SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Historia

    versión impresa ISSN 0018-229X

    Historia vol.56 no.2 Durban nov. 2011

     

    ARTIKELS

     

    Teologiese twis rondom sinodale koersveranderinge in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1982-1990

     

    Theological dissent re synodal directional changes in the Dutch Reformed Church, 1982-1990

     

     

    Barend van der Merwe; Marietjie Oelofse

     

     


    OPSOMMING

    Tydens die algemene sinode van 1986 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het dié kerk belangrike besluite in verband met Suid-Afrika se rassebeleid geneem. Alhoewel die sinode nie die beleid van apartheid in beginsel verwerp het nie, het sommige van die besluite wat geneem is, skokgolwe deur die kerk gestuur. Verskeie lidmate van die NGK is onkant betrap deur die sinode se aanvaarding van die beleidsdokument Kerk en Samelewing (KES), wat enige teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid verwerp het en verklaar het dat die NGK niemand op grond van kulturele agtergrond en velkleur die deur kan wys nie. Die regering se toepassing van die beleid van apartheid was ook onder skoot, spesifiek waar die apartheidsbeleid tot menseregteskendings gelei het. Die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) was 'n uitvloeisel van die NGK se sinode van 1986, maar daar was ook verdere verdelings binne die kerk vanweë die feit dat heelwat van die oorblywende NGK-lidmate steeds die beleid van apartheid gesteun het. Die artikel argumenteer dat die belangrikheid van die sinodale besluite nie met betrekking tot die ontstaan van die "nuwe Suid-Afrika" oor- of onderskat moet word nie.

    Sleutelwoorde: Afrikaanse Protestantse Kerk (APK); algemene sinode (AS); Andries Treurnicht; apartheid; Carel Boshoff; Cottesloe-beraad; Geloof en Protes; Kerk en Samelewing (KES); Konserwatiewe Party (KP); Nasionale Party (NP); Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK); NG Bond; NG-kerkfamilie; Ras, Volk en Nasie en Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif; sinodale besluite.


    ABSTRACT

    At the 1986 general synod of the Dutch Reformed Church (DRC), the church made significant decisions regarding South Africa's political position with regard to racial policy. Although the synod did not condemn the policy of apartheid in principle, some of the decisions taken caused shockwaves to reverberate amongst members of the church. Many members of the DRC were caught off guard as the synod accepted the document Church and Society, declaring that there is no Biblical justification for the policy of apartheid and that the church can no longer refuse entrance to its sermons to any person on the basis of either cultural background or skin colour. The synod also criticised the way that the policy of apartheid was being implemented in South Africa where it resulted in the violation of human rights. As a result, the Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) was established by a splinter group. Despite this development, the church was also still divided internally, as many of its remaining members supported the policy of apartheid. The article argues that the importance of the decisions made by the synod should neither be overestimated, nor undervalued with regards to the birth of the "new South Africa".

    Key words: Afrikaanse Protestantse Kerk (APK); NG Bond; Andries Treurnicht; apartheid; Carel Boshoff; Church and Society; Conservative Party (CP); Cottesloe consultation; Dutch Reformed Church (DRC); Dutch Reformed family of churches; general synod; Human relations and the South African scene in the light of Scripture; National Party (NP) ; Religion and Protest; synodal decisions.


     

     

    Inleiding

    Met die veranderinge wat in Suid-Afrika gedurende die 1980's op politieke gebied aan die gang was, het vrae ontstaan rondom die ondersteuning wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Suid-Afrika1 aan die Nasionale Party (NP) regering gebied het deur middel van die teologiese regverdiging van apartheid. Die NGK was teen die 1980's in die unieke situasie vasgevang dat ongeag van watter koers dit sou inslaan, dit onafwendbaar was dat die eindresultaat onsamehorigheid en onenigheid sou wees.

    In 1986 het die NGK onder geweldige plaaslike sowel as internasionale druk verkeer in aanloop tot die algemene sinode (AS) van daardie jaar. Tydens die AS van 1982 is besluit dat die NGK sy beleid rakende rassekwessies moes aanpas deur die 1974beleidsdokument, Ras, Volk en Nasie en Volkeverhoudinge in die lig van die Skrif (RVN), te hersien. Daar is met besondere afwagting na die AS uitgesien deur kritici van die NGK wat op drastiese veranderinge in die NGK gehoop het. Veral binne die NG-kerkfamilie2 was hierdie verwagtinge hoog. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) het in 1982 reeds 'n status confessionis3 afgekondig nadat die Wêreldbond vir Gereformeerde Kerke (WBGK)4 tydens die laasgenoemde liggaam se vergadering in Augustus 1982 in Ottawa, Suid-Afrika se apartheidsbeleid tot 'n "sonde" verklaar het. Die WBGK het ook tydens dieselfde geleentheid die teologiese regverdiging van apartheid as "kettery" beskryf en die NGK sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk se lidmaatskap van die WBGK opgehef.

    Die uiteindelike besluite wat tydens die AS van 1986 geneem is, het verskeie behoudende sowel as progressiewe waarnemers teleurgestel. Sommige waarnemers en belangegroepe het gevoel die NGK het te veel toegegee aan die druk en in die proses sy lidmate in die steek gelaat deur die Bybelse regverdiging van apartheid te laat vaar. Ander het gevoel die kerk het nie genoeg gedoen om die onrusgeteisterde Suid-Afrikaanse samelewing wat op rassegronde gepolariseer was, hoop te gee nie. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die NGK daarvan beskuldig is dat dit nie in lyn met Christelike oortuiging opgetree het nie, deurdat die kerk versuim het om die beleid van apartheid tot 'n "sonde" te verklaar. Hoewel die AS nie 'n noemenswaardige indruk op talle waarnemers gemaak het nie, was die spreekwoordelike vet egter in die vuur binne die NGK.

    Die besluite wat die AS geneem het, sou 'n belangrike katalisator wees in die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Die ontstaan van die APK was die direkte gevolg van die NGK se besluit dat die Bybel geen gronde vir die bestaan van 'n beleid van rasseskeiding bied nie. Die NGK het egter ook verder gegaan deur kritiek uit te spreek teen die bepaalde manier waarop die apartheidsbeleid in Suid-Afrika toegepas is, hoewel dit nie die beleid op sigself as strydig met die wil van God verklaar het nie. Hierdie feit het tot verdere struweling binne die NGK gelei. In 1987 het die Wes-Kaapse sinode egter die apartheidsbeleid as geheel verwerp - 'n ontwikkeling wat nie wyd bekend is nie.5 Tog was die grootste skade aan die NGK reeds in daardie stadium gedaan. Terwyl die politieke implikasies van die verwerping van die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid aan die een kant tot formele sowel as informele skeuringe in die NGK gelei het, het die NGK se jarelange regverdiging van die NP se rassebeleid aan die ander kant die gesag van dié kerk geweldige groot skade berokken.

     

    Worsteling met die apartheidsbeleid: die algemene sinode van 1982 en die Wes-Kaapse sinode van 1983

    Die apartheidsbeleid soos wat dit sedert 1948 bestaan het, toe dié beleid deur die NGK gesteun is, was teen 1980 iets van die verlede. Hierdie ontwikkeling het 'n ernstige bedreiging vir eenheid binne die NGK ingehou. Dit het ook die outoriteit van die NGK benadeel. Dit was skielik noodsaaklik dat die NGK óók "aanpas of sterf"6. Die vraag was hoe die NGK kon aanpas sonder om die lidmate te vervreem en dus 'n vertrouensbreuk te vermy. Dit was nie van meet af die plan om veranderinge aan te bring soos in die politieke debat nie, maar teen die middel van die 1980's het die NGK 'n kritieke stadium bereik wat dit kon maak of breek.

    Die AS van die NGK het in Oktober 1982 te midde van groeiende druk op die NGK binne eie geledere, sowel as van kritici buite die NGK, vergader. "Verligtes" binne die NGK het met afwagting na dié sinode uitgesien, want daar is gereken dat die NGK die kwessie van rasseskeiding in heroënskou sou neem. Die politieke eenheid van blanke Afrikaners het vroeër dié jaar met die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) formeel tot 'n einde gekom. Daar was dus reeds in daardie stadium ernstige verskille in die wyse hoe verskillende Afrikaners na hulle toekoms gekyk het. Die AS het egter nie aan die verwagtinge van die "verligtes" voldoen nie. Terwyl die regering die noodsaaklikheid van aanpassing besef het, het die NGK in 1982 nog nie formeel die eerste emosionele tree wég van die apartheidsbeleid geneem nie.7 Die AS het wel besluit dat "... Ras, Volk en Nasie (RVN) indringend in die lig van die Skrif hersien word vir oorweging deur die volgende Algemene Sinode".8

    'n Belangrike keerpunt in die geskiedenis van die NGK was die sinode van die Wes-Kaapse NGK in Oktober 1983. In aanloop tot die sinode het 'n predikant wat bekend was vir sy liberale sienswyses en sy kritiek teen die apartheidsbeleid, ds. Herbie Brand, 'n reeks radikale besprekingspunte ingestuur wat tydens die sinode behandel sou moes word. Die mislukking van die regering se beleid was 'n vurige besprekingspunt. Hoewel daar gereken is dat die regering nie spoedig die stelsel in sy geheel sou afskaf nie, het die gevoel begin posvat dat die NGK 'n kritiese standpunt móés inneem.9

    Tydens die sinode is 'n reeks besluite geneem wat strydig was met die manier waarop die NGK rasseaangeleenthede tot in daardie stadium benader het. Alhoewel die sinode nie die apartheidsbeleid as staatsvorm in sy geheel verwerp het nie, is die verband tussen die apartheidsbeleid en die bestaan van rassisme deur die sinode uitgesonder vir kritiek, omdat rassisme deur die kerk as "sonde" geklassifiseer is. Van nog meer belang is die feit dat die sinode bevind het dat daar geen Bybelse of teologiese regverdiging vir die apartheidsbeleid kon bestaan nie. Dit was dus die eerste keer in meer as drie dekades wat 'n amptelike liggaam van die NGK tot so 'n gevolgtrekking gekom het.10

    In verband met die Wet op Gemengde Huwelike en die Ontugwet het die sinode opnuut verklaar dat die Bybel nie enige verhoudinge oor die kleurgrens verbied nie. Dié besluit stem egter ooreen met die 1974-beleidstuk van die NGK se RVN. 'n Nuwe ontwikkeling betreffende dié saak was die feit dat waar die NGK in die verlede seksuele verhoudinge oor die kleurgrens nie as strydig met die Bybel bevind het nie, dit wel gewaarsku het dat sulke verhoudinge ongewens is en die maatskaplike orde van die samelewing bedreig. By die Wes-Kaapse sinode van 1983 is egter bevind dat die NGK nie bevoeg is om te oordeel oor die wenslikheid van seksuele verhoudinge tussen mense van verskillende rasse nie.11

    Die belangrikste besluit wat die sinode geneem het, het betrekking op die kwessie van toegangsbeheer tot die NGK gehad. Waar die kerk in die verlede dikwels nie gesamentlike aanbidding toegelaat het nie, het die sinode aanbeveel dat "anderskleurige"12 Suid-Afrikaners voortaan onder geen omstandighede verhoed moes word om kerkdienste by te woon nie. Anderskleuriges sou dus voortaan as gelykes beskou moes word en kon slegs op grond van geldige redes, wat ook op blankes van toepassing was, toegang tot eredienste geweier word. Die sinode het waarnemers herinner aan die besluite wat meer as twintig jaar tevore tydens die Cottesloe-beraad13 geneem is. Dit het die hoop laat opvlam dat die NGK nou 'n aktiewe rol in die beëindiging van die apartheidsbeleid sou begin speel, maar 'n bittere stryd wat die NGK se eenheid bedreig het, het in die jare hierna die aandag van die NGK se leierskap geëis.14

    Die effek van hierdie besluite op die regering en die NP was nie radikaal nie. Dit was in daardie stadium algemeen onder blanke Afrikaners om uiteenlopende menings aangaande die kwessie van ontug en gemengde huwelike te koester.15 Die belangrikste gevolg van hierdie besluite wat geneem is, was dat dit konserwatiewe lidmate binne die NGK toenemend geïsoleer het. Op sigself was dit 'n belangrike ontwikkeling. Groot getalle lidmate van die NGK was stagnant in hulle politieke beskouinge, terwyl Afrikaners as geheel lank nie meer eenders oor landsake gedink het nie.

     

    Die NGK neem afskeid van die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid: die algemene sinode van 1986

    In Oktober 1986 het die NGK se AS in Kaapstad vergader. Waarnemers het die sinode met belangstelling gevolg vanweë die NGK se voortgesette bestudering van die kwessie van sosiale geregtigheid en die politieke model van Suid-Afrika. Die politieke veranderinge wat Suid-Afrika ondergaan het, het reeds die aard van die land onherroeplik verander en Suid-Afrika progressief al verder van Verwoerdiaanse apartheid laat wegbeweeg. Dit was slegs 'n kwessie van tyd voordat die NGK ook finaal sou móés verander, selfs al was alle lidmate nie vir hierdie veranderinge gereed nie.

    In teenstelling met die AS van 1982, was die AS van 1986 baie meer gemoeid met rasseverhoudinge en die verhoudinge binne die NG-kerkfamilie. Die NGK was onder geweldige druk, veral vanuit die NG-kerkfamilie, om die apartheidsbeleid as 'n sondige beleid, in stryd met die Bybel en die wil van God te verklaar.16 Daar was terselfdertyd groot getalle lidmate van die NGK wat van dié kerk verwag het om die apartheidsbeleid op te sê, sowel as lidmate wat verwag het dat die NGK aan sy besluite van vroeër moes vashou. Wat die AS dus ook al sou besluit, daar sou ontevredenheid wees. Die uiteindelike besluite wat tydens die AS geneem is, sowel as die reaksie daarop, het die onenigheid wat in die NGK aanwesig was, duidelik geïllustreer.

    Alhoewel die besluite wat by die AS van 1986 geneem is, nie alle kritici van die apartheidsbeleid van die NGK se onttrekking van steun aan dié beleid oortuig het nie, het dit 'n storm in die NGK en onder blanke Afrikaners ontketen. Die NGK het nie in daardie jaar die apartheidsbeleid as 'n onwenslike staatsbeleid verwerp nie, wat waarskynlik die grootste enkele rede was waarom die besluite wyd deur kritiese buitestanders veroordeel is. Wat die NGK bevind het, was dat daar geen teologiese grondslag vir die bestaan van dié beleid kan wees nie.17

    In beginsel het die NGK egter nie die apartheidsbeleid verwerp nie, omdat die AS bevind het dat dit nie 'n bepaalde politieke stelsel aan die regering kan voorskryf nie. Daar moes eerder krities met regeringsmodelle te werk gegaan word.18 Die NGK het egter verder gegaan as om die apartheidsbeleid as 'n teologiese voorskrif te verwerp deur die toepassing van die apartheidsbeleid in Suid-Afrika te kritiseer. So het die AS byvoorbeeld bevind:

    ... die Ned. Geref. Kerk is oortuig dat die hantering van19 apartheid as 'n politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel, nie op Christelike-etiese gronde aanvaar kan word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en onafwendbaar die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, aantas.20

    Hoewel die uitsprake van die NGK teen die apartheidsbeleid deur verskeie kritici as onvoldoende ervaar is, het 'n spreekwoordelike bom in die NGK gebars oor die aanvaarding van die beleidstuk Kerk en Samelewing (KES) tydens die sitting van die AS. KES het die NGK se AS se besluite rakende die "oop" lidmaatskap en die apartheidsbeleid vervat en ook Skriftuurlik verwoord. Die dokument is opgestel deur 'n hersieningskommissie wat in opdrag van die AS van 1982 die beleidstuk RVN hersien het.21

    Sommige leiers het die NGK vir dié ontwikkeling geloof. Die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, het die NGK se uitsprake as 'n teken beskou van die veranderende gees wat onder blankes posgevat het en 'n bewys daarvan dat die NPleierstruktuur nie die werklike behoefte van die blankes in wetgewing kon weergee nie. Die Herstigte Nasionale Party (HNP) se leier, Jaap Marais, het egter die NGK se aanvaarding van KES gekritiseer deur daarop te wys dat dit die beleid van die NP eggo.22

    Hoewel die HNP slegs 'n klein groepie regse blanke Afrikaners verteenwoordig het, was hulle uitspraak teen die NGK dat dit die NP teologies steun, teen die middel van die 1980's 'n wydverspreide aanklag teen die NGK deur konserwatiewe en liberale Suid-Afrikaners, blankes sowel as swartmense. Hoewel die NGK se koersverandering verwelkom is, was dit vir sommige dus te min en vir ander weer te veel. Die meeste kritici was ontevrede, veral omdat die NGK nie die apartheidsbeleid onomwonde verwerp het nie.23 Die NGSK se sekretaris vir getuienisaksie, ds. Johan Botha, wat as waarnemer by die NGK se AS van 1986 teenwoordig was, het die NGK krediet vir die aanpassings gegee, maar opgemerk dat die nuwe rigting van die kerk eerder soos 'n kompromis as 'n ware beleidsverandering voorkom.24

    Die NGK was gedurende die tydperk ook veral onder skoot vanuit die familie van Gereformeerde kerke. Die NGK is in die besonder deur akademici gekritiseer. Die teoloog, Allan Boesak, het byvoorbeeld verklaar dat die NG-kerkfamilie verwag het

    ... dat die Nederduits [sic] Gereformeerde Kerk die integriteit sou hê om 'n radikale streep deur Ras, Volk en Nasie te trek, in plaas daarvan om 'n publikasie die lig te laat sien wat alleen maar aksentverskille bevat. 'n Gemodifiseerde, stroombelynde, gekamoefleerde weergawe van dieselfde ou apartheidswaardes, is nog geen afskeid daarvan nie.25

    Kritiek het ook van binne die NGK gekom. Sommige teoloë het, soos Boesak, gewaarsku dat KES "eerder 'n subtiele bevestiging van die ou orde as 'n deurbraak van 'n nuwe [is]".26 KES was dus geensins 'n oortuigende dokument nie. Dit kon op verskillende wyses geïnterpreteer word. Dit was nie 'n duidelike, ondubbelsinnige dokument nie. Daar is wel daarop gewys dat KES, indien dit rég geïnterpreteer word "die begin van 'n deurbraak [kan] wees".27

    'n Groot teleurstelling vir verskeie waarnemers het oor die kwessie van kerkeenheid gegaan. Die sinode het eers bevind dat die verkryging van kerkeenheid 'n uiters noodsaaklike aktiwiteit van die NGK moes wees. Daar is selfs bevind dat die bestaan van verskillende kerke "sonde" is. Agterna is daar tot die gevolgtrekking gekom dat "die Bybel ons slegs oproep tot, maar nie vereis nie dat die eenheid van die NG Kerkfamilie steeds duideliker tot uitdrukking sal kom".28 Bitter twiste het in die media afgespeel toe daar by sommige waarnemers die gevoel ontstaan het dat die sinode die hereniging van die Afrikaanse susterskerke as 'n hoër prioriteit as hereniging met die NGkerkfamilie beskou het.29

    Die NGK se aanvaarding van die beleidsdokument KES is 'n fassinerende stuk geskiedenis, omdat die reaksies op die beleidsdokument op so 'n treffende wyse die verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse samelewing illustreer. Die resultaat van KES was dat baie min lidmate volkome tevrede was - "verligte" sowel as "verkrampte" Afrikaners - terwyl KES ook weinig simpatie van buite die NGK ontvang het. Die raakste beskrywing van KES kom waarskynlik vanuit die oogpunt van 'n buitestander, naamlik dat dit "'n klein stappie, maar van binne ... 'n reuse teologiese stap" was.30 Die dokument is vandag 'n getuigskrif van die NGK se teologiese mistasting en hoe dié kerk in die verlede 'n spesifieke leer aangehang en verkondig het.

