SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2Maria Hugo - soeker na waarheid: in memorianOom Bun - dosent en historikus: in memorian índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Historia

versão On-line ISSN 2309-8392
versão impressa ISSN 0018-229X

Historia vol.57 no.2 Durban Jan. 2012

 

ARTIKELS ARTICLES

 

"Goddank dis hoogverraad en nie laagverraad nie!": Die rol van vroue in die Ossewa-Brandwag se verset teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog

 

 

Charl Blignaut

'n historikus verbonde aan die Vakgroep Geskiedenis en Antieke Kultuur van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Univer-siteit. Sy navorsing sluit twintigste eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis, asook die breë veld van gender- en vrouegeskiedenis in

 

 


OPSOMMING

Gedurende die Tweede Wereldoorlog het die Ossewa-Brandwag (OB) as massaorganisasie homself verset teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog aan die kant van Brittanje. Duisende Afrikaners het die OB gesien as 'n middel tot die voortsetting van die "volk" se stryd teen Britse oorheersing en het na die beweging verwys as die "Tweede Rebellie". Afrikanervroue het ook in hulle duisende deel uitgemaak van die OB se lidmaatskap en was ten nouste betrokke by alle aktiwiteite van die organisasie — insluitende die verset teen Smuts se oorlogspoging. Ten spyte hiervan is daar geen historiese studie wat fokus op OB-vroue se agentskap in hierdie verband nie.
Hierdie artikel verken die verskillende vorme wat vroue se verset aangeneem het as deel van die OB se aktivistiese aard. Daar word bepaal hoe vroue se agentskap beïnvloed is deur die metaforiese moontlikhede van die sogenaamde volksmoeder-konstruksie. Van al die kwaliteite van die volksmoeder het veral die idee van die vrou se "sin vir onafhanklikheid" bepaald in die OB se verset na vore getree. OB-vroue het binne die beperkings van die volksmoeder-diskoers, as reaksie op historiese gebeure, self betekenis gegee aan hulle gekonstrueerde identiteit en by wyse van hulle verset dikwels vooroorlogse gendernorme oorskry of rekonstrueer.

Sleutelwoorde: Afrikanernasionalisme; Afrikanervroue; gender; gendergeskiedenis; Ossewa-Brandwag; Suid-Afrika; Tweede Wereldoorlog; verset; volksmoeder; vrouegeskiedenis.


ABSTRACT

The Ossewa-Brandwag (OB) was a mass-movement opposed to South Africa's participation in the Second World War on the side of Britain. Thousands of Afrikaners saw the OB as a movement in which they could express their opposition to the war and continue the volk's struggle against British authority. They referred to the OB as the Afrikaner's "Second Rebellion". Afrikaner women also joined the OB in their thousands and participated in all the activities of the movement — including the active resistance to the war effort. In spite of this there is no study that describes the role of women in this regard.
This article explores the different forms of resistance women used to articulate their opposition to the war as part of the more activist nature of the OB. The influence of the metaphoric possibilities of the so called volksmoeder construction also comes under the looking glass. Of all the qualities of the volksmoeder especially the idea of women's "sense of independence" is evident in women's resistance.
OB-women acted within the confines of the volksmoeder discourse and gave meaning to their constructed identity through their activities of resistance. By doing so they often transgressed and reconstructed pre-war gender norms.

Keywords: Afrikaner nationalism; Afrikaner women; gender; Ossewa-Brandwag; resistance; Second World War; South Africa; volksmoeder (mother of the nation); women's history.


 

 

Die Ossewa-Brandwag (OB) was die vernaamste organisasie wat gedurende die vroeë 1940's protes aangeteken het teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Sedert die ontbinding van die OB in 1954 het verskeie studies wat die aard van hierdie protes beskryf, die lig gesien.1 Die rol van vroue in die OB se verset teen Smuts se oorlogspoging is egter óf geskets langs mitiese lyne as 'n simbool in diens van Afrikanernasionalisme, óf hulle agentskap word skromelik verwaarloos. Die simboliese aard van die volksmoederkonstruksie het wel 'n belangrike invloed uitgeoefen op hoe vroue se optrede deur die Afrikanersamelewing van die tyd gesien is. Dit is ook ingespan deur vroue self in die konstruksie van hulle identiteit en vroue se omgang met die volksmoeder, as normatiewe genderkonstruksie, het ook hulle historiese agentskap ten nouste geraak.2 Dit is spesifiek by wyse van OB-vroue se verset teen die oorlog waar hulle sin vir onafhanklikheid as normatiewe konsep van die volksmoeder die sterkste na vore tree. In hierdie sin skryf D.W Krüger die volgende oor spesifiek OB-vroue se deelname aan die "Tweede Rebellie", en koppel hy vroue se verset direk aan die historiese gebeure wat die meeste bygedra het tot die skep van die volksmoeder-beeld:

O! Vrou van Suid-Afrika! In 'n oorlog waar dit die vryheid geld, het u nie geaarsel om alles te offer wat van u gevra is, en om u mans, seuns en broers te stuur om desnoods te val vir die ideaal nie. So het u gehandel tydens die Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog, maar dan ook slegs omdat dit vir die vryheid van u volk was. 3

Vroue self het ook hulle lidmaatskap aan die OB beskryf as gemotiveer deur nasionalistiese sentimente. Erika Theron, wat die latere OB-hoofvrou van Gebied A (Kaapland) was, noem dat vroue by die OB aangesluit het omdat Suid-Afrika se deelname aan die oorlog die vrou van Suid-Afrika "teen die bors gestuit" het. Die OB was vir haar 'n liggaam waardeur Afrikaners (en sy verwys spesifiek na vroue), "nes deur die Rebellie tydens die Eerste Wêreldoorlog" die wêreld kon wys hoe hulle voel. Sy beskryf 'n tipiese houding van lydende verset, naamlik dat daar "sonder gewere" weerstand deur die OB gebied sou word.4 Ook die destydse aktrise, Anna Neethling-Pohl, noem dat haar jong lewe deurweef was met een silwer draad: "die bereiking van ons vryheid deur ander middele as die wapen."5 Sy het 'n leidende rol in die OB gespeel en was betrokke by baie fasette van die weerstandsbeweging teen die oorlogspoging.6 Dit wil voorkom of vroue aanvanklik in die openbaar die verteenwoordigers van vrede wou wees en 'n passiewe en "kalmerende" invloed op die oorlogsversteurde samelewing wou uitoefen. Ten spyte van hierdie edele doelwitte, was die OB se verset nie altyd sonder geweld, passief of "kalmerend" nie. Die OB-vrou het die verskillende middele tot haar beskikking gebruik om haarself te verset, hetsy dit deur die dra van Voortrekkerdrag, anti-oorlogspropaganda of ondergrondse bedrywighede was.

Die doel van hierdie artikel is tweërlei van aard, naamlik om op die genoemde stilte oor spesifiek OB-vroue se verset teen die oorlogspoging te reageer en om te bepaal hoe vroue se agentskap beïnvloed is deur die metaforiese moontlikhede van die volksmoeder. Van al die kwaliteite van die volksmoeder het veral die idee van die vrou se "sin vir onafhanklikheid" bepaald na vore getree.

 

"Dit is die vrou van die Boerenasie wat daar stap en vra vir vryheid":7 Die OB se aandeel in die vroue-optog van 22 Junie 1940

In 'n onlangse artikel met Afrikanernasionalistiese nuanses, identifiseer J. Grobler 'n kenmerk van die volksmoeder-konstruksie wat deel uitmaak van die Afrikaner se heilsgeskiedenis. Hy skryf dat Afrikanervroue by wyse van optogte en protesdeputasies dikwels toegetree het tot die politieke strydperk. Die eerste van sy soort was volgens Grobler die geval van Susanna Smit en die deputasie van vroue wat protes aangeteken het teen die anneksasie van Natal op 9 Augustus 1843.8 Grobler noem dat daar nóg twee sulke deputasies in die twintigste eeu plaasgevind het, naamlik die vroue-optog na die Uniegebou op 4 Augustus 1915 en die vroue-optog van 22 Junie 1940. Hy fokus egter nie op die feit dat vroue binne die gender-en nasionalistiese beperkinge van die dag gebruik gemaak het van die volksmoeder-konstruksie, om soos die Voortrekkervroue wat die "dood bo die verlies van vryheid" verkies het, uitdrukking te gee aan hulle sosiaal-gekonstrueerde sin vir onafhanklikheid nie. In plaas daarvan beklemtoon hy die diskriminerende aard van die paradoksale volksmoeder en meen hy dat vroue se verset in die twintigste eeu "om die lot van Afrikanermans gewentel het".9

Hierdie is 'n halwe waarheid, veral in die geval van die vroue-optog van 1940. Dit neem nie in ag hoe vroue by wyse van 'n konstruksie vol inherente ongelykhede, op hulle eie manier protes kon aanteken teen politieke kwessies wat hulle nie net gedoen het om vir hulle mans 'n hulp te wees nie, maar dat hulle ook ingetree het vir hulle mans se onvermoë nie. Daar waar hulle mans deur oorlogsregulasies verhoed is om in die openbaar protes aan te teken, het vroue die politieke aard van hulle moederskap gebruik om tussenbeide te tree. Mans wat geweier het om die rooi eed van Smuts te teken, is onder baie druk geplaas en die brosjure van die Vroue-optog van 1940 noem dat vroue namens hulle mans en seuns standpunt wou inneem "dat hulle nie verder deur dreigemente en gevaar van ontslag uit hulle werk gedwing [sou] word om die Afrika-eed af te lê, en dit om vir vreemdes te gaan veg in die verre Noorde nie".10 Alhoewel Grobler noem dat die volksmoeder nie manlik-gekonstrueerd was nie, en dat die optog nie op aandrang van mans plaasgevind het nie,11 neem hy nie in ag dat dit ook 'n manier was vir nasionalisties gesinde vroue om uiting te gee aan hulle eie sin vir onafhanklikheid as agente binne die heersende genderpolitiek van die dag nie. In hierdie verband is hulle lidmaatskap van die OB veelseggend.

Anna Neethling-Pohl was een van die vroue wat leiding geneem het in verband met die protesoptog van vroue na die Uniegebou in 1940.12 Die optog het op Saterdag, 22 Junie 1940, plaasgevind en is binne vyf dae georganiseer nadat 'n groep Pretoriaanse vroue op 17 Junie besluit het om ook vir die vrou van Suid-Afrika 'n geleentheid te gee om haar stem te laat hoor in die verset teen die oorlog.13 Neethling-Pohl vertel dat daar min mense was waarheen jy kon gaan vir steun in daardie dae, maar noem dat die Ossewa-Brandwag uiteindelik 'n belangrike rol gespeel het in die vinnige organisering van en deelname aan die optog:

[E]k het toe al klaar uitgevind dat as jy mense soek om 'n onplesierige werkie te doen -ek bedoel nou nie 'n onwettige ding nie, maar enigiets onplesierigs — as jy enige mense soek om deel te neem aan wat ook al, as jy dan vir die Ossewa-Brandwagmanne vra — dan is hulle dáár as jy hulle nodig het}ª

Op 22 Junie 1940 het 6 000 vroue van dwarsoor Suid-Afrika van Kerkplein tot by die Uniegebou in Pretoria gestap. Langs die roete het nog vroue aangesluit totdat 9 870 vroue uiteindelik in gelid gestap het. Daarmee saam het duisende mans as toeskouers langs die pad gestaan. 'n Deputasie van drie vroue, beskryf as "bejaarde volksmoeders", het die versoekskrif om neutraliteit by die Uniegebou afgegee vir die destydse eerste minister, generaal J.C. Smuts se sekretaris, minister J.H. Hofmeyr.15 Een van dié vroue was die weduwee van senator

T.C. Stoffberg, "Oumatjie Stoffberg". In haar kapasiteit "as ou volksmoeder", het sy haar rol as afgevaardigde en haar lidmaatskap aan die OB in dieselfde asem verduidelik:

Toe die versoek kom: "Sal Oumatjie aan die Vroue-optog as één van die leidsters deelneem, sal sy saam met die afvaardiging gaan om genl. Smuts te ontmoet?" was dit my '11 duidelike stem van my geliefde volk wat my roep. Toe 'n versoek kom wat reeds as 'n innige verlange in my hart gebrand het, om die vroue van Suid-Afrika op te roep tot gebed vir die Volksraadsitting en die vredesversoek van duisende wat voor die Parlement gelê moes word, was dit 'n nuwe roepstem van my volk. Toe kom daar 'n versoek van die Ossewabrandwag: "Sal Oumatjie nie by die beweging aansluit om op te tree as ons voorbidder nie?" Hoe kon ek weier as my volk my nodig het??1

Die vroue het vanaf Kerkplein in Pretoria in Voortrekkerdrag gestap en openlik geïdentifiseer met die gees van onafhanklikheid wat 'n mens vind in die storie van Susanna Smit. In hierdie verband het Anna Neethling-Pohl na Afrikanervroue verwys as vroue "wat nog altyd in ons digkuns en histories 'n besielende element was".17 Nóg 'n prominente vrou wat opgetree het as eregas by die Uniegebou gedurende die optog was mevrou18 Miemie (M.E.R.) Rothmann, wat deur Erika Theron beskryf is as "'n OB end-uit".19 M.E.R. het op die OB-gebiedsraad van die Wes-Kaap gedien.20 Onder volg 'n foto van mev. B.C. Seymore wat as die hoofkommandante van Gebied F aan die optog deelgeneem het.

 

 

Vroue het nie net hulle stem laat hoor deur fisies teenwoordig by die optog te wees nie, maar daar is ook petisies onderteken met 3 829 name en 3 917 telegramme waarin vroue hulle ondersteuning gee, is gestuur.22 Leiers van die OB-vroue het hier ook 'n belangrike rol gespeel. Mev. E. Steyn du Toit, eerste hoofvrou van Gebied A, het byvoorbeeld in Die Burger van 19 Junie 1940 Kaapse vroue opgeroep om hulle steun by wyse van telegramme te gee.23 In 'n amptelike omsendbrief van die OB in 1940 bedank Anna Neethling-Pohl die skakelvroue in die Ossewa-Brandwag wat gehelp het met die kry van handtekeninge vir die "vroue-vredespetisie". Hierin noem sy dat die twee sekretaresses van die reëlingskomitee na Kaapstad gestuur is om 148 150 handtekeninge vir generaal Hertzog te gee, sodat dit in die parlement voorgehou kon word. Die uiteindelike getal het gestaan op 150 533.24 Dit beteken dat die organisasiestruktuur van die OB doeltreffend deur die skakelvroue ingespan is en dat die OB geen klein bydrae gelewer het in die verkryging van al hierdie handtekeninge nie. Daarby het die OB se klem op aksie en gereedheid ook bygedra tot die groot getal mense wat deelgeneem het aan die optog self. Neethling-Pohl skryf dat daar wel baie vroue vanuit ander dele van die land by die optog was, ten spyte van die feit dat die OB in plekke soos die Kaap en in die Suid-Vrystaat in daardie stadium nog nie groot kommando's gehad het nie, "veral nie die vroue nie".25 Uiteindelik het die regering egter nie ingegaan op die versoekskrif en petisie wat vroue oorhandig het nie, aangesien dit volgens Smuts teenstrydig was met die besluite van die parlement.26 In haar bedanking van die skakelvroue word dit egter duidelik dat vroue soos Neethling-Pohl geensins hierdeur afgesit is nie:

Dit mag nou lyk of die hele taak verniet uitgevoer is, maar dit glo ons seker nie. Ons voel dat daar bewysgelewer is dat meer as 150,000 vrouens en moeders bymekaar staan en in die belang van hul volk protesteer het teen 'n gruwelike oorlog en sal aanhou protesteer?2

Neethling-Pohl se klem op die laaste drie woorde van die bogenoemde aanhaling sou vinnig binne die geledere van die OB gestalte vind in nóg 'n vorm van lydelike verset. Hierdie keer deur 'n meisie van 16 jaar wat vir die OB 'n simbool sou word van die beweging se eie verset en strewe na onafhanklikheid.

 

"Ek sal my mede-Afrikaner nooit in die steek laat nie":28 Elsa Nel, die eerste heldin van die OB

Generaal Smuts het op 7 Februarie 1940 goedkeuring in die parlement ontvang vir sekere noodmaatreëls wat as gevolg van Suid-Afrika se deelname aan die oorlog gerade geag is. Dit het onder meer ekonomiese regulasies, die onderneming van krygsoperasies en sekere veiligheidsmaatreëls ingesluit. Laasgenoemde sou die OB ten nouste raak, aangesien dit in besonder gehandel het oor die stelsel van internering.29 Alreeds teen die einde van Mei 1940 is etlike prominente lede van die OB geïnterneer en ten spyte van besware van die Grootraad van die OB, het die internering van OB-lede hoogty gevier.30 Die versorging van geïnterneerdes se families en die herberg van vlugtelinge wat uit die kampe ontsnap het, of aangeklaagdes wat vir die owerhede weggekruip het, was 'n taak wat heelhartig deur die vroue van die OB onderneem is. As voorbeeld van hierdie "offervaardigheid" het die OB-vroue geskaar rondom die omstandighede van 'n meisie genaamd Elsa Nel.

Elsabé Nel is gebore op 'n plaas in die Oos-Transvaal. Haar ma was 'n niggie van Jopie Fourie. Laasgenoemde is binne die geledere van die OB beskou as een van die beweging se groot helde, aangesien hy in 1914 deel was van die Rebellie teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wereldoorlog en as martelaar voor 'n vuurpeloton gesterf het. In 1940 was Nel in matriek op Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. Haar ouers het haar voor die Oktobervakansie plaas toe ontbied en daar het sy vir Jan Ackermann ontmoet. Hy was 'n ontsnapte geïnterneerde wat haar ouers gehuisves het, aangesien "die Afrikaners wat daardie tyd vervolg is, vanselfsprekend baie welkom [was]" in haar ouerhuis.31 Ackermann was 'n prominente OB-lid wat saam met Hans Rooseboom deur die "OB-leiding" genader is om met Duitsland te skakel.32 Ackermann en haar ouers het haar gevra of sy 'n brief vir Ackermann se vrou na Durban sou neem. Sy het die brief aan die huis van Anna Neethling-Pohl ontvang en met die Oktobervakansie het sy na Durban gereis.33 As gerieflike skerm vir die werklike rede waarom sy Durban toe sou gaan, noem Neethling-Pohl dat Nel se blindederm amper gebars het, en dat dit in September uitgehaal is. Toe word sy Durban toe gestuur "om 'n bietjie te gaan bykom en vakansie hou".34

Die polisie was bewus daarvan dat daar 'n sterk Stormjaer-sel in Durban was — daar was ook 'n OB-agent by die hawe wat informasie oor skepe en hulle inhoud na Pretoria gestuur het.35 Later het die polisie beslag gelê op dokumente in die kantoor van die OB-generaal in Natal wat daarop gedui het dat 'n staatsgreep beplan is.36

Dit is dus nie verbasend dat ene speurder Van Zyl van die Suid-Afrikaanse Polisie kort na die vakansie, toe Nel besig was met matriekeksamen, by die skool opgedaag het om haar te ondervra nie. Nel het egter geweier om enige getuienis te gee of vrae te beantwoord. 'n Woedende Van Zyl het "binne 'n halfuur" 'n dagvaardiging gereël en op Vrydag, 13 Desember 1940, het Elsa Nel in die hof verskyn.37 Die Ossewa-Brandwag het gou hiervan te wete gekom, moontlik deur Nel se ouers. Neethling-Pohl, wat as lid van die OB 'n eed van geheimhouding afgelê het, skryf dat sy by monde van haar bevelvoerder, wie sy slegs geken het as "nommer 53", 'n telefoonoproep gekry het waar hy vir haar gesê het: "Daar kom móre-oggend 'n matriekdogtertjie voor die hof; hulle het haar gevang, want sy was in Durban". Neethling-Pohl het vier vroue onder haar gehad aan wie sy bevele kon gee en sy het hulle dadelik opgeroep om elkeen vyf vroue te bel en dié moes op hulle beurt weer daardie vroue beveel om elk vyf vroue te bel en so aan.38 Die volgende dag daag daar toe meer as 200 Pretoriase vroue in Voortrekkergewaad by die magistraatskantoor op waar Nel moes verskyn. Dit wil voorkom of vroue self hulle Voortrekkerdrag beskou het as ' standpunt van verset wat verwys na die destydse verset van Susanna Smit,39 aangesien vroue self besluit het om só by die hof op te daag. Die 200 vroue was almal ongetwyfeld lede van die Ossewa-Brandwag, wat ook aktief besig was met ander werksaamhede van die organisasie. Neethling-Pohl vertel: "Jy staan daar en dit is warm en jy weet die vrouens moes hulle kinders by die huise laat; hulle moes dít doen en hulle moes hulle koeksisterbakkery by die huis laat; hulle het mos koeksisters gebak vir die vale om geld bymekaar te maak vir die Beweging".40 Dus, met hulle hande vol koekmeel en geklee in volksdrag, het hierdie vroue die volks/%weier-konstruksie vir hulleself toegeëien en beide die huishoudelike en die politieke sy daarvan geïnternaliseer ten einde uiting te gee aan hulle eie nasionalisme, wat nie noodwendig geïnspireer of bepaal is deur die mans in beheer nie. Die vroue was almal teenwoordig tydens die hofsitting en toe Nel en die magistraat instap, het hulle opgespring en die Transvaalse Volkslied, "Kent gij dat volk", uit volle bors gesing.41

