SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número1Pioneering regional history studies in South Africa: Reflections within the former Section for Regional History at the Human Sciences Research Council (HSRC)Soviet "special depository" facilities for South African history: Research experiences in the Soviet Union on the preparation of candidates for the submission of academic theses on South Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Historia

versión On-line ISSN 2309-8392
versión impresa ISSN 0018-229X

Historia vol.59 no.1 Durban ene. 2014

 

ARTIKELS ARTICLES

 

Die SAW/UNITA-bondgenootskap in aksie: Operasie Moduler (fases 2, 3 en 4), Oktober tot Desember 1987

 

The SADF/UNITA partnership in action: Operation Moduler (phases 2, 3 and 4), October to December 1987

 

 

G.J.J. Oosthuizen

Gerhard Oosthuizen is verbonde aan die Vakgroep Geskiedenis en Antieke Kultuur op die die Potcfstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Hy spesialiseer in die sogenaamde Bosoorlog met die fokus op transgrensoperasies. Gerhard.Oosthuizen@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Vroeg in 1987 het die SAW inligting bekom dat FAPLA en die Kubane besig was met intensiewe voorbereidings om UNITA uit Suidoos-Angola te verdryf. Op versoek het die SAW in Junie 1987 formeel besluit om UNITA te ondersteun met die doel om die FAPLA-offensief genaamd Operasie Saludando a Octubre (Salueer Oktobermaand) te stuit. Die Slag van die Lomba-rivier van 3 Oktober 1987 het, vanuit n SAW/UNITA-oogpunt beskou, die suksesvolle afsluiting van fase 1 van Operasie Moduler verseker: die FAPLA-opmars na Mavinga is effektief gestuit. Die SAW/UNITA-bondgenote was egter deeglik daarvan bewus dat die FAPLA-magte in staat was om binne die afsienbare toekoms die aanslag op Mavinga te hervat. Daarom is beplan om die FAPLA-brigades oos van die Cuito-rivier te vernietig. Die primêre oogmerk kon egter nie naastenby verwesentlik word nie, aangesien die SAW/UNITA-bondgenote nie daarin kon slaag om die FAPLA-magte uit hulle stellings te verdryf nie. Die laaste SAW/UNITA-offensiewe van 25 en 26 November 1987, waartydens UNITA-bataljons as die hoofmag aangewend is, was 'n klaaglike mislukking. Die gemeganiseerde SAW-veggroepe is futiel in die onherbergsame terrein teen die deeglik verskanste FAPLA-stellings aangewend. Die SAW-elemente kon gevolglik nie die onontbeerlike ondersteuning aan UNITA bied nie. Hierdie artikel fokus op die bydraes van UNITA tot die bondgenootskap. Ondanks kritiek deur die SAW op UNITA as 'n bondgenoot is die positiewe aspekte van hulle bydrae tot Operasie Moduler van veel groter omvang as die negatiewe aspekte. 'n Wydgeskakeerde terrein, hoofsaaklik in 'n ondersteunende rol is gedek, soos die afvuur van lugafweer-Stingermissiele; insameling van inligting; optrede as ligte infanterie, voorhoede of skermmag tydens aanvalle; en misleidings- en steekaanvalle. In die proses het UNITA hewige lewensverliese gely. Sonder hierdie bydraes sou die beperkte SAW-mag van 'n skamele sowat 2 500 man 'n veel moeiliker taak gehad het.

Sleutelwoorde: Operasie Moduler; Suid-Afrikaanse Weermag; UNITA; MPLA; FAPLA; Kuba; Angola; Lomba; Cuito Cuanavale; Menongue; Mavinga; Jonas Savimbi.


ABSTRACT

Early in 1987 the SADF received information that FAPLA and the Cubans were busy with intensive preparations to force UNITA out of southeast Angola. Upon request, the SADF formally decided to support UNITA in June 1987 with the intention of stopping the FAPLA offensive named Operation Saludando a Octubre (Salute October). From an SADF/UNITA point of view, the Battle of the Lomba River on 3 October 1987 ensured the successful conclusion of phase 1 of Operation Modular: the FAPLA advance to Mavinga was effectively stopped. However, the SADF/UNITA allies knew very well that the FAPLA forces were able to resume their assault on Mavinga in the near future. They therefore planned to destroy the FAPLA brigades east of the Cuito River, but this primary goal could not be realised because the SADF/UNITA allies were unable to force the FAPLA forces from their positions. The last SADF/UNITA offensives of 2 and 26 November 1987, during which UNITA battalions were applied as the principal force, were a total failure. The mechanised SADF battle groups were deployed in vain in the inhospitable terrain against the well entrenched FAPLA positions. This also prevented the SADF elements from providing indispensable support to UNITA. This article focuses on the contributions of UNITA to the alliance. Despite the SADF's criticism of UNITA as allies, the positive aspects of their contribution to Operation Modular far exceed the negative aspects. They were deployed primarily in a supporting capacity, but their contribution was multi-faceted, such as firing anti-aircraft Stinger missiles; collecting information; acting as a light infantry, vanguard or a shield force during attacks; and deception and sting attacks. In the process, UNITA suffered a severe loss of lives. Without these contributions, the limited SADF force of about 2 500 men would have faced a far more difficult task.

Keywords: Operation Modular; South African Defence Force; UNITA; MPLA; FAPLA; Cuba: Angola; Lomba; Cuito Cuanavale; Menongue; Mavinga; Jonas Savimbi.


 

 

Agtergrond1

In 'n resensie van Generaal Jannie Geldenhuys (samesteller) se opspraakwekkende publikasie, Ons was Daar (2011), met die kontroversiële subtitel Wenners van die Oorlog om Suider-Afrika, vra die joernalis cum skrywer Rian Malan tereg: "Wat van die swart voetsoldate?" Malan se antwoord spreek boekdele:

Wit Suid-Afrikaners het... net 'n klein deel van die anti-Sowjetmagte uitgemaak en dikwels op 'n afstand ondersteuning gebied. Die voetsoldate was [hoofsaaklik] swartes van Unita; 'n menigte van hulle het gesneuwel om die SA Weermag te laat oorwin. Dit skyn oneerbaar van Geldenhuys en Kie. te wees om hulle opofferinge minder te ag. [Hy sê Unita se verliese is Unita se saak en moes deur Unita bekendgestel gewees het. Nogtans].2

Ook G. Shubin (senior navorsingsgenoot, Afrika-instituut, Moskou) kritiseer en "verwyt" Geldenhuys, vir wie die Russe en Kubane die hoogste agting gehad het: "He does not mention the heavy losses of UNITA troops (hundreds of them died every day during major battles...) and the South West African Territorial Force, but only those of the SADF."3

Kolonel Fred Oelschig, oorhoofse bevelvoerder van die skakelspanne van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW),4 lig effens die sluier rakende die ontsaglike verliese wat die UNITA-bondgenoot, in teenstelling met die SAW, gely het:

Aandag moet nou gegee word aan die onderwerp van ongevalle. Op een stadium... is daar besluit om n Fapla-brigade met tenks aan te val, ondersteun deur Unita wat op die tenks gery het. Ongelukkig het hulle reguit in n baie sterk verdedigingstelsel van Fapla vasgery, met baie goed geplaaste ZPU-23mm-kanonne ontplooi. Die kruisvuur van hierdie wapens het deur die ontblote Unita-soldate gesny en hulle het ontsettende verliese gely [sowat 400 gesneuweldes]. Daarna het gruwelstories uitgekom van Unita-lyke wat in die tenks se loopvlak beland het, met grusame gevolge.5

Grondige navorsing in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Dokumentasiesentrum (SANWD) te Pretoria het bevestig dat genoemde argeloosheid rakende UNITA-verliese, ook 'n perspektiwiese siening rakende UNITA se bydraes, 'n algemene tendens in SAW-geledere was. UNITA-verliese is by die hoogste uitsonderinge vermeld. Vroeg in 1987 het die SAW inligting bekom dat FAPLA en die Kubane besig was met intensiewe voorbereidings om UNITA uit Suidoos-Angola te verdryf. Op versoek het die SAW in Junie 1987 formeel besluit om UNITA te ondersteun met die doel om die FAPLA-offensief genaamd Operasie Saludando a Octubre (Salueer Oktobermaand) te stuit. Die Slag van die Lomba-rivier van 3 Oktober 1987 het, vanuit 'n SAW/UNITA-oogpunt beskou, die suksesvolle afsluiting van fase 1 van Operasie Moduler verseker: die FAPLA-opmars na Mavinga is effektief gestuit. Die SAW/UNITA-bondgenote was egter deeglik daarvan bewus dat die FAPLA-magte6 in staat was om binne die afsienbare toekoms die aanslag op Mavinga te hervat. Daarom is beplan om die FAPLA-brigades oos van die Cuito-rivier te vernietig. Tydens Operasies Chuva en Moduler (fase 1) het UNITA via kwelaksies (teistering), grond-tot-lug-Stingermissiele, infanteriste, inligtinginsameling, teistering van logistieke FAPLA-konvooie en die SAW-sielkundige oorlogvoering wisselende sukses behaal en ' belangrike bydrae tot die sukses van die eerste fase van Operasie Moduler gelewer.7

In hierdie opvolgartikel, gegrond op SANWD-argivalia, word die bydrae van UNITA tot fases 2, 3 en 4 van Operasie Moduler in oënskou geneem. Die skrywer is deeglik en pynlik daarvan bewus dat hy moes staatmaak op SAW-dokumentasie en nie toegang het tot bronne vanuit 'n UNITA-perspektief nie. Taal- en logistieke probleme maak dit bykans onmoontlik. Die skrywer het desondanks gepoog om so gebalanseerd as moontlik die rol van UNITA te ontleed.

