryf, een wat die Marxistiese materiaal wat hy bestudeer het, nog nie behoorlik geïnternaliseer het nie. Hoe sleg hy sake verstaan het, blyk daaruit dat hy 'n uitlating aan 'n Britse veldmaarskalk toeskryf dat die rol van Noord- en Suid-Rhodesië - albei honderde kilometers van die see verwyder - die beskerming en ontwikkeling van "sea communications" moet wees!15

Daarby het hy klaarblyklik nie ingesien dat die Sowjet-dreiging die Westerse moondhede juis byeengedryf het nie. Lenin se analise, wat moontlik vir die chaotiese tyd van voor 1914 'n sekere waarde kon hê, was teen die jare vyftig totaal onrealisties - en tog het Mandela dit onkrities aanvaar, sonder om die veranderde omstandighede in ag te neem. Hy het die situasie in die wêreld van ná 1945 in die Marxistiese dialektiese materialisme probeer pers.

Vyf jaar later het hy weer 'n internasionale ontleding geskryf. Dié keer was die groot boosdoener Amerika, wat hom voordoen "as the leader of the so-called free world against communism", maar wat tog 'n bose imperialistiese moondheid bly. ('n Onderlinge oorlog tussen die Westerse moondhede was nie meer deel van sy voorspelling nie.) In teenstelling met Amerika vorm nóg die Sowjet-Unie nóg China deel van enige "aggressive military blocs in any part of the world" (wat dus beteken dat die Warschau-pakt volgens Mandela geensins aggressiewe bedoelings had nie). "None of the Socialist countries has military bases anywhere in Africa, whereas the USA has built landing fields, ports and other types of strategic bases all over North Africa." (Hy het geen voorbeelde genoem nie, eenvoudig omdat sy feite heeltemal verkeerd was.) Mandela het beweer dat geeneen van die sosialistiese state kapitaal "for the exploitation of its people" in Afrika belê het nie. Daarteenoor:

[T]he USA has very often allied itself with those who stand for the enslavement of others ... They [die Afrikastate] know that their independence is threatened not by any of the countries in the socialist camp but by the USA who has surrounded their continent with military bases".16

Toe die ANC se Vryheidsmanifes in 1955 bekend gemaak is, het Mandela 'n artikel vir die maandblad Liberation, uitgegee deur lede van die destyds klandestiene SA Kommunistiese Party, geskryf. Dit was só ortodoks Marxisties dat die redaksie dit na hom terugverwys het "to correct the assumption that the Freedom Charter was the embryo of a socialist state".17 In die weergawe wat wel verskyn het, was sy standpunt nietemin steeds taamlik ortodoks Marxisties. Daarin het hy dit gestel dat die manifes "more than a list of demands for democratic reform" was. Hy het dit "a revolutionary document" genoem, "precisely because the changes it envisages cannot be won without breaking up the economic and political setup of present South Africa".18

Die gevolgtrekking uit dié ontleding van Mandela se standpunte in die vyftigerjare is duidelik: Hy het Marx en Lenin se wêreldvisie byna tot in die absurde klakkeloos nagevolg. Wat dit des te interessanter maak dat die staat dié geskrifte om onbekende redes nie in die twee hofsake teen hom gebruik het nie.

 

Was Mandela lid van die SAKP?

In sy gepubliseerde memoires behandel Mandela nie die vraag of hy ooit lid van die SAKP was nie. Soos hierbo gestel is, het hy dit wel in die Hoogverraadsaak ontken. Sy biograwe aanvaar sy woord eksplisiet of by implikasie, terwyl die ANC-regering se amptelike geskiedenis van die anti-apartheidstryd die saak glad nie aanroer nie.19 Tog dui alles daarop dat hy - al was dit om menslikerwys begryplike redes - nie die waarheid gepraat het nie.

Ben Turok, 'n kommunis wat in dié tyd baie na aan Mandela beweeg het, se oordeel was: "He was very close [aan die SAKP]. If he wasn't in the Party, that was tactical".20 Paul Trewhela, 'n kommunis wat later uit die party geskors is, het in later jare getuig dat toe hy saam met Bram Fischer, Ivan Schermbrucker en Eli Weinberg (al drie prominente SAKP-leiers) in die tronk was, "the understanding I had from them was that Nelson Mandela was 'one of us'".21 En Padraig O'Malley haal in sy biografie van Mac Maharaj twee intieme kennisse van Mandela - Hilda Bernstein en Brian Bunting - aan, wat albei adamant is dat Mandela minstens 'n tyd lank lid van die SAKP was. In 'n intrigerende voetnoot voeg O'Malley daaraan toe: "Other sources embargoed until 2030."22

Drie navorsers - Stephen Ellis (hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam en dié van Leiden), Irina Filatova (emeritus-hoogleraar aan die Universiteit van Kwazulu-Natal) en Apollon Davidson (Sentrum vir Afrikageskiedenis aan die Russiese Akademie vir Wetenskappe in Moskou) - het egter in verskeie publikasies onthul dat Mandela in die laat jare vyftig en vroeë sestig wel deeglik nie alleen lid van die SAKP was nie, maar tewens van die party se Sentrale Komitee. Dit is dié liggaam wat in Desember 1960 in 'n woonhuis in Emmarentia, Johannesburg, die besluit geneem het om 'n gewapende stryd teen die regering te begin en Umkhonto we Sizwe as guerrillaleër te stig. Mandela was een van die belangrikste dryfvere van dié besluit.23 Ook het die SAKP in 'n perverklaring net ná sy dood toegegee dat Mandela lid van die party se Sentrale Komitee was.24

Terloops, dit was 'n groep SAKP-leiers, onder wie Mandela, wat in Desember 1960 besluit het om tot 'n gewapende opstand oor te gaan en Umkhonto we Sizwe (MK) te stig. Dit het buite-om die ANC gebeur, en die ANC se leier, Albert Luthuli - 'n gelowige Christen en pasifis - eenvoudig omseil.25

Mandela se lidmaatskap het weliswaar nie alte lank geduur nie, beslis nie langer as drie, vier jaar nie. In 1962 het Mandela Suid-Afrika onwettig verlaat en verskeie state in Noord- en Oos-Afrika besoek om steun vir die ANC en die stryd teen apartheid te werf. Tot sy ontnugtering het hy kennis gemaak met 'n wyd verbreide argwaan teen die SAKP, hoofsaaklik omdat die party soveel blankes, bruines en Indiërs in leidende posisies geherberg het. Volgens Paul Trewhela, in dié tyd self lid van die SAKP, het die Sentrale Komitee van die party dus "for tactical reasons" toestemming aan Mandela gegee om sy lidmaatskap ná sy reis deur Afrika te laat verval.26 Ná sy Afrika-reis het Mandela Londen aangedoen, waar hy 'n (volgens hom) moeilike gesprek met SAKP-leier Yusuf Dadoo oor die betrekkinge tussen die SAKP en die ANC gevoer het. Dadoo was hoogs ongelukkig omdat Oliver Tambo, in daardie stadium waarnemende leier van die ANC in ballingskap, na aanleiding van Mandela se ervaring besluit het "that the ANC had to appear more independent". Dadoo het steeds maar gevra: "What about policy?" Mandela se antwoord was dat "I was not talking about policy, I was talking about image. We could still work together, only the ANC had to appear to be the first among equals ...".27

Mandela het dus sy lidmaatskap van die SAKP om taktiese redes prysgegee. Maar het dit ook beteken dat hy die Marxisme-Leninisme die rug toegekeer het?

 

In die gevangenis

Dat Mandela se geloof in die Marxisme-Leninisme nog tot laat in die sewentigerjare onverwoesbaar was, blyk uit twee geskrifte. Die een is sy geheime outobiografie, geskryf in die gevangenis; die ander 'n uitgebreide ideologiese verwerping van die Swartbewussynsbeweging vanuit die onmiskenbare perspektief van 'n gelowige kommunis.