Nadat die magistraat orde herstel het, het hy 'n aantal vrae aan Nel gestel, onder meer wat sy in Durban gemaak het en watter opdrag sy uitgevoer het. Nel het geweier om enige vrae te beantwoord en die magistraat het beveel dat sy tien dae in die tronk moes deurbring. Nel noem dat sy egter na die Pretoriase Sentrale Polisiestasie se selle geneem is, aangesien sy in daardie stadium mediese behandeling vir 'n swak been ontvang het.42 Die 200 vroue het ná die vonnis weer begin om die Transvaalse Volkslied te sing, maar is hardhandig uit die hof verdryf en het die polisiewa, waarin Nel vervoer is, agternagesit. Voor die selle is hulle gekeer deur vier jong soldate wat met gevelde bajonette by 'n ystertraliedeur wag gestaan het.43 Mismoedig het die vroue nie dadelik geweet wat om te doen nie, maar 'n vrou van Pretoria-Wes het hulle aangespoor tot aksie. Neethling-Pohl vertel:

[D]aar was een vrou van Pretoria-Wes — ek sal haar nooit vergeet nie — 'n baie groot dik vrou; 'n jong dik vrou; en haar botande en haar ondertande voor was uit — en sy huil en sy sê: "Susters, gaan ons toelaat dat die jong sustertjie daar in die selle sit, sonder dat sy weet dat ons vir haar gaan bid? Wie volg my, ek sê, wie volg my? ... Prys die Heer met..." — en sy sing die verkeerdstepsalm waarjy aan kan dink, "Prys die Heer", in daardie omstandighede! En ons almal druk vorentoe. Ons stoot daardie hek oop, en die soldaatjies gee net pad.4

Nel noem dat die vroue se sang en gebede buite haar sel vir haar 'n groot bemoediging was en dat sy nooit bevrees gevoel het nie. Daarby het OB-vroue elke dag wat sy in die tronk was, vir haar kos geneem.45 Nel het ook geglo dat die sel langs hare dié een was waarin Jopie Fourie aangehou is voor hy na die plaaslike tronk geneem is om gefusilleer te word.46 Fourie se geskiedenis was ook vir haar 'n regverdiging vir haar optrede: "As Jopie Fourie sy lewe kon gegee het vir die Afrikanersaak, kan ek nie sien hoekom ek nou my mede-Afrikaners in die moeilikheid moet bring nie".47 Beide godsdiens en patriotisme is dus deur Nel aangegryp in hierdie tyd van nood — albei kenmerke van die geïdealiseerde volksmoeder.

Ná 'n landswye protesveldtog deur die OB het Nel net drie in plaas van tien dae in die selle deurgebring en sy is Maandag, 16 Desember 1940, om 09:00 die oggend vrygelaat.48 Sy kon nie op 'n beter dag vrygelaat word nie. Dit was die ideale geleentheid vir die OB om haar op te hef tot simbool van die ideale Boervrou en haar optrede te gebruik vir geweldige propaganda. 'n Groot fees ter ere van Geloftedag (Dingaansdag) is deur die OB by Wonderboom in Pretoria gereël. Neethling-Pohl het die naweek van Nel se aanhouding weer 'n oproep van "53" af gekry om haar te laat weet dat Nel die Maandag vrygelaat sou word. Sy het gereël vir 'n Voortrekkerrok wat Nel sou pas, asook 'n motor met 'n afslaandak. Die oggend van haar vrylating is Nel deur die strate van Pretoria vervoer na Wonderboom waar daar elke dertig treë langs die pad 'n OB-lid in wit klere was wat Nel gesalueer het wanneer die motor verbygery het. 49Saam met "lang kolonnes van die Ossewa-Brandwag" waarin "duisende goedafgerigte mans Voortrekkernek uitmarsjeer van die stad af oppad Wonderboom toe", is Elsa Nel na die fees vervoer.50 By Wonderboom het sy ' "oorverdowende ontvangs"51 gehad waar sy "die middelpunt van al die liefdevolle verering was".52 Vir die OB was Elsa Nel 'n heldin. In die woorde van C. Marx:

The OB heroine Elsabe Nel epitomised the ideal Afrikaans woman. She possessed all the characteristics of the 'Afrikaner woman' for, according to the historical myth, it was the women who would rather cross 'the Drakensberg barefoot' than submit to the 'British yoke'. It was the women who showed tremendous courage, spurring their men on in the face of adversity. They were therefore the most important guarantors for the future existence of the Afrikaner vo/k.53

 

 

In 'n propagandastuk in die 1948 Jaarboek van die OB van Noord-Transvaal probeer S.J. de Jongh (skuilnaam van J.F.J. van Rensburg, die kommandant-generaal van die OB) Nel se optrede voorhou as 'n inspirasie vir jongmense en vertel, na aanleiding van 'n ware verhaal, dat "onder die harte wat Elsabe aan die brand gesteek het, ... die van die tienjarige dogter uit die Bosveld, Johanna [was].55 En vanaf daardie oomblik [die oomblik toe Johanna vir Elsabé Nel by die Dingaansfees sien] was trou aan die Ossewabrandwag vir Johanna 'n vanselfsprekendheid ... dit is iets wat mens nakom en uitleef — of mens pleeg verraad ..."56 Volgens De Jongh is Johanna direk deur Nel geïnspireer om later ook 'n vlugteling, wat deur haar ouers gehuisves is, te help vlug toe die polisie op hulle plaas opdaag.57 Ná die oorlog het 'n lid van die OB geskryf: "So het Elsa Nel simbool geword van die Afrikanervrou se trou en moed in die Tweede Wereldoorlog, 'n kragtige teken van duisende wat ook in haar voetspore getrap het — die enigste ewige uit ons oorlog sonder wapens" [sic].58

Die OB self het uitgevaar teen die aanhou van vroue deur die Smutsregering en het spesifiek die geval van Elsa Nel gebruik in hulle retoriek teen demokrasie. In die amptelike koerant van die OB word daar genoem dat die regering in sy stryd teen die bestendiging van die demokrasie en persoonlike vryheid "die kommunistiese minagting vir die vrou van hul nuutgevonde bondgenoot deelagtig geword het". Nel se optrede word verhef en daar word aangevoer "deur hierdie daad is die naam van die Boerevrou nie verlaag, soos van kommunistiese kant miskien gehoop is nie, maar verhoog, en die heldinnery van ons volk het aangegroei met een". In dieselfde asem noem die skrywer dat die "leiers van die Sappe ... [wat] 'n stryd voer vir die demokrasie, ... in hul kapitalistiese verhewendheid" nie gereageer het op die volkswil "wat geopenbaar is in die verheffing van Elsabé Nel deur honderdduisende tot 'n heldin" nie.59 Die teenstrydighede in hierdie berig dui op die algemene ontevredenheid van OB-lede met die Smutsregering se geflikflooi met sogenaamde "volksvreemde elemente". Te midde van die warboel wat deur die oorlog veroorsaak is, wou die OB vashou aan die standvastige "volkseie" waarvan die konstruksie van die volksmoeder 'n voorbeeld was:

... by ons eie volk is die Vrou en Moeder verhef tot die edelste en onaantasbaarste sierade van ons volk. Die Vrou en Moeder van die Boerevolk kon nie eens deur 'n Britse moordkamp van haar ereposisiegestoot word nie, en nog minder sal 'n Empire-tronk wat ruik na bolsjewistiese metodes daarin shag!"6

Ten spyte van vroue se eie agentskap was die volksmoeder duidelik ook 'n magtige simbool vir verskeie agendas van die Ossewa-Brandwag. Daar word meer hierop ingegaan in die waardering van OB-vroue se verset in die laaste afdeling.

Daar is genoem dat vroue in die openbaar voorgestel is, en soms opgetree het, soos stemme van rede wat die idee van 'n rebellie "sonder gewere" voorgestaan het. Dit het die openbare protes van vroue ingesluit, soos hierbo uiteengesit, en die gebruik van die volksmoeder-retoriek om uiting te gee aan hulle nasionalisme. Vanuit dieselfde oord het Van Rensburg die OB beskou as 'n werktuig om spesifiek die aktivistiese gees van die Afrikaner aan te wakker. Nêrens het hierdie gees so duidelik na vore getree soos in die ondergrondse verset van die Stormjaers (SJs) nie. Ook in die geval van hierdie soort verset was vroue nie afwesig nie.

 

"[E]k was eintlik die ene wat kwaai was, my man was nie kwaai nie":61 Ondergrondse volksmoeders

In Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wereldoorlog het 'n groot aantal lede van die OB hulle teen generaal Smuts se oorlogspoging verset — veral as deel van die Stormjaers. Laasgenoemde was, in die woorde van J.F.J. van Rensburg, "die suurdeeg van aktivisme" in die OB.62 G.C. Visser skryf: "[j]ust as the German Nazi Party had the Schutz Staffel (SS), so had the Ossewa-Brandwag the Stormjaers ready to storm forward as their militant action front when the time seemed ripe."63 Volgens Abraham Spies, wat 'n belangrike rol in die Stormjaers gespeel het, was dié organisasie se doel om lede georganiseerd en gedissiplineerd op te lei, ten einde gereed te wees vir die dag as die Duitse oorwinning hulle die geleentheid gee om 'n staatsgreep uit te voer.64 Die verwesenliking van die republikeinse ideaal sou vir die Stormjaers nie langs die konstitusionele weg verkry word nie. Die jeugdige Stormjaer, Cas Bakkes, noem dat dit "'n militante geheime ondergrondse vertakking van die Ossewa-Brandwag" was wat "miskien die droom van 'n Republiek langs die weg van 'n Staatsgreep sou kon verwesenlik."65 P.F. van der Schyff som die doelstellings en optrede van die beweging só op:

Afgesien van die paraatheidsfunksie, met die oog op 'n moontlike staatsgreep, [het die Stormjaers ook] gehelp wanneerpersone uit die kampe of gevangenisse moes ontsnap; om kleiner en groter sabotasiedade te pleeg as teken van verset en as vergeldingsmaatreël; om in die behoeftes van behoeftige OB-gesinne te voorsien, byvoorbeeld 'n rooftog op die betaalmotorkar van die Venterspos-myn.66

In al drie die bogenoemde doelstellings sou OB-vroue hulleself laat geld en deelneem aan die ondergrondse bedrywighede van die Stormjaers. Dit beteken egter nie dat alle OB-vroue saamgestem het met hierdie optrede nie. Mev. Emmie du Toit noem byvoorbeeld dat daar nie Stormjaers in die Kaap was nie en dat sy, as hoofvrou van Kaapland, "nie baie lus gehad" het vir hulle nie, want sy het gevoel "'n mens wil nie roekelose dinge doen nie".67 Nietemin, baie vroue is meegesleur in SJ-bedrywighede deur die feit dat hulle mans en seuns deel van die SJs was.68 Ander het weer op eie houtjie, sonder enige invloed of rol van die SJs opgetree.69 Dit was veral die geval met die herberg van voortvlugtiges wat, met of sonder die hulp van SJs, uit die gevangenis of interneringskampe ontsnap het. Onder volg enkele voorbeelde van die rol van OB-vroue in die ondergrondse verset teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wereldoorlog. Die doel is om vroue se ervarings en agentskap aan die lig te bring deur hulle eie stemme te laat hoor.

Mev. WS. du Plessis het in Johannesburg gewerk toe die oorlog uitgebreek het. Toe haar kêrel by haar opdaag met die rooi lussie en vra of sy dit vir hom sal aanwerk was haar woorde: "Nee, dis hier waar ons vriendskap nou eindig. Dit doen ek nou nie."70 Kort daarna het sy met 'n OB-lid bevriend geraak en ook self by die beweging aangesluit. Dit was nie lank nie of haar woonstel was die vergaderplek van 'n Stormjaersel. Alhoewel sy nie altyd vertroud was met die inhoud van hulle geheimsinnighede nie, was sy meer as bereid om haar woonstel beskikbaar te stel. Soveel so dat sy daarna verwys het as hulle "hoofkwartier" waar ammunisie, wapens en dokumente geberg is. Sy het ook spoedig opgetree om 'n onwettige rewolwer weg te steek toe speurders by haar vriendin se huis opgedaag het.71

Mev. M.E. le Roux, wat haar betrokkenheid by die OB beskryf as iets wat sy "met groot graagte en offervaardigheid" gedoen het, het haar woning weer vir voortvlugtiges beskikbaar gestel. Sy noem dat haar huis 'n bymekaarkomplek was en "soms 'n oase in die woestyn, waar offisiere en vlugtelinge hulle innerlike haastig kon verkwik of 'n slapie na 'n vermoeiende rit wat verby is, of wat nog verder gevoer moes word, kon geniet".72 Nadat Anna Neethling-Pohl se man, Chris Neethling, wat 'n owerste van die SJs was, gevange geneem en geïnterneer is, het sy ook haar huis oopgestel vir mense om in weg te kruip — mense wat volgens haar later baie hoë posisies in die Suid-Afrikaanse politiek sou beklee. Vlugtelinge het in haar solder weggekruip wat die kostuumkas vir die Volksteater was. Daar was trappe wat van buite af na die solder geloop het en Neethling-Pohl het hierdie deur altyd oopgehou, aangesien "die boodskap rondgegaan het" dat haar huis 'n vlugtelingsoord was.73 Nie net die kostuumkas van die Volksteater was 'n goeie wegkruipplek nie. Mev. C.J.H. Steenkamp het tydens 'n klopjag op haar huis haar man in haar klerekas weggesteek om só die polisie te ontwyk.74

Vlugtelinge se name is soms doelbewus van vroue weerhou. Dit is gedoen as voorsorgmaatreël indien die polisie hulle sou ondervra. In die woorde van mev. G. Wolf: "dan kon ek nooit iemand verraai — as ek nou dié soort gewees het — nie waar nie?"75 Dit lyk egter of hierdie maatreël nie nodig was nie. Mev. M.J. Louwrens se broer was 'n generaal in die OB. Wanneer hy vlugtelinge na die huis geneem het, al was dit twee-uur die nag, het sy gereed gestaan met warm kos. Sy het ook dikwels vlugtelinge se klere gewas. In een voorval noem sy dat haar broer twee vlugtelinge met Engelse name na die huis gebring het. Terwyl sy die mans se verweerde klere was, sien sy een van dié se naam staan geskrywe op een van sy sokkies. Mnr. Baker was toe al die tyd Piet du Toit. Sy het ook opgemerk dat die ander "Engelsman" se naam Dries van der Merwe is, aangesien sy afgekom het op sy pen waarop dit gestaan het. Louwrens vertel egter dat sy met hierdie informasie vertrou kon word: "... niemand het dit ooit geweet nie. Ek het dit maar stilgehou." Sy noem ook dat sy regdeur die oorlog die vlugtelinge op hierdie wyse gehelp het: "... so het dit maar aangegaan met die vlugtelinge hier. Kort-kort kom hier 'n paar ander."76

Die risiko dat iemand hierdie ondergrondse bedrywighede sou verklap, was altyd teenwoordig. Mev. R.C.G. van der Merwe se plaas is ook deur vlugtelinge gebruik. Sake is hier bemoeilik deurdat mev. Van der Merwe se bure nie saam met hulle oor politiek gestem het nie — hulle was ook anti-OB. Ten spyte hiervan het daar soms soveel as sewentien mense gelyktydig by hulle huis op Kameeldrif, net buite Pretoria, oornag. H.M. Robinson noem dat "vlugteling na vlugteling, saboteur na saboteur" die plaas van mev. Van der Merwe en haar man as veilige hawe beskou het.77 Die Van der Merwes het ook 'n groot huis gehad op die plaas Ten Hemele waar hulle spesiaal kaste ingebou het om soos 'n gewone muur te lyk met die doel om mense daarin weg te steek as die polisie sou opdaag.78 Nóg 'n vrou wat sonde met die bure gehad het, was mev. J. Wagner. Haar man was 'n Duitser en het 'n groot risiko geloop om geïnterneer te word. Na bewering is haar buurman, ene mnr. Viljoen, wat waarskynlik in die Suid-Afrikaanse Oorlog 'n joiner was en in 1914 aan regeringskant geveg het, aangestel as agent om haar man uit te lok. Aan hom is twaalf pond belowe as hy bewys kon lewer dat Wagner met ondergrondse aktiwiteite besig was. Toe Viljoen sake vir haar moeilik maak, het sy by hom besoek afgelê en prontuit gesê: "Kyk, mnr. Viljoen, jy het nou al so baie verraad gepleeg, en nou is jy weer besig om verraad te pleeg. As 'n vrou jou nog nooit geslaan het nie, dan gaan ek nou vir jou slaan." Sy het ook die algemene oorlogsparanoia tot haar guns gebruik deur te bluf en te sê: "toe hulle nou die dag die ligte, die elektrisiteit in jou huis nagesien het, het hulle 'n mikrofoon ingesit. Ons weet alles wat jy praat in hierdie huis, en nou gaan jy moeilikheid optel."79 Daar was ook gevalle waar anti-OB-gesindes hulleself voorgedoen het as vlugtelinge en by die vroue oornag het, waarskynlik met die doel om informasie vir die polisie te kry — vroue was in hierdie gevalle daarvan bewus dat "verraaiers" in hulle midde was.80

Die blote teenwoordigheid van vlugtelinge het vroue vanselfsprekend ook in 'n moeilike en inkriminerende posisie geplaas. F.A. Faurie, 'n voorvlugtige SJ, het 'n Rooms-Katolieke priester ("'n ou paap") se motor gesteel en vir mev. F. Botha (wie se woonstel ook die vergaderplek van SJs was) en 'n vriendin gevra om saam met hom na haar pa toe te ry. Op die pad kom hulle 'n donkiewa tee en toe Faurie die remme trap was dit onklaar en hy ry toe teen die donkiewa vas. Terwyl Faurie nog in die motor sit, onderhandel hy spoedig met die eienaar van die donkie en vergoed hom vir sy verlies, maar omdat hy gesoek is deur die polisie, het hy so gou moontlik uit die motor gespring en van die toneel af weggehardloop. Gevolglik sit mev. Botha en haar vriendin daar met 'n gesteelde motor en 'n dooie donkie. Die twee vroue het egter op hulle eie veilig by die huis gekom sonder enige konfrontasie met die polisie.81

Baie vroue wie se mans betrokke was by ondergrondse bedrywighede het nooit daaroor uitgevra nie. Mev. J Haasbroek noem byvoorbeeld dat vroue nie hulle mans kwalik geneem het vir geheimsinnigheid nie. Sy vertel "ons wou nie eintlik weet wat die mans doen nie. Dan het dit ons ook ontstel."82 Neethling-Pohl het ander redes gehad: "Ek was nooit die soort vrou wat uitvraerig was nie. In dié opsig is ek 'n verskriklike trotse mens: ek sal nooit vir iemand vra waar hy was of wat hy gedoen het of dié soort van dinge nie."83 Ander weer was sterk bewus van wat hulle mans aangevang het en het sonder skroom genderpolitiek gebruik om die polisie te ontwyk. Soos reeds genoem, was die polisie op die spoor van mev. Wagner se man. Op 'n vraag oor waar haar man se 303-geweer is, het mev. Wagner geantwoord: "Sersant, jy het die inspekteur by jou, jy het dus 'n getuie. Hierdie goed wat jy vir my vra, moet jy vir my man vra, hy kan nie lieg nie. Maar ek, ek sal vir jou lieg dat nete op jou kop bars!"84

Mev. C.H. Pretorius het weer haar man aktief bygestaan in die versteek van wapens. Toe hy vermoed een van sy vriende wat hom gehelp het in 'n sabotasiepoging gaan hom verraai, het hy en sy vrou spoedig die wapens en bomme, wat in 'n veldmagasyn versteek was, in die huis gaan bêre. Hy het dit as vanselfsprekend aanvaar dat hy sy vrou kon vertrou. Mnr. Pretorius vertel: "sy was natuurlik bewus daarvan dat daar in my magasyn wat ek in die veld gehad het, bomme en goed was."85 Dikwels moes ammunisie spoedig van buite af in die huis ingedra word as dit sou reën. Mev. J. Haasbroek se man het haar een middag gevra om die buite-oond, waarin sy gewoonlik brood gebak het, warm te maak, want "daar moet beskuit gebak word" nadat dit hard gereën het. Sy vermoed toe dat haar buurvrou die oond wou gebruik, soos dikwels die geval was. Mev. Haasbroek het egter omgesien na haar kinders en nooit gesien hoe die beskuit gebak word nie. Later het sy uitgevind dat haar oond gebruik is om wapens en ammunisie wat natgereën het, gou droog te kry.86 Dit gee nuwe betekenis aan die kaalvoet- volksmoeder voor die oond en dui op hoe die huishoudelike sfeer, die sfeer van die vrou in die Afrikanersamelewing van die tyd, ook deur die oorlogsomstandighede geraak en as middel tot verset ingespan is.

Om flink te dink is deur OB-vroue se betrokkenheid by onderduimse dade genoodsaak. So het mev. R.C.G. van der Merwe gesteelde geld in die karkas van haar dooie perd versteek toe speurders by haar opdaag en die huis begin deursoek. Mev. Wagner het gehelp om haar man se 303-geweer in 'n kosyn toe te messel.87 Vroue het egter nie net hulle mans bygestaan en vlugtelinge geherberg nie. Baie was meer direk betrokke by ondergrondse bedrywighede.

Soos genoem het Neethling-Pohl, net soos die Stormjaers, 'n eed van geheimhouding afgelê en opdragte "van bo" ontvang waarvan "sommige heeltemal angswekkend was". Sy het ook "'n paar ou waardevolle dokumentjies" in haar besit gehad wat sy op vindingryke wyse in 'n kussingsloop aan 'n sipresboom in haar tuin gehang het.88 Vroue was bewus van die kodes en seine wat OB-lede gebruik het om mekaar te waarsku. Op 'n dag het mev. Wagner kennis gekry dat die polisie haar huis gaan visenteer. Sy het die inkriminerende dokumente in haar besit in 'n tas gepak en in haar motor na die bank toe gery. By die bank het die bestuurder, wat 'n OB-lid was, haar gewaarsku dat speurders in siviele drag haar agtervolg. Op pad huistoe sien sy die polisie agtervolg haar en draai vinnig in 'n agterstraat in. Met trots vertel sy: "hy dink toe natuurlik ek wil hom 'dodge' en dit is ook wat ek gedoen het." Sy het spoedig die dokumente by haar predikant, wat ook 'n OB was, afgegee en die speurder, wat toe al vir haar by die huis gewag het, sonder skroom toegelaat om haar motor en die leë tas te visenteer.89 In min of meer dieselfde trant moes sommige vroue dikwels intelligensiewerk doen, boodskappe oordra en met mense skakel. Mev. F. Botha vertel dat haar aandeel in die oorlog was om te dien as skakel tussen Chris Neethling en vlugtelinge. Sy het baie maal dokumente in haar besit gehad wat sy moes afgee by een of ander persoon wat voortvlugtig was of spioenasiewerk gedoen het. Ten spyte van baie klopjagte op haar woonstel kon niemand iets inkriminerend teen haar, of by haar, kry nie.90 Mej. G. Wolf het weer opgetree as motorbestuurder vir 'n groep SJ's wat haar vriende was. Sy vertel: "ek was maar altyd reg om te ry." Vanweë die oorlogsmaatreëls was petrol gerantsoeneer. As onderwyseres en lid van die Noodhulpliga van die Unie Verdedigingsmag het sy toegang gehad tot meer petrolkoepons, maar "daardie petrol is natuurlik gewoonlik vir die Ossewa-Brandwag uitgery". Wolf het dikwels ammunisie vervoer en die SJ's na plekke geneem waar hulle drade geknip en ander sabotasiedade uitgevoer het. Sy moes by meer as een geleentheid vinnig wegry van die toneel af. Bo en behalwe dit is haar agterplaas ook gebruik om gesteelde motors weg te steek om mee te vlug indien nodig.91

Oor haar ervaring in die ondergrondse OB vertel mev. Wagner: "Ons het baie pret gehad. Ons het baie dinge gedoen wat ons nie moes doen nie. En ons het baie dinge aangevang wat ons ook eintlik nie moes nie. Dit was vir ons eintlik partykeer regtig baie lekker."92 Mev. Wolf praat uit dieselfde mond: "Dit was natuurlik 'n avontuur om te voel dat jy nou hier is om 'n diens te doen en niemand weet daarvan nie."93 Ongetwyfeld het nie almal hierdie sentimente van mevv. Wagner en Wolf gedeel nie en was daar ook soms swaarkry aan vroue se deelname aan die verset verbonde.

Mev. D. (Debora) Dommisse, wat noem dat sy 'n kleindogter van Debora Retief was, was getroud met 'n SJ wat baie aktief in sabotasiepogings betrokke was. Ná 'n klopjag op haar huis waarna haar man op die vlug geslaan het, is sy deur die polisie in die Pretoriase gevangenis toegesluit. Sy was vir langer as 'n week in die tronk. Tydens ondervraging gedurende hierdie tyd wou speurders die name weet van SJs wat sy moontlik ken. Sy het volstrek geweier om informasie te gee: "al het ek ook geweet wie daardie mense is, sal ek dit tog nooit aan julle vertel nie." Nadat haar ouers gedreig het om 'n prokureur te kry sodat daar 'n saak teen haar gemaak kan word, is sy vrygelaat. Sy was egter verplig om uit haar werk by die poskantoor te bedank, omdat die polisie vermoed het dat sy 'n spioen in die telegraafkantoor was. Voorts kon sy daarna geen werk by enige staats-of semistaatsinstansie kry nie.94 Ook mev. Du Plessis en twee van haar vriendinne is beskou as bedreigings en is deur die polisie "onder die Noodregulasies" gearresteer en in Springs se gevangenis toegesluit. Hulle was elf dae lank in die tronk tot familie ingegryp het.95 Daarby het die politieke affiliasie van individue soms gelei tot familietwis en vervreemding van naasbestaandes. Mev. Haasbroek is byvoorbeeld byna uit haar eie familie geskop vanweë haar OB-lidmaatskap.96 In die geval van mev. M.J. Erasmus is haar ganse gesin byna deur die verset teen die oorlog uitgewis. Albei haar seuns is doodgeskiet terwyl hulle op vlug was. Mnr. H. Erasmus is deur 'n speurder geskiet op 27 November 1941 en kort ná sy dood is sy broer, mnr. D. Erasmus, op 14 Desember 1941 geskiet. Die dag ná haar tweede seun se begrafnis, is mev. Erasmus se man gearresteer en die polisie het enigiemand belet om by haar te loseer. Sy en haar man het 'n losieshuis besit wat tot 125 mense kon huisves, maar ná haar man se arrestasie, het mev. Erasmus met 'n leë huis sonder inkomste gesit. Sy vertel haar man "het heeltemal ingegee na Hendrik se dood" en dat sy, nadat haar man geïnterneer is by Koffiefontein, "nie meer omgegee [het] of ek lewe en of ek dood is nie". Alhoewel sy geen bitterheid teenoor die OB gekoester het nie, het die oorlog ontsettend baie van haar weggeneem: "Ek het met níks uitgekom nie, níks."97

Vroue van alle persoonlikhede het hulle bydrae gelewer in die OB se verset teen die oorlogspoging: van diegene wat erken het "[e]k was maar altyd 'n vreeslike bang mens" tot vroue soos mev. Wagner wat stip vasgekyk het in 'n rewolwer se loop en gesê het "Ou grootman, ek skrik nie vir 'n rewolwer nie, waarom maak jy so geraas?" en haar gryse moeder wat met "'n groot lang lepel" in die hand vir dieselfde polisieman gesê het: "Jou Satanskind, vir wie dreig jy met 'n rewolwer? Ek het in die Boere-oorlog baie Kakies oor hulle kop geslaan. Maak dat jy uitkom!"98 Verset beteken ook nie noodwendig drastiese optrede soos die plant van bomme of sabotasiedade nie. Anna Neethling-Pohl het byvoorbeeld vroue se herberg en hulp aan vlugtelinge as 'n direkte vorm van verset teen die oorlogspoging beskou:

Jy weet self van die maniere wat ons gehad het om mense ondergronds te hou. Maar daar was geen kwessie dat ons besig was om iemand ánders se land se probleme te probeer oplos nie. Ons was hier besig om nog op te tree teen ons vyand wat ons van watter eeu af vervolg, van die Kaapse dae af net waar ons trek en land skoonmaak, agterna gekom het om hulle pale in te slaan en te sê dit is hulle grond en dit te annekseer! Ons was net besig om op te tree teen daardie basiese, eerste aartsvyand ... [O]ns het hiér probeer om dinge voor te berei vir die groot dag wat eendag sou kom — al sou ons nie meer lewe nie — die bevrydingsdag en die bevrydingsuur?9

Vroue betrokke by die OB was duidelik diep bewus van die dualistiese aard van die beweging. Die feit dat die OB so sterk verdeel is langs die lyne van gender, het vroue nie gekeer om op verskeie maniere deel te neem aan die organisasie se verset teen die Smuts-regering nie. In die proses was vroue aktief besig om hulle identiteit te konstrueer en boweal die dinamiese, meestal teenstrydige, betekenisse van die volksmoeder in te span ten einde vir hulleself meer agentskap toe te eien. Wat beteken vroue se deelname aan die "Tweede Rebellie" teen die agtergrond van die metaforiese moontlikhede van die volksmoeder?

 

Volksmoeders met vryheidsin: 'n Waardering van OB-vroue se verset

Oorlog is ontwrigtend op alle vlakke van die samelewing — die sosiale ingesluit. Gedurende oorlog word die reëls dikwels gebreek. Sommige reëls word versterk om orde te handhaaf, maar daar word ook nuwe reëls geskep om by die omstandighede aan te pas. Dieselfde geld vir gender. Alhoewel die Tweede Wereldoorlog nie op Suid-Afrikaanse bodem afgespeel het nie, het Suid-Afrika se deelname daaraan ook groot ontwrigting vir die land gebring. Hierdie ontwrigting het dit vir vroue moontlik gemaak om op te tree as agente wat die metaforiese moontlikhede van hulle identiteitskonstruksies geëksploiteer het, naamlik deur dade te pleeg wat onaanvaarbaar sou wees binne die konteks van die vooroorlogse genderorde. Die verdeling van arbeid op grond van gender is een van die belangrikste fondamente in die handhaaf van 'n genderorde — ook in die OB. Dieselfde verdeling geld vir oorlog en lei gewoonlik tot 'n versterking van die "tradisionele" tot die meer "reaksionêre" sy van die volksmoeder. Die woorde van M. Cooke en A. Woollacot werp lig op hierdie proses: "After biological reproduction, war is perhaps the arena where the division of labour along gender lines has been the most obvious, and thus where sexual difference has seemed the most absolute and natural."100 Aan die ander kant veroorsaak oorlog dikwels die tipe omstandighede wat die meer "radikale" aspekte van die volksmoeder na vore laat tree — aspekte wat hulle deel met die genderrolle van mans. Moederskap is 'n aspek van die volksmoeder wat slegs deur vroue toegeëien kon word, maar die Afrikaner se vryheidsin is iets wat deur beide mans en vroue se identiteitskonstruksies gedeel is. So kon die uitleef van hulle vryheidsin vroue in staat stel om inbreuk te maak op die sfere wat tradisioneel beskou word as manlik gedomineerde gebiede. In hierdie sin word die verdeling van arbeid langs die lyne van gender so 'n bietjie verskans.

L. Vincent beskryf die volksmoeder as 'n tweesnydende swaard: "While it offered them [vroue] a platform from which to express their own interpretation of their identity as women, it also had the potential to act as means of control over them.'"11 Waar Vincent gekyk het na vroue se gebruik van die volksmoeder vir die eien van meer politieke mag, word daar hier gelet op die manifestasie van die volksmoeder-konstruksie in OB-vroue se versetoptrede deur te let op die simboliese betekenisse wat die volksmoeder aan vroue se identiteit en agentskap heg. Hierdie betekenisse volg die patroon van die tweesnydende swaard wat Vincent aangedui het, naamlik dat die diskoers van die volksmoeder vroue in staat gestel het om deel te neem aan verskillende soorte verset, maar dat dit nie die genderorde verander het nie. Die volksmoeder het hoofsaaklik gemanifesteer in die vorm van vroue se sin vir onafhanklikheid wat direk gekoppel is aan verset teen Brittanje en gemotiveer deur die mitiese heilsgeskiedenis van die Afrikaner.

Hierdie mitiese aspekte van Afrikanergeskiedenis tree so na vore in 'n herinneringsopstel oor die rol van die vrou in die oorlog, genaamd "Die Afrikanervrou in tye van nasionale nood". D.W. Kruger skryf hierin dat "fierheid, taaiheid, geduld te midde van lyding en ontbering, liefde vir die vryheid" die "beste eienskappe van die Afrikanervrou" genoem kan word. Hy skryf verder dat "die bereidwilligheid om alles op te offer vir die vryheidsideaal" tot openbaring kom in die geskiedenis van die stryd teen die Afrikaner se "tradisionele vyand", naamlik die Brit.102 Kruger prys dus die vrou vir een spesifieke eienskap, naamlik haar sin vir onafhanklikheid en vryheid sowel as die eienskappe wat daarmee gepaard gaan. Vroue se verset is in die OB direk gekoppel aan die volksmoeder-diskoers, as die gekonstrueerde beeld van die vrou, wat verset in die naam van "onafhanklikheid" voorstaan, in ag geneem word. Vroue se verset teen die oorlog kan direk gekoppel word aan die Afrikaner se verset teen Brittanje in die verlede: "Die Ossewa-Brandwag se wortels was diep ingebed in die geskiedenis van die Afrikaners se stryd om die bande met Brittanje te breek, om onderhorigheid aan 'n vreemde moondheid af te sweer, om — soos in die republikeinse era — oor sy eie lotgevalle te kan beslis."103 Gender en 'n spesifieke historiese beskouing speel dus 'n belangrike rol in elkeen van die vorms wat vroulike verset aangeneem het.

So was die Vroue-optog van 1940 'n demonstrasie gelaai met die volksmoeder-beeld. Net soos wat die destydse Voortrekkervroue in 1842 ingetree het vir hulle mans by monde van Susanna Smit, so het die Afrikanervrou eenhonderd jaar later gevoel dat sy geregtig is om protes aan te teken.104 Daar waar die genderorde van die meeste mans broodwinners gemaak het, het die Noodregulasies, saam met die rooilus, mans geplaas onder "die dreigement van ontslag, verplasing, of gedurige herinnering aan viktimisasie ..." So het baie mans voor die keuse te staan gekom: "Teken die eed om in die vreemde te gaan veg of skep die toestand waaronder jou vrou en kinders moet ly as gevolg van verlies van werk." Vanweë die genderorde moes mans baie dikwels ter wille van ekonomiese oorlewing teen hulle gewete 'n keuse maak. Mev. H.E.C. Armstrong skryf: "oral het die vrou begin voel dat sy die aangewese een is om haar saak duidelik te stel nl. dat sy protesteer teen die dwangmetodes wat die onwilliges in die oorlog intrek en die uitgesproke begeerte dat ons die oorlog onmiddellik moet beëindig op eerbare wyse met al die lande waarteen die Regering die stryd voer."105 In hierdie trant wou vroue praat daar waar hulle mans nie self hulle stemme kon laat hoor nie. Die vrou, met haar titel as "moeder van die volk", kon dus met reg in die Afrikaanse samelewing intree vir die (in hierdie geval "hulpelose") mans in die openbaar. So skryf Vincent: "It [die volksmoeder] operated as a mechanism by means of which the traditional role of women in the family could be extended to include a public role."106

Die Vroue-optog is 'n uitstekende voorbeeld van vroue se gebruik van hulle volksmoederskap in 'n openbare gebaar. So is daar openlik deur die pers en reëlingskomitee verwys na die hooffigure van die optog as "waardige ou volksmoeders" en óf vroue wat diep spore in die Afrikanersamelewing getrap het, óf weduwees van gesiene mans is as verteenwoordigers gekies.107 Voorts het vroue Voortrekkerdrag beskou as 'n standpunt van verset soos blyk uit die skare vroue se dra daarvan. Soos blyk uit berigte in die pers herinner die Voortrekkerdrag aan die simboliese betekenis geheg aan die protes van Susanna Smit en die kwaliteite van die volksmoeder is daardeur verteenwoordig: "Baie vroue was in Voortrekkerdrag wat hulle vryheidstradisies gesimboliseer het" en ook "Die vrou sal met haar bede in stille eenvoud gaan, gekleed in die drag wat altyd herinner aan die vrome, nederige voorouers".108

Vroue se verset was nie altyd so teatraal soos dié van die Vroue-optog of die persdekking van Elsabè Nel nie. Hulle agentskap in die Tweede Rebellie het ook subtiele vorme aangeneem. So het vroue in hulle kapasiteit as huishoudsters bygedra tot die verleentheid van die regering deur kos te verskaf aan die gevangenes en geïnterneerdes te versorg. Die samehorige identifisering met 'n saak het ook Afrikanernasionalisme sterk aangevuur. Dit is dikwels gemerk by wyse van gebare en optrede in die "private sfeer" waar vroue se invloed in die verset te bespeur is en waar hulle omgegaan het met die konstruksie van hulle eie identiteit as Afrikanervroue.

Vroue was nie, soos E. Brink voorgestel het, "man-made" konstruksies van 'n manlik gedomineerde diskoers nie, maar deurdat hulle optrede in interaksie met die volksmoeder beskou is, was vroue indirek in staat om inhoud aan hulle eie identiteit te gee. In die woorde van Vincent: "through their interaction with the volksmoeder-ideology women ... were able to reshape its content to some extent."09 In die Ossewa-Brandwag is dit veral vroue se ondergrondse verset wat die inhoud van die volksmoeder meer inklusief gemaak het. Geen vroue kon 'n amptelike lid word van die Stormjaer-beweging nie en wel op grond van gender, maar tog het hulle, nes die Stormjaers, onwettig opgetree in hulle verset teen die oorlog. Ons lees selfs van vroue soos Neethling-Pohl wat 'n eed van geheimhouding afgelê het. In hierdie sin het vroue anders opgetree as die stereotipiese beeld van die lydende moeder. Dit kan beskryf word as "doing difference". Hieroor skryf West en Fenstermaker:

Individuals "do difference" when they acknowledge (knowingly or unknowingly) how their categorization renders them socially accountable to acting in a particular way in a situation. However, when individuals recalibrate "doing difference" to produce alternative ways to conceptualize interaction patterns, it amounts to social changeTM

Vroue se verset kan wel beskou word as "doing difference", maar hulle optrede kon nie noodwendig lei tot 'n verandering van die genderorde ("social change") nie. Die rede hiervoor is dat die volksmoeder (as norm van die genderorde) in essensie vroue beperk deur 'n deterministiese verstaan van geslagtelike verskil. In die woorde van Vincent: "the embracing of the volksmoeder-ideology represented the ideological incorporation of women into a male-dominated nationalism and a socially, morally, economically and politically subordinate place in society."111 Voorts blyk dit uit die geraadpleegde bronne dat vroue in die Ossewa-Brandwag geen ernstige begeerte gehad om die genderorde te verander nie.112 Vroue was tevrede met hulle posisie en outonomie in die OB. Dit beteken egter nie dat hulle geen speelveld gehad het nie. Hulle verset teen die oorlogspoging was baie nou verbonde aan die vryheidsin wat gekoppel word aan tydgenote se verstaan van die volksmoeder. Hierdie kenmerk het vir vroue die geleentheid gegee om hulle stemme ook dik te maak in die openbaar, maar aan die ander kant kon vroue ook ondergronds en agter toe deure hulleself teen die regering verset "without transgressing traditional conceptions of the proper sphere of women's activity",11 aangesien die nasionalistiese aard van die volksmoeder vroue se verset geregverdig het. Vroue het bloot net verskillend opgetree in vergelyking met ander kenmerke van die volksmoeder soos genoodsaak deur die omstandighede. OB-vroue het dus geen genderreël gebreek deur hulleself te verset nie. Daar kan wel reëls gebreek word wat deur die noodsaaklikhede van oorlog geregverdig word, maar dit lei nie tot 'n fundamentele verandering van die genderorde nie. Dit skep wel meer geleenthede vir vroue om die metaforiese moontlikhede van hulle identiteitskonstruksies te ontdek en uit te leef. Die metaforiese moontlikhede inherent in die volksmoeder is natuurlik voorsien deur die sterk simboliek wat deur die teruggryp na sekere historiese mites daaraan geheg is.

Om te verstaan dat die volksmoeder 'n konstruksie is wat nou verbonde is aan die Afrikaner se stryd teen Brittanje, is 'n baie wyer historiese perspektief van gender nodig. In die woorde van Helen Bradford: Λ longer historical perspective is badly needed to explain what contemporaries saw ..."114 Die wortel van vroue se verset moet gesien word teen die agtergrond van Afrikanernasionalisme se invloed op tydgenote se geskiedbeskouing, aangesien die volksmoeder self 'n skepping van nasionalisme is. Tydgenote in die OB het 'n baie nasionalistiese uitkyk op die verlede gehad wat ruim plek gelaat het vir OB-vroue om aan die Tweede Rebellie deel te neem. Die OB se geskiedbeskouing werp lig hierop. Binne die geledere van die Ossewa-Brandwag is die geskiedenis van die Afrikaner in eie idioom hervertolk. Volgens hierdie geskiedbeskouing is die verset teen Brittanje geregverdig. P.J.J. Prinsloo skryf:

Die hervertolking was 'n emosionele beroep op die rustelose Afrikaner om sy geskiedenis as opeenvolgende heroïese dade van opstand teen die Britse oorheersing te sien. Slagtersnek en die Groot Trek is as dade van rebellie beskou. Hierin is die OB as die direkte opvolger van genl. De Wet se rebelliemag ten tye van die Eerste Wereldoorloggesien. Die grootste held uit die rebellie-geskiedenis was Jopie Fourie, omdat sy heroïese gedrag die wetteloosheid van sy dade geregverdig het.115

Binne hierdie konteks is dit te verstane dat juis die volksmoeder-kwaliteite van vroue wat aan hierdie verset deelgeneem het, uitgelig word. OB-vroue se deelname aan die Tweede Rebellie vorm deel van 'n historiese kontinuïteit. Hulle verset teen Brittanje is 'n voortsetting van die "heroïese dade" van opstand teen Britse oorheersing deurdat vroue in dieselfde gees "die stryd voer" as deur hulle moeders gedurende "versetgebeure" soos Slagtersnek en die Groot Trek. Hierdie kontinuïteit blyk veral duidelik uit D.W. Kruger se beskrywing van "Die Afrikanervrou in tye van nasionale nood". Waar Kruger die Afrikanervrou in die begin van hierdie hoofstuk geprys het omdat sy haar mans, seuns en broers tydens die Suid-Afrikaanse oorlog uitgestuur het om te veg vir vryheid, het hy OB-vroue weer geprys omdat hulle hulle mans verhoed het om aan die Tweede Wereldoorlog deel te neem:

Waar die stryd aangevang is met die doel om die volksvyand te help beskerm, was u net so vasberade om u mans en seuns weg te hou van die oorlogstoneel, want u het geweet dit gaan nie om die vryheid nie, maar om die welsyn van die vyand wat verantwoordelik was vir die kerkhowe "waar die kindertjies slaap." Daarom was die weg wat u in die verlede bewandel het, nog steeds reguit en oopgetrap sodat dié wat ná u kom, dit kan sien en volg.116

Ten spyte van die simboliese betekenisse wat vroue skilder as heldinne van Afrikanernasionalisme, was OB-vroue se verset persoonlik gemotiveerd en gegrond in hulle eie agentskap. Hulle het na die beste van hulle vermoë aangepas by die omstandighede veroorsaak deur die oorlog en OB-vroue veral was bereid om die prys van nasionalisme te betaal. Dit is nie verbasend dat die volgende woorde van 'n vrou, pas nadat sy gehoor het haar man is gearresteer vir hoogverraad, 'n soort slagspreuk in die OB geword het nie: "Goddank dis hoogverraad en nie laagverraad nie!"117

 

 

1. A.J.H. van der Walt, 'n Volk op trek: 'n Kort geskiedenis van die ontstaan en ontwikkeling van die Ossewa-Brandwag (Kuituur en Voorligtingsdiens van die Ossewa-Brandwag, Johannesburg, 1944); H.G. Stoker (red.), Agter tralies en doringdraad (Pro Ecclesia, Stellenbosch, 1953); J.F.J. van Rensburg, Theirpaths crossed mine (CNA, Cape Town, 1956); G.C. Visser, OB: Traitors or patriots? (Johnathan Ball, Johannesburg, 1976); P.F. van der Schyff (red.), "Geskiedenis van die Ossewa-Brandwag", Ongepubliseerde verslag, Departement van Geskiedenis, PU vir CHO, 1984; J.J. Badenhorst, "Die organisasiestruktuur van die Ossewa-Brandwag", MA-verhandeling, PU vir CHO, 1985; D. Prinsloo, "Dr. H.F. Verwoerd en die Ossewa-Brandwag, 1938-1952", Kleio, 17, 1, 1985, pp 73-85; L.M. Fourie, "Die Ossewa-Brandwag en Afrikanereenheid", D Litt-proefskrif, PU vir CHO, 1987; J.J. Badenhorst, "Vroeë organisasiestruktuur van die Ossewa-Brandwag", Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 12, 3, Desember 1987, pp 54-82; P. de Klerk, "Afrikanerdenkers en die beginsels van die Ossewa-Brandwag", Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 14, 1, Junie 1989, pp 43-81; P. de Klerk, "Die Ossewa-Brandwag se ideaal van ' nuwe samelewingsorde in Suid-Afrika", Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 14, 2, Desember 1989, pp 90-131; P.F. van der Schyff (red.), Die Ossewa-Brandwag: Vuurtjie in droë gras (PU vir CHO, Potchefstroom, 1991); P.J. Furlong, Between crown and swastika: the impact of the radical right on the Afrikaner Nationalist movement in the fascist era (Witwatersrand University Press, Johannesburg, 1991). Sien ook P.J. Furlong, "Fascism, the Third Reich and Afrikaner nationalism:
an assessment of the historiography", South African Historical Journal, 27, 1992, pp 113-126; C. Marx, "The Ossewabrandwag as a mass movement, 1939-1941", Journal of Southern African Studies, 20, 2, June 1994, pp 195-219; C. Marx, "'Dear listeners in South Africa': German propaganda broadcasts to South Africa, 1940-1941", South African Historical Journal, 27, 1992, pp 148-172; C. Marx, Oxwagon Sentinel: Radical Afrikaner nationalism and the history of the Ossewa-Brandwag (UNISA, Pretoria, 2008).
2. Die belangrikste werke oor die volksmoeder, waarop hierdie artikel voortbou, is die volgende: D. Gaitskell and E. Unterhalter, "Mothers of the nation: A comparative analysis of nation, race and motherhood in Afrikaner nationalism and the African National Congress", in N. Yuval-Davis and F. Anthias (eds), Women-Nation-State (Macmillan, London, 1989), pp 5878; E. Brink, "Man-made women: Gender, class and the ideology of the Volksmoeder", in C. Walker (ed), Women and gender in Southern Africa to 1945 (David Phillip, Cape Town, 1990), pp 273-292; E. Cloete, "Afrikaner identity: Culture, tradition and gender", Agenda, 13, 1992, pp 42-56; L. van der Watt, "The comradely ideal and the volksmoeder ideal: Uncovering gender ideology in the Voortrekker tapestry", South African Historical Journal, 39, November 1998, pp 91-110; L. Vincent, "A cake of soap: the Volksmoeder-ideology and Afrikaner women's campaign for the vote", The International Journal of African Historical Studies, 32, 1, 1999, pp 1-17; L. Vincent, "The power behind the scenes: the Afrikaner nationalist women's parties, 19151931", South African Historical Journal, 134, 40, 1999, pp 51-73; L. Vincent, "Bread and honour: white working class women and Afrikaner nationalism in the 1930's", Journal of Southern African Studies, 26, 1, March 2000, pp 6178; M. du Toit, "The domesticity of Afrikaner nationalism: Volksmoeders and the ACVV, 1904-1929", Journal of Southern African Studies, 29, 1, March 2003, pp 155-176; E. Brink, "Die Volksmoeder: ' Beeld van ' vrou", in A.M. Grundlingh en S. Huigen (reds.), Van volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke (Sun Press, Stellenbosch, 2008), pp 7-16; R. van der Merwe, "Moulding volksmoeders or volks enemies? Female students at the University of Pretoria, 1920-1970", Historia, 56, 1, 2011, pp 77-100.
3. D.W. Kruger, "Die Afrikanervrou in tye van nasionale nood", in H.G. Stoker (red.), Agter tralies en doringdraad (Pro Ecclesia, Stellenbosch, 1953), p 395. Die leser word daarop gewys dat die uitdrukking "die vrou van Suid-Afrika" een van die maniere is waarop tydgenote verwys het na vroue as monolitiese groep. Dit is veelseggend wanneer tydgenote se verstaan van geslagtelike verskil onder die vergrootglas geplaas word. Vir lede van die OB, soos D.W Krüger, het die "vrou van Suid-Afrika" slegs wit vroue ingesluit. Aangesien vroue van ander rasse nie lede van die OB kon word nie, fokus hierdie artikel dus slegs op wit vroue se verset teen die oorlog as deel van die OB. Dit beteken geensins dat die kategorie "vrou" blindelings aanvaar word as ontologiese punt van oorsprong vir die skryf van geskiedenis nie. Vir 'n gedetailleerde uiteensetting van die veelsydige aard van Suid-Afrikaanse vroue se lewens en ervaringe in die Suid-Afrikaanse historiografie, sien C. Blignaut, "Volksmoeders in die kollig: 'n Histories-teoretiese verkenning van die rol van vroue in die Ossewa-Brandwag, 1938-1954", MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit, 2012, pp 10-46, 51-107, wat spesifiek op die teoretiese aard van die kategorie "vrou" fokus.
4. E. Theron. Sonder hoed of handskoen (Tafelberg, Kaapstad, 1983), p 41.
5. Ossewa-Brandwag-Argief, Institusionele Argief en Museum, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom (hierna OBA): Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 1.
6. A. Neethling-Pohl, Dankbaar die uwe (Human & Rousseau, Kaapstad, 1974), p 119.         [ Links ]
7. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
8. J. Grobler, "Volksmoeders in verset: Afrikanervroue-optogte in Pretoria, 1915 en 1940", Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 23, 1, 2009, p 27.
9. Grobler, "Volksmoeders in verset", p 28.
10. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
11. Grobler, "Volksmoeders in verset", p 54.
12. Neethling-Pohl, Dankbaar die uwe, p 119.
13. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
14. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 4.
15. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
16. Die Transvaler, 31 Februarie 1941. Die Cinie Stoffberg kommando was 'n kommando in die OB wat spesifiek gewerk het aan die rehabilitasie van "minderbevoorregte" Afrikaners (die Armblankes).
17. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 4.
18. Die leser word daarop gewys dat die teks nie genderneutraal geskryf is nie, maar die verwysings na die manlike en vroulike geslagtelike vorme word gebruik soos wat dit in die primêre dokumente verskyn. Die rede waarom hier só na vroue verwys word, deur gebruik te maak van die vroulike vorm van 'n naamwoord of titel, is omdat tydgenote só na vroue verwys het.
19. Theron, Sonder hoed of handskoen, p 44.
20. OBA: Die OB, 22 Maart 1950.
21. OBA: OB Fotoversameling, fotonommer 856: Vroue-protesoptog.
22. Reëlingskomitee van die Vroue-Optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
23. Die Burger, 19 September 1940.
24. OBA: H.O.F. Seyffert-verslag, B/L 1/1, omslag 17: Omsendbrief: "Die vroue-vredesbeweging".
25. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 5.
26. Reëlingskomitee van die Vroue-Optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
27. OBA: H.O.F. Seyffert-verslag, B/L 1/1, omslag 17: Omsendbrief: "Die vroue-vredesbeweging".
28. Woorde van Elsa Nel nadat sy vrygelaat is uit die Sentrale Polisiestasie in Pretoria, OB Jaarboek 1948, p 69.
29. P.F. van der Schyff, "Verset teen 'Empire-oorlog'", in P.F. van der Schyff (red.), Die Ossewa-Brandwag: vuurtjie in droëgras (PU vir CHO, Potchefstroom, 1991), p 208.
30. Die Transvaler, 29 Mei 1940; Die Transvaler, 30 Mei 1940.
31. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), p 2.
32. Van der Schyff, "Verset teen 'Empire-oorlog'", p 246.
33. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), p 1 ; Die Transvaler, 13 tot 17 Desem- ber 1940.
34. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkrispie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 11.
35. Visser, OB: Traitors or patriots?, p 87.
36. Visser, OB: Traitors or patriots?, p 92.
37. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), p 3.
38. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 11.
39. Sien in hierde verband OBA: OB Jaarboek 1948, p 11.
40. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 11.
41. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 12.
42. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), p 3.
43. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 12.
44. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, pp 12-13.
45. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 177, 1978: H.M. Robinson / E.P. Tolmay, p 9.
46. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), 1985, p 4.
47. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 204, 1985: H.M. Robinson / E. de Wet (neé Nel), p 3.
48. Die Vaderland, 16 Desember 1940.
49. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 13.
50. S.J. de Jongh, "Johanna", in OB Jaarboek 1948, p 11.
51. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 13.
52. De Jongh, "Johanna", p 11.
53. C. Marx, Oxwagon sentinel: Radical Afrikaner nationalism and the history of the Ossewa-Brandwag (UNISA, Pretoria, 2008), p 341.
54. OBA: OB Fotoversameling, fotonommer 856, 1 & 2: Elsa Nel se vrylating uit die tronk.
55. Daar word in die bron slegs verwys na die dogter as "Johanna" — sonder enige van of verdere beskrywing as wat in die bogenoemde teks genoem word. Dit is moontlik 'n vroulike skuilnaam wat deur De Jongh (Van Rensburg) gebruik is om die punt te benadruk dat die "ideale" Afrikanervrou nie verraad teen mede-Afrikaners pleeg nie en dat jong meisies moet leer uit die voorbeeld van Nel, net soos wat Johanna gedoen het. Die feit dat "Johanna" geen van het nie, dui ook op die omskep van haar as 'n simbool van alle jong meisies wat dienstig teenoor die Ossewa-Brandwag was.
56. De Jongh, "Johanna", p 11.
57. De Jongh, "Johanna", p 50.
58. H.G. Stoker, Agter tralies en doringdraad, p 402.
59. OBA: Die OB, 22 Julie 1942.
60. OBA: Die OB, 22 Julie 1942.
61. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979: L.M. Fourie / J. Wagner, p 7.
62. Van Rensburg, Their paths crossed mine, pp 151, 184.
63. Visser, OB: Traitors or patriots?, p 29.
64. Sien OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 216219, 1985: H.M. Robinson / A.S. Spies.
65. OBA: C.M. Bakkes, Stormjaer-herinneringe, pp 2, 19.
66. Van der Schyff, "Verset teen 'Empire-oorlog'", p 227.
67. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 97 en 98, 1982: H.M. Robinson / E.S. du Toit, p 30.
68. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 2.
69. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 14.
70. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 201, 1978: H.M. Robinson / WS. du Plessis, p 3.
71. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 201, 1978: H.M. Robinson / WS. du Plessis, pp 3-4.
72. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), geen bandnommer, 1985: Herinneringe van M.E. le Roux, p. 1.
73. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 14.
74. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 165-166, 1985: L.M. Fourie / C.J.H. Steenkamp, p 12.
75. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 90-91, 1985: H.M. Robinson / G. Wolf, p 13.
76. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1985: H.M. Robinson / M.J. Louwrens, p 1.
77. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 23, 1985, H.M. Robinson / C.W Rautenbach, p 4.
78. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 2.
79. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, p 3.
80. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, pp 14-15.
81. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 61, 1979: H.M. Robinson / F. Botha, p 7.
82. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 2.
83. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 15.
84. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, p 7.
85. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 33, 1979, H.M. Robinson / C.H. Pretorius, p 6.
86. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 2.
87. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 3; OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, p 3.
88. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 11.
89. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, p 4.
90. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 61, 1979: H.M. Robinson / F. Botha, pp 2, 6, 12-13.
91. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 90 en 91, 1985: H.M. Robinson / G. Wolf, pp 7-8, 11, 16.
92. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, p 6.
93. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 90-91, 1985: H.M. Robinson / G. Wolf, p 7.
94. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 90-91, 1985: H.M. Robinson / G. Wolf, pp 1-5.
95. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 201, 1978: H.M. Robinson / WS. du Plessis, pp 3-6.
96. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 208, 1980: R. Groeneveldt / J. Haasbroek, p 1.
97. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommers 209 en 210, 1985, H.M. Robinson / M.J. Erasmus, pp 13-22, 25, 37.
98. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 201, 1978: H.M. Robinson / WS. du Plessis, p. 3; OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 153, 1979, L.M. Fourie / J. Wagner, pp 6, 11.
99. OBA: Bandopnames, onderhoud (transkripsie), bandnommer 75, 1979: H.M. Robinson / A. Neethling-Pohl, p 15.
100. M. Cooke and A. Woollacot (eds), Gendering war talk (Princeton University Press, New Jersey, 1993), p ix.
101. Vincent, "A cake of soap", p 14.
102. Kruger, "Die Afrikanervrou in tye van nasionale nood", p 391.
103. Van der Schyff en ander, Geskiedenis van die Ossewa-Brandwag, p 2.
104. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
105. Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
106. Vincent, "A cake of soap", p 14.
107. Die Transvaler, 31 Februarie 1941; Reëlingskomitee van die Vroue-optog, Die Vroue-optog 22 Junie, 1940, geen bladsynommer.
108. Pretoria News, 24 Junie 1940 (vertaal); Die Transvaler, 18 Junie 1940.
109. Vincent, "A cake of soap", p 14.
110. C. West and S. Fenstermaker, "Doing difference", Gender and Society, 9, 1, 1995, pp 8-37.
111. Vincent, "A cake of soap", p 15.
112. OBA: A.C.M. Mosterd, "Die vrou in die Ossewabrandwag", in OB Jaarboek, 1948, p 13.
113. Vincent, "A cake of soap", p 14.
114. H. Bradford, "Gentlemen and Boers: Afrikaner nationalism, gender and colonial warfare in the South African War", in G. Cuthbertson, A.M. Grundlingh and M.L. Suttie (eds), Writing a wider war: Rethinking gender, race, and identity in the South African War, 1899-1902 (David Phillip, Cape Town, 2002), p 47.
115. P.J.J. Prinsloo, "Kultuurbeeld van die Ossewa-Brandwag", in P.F. van der Schyff, (red.), Die Ossewa-Brandwag: vuurtjie in droëgras (PU vir CHO, Potchefstroom, 1991), p 370.
116. Kruger, "Die Afrikanervrou in tye van nasionale nood", p 395.
117. OBA: Cronje, G.-versameling, B/L 1/12, omslag 1: Die OB-Noodhulp-fonds.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons