SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.57 n.1 Durban May. 2012

 

ARTIKELS ARTICLES

 

Die vestiging van Skanskopeiland-besproeiingnedersetting as 'n mylpaal in selfwerksame armoedeverligting

 

The establishment of the Skanskop Island irrigation settlement as a milestone in poverty relief through personal initiative

 

 

Karen Visser en Kobus du Pisani*

Vakgroep Geskiedenis en Antieke Kultuur, Noordwes-Universiteit

 

 


OPSOMMING

Skanskopeiland is een van die besproeiingsnedersettings wat in die vroeë dekades van die twintigste eeu langs die Benede-Oranjerivier (vandag die Garieprivier) gevestig is met die doel om blanke armoede te help verlig. Na afloop van die Carnegiekommissie se ondersoek en die Kimberleykongres oor armoede was dit in die 1930's beide die staat en die kerk se benadering om arm gemeenskappe te ondersteun om deur selfwerksaamheid vir hulle en hulle nageslag 'n selfstandige bestaan te verseker. Terselfdertyd kon hulle deur landbouproduksie 'n bydrae tot die landsekonomie en die ontwikkeling van die streek maak. Hoewel hulle na die toekenning van grond feitlik geen verdere staatshulp ontvang het nie en oor beperkte hulpbronne beskik het, is die meeste van die eerste nedersetters op Skanskopeiland suksesvol gevestig. Aangedryf deur die wil om vir hulleself te sorg en vir hulle gesinne 'n beter bestaan moontlik te maak, was hulle bereid om fisies hard te werk. Hulle het die eenvoudige tegnieke en tegnologie wat beskikbaar was, aangewend om die natuur te "tem" en die vrugbare grond voor te berei vir landbouproduksie. Hierdie artikel skets die historiese agtergrond waarbinne die nedersetting op Skanskopeiland gevestig is, beskryf die moeisame prosesse waardeur die nedersetters die eiland vir landbouproduksie gereed gemaak het, en beoordeel hulle pogings om hulleself en hulle nageslag uit armoede op te hef.

Sleutelwootde: Armblankevraagstuk; armoedeverligting; Benede-Oranjerivier (Garieprivier);besproeiingsnedersettings; grondbewerkingsmetodes; landbou-ontwikkeling; Skanskopeiland.


ABSTRACT

Skanskop Island is one of the irrigation settlements established in the early part of the twentieth century along the Lower Orange River (today the Gariep River) with the aim to help relieve the poor white problem. After the investigation of the Carnegie Commission and the Kimberley Congress dealing with poverty among whites, both the state and the church adopted an approach in the 1930s of giving only limited support to poor agricultural communities to stimulate them to improve their position through self-activity. If they succeeded in becoming successful agricultural producers, they would also make a contribution to the national economy and the development of the region. Although the first settlers at Skanskop received only minimal support from the state and possessed limited resources, most of them were successfully settled on the land. Driven by the will to provide for themselves and their families, they were prepared to perform hard physical labour. They utilised the simple techniques and technologies available to them to "tame" nature and to prepare the fertile soil for production. This article sketches the historical background of the establishment of the Skanskop Island settlement, describes the laborious processes through which the land was prepared for production, and evaluates the efforts of the settlers to lift themselves and their offspring from a state of poverty to become independent producers.

Key words: agricultural development; irrigation schemes; land cultivation methods; Lower Orange (Gariep) River; poor white problem; poverty relief; Skanskop Island.


 

 

Inleiding

In September 1937, toe blanke armoede in Suid-Afrika steeds 'n aktuele kwessie was, is die Skanskopeiland-besproeiingsnedersetting in die Benede-Oranjerrviergebied amptelik geloods. Mettertyd het 'n suksesvolle selfwerksame landbougemeenskap op die eiland tot stand gekom.

In hierdie artikel word die historiese konteks in die vroeë twintigste eeu, waarin die Skanskopeiland-nedersetting tot stand gekom het, verduidelik. Daarna word die aanloop in die 1930's tot die skepping van die Skanskop-nedersetting, as 'n projek wat blanke armoede moes help verlig, ontleed. Die laaste gedeelte van die artikel fokus op grepe uit die vestigingstydperk vanaf 1937, met die oogmerk om bepaalde aspekte rondom die selfwerksaamheid van die nedersetters uit te lig. 'n Kombinasie van vindingrykheid en harde fisiese arbeid deur die eerste geslag nedersetters het hulle in staat gestel om die natuur te "tem" om landbouproduksie op die eiland moontlik te maak.

Skanskopeiland was maar een van verskeie besproeiingskemas wat sedert die einde van die negentiende eeu deur óf die kerk, óf die staat in Suid-Afrika gevestig is as een van die response op die kwessie van blanke armoede. Oor die groter en meer bekende skemas by Kakamas, Boegoeberg, die Hartbeespoortdam en Vaalharts het publikasies verskyn. Hierdie publikasies en die talle studies oor die armblankevraagstuk in die algemeen is aangewend vir die historiese konteksskepping in die eerste deel van die artikel. Skanskopeiland-nedersetting se vestigingsgeskiedenis is nog nooit in sekondêre bronne opgeteken nie. Daarom is vir die laaste deel van die artikel tot 'n groot mate van primêre bronnegebruik gemaak. Waardevolle inligting is verkry uit mondelinge onderhoude met nasate van die pioniers. Sommige van hulle was daadwerklik van jongs af betrokke by die ontwikkeling van die nedersetting en kon daarom eerstehandse ervarings meedeel.

 

Historiese konteks van blanke armoede

Die vestiging van die besproeiingsnedersetting op Skanskopeiland aan die einde van die 1930's moet binne die konteks van die ekonomiese, maatskaplike en politieke omstandighede in Suid-Afrika gedurende die eerste paar dekades van die twintigste eeu gesien word, toe die armblankevraagstuk as n ernstige sosio-ekonomiese krisis n prominente politieke kwessie in Suid-Afrika geword het.

Armoede onder blankes het al sedert die vestiging van die eerste blanke setlaars aan die suidpunt van Afrika voorgekom,1 maar dit het in die laat negentiende eeu, toe kapitalistiese samelewings ná die minerale revolusie in die Suid-Afrikaanse republieke en kolonies geskep is, 'n nuwe dimensie aangeneem. Kapitalistiese ontwikkeling het tot die onteiening van die kleiner boere in die landelike gebiede gelei. Verstedeliking, verarming en werkloosheid het toegeneem. Voormalige boere het bywoners of stedelike armblankes geword. Die lae onderwyspeil, arbeidsbeleid, omgewingsfaktore en veesiektes soos die verwoestende runderpes van 1896, het armoede vererger. Uiterste armoede onder blankes het meer opmerklik geword.2 C.W. de Kiewiet beskryf dit só: "At the base of white society had gathered, like a sediment, a race of men so abject in their poverty, so wanting in resourcefulness, that they stood dangerously close to the natives themselves."3

Die term "armblanke" het aan die einde van die negentiende eeu in algemene gebruik gekom vir witmense wat weens geldnood n gebrek aan noodsaaklike lewensmiddele ondervind het en nie sonder hulp van buite 'n aanvaarbare lewenspeil kon handhaaf nie.4 In 1893 het die Kaapse Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk 'n konferensie byeengeroep om die akute armoedeprobleem onder 'n deel van die landelike lidmate te bespreek.5 In die Zuid-Afrikaansche Republiek is die armblankevraagstuk in die 1890's as 'n maatskaplike probleem erken en het dit 'n openbare beleidskwessie geword wat in die volksraad debatteer is.6 Ook in die Oranje-Vrystaat het armoede in die 1890's krisisafmetings aangeneem.7 Teen die einde van die negentiende eeu het die armblankevraagstuk dus n ernstige probleem geword, waaraan dringende aandag gegee moes word. Aanvanklik was blanke armes op hulle familie of die kerke vir hulp aangewese, maar mettertyd het regerings in Suid-Afrika aandag aan armoedeverligting begin skenk.

Aan die begin van die twintigste eeu het die armblankevraagstuk verder in omvang toegeneem. Tydens die Anglo-Boereoorlog is geboue, gesaaides, vee en implemente op plase in die Boererepublieke deur die Britse militêre bevel se verskroeide aardebeleid vernietig. Dit het landbouproduksie 'n knou gegee.8 Meer as 15 000 boere het na die oorlog nie weer na hulle plase teruggekeer nie. Verouderde boerderymetodes, swak grond en ernstige droogtes het baie van die oorblywende boere harde bene laat kou. P.H.R. Snyman toon aan dat lang droogtes en endemiese veesiektes in Noord-Kaapse distrikte in die vroeë twintigste eeu sommige boere tot op die rand van bankrotskap gebring het en ander van hulle grond gedwing het. Dit wasn belangrike oorsaak van landelike armoede in die streek.9

In die Unie van Suid-Afrika, het die armblankevraagstukvanaf 1910 n belangrike politieke kwessie geword. Blanke armoede was moeilik versoenbaar met die heersende idees in die koloniale era oor blanke meerderwaardigheid, dus is die destydse klem van owerheidsweë op sowel die ekonomiese as die maatskaplike opheffíng van die armblankes verstaanbaar.10 Die opeenvolgende regerings het besondere aandag aan die oplossing van die armblankevraagstuk geskenk, nie net om die nadelige ekonomiese en maatskaplike uitwerking daarvan teen te werk nie, maar ook om punte teen hulle opponente aan te teken in die werwing van steun onder die blanke kiesers.

