SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Historia

    versión impresa ISSN 0018-229X

    Historia vol.56 no.2 Durban nov. 2011

     

    HERINNERINGE REMINISCENCES

     

    Wanneer 'n Geskiedenisdepartement sy materiële erfenis verloor

     

     

    Wessel Visser

    Departement Geskiedenis, Universiteit Stellenbosch

     

     

    Vrydagmiddag, 10 Desember 2010, was 'n tipiese voornaweekmiddag aan die einde van die akademiese jaar, met byna al die studente, behalwe nagraadse vasbyters, wat reeds vir die somervakansie vertrek het. Die jaarlikse rektorsete vir die pas-gegradueerde doktorale studente, hulle gades en studieleiers in die Wallenburgsentrum, het teen 16:00 ten einde geloop. Om ongeveer 16:15, 'n kwartier voor die administratiewe huistoegaantyd, het die lot van die 106 jaar oue Geskiedenisdepartement van die Universiteit Stellenbosch, sedert 1965 in die Wilcocksgebou gesetel, dramaties en onomkeerbaar verander.

    'n Brand het in die dak bo die derde vloer, waar die departement gehuisves was, uitgebreek. Die Wilcocksgebou, soos trouens al die oranje pandakgeboue wat kenmerkend van die kampusargitektuur is, het oor geen brandmure beskik nie, aangesien dit met die oprigting van die gebou in die sestigerjare van die vorige eeu nog nie 'n munisipale bouvereiste was nie. Daarby was geen enkele brand- of rookverklikker ook in die dak of die gebou geïnstalleer nie. Teen 'n temperatuur van 500˚C het daar benewens 'n paar verbrande koffiebekers, niks van die inhoud op die derde vloer behoue gebly nie. Kollegas soos Anton Ehlers, Corinne Harmsen en Chet Fransch moes, danksy die desperate waarskuwing van die voorportaalwag Ashley Nefdt, ter nouer nood, met vlamme wat reeds uit die plafon geborrel het, uit die gebou vlug. Benewens Anton se skootrekenaar, was daar nie tyd om enigiets anders van waarde te gryp nie. Op die twee verdieping, waar die departement Sielkunde gehuisves was, moes 'n nagraadse student deur 'n venster gered word.

    Binne 'n halfuur, toe die brandweer na 'n gesukkel uiteindelik 'n brandkraan kon oopkry, was alles verby, en kon hulle slegs die smeulende puin verder blus. Toevallig was bouers reeds weke lank besig om waterskade van die afgelope winter in die dak bo die departement te herstel, maar volgens die administrasie en die versekeraars het die brand aan die ander kant van die gebou, waar herstelwerk nie aan die gang was nie, uitgebreek.

    'n Mens is natuurlik dankbaar dat die insident sonder lewensverlies plaasgevind het, maar dit bly steeds moeilik om die gevoel van verlies van 106 jaar se materiële erfenis van die oudste Afrikaanse Geskiedenisdepartement in die land te beskryf: 'n volledige fotogalery van hoogleraars van E.C. Godée-Molsbergen in 1904 tot Pieter Kapp in 1999; 'n waardevolle versameling Africana-kaarte wat toevallig tydens 'n muurverfproses in die 1990's ontdek en persoonlik deur die universiteit se voormalige restourateur, Henry Wirth, gerestoureer en gemonteer is; foto's van departementslede en geskiedenisstudentekomitees oor die jare; 'n redelik volledige versameling kopieë van M- en D-studies wat oor meer as eenhonderd jaar in die departement voltooi is, insluitende die proefskrif van Eric Stockentröm met sy mooi handgeskrewe voorblad wat uit 1944 dateer het; 'n besondere stel gerestoureerde houtskooltekeninge van koloniale bewindhebbers deur Stockenström; asook 'n volledige versameling van die ou Denoyer-Geppert historiese muurkaartreeks wat voor die elektroniese era deur alle geskiedenisdosente as hulpmiddel gebruik is. Nog 'n onvervangbare verlies was 'n aantal groot (ongeveer 3 meter x 5 meter) seminaartafels van soliede kiaathout met swaelstertvoeë, wat deur vakmanne spesifiek volgens die departement se spesifikasies in die universiteit se nou vergange houtwerkfabriek gemaak is; asook alle departementele notules - die eintlike geheue en geskiedenis van die departement.

    Uiteraard het ook alle rekenaars in die departement, persoonlike boekerye van die akademiese personeel wat oor dekades opgebou is en waarvan baie uit druk is (Bill Nasson het byvoorbeeld ongeveer 90 persent van sy boekeversameling verloor) in die slag gebly en is baie jare se onvervangbare primêre historiese dokumente vernietig. Dit het daartoe gelei dat navorsingsprojekte van sommige kollegas, wat vir artikels of boeke bestem was, nou finaal, maar onvoltooid, gestaak moes word.

    Om te gaan lê, was egter nooit 'n opsie vir die departement nie, aangesien die nuwe akademiese jaar van 2011 minder as twee maande ver was. Ten spyte van ontsettende ontwrigting (alle elektroniese administratiewe departementele data is byvoorbeeld vernietig) word die departement tans tydelik met groot gasvryheid deur die Joernalistiek departement in Crozierstraat gehuisves. Die Wilcocksgebou word tans herstel en die departement sal waarskynlik na voltooiing van die bouwerk weer terugtrek, hoewel in drasties veranderde omstandighede.

    'n Mens wil hoop dat die administrasie nou, na die vierde brand die afgelope dertig jaar in geboue van dieselfde argitektuur, uiteindelik sy les geleer het en daadwerklik aan die brandgevaarpotensiaal van die oorblywende geboue aandag sal gee voordat lewensverlies dalk met 'n volgende brand voorkom. Vir die Geskiedenisdepartement is dit egter te laat. Sekere materiële materiaal, soos rekenaars en boeke, kan vervang word, maar dit is daardie verlore materiële voorwerpe wat onvervangbaar is, waaraan geslagte oud-studente en oud-dosente soveel waarde heg, wat die verlies so onherroeplik groot maak. Toekomstige geslagte Geskiedenis-studente sal dus nie die voorreg smaak om die trotse historiese materiële erfenis en akademiese tradisie van die departement fisies na waarde te takseer en te waardeer nie. Die groot ironie is dat so iets juis met die Geskiedenisdepartement van 'n universiteit moes gebeur - die argetipiese bewaarder van historiese erfenis. In 'n sekere sin sluit die Geskiedenisdepartement aan die Universiteit Stellenbosch dus 'n era af wat voortaan net in die geheue van oud-studente of as fragmente in gepubliseerde studies oor die geskiedenis van departement sal bly voortbestaan.

    Een les wat historici miskien uit die insident kan leer, is om nie op die brandmaatreëls van universiteitsowerhede vir die bewaring van hulle akademiese boeke en dokumente te vertrou nie.