SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.56 n.2 Durban Nov. 2011

 

ARTIKELS

 

Die rol en bydrae van die Stedelike Stigting tot die politieke hervorming van Suid-Afrika

 

The contribution of the Urban Foundation to political reform: 1976-1995

 

 

Salomon Hoogenraad-Vermaak

 

 


OPSOMMING

Die Stedelike Stigting/Urban Foundation is in reaksie op die 1976-onluste en kwynende ekonomie gestig. Die doel was om die sakegemeenskap te verenig om toenemende verstedeliking te bestuur, sodat politieke onrus bekamp kon word, stedelike swartes se lewens verbeter kon word en 'n rol in die ekonomie aan swartes gegee kon word. Die Stigting het buiten vir 'n ontwikkelingsagentskapsrol, ook 'n veranderingsagentskapsrol gespeel. Die gemeenskapsontwikkelingsrol van die Stigting was baie suksesvol. Die veranderingsagentskapsrol was op verandering van die sakegemeenskap, maar ook van die politiek gerig. Dit het daartoe bygedra dat die sakegemeenskap verdemokratiseer het en beperkende en diskriminerende wetgewing gewysig is. Meer nog: die Stigting het 'n wesenlike en selfs deurslaggewende rol in die politieke hervorming in Suid-Afrika gespeel.

Sleutelwoorde: Consultative Business Movement (CBM); gemeenskapsbetrokkenheid; gemeenskapsontwikkeling; Onafhanklike Ontwikkelingstrust (OOT); ontwikkelingsagentskapsrol; politieke hervorming; politieke rol van sakelui; politieke verandering; sosiale opheffing; sosio-ekonomiese verantwoordelikheid; Stedelike Stigting/Urban Foundation; Suid-Afrikaanse sakegemeenskap; veranderingsagentskapsrol; verstedeliking.


ABSTRACT

The Urban Foundation/Stedelike Stigting was established in reaction to the 1976 unrest in South Africa and the dwindling economy. Its aim was to unite business in managing urbanisation so as to curb political unrest, improve the lives of urban blacks and to provide blacks with a role in the economy. Apart from a development agency role, the Foundation also played the role of a change agent. The development agency role of the Foundation was very successful. The change agent role was directed at changing business, but also politics. This resulted in the democratisation of business, as well as the amendment of limiting and discriminatory legislation. More importantly: the Foundation played a real and even crucial role in South Africa's process of political reform.

Key words: Change agent role; community development; community involvement; Consultative Business Movement (CBM); development agent role; Independent Development Trust (IDT); political change; political reform; political role of business; social development; socio-economic responsibility; South African business community; Urban Foundation/Stedelike Stigting; urbanisation.


 

 

Inleiding

Die moontlike rol en bydrae van die Suid-Afrikaanse blanke sakegemeenskap om saam met ander rolspelers in die Suid-Afrikaanse samelewing (byvoorbeeld burgerlike bewegings, kerke, ensomeer) 'n politieke transformasie in die Suid-Afrikaanse politiek - weg van apartheid - te bewerkstellig, is 'n baie sensitiewe onderwerp wat meestal wye reaksie ontlok. Die mees algemene reaksie is gewoonlik dat blanke sakelui nie so 'n rol gespeel het nie, gegewe die persepsie dat die apartheidstelsel vir blanke sakelui voordelig was.1 Hierdie reaksie kom ten spyte van navorsing van Merle Lipton, 'n liberale geskiedskrywer, waarin sy die positiewe rol en bydrae van Suid-Afrikaanse Engelssprekende sakelui beskryf. Sy wys daarop dat selfs die neo-radikale skool van geskiedskrywing toegegee het dat Suid-Afrikaanse sakelui wel 'n positiewe rol gespeel het, al meen hulle steeds dat sakelui se optrede deur eie belange gemotiveer was.2 Onlangse navorsing wys daarop dat ook Afrikaner-sakelui tydens die transformasieproses 'n positiewe rol en bydrae gelewer het.3 Verder is die mite dat politieke bevoordeling noodwendig tot ekonomiese voordeel moes lei en dat Afrikaner-sakelui in terme van hierdie persepsie die meeste moes gebaat het, ook deur die navorsing van Herman Giliomee verkeerd bewys.4

Die rede vir hierdie reaksie kan aan die gebrek aan inligting oor die rol van sakelui tydens transformasie toegedig word. Navorsing oor hierdie onderwerp is maar skraps en indien mediaverklarings van sakelui se afkeur aan die beleid van afsonderlike ontwikkeling en die toepassing daarvan nagegaan word, is dit duidelik dat hulle kritiek tydens die apartheidsjare (1948-1994) maar yl gesaai was.5 Waar Engelssprekende sakelui nog probeer het om openlik kritiek teen die Nasionale Party (NP) regering se beleid van apartheid en die latere beleid van afsonderlike ontwikkeling uit te spreek, was Afrikanersakelui daarenteen betreklik stil. Hierdie ongemaklike stilte is na die koms van die Nuwe Suid-Afrika as 'n strategie van "lydelike verset" verduidelik.6 Hierdie verduideliking is vir baie swaar om te sluk, omdat blanke sakelui se stilswye reeds as 'n skulderkenning vertolk is.

Hierdie artikel poog om 'n nuwe perspektief op die hervormingsbydrae van Suid-Afrikaanse blanke sakelui te bring. Die artikel fokus op die aanvanklike rol en bydrae van sakelui, van die ontstaan van die Stedelike Stigting (hierna genoem die Stigting) in 1976, tot en met die ontbinding daarvan in 1995. Die werklike klem is egter op die tydperk tussen 1976 en 1988. In 1988 is die Consultative Business Movement (CBM) gestig en toe dit teen 1989 operasioneel geword het, het dit die politieke rol van die Stigting grootliks oorgeneem.7 Die volgende aspekte word beskryf: sakelui se bewuswording van 'n sosiale verantwoordelikheidsrol; die ontstaan van die Stigting; die Stigting se siening van hervorming; die Stigting se ontwikkelingsagentskapsrol; en die Stigting se veranderingsagentskapsrol. Laasgenoemde sluit ook 'n politieke beïnvloedingsrol en rol in die hervorming van wetgewing in. Die artikel eindig met 'n evaluering van die hervormingsbydrae van die Stigting.

Hoewel die term Suid-Afrikaanse sakelui na almal behoort te verwys wat by sake betrokke was, het dit onder die NP-bewind (1948-1994) na blanke sakelui wat ekonomiese mag gehad het, verwys. Swartes se ekonomiese mag was deur politieke beleid en wetgewing tot die swart tuislande ingekort. Kleurling- en Indiërsakelui het na 1983, met die stigting van die driekamerparlement, indirekte politieke mag verkry en sodoende groter seggenskap oor ekonomiese beleid en wetgewing verkry. In die artikel word dus met Suid-Afrikaanse sakelui spesifiek blankes wat by sake betrokke was, bedoel. Die begrip blanke verwys weer na die hoofsaaklik dominante blanke kultuurgroepe, naamlik Afrikaners en Engelssprekendes. Hoewel hierdie artikel uitsluitlik op die rol en bydrae van blanke sakelui fokus, moet sodanige rol van swart sakelui, wat ook in die Stigting verteenwoordig was, nie ontken word nie. Hulle bydrae was egter nog minder opsigtelik as dié van blanke sakelui, omdat hulle diskreet opgetree het uit vrees vir vervreemding van hulle eie groep, asook die striemende kritiek van swart rewolusionêres.8

 

Verstedeliking, onrus en blanke sakelui se bewuswording van 'n sosiale verantwoordelikheidsrol

In die 1970's het David Rockefeller, president van New York se Chase Manhattan Bank, aangedui dat sakelui van die Verenigde State van Amerika (VSA) uitdagings ervaar het weens 'n ontoereikende onderwysstelsel, werkloosheid, besoedeling van natuurlike hulpbronne, verouderde vervoerstelsels, swak behuising, onvoldoende en ongenoegsame openbare fasiliteite, 'n gebrek aan gelyke geleenthede vir burgers en gebrekkige kommunikasie tussen oud en jonk, swart en wit. Hierdie uitdagings het hy op verstedeliking geblameer.9 Suid-Afrika het ook onder die simptome van verstedeliking gebuk gegaan. Die Suid-Afrikaanse blanke bevolking het reeds vroeër as dié van die VSA verstedelik.10 Teen 1951 was 78,4 persent van die blanke bevolking van net oor die 2,5 miljoen reeds verstedelik.11 Die swart bevolking het saam met die blanke bevolking verstedelik. Teen 1951, het die Unieregering die aantal verstedelikte swartes op 27,2 persent geskat.12 Tussen 1936 en 1951 het swart verstedeliking met 1 188 000, of 79 000 persone per jaar, toegeneem. Teen dié tyd het die aard van swart verstedeliking ook verander, omdat swart vroue hulle met hulle gesinne in die stede gevestig het.13 Die Fagan-kommissie (1946-1948)14 wat instromingsbeheer ondersoek het, het gewaarsku dat swart verstedeliking nie gekeer kon word nie, omdat dit 'n permanente, onomkeerbare verskynsel was.15 Die simptome van verstedeliking het egter met die verswakkende Suid-Afrikaanse ekonomie (en wêreldekonomie) vererger. Vanaf 1973 het die Suid-Afrikaanse ekonomie stelselmatig agteruitgang begin toon. Hierdie agteruitgang, gekenmerk deur krimpende netto beleggings, verhoogde werkloosheid, 'n kwynende gemiddelde reële werkloon en toenemende onaanvaarbare vlakke van armoede en inkomste-ongelykheid, het 'n teelaarde vir burgerlike onrus (soos die Sharpeville-onlus van 1960 en die Sowetoonlus van 1976) geskep.16

Die impak van verstedeliking het Suid-Afrikaanse sakelui van hulle sosiale verantwoordelikheidsrol bewus gemaak. Dié sakelui se sosiale verantwoordelikheidsrol het egter 'n sterk politieke konteks gehad. In Suid-Afrika was 'n nasionalistiese regering aan bewind wat die blanke minderheid se belange deur rassepolitiek bevorder en beskerm het. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling het tot regulasies en wetgewing gelei wat swart gemeenskappe in terme van grondbesit, verblyfreg, bewegingsvryheid, behuising, onderwys- en gesondheidsdienste, asook werkverskaffing benadeel het. Hierdie beleid het ook 'n impak op sake en die ekonomie gehad. Indien blanke sakelui hierdie uitdagings as deel van hulle sosiale verantwoordelikheid sou opneem, selfs net om hulle markte uit te brei, sou hulle wette en regulasies van die regering moes teengaan. Die regering was bekommerd oor so 'n moontlikheid en het sakelui voortdurend gewaarsku om hulle uit die politiek te hou.17 Die regering het die kritiek van Engelssprekende sakelui geïgnoreer.18 Afrikaner-sakelui wat dit gewaag het om die gesag van die NP-regering uit te daag, is in die openbaar berispe en onder mede-Afrikaners verdag gemaak. Dr. Anton Rupert, die voorsitter van die grootste Afrikaner-sakekonglomeraat, naamlik die Rembrandt-Groep, was voortdurend as anti-Afrikaner en aartskapitalis uitgekryt.19 Hierdie optrede moes as afskrikking vir ander sakelui dien.