Verskeie faktore het die onmiddellike agtervolging van die FAPLA-magte ná die suksesvolle Slag van die Lomba-rivier belemmer. Só byvoorbeeld het 20 Brigade slegs uit drie veggroepe met beperkte vermoëns bestaan. Daar was onder andere 'n nypende tekort aan pantservermoë. Daarbenewens was die UNITA-bondgenoot nie opgelei in konvensionele oorlogvoering nie en het die totale gebrek aan 'n pantservermoë en lugmag hulle gekortwiek om die konvensionele FAPLA-magte effektief aan te durf. Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) se offensiewe vermoë is boonop gekortwiek deur FAPLA se aanwending van uiters gesofistikeerde MiG-23-vegvliegtuie, radartoerusting en grond-tot-lug-missiele. Die Lomba-rivier was nog 'n hindernis wat die agtervolging van FAPLA noord van die rivier bemoeilik het, en die lang logistieke lyne van die SAW was ook 'n beperking.Hierdie beperkinge het deeglike beplanning van die SAW-UNITA magte vereis en die tyd wat aan die beplanning bestee is, het FAPLA die geleentheid gegee om noordwaarts terug te trek met die oog op konsolidasie en aanvulling van hulle magte.8

Aangesien die FAPLA-magte die Mavinga-offensief met relatiewe gemak sou kon hervat, het die SAW-opperbevel besluit dat dit van die uiterste belang was om Operasie Moduler voort te sit. Na deeglike beplanning is Operasie Moduler Instruksie 24/87 vir die volgende fases op 6 Oktober 1987 uitgereik. Die SAW moes teen 15 Desember 1987, in samewerking met UNITA, alle FAPLA-magte oos van die Cuito-rivier vernietig. Daar is voorsien dat Operasie Moduler in drie fases sou ontplooi. Fase 1 het die dwarsboming van die FAPLA-offensief na Mavinga behels. Hierdie doelwit is met die Slag van die Lomba-rivier bereik. Daarteenoor moes die UNITA/SAW-alliansie die inisiatief teen 6 November 1987 neem en die FAPLA-magte oos van die Cuito-rivier die maksimum verliese toedien. Die vernietiging van die FAPLA-brigades oos van die Cuito-rivier (fase 3) moes teen 15 Desember 1987 verwesentlik word. Hierdie fase het ook optrede teen Cuito Cuanavale ingesluit, indien dit noodsaaklik sou wees vir die suksesvolle voltooiing van die operasie.9 Klem is ook daarop gelê dat "UNITA bronne en vermoëns... maksimaal benut [moet] word. Hulle moet by beplanning en uitvoering van veral aanvalle betrek word."10 Die spesialis-infanteriste van UNITA, vertroud met die topografie en die plaaslike bevolking, is met vrug deur die SAW benut. Daarbenewens het die Amerikaanse grond-tot-lug-Stingermissiele, waarvan die FAPLA pynlik bewus was, die MiG-vegvliegtuie gedwing op so 'n hoogte te opereer dat hulle aanvalsvermoë aan bande gelê is.

Eenstemmigheid rakende die inhoud van Operasionele Instruksie 24/87 het egter ontbreek en dit is na indringende samesprekings gewysig.11 'n Aanvullende operasionele instruksie is daarom uitgereik, naamlik instruksie D Ops/577/27 Okt 87. Die primêre doelwit was nog steeds die vernietiging van die FAPLA-brigades oos van die Cuito-rivier. Fase 4 is egter bygevoeg en het "die verowering van Cuito Cuanavale" behels, maar eers nadat die voorafgaande fases suksesvol voltooi sou word.12

 

Skaakmat? SAW/UNITA-kwelaksies versus 'n FAPLA-lugoffensief, Oktober 1987

In opdrag van die Voorste Bevelspos (VBP), gestasioneer te Cuito Cuanavale, het die FAPLA-brigades onttrek en teen 11 Oktober 1987 was al die retirerende brigades in die omstreke van die Cunzumbia-rivier se oorsprong saamgetrek.13 Gedurende die nag van 10-11 Oktober 1987, het die SAW/UNITA-magte hulle bestemde posisies bereik. Twee dae later was die SAW/UNITA-artillerie gereed om Cuito Cuanavale, geleentheidsteikens en die FAPLA-brigades op die front te bestook. Ook die SAW-veggroepe, ondersteun deur UNITA, was slaggereed om teen die FAPLA-magte in die omgewing van die Cunzumbia-oorsprong op te tree.14

Die FAPLA-magte het nie net passief onttrek nie, maar het daadwerklike pogings aangewend om enige offensiewe aksies van die SAW/UNITA-magte te ontwrig. Op 7 Oktober 1987 het FAPLA-SU-22-bomwerpers Veggroep Alpha met 23 mm-vuur aangeval en kort daarna ook met trosbomme. Albei aanvalle was oneffektief en UNITA-teenaavalle met swaar masjiengewere en Stingermissiele het die FAPLA-vlieëniers genoop om onverrigter sake na Cuito Cuanavale terug te keer.15 Die volgende dag het kolonel Deon Ferreira, bevelvoerder van 20 Brigade, besluit om solank weswaarts te beweeg, sonder om die finale goedkeuring van die 6 Oktober-plan af te wag. Veggroepe Alpha en Charlie het teen eerste lig uitbeweeg. Om 10:10 is Veggroep Alpha aangeval deur twee MiG-21's, gedek deur twee MiG-23's. Een van die bomme het sowat 1.5 meter vanaf 'n Ratel 90 ontplof. Vyf SAW-lede is gewond, waarvan een tydens afvoer gesterf het. UNITA-Stingerspanne het weer eens tot Veggroep Alpha se redding gekom deur Stingermissiele af te vuur en een MiG-21 te vernietig. Daarop het die oorblywende vliegtuie die aftog geblaas.16

Benewens die aanwending van lugafweergeskut het UNITA ook kwelaksies uitgevoer deur logistieke aanvullingskonvooie aan te val, bewegings van FAPLA-magte te monitor en posisies van hulle brigades voortdurend te bepaal. UNITA het byvoorbeeld op 11 Oktober 1987 'n FAPLA-konvooi aangeval, waartydens vier FAPLA-soldate gedood en sewe gewond is. Daarteenoor het vyf UNITA-soldate gesneuwel. Die FAPLA-oormag het verseker dat die konvooi kon voortbeweeg na die brigades om met logistieke aanvullings te begin.17

 

Suidoos-Angola: Die operasionele gebied tydens Operasie Moduler, 1987

 

 

Die wye ontplooiing van UNITA-magte aan die front en naby FAPLA-magte het noue en deurlopende skaleling tussen skakeling tussen UNITA-bevelvoerders en die SAW noodsaaklik noodsaaklik gemaak. Die skakelspanne van kolonel Fred Oelschig en kommandant Les Rudman het in hierdie opsig 'n belangrike rol gespeel. Daarbenewens het skakeling ook op hoë bevelsvlak voortdurend plaasgevind ten einde die optredes van die SAW- en UNITA-magte te koordineer.18

Die toenemende en gefokusde SAW-kwelaksies, met onder andere die gevreesde G5-kanonne, het paniek onder die FAPLA-magte gesaai. Só byvoorbeeld het die G5-kannone van Quebec Battery gedurende die aand van 14 Oktober 1987, onder die vaandel van Vuurplan Krater, Cuito Cuanavale bestook. Gedurende dié aanval het 25 FAPLA-soldate gesneuwel en die VBP is ook getref. Die aanloopbaan, wat die hoofteiken was, is egter nie buite aksie gestel nie. In reaksie het 59 Brigade van FAPLA opdrag ontvang om so gou doenlik suidwaarts na die Mianei-rivier te beweeg om van daar operasies te loods om die G5-kanonne op te spoor en te vernietig.19 Ondanks UNITA-kwelaksies het 59 Brigade doelgerig na die oorspronggebied van die Mianei-rivier beweeg.20

Tydens grondgevegte het die SAW/UNITA-bondgenote die beproefde skermmagtaktiek, naamlik die aanwending van UNITA-elemente as 'n skermmag, in werking gestel. Die aanval van 17 Oktober 1987 op 59 Brigade was 'n onsuksesvolle aanwending van hierdie tegniek. Veggroepe Alpha en Bravo se inbeweging is erg bemoeilik deur besonder digte bosse en daarom is hulle genoodsaak om tydens die agtervolging in die FAPLA-mag se spore te beweeg. Veggroep Alpha is deur Veggroep Bravo gevolg. Kort na 08:00 het UNITA-elemente by Veggroep Alpha aangesluit. Tydens die groepering is indirekte vuur getrek, waarop UNITA van Veggroep Alpha afgevorm het as 'n skermmag. Veggroep Bravo het aan die noordekant saam met ander UNITA-elemente as 'n reserwemag ontplooi. Terwyl die SAW-artillerie begin het met die voorbombardement op 59 Brigade, het Veggroep Alpha en UNITA vorentoe beweeg. UNITA het volgens plan onttrek kort nadat hulle kontak gemaak het, sodat Veggroep Alpha kon deurbeweeg. FAPLA het daarop met alle moontlike tenkafweerwapens in die rigting van Veggroep Alpha gevuur, maar weens die digte bome en bosse kon FAPLA geen verliese bewerkstellig nie. Die bevelvoerder van Veggroep Alpha het kopgehou en wyslik besef dat 'n aanval op FAPLA deur middel van 'n gemeganiseerde mag op so 'n onbegaanbare terrein nie haalbaar was nie en die veggroep het onverwyld ooswaarts onttrek.21

Sedert 17 Oktober 1987 het die SALM en SAW/UNITA-artillerie 'n reeks effektiewe aanvalle op FAPLA se Brigades 16, 21 en 59 geloods. FAPLA het heelwat personeelverliese gely, soos blyk uit onderskeppingsberigte, terwyl twee SA-13-missiele beskadig is.22 Die SAW/UNITA-artillerie het ook effektief bygedra tot die benarde en geïsoleerde posisie waarin 59 Brigade hom bevind het. Die Taktiese Groep van FAPLA het talle onsuksesvolle pogings aangewend om by 59 Brigade aan te sluit. Aansienlike verliese het weldra veroorsaak dat die Taktiese Groep moedeloos noordwaarts onttrek het.23

MiG-vegvliegtuie het intussen doelgerig probeer om die G5-stellings te vernietig, maar die bomme het telkens die teiken gemis. Die SALM en SAW-artillerie het daarenteen voortgegaan met 'n feitlik deurlopende bombardering van FAPLA-grondmagte en Cuito Cuanavale 24 Die grond-tot-lug-Stingermissiele waaroor UNITA beskik het, het tot in daardie stadium nie veel uitgerig nie en die algemene gevoel in die SAW was dat "UNITA dit nie wou aanwend nie".25 UNITA, wat inteenstelling met die FAPLA-magte, nie oor tenks beskik het nie en nie opgelei was in konvensionele oorlogvoering nie, was waarskynlik uiters versigtig om deur die aanwending van die Stingermissiele hulle grondposisie te verraai. Hulle was waarskynlik ook die mening toegedaan dat die Stingermissiele, weens die hoogte van die MiG-vegvliegtuie, buitendien nie veel skade kon aanrig nie. Die blote besit van die gevaarlike Stingermissiele het dus veroorsaak dat die MiGs te hoog gevlieg het om werklik effektief aangewend te word.

Die G5-bestoking was egter so suksesvol dat die lughawe gesluit moes word. Die Angolese Lugmag moes daarom noodgedwonge na die Menongue-vliegveld, sowat 150 kilometer wes van Cuito Cuanavale, verskuif. Daarbenewens moes die FAPLA/VBP uit Cuito Cuanavale onttrek en terugbeweeg na Nancova.26 Sodoende is FAPLA van die voordeel ontneem om naby aan die gevegsfront oor 'n vliegveld én VBP te beskik. Gevolglik sou die effektiwiteit van die FAPLA-lugmag ingekort word weens die ekstra brandstofverbruik en korter duur van sorties.

Die FAPLA-lugaanvalle en lugdominering was 'n skrikwekkende en demoraliserende ervaring vir die SAW/UNITA-bondgenote.27 Daarenteen was die aanhoudende artilleriegeskut 'n traumatiese ervaring vir die FAPLA, Russies, en Kubaanse-bondgenote, soos duidelik blyk uit die dagboekinskrywings van I.A. Zhdarkin, 'n Russiese tolk:

...groups of soldiers from the 16th Brigade, including those from the tactical group, were running around with or without materiel, with weapons and without weapons, in a great panic and with 'square eyes'... Then began a bombardment, the like of which we, in truth, had as yet never experienced. Shells exploded in salvoes. Everyone was confused, panicked and tried to run away and find shelter anywhere they could. But the South Africans beat them black and blue.28

Die aanhoudende lugaanvalle van die SALM en bestokings van die G5-kanonne en die MVL's op 59 Brigade het hewige personeel- en uitrustingverliese teweeggebring. Die 59 Brigade kon gevolglik nie sy opdrag om die G5-kanonne te neutraliseer, uitvoer nie. UNITA het, deur sy onkonvensionele en guerilla-oorlogvoering, geen geringe aandeel in hierdie sukses gehad nie. Tydens grondgevegte het die SAW/UNITA-bondgenote die beproefde skermmagtaktiek, naamlik die aanwending van UNITA-elemente as 'n skermmag, in werking gestel. UNITA het dus eerste kontak gemaak, waarna hulle onttrek het, sodat die SAW met onder andere 'n tenkaanval kon voortgaan.

 

Slag van Chambinga en daaropvolgende gevegte: 9-17 November 1987

Die SAW/UNITA-bondgenote wou deur die vernietiging of verdrywing van 16 Brigade by die oorsprong van die Chambinga-rivier beheer uitoefen oor dié sleutelterrein. Boonop sou 'n suksesvolle aanslag 'n enorme sielkundige impak hê op die FAPLA-magte suid van die Hube-rivier en dit sou die SAW en UNITA in staat stel om die Angolese vanuit die suide en die noordooste te bedreig. Daarna kon met vernietigingsgevegte begin word teen die FAPLA-magte in die suide en kon terselfdertyd ' effektiewe bedreiging teen Cuito Cuanavale geskep word.29

Een van die hoofaktiwiteite van UNITA het nog steeds kwelaksies behels. Die logistieke voorsiening van FAPLA-brigades moes gekwel word deur middel van onder andere steekaanvalle30 en bombardemente. Die operasionele vermoë van die SAW is drasties verhoog deur die toevoeging van Veggroep Charlie tot 20 Brigade. Die inskakeling van die eskadron Olifanttenks het effektiewe offensiewe teen die FAPLA-magte en direkte konfrontasie met die FAPLA-pantser moontlik gemaak.31 Die vrees wat die SAW-Olifanttenks ingeboesem het, word treffend deur die Russiese raadgewer V.A. Barabulya in herinnering geroep: "... the Olifants scared the daylights out of FAPLA. These guys would run away the minute they saw this huge monster."32

FAPLA het intussen 'n tweesprong-offensief teen die UNITA/SAW-magte beplan wat op 6 en 7 November 1987 uitgevoer moes word, naamlik ooswaarts deur 16 Brigade en suidwaarts deur 21 Brigade, 59 Brigade en die Taktiese Groep. Weens gebrekkige diepteverkenning het die FAPLA-magte egter die SAW/UNITA-magte getakseer as onkonvensionele magte wat weinig weerstand sou kon bied teen die konvensionele FAPLA-magte. Die aanwending van die SAW-Olifanttenks is byvoorbeeld eers op 9 November deur vyandelike verkenners gerapporteer. 33 Dié verhoogde slaankrag van die Suid-Afrikaanse magte is effektief aangewend om die suidwaartse FAPLA-offensief in sy spore te stuit.

Die Slag van Chambinga is voorafgegaan deur verskeie SALM-aanvalle op 16 Brigade. Na hierdie sagmaakproses is die SAW/UNITA-grondaanval van stapel gestuur.34 Die UNITA/SAW-bevelvoerders het besluit om misleidingstaktiek toe te pas en as deel van die misleidingsplan het Veggroep Bravo om 01:00 op 9 November 1987 begin met sy steekaanval op die stellings van 59 Brigade. Veggroep Charlie het terselfdertyd na die doelwit (16 Brigade) beweeg, terwyl Veggroep Alpha teen daglig ook met 'n misleidingsaanval op 16 Brigade uit die suidooste begin het. Die aanval is onmiddellik met 'n teenbombardement begroet. 35 Soos gesamentlik beplan, het UNITA-elemente wat as skermmag eerste kontak met FAPLA moes bewerkstellig, op 9 November 1987 geïntegreer met Veggroep Charlie. UNITA moes as skermmag vooruitbeweeg met die doel om eerste kontak met FAPLA te maak en daarna plek te maak vir die gemeganiseerde Veggroep Charlie.36 Die misleidingsmag, Veggroep Alpha, het kort daarna onttrek en om ongeveer 07:32 het Veggroep Charlie die eerste vyandige vuur getrek.37 Veggroep Charlie het verder op die doelwit inbeweeg en om 08:09 het die SAW-Olifanttenks vir die eerste keer met vyandige tenks in n volskaalse geveg betrokke geraak. Veggroep Charlie, met die Olifanttenks wat gelei het, het stelselmatig deur die doelwit geveg.38

Kort daarna het UNITA-elemente noord van die Vimpolo-rivier met die hoofmag van 59 Brigade kontak gemaak en het later ook betrokke geraak in gevegte in 'n suidwestelike rigting. In die relevante SAW-situasierapporte word bloot vermeld dat "geen detail" oor genoemde UNITA-kontakte beskikbaar is nie.39 Veggroep Bravo het om 13:08 'n steekaanval op 59 Brigade van stapel gestuur, waarop FAPLA-elemente met teenvuur geantwoord het. Daarop het die misleidingsmag Veggroep Bravo volgens plan onttrek. Toegevoegde UNITA-magte het na kontak verdedigingstellings noord van die rivier ingeneem ten einde die gebied te domineer.40

Kommandant Marais het sy magte vinnig geherorganiseer om die suidwaarts vlugtende 16 Brigade te agtervolg en aan te val. 41 Om 10:19 het Veggroep Charlie weer vuur getrek en het toe in ' hewige tenkgeveg gewikkel geraak. Tydens die geveg is ' SAW-Ratel deur ' FAPLA-tenk getref en het sewe soldate gesneuwel.42 Daarteenoor was die FAPLA-personeelverliese omvangryk en is ' groot hoeveelheid toerusting, onder andere nege tenks, vernietig of gebuit. 43 Desondanks hulle eie personeelverliese44 het die SAW/UNITA-magte daarin geslaag om 16 Brigade suksesvol van die doelwit te verdryf. Die FAPLA-lugdominansie en oënskynlike onvermoë van die SALM en UNITA om die FAPLA-lugdominansie effektief die hoof te bied, het die moreel van UNITA én die SAW-troepe nadelig beïnvloed.45 Tydens die SAW-nabetragtingskonferensie was daar 'n eenparige reaksie op die FAPLA-lugdominansie. Die troepe was byvoorbeeld baie ontevrede oor die onvermoë van die SAW/UNITA-lugafweerstelsels. Die lugbedreiging het 'n groot invloed op die moreel gehad en sommige troepe het openlik erken dat hulle bang was vir die MiG-vegvliegtuie. 46 Die vyandelike lugoormag het veral die UNITA/SAW-magte se handelingsvryheid aan bande gelê en hulle "is dikwels gedwing om snags op te tree of vir lang rukke bedags stil te staan". Weens die SALM se onvermoë om die lugoormag die hoof te bied, het die klem verskuif na die Suid-Afrikaanse Leër en Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) se lugafweervermoë. Omdat die SALM se Lugverdediging Artilleriegroep beperk was tot vliegveldbeskerming, het die grondmagte geen waarborg gehad van 'n beveiligde lugruim bokant die oorlogsteater nie. Die moreel van deelnemende troepe en leiergroepe is negatief beïnvloed deur die effek van die vyandelike lugbedreiging. Die feit dat die SAW-troepe feitlik net bewus was van die vyandelike lugmag en nie ook die aanwesigheid van die SALM ervaar het nie, het by hulle die persepsie gelaat dat die SALM nie deelgeneem het aan die operasie nie en hulle in die steek gelaat het.47

Die ontplooiing en beweging van FAPLA-magte ná die Slag van Chambinga was vir 'n dag of twee redelik onduidelik. UNITA-inligting het nie altyd gestrook met SAW-intelligensie nie.48 Dié meningsverskil oor die presiese FAPLA-ontplooiing het daartoe gelei dat kommandant Marais, bevelvoerder van Veggroep Charlie, geweier het om aan te val en daarop aangedring het dat daar eers duideliker inligting verkry moes word. Sy versoek is wel toegestaan, maar tot die SAW se verleentheid het dit geblyk dat die UNITA-inligting heeltemal akkuraat was.49

Verdere inligtingverskille en gepaardgaande spanning tussen die SAW en UNITA het daadwerklike offensiewe aksies aan bande gelê. SAW-magte het gevolglik gedurende die nag van 12-13 November 1987 in dieselfde posisies gebly, terwyl finale beplanning en voorbereidings vir die volgende optrede plaasgevind het. Omdat die FAPLA-magte gedurende die voorafgaande 24 uur verskuif het en ook omdat die UNITA-inligting nie altyd gestrook het met die SAW-inligting nie, was die inligtingsprentjie in daardie stadium weer redelik onseker. Gedurende die nag is alle beskikbare inligting uitgesorteer en daar is konsensus bereik oor die ontplooiing van die FAPLA-magte.50

Na aanleiding van bogenoemde koórdineringsaksie is twee doelwitte deur die bondgenote aanvaar. Doelwit Alpha het bestaan uit FAPLA-elemente versterk deur sowat ses tenks in die digte bosarea oos van die Hube-oorsprong, terwyl doelwit Bravo ' aansienlik sterker mag was wat suid van die Chambinga-rivier ontplooi was.51 Ten spyte van lugdominansie deur die FAPLA MiG-23-vegvliegtuie en die feitlik onbegaanbare, digbeboste terrein het Veggroep Charlie in samewerking met die artillerie onder andere elf FAPLA-tenks vernietig. Die totale SAW-personeelverliese gedurende 10 en 11 November 1987 het vyf gesneuweldes en sewentien gewondes behels. Dié verliese het die SAW-moreel uiters negatief beïnvloed. 52 Die UNITA-magte het egter oorweldigend meer verliese gely. Tydens die perskonferensie van 13 November 1987 het Jonas Savimbi aangekondig dat die UNITA-ongevalle 155 gesneuweldes en 662 gewondes beloop het.53 Die werklike getal gesneuweldes kan egter aansienlik hoër wees, aangesien Savimbi dit tot UNITA se voordeel sou beskou het om nie die volle getal gesneuweldes openbaar te maak nie.

Die FAPLA-opperbevel was oortuig daarvan dat die SAW/UNITA-bondgenote n hewige aanslag op Cuito Cuanavale beplan het, en het daarom die verdediging van dié FAPLA-vesting hulle hoogste prioriteit gemaak. Die FAPLA-magte moes oos van die Cuito-rivier ontplooi word om Cuito Cuanavale effektief te verdedig. Ondanks verbete pogings van die SAW om die FAPLA-magte in die 6MS te bind via artillerie- en SALM-bestokings en UNITA-kwelaksies, het 21 en 25 Brigade daarin geslaag om by mekaar aan te sluit en met n gesamentlike noordwaartse onttrekking te begin.54

Tot die SAW se verbasing en ontsteltenis het UNITA gedurende die oggend van 15 November 1987 die ontsnapping gerapporteer. Die suksesvolle noordwaartse ontsnapping van die FAPLA-magte oor die Vimpolo-rivier gedurende die nag van 14/15 November 1987, met hulle tenks en ander voertuie, het beroeringe in SAW-geledere veroorsaak. FAPLA se ontsnapping was onder andere te danke aan 'n navigasieflater van die SAW, waardeur Veggroep Charlie verkeerdelik sowat ses kilometer vanaf die Vimpolo-oorgang 'n wagposisie ingeneem het. Daarbenewens het die geraas van Veggroep Charlie, ondanks verskeie vermanings, hulle posisie verraai. Ook generaal Ben-Ben, UNITA se visestafhoof, was van oordeel dat die geraas 'n beduidende rol gespeel het in die suksesvolle ontsnapping.55

Die volgende dag was elemente van die UNITA en die SAW oor n wye front in hewige gevegte met die FAPLA-magte betrokke. Teen 10:30 is vanaf Veggroep Charlie se westelike flank hewige vuur op FAPLA neergebring, terwyl Veggroep Bravo verder suid ook kontak gemaak het. Benewens uitrustingverliese het verskeie FAPLA-soldate en kaptein Nguleica, bevelvoerder van 21 Brigade, gesneuwel. 'n Ratel 20 van Veggroep Charlie is deur FAPLA uitgeskiet en twee SAW-soldate56 het gesneuwel, terwyl 18 lede gewond is.57 Die dag se gevegte was hewig en teen 16:30 het dit reeds meer as ses ure lank geduur. Aangesien Veggroep Bravo en Charlie se ammunisie en brandstof begin min word het, is kontak met die vyand verbreek om eers logistieke aanvulling te doen. FAPLA het die onderbreking benut deur vinnig om die Hube-rivier se oorsprong te ontsnap.58 Die SAW het sodoende die inisiatief verloor weens gebrekkige logistieke beplanning.

Die SAW/UNITA-bondgenote was vasberade om die FAPLA-magte, met 16 Brigade en die Taktiese Groep aan die voorpunt, te verhoed om oor die Chambinga-brug te ontsnap. Om 08:30 op17 November 1987 het Veggroep Alpha en die tenkeskadron met die beplande aksie begin. Die offensief is egter aansienlik vertraag weens foutiewe inligting deur UNITA-gidse. Laasgenoemde het gewaarsku dat FAPLA-elemente die gebied suidwes van die doelwit vir ongeveer 12 km gemyn het. Hoewel daar 'n paar haastig geplante myne opgespoor is, was daar egter nie werklik 'n mynveld nie. Die veggroep het nogtans meer as 'n uur nodig gehad om die gebied te beveilig voordat met die beweging voortgegaan kon word.59

Die belangrikste doelwit van die SAW was om voertuie op die brug te vernietig en die FAPLA-magte sodoende die gebruik van die brug te ontneem. Skuins na 08:00 het die artillerie op voertuie gevuur wat besig was om die bnrug oor te steek. Aangesien een van die voertuie aan die brand geslaan het, moes sowat 60 voertuie na 'n gebied oos van die brug onttrek. Sowat 150 infanteriste het wel probeer om die brug te voet oor te steek. Bestoking deur G5-kanonne en MVL's was so effektief dat bykans 100 FAPLA-infanteriste gesneuwel het. Daarna is vuur gerig op konsentrasies oos van die brug en is dood en verwoesting gesaai.60 Benewens personeelverliese is meer as 30 voertuie vernietig.61 Veggroep Alpha het intussen 21 Brigade en een bataljon van 25 Brigade opgespoor en besluit om die twee magte te agtervolg en aan te val. Die veggroep het teen laat die middag van 17 November 1987 die agterhoede van die FAPLA-magte twee keer ingehaal. Tydens die kortstondige gevegte is onder andere twee tenks en een TMM-tydelike brug vernietig. Die tweede geveg is onderbreek deur 'n UNITA-berig dat FAPLA-vegvliegtuie in aantog was, en die twee FAPLA-magte het die onderbreking benut om oor die Chambinga-rivier te ontsnap.62 Die vals alarms deur UNITA dat MiG's op pad was én die onbegaanbare terrein het die SAW-aanmars aansienlik vertraag en kontak onderbreek, en dit het aansienlik bygedra tot die suksesvolle ontsnapping van die FAPLA-magte.

Na afloop van die hoofgeveg het 'n klein FAPLA-element nie oor die Chambinga-brug ontvlug nie, maar beweeg na die samevloeiingsgebied van die Chambinga- en Hube-riviere. Veggroep Alpha sou oor 'n onbegaanbare shona (sanderige waterpan) moes beweeg om die element direk te agtervolg. UNITA het egter die versekering gegee dat daar in die betrokke gebied hoegenaamd geen FAPLA-elemente was nie, aangesien almal oor die Chambinga-rivier is. Veggroep Alpha het gevolglik teruggetrek. Dié misgissing het UNITA duur te staan gekom, want hulle het in die betrokke gebied inbeweeg onder die indruk dat dit onbeset was, en hulle vasgeloop in 'n hewige kontak. FAPLA het daarop twee tenks van die noordekant af oor die Chambinga-brug ter ondersteunnig gestuur, waarop UNITA kontak verbreek en uit die gebied onttrek het.63 In hierdie geval het UNITA se intelligensie hulle weereens in die steek gelaat.

Gedurende die tydperk 9 tot 17 November 1987 het die FAPLA-magte sowat 600 gesneuweldes en 'n soortgelyke aantal gewondes gely, terwyl die SAW se sewentien gesneuweldes en veertig gewondes 'n ongekende hoë ongevallesyfer vir die weermag was.64 UNITA se totale verliese gedurende die tydperk is ongelukkig nie in beskikbare SANWD-dokumentasie vervat nie. Tot en met 13 November 1987 het daar na bewering 155 UNITA-soldate gesneuwel en is 662 gewond. Benewens die suksesvolle Slag van Chambinga het die UNITA/SAW-bondgenote nie veel sukses behaal nie en is die doelwit om alle FAPLA-brigades oos van die Cuito-rivier te vernietig, nie naastenby bereik nie.

 

Die "finale" SAW/UNITA-offensief, 25-26 November 1987

Die SAW/UNITA-bondgenote het na indringende samesprekings besluit om die primêre doelwit, naamlik om die FAPLA-magte oos van die Cuito-rivier te vernietig, nie te laat vaar nie.65 Generaal Ben-Ben, visestafhoof van UNITA, het reeds op 20 November 1987 samesprekings met SAW-verteenwoordigers begin voer rakende die aanwending van UNITA-magte.66 Konsensus is bereik dat UNITA maksimaal aangewend sou word deur onder andere verantwoordelik te wees vir die hoofaanval in samewerking met die SAW. Só byvoorbeeld moes UNITA tydens fase 2 die hoofaanval op 25 Brigade se stellings, in die omgewing van die Chambinga-brug, loods. Veggroep B moes die nodige ondersteuning bied en 'n opvolgaanval van stapel stuur, terwyl Veggroep C as reserwe aangewend sou word.67

UNITA se 3 en 5 Regular68 Bataljons het reeds op 21 en 22 November 1987 aanvalle op FAPLA-elemente oos van die Chambinga-brug geloods. Hulle kon egter nie die herwinningspogings stuit nie en het uiteindelik onttrek weens die inmenging van FAPLA-tenks.69

Enkele dae later, op 25 November 1987, is die hoofaanval deur UNITA, ondersteun deur die SAW, geloods. Teen 10:00 het 5 Regular Bataljon van UNITA suid van die Chambinga-rivier kontak gemaak. FAPLA-lugaktiwiteite het die aanvalsmag egter staties gedwing en UNITA het daarom aanvanklik teruggetrek, en eers na sowat 'n uur in die geveg betrokke geraak. Teen 14:00 het 5 Regular Bataljon 25 Brigade weer aangeval. Tydens die genoemde gevegte is UNITA teruggedryf en het geweldige verliese gely. Intussen, om 10:00, het 3 Regular Bataljon elemente van 66 Brigade suksesvol aangeval. Een tenk is met 'n 106 mm uitgeskiet, waarop die oorblywende FAPLA-elemente - bestaande uit hoofsaaklik infanteriste en twee tenks - noord oor die rivier teruggeval het.70

 

Die laaste SAW/UNITA-aanvalle tydens Operasie Moduler, 25-26 November 1987

 

 

Veggroep Bravo van die SAW moes die UNITA-magte ondersteun, maar die geweldig digte plantegroei het die beweging van die veggroep 'n onbegonne taak gemaak en hulle tot 'n slakkepas beperk.71 Eers teen 17:00 het Veggroep Bravo die buitenste FAPLA-stellings bereik. Die bevelvoerder wou eers sy mag konsolideer na die gesukkel deur die digte bosse, maar het ongelukkig 'n ontruimde FAPLA-bataljonstelling daarvoor gekies. Met die uitstap van die veggroep is hulle met mortiere bestook. Een van die mortiere het binne 'n Ratel 90 ontplof en een kanonnier het gesneuwel, terwyl nege lede gewond is.72 Weens die akkurate mortiervuur het die veggroep inderhaas onttrek en aangesien dit reeds laat was, het die bevelvoerder besluit om nie weer ' poging aan te wend om aan te val nie. Ook Veggroep Charlie, wat teen 15:14 hewige en akkurate indirekte vuur getrek het, moes met drie gewondes onverrigtersake onttrek.73 Benewens die beperkte sukses van 3 Regular Bataljon was die aanval van 25 November 1987 'n totale mislukking. Die SAW-veggroepe kon nie betyds die nodige ondersteuning aan UNITA bied nie, onder andere weens die onbegaanbare terrein.

Die gebrek aan voldoende betroubare gevegsinligting om die offensief voort te sit, was gedurende die nag van 25-26 November net so 'n probleem soos voorheen. Die inligtingstawwe was vir 80 persent van hulle informasie afhanklik van onbetroubare UNITA-bronne. Veral wat betref die ontplooiing van die FAPLA-magte is verwarrende informasie dikwels ontvang. Daarbenewens is elemente van FAPLA met mekaar verwar en is stellings aangedui wat in werklikheid nie meer deur FAPLA beset was nie. Die sterkte van die FAPLA-magte is ook gewoonlik oorskat.74

As gevolg van die hewige UNITA-verliese wat die vorige dag gely is en die kritieke verwonding van die bevelvoerder, is 5 Regular Bataljon onttrek. 4 Regular Bataljon, ondersteun deur Veggroep Charlie, is gevolglik getaak om 5 Regular Bataljon se plek in te neem. Veggroep Bravo het op 26 November die FAPLA-stellings op die hoë grond noord van die Chambinga-brug verlate gevind. Gevolglik was daar geen flankbedreigings vir 4 Regular Bataljon en Veggroep Charlie gedurende die deurbeweeg suid van die FAPLA-stellings nie.75 Om 15:40 het UNITA se 4 Regular Bataljon gerapporteer dat hulle kontak gemaak het; in werklikheid was dit slegs verdedigingsvuur deur FAPLA toe UNITA die doelwit bereik het. Indirekte vuur wat op UNITA neergebring is, is telkens as 'n kontak gerapporteer.76

Veggroep Charlie is weens die digte bosse en bome gekortwiek om UNITA te rugsteun. Tot oormaat van ramp het die veggroep onwetend in n mynveld beland. n Withings-herwinningsvoertuig het n landmyn afgetrap, waarna hewige indirekte vuur op die veggroep neergebring is. Die hewigheid en akkuraatheid van die FAPLA-bestoking het kommandant Marais genoop om te rapporteer dat hy nie sy opdrag kon uitvoer nie en daarom het Veggroep Charlie onverwyld na veiligheid onttrek.77 So het die 26 November-offensief ook misluk omdat UNITA weer eens nie die nodige SAW-ondersteuning geniet het nie.

Teen die aand van 26 November was dit klinkklaar dat UNITA en die SAW nie die FAPLA-magte sodanig sou bedreig dat hulle oor die Cuito-rivier sou onttrek nie, en dat die FAPLA-magte nie op grond van 'n blote bedreiging sou onttrek nie. Hulle sou fisies in hulle stellings aangeval en verdryf moes word. Die offensief het jammerlik misluk en die FAPLA-magte het daarin geslaag om oos van Cuito Cuanavale te hergroepeer en drie verdedigingslinies te vestig.78 'n Nuwe aanslag sou derhalwe op 'n kreatiewe wyse bedink moes word.

Omdat die UNITA-aanvalsmag deur die SAW-veggroepe in die steek gelaat is, kon die oogmerk om FAPLA oos van die Cuito-rivier te vernietig of ten minste oor die rivier te verdryf, nie naastenby verwesentlik word nie. Die futiele aanwending van gemeganiseerde veggroepe in die onherbergsame terrein, gekombineer met deeglik verskanste FAPLA-stellings, was onoorkomelike hindernisse.

Aangesien die omruiling van troepe in die omgewing van Mavinga plaasgevind het, is UNITA versoek om meer Stingermissiele om Mavinga te ontplooi.79 Op 9 Desember 1987 het 4 SAI hulle oorhandiging en oorname voltooi en het die laaste van die "ou" troepe na Suid-Afrika vertrek. 80 Daarmee is Operasie Moduler formeel afgesluit en is die beplanning van Opvolgoperasie Hooper inderhaas voortgesit.81

 

Gevolgtrekking

Kolonel Fred Oelschig, senior skakeloffisier tussen Savimbi en die SAW (1986 tot 1991), het 'n besonder positiewe herinnering aan die rol van UNITA:

Unita het 'n guerrillaleër gehad wat goed gebalanseerd was, wat goed opgelei was en wat oor die algemeen goeie vegters was. Hierdie stelling sal nie deur sommige van my SAW-kollegas ondersteun word nie as gevolg van verskeie teleurstellings tydens die geveg.82

Die oorgrote meerderheid van die SAW-lede het inderdaad nie die positiewe siening van Oelschig gedeel nie maar was van mening dat die deursnee- UNITA-soldaat nie besonder toegewyd of dapper was nie. Die Russies/Kubaanse magte in Angola het op hulle beurt dieselfde mening oor die FAPLA-soldate gehad, soos verwoord deur V.A. Mityaev, Russiese militêre adviseur in Angola (1986 tot 1989): "The Angolans hear gunfire and run. They aren't really brave soldiers. The Angolans were terrified of the South Africans. ... many Angolans just ran away as soon as the South Africans advanced."83 'n Verdere swakheid van UNITA was om male sonder tal te rapporteer dat hulle in kontak was, terwyl dit bloot 'n bestoking was deur vyandelike tenks.84

Ondanks die bogenoemde kritiek het UNITA 'n onontbeerlike ondersteuningsfunksie ten opsigte van die SAW gelewer, veral wat betref hulle aanwending as ligte infanterie. In dié verband het UNITA vele en wyduiteenlopende take verrig: diens as skermmagte (voorhoede) tydens aanvalle; opruiming na gevegte; beskerming van verowerde doelwitte; SAW-artilleriestellings en kernbelangrike logistieke verbindings; asook aanhoudende kwelaksies en steekaanvalle.85

Tydens grondaanvalle op die FAPLA-magte is UNITA-soldate merendeels as skermmag of voorhoede aangewend. Die algemene SAW-siening was dat UNITA te stadig beweeg het en boonop te gou of te maklik kontak verbreek het. In die meerderheid van die gevalle het UNITA op die vlug geslaan, veral wanneer FAPLA-tenks op die toneel verskyn het. UNITA-bevelvoerders het inderdaad meer gesukkel om hul magte te motiveer om vorentoe te beweeg en nie te vlug nie, as wat hulle beheer kon toepas oor die geveg voorhande.86 Ondanks dié probleme het die SAW voortgegaan om UNITA as skermmagte tydens gevegte aan te wend, omdat dit vir hulle gerieflik was. Die SAW-verliese is gevolglik tot die minimum beperk en UNITA het as "kanonvoer" hewige verliese gely.

Die SAW het besluit dat aangesien dit "UNITA se oorlog is", UNITA-magte maksimaal tydens die oorblywende fases van Operasie Moduler aangewend moes word. Hierdie beleid is veral tydens die offensiewe van 25 en 26 November 1987 toegepas, toe UNITA se 3, 4 en 5 Regular Bataljons as hoofmag aangewend is en die SAW-veggroepe in 'n ondersteunende rol diens gedoen het. Dié offensiewe het klaaglik misluk, aangesien die SAW hulle deeglik misgis het met die aanwending van gemeganiseerde magte op 'n bykans onbegaanbare terrein. Die SAW kon gevolglik nie sy ondersteuningsrol vervul nie, en die UNITA-infanteriebataljons het hewige verliese gelei. Die aanwending van UNITA as hoofaanvalsmag is gemotiveer deur die feit dat die FAPLA deeglik ingegrawe was en dat die aanwending van SAW-infanteriste tot aansienlike lewensverlies en gevolglike fel binnelandse kritiek in Suid-Afrika sou lei.

Die Stingerspanne het tydens die laaste fases van Operasie Moduler ook weinig sukses behaal. Dié spanne het egter volgens Heitman87 die Kubaanse vegvliegtuie "at a respectful altitude" gehou en het sodoende die skade beperk wat die vegvliegtuie kon aanrig. Kolonel Deon Ferreira, bevelvoerder van 20 Brigade, merk derhalwe ook op: "Die vyand se MiG-23's was die enkele grootste bedreiging vir ons operasies. Hulle het ons aanhoudend geteister, maar gelukkig het Unita oor Stingermissiele beskik wat hulle op die hoër hoogtes gehou het."88

UNITA-intelligensie het tydens die oorblywende fases van Operasie Moduler nie aansienlik verbeter nie en dit het groot spanning tussen die bondgenote veroorsaak, ten spyte van die enkele uitsonderlike gevalle waar die UNITA-intelligensie in die kol was en dié van die SAW foutief. Behoorlike gevegswaarderings was gevolglik plek-plek heeltemal onmoontlik. Die UNITA-grondinligting was relatief akkuraat, maar die UNITA-vertolking daarvan moes met groot omsigtigheid deur die SAW hanteer en so ver doenlik deur eie intelligensie bevestig word. Inligting rakende die beweging van FAPLA-brigades is hoofsaaklik verkry vanaf UNITA-bronne en moes bevestig word deur SAW-verkenningspanne waar dit moontlik was. Daar kon egter nie altyd met sekerheid bepaal word presies watter FAPLA-mag of -element waargeneem is nie.89 Die SAW-veggroepbevelvoerders is deur UNITA-spanne vergesel om FAPLA-stellings te bespied, en hulle het help beplan aan die ontplooiing van observasieposte en het gidse en beskermingselemente vir die voorste observasieposte voorsien. Tot frustrasie van die SAW-veggroepbevelvoerders het van die gidse egter soms tydens aanmarse verdwaal of nie betyds opgedaag nie.

Die romantiese siening van F. Oelschig, skakeloffisier tussen die SAW en UNITA, was dus ver van die waarheid verwyderd: "One of the great achievements of UNITA was in maintaing a regular flow of information that we needed about the enemy. It was high-quality information."90

Een van die hooftake van UNITA was om kwelaksies teen FAPLA se logistieke operasies te loods. Dat UNITA 'n doring in die vlees vir FAPLA was, word treffend deur Heitman verwoord:

The size of the FAPLA logistics convoys raises an interesting point. Smaller convoys would have run far less risk of attacks by the SAAF, and air attacks did cause considerable damage to some of the convoys. The fact that Fapla none the less chose to run such large convoys therefore suggests that the threat of attack by Unita was very real, justifying acceptance of the risk of air attack to be able to defend effectively against ambush. 91

UNITA was ook ten nouste betrokke by die SAW se "Sielkundige Operasies". UNITA-spesialiste was sleutelfigure in die beoordeling en opstel van propagandamateriaal. Na gesamentlike goedkeuring deur die bondgenote is die pamflette gelaai en deur G5-kanonne op FAPLA-stellings afgevuur. Die oorweldigende oorwinning tydens die Slag van die Lomba-rivier is maksimaal as propagandamateriaal tydens die oorblywende fases van die operasie ingespan.92 Die effektiwiteit van dié Sielkundige Operasies was egter gering en die mislukte SAW/UNITA-offensiewe van 25 en 26 November 1987 het die moreel van FAPLA aansienlik verhoog.

Ondanks kritiek op UNITA as 'n bondgenoot is die positiewe aspekte van hulle bydrae van veel groter omvang as die negatiewe aspekte. 'n Wydgeskakeerde terrein, hoofsaaklik in 'n ondersteunende rol, soos onder andere deur lugafweeraksies; insameling van inligting; aanwending as ligte infanterie; voorhoede of skermmag tydens aanvalle; en misleidings- en steekaanvalle. Sonder hierdie sleutelbydraes van UNITA sou die beperkte SAW-mag van 'n skamele sowat 2 500 man 'n veel moeiliker taak voor hande gehad het.

 

 

1. In die artikel, G.J.J. Oosthuizen, "Die Suid-Afrikaanse Weermag en die 'Stryd' om Cuito Cuanavale: Fases 2, 3 en 4 van Operasie Moduler, Oktober - Desember 1987", New Contree, 61, Mei 2011, pp 31-55, word die fokus, soos aangedui in die titel, geplaas op die omstredenheid rakende Cuito Cuanavale. In hierdie artikel is die fokus op die UNITA-aandeel in Operasie Moduler en is die toeganklike SAW-bronne dienooreenkomstig benader. Primêre bronne vanuit 'n UNITA-perspektief is bykans ontoeganklik weens onder andere taal- en logistieke probleme. Om die kwessie te probeer systap is bykans onmoontlik en sal onder andere onderhoude met oorlewendes ter plaatse (Angola) gevoer moet word.
2Beeld, 14 November 2011.         [ Links ]
3. G. Shubin, Appendix 1: "Gauging the Losses and the Outcome", in G. Shubin and A. Tokarev (eds), Bush War: The Road to Cuito Cuanavale, Soviet Soldiers' Accounts of the Angolan War (Jacana Media, Pretoria, 2011), p 190.
4. Die term sluit deurgaans ook die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag in.
5. F. Oelschig, "FAPLA se Finale Poging: Die Opbou", in J. Geldenhuys (samesteller), Ons was Daar: Wenners van die Oorlog om Suider-Afrika (Kraal-Uitgewers, Pretoria, [2011]), p 399.
6. Sluit ook Russies en Kubaanse magte in.
7. G.J.J. Oosthuizen, "Operasies Chuva en Moduler (Fase 1): 'n Waardering van die SAW-UNITA-bondgenootskap, Mei tot Oktober 1987", Historia, 57, 2, November 2012, pp 378-415; kyk ook A.J. Venter, War Stories: Up Close and Personal in Third World Conflicts (Protea, Pretoria, 2011), pp 329-330.
8. Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Dokumentasiesentrum (hierna SANWD), Pretoria, J.F. Huyser-versameling (JFH), Houer 18, Lêer 72: R. von Moltke, Projek Histogram, Konsep Operasie Moduler (Fase 2), ongedateerd, reeks 3, pp 2-4.
9. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 16, Lêer 56, vol 3, D OPS/496/7 Oktober 1987: H Leër/SWA GM 31 Tak HK Rundu; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 6 Oktober 1987, reeks 22A, pp19B-19H.
10. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 6 Oktober 1987, reeks 22A, p 19E.
11. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 16, Lêer 56, vol 3, H Leër/D OPS/309/1 Moduler en LMH/TS/SSO OPS PLAN/309/4 - Moduler: Beslissingsvoordrag aan H SAW oor Voortgesette SAW Deelname aan Op Moduler, ca 12 Oktober 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 13 Oktober 1987, reeks 77, pp 56-57; Houer 16, Lêer 56, vol 3: Sein HK SWAGM/Kol. Botha D Ops, 19 Oktober 1987; Houer 16, Lêer 56, D Ops/309/1 Op Moduler: Sein H Leër 31/SWA GM 31, 27 Oktober 1987.
12. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 16, Lêer 56, D Ops/309/1 Op Moduler: Sein H Leër 31/SWA GM 31, 27 Oktober 1987; Houer 28, Lêer 132, Ops/901/31 Oktober 1987: 20 Brigade/Veggroep Bravo; Houer 28, Lêer 132, Ops/790/23 Oktober 1987: Voor HK/Veggroep Alpha, B et. al; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 27 Oktober 1987, reeks 205 en 206, pp 162-164.
13. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 24, Lêer 104: Beknopte Historiese Oorsig van die FAPLA-Offensief, pp 3, 13-14,16; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 4 Oktober 1987, reeks 14, p 15; 11 Oktober 1987, reeks 57, p 45.
14. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 52: Ops/622/13, Oktober 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 7 Oktober 1987, reeks 27, p 22; 8 Oktober 1987, reeks 36, p 29; 9 Oktober 1987, reeks 37-38, 39, pp 29-34; 11 Oktober 1987, reeks 55, pp 43-44; 13 Oktober 1987, reeks 86, p 63.
15. H-R. Heitmann, War in Angola: The Final South African Phase (Ashanti, Gibraltar, 1990), p 85.
16. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 28, Lêers 133 en 134: VHK/THK Veggroep Alpha et al. OPS/632/08 Oktober 1987, Sitrap vir die periode 071900B tot 081900B Oktober 1987.
17. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 11 Oktober 1987, reeks 65, 67-68, pp 49-50. Kyk ook I.A. Zhdarkin, "Cuito Cuanavale : Notes from the Trenches", in Shubin and Tokarev (eds), Bush War, p 57.
18. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 12 Oktober 1987, reeks 73-74, pp 53-54; Houer 26, Lêer 121: MSG 1439 20 BDE HK/Tak HK Rundu, [25 Oktober 1987].
19. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 114: Sitrap 141700B Oktober 1987 tot 151700B Oktober 1987, 20. Art Regt/Voor HK, [ca 15 Oktober 1987]; Houer 25, Lêer 106: Onderhoud gevoer deur maj. R von Moltke met kmdt Smith, SO1 Inligting INTSA op 7 en 8 Desember 1987 te Rundu, p 21; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis op Modulêr [Fase 2], reeksnommer 37, 16 Oktober 1987; Houer 28, Lêer 132: Ops/676/12 Oktober 1987, 20 Brigade/THK Veggroep Alpha et. al; Houer 24, Lêer 104: Beknopte Historiese Oorsig, p 3.22; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 13 Oktober 1987, reeks 87, p 63; 14 Oktober 1987, reeks 73, p 66; 15 Oktober 1987, reeks 76, p 67.
20. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 15 Oktober 1987, reeks 85, p 73.
21. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 Oktober 1987, reeks 90- 92, pp 77A, 77B en 78.
22. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 114: Sitrap 161700B tot 171700B Oktober 1987, 20 Art Regt/HK 20 Bde, 17 Oktober 1987; Houer 16, Lêer 57, 4090, y-berigte: 59 Bde/1 Ops Grp, 19 Oktober 1987; Houer 16, Lêer 57, 4090, y-berigte: Ops Grp/16 Bde, 17 Oktober 1987; Houer 26, Lêer 114, Sitrap 161700B tot 171700B Oktober 1987: 20 Art Regt/Voor HK 20 Bde, [17 Oktober 1987]; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 16 Oktober 1987, reeks 89, p 75; 17 Oktober 1987, reeks 90, p 77A; 17 Oktober 1987, reeks 93-94, pp 78-79;19 Oktober 1987, reeks 121, p 100.
23. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 52: Ops/789/19 Oktober 87, Tak HK Rundu/H Leër 31; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 19 Oktober 1987, reeks 117, 121, pp 97-98, 100; 20 Oktober 1987, reeks 132, p 105; 21 Oktober 1987, reeks 138, 139 en 145, pp 116B, 117, 121, 122.
24. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 53: Ops/945/24 Oktober 87, Tak HK Rundu/H Leër; Ops/980/25 Oktober 87: Tak HK Rundu/H Leër; Houer 26, Lêer 121: Ops/881/Oktober 1987, Sein 20 Bde/Tak HK et al, [29 Oktober 1987]; Ops/828/26 Oktober 1987, Sein 20 Bde/Tak HK et al; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 24 Oktober 1987, reeks 180, 181, 184, pp 147-148, 150; 25 Oktober 1987, reeks 190, p 152, 26 Oktober 1987, reeks 196, p 157; 27 Oktober 1987, reeks 202 en 203, p 161; 28 Oktober 1987, reeks 211, p 171; 29 Oktober 1987, reeks 212-217, pp 172-175; 30 Oktober 1987, reeks 218-219, 223, pp 177-180; 31 Oktober 1987, reeks 225-227, pp 182-183; 1 November 1987, reeks 231 en 234-235, pp 187-188; 3 November 1987, reeks 247, p 197.
25. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 29 Oktober 1987, reeks 182, p 149.
26. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 16, Lêer 67, y-berigte: Tak HK Rundu/20 Bde Tak HK, 28 Oktober 1987; H. Heitmann, "Operations Moduler and Hooper (1987-1988)", South African Defence Force Review, 1987/1988 (Walker-Ramus Trading, Durban, 1988), pp 279, 281.
27. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 121: Ops/813/24 Oktober 1987, Sein 20 Bde/TAK HK Rundu et al.
28. Zhdarkin, "Cuito Cuanavale: Notes from the Trenches", in Shubin and Tokarev (eds), Bush War, pp 59, 68.         [ Links ]
29. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 274, p 215; 9 November 1987, reeks 277, p 218.
30. Dit het 'n vinnige aanval en onttrekking vanaf vyandelike stellings behels om onder andere die vyandelike reaksie te toets en relevante inligting in te win om daaropvolgende aanvalle te beplan.
31. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 27 Oktober 1987, reeks 208, p 167, 1 November 1987, reeks 230, p 186, 5 November 1987, reeks 253, p 201; 9 November 1987, reeks 300, pp 234A-234B; SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram.
32. V.A. Barabulya, "Recollections of Guns, Tanks and Bombs", in Shubin and Tokarev (eds), Bush War, p 170.         [ Links ]
33. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 5 November 1987, reeks 253-255, pp 201-204; 6 November 1987, reeks 262, p 208; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 62, 9 November 1987.
34. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers, reeks 8, 7 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 7 November 1987, reeks 266, p 211.
35. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Ops 238, Inrap Bde HK/THK Rundu, [9 November 1987]; Houer 15, Lêer 53: Ops/457/09, November 1987 Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers, reekse 1-3, 9 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 278, 281-282, pp 218, 220-221.
36. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 23, Lêer 94: 20 BDE/Taakmag 10, Sitrap vir die tydperk 081900B tot 091900B November 1987; Houer 26, Lêer 110: Sitrap 081900B tot 091900B November 1987, 20 BDE/Taakmag 10. Kyk ook Zhdarkin, "Cuito Cuanavale: Notes from the Trenches", in Shubin and Tokarev (eds), Bush War, p 59.
37. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 53: Ops/457/09 November 1987: Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 5 en 8, 9 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 285-286, pp 222-223.
38. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 114: Ops/0188/November 1987, Veggroep Charlie/TM10 [18 November 1987]; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 79, 11 November 1987; Houer 15, Lêer 53: Ops/457/09 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 13, 9 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 289, p 224. Kyk ook L. Scholtz, Die SAWin die Grensoorlog, 1966-1989 (Tafelberg, Kaapstad, 2013), pp 300-301.
39. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 53: Ops 457/09 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 ; Houer 17, Lêer 70, Moduler, Fase 2 Sitraplêers: Reeks 16 en 18, 9 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 293, p 227.
40. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 53: Ops 473/10 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 26, Lêer 110: Ops 238, Sitrap 081601B tot 091600B November 1987, BDE HK/Tak HK.
41. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Sitrap vir die tydperk 081900 tot 091900 B November 1987, Taakmag 10/20 Bde [9 November 1987]; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommers 81-83, 11 November 1987; Houer 24, Lêer 104: Beknopte Historiese Oorsig, p 3, 23; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 290 en 291, p 225; Houer 26, Lêer 111: Ops/0014/87, Veggroep Charlie/Tak HK [9 November 1987].
42. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 23, Lêer 94: Ops 309/1 Sitrap 121900B tot 131900B November 1987, TM HK 10/20 Bde HK [13 November 1987]; Houer 26, Lêer 111: Ops/0014/87, Veggroep Charlie/Tak HK, [9 November 1987]; Houer 26, Lêer 114: Ops/0188/Nov 87, Veggroep Charlie/TM10; Houer 15, Lêer 53: Ops/457/09 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 22, 26 en 41, 9 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 295, p 228.
43. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 302, pp 235-236.
44. UNITA-verliese is onbekend. Dit moes egter 'n aansienlike aantal beloop het, aangesien UNITA hoofsaaklik as infanterie ("kanonvoer") aangewend is.
45. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 301, pp 234B-235.
46. SANWD, Pretoria, H Leër, D Opl, Groep 45, Houer 165, Lêer 309/1, vol 6: Memorandum, Direkteur KDK en Direkteur Spys/Direkteur Opleiding, 31 Maart 1988, p 2.1; Groep 45, Houer 165, Lêer 309/1, vol 6 [Nabetragtingsverslag Operasie Hooper], Bylaag tot Memorandum Direkteur Infanterie/Direkteur Opleiding, 2 Mei 1988, reeksnommer 21, 37, pp 10, 17.
47. SANWD, Pretoria, H SAW, Groep 4, Houer 62, Lêer HSAW/V/305/5: Lesse Geleer tydens Konvensionele Operasies in die Westelike Subteater SA Leër [3 Maart 1990], pp 2-1, 2- 13, 2-19, 5-1, 5-10.
48. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 9 November 1987, reeks 304, p 237; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, 23 Februarie 1988, reeksnommer 71, 10 November 1987.
49. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, 23 Februarie 1988, reeksnommer 72, 10 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, reeks 309, pp 241-242.
50. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 12 November 1987, reeks 370-371, pp 279-281; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, 23 Februarie 1988, reeksnommer 71, 10 November 1987; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: reeks 7, 13 November 1987.
51. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 10 November 1987, reeks 319, p 248; 10 November 1987, reeks 313, p 244. Kyk ook P. Nortje, 32 Battalion: The Inside Story of South Africa's Elite Fighting Unit (Zebra Press, Cape Town, 2003), p 243.
52. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110, Ops/996/Nov 87: THK/Bde [11 November 1987].
53. Heitmann, War in Angola, pp 143-144.
54. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 11 November 1987, reeks 350 en 352, pp 273-274, 276; 12 November 1987, reeks 373-374, pp 283-284; 13 November 1987, reeks 381, 383, 385, 386-387, pp 288, 289-292; 14 November 1987, reeks 395-396A, pp 301-302.
55. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 25, Lêer 106: Onderhoud gevoer deur maj. R von Moltke met kmdt Smith, pp 50-51; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 15 November 1987, reeks 406, p 308.
56. Unita-verliese is ongelukkig nie bekend nie.
57. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 114: Sitrap LI 215, TM10/20 Bde, 161630B [Nov 87]; Houer 26, Lêer 114: Ops/309/1, 151900B tot 161900B November 1987, Taakmag 10/20 Bde HK [16 November 1987]; Houer 25, Lêer 106: Onderhoud gevoer deur maj. R von Moltke met kmdt Smith, p 55; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 111 en 112, 16 November 1987; Houer 15, Lêer 53: Ops/034/16 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 4, 5 en 6, 16 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 16 November 1987, reeks 419-421, 431; pp 316-318, 324A-324B.
58. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 23, Lêer 94: Ops 309/1, Sitrap 171900B-181900B November 1987, 10 TM/20 Bde [18 November 1987]; Houer 15, Lêer 53: Sit 6 Mil Streek, 17 November 87; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 12 en 15, 16 November 1987; Houer 24, Lêer 104: Beknopte Historiese Oorsig, pp 3.25-3.26; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram,16 November 1987, reeks 426, 429, 430A, 430B, pp 320-324A.
59. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 November 1987, reeks 439, p 330; SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, 23 Februarie 1988, reeksnommer 130, 17 November 1987. Kyk ook Scholtz, Die SAW in die Grensoorlog, p 310 rakende die onbetroubaarheid van UNITA-gidse en -inligting.
60. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 53: Ops/074/17 November 19 87, Tak HK Rundu/H Leër; Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 2 en 4, 17 November 1987; Houer 24, Lêer 104: Beknopte Historiese Oorsig, pp 3.26-3.27; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 November 1987, reeks 438, 445; pp 329, 335.
61. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 November 1987, reeks 445, p 335.
62. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 25, Lêer 106: Onderhoud gevoer deur maj. R von Moltke met kmdt Smith, pp 65-66; Houer 17, Lêer 69: Op Modulêr, reeks 132, 133, 134 en 135A, 17 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 November 1987, reeks 443, pp 332-333.
63. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 136-139, 17 November 1987; reeksnommer 140-141, 18 November 1987.
64. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 17 November 1987, reeks 452, pp 338-339; 18 November 1987, reeks 480-480B, pp 355-357.
65. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 16, Lêer 56: D OPS/421/19 November 1987, H Leër 31/SWA GM 31, p 1; Houer 16, Lêer 56: D Ops/309/1 Op Moduler, Sein H Leër 31/SWA GM 31, 19 November 1987; Houer 17, Lêer 70: Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 1, 19 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 18 November 1987, reeks 470, p 349.
66. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 23, Lêer 94: TM HK 10/20 BDE HK, Sitrap Op Moduler 309/1 191900B tot 201900B November 1987.
67. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 21 November 1987, reeks 491, p 367, 23 November 1987, reeks 501, pp 374-381; Houer 15, Lêer 54, deel 4: Ops/253/24 No 87, Tak HK Rundu/H Leër et al; Houer 26, Lêer 114: Ops/0002/23 November 1987, Tak HK 10/Veggroep Alpha et al.
68. In die amptelike SAW-dokumentasie word die term "Regular" deurgaans gebruik en is daar nie 'n Afrikaanse eweknie geskep nie. Regular Bataljons het diens gedoen as spesialisformasies en het beskik oor intensief opgeleide troepe en was gerat om in bataljonsterkte te opereer. Dié bataljons het beskik oor die kapasiteit om konvensionele oorlog te voer, behalwe in sy mees gesofistikeerde vorm, met spesiale klem op antitenk-, antilug- en ondersteunende artillerievermoë. Kyk Oosthuizen, "Operasies Chuva en Moduler (Fase 1)", p 386.
69. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 70, Moduler Fase 2 Sitraplêers: Reeks 2, 21 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 21 November 1987, reeks 489, p 365; Houer 26, Lêer 110: Sitrap 211800B tot 221800B November 1987, TM 10 HK/20 Bde.
70. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 114: Ops/309/1 24 November 1987, Sitrap Op Moduler Op 309/1 241900B November 1987 tot 251900B November 1987, TK HK 10/BDE HK 20; Houer 15, Lêer 54, deel 4: Ops/338/26 November 1987, Sitrap242359B tot 252359B November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 26, Lêer 110: Sitrap 241601B tot 251600B November 1987, BDE 20/Tak HK Rundu; Houer 23, Lêer 94: TK HK 10/BDE HK 29, Sitrap Op Moduler 241900B November 1987 tot 251900B OPS/309/1 24 November 1987; F. Bridgland, The War for Africa: Twelve Months that Transformed a Continent (Ashanti, Gibraltar, 1990), pp 230-232.
71. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Ops/309/1 24 November 1987, Sitrap TK HK 10/Bde HK 20; Houer 15, Lêer 54: Ops/338/26 November 1987: Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 24, Lêer 99: Art Sitrap 250000B November 1978 [sic] tot 251937B November 1987, 10 TK HK/Bde HK 20 [25 November 1987]; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 24 November 1987, reeks 508 en 509, pp 387-388; 25 November 1987, reeks 516, 519; pp 392-394.
72. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Sitrap 241601B-25 1600 B November 1987, Bde 20/Tak HK Rundu, 25 November 1987; Houer 26, Lêer 110: Ops/309/1 24 November 1987, Sitrap TK HK 10/Bde HK 20; Houer 26, Lêer 114: Ops/309/1 24 November 1987, Sein TK HK 10/Bde HK 20; Houer 30, Lêer 155: Operasie Moduler, Onderhoud met kmdt Smith, p 79; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 174, 25 November 1987; Houer 15, Lêer 54: Ops/338/26 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 24, Lêer 99: Sitrap Op Moduler 309/1 241900B November 1987 tot 251900B November 1987, Bde HK 20/TK HK 10 [25 November 1987].
73. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Sitrap 241601B-25 1600 B November 1987, Bde 20/Tak HK Rundu, 25 November 1987; Houer 26, Lêer 114: Ops/309/1 24 November 1987, Sein TK HK 10/Bde HK 20; Houer 30, Lêer 155: Onderhoud met kmdt Smith, p 80; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 174 en 175, 25 November 1987; Houer 15, Lêer 54: Ops/338 26 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 24, Lêer 99: TK HK 10/BDE HK 20, Sitrap Op Moduler Op 309/1 241900B November 1987 tot 251900B November 1987.
74. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 25 November 1987, reeks 536; pp 403-404.
75. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 179 en 180, 26 November 1987; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 26 November 1987, reeks 541 en 542, p 408.
76. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 15, Lêer 54, deel 4: Ops/370/27 November 1987, Sitrap periode 252359 November 1987 tot 262359B November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 26 November 1987, reeks 546; p 410.
77. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 26, Lêer 110: Sitrap 251601B tot 261600 November 1987, 20 Bde/Tak HK Rundu, 26 November 1987; Houer 30, Lêer 155: Onderhoud gevoer met kmdt Smith, pp 83-84; Houer 17, Lêer 69: Militêre Geskiedenis, reeksnommer 181 en 182, 26 November 1987; Houer 15, Lêer 54: Ops/370 27 November 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 26 November 1987, reeks 546-550, pp 410-412. Kyk ook Scholtz, Die SAW in die Grensoorlog, p 315.
78. SANW, Pretoria, JFH, Houer 24, Lêer 99: Inrap 5/87, Situasie CC Front 26 Nov 87, [27 November 1987]; Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 26 November 1987, reeks 558, pp 417-418; R. Dreyer, Namibia and Southern Africa: Regional Dynamics of Decolonisation, 1945-1990 (Kegan Paul, London, 1994), p 169.
79. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 28 November 1987, reeks 567, p 422.
80. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 29, Lêer 146: Oorlogsdagboek HK 20 Bde, tydperk 290001 B-292359B November 1987, reeks 1; tydperk 300001B-302359B, November 1987, reeks 1; tydperk 010001 B-012359 B Desember 1987, reeks 1; tydperk 020001 B-022359 B Desember 1987, reeks 1; tydperk 09001 B-092359 B Desember 1987, reeks 2.
81. J. Geldenhuys, A General's Story from an Era of War and Peace (Jonathan Ball Publishers, Johannesburg, 1995), p 219; D. Williams, On the Border: The White South African Military Experience 1965-1990 (Tafelberg, Cape Town, 2008), p 104.
82. F. Oelschig, "Die SAW en UNITA in 1987: Die Begin van die Einde", in Geldenhuys, Ons was Daar, p 211.
83. V.A. Mityaev, "The Tide Turns", in Shubin and Tokarev (eds), Bush War, p 27.
84. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 25, Lêer 106: Onderhoud met kmdt Smith, p 82.
85. H. Hamann, Days of the Generals.The untold story of South Africa's apartheid-era military generals (Zebra Press, Cape Town, 2001), p 92; J. Geldenhuys, At the Front: A General's Account of South Africa's Border War (Jonathan Ball Publishers, Johannesburg, 2009), p 236; Geldenhuys, A General's Story, p 219.
86. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 25, Lêer 106: Onderhoud met kmdt Smith, pp 93-96.
87. Heitmann, War in Angola, pp 333-334.
88. J. Geldenhuys, "Tee met Hermien", in Geldenhuys, Ons was Daar, p 689.
89. SANWD, Pretoria, JFH, Houer 18, Lêer 72: Projek Histogram, 18 Oktober 1987, reeks 103, p 87.
90. Bridgland, The War for Africa, p 386.
91. Heitmann, War in Angola, pp 130-131.
92. SANWD, Pretoria, JFH, houer 26, Lêer 119: Sitrap no 6 siel ops tydperk 1-7 Oktober 1987, 7 Oktober 1987; Houer 25, Lêer 105: KO/494/14 Okt 87, Tak HK/Voor HK; Houer 15, Lêer 52, deel 2: Ops/490/08 Oktober 1987, Tak HK Rundu/H Leër 31 et al.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons