SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número1J.H. Hofmeyr and the Afrikaner Bond: A challenge to William Milton's "Englishness" and the advance of the "coloured" cricketer índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Historia

versão On-line ISSN 2309-8392
versão impressa ISSN 0018-229X

Historia vol.59 no.1 Durban Jan. 2014

 

ARTIKELS ARTICLES

 

De Zuid-Afrikaan se standpunt oor stemreg vir bruin mense voor die totstandkoming van die Kaapse koloniale parlement in 1854

 

The viewpoint of The Zuid-Afrikaan on the franchise for coloured people prior to the establishment of the Cape colonial parliament in 1854

 

 

Pieter de Klerk

Pieter de Klerk is buitengewone professor in Geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus). Hy het onder meer 'n aantal publikasies oor die Suid-Afrikaanse historiografie gelewer. E-pos: pieter.deklerk@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die koerant De Zuid-Afrikaan, wat in 1830 opgerig is om veral as mondstuk te dien van die Nederlandstalige inwoners van die Kaapkolonie, het hom beywer vir die totstandkoming van 'n wetgewende liggaam as deel van 'n verteenwoordigende bestuurstelsel vir die kolonie. Die blad het 'n opvoedingskwalifikasie bepleit om te bepaal watter inwoners die lede van hierdie parlement moet aanwys. Die vernaamste koloniale amptenare en leiersfigure onder die koloniste was egter ten gunste van 'n eiendomskwalifikasie. Onder hulle was daar diegene wat 'n hoë eiendomsvereiste wou hê en ander wat ten gunste van 'n laer vereiste was. De Zuid-Afrikaan het 'n lae eiendomskwalifikasie voorgestaan en het as vernaamste argument daarvoor aangevoer dat bruin mense anders feitlik heeltemal van stemreg uitgesluit sou wees. Toe die Britse regering in 1853 'n Grondwet vir die kolonie goedkeur met insluiting van 'n lae eiendomsvereiste vir stemreg, het die blad die Grondwet verwelkom as "liberaal bo verwagting" en die hoop uitgespreek dat in die nuwe parlement oorwegings van klas of kleur geen rol sal speel nie.

Sleutelwoorde: De Zuid-Afrikaan; Kaapkolonie; verteenwoordigende bestuur; wetgewende vergadering; bruin mense; stemregvereistes.


ABSTRACT

The newspaper De Zuid-Afrikaan was founded in 1830 mainly to serve as a mouthpiece of the Dutch-speaking inhabitants of the Cape Colony. It was strongly in favour of the establishment of a legislative body as part of a system of representative government for the colony. De Zuid-Afrikaan advocated an educational qualification to determine which inhabitants should participate in the appointment of members of this body. The main colonial officials and leading colonists, however, were in favour of a property qualification. Some of them wanted a high property qualification while others preferred a lower property requirement. De Zuid-Afrikaan expressed itself in favour of a low property qualification, and advanced as its main argument that a high property requirement would almost completely exclude the coloured people from the franchise. In 1853 the British government approved a constitution for the colony which included a low property qualification for the franchise. De Zuid-Afrikaan welcomed the new constitution as "liberal beyond expectation" and expressed the hope that considerations based on class and colour would not play a role in the new parliament.

Keywords: De Zuid-Afrikaan; Cape Colony; representative government; legislative assembly; coloured people; franchise qualifications.


 

 

Inleiding

In 1854 is die eerste parlementêre verkiesing in die Kaapkolonie gehou volgens 'n stemregstelsel wat as die liberaalste in die Britse Ryk van daardie tyd beskou kan word.1 De Zuid-Afrikaan, een van die oudste Nederlandstalige koerante in Suid-Afrika,2 het hom feitlik vanaf sy oprigting in 1830 beywer vir die instelling van 'n wetgewende liggaam waarvan die lede deur die inwoners van die kolonie verkies word.3 Watter inwoners moes volgens die koerant die kiesers wees wat die lede van hierdie parlement aanwys? Wat was De Zuid-Afrikaan se standpunt ten opsigte van stemreg vir inwoners wat hoofsaaklik van slawe- en Khoikhoi-afkomswas? Dit is die vrae wat hierdie artikel probeer beantwoord. In verskillende geskiedwerke word die ontwikkelinge wat gelei het tot die instelling van die Grondwet van 1853 behandel en ook na uitsprake van De Zuid-Afrikaan verwys. Daar is egter nog geen studie gedoen wat in besonder aandag gee aan die standpunt van hierdie koerant oor stemreg vir die koloniale parlement nie.

Die uitsprake van De Zuid-Afrikaan oor die stemregvraagstuk moet beskou word teen die agtergrond van die koerant se algemene beskouing oor die verhouding tussen die bevolkingsgroepe in die kolonie, wat hieronder kortliks bespreek word, alvorens die blad se standpunt oor stemregkwalifikasies van nader bekyk word.

 

De Zuid-Afrikaan en sy redakteurs

Daar het in die loop van die agtiende eeu 'n elitegroep van gegoede stedelinge en boere, die "Cape gentry", soos die historikus Robert Ross hulle noem, in die Kaapkolonie tot stand gekom.4 Dit is waarskynlik uit hierdie groep dat diegene wat meegewerk het aan die oprigting van De Zuid-Afrikaan afkomstig was. Geskiedkundiges het geen dokumente gevind wat aandui wie almal by die stigting betrokke was nie.5 Die vernaamste koerant wat reeds voor 1830 bestaan het, was die hoofsaaklik Engelstalige The South African Commercial Advertiser, wat reeds in 1824 opgerig is, maar in botsing met die goewerneur, lord Charles Somerset, gekom het en moes sluit tot die Britse regering in 1828 toestemming gegee het dat koerante vry van beheer deur die goewerneur kon verskyn.6 Die stigting van De Zuid-Afrikaan het voortgespruit uit die behoefte aan 'n mondstuk vir die Nederlandstalige koloniste en om as 'n teenvoeter te dien vir die standpunte van The South African Commercial Advertiser. Laasgenoemde blad het dr John Philip, hoof van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, se humanitêre beskouinge en sy negatiewe persepsies oor die koloniste en hul verhouding met die Khoikhoi onderskryf.7 Gedurende die eerste jaar was die finansiële posisie van De Zuid-Afrikaan nie rooskleurig nie en in April 1831 het tagtig vermoënde koloniste 'n maatskappy op die been gebring wat die voortbestaan van die blad verseker het.8 De Zuid-Afrikaan het aanvanklik weekliks verskyn, reeds in koerantformaat, en vanaf 1841 was daar twee uitgawes per week. Hoewel die koerant 'n Nederlandse naam gehad het, was dit tot in die 1870's 'n tweetalige blad. Deurgaans was een helfte van die blad in Nederlands en die ander helfte in Engels. Byna al die artikels, briewe en selfs advertensies is vertaal, sodat die Nederlandse en die Engelse bladsye feitlik dieselfde inhoud gehad het. Daar is geen presiese sirkulasiesyfers bekend nie, maar dit blyk dat dit van die begin af deur 'n groot deel van die inwoners van die kolonie gelees is.9 Hoewel die meeste Nederlandstalige inwoners weinig opvoeding gehad het, het al meer van hulle in die loop van die halfeeu voor 1850 skoolopleiding ontvang. Daar was dus 'n beduidende aantal Nederlandstaliges wat 'n ingeligte mening kon en wou vorm oor sake wat hulself, maar ook die kolonie raak.10 De Zuid-Afrikaan kon daarom in die behoeftes van 'n hele aantal inwoners van die kolonie voldoen. In 1834 was die leserstal van die koerant waarskynlik reeds twee maal so groot as dié van The South African Commercial Advertiser.11

Gedurende die eerste paar jaar van sy bestaan het die redakteurskap verskeie male gewissel. Die eerste redakteurs was C.E. Boniface, van April tot Oktober 1830, R.J. Stapleton, van Oktober 1830 tot April 1831, en C.N. Neethling, van April tot Julie 1831.12 Die volgende drie redakteurs het vir heelwat langer termyne gedien. Hulle was P.A. Brand, van Julie 1831 tot Julie 1839, C.J. Brand, van Julie 1839 tot September 1845, en J.J.H. Smuts, van 1845 tot 1871.13 C.J. Brand (1797-1875) het 'n doktorsgraad in die Regte aan die Universiteit van Leiden behaal en was later, in 1850, lid van die Wetgewende Raad en van 1854 tot 1874 Speaker van die Wetgewende Vergadering. Hy was een van die oprigters van die koerant en was waarskynlik reeds voor hy redakteur geword het betrokke by die bepaling van die blad se beleid en die skryf van hoofartikels, veral in die periode toe sy jonger broer P.A. Brand (1808-1872), toe nog in sy twintigerjare, redakteur was.14 C.J. Brand se opvolger, J.J.H Smuts (1809-1873), was die seun van 'n regsgeleerde wat in Nederland gestudeer het, maar het self slegs skoolopleiding gehad. Hy het reeds in 1830 as klerk by De Zuid-Afrikaan begin werk en was dus gedurende feitlik sy hele volwasse lewe aan die koerant verbonde.15 Brand het moontlik nog sommige hoofartikels gedurende Smuts se redakteurskap geskryf, terwyl die opvoedkundige A.N.E Changuion ook hoofartikels gelewer het, maar waarskynlik eers na 1854.16 Dalk het meer as een skrywer tot sommige van die artikels bygedra. Dit is nie moontlik om vas te stel wie vir 'n bepaalde redaksionele artikel verantwoordelik was nie, en daar moet aanvaar word dat elke hoofartikel die standpunt van die blad en sy redakteur verteenwoordig.

Benewens die talle advertensies en die hoofartikels, wat dikwels 'n hele paar kolomme en soms byna 'n bladsy beslaan het, het daar nuusberigte, verslae van korrespondente uit verskillende distrikte en lesersbriewe in die koerant verskyn. Daar is in verskeie uitgawes verklaar dat die briewe en die bydraes van korrespondente nie noodwendig die standpunt van De Zuid-Afrikaan weergee nie.17 Daarom word hier net die redaksionele artikels in beskouing geneem.

 

De Zuid-Afrikaan se beskouing oor die verhouding tussen die bevolkingsgroepe

In die redaksionele artikel van die eerste uitgawe word geskryf dat "met het aannemen van die naam 'Zuid-Afrikaan' hysen wy een banier, waaronder sich kunnen scharen alle kolonisten, zowel oude als nieuwe". Almal wat "dit land inwonen en hun bestaan uit zyn schoot trekken, zyn Afrikanen" en is gebonde om "de welstand te bevorderen en de goede naam te bewaren van hun land".18 Dit wil voorkom of die term koloniste hier gelykgestel word met inwoners of Afrikane, maar in dieselfde paragraaf word verwys na "Afrikanen, zo Engelsen als Hollandsen".19 In hierdie periode het baie min Bantusprekendes binne die grense van die kolonie gewoon. Daar was egter wel Khoikhoi of "Hottentotten", soos steeds in De Zuid-Afrikaan na hulle verwys is, 20 asook San of Boesmans ("Boschesmans"), wat nie Nederlands of Engels as moedertaal of algemene omgangstaal gebruik het nie.Dit lyk of hulle by die skryf van bogenoeme paragraaf buite die gesigsveld van die skrywer(s) geval het. Verder was daar bruin mense wat, heeltemal of gedeeltelik, van slawe en/of Khoikhoi afgestam het, maar 'n vorm van Nederlands (of 'n vroeë vorm van Afrikaans) gepraat het en wat moontlik wel deur die skrywer(s) in die kategorie van koloniste gereken is, veral as in aggeneem word dat daar geen verwysing na ras of velkleur in die paragraaf voorkom nie. Dit is baie onwaarskynlik dat die skrywer of skrywers ook slawe by die koloniste ingereken het. In dieselfde uitgawe verskyn advertensies en berigte oor die koop en verkoop van slawe, en uit die strekking van artikels en berigte blyk dit dat hulle in hierdie tydin die eerste plek as die eiendom van koloniste gesien is.

Daar word tog reeds in 'n hoofartikel van 2 Maart 1832 geskryf dat daar "geen Schepsel [is] met reden begaafd en die een menschelyk hart in zynen boezem draagt, indien hy ten minste den invloed eeuw van verlichting gevoelt, of hy zal erkennen, dat vrye arbeid veel wenschelyker ... is dan slaven arbeid". De Zuid-Afrikaan wou egter nie sien dat die beginsel van eiendomsreg aangetas word nie en gee in latere artikels heelwat aandag aan die probleme rondom slawevrystelling en kompensasie vir slawe-eienaars. 21 Die koerant verklaar in 1837 dat die vrygestelde slawe wat na 1834 nog vir vier jaar as arbeiders by hul meesters ingeboek is oor die algemeen 'n vreedsame gesindheid aan die dag lê en dat diegene wat reeds hul "volledige emancipatie" verkry het hul tans "in het volle genot onzer burgerlyke regten en previlegien" bevind.22

Tydens die redakteurskap van Boniface het De Zuid-Afrikaan hom sterk uitgespreek teen die beleid van Philip en ander sendelinge teenoor, veral, mense van Khoikhoi herkoms.23 Ook in 'n hoofartikel wat tydens die redakteurskap van sy opvolger, Stapleton, verskyn het, word geskryf: "Er bestaat positief by ons een Christelyk en menschlievend gevoel, voor de gekleurde Ras die wy achten", maar daar bestaan tegelykertyd "eene nieuw modische zoogenoemde 24 mensch lievendheid, die wonderen konden uitwerken, maar zyne krachten uitput met schuim bekkend te praten".25 De Zuid-Afrikaan verklaar hom in 1832, tydens die redakteurskap van P.A Brand, ten gunste van 'n beleid om die "Naturellen", waarmee veral die Khoikhoi bedoel word, "uit hunnen ruwen en onbeschaafden toestand, in eene beschaafde zamenleving te brengen" en hulle in die geleentheid te stel om "vatbaar te worden voor eene maatschappelyke zamenleving, ten einde eenmaal en op zynen tyd met ons allen gezamenlyk Burgers eener Maatschappy uit te maken, die de pligten van elken Burger gevoelen niet alleen, maar ook zouden kunnen vervullen". Die koerant meen egter dat die "Philantropisten ... die zoo overluid over onregtvaardige, onmenschlievende en wrede behandeling hebben geschreeuwd" die uitvoering van so 'n beleid net skade aandoen.26

Daar word in die koerant dikwels gewys op die gevare van "toomelooze rondzwervingen" veral deur "Hottentotten", waardeur "de eene klasse in de Maatschappy" van sy rus en veiligheid beroof word en "de lasten mede van eene andere klasse" moet dra. 27 In 'n latere artikel word gekla oor "de schrikverwekkende voortgang der zedeloosheid en dronkenschap onder de gemeene klasse voornamelijk des Zondags in de Stad"; van hierdie "gemeene klasse" is die meeste "Hottentotten".28 Die blad was dan ook daarmee ingenome dat die Wetgewende Raad van die Kaapkolonie 'n wetsontwerp teen landlopery aanvaar het, 29 maar die Britse regering het verhoed dat dit in werking gestel word. 30 In verskeie verdere redaksionele artikels word aandag gegee aan die probleem van "leegloopers en vagebonden", wat vererger is deurdat baie vrygestelde slawe plase verlaat en 'n swerwersbestaan begin voer het.31 Dit het tot 'n arbeidsprobleem vir die boere gelei en die blad het het hom ten gunste verklaar van die invoer, vanaf die eiland Sint Helena, van "Prys-Negers", dit wil sê mense uit ander dele van Afrika wat bestem was om as slawe verkoop te word en op skepe vervoer is wat deur die Britse regering voorgekeer is.32 Die koerant het ook 'n skema om arbeiders uit Europa in te voer gesteun, maar hom sterk uitgespreek teen die invoer van Britse bandiete en die protesbeweging ondersteun wat daartoe gelei het dat die Britse regering daarvan afgesien het om bandiete na die Kaap te stuur.33

De Zuid-Afrikaan se redaksionele artikels handel veral oor die probleme van die boere en die handelaars, maar daar word tog soms kritiek op regeringsmaatreëls gelewer wat veral die arm inwoners van die kolonie raak. Op 6 November 1840 word byvoorbeeld geskryf dat 'n nuwe belasting op produkte soos suiker, koffie en rys veral "het Maleidsche volk, de geëmancipeerde zwarten34 en de armere klassen van blanke ingezetenen" swaar sal tref. In 'n latere uitgawe word verklaar dat die "Maleiers ... zich stellig beter en oneindig fatsoenlyker dan het gemeene volk der groote steden van Europa" gedra en dat die "ingevoerde kleurlingen en gemengde geslachten" in Kaapstad hulle ook oor die algemeen goed gedra en die polisie weinig moeite gee. Die "lagere klassen" van die stad is min geneig tot "beroering".35 Hoewel De Zuid-Afrikaan hom in hoofartikels positief oor die Maleiergroep van Kaapstad en omgewing uitlaat, was die blad daarteen gekant dat Moslems as jurielede dien omdat jurielede 'n eed moes aflê en daarmee "de God van het Oude en Nieuwe Verbond" aanroep, wat nie die "God van Mahomed" is nie. Die blad verwelkom die uitspraak van 'n regter in hierdie verband, maar meen dat daar in die betrokke ordonnansie 'n klousule ingesluit moes gewees het wat hulle van juriediens uitsluit. By Moslems wat aan die kwalifikasies van 'n jurielid voldoen, onder meer omdat hulle 'n bepaalde som aan huishuur betaal, is nou verwagtinge gewek dat hulle "het voorregt om als jurors te dienen" sou verkry, "en hunne uitsluiting moet daarom een onnoodig hatelyk gevolg hebben".36

De Zuid-Afrikaan toon ook begrip vir die lot van die San of Boesmans in die kolonie. Die blad meen dat die "ellendige Boschesmans op onze Noordelyke Grenzen ... het medelyden en de aandacht des Gouvernements, meer dan de Kaffers" verdien aangesien "zy in den vernederendsten graad van woestheid verkeeren".37

Wat betref die Bantusprekende groepe in die oostelike grensgebied van die kolonie, word dit in De Zuid-Afrikaan van 1 Mei 1835 betreur dat daar weer 'n "Kaffer-oorlog" uitgebreek het, 38 en word die hoop uitgespreek dat daar 'n vredesooreenkoms gesluit kan word wat die grondslag sal vorm vir "de toekomstige veiligheid, het geluk en welzyn, zoo wel van den wilden als den beschaafden". Pogings om "de wilden te beschaven" het grotendeels misluk,veral omdat die sendelinge "aan den verkeerden kant begonnen zyn;... zy trachten hen eerst te heiligen, vermeenende dat beschaving van zelf volgen moet". As hulle op hierdie pad voortgaan "zullen de Kaffers uiteindelyk blyken dezelfde onverbeterlyke wilden te zyn, als eene halve eeuw vroeger".39 In 1848 spreek De Zuid-Afrikaan hom uit teen grootskaalse invoer van swart mense uit stamgebiede om die arbeidsprobleem te verlig, maar meen dat jong Bantusprekende swart mense van 15 tot 16 jaar oud op 'n kontrakbasis by boere sou kon werk. Sodoende sou hul beskawing "trapswyze voortgaan" en hulle opgelei kan word om uiteindelik 'n nuttige bydrae as arbeiders in die kolonie te lewer.40

Toe dit in 1852 blyk dat die oosgrens van die kolonie moontlik verder ooswaarts, tot die Keirivier, verskuif kan word, verklaar De Zuid-Afrikaan dat "Britsche volharding, Britsche moed, Britsche hulpbronnen" uiteindelik daartoe kan lei dat die "barbaarschheid" van die swart groepe uitgewis word. Die blad sien dit as 'n algemene reël dat die inheemse inwoners van 'n land daartoe gedoem is om eers "de verguizende magt van hunne beschaafde medemenschen te gevoelen, en uiteindelyk, door den langzamen voortgang van omgang en opvoeding ... uit hunne verlaagden toestand verheven te worden en hunne standplaats in de maatschappy te nemen."41

Soos uit bogenoemde aanhalings blyk, kom daar wel verwysings na ras en kleur in hoofartikels voor, maar word ras nie deurgaans aangewend as kriterium van onderskeid tussen die verskillende groepe nie. Die begrip "klas" word soms ook gebruik en dan word by die laer of "gemeene klas" mense van Khoikhoiherkoms, maar ook ander dele van die bevolking ingesluit. De Zuid-Afrikaan maak veral 'n onderskeid tussen beskaafdes en onbeskaafdes (soms ook "wilden" genoem) en stel dit in die vooruitsig dat laasgenoemde groep uiteindelik dieselfde vlak van beskawing as eersgenoemde groep sal bereik.

 

Die probleem van stemregvereistes in die Grondwet van 1853

Die gebeure wat gelei het tot die instelling van verteenwoordigende bestuur in die Kaapkolonie en tot die aanvaarding van bepaalde stemregkwalifikasies word in verskillende geskiedwerke behandel.42 Hieronder volg 'n kort samevatting ten einde De Zuid-Afrikaan se standpunt in breër konteks te kan beskou.

Gedurende die bewind van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het die vryburgers of koloniste baie min inspraak in die bestuur van die kolonie gehad. Enkele burgers is benoem op die Raad van Justisie, die hoogste geregshof, en die inwoners is ook op plaaslike vlak by die regspleging betrek.43 Nadat die Kaap in 1806 'n Britse kolonie geword het, was daar aanvanklik 'n outokratiese bestuurstelsel waar die goewerneur feitlik alleen gesag gevoer het.44 In 1825 is 'n adviesraad vir die goewerneur aangestel, wat egter slegs uit amptenare bestaan het. Vanaf 1826 het verskillende groepe koloniste petisies aan die Britse regering gestuur waarin aangedring is op die die totstandkoming van 'n wetgewende liggaam, wat deur inwoners van die kolonie verkies moes word.45 In 1834 is 'n Wetgewende Raad ingestel, waarop daar naas amptenare ook enkele koloniste wat deur die goewerneur aangestel is, gedien het. Die agitasie vir 'n verkose liggaam het egter voortgeduur.46 Een van die vernaamste redes waarom die Britse regering aanvanklik nie selfbestuur aan die kolonie wou toestaan nie, was dat die inwoners van die kolonie in verskillende groepe en klasse verdeel was en dat die totstandkoming van 'n wetgewende liggaam daartoe kon lei dat een groep, met name die blanke koloniste, mag oor die ander groepe sou verkry. John Fairbairn, redakteur van die South African Commercial Advertiser, wat aanvanklik ten gunste van selfbestuur was, het hom, saam met sy skoonvader, John Philip van die Londense Sendinggenootskap, in 1832 teen selfbestuur uitgespreek omdat dit, volgens hulle, nie in belang van die gekleurde bevolking sou wees nie.47 Die sendelinge en ander lede van die humanitêre groep in die Kaapkolonie het egter in die volgende dekade hul invloed in Britse regeringskringe verloor, en Britse politieke leiers sowel as koloniale amptenare het begin besef dat hulle die ondersteuning van die inwoners nodig gehad het om die kolonie doeltreffend te bestuur.48

In 1840 het Kaapstad munisipale bestuur gekry. Die stad, waarin ongeveer 15 persent van die kolonie se 150 000 inwoners gewoon het,49 i s in 48 wyke verdeel, wat elkeen twee verteenwoordigers, bekend as wykmeesters, kon aanwys. Elkeen wat 'n huis besit of gehuur het en ten minste in £1050 per jaar aan huur betaal het, kon vir die wykmeesters stem. Bowendien was daar naas die Raad van Wykmeesters nog 'n verkose raad wat uit twaalf lede bestaan het, wat elk eiendom van ten minste £1 000 moes besit. Indien die twee rade van mekaar verskil het, kon 'n byeenkoms van alle huiseienaars en huurders belê word om uitsluitsel te verkry.51 Daar was dus geen rassekriteria vir stemreg nie, en ook nie vir verkiesbaarheid as stadsraadslid nie. In die 1840's is 'n lid van die Maleiergroep op die stadsraad verkies, maar hy het besluit om nie die amp te aanvaar nie. 52 Die lede van die Kaapstadse stadsraad het 'n belangrike rol gespeel in die aandrang op verteenwoordigende bestuur en ook in die anti-bandietebeweging.53 In 1848 het die Britse regering 'n skip met Britse bandiete na die kolonie gestuur. Dit het gelei tot verset onder 'n baie groot deel van die koloniste, wat die regering feitlik gedwing het om van sy voorneme om bandiete in die kolonie te huisves af te sien. Die gevaar van 'n koloniale bevolking wat in opstand teen hul regeerders kom, soos gebeur het tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog van die laat agtiende eeu, en die voordele van 'n verteenwoordigende bestuurstelsel is hiermee verder na vore gebring.54