 

Die ontstaan van die Stigting

Op 29 en 30 November 1976, die jaar waarin die Soweto-onluste plaasgevind het, is 'n veelrassige konferensie in die Carltonhotel in Johannesburg gehou om die lot van stedelike swartes te verbeter.20 Swart politieke denkers soos Helen Khuswayo, Ben van der Ross en Franklin Sonn was ook teenwoordig. Tydens die besprekings het Van der Ross, wat wit van gelaat was, opgestaan en verklaar: "I am black. You have made me a black". Hierdie woorde het regter Jan Steyn ('n Kaapse liberale denker wat toevallig op aandrang van 'n sakeman die konferensie bygewoon het) soos 'n vuishou in die maag getref. Hy beskou die konferensie as 'n "skokkende ervaring" wat vir hom en sakelui begrip gegee het vir swartes se lot: "Die aantasting van die waardigheid van mense soos Ben en Franklin ... was heeltemal onaanvaarbaar as dit vir jou tuisgebring word".21

Kort na die konferensie het Steyn 'n oproep van dr. Zac de Beer ('n direkteur van die Anglo American Corporation en lid van die opposisieparty), asook van dr. Anton Rupert en Harry Oppenheimer (voorsitter van die Anglo American Corporation, die grootste sakekonglomeraat in Suid-Afrika) gekry, waarin hy gevra is om leiding van die Stigting te neem. Steyn, 'n regter aan die Kaapse hooggeregshof, moes hiervoor die steun van die eerste minister (toe adv. John Vorster, premiersdienstermyn 1966-1978) kry. Steyn is drie jaar gegun om die Stigting te bestuur.22 Hy is deur sakelui as leier benoem weens sy ervaring met behuisingsprojekte en ondervinding van die swart gemeenskap.23 Vorster het Steyn se versoek toegestaan, omdat hy geglo het dat 'n Afrikaner in so 'n posisie meer simpatiek teenoor die regering se rassebeleid as 'n Engelssprekende voorsitter sou wees.24

Op 14 Desember 1976 is die Stigting formeel as 'n maatskappy sonder winsbejag gestig. Dr. Zac de Beer, Clive Menell, S.M. Motsuenyane, V.E.M. Tshabalala, dr. F.J.C. Cronjé en P.T. Poovalingam was onder die 25 direkteure wat op die Stigting se raad gedien het.25 Harry Oppenheimer (die voorsitter van die Stigting) en dr. Anton Rupert (adjunk-voorsitter) se betrokkenheid het gesorg dat politici van die organisasie moes kennis neem. Onder hulle leierskap het die grootste spektrum van die blanke sakegemeenskap (Engelssprekende en Afrikaner-sakelui) simbolies verenig. Die Stigting se potensiaal om toekomstige politieke invloed uit te oefen, is versterk deurdat individuele Afrikaner-sakelui soos Andreas Wassenaar en Fred du Plessis (beide van Sankorp, die groot Afrikaanse sakekonglomeraat), maar ook Afrikaner-sakeorganisasies soos die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), lidmaatskap van die Stigting aangeneem het. Die ondersteuning van Afrikaners in die sakewêreld was van belang omdat hulle as etniese groep die naaste aan die politieke magsentrum gestaan het.26

 

Die Stigting se siening van hervorming

Van die ontstaan van die Stigting af is hervorming gedefinieer as "'n sosiale, ekonomiese en politieke proses wat bestuur kan word".27 Hervorming is beskou as 'n geleidelike evolusionêre proses wat die gemeenskap, sakegemeenskap en staat betrek. Deur die proses te bestuur, sou die grondslag vir positiewe verandering gevestig word, wat sou uitkring tot die groter gemeenskap en sodoende 'n hervormingsneeubal sou veroorsaak wat nie gestuit kon word nie. Dit is teenoor 'n rewolusie gestel, deur aan te voer dat dit op 'n klein skaal begin kon word en daarom as stelselmatige proses bestuur kon word deur doelwitte te stel, bronne optimaal te benut en doelgerigte, beplande strategieë na te volg om die doelwitte te bereik. As sodanig kon negatiewe en afbrekende aspekte verander word (op sosio-ekonomiese vlak), maar kon dit wat as basis vir ekonomiese groei en vooruitgang noodsaaklik is (soos 'n land se industriële en institusionele basis) beskerm word.28 Hierdie siening van hervorming het aanklank by die meerderheid verligtes in die Nasionale Party wat politieke hervorming gesteun het, gevind. Die siening is egter nie deur die bevrydingsbewegings en swart aktiviste gesteun nie. Hervorming is deur laasgenoemdes as die eindresultaat van 'n rewolusie beskou, waar geweld gebruik sou word om 'n snelle oorgawe aan 'n swart regering te bewerkstellig. Laasgenoemde standpunte het die Stigting die rolle van ontwikkelingsagent en veranderingsagent laat aanneem.29

 

Die ontwikkelingsagentskapsrol van die Stigting

Met die ontstaan van die Stigting, is sakelui se sosiale verantwoordelikheid nagekom en is projekte geïdentifiseer wat tot die opheffing van die swart gemeenskap gelei het. Projekte soos die stigting van kleuterskole, gemeenskapsentrums, klinieke en ontspanningsgeriewe is gevolglik aangepak.30 Om hierdie projekte te finansier, het die Stigting daarna gemik om R25-miljoen binne sy eerste bestaansjaar in te samel. Hierdie bedrag sou van sakelui verkry word.31 Weens sakelui se eie belang in die vestiging van 'n swart middelklas, maar ook die positiewe stabiliserende impak daarvan op die politiek, het die besteding aan sosiale opheffingsprojekte sakesin gemaak.32 Sakeorganisasies het gevolglik mildelik tot die Stigting se projekte bygedra. Hieronder tel Afrikaner- en Engelssprekende maatskappye soos General Motors,33 die Gencor Ontwikkelingstrust,34 Volkskas,35 Afrox se Peter Joubert,36 Johannesburg Consolidated Investment Company Limited (JCI) se Murray Hofmeyr,37 die United Building Society (Piet Badenhorst),38 Old Mutual,39 Barlow Rand Limited,40 Barclays National Bank Limited,41 Pick en Pay (Raymond Ackerman),42 Nasionale Pers,43 Federale Volksbeleggings en Sanlam.44 Die Stigting het vandat sy werksaamhede in Maart 1977 'n aanvang geneem het, tot 1985 reeds R59-miljoen van die privaatsektor ontvang. Die totale waarde van die ontwikkelingsfondse wat deur die Stigting byeengebring is, het teen 1985 al R227-miljoen bedra.45 Hoewel die Stigting polities verhinder is om internasionale fondse te werf, het internasionale maatskappye soos die Metal Box-maatskappye (Britse en Suid-Afrikaanse takke), US Steel International, Amerikaanse banke,46 die John Deere-Stigting van Amerika,47 Standard Bank en Barclays Bank van Groot Brittanje,48 maar ook regerings soos dié van die Federale Republiek van Duitsland,49 geld vir projekte geskenk en/of geleen. Tog het die meeste geld vir projekte van plaaslike sakelui gekom. In 1991 was R28,3-miljoen van die R35-miljoen wat as donasies ontvang is, van plaaslike sakelui afkomstig.50 Beyers Naudé het bemiddel om internasionale fondse vir die Stigting se opvoedingsprojekte te bekom.51

Gemeenskapsopheffingsprojekte waarna vroeër verwys is, het sakelui se aandag toenemend op werkloosheid, swak behuising en gebrekkige opleiding in die swart gemeenskap gevestig. Dit het sakelui se gemeenskapsopheffingsrol verander, omdat hulle as ontwikkelingsagente betrokke geraak het. Waar sakelui vroeër slegs 'n koördinerende rol gespeel het, het hulle met selfhelp- en opknappingsprojekte vaardighede begin oordra om gemeenskappe te bemagtig. Sakelui het ook aktief begin om oplossings aan die hand te doen om werkloosheid, swak behuising en gebrekkige opleiding in die swart gemeenskap aan te spreek en om hierdie oplossings in die sake-omgewing te implementeer.