Dit was al lank bekend dat Mandela se amptelike memoires, A Long Walk to Freedom, gebaseer was op 'n handgeskrewe stuk wat hy in die geheim in die jare sewentig op Robbeneiland opgestel het. Stephen Ellis skryf dat dit

was secretly handwritten by Mandela in Robben Island prison before being smuggled out, typed up, and handed to Yusuf Dadoo, chairman of the South African Communist Party, in August 1977. This was the document that was re-worked in the years after Mandela's release from prison to form the basis for Long Walk to Freedom, the best-selling autobiography published in 1994.28

Blykbaar is die inligting in die oorspronklike manuskrip aangevul deur 'n reeks onderhoude wat Mandela se spookskrywer, die Amerikaanse joernalis Richard Stengel, met hom gevoer het. Maar, soos James Myburgh tereg opmerk, lê die historiese betekenis van dié manuskrip nie soseer "in what made its way into both the autobiography and the Authorised Biography [dié van Anthony Sampson29] - both made heavy use of of it - but rather what was left out".30 (Sommige van die stukke in die ongepubliseerde geskrif is opgeneem in Mandela se Conversations with Myself,31 maar ook dít laat stukke waaruit Mandela se kommunistiese gesindheid blyk, uit.)

Myburgh verduidelik verder:

The prison manuscript was written in the mid-1970s at a time when Soviet-backed National Liberation Movements were on a triumphal march across Asia and Africa. Frelimo had ascended to power in Mozambique, and the MPLA was in the process of doing the same in Angola. Western power meanwhile appeared very much on the wane, following America's defeat in Vietnam. That was the milieu then in which the prison manuscript was written. The final autobiography was commissioned and completed, however, following the collapse of Communism and the disintegration of the Soviet Union. Revelations of Mandela's past sympathies had the potential to cause acute embarrassment, as well damage the myth built up around him by the ANC's Western supporters.

In both Long Walk to Freedom and the Authorised Biography there appears to have been extensive "scrubbing" from the original manuscript of passages pointing to Mandela's support for the Soviet Union and his fervently expressed belief in Marxist-Leninist ideology. This is important as these two books were foundational in cementing the West's understanding of Mandela and the ANC.32

Inderdaad werp die manuskrip33 heelwat ongesensureerde lig op Mandela se vroeëre lewe en oortuigings. Vir die doeleindes van dié artikel val die kollig uiteraard slegs op wat hy oor die kommunisme skryf.

Ten eerste volg Mandela die aanvaarde standpunt van sowel die ANC as die SAKP in dié tyd waneer hy 'n verenigde front van "African nationalists, Marxists, Christians, workers, peasants, business- and professional men" in die stryd teen apartheid bepleit. Die verset teen só 'n front skryf hy toe aan "the influence of the enemy press, radio, literature and other forms of propaganda". Hy skryf, soos min of meer in sy gepubliseerde lewensverhaal, dat hy die onselfsugtige opoffering en strydbaarheid van kommuniste gesien het, en vra dan: "How could I question the bona fides of such men?"34

Op grond van sy studie van Marxistiese literatuur sê hy "the idea of a classless society appealed to me. Later I was to embrace dialectical and historical materialism as my philosophy". Hy het ook vasgestel dat die Sowjetunie "fully supported the national struggles of the colonial people and that in that country racial discrimination was expressly prohibited by law".35 Die Russiese Revolusie van 1917 was vir hom "an immortal achievement which opened up vast possibilities for man's forward movement".36 By 'n verwysing na die Kubaanse missielkrisis van 1962 kies hy sonder om doekies om te draai Fidel Castro en Kuba se kant en sê Castro het "in no uncertain terms the superiority of socialism over capitalism" bewys.37 Hy noem die "imperialistiese" lande wat net so wreed soos die Afrikaners was, by name - Spanje, Portugal, Brittanje, Nederland, Frankryk, België, Duitsland, Italië en Amerika.38 Dit klop alles met sy geskrifte uit die vyftigs wat hier bo behandel is.

Hy gaan voort:

With this backbround I came to appreciate the correctness of the policy of the ANC which has since the formation of the CP [Communist Party] welcomed Marxists as members and which has repeatedly and emphatically resisted any anti-communist influences within its own ranks. Of more immediate concern to me was the fact that in Marxist literature I had found a wealth of information on all types of problems that trouble an active politician; information collected by leading theoreticians who themselves had been in the forefront of revolutionary struggles in their respective countries.39

Volgens Mandela was daar geen teenstrydigheid tussen sy Marxisme en sy geloof in die Afrika-nasionalisme nie:

Accordingly I considered the struggle against white supremacy as our most immediate task. I am proud of what I am, of my country and people, our history and tradition, language, music and art, and firmly believe that Africans have something distinct to contribute to world culture. I will streneously fight for the respect of the national independence of a free and democratic South Africa and will resist aggression against its territorial integrity or interference in its domestic affairs. Equally important is the fact that my roots are struck deep into the soil of Africa and the idea of pan-Africanism flows in my blood.40

Hy keer vervolgens terug na die dialektiese materialisme, wat hy "a mighty weapon" noem en behandel die voordele daarvan vir iemand wat verdrukking beveg. In die proses verwerp hy ooreenkomstig die waardes van die Marxisme-Leninisme ook die waarde van godsdiens:

To a nationalist fighting against national oppression dialectical materialism is like a rifle, bomb or missile in the field of battle enabling the army to defend its position and to strike. It is a powerful searchlight on a dark night which enables the traveller to see all round, to detect danger spots and the way forward. Finally, dialectical materialism excludes belief in the existence of a supernatural world and rests on the principle that all causes are capable of scientific explanation. It demands that our actions should be based on facts that can be verified through observation, research or experiment. It rejects anything beyond the realm of experience and in particular the existence of a supreme being directing the course of human affairs. For this reason, many people who otherwise would accept the correctness of a materialist approach feel outraged when they realise that belief in dialectical materialism clashes with their religious views.41

Hy eggo dan die amptelike ateïsme van die kommunisme:

It is sufficient to say that the origin of religion is to be sought in man's ignorance of his environment and his inability to control the forces of nature on which his life depends. As scientific knowledge increases and man masters the natural forces, supernatural beliefs will be correspondingly weakened.42

By later geleenthede het Mandela wel sy Christelike geloof bely. Toe prof. H.W. van der Merwe, 'n gelowige Kwaker, hom in Oktober 1984 besoek, het dié reguit gevra: "Are you a Christian?" Mandela se antwoord was ewe reguit: "Very definitely."43 Miskien het hy in die tronk tot bekering gekom, of anders was dit bloot 'n geval om Van der Merwe - 'n belangrike tussenganger tussen die ANC en die regering - na die mond te praat. Dit is in elk geval 'n onderwerp vir verdere navorsing.

In ooreenstemming hiermee het Mandela ook kritiek op die Afrika-sosialisme uitgeoefen omdat dit na sy mening nie "wetenskaplik" genoeg was nie.44 Neem hier in ag dat die Marxisme-Leninisme homself graag as "wetenskaplike sosialisme" beskryf, as die enigste ideologie wat werklik "wetenskaplik" is en die objektiewe waarheid kan blootlê. Mandela het dit ook geglo:

By studying the history of the entire human race we can anticipate the course of the future development of our people and help to speed up the process by concentrating our resources on the achievement of what human history demonstrates as inevitable.45

Dit was tipies Marxistiese taal - die onafwendbaarheid van die sosialistiese revolusie en die aanbreek van 'n utopie op aarde.

Oor die SAKP was Mandela besonder lowend:

The SACP is one of the most radical, active and consistent political parties in this country, and has a far better record of service and achievment than those who now question its bona fides. For more than 50 years it has fought against all forms of oppression and fully identifies itself with the struggle of the oppressed peoples, emerging in the process as a bitter enemy of apartheid, a fact which the Nats acknowledged by declaring it illegal within two years of coming to power. To reject the co-operation of a party with such a good record can only be due to the influence of our own background and of missionary education, to many years of anticommunist indoctrination by the propaganda agencies of the enemy and to inability to think for ourselves in this regard.46

Teen dié agtergrond het hy anti-kommunisme bestempel as "a social disease most people educated in Western schools have inherited".47

Dit is interessant dat Mandela ook wys dat hy bekend is met die SAKP se tweefase-revolusie en hom implisiet positief daaroor uitlaat. Dié plan is in die SAKP se dokument The Road to South African Freedom van 1962 uiteengesit en steun swaar op Wladimir Lenin se revolusionêre program. Dit kom daarop neer dat die SAKP beheer van die leiding van die ANC moet verkry, 'n breë anti-apartheidsalliansie teweeg bring en die apartheidsregering in 'n eerste fase onder die formele leiding van die ANC omver moet werp. Met die ANC in beheer van die nuwe regering (en die SAKP in beheer van die ANC) kan die tweede fase, na 'n volbloed-sosialistiese stelsel, gemaklik en geweldloos volg.48 Teen dié agtergrond is Mandela se woorde veelseggend:

Of course in a way we cannot dismiss the argument that the victory of the Congress movement and the overthrow of colour oppression will be a step towards scientific socialism. In a democratic South Africa established by us our allies will naturally have a free run and the CP will have a proportionate say in the solution of the country's problems.

(Hy voeg weliswaar daaraan toe dat dít nie noodwendig van Suid-Afrika 'n kommunistiese staat sal maak nie.)49

Ten slotte het Mandela gewys dat hy ook insake kwessies soos geweld en dwang aan die voete van Lenin gesit het. Hy beskryf byvoorbeeld aksies uit die vyftigerjare in Sophiatown en Port Elizabeth, en verduidelik dat die ANC 'n besluit geneem het téén dwang om die bevolking te beweeg om aan die aksies deel te neem. Maar die insiggewende in sy verhaal is hiér:

But this is neither a question of principle nor wishful thinking but of necessity and should be governed strictly by actual conditions. The real issue is whether the use of force will advance or retard the struggle. If the use of force on a given occasion will harm the cause then we must avoid it by all means. But if it will advance it then it must be used whether or not the majority agrees with us. In our case we have to contend with a brutal regime which invariably uses force to break our strikes and to drive the people from their homes to work and to allow ourselves to be crippled by lofty principles unrelated to the circumstances would be fatal.50

Met ander woorde, as dwang die revolusie dien, is dit moreel geoorloof.51

Die tweede dokument is 'n polemiese essay wat hy in 1978 op Robbeneiland teen die Swartbewussynsbenadering geskryf het.52 Daaruit blyk dat sy politieke denke ook in daardie stadium nie werklik van die SAKP s'n te onderskei was nie.

Marx en Engels se geskrifte het hy "a blueprint of the most advanced social order in world history" genoem wat gelei het tot "an unprecedented reconstruction of society and to the removal of all kinds of oppression for a third of mankind". "Scientific socialism," het hy geskryf, "bring security to all men in the form of a just redistribution of the country's wealth and the removal of all sources of national and international friction". Soos voor sy inhegtenisneming het hy die kommunistiese lande "the best friends of those who fight for freedom" genoem.

Mandela het goedkeurend uit die Kommunistiese Manifes van 1848 aangehaal en geskryf dat "the clash of class interests" die "fundamental contradiction in contemporary society" is en dat "the struggle against capitalism will be led by the working class". Laasgenoemde is "the most reliable force in the fight for socialism". Die klassestryd "is "the driving force in the development of society and to sharpen it is the duty of all revolutionaries". Die geskiedenis van Suid-Afrika, het hy daaraan toegevoeg, "bears out Marxist history".

Hy het die SAKP se tweefase-revolusiemodel op die voet gevolg en geskryf dat die bevrydingsbeweging

is faced with the dual problem of national oppression and class exploitation. The concern of the liberation movement and its immediate task is the removal of the former evil, not because national oppression is primary, but because its destruction will pave the way for the eventual elimination of economic exploitation.

Betekenisvol het hy voortgegaan:

This is a question of strategy. The fight against racism demands the maximum unity of all the people, who may differ fundamentally on the type of social order to be established after liberation. For this reason we deliberately do not stress the economic aspect (eie kursivering.)

Wat die steun van die Sowjet-Unie en ander kommunistiese lande betref, het Mandela geskryf dat hulle "are motivated by the desire to see all human beings running their own affairs and living happily". As hulle enige "ulterior motive" het, is dit eenvoudig die wete dat "the freedom of any oppressed nation is a blow to imperialism and an advantage to socialism". Dít het hy genoem "a worthy motive that accords with the aspirations of any freedom-loving people throughout the world".

So laat as 1985 het hy in die Pollsmoor-gevangenis aan 'n besoeker uit Brittanje, lord Bethell, gesê: "Personally I am a socialist and I believe in a classless society. But I see no reason to belong to any political party at the moment."53

 

Besluit

In die loop van die jare tagtig het die ANC/SAKP 'n globale veldtog op gang gebring met 'n verpletterend eenvoudige leuse: "Free Mandela!" Regoor Suid-Afrika, Europa, Noord-Amerika en die kommunistiese lande het tienduisende mense aan betogings deelgeneem, dikwels in die omgewing van Suid-Afrikaanse ambassades en konsulate. In die proses het die naam van Nelson Mandela as vryheidsvegter, as die man wat vervolg is omdat hy vryheid en geregtigheid vir sy mense geëis het, sinoniem met die anti-apartheidstryd geword. Mandela het naam gemaak as held.

Teen dié agtergrond was dit belangrik dat Mandela se Marxisties-Leninistiese oortuigings nie aan die groot klok gehang word nie. Hy kon hoogstens vaagweg as linksgesind voorgestel word; in baie kringe sou dit slegs in sy guns tel.

En toe Mandela in Februarie 1990 vrygelaat word, was hy die gesalfde wat sy mense na vryheid sou lei. Hy moes 'n leier word wat die uiteenlopende anti-apartheidskragte in Suid-Afrika tot 'n hegte eenheid in die stryd teen die regering kon saamsnoer. Alte veel duidelikheid oor sy vroeëre kommunistiese oortuigings sou die ANC/SAKP in die onderhandelings van die oorgangstyd skaad.

Uit sommige van sy praktiese handelinge ná sy vrylating het ewenwel geblyk dat sy natuurlike simpatie steeds by die kommuniste en ander anti-kolonialistiese kragte was. Hy het diktators soos Fidel Castro van Kuba en Moeammar Ghaddafi letterlik aan die bors gedruk en hulle uitvoerig geprys.

In die proses is Mandela se verlede egter wel deur die ANC en deur homself toegeverf. 'n Wit vlek het in die geskiedenis ontstaan. En dit moet opgevul word, nie om die destydse politieke doeleindes te neutraliseer of om nuwes te dien nie, maar om die akademikus se enigste oogmerk na te streef, naamlik 'n soeke na die waarheid.

Uit die behandeling van die materiaal hier bo moet dit duidelik wees dat Mandela 'n senior lid van die SAKP - een van die mees Moskou-getroue kommunistiese partye ter wêreld54 - was. Dit is verder uit sy geskrifte van die jare vyftig tot sewentig duidelik dat hy minstens tot 1978, waarskynlik selfs later, 'n uiters ortodokse Marxis-Leninis was. Uiteraard moet dié stelling genuanseer word, want vir 'n swarte wat apartheid voor 1990 wou beveg, was daar nie baie weë oop nie. Die dikwels gewelddadige onderdrukking van die destydse regering het van die Marxisme-Leninisme 'n aantreklike en byna vanselfsprekende keuse gemaak. Andersyds, wat die gevolge sou wees van 'n destydse sege van Mandela en die ANC/SAKP vir die totstandkoming van 'n Suid-Afrikaanse demokrasie, is 'n legitieme vraag wat wel gestel mag word, maar dit is nie die plek hiér om dit te beantwoord nie.

Hoe ook al, uit wat in die loop van die jare tagtig gebeur het, is dit ook duidelik dat Mandela die gebreke in sy filosofie mettertyd ingesien het. Soos hy vroeër die Marxisties-Leninistiese geskrifte bestudeer het, het hy nou die Afrikaners, hul mentaliteit en hul vrese onder die loep geneem. En in die proses het hy ingesien dat om aan die Marxisme-Leninisme vas te hou die einde van apartheid nie sou verhaas nie, maar juis sou vertraag.

Nietemin, toe hy uit die tronk kom, het hy steeds aan nasionalisering as polities-ekonomiese instrument vasgehou. In die maande ná sy vrylating het hy, veral in die konteks van die verkrummeling van die kommunisme, tot die gevolgtrekking gekom dat hy die Marxisties-Leninistiese leidster van sy vroeëre revolusionêre loopbaan moes laat vaar. Dit was eers in Februarie 1992, toe verskeie wêreldleiers - onder wie enkele uit China en Viëtnam - by die internasionale ekonomiese forum in Davos, Switserland, intense gesprekke met hom gevoer het, dat hy besef het dat nasionalisering fout sou wees.55 Dit kon nie maklik gewees het nie, maar die hele globale politieke kultuur het ná die val van die Berlynse Muur in 1989 van die kommunisme en sosialisme na die vryemarkbenadering beweeg. Selfs Mandela was nie teen dié druk bestand nie. In dié soepelheid, wat ook sy versoeningsbeleid teenoor die blankes as vroeëre verdrukkers gekenmerk het, is sy ware historiese grootheid te vinde.

 

 

1. H. Giliomee, "Die Mite het die Mens Vervang", Rapport, 7 December 2013; L. Scholtz, "Grootheid in sy Foute as Mens", Die Burger, 13 December 2013.
2. N. Mandela, The Struggle is my Life. His Speeches and Writings, 1944-1990(Mayibuye, Bellville, 1994), pp 91-92.         [ Links ]
3. Mandela, The Struggle is my Life, p 176.
4. M. Meredith, Nelson Mandela. A Biography (Penguin, Londen, 1997), pp 182-183.         [ Links ]
5. Mandela, The Struggle is my Life, p 93.
6. N. Mandela, Long Walk to Freedom (Abacus, Londen, 1995), p 124.         [ Links ]
7. Meredith, Nelson Mandela, p 68.
8. Meredith, Nelson Mandela, pp 137-138.
9. Mandela, The Struggle is my Life, p. 175.
10 Mandela, The Struggle is my Life, p 204.
11. S. Ellis, "The Genesis of the ANC's Armed Struggle in South Africa, 1948-1961", Journal of Southern African Studies, 2011, p 11.         [ Links ]
12. Mandela, Long Walk to Freedom, pp 138-139.
13. S. Johns en R. Hunt Davis, jr. (reds), Mandela, Tambo and the African National Congress. The Struggle against Apartheid, 1948-1990. A Documentary Survey (Oxford University Press, Oxford, 1991), pp 35-40.
14. N. Mandela, "Africa and World Peace", Liberation, September 1953, pp 7-9.         [ Links ]
15. Mandela, "Africa and World Peace", p 8.
16. N. Mandela, "American Imperialism, a New Menace in Africa", Liberation, Maart 1958, pp 22-26.
17. A. Sampson, Mandela. The Authorised Biography (Harper Collins,Londen, 1999), p 95.         [ Links ]
18. N. Mandela, "In our Lifetime", Liberation, Junie 1956, pp 4-8.
19. T. Lodge, Mandela. A Critical Life (Oxford University Press, Oxford, 2006), pp 44-46;         [ Links ] Meredith, Nelson Mandela, pp 131-132 en 203; Sampson, Mandela, p 580; B. Magubane (red.), The Road to Democracy in South Africa, Volume I (1960-1970) (Zebra, Kaapstad, 2004), hoofstukke 1 en 2.
20. Meredith, Nelson Mandela, pp 182-183.
21. P. Trewhela, "Unreliable Friend", London Review of Books, 11 November 1999, by www.ever-fasternews.com/index.php?phpaction=readarticle&articleid=291.
22. P. O'Malley, Shades of Difference. Mac Maharaj and the Struggle for South Africa (Viking, New York, 2007), p 63.         [ Links ]
23. S. Ellis, External Mission. The ANC in Exile 1960-1990 (Hurst, Londen 2012), pp 17 en 20-23;         [ Links ] I. Filatova en A. Davidson, The Hidden Thread. Russia and South Africa in the Soviet Era (Jonathan Ball, Johannesburg, 2013), pp 300-301.         [ Links ]
24. G. van Onselen, "Yes, he was a Communist, say ANC, SACP", Sunday Times, 8 December 2013.
25. Vgl. Ellis, External Mission, pp 18-26.
26. Ellis, External Mission, pp 18-26.
27. Mandela, Long Walk to Freedom, pp 361-362.
28. S. Ellis, "New Light on Nelson Mandela's Autobiography", PoliticsWeb, 13 January 2014, by www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=509092&sn=Detail&pid=71619, opgeroep 13.1.2014.
29. Sampson, Mandela.
30. J. Myburgh, "The Meaning of Mandela's Prison Manuscript", PoliticsWeb, 15 January 2014, by www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=510821&sn=Detail&pid=71619, opgeroep 15.1.2014.
31. N. Mandela, Conversations with Myself (Pan, Londen, 2011).
32. Myburgh, "The Meaning of Mandela's Prison Manuscript", PoliticsWeb, 15 January 2014, by www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=510821&sn=Detail&pid=71619, opgeroep 15.1.2014.
33. Nelson Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, by www.nelsonmandela.org/images/uploads/LWOM.pdf, opgeroep 15.1.2014.
34. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, pp 82 en 99-100.
35. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 101.
36. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, pp 6 en 109.
37. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 510.
38. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 194
39. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 194.
40. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 101.
41. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 103.
42. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 103.
43. Sampson, Mandela, p 333.
44. Sampson, Mandela, pp 623-627.
45. Sampson, Mandela, p 102.
46. Sampson, Mandela, p 362.
47. Sampson, Mandela.
48. L. en I. Scholtz, "Die Oorsprong en Ontwikkeling van die SA Kommunistiese Party se Tweefaserevolusiemodel", twee dele, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45, 3 en 45, 4, 2005, pp 335-348 en 443-456.
49. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, by www.nelsonmandela.org/images/uploads/LWOM.pdf, p 180, opgeroep 15.1.2014.
50. Mandela, Herinneringsgeskrif sonder titel, p 180.
51. Vgl. bv. S. Lukes, Marxism and Morality (Oxford University Press, Oxford, 1985), passim.         [ Links ]
52. N. Mandela, "Whither the Black Consciousness Movement?", in Mac Maharaj (red.), Reflections in Prison (Zebra, Johannesburg, 2010), pp 21-64.         [ Links ] Sy behandeling van die Marxisme kom voor op pp 43-45.
53. V. Shubin, ANC: A View from Moscow (Mayibuye, Bellville, 1999), p 278.         [ Links ]
54. Vgl. L. en I. Scholtz, "Die ANC en die USSR, Deel 1: Wêreldbeskouings, Deel 2: Gevallestudies", LitnetAkademies, 5, 2, Oktober 2008.
55. Sampson, Mandela, pp 434-435.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License