     

    'n Bitter stryd woed voort: verdelings in die NGK en die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK)

    Vir dié lidmate van die NGK wat die apartheidsbeleid as 'n lewensvatbare politieke stelsel gesien het, het dié kerk se aanvaarding van die beleidsdokument KES 'n onaanvaarbare pad vorentoe ingelui. Die NGK se skielike herroeping van die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid het 'n dramatiese reeks gevolge gehad wat uiteindelik tot 'n skeuring in die NGK sou lei. 'n Duidelike poging het in daardie stadium binne die NGK ontstaan om dié kerk te dwing om nie dié nuwe koers in te slaan nie. Hierdie proses het voortgegaan, selfs nadat die NGK geskeur het.

    Die eerste drukgroep het reeds agt dae na afloop van die sinode op 1 November 1986 in Verwoerdburg [nou Centurion] vergader. 'n Interimkomitee, bekend as die studiekomitee, is aangewys wat 'n meer omvattende samekoms op 28 November 1986 moes lei. Op dié dag het sowat 3 000 lidmate van die NGK in die Skilpadsaal by die skougronde van Pretoria vergader. Die beswaarde lidmate was daarvan oortuig dat daar eerder gepoog moes word om die NGK onder druk te plaas as om 'n nuwe kerkgroep te begin. Die strategie sou wees om met die algemene sinodale kommissie (ASK) oor die onenigheid in gesprek te tree. 'n Tydlimiet is egter gestel, naamlik 30 Junie 1987. Die komitee, wat voortaan as die voortsettingskomitee (VK) bekend sou wees, sou daarna dan uitgedien wees.31 Die leier wat die sterkste met hierdie eerste drukgroep wat uiteindelik sou afstig, geassosieer is, was dr. Willie Lubbe, 'n voormalige moderator van die Natalse sinode, NGK-predikant en lid van die HNP.32

    Die VK het uiteindelik 'n beswaarskrif die lig laat sien, getiteld Geloof en Protes - 'n antwoord namens beswaarde lidmate op sekere aspekte van Kerk en Samelewing. Opgestel deur die Voortsettingskommissie (GEP). GEP is 'n dokument wat die konserwatiewe karakter van 'n aansienlike groep lidmate versinnebeeld het. Dit het die NGK daarvan beskuldig dat dit die apartheidsbeleid uitsonder en nie die tekortkominge van ander politieke modelle uitwys nie. Dit het ook die aanspraak van die NGK dat die wyse waarop die apartheidsbeleid in Suid-Afrika toegepas is, strydig met die wil van God is en dus sonde is, verwerp. Dit het voorts die reg van volke tot selfbeskikking beklemtoon deur die apartheidsbeleid teologies te regverdig.33

    Die ASK het uiteindelik gereageer op GEP deur die publikasie van Antwoord van die Ned. Geref. Kerk op Geloof en Protes. Daarin het die NGK GEP verwerp. Die VK en die ASK het voortgegaan met gesprekke. Die VK het 'n buitengewone vergadering van die AS geëis, met die hoop dat die besluite wat tydens die 1986-sinode geneem is, herroep sou word. Die VK het 'n antwoord voor 15 Junie 1987 geëis, maar die ASK het gewaarsku dat dit nie vóór 22 Junie 1987 sou kon antwoord nie. Op Maandag, 22 Junie 1987, het die twee partye saam van 11:00 tot 15:30 vergader. By die geleentheid het die ASK egter opnuut die versoeke van die VK afgekeur en so die weg gebaan vir die uiteindelike skeuring wat sou volg.34

    Op Saterdag, 27 Junie 1987, het die "beswaarde NG-lidmate" vir 'n laaste keer in Pretoria vergader. Die VK het gerapporteer dat die NGK nie aan hulle versoeke wou voldoen nie. Die vergadering het uiteindelik op 'n stemming uitgeloop. Aanwesiges is gevra om te kies tussen drie opsies: KES moes onvoorwaardelik aanvaar word; voortgesette debat met die NGK moes plaasvind; of daar word gekies om "'n nuwe kerk te help stig, 'n kerk wat staan by die Bybel as God se onfeilbare Woord, 'n kerk wat ook staan by die Belydenisskrifte as betroubare samevatting van die waarhede van die Bybel".35 Van die aanwesiges was 83 persent ten gunste van die stigting van 'n nuwe kerk. Gevolglik het die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) na afloop van die stemmery tot stand gekom.36 Hierdie stap sou tot die grootste skeuring in die NGK se geskiedenis lei, met meer as 40 000 lidmate en ongeveer 100 predikante wat die NGK verlaat en deel van die APK geword het.37

    Die ontstaan van die APK het 'n geweldige uitdaging vir die NGK ingehou. Die APK is in karakter baie soortgelyk aan die NGK. Dit is 'n instelling wat eintlik maar net voortgebou het op wat die NGK vir dekades reeds verkondig het, naamlik rasseskeiding op alle terreine van die menslike bestaan. Vir blanke Afrikaners wat nog vertroue in die ideologie van apartheid gehad het, het die APK 'n morele hoë grond gehad. Dit was immers die NGK wat van standpunt verander het, nie die leiers van die APK nie, en dit was 'n standpunt wat, so is daar geglo, op Bybelse waarhede en die wil van God berus. Vir die leierskap van die NGK was die ontstaan van die APK egter nie die enigste uitdaging wat as gevolg van die NGK se aanvaarding van die beleidsdokument KES ontstaan het nie.

    Die kerk is ook onder druk geplaas deur 'n ander groep in eie geledere, naamlik die NG Bond wat deur die teoloog en voormalige voorsitter van die Afrikaner Broederbond (AB), prof. Carel Boshoff, gelei is. Die NG Bond was 'n drukgroep binne die NGK wat gepoog het om die besluite wat tydens die AS van 1986 geneem is, te herroep. Die NG Bond het nie gedreig om die kerk te verlaat nie, maar die leierskap van die NGK het die legitimiteit van die NG Bond in twyfel getrek. Die NG Bond was 'n minderheidsgroep wat nie by die besluite van die AS - besluite wat Skriftuurlik geformuleer is en waarmee die meerderheid van die NGK se leierskap tevrede was - wou berus nie.38

    Prof. Boshoff het reeds sedert die vroeë 1980's dikwels koppe met leidende figure in die NP, veral "verligtes", gestamp weens sy verwerping van die 1983-grondwet. Prof. Boshoff het homself ook dikwels in groot ongewildheid by leiers van die NGK laat beland weens sy openlike simpatisering met ondersteuners van die KP. Hy was dus 'n leier met 'n klein, maar tog genoegsame invloed.39 Die NG Bond kon egter nie op die lange duur 'n noemenswaardige invloed op die NGK uitoefen nie.

    Die belangrikste rede waarom die NG Bond nie daarin kon slaag om deurslaggewende druk op die NGK uit te oefen nie, is die feit dat die NG Bond geen bestaansreg binne die strukture van die NGK gehad het nie en dus gerieflikheidshalwe deur die leierskap van die NGK geïgnoreer kon word. Boonop het die NG Bond die GEP-beleidstuk van die APK gesteun, wat vir die NGK onaanvaarbaar was. Dit het beteken dat die NG Bond daarop uit was om die amptelike teologie van die NGK, en dus die wyse waarop dié kerk God verstaan en aan die wêreld wou verkondig, te beïnvloed.40

    Die invloedrykste Afrikanerleier in daardie stadium wat in opstand teen KES was, was dr. Andries Treurnicht. Hy was om verskeie redes 'n gewigtige politieke stem. Voordat hy leier van die KP geword het, het hy sleutelposisies in die regering, sowel as in die NP beklee. Hy was onder meer die Transvaalse leier van die NP. Hoewel hy geensins 'n charismatiese leier was nie, was Treurnicht 'n gerekende teoloog. Hy was voor sy toetrede tot die politiek 'n predikant en leiersfiguur in die NGK, 'n posisie wat tradisioneel aan enigeen 'n noemenswaardige invloed oor mede-Afrikaners kon besorg. Teen 1987 kon Treurnicht ook daarop roem dat hy die leier van die amptelike opposisie in die parlement geword het.

    Die omstredenheid wat in September 1987 rondom dr. Treurnicht losgebars het, het gehandel oor 'n dokument wat deur Treurnicht in reaksie op die beleidstuk KES geskryf is. Dr. Treurnicht se dokument het dit ten doel gehad om KES te kritiseer met die oog op die streeksinodes van die NGK wat 'n jaar na afloop van die AS sou plaasvind. Die dokument van Treurnicht is wyd onder lidmate versprei en het veral die 1986-besluite rakende "oop" lidmaatskap en KES se uitsprake rakende die eenheid van die kerk gekritiseer.41 Dr. Treurnicht moes later in reaksie op die vraag in watter hoedanigheid hy dié dokument opgestel het, erken dat hy dit opgestel het "... as lidmaat en as politikus. Ek het nie 'n verdeling gemaak tussen die twee rolle nie en gesê nóú is dié een aan die word en nou dié een nie".42

    Op die lange duur wil dit voorkom asof die gebeure die KP egter skade berokken het. Dr. Treurnicht is daarvan beskuldig dat hy die beleid van die KP binne die strukture van die NGK probeer bevorder. Een kommentator het onder meer verklaar dat die gebeure 'n beklemtoning was van "... die uiterstes waartoe hy [Treurnicht] en sy partygenote sal gaan om hulle koppige sin te kry. Hulle kan dit nie vat dat hulle beleid van wensdenkery geen oplossings vir die landsprobleme bied nie. Ook nie dat hulle op kultuurgebied op 'n eiland beland het, waar hulle nie die moed het om, met die behoud van die eie, by veranderinge aan te pas en te beweeg nie".43

    Die publikasie van KES het tot groot onenigheid en verwarring binne die NGK gelei. Terwyl sommige lidmate van die NGK dit as verraad gesien het, was ander verlig. Die NGK kon daarin slaag om veral die gematigde lidmate en leiers se steun te behou. Dit het die kerk reggekry deur 'n soortgelyke benadering, naamlik van aanpassings aan die een kant en reaksionêre behoud aan die ander, as dié van die regering. Die veranderinge wat wél plaasgevind het, het enersyds tot skeuring gelei, terwyl dit, volgens kritici, andersyds nie genoegsame kritiek teen die apartheidsbeleid gelewer het nie. Die NGK het egter dikwels tekort geskiet in die leiding wat dit voorsien het.

    'n Goeie voorbeeld hiervan is die Vereeniging-beraad van Maart 1989. Die beraad was 'n poging om die NG-kerkfamilie met mekaar te harmoniseer. Ten spyte daarvan het elke geleentheid wat hom vir hierdie doel voorgedoen het, skynbaar uiteindelik die teenoorgestelde effek gehad en eerder die kerk gepolariseer. Tydens die Vereenigingberaad is die apartheidsbeleid opnuut as "sonde in al sy vorms" gebrandmerk. Die NGK se afgevaardigdes het tydens dié beraad verklaar dat die ideologie van apartheid "strydig is met die diepste betekenis van versoening, naasteliefde en geregtigheid".44 Toe die ASK egter in reaksie op die Vereeniging-beraad vergader het, het dit dié stelling as strydig met die beleidsdokument KES verklaar.45

    Tydens die beraad is daar belangrike besluite rakende die eenheid van die NGkerkfamilie en die kwessie van geregtigheid in Suid-Afrika geneem, maar die NGK se afgevaardigdes het besluit om nie die besluite te steun nie. Dit het fel kritiek in sommige kringe ontlont en is ook as 'n reaksionêre gebeurtenis gesien. Lede van die NGK wat oor die gebeure uitgepraat het, het gewaarsku dat

    ... apartheid 'n sonde [is] wat die Suider-Afrikaanse samelewing uitteer en wat ook deur Christene beveg moet word. Die Ned. Geref. Kerk moet sy aandeel aan hierdie sonde bely en dan ook deelneem aan die heling en bevryding van ons samelewing.46

    Die NGK het dikwels gesukkel om 'n ondubbelsinnige boodskap die wêreld in te stuur wat ongekwalifiseerde leiding aan die mense van Suid-Afrika sou verskaf.

     

    Verklaring van die apartheidsbeleid as sonde: die Wes-Kaapse sinode van 1987

    Die NGK het met die AS van 1986 amptelik afskeid van die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid geneem. Dit het tot gevolg gehad dat die NGK geskeur en die APK tot stand gekom het. Desnieteenstaande het die NGK dikwels onder skoot gekom, omdat daar gereken is dat die NGK slegs dié bepaalde toepassing van die apartheidsbeleid soos dit in Suid-Afrika voorgekom het, afgesweer het, en nie die beginsel van apartheid as 'n staatkundige model in sy totaliteit veroordeel het nie.

    Die kritiek teen die NGK was 'n teologiese vraagstuk. Sommige Christene wou hê dat die NGK die apartheidsbeleid as 'n sonde verklaar. Die AS van 1986 het nie toegegee nie. In 1987 het die Wes-Kaapse sinode vergader. Hoewel die Wes-Kaapse sinode hierdie keer nie soveel opslae in die media gemaak het as die Wes-Kaapse sinode van 1983 nie, was dit 'n baie belangrike sinode, omdat die NGK tydens dié sinode die apartheidsbeleid tot 'n sonde verklaar het.47

    Die sinode het veral geworstel met die terme "afsonderlike ontwikkeling" en "apartheid", sowel as die verskil tussen gesonde volksliefde en rassediskriminasie. In 'n verslag aan die sinode is bevind:

    Selfliefde is alleen legitiem binne die driehoeksverhouding waarin die mens met God en sy naaste verkeer. Die self word dan belangrik nie ter wille van sigself of op sigself nie, maar ter wille van die verhouding van oorgawe en diens aan God en die naaste. Enige isolering van die self uit hierdie betrokkenheid op God en die naaste bring 'n perversering van die mens se verhouding tot homself mee, sodat sy selfliefde afgodies word.48

    Die sinode het uiteindelik bevind dat die NGK die besluite van die AS van 1986 rakende oop lidmaatskap onderskryf. Na afloop van 'n proses van onderhandeling het 'n belangrike klemverskuiwing plaasgevind.49 Deur die bewoording van een van die paragrawe te verander, het die sinode uiteindelik 'n belangrike uitspraak aangaande die regering se apartheidsbeleid gemaak. Die besluit is deur die sinode aanvaar en dit is as 'n beskrywingspunt na die volgende AS van die NGK deurgestuur. Die finale paragraaf wat tydens die sinode van 1987 aanvaar is, het verklaar:

    Die Ned. Geref. Kerk is oortuig dat apartheid, as 'n politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel, nie op Christelik-etiese gronde aanvaar kan word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en onafwendbaar die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, aantas.50

     

    Geen ondubbelsinnige koers: die algemene sinode van 1990

    Die AS het weer in 1990 vergader. Tydens dié byeenkoms het die NGK 'n hersiene weergawe van KES as beleidsdokument van die NGK aangaande ras- en volkereverhoudinge aanvaar. Dit het opnuut die teologiese grondslag van die apartheidsbeleid verwerp, maar weer nie die apartheidsbeleid onvoorwaardelik as onchristelik en sondig verklaar, soos so baie Christene en denominasies plaaslik sowel as internasionaal gedoen het nie. In stede daarvan het dié beleidsdokument van die NGK die suksesse van die apartheidsbeleid as bewys aangevoer daarvoor dat verskeie kritici van die apartheidsbeleid "onbillik" is.51

    Nietemin het die beleidsdokument erken dat die NGK die apartheidsbeleid as 'n Bybelse opdrag voorgehou het en dat die kerk daardeur steun gegee het aan 'n beleid wat tot diskriminasie gelei het.52 Die beleidstuk het verder, deels met reg, verklaar dat apartheid "op so 'n wyse begin funksioneer het dat die grootste deel van die landsbevolking dit ervaar het as 'n onderdrukkende sisteem".53 Daar kan geargumenteer word dat die vorm van apartheid wat in die eerste helfte van die 20ste eeu deur die NGK bepleit is, verskil het van die apartheidsbeleid soos wat dit in die tweede helfte van die 20ste eeu toegepas is. Dit is so dat die NGK met die totstandkoming in die 1960's van die tuislandstelsel sekere eienskappe van die apartheidsbeleid gekritiseer het, soos die trekarbeidstelsel. Die NGK se kritiek teen die ongewenste eienskappe van die lewensomstandighede van trekarbeiders het egter geen praktiese gevolge ingehou nie. 'n Groot leemte word gelaat deur die afwesigheid van 'n bespreking oor die redes vir die NGK se stilswye ten opsigte van die vele ongeregtighede van die apartheidsbestel.

    Die AS is egter ook om 'n ander rede belangrik. Dit is die heel eerste AS wat na die oorspronklike standpunt van die NGK meer as 'n eeu tevore teruggekeer het, deurdat dit die bestaan van verskillende kerke vir verskillende rasse as 'n struikelblok vir die kerk aanvaar het. Die bestaan van sodanige kerke het veral gedurende die 1980's tot geweldige spanning en tweespalt gelei en het ewe skielik onprakties vir verskeie leiers in die NGK voorgekom.54

    Die AS het die NGK dus opnuut in die kollig geplaas. Die NGK se standpunt rondom die apartheidvraagstuk het dit egter stééds verhoed om aan die verwagtinge van verskeie kritici daarvan te voldoen. Die NGK sou egter gedurende die post-apartheidsera steeds deur die spoke van apartheid geteister word. In sy verklaring rakende die AS van 1990, het die ASK van die NGK hom teen Desember 1990 soos volg uitspreek:

    Die Algemene Sinode het daarop gewys dat daar ook eerlike en opregte bedoelings ten opsigte van die optimale ontwikkeling van alle bevolkingsgroepe binne hulle eie kulturele tradisie was, en dat dit onbillik sou wees om alles wat binne die politieke bestel van apartheid plaasgevind het as verkeerd en sleg te bestempel ...55

    Met hierdie stap het die NGK bevestig dat dié kerk geensins gereed was om die apartheidsbeleid in alle opsigte te verwerp nie. Dit is 'n goeie voorbeeld van hoe die NGK, net soos die regering gedurende die tydperk 1980-1990, nie bereid was om ondubbelsinnig 'n koers van óf revolusionêre leiding óf reaksionêre leiding aan blanke Afrikaners te bied nie. Dit is hierdie stand van sake wat nie net die NGK nie, maar ook groot getalle van die NGK se lidmate in 'n identiteitskrisis gedompel het.56

     

    Gevolgtrekking

    Hoewel die NGK se AS van 1986 gekritiseer is weens die feit dat dit nie die apartheidsbeleid tot 'n sonde verklaar het nie, het die besluite wat wel daartydens geneem is, verreikende gevolge vir die kerk ingehou. Behalwe vir die feit dat die NGK geskeur het en die APK gestig is, was die NGK ook aan intra-kerklike wrywing blootgestel wat tot in daardie stadium grootliks onbekend aan dié instelling was.

    Die NGK se koersverandering, hoe minimaal dit ook al was, het teen 'n prys gekom. Vir duisende NGK-lidmate wat hulle lewens op so 'n wyse ingerig het dat apartheid moes slaag, en boonop in die vertroue geleef het dat hulle lewenswyses op Bybelse waardes berus en dus die goedkeuring van God wegdra, was die koersverandering van die NGK eenvoudig onaanvaarbaar. Die NGK het in die proses noemenswaardige legitimiteit verloor wat tot vandag toe nog steeds by die kerk bly spook.

    Vir die NGK was daar, net soos vir die NP-regering, uiteindelik geen ander opsie as om hulle steun aan die apartheidsbeleid te laat vaar nie. In die proses het die NGK in die geheel nie daarin geslaag om duidelike, ongekwalifiseerde leiding aan dié instelling se lidmate te verskaf nie. Hierdie ongelukkige stand van sake is deels die resultaat van die keuses van die NGK se leierskap, wat daarop aanspraak gemaak het dat die kerk nie by magte is om politieke beleid voor te skryf nie - 'n aanspraak wat nie waterdig is nie omdat daar nooit van die NGK verwag is om beleid voor te skryf nie, maar wel om bestaande beleid aan die Bybel te toets.

    Die besluit om die Bybelse regverdiging van die apartheidsbeleid te laat vaar, was egter 'n historiese keerpunt in die geskiedenis van die NGK. Daar kan uiteenlopend gespekuleer word in welke mate dié besluit die politiek van Suid-Afrika beïnvloed het. Gegewe die sentrale rol wat godsdiens in die breë en spesifiek die NGK in die lewens van die heersende klas gespeel het, is dit onwaarskynlik dat die besluite wat die NGK tydens die AS van 1986 geneem het, ongesiens in blanke gemeenskappe verbygegaan het. Die jaar 1986 was immers 'n jaar voor die verkiesing van 1987 en die uitsprake van die AS van die NGK het nie die politieke beleid van die KP onder leiding van dr. Treurnicht gevlei nie. Dit het, in teenstelling met hoe die beleid van apartheid vir lank binne die NGK verstaan is, geargumenteer dat die beleid van rasseskeiding nie die wil van God verteenwoordig nie, maar die resultaat van menslike voorkeur is. Die proponente van die apartheidsbeleid kon oornag nie meer aanspraak maak op die feit dat die oudste en invloedrykste kerk onder blanke Afrikaners die beleid van apartheid as die wil van God verkondig nie. Op grond hiervan word volstaan deur die gevolgtrekking te maak dat die NGK, wetend of onwetend, alles behalwe 'n onbenullige rol gespeel het in die totstandkoming van die "nuwe Suid-Afrika".

     

     

    Barend van der Merwe is 'n afgestudeerde MA-student (Geskiedenis), Universiteit van die Vrystaat.
    Marietjie Oelofse is 'n senior lektrise verbonde aan die Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat. Haar belangstelling sluit mondelinge geskiedenis, asook menseregteskendings en geregtigheid, waaronder waarheidskommissies in. Tans werk sy aan 'n navorsingsprojek van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) wat handel oor: "Hidden voices, untold stories and veiled memories: women and their stories in conflict and violence".

     

     

    1. Hoewel die NGK se aktiwiteite buite die grense van Suid-Afrika strek, word daar in hierdie artikel spesifiek na die NGK binne die geografiese gebied van Suid-Afrika verwys.
    2. Die term "NG-kerkfamilie" verwys na al die kerke wat as uitvloeisel van die NGK ontstaan het. Die belangrikste kritiek teen die NGK het vanuit die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) gekom. Die NGSK het in 1994 met die meeste gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika saamgesmelt en die Verenigde Gereformeerde Kerk het tot stand gekom. Die Reformed Church in Africa funksioneer steeds onafhanklik van die res van die NGkerkfamilie.
    3. Die status confessionis of "staat van belydenis" wat deur die NGSK verklaar is, het die beleid van apartheid tot 'n sonde, en die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid tot 'n dwaalleer van die Christelike geloof verklaar. D.J. Smit, "What does status confessionis mean", in G.D. Cloete and D.J. Smit (eds), A moment of truth. The confession of the Dutch Reformed Mission Church (Tafelberg, Kaapstad, 1984), pp 7-32.
    4. Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke is 'n genootskap van Gereformeerde Kerke wat gemeenskaplike doelwitte nastreef. Sien: World Alliance of Reformed Churches, "What we do", http://warc.jalb.de/warcajsp/side.jsp?news_id=708&part_id=0&navi=9, 10 May 2006 (geraadpleeg 2 November 2010).
    5. NG Kerk Argief en Bestuursinligtingsdienste, Bloemfontein (hierna ABID): Handelinge van die Veertigste Vergadering van die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gehou in Kaapstad van 13 tot 24 Oktober 1987, p 144.
    6. Alhoewel die beleid van "aanpas of sterf" nooit 'n amptelike beleid van die NP was nie, is die veranderinge aan die rassebeleid wat onder die eerste minister en latere president van Suid-Afrika, P.W. Botha, plaasgevind het, in die volksmond dikwels as "aanpas of sterf" beskryf. Daar is geredeneer dat blankes se oorlewing in Suid-Afrika afhang van hulle vermoë om aan te pas by veranderinge in die land, asook dat Verwoerdiaanse apartheid in die toekoms tot die verlede sou behoort. Vir 'n wyle was hierdie benadering baie suksesvol in die behoud van blanke Afrikanermag. H. Giliomee, Die Afrikaners. 'n Biografie (Tafelberg, Kaapstad, 2004), pp 544-545.
    7. W. Jonker, Selfs die kerk kan verander (Tafelberg, Kaapstad, 1998), pp 161-166.
    8. ABID: Handelinge van die sesde vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Pretoria, 12-22 Oktober 1982, p 1182.
    9. B.J. van der Merwe Privaatversameling, Onderhoud met F. Wessels, Bellville, 16 Augustus 2010.
    10. ABID: Handelinge van die Vergadering van die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gehou in Kaapstad van 18 tot 28 Oktober 1983, pp 208-209; A. Luckhoff, "Teoloë kap na regses. Sinode by diepkant in teen twee wette", Rapport, 30 Oktober 1983, p 4; Anonymous, "Mixed Marriages, Immorality Acts denounced by Cape NGK. Church apartheid rejected with immediate effect", The Citizen, 29 October 1983, p 10; Anoniem, "NG kerkgeboue is oop, sê sinode", Kerkbode, 2 November 1983, p 3.
    11. ABID: Handelinge van die Vergadering van die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gehou in Kaapstad van 18 tot 28 Oktober 1983, pp 203-205. Sien ook Anoniem, "Diepe kommer oor koers van die NG Kerk", Die Afrikaner, 9 November 1983, p 8; Anonymous, "NGK and apartheid", Financial Mail, 22 November 1983, p 19.
    12. In hierdie artikel word die term "anderskleuriges" gebruik omdat die term 'n historiese werklikheid van die tydperk onder bespreking is. Deur die gebruik van die term word geen negatiewe konnotasie teenoor die mense wat aan dié term gekoppel word, geïmpliseer nie.
    13. Die Cottesloe-beraad het op gesag van die Wêreldraad van Kerke, 'n internasionale ekumeniese liggaam, in Desember 1960 plaasgevind na aanleiding van die Sharpeville skietery van 1960, toe die polisie op lede van die nuutgestigte Pan-African Congress, wat met 'n protesaksie teen die gebruik van die pasboekstelsel besig was, losgebrand het. Ten tye van die beraad het die NGK nog nie oor 'n amptelike, teologies geformuleerde standpunt beskik wat die beleid van apartheid probeer regverdig het nie. Gevolglik het die afgevaardigdes van die NGK wat die beraad bygewoon het, 'n reeks verklarings help formuleer en uiteindelik onderskryf wat die Verwoerd regering se rassebeleid openlik uitgedaag het. Slegs afgevaardigdes van die Kaap en die Transvaal het die beraad bygewoon. Die Transvaalse verteenwoordigers was: A.M. Meiring, C.F.B. Naude, O'B. Geldenhuys, C.B. Brink, A.B. du Preez, E.B. Groenewald, J.A. van Wyk, S.S. Tema en Selamolela. Die Kaapse verteenwoordigers het A.J. van der Merwe, W.J. van der Merwe, T.N. Hanekom, F.J.M. Potgieter, P.A. Verhoef, C.H. Badenhorst, A.P. Smit, P.E.S. Smith, A.J. van Wijk en W.A. Landman ingesluit. Die NGK was in daardie stadium nie in 'n AS-verband georganiseer nie en al die besluite wat tydens die beraad geneem is, is later deur die streeksinodes van die NGK nietig verklaar. P.B. van der Watt, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1905-1975 (NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria, 1987), pp 104-108; R.T.J. Lombard, Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepolitiek met spesiale verwysing na die jare 1948-1961 (NG Kerkboekhandel Transvaal, Silverton, 1981), pp 213-220; A.H. Lückhoff, Cottesloe (Tafelberg, Kaapstad, 1978), pp 128-152.
    14. W. Nicol, "Nuwe tekens van hoop in NG Kerk", Beeld, 8 November 1983, p 12; J. Froneman, "'n Waterskeidingsinode", Kerkbode, 2 November 1983, p 1; T. Wiese, "NG besluit ''n wonderwerk'", Die Burger, 24 November 1983, p 27.
    15. Van der Merwe Privaatversameling, Onderhoud met F. Wessels, Bellville, 16 Augustus 2010.
    16. ABID: Agenda vir die sewende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Kaapstad, Dinsdag 14-Saterdag 25 Oktober 1986, pp 20-35.
    17. NGK: AS, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis met apartheid, 1960-1994 (Hugenote-Uitgewers, Wellington, 1997), p 42.
    18. NGK: AS, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis, p 43.
    19. Tydens die sitting van die Wes-Kaapse sinode van 1987 is die gedeelte wat hier kursief geskryf is, weggelaat. Hierdie proses word later meer breedvoerig bespreek.
    20. NGK: AS, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis, p 42.
    21. H.H. Williams, "J.A. Heyns en die Nederduitse Gereformeerde Kerk en apartheid." PhDproefskrif, Universiteit van die Vrystaat, 2006, pp 190-198. Die hersieningskommissie het bestaan uit J.E. Potgieter, G.S.J. Möller, D.C.G. Fourie, D.J. Viljoen, J.A. Heyns, D.A. du Toit, C.W.H. Boshoff, D.S. Snyman, A.B. du Toit, P.A. Verhoef, P.B. van der Watt, P. Smith, M.M. Nieuwoudt en P. Rossouw.
    22. Anoniem, "NGK-belydenis dat apartheid fout was reaksie uiteenlopend", Die Burger, 24 Oktober 1986, p 2.
    23. Anoniem, "Apartheid 'n fout", Volksblad, 23 Oktober 1986, p 14.
    24. Anoniem, "Sendingkerk: 'nog nie só gepraat'. Waardering, kritiek ná kerkbesluit", Die Burger, 23 Oktober 1986, p 2.
    25. W.A. Boesak, "Algemene kommentaar op 'Kerk en Samelewing' vanuit die Nederduits Gereformeerde kerkfamilie", in Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys: Instituut vir Reformatoriese Studie, Reeks F3, Kommentaar op 'Kerk en Samelewing' (Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom, 1989), pp 95-96.
    26. Van der Merwe Privaatversameling, "'n Evaluering van 'Kerk en Samelewing'", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    27. Van der Merwe Privaatversameling, "'n Evaluering van 'Kerk en Samelewing'", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    28. Van der Merwe Privaatversameling, "Briewewisseling, 5 November 1986", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    29. Van der Merwe Privaatversameling, "Briewewisseling, 5 November 1986", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    30. Van der Merwe Privaatversameling, "'Kerk en Samelewing': 'n historiese keerpunt", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    31. G. Lamprecht, "Afskeiding geregverdig? 'n Kerkhistories-kerkregtelike vergelyking tussen die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1959 en die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987." MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1997, pp 98-108.
    32. P.B. van der Watt, "Kerkskeuring: Die Afrikaner se kos!", Insig, Augustus 1987, p 14.
    33. Nederduitse Gereformeerde Kerk, "Faith and Protest (1987)", http://www.ngkerk.org.za/abid/dokumente/amptelikestukke/Faith%20and%20Protest%201987.pdf, sonder datum (geraadpleeg 8 Augustus 2010).
    34. Lamprecht, "Afskeiding geregverdig?", pp 98-108.
    35. Lamprecht, "Afskeiding geregverdig?", p 109.
    36. Lamprecht, "Afskeiding geregverdig?", p 109.
    37. P. Hurter, "Twintig jaar na 'Kerk en Samelewing'", Kerkbode, 17 September 2010, p 12.
    38. E. Wessels, "Onward the Christian soldiers", Business Day, 4 September 1987, p 6.
    39. L. Bekker, "NGK is set to crack down on maverick prof. Enough is enough!", Sunday Tribune, 30 October 1983, p 24.
    40. J. van Tonder "Deterministiese houding. 'Onuithoudbare situasie met Bond'", Volksblad, 15 September 1987, p 4; F. van der Watt, "Die Ned. Geref. Bond - quo vadis?", Kerkbode, 9 September 1987, p 7.
    41. Anoniem, "Beleidstuk onder skoot in regse dokument. Dr. T. bearbei NG sinodes", Beeld, 14 September 1987, p 1.
    42. Anoniem, "Treurnicht-stuk in NGK versprei", Die Burger, 14 September 1987, p 1.
    43. Anoniem, "KP en NGK", Beeld, 15 September 1987, p 11.
    44. NGK: AS, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis, pp 46-47.
    45. NGK: AS, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis, p 47.
    46. Van der Merwe Privaatversameling, "Konsepverklaring", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    47. Van der Merwe Privaatversameling, Onderhoud met F. Wessels, Bellville, 16 Augustus 2010.
    48. ABID: Skema van werksaamhede voorgelê aan die veertigste vergadering van die Hoogeerwaarde Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika op Dinsdag, 13 Oktober 1987 om 9:30 vm. en volgende dae in die Ned. Geref. Kerksentrum, Kaapstad, 1987, p 507.
    49. Van der Merwe Privaatversameling, "Nota, Oktober 1987", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    50. Van der Merwe Privaatversameling, "Besluite van die sinode van die NG Kerk in SA (Wes-Kaapse Sinode) 13-22 Oktober 1987, Kaapstad", Dokumentasie ontvang van F. Wessels, 15 Augustus 2010.
    51. NGK, Kerk en Samelewing. 'n Getuienis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Soos aanvaar deur die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk Oktober 1990 (NG Sendingpers, Bloemfontein, 1990), pp 38-39.
    52. NGK, Kerk en Samelewing, pp 38-40.
    53. NGK, Kerk en Samelewing, pp 39-40.
    54. Jonker, Selfs die kerk kan verander, pp 198-199.
    55. Anoniem, "Rustigheid in NG Kerk ná verklaring van die Algemene Sinodale Kommissie", Kerkbode, 14 Desember 1990, p 1.
    56. R. Greef, "Ondersoek NG lidmate in opstand", De Kat, Julie 1990, p 66.