Tydens Rembrandt se jaarvergadering in 1985, het dr. Anton Rupert opgemerk dat die departement van Mannekrag statistieke uitgereik het wat 'n toename van 100 persent in werkloosheid in een jaar getoon het. In die eerste sewe maande van 1985 het Suid-Afrika 8 000 werkgeleenthede per maand verloor. Ongeveer 750 000 ekonomies aktiewe mense was reeds werkloos. Daar was ook geen netto toename in die indiensneming van swartes in die vorige nege jaar nie, maar tog het 'n miljoen swartes elke jaar tot die arbeidsmark toegetree.52 Die oorsaak van hierdie probleem is deur dr. Rupert as die regering se beleid jeens instromingsbeheer geïdentifiseer. Hierdie siening is ook deur ander sakelui soos Harry Oppenheimer gehuldig. Rupert en Oppenheimer het daarom talle versoeke aan die regering gerig om die beperkings op instromingsbeheer op te hef. Hulle het die regering ook versoek om 'n positiewe en realistiese verstedelikingsbeleid aan te neem, nadat daar met alle groepe (insluitend swartes) onderhandel is.53

Dr. Rupert het geredeneer dat die behuisingsagterstand ingespan kon word as oplossing vir die werkloosheidprobleem. Hy het dit benadruk dat so 'n plan onder bestaande regeringsregulasies onmoontlik was, omdat behuising in swart woongebiede benadeel is deur die afwesigheid van 'n behoorlike eiendomsmark, beperkings op eiendomsbesit, ingewikkelde registrasieprosedures en buitensporige subsidies wat huur aantreklik gemaak het. Sakelui het projekte aangepak wat deur die Stigting gekoördineer is en op selfhelp-behuising en geleidelike aanbouing gerig was, ten einde 'n bydrae te lewer om die behuisingskrisis te verlig.54

Die Kleinsake-Ontwikkelingskorporasie (KSOK, gestig deur dr. Rupert in 1981) was 'n verdere poging om werkskepping aan te moedig. Dr. Rupert was van mening dat kleinsake die ekonomie kon stimuleer, werk kon skep en sodoende onrus kon beperk.55 Onder dr. Rupert se leiding het die kapitale besteding van die privaatsektor en die staat aan die KSOK toegeneem en het die kabinet ook meer positief oor die rol van kleinsakeondernemings in die welvaart en werkskepping van die ekonomie besin.56

Dr. Rupert se voorstel aan die regering as oplossing vir werkloosheid en behuising was 'n nywerheidsvennootskap - 'n Rembrandt-beleid wat met vrug toegepas is. Dié beleid het ontwikkelde en ontwikkelende blanke en ander bevolkingsgroepe vooruitgang laat deel - nie weens dominasie nie, maar oor samewerking ongeag ras of kleur: "Toekomstige welvaart kan nie deur afsonderlikheid nie, maar wel deur oordeelkundige gesamentlikheid geskep word".57 Hierdie voorstel kon nie met die beleid op afsonderlike ontwikkeling versoen word nie. Rupert het sosiale betrokkenheid nie net in 'n Suid-Afrikaanse konteks gesien nie, maar ook in 'n Afrika-konteks. Hy het verklaar dat "as een van die bure nie eet nie, kan die ander nie rustig slaap nie" en ook: "Ons taak is om nie van ons verantwoordelikheid as katalisatore terug te deins nie".58

Met die doel om vakbondaksies te neutraliseer en 'n middelklas te ontwikkel wat ekonomiese groei sou stimuleer, het die Stigting projekte aangepak wat gerig was op die verbetering van swart werkers se lewensomstandighede, wat ingesluit het die toekenning van loonverhogings aan swartes en die bevordering van swartes se algemene opleiding.59 Die werksomstandighede van swart werkers (sover as wat wetgewing dit sou toelaat) was ook op die agenda ten einde produktiwiteit te verhoog. Afrikaner- en Engelssprekende sakelui het hierin hande gevat, soos gesien kon word met die uitstekende samewerking tussen die AHI en Associated Chambers of Commerce (Assocom) rondom die verbetering van loonverhogings vir swart werkers.60 Verder het alle groot maatskappye en hulle affiliale werkersopleiding ernstig opgeneem. Sankorp het byvoorbeeld 'n gelyke geleenthede strategie begin volg om gelyke geleenthede vir sy werkers te voorsien. Dit was gebaseer op modelle van leiers op die gebied, soos Barlows, die Anglo American Corporation en IBM.61 Sankorp se affiliale is ook ingelig om swart werkers in bestuursontwikkeling en opvolgingsbeplanningstrategieë in te sluit.62 Om loonverhogings en opleiding aan te spreek, is swartes se behoefte aan reg en regverdigheid na die werkplek geneem, omdat opleiding daarop gerig was om swartes vir bestuursposte voor te berei en hulle algemene toegang tot werksgeleenthede te verbeter.63

Sakelui en die Stigting se verbintenis tot sosiale verantwoordelikheid het uitdrukking gevind in sosiale investering, sosiale opheffing en sosiale betrokkenheid, maar voor 1985 het dit steeds nie die ekonomiese onregverdigheid van apartheid soos beliggaam in wetgewing aangespreek nie. Met ekonomiese onregverdigheid word na die blokkering van swartes se toegang tot die ekonomiese stelsel deur wetgewing verwys. Regter Jan Steyn is van mening dat hy as gesekondeerde regeringsamptenaar onder geweldige druk was om die regering goedgesind te wees. Toe hy byvoorbeeld tydens 'n jaarvergadering van die wetsgenootskap gemeld het dat 'n mens nie sosiaal-maatskaplike voorkeure in wetgewing kan beliggaam nie, het hy 'n oproep van eerste minister John Vorster gekry waarin hy berispe is omdat hy sy mandaat oorskry het.64 Eers in 1981, nadat Steyn as regter bedank het, het hy vry gevoel om openlik kritiek teen die regering uit te spreek. Selfs toe moes hy steeds gematig optree, omdat hy oortuig was dat sakelui polities naïef was en politieke uitsprake sakelui van die Stigting sou vervreem. Na Steyn se oordeel het Suid-Afrikaanse sakelui weinig begrip gehad vir die feit dat apartheid as politieke beleid nie op die langtermyn kon werk nie, omdat dit politieke, sosiale, maar ook ekonomiese onstabiliteit tot gevolg gehad het.65

 

Die aanneem van 'n politieke rol

Eers teen Augustus 1985, nadat Engelssprekende sakelui kontak met die ANC-leierskap in Lusaka66 gemaak het en sakelui die regering openlik na afloop van die Rubicontoespraak gekritiseer het,67 het die "politieke rol" van Suid-Afrikaanse sakelui duidelik ontvou. In 'n neutedop het die volgende gebeure hiertoe bygedra. P.W. Botha het - eers as eerste minister (1978-1984) en later as uitvoerende staatspresident (1984-1989) - aktief na sakelui uitgereik, omdat hy besef het dat hulle hulp nodig was om die politiek te stabiliseer.68 Hierdeur het 'n beter verhouding tussen sakelui en die regering ontwikkel. Die afstigting van die Konserwatiewe Party (KP) in 1982 het sakelui se invloed verstewig, omdat dit die magstryd wat in die NP geheers het, tot 'n einde gebring het en voorstelle vir hervorming sodoende geakkommodeer het.69 Sakelui se potensiaal tot politieke invloed is verder verhoog, omdat die NP deur politieke optrede getoon het dat dit ernstig met politieke hervorming was. In 1982 is wetgewing aangeneem om voorsiening te maak vir 'n driekamerparlement met blankes, kleurlinge en Indiërs wat daarin verteenwoordiging gehad het. Geen voorsiening is egter gemaak vir swartes se verteenwoordiging nie (omdat hulle tuislande gehad het!). Pres. Botha het tydens die parlementsopening in Februarie 1985 aangekondig dat instromingsbeheer herroep sou word, dat swartes vrylik eiendomsreg sou kry en dat swartes in Suid-Afrika wat hulle burgerskap weens die tuislandbeleid verloor het, dit sou terugkry. Botha het selfs so ver gegaan as om 'n Nasionale Statutêre Raad aan te kondig, wat as forum vir onderhandeling met swart Suid-Afrikaners sou dien.70 Die NP self het as party ook meer polities verlig geword. In Augustus 1986 het die federale kongres van die NP in Durban 'n nuwe beleidsraamwerk - weg van apartheid - met die oog op onderhandeling aanvaar. Dit het 'n verenigde Suid-Afrika, een-mens-een-stem, die uitwissing van rasse-diskriminasie en doeltreffende beskerming van minderhede onderskryf.71 Hierdie meer verligte politieke houding was ook werksaam onder die grootste ondersteuningskorps van die NP, Afrikaners. 'n Mark-en meningspeiling deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het bevind dat 48 persent van die Afrikaners in daardie stadium onderhandeling met die ANC gesteun en die vrylating van Nelson Mandela aanvaar het.72

Hierdie toenemend-verligte politieke klimaat het die Stigting reeds op 14 en 15 November 1984 tydens 'n strategiese sessie (wat op 22 November 1984 deur die hoof uitvoerende raad van die Stigting goedgekeur is) oortuig om 'n groter rol in die hervormingsinisiatief te speel.73 Dit het die jaar daarna gelei tot die aanname van 'n gekoördineerde strategie in die privaatsektor om hervorming na positiewe magsdeling te stuur.

Die Stigting het verklaar dat die doel van hervorming 'n beheerde reeks veranderings in die gemeenskap is wat die Stigting sou help om die kwaliteit van lewe van Suid-Afrikaners in 'n stedelike konteks te bevorder.74 Die Stigting was daarom daartoe verbind om strukturele hervormings te ondersteun.75 Hierdie strategiese rigting het die Stigting daartoe gedwing om inisiatiewe te ontwerp, doelwitte te stel en spesifieke aktiwiteite te onderneem, asook om teikens ten opsigte van strukturele hervormings te behaal.76 In die formulering van hierdie strategieë het dr. Robin Lee 'n groot rol gespeel.77 Die terreine waarop hulle sou fokus, was residensiële ontwikkeling, opvoeding, toegang tot werksgeleenthede, verstedeliking en plaaslike regering.78 Die implikasie was dat die Stigting apartheidswetgewing sou bevraagteken en kritiseer, omdat dit 'n klimaat wou skep waarin gemeenskapsontwikkelingsprojekte werklik suksesvol kon wees; "... as daar wetgewing was wat ons verhoed het om daardie oogmerk te vervul, dan moes ons daardie wetgewing aanspreek ..." - aldus regter Steyn.79

Die Stigting het 'n drieledige doel aanvaar wat gerig was op a) die bevordering van vreedsame strukturele verandering aan gemeenskapsbehoeftes soos behuising, werksgeleenthede, loopbaan- en sakegeleenthede, onderwys en opleiding en gelyke geleenthede ten opsigte hiervan, ten einde die kwaliteit van lewe in 'n verstedelikingskonteks te verbeter;80 b) om die privaatsektor by die gemeenskap betrokke te kry;81 en c) om sodoende 'n gemeenskap te help vestig wat op geregtigheid gebaseer was en individuele regte erken het.82 Dit het die Stigting vir 'n veranderingsagentskapsrol, gesteun deur 'n ontwikkelingsagentskapsrol, gerat.

 

Die veranderingsagentskapsrol van die Stigting

Sakelui se sosiale betrokkenheid het 'n deurslaggewende rol gespeel om verhoudinge tussen sakelui, die swart gemeenskap en die regering uit te bou. Dit het broodnodige konsensus oor die noodsaaklikheid van politieke hervormings vir die ekonomiese oorlewing van Suid-Afrika gebring. In 'n rasverdeelde samelewing soos Suid-Afrika onder apartheid, was die moontlikheid om konsensus oor die wyse en rigting van hervorming te bereik, 'n enorme uitdaging. Daar was weinig kontak oor rasgrense heen om te begin om heersende persepsies en vooroordele uit te daag. Swart leiers en organisasies was skepties oor kontak met blankes en was onder geweldige druk van anti-regeringsorganisasies om nie kontak met blankes in openbare ampte of diegene met bande met openbare figure op te neem nie.83 Samewerking tussen blankes en swartes het daarom tydens die Stigting se gemeenskapsprojekte waardevolle kopskuiwe tot gevolg gehad.84 Die feit dat die Stigting nie 'n spesifieke maatskappy verteenwoordig het nie, en swartes op sy bestuur gehad het, het die organisasie aanvaarbaar vir swartes gemaak om mee saam te werk.

Die Stigting het ook 'n rol gespeel om die verhouding tussen swart gemeenskapsleiers en die regering te bevorder.85 Regter Jan Steyn het byvoorbeeld vir Gerrit Viljoen (minister van Onderwys) en Eli Louw (minister van Mannekrag) aan gematigde swart leiers soos hoofman Mangusuthu Buthelezi en dr. Stanley Magoba van die Inkatha Vryheidsparty bekend gestel.86 Steyn het ook 'n verstandhouding met biskop Desmond Tutu opgebou.87 Dié middelman-rol van die Stigting is aangewend om swart leiers en die regering omtrent mekaar se standpunte in te lig. Selfs op maatskappyvlak is kontak met swart gemeenskapsleiers opgeneem.88 Sankorp het byvoorbeeld op raadsvlak aanvaar dat nouer kontak met prominente swart leiers in Suid-Afrika aan die konglomeraat die geleentheid sou bied om swart leiers se persepsies, denke, verwagtinge, programme en planne van aksie direk te ervaar.89

Die Stigting het ook 'n middelman-rol tussen die regering en Westerse regeringsleiers gespeel, waar standpunte oor Suid-Afrika se verbintenis tot hervorming met die regering en internasionale leiers uitgeruil is. Regter Jan Steyn het veral sy goeie verhouding met barones Margaret Thatcher van die Verenigde Koninkryk hiervoor aangewend.90 NP-ministers, wat van die internasionale arena geïsoleer was, is sodoende aan buitelandse leiers en hulle gevoel oor die NP se hervormingspas blootgestel.91 Verder het die Stigting regeringsamptenare toegang tot wetenskaplik gefundeerde inligting ten opsigte van verstedeliking - soos oor behuisingsopsies en instromingsbeheer - gegee.92 Die Stigting het hulle navorsing en statistieke oor werksgeleenthede, inkomsteprofiele en die kapitale koste van bekostigbare behuising onder swartes aan die tersaaklike staatsdepartemente beskikbaar gestel.93 Steyn het die belang van die Stigting as kennisliggaam só uitgedruk:

Dit is my oortuiging dat die navorsing, kennis, ondervinding en kontakte wat deur ons opgebou is vir die owerheid slegs tot voordeel kan wees en ek bied sonder huiwering my en die Stedelike Stigting se volle samewerking ... aan.94

Die Stigting het direk met regeringsleiers, asook amptenare wat met die implementering van nuwe hervormingsbeleid op grondvlak gesukkel het, gekommunikeer.95

Hierdie brugbourol is aangewend om ontwikkelingsprojekte te laat slaag, maar ook om die Stigting se veranderingsagentskapsrol te fasiliteer. Die Stigting het in 1985 'n strategie aangeneem om regeringsleiers te teiken wie se invloed noodsaaklik was om hulle strategie om 'n groter hervormingsrol te speel, te laat slaag. Die grootste deurbraak sou wees as die Stigting die staatspresident van hulle goeie bedoelings kon oortuig. Positief gestem deur pres. Botha se aankondigings tydens die parlementsopening van 1985, het regter Jan Steyn vir Botha in 'n brief versoek om hom te woord te staan, sodat hulle 'n gesprek oor swart persepsies en swart verwagtinge kon voer. Steyn het die agenda vir so 'n besoek soos volg voorgestel: die onderhandelingsproses; burgerskap; die konstitusionele raamwerk waarbinne die staatsbestel gegiet behoort te word; instromingsbeheermaatreëls; eiendomsreg; toegang tot ekonomiese geleenthede; onderwys vir swart kinders; en die wyse waarop die uitskakeling van diskriminerende maatreëls hanteer moes word. Hierdie versoek is deur Botha van die hand gewys.96 Die Stigting se bereiking van sosio-ekonomiese teikens het 'n politieke implikasie gehad wat òf teen die beleid van afsonderlike ontwikkeling gerig was, òf sou vereis dat hervormings versnel moet word. Met ander woorde, dit was 'n politieke warm patat.

Nadat hierdie poging misluk het, het die Stigting ander politieke rolspelers geteiken. Onder hulle was ekonomiese en politieke rolspelers97 soos Gerhard de Kock (goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank),98 Wim de Villiers (minister van Administrasie en Privatisering onder De Klerk),99 Barend du Plessis (minister van Finansies),100 Jan Lombard (vise-president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank),101 Chris Stals (goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank),102 Amie Venter (minister van Plaaslike Bestuur en Behuising in die ministersraad van die volksraad),103 Kobus Meiring (administrateur van Kaapland)104 en staatsamptenare soos Neil van Heerden (direkteur-generaal van Buitelandse Sake)105 en Gilles van de Wall (direkteur-generaal in die departement van Ontwikkelingshulp).106

Omdat die Stigting se projekte veral op opvoeding en opleiding gekonsentreer het, het Steyn moeite gedoen om 'n goeie verhouding met prof. Gerrit Viljoen, die minister van Onderwys (1980-1989 en later, in 1989-1992 die minister van Konstitusionele Ontwikkeling) te bou.107 Die Stigting se sukses om 'n goeie band met verligte ministers vas te lê, was feitlik verseker, omdat meeste sakelui, die Stigting en die polities verligte groep in die NP dieselfde siening oor die belangrikheid van hervorming gedeel het.108 Die vriendskaplike band wat daar tussen Steyn en Viljoen ontwikkel het, word in die volgende geïllustreer:

Dit is vir my 'n groot bemoediging dat daar 'n moontlikheid bestaan dat jy aktief betrokke gaan wees by 'n onderhandelingsproses. Indien ek van my kant iets kan doen om sodanige taakopdrag wat jy mag ontvang te kan help bevorder, sou ek bereid wees om op 'n streng vertroulike basis sodanige rol as wat ons mag ooreenkom, te speel. Klaarblyklik sal enige inisiatief in die verband van jou kant moet kom en indien die verwagte gebeur, sien ek vooruit daarna om sodanige bydrae te maak as wat jy mag goed dink.109

Dat hierdie gedeelde siening tot sakelui se politieke invloed bygedra het, word gesien in 'n brief van Gerrit Viljoen aan Steyn, na Viljoen 'n besoek aan projekte van die Stigting in Johannesburg en Durban afgelê het. Viljoen skryf dat dit 'n "prikkelende en leersame ervaring" was en dat dit "besielend (was) om te sien hoeveel praktiese entoesiasme gegenereer word deur die Stigting se werk".110 Viljoen het hierna sy direkteur-generaal gekontak om 'n voorlegging van die Stigting aan alle senior personeel van sy departement te reël en om Steyn te kontak oor "regswysigings met die oog op die toekenning van eiendomsreg aan swart mense".111 Hierdie is 'n duidelike voorbeeld van waar die Stigting invloed op politieke beleid en nie net op sosio-ekonomiese aspekte van politieke beleid uitgeoefen het nie.

Regter Jan Steyn, bewus van die gebrek aan politieke insig onder die meeste blanke sakelui, het hard daaraan gewerk om konsensus oor die belangrikheid van politieke hervorming te bewerkstellig. Hoof uitvoerende beamptes van groot maatskappye is daarom by die bestuur van die Stigting betrek en vooraanstaande sakeleiers is byeengebring om op 'n "hoë politieke vlak" op te tree.112 Die Stigting het ook noue samewerking met werkersverteenwoordigers (soos Fritz Stockenström - die uitvoerende direkteur van die AHI) in hulle strategie beoog.113 Steyn het hierdie samewerking gekry:

Beste Stokkies, Baie waardering van ons spanwerk asook die groot persoonlike risiko's en bydraes wat jy gemaak het in ons poging om 'n waardevolle bydrae tot die voordeel van ons land te maak, is ook by my 'n riem onder die hart.114

Die Stigting het sy hervormingsdoelwitte ondubbelsinnig aan die sakegemeenskap verkondig. In korrespondensie aan J.L.J. van Vuuren, die besturende direkteur van Volkskas, het Steyn geskryf:

Dan sien ons 'n dinamiese rol vir die Stigting in die hervormingsproses. Die sukses wat reeds behaal is ten opsigte van byvoorbeeld eiendomsreg vir swartes en die bevordering van huiseienaarskap, dien vir ons as aansporing tot verdere goed beplande aktiwiteite.115

Jan Steyn het ook invloedryke mense wat na aan die politieke besluitnemers gestaan het, as konsultante by die Stigting aangestel. Een daarvan was prof. Willem de Klerk, die broer van F.W. De Klerk (minister van Binnelandse Sake van 1982 tot 1985 en daarna P.W. Botha se opvolger as staatspresident). Steyn het in 'n vertroulike interne memorandum aan die Stigting se uitvoerende hoofde geskryf dat hoewel Willem de Klerk in onguns by pres. Botha en Nasionale Pers verval het (omdat hy na die nuutgestigte Demokratiese Party oorgeloop het), hy steeds vir die Stigting 'n "formidable ally" kon wees, want "He still has an excellent relationship with his brother (F.W. de Klerk) and with Gerrit Viljoen". De Klerk se aanstelling moes veral sorg dat die Stigting se doelwitte met betrekking tot die skrapping van die Groepsgebiedewet bereik word.116 Prof. Willie Esterhuyse van die Universiteit van Stellenbosch, wat vir lank die regering se skakel met die verbanne ANC was, is ook as konsultant aangestel. Kerneels Human (voorsitter van Federale Volksbeleggings Beperk en die swaer van Fred Stiglingh - die regterhand van Jan Steyn by die Stigting)117 was vroeg reeds as goewerneur van die Stigting aangestel.118 Human het as voorsitter van die invloedryke Ekonomiese Adviesraad gedien, waar hy die Stigting gehelp het om hulle hervormingsdoelwitte ten opsigte van 'n positiewe verstedelikingstrategie, lewering van behuising, onderwysgriewe en swart bemagtiging te bereik.119

 

Die Stigting se rol in die hervorming van wetgewing

In die laat 1970's het die Stigting die regering gedruk om 'n 99-jaar pagstelsel vir stedelike swartes ingestel te kry. Nadat dit ingestel is, het die Stigting verdere druk toegepas en daarin geslaag om die regering te oortuig om stedelike swartes volle eiendomsreg te gee.120 Die afskaffing van instromingsbeheer in 1985 en die aanname van 'n positiewe verstedelikingstrategie deur die regering, was 'n verdere veer in die hoed van die Stigting.121 Die hoofdoel van die Stigting was egter om stuksgewys apartheidswetgewing te verwyder.122

In 'n vertroulike brief aan Sam van Coller van die Steel and Engineering Industries Federation of South Africa (Seifsa), het regter Steyn 'n dinkskrum voorgestel, waartydens eendersdenkendes 'n strategie kon formuleer om die skrapping van die Groepsgebiedewet te bewerkstellig. Die volgende persone is vir die dinkskrum oorweeg: akademici soos proff. S.P. Cilliers, W. Esterhuyse, Marinus Wiechers, Fick de Koning (van die Randse Afrikaanse Universiteit) en Pieter de Lange (voorsitter van die Afrikaner Broederbond); Stigting-lede soos Ann Bernstein, Jill Strelitz, Ben van der Ross, Obed Kunene; NP-lede soos Wynand Malan en Leon Wessels; en sakeleiers soos Mike Rosholt, Zac de Beer, Leon Bartel en Johan Moolman.123 Die besluit is geneem om eerste op wetgewing wat vryheid van beweging ingeperk het, soos die Ordelike Beweging en Vestiging van Swart Persone Wetsontwerp en die Wetsontwerp op Swart Gemeenskapsontwikkeling te fokus.124

Die Stigting het hulle dit ten doel gestel om die Ordelike Beweging en Vestiging van Swart Persone Wetsontwerp onttrek te kry of onbepaalbaar uitgestel te kry en om die regering tot 'n positiewe verstedelikingstrategie oor te haal, wat net op die beheer van die tempo van verstedeliking sou fokus. Simpatieke lede van die kabinet en kabinetskomitee, asook sekere lede van die grondwetlike komitee van die parlement wat met verstedeliking gemoeid was, staatsdiensamptenare en sleutelpersone in die privaat sektor se steun sou vir hierdie doelwit gewerf word. In die proses sou die regering beïnvloed word om die kabinetskomitee op Stedelike Swartes te gebruik as 'n voertuig vir "ware" kommunikasie met swart leierskap ("institutional, non-institutional, whether moderate or radical") oor die kwessie van verstedeliking. Verder sou die dienste van uitstaande regsgeleerdes bekom word om die Stigting van raad te bedien. Die deelname van sleutelorganisasies soos Assocom, die Federated Chamber of Commerce and Industry (FCI) en die National African Federated Chamber of Commerce (Nafcoc)125 sou verseker word en redakteurs sou tydens besoeke oor die vordering van die Stigting ingelig word. Redakteurs se guns sou ook gewen word. Veral dié van "Wimpie de Klerk, Ton Vosloo, Bill Wepener, Tertius Myburgh, Harvey Tyson, T. Heard en Andrew Drysdale" is as noodsaaklik beskou.126

Ten opsigte van die Wetsontwerp op Swart Gemeenskapsontwikkeling het die Stigting dit as 'n doel gestel om te verseker dat hierdie wetgewing so vroeg as moontlik gepromulgeer sou word, nadat dit oortuig was dat die inhoud daarvan aanvaarbaar was. Dit sou reël vir gepaste kommunikasie oor die positiewe aspekte daarin beliggaam, maar ook oor enige voorbehoude daaromtrent. Die strategie sou insluit om met die gematigde dr. Piet Koornhof (die voormalige minister van Samewerking en Ontwikkeling, 19781984) en die leier van die huis van verteenwoordigers te vergader, om te verseker dat die wetgewing prioriteit aandag geniet en om die vordering van die wetgewing deur dié huis te moniteer.127

Met die regering se aankondiging dat dit nuwe wetgewing oorweeg het wat verwant aan die Groepsgebiedewet was, het dr. Rupert en Oppenheimer gewaarsku dat dit rasseverhoudinge sou skaad en strafmaatreëls teen Suid-Afrika sou laat toeneem. In 'n openbare persverklaring het hulle regter Jan Steyn se standpunt dat die wetgewing uitgestel moes word, gesteun.128 Beeld se beriggewing toon dat kommentaar op die wetsontwerp in die openbaar en privaat, daarop gedui het dat die "top-laag" Afrikaners ontsteld was oor sekere bepalings van die wysigingswetsontwerpe en rampspoedige gevolge vir kleurverhoudinge en betrekkinge met die buiteland verwag het.129 Sakelui het vir meer konsultasie gevra en die voorstelle in die openbaar gekritiseer: "It was one of the strangest warnings ever to be issued by such a diverse and influential grouping". 130 Die invloed van die Stigting en sakelui het veroorsaak dat die regering onder druk geswig het. Dr. Rupert is deur diegene wat teen versnelde hervorming of magsdeling gekant was, verkwalik vir die ommekeer wat die regering gemaak het.131

Die Stigting het die voorgestelde Swart Plaaslike Regeringswetgewing gesteun. Dit was van mening dat - vir die interim - plaaslike swart regeringstrukture ontwikkel moes word deur op die "gesonde voorsienings" van die voorgestelde Swart Plaaslike Regeringswet te fokus. Deur plaaslike rade en regerings te versterk sou stabiliteit na swart woongebiede kon terugkeer. Versterking van die rade kon as teenvoeter vir die ontwikkeling van 'n rewolusionêre gees dien. Kalmer gemoedere sou dialoog tussen die regering en plaaslike swart leiers aanmoedig en kon die verhouding tussen die swart gemeenskap en regering versterk.132 Om te verhoed dat die voorgestelde wetgewing apartheid egter verder sou versterk, het die Stigting in reaksie op die regering se voorstel vir finansiële meganismes rakende die befondsing van plaaslike swart regerings, besluit om hulle kommer oor die verwysing na staatswaarborge uit te spreek. Minister Gerrit Viljoen het Steyn egter gerusgestel dat die voorstelle oor staatswaarborge vir bougenootskappe in selfregerende nasionale state uit die regulasie geskryf is.133

Druk van sakelui in die Stigting teen apartheidswetgewing het volgens Lipton tot die erosie en verwydering van talle apartheidsmaatreëls bygedra. Met die ontbanning van die ANC en aanvang van onderhandelings om 'n nuwe politieke bestel, was baie van die kerneienskappe van apartheid reeds tot niet. Dit sluit werksreservering, paswette, wetlik gesegregeerde onderwys, beperkings op swartes se toegang tot opleiding en vakleerlingskappe, huiseienaarskap en sakegeleenthede, asook die wetlike beperkings op sosiale en geslagtelike verkeer (insluitende huwelike oor rasgrense heen) in. Teen 1990 was meeste van die wetlik verskanste apartheidsmaatreëls afgeskaf, met die uitsondering van die Wet op Grondbesit en algemene stemreg.134

 

Die ontstaan van nuwe ontwikkelingsagentskappe

Die veranderingsagentskapsrol van die Stigting is direk geraak deur die aankondiging van pres. F.W. de Klerk in Februarie 1990 dat onderhandelings met verbanne organisasies aangeknoop sou word om 'n politieke oplossing te vind. Samewerking met die regering, 'n gestruktureerde en stelselmatige benadering rondom die verwydering van apartheidswetgewing, goedkeuring van swart plaaslike regerings en die teenkanting van sanksies het die Stigting se aansien onder swartes geknou, sodat dit nie steun vir 'n veranderingsrol kon werf nie. Jan Steyn noem dan ook dat die Stigting te stadig gewerk het om politieke hervorming deur te voer, omdat dit binne 'n filosofiese raamwerk van evolusionêre verandering gewerk het.135 Dit het veroorsaak dat die Stigting sy rol in die hervorming van die Suid-Afrikaanse politiek nie kon uitbrei toe dit duidelik geword het dat 'n swart regering onafwendbaar was nie. Hierdie rol is toenemend deur die Consultative Business Movement (CBM) na dié se stigting in 1988 oorgeneem. Die CBM is as anti-apartheidsbeweging geposisioneer en omdat dit sonder enige historiese bagasie was, is dit spoedig deur meeste sakelui ondersteun.136

Die ontwikkelingsagentskapsrol van die Stigting is verder deur die stigting van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (OOT) onder druk geplaas. Die OOT, met 'n kapitale waarde van R2-miljard, is op 2 Februarie 1990 deur pres. F.W. de Klerk in die lewe geroep om die sosio-ekonomiese agterstand in swart gemeenskappe deur ontwikkelingsprojekte aan te spreek. Jan Steyn is persoonlik deur De Klerk gevra om hierdie organisasie te lei.137 Met Steyn se vertrek van die Stigting en die CBM wat as voorloper in die stryd om 'n politieke veranderingsagentskapsrol vir sakelui op die voorgrond getree het, het die Stigting homself geposisioneer om 'n sterker ontwikkelingsrol te speel. Die Stigting het in Junie 1990 aangekondig dat die befondsingsrol daarvan vir 'n ontwikkelingsagentskapsrol gaan verruil. As ontwikkelingsagentskap sou dit 'n toekomsgerigte strategie aanneem, deur veranderings wat die onreg van die verlede sou aanspreek, te steun en 'n toekomsvisie te erken wat aan elke individuele burger politieke tevredenheid en ekonomiese groei sou bied.138 Hierna het die Stigting voortgegaan om 'n sosio-ekonomiese rol vir die skepping van 'n postapartheid ekonomie in die nuwe Suid-Afrika te speel.

Met die koms van nog rolspelers in die ontwikkelingsomgewing in 'n positiewe politieke klimaat (na 1990) het die sakegemeenskap stappe geneem om die koördinasie van ontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika te verbeter. Die OOT en die Ontwikkelingsbank se leiers (regter Jan Steyn en dr. Simon Brand) het daarom mekaar se bestuursvergaderings bygewoon.139 Mike Rosholt, die nuwe voorsitter van die Stedelike Stigting, was ook 'n trustee van die OOT.140 Die meeste lede van die CBM, insluitende Mike Rosholt en Fred Stiglingh, was ook lede van die Stedelike Stigting en vice versa. Hierdie samewerking en breëre koördinasie, het uiteindelik die amalgamasie van die CBM en Stedelike Stigting tot gevolg gehad. In 1995 het die twee organisasies saam die Nasionale Besigheidsinisiatief (NBI) onder die leiding van die verligte Afrikaner, dr. Theuns Eloff, gevorm.141

 

Evaluering van die Stigting

Die ontwikkelingsagentskapsrol van die Stigting was ooglopend suksesvol. Deur die Stigting is die verdeelde sakegemeenskap verenig en is hulle rol in die opheffing van die swart gemeenskap gekoördineer. Hierdeur is massiewe hoeveelhede geld van die sakesektor vir opheffingsaksies bewillig. Sosiale besteding het met 'n oordrag van vaardighede gepaard gegaan, sodat die Stigting se selfhelp-projekte en opgraderingsprojekte volhoubaar was. Die Stigting het van hierdie projekte in samewerking met die staat aangepak. Dit het tot die beter koördinering van fondse en die uitskakeling van duplikasie in ontwikkelingsprojekte gelei. Deur skakeling en samewerking met die staat, het die Stigting wetgewende-en institusionele masjinerie daargestel wat die sakegemeenskap toegelaat het om sy regmatige rol teenoor dié van die staat met betrekking tot sosiale ontwikkeling te speel. Die Stigting se grootste sukses in die verband was die verskaffing van laekostebehuising en die opgradering van plakkerkampe. Die Stigting het sy ontwikkelingsprojekte met deeglike navorsing begrond. Beleidsgerigte navorsing is onderneem, sodat van verstedelikingstendense en die invloed van regeringsbeleid op verstedeliking kennis geneem moes word. Sodoende kon die Stigting kritiek op regeringsbeleid met wetenskaplike bewyse staaf, met die gevolg dat die regering gedwing is om kennis van die Stigting se navorsingsuitsette te neem. In reaksie op hierdie navorsing, het die regering byvoorbeeld in 1986 'n progressiewe Witskrif oor Verstedeliking aangeneem.142 Navorsing oor ontwikkeling en die Stigting se rol daarin het dus ook die veranderingsagentskapsrol van die Stigting ondersteun.

In die Stigting het samewerking oor ras- en kultuurgrense heen die verdeelde Suid-Afrikaanse sakegemeenskap tot 'n groot mate gekonsolideer sodat dit 'n veranderingsagentskapsrol kon speel. Op die lang duur het die rol van die Stigting die weg vir die CBM gebaan om sakelui teen apartheid te mobiliseer.143 Groter samewerking en sakelui se blootstelling aan die praktiese realiteite van apartheid het die nodige konsensus ontwikkel oor die noodsaaklikheid van politieke hervorming en dat sakelui 'n rol hierin te speel het. Die Stigting se strategie om maatskappyhoofde daarby te betrek, het ook hiertoe bygedra. Met groter konsolidasie het groter invloed gekom, sodat sakelui dit kon regkry om die regering aan sy hervormingsbeloftes te bly herinner. Die oorbrugging van die twee blanke kulturele groepe se verskille het hierdie invloed versterk. Dit het aan Engelssprekende sakelui die kans gegee om hulle verligte politieke standpunte te lug. Dit het ook swart sakeorganisasieleiers insig in die politieke dilemmas van blanke sakelui gegee. Die veranderingsagentskapsrol van die Stigting is deur Afrikaner-sakelui se deelname versterk. Afrikaner-sakelui was na aan die politieke magsentrum en het hulle toegang tot NP-politici gebruik om die Stigting se werk te vergemaklik, maar ook om vir hervorming te agiteer. Die politieke beïnvloedingsrol van polities verligte Afrikaners binne die Stigting en veral Jan Steyn, word deur Engelssprekende sakelui erken.144 Dennis Worral, 'n Engelssprekende akademikus, sakeman, diplomaat en anti-apartheidspolitikus, het die volgende aan Steyn geskryf:

I would like you to know how very much I respect and admire what you have achieved with the Urban Foundation. Apart from raising the quality of life of many millions of people, you have actually shaped the private sector's role in our society. And that is no mean achievement.145

Nadat Suid-Afrikaanse sakelui in die Stigting standpunte en idees gewissel het en konsensus oor gemeenskaplike sake bereik het, kon hulle aspekte wat binne hulle invloedsfeer was, soos lone, behuising en mediese voordele vir hulle werkers aanpak. Dit het egter nie hier gestop nie. 'n Gekoördineerde strategie van sakelui het daartoe bygedra dat bykans alle apartheidswetgewing met die aanvang van politieke onderhandelings na Februarie 1990 afgeskaf is.

Na 1990 met die toetrede van mededingers soos die CBM en OOT, het die Stigting eerder op 'n ontwikkelingsagentskapsrol gefokus. Die Stigting kon nie sy veranderingsagentskapsrol verder voer nie, weens 'n gebrek aan geloofwaardigheid weens sy assosiasie met die regering en ondersteuning van regeringsbeleid. Tog het die Stigting die weg gebaan vir 'n organisasie soos die CBM om na 1990 'n suksesvolle politieke rol in die onderhandeling vir 'n Nuwe Suid-Afrika te speel. Die Stigting het sukses vir die CBM verseker deur die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap te konsolideer, deur konsensus vir hervorming onder polities oningeligte sakelui te bewerkstellig en deur sakelui se reputasie met die opheffing van gemeenskappe te herstel. Onder die Stigting se leiding is 'n kultuur van goeie korporatiewe beheer en van "tripple bottomline" rapportering by Suid-Afrikaanse sakelui gevestig. Die CBM het ook makliker steun van vryheidsbewegings vir 'n vryemark standpunt gekry, omdat die tradisie van sakelui se betrokkenheid by gemeenskapsopheffingsprojekte die vertroue van die swart gemeenskap (wat weens armoede vatbaar vir sosialisme was) in die vermoë van die kapitalistiese stelsel herstel het en dit sosialiste kon oortuig dat die vryemarkstelsel gemeenskapsontwikkeling kon bevorder en rykdom kon skep sonder dat die herverdeling daarvan nodig was.146

Die Stigting het ook as deel van sy veranderingsagentskapsrol, aan Afrikanersakelui 'n veilige front gebied om aktief teen diskriminasie op te tree. Dit het die uitgesprokenes gebuffer teen vervreemding van die Afrikaner-mark of om verwerping van hulle eie gemeenskap te vrees. Die Afrikaners wat in die diens van die Stigting werksaam was, soos Jan Steyn en Fred Stiglingh, het hierdie verwerping, aanvalle en dreigemente van geweld nie vrygespring nie.147 Hulle het egter aan Afrikaner-sakelui getoon dat die NP se weerstand van binne getoets kon word en dat daar plek vir Afrikaners buite die party was. Dit was die eerste en 'n belangrike stap om aan Afrikaners te toon dat dit binne die Afrikaner-kultuur aanvaarbaar was om die beleid van apartheid te kritiseer, te bevraagteken en om daaroor te redeneer. Aan die einde het hierdie persoonlike en professionele opofferings die houvas van die NP-regering oor sakelui verbreek, en soos Giliomee dit vertolk, die ideologiese samehorigheid van die regerende party versteur.148

 

 

Hierdie artikel is gebaseer op navorsing gedoen aan die Universiteit van Johannesburg se departement van Historiese Studies. S. Hoogenraad-Vermaak, " 'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui in die vestiging van 'n nuwe politieke bestel: 1985-1992", DLitt et Phil-proefskrif, Universiteit van Johannesburg, 2010.
1. Sien M. Shilowa se uitpraak in dié verband in die Financial Times (London edition), 14 November 1997, p 4.
2. Sien: M. Lipton, "The role of business under apartheid: Revisiting the debate", in H.E. Stolten, (ed), History making and present day politics: The meaning of collective memory in South Africa (Nordiska Afrikainstitutet, Uppsala, 2007).
3. Hoogenraad-Vermaak, " 'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui".
4. H. Giliomee, "Ethnic business and economic empowerment: The Afrikaner case, 1915-1970", South African Journal of Economics, 76, 4, 2008, pp 765-788.
5. S. Hoogenraad-Vermaak en G. Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap se rol ten opsigte van politieke mobilisering in die aanloop tot 'n nuwe Suid-Afrika, 1980-1992", Historia, 55, 2, 2010, pp 204-206.
6. Onderhoud met Attie du Plessis, Moolenhof, Johannesburg, 13 Mei 2008. Sien ook: H.O. Terblanche, "Lojale verset: Piet Cillié en die oop gesprek", Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 44, 4, 2004, pp 263-275.
7. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", pp 204-206.
8. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", p 209.
9. Financial Mail, 16 February 1979, p 4.
10. J. Dagut, "Some demographic observations on White urbanisation in South Africa, 1904-1948", South African Journal of Economic History, 3, 2, 1988, pp 17-18.
11. Dagut, "Some demographic observations", pp 17-18.
12. Dagut, "Some demographic observations", pp 19-20.
13. K. Sevenhuysen, "Owerheidsbeheer en -wetgewing rakende stedelike swart behuising voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog", Historia, 40, 1, 1995, pp 91-92.
14. In 1946 is 'n kommissie aangestel om wette rakende stedelike swartes te ondersoek en 'n toekomsbeleid te formuleer. Dit is die Naturellewettekommissie of Fagan-kommissie genoem en het in 1948 'n verslag uitgereik.
15. Sevenhuysen, "Owerheidsbeheer en -wetgewing", p 105.
16. J. Michie and V. Padayachee, The political economy of South Africa's transition (Dreyden Press, London, 1997); S. Jones (ed), The decline of the South African economy (Edward Elgar Publishing Inc, Cheltenham, 2002), pp 1-3; G. Maasdorp, "Economic survey, 1970-2000", in Jones, (ed), The decline of the South African economy, pp 7-10.
17. Onderhoud met Attie du Plessis, 13 Mei 2008. Sien ook: A.H. van Wyk, "Die rol van verligtes in die Nasionale Party in die politieke ontmagtiging van die Afrikaner, 1966-1994", MAverhandeling, Universiteit van Pretoria, 2005, p 56; C. van der Westhuizen, White power and the rise and fall of the National Party (Zebra Press, Cape Town, 2007), p 68; Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (hierna KAB): A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Toespraak deur dr. Chris van Wyk, besturende direkteur van Trustbank tydens die jaardinee van die Afrikaanse Sakekamer in Port Elizabeth, 13 September 1985".
18. Sien die onderhoud met Barend du Plessis, Kosmos, 19 November 2008.
19. E. Dommisse, Anton Rupert: 'n Lewensverhaal (Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2005).
20. Evening Post, 26 June 1978, p 4; The Cape Times, 5 December 1977, p 12; The Sowetan, 5 June 1981, p 5.
21. Onderhoud met Jan Steyn, Constantia, Kaapstad, 7 April 2009.
22. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
23. Evening Post, 26 June 1978, p 4.
24. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
25. Evening Post, 26 June 1978, p 4; The Cape Times, 5 December 1977, p 12.
26. Onderhoud met Michael Spicer, Business Leadership South Africa-kantore, Johannesburg, 10 Julie 2008.
27. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 26 April 198529 November 1985, "Annexure I: Reform in South Africa: The objectives and the means for their attainment, Internal memorandum to all regional directors, from Sue Golding-King", pp 54-61, gedateer 31 Oktober 1985.
28. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 26 April 198529 November 1985, "Annexure I: Reform in South Africa: The objectives and the means for their attainment, Internal memorandum to all regional directors, from Sue Golding-King", pp 54-61, gedateer 31 Oktober 1985. Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 4 Desember 1986".
29. D. Smit, "The Urban Foundation: Transformation possibilities", Transformation, 18, 1992, pp 34-42.
30. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Management Executive Minutes 1984, "Education and Training," p 7. Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 1985, "A Meeting of the Executive Committee of the Eastern Cape Regional Board of the Urban Foundation will be held at 08:30 on Friday 24 May 1985 in the Board Room of the Offices of the Urban Foundation at 14 Parliament Street, Port Elizabeth". Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 1985, "Minutes of a meeting between the Executive Committee of the Eastern Cape Region of the Urban Foundation held on Friday 29th November 1985 in the boardroom of the Urban Foundation Offices at 14 Parliament Street, Port Elizabeth, agenda bespreking van video onderwysprojek, Zenzele voorskoolprojek en READ biblioteekprojek", p 1.
31. Evening Post, 26 June 1978, p 4; The Cape Times, 5 December 1977, p 12.
32. Lipton, "The role of business under apartheid", pp 296, 298-299; Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 20 September 1988"; Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 1 April 1989, P.D.F Strydom, Sankorp Sosiale Betrokkenheid".
33. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 1985, "Minutes of a meeting of the Executive Committee of the Eastern Cape Regional Board at the Urban Foundation held on Friday 28th June 1985, agenda punt 3.3.", p 2.
34. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 5 Januarie 1988 en 13 November 1987".
35. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 18 Mei 1987".
36. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 13 November 1987".
37. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 19 Oktober 1987".
38. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 16 Januarie 1987".
39. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sep 1984, "Korrespondensie 20 Mei 1985"; Beeld, 10 Julie 1981, p 9.
40. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sep 1984, "Korrespondensie 20 Mei 1985".
41. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sep 1984, "Korrespondensie 20 Mei 1985".
42. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sep 1984, "Korrespondensie 20 Mei 1985", "Korrespondensie 22 Maart 1985", "Korrespondensie 28 Januarie 1985". Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Korrespondensie 12 September 1985".
43. Beeld, 16 September 1978, p 1.
44. Sunday Times, 6 August 1978, p 8; KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Daily Letter File Sep 1984, "Korrespondensie 4 Julie 1985", tussen Steyn en me E. Linde - die regsadviseur en sekretaris van Sanlam.
45. Annual Report Urban Foundation, September 1985.
46. Die Oosterlig, 26 Desember 1978, p 3.
47. Die Burger, 25 Februarie 1980, p 11.
48. Sunday Times, 18 January 1981, p 8.
49. Sunday Times, 18 January 1981, p 8.
50. Smit, "The Urban Foundation", pp 35-42.
51. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 13 Desember 1988 van Jan Steyn aan Beyers Naudé".
52. The Citizen, 30 August 1985, p 25; Beeld, 3 September 1985, p 17; Business Day, 30 August 1985, p 1.
53. The Daily News, 15 August 1985, p 5; The Daily News, 10 September 1985, p 3.
54. Evening Post, 25 October 1985, p 10; Beeld, 3 September 1985, p 17; Smit, "The Urban Foundation" pp 38-10.
55. Beeld, 3 September 1985, p 17.
56. Finansies en Tegniek, 25 Augustus 1989, p 20.
57. Business Day, 30 August 1985, p 1; Beeld, 3 September 1985, p 17.
58. Rapport, 5 Mei 1985, p 14; Beeld, 3 September 1985, p 17.
59. Lipton, "The role of business under apartheid", pp 296, 298-299.
60. Lipton, "The role of business under apartheid", pp 296, 298-299.
61. Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Management, 4 November 1986"; Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Discussion Document: Equal Employment Opportunity, Mei 1987", p 1.
62. Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 28 Januarie 1988".
63. Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Discussion Document: Equal Employment Opportunity, Mei 1987", p 1; Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 5 Mei 1987".
64. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
65. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
66. Onderhoud met Michael Spicer, 10 Julie 2008; Hoogenraad-Vermaak, "'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner sakelui", pp 121-123.
67. Daar is verwag dat Botha ingrypende hervormings sou aankondig met sy Rubicon-toespraak op 15 Augustus 1985 in Durban, maar dit het nie gebeur nie. Hierna is Suid-Afrika feitlik onmiddelik versoek om sy korttermynlenings terug te betaal, wat sowat 67 persent van die land se buitelandse lenings uitgemaak het. Dit het ekonomiese groei negatief geraak. Buitelandse banke het ook hulle Suid-Afrikaanse aandele verkoop. Onderhoud met Barend du Plessis, 19 November 2008; Maasdorp, "Economic survey, 1970-2000", pp 14-18.
68. Y. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies oor die invloed van die Suid-Afrikaanse sakesektor op openbare beleidsformulering", DPhil-proefskrif, Universiteit van Kaapstad, 1990; J. Maree, "Trade unions and corporatism in South Africa", Transformation, 21, 1993, pp 24-54; Van Wyk, "Die rol van verligtes", pp 59-71. Van Wyk noem dit 'n fase van aanvanklike verligte politiek.
69. Onderhoud met Barend Du Plessis, 19 November 2008.
70. Van Wyk, "Die rol van verligtes", pp 78-79.
71. Address by State President P.W. Botha DMS on the occasion of the opening of the federal congress of the National Party on 12 August 1986 in Durban (Republiek van Suid-Afrika, 1986). Op p 6, onder die opskrif "Diversiteit", stel Botha dit dat Suid-Afrika 'n land van diverse groepe is wie se vryhede uitgebrei sou moes word en op p 7 onder die hoofskrif "Die verspreiding en verdeling van mag", noem hy dat Suid-Afrika besig was met die verspreiding en deel van mag (binne 'n evolusionêre raamwerk), nie net op konstitusionele vlak nie, maar ook op sosiale en ekonomiese gebied.
72. Van Wyk, "Die rol van verligtes", p 85; W.A. de Klerk, F.W. de Klerk. Die man en sy tyd (Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 1991), p 112.
73. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning 1985/86".
74. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 4.
75. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 3.
76. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 3.
77. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
78. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 4.
79. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
80. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 4.
81. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 4.
82. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): H/4 + H/5, "Strategic Planning", p 4.
83. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", pp 209-211.
84. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sept 1984, "Briewe gedateer 6 en 7 Junie 1985", gerig aan Buthelezi.
85. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): "Report on Meeting with Black Leadership Groups on 25 January 1988, Interne distribusie, gedateer 28 Januarie 1988".
86. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, doe Anglo American Corporation, "Korrespondensie 7 Oktober 1985", waarin Viljoen vra dat Steyn 'n geleentheid sou reël om hom met Buthelezi en 'n paar sakeleiers bymekaar te bring. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie 29 Augustus 1985", waar Steyn aan Viljoen skryf dat Buthelezi en Dhlomo sy gaste sal wees. Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 4 Dec 1989 tussen Jan Steyn en minister Eli Louw", waar Steyn vir dr. Magoba aanbeveel vir 'n regeringstaak.
87. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Korrespondensie 1 Augustus 1985", waar Steyn vir Tutu bedank omdat hy hom die vorige dag kon sien.
88. Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 26 Junie 1986".
89. Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Raad, 20 Mei 1986".
90. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Van Heerden Neil, Van der Post Willem en USA-Urban Foundation, "Korrespondensie met Van Heerden 11 April 1988", waar Steyn aanbied om Sir Edward Heath tydens 'n besoek aan Suid-Afrika aan Pik Botha en Gerrit Viljoen bekend te stel. Heath was 'n Britse konserwatiewe politikus en eerste minister van die Verenigde Koninkryk (1970-1974), asook leier van die Konserwatiewe Party (1965-1975). Hy was 'n lid van die Britse parlement van 1950 tot 2001.
91. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Van Heerden Neil, Van der Post Willem en USA-Urban Foundation, "Korrespondensie met Van Heerden 11 April 1988".
92. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sep 1984, "Navorsingsverslag van Esterhuyse: Die polities-destabiliserende effek van instromingsbeheermaatreëls", pp 2,4-5.
93. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 1985, "A Meeting of the Executive Committee of the Eastern Cape Regional Board of the Urban Foundation will be held at 08:30 on Friday 24 May 1985 in the Board Room of the Offices of the Urban Foundation at 14 Parliament Street, Port Elizabeth, Annexure A, p 4 "Research Project: Affordable Housing".
94. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 19 Mei 1989".
95. H. Oppenheimer, "The age of reason", Leadership SA, 9, 5, 1990, p 10.
96. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Brief van Steyn aan P.W. Botha, 5 Augustus 1985".
97. Die poste wat die persone tydens briefwisseling met die Stigting beklee het, word in hakies agter hulle name aangedui.
98. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 4 Augustus 1989", (na De Kock se afsterwe is dit eers die 7de aangestuur).
99. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 18 September 1989", waar Steyn vir De Villiers gelukwens met sy aanstelling as minister.
100. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Korrespondensie 5 November 1985", persoonlik gerig aan minister Du Plessis.
101. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 8 Desember 1986", van Jan Lombard aan Steyn.
102. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Korrespondensie 19 Junie 1985", van Steyn aan die goewerneur, Chris Stals.
103. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 4 Julie 1989", waar Fred Stiglingh hom bedank vir 'n afspraak en meedeel dat daar raakpunte is oor finansiering van behuising oor die algemeen en hantering van subsidies in die besonder.
104. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 19 Mei 1989", waartydens Meiring met sy aanstelling gelukgewens word.
105. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (Ongeorden): Van Heerden Neil, Van der Post Willem en USA-Urban Foundation, "Korrespondensie met Van Heerden 11 April 1988".
106. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie van Fred Stiglingh van Stedelike Stigting op 30 Mei 1989 aan Van De Wall met sy aftrede".
107. KAB: A2562 Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Interne Memo 3 Februarie 1988", waar Steyn vrae aan Viljoen rig; KAB: A2562 Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Telex 15 April 1985", van Jan Steyn aan "RHL" (dr. Robin Lee) wat 'n besprekingspunt met Viljoen oor die aangewese wetgewing oor verstedeliking en instromingsbeheer aanvra. Ten opsigte van persoonlike kontak, sien: KAB: A2562 Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie 29 Augustus 1985".
108. Van Wyk, "Die rol van verligtes", veral pp 53-55. Sien ook die onderhoud met Barend du Plessis, 19 November 2008 en die onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
109. KAB: A2562 Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie 16 Junie 1987/8", (ongedateerd, gemerk "streng vertroulik") toe Viljoen nog minister van Onderwys en Ontwikkelingshulp was.
110. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File Sept 1984, "Korrespondensie 11 Junie 1985", om Viljoen uit te nooi na 'n gesprek, om op 2 Julie 1985 die dag deur te bring met Willie Esterhuyse, Laurie Schlemmer en 'n paar swartes. Die toer sou wys by watter projekte die stigting betrokke is.
111. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie van Gerrit Viljoen aan Jan Steyn op 25 Julie 1985".
112. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 1985, "Minutes of a meeting between the Executive Committee of the Eastern Cape Region of the Urban Foundation held on Friday 29th November 1985, punt 15", verwysing na "Strategic Role" waarin benadruk is dat die beplanningskonferensie van 13-15 November 1985 aanvaar het dat 'n beïnvloedingsrol gespeel moes word en dat hervorming deel daarvan was, soos verduidelik in punt 16, met die aanbieding van die dokument "Reform in South Africa".
113. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 8 Desember 1986", waar Fritz vir Jan bedank vir die "... jaar van samewerking, hulpvaardigheid en voorreg om geprek te voer oor sake van gemeenskaplike belang".
114. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 21 Januarie 1987".
115. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 18 Mei 1987", met J.L.J. van Vuuren, die besturende direkteur van Volkskas.
116. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Interne memorandum gedateer 12 Mei 1987", gemerk "Vertroulik".
117. Onderhoud met Fred Stiglingh, Houghton, Johannesburg, 13 Mei 2009.
118. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Management Executive Minutes 1984, "Minutes of a Meeting of the board of directors held in the Committee Room, Soweto, on Tuesday 20 June 1984, Annexure A to Notice given of a meeting of the Board of Directors of the Urban Foundation on Thursday 9 August 1984".
119. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Streng Vertroulike Interne memorandum van Steyn aan Fred Stiglingh en Willie Esterhuyse"; KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File March 1985-December 1985, "Streng Vertroulike Interne memorandum, 9 September 1985", van Steyn aan Fred Stiglingh en Willie Esterhuyse, met brief aan Clewlow gedateer 6 September 1985 as aanhangsel.
120. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie van Gerrit Viljoen aan Jan Steyn op 25 Julie 1985".
121. Smit, "The Urban Foundation", p 37.
122. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Management: Executive Minutes 1984, "A Meeting of this Committee (Management Executive) will be held on Thursday 20 July 1984, at 8:30 in the Board Room, 3rd Floor, United Building, Fox Street, Johannesburg, Agenda point 7: "Group Areas Act - Black Participation in CBD Areas, Annexure C (Internal Memo dated 17th July 1984)".
123. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 5 Desember 1986", gemerk "Vertroulik".
124. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Management: Executive Minutes 1984, "A Meeting of this Committee (Management Executive) will be held on Thursday 20 July 1984, at 8:30 in the Board Room, 3rd Floor, United Building, Fox Street, Johannesburg, Agenda point 7: "Group Areas Act - Black Participation in CBD Areas, Annexure C (Internal Memo dated 17th July 1984)".
125. Sam Motsuenyane was die president van Nafcoc, maar ook een van die direkteure van die Stigting.
126. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1986, "Chief Executive Operational Plan 1984/1985", pp 1-2. Dit is dan ook verkry. Sien ook: KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Persverklarings op 22 April 1988".
127. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Management: Executive Minutes 1984, "Chief Executive Operational Plan 1984/5", p 12.
128. The Sunday Star, 21 August 1988, p 1.
129. Beeld, 22 Augustus 1988, p 8.
130. The Citizen, 22 August 1988, p 8.
131. Die Burger, 30 Augustus 1988, p 5; Die Afrikaner, 28 September 1988, p 1.
132. Hoogenraad-Vermaak, " 'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner sakelui", pp 118-133.
133. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, die Anglo American Corporation, "Korrespondensie 7 Oktober 1985". Hierin druk Steyn sy kommer uit oor die staatswaarborge vir bougenootskappe in selfregerende nasionale state. Viljoen antwoord op 3 Oktober 1985 deur te laat weet dat dit deur Barend du Plessis uitgeskryf is, maar dat hy sy direkteur-generaal gevra het om hoë prioriteit daaraan te gee.
134. Lipton, "The role of business under apartheid", p 293.
135. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
136. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", pp 204-225.
137. Onderhoud met Jan Steyn, 7 April 2009.
138. Die Transvaler, 3 Julie 1991, p 19; Business Day, 3 July 1991, p 3; The Star, 3 July 1991, p 5; Die Transvaler, 4 Julie 1991, p 6; The Daily News, 4 July 1991, p 16.
139. Business Day, 3 July 1991, p 3.
140. The Cape Times, 12 April 1991, p 3.
141. Insig, Januarie 1999, p 18; The Daily News, 24 January 1995, p 3; Sowetan, 1 February 1995, p 4.
142. Smit, "The Urban Foundation", pp 37-40.
143. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", pp 214-224, veral 222.
144. Onderhoud met Michael Spicer, 10 Julie 2008.
145. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 17 November 1988".
146. Hoogenraad-Vermaak en Verhoef, "Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap", pp 204-225; Sankorpargief, Sanlam, Bellville: "Sankorp Bestuur, 18 Augustus 1987"; KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Eastern Cape Board Minutes 26 April 1985-29 November 1985, "Executive Committee Meeting, Agenda 29th November 1985", p 56.
147. Sien die onderhoude met Jan Steyn, 7 April 2009 en Fred Stiglingh, 13 Mei 2009.
148. H. Giliomee, Die Afrikaners: 'n Biografie (Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2004), p 574.