Veral Hertzog en Creswell se Paktregering, wat in 1924 aan bewind gekom het, het daarop gefokus om die blanke werker se posisie te verskans met 'n beleid wat "beskaafde arbeid" teen swart mededinging beskerm het en maatskaplike sorg, veral vir armblankes, uitgebrei het. Talle studies oor die verband tussen die staat, kapitaal en arbeid in Suid-Afrika in die 1920's en 1930's het in besonderhede ontleed hoe die blanke werkers en armblankes ten koste van die swart werkersklas bevoordeel is.11 Die doel van die opeenvolgende regerings was om Suid-Afrika as 'n "witmansland" te handhaaf en die bestaande rassehiërargie in die land in stand te hou. Die beleid van "beskaafde arbeid" het ten doel gehad om alle blankes te verseker van n hoër lewenstandaard as swartes en hulle te beskerm teen "verkaffering". Grootskaalse werkskepping vir blankes op die spoorweë was 'n sleutelkomponent van armoedeverligting. Maatskaplike sorg is uitgebrei om te verhinder dat armblankes ondergaan en met swartes vermeng. Hierdie beleidsrigtings was n respons op die "swart gevaar"-spook van daardie tyd en moes verseker dat segregasie in stand gehou word.12

Nietemin kon die Pakt- en Nasionale Party (NP)-regerings tussen 1924 en 1933 nie daarin slaag om die armblankevraagstuk op te los nie, hoewel hulle arbeids- en welsynsbeleidsrigtings en wetgewing spesifiek daarop gemik was om die armblankes te probeer ophef. Die ekonomiese insinking weens die Groot Depressie (1929-1933) het Suid-Afrika nadelig getref. Daar was 'n afswaai in die internasionale vraag na voedsel, wat landbou in Suid-Afrika gestrem het, omdat die prys van mielies, vleis en ander landbouprodukte gedaal het. Die opbrengs uit landbou-uitvoere het getuimel. 'n Ernstige droogte in 1932 en 1933, sprinkaanplae en veesiektes soos bek-en-klouseer en Ooskuskoors het die situasie vererger. Nog meer boere is gedwing om die plase te verlaat of hulle grond vir n appel en n ei van die hand te sit.13 Armoede in die noordwestelike deel van die Kaapprovinsie, waar Skanskopeiland geleë is, het krisisafmetings aangeneem. Mense van dié streek wat daardie tye beleef het, meld dat sommige boere swerwers geword het en dat hulle kinders op die trekpad grootgeword het.14

In die vroeë dertigerjare het die armblankevraagstuk 'n hoogtepunt bereik. Die Carnegiekommissie, wat tussen 1927 en 1931 landswyd omvattende navorsing oor die armblankevraagstuk gedoen het, het bevind dat ongeveer 17 persent van alle blankes in die land, en veral Afrikaners, baie arm was. Daar was na raming ongeveer 300 000 armblankes in die Unie, waarvan 80 persent Afrikaners was.15

In 1932 het die Carnegiekommissie se verslag oor die armblankevraagstuk verskyn. Volgens die Carnegieverslag kon blanke armoede nie aan geneties swakker mensemateriaal of 'n ondergemiddelde intelligensiepeil toegeskryf word nie, maar aan ongunstige sosio-ekonomiese omstandighede veroorsaak deur onder meer die onvermoë van dele van die bevolking om by veranderde ekonomiese omstandighede aan te pas, boerderyprobleme en ontoereikende onderwys. Om te verhoed dat die armoedeprobleem verder vererger, is aanbeveel dat die land se welsynswetgewing hersien word en n staatsburo van maatskaplike welsyn geskep word om welsynsdienste in die staatsdiens te koördineer.16

Groot publisiteit is aan die ondersoek en verslag van die Carnegiekommissie verleen. Die verslag is in talle publikasies bestempel as n keerpunt in die hantering van die armblankevraagstuk,17 terwyl in ander publikasies aangevoer word dat die waarde van die Carnegiekommissie oorskat en verkeerd vertolk word.18 Dit is onteenseglik waar dat die armblankevraagstuk ná die verskyning van die Carnegieverslag nog meer verpolitiseer geraak het, veral omdat die NP-opposisie in die Smelterstyd die Afrikaner-armes doelbewus as "ons armes" toegeëien het om Afrikanermag etnies te mobiliseer.19

'n Volkskongres oor armoede is in 1934 te Kimberley gehou. In sy openingstoespraak, het A.P.J. Fourie, die minister van Arbeid, 'n betekenisvolle uitspraak gemaak: "Dink net wat 'n verandering in die ekonomiese lewe van die volk sou plaasvind, as die twee- tot driehonderdduisend arme blanke in n toestand geplaas word, waaronder hulle getel kan word saam met die res van die bevolking as normale verbruikers in staat om 'n fatsoenlike lewe te lei en hulle families fatsoenlik op te voed."20

Fourie het die regering se standpunt verwoord dat die klem van blote armsorg na welsynskepping moes verskuif.

 

Landelike nedersetting by besptoeiingskemas as voorkeurstrategie vit atmoedevetligting

Namate boerdery in Suid-Afrika meer gekommersialiseer geraak het, is landbouproduksie en -arbeid getransformeer. Stefan Schirmer dui aan dat slegs 'n klein minderheid van die Suid-Afrikaanse boere progressief en ekonomies vooruitstrewend was en dat die meerderheid boere sukkelaars was.21 Suksesvolle kommersiële boere het goedkoop swart arbeid verkies, omdat hulle hulle arbeidskoste so laag moontlik wou hou. Gevolglik moes talle bywoners en werklose blanke werkers die plase verlaat en het n proses van verswarting van die platteland plaasgevind.22

Dr. D.F. Malan het al in 1917 'n "terug na die platteland" oproep gedoen. Intervensies in die 1920's deur die Paktregering was daarop gemik om die uittog van blankes uit die platteland te probeer stuit. Verskeie projekte is geloods om werk vir armblankes op die platteland te skep.23 Teen die 1930's het dit duideliker begin word dat verstedeliking n onstuitbare proses was. J.F.W. Grosskopf het in die Carnegieverslag daarop gewys dat n terugkeer na die platteland nie die armblankevraagstuk sou oplos nie, aangesien die landbousektor nie in staat was om n bestaan aan groot getalle armes in landelike gebiede te verseker nie.24 Nogtans het die NP-regering in 1930 die eerste konsep van die Plattelandse Rehabilitasie- en Behuisingskema voorgelê om blanke werkers op die platteland te probeer hou. Dié skema is tussen 1934 en 1939 met weinig sukses deur die VP-regering geïmplementeer.25

Een van die strategieë van die Suid-Afrikaanse regerings sedert 1924 om blanke armoede teen te werk, was dus om soveel blanke boere as moontlik deur staatsondersteuning van landbou op plase te probeer hou en sodoende die verstedelikingsproses te verlangsaam. Daarmee saam, as n verdere teenmaatreël teen proletarisering, is landelike hervestiging aangewend as een aspek van die regering se beleid om armblankes te rehabiliteer.26

Aanvanklik, vanaf die 1890's, was dit die NG Kerk wat landbounedersettings as n aspek van barmhartigheidsdiens geskep het om verarming, verstedeliking, gesinsverbrokkeling en morele verval teen te werk en armblankegesinne te rehabiliteer. Veral dominee B.P.J. Marchand het die skepping van landbounedersettings deur die kerk vir verarmde wit gesinne bepleit. Dit sou gesinne wat onteien en ontwortel is, n tweede kans gun deur hulle ekonomies en geestelik te rehabiliteer en n stabiele omgewing te skep waar hulle kinders die nodige onderwys kon ontvang om uit die armoedespiraal te ontsnap. Marchand het voorsitter van die NG Kerk se Kommissie van Arbeidskolonies geword.27

Besproeiingsnedersettings was een vorm van landelike hervestiging, hoewel die meeste Suid-Afrikaanse riviere nie besonder geskik vir besproeiingskemas was nie. Besproeiing in die Benede-Oranjeriviergebied was aan die einde van die 1800's 'n gevestigde landboupraktyk. Die NG Kerk het 'n sendingstasie by Olyvenhoutsdrift gevestig onder die leiding van eerwaarde C.W.H. Schróder.28 Schróder, 'n sendeling onder die Korannas, het in die 1890's die eenvoudige besproeiing waarmee die plaaslike bevolking hulle bestaansboerdery natgelei het, met die bystand van Japie Lutz met sukses aangepas na n kanaalstelsel, sodat groter landerye besproei kon word.29

Kakamas in die Noord-Kaap, 'n aantal kilometers stroomaf van Skanskopeiland langs die Oranjerivier, het die NG Kerk se eerste en bekendste arbeidskolonie geword, waar blanke armes onder die beskermende vlerke van die kerk 'n heenkome gevind het.30 Schróder was die superintendent. In 1898 is die eerste "koloniste" daar gevestig. In 1913 is Kakamas as n arbeidskolonie geproklameer onder die Kaapse regering se Arbeidskoloniewet van 1909. In 1921 was daar reeds bykans 3 000 blanke armes in die nedersetting woonagtig.31

'n Totaal van 800 gesinne, wat arm maar volgens die kerk se vereistes van goeie karakter was, is by Kakamas en die ander kleiner en minder bekende nedersettings van die NG Kerk by Olifantshoek, Wildernis en Goedmoed gevestig. Die kerk se uitgangspunt was dat 'n "terug na die grond" benadering onder die heersende omstandighede die beste manier was om wit Afrikanergesinne te rehabiliteer.32

Vanaf 1910 het die Suid-Afrikaanse staat die taak om besproeiingskemas te ontwikkel by die kerk oorgeneem. Die Departement van besproeiing het in 1912 beslag gekry kragtens wetgewing wat deur die parlement aanvaar is. Dit was van meet af beleid om behoeftige mense te vestig op besproeiingsnedersettings. Dit is tweeledig deur die regering aangewend om eerstens aan armblankes n heenkome te bied en tweedens die landbou-ekonomie daardeur uit te brei.33 Met die oog op landelike vestiging is staatsfondse bewillig vir permanente kapitale verbeterings soos besproeiingsinfrastruktuur. Verskeie staatsondersteunde besproeiingsnedersettings het tot stand gekom. Hier kan as voorbeelde na die Hartbeespoortdamskema (1914)34, die staatsnedersettings by Boegoeberg (1932)35 en die Vaalhartsskema (1938)36 verwys word.

Soos reeds genoem is, was daar 'n politieke motief agter landelike vestiging, naamlik die handhawing van die rassehiërargie in die land, wat van hierdie nedersettings meer as gewone armoedeverligtingsprojekte gemaak het. Tim Clynick voer oortuigend aan dat die Hartbeespoort-besproeiingskema eintlik 'n morele opheffingsprojek vir armblankegesinne was, waardeur minister Cresswell die verswarting van die platteland wou teenwerk en 'n voortgesette blanke teenwoordigheid op die platteland wou handhaaf. Paternalistiese en streng beheer is by Hartbeespoort uitgeoefen om te verseker dat die nedersetters hulle verantwoordelikhede teenoor die staat en hulle gesinne sou nakom en in suksesvolle kleinboere en onafhanklike burgers omskep kon word.37

 

Proklamasie van Skanskopeiland as besproeiingsnedersetting

In die Carnegieverslag van 1932 is die Kakamas-nedersetting gunstig beoordeel38 en was daar 'n aanbeveling oor die toekomstige vestiging van landbounedersettings deur die staat.39 Werkverskaffing op die platteland in die vorm van besproeiingsnedersettings, is ook in die aanbevelings van die 1934-Volkskongres aangemoedig. In pas met die Carnegieverslag is voorts aanbeveel dat die voorwaardes waaronder grond aan die nedersetters toegeken is, veral betreffende die betaling van rente en skuld, strenger toegepas moes word, sodat die nedersetting nie as noodmaatreël bestaan nie, maar as opheffing.40 Die Carnegiekommissie se aanbevelings, asook dié van die Volkskongres, het 'n deurslaggewende rol in die inisiëring van die Skanskopeiland-besproeiingsnedersetting gespeel.

Waarom is juis Skanskopeiland gekies as terrein vir 'n staatsgeïnisieerde nedersetting? In die eerste plek was dit kroongrond. Anders as by Hartbeespoort was geen inheemse mense gevestig op Skanskopeiland nie en was dit nie vir die staat nodig om enigeen te onteien om die besproeiingskema te skep nie. In die tweede plek was Skanskopeiland wat ligging en geografie betref, 'n besonder geskikte terrein vir die vestiging van n besproeiingsnedersetting. Op die vrugbare vloedvlakte in die Benede-Oranjeriviervallei skep lewegewende water uit die Oranjerivier n oase aan weerskante van die rivier, wat deur n andersins uitgestrekte dor woestynagtige gebied kronkel. Vir eeue lank is die Oranjerivier, wat ook die Grootrivier genoem is en vandag amptelik as die Garieprivier bekend staan, reeds n lewensaar vir 'n dorre landstreek. Die geograaf J.H. Moolman merk op dat die plaaslike bevolking, die Korannas, waarskynlik eerste die Grootrivier vir besproeiing benut het: "No doubt some of them had crude ways of diverting the river water to their little gardens, and the beginning of irrigation in this area is ascribed to them."41

 

 

Skanskopeiland is een van die eilande wat deur die uiters vrugbare alluviale Oranjerivierdelta tussen Upington en Kakamas gevorm is. Dié eiland is 3 km suid van Keimoes geleë en lê ongeveer 44 km wes van Upington. Dit strek van oos na wes oor 'n afstand van 8 km en beslaan 'n besproeibare oppervlakte van naastenby 470 ha bewerkbare landbougrond. Omdat die eiland hooggeleë en redelik vloedvry is, leen dit hom uitstekend tot besproeiingsboerdery. Ten spyte van gereelde hoogwater en vloedseisoene van die Oranjerivier, is Skanskopeiland sedert sy ontstaan in 1938 nog net tweemaal ten volle oorstroom, naamlik in 1974 en 1988.43 Die bou-erwe en noodwalle op die eiland is uitgemeet na aanleiding van die 1925-vloedmerk, wat 23,85 voet (ongeveer 7,27 m) bereik het.44 Dit is interessant dat die Januarie en Februarie 2011-vloede, wat die landboubedrywighede erg ontwrig en baie skade aan infrastruktuur aangerig het, vlakke van 7,8 m en 7,6 m bereik het, wat min of meer met die vloedhoogtes van 1925 ooreengestem het.45

By Keimoes is die besproeiing van gesaaides uit die rivier reeds in die 1870's beoefen. Omdat die grond in die omgewing vrugbaar was, was dit in aanvraag, veral nadat die gebied noord van die Oranjerivier in 1885 as deel van Brits-Betsjoeanaland verklaar en as die distrik Gordonia geproklameer is, en die blanke bevolking van die streek begin toeneem het. Grondpryse teen die rivier was hoog. In 1879 is in Keimoes £75 per morg vir besproeibare grond betaal en in 1929 tussen £150 en £200.46 F.C. Cornell het in 1921 sy waarnemings van die vrugbare vloedvlaktes van die Benede-Oranjerivier rondom Keimoes só beskryf:

From Upington, where the river is spanned by a fine bridge, the usual route is along the north bank, downstream, passing through the verdant and productive lands of Keimoes, lands irrigated by gravitation furrows and where oranges and grapes and deciduous fruit, vegetables and cereals grow in astonishing profusion - for the silt brought down by the frequent floods of the Orange is equal in fertility to that of the Nile.47

Na die sukses wat die NG Kerk se arbeidskolonie vir armes te Kakamas behaal het, was dit duidelik dat die vloedvlakte van die Oranjerivier, waar talle eilande deur jare se afsetting van slikgrondgevorm is, oor die potensiaal beskik het om aan arm kleinboere 'n heenkome te bied.48 Ook het suksesvolle besproeiingsinisiatiewe op eilande aanliggend aan Skanskopeiland, te wete Rooikop-, Brakbos- en Kanoneiland, wat van so vroeg as 1910 aangelê is,49 voldoende bewys gelewer dat daar 'n lewensvatbare boerdery op die vrugbare slikgrond van die Oranjerivier geskep kon word. Die staat het in 1933 waterregte ten bedrae van £500 van Rooikopeiland, wat in privaatbesit was, aangekoop.50 Daaruit kan die afleiding gemaak word dat in daardie stadium daadwerklik aan 'n nuwe besproeiingsnedersettinggedink is. Die brug oor die hoofstroom, wat in 1934 voltooi is, het Skanskopeiland meer bereikbaar gemaak.51

In 1936 is Skanskopeiland opgemeet in erwe deur landmeter A.G. Bain. Die grootte van die erwe is beïnvloed deur die ervaring by die ander bestaande besproeiingskemas. In die 1920's het die Paktregering daarna gestreef om deur eksperimentering die optimale grootte vir 'n gesinserf by besproeiingsnedersettings te bepaal. So 'n erf, waarna verwys is as 'n "ekonomiese eenheid", moes net die regte grootte vir 'n blanke gesin wees om sonder swart arbeid 'n selfstandige bestaan te kan maak.52 Op Skanskopeiland is 'n totaal van 64 erwe deur Bain opgemeet, wat in grootte gewissel het van 7,9912 morg (ongeveer 6,8 ha) tot 11,6655 morg (ongeveer 10 ha).53 Hulle gemiddelde grootte was tussen 7,5 en 8 ha, wat ongeveer dieselfde grootte was as die erwe by Hartbeespoort en by die nabygeleë eilande (Rooikop-, Brakbos- en Kanoneiland), maar groter as die erwe by die Kakamasnedersetting en kleiner as die erwe by die Vaalhartsskema.

Die kennisgewing in die Staatskoerant van 3 September 1937, waarvolgens 64 landbou-erwe met die oog op besproeiing in Skanskopeiland te koop aangebied is met duidelike verwysing na selfstandigheid en eiehulp, het die nuwe nedersetting amptelik aangekondig. Die koopprys van die erwe, wat elk uit 'n besproeiingserf en bougrond vir 'n huis bestaan het, het gewissel tussen £53 en £152, wat ongeveer voldoende was om die opmeetkoste te dek.54 Onmiddellike eienaarskap deur die nedersetters het die Skanskopeiland-nedersetting uniek gemaak. By Kakamas het die kerk die eienaar van die grond gebly en elke gesin moes jaarliks n klein bedrag as huurgeld betaal.55 By die besproeiingskemas van Hartbeespoort en Vaalharts was n proef- en huurtydperk van toepassing voordat die nedersetters die grond kon koop.56 By Skanskopeiland kon n grondlose persoon onmiddellik n grondbesitter word.

Voornemende nedersetters op Skanskopeiland moes n standaardaansoekvorm van die departement van Lande vir n hoewe kragtens die gewysigde Kroongrond Nederzettings Wet van 1912 voltooi. Onder die inligting wat op die vorm verskaf moes word, was eerstens biografiese besonderhede, soos die applikant se beroep, ouderdom, huwelikstaat en aantal kinders. Verder was daar vrae oor die applikant se vorige ondervinding van boerdery, of hy voorheen of op daardie tydstip grond gehuur of besit het en watter soort boerdery hy beoog het om op die hoewe te bedryf. Die applikant moes ook inligting oor sy finansiële posisie verskaf, naamlik of hy n ongerehabiliteerde insolvente persoon of pensioentrekker is, asook n staat van sy beskikbare kapitaal (kontant, vee, gereedskap en vaste eiendom) en skulde. Hy moes verklaar dat hy in staat was om binne drie maande die toegekende grond in besit te neem en dat hy tevrede was dat die koopprys van die hoewe redelik en billik was en dat hy nie sou aansoek doen om n herwaardering van die waarde daarvan nie.57

Geen getuigskrif oor hulle morele karakter is van applikante vereis nie, hoewel sommige van die applikante wel getuigskrifte aan hulle aansoekvorms geheg het, omdat hulle gehoop het dat dit hulle kanse vir die toekenning van n erf sou verbeter.58 Die tipe morele kriteria wat by kerknedersettings soos Kakamas van toepassing was, het nie by Skanskopeiland gegeld nie. Die stigtingsproklamasie van die Kakamas-nedersetting het bepaal dat net getroude blankes van goeie karakter aanvaar sou word en dat die maak en verkoop van alkohol daar ten strengste verbied word.59 By staatsnedersettings is boerdery-ervaring belangriker geag as morele oorwegings. So is by Vaalharts voorkeur verleen aan gesonde mans van minder as 50 jaar met afhanklike kinders, veral persone wat bona fide-boere was en hulle grond weens omstandighede buite hulle beheer verloor het.60

Daar was 'n keuringsproses van die nedersetters aan wie erwe op Skanskopeiland toegeken is. Keuringskriteria vir hierdie soort regeringsprojek het normaalweg die volgende aspekte ingesluit: gesondheid, ouderdom, maatskaplike profiel, huwelikstaat, aantal afhanklikes, betroubaarheid, bereidwilligheid om te werk, geesdrif en inisiatief.61 Vir die regering was dit belangrik om seker te maak dat diegene wat grond ontvang het, geskikte kandidate was wat 'n sukses van die boerdery kon maak.

In lyn met die filosofie van selfwerksaamheid, wat onder bespreek word, moes voornemende nedersetters in die eerste plek nie leeglopers wees nie, maar die vermoë en bereidwilligheid hê om te werk. In die tydperk van die armblankevraagstuk het die staat arbeidskolonies geskep om sosiale euwels soos ledigheid, bedelary, alkoholmisbruik en wanordelikheid onder blanke mans te bekamp.62 Vir "verdienstelike" armblankes, aan die ander kant, is sosio-ekonomiese rehabilitasie- en opheffingsprogramme deur die regering geloods.63

Verder moes die voornemende nedersetters op Skanskopeiland oor die basiese benodighede, 'n span donkies om te help met die gelyksleep van die grond en die bou van die kanale en 'n bietjie kapitaal beskik om  'n klein boerdery van die grond te kry. Hulle "moes darm [sic] genoeg besit om 'n begin te maak".64 Benewens die feit dat geen aansoeker reeds grond van sy eie mag besit het nie, moes die arme ook nie 'n staatslastige gewees het nie. In hierdie opsig het die regering geleer uit die ervaring by Hartbeespoort. Aanvanklik is by Hartbeespoort beoog om voorkeur aan nedersetters met beskikbare kapitaal te gee. Nuwe wetgewing, in die vorm van die Landbank Wetten Verdere Wijzigings (no. 32 van 1924), is egter by die Hartbeespoortdamskema toegepas, wat dit vir mense sonder kapitaal en met min opleiding of vaardighede moontlik gemaak het om op kroongrond gevestig te word. Gevolglik het Hartbeespoort 'n nedersettingskema vir die hervestiging van kapitaallose en hawelose armblankes geword, wat ontwikkeling daar gestrem het. Die staat was verplig om skuld af te skryf, rentekoerse van lenings aan nedersetters te verlaag en die terugbetalingstydperk te verleng. Daardie nedersetting het eers na dekades behoorlik begin funksioneer, nadat die regering baie geld aan hulpverlening bestee het.65 By Skanskopeiland wou die regering nie weer dieselfde fout begaan nie.

Van oral is aansoek gedoen om die erwe op Skanskopeiland. Suksesvolle applikante is deur 'n keurkomitee voetstoots op erwe geplaas.66 Met enkele uitsonderings was al die oorspronklike erfhouers jonger as 50 jaar. Luidens mondelinge herinneringe was die deursnee nedersetter behoeftige mense wat 'n heenkome gesoek het. Sommige het as bywoners op plase gewerk, ander het 'n stukkie grond gehuur by 'n boer in die omgewing. Daar was enkele uitsonderings, waar erwe toegeken is aan persone wat nie werklik verarm en grondloos was nie.67

Die vestiging van die besproeiingsnedersetting op Skanskopeiland was geen maklike taak nie, veral omrede die nedersetting as 'n selfwerksame armoedeverligtingsprojek aangepak is en daar op finansiële gebied besonder min hulp deur die staat verleen is. Afgesien van die waterregte wat van Rooikopeiland aangekoop is, is van 1935 tot 1937 slegs £9 470 aan Skanskopeiland se infrastruktuur bestee.68 Dit het die koste van die uitmeet van erwe en die aanlê van die kanaalstelsel behels, maar die staat het hom geensins verbind tot die skep van enige verdere infrastruktuur of enige finansiële hulp nie.

Anders as by staatsnedersettings is op Skanskopeiland geen hulp met die boerdery en geen behuising aan nedersetters voorsien nie. By Hartbeespoort het nedersetters in die proeftydperk in ruil vir 60 persent van hulle oeste, 'n voorbereide hoewe met 'n huis en skuur, landbou-implemente, saad, advies en bemarking van hulle produkte by die departement van Lande ontvang, asook 'n toelaag totdat hulle eerste oeste bemark is.69 By Vaalharts is, ook in ruil vir 'n deel van die oes, basiese behuising voorsien en het proefhuurders vee en produksiemateriaal, 'n span muile, melkkoeie, 'n wa, tuie, 'n ploeg, eg, ligte gereedskap, saad en kunsmisontvang.70

Hierdie benadering van minimale staatshulpverlening en bevordering van selfwerksaamheid by Skanskopeiland kan na die aanbevelings van die Carnegiekommissie herlei word. Die kommissie se aanbevelings in hierdie verband was gebaseer op J.R. Albertyn, self 'n predikant en skrywer van 'n deel van die sosiologiese verslag, se bewondering vir dominee Marchand se benadering by die Kakamas-nedersetting.71 By Kakamas is selfwerksaamheid vooropgestel. Marchand, die dryfkrag agter die projek, het die neiging om neer te sien op hande-arbeid as "kafferwerk" verwerp en wou die armblankes oortuig dat dit nie 'n skande was om met jou hande te werk nie.72

Dit was ironies dat met die konstruksie van die Hartbeespoortdam dit juis hierdie beskouing van hande-arbeid as "kafferwerk" was wat veroorsaak het dat werkgeleenthede wat eintlik vir armblankes geoormerk was, uiteindelik aan swart werkers gegee is. 'n Ingenieur by Hartbeespoort het moedeloos oor sy ervaring van blanke arbeiders verklaar: "They came. They also went in most cases; and often without saying Goodbye. Work: The last thing they wanted. Relief: Of course yes, but not work."73

In die lig van die ondervinding by Kakamas en die staatsnedersettings, het die Carnegiekommissie tot die volgende bevinding gekom:

Die kommissie is van oortuiging dat die wyse waarop hulpverlening veelal geskied, 'n demoraliserende uitwerking op armblankes het en beslis hulle werklike rehabilitasie bemoeilik. Dit lei tot verlies van selfstandigheid, van arbeidsaamheid en persoonlike verantwoordelikheid. Dit help om 'nneiging tot oneerlikheid en soms 'nbewussyn van minderwaardigheid by hulle te laat ontwikkel.74

Hierdie bevinding het kritiek gelewer op die bestaande wyse van staatsondersteuning aan die armblankes, waardeur afhanklikheid van die staat gevestig is en selfs 'n bedelaarsmentaliteit onder armes bevorder is.75

Hulp moes eerder selfstandigheid ten doel gehad het. Daarom het die kommissie soos volg aanbeveel:

Direkte stoflike hulpverlening sonder teenprestasie van die kant van die ontvanger behoort tot 'n minimum gebring te word ... dit beteken dat die ontvanger deur die eie inspanning wat van hom vereis word om goeie gebruik te maak van kanse wat aan hom gegee word, kragdadiglik meewerk aan sy eie rehabilitasie en so 'n toestand probeer bereik waarin hy die pligte kan vervul wat hy, soos elkeen, teenoor die sosiale liggaam het.

Die studie van die individuele gevalle behoort in die besonder gerig te wees op die vasstelling van die moontlikhede van eiehulp wat in die individue of familie self mag skuil indien die nodige raad, voorligting en aanmoediging gegee word. Daardeur kan veelal resultate van 'nmeer opheffende aard bereik word as by die beoefening van blote stoflike liefdadigheid geskied.76

Hierdie bevinding en aanbeveling in die Carnegieverslag het gelei tot die filosofie van selfwerksaamheid onderliggend aan die skepping van die Skanskopeiland-nedersetting.

Daar moet gemeld word dat die vereiste dat die blanke nedersetters self die werk moes doen en dat die reëling dat nie van swart arbeid gebruik gemaak mag word nie ook by die ander besproeiingskemas, wat voor Skanskopeiland ontwikkel is, soos Kakamas, Hartbeespoort en Vaalharts, gegeld het. By Hartbeespoort en Vaalharts kon dit egter weens die tekort aan beskikbare blanke werkers nie suksesvol afgedwing word nie en moes swart werkers in diens geneem word.77 Die beginsel van selfwerksaamheid is dus nie vir die eerste keer by Skanskopeiland toegepas nie, maar daar het dit 'n nuwe dimensie gekry. By Kakamas moes die blanke nedersetter en sy gesin ook al die werk self doen, maar by Skanskopeiland, anders as by Kakamas, het die nedersetter nie net self die werk gedoen nie, maar het hy ook vir homself en sy gesin gewerk, omdat die grond van meet af aan hom behoort het. Deur hard te werk, kon die Skanskopeiland-nedersetters hulleself dus tot selfstandigheid opwerk, wat as addisionele aansporing gedien het om 'n sukses van die boerdery te maak. By Skanskopeiland is die selfwerksaamheidbeginsel dus tot 'n hoogtepunt gevoer.

Die verslag van die departement van Lande, gedateer 31 Maart 1939, in verband met die Oranjeriviereilandskemas(verwysende na eilande wat in die vorige jaar verkoop is) het dié beleid ten opsigte van menslike vestiging op Skanskopeiland só bevestig:

Die voorwaardes van die verkoopaktes, kragtens welke die grond gehou word, is opgestel met die doel om 'n gees van selfstandigheid by die kopers aan te kweek en daarom word hulle baie tyd gegee om hulle persele te ontgin, sonder om hulle van die begin af met swaar finansiële verpligtinge te belas.78

Die verkoopaktes het bepaal dat geen terugbetalings in die eerste drie jaar gemaak hoef te word nie, dat rente van 2 persent vanaf die vierde jaar en van 3 persent vanaf die vyfde jaar op die balans van die koopprys gehef sou word, en dat vanaf die sesde jaar teen 'n rentekoers van 3½ persent die koopprys in twintig gelyke paaiemente terugbetaal moes word.79 Nadat die eerste drie morg van 'n besproeiingserf gelykgemaak is, is 'n subsidie van £20 per morg aan die erfhouer betaal, maar dit moes terugbetaal word. Soos blyk uit J.J.C. Smit se herinneringe, het sy vader se erf, waarop hy nou nog boer, £22 gekos. Die terugbetaalbare besproeiingslening wat sy vader aangegaan het, was ten bedrae van £60.Dit is by die koopsom gevoeg en was terugbetaalbaar oor vyf-en-twintig jaar.80

Die uitdaging was selfstandige en volhoubare ontwikkeling. Dit word beaam deur die koopakte van P.W. de Vos, kragtens Wet 8 van 1922, gedateer 1 Januarie 1938, waarop onder meer die volgende voorwaardes aangebring is:

(a) Moet die aanlê van enige hoof- of subsidiêre of verdelingskanale of watervore of besproeiingswerke van enige aard op of oor Skanskop Eiland, benodig om water vir besproeiingsdoeleindes op verskillende erwe te bring, op eie koste deur die kopers, gesamentlik, en deur onderlinge en vrywillige ooreenkoms, onderneem word;

(b) Moet die onderhoud, instandhouding en reparasie van uitkeerdamme, kanale, siphons [sic], geute en alle ander besproeiingswerke wat alreeds op Skanskop Eiland aangelê is of wat hierna aangelê mag word, deur die koper, en/of eienaars, gesamentlik, op hulle eie koste geskied;

(c) Vir die doeleindes soos in (a) en (b) hiervan vermeld sal kopers en/of eienaars, wanneer deur die Minister aangesê, daaraan persoonlike dienste kosteloos moet bestee.81

 

Die natuut getem tet voorbereiding van landbou-ontwikkeling

Die vrugbare Skanskopeiland was nog nie vantevore bewerk nie en het ongetem gelê: 'n woesteny van dongas, bome, bosse en slote. In 2010 het die 93-jarige mev. M.K. Erasmus dit só onthou: "Ek het hom [Skanskopeiland] gesien soos die Here hom geskape het. Dit was puur [sic] sloepe en bosse. Die houte, met die bome so oormekaar."82

Om die eiland vir landbouproduksie voor te berei, moes die eerste nedersetters bome en bosse verwyder, die grond gelykmaak en waterkanale aanlê. Dit was groot werk wat aan die een kant die aanpassing en aanwending van die destyds beskikbare tegnologie en aan die ander kant harde fisiese arbeid geverg het.

Nadat die landmeter die kanale uitgemeet het, het die verkose bestuursraad in die hoogsomerhitte op 14 Februarie 1938 die nedersetters en alle werksaamhede begin organiseer met die oog op die uitgrawe van die kanaal.