In 1848 het die Prokureur-Generaal, William Porter, op versoek van die goewerneur, sir Harry Smith, 'n konsepgrondwet opgestel, waarin hy onder meer lae eiendomsvereistes vir stemreg aanbeveel het. In sy motivering vir die aanbeveling skryf hy dat hy dit as "just and expedient" beskou om stemreg binne bereik van "the more intelligent and industrious men of colour" te plaas, en dat daarmee getoon sal word "that no man's station is in this free country determined by the accident of his colour". 55 Die Koloniale Sekretaris, John Montagu, het daarenteen hoë eiendomskwalifikasies vir stemreg voorgestaan. Die inwoners van die kolonie was oor hierdie saak verdeeld. Die ondersteuners van Montagu het 'n groot deel van die Engelstalige inwoners ingesluit. Porter is gesteun deur die meeste Nederlandstalige en ook sommige Engelstalige inwoners, wat besef het dat hoë eiendomskwalifikasies sou beteken dat 'n klein elitegroep, wat veral amptenare en ryk handelaars sou insluit, beheer oor die kolonie sou behou. Smith het, ten einde die meerderheidsopinie van die koloniste te bepaal, 'n verkiesing laat hou om vier bykomende lede op die Wetgewende Raad aan te wys. Die nuwe lede, sir Andries Stockenstrom, F.W. Reitz, C.J. Brand en J. Fairbairn (wat weer sy standpunt oor selfbestuur gewysig het), wat bekend geword het as die "populêre vier", was voorstanders van die laer eiendomskwalifikasie, en die Wetgewende Raad het in 1850 dan ook ten gunste daarvan besluit.56 Die liggaam het egter tegelykertyd baie hoë besitskwalifikasies vir die lede van die voorgestelde hoërhuis aanvaar. Die vier nuutverkose lede was nie ten gunste hiervan nie en het uit hul poste bedank.57Die goewerneur het ander lede in hul plek aangewys, en daarna het die Wetgewende Raad sy vorige besluit verander en nou hoër stemregkwalifikasies aanbeveel. Kort daarna is beide Smith en Montagu na Brittanje teruggeroep. 'n Nuwe Britse kabinet, waarin die Liberale of Whigparty die botoon gevoer het, het besluit het om die Grondwet vir die Kaapkolonie met die laer stemregkwalifikasies, soos oorspronklik deur Porter voorgestel, goed te keur.58

Die Grondwet het, met enkele wysigings, tot 1910 van krag gebly. Die Kaapse koloniale parlement het bestaan uit 'n Wetgewende Vergadering en 'n hoërhuis, wat ook die naam Wetgewende Raad gekry het maar nou 'n verkose liggaam was. Die stemregvereistes vir die aanwysing van lede van die parlement wat uiteindelik aanvaar is, is dat elke meerderjarige manlike Britse onderdaan wat nie aan bepaalde misdade skuldig bevind is nie, vir stemreg kwalifiseer as hy vir twaalf maande of langer 'n eiendom ter waarde van ten minste £25 bewoon het of anders 'n loon van ten minste £50 per jaar verdien.59

 

De Zuid-Afrikaan se standpunt oor stemregkwalifikasies

Dit blyk reeds uit De Zuid-Afrikaan se kommentaar op die ordonnansie van 1840 waardeur die inwoners van Kaapstad inspraak in die bestuur van hul munisipaliteit verkry het, dat die blad geensins ten gunste van ras as kriterium vir stemreg was nie. Die koerant het die "liberale grondbeginselen" van die ordonnansie verwelkom waarvolgens huiseienaars en huishuurders stadsraadslede sou aanwys.60

Op 22 April 1850 stel De Zuid-Afrikaan vir die eerste keer sy standpunt oor stemregvereistes vir die verteenwoordigende liggaam vir die kolonie waarvoor die blad hom reeds twintig jaar lank beywer het. Die tyd het nou gekom om "vry uit spreken, omdat onderzoek en rype overweging ons overtuigd hebben dat diegenen die een federaal bestuur61 en eene opvoedings kwalificatie voorstaan, dat geen voorstaan het welk in waarheid bevorderlyk zal zyn aan de algemene belangen van Zuid-Afrika" en ook die beste kans het om deur "Harer Majesteits Raadgevers" toegestaan te word. Soos hierbo aangetoon, het De Zuid-Afrikaan steeds klem gelê op die verskille tussen die beskaafde en die onbeskaafde inwoners. Die voorkeur wat nou uitgespreek word vir 'n opvoedingskwalifikasie is in ooreenstemming met hierdie beskouing. In die betrokke hoofartikel word aangevoer dat, as die omstandighede in die Kaapkolonie dieselfde was as in Europa of Amerika, eiendoms okkupasie 'n geskikte kwalifikasie sou wees. Die bevolking van die kolonie bestaan egter "voor een groot gedeelte uit gewezen slaven, en uit halve barbaren, zoowel inlandsch als ingevoerd", waarvan baie wel "occupanten" is, wat onder meer daartoe kan lei dat "gewetenlooze opschudders" die "massa van onwetendheid" kan beïnvloed in die uitoefening van hul stemreg. As daar eerder 'n opvoedingskwalifikasie is, sal slegs diegene kan stem wat "uithoofde van hunne voortreffelyker kennis, in staat zyn een onderscheid te maken tusschen den gelukzoeker en den man van oordeel, - in het kort, tusschen den bevoegden en onbevoegden kandidaat voor eene plaats in de Vergadering". De Zuid-Afrikaan meen dat daar reeds "talryke individuen onder de inboorlingen" is wat volgens 'n opvoedingskwalifikasie sal kwalifiseer vir stemreg.62

In die betrokke artikel word verder daarop gewys dat 'n opvoedings vereiste juis sal help om die beskawingsproses te bevorder. Diegene "die zich thans in onwetendheid en luiheid baden" sal aangespoor word om die graad van opvoeding te verkry wat dit vir hulle moontlik sal maak om te stem. Meer nog, "het vooruitzigt om zelve Vertegenwoordigers te worden, zoude een nog krachtdadiger prikkel verschaffen". De Zuid-Afrikaan meen dat "Hare Majesteit" (koningin Victoria) altyd gereed is om "eenig plan te bevorderen ter beschaving van de heidenen in hare uitgebreide heerschappyen" en daarom 'n voorstel wat tot beskawings ontwikkeling kan lei, sal steun.63

Die lede van die Wetgewende Raad van die Kaapkolonie het egter in 1850 besluit dat hulle 'n eiendomsvereiste eerder as 'n opvoedingskwalifikasie vir stemreg vir die beoogde verkose wetgewende liggaam voorstaan. Volgens De Zuid-Afrikaan het die eiendomskwalifikasie "algemeene voldoening schynt te hebben gegeven"64 en die blad het nou hierdie vereiste aanvaar in plaas van die opvoedingskwalifikasie wat aanvanklik voorgestaan is. Die koerant was onder die indruk dat daar benewens die eiendomskwalifikasie ook 'n bepaling ingesluit sal word dat alle stemgeregtigdes hulle name op 'n lys moet kan teken. So 'n bepaling sou strook met De Zuid-Afrikaan se beskouing dat 'n opvoedingskwalifikasie noodsaaklik is. Volgens die blad sal dit die vrees uit die weg ruim dat "onkundige menschen, die anderzins de noodige kwalificatie bezitten, naar de stemplaats zullen gezonden worden met het bloote doel om bevorderlyk te zyn aan de kiezing van den eenen of anderen onwaardigen roem bejager". Dit sal ook "onze gekleurde bevolking toonen dat rykdommen de dingen niet zyn welke vereischt worden tot het vestigen van goed bestuur", maar wel opvoeding, kennis en wetenskap, en "wy twyfelen er niet aan of zy zullen naar deze onderscheiding dingen".65

In verskeie hoofartikels is die eiendomskwalifikasie verdedig teen besware van lesers. Volgens De Zuid-Afrikaan was daar inwoners van die kolonie wat beweer het dat die kwalifikasie "het zwarte volk, en voornamelijk dat gedeelte hetwelk op de Zendelings Station woonachtig is" in staat sal stel om saam te span om "hunne eigene mannen" in die Wetgewende Vergadering verkies te kry. De Zuid-Afrikaan was van mening dat die kwalifikasie sal meebring dat "niet vele zwarten - al zyn zy dan ook Hottentotten" stemreg sal verkry nie en dat dit hulle nie "een overwigt van invloed" sal gee nie. Selfs as "al de Zendelings Instituten tezamen spanden, ten voordeele van een half dozyn verschillende individuen, en dat die gekozen werden, zoo zoude er nog eene aanmerkelyke meerderheid gelaten worden, ten volle toereikend om andere belangen te beschermen". De Zuid-Afrikaan meen dat dit meer waarskynlik is dat die "zwarten, die eenig vastgoed bezitten" in elke distrik saam met die blanke kiesers sal werk om die beste kandidaat verkies te kry. Daar word in die artikel daarop gewys dat die Wetgewende Vergadering waarskynlik die reg sal hê om in die toekoms die kwalifikasie te wysig as omstandighede dit vereis.66

De Zuid-Afrikaan is verder van mening dat verteenwoordigende bestuur nie toegeken sal word "ten einde een klasse-wetgeving daartestellen; (h)et zal gelyke bescherming aan alle menschen verleenen". Dit sal byvoorbeeld beteken dat, as "de kleurling een bediende is" die wet hom sal dwing om sy werk eerlik en getrou te verrig, en dat die wet ook die "dienstheer" sal verplig om die bediende goed te behandel. Die blad wys daarop dat alle mense voor die wet gelyk is en stel die vraag: "Indien de kleurling tot een beteren stand geraakt is - indien hy de bezitter is van eigendom", hoe gering dit ook al is, of dit redelik en regverdig sou wees om hom "die voorregten te onthouden waartoe zyne blanke naburen geregtigd zyn?"67

In Mei 1851 verskyn 'n brief van twee aflewerings in De Zuid-Afrikaan, waarvan die skrywer homself net met 'n hoofletter "A" aandui. 68 Daarin word uitvoerige kritiek gelewer op die voorgestelde stemregkwalifikasie. "A" meen dat die eiendomskwalifikasie te laag is en daartoe sal lei dat die meeste lede van "het gekleurde volk" in die Kaapkolonie, waarvan daar 10 000 meer is as die "Europeanen",69 stemreg sal verkry. As hulle hulself verenig, kan hulle daarvoor sorg dat "elk lid der vergadering, zoo wel als elk lid des Raads, een gekleurd persoon zyn kan". So 'n "veelkleurig Parlement" sal wette maak, wat onder meer die verhouding met naburige stamme bepaal en sorg dat gekleurde persone as hoogste amptenare in die kolonie aangestel word. Die skrywer benadruk dat hy nie teen so 'n ontwikkeling gekant is net omdat die amptenare "zwart" sal wees nie, maar "omdat de gekleurde klassen in deze kolonie onopgevoede klassen zyn, die het in hunne magt zullen hebben, van wege de groote meerderheid hunner stemmen, om al de overige te overstelpen".70 In 'n redaksionele artikel word verklaar dat die skrywer se gevolgtrekkings op 'n drog redenasie berus. Onder diegene wat wat stemreg sal verkry, sal dié wat as "gekleurd" aangedui kan word, heelwat minder wees as wat "A" bereken. Verder is dit onwaarskynlik dat hierdie groep misbruik sal maak van hul stemreg om teen die ander kiesers saam te span. Die blad wys daarop dat "alle klassen der zamenleving" reeds betrokke is by die verkiesing van lede van die Kaapstadse stadsraad. Daar word verder na die gebeure verwys wat in die vorige afdeling vermeld is, naamlik dat toe enkele jare tevore "een zeker Javaander van deze stad tot Municipale Commissaris is gekozen geworden", hy besef het dat hy "geheel buiten zynen kring zoude zyn" en vir die pos bedank het. Soortgelyke optrede sal waarskynlik plaasvind as iemand uit die laer klasse tot die Hoërhuis of die Wetgewende Vergadering gekies word "en zeker voortdurend het geval blyven tot dat talryke jaren van toenemende beschaving de lagere klassen der Kolonie zullen hebben toebereid om naar de bedoelde onderscheidingen te dingen".71

Enkele sendelinge het beswaar gemaak teen die voorgestelde eiendoms kwalifikasie vir stemreg, omdat dit daartoe kan lei dat die "domme Dutch" (soos hulle volgens De Zuid-Afrikaan na die Nederlandstalige koloniste verwys het) 'n meerderheid in die Wetgewende Vergadering kan verkry, wat hulle in staat sou stel om "de gekleurde klassen" te onderdruk en maatreëls rakende gedwonge arbeid in te stel. De Zuid-Afrikaan stel in reaksie op hierdie standpunt die vraag: "Wat moeten wy bovendien denken van eenen Zendeling, arbeidende onder een aanzienlyk getal kleurlingen, die zich schynt te vereenigen in de tegenstand door de Gouvernementsparty daargesteld" teen die voorneme van die Britse regering en die koloniste "om zyne kudde in de schaal van beschaving te verheffen? - haar te plaatsen in het bezit van dezelfde regten, welke de blanke ingezetenen voor zichzelven vorderen?"72 De Zuid-Afrikaan toon in sy hoofartikels ook sterk teenkanting teen die hoër eiendomskwalifikasie wat die Koloniale Sekretaris, Montagu,en koloniste van die Oos-Kaap voorgestaan het. Die blad meen dat onrus onder die "Hottentotten" aan die oosgrens toegeskryf moet word daaraan dat die "sterke tegenstand aan het lage stemregt geboden door de Albaniers73 en zyne onmiddelyke aanhangers" by hulle die vrees gewek het dat "zy uitgesloten zouden worden van het voorregt om te deelen in de keus van Vertegenwoordigers, en aldus onderworpen worden aan klasse wetgeving van een Parlement waarin zy geen stem hadden".74 De Zuid-Afrikaan maak ook sterk beswaar teen 'n brief van Montagu aan die goewerneur, sir Harry Smith, waarin hy meedeel dat die meeste koloniste 'n hoër eiendomskwalifikasie voorstaan. In 'n hoofartikel word aangevoer dat Montagu sy bevinding grond op die standpunt van 'n klein aantal individue wat van "de groote massa der Kolonisten" verskil en dat hy daarvan bewus behoort te wees dat "de gekleurde klassen het £25 stemregt beschouwen als een kostbaar geschenk" en dat dit "veel bitterheid van gevoel aan hunnen kant te weeg brengen zou om hen er thans van te berooven".75

In Maart 1852 het die Wetgewende Raad besluit dat die eiendomskwalifikasie verhoog moet word tot £50. De Zuid-Afrikaan skryf daarna dat hierdie optrede 'n mens laat dink aan die gedrag van 'n groep ape. Die lede van die Wetgewende Raad wat hierdie besluit geneem het, "bederven en vernielen", soos ape, "een kostbaar artikel, hetzy omdat zy er het nut niet van begrypen kunnen, of uit loutere pret". Die blad verklaar dat "wy volkomen overtuigd zyn dat de gekleurde klassen hunne driften beteugelen zullen" en "bedaard den uitslag zullen afwachten van de Memorien welke thans op weg zyn naar de Koningin, zoowel als van Protesten van den Prokureur Generaal, Auditeur Generaal, en Collecteur der Douanen". In die artikel word verder die hoop uitgespreek dat die Britse regering aan die "kuren" van die Wetgewende Raad 'n einde sal maak en "den voornaamste speler in dit kluchtspel" (Montagu) onmiddellik sal verplaas.76 In 'n volgende hoofartikel word verklaar dat dit onmoontlik is vir enigeen wat die "bekwame en heldere argumenten ten voordeele van het £25 Stemregt ... gehoord of gelezen heeft, niet overtuigd te zyn dat de tegenstand van de andere leden des Raads slechts voortvloeid uit 'bloote dwaasheid en vooroordeel'".77

Toe die Grondwet, met behoud van die £25 stemregkwalifikasie, in April 1853 deur die Britse regering aanvaar is, het De Zuid-Afrikaan met groot tevredenheid verklaar dat die kolonie "de liberaalste Constitutie aan eenige Britsche kolonie geschonken - liberaal zelfs boven verwachting" gekryhet.78 Die blad is van mening dat die nuwe Grondwet nie alleen Engels- en Nederlandstalige koloniste nader aan mekaar sal bring nie, maar ook "blank en gekleurd van elke klasse". Die lae stemregkwalifikasies behoort ook die "ingebeelde ongelykheid van rykdom" te verminder.79 Reeds in 'n vroeëre uitgawe het De Zuid-Afrikaan die hoop uitgespreek dat die Wetgewende Vergadering 'n liggaam sal wees waarin "de regten van alle klassen even heilig beschouwd behoorden te worden, en waar de overweging van klasse of kleur stellig uit alle behandelingen behoort geweerd te worden".80

 

Slotbeskouing

Die historikus TimothyKeegan is van mening dat die Grondwet van 1853 nie as 'n triomf vir demokrasie beskou moet word nie, aangesien dit die wetgewende mag hoofsaaklik in die hande van die besittersklas geplaas het.81 Daar was in daardie tyd egter feitlik nêrens ter wêreld 'n land met 'n meer demokratiese regeringstelsel nie.82 Die Kaapkolonie se Grondwet was nie net meer liberaal as dié van ander Britse kolonies nie, maar, soos Keegan self opmerk, meer liberaal as dié van Brittanje self.83 In die Westerse wêreld was stemreg wat gekwalifiseer is deur eiendoms-, belastings- en opvoedingsbepalings teen 1850 'n algemene verskynsel.84 In daardie periode was daar geen invloedryke persone of groepe in die Kaapkolonie en Groot-Brittanje wat hulle vir 'n stemregstelsel beywer het wat vandag oor die algemeen as demokraties beskou word nie, en om te verklaar dat De Zuid-Afrikaan en die Kaapse koloniste van 1850 nie werklik 'n demokratiese stelsel voorgestaan het nie, is om hulle vanuit 'n 21ste-eeuse perspektief te beoordeel.

Dit is ironies dat De Zuid-Afrikaan aanvanklik veral sterk standpunt ingeneem het teen die beskouinge en optrede van Philip, wat soms as die vader van liberalisme in Suid-Afrika bestempel word. 85 Philip en die filantropiese beweging verteenwoordig egter 'n humanitarisme wat as 'n besondere vorm van liberalisme bekou kan word.86 Daar was, soos in die vorige afdeling vermeld, teen 1850 nog steeds sendelinge wat teen die voorgestelde Grondwet gekant was omdat dit daartoe kon lei dat die bruin mense deur die blanke inwoners van die kolonie onderdruk word. Met die verswakking van die sendelinge se invloed op die Britse regering het hierdie beskouing nie meer veel steun in invloedryke kringe in Brittanje en in die Kaapkolonie gevind nie. 'n Standpunt ten gunste van 'n Grondwet met 'n wetgewende liggaam waarvoor ook 'n gedeelte van die bruin mense, wat oor die algemeen die laer klas van die bevolking uitgemaak het, stemreg sou hê, was, gesien teen die agtergrond van parlementêre stelsels in die Westerse wêreld in daardie jare, beslis liberaal.

Die artikels in De Zuid-Afrikaan in die jare voor 1853 verteenwoordig 'n beskouing oor stemreg wat in skrille kontras gestaan het met die Grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek, aanvaar in 1858, wat onder meer lui: "[h]et volk wil geene gelijkstelling van gekleurden met blanke ingezetenen toestaan, noch in Kerk noch in Staat".87 De Zuid-Afrikaan se standpunt kan seker nie sonder meer as 'n vertolking van die Nederlandstalige koloniste se beskouings aanvaar word nie, maar aan die ander kant sou 'n standpunt wat heeltemal ingedruis het teen die opvattinge van sy lesers sekerlik heftige reaksie uitgelok het. Soos die politieke wetenskaplike A. du Toit aantoon, is die lae stemregkwalifikasies deur Nederlandstalige inwoners op openbare vergaderings in Kaapstad en op die platteland gesteun.88 Vir die volgende eeu was daar geen belangrike Nederlands-of Afrikaanstalige koerant in Suid-Afrika wat 'n meer liberale beskouing oor stemreg as De Zuid-Afrikaan gehuldig het nie. Dit is trouens feitlik ondenkbaar dat 'n Afrikaanse koerant met 'n groot blanke leserstal in die 1950's 'n soortgelyke standpunt sou kon inneem. Die Nasionale Party, wat toe in Suid-Afrika aan bewind was, het 'n feitlik teenoorgestelde standpunt oor ras en stemreg gehuldig. Teen daardie tyd was dit nog steeds net in die Kaapprovinsie (dit wil sê die vroeëre Kaapkolonie) dat bruin mense stemreg vir die parlement gehad het, en die regerende party het in 1956 die Grondwet gewysig om hierdie stemreg van hulle weg te neem. Aanvanklik is bruin kiesers op 'n aparte kieserslys geplaas en in 1968 is hul reg om verteenwoordigers in die parlement te verkies heeltemal beëindig.

Die faktore wat tot 'n verandering in houding teenoor die bruin mense onder die blanke inwoners van Suid-Afrika, en ook in die Kaapprovinsie, gelei het, is reeds deur baie wetenskaplikes ondersoek. 'n Voor die hand liggende faktor was die vrees van Afrikaners, en die meeste ander blankes, vir oorheersing deur die swart en bruin inwoners van die land. Soos in die vorige afdeling aangetoon, was daar reeds teen 1850 koloniste wat besef het dat verlening van stemreg aan bruin mense tot so 'n moontlikheid kan lei. De Zuid-Afrikaan het toe die standpunt gehuldig dat die stemgeregtigde bruin mense vir baie lank 'n betreklike klein minderheid onder die totale aantal stemgeregtigdes sou bly, en dit was inderdaad die geval vir die hele bestaans duur van die Kaapse parlement (1854 tot 1910).89 Uit 'n hoofartikel van De Zuid-Afrikaan van Oktober 1848 blyk wel 'n besef dat die aantal blanke koloniste 'n minderheid in die Kaapkolonie was en dat immigrasie uit Europa kon dien om "de gaping aantevullen tusschen de blanke en gekleurde bevolking der Kolonie".90 Dit is egter nie 'n saak waaraan in hierdie jare baie aandag gegee is nie. Soos ook uit die vorige afdeling blyk, het De Zuid-Afrikaan die standpunt gehuldig dat beskawingsverskille tussen die blanke en die bruin inwoners geleidelik sou verdwyn en dat die getals verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe dan nie meer van belang sou wees nie. Die moontlikheid dat die grense van die kolonie verskuif word om Bantusprekende groepe in te sluit, is wel voorsien, maar het nie veel aandag in die koerant se besprekingsartikels gekry nie. Soos hierbo aangedui, was die blad van mening dat ook hierdie groepe geleidelik tot die beskawingsvlak van die inwoners van Europese oorsprong gebring sou kon word. Dit blyk tans, 160 jaar later, dat die beskawingsverskille beslis nog nie heeltemal verdwyn het nie. Die konsep van 'n verskil tussen beskaaf en onbeskaaf, wat deur De Zuid-Afrikaan duidelik in noue verband gesien is met die verskil tussen Westers en nie-Westers, word tans egter nie meer so geredelik aanvaar as wat in daardie tyd die geval was nie.

Liberale politieke beskouinge aangaande die verhoudinge tussen die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika het tussen 1854 en 1994 waarskynlik nooit so 'n sterk invloed op Afrikaners gehad as in die jare wat die instelling van die Grondwet van 1853 voorafgegaan het nie. Tog was daar gedurende hierdie periode van 140 jaar steeds invloedryke figure onder die Afrikaners wat liberale beskouinge oor die politieke regte van die bruin en swart inwoners van die land gehuldig het en was die redakteurs van De Zuid-Afrikaan deel van 'n reeks Nederlands- en Afrikaanstalige liberale politieke denkers wat van die agtiende eeu tot vandag toe strek.91

 

 

1. J. Evans, P. Grimshaw, D. Philips and S. Swain, Equal Subjects, Unequal Rights; Indigenous Peoples in British Colonies, 1830-1910 (Manchester University Press, Manchester, 2003), p 93.
2. Die eerste Nederlandstalige koerant, De Verzamelaar,,het van 1826 tot 1829 verskyn, maar het, anders as De Zuid-Afrikaan, geen politieke standpunt gehuldig nie. Vergelyk F.C.L. Bosman, "De Lima, Joseph(us) Suasso", in W.J. de Kock (red.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Volume 1 (Tafelberg, Kaapstad, 1968), pp 227-229.
3. Vergelyk De Zuid-Afrikaan, 20 Mei 1831, 3 Juni 1831.
4. R. Ross, Beyond the Pale: Essays on the History of Colonial South Africa (Witwatersrand University Press, Johannesburg, 1993), pp 31-33.         [ Links ]
5. H.C. Botha, "Die Rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854", Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 40 (Staatsdrukker, Pretoria, 1982), pp 23-24.
6. H.C. Botha, John Fairbairn in South Africa (Historical Publication Society, Cape Town, 1984), pp 35-62.
7. P.H. Kapp, "Dr. John Philip, die Grondlegger van Liberalisme in Suid-Afrika", Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 48, II (Staatsdrukker, Pretoria, 1985), p 221; T. Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order (David Philip, Cape Town, 1996), pp 105-106.
8. J. du P. Scholtz, Die Afrikaner en sy Taal, 1806-1875 (Nasionale Pers, Kaapstad, 1939), p 49; Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order, p 110.
9. Botha, John Fairbairn in South Africa, p 73.         [ Links ]
10. A. du Toit, "The Cape Afrikaners' Failed Liberal Movement, 1850-1870", in J. Butler, R. Elphick and D. Welsh (eds), Democratic Liberalism in South Africa: Its History and Prospect (David Philip, Cape Town, 1987), pp 38-39.
11. F.C.L. Bosman en A. Dreyer, Hollandse Joernalistiek in Suid-Afrika gedurende die 19de Eeu en Lewenssketse van Hollandse Joernaliste in Kaapland (Uitgewer nie vermeld, Kaapstad, 1930), p 4.
12. Boniface het as redakteur bedank as gevolg van 'n lastersaak wat teen die koerant aanhangig gemaak is, terwyl Stapleton se politieke beskouinge hom in botsing met die uitgewers gebring het. Vergelyk Botha, John Fairbairn in South Africa, p 73; en Scholtz, Die Afrikaner en sy Taal, 1806-1875, p 49.
13. Vergelyk Botha, "Die Rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854", p 110.
14. Botha, "Die Rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854", bevat 'n hoofstuk oor C.J. Brand se termyn as redakteur van De Zuid-Afrikaan. Die werk bied nie 'n indringende behandeling van sy politieke beskouinge nie.
15. A.P. van Niekerk, "Smuts, Jacques (Tjaak) Jean Henri (Hendrik)", in W.J. de Kock en D.W. Kruger (reds.), Suid-Afrkaanse Biografiese Woordeboek, Volume 2 (Tafelberg, Kaapstad, 1972), pp 697-698.
16. Van Niekerk, "Smuts, Jacques (Tjaak) Jean Henri (Hendrik)", pp 697-698.
17. Byvoorbeeld De Zuid-Afrikaan, 6 April 1832 en 27 November 1848.
18De Zuid-Afrikaan, 9 April 1830. By alle aanhalings uit De Zuid-Afrikaan word die oorspronklike teks weergegee sonder om moontlike taal- of drukfoute te korrigeer. In die blad kom die letter y meesal voor in plaas van die meer gebruiklike ij, byvoorbeeld zyn in plaas van zijn.
19. De Zuid-Afrikaan, 9 April 1830.
20. Uit artikels in De Zuid-Afrikaan blyk dit dat, in ooreenstemming met die feitlik algemene gebruik van daardie tyd, ook na mense wat slegs gedeeltelik van Khoikhoiherkoms was as Hottentotte verwys is.
21. Vergelyk Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order, p 111.         [ Links ]
22. De Zuid-Afrikaan, 29 December 1837.
23. Byvoorbeeld De Zuid-Afrikaan, 7 Mei 1830, 14 Mei 1830.
24. Wanneer gedeeltes van aanhalings in die artikel kursief gedruk is, is dit ook kursief in die oorspronklike teks.
25. De Zuid-Afrikaan, 10 December 1830.
26. De Zuid-Afrikaan, 23 Maart 1832.
27De Zuid-Afrikaan, 23 November 1832.
28. De Zuid-Afrikaan, 25 October 1833. Vergelyk De Zuid-Afrikaan, 4 Maart 1847.
29De Zuid-Afrikaan, 12 September 1834.
30. J.B. Peires, "The British at the Cape, 1814-1834", in R. Elphick and H. Giliomee (eds), The Shaping of South African Society, 1652-1840 (Maskew Miller Longman, Cape Town, 1989), p 501.
31De Zuid-Afrikaan, 5 October 1838, 16 November 1838, 12 April 1839, 3 Mei 1839, 30 Maart 1848.
32. De Zuid-Afrikaan, 19 October 1841, 14 April 1843.
33. De Zuid-Afrikaan, 8 July 1842, 25 April 1843, 4 September 1844, 29 January 1846, 10 September 1849.
34. Die term "vryzwarten" is veral in die sewentiende en agtiende eeue in die Kaapkolonie gebruik om na vrygestelde slawe en hul afstammelinge te verwys. Hulle was soms van Oosterse herkoms, terwyl daar ook vermenging met blankes en Khoikhoi was, en hulle het dan ook nie altyd 'n swart velkleur gehad nie. Die term kom nog voor in vroeë uitgawes van De Zuid-Afrikaan, maar soms word daarby ook die Khoikhoi ingesluit (vergelyk De Zuid-Afrikaan, 30 November 1830). In latere uitgawes, veral na die afskaffing van slawerny, word die woord "zwarten" gebruik en daarmee na afstammelinge van, onder meer, slawe en Khoikhoi verwys. Dit word dus gebruik as 'n sinoniem vir "gekleurden" of "kleurlingen". Met "zwarten" word daarom bruin mense bedoel, eerder as Bantusprekende swart mense.
35De Zuid-Afrikaan, 11 Augustus 1853.
36De Zuid-Afrikaan, 22 July 1845.
37De Zuid-Afrikaan, 5 Augustus 1836.
38. Na hierdie oorlog word tans meesal verwys as die Sesde Grensoorlog.
39. De Zuid-Afrikaan, 1 February 1847.
40. De Zuid-Afrikaan, 24 January 1848. Vergelyk De Zuid-Afrikaan, 17 February 1848.
41De Zuid-Afrikaan, 3 Mei 1852. Hierdie algemene beskouing oor die aard van kolonisasie toon moontlik die invloed van C.J. Brand, wat 'n doktorsproefskrif geskryf het oor regs aspekte van koloniale verhoudinge. Daarin het hy veral die kolonies van die Grieke, Feniciërs en Kartagers as voorbeelde gebruik. Vergelyk Botha, "Die Rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854", pp 9-15. By die beoordeling van die De Zuid-Afrikaan se beskouing oor die gevolge van kolonisasie moet verder in gedagte gehou word dat die Europese koloniale ryke, wat groot dele van Asië en Afrika omvat het, hoofsaaklik eers in die laat negentiende eeu gevestig is.
42. Onder meer: S. Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", Journal of African History, 5, 1, 1964, pp 37-54; G.D. Scholtz, Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, Volume 2, 1806-1854 (Voortrekkerpers, Johannesburg, 1970), pp 168-205; Evans, Grimshaw, Philips and Swain, Equal Subjects, Unequal Rights, pp 91-99; M. Legassick and R. Ross, "From Slave Economy to Settler Capitalism: The Cape Colony and its Extensions, 1800-1854", in C. Hamilton, B.K. Mbenga and R. Ross (eds), The Cambridge History of South Africa, Volume 1, From Early Times to 1885 (Cambridge University Press, Cambridge, 2010), pp 305-313.
43. G. Schutte, "Company and Colonists at the Cape, 1652-1795", in Elphick and Giliomee, The Shaping of South African Society, 1652-1840, p 290.
44. Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", p 40.
45. Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", p 40.
46. Vergelyk H.J. van Aswegen, Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854 (Academica, Pretoria, 1989), p 185.
47. Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", p 38; Botha, John Fairbairn in South Africa , p 172.
48. Vergelyk Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", pp 39-40; Evans, Grimshaw, Philips and Swain, Equal Subjects, Unequal Rights, pp 98-99.
49. R. Elphick and H. Giliomee, "The Origins and Entrenchment of European Dominance at the Cape, 1652-c.1840", in Elphick and Giliomee, The Shaping of South African Society, 1652-1840, p 524; N. Worden, E. van Heyningen and V. Bickford-Smith, Cape Town, the Making of a City; An Illustrated Social History (David Philip, Cape Town, 1998), p 171.
50. Die Britse pond (£) was die geldeenheid wat in die Kaapkolonie gebruik is.
51. Van Aswegen, Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854, pp 218-219; Worden, Van Heyningen and Bickford-Smith, Cape Town, the Making of a City; An Illustrated Social History, pp 171-172.
52. Trapido, "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", p 38.
53. Worden, Van Heyningen & Bickford-Smith, Cape Town, the Making of a City; An Illustrated Social History, pp 175-176.
54. Vergelyk Scholtz, Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, Volume 2, 1806-1854, pp 177-182.
55. Aangehaal in Scholtz, Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, Volume 2, 1806-1854, p 175.
56. Vergelyk Trapido "The Origins of the Cape Franchise Qualifications of 1853", p 50.
57. Botha, "Die Rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854", pp 91-96.
58. Legassick and Ross, "From Slave Economy to Settler Capitalism: The Cape Colony and its Extensions, 1800-1854", pp 312-313.
59. Die stemregkwalifikasies word volledig uiteengesit in artikel 8 van die Grondwet, soos weergegee in F.A. van Jaarsveld (red.), Honderd Basiese Dokumente by die Studie van die Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 1648-1961 (Nasou, Kaapstad, 1971), p 100.
60. De Zuid-Afrikaan, 12 Maart 1840. Die feit dat vroue wat huiseienaars of huishuurders was van stemreg uitgesluit is (anders as in 'n vorige ordonnansie, wat nou herroep is), word sonder kommentaar vermeld. Dit was eers etlike dekades later dat vrouestemreg 'n belangrike politieke kwessie in die Westerse wêreld sou word. Vergelyk ook Worden, Van Heyningen and Bickford-Smith, Cape Town, the Making of a City: An Illustrated Social History, pp 171-172.
61. 'n Federale stelsel waarin die Wes-Kaap en die Oos-Kaap elk 'n groot mate van selfstandigheid sou hê, is aanvanklik veral deur inwoners van die Oos-Kaap voorgestaan, maar uiteindelik het Britse en koloniale amptenare, asook die vernaamste politieke leiers onder die koloniste, dit nie gesteun nie. Vergelyk Van Aswegen, Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854, pp 197-198.
62. De Zuid-Afrikaan, 22 April 1850.
63. De Zuid-Afrikaan, 22 April 1850.
64. De Zuid-Afrikaan, 5 December 1850.
65. De Zuid-Afrikaan, 6 November 1851. Hierdie bepaling is egter uiteindelik nie in die Grondwet van 1853 opgeneem nie.
66. De Zuid-Afrikaan, 5 December 1850.
67. De Zuid-Afrikaan, 5 December 1850.
68De Zuid-Afrikaan, 8 Mei 1851, 12 Mei 1851.
69. Daar was volgens 'n sensusopname in 1840 sowat 70 000 blanke inwoners en 80 000 bruin mense, insluitende vroeëre slawe en Khoikhoi, in die kolonie. Elphick and Giliomee, "The Origins and Entrenchment of European Dominance at the Cape, 1652-c.1840", p 524.
70. De Zuid-Afrikaan, 12 Mei 1851.
71 . De Zuid-Afrikaan, 8 Mei 1851.
72De Zuid-Afrikaan, 16 February 1852.
73. Dit wil sê inwoners van die distrik Albany, wat Grahamstad en omgewing omvat het.
74. De Zuid-Afrikaan, 8 Maart 1852.
75. De Zuid-Afrikaan, 11 Maart 1852.
76. De Zuid-Afrikaan, 15 Maart 1852.
77De Zuid-Afrikaan, 18 Maart 1852. Die woorde "bloote dwaasheid en vooroordeel" is aangehaal uit 'n toespraak van Porter in die Wetgewende Raad.
78. De Zuid-Afrikaan, 5 Mei 1853.
79. De Zuid-Afrikaan, 3 October 1853.
80. De Zuid-Afrikaan, 8 April 1852.
81. Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order, p 245.
82. In Frankryk is na die rewolusie van 1848 algemene manlike stemreg ingestel, maar in 1850 weer afgeskaf. In 1854 het keiser Napoleon III dit weer ingestel, maar tegelykertyd die bevoegdhede van die parlement sterk ingekort. Vergelyk P.H. Kapp (red.), Geskiedenis van die Westerse Beskawing, Volume 2, Van Rewolusie tot Wêreldoorlog (HAUM, Pretoria, 1984), pp 117, 140.
83. Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order, p 243. Vergelyk Legassick and Ross, "From Slave Economy to Settler Capitalism: The Cape Colony and its Extensions, 1800-1854", p 313.
84. In Groot-Brittanje is byvoorbeeld na die Reform Act van 1832 bepaal dat korttermynhuurders van grond ten minste £50 huur per jaar moes betaal om as kiesers te kan kwalifiseer. Met die hervormingswet van 1867 is hierdie bedrag heelwat verlaag. In Nederland is, volgens die Grondwet van 1848, stemreg gekoppel aan die betaling van 'n minimum bedrag aan belasting. In die Verenigde State van Amerika het elke deelstaat sy eie stemregkwalifikasies gehad, wat soms die betaling van 'n bepaalde belastingbedrag en geletterdheidstoetse ingesluit het. Eers in 1870 is die Grondwet gewysig om weg te doen met stemregbepalings in sommige deelstate waarby ras en kleur as kriteria gebruik is, maar daar was tog nog kwalifikasies wat die oorgrote meerderheid swart mense in die meeste suidelike deelstate vir jare daarna van stemreg uitgesluit het. Vergelyk Kapp, Geskiedenis van die Westerse Beskawing, Volume 2, Van Rewolusie tot Wêreldoorlog, pp 203, 275, 285.
85. Vergelyk Kapp, "Dr. John Philip, die Grondlegger van Liberalisme in Suid-Afrika".
86. Vergelyk Keegan, Colonial South Africa and the Origins of the Racial Order, p 77.
87. Soos weergegee in Van Jaarsveld, Honderd Basiese Dokumente by die Studie van die Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 1648-1961, p 110.
88. Du Toit, "The Cape Afrikaners' Failed Liberal Movement", pp 44 - 46.
89. Verdere ontwikkelinge rakende stemreg vir bruin mense word onder meer behandel deur S. Trapido, "'The Friends of the Natives': Merchants, Peasants and the Political and Ideological Structure of Liberalism in the Cape, 1854-1910", in S. Marks and A. Atmore (eds), Economy and Society in Pre-industrial South Africa (Longman, London, 1980), pp 247-274.
90. De Zuid-Afrikaan, 23 October 1848.
91. Vergelyk Du Toit, "The Cape Afrikaners' Failed Liberal Movement", pp 35-63; P. de Klerk, "Afrikanerliberalisme in die Tydperk 1775 tot 1975: Die Interpretasies van G.D. Scholtz en H. Giliomee", The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 7, 2, 2011, pp 139-158.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons