SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2Shifting sexual morality? Changing views on homosexuality in Afrikaner society during the 1960sNo nukes in Africa: South Africa, the denuclearisation of Africa and the Pelindaba Treaty índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Historia

versão On-line ISSN 2309-8392
versão impressa ISSN 0018-229X

Historia vol.57 no.2 Durban Jan. 2012

 

ARTICLES ARTIKELS

 

Die wynmakerfamilie van Zonnebloem, Simondium, 1915-1963

 

 

Chris Venter

Departement Geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch en is tans 'n navorsingsgenoot van dié departement

 

 


OPSOMMING

Die verhaal van Zonnebloem wyn wentel om Marie Furter-Crouse en die drie manlike wynmakers van Zonnebloem-plaas: haar pa, Willem Furter wat haar die kuns van wynmaak geleer het, haar swaer, John de Villiers, en haar eggenoot, Maurice Crouse, sowel as Stellenbosch Boerewynmakery (SBW). Sedert 1920 is Zonnebloemwyn na Londen uitgevoer en teen 1947 was Zonnebloem Cabernet Sauvignon en Zonnebloem Riesling in Suid-Afrika sowel as Europa bekend as gehaltewyne. John de Villiers was die eerste wynmaker wat bekend geword het as die "Wynkoning van Suid-Afrika". SBW het sedert 1930 nou betrokke geraak by die wynmakers van Zonnebloem en in die laat 1940's het dié maatskappy Zonnebloem-wyn vir John de Villiers gebotteleer, geëtiketteer en bemark. Kort na sy dood in 1948 het SBW die naam Zonnebloem as handelsmerk geregistreer sonder om die familie daaroor in te lig. Die veranderinge gedurende die 1950's in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, die internasionale boikotte, asook stygende produksiekoste het Crouse gedwing om sy wynmakery te staak. Die plaas Zonnebloem is in 2003 verkoop.

Sleutelwoorde: Distell; gehaltewyn; handelsmerk; John de Villiers; Koöperatiewe Wijnbouersvereniging (KWV); koue fermentasie; Marie Furter-Crouse; Maurice Crouse; Nederburg wynlandgoed; PB Burgoyne Australian and South African Wine Merchants and Shippers; Stellenbosch Boerewynmakery (SBW); Willem D. Furter; wyn-analise; wynindustrie; Wynkoning van Suid-Afrika; wynproeë; wynskoue; Zonnebloem Cabernet Sauvignon; Zonnebloem Riesling; Zonnebloem-plaas.


ABSTRACT

The story of Zonnebloem wine revolves round Marie Furter-Crouse and the three male winemakers of Zonnebloem farm: her father, Willem Furter who taught her the art of wine-making, her brother-in-law, John de Villiers, and her husband, Maurice Crouse, as well as Stellenbosch Farmers' Winery (SFW). Since 1920 Zonnebloem wine was exported to London and by 1947 the excellent Zonnebloem Riesling and Zonnebloem Cabernet Sauvignon were renowned in South Africa and Europe for their quality. John de Villiers was the first winemaker to become known as the "Wine King of South Africa". From 1930 SFW became deeply involved with the wine-makers of Zonnebloem and by the 1940's the company bottled, labelled and marketed Zonnebloem wine for John de Villiers. Shortly after his death in 1948, SFW registered the name Zonnebloem as its trade mark without informing the family. The changes which took place in the South African wine industry during the 1950's, international boycotts, as well as the ever increasing production costs, forced Crouse to stop making wine. Zonnebloem farm was sold in 2003.

Keywords: Brand name; cold fermentation; Distell; John de Villiers; Koöperatiewe Wijnbouersvereniging (KWV); Marie Furter-Crouse; Maurice Crouse; Nederburg wine estate; PB Burgoyne Australian and South African Wine Merchants and Shippers; quality wine; Stellenbosch Farmers' Winery (SFW); Willem D. Furter; wine analysis; wine industry; Wine King of South Africa; wine shows; wine tasting; Zonnebloem Cabernet Sauvignon; Zonnebloem farm; Zonnebloem Riesling.


 

 

Inleiding

Die Suid-Afrikaanse wingerd- en wynbedryf het sy oorsprong gehad toe die eerste wingerdstokke wat Jan van Riebeeck vanaf Frankryk, Duitsland en Spanje ingevoer het, op 22 Julie 1655 by die Kaap aangekom het. Skaars vier jaar later, op 2 Februarie 1659, is die eerste wyn aan die Kaap gepars. Soos die blanke koloniste hulle verder weg van die Kaapse nedersetting gevestig het, het hulle die wingerd- en wynbedryf as 'n selfstandige landbouvertakking in die nuwe distrikte ontwikkel. Met die koms van die Franse Hugenote in 1688 het wingerdaanplantings veral in die Drakensteinvallei (onder meer Franschhoek) waar hulle gevestig is, drasties toegeneem. Gevolglik het die Kaapse wynproduksie 'n fenomenale groei getoon.1

Reeds vroeg in die agtiende eeu het die Kaapse wynboere n wynoorskot ervaar as gevolg van die klein plaaslike mark en n beperkte buitelandse mark te wyte aan die swak gehalte van die oorgrote meerderheid van die Kaapse wyn. Die sterk Engelse militêre teenwoordigheid aan die Kaap vanaf 1795 het gesorg dat wynboere 'n goeie binnelandse mark vir hulle produk gekry het. Die Kaapse wynboere se finansiële posisie het verder verbeter toe 'n groot mark vir hulle wyn in Engeland ontstaan het as gevolg van die Franse blokkade van Europese hawens vanaf 1813. Die instelling van voorkeurtariewe vir Kaapse wyn deur Brittanje het gelei tot 'n toename in Kaapse wynuitvoere en die gevolglike verhoging van wynpryse.2

In 1860 het die Kaapse wynuitvoerhandel met Groot-Brittanje in duie gestort as gevolg van die vryhandelsooreenkoms wat Brittanje met Frankryk gesluit het. Daarvolgens het die invoertariewe op Franse wyn drasties verminder en is die voorkeurtariewe wat Brittanje aan Kaapse wyne verleen het, in 1861 beëindig. Die Kaapse wyn van swakker gehalte sou dus op gelyke voet met wyn uit Europa op die Britse mark moes meeding. Die Kaapse wynboere het meteens weer met wynoorskotte gesit en lae pryse was aan die orde van die dag.

Tot oormaat van ramp het die Phylloxera vastatrix-wortelinsekplaag, nadat dit reeds in Europa verwoesting onder wingerde gesaai het, in 1886 ook in Kaapse wingerde uitgebreek. Baie wynboere kon nie hierdie terugslag oorkom nie en sommige het na vrugteboerdery oorgeskakel.

Die Kaapse wynbedryf het gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) 'n tydelike oplewing beleef danksy die duisende Britse soldate in die land. Hierdie oplewing is gevolg deur 'n afswaai in die bedryf tydens die na-oorlogse depressie. Die kortstondige verbetering in die wynbedryf vanaf 1910 het in 1916 plek gemaak vir n ernstige krisis wat die Kaapse wynboere gekonfronteer het.3

 

Die plaas Zonnebloem, Simondium

Die plaas Kunnenburg was een van die eerste vier plase wat goewerneur Simon van der Stel in 1692 in die wyk Simondium van die distrik Drakenstein (Paarl) uitgegee het.4 Teen 1825 was Petrus Jacobus Malherbe, een van die groter Kaapse wynboere, die eienaar van die plase Kunnenburg en Draayhoogte. Hy het toe reeds 40 000 wingerdstokke op die plase aangeplant, waarvan hy 15 lêers wyn en een lêer brandewyn geproduseer het.5

In 1856 het Malherbe sy plaas Kunnenburg tussen sy twee seuns, Daniël Francois en Willem Andries, verdeel. Eersgenoemde het die naam Kunnenburg vir sy plaas behou en Willem Andries het sy gedeelte, 31 morg en 57 vierkante roede groot (26.63 hektaar), Zonnebloem genoem. Zonnebloem is geleë aan die Bergrivier, ongeveer halfpad tussen die Paarl en Simondium op die R45-roete na Franschhoek.6

Toe Willem Andries Malherbe Zonnebloem geërf het, was dit waarskynlik steeds n wingerdplaas. Dit is hoogs waarskynlik dat, as gevolg van die Phylloxera vastatrix-wortelinsekplaag van 1886, Willem Malherbe die wingerd op Zonnebloem uitgekap en vrugtebome aangeplant het. Sewe jaar later, in Julie 1893, het hy Zonnebloem aan Frederik J.J. Furter verkoop.7 Nadat Willem Furter Zonnebloem in 1915 van sy pa Frederick Furter geërf het, het hy Zonnebloem weer van "'n vrugteplaas na 'n wynplaas" omskep en hom op die maak van wyn toegespits.8

 

Willem Furter, die grondlêer van Zonnebloem wyn

Willem Furter het Zonnebloem midde-in die Eerste Wêreldoorlog geërf. Vanaf 1916 het 'n ekonomiese resessie die wynbedryf getref wat na die oorlog nog n aantal jare geduur het. Die wynboere is gekonfronteer met vraagstukke soos wynsurplusse, n tekort aan uitvoermarkte, die swak gehalte van hulle wynprodukte en n klein aantal wynhandelaars wat die wynpryse beheer het. Dr. Charles W.H. Kohler, wat in 1918 die eerste voorsitter van die Ko-operatiewe Wijnbouers Vereniging van Zuid-Afrika Beperkt (KWV) geword het, was van mening dat die wynbedryf nog nooit tevore so n laagtepunt beleef het as in 1916 nie.9 As stookwynprodusent het Willem Furter hierdie produksie- en ekonomiese probleme ervaar.

Willem Furter het gedurende die tydperk van oorproduksie wel van sy produkte verkoop gekry, want volgens 'n koopbewys van "GJ Krige en Zoon" van die plaas Oude Libertas in Stellenbosch, het dié maatskappy op 22 Julie 1918 "25 leggers zuivere Distilleer Wijnmost tegen £6 per legger" van WD. Furter gekoop. Die agent wat die aankoop hanteer het, het die volgende op die koopbrief genoteer:

GJ Krige and Son guarantee you a minimum price of £6per leaguer for 1919 and 1920 vintages in consideration of you agreeing not to sell to any buyer untilyou have given them the option to purchase at price offered.10

Dit was gedurende die krisistye in die wynbedryf dat Frank W. Myburgh, wynmaker en wynkenner van die KWV, gedurende 1919 tot 1943,11 kontak gemaak het met P.B. Burgoyne, 'n Londense wynhandelaar. Myburgh het besef dat Burgoyne se maatskappy, PB Burgoyne and Co Ltd, Australian and South African Wine Merchants and Shippers, n groot potensiële Britse mark vir Suid-Afrikaanse wyn van hoë gehalte beteken het. Die ontsluiting van hierdie belangrike mark kon in die toekoms groot finansiële voordele vir die Kaapse wynboere inhou.

Gedurende die eerste twee dekades van die twintigste eeu is slegs n klein hoeveelheid Kaapse wyn van hoë gehalte na Britse en ander oorsese markte uitgevoer. Die klein hoeveelheid wyn van hoë gehalte wat geproduseer en uitgevoer is, was van weinig betekenis vir die Kaapse wynbou. Volgens die Suid-Afrikaanse Handelskommissaris in Londen het die belangstelling in Kaapse wyn bly voortbestaan, maar die wynhandel wat as gevolg daarvan plaasgevind het, was eerder die gevolg van private kontrakte en nie die resultaat van makrohandelsaangeleenthede nie.12

Die Londense mark vir Suid-Afrikaanse wyn van gehalte het nog voordeliger vir produsente geword toe die Britse Regering in 1923 die voorkeurtariewe op imperiale ligte witwyn verhoog het. Ten spyte van die voordele wat die uitvoermark vir die wynboere ingehou het, het Frank Myburgh moeite ondervind om wynprodusente daarvan te oortuig om n goeie gehaltewyn te produseer.13 Van 1920 tot 1940 het hy nou met Willem Furter saamgewerk om n beter gehaltewyn te maak. Myburgh, mentor en goeie vriend van Willem Furter, meld hoe Furter die geleentheid aangegryp het om wyn vir uitvoer te produseer:

Originally a maker of distilling wine, in 1920, when the firm Burgoyne offered a market for South African wines of quality in London, Mr. Furter was among the first who turned in this direction, and having obtained a contract, he set about reorganizing his cellars and replacing his vines with types suited to the wines he was henceforth to produce. From that time on he only looked to quality.14

'n Aanduiding van die kultivars wat Willem Furter op Zonnebloem aangeplant het, word deur Niel Hammann verskaf na sy onderhoud in 1960 met Marie, dogter van Willem Furter, en haar man, Maurice Crouse. Hammann skryf dat Furter geskikte droë wynsoorte "soos Riesling en Clairette Blanche" aangeplant het.15 Dit is te betwyfel dat dit die enigste kultivars was wat Furter aangeplant het, want teen 1930 het hy reeds rooiwyn geproduseer. Na Furter se dood het Marie tydens die gemelde onderhoud met Hammann verklaar dat sy in staat was om goeie wyn te maak, aangesien sy n goeie wingerd van haar pa geërf het. Sy skoonseun, John de Villiers, wat ook n wynmaker op Zonnebloem geword het, het Marie se mening onderstreep. Dus is daar geen aanduiding dat Furter se opvolgers met verloop van tyd nuwe kultivars aangeplant het nie. Die betroubaarste inligting oor die verskeidenheid kultivars van Zonnebloem se wingerd word in die Blending Books van Stellenbosch Boerewynmakery (SBW) vir die tydperk 1949-1962 gevind.16 Daarvolgens het die volgende witwyn kultivars in Zonnebloem se wingerd voorgekom, met die oorspronklike name soos dit in die Blending Books voorkom, eerste gemeld:

• Riesling: Die kultivar het oorspronklik in die Paarl omgewing voorgekom en het bekend gestaan as "Paarl Riesling". Dit is geïdentifiseer as 'n relatiewe onbekende Franse kultivar Cruchen Blanc en het geen ooreenkoms met Weisser Riesling of Rhine Riesling nie.

• Steen: In 1965 is vasgestel dat dié kultivar nie uniek was aan Suid-Afrika nie, maar identies met die Franse variëteit Chenin Blanc. Beide name is sedertdien erken, maar Chenin Blanc word tans meer algemeen gebruik.

• Fransdruif (White French): Dit was van die oudste kultivars wat aan die Kaap aangeplant is. Dit is later geïdentifiseer as Palomino, een van die beroemde sjerrie kultivars in Spanje.

• Groendruif (Wyndruif): Beter bekend as Sémillon.

• Clairette Blanche.

Volgens alle aanduidings was 'n Zonnebloem Riesling die enigste witwyn wat Willem Furter en sy opvolgers op die plaas gemaak het.

In die Blending Books van SBW word Cabernet Sauvignon as die enigste rooiwyn kultivar van Zonnebloem aangedui, maar volgens Furter Crouse, die laaste lid van die familie wat Zonnebloem besit het, was daar wel 'n blok Cinsaut (Hermitage) wingerd.17 Die enigste rooiwyn wat deur die uitgebreide Furter familie op Zonnebloem gemaak is, was n versnit van hierdie twee kultivars in die verhouding van 10 Cabernet teen een Cinsaut.18 Dit is nie bekend in watter jaar Cabernet Sauvignon vir die eerste keer in die Kaapse wynlande aangeplant is nie, maar teen 1920 was dit al beskou as een van die plaaslike variëteite van gehalte.19 Geen wonder dat Willem Furter hierdie variëteit vir sy rooiwyn sou aanplant nie.

Soos voorheen vermeld, het Zonnebloem net meer as 31 morg (26.65 hektaar) beslaan. Hiervan was 20 morg (17.13 hektaar) teen 1960 onder 80 000 wingerdstokke.20 Volgens dié gegewens kon die plaas gedurende die tydperk 1949 tot 1962, toe Maurice Crouse die wynmaker op Zonnebloem was, jaarliks gemiddeld 248 ton druiwe opgelewer het. Die getal stokke wat van elke variëteit aangeplant is, kon egter nie vasgestel word nie. Ongelukkig kon geen gegewens gevind word van die ton druiwe of liter wyn wat voor 1949 op Zonnebloem geproduseer is nie.

Die onderstaande tabel toon die gemiddelde jaarlikse hoeveelheid liter wyn wat van 1949 tot 1962 op Zonnebloem geproduseer is:21

 

 

Toe Furter dus die kontrak met PB Burgoyne and Co in 1920 sluit, kon hy met die hulp van Myburgh oorskakel na die produksie van kwaliteitwyn vir uitvoer. Die vate is in Zonnebloem se kelder gevul en met n perdewa na die nabygeleë spoorweghalte, Cilliers, op die Paarl-Franschhoekspoorlyn vervoer. Vandaar is dit per trein na die Kaapse hawe geneem en na Londen verskeep.22

Willem Furter het die visie, die dryfkrag en energie gehad om wyn van gehalte te produseer. Volgens Frank Myburgh was Furter se wynkelder op Zonnebloem altyd silwerskoon en n plesier om te besoek: "and by reason both of excellent fustage and the manner in which it was arranged and maintained, I consider it second to only one other in the country'.23 Voorwaar hoë lof van 'n wynkenner wat daarvoor verantwoordelik was om alle wynboere in die Westelike Provinsie van raad te bedien.24

In navolging van die totale verbod wat in die Verenigde State van Amerika op drankgebruik ingestel is, het verskeie kerkgenootskappe en ander organisasies met die Ned. Geref. Kerk aan die spits, in die vroeë 1920's aksies geloods om die euwels van drankmisbruik in Suid-Afrika te verkondig. Die aksies het die sogenaamde Cradock-kongres, waar n totale verbod op drankgebruik in Suid-Afrika bepleit is, tot gevolg gehad. Volgehoue druk in dié verband het gelei tot die aanvaarding van die nuwe Drankwet van 1928, wat groter beperkings op die gebruik van drank geplaas het, soos byvoorbeeld sekere beperkings op die verskaffing van drank aan swartmense, kleurlinge en Indiërs. Hierdie beperkings het die afset van drank nadelig beïnvloed, maar was nie n ernstige krisis vir die wynbedryf nie. Dit was eers weer vanaf 1958 dat maatreëls ondersoek is om die verkoop van drank aan hierdie groepe te vergemaklik en smokkelhandel te beperk.25

Die wêreldwye depressie van 1929-1932 was 'n groter krisis vir die Suid-Afrikaanse wynindustrie. Die Suid-Afrikaanse verbruiker het minder alkoholiese drank gekoop, bloot omdat hy dit nie kon bekostig nie. Om sake te bemoeilik, het die wynproduksie vanaf 1930 vermeerder. Die oorskot van stookwyn het soveel as 50 persent van die 1930 oesjaar en 60 persent van die 1932/1933 oesjaar beloop. Die gevolg was dat die boere se produksiekoste hulle inkomste oorskry het. Wynboere soos Willem Furter, wat gehaltewyn geproduseer het, het nogtans een pond sterling meer per lêer ontvang.26 Die redakteur van die tydskrif Wine and Spirit was van mening dat hierdie fokus op gehalte baie belangrik vir die herstel van die industrie was. Hy skryf in 1932:

If the world crisis, having induced ourfarmers to pay attention to quality more than ever, gradually vanishes without having reached a fatal depth, our wine industry would be able to say that it was out of the woods?2

Volgens Frank Myburgh het Furter se kontrak met Burgoyne in 1930 verval, aangesien die aanvraag na Suid-Afrikaanse wyn in Brittanje as gevolg van die wêreldwye depressie verminder het. Willem Furter se kleinseun, John de Villiers (junior), beweer egter dat sy oupa wel kontrakte gehad het om in 1933, 1936 en 1939 wyn na Burgoyne in Londen uit te voer.28 'n Anonieme skrywer wat in 1936 n vergelyking tussen die Suid-Afrikaanse en Australiese wynuitvoere na Brittanje gemaak het, het John de Villiers se inligting soos volg bevestig: Suid-Afrika het in 1920 na vyftig jaar weer op groter skaal wyn na Brittanje begin uitvoer. Sedert 1930 het die uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn na Brittanje snel toegeneem met 'n rekord toename in 1933, ten spyte van die wêrelddepressie. Die gebruik om Suid-Afrikaanse wyn vir n aantal jare in vate te verouder, het bygedra tot die sukses daarvan op oorsese markte. Dié gunstige beeld van die wynuitvoer het egter n negatiewe kant gehad. Suid-Afrika het jaarliks beduidend meer wyn as Australië geproduseer, maar het teen 1936 steeds minder wyn as Australië na Groot-Brittanje uitgevoer. Dit is toegeskryf aan die steun wat die Australiese wynbedryf van die Australiese regering ontvang het. Sodanige aansporingsmaatreëls het nie vir Suid-Afrikaanse wynprodusente bestaan nie.29

In 1930 het die maatskappy Stellenbosch Farmer's Winery, Wine and Spirit Merchants, Producers and Wine Growers, 'n kontrak met Willem Furter gesluit.30 Die bepalings van die kontrak is onbekend, aangesien dit n mondelinge ooreenkoms was wat berus het op die onderlinge vertroue en eerbaarheid van die betrokke partye. Furter het vanaf 1930 witwyn aan SBW gelewer as n versnit vir SBW se produkte.31 Daar is bewyse dat wyn in die vroeë 1940's op die plaas Zonnebloem gebottel is, maar daar kon nie vasgestel word of dit reeds gedurende die 1930's gedoen is nie.