Die werk het onder die subsidiestelsel begin, wat ingehou het dat die blanke nedersetters as arbeiders vir die werk aanvaar is. Niemand van die inheemse bevolking is as hulp gehuur nie. Vir enige ekstra arbeid is daar slegs van blanke werkloses gebruik gemaak. Elke nedersetter of werker het 2/9- (twee sjielings en nege pennies) as vergoeding vir 'n dag se arbeid ontvang. Dié karige dagloon, waaroor gekla is dat dit te min was vir 'n gesin wat geen ander inkomste gehad het om op te lewe nie,83 was al inkomste wat die nedersetters gehad het. Indien hulle nie self kon werk nie, moes hulle iemand in hulle plek stuur, of sou met 6/ (ses sjielings) beboet word.

Alhoewel nie almal ewe bekwaam of geskik vir harde arbeid was nie, is daar verwag dat elke man dieselfde gewig werk moes doen. Die werkers is in vier afdelings vir die bou van die kanaalgegroepeer, naamlik:

- die boomuitgrawers wat groot bome met behulp van grawe, pikke en donkies verwyder het;

- die span wat slote en dongas toegespoel het met water;

- die span wat kanaalwalle met donkies en skrapers opgesleep het; en

- laastens die groep wat die kanale uitgegrawe het.

Vandag word bome gemaklik verwyder met gespesialiseerde verskuiwingsmasjinerie. Grond word verskuif en gelyk gesleep met behulp van gesofistikeerde tegnologie soos laserapparaat en -skrapers. Na die 2011-vloede is die herstelproses van die landerye en heropbou van die infrastruktuur baie vergemaklik deur die gebruik van beskikbare gespesialiseerde tegnologie. Die aanlê en vestiging van die infrastruktuur en landerye het egter op 'n heel ander wyse verloop in 'n era toe gevorderde tegnologie nog nie beskikbaar was nie. Al gereedskap tot die nedersetters se beskikking vir dié ontsaglike taak was 'n span donkies of osse, bak- en plankskrapers, pikke, grawe en byle.

Bome uithaal was die eerste aspek van die voorbereiding van die eiland vir landbouproduksie.Dit was ontsettend harde werk om bome, veral reuse ou kameeldoringbome (Acacia erioloba)84 uit te haal. W.F. Hanzen, wat sy pa as opgeskote seun gehelp het om bome uit te haal, vertel watter reuse taak dit was. Dit het weke geneem om 'n groot boom se wortels oop te grawe en af te kap en dan die boom met 'n span donkies om te trek, dit uit die gat te lig en die gat weer toe tegooi. Die boom is in stompe gekap en weggesleep of opgesaag vir brandhout. Die hele proses het ongelooflike harde werk geverg.85

 

 

Kinders moes ook hulle kant bring en is ingespan om te help met die uithaal en opsaag van die bome. Daar is dikwels nie onderskeid tussen geslag gemaak nie. Volgens mev. J.D.S. Barnard, het sy en haar broer dikwels tydens skoolvakansies bome help uithaal op hulle vader se erf.87

Spoelwerk, om die grond gelyk te maak, was die tweede aspek van die voorbereiding vir landbouproduksie. Dit was noodsaaklik om 'n gedeelte van die landbou-erf vinnig ontbos en gelyk te kry, sodat daar met die plant van gewasse begin kon word. Voedsel vir eie gebruik en vir 'n inkomste moes so gou moontlik geproduseer word. Daarom is daar deur die winter gewerk om die grond gereed vir die plantseisoente kry.88

Jare se natuurlike vloede het die eiland met goeie slikafsetsels, maar ook hoë sandgrondbulte, walle en sloepe gelaat. Die Oranjerivier is ingespan om die eiland met spoelwerk gelyk te maak. Die meeste nedersetters op Skanskopeiland het nie oor geleerdheid en uitgebreide finansiële bates beskik nie, maar wel oor 'n omvattende praktiese kennis oor hoe om die natuur maksimaal as hulpmiddel aan te wend. Reeds met die vestiging van die arbeidskolonie vir armes op Kakamas, sowel as op eilande aanliggend aan Keimoes en die spontane nedersetting op Kanoneiland in 1928 het pioniers van dié nedersettings baanbrekerswerk gedoen op die gebied van grondvoorbereiding en grondverskuiwing.89 Gevolglik kon die nedersetters van Skanskopeiland die metodes, wat reeds in die omgewing ontwikkel is, gebruik om erwe gelyk te spoel en sloepe op te vul.

Spoelwerk was een van die goedkoopste, maar moordendste maniere om grond te verskuif en gelyk te maak. Waterkrag is besonder kundig aangewend om grond te verskuif. Sloepe is toegespoel en bulte verskuif met behulp van 'n stroom water, sodat die grond met die bak- en plankskrapers gelyk gemaak kon word.90 Cornelissen skryf dat dié manier van grondverskuiwing groot hoeveelhede grond sinvol verskuif het: "In 'n verbasend-korte [sic] tyd word 'n enorme oppervlakte so afgespoel - veel sneller en veral goedkoper as wat dit met 'n skraper afgesleep kan word."91

Vaardige en pragmatiese denke was bepalend vir die sukses van spoelwerk, wat op byna dieselfde prinsiep werk as wanneer mens 'n sandkasteel bou op die strand en laat wegspoel deur die branders. Dit was belangrik dat die spoelman die veranderende aard van die omgewing waarbinne hy werk, heeltyd korrek moes interpreteer. Trouens, hy moes 'n sterk aanvoeling ontwikkel om die bepaalde spoelmetode doeltreffend vir grondverskuiwingtoe te pas. Vore moes gegrawe word, die spoelwater moes met 'n spoeldam beheer word en die spoelman moes die sandbult met 'n graaf planmatig afsteek, om op dié wyse die spoelwerk tot sy voordeel aan te wend. Die bulte wat so gespoel is, was dikwels meer as vier tot ses meter hoog. Indien die sandbult verkeerd val, was weke se werk daarmee heen. Onhandigheid kon die spoelman duur te staan kom en goeie bo-grond wegspoel. Boonop was dit lewensgevaarlik.92

Hier is suiwer ingenieursvernuf deur onopgeleide nedersetters toegepas. By gebrek aan fnansies en die gepaste tegnologie, is daar sinvol gebruik gemaak van wat die omgewing bied. Die krag van lopende water is gebruik om hoërliggende bulte en walle weg te kalwe en hulle grond in laerliggende sloepe in te spoel en sodoende die terrein gelyk te maak.

Die volgende vertelling deur W.F. Hanzen verduidelik die gevare verbonde aan die spoelwerk:

My pa spoel toe van voordagmóre [sic] af. Aan die onderpunt van die erf was 'ndiep donga wat hy wou toespoel. So staan en spoel hy en hy steek nog so, toe tuimel die hele massa grond af in sy spoelsloot. Die sloot wat gespoel was, was seker al so 2 m breed, soos hy reeds die grond afgesteek het. Hy spring toe weg om nie toe te val nie. Nou dam die water op. As die spoelkanaal sou breek, sou al die kosbare grond wegspoel. Dit gebeur toe ook. Ek kom met 'n emmertjie kos en koffie aan. "Pa, die wal breek," sê ek. Die spoelsloot val toe. Hy wou dit nie laat breek nie, want dan spoel al die kosbare grond weg. Hy steek die grond vreeslik oop, so vinnig as wat hy kan. Hy gryp my, druk my in die gat waar die wal gebreek het en gooi my bene toe met grond, as 'n lewende wal. Dit was winter en ek het net 'n kort broekie aangehad. So het ek gestaan, met die grond tot bo my knieë, tot hy die wal kon red. Toe het hy my uitgetrek en huis toe gestuur om droog aan te trek. Só het ons groot geword. Dit was harde dae.93

Nadat die ergste bulte gelykgespoel is en die slote toegespoel is, is daar met die gelyksleep van die erwe met die bak- en plankskrapers, die derde aspek van die voorbereiding vir landbouproduksie, begin. M. de Beer skryf soos volg oor die gelykmaak van die grond: "Om die grond te kan besproei moes dit gelyk gesleep en "gevloed" word - en die effense val moes eweredig weg van die kanaal en sluis ingewerk word om die gelyke verspreiding van besproeiingswater oor die hele erf moontlik te maak."94

Die sleep van die erwe was op sigself 'n fyn kuns. Die val van die grond, wat moes reg wees vir vloedbesproeiing, is met die oog geskat. In die meeste gevalle was die val van die grond presies geskat, sodat water ongehinderd kon vloei tydens vloedbesproeiing. J.J.C. Smit vertel dat Gert de Vos die val van die grond met sy oog net so goed kon skat as wat vandag se laserskrapers dit kan doen.95

'n Bakskraper is 'n implement wat bestaan uit 'n ysterbak wat bykans soos 'n reuse graaf lyk, met twee houthandvatsels waardeur die skep- en uitgooi-aksie deur die persoon wat die skraper stuur, beheer word. Die implement is deur donkies of muile getrek. Dit is vir die rowwer werk gebruik. Die skraper is in die ongelyk grond gesteek en die bak vol grond geskep. Dan is dit uitgelig en deur die donkies gesleep tot waar dit uitgegooi is. Die grond is gebruik om weer ander ongelyke dele op te vul.

 

 

Die grond is finaal met die plankskraper of blokskraper "gedress"..97 Die plank-of blokskraper, bekend as die Kakamasplank, is deur die nedersetters van Kakamas na aanleiding van die groot houtskoffel wat deur osse of donkies getrek is, ontwerp en eerste daar gebruik.98 Cornelissen beskryf die implement só: "Dit is 'n werktuig van plank - 1'6" breed en 5'-7' lank met twee sterte om dit te hanteer, en 'n staal lem van 5" om dit maklik in die grond te laat ingaan. Die blok steek 'n baie groot vrag op 'n keer en daarmee kan 'n groot klomp grond per dag weggesleep word, van die hoër na die laer dele."99

Die bou van die kanale is die laaste aspek van die voorbereiding vir landbouproduksie wat hier bespreek word. Soos by Kakamas100 en Vaalharts,101 moes die nedersetters op Skanskopeiland die besproeiingskanale eiehandig met pik en graaf uitgrawe. Dit was 'n dringende werk, omdat geen spoelwerk of enige landbou moontlik was sonder watervoorsiening deur die kanale nie.

W.F. Hanzen vertel dat die bakskrapers en donkiespanne gebruik is vir die opsleep van die kanaalwalle en dat sy vader in die proses sy twee donkiespanne beheer het bloot deur met hulle te praat: "'n Donkie leer net soos 'n mens. Hy weet áls wat jy met hom praat."102

Op sommige plekke waar daar kh!omm-klip [outeurs se spelling], 'n gelaagde klipbank en rotslae was, was dit onmoontlik om die kanaal uit te grawe en is die rots met plofstof uitgeskiet.103

Omrede die tersaaklike inligting uit die notuleboek verwyder is, kan daar nie met sekerheid vasgestel word wanneer die kanale voltooi is nie. In die notule van 10 Augustus 1939, waar die superintendent van Lande, A.S. Brink, die nuwe bestuursverkiesing bygewoon het en die ou bestuur bedank het vir die afgehandelde werk, word na alle waarskynlikheid verwys na die voltooiing van die kanale.104 Volgens die verslae van die direkteur van Besproeiing is daar slegs tot 1940 uitgawes vir Skanskopeiland se besproeiingnedersetting aangegaan.105 Dit gee 'n aanduiding dat die kanaalwerk moontlik teen daardie tyd voltooi is. Die eilandgrond is egter eers in die periode 1948 tot 1950 ten volle gelyk gemaak.106

Uit die beskrywings hierbo is dit duidelik dat byna bomenslike harde werk van die nedersetters geverg is. Nie almal was opgewasse vir die konstante harde arbeid nie en sommige nedersetters het die grond teruggegee om 'n ander heenkome te gaan soek. Sover vasgestel kon word, was daar twee nedersetters wat spoedig hulle erwe verlaat het. Dit is aan ander aansoekers gegee. Diegene wat oor deursettingsvermoë beskik het, het volhard met die moeisame taak om 'n lewe op die erwete skep.

Volgens mev. H.S.B. Basson, dogter van die nedersetter P.W. de Vos, was die mans se gesigte saans met uitvaltyd stroef gespan van moegheid en het die bitter reuk van sweet hulle omgewe. Tydens die eenvoudige maal wat hulle genuttig het, het die gesprekke gefokus op die dag van môre, om ten alle koste vorentoe te beur en die werk te voltooi.107 Mondelinge herinneringe bevestig egter dat 'n sterk gees van samehorigheid, n nuutgevonde eiewaarde, en die vooruitsig van eiendom vir die meeste nedersetters innerlike dryfvere was.108

Baie nedersetters, soos P.W. de Vos, het na die kanaalwerk afgehandel was, by ander gevestigde boere stukwerk gedoen, soos byvoorbeeld koringgerwe sny, vir 'n ekstra inkomste. Sommige het ook, na die uitbreek van die oorlog in 1939, hulle grond verhuur of in die sorg van hulle eggenotes en familie gelaat, en aangesluit by die weermag om sodoende ekstra inkomste te verdien.109

 

Gevolgtrekking

Die nedersetters op Skanskopeiland het, ondanks die moeisame begin van die nedersetting, 'n volhoubare boerderygemeenskap gevestig. Dit het hulle 'n paar jaar geneem om volle gebruik van die landboupotensiaal van hulle erwe te maak. By Vaalharts het studies bevind dat dit in die 1950's drie jaar en in die 1960's twee jaar geneem voordat 'n erf in volle produksie was.110 Omdat die tegnologie in die 1930's minder ontwikkeld was, sou dit die nedersetters op Skanskopeiland waarskynlik vier of vyf jaar geneem het om volle produksie te bereik.

Die suksesvolle vestiging van die Skanskop-besproeiingsnedersetting pas in die groter prentjie van die oplossing van die armblankevraagstuk, wat in presies dieselfde tydperk plaasgevind het. In 1932 het die wêreld nog nie herstel van die globale ekonomiese insinking nie, het die Suid-Afrikaanse ekonomie gewurg weens die goudstandaardkrisis. Die armblankevraagstuk was op sy ergste. Binne die bestek van slegs ongeveer sewe jaar, tussen 1932 en 1939, het die armblankevraagstuk weens 'n kombinasie van faktore in die niet verdwyn.111 Forgey skryf dit aan drie faktore toe, naamlik die etniese mobilisasie van die Afrikaners waardeur hulle sielkundige armoede oorkom is; die nywerheidsontwikkeling wat deur die regering onderneem is in 'n gunstige internasionale ekonomiese klimaat en wat sterk ekonomiese groei gestimuleer het; en die doelbewuste armoedeverligtingsprogram van die regering deur 'n groot deel van die begroting aan werkskeppings- en diensverskaffingsprogramme af te staan.112 Deur die fokus op die oplossing van die armblankevraagstuk het die regering meegehelp om dit vinniger op te los as wat markmeganismes alleen dit sou kon doen.113 Daar was ook ander faktore, soos die afstap van die goudstandaard wat tot 'n drastiese styging in die goudprys gelei het en baie geld in die land in omloop gebring het. Die wêreldwye ekonomiese insinking het tot n einde gekom en die markte, ook die mark vir landbouprodukte, het herstel. Die landboubedryf het herstel van die depressie en droogte en is bevoordeel deur die regering se beleid om die pryse van landbouprodukte te stabiliseer met behulp van 'n stelsel van beheerrade.114

Dit is onteenseglik waar dat die staat nie aalmoese uitgedeel het aan die nedersetters op Skanskopeiland nie en dat hulle hard moes werk om hulleself te vestig en sukses te behaal met die boerdery. Dit is egter ook waar dat hulle, toe die nedersetting gevestig is, bevoordeel is deur baie gunstiger ekonomiese omstandighede as dié wat 'n paar jaar tevore geheers het. Ook op Skanskopeiland was dit 'n kombinasie van regerings- en privaatinisiatiewe wat welvaart help skep het en arm mense gehelp het om die juk van armoede af te werp en ekonomies mededingend te wees. In die jare wat onmiddellik op die vestiging van die Skanskopeiland-nedersetting gevolg het, was daar meer kapitaal in omloop in die land en het die situasie met werkverskaffing en onderwysvoorsiening verbeter. Die nedersetters op Skanskopeiland was reg geposisioneer om voordeel te trek uit die gunstiger ekonomiese klimaat.

Getalsgewys het die Skanskopeiland-nedersetting maar 'n klein bydrae tot werkverskaffing en armoedeverligting gemaak. Tussen 1933 en 1938, het die departement van Arbeid 170 000 nuwe werkgeleenthede vir blankes geskep.115 Die 64 gesinne wat op Skanskopeiland n heenkome gevind het, was dus maar n druppel in die emmer. Tog het hulle, hoe gering aanvanklik ook al, n betekenisvolle bydrae gelewer tot die ekonomiese ontwikkeling van die streek en n hegte boerderygemeenskap gevorm. Daar moet nog navorsing gedoen word om hulle bydrae tot die plaaslike en streeksekonomie te kwantifiseer.

Moolman het in 1946, n paar jaar nadat produksie op Skanskopeiland op dreef gekom het, bevind dat besproeiing langs die 300 km van die Oranjerivier tussen Boegoeberg en Augrabies, die streek in 'n produktiewe landbougebied omskep het:

An area of about 20 000 morgen is under intensive cultivation and carries a population of some 35 000, including the town of Upington. The most important products are sultanas and lucerne, but wheat, oranges, mealies, and even a little cotton are also cultivated. The sultana production ... compares very favorably with the best on the world's markets.116

In die bespreking tydens die volksraadsdebat van 2 April 1947 van die wetsontwerp op die Skanskopeiland-nedersetting, wat voorsiening sou maak vir die skep van n selfstandige bestuursraad, was dit opmerklik dat die nedersetters binne die eerste dekade van die nedersetting nekonomies-selfstandige en selfversorgende gemeenskap geword het. Hieroor het senator A.M. Conroy gesê: "Die nedersetters op Skanskop maak 'n baie goeie bestaan: hulle doen baie goed. In die seisoen van 1945-'46 bv. het hulle oeste 'n bedrag van £41,000 ingebring. Gemiddeld £650 per nedersetter het hulle gemaak in daardie jaar."117

Dié uitspraak word bevestig deur die nougesette persoonlike boekhouding van B. J. Momberg, een van die eerste nedersetters, wat in die boekjaar 1946-1947 met koring, lusern en perskes n inkomste van £629-14-10 gegenereer het. Nog n pioniernedersetter, N.J. Visser, se eenvoudige boekhouding van sy boerdery dui dieselfde tendens aan. In 1944 was hy volgens 'n bestuurslisensiedokument gelisensieer vir n vragmotor wat in 1947 teen 15/-verseker is. In konteks met die omgewing waarbinne hy geleef het, is die boedel van Visser, wat vaste bates ter waarde van£1,399-9-2 beloop het, n afdoende bewys dat hy uit 'n eenvoudige bestaansekonomie gevorder het tot n selfstandige bestaan.118

Die meerderheid van die nedersetters, wat hier n heenkome in hulle armoede kom soek het, is uit hulle armoede gerehabiliteer deur selfwerksaamheid en kon daarin slaag om die behoeftigheid en die slagoffermentaliteit af te skud en aan hulle kinders 'n behoorlike bestaan na te laat. Soos blyk uit mondelinge herinneringe was daar n sterk drang onder die nedersetters om aan hulle kinders 'n beter lewe te gee. Die kinders het byna almal 'n hoër vlak van onderrig ontvang as die meeste ouers. Daar is egter ook diegene wat nooit hulle agtergeblewe status laat vaar het nie en wat in uiterste verval lewe, ten spyte van klaarblyklike intelligensie en gelyke geleenthede. Hulle is egter n klein minderheid.

Die pioniernedersetters het 'n ruwe, onontwikkelde gebied met uiterste arbeidsaamheid en volharding tot op 'n vlak van ekonomiese produktiwiteit gebring. Dit is gedoen in samewerking met die staat, sonder enige eksploitering van inheemse bevolkingsgroepe, wat tipies was op ander vlakke van ekonomiese ontwikkeling in die bepaalde tydperk. Hulle was bereid om ten spyte van armoede en soms broodgebrek, te volhard ten einde 'n volhoubare voortbestaan vir hulleself en hulle nageslag daar te stel.

Binne die gemeenskap van Skanskopeiland is daar intense groepsherinneringe oor die uiters moeilike ontstaanstydperk. Tydens mondelinge onderhoude kom die swaarkry deurlopend as 'n subteks na vore, maar word oorskadu deur die sterk gedeelde trots op die gesamentlike prestasie van die gemeenskap.

Daar is afdoende bewys dat 'n volhoubare gemeenskap opgebou en nagelaat is. In 1961, 23 jaar nadat die eerste nedersetters hulle op Skanskopeiland gevestig het, was 42 van die 64 erwe (66 persent) nog in besit van die oorspronklike erfhouers.119 In 2011 het twee derdes van Skanskopeiland se landbougrond aan sewe nasate van die oorspronklike erfhouers behoort.120

Vandag omsoom gevestigde wingerd en wisselbou die kronkelende oewers van die rivier in die Benede-Oranje en lewer die gebied, waarvan Skanskopeiland deel is, nasionaal en internasionaal 'n daadwerklike bydrae tot die land se ekonomie.121 Dit word bereik, nie net deur op 'n volhoubare vlak werk te verskaf aan die plaaslike bevolking nie, maar ook deur die toetrede tot die Suid-Afrikaanse wyn- en internasionale droogdruifproduksie, waardeur daar ook verskeie beroepsmoontlikhede vir jongmense, wat oor die nodige vaardigheid en opleiding beskik, gebied word.122 Die grondslag daarvan is egter deur die volharding van die pioniernedersetters gelê.

 

 

Genl. J.C.G. Kemp se woorde dat besproeiing "groot indirekte wins vir die samelewing sal afwerp",124 was profeties ten opsigte van die besproeiingsnedersetting op Skanskopeiland. Die staat se beleid van selfstandige ekonomiese landbou-ontwikkeling het van die nedersetters onafhanklike en produktiewe landsburgers gemaak. Dit het daartoe gelei dat die nageslag vandag die vrugte van armoedeverligting gegrond op selfwerksame teenprestasie kan pluk.

 

 

* Karen Visser is 'n nagraadse student by die Vakgroep Geskiedenis en Antieke Kultuur, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom en Kobus du Pisani is 'n professor in Geskiedenis by dieselfde vakgroep.
1. J.H. Coetzee, Verarming en Oorheersing (Nasionale Pers, Kaapstad, 1942), p 23; B. Freund, "The poor whites: a social force and a social problem in South African history", in R. Morrell (ed), White but poor. Essays on the history of poor whites in Southern Africa, 1880-1940 (University of South Africa, Pretoria, 1992), p xiv; J. Fourie, "The South African poor white problem in the early twentieth century: lessons for poverty today", Management Decision, 45, 8, 2007, p 1270.
2. Kyk onder meer in N.Worden, The Making of Modern South Africa (Blackwell, Oxford, 2000), p 65; S. Terreblanche, A history of inequality in South Africa 1652-2002 (University of Natal Press, Durban, 2003), pp 265-268; H. Giliomee, Die Afrikaners, 'n biografie (Tafelberg, Kaapstad, 2004), p 267.
3. C.W. de Kiewiet, A history of South Africa, social and economic (Oxford University Press, Londen, 1941), p 181.
4. C. Saunders, "Putting the history of white poverty in South Africa on the agenda" ['n resensie van Morrell se White but poor], South African Historical Journal, 28, 1993, p 242. In die literatuur is die term "armblanke", met verwysing na die periode 1880-1930 in Suid-Afrika, vaag gedefinieer en 'n betreklik amorfe begrip.
5. De Kiewiet, A history of South Africa, p 181.
6. R. Morrell, "The poor whites of Middelburg, Transvaal, 1900-1930: resistance, accommodation and class struggle", in Morrell, White but poor, p 3.
7. J. Bottomley, "The Orange Free State and the Rebellion of 1914: the influence of industrialization, poverty and poor whiteism", in Morrell, White butpoor, p 29. Ook H.J.S. Weideman, "Die geskiedenis van die ekonomiese ontwikkeling van die O.V.S., met verwysing na die ontstaan van die armblankedom, 1830-1870", MA-verhandeling, UOVS, 1946.
8. Giliomee, Die Afrikaners, p 270.
9. P.H.R. Snyman, "Die bydrae van droogtes en veesiektes tot die verarming van die landboubevolking in Noord-Kaapland, 1880-1920", Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 29, 1989, pp 32-49.
10. S.E. Duff, "Saving the child to save the nation: poverty, whiteness and childhood in the Cape Colony, c. 1870-1895", Journal of Southern African Studies, 37, 2, June 2011, p 230; D. Posel, "Race as Common Sense: Racial Classification in Twentieth-century South Africa", African Studies Review, 44, 2, 2001, pp 90-91.
11. Van die bekendste werke in hierdie verband word gelys deur J. Seekings, "Not a single white person should be allowed to go under: swart gevaar and the origins of South Africa's welfare state, 1924-1929", Journal of African History, 48, 2007, p 376. Ook H. Phillips, "Treating white poverty in interwar South Africa: 'Civilised labour' and the construction of Groote Schuur Hospital, 1926-1938", South African Journal of Economic History, 20, 2, September 2005; I. Abedian and B. Standish, "Market imperfections and unemployment: a model of the South African labour market, 1900-1940", The South African Journal of Economics, 54, 4, 1986.
12. Seekings, "Not a single white person should be allowed to go under", pp 381-383; J.R. Albertyn, "The poor white and society", Report of the Carnegie Commission V (Pro Ecclesia-Drukkery, Stellenbosch, 1932), pp 106-107. Ook J.A. Tayler, "Aspects of social welfare and poor white rehabilitation in South African Railways and Harbours, 1934-1952", MA-verhandeling Unisa, 1994.
13. J. de Villiers, "Sosio-ekonomiese dimensies van Suid-Afrika in die dekade 1930-1940: Arm, maar darem, of ondernemend en presterend?", Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 44, 2 & 3, 2004, pp 168, 170.
14. J.F.W. Grosskopf, "Plattelandsverarming en plaasverlating", Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika, Verslag van die Carnegie-kommissieI: Ekonomiese verslag (Pro Ecclesia-Drukkery, Stellenbosch, 1932), p 91; R.W. Wilcocks, "Die armblanke-vraagstuk", Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika, Verslag van die Carnegie-kommissie II: Psychologiese verslag(Pro Ecclesia-Drukkery, Stellenbosch, 1932), p 9; Mondelinge mededeling, E.W.Visser, Omstaan Skanskopeiland, 22 Mei 2010.
15. "Joint findings and recommendations of the Commission", in Report of the Carnegie Commission I (Pro Ecclesia-Drukkery, Stellenbosch, 1932), p vii. Die Carnegiekommissie se skatting word soms bevraagteken as 'n moontlke oorskatting van die getal armblankes.
16. "Joint findings and recommendations of the Commission", ppviii-ix, xiv-xv, xxxiii.
17. Seekings, "Not a single white person should be allowed to go under", p 377, lys talle sodanige publikasies.
18. Seekings, "Not a single white person should be allowed to go under", pp 375-394; J. Seekings, "The Carnegie Commission and the backlash against welfare state-building in South Africa, 1931-1937", Journal of Southern African Studies, 34, 3, September 2008, pp 515-537.
19. J. Taylor, "Our poor: the politicization of the poor white problem, 1932-1942", Kleio, 24, 1992.
20. P. du Toit (samesteller), Verslag van die Volkskongres oor die Armblankes 1934 (Nasionale Pers, Kaapstad, 1934), p 22.
21. S. Schirmer, "White farmers and development in South Africa", South African Historical Journal, 52, 1, 2005.
22. T. Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites on the Hartbeestpoort Dam irrigation scheme under the Pact government in South Africa, 1924-1929", in A.H. Jeeves and O.J.M. Kalinga (eds), Communities at the margin; studies in rural society and migration in Southern Africa, 1890-1980 (Unisa, Pretoria, 2002), pp 106-107.
23. Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites", p 104.
24. Grosskopf, "Plattelandsverarming en plaasverlating", hoofstuk IV.
25. M. Jordaan, "Die armblankevraagstuk in Suid-Afrika met spesifieke verwysing na die plattelandse rehabilitasie- en behuisingskema, 1934-1939", MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 1991, pp 48-53, 175-176; De Villiers, "Sosio-ekonomiese dimensies van Suid-Afrika", p 172.
26. Seekings, "Not a single white person should be allowed to go under", p 383; A.S. du Plessis, "n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema, 1914-1952", Contree, 34, 1993, p 32.
27. N. Roos, "Work colonies and South African historiography", Social History, 36, 1, Februarie 2011, p 56.
28. I.P. du Plooy, "NG Kerk Marchand: Die eerste vyftig jaar van die Nederduitse Gereformeerde gemeente van Marchand, 1927-1977, 'n kerkhistoriese oorsig van 'n gemeente op 'n kerklike nedersetting", MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, 1977, p 1.
29. M. de Beer, Keimoes en otngewing,'n kutuurhistoriese verkenning (V&R Drukkery, Pretoria, 1992), p 10. Johann Jakob Lutz (1859-1955) was 'n baanbreker in die konstruksie van besproeiingskanale by Kakamas en ander besproeiingskemas in die Benede-Oranjerivier. Hy het tegnieke van watergeleiding, soos die valsluis, hewelstelsel en stawelwerk ontwerp en is deur die Universiteit van Stellenbosch met 'n eremeestersgraad in die ingenieurswese vereer. Kyk: C.G. Visser Persoonlike Argief (CGVPA): S.A. Snyman, "Japie Lutz en die vore".
30. Du Plooy, "NG Kerk Marchand", p ii.
31. F.C. Cornell, "The lower reaches of the Orange River", The Geographical Journal (Royal Geographical Society), 57, 4, April 1921, p 242.
32. Roos, "Work colonies and South African historiography", pp 57, 58; H. Giliomee, The Afrikaners, biography of apeople (Tafelberg, Cape Town, 2003), p 320.
33. J.W.N. Tempelhoff, "Omgewingslagoffers of armblankes? Water en welvaartskepping in die era van Hertzog (1924-1939)", 35ste Genl. J.B.M. Hertzoggedenklesing, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, 21 September 2006, p 20.
34. G. Verhoef and A. du Plessis, "State involvement in the rehabilitation of poor whites by means of land resettlement at Hartbeespoort irrigation scheme", South African Journal of Economic History, 5, 1, Maart 1990, p 69; Du Plessis, "'n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartbeespoortdamskema"; A.S. du Plessis, "Die Hartebeespoortdambesproeiingskema. 'n Evaluering van n staatsbeheerde hervestigingsprogram, 1914-1952", MA-verhandeling, RAU, 1990; Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites", pp 103-124.
35. L. van Vuuren, "Buchuberg, built on the backs of men",The Water Wheel, 8, 2, March/April 2009, p 28; L. van Zyl, Boegoebergdam se mense: 'n flukse draai van die wiel (L. Van Zyl, Groblershoop, 1997).
36. L. van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", The Water Wheel, 9, 1, January/February 2010, p 24.
37. Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites".
38. J.R. Albertyn, "Die armblanke en die maatskappy", Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika, Verslag van die Carnegie-kommissie V: Sociologiese verslag (Pro Ecclesia-Drukkery, Stellenbosch, 1932), pp 90-102.
39. Aangehaal in D. Joubert, Toe witmense arm was: uit die Carnegie-verslag 1932 (Tafelberg, Kaapstad, 1972), p52.
40. Du Toit, Verslag van die Volkskongres oor die Armblankes 1934, p 280.
41. Moolman, "The Orange River, South Africa", pp 669-671.
42. Kaart van Benede-Oranjerivier verskaf deur Makroplan, Upington. Kleiner kaart van Skanskopeiland verskaf deur Lutz en Van Zyl Landmeters, Upington.
43. Skanskopeiland-nedersettingsbestuursraadargief (SNBA): Notuleboek Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad, November 1974, Verslag van werksaamhede in 1974; Notuleboek Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad, 14 Maart 1988, Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad.
44. G.A. Visser Persoonlike Argief (GAVPA): Kaart LORC 1123/35, opgetrek deur G.T. Richie, 14 November 1935; CGVPA: Mondelinge mededelings deur J.J.C. Smit, Skanskopeiland, 9 September 2010 en G.A. Visser (voorsitter van die Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad, 1992-2009), Skanskopeiland, 5 Julie 2010. Omskakeling: 1 voet = 0,4048 meter.
45. Republic  of  South  Africa,  Department  of  Water  Affairs, websiteat http://www.dwa.gov.za/Hydrology/FRGraph.aspx?Station=D7H005EC&Type=Flow (accessed 7 February 2011).
46. Grosskopf, "Plattelandsverarming en plaasverlating", p 91; De Beer, Keimoes en omgewing pp 10, 17-19.
47. Cornell, "The lower reaches of the Orange River", p 242.
48. Du Plooy, "NG Kerk Marchand", p185.
49. De Beer, Keimoes en omgewing p 85.
50. Unie van Suid-Afrika, Debatte van die Volksraad, vierde sitting, negende parlement, deel 60, 2 April 1947, kolom 2228.
51. De Beer, Keimoes en omgewing p 137.
52. Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites", p 112.
53. Unie van Suid-Afrika, Staatskoerant,109, 2452/2467, Julie-September 1937, pp 742-743.
54. Unie van Suid-Afrika, Staatskoerant, 109, 2452/2467, Julie-September 1937, pp 742-743.
55. Cornell, "The lower reaches of the Orange River", p 242.
56. Vir die toepaslike voorwaardes by Hartbeespoort en Vaalharts: Du Plessis, "'n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema", pp 35-36; Van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", p 24.
57. CGVPA: Unie van Suid-Afrika, Departement van Lande, aansoekvorm vir n hoewe.
58. In CGVPA is voorbeelde van sulke getuigskrifte.
59. Cornell, "The lower reaches of the Orange River",p 242.
60. Van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", p 24.
61. Clynick, "Reformers, rural rehabilitation and poor whites", p 110.
62. Roos, "Work colonies and South African historiography", pp 59-63.
63. Byvoorbeeld: Jordaan, Die armblankevraagstuk in Suid-Afrika met spesifieke verwysing na die plattelandse rehabilitasie- en behuisingskema, 1934-1939.
64. CGVPA: Onderhoud C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010.
65. Du Plessis, "'n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema", pp 35, 36, 37.
66. CGVPA: Onderhoude A_02, J.J.C. Smit, Omstaan, Skanskopeiland, 27 April 2010: C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010.
67. CGVPA:Onderhoude A_02, J.J.C. en E.C.C. Smit, Omstaan, Skanskopeiland, 27 April 2010; C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010; C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010; C_04, J.D.S. Barnard, Kakamas, 1 Junie 2010. Mondelinge mededeling, E.W. Visser, Omstaan, Skanskopeiland, 22 Mei 2010.
68. Unie van Suid-Afrika, UG10-1940, Verslag van die Direkteur van Besproeiing, Tydperk 1 April 1938 tot 31 Maart 1939, p 22.
69. Du Plessis, "'n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema", p36.
70. Van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", p 24.
71. Albertyn, "Die armblanke en die maatskappy", pp 90-102.
72. Roos, "Work colonies and South African historiography", p 57.
73. Aangehaal in: Du Plessis, "n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema", p 34.
74. Aangehaal in Joubert, Toe witmense arm was, p 50.
75. Grosskopf, "Plattelandsverarming en plaasverlating", ppxxviii-xxxi.
76. Aangehaal in Joubert, Toe witmense arm was, p 51.
77. Du Plessis, "'n Evaluering van staatsbetrokkenheid by die Hartebeespoortdamskema", p 35; Van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", p 22.
78. Unie van Suid-Afrika, UG 23-1940, Verslag van die Departement van Lande, 31 Maart 1939, p 29.
79. Unie van Suid-Afrika, Staatskoerant, 109, 2452/2467, Julie-September 1937, p 743.
80. CGVPA: Onderhoud A_02, J.J.C. Smit, Omstaan, Skanskopeiland, 27 April 2010.
81. SNBA: Gedeelte van koopakte, 1 Januarie 1938.
82. CGVPA: Onderhoud A_01, M.K. Erasmus, Skanskopeiland, 8 Augustus 2010.
83. SNBA: Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad, Notuleboek, 12 Januarie 1938, opmerking van mnr. Siepker.
84. B. van Wyk en P. van Wyk, Identifiseer die bome van Suider-Afrika (Struik Uitgewers, Kaapstad, 2008), p 166; P.J. Cornelissen, "'n Geografiese studie van die besproeiingsnedersetting op Kanoneiland", MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, 1950, p 71, verskaf die afmetings van so 'n reuse boom.
85. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010.
86. Skanskopeiland Nedersettingbestuursraad, Skanskopeiland, 1938-1998 (Trans-Oranje Drukkers, Upington, 1998), p 5.
87. CGVPA: Onderhoud C_04, J.D.S. Barnard, Kakamas, 1 Junie 2010.
88. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010; Onderhoud A_01, P. van Wyk, Skanskopeiland, 8 Augustus 2010.
89. Cornelissen, "'n Geografiese studie van die besproeiingsnedersetting op Kanoneiland", pp 105-110;Unie van Suid-Afrika,UG 22-1934, Verslag van die Departement van Lande, 01/04/1932-31/03/1933, Staatsdrukker, Pretoria, 1934, p 198.
90. CGVPA: Onderhoud C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010.
91. Cornelissen, "'n Geografiese studie van die besproeiingsnedersetting op Kanoneiland", p 109.
92. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010; Onderhoud C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010. n Diagram en beskrywing van die metode van spoelwerk verskyn in Hoërskool Keimoes, Hoërskool Keimoes Gedenkblad 1903-2003 (Trans-Oranje Drukkers, Upington, 2003), p 43.
93. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010.
94. De Beer, Keimoes en omgewing, p 54.
95. CGVPA: Onderhoud A_02, J.J.C. Smit, Omstaan, Skanskopeiland, 27 April 2010.
96. De Beer, Keimoes, 'n Kultuurhistoriese verkenning p138; Skanskopeiland Nedersettingbestuursraad, Skanskpeiland, 1938-1998, p 5.
97. CGVPA: Onderhoud C_04, F.P. Smit, Upington, 11 Junie 2010. "Dresf" beteken die finale fase van gelyksleep, sodat die vloedbesproeiing kon plaasvind. Dit is steeds algemene spreektaal in die omgewing.
98. A.K. Cornelissen, Langs Grootrivier, grepe uit die kleurryke geskiedenis van die Noordweste (ongepubliseerde manuskrip, Upington, 1987), p 63; CGVPA: Onderhoud A_01, P. van Wyk en M.K. Erasmus, Skanskopeiland, 8 Augustus 2010.
99. P.J. Cornelissen, "'n Geografiese studie van die besproeiingsnedersetting op Kanoneiland", p 108.
100. J.H. Moolman, "The Orange River, South Africa", Geographical Review (American Geographical Society), 36, 4, October 1946, p 671.
101. Van Vuuren, "Vaalharts, a garden in the desert", p 24.
102. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010.
103. Mondelinge mededeling deur J.J.C. Smit, Skanskopeiland, 9 September 2010; CGVPA: Onderhoud B_03, A.A.R. Bruwer, A. Momberg en S.C. Schreuder, Keimoes, 9 September 2010.
104. SNBA: Skanskopeiland-nedersettingbestuursraad, Notuleboek, 10 Augustus 1939.
105. Unie van Suid-Afrika, UG65-1950, Verslag van die Direkteur van Besproeiing, 01/04/1948-31/04/1949, p 19.
106. CGVPA: Onderhoud A_01, P. van Wyk en M.K. Erasmus, Skanskopeiland, 8 Augustus 2010.
107. CGVPA: Onderhoud B, H.S.B. Basson, Skanskopeiland, 21 Mei 2010.
108. CGVPA: Onderhoud C_01, W.F. Hanzen, Skanskopeiland, 7 Maart 2010; Onderhoud A_02, J.J.C. Smit, Omstaan, Skanskopeiland, 27 April 2010; Onderhoud B, E. Basson, Skanskopeiland, 21 Mei 2010.
109. CGVPA: H.S.B. Basson, Skanskop, my grootwordplekkie (ongepubliseerde manuskrip, geen plek, geen datum), p 12.
110. R.G. Ellington, B.H. Usher en G.J. van Tonder,Quantification of the impact of irrigation on the groundwater resource in the Vaalhartsirrigation scheme, WRC Report 1322/1/04 (Water Research Commission, Pretoria, 2004), p 5.
111. D. Hobart Houghton, "Economic development", in M. Wilson and L. Thompson (eds), The Oxford history of South Africa II: South Africa 1870-1966 (Oxford University Press, Oxford, 1971), p 34.
112. H. Forgey, "Die politiek van armoede: 'nvergelyking van die 1932 en die 1989 Carnegie-verslae", MA-verhandeling, RAU, 1992.
113. Abedian & Standish, "Market imperfections and unemployment", p 416; Forgey, "Die politiek van armoede".
114. Giliomee, The Afrikaners, p 436.
115. Statistiek aangehaal in Phillips, "Treating White poverty in interwar South Africa", p 115.
116. Moolman, "The Orange River, South Africa", p 672.
117. Unie van Suid-Afrika, Debatte van die Volksraad, vierde sitting, negende parlement, deel 60, 2 April 1947, kolom 2228.
118. N.J. Visser Private Argief (NJVPA): Bestuurslisensie uitgereik aan N.J. Visser, 18 Julie 1944; Suid-Afrikaanse Trust en Assuransie Maatskappy, Beperk, dokument EE7/1 /47.
119. Republiek van Suid-Afrika, Departement van Waterwese, Akteskantoorondersoek M.36 om besproeibare oppervlakte in Skanskopeiland-nedersetting vas te stel, 8 Desember 1961.
120. Republiek van Suid-Afrika, Departement van Waterwese en Bosbou, Skanskopeiland, lys van belasbare oppervlaktes, 2010.
121. Republic of South Africa, Department of Water Affairs: RSA, General location map of the Orange River Basin, http://www.dwa.gov.za/Orange/rm017m6.aspx (accessed 10 March 2010).
122. Met die uitgebreide wyn-en droogdruifbedryf is talle nuwe beroepe geskep op plase, by wynkelders en droëvrugteverwerkingsaanlegte.
123. Foto in besit van J.C. Eggers.
124. Unie van Suid-Afrika, Debatte van die Volksraad, tweede sitting, sewende parlement, deel 32, 29 Maart 1934, kolom 1766.