Die kontrak tussen Willem Furter en SBW in 1930 was beslis voordelig vir beide partye. Die Suid-Afrikaanse wynboere het die depressie aan hulle sak gevoel, aangesien die dalende wynpryse en -verkope hulle met n oorproduksie van stookwyn gekonfronteer het. Om op daardie tydstip so n gewaarborgde en stabiele afset vir sy wyn te kon beding, was vir Furter n ekonomiese reddingsboei. Vir Bill Winshaw,32 wynkoper en -analis van SBW, was dit n geleentheid om wyn te kry van n wynmaker wat bekend vir die gehalte van sy produk was.

Willem Furter was slegs een van talle leweransiers van druiwe en wyn met wie Bill Winshaw kontrakte gesluit het. Romy van der Merwe, die outeur van die amptelike geskiedenis van SBW, meld dat Bill Winshaw "dealt directly with individual families throughout the country. At one stage these clients numbered close to 75 000families".33 Talle individuele boere van die omgewings van Stellenbosch, Helderberg, Wellington, Paarl, Franschhoek, Riebeeck-Kasteel en Malmesbury het sedert 1930 druiwe en wyn aan SBW gelewer. Toe hierdie leweransiers nie voldoende voorraad kon verskaf nie, het wyn- en druiwekopers van SBW op die langer termyn wynboere in die streke van Tulbagh, Wolseley en Slanghoek, en verder af langs die Breërivier in die wynproduserende distrikte van Robertson en Bonnievale betrek. Voorts is verskaffers gevind in Montagu en die ander streke van die Klein Karoo, asook in die Noord-Weste in die omgewing van Vredendal, Klawer en Upington. Na raming het minstens 28 koöperatiewe wynkelders wat oor die wynproduserende streke versprei was, met verloop van tyd wyn en druiwe aan SBW voorsien - sommige kelders tot soveel as 90 persent van hulle wyn.34

SBW het in 1932 Chateau Libertas bekendgestel.35 Die wyn word soos volg beskryf: "The composition of Chateau Libertas, like that of a Bordeaux wine, has always been Cabernet in the main, blended with other soft reds".36 Chateau Libertas, deur Bill Winshaw ontwikkel, het spoedig die vlagskip-rooiwyn van SBW en een van die gewildste rooiwyne in Suid-Afrika geword.37 Aangesien 'n Cabernet Sauvignon van hoë gehalte op Zonnebloem geproduseer is, het die kontrak met die wynmakers van Zonnebloem vir Bill Winshaw nog belangriker geword.

Die kwaliteit van Willem Furter se wyn word bevestig deur die sukses wat hy op verskillende wynskoue behaal het. So was hy byvoorbeeld in 1933 die mede-wenner van die Burgoynebeker op die jaarlikse Kaapse Wynskou vir die uitstaller met die meeste punte vir witwyn.38 In 1935 het hy twee eerste, een tweede en 'n derde prys vir sy droë witwyn, asook 'n derde prys vir sy droë rooiwyn verower. Hierdie pryse word soos volg in die tydskrif Wine and Spirit van November 1935 beskryf:

Class 1: First Prize for his 10 leaguers Dry White Wine, light bodied, Hock Type;

Class 2: He was highly recommended for his 10 leaguers Dry White Wine.

Class 8: Second Prize for 5 leaguers Dry White Wine made from Riesling.

Class 9: First Prize for 5 leaguers Dry White Wine made from one variety of grape not previously mentioned (variety to be stated).

Class 13: Reserve for his 5 leaguers of Dry White Wine made from Clairette Blanche. Class 15: Third prize for his Dry Red Wine, Burgundy Type.3'

Op die Kaapse wynskou in 1936 het Furter se wit- en rooiwyn weer verskeie pryse verower. Furter het ook die volgende wisseltrofee en 'n medalje ontvang: die Qualitity Wine Growers' Association Cup, die McDonald en WH Lategan-bekers en die Farmer's Weekly se silwer medalje vir die uitstaller met die hoogste aantal punte op die skou.40

 

 

Dat Willem Furter 'n besondere prestasie gelewer het, word bewys deur die feit dat sy mededingers almal erkende wynmakers in die Wes-Kaap was: A.W. Jordaan van Theuniskraal, Tulbagh; H.J. Malan van Alto, Lynedoch, Stellenbosch; Paul J. de Wet van Zandvliet, Ashton; W Starke van Meerendal, Durbanville en D.F. Malan van Allesverloren, Riebeeck-Wes. Die meeste van hierdie wynlandgoedere is steeds (2011) in dieselfde familie se besit en nog altyd bekend vir die gehaltewyn wat daar geproduseer word.42 Die saggeaarde Willem Furter, met sy rustige humorsin, was die wynmaker wat Zonnebloem wyn as 'n kwaliteitproduk gevestig het.

 

 

Willem Furter is op 7 Januarie 1940 oorlede, twee weke voor die parsseisoen sou begin. Sy oudste dogter, die een-en-twintigjarige Marie, het noodgedwonge die verantwoordelikheid as wynmaker oorgeneem. Gelukkig was sy nie onvoorbereid vir die taak nie. Sy het haar vader se liefde en talent vir wynmaak geërf: van kleins af het sy hom op sy rondtes deur die wingerd en in die kelder gevolg, gekyk hoe hy te werk gaan, hom uitgevra en goed geluister wanneer hy iets aan haar verduidelik het. Met haar vader se dood was sy redelik goed toegerus om die Zonnebloem wynmaaktradisie voort te sit, ten spyte daarvan dat sy geen akademiese opleiding in wyn- of wingerboukunde gehad het nie.44

Marie was egter gelukkig dat sy die ondersteuning van Frank Myburgh, haar pa se vriend en wynkenner van die KWV, in hierdie kritieke situasie gehad het. Met sy hulp het sy 'n uitstekende gehaltewyn gemaak en op die Paarlse Wynskou van 1940 het sy die McDonald, Burgoyne en WH Lategan-bekers verower, sowel as die Farmer's Weekly se silwer medalje vir die uitstaller met die meeste punte op die skou. Hiermee het sy haar pa se prestasie van 1936 geëwenaar en klaarblyklik die eerste vroulike wynmaker in Suid-Afrika geword wat soveel pryse op 'n enkele wynskou verower het.45

 

 

Tydens die wynskou van 1941 het, sover vasgestel kon word, vir die eerste keer vier vroulike wynmakers, waaronder Marie Furter, deelgeneem. Die vier vroue het geen bekers of medaljes verower nie, maar elkeen het n aantal eerste, tweede en derde pryse verower, met Marie wat so n kort-kop voor die ander geëindig het.47

In 1942 het Marie Furter vir die laaste maal aan die wynskou deelgeneem en haar skitterende prestasie van 1940 herhaal deur weer die drie belangrikste bekers en die Farmer's Weekly se silwer medalje te verower.48 Dit het getoon dat haar sukses twee jaar vantevore nie 'n gelukskoot was nie.

 

Die Wynkoning van Suid-Afrika

Marie Furter is in 1942 as wynmaker op Zonnebloem deur haar swaer, Johannes Wynand Louw de Villiers, in die omgang bekend as John, opgevolg. John de Villiers, wat by die Suid-Afrikaanse Yster en Staalkorporasie (Yskor) in Pretoria gewerk het, het oor geen kennis van die wynmaakproses beskik nie.49 Hy het wel 'n vurige belangstelling in wynmaak gehad, aangesien sy pa wat in die wynproduserende Paarl grootgeword het, sy seun gereeld aan etenstafel oor 'n glasie wyn ingelig het oor die kwaliteite van goeie wyn en die fyn kuns van die maak daarvan.50

Na Willem Furter se skielike dood in Januarie 1940, het John de Villiers vir Marie Furter oorreed om hom die kuns van wynmaak te leer. John was gedrewe deur 'n passie om gehaltewyn op Zonnebloem te maak wat met die beste van Europa kon meeding. Hy het geglo dat Marie hom in n kort tydperk met meer kennis en vaardighede kon toerus as wat hy aan n universiteit of n landboukollege kon bekom. Gedurende die parsseisoene van 1941 en 1942 het hy op die harde manier by Marie geleer. Sy was n veeleisende, maar uitstekende leermeester. Terselfdertyd het hy elke ander moontlike bron van kennis ontgin. So het hy die KWV gereeld besoek om antwoorde op sy vrae te kry en om monsters van sy wyn te laat toets.51 Daar word gesê John "followed his own course in viticulture and wrote the exams on his own in his cellar".52

John de Villiers het ook bevriend geraak met Bill Winshaw, wynmaker en -analis van SBW, en baie by Bill geleer.53 Aangesien Winshaw reeds van Zonnebloem se wyn gekoop het, is dit logies dat hy John de Villiers ook 'n kontrak sou aanbied.54 Soos in die geval van die kontrak met Willem Furter, is die inhoud van hierdie mondelinge kontrak ook onbekend.

Na Marie Furter se huwelik in 1942 met Maurice Okkatain Crouse, n bankamptenaar, het die egpaar in die Paarl gaan woon. John het op sy eie voortgegaan as wynmaker en in Oktober 1943 het hy en en sy vrou, Francina, Zonnebloem van sy skoonma, Hendrika Furter, vir vyfduisend pond sterling gekoop.55

Die pragtige uitdrukking "jy moet jou tuie regsit voordat jy die perde inspan" is beslis van toepassing op John de Villiers. Hy het deeglike voorbereiding getref deur die wynmaakproses intensief te bestudeer voor sy eerste wynskou in die Paarl in 1943: sy wyne is dan ook geesdriftig ontvang en het verskeie pryse en trofeë verower. Hy het onder meer die WH Lategan-beker, die Farmer's Weekly se silwer medalje vir die deelnemer met die meeste punte op die skou, asook The Quality Wine Growers' Society of South Africa-beker ontvang. Laasgenoemde beker het John ook in 1945 en 1946 verower en dit is tans in besit van sy seun, John de Villiers (junior) van Stellenbosch.56 Lord Killearn, die Britse ambassadeur in Kairo en 'n erkende wynkenner, het die skou geopen. Hy was so beïndruk met John de Villiers se wyn dat hy n aantal kiste wit- en rooiwyn bestel het wat by die Britse ambassade in Kaïro afgelewer moes word.57

John de Villiers het op die wynskoue van 1944 en 1945 verskeie pryse verower, maar dit was met die wynskou van 1946 wat hy werklik "gegradueer" het as wynmaker van statuur wat ook in die buiteland erkenning gekry het. Zonnebloem wyne is as die sensasie van die uitstalling beskou en hy het tien bekers — die meeste ooit deur een wynmaker — asook die Farmer's Weekly se goue medalje verower vir die uitstaller met die meeste punte. John is ook as die Suid-Afrikaanse kampioenwynmaker aangewys.58 Na sy reuse-sukses in 1946 is daar in talle tydskrif- en koerantartikels na hom verwys as die "Wynkoning van Suid-Afrika". Toe hy die volgende jaar weer skoonskip op die skou gemaak het, is gerapporteer dat John de Villiers "retained his title as 'wine king' of South Africa".59

 

 

'n Anonieme skrywer beskryf die bekeroorhandiging ná die wynskou van 1946 in die Paarlse stadsaal in die Paarl Post soos volg: "When the cups were awarded, a big young man kept on coming on to the stage to receive cups, so that it afterwards began to look like a one-man show. That was the 6ft. 4 John de Villiers, who collected ten cups and the gold medal for the most points".60

Die titel van "Wynkoning van Suid-Afrika" het waarskynlik verdere inslag by joernaliste en die breë publiek gevind toe John de Villiers se Zonnebloem Riesling en die Zonnebloem Cabernet Sauvignon gekies is vir die amptelike wynlys van die Wit Trein waarmee die Britse koninklike gesin in 1947 deur Suid-Afrika getoer het.61 Die keuse van sy wyn vir hierdie geleentheid was n groot eer vir John de Villiers en het vir hom n belangrike prestigewaarde binne die wynmakersgemeenskap ingehou.

John se bekendheid as wynmaker het nasionaal en internasionaal versprei. Die Unie-regering se Buro van Inligting het onder andere 'n fotograaf na Zonnebloem gestuur om foto's van John en sy plaas te neem vir publisiteit in die buiteland.62 Nadat sy wyn eerste pryse op die Britse Ryk se wynskou in Londen verower het, het internasionale joernaliste onderhoude met hom op Zonnebloem gevoer. Wynhandelaars van Londen het ook aangedui dat hulle sy wyn wou koop.63 Na die Paarlse wynskou van 1947 berig 'n Engelse joernalis: "Mr. de Villiers's cellar is the highest prize-winning cellar in the Union, having already taken 600 prices"64, voorwaar 'n uitstaande prestasie na slegs vyf jaar in die wynbedryf. John was egter beskeie oor sy prestasies en het dikwels die opmerking gemaak dat hy goeie wyn maak omdat hy 'n goeie plaas besit en sy skoonpa, Willem Furter, goeie wingerd geplant het.65

John het sy wyn onder die kenmerkende etiket (Figuur 7) waarop die De Villiers-familiewapen en -leuse LA MAIN Á L'OEUVRE (die hand wat werk) verskyn, op Zonnebloem gebotteleer en bemark. Die oudste bottel rooiwyn wat hierdie skrywer kon vind, was n Zonnebloem Cabernet Sauvignon, oesjaar 1945, met die bewoording soos op die etiket bo beskryf. Die tweede oudste was ook n Zonnebloem Cabernet Sauvignon, oesjaar 1951.66 Die bewoording op dié bottel se etiket toon aan dat die wyn op die plaas verouder, maar deur SBW vir Zonnebloem gebottel is. Die wyn is dus eers in die kelder op Zonnebloem in houtvate verouder, oorgepomp in staaltenks en met vragmotors na SBW in Stellenbosch vervoer om gebottel en geëtiketteer te word.

 

 

Zonnebloem Cabernet en Zonnebloem Riesling met die nuwe etikette is sedert 1948 deur SBW bemark.67 Ongelukkig bestaan daar geen inligting oor die verhouding tussen die hoeveelheid wyn wat vir Zonnebloem gebottelleer is en dié wat deur SBW as n versnitwyn vir die maatskappy se eie wyne gebruik is nie.

Die rede vir hierdie nouer samewerking tussen Zonnebloem en SBW is nie bekend nie. n Ingeligte raaiskoot is dat n tekort aan bottels in die Wes-Kaap tydens en selfs ná die Tweede Wereldoorlog dit genoodsaak het. Die tekort aan bottels is vererger deurdat daar in daardie stadium nog nie n glasfabriek in die Wes-Kaap bestaan het nie. 'n Groot maatskappy soos SBW het leë bottels op 'n groot skaal verloor, wat in 1941 gedeeltelik opgelos is deur kontrakte te sluit met tweedehandse bottelhandelaars om weekliks leë bottels teen die maksimum pryse, soos deur die regering vasgestel, aan die maatskappy te lewer. Die skoonmaak van bottels was ook n arbeidsintensiewe bedryf wat waarskynlik tot die besluit kon bydra dat die wyn van Zonnebloem deur SBW gebottel moes word.68

Die kwaliteit van John de Villiers se rooiwyn teen 1947 is merkwaardig, aangesien dit in werklikheid nog n baie jong wyn was, die oudste slegs vyf jaar. Die wyn is vir twee of drie jaar in die kelder op Zonnebloem in vate verouder, maar hy het beplan om die beste vir nog n verdere vier tot vyf jaar te verouder voordat dit bemark sou word.69

John de Villiers se Zonnebloem Cabernet Sauvignon, 1945 oesjaar, is by twee latere geleenthede deur wynkenners beoordeel. Die eerste keer was in 1977, dus 32 jaar nadat John die wyn gemaak het, toe lede van die eksklusiewe International Institute of Masters of Wine tydens 'n besoek aan Suid-Afrika die wyn beskryf het as 'n "magnificent, superb wine — a great experience"?70 Die tweede geleentheid het plaasgevind in Augustus 1986, toe die wyn-ghoeroe, Godfrey du Bruyn, 'n wynproe bygewoon het wat Francis (Duimpie) Bayly,71 toe die produksie direkteur van SBW, in die maatskappy se "Tabernakel"72 aangebied het. Tydens hierdie geleentheid is drie Zonnebloem Cabernet Sauvignons geproe: 'n 1945 oesjaar van John de Villiers, 'n 1961 oesjaar van Maurice Crouse en 'n 1974 oesjaar van Jan de Waal, wynmaker van SBW. Du Bruyn was verras met die kwaliteit en boeket van die 1945 Cabernet Sauvignon van John de Villiers en was van mening dat dit die kriterium was waarteen die ander wyne getoets moet word.73

Bill Winshaw se evaluering van John de Villiers se wyn getuig van die kwaliteit daarvan. Sy evaluering van die 1946 oesjaar lui: "All wines have a good character and are in a good condition. The strengths are good. Two vats have afaint sherry character but most of the wines are of outstanding character'. Die volgende jaar skryf hy "... the quality of the wines is outstanding'. In 1948 lees sy verslag: "The analysis proves that the wine maker took great care in the making and cellar treatment of the wines. The quality and condition of the wines is very good'?74

Die stigter van SBW, dr. William Winshaw, het John de Villiers se Zonnebloem Cabernet van 1945 as die eerste "great red wine ever to be produced in South Africa' beskou. Daarom het hy in die laat vyftigerjare 120 bottels daarvan spesiaal laat heretiketteer met afbeeldings van sy familiewapen ter viering van sy sewe-en-tagtigste verjaardagviering. Hierdie wyn is slegs by spesiale familiegeleenthede gedrink.75

Die dramaturg en skrywer, WA. de Klerk, het sy besoek aan John de Villiers op Zonnebloem in 1947 so verwoord:

Ek het hom (John), Francina, hulle kinders en hulle honde saam daar op dieplaasgekry. Dit was 'n gelukkige gesin op 'n gelukkige plaas. In sy kelder het John my van sy metodes vertel. Hy het veral lof gehad vir die gebruik van hout by wynbereiding. Ek onthou dat ek nog by myself gereken het: hierdie jong man is voorwaar besonderlik begenadig. Binne ses jaar nadat hy met die wynboerdery begin het, het talle artikels in koerante en tydskrifte hom al as die Wynkoning van die Boland beskryf. John de Villiers het homself as 'n natuurlik begaafde getoon. Hy was jonk en enorm ambisieus. Die wêreld het oop voor hom gele.76

Dinge sou egter anders verloop. John de Villiers, as lid van die Paarlse distriksraad van die Herenigde Nasionale Party (HNP), wat na die algemene verkiesing van Mei 1948 aan bewind gekom het, was aktief by die politiek van die dag betrokke. Daarom het hy in die namiddag van 7 Julie 1948 saam met P.W Botha, LV vir George (die latere staatspresident van Suid-Afrika, 1984-1989), en P.H. Torlage, provinsiale organiseerder van die HNP, per motor uit die Paarl vertrek om die kongres van die Nasionale Jeugbond van die HNP in Beaufort-Wes by te woon. Sowat vyf kilometer noord van De Doorns het hulle motor by n spooroorgang voor n trein beland en John de Villiers is op slag dood. Sy twee reisgenote is lig beseer.77

John de Villiers se tragiese dood op die jeugdige ouderdom van 32 jaar en 10 maande het die wynbedryf geskok en talle koerante het daaroor verslag gedoen. Twee berigte wat John as wynmaker waarskynlik die beste uitbeeld, verdien om aangehaal te word. Die Sunday Times het soos volg berig:

South Africa cannot afford to lose men like John de Villiers. Politicians may come and go, and millionaires may make their millions, but those who produce perfection from our own soil are of rarity beyondprice. He sought no great wealth; he loved the age-old art of wine-making and strove to make it even better. His great ambition was to make a wine typical of South Africa and distinct from any made overseas.78

In dieselfde trant skryf 'n sekere JPS in Die Wynboerin sy huldeblyk aan John de Villiers:

Wanneer John de Villiers oor wyne gepraat het, dan het jy geweet dat jy nie met 'n besigheidsmens te doen het wat 'n middel gevind het om aardse skatte te versamel nie. Vir hom was die volmaakte skepping die hoofsaak. Dit was die middel waardeur hy uiting gegee het aan sy persoonlikheid; dit was die fyn-afgeronde, volmaak gebalanseerde, individualistiese werk van 'n vakman — nie die massaproduk van die fabriek nieT9

John se weduwee, Francina, is agtergelaat met hulle twee kinders, die vyfjarige dogter, Erika, en die driejarige seun en sy pa se naamgenoot, Johannes Wynand Louw (John junior), plus 'n wynplaas wat sy slegs met moeite sou kon bestuur. Daarom het Francina die plaas aan haar suster, Marie, en haar man, Maurice Crouse, verhuur. Sy en die kinders het tot 1952 op Zonnebloem bly woon.80

 

Marie Crouse, vrou van die oomblik

Marie het na John de Villiers se dood as wynmaker op Zonnebloem oorgeneem. Weer het sy n groentjie in die wynbedryf, haar man Maurice, binne twee parsseisoene (1949 tot 1950) die kuns van wynmaak geleer. Die Crouse egpaar het as n span hulle eerste sukses op die Paarlse wynskou van 1949 behaal toe hulle die medalje vir die meeste punte op die skou verower het.

Die jaar 1951 was 'n uitsonderlike goeie jaar vir Maurice Crouse toe sy wyn elf eerste pryse, nege bekers en die goue medalje vir die deelnemer met die meeste punte op die skou verower het. In die media was daar verwysings na 'n nuwe "Wynkoning" van die Westelike Provinsie.81 'n Verdere hoogtepunt vir Crouse was toe hy in 1954 die Generaal Smuts-wisseltrofee vir die beste wyn in Suid-Afrika ontvang het vir sy Zonnebloem Riesling en Zonnebloem Cabernet Sauvignon. Tussen 1955 en 1959 het Zonnebloem wyne 'n verdere 16 bekers en 22 eerste pryse verower.82

 

 

Aangespoor deur die sukses van hulle wyn, het Marie Crouse haar erfgeld gebruik en Zonnebloem in 1956 vir 8 500 pond sterling van haar suster, Francina, gekoop.84

 

Stellenbosch-Boerewynmakery Beperk (SBW 9 registreer die naam Zonnebloem as handelsmerk

Na John de Villiers se dood op 7 Julie 1948 het SBW 'n toenemende senior rol, asook n kontroversiële rol, in die sakeverhouding met Maurice Crouse gespeel.

 

 

Ses-en-dertig dae na John de Villiers se dood, op 12 Augustus 1948,86 het SBW sy aansoek nommer 2349/48 ingedien om die naam Zonnebloem as handelsmerk te registreer volgens die Patente, Modelle, Handelsmerke en Auteursreg Wet van 1916. Op 8 Junie 1949 het die registrateur van die Kantoor van Handelsmerke 'n registrasiesertifikaat aan SBW uitgereik as bewys dat Zonnebloem op sy naam in Klas 43 — "to cover fermented liquors and spirits' — geregistreer is.87 In Maart 1962 het die registrateur SBW daaraan herinner dat hierdie registrasie op 12 Augustus van daardie jaar hernu moes word.88 Sedertdien moes SBW, en ná 2000 Distell (die nuwe maatskappy wat ná die amalgamasie van Distillers Korporasie en SBW tot stand gekom het) die registrasie van Zonnebloem as handelsmerk elke 10 jaar hernu.89 SBW het nie John de Villiers se weduwee, Francina, of die Crouse egpaar oor hierdie registrasie ingelig nie.

Daar kan slegs gespekuleer word oor die motief agter SBW se registrasie van Zonnebloem as handelsmerk. Die volgende scenario is waarskynlik baie na aan korrek: Bill Winshaw en die lede van SBW se direksie was bewus van die gehalte en die bekendheid van Zonnebloem wyne. Dié wyne is op daardie stadium deur SBW gebotteleer, geëtiketteer en bemark. Die direkteure van SBW het geweet dat die naam Zonnebloem nog nie amptelik as handelsmerk geregistreer is nie. In daardie stadium kon enige wynmaker of maatskappy die naam Zonnebloem as handelsmerk registreer. Om te voorkom dat SBW die handelsnaam verloor van n produk wat reeds deur hulle gebotteleer en geëtiketteer word, het die direkteure vinnig besluit om Zonnebloem as handelsmerk te registreer. SBW sou die registrasie as spoedeisend beskou, aangesien Distillers Korporasie sedert 1945 'n nuwe mededinger in die wynindustrie was waarmee rekening gehou moes word.

Bill Winshaw het sekerlik die belangrikste aandeel in die registrasie van Zonnebloem as handelsmerk gehad, aangesien "... he had a flair for marketing, which made him undoubtedly the leader in wine marketing during the 25post-war years, capturing about 70per cent of the market for SBW'.90

SBW het 'n wetlik-korrekte prosedure gevolg met die registrasie van Zonnebloem as hulle handelsmerk. Dit is ook begryplik dat die Crouse en De Villiers families steeds die registrasie as oneties en oneerlik beskou. John de Villiers (junior) stel dit onomwonde dat slegs die naam Zonnebloem as handelsmerk geregistreer is, maar nie die De Villiers familiewapen en -leuse LA MAIN A L'OEUVRE nie. Daarom het SBW, en later Distell, nie die reg gehad om dit op hulle etikette te gebruik nie. Hy meld ook dat toe Maurice Crouse die eienaar van die plaas Zonnebloem geword het, hy voortgegaan het om die etiket, familiewapen en leuse van John de Villiers te gebruik.91 Daar was sprake dat die Crouses die aangeleentheid van die handelsmerk in die hof wou betwis, maar die koste verbonde aan 'n moontlik uitgerekte regsgeding teen 'n kapitaalkragtige maatskappy soos SBW het hulle daarvan laat afsien.92 Waarskynlik het Willem Furter, John de Villiers en Maurice Crouse nie besef dat dit hulle verantwoordelikheid was om die plaas se naam as die handelsmerk van hulle wyn te registreer nie. Daar is talle voorbeelde waar die naam van 'n landgoed aan die wyn gekoppel is, soos byvoorbeeld Alto, Theuniskraal en Twee Jonge Gezellen. Dit bly vreemd dat nie een van die wynmaker-eienaars van Zonnebloem dit laat registreer het nie.

In Augustus 1973 het Crouse skriftelik beswaar aangeteken by die besturende direkteur van SBW dat die maatskappy Zonnebloem, sy plaas se geregistreerde naam, in die bemarking van sekere van hulle wyne gebruik. Volgens Crouse het hy gereeld daaroor navrae van die publiek ontvang omdat sy plaas voorheen bekend was vir die wyn wat daar geproduseer is.93 In sy antwoord het J.B. Dempers, administratiewe direkteur van SBW, gemeld dat Zonnebloem in 1948 as handelsmerk deur die maatskappy geregistreer is; dat dit in 1952 in gebruik geneem is en dat die volgende wyne sedertdien onder dié handelsmerk bemark word: Zonnebloem Cabernet, Zonnebloem Riesling, Zonnebloem Selected Stein en Zonnebloem Late Harvest. Hy het egter nie gemeld dat SBW wyn onder die Zonnebloemhandelsmerk sedert 1959 na Europa, Afrika en die Verre-Ooste uitgevoer het nie.94 Dempers het die brief soos volg afgesluit: "Weens registrasie en gebruik van die woord Zonnebloem beskik ons oor die alleengebruiksreg van hierdie woord vir die bemarking van drank in die Republiek, asook in ander lande".95 Maurice Crouse het Dempers uitgedaag om die volgende aan hom te verduidelik: wie SBW die reg gegee het om Zonnebloem as handelsmerk te gebruik; wat geword het van die woorde "Bottled for Zonnebloem Farm, Simondium' op die etikette van Zonnebloem Carbernet Sauvignon en Zonnebloem Riesling, die enigste wyn wat op die plaas geproduseer is; hoe SBW nuwe wyne met die handelsnaam Zonnebloem kon bemark, aangesien die laaste wyn wat op Zonnebloem gemaak is, in 1963 aan SBW gelewer is. Maurice Crouse het SBW daarvan beskuldig dat hulle die Wyn van Oorsprong-skema van 1973 oortree het deur op 'n oneerlike wyse Zonnebloem as plek van oorsprong aan te dui vir die nuwe wyne wat hulle onder die naam Zonnebloem bemark.96 Dempers het Crouse se vrae en beskuldiging hierna eenvoudig geïgnoreer. Sy standpunt was dat indien Crouse 'n regsgeding wou begin, SBW oor die dienste van 'n goeie advokaat, asook die nodige finansies vir 'n uitgerekte hofsaak beskik.97

Deur die Wyn van Oorsprong-skema van 1973 is die nodige magtiging deur wetgewing geskep vir die erkenning en beskerming van wyne van oorsprong, landgoedwyne en wyne met die aanduiding van die bepaalde druifkultivar en oesjaar waarin dit gemaak is. Om as 'n landgoedwyn geklassifiseer te word, moet die wyn gemaak word in die kelder op die landgoed van druiwe wat op die landgoed gekweek is. Onderskeid word ook gemaak tussen landgoedwyne wat op n spesifieke landgoed berei, verouder en gebottel word, en dié wat op die landgoed geproduseer, maar elders gebottel word.98 Volgens hierdie bepalings kon Zonnebloem plaas vanaf 1973 nie as die plek van oorsprong van die reeks Zonnebloem wyne aangedui word nie, aangesien die druiwe van verskeie plase in die Kusstreek aangekoop is.99

Die beperkte bronne maak dit onmoontlik om te bepaal wanneer Crouse uitgevind het dat sy plaas se naam deur SBW as handelsmerk gebruik word. Hy het ook verkeerdelik geglo dat die registrasie van Zonnebloem as handelsmerk reeds in 1962 verval het. Dit is moontlik dat hy nie die verskil tussen die registrasie van sy plaas op sy naam deur die koopakte en die registrasie van n handelsmerk besef het nie.100 Dat Crouse vir meer as n dekade voortgegaan het om sy wyn onder SBW se geregistreerde handelsmerk Zonnebloem te bemark en aan wynskoue deel te neem, het waarskynlik met SBW se toestemming geskied. Klaarblyklik was dit nie nodig dat sodanige toestemming of lisensie skriftelik moes wees nie.101

 

Die einde van Zonnebloem as wynplaas

In die toenemend kompeterende arena van die wynindustrie na die Tweede Wereldoorlog in Suid-Afrika, het wynproduserende groothandelaars soos SBW en Distillers 'n al hoër premie op die gehalte van die wyne geplaas wat hulle van hulle voorsieners ontvang het. Die gereelde analise van die wyn van Maurice Crouse van Zonnebloem en die algemene opmerkings wat Bill Winshaw in sy Blending Books gemaak het, illustreer hierdie klem op gehalte. Die volgende twee aanhalings is lukraak geneem.

Kommentaar van Junie 1952 oor die 1952 oesjaar:

Except for one or two vats the Riesling and CB have settled fairly clear and can be fined now. The Steen, French and Green Grape are still very cloudy and cannot be fined now. It is apparent that insufficient sulphur was added. WJ [Bill Winshaw] required us to send full instructions to Zonnebloem for the fining of their wines. In 1953 SBW will supply all wine chemicals to Zonnebloem.

Januarie 1955 se kommentaar oor die 1952 / 1954 oesjaar was:

With reference to Cabernet, this wine is not made to specification and is becoming an ordinary wine. Should Mr. Crouse not be able to follow instructions he should contact the winery and not remain negative to a procedure which will make or break his wine. His present method will produce a reasonably good wine which will not continue to improve in vats or bottles}102

Hierdie negatiewe opmerkings staan in sterk kontras teenoor die prestasies van Maurice Crouse se wyn gedurende 1949 tot 1959 op die jaarlikse wynskou. Hy is in 1951 as die nuwe Wynkoning van die Westelike Provinsie gekroon. In 1954 het Crouse onder meer die volgende wisseltrofieë en -bekers op die jaarlikse wynskou in die Paarl ontvang:

The Silver Floating Trophy for 10 leaguers of a blended Dry Red Wine, full bodied;

The Silver Floating Trophy presented by Mr HEH Brinckman, for Matured Dry Red Wine of full Burgundy character. Wine at the date of the show to be not less than 2½ years old and stored in the farmer's cellar;

A Silver Vase presented by Cuthbert Burgoyne of London, in memory of his father, PB Burgoyne, as a specialprize for not less than 20 leaguers Red Export Wine of full Burgundy character, as near as possible to French Burgundy;

A Silver Cup presented by Messrs Stephen Smith, Ltd., of Bow, London, to the exhibitor gaining the largest number of points for dry Red Wines, excluding prizes gained in competingfor other cups;

The Stellenbosch Farmers Winery Floating Trophy for the best and most outstanding exhibit of Dry Red Wine on the Show;

Grand Championship: The General Smuts Floating Trophy for the winemaker who has made the most outstanding wine exhibited on the Show}103

Alhoewel Simonsvlei Koöperatiewe Wynkelders van die Paarl in 1955 die wynskou in Stellenbosch oorheers het, het Zonnebloem wyne die tweede meeste bekers (5) en eerste pryse (7) verower.104

De Bosdari, 'n wynkenner van Europa, het Suid-Afrika in 1954 besoek. In sy Wines of the Cape het hy die wynmaakmetodes bespreek wat op die Alto wynlandgoed in Stellenbosch distrik toegepas is, die gehalte van Alto rooiwyn ontleed en dit vergelyk met ander rooiwyne. Hy skryf in dié verband: "... Zonnebloem Cabernet is outstanding, perhaps a trifle less rich in bouquet than Alto, andperhaps a trifle smoother on the palate when young'..105 Hoë lof vir Maurice Crouse se Zonnebloem Cabernet van n internasionale wynkenner.

Om Bill Winshaw se opmerkings oor Zonnebloem wyn in perspektief te plaas, moet verwys word na die belangrike vernuwing wat in die wynbedryf plaasgevind het. Dit was die ontwikkeling van n metode om temperatuurbeheerde fermentasie, wat foutiewelik as "koue fermentasie" bekend geword het, aan te wend in die wynmaakproses. Sedert die 1930's was dit algemene kennis dat dit noodsaaklik was om die hitte wat gedurende die gistingsproses of fermentasie van die mos gegenereer word, te beheer om gehaltewyn te verkry. Dit was noodsaaklik omdat "the elements that make for bouquet are volatile, and bouquet contributes to flavour, the higher the temperature of fermentation, the more bouquet and flavour will evaporate and less wil be retained in the wine".106 Die hoë somertemperature van Suid-Afrika se wynproduserende streke het veroorsaak dat die wyn van n swakker gehalte was en tekortgeskiet het aan smaak en boeket in vergelyking met wyn van lande met n koeler klimaat.107

Gedurende die 1950's het wynmakers water begin gebruik om die temperatuur van die mos gedurende fermentasie te beheer. Johann en Arnold Graue van die plaas Nederburg, het 'n tegniek ontwikkel om tenks waarin witwyn gefermenteer is, met yskoue water af te koel. Op die jaarlikse Kaapse wynskou van 1952 het Graue se eerste witwyne wat volgens die nuwe proses geproduseer is, groot belangstelling ontlok en baie pryse verower.108 Furter Crouse onthou ook hoe hy en sy pa, Maurice Crouse, n waterverkoelingstelsel in Zonnebloem se kelder geïnstalleer het om tred te hou met die nuwe ontwikkeling.109 Hierdie verkoelingstelsel het bestaan uit gevlegte koperpype wat in die vate geplaas is. Koue water is dan vanuit 'n sementkelder deur die koperpype in die tenks gepomp om die wyn af te koel. Indien die temperatuur nie genoegsaam gedaal het nie, het Crouse n waaier gebruik om die gewensde temperatuur te bereik.110 Dit is interessant dat Zonnebloem wyn Graue se Nederburg wyn met gemak op die wynskoue van 1954 en 1955 geklop het.111

N.C. Krone van die plaas Twee Jonge Gezellen in die Tulbagh distrik was egter die wynmaker wat die groot deurbraak gemaak het met die "koue fermentasie proses". Hy het daarin geslaag om die temperatuur van sy witwyne tydens fermentasie te beheer deur sy hele kelder tot 'n spesifieke temperatuur af te koel.112 In 1959 het N.C. Krone vyftien witwyne op die Kaapse Wynskou ingeskryf en 8 bekers, 12 eerste pryse en een tweede prys verower. Vir die wynbedryf was Krone se sukses van die grootste belang, want dit het in die eerste plek bewys gelewer dat uitstekende gehalte witwyn op n kommersiële basis in Suid-Afrika met sy warm klimaat geproduseer kan word. In die tweede plek het dit wynboere wat in die toekoms kwaliteitwyne wou produseer, laat besef dat die verkoeling van fermentasie-kelders onafwendbaar geword het.113

Terwyl die kwessie van die verkoeling van kelders sterk na vore getree het, was 1960 in die algemeen 'n swak oesjaar vir die wynmakers van die Wes-Kaap. Maurice Crouse het dit ook persoonlik ervaar, want Bill Winshaw skryf die volgende opmerking oor Zonnebloem wyn in sy Blending Book van Augustus 1960:

1960 was overall one of the worst years for wine making if special refrigeration is not available.

The grapes were evidently badly burned and wilted this year.

The temperature of fermentation was evidently too hot all round.

Immediately after fermentation the free SO2 were allowed to drop to 10° or under which caused the wines to be badly oxidized.

As a result none of the white wines are suitable to pass as "A" wines. 1960 was an extremely difficult season and Mr. Crouse was not successful in bringing especially white grapes in a good condition to his cellar}114''

Die feit dat Zonnebloem wyn slegs drie tweede pryse op die wynskou van September 1960 kon verower,115 bevestig Winshaw se mening dat 1960 een van die swakste oesjare was vir wynmakers wat nie oor spesiale verkoelingsgeriewe beskik het nie. Van meer belang vir die wynbedryf was dat Nederburg Landgoed, waar temperatuurbeheerde fermentasie toegepas is, se wyne die meeste pryse op die wynskou van 1960 verower het.116 Die volgende jaar het Nederburg hulle sukses herhaal, terwyl Maurice Crouse se naa nie op die lys van pryswenners verskyn het nie.117 In 1962, die laaste jaar wat Maurice Crouse aan die wynskou deelgeneem het, het sy Zonnebloem wyn een beker, een eerste en een tweede prys verower. Nederburg is weer as kampioen van die wynskou gekroon.118

Teen 1955 het die gevaarligte vir die wynbedryf begin flikker, aangesien wynproduksie toegeneem het, terwyl die binnelandse aanvraag gestabiliseer het. Hierdie faktore het aanleiding gegee tot die aanname van die Wysigingswet op beheer oor Wyn en Spiritualieë (Nommer 29 van 1957). Hierdeur is die KWV bemagtig om die produksie van alkohol deur 'n kwotastelsel te beperk. Die kwotastelsel was volgens D.J. van Zyl meer 'n maatreël om die wynbedryf te bestendig en te beveilig as om die uitbreiding en ontwikkeling daarvan teen te werk.119 Hierdeur is die invloed van die KWV, die wynproduserende groothandelaars en die koöperatiewe wynkelders binne die wynbedryf vergroot.120

n Ander belangrike ontwikkeling in die wynbedryf, wat ook n negatiewe uitwerking op Maurice Crouse as wynmaker uitgeoefen het, was die bekendstelling van Lieberstein, 'n semi-soet natuurlike witwyn wat in 1959 bekendgestel is. Die wyn was n onmiddellike sukses en het klaarblyklik die drinkgewoontes van die meeste Suid-Afrikaanse verbruikers verander. Teen 1964 was dit die grootste verkoper van 'n enkele handelsmerk gebottelde wyn in die wêreld.121 Furter Crouse onthou dat sy pa talle male opgemerk het hoe nadelig dit vir hom was om witwyn in die "Lieberstein-era" te produseer.122

Maurice en Marie Crouse was deeglik bewus van die nuwe metode van temperatuurbeheerde fermentasie in die produksieproses en die toenemende gewildheid van semi-soet witwyne. Dit wil egter voorkom asof hulle onseker was oor die langdurige impak daarvan op die wynbedryf. In sy soeke na inligting het Maurice aan C.E. Taylor, wyle Frank Myburgh se dogter, geskryf, met die versoek om by haar internasionale kontakte inligting te kry oor dié nuwe neigings in die wynbedryf. Taylor het die volgende versoek tot André Simon, president van die International Wine and Food Society in Londen, gerig:

Mr. Crouse has been informed that current public taste in wine drinking is inclined towards semi-sweet light wine. These wines are not made in wood, but in tanks of other material.

Mr. Crouse's problem is: that as his cellar is fully equipped with excellent oak vats, he would like to know whether it would be advisable to scrap his fustage in favour of new equipment — or whether this modern trend in wine is a passingfancy.

Only you, Mr. Simon, could tell him whether this represents a general trend in wine drinking, not only in South Africa, but in the world.123

André Simon was van mening dat Maurice Crouse onverstandig sou wees om die maak van goeie wyn prys te gee om te kompeteer met wynmakers wie se enigste doel was om soveel geld as moontlik te maak. Simon was van oordeel dat die verandering na semi-soet wyn (soos Lieberstein) onder die jonger geslag 'n seker teken van onvolwassenheid was wat in die nabye toekoms sou verdwyn.124

Dit is te betwyfel of hierdie vae antwoord van André Simon van enige waarde vir Maurice en Marie Crouse was. Dié nuwe ontwikkelinge in die wynbedryf het die Crouse-gesin met 'n belangrike besluit gekonfronteer: moes hulle geld leen om hulle wynkelder te moderniseer, óf moes hulle die wynmakery staak. Marie, wat die plaas hartstogtelik liefgehad het, het die verkoop van die plaas nie eers oorweeg nie.

Nadat Maurice Crouse 'n tender van R100 000 gekry het om sy kelder te moderniseer, het hy SBW om 'n geskrewe kontrak genader sodat, indien hy die uitgawe sou aangaan, die maatskappy sou voortgaan om sy wyn te koop. SBW het hierdie versoek om logiese redes geweier. Van Maurice se vriende, soos Rocco Joubert van die plaas Parys in die Paarl, het hom afgeraai om so 'n groot verband aan te gaan sonder 'n skriftelike kontrak van SBW.125

Maurice en Marie Crouse is in hulle uiteindelike besluit waarskynlik beïnvloed deur twee waarskuwings wat André du Toit, voorsitter van die KWV, in Junie 1960 tot die lede gerig het. Die eerste waarskuwing het verband gehou met die skerp buitelandse kritiek teen Suid-Afrika na die Sharpeville skietery. In talle lande is boikotte teen Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë van stapel gestuur. In daardie stadium was dit nog onduidelik hoe die boikotte die drankhandel sou beïnvloed, maar Du Toit het gewaarsku dat dit in aanmerking geneem moes word by die beplanning en uitbreiding van drankhandel na die buiteland.

Du Toit het ook gemeld dat buitelandse wynkenners van oordeel was dat Suid-Afrikaanse wyn gunstig met dié van ander wynproduserende lande vergelyk, aangesien plaaslike produsente van die mees moderne metodes en toerusting in hulle kelders gebruik. Maar, dan waarsku hy:

It has, for instance, come to our notice that individualproducers ... are being advised to incur great expense to install cool fermentation and other related equipment. The K.W. V. will always encourage the production of wine of higher quality, provided that the cost of achieving this is justified and kept within reasonable bound... We therefore wish to advise our members to be cautious before they spend large sums on expensive and unproved equipment. Equally good results can often be achieved at less expense.126

In die lig van hierdie omstandighede het die Crouse-familie die moeilike besluit geneem om nie verder wyn op Zonnebloem te produseer nie. Dit het die jong Furter Crouse genoodsaak om sy ideaal om wynmaker te word, prys te gee en hom op die produksie van druiwe toe te spits. Die laaste Zonnebloem wyn is in 1963 aan SBW gelewer. Tot 1965 het Maurice Crouse sy druiwe aan SBW gelewer, waarna die verbintenis tussen die wynmakers van Zonnebloem en SBW na drie dekades beëindig is. Aangesien die plaaslike Drakensteinse Koöperatiewe Wynkelder nader aan Zonnebloem geleë was as SBW se kelders in Stellenbosch, was dit vir Crouse meer koste-effektief om sy druiwe daar te lewer. Maurice Crouse se kwota was 250 ton druiwe per seisoen en volgens Furter Crouse het hy as eienaar van Zonnebloem gereeld nooit minder as 155 ton druiwe aan die kelder gelewer nie.

Maurice het die besluit om wynmakery op Zonnebloem te staak, so verduidelik:

Om goeie landgoedwyn — veral 'n witwyn — te maak, vereis 'n aansienlike hoeveelheid kapitaal. Zonnebloem is nie meer in die oorheersende posisie soos vroeër nie. Wyne het oor die algemeen aansienlik verbeter, veral die wittes. Die groot firmas stel vandag hoër eise. In ons geval sou dit 'n uitgaaf van naasteby R100 000 beteken het. Ons sou bv. die hele kelder moes herbou het. Wat hulle vandag wil hê is staaltenks en sementkuipe vir die gisting, volledige lugreëling om temperature af te bring, ensovoorts. Ons maak nie meer ons eie wyn nie. Daar is te baieprobleme. Ekonomies is dit vir ons beter om ons druiwe hierbo by Drakensteinse Ko-operatiewe Kelder te lewer}127

Uit hierdie verduideliking kan afgelei word dat finansiële oorwegings die Crouse familie tot hierdie drastiese besluit gedwing het.

In 1963 het Maurice Crouse die wynvate in Zonnebloem se kelder aan SBW verkoop. Op n dag het n konvooi vragmotors met die vate van die plaaswerf weggery en 'n leë kelder agtergelaat. Furter Crouse, toe nog n matriekleerder, het die traumatiese gebeure op film vasgelê.128

 

 

WA. de Klerk het optimisties gebly dat daar in die toekoms weer wyn op Zonnebloem gemaak sou word. Hy het sy hoop op Marie Crouse gevestig om hierdie herlewing teweeg te bring. Na sy mening het Marie nog nie haar gevoel en liefde vir goeie wyn verloor nie en moontlik kon sy 'n jonger geslag wynmakers oplei om die wynmaakkuns op Zonnebloem weer in ere te herstel.130

Dit het nie gebeur nie. Marie het in 1988 gesterf en Maurice in 1991. Furter Crouse het op Zonnebloem geboer en voortgegaan om sy druiwe aan die Drakensteinse kelder te lewer. In 2003 het hy die plaas aan Duncan Spence, 'n Britse sakeman en eienaar van die wynplaas Rickety Bridge naby Franschhoek, verkoop. Pogings om 'n restaurant op Zonnebloem te begin, het misluk. Zonnebloem se wynkelder het 'n pakstoor geword en die woonhuis is in kantore omskep. Die wingerd is verwaarloos, geen druiwe of wyn word meer geproduseer nie. Die plaas is tans (2011) in die mark.

The Good Wine Farmer's Wish:

"I hope they'll say, when in the grave I'm sunk:
His life was sober, but his wine was drunk."
131

 

 

1. D.J. van Zyl, Kaapse wyn en brandewyn 1795-1860: Die geskiedenis van wynbou en wynhandel in die Kaapkolonie (HAUM, Kaapstad, 1975), p 7.
2. Van Zyl, Kaapse wyn en brandewyn 1795-1860, pp 155-158; M. Fridjhon, The Penguin Book of South African wine (Penguin Books, London, 1992), pp 9-10.
3. D.J. van Zyl, KWV1919-1993 (Verkorte weergawe versorg deur FA Schaafsma, Human en Rousseau, Kaapstad, 1993), pp 13-14.
4. J.G. le Roux en WG. le Roux, Ons Drakenstein erfgrond: Simondium (Drakenstein Heemkring, Paarl, geen datum), pp 13-15, 17, 72-73.
5. Van Zyl, Kaapse wyn en brandewyn 1795-1860, p 329 (vernaamste wynboere in die Kaapkolonie teen die kwart van die neëntiende eeu, 246, Malherbe, Petrus Jacobus).
6. Le Roux & Le Roux, Ons Drakenstein erfgrond: Simondium, pp 13-15, 17.
7. Le Roux & Le Roux, Ons Drakenstein erfgrond: Simondium, pp 13-15, 17, 7273; Telefoniese onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 5 November 2009.
8. N. Hammann, "Maurice Crouse: van bankklerk tot wynkoning", Die Wyn-boer, Julie 1960, p 13.
9. Van Zyl, KWV 1919-1993, p 14.
10. Furter Crouse Privaatversameling: Koopbrief 816: G.J. Krige en Zoon, Oude Libertas, Stellenbosch — WD. Furter, Simondium, 22 Julie 1918.
11. Van Zyl, KWV1918-1993, pp 19, 54.
12. D.J. van Zyl, Die geskiedenis van Kaapse wynbou 1860-1924 (Ongepubli-seerde RGN-verslag, Pretoria, 1988), pp 48-49.
13. P. Myburgh, "Frank Myburgh: A tribute from his son", Wine and Spirit, November 1943, p 6401; Van Zyl, KWV1918-1993, p 27.
14. F. Myburgh, "Obituary: Willem Daniël Furter", Wine and Spirit: A South African Review, February 1940, p 4525.
15. Hammann, "Maurice Crouse: van bankklerk tot wynkoning", p 13.
16. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blend-ing Books: De Villiers, Zonnebloem, Simondium. 1946-1948, no page number; Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blending Books, C-F, 1948-1962: M.O. Crouse, Zonnebloem, Simondium, no page number; Hammann, "Maurice Crouse", p 13; J. Kench, P. Hands and D. Hughes, The complete book of South African wines (C Struik Publishers, Cape Town, 1983), pp 96-103. ==17. Telefoniese onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, 17 Maart 2012.
18. B. Bierman, Rooiwyn in Suid-Afrika (Buren, Kaapstad, 1971), p 102; R. van der Merwe, A magic blend: Stellenbosch Farmer's Winery 1925-2000 (Stellenbosch Farmer's Winery, Stellenbosch, 2000), p 111.
19. Kench, Hands & Hughes, The complete book of South African wines, p 103.
20. Hammann, "Maurice Crouse", p 13.
21. C. van Niekerk, Algemene Bestuurder van Distell Wynkelders, e-pos kore-spondensie, 29 Mei 2012. Van Niekerk bevestig dat hierdie produksiesyfers aanvaarbaar is vir die hoeveelheid stokke wat op die aantal hektaars geplant was.
22. Persoonlike onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 5 November 2009.
23. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blending Books: De Villiers, Zonnebloem, Simondium, 1946-1948, no page number. Myburgh, "Obituary: Willem Daniël Furter", p 4525.
24. Myburgh, "Frank Myburgh: A tribute from his son", p 6401.
25. Van Zyl, KWV1918-1993, pp 29, 42, 59.
26. Van Zyl, KWV 1918-1993, p 30.
27. Editorial, "The world crisis and the industry", Wine and Spirit, May 1932, p 248.
28. Skriftelike mededeling deur John de Villiers (junior), seun van J.W.L. de Vil-liers, 16 Februarie 2010.
29. Anonymous, "Empire wines: South Africa and Australia compared", Wine and Spirit, January 1936, pp 2408-2409.
30. Myburgh, "Obituary: Willem Daniël Furter", p 4525; WA. de Klerk, The white wines of South Africa (AA Balkema, Cape Town,1967), p 50; Van der Merwe, A magic blend, p 14. "The partnership called The Stellenbosch Farmer's Winery, Wine and Spirit Merchants, Producers and Wine Growers, (founded on 1 April 1925) with WC. Winshaw and (Mrs) S.E. Krige as the two partners, expires after ten years and is not renewed. Winshaw buys out the Krige share of the winery situated at Oude Libertas ... A new company, The Stellenbosch Farmer's Winery (Pty) Limited, is registered on 18 March 1935". Dus word 1925 amptelik as die stigtingsdatum van SBW erken.
31. Van der Merwe, A magic blend, p 111.
32. Van der Merwe, A magic blend, p 108. Bill Winshaw was die seun van die stigter van SBW, dr. W.C. Winshaw.
33. Van der Merwe, A magic blend, p 107.
34. Van der Merwe, A magic blend, pp 31-32.
35. Van der Merwe, A magic blend, p 25. Met betrekking tot die naam Chateau Libertas meld die skrywer soos volg: "The name was an apt choice, for many great wines imported from Bordeaux and known to local wine drinkers had the name Chateau this or that. Nowadays it is illegal for any brand to use the word 'Chateau''"
36. Van der Merwe, A magic blend, pp 25-26. Vergelyk in hierdie verband Fridjhon, Penguin Book of South African wine, pp 25-26.
37. Van der Merwe, A magic blend, p 25.
38. "Perpetual Floating Trophies", Wine and Spirit, November 1934, p 1662.
39. "List of awards — 1935 Wine Show", Wine and Spirit, November 1935, pp 2315-1317; Van der Merwe, A magic blend, p 111.
40. "List of awards-1936 Wine Show", Wine and Spirit, October 1936, p 2874.
41. Anonymous, The wine book of South Africa. The Western Province and its wine industry (Wine and Spirit, Stellenbosch, 1936), p 159.
42. "List of awards-1936 Wine Show", Wine and Spirit, October 1936, p 2874.
43. Furter Crouse versameling.
44. De Klerk, The white wines of South Africa, p 50; Hammann, "Maurice Crouse", pp 12-13.
45. De Klerk, The white wines of South Africa, p 50; Hammann, "Maurice Crouse", pp 12-13; "Verlies vir Wynbedryf: Bekende boer oorlede", Paarl Post, 9 Januarie 1940; "Perpetual Floating Trophies", Wine and Spirit, October 1940.
46. Furter Crouse versameling. Die manlike wynmakers op die foto was van bekende wynlandgoedere. Die drie links is Paul Roux, De Hoop Landgoed, Suider-Paarl; Ackerman (geen voorletters nie), Stellenrust Landgoed, Stellenbosch; A.S. Milne, Natte Vlei Landgoed, Simondium. Die twee regs is J.F. Tribelhorn, Lanzerac Landgoed, Stellenbosch en WA. Krige, Vredelust Landgoed, Stellenbosch.
47. "List of Awards-1941 Wine Show", Wine and Spirit, October 1941, pp 51535164.
48. "Perpetual floating Trophies", Wine and Spirit, 23 October 1942, p 5520.
49. John de Villiers Privaatversameling: Anonymous, "South Africa's champion wine-grower: Remarkable progress of this year's winner of Farmer's Weekly gold medal", The Farmer's Weekly, 23 October 1946, p 50.
50. De Klerk, The white wines of South Africa, p 50; "Wynkoning se tragiese dood", Paarl Post, 9 Julie 1948.
51. De Klerk, The white wines in South Africa, p 51.
52. Bierman, Rooiwyn in Suid-Afrika, p 102.
53. Onderhoud met John de Villiers, seun van J.WL. (John) de Villiers, Stellenbosch, 6 Oktober 2009.
54. Telefoniese onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 5 November 2009; Van der Merwe, A magic blend, pp 107, 111; Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: Plakboek van Zonnebloem wyn, 1986: G. du Bruyn, "Zonnebloem — touchstone of excellence", Die Wynboer, Augustus 1986, p 14.
55. Wes-Kaapse Provinsiale Argiefbewaarplek, Kaapstad: MOOC 6/9/15201, Sterftekennis van J.WL. de Villiers, nommer 3668/1948; Aktekantoor, Kaapstad: Paarl Farm Register: Deed of Transfer number 16412/1943, between Hendrika Susanna Furter and Johannes Wynand Louw de Villiers, 9 December 1943.
56. 'Wine Show-1943: Winners of special prizes and winners of cups on points", Wine and Spirit, October 1943, p 5811.
57. W.A. de Klerk, "Die verbygaan van n fyn wynmaker", Die Wynboer, Maart
58. De Klerk, White wines of South Africa, p 52; Skriftelike mededeling deur John de Villiers (junior), seun van J.W.L. de Villiers, 16 Februarie 2010.
59. John de Villiers Privaatversameling: Koerantberig, naam en datum van koerant onbekend: "Western Province should mean best wine".
60. John de Villiers Pnvaatversamelmg: Berig uit Paarl Post, 13 Julie 1948 (geen opskrif).
61. John de Villiers Privaatversameling Amptelike wynlys van die Wit Trein tydens die koninklike gesin se besoek aan Suid-Afrika, Februarie tot April
62. John de Villiers Privaatversameling: Anonymous, "South Africa's champion wine-grower; remarkable progress of this year's winner of 'Farmer's Weekly' gold medal"; "'Zonnebloem' pictures for overseas publicity", The Farmer's Weekly, 23 October 1946.
63. 'Wynkoning se tragiese dood", Paarl Post, 9 Julie 1948.
64. John de Villiers Privaatversameling: Koerantberig, naam en datum van koerant onbekend: "Western Province should mean best wine".
65. JPS, "'n Kransie op die laaste rusplek van John de Villiers", Die Wynboer,
66. Die bottels is in besit van Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse.
67. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van Maurice Crouse, Zonnebloem — Die besturende direkteur, SBW, Stellenbosch, 20 September 1973.
68. Van der Merwe, The magic blend, p 104.
69. John de Villiers Privaatversameling: Anonymous, "South Africa's champion wine-grower; remarkable progress of this year's winner of 'Farmer's Weekly' gold medal"; "'Zonnebloem' pictures for overseas publicity", The Farmer's Weekly, 23 October 1946.
70. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: Scrapbook on Zonnebloem wines, 1986: Du Bruyn, "Zonnebloem", p 15.
71. www.cape.winemasters.co.za/about/members/bayly.hlml, besoek 4 Desember 2010. Bayly is 'n hoëprofiel persoonlikheid in die wynbedryf en dien op talle komitees van die industrie as voorsitter. Hy is ook die lewenslange ere-president van die South African Society of Enology and Viticulture.
72. Die "Tabernacle" of "Tabernakel" is 'n eksklusiewe ondergrondse proelokaal op die terrein van die vorige hoofkwartier van SBW op Stellenbosch en tans die eiendom van Distell. Daar word 23 000 bottels seldsame plaaslik vervaardigde wyn, die geskiedenis van SBW se produkte, bewaar.
73. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: Scrapbook on Zonnebloem wines, 1986: Du Bruyn, "Zonnebloem", p 14.
74. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blending Books: De Villiers, Zonnebloem, Simondium, 1946-1948, no page number.
75. Van der Merwe, A magic blend, p 94.
76. WA. de Klerk, "Die verbygaan van 'n fyn wynmaker", Die Wynboer, Maart 1967, p 6.
77. "Wynkoning se tragiese einde", Paarl Post, 9 Julie 1948.
78. John de Villiers Privaatversameling: 'We cannot afford to lose men like John de Villiers", Sunday Times, datum onbekend.
79. JPS, "'n Kransie op die laaste rusplek van John de Villiers", Die Wynboer, Augustus 1948, p 10.
80. Skriftelike mededeling deur John de Villiers (junior), seun van J.W.L. de Villiers, 16 Februarie 2010.
81. "New wine King: Winner of nine cups", Paarl Post, 5 October 1951.
82. Hammann, "Van bankklerk tot wynkoning", p 13.
83. Die foto het op die voorblad van Die Wynboer, November 1951, verskyn.
84. Furter Crouse Privaatversameling: Transportakte 16604/1956 tussen Francina Louisa de Villiers en Maurice Okkatain Crouse, 16 November 1956.
85. Foto verkry van Furter Crouse, Maurice en Marie se seun.
86. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van Maurice Crouse, Zonnebloem — Die besturende direkteur van SBW, 20 September 1973.
87. Distell Dokumentesentrum, Hoofkantoor, Stellenbosch: Registrateur, Kantoor van Handelsmerke — The Stellenbosch Farmers' Winery, 8 Junie 1949.
88. Distell Dokumentesentrum, Hoofkantoor, Stellenbosch: Registrateur, Kantoor van Handelsmerke — The Stellenbosch Farmers' Winery, 10 Maart 1962.
89. Distell Dokumentesentrum, Hoofkantoor, Stellenbosch: Registrateur, Kantoor van Handelsmerke — The Stellenbosch Farmers' Winery, 12 Augustus 2006.
90. Van der Merwe, A magic blend, p 107.
91. Skriftelike mededeling van John de Villiers (junior), seun van J.WL. de Villiers, Stellenbosch, 16 Februarie 2010.
92. Onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 28 Desember 2009.
93. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van Maurice Crouse, Zonnebloem — Die besturende direkteur, SBW, Stellenbosch, 31 Augustus 1973.
94. Anne-Marie Breek, Distell Groephandelsmerk Adviseurs, Stellenbosch, epos korrespondensie, 21 Junie 2012.
95. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van J.B. Dempers, administratiewe direkteur, SBW, Stellenbosch — M.O. Crouse, 11 September 1973.
96. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van Maurice Crouse — Die besturende direkteur, SBW, Stellenbosch, 20 September 1973.
97. Telefoniese onderhoud met J.B. Dempers, 5 November 2009.
98. www.myfundi.mobi/a/Wynbedryf_in_Suid-Afrika_1_Oorsig, p 3, besoek 22 Desember 2010.
99. Van der Merwe, The magic blend, p 111; Kench, Hands & Hughes, The complete book of South African wines, p 110.
100. Furter Crouse Privaatversameling: Brief van Maurice Crouse, Zonnebloem — Die besturende direkteur, SBW, Stellenbosch, 20 September 1973.
101. Anne-Marie Breek, Distell Groephandelsmerk Adviseurs, Stellenbosch, epos korrespondensie, 21 Junie 2012.
102. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blending Books, C-F, 1948-1962: M.O. Crouse, Zonnebloem, Simondium, no page number.
103. Die Wynboer: Official Catalogue Wine Show, Paarl 1954, October 1954, pp 17-25 ("Winners of Cups and Trophies, Dry Red Wine", pp 17-21; "List of Addresses of Prize Winners", p 25).
104. Furter Crouse Privaatversameling: Plakboek van Marie Crouse: "List and addresses of prize winners — 1955 Wine Exhibition".
105. C. de Bosdari, Wines of the Cape (AA Balkema, Cape Town & Amsterdam, 1954), p 39.
106. D.W. van Reenen, "Fermentation control by refrigeration", Die Wynboer, Desember 1959, p 17.         [ Links ]
107. Van Reenen, "Fermentation control by refrigeration", p 17; De Bosdari, Wines of the Cape, p 21
108. Hughes, Hands & Kench, The complete book of South African wines, p 200.
109. Onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 28 Desember 2009.
110. Hammann, "Van bankklerk tot wynkoning", p 13.
111. Die Wynboer: Official Catalogue Wine Show, Paarl 1954, p 25 ("List of winners and addresses of prize winners").
112. G. Knox, Estate wines of South Africa (David Philips Publishers, Cape Town, 1967), p 160.
113. Van Reenen, "Fermentation control by refrigeration", p 17; Knox, Estate wines of South Africa, p 160.
114. Nederburg Auction Office and Distell Archives, Stellenbosch: SBW Blending Books, C-F, 1948-1962: M.O. Crouse, Zonnebloem, Simondium, no page number.
115. "List and addresses of prize winners 1960 Wine Show", Die Wynboer, Oktober 1960, p 28.
116. L. Pretorius, "Bierbrouer laat gis Kampioenwyne", Die Wynboer, November 1960, pp 6-7.
117. "List and addresses of prize winners — 1961 Cape Wine Show", Die Wynboer, Oktober 1961, p 29.
118. "List and addresses of prize winners — 1962 Cape Wine Show", Die Wyn-boer, Oktober 1962, p 31.
119. Van ZYL, KWV, 1919-1993, pp 51-52.
120. Kench, Hands & Hughes, The complete book of South African wines, p 37.
121. Van der Merwe, A magic blend, p 52.
122. Onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 28 Desember 2009.
123. Furter Crouse Privaatversameling: Mrs. C.E. Taylor — Monsieur André Simon, 6 January 1960.
124. Furter Crouse Privaatversameling: Monsieur André Simon — Mrs. C.E. Taylor, 12 January 1960.
125. Onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 30 November 2009.
126. "Ko-operatiewe Wijnbouers Vereniging van Zuid-Afrika: Address by Mr. André J du Toit, Chairman of the Board of the K.WV, at the Forty-Second Annual Meeting of Members on Friday, 10th June, 1960", Die Wynboer, Junie 1960, pp 29, 34.
127. WA. de Klerk, "Die verbygaan van 'n fyn wynmaker", Die Wynboer, Maart 1967, p 6.
128. Onderhoud met Furter Crouse, seun van Marie en Maurice Crouse, Paarl, 30 November 2009.
129. Foto: Furter Crouse.
130. De Klerk, "Die verbygaan van 'n fyn wynmaker", p 6.
131. De Bosdari, Wines of the Cape, p 90.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons