SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.56 no.2 Durban Nov. 2011

 

ARTIKELS

 

Militêre verhore in die Oranje-vrystaat tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902

 

Legal validity of military trials in the Orange free state during the Anglo-Boer war, 1899-1902

 

 

Jaco de Bruin; André Wessels

 

 


OPSOMMING

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het vernietigende gevolge vir die meeste van die inwoners van Suidelike Afrika ingehou, tot ontwrigting gelei en veel trauma veroorsaak. Die stryd het ook sy kwota omstrede voorvalle opgelewer, insluitend moordsake. Die regstelsel, wat in die gebied van toepassing was, is onder druk geplaas en soms in omstredenheid gedompel. Die dood van die Britse luitenant, Cecil Boyle, aan die begin van Januarie 1901 en die voortspruitende hofsake in 1901 en 1903, het tot veel spanning, omstredenheid en ongelukkigheid gelei - afhangende natuurlik vanuit wie se oogpunt na die gebeure gekyk word. In hierdie studie word die genoemde gebeure, soos ook die verhore van Stephanus Johannes Vilonel en J.J. Eva in historiese konteks geplaas en regshistories geïnterpreteer ten einde die regsimplikasies wat die Anglo-Boereoorlog vir die mense in die oorlogsgebied ingehou het (asook gedurende die periode na afloop van die stryd) uit te wys, en ook aan te dui hoe die regs- en historiese wetenskappe mekaar heel sinvol kan aanvul.

Sleutelwoorde: Anglo-Boereoorlog; Barend Celliers; Cecil Boyle; J.J. Eva; Orange River Colony (ORC); Oranje-Vrijstaat (OVS); Philip Botha; regsgeskiedenis; regstelsels; Stephanus Johannes Vilonel.


ABSTRACT

The Anglo-Boer War (1899-1902) had devastating consequences for most of the people living in Southern Africa at that time. It led to disruption and caused trauma. The struggle also produced its quota of controversial incidents (including murder cases), put the legal systems of the area under pressure, and sometimes plunged it into controversy. The death of the British lieutenant, Cecil Boyle, at the beginning of January 1901, and the ensuing court cases that followed in 1901 and 1903, led to much tension, controversy, and unhappiness - depending of course, from whose point of view the issues are looked at. In this study, the above-mentioned events, as well as the trials of Stephanus Johannes Vilonel, and of J.J. Eva, are placed in historical context, and interpreted from a legal historical point of view, in an effort to point out some of the legal implications that the Anglo-Boer War had for the people in the war zone, as well as for the post-war era. It also demonstrates that the legal and historical sciences can be complementary.

Key words: Anglo-Boer War; Barend Celliers; Cecil Boyle; J.J. Eva; judicial systems; legal history; Orange Free State (OFS); Orange River Colony (ORC); Philip Botha; Stephanus Johannes Vilonel.


 

 

Inleiding

Sedert die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902, het vele fasette van dié oorlog die onderwerp van 'n groot aantal studies en publikasies gevorm. Dit is egter opmerklik dat regspleging minder aandag geniet het. Hierdie artikel het ten doel om die militêre verhore in die Oranje-Vrystaat (OVS) tydens en kort na afloop van die oorlog te bestudeer. Daar bestaan baie min bronne rakende militêre verhore en ten einde die verhore te rekonstrueer, is daar dus van bronne soos dagboeke en oorlogherinneringe gebruik gemaak.

Ten opsigte van die verhore is drie sake gekies. Die eerste is dié van S.G. Vilonel, wat in die middel van 1900 op aanklag van hoogverraad verhoor is. Die verrigtinge in die Vilonel-verhoor bied 'n goeie oorsig van die normale verloop van die militêre verrigtinge voor 'n spesiale geregshof en 'n appèl na die hooggeregshof gedurende die oorlog. Die saak van J.J. Eva bied weer 'n meer tradisionele blik op krygsverrigtinge in die latere stadiums van die oorlog, waartydens verrigtinge voor 'n krygsraad plaasgevind het. Weer getuig die saak van 'n nougesette nakoming van prosedurele en substantiewe vereistes tydens die oorlog. In teenstelling hiermee staan die saak van Barend Celliers. Anders as die sake van Vilonel en Eva, waar die beskuldigdes van hoogverraad aangekla is, is Celliers van moord op 'n Britse soldaat aangekla. Celliers se saak is ook verder belangrik deurdat Celliers kort na afloop van die oorlog op dieselfde aanklag verhoor is. Laasgenoemde staan in noue verband met die gebruik van 'n liggaam wat nie oor die nodige bevoegdheid tydens die oorlog beskik het om die aangeleentheid aan te hoor nie.

Die verrigtinge in die Vilonel- en Eva-sake bied 'n handige vertrekpunt om met die verrigtinge in die Celliers-saak te vergelyk, veral deurdat beide sake daarop wys dat die OVS gedurende die verloop van die oorlog nougeset gepoog het om aan die prosedurele en substantiewe vereistes van verhore te voldoen. Die aard van die misdaad in die geval van Celliers, het egter daartoe aanleiding gegee dat Celliers van die algemene amnestie verleen kragtens die bepalings van die Vrede van Vereeniging uitgesluit is. Aan die hand van die bespreking hieronder sal gesien word dat die OVS die erns van die gebeure besef het en Celliers waarskynlik om dié rede ook verhoor het. Anders as die sake van Vilonel en Eva, sou die OVS egter 'n fout begaan in die keuse van die liggaam wat die saak aangehoor het. Vir Celliers sou dié fout daartoe aanleiding gee dat hy weer op dieselfde aanklag tereg moes staan.

 

Krygsreg, militêre reg en strafregtelike vervolgings

Ten aanvang is dit nodig om 'n onderskeid tussen militêre en krygsreg te tref. Militêre reg vind gewoonlik toepassing binne 'n weermag van 'n land ooreenkomstig die regsbepalings van die betrokke land. Krygsreg volg gewoonlik nadat 'n staat van oorlog verklaar is en behels die opskorting van die burgerlike reg binne 'n gebied. Bevelvoerders verkry kragtens die werking van krygsreg die bevoegdheid om bepaalde regsaangeleenthede te hanteer.1 Op 11 Oktober 1899 is krygswet in die OVS geproklameer. Die proklamasie van 11 Oktober 1899 vermeld duidelik dat gedurende die inwerkingstelling van "Krijgswet de zittingen en procedures van alle gerechtshoven van deze Staat in verband met civiele zaken gestaakt zijn".2

Misdade gepleeg, wat nie militêr van aard was nie, of nie binne die bepalings van die krygswet geval het nie, moes daarom binne die gewone strafhowe van die OVS aangehoor word. Die Krijgs - en Commandowet van 1899 het meer spesifiek met misdade van 'n militêre aard gehandel. Om hierdie rede het die proklamasie van 11 Oktober 1899 ook nie die werking van die geregshowe in strafsake opgeskort nie. Tog is dit insiggewend dat die OVS gedurende die verloop van die oorlog genoodsaak was om aanpassings te maak met die doel om 'n meer algemene jurisdiksie aan krygsrade te verleen. Hierdie aanpassing bied getuienis dat die OVS wel deur oorlogsomstandighede genoodsaak is om aan die probleem aandag te gee en ook kennis gedra het van die feit dat die aanvanklike bevoegdhede van militêre howe van so 'n aard was dat dit nie geskik was om ander vorms van misdade aan te hoor nie. Aanvanklik sou die OVS 'n nuwe spesialishof daarstel met 'n meer omvattende jurisdiksie. Om een of ander onbekende rede is daar later besluit om weer van krygsrade as militêre howe gebruik te maak. Dit het beteken dat die OVS weer met die meer beperkte jurisdiksie van krygsrade gekonfronteer sou word. Hierdie probleem is duidelik besef en is gevolglik ook by wyse van proklamasie hanteer.3

 

Die OVS se howe

a . Die hooggeregshof

Ten einde die verhore van Vilonel, Celliers en Eva beter te verstaan, is dit nodig om kortliks met die howe te handel wat tydens die oorlog beskikbaar was om sake aan te hoor. Hierbo is reeds daarop gewys dat die proklamasie van 11 Oktober 1899 alleen die jurisdiksie van geregshowe ten opsigte van siviele sake opgeskort het. Die hooggeregshof is egter nie gesluit nie, maar het verskeie sittings tot en met die besetting van Bloemfontein gehou.

Die werksaamhede van die hooggeregshof is wel met die uitbreek van die oorlog aan bande gelê omdat twee regters, naamlik J.B.M. Hertzog en H.G. Stuart, as juridiese adviseurs van onderskeidelik die westelike en suidelike krygsafdelings aangestel is. Sittings van die rondgaande hooggeregshof is wel vir November en Desember 1899 geskeduleer. Hierdie sittings is egter spoedig as gevolg van ongunstige omstandighede onbepaald uitgestel. Voorts het die staatspresident (M.T. Steyn) by wyse van 'n proklamasie in November 1899 gelas dat meer ernstige, strafregtelike oortredings steeds deur 'n rondgaande geregshof aangehoor kon word.4 Laasgenoemde is veral belangrik omdat die proklamasie duidelik daarop wys dat die OVS aanvanklik nie ten doel gehad het om 'n meer omvattende, strafregtelike jurisdiksie aan krygsrade te verleen nie.

Aan die einde van Februarie 1900 is weer gepoog om sittings van die rondgaande hof by wyse van proklamasies te skeduleer. Vir dié doel is regter Stuart van Colesberg ontbied. Die oorlogsgety was in hierdie stadium reeds besig om teen die republikeinse oorlogspoging te draai. Enkele dae later sou 'n republikeinse leër te Paardeberg tot oorgawe gedwing word en op 13 Maart 1900 is die OVS regeringsetel beset. Die hoofregter, M. de Villiers, sowel as regter Stuart, het met die besetting van die regeringsetel in die stad agtergebly. Volgens Brink is Hertzog na afloop van die besetting van Bloemfontein as waarnemende hoofregter aangewys, terwyl advokate F.R. Cronjé en

H. Hugo onderskeidelik as eerste en tweede waarnemende strafregters aangestel is. Hierdie hof het waarskynlik die laaste keer op 12 Julie 1900 in die appèl van S.G. Vilonel gesit.5 Dus kon die hooggeregshof teoreties, ten spyte van die verlies van twee van sy regters, sy werksaamhede tydens die oorlog voortsit.

Vir doeleindes van dié artikel is dit nie nodig om volledig met die jurisdiksie van landdroshowe te handel nie, veral aangesien die misdade in die geselekteerde verhore van 'n meer ernstige aard was en daarom nie binne die jurisdiksie van die landdroshowe geval het nie.

b . Krygsrade

Ingevolge artikel 57 van die Krijgs- en Commandowet was daar 'n krygsraad in elke krygsafdeling. Aan die hand van artikels 58 tot 63 blyk dit duidelik dat 'n krygsraad 'n militêre geregshof, en nie 'n militêre besluitnemingsliggaam of krygsvergadering was nie. So handel artikel 58 met misdade wat 'n krygsraad kon bereg: "[H]oogverraad, opstand of oproer tegen de regeering, verraderlijke verstandhouding met den vijand, of hulpbetooning aan zoodanigen vijand of oproermakers [...]." Dit is duidelik dat 'n krygsraad, in terme van die bepalings van die Krijgs- en Commandowet, nie die jurisdiksie gehad het om beskuldigdes op aanklag van moord te verhoor nie. Laasgenoemde is veral belangrik in die saak van Celliers. Dit het egter nie beteken dat die staatspresident sy wetgewende bevoegdhede kon gebruik om die jurisdiksie vir krygsrade uit te brei om moord in te sluit nie. Laasgenoemde sou aan die hand van Wet 34 van 1899 kon geskied. Hieronder word trouens gesien dat die staatspresident dit later ook gedoen het. Artikel 59 het aan die krygsraad dieselfde jurisdiksie, met betrekking tot vonnisoplegging, as dié van 'n rondgaande geregshof verleen. Voorts handel artikel 59 met appèlle teen die beslissing van 'n krygsraad en die prosedurele vereistes in gevalle waar 'n beskuldigde deur die krygsraad ter dood veroordeel is. Artikel 60 het bevoegdheid aan die uitvoerende raad verleen om die prosedure vir beoordeling voor 'n krygsraad daar te stel. Voorts het artikels 61 en 62 bepaal dat die prosedures, soos deur die Wetboek van den Oranjevrijstaat bepaal, met betrekking tot die aanbied van getuienis, ook in 'n sitting van 'n krygsraad van toepassing was. Laastens het artikel 63 vereis dat die notule van 'n sitting van 'n krygsraad so spoedig moontlik na die staatspresident versend moes word.6 In die saak van Eva sal gesien word dat die OVS hierdie vereistes nougeset nagekom het.

c . Spesiale militêre howe

Bo is reeds vermeld dat krygsrade as militêre howe 'n baie beperkte jurisdiksie gehad het. Die besetting van die OVS deur die Britse magte het na alle waarskynlikheid daartoe aanleiding gegee dat daar aan die gebrekkige jurisdiksie van krygsrade, kort na afloop van die val van Bloemfontein, aandag gegee is deur die skepping van 'n nuwe hof met 'n meer algemene strafjurisdiksie. Aan die einde van Maart 1900 is ook besluit om 'n spesiale militêre geregshof te skep met die doel om "misdaden en overtredingen van eenen militairen aard in verhoor te kunnen nemen, zoowel als andere misdaden en overtredingen" waarvoor voorsiening gemaak is, te kon bereg. Laasgenoemde misdade het desersie en spioenasie ingesluit. Hierdie hof het as die Speciale Militaire Gerechtshof bekend gestaan. Die proklamasie verwys na 'n spesiale militêre geregshof, sowel as laer spesiale militêre geregshowe. Die spesiale militêre geregshof het dieselfde strafjurisdiksie as 'n hooggeregshof gehad. Dié hof het ook jurisdiksie oor artikel 58-misdrywe, soos deur die Krijgs- en Commandowet bepaal, gehad.7

Laer spesiale militêre howe is by elke krygsafdeling ingestel. Hierdie howe het egter nie betrekking op die geselekteerde sake in hierdie studie nie, en word hier dus nie verder behandel nie.

d . Wetgewende bevoegdheid van die OVS staatspresident

Kort voor die uitbreek van die oorlog het die OVS volksraad besef dat sy militêre wetgewing verouderd en nie geskik vir moderne oorlogvoering was nie. Die volksraad het daarom besluit om buitengewone magte aan die staatspresident te verleen met die doel om, indien nodig, die bestaande wetgewing tydens die verloop van 'n oorlog te herroep, te wysig of nuwe wetgewing daar te stel. Hierdie magte is kragtens die bepalings die titel Wet ter bestrijking van eenige kosten tijdens eenen oorlog8 verleen. Die titel van die wet is misleidend deurdat alleen artikel 1 met oorlogskoste verband hou, terwyl artikels 2 en 3 met uitgebreide magte handel wat in geval van 'n oorlog aan die staatspresident verleen word. Artikel 4 handel weer met die verslagdoening van die staatspresident, met betrekking tot handelinge verrig kragtens die bepalings van die wet, na afloop van die oorlog.

Net artikels 2 en 3 is hier van belang. Artikel 2 het aan die staatspresident die bevoegdheid verleen om, met die oog op die voortsetting van die oorlog of die verdediging van die staat, die werking van enige wet vir 'n bepaalde tyd op te hef. Die artikel stel drie voorvereistes vir die uitoefening van hierdie bevoegdheid: die opheffing van die wet moet noodsaaklik en wenslik wees; die staatspresident moet met die uitvoerende raad oorleg pleeg; en kennis van die opheffing van die wet moet by wyse van proklamasie geskied. Artikel 3 het voorts bevoegdheid aan die staatspresident verleen om enige bepaling te promulgeer, wat noodsaaklik en wenslik vir die voortsetting van die oorlog, die verdediging van die land, of ter voorkoming van onluste was, of enige aangeleentheid wat in verband daarmee gestaan het. Artikel 3 bepaal dat enige sodanige bepaling, wat deur die staatspresident gemaak en by wyse van proklamasie afgekondig is, onmiddellik regswerking sou verkry.9 Hertzog beskryf die magte, wat kragtens artikels 3 en 4 van die Wet ter bestrijking van eenige kosten tijdens eenen oorlog aan die staatspresident verleen is, as diktatoriale magte.10 Hierdie bevoegdhede is ook gebruik om 'n spesiale militêre geregshof daar te stel en later ook die jurisdiksie van krygsrade uit te brei.

 

Die verhoor van S.G. Vilonel

Stephanus Johannes Vilonel was 'n prokureur van Senekal. Met die uitbreek van die oorlog is hy tot kommandant verkies. Dit blyk dat hy hom in verskeie veldslae onderskei het. Vilonel is egter as kommandant ontslaan omdat hy geweier het om gehoor te gee aan die instruksie om van sy waens ontslae te raak. Na afloop van die geveg te Biddulphsberg naby Senekal, is die posisie van kommandant egter weer aan Vilonel aangebied, maar hy het dit van die hand gewys. Hy was naamlik van oordeel dat die oorlog vir die Boere verlore was. Vilonel het hierna sy wapen neergelê en gepoog om ander offisiere oor te haal om dieselfde te doen. Tydens dié poging is hy deur die Boere gevange geneem.11

Die aangeleentheid is hierna na 'n krygsraad verwys. Laasgenoemde krygsraad, te Slaapkrans, het besluit om die saak na die spesiale militêre geregshof12 te verwys. Hierdie hof het die aangeleentheid waarskynlik op 29 Junie 190013 te Reitz14 aangehoor. Die saak is deur regter Hertzog, C.P. Brain en J.G. Luyt aangehoor. Na afloop van die verhoor is Vilonel aan hoogverraad skuldig bevind en tot vyf jaar15 gevangenisstraf met harde arbeid gevonnis. In die uitspraak het Hertzog hom as volg oor die gedrag van Vilonel uitgelaat: " [Z]oolang de geschiedenis van den Oranje Vrijstaat gelezen zou worden, zoolang zou de naam van SJ Vilonel een eeuwige schandvlek daarop blijven."16 Hertzog het aan Vilonel te kenne gegee dat hy dankbaar moes wees dat hy so lig daarvan afgekom het.17

Vilonel het teen hierdie vonnis na die hooggeregshof geappelleer. Laasgenoemde appèl kon eers enkele dae later aangehoor word aangesien, soos Pienaar dit gestel het, "owing to the nature of the subsequent military operations the Court had not found time to sit, hardly time to pause, in fact".18 Die appèl is op 11 Julie 1900 te Fouriesburg aangehoor. Dit is nie seker wat die status van hierdie hof was nie en wie as voorsittende beamptes diens gedoen het nie. Brink verklaar dat hierdie hof die "Vrystaatse Appèlhof" was.19 Wat die voorsittende beamptes betref, is bronne dit eens dat Hertzog wel 'n lid van hierdie hof was.20 Die identiteit van die ander lede is egter onseker. Brink en Pienaar vermeld dat adv. F.R. Cronjé en adv. Hendrik Hugo onderskeidelik as waarnemende eerste en tweede strafregter benoem was en dat dit hierdie hof was wat die appèl van Vilonel aangehoor het.21 De Villiers, wat as aanklaer voor die hof verskyn het, vermeld weer dat Albert Roberts, 'n landdros van Bloemfontein, Hertzog bygestaan het.22 Laasgenoemde sou vreemd wees, aangesien Hertzog dan die saak in die eerste instansie sowel as op appèl aangehoor het.

Vilonel, wat self sy eie appèl waargeneem het, het aanvanklik aangevoer dat hy nie voldoende tyd gehad het om voor te berei vir die sitting van die hof nie. Hierop het die hof die appèl tot die volgende dag uitgestel. Op 12 Julie 1900 het Vilonel die hof versoek om die saak tot na afloop van die oorlog uit te stel sodat hy die dienste van 'n advokaat kon verkry. De Villiers het hierteen beswaar aangeteken. Laasgenoemde beswaar is deur die hof gehandhaaf. Na afloop van die appèl is die uitspraak en vonnis ook op appèl bekragtig.23 Die saak van Vilonel bied 'n goeie oorsig oor die verloop van 'n saak van 'n strafregtelike aard gedurende die verloop van die oorlog. Die saak is aangehoor deur howe, wat wel jurisdiksie oor die aangeleentheid gehad het. Belangrik ook is dat die hooggeregshof van die OVS tydens die oorlog gebruik is om die appèl te finaliseer.

 

Die verhoor van Barend Celliers

Barend Celliers is daarvan beskuldig dat hy 'n Britse offisier, lt. Cecil Boyle, gedood het - iets wat nie binne die beskerming van 'n oorlogstoestand geregverdig kon word nie. Boyle is in November 1900 tydens die guerrilla-fase van die oorlog by Dewetsdorp krygsgevange geneem. Tydens dié fase van die oorlog het die rondtrekkende Boeremagte nie meer krygsgevangenekampe gehad waarheen hulle die Britse soldate wat hulle gevang het, kon stuur nie. Gevolglik is hulle gewoonlik ná gevangeneming "uitgeskud" (dit wil sê van alles gestroop wat vir die Boere van nut kon wees) en vrygelaat. Aan die hand van die posisie hier wil dit voorkom of die vrylating van die Dewetsdorp-krygsgevangenes gedeeltelik toegeskryf kan word aan die onvermoë van die OVS om aan die verpligtinge van die volkereg te voldoen, naamlik om na die welstand van krygsgevangenes om te sien. 'n Tweede rede vir die vrylating sou moontlik toegeskryf kon word aan die keuse ten gunste van meer beweeglike oorlogvoering aan Boerekant. Laastens het die oorlogstoestande, veral in die OVS, die daarstelling van krygsgevangenekampe onmoontlik gemaak. Boyle is egter ná gevangeneming afsonderlik aangehou en is na bewering op aandrang van Philip Botha, 'n assistent-hoofkommandant van die OVS, nie soos die ander Dewetsdorp-krygsgevangenes vrygelaat nie.24

Om die regsposisie van Boyle beter te verstaan, is dit nodig om kortliks met die posisie van krygsgevangenes kragtens die bepalings van die destydse volkereg te handel. Waar krygsgevangenes deur 'n oorlogvoerende staat gevange geneem is, moes daardie staat na die welstand van die krygsgevangenes omsien. Die reg van die een oorlogvoerende staat om die magte van sy opponent te dood, eindig daarom met oorgawe, of waar 'n lid van die opponerende magte verwond word en in die hande van die opponerende vyandige magte beland. Dit was wel moontlik om 'n krygsgevangene tereg te stel indien 'n persoon die reëls van oorlogvoering geskend het. Krygsgevangenes kon ook gedood word indien hulle sou poog om te vlug. Ten opsigte van krygsgevangenes is dit verder belangrik om daarop te let dat 'n teregstelling gewoonlik deur 'n verhoor voorafgegaan sou word.25 Ten opsigte van die besluit om Boyle nie vry te laat nie, moet veral in gedagte gehou word dat Boyle deur hoofkmdt. C.R. de Wet se magte gevange geneem is. De Wet was in daardie stadium die bevelvoerende offisier van die OVS magte. Daar is ook aanduidings dat Philip Botha reeds voor die Dewetsdorpgeveg van voorneme was om stappe teen Boyle te neem.26 Die uitsondering in die geval van Boyle moes daarom op die een of ander belangrike oorweging gegrond gewees het. Ten einde Boyle tereg te stel, moes daar goeie gronde bestaan het om hom van 'n oorlogsmisdaad aan te kla, voor 'n OVS hof te daag, skuldig te bevind en ter dood te veroordeel. Vir dié doel sou van die hooggeregshof of die spesiale militêre geregshof gebruik gemaak kon word.

a . Die saak teen Boyle

Die vraag ontstaan dus wat die saak teen Boyle behels het. De Wet het verklaar dat hy Boyle vanweë die vyandigheid van die inwoners van die Dewetsdorp-distrik nie vrygelaat het nie. Hy het verwys na berigte ontvang dat Boyle oorlog teen vroue en kinders gevoer het. Laasgenoemde sou moontlik van 'n oorlogsmisdaad kon getuig. Dit is egter onwaarskynlik dat Boyle die enigste offisier of manskap was wat tydens die gevegte te Dewetsdorp gevange geneem is, wat hom aan sodanige misdaad skuldig gemaak het. De Wet het getuig dat hy kennis gedra het van die beleid van die Britse magte om vroue en kinders na interneringskampe (konsentrasiekampe) weg te voer. Met verwysing na Boyle en die uitvoering van hierdie bevel, het hy soos volg verklaar: " [S]ome persons act on orders, some beyond them."27 Hy het ook verwys na verklarings van vrouens waarin die wrede optrede van Boyle bevestig is.28 Dit is egter nie duidelik of hierdie verklaring op skrif gestel is nie. Moll, Philip Botha se sekretaris, het verklaar dat "Boyle had a bad name [...] owing to his supposed cruel treatment of women and children".29 Hierdie getuienis is deur L.P.H. Botha, die seun en 'n adjudant van Philip Botha, bevestig: " [He] was a dangerous character with regard to women and children."30 J.H. Lategan, wat verantwoordelik was vir die bewaking van Boyle, het verklaar: "Boyle had done a lot of wrong".31

Aan die hand van die bespreking hierbo is dit duidelik dat 'n teregstelling van 'n krygsgevangene nie goedsmoeds kon geskied nie en dat daar aan bepaalde prosedurele vereistes voldoen moes word. Boyle se aanhouding het waarskynlik met die verskroeide aarde-beleid van die Britse magte verband gehou, wat gepaardgegaan het met die wegvoering van vroue en kinders na interneringskampe (konsentrasiekampe). In hierdie opsig blyk dit dat die Boereoffisiere die optrede van Boyle veral gesien het as 'n oorlogsmisdaad, wat dus verdere stappe teen hom genoodsaak het. Indien dit wel die geval was, sou dit nodig wees om Boyle voor die hooggeregshof te daag of, as alternatief, voor die spesiale militêre geregshof. Dit sou beslis moontlik gewees het om aan te voer dat Boyle se handelinge 'n skending van die reëls van oorlogvoering en die gebruike en gewoontes van die volkereg was. Die spesiale militêre geregshof sou daarom jurisdiksie oor die aangeleentheid verkry deurdat Boyle se handelinge, rakende die wegvoering van vroue en kinders, in opdrag van sy bevelvoerende offisier was en daarom ook van 'n militêre aard was. Net soos later in die geval van Celliers sou blyk, het die krygsraad ten tye van die gebeure nie oor die jurisdiksie beskik om die aangeleentheid aan te hoor nie.

b . Die teregstelling van Boyle

In Januarie 1901 het die kommando's van Philip Botha hulle op Liebenbergsvlei in die omgewing van Reitz bevind. Volgens Celliers is hy op 2 Januarie 1901 deur assistenthoofkmdt. Philip Botha ontbied. In die gesprek wat daarop gevolg het, het Botha aan Celliers opdrag gegee om Boyle 'n uur te perd weg van die kamp te neem, te skiet en te begrawe. Daar is geen getuienis dat Celliers die opdrag bevraagteken het, of navraag gedoen het of Boyle wel verhoor en ter dood veroordeel is nie. Voorts kon geen getuienis gevind word wat daarop dui dat Boyle wel deur 'n hof van die OVS verhoor en ter dood veroordeel is nie. Celliers het later verklaar dat hy gewoonlik lang tye van die kamp afwesig was en dat hy daarom nie met gebeure in die kamp vertroud was nie. Weer is daar egter geen aanduiding dat Celliers navraag met betrekking tot 'n verhoor van Boyle gedoen het nie. Celliers het Botha hierna verlaat en vir Boyle uit die sorg van kpl. J.H. Lategan geneem. Lategan het later getuig dat hy vermoed het dat Boyle vrygelaat sou word. Daar was ook geen aanduiding dat Celliers sy opdrag met Lategan bespreek het nie. Onderweg die veld in het Celliers vir M.J. Smallberger32 ontmoet. Hierdie persoon se getuienis is die enigste wat die gebeure wat hierna gevolg het, bevestig het.33

Dit dien vermeld te word dat regter (genl.) J.B.M. Hertzog in 'n latere verhoor van Celliers aangevoer het dat 'n bevelvoerder die reg gehad het " [to] destroy his prisoner if he found himself in a position where it would be dangerous to keep him; but, of course, the necessity had to be a dire one".34 Kestell meld dat Philip Botha op 3 Januarie 1901 in 'n aantal gevegte betrokke was.35 Of hierdie gevegte enige invloed op die teregstelling van Boyle gehad het, is nie duidelik nie.

Celliers en Smallberger het Boyle na 'n plaas in die omgewing van Bethlehem geneem. Hier is Boyle in kennis gestel dat hy tereggestel sou word. Boyle het onmiddellik versoek om na Philip Botha geneem te word en sy saak daar te bepleit. Celliers het egter geweier en aan Boyle geleentheid gebied om 'n brief te skryf en te bid. Hierna het Celliers 'n paar treë van Boyle weggestaan en Boyle met 'n Mauser-geweer in die rug verwond. Smallberger verklaar dat Celliers daarop nader gestap het en Boyle op 'n kort afstand in die kop geskiet het, waarna hy en Celliers vir Boyle begrawe het.36

Die inhoud van Boyle se brief, en wat na afloop van die teregstelling met hierdie brief gebeur het, is nie duidelik nie. Smallberger verklaar dat die geadresseerde en die inhoud van die brief nie aan hom bekend was nie. Hy het voorts ook gesê dat Celliers hom na afloop van die teregstelling na 'n swart stat in die omgewing gestuur het. Met sy terugkeer het hy Celliers gevind waar hy besig was om Boyle se dokumentasie te verbrand. Celliers het hierdie handeling verduidelik as 'n opdrag van Philip Botha.37 Celliers self het later bevestig dat hy die dokumente van Boyle in opdrag van Philip Botha verbrand het. Celliers het egter ook verklaar dat hy die brief van Boyle aan 'n mnr. Kestell moes oorhandig, wat dit weer aan Boyle se naasbestaandes sou stuur. Wie mnr. Kestell was, is nie duidelik nie. Interessantheidshalwe word gemeld dat ds. J.D. Kestell ten tye van die voorval in Botha se laer aanwesig was. Kestell self maak geen melding van Boyle of sy aanhouding nie. Celliers het verder verklaar dat hy die brief aan Philip Botha oorhandig het. Botha het, aldus Celliers, daarna gekyk en alleen gesê dat Boyle gek was.38 Wat hierna met die brief gebeur het, is onseker.

Op 20 Januarie 1901 het Steyn en De Wet vir kmdt. P.W. de Vos ontbied. Laasgenoemde persoon het aan die hoof van die Kroonstad-kommando gestaan, wat op sy beurt weer onder bevel van Philip Botha was. Tydens die ontmoeting tussen Steyn, De Wet en De Vos is navraag oor Boyle gedoen, waarna De Vos hulle van die teregstelling vertel het. Dit blyk dat beide die staatspresident en die hoofkommandant ontevrede met hierdie verwikkelinge was. Hulle het ook vir Celliers ontbied, wat op 26 Januarie 1901 aan hulle verslag gedoen het en ook 'n beëdigde verklaring afgelê het waarin hy die teregstelling en Philip Botha se aandeel daarin bevestig het.39 Geen verklaring van die aard kon egter gevind word nie. Dit mag wees dat hierdie dokumentasie met die gevangeneming van die OVS se regering in Julie 1901 te Reitz in die hande van die Britse magte beland het.

De Wet het vermeld dat sy offisiere, behalwe Philip Botha, op 25 Januarie 1901 by Doornberg vir die hou van 'n krygsraad byeen was. In sy boek, De Strijd Tusschen Boer en Brit, vermeld hy egter niks van die Boyle-voorval nie. Volgens De Wet het die krygsraadvergadering oor die verstryking van die termyn van die staatspresident en die volksraad gehandel. Dit mag wees dat die Boyle/Celliers-geval wel tydens hierdie krygsraad bespreek is. By gebrek aan verdere bronne hieroor, word volstaan met die feit dat Philip Botha nie tydens die vergadering en samesprekings teenwoordig was nie. Philip Botha het na afloop van die vergadering 'n skrywe van die staatsekretaris40 ontvang waarin hy meegedeel is dat hy van sy amp onthef is. Kmdt. F.J.W.J. Hattingh is in sy plek aangestel.41 Philip Botha se seun, L.P.H. Botha, het later getuig dat sy vader hierdie brief aan hom en 'n veldkornet gewys het. Philip Botha het teenoor hulle ontken dat hy opdrag gegee het dat Boyle tereggestel moes word of dat hy enigsins kennis van sodanige teregstelling gedra het. Hy het egter aangedui dat hy die aangeleentheid later met De Wet sou opneem. In hierdie opsig het Philip Botha die weergawe van Celliers weerspreek. Indien vir die oomblik aanvaar word dat Philip Botha se weergawe korrek is, beteken dit dat Celliers uit eie beweging besluit het om met Boyle se teregstelling voort te gaan. Waarom Celliers so 'n besluit sou neem, is nie duidelik nie. Ten opsigte van Philip Botha is daar wel aanduidings dat Boyle se krygsgevangenskap regstreeks met 'n besluit van Philip Botha verbind kan word. Philip Botha se versuim om die saak met De Wet op te neem, was in die latere saak teen Celliers gesien as aanduidend dat hy wel van Boyle se teregstelling kennis gedra het.42 Of dit so is, en of Botha se versuim met die gebeure wat hierna volg verband hou, is onseker. Philip Botha het op 6 Maart 1901 te Doornberg in 'n skermutseling met die magte van lt.-kol. E.C. Ingouville-Williams betrokke geraak. Botha en drie ander lede van sy kommando het in die rigting van Britse kolonne gery in 'n poging om die kolonne te verhoed om na Ventersburg te beweeg. Hierdie optrede het die aandag van die Britse troepe op hulle gevestig en die aandag van die kommando in die omgewing afgelei. Tydens die geveg tussen Botha (en sy drie burgers) en die Britte is hy in die voorkop gewond en het hy later daardie dag gesterf.43

c . Die verhoor van Celliers gedurende die oorlog

Die Boyle-voorval is op die algemene krygsraadvergadering van 3 Julie 1901 bespreek. Volgens kmdt. J.B. Wessels was alle offisiere van die OVS wat moontlik teenwoordig kon wees, aanwesig. Hierdie vergadering is waarskynlik daarna ook gekonstitueer om as 'n krygshof te dien en die Boyle/Celliers-aangeleentheid aan te hoor. Ongelukkig kon geen notule van die verrigtinge gevind word nie en is die weergawe wat volg, 'n rekonstruksie gegrond op die verrigtinge wat later in die hooggeregshof van die ORC plaasgevind het.44 Die besluit om met die verhoor van Celliers voort te gaan, is aanduidend dat die OVS besef het dat daar nie aan vereistes voldoen is met betrekking tot die teregstelling van Boyle nie. Dit was daarom nodig om te bepaal of Celliers wel in opdrag van Philip Botha gehandel het. Indien wel, het dit beteken dat Celliers op 'n aanklag van moord die verweer kon opper dat hy op 'n wettige bevel gehandel het. Dit is duidelik dat die getuienis van Botha en Celliers in so 'n verhoor deurslaggewend sou wees om te bepaal of Celliers in opdrag van Philip Botha gehandel het. Indien wel, sou bepaal moes word of Celliers kon aanvaar dat Philip Botha se opdrag 'n wettige opdrag was. Veral laasgenoemde is 'n regspunt wat vereis het dat die hof wat die aanklag aanhoor, met die nodige regsbeginsels vertroud moes wees. Aan die hand van die bespreking hierbo is dit duidelik dat die spesiale militêre geregshof of die hooggeregshof vir dié doeleindes gebruik kon word. Ten opsigte van die spesiale militêre geregshof is dit verder duidelik dat dié hof oortredings van 'n militêre aard kon aanhoor. Krygsrade, aan die ander kant, het nie die bevoegdheid gehad om 'n aanklag van moord aan te hoor nie. Die opdrag en teregstelling van Boyle het daarom binne die jurisdiksie van die spesiale militêre geregshof, of in die alternatief die hooggeregshof, geval.

Volledigheidshalwe word die name van persone genoem wat met sekerheid op die krygsraad/krygshof gedien het: O.A.I. Davel (kommandant: presidensiële wag),45 P.W. de Vos (kommandant: Kroonstad),46 C.R. de Wet (hoofkommandant: OVS),47 C.C. Froneman (kommandant: Ladybrand),48 F.J.W.J. Hattingh (assistent-hoofkommandant: Kroonstad en Heilbron),49 F.E. Mentz (kommandant: Heilbron),50 A. Ross (kommandant: Vrede)51 en J.H.B. Wessels (kommandant: Winburg).52 T.F.D. Moll, die voormalige sekretaris van Philip Botha, was die sekretaris van die krygsraad.53 Aan die hand van die konstituering van die vergadering is dit duidelik dat Celliers nie deur die spesiale militêre geregshof verhoor is nie, maar waarskynlik deur 'n krygsraad saamgestel kragtens die bepaling van die Krijgs- en Commandowet. Dit het beteken dat spesiale jurisdiksie aangetoon sou moes word om aan te voer dat Celliers deur 'n bevoegde hof verhoor is. Laasgenoemde was bepalend vir die latere verhoor van Celliers in 1902. Behalwe vir die gebrekkige jurisdiksie sal egter hieronder daarop gewys word dat die latere ORC vervolging nie daarin geslaag het om enige nuwe getuienis voor die hof te plaas nie. Net soos in die geval van Vilonel hierbo, en Eva hieronder, is daar weer 'n sterk aanduiding dat die OVS gepoog het om prosedurele en substantiewe vereistes met betrekking tot militêre verhore, na te kom.

Celliers het op 'n aanklag van die moord op Boyle voor die krygsvergadering verskyn. Celliers het erken dat hy Boyle geskiet het, maar het verklaar dat dit die uitvoering van 'n opdrag van sy bevelvoerende offisier, Philip Botha, was.54 Dit is nodig om hier na die getuienis van Smallberger te verwys. Volgens die ORC se hofstukke was die getuienis wat voor die krygsraad gedien het, 'n afskrif van die getuienis wat Smallberger voor die krygsraad gelewer het.55 Hoe hierdie getuienis in Britse hande beland het, is nie duidelik nie. Dit mag wees dat die stukke van Celliers se verhoor voor die krygsraad tussen die dokumente van die regering was en dat die getuienis van Smallberger gedurende die nag van 10 tot 11 Julie 1901 in Britse hande beland het.56

Smallberger se getuienis het veral lig op die teregstelling self gewerp. Moll het bevestig dat Philip Botha wel vir Celliers ontbied het, maar dat hy geen kennis van die inhoud van die gesprek gehad het nie. Philip Botha se seun, L.P.H. Botha, het getuig dat hy ten tye van die voorval by sy vader was en dat hy geen kennis van so 'n opdrag gehad het nie. Dit het egter nie beteken dat Botha Junior tydens die gesprek teenwoordig was nie. Sy getuienis het daarom geen verdere lig op die moontlikheid van so 'n opdrag self gewerp nie. De Vos het ook vir die staat getuig.57 Hy en Moll was gevolglik in twee hoedanighede by die saak betrokke: as getuies en as lede van die krygsraad. Die staat kon daarom nie daarin slaag om enige daadwerklike getuienis voor die krygsraad te plaas dat Botha nie die opdrag gegee het nie. Ten opsigte van Smallberger se getuienis sou die staat wel kon poog om meer duidelikheid rakende die gesprek tussen Celliers en Boyle voor die teregstelling te kry. Soos reeds hierbo uitgewys, sou so 'n gesprek aanduidend kon wees dat Celliers moes besef het dat Boyle moontlik nie verhoor is nie, of as alternatief, dat hy wat Celliers was, moontlik die oorlogsreg kon skend indien hy 'n krygsgevangene tereg sou stel.

Na afsluiting van die saak vir die staat, het die verdediging slegs vir Celliers as getuie geroep. In kruisondervraging is hy gevra hoekom hy nie probeer het om vas te stel of Boyle wel vir sy dade verhoor is nie. Hy het geantwoord dat hy vir lang tye uit die kommando afwesig was en dus nie kennis gehad het van enige krygsrade wat in daardie tye gehou is nie. Hy het voorts verklaar dat dit sy plig was om opdragte te gehoorsaam.58 Hieruit wil dit voorkom of Boyle nooit verhoor is nie. Verder het die afsterwe van Philip Botha dit onmoontlik gemaak om die opdrag aan Celliers te bevestig. Na aanhoor van die getuienis het die krygsraad beslis dat die getuienis daarop gedui het dat Celliers vir Boyle in opdrag van sy bevelvoerende offisier geskiet het.59 Davel het in sy getuienis in die voorverhoor van Celliers in 1903 aangedui dat hy gevoel het dat 'n skuldigbevinding aan strafbare manslag eerder gepas sou gewees het.60 Of 'n skuldigbevinding op so aanklag geregverdig sou wees, word betwyfel. Die rekonstruksie van die gebeure wys daarop dat geen afdoende bewys rondom die moontlikheidsbewussyn van Celliers aangevoer is nie. Dit beteken dat Celliers hier die voordeel van twyfel moet ontvang in sy oënskynlike verweer dat hy nie geweet het dat Boyle nie verhoor is nie. Tog bied Celliers se getuienis in dié opsig kennis van die feit dat teregstellings nie sonder 'n verhoor kon plaasvind nie. In dié opsig mag die krygsraadverhoor moontlik gebrekkig gewees het.

 

Die verhoor van J.J. Eva

Die verhoor van J.J. Eva61 bied verdere getuienis dat die OVS in militêre verhore gepoog het om aan prosedurele en substantiewe vereistes te voldoen. Eva is van hoogverraad aangekla en het op 14 September 1901 voor 'n krygsraad onder voorsitterskap van assistent-hoofkmdt. Badenhorst verskyn. Die eerste gedeelte van die verrigtinge is gewy aan die ondervraging van die beskuldigde deur lede van die krygsraad. Aan die hand van die getuienis het dit geblyk dat Eva aan die begin van die oorlog deur die OVS vir krygsdiens opgeroep is. In daardie stadium was Eva agt maande in die OVS woonagtig, nadat hy van die Kaap na die OVS verhuis het. Dit blyk dat Eva gedurende sy krygsdiens gepoog het om so min as moontlik aan gevegte deel te neem. Hierna het Eva, soos talle ander in die OVS, ook wapens neergelê.62

Die notule van die krygsvergadering wys daarop dat die krygsraad, na die bepaling van die getuienis, vir voorstelle gevra het rakende hoe om verder met Eva te handel. Die eerste was 'n kmdt. Pretorius, wat voorgestel het dat die beskuldigde ter dood veroordeel moes word. Die voorstel is deur ene Oosthuizen gesekondeer. Hierna het 'n landdros voorgestel dat Eva 25 houe met die kats toegedien word en daarna na die vyand gejaag word. Laasgenoemde voorstel is deur Badenhorst gesekondeer. Hierna het die krygsraad tot stemming oorgegaan. Die meerderheid van die teenwoordige persone het ook ten gunste van die doodstraf gestem. Die aangeleentheid is hierna, ooreenkomstig die bepalings van die Krijgs-en Commandowet na die staatspresident vir bekragtiging verwys.63

Die aangeleentheid het op 11 Oktober 1901 voor die uitvoerende raad van die OVS gedien, wat bevind het dat Eva sy plig versuim het om krygsdiens te verrig. Die uitvoerende raad het egter ook daarop gelet dat Eva tydens die uitbreek van die oorlog slegs agt maande in die OVS woonagtig was en gevolglik nie 'n burger van die OVS was nie. Die uitvoerende raad het die vonnis ter syde gestel en besluit dat Eva as 'n gewone krygsgevangene hanteer moes word, maar nie na die vyand gestuur moes word nie.64 Die gebeure in die saak van Eva dui daarop dat die OVS in 1901 nie sondermeer krygsgevangenes en ander gevangenes tereggestel het nie, maar bepaalde prosedures gevolg het. Hoekom daar anders met Boyle gehandel is, is onduidelik. Laasgenoemde is in teenstelling met Celliers se geval.

 

Die na-oorlogse voorverhoor van Barend Celliers

Celliers is op 24 Februarie 1902 deur 'n opslagkoeël getref en gevange geneem. Hy is tot en met 23 Augustus 1902 as 'n krygsgevangene verpleeg, waarna hy na die gevangenis oorgeplaas is.65 Terwyl hy besig was om aan te sterk, is hy deur twee offisiere vir inligting in verband met Boyle genader. In Oktober 1902 het hy die graf van Boyle uitgewys.66 Celliers word by name uitgesluit van die algemene amnestie verleen kragtens die Vrede van Vereeniging: die voorgestelde bepalings het aanvanklik voorsiening gemaak vir 'n algemene amnestie. Hierdie amnestie is deur die Britse regering gewysig om soos volg te lees:

Het genot van deze klousule zal zich niet uitstrekken tot zekere daden, tegenstrijdig met oorlogsgebruiken, welke door den Opperbevelhebber aan de Boerengeneraals medegedeeld zijn geworden en welke door een krijgsgericht gehoord zullen worden dadelijk na het ophouden van vijandelijkheden.67

Hierdie en ander wysigings is aan die Boereverteenwoordigers vir 'n ja- of neestem voorgelê. Geen wysiging of verdere bespreking is op die betrokke punte toegelaat nie. Die wysiging het ook op die vooraand van die finalisering van die vrede plaasgevind. Gesien in die lig van die tydsberekening, sowel as die ja/nee-voorwaarde, was daar weinig ruimte vir die verteenwoordigers om verder rakende die punt te onderhandel. Ten opsigte van die OVS en Celliers was daar wel die versekering dat Celliers reeds deur die OVS verhoor is. Die verteenwoordigers van die OVS het na alle waarskynlikheid om dié rede geoordeel dat dit nie moontlik sou wees om Celliers weer op dieselfde aanklag te verhoor nie. Die noukeurigheid waarmee verhore soos dié van Vilonel en Eva plaasgevind het, getuig daarvan dat die OVS in moeilike oorlogsomstandighede steeds nougeset gepoog het om prosedurele en substantiewe vereistes na te kom. Hierbo is egter daarop gewys dat die vereistes rakende jurisdiksie, soos deur die Krijgs- en Commandowet bepaal, nie in die Celliers-krygsraadverhoor nagekom is nie. Derhalwe ontstaan die vraag of die nie-nakoming van die jurisdiksie tot 'n nuwe, suksesvolle verhoor aanleiding sou gee. Meer belangrik is die vraag of die vervolging in die nuwe saak daarin sou slaag om 'n ander uitslag as dié in die 1901-verhoor te kry.

In Oktober 1902 het Richard Solomon, prokureur-generaal van die Kaap, aan lt.genl. Neville Lyttelton oor die Boyle/Celliers-saak geskryf. Hy was veral bekommerd dat 'n militêre hof vyf maande na afloop van die oorlog nie meer 'n bestaansreg sou hê nie. Om hierdie rede het hy voorgestel dat Celliers eerder voor 'n burgerlike hof verhoor moes word. Uit die briewe blyk dit dat Solomon reeds voor die einde van die oorlog oor die aangeleentheid genader is en dat die beëindiging van die oorlog sy aanvanklike gevolgtrekking gewysig het; daarom ook die brief aan Lyttelton.68 Die skrywe gee geen blyke rakende die feit dat Celliers wel deur 'n krygsraad verhoor en onskuldig bevind is nie. Laasgenoemde sou later in die verhoor van Celliers as 'n beswaar teen die aanklag geopper word.

Solomon se aanbeveling is aanvaar. Gevolglik is 'n voorlopige ondersoek gelas. Die voorverhoor het op 25 November 1902 te Kroonstad onder voorsitterskap van die plaaslike vrederegter, A.W. Barker, begin. Die getuienis van elf persone (C.A. Boyle, F.J. Palmer, H.R. Tufnell, J.B. Wessels, T.F.D. Moll, J. Hattingh, P.W. de Vos, J.H. Lategan, O.A.I. Davel, L.P.H. Botha en F.J. van Reenen)69 is in die loop van die ondersoek aangehoor. Dit is interessant om daarop te let dat van hierdie persone ook in die verhoor van Celliers voor die krygsraad betrokke was. Hierdie persone se getuienis het daarom in direkte verband met kennis, wat hulle tydens die verrigtinge van die krygsraad bekom het, gestaan. Hierbo is reeds ook daarop gewys dat die getuienis in die krygsraad geen verdere lig kon werp op die vraag of Philip Botha wel die opdrag gegee het nie. In die verdere verhoor sou dit tog moontlik wees om te probeer bepaal of Celliers inderdaad die opdrag wettig uitgevoer het. In dié opsig sou veral daarop gelet kon word of Celliers besef het dat Philip Botha nie die bevoegdheid gehad het om die opdrag te gee dat Boyle tereggestel moes word nie. Celliers het tydens die verrigtinge erken dat hy Boyle geskiet het. Hierdie bekentenis het gevolg op die getuienis van Constance Boyle, Boyle se suster, en kapt. Palmer. In kort het hulle getuienis bevestig dat Celliers die graf waar Boyle begrawe is, uitgewys het. Die doding van Boyle deur Celliers was daarom nooit in dispuut nie.70

Celliers het soos volg verklaar:

All I have to say is that I feel myself not guilty of Murder. I shot and buried Lt. Boyle by orders of General P. Botha, and according to Military Law I was in duty bound to obey him. Personally I had no ill feeling towards Lt. Boyle, and it grieved me that I was ordered to do it .71

Laasgenoemde het weer die noodsaak benadruk om te bepaal of Celliers wel geglo het dat hy 'n wettige opdrag ontvang het en daarvolgens gehandel het. Celliers sou egter 'n verdere troefkaart kon speel, naamlik dat hy reeds op die aanklag verhoor en onskuldig bevind is. Daar is geen getuienis tot dien effekte in die voorverhoor aangevoer nie. Op 18 Desember 1902 het die prokureur-generaal, H.F. Blaine, opdrag gegee dat Celliers van moord aangekla moes word en dat die saak vir verhoor op die rol geplaas word.72

Celliers het dus nou 'n tweede maal op dieselfde aanklag van moord tereggestaan. Hierdie verrigtinge het op 20 Februarie 1903 in Bloemfontein voor regter A.W. Fawkes73 en 'n jurie74 'n aanvang geneem. Barclay-Lloyd het namens die kroon opgetree en adv. J.B.M. Hertzog, in opdrag van J.P. van Zijl,75 namens Celliers.76 Daar is geen aanduiding dat Hertzog in die oorlogse verhoor van Boyle betrokke was nie. Hertzog se status en vriendskap met M.T. Steyn en C.R. de Wet het sekerlik beteken dat hy reeds ten tye van die gebeure die een of ander vorm van kennis daarvan ontvang het.

Die aanklag teen Celliers het soos volg gelees:

That Barend Celliers, lately a field-cornet in the forces of the Orange Free State [...] is guilty of the crime of murder; In that, upon or about the second day of January in the year One Thousand Nine Hundred and One, and at or near Liebenberg's Vlei in the district of Bethlehem, the said Barend Celliers did wrongfully, unlawfully and maliciously kill and murder Cecil Boyle, in his lifetime a lieutenant in Her late Majesty's forces.

Celliers het autrefois acquit (vorige skuldigbevinding) op hierdie aanklag gepleit.77 Hierdie pleit was daarop gegrond dat hy reeds op 3 Julie 1901 deur die krygshof op dieselfde aanklag onskuldig bevind is en dat hy daarom nie weer daarop tereg kon staan nie.78

Volgens die pleitverduideliking was die krygsraad (van Julie 1901) ook 'n bevoegde hof om die aangeleentheid aan te hoor. Laasgenoemde blyk ook uit die feit dat alle partye hulle aan die hof se jurisdiksie onderwerp het en dat burgerlike regspleging as gevolg van die oorlogstoestande opgehou het om te bestaan. 'n Krygsraad was, aldus dié argument, die enigste bevoegde hof om die aangeleentheid aan te hoor. Die verdediging het verder ook daarop gewys dat die staatspresident, kragtens die bepalings van Wet 34 van 1899, by magte was om wetgewing vir die duur van die oorlog uit te vaardig. Hierdie bevoegdheid is ook gebruik om die jurisdiksie van krygshowe na alle strafregtelike aangeleenthede uit te brei.79

Die pleitverduideliking het na 'n proklamasie van 16 Desember 1901 verwys, wat byna ses maande na die verhoor van Celliers uitgevaardig is. Die inleiding tot die proklamasie lui:

Aangezien het noodig bevonden is, dat elk Asst. Hoofd Commandantschap het recht en de bevoegdheid hebben zal om een Krijgsgericht in het leven te roep voor het verhoor van personen beschuldigd wegens ernstige misdaden en het opleggen van straf [...].

Die proklamasie verleen daarom aan krygsgerigte jurisdiksie om enige ernstige vorm van misdaad aan te hoor. Moord sou onder so 'n jurisdiksie ingesluit kon word. Daar is egter 'n vermoede dat wetgewing gewoonlik nie terugwerkend van aard is tensy uitdruklik so bepaal nie. Verder is dit opmerklik dat die proklamasie nie op die magte en bevoegdhede beroep kragtens die bepaling van Wet 34 van 1899 nie. Voorts verwys die proklamasie na 'n krygsgereg en nie 'n krygsraad nie. Of dit enigsins 'n effek op die regsgeldigheid sou gehad het, is nie belangrik nie. Meer belangrik is die algemene bevoegdheid wat aan 'n krygsgerig verleen word om persone vir ernstige misdade te verhoor. Indien die proklamasie ses maande vantevore uitgevaardig is, sou dit beteken dat 'n krygsgerig wel die bevoegdheid gehad het om Celliers op aanklag van moord te verhoor.

Dié pleit is deur die Kroon verwerp. Na beoordeling van beide argumente het die hof daarop gewys dat die staatspresident wel oor die bevoegdheid beskik het om so 'n proklamasie uit te vaardig. Die verdediging kon egter nie daarin slaag om te bewys dat die bevoegdheid in die Celliers-geval uitgeoefen is nie, deurdat die proklamasie hierbo genoem nie ten tye van die verhoor van Celliers van toepassing was nie. Die aanklag is weer gestel, waarna Celliers onskuldig daarop gepleit het. In sy pleitverduideliking het hy verklaar dat hy wel Boyle geskiet het, maar dat laasgenoemde handeling die uitvoering van 'n opdrag van sy bevelvoerende offisier, Philip Botha, was.80 Hierdie is natuurlik 'n tipiese argument van 'n ondergeskikte en die tipe argument wat deur die eeue heen weerklink het.

Die Kroon se getuienis het daarop gewys dat Celliers erken het dat hy op 2 Januarie 1901 vir Boyle geskiet het. Die Kroon het ook daarop gewys dat niemand op Philip Botha se staf kennis van hierdie bevel gehad het nie. L.P.H. Botha, Philip Botha se seun, het verklaar dat Celliers by een geleentheid gesê het dat hy wat Celliers is, met Boyle sou afreken. Celliers het laasgenoemde in sy eie getuienis ontken. L.P.H. Botha het verder ook getuig dat sy vader aan hom ontken het dat hy wel so 'n opdrag gegee het.81 Net soos die OVS, kon die Kroon ook nie daarin slaag om enige getuienis voor die hof te plaas wat daarop dui dat Philip Botha nie die opdrag gegee het nie.

Die getuienis vir die verdediging het in hoofsaak oor die gesindheid van Philip Botha jeens Boyle gehandel, naamlik dat Botha impulsief was en daarom nie noodwendig op 'n hoër bevel sou wag nie. Die Kroon het geen getuienis tot die teendeel aangebied nie. Vir die Kroon was dit veral 'n probleem dat die getuienis rondom die opdrag en verklarings van Philip Botha oor Boyle self, hoofsaaklik op hoorsê-getuienis berus het. Nogtans het die advokaat vir die Kroon nie formeel beswaar daarteen aangeteken nie.82

Ten opsigte van Philip Botha is dit nodig om hier kortliks met die persoon te handel. Philip Rudolf Botha is op 30 Junie 1851 gebore. Hy was die oudste broer van genl. Louis Botha, die kommandant-generaal van die ZAR en latere eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. Met die uitbreek van die oorlog het Philip Botha hom by die Vrede-kommando aangesluit en is hy op 14 Februarie 1900 deur M.T. Steyn as 'n assistent-veggeneraal aan die wesgrens aangestel. Philip Botha het aan verskeie veldslae deelgeneem en word as een van De Wet se bekwaamste offisiere beskou. Dit is interessant om daarop te let dat die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek geen melding van Philip Botha se aandeel in die teregstelling van Boyle maak nie.83

Michael Davitt, 'n voormalige lid van die House of Commons, beskryf Philip Botha as een van De Wet se mees bevoegde offisiere. Hy gaan voort:

He was one of the handsomest men in the Federal armies: tall and dark, and as courteous as a cultivated Spaniard [...] [H]e impressed me greatly by his all-round capacity, gentlemanly bearing, and genial disposition.84

Kol. G.H.A.V. de Villebois-Mareuil, die bekende Franse vrywilliger aan Boerekant, het hom as 'n intelligente en sjarmante persoon beskryf.85 Lt. C.J. Asselbergs, militêre attaché van die Nederlands-Indiese leër, het na hom verwys as 'n "wellevend en zeer sympathiek man".86 Maj. J.E. Pine-Cofin, 'n Britse offisier, het ná ontvangs van die berig van Philip Botha se dood (in 'n skermutseling met die Britse magte op 6 Maart 1901) soos volg oor hom geskryf:

I should like to mention how fairly he always behaved [...] I can only add my regret that a gallant and honourable opponent should have fallen.87

Die Bloemfontein Post het verklaar dat die oorlog die enigste rede was wat Philip Botha verhoed het om 'n waardevolle diens aan sy land te lewer.88 Hierdie beskrywings getuig nie een van 'n persoon wat sondermeer opdrag sou gee om 'n persoon sonder verhoor tereg te stel nie. Laasgenoemde getuienis is egter nie voor die hof geplaas nie.

Na aanhoor van die betoë, het die regter die getuienis geëvalueer en opdrag aan die jurie gegee om op die getuienis van De Wet klem te lê, en om die getuienis van Philip Botha se seun buite rekening te laat. Die hof het die jurie verder gevra om ag te slaan op die feit dat die getuienis wat afgelê is, hoofsaaklik omstandigheidsgetuienis was. Die bekentenis van Celliers was die enigste getuienis wat bewys het dat hy vir die handeling verantwoordelik was. Die jurie moes verder beslis of Philip Botha wel so 'n opdrag gegee het en, indien wel, of dit inderdaad 'n wettige opdrag was. Hier het die regter spesifiek na getuienis verwys wat daarop gedui het dat Philip Botha wel die offisier in bevel was, dat hy by magte was om so 'n opdrag te gee en dat hy ná sy skorsing nooit amptelik ontken het dat hy wel die bevel gegee het nie. Hulle moes verder ook let op die getuienis wat afgelê is rondom Philip Botha se persoonlikheid. Net soos in die krygsraad was daar egter geen getuienis voor die hof geplaas wat laasgenoemde kon bevestig nie. Daar was dus geen getuienis tot dien effekte wat dit duidelik gemaak het dat Philip Botha nie die opdrag gegee het nie. Op dié betrokke punt sou die jurie dus nie 'n bevinding kon maak nie. Die ORC jurie moes daarom, net soos die OVS krygsraad, vir Celliers na alle waarskynlikheid die voordeel van die twyfel met betrekking tot die betrokke saak gee. Vervolgens het die regter opdrag gegee dat, indien die jurie bevind dat die opdrag wel gegee is, hulle ook moes besluit of die beskuldigde geweet het dat die opdrag onwettig was. Weer het die ORC vervolging, net soos die OVS vervolging, nie daarin geslaag om enige getuienis op dié betrokke punt voor die hof te plaas nie. Om 17:40 op 23 Februarie 1903 het die jurie verdaag om hulle bevinding te oorweeg. 'n Uur later het hulle na die hof teruggekeer en Celliers onskuldig bevind.89 Die Bloemfontein Post het melding gemaak van 'n poging tot 'n applous onder die aanwesiges, wat summier deur die amptenare van die hof onderdruk is.90

 

Slotperspektiewe

Hierdie artikel wys daarop dat die OVS tydens krygsverrigtinge van twee liggame gebruik gemaak het. Die eerste was die meer tradisionele krygsrade, wat kragtens Wet 10 van 1899 ingestel is. Ses maande later, tydens die oorlog, is 'n meer gespesialiseerde hof daargestel, wat 'n meer uitgebreide jurisdiksie as krygsrade gehad het. In die artikel is daarop gewys dat die OVS in die geselekteerde sake die prosedurele vereistes nagekom het, met die uitsondering dat Celliers deur 'n krygsraad verhoor is wat nie jurisdiksie gehad het om die aangeleentheid aan te hoor nie. Uit Celliers se saak blyk dit dat die OVS vanweë oorlogsomstandighede genoop was om die strafregtelike bevoegdhede van die krygsrade uit te brei en vir dié doel ook van 'n krygsraad gebruik te maak om Celliers te verhoor. Dit is ook duidelik dat die staatspresident bevoegdheid kon verleen om die jurisdiksie van krygsrade uit te brei. Laasgenoemde het wel gebeur. Dit was egter te laat in die geval van Celliers se verhoor, wat weer tot die herverhoor van Celliers aanleiding gegee het.

Voorts is daarop gewys dat die OVS oor 'n spesiale militêre geregshof beskik het, wat eerder jurisdiksie gehad het om Celliers te verhoor. Dit mag egter wees dat hierdie hof ook vanweë oorlogsomstandighede nie meer funksioneel was nie. Vilonel se saak wys egter daarop dat waar nodig, die OVS in moeilike omstandighede selfs die hooggeregshof byeen kon roep met die doel om met 'n appèl te handel. Waarom die OVS in die Celliersgeval nie van soortgelyke prosedures gebruik gemaak het nie, is nie duidelik nie.

Die artikel wys ook daarop dat die OVS as oorlogvoerende party kennis gedra het van die feit dat Philip Botha, een van sy senior offisiere, en Celliers, 'n bevoegde en betroubare burger, waarskynlik die regte en gebruike van die oorlogsreg geskend het deur met 'n teregstelling voort te gaan sonder dat aan die prosedurele vereistes voldoen is. Die OVS het in dié omstandighede 'n verhoor gelas en die beskikbare getuienis voor 'n krygsraad geplaas. Dit is jammer dat die OVS 'n fout begaan het deur nie spesifiek te let op die jurisdiksie van krygsrade nie. Daar is egter weinig twyfel dat die verhoor met die nodige erns benader is. Laasgenoemde blyk veral uit die feit dat die ORC vervolging dieselfde getuienis as die krygsraad gebruik het en dat 'n onpartydige ORC jurie op grond van dieselfde getuienis, dieselfde uitslag as die OVS krygsraad gelewer het. Die drie gekose sake wys verder daarop dat die OVS in sy militêre regspleging in moeilike omstandighede gepoog het om die beginsels van reg en geregtigheid te handhaaf. Waar nodig, het die OVS nie geskroom om stappe te neem waar die regte en gebruike van oorlogvoering deur die staat self geskend is nie.

 

 

Jaco de Bruin was voorheen aan die Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verbonde. Hy doen veral navorsing rondom die ontwikkeling van oorlogsreg en is die outeur van 'n aantal artikels oor kollektiewe gedingvoering.
André Wessels is professor in Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Sy boek oor lord Kitchener se rol in die Anglo-Boereoorlog is aan die einde van 2006 deur die Army Records Society in Brittanje uitgegee, in opvolging van 'n vroeëre werk (2000) deur hom oor lord Roberts se rol in genoemde oorlog. In 2010 het hy 'n boek oor al die nagraadse studies wat al oor die Anglo-Boereoorlog voltooi is, gepubliseer. Afgesien van navorsing oor die Anglo- Boereoorlog, publiseer hy ook gereeld oor, onder meer, die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, in besonder die Vloot.

 

 

1. S. Baker, Halleck's International Law or Rules Regulating the Intercourse of States in Peace and War II (Kegan Paul, Trench, Trübner & Co., Londen, 1893), pp 194-195; T. Baty, International Law in South Africa (Stevens and Haynes, Londen, 1900), p 87.
2. Proklamasie van 11 Oktober 1899.
3. Sien ook Baker, Halleck's International Law, pp 347-348.
4. Gouvernements Courant van den Oranjevrijstaat, 13 Oktober 1899: Proklamasie, 11 Oktober 1899 (No. 546 - 1899), 13 Oktober 1899 (No. 515 - 1899); 20 Oktober 1899 (No. 553 - 1899); 17 November 1899 (No. 526 - 1899); Vrystaatse Argiefbewaarplek (hierna VAB): GS 1660: J.A. Collins - J.B.M. Hertzog, 5 Oktober 1899 en J.A. Collins - H.C. Stuart, 5 Oktober 1899 (afskrif van brief). In totaal het twaalf sittings van die hooggeregshof plaasgevind. Die sittings was van 'n onbenullige aard, hou geen verband met die oorlog nie en verdien daarom geen verdere bespreking hier nie. Sien VAB: Hooggeregshof (hierna HG), 4/7/1/6: Uitsprake, September 1897-Maart 1900, pp 123-129.
5. Gouvernements Courant van den Oranjevrijstaat, 23 Februarie 1900 (No. 23 - 1900); VAB: GS, 2170: J.A. Collins - H.G. Stuart, 13 Februarie 1900 en 15 Februarie 1900 (briewe); De Bazuin, 17 Julie 1900; M.C.E. van Schoor (ed), "The diaries and recollections of Jacob Abraham de Villiers", Christiaan de Wet-annale 8, November 1990, p 11; P. Pienaar, With Steyn and De Wet (Methuen, Londen, 1902), pp 135-137; J.N. Brink, Oorlog en Ballingskap (Nasionale Pers, Kaapstad, 1940), p 77. Sien ook P.S. Lombard, Uit die Dagboek van 'n Wildeboer (geen uitgewer, geen plek, geen datum), p 60.
6. Die Regulaties betreffende de Manier van Procedeeren oor den Krijgsraad is in die Gouvernements Courant van den Oranjevrijstaat van 3 November 1899 gepubliseer.
7. Proklamasie van 29 Maart 1900, gepubliseer in die Gouvernements Courant van den Oranjevrijstaat, 29 Maart 1900.
8. Wet 34 van 1899.
9. M.C.E. van Schoor (ed), "Gen. J.B.M. Hertzog's War Experiences", Christiaan de Wet-annale 10, 2000, p 39; C.R. de Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit: De Herinneringen van den Boerengeneraal Chr. de Wet (J. Lanno, Thielt, geen datum - 25ste druk), p 124.
10. Van Schoor (ed), "Gen. J.B.M. Hertzog's War Experiences", p 39; F. Rompel, Marthinus Theunis Steijn (L.J. Veen, Amsterdam, geen datum), p 65. Sien ook De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, p 7.
11. Brink, Oorlog en Ballingskap, pp 66, 69-77, 93.
12. Brink, Oorlog en Ballingskap, p 76 verwys na 'n "spesiale hof". De Wet, De Strijd Tusschen Boer en Brit, p 84 verwys na 'n "Militair Hof". De Bazuin (17 Julie 1900), soos aangehaal deur J.J. Oberholster (red.), "Dagboek van Oskar Hintrager: saam met Christiaan de Wet, Mei tot September 1900", Christiaan de Wet-annale 2, 1973, p 69. C.C.J. Badenhorst, Uit den Boeren-oorlog (Hoveker & Wormser, Amsterdam, 1903), p 40, verwys na 'n "Special Militaire Gerechtshof".
13. De Bazuin (17 Julie 1900) soos aangehaal deur Oberholster, "Hintrager", p 69 verwys na 6 Julie 1900. Die opskrif direk onder die nuusberigte van die datum lees "Van alle kanten". Dit mag daarom wees dat "Van alle kanten" 'n afsonderlike berig was wat nie met die datums en berigte daarbo verband hou nie. Die datum mag ook 'n verwysing wees na die sitting van die appèlhof. Oberholster, "Hintrager", p 49 verwys na 'n sitting van die krygsraad op 29 Junie 1900 te Reitz waar Hertzog enkele verraaiers moes verhoor. Volgens De Villiers in Van Schoor (ed), "Jacob de Villiers", het die sitting van die militêre hof eers op 12 Julie 1900 plaasgevind.
14. De Wet, De Strijd Tusschen Boer en Brit, p 84 verklaar dat die hof te Bethlehem gesit het.
15. M.C.E. Van Schoor (ed), "The diaries and recollection of Jacob Abraham Jeremias de Villiers", Christiaan de Wet-annale 8, 1990, p 11 (voetnoot 4) vermeld dat die vonnis ses maande harde arbeid was. De Villiers verklaar egter self op p 36 van dieselfde werk dat die vonnis vyf jaar gevangenisstraf met harde arbeid was.
16. De Bazuin (17 Julie 1900) soos aangehaal deur Oberholster, "Hintrager", p 69; Pienaar, With Steyn and De Wet, p 40; G. Boldingh, Een Hollandsche Officier in Zuid-Afrika: Nagelaten Geschriften van luitenant Gerrit Boldingh (B. van de Watering, Rotterdam, 1903), p 40. Dit mag egter wees dat hierdie woorde na afloop van die appèlhof-uitspraak gegee is en nie na afloop van die uitspraak van die spesiale militêre geregshof nie. Sien Pienaar, With Steyn and De Wet, p 136 in die verband.
17. Pienaar, With Steyn and De Wet, p 136.
18. Pienaar, With Steyn and De Wet, p 136.
19. Brink, Oorlog en Ballingskap, p 77. Sien ook Van Schoor (ed), "De Villiers", p 36.
20. Van Schoor, "De Villiers", p 11; Brink, Oorlog en Ballingskap, p 77.
21. Brink, Oorlog en Ballingskap, p 77; Pienaar, With Steyn and De Wet, p 136.
22. Van Schoor (ed), "De Villiers", p 11.
23. Pienaar, With Steyn and De Wet, p 136; Van Schoor (ed), "De Villiers", pp 11, 36; Brink, Oorlog en Ballingskap, p 77.
24. The National Archives (hierna TNA), Kew: CO, 224/12: verhoor, getuienis: De Wet, pp 23-24; The Friend, 23 February 1903; De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 177-186; List of Casualties in the South African Field Force: From 1st August, to 31st December 1900 including those of the Late Natal Army, from 27th October (no publisher, no place, no date), p 88; VAB: PMP, 23.
25. J.C.C. den Beer-Poortugael, Krijgsgebruiken in den Oorlog te Land (Oorlogsrecht) en de Rechten der Neutralen: Handleiding voor Officieren en ten dienste van het Militair Onderwijs (De Gebroeders van Cleef, s'Gravenhage, 1883), p 65; Baker, Halleck's International Law, p 217; R.A. Klerck, "De Toepassings van het Oorlogsrecht in den Fransch-Duitschen Oorlog van 1870-1871" (PhD Rijksuniversiteit Leiden, 1878), pp 61-63, 71-73.
26. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Van Reenen, p 32; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: Moll, Van Reenen, pp 21, 26.
27. Hierdie gesprek het aldus die verslaggewer van The Friend, 24 February 1903, tussen De Wet en die eienaar van die hotel op Dewetsdorp plaasgevind. Hiervolgens het De Wet gesê dat hy kennis dra dat uitvoering gegee moet word aan die bevel van 'n hoër offisier. Daarna het hy opgemerk dat sommige persone aan bevele gehoor gee, terwyl ander meer sal doen as wat beveel is.
28. TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: De Wet, pp 24-26.
29. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Moll, p 16.
30. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Moll, p 29.
31. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Moll, p 26.
32. Marthinus Johannes Smallberger (1871-1901) het ten tye van die oorlog op die plaas Landdros Blignaut, distrik Lindley gewoon, waar hy ook in 1901 oorlede is. VAB: S 2703, boedel M.J. Smallberger.
33. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, pp 10-11, 25, 27; J.D. Kestell, Met de Boerencommando's: Mijne Ervaringen als Veldprediker (Boekhandel voorheen Hoveker & Wormser, Amsterdam, geen datum), p 138.
34. "Rex versus Celliers", p 4.
35. Kestell, Met de Boerencommando's, pp 138-139.
36. VAB: HG 4/1/2/1/2, vertaalde getuienis van Smallberger voor die krygsraad, pp 10-13; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: Celliers, pp 28-29; Transvaalse Argiefbewaarplek (hierna TAB), Pretoria, SOP 16, 1523, beëdigde verklaring: O.A.I. Davel, 5 September 1901.
37. VAB: HG 4/1/2/1/2, vertaalde getuienis van Smallberger voor die krygsraad, pp 10-13.
38. VAB: HG 4/1/2/1/2, vertaalde getuienis van Smallberger voor die krygsraad, pp 10-13; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: Celliers, pp 28-29; TAB: SOP 16, 1523, beëdigde verklaring: O.A.I. Davel, 5 September 1901; Kestell, Met de Boerencommando's, pp 136-139.
39. "Rex versus Celliers", pp 2, 5; VAB: HG 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: De Vos, p 20; TNA: CO 224/12: verhoor, getuienis; De Wet, De Strijd Tusschen Boer en Brit, pp 24, 29; M.C.E. van Schoor (red.), "'Dagboek' van Rocco de Villiers en Bylaes,", Christiaan de Wet-annale 3, Oktober 1975 (hierna verwys as Van Schoor, "Rocco de Villiers"), p 19 (voetnoot 9); The Friend, 24 February 1903.
40. Hierdie was waarskynlik T.P. Brian. Hy is in Julie 1901 by Reitz, kort na afloop van Celliers se krygsraadverhoor, gevange geneem. Vir meer oor die gevangeneming, sien N.J. van der Merwe, Marthinus Theunis Steyn II (Nasionale Pers, Kaapstad, 1921), pp 20-24.
41. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Hattingh, Botha, pp 18, 30-31; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: De Wet, p 24. Sien ook Van Schoor, "Rocco de Villiers", p 19 (voetnoot 9).
42. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Botha Junior, pp 30-31; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: Botha, p 22.
43. "Rex versus Celliers", p 2; F.V. Engelenburg, General Louis Botha (George G. Harrap, Pretoria, 1928), p 51; H. Spender, General Botha, the Career and the Man (Constable, Londen, 1916), p 153; L.S. Amery (ed), The Times History of the War in South-Africa V (Sampson Low, Marston & Company, Londen, 1907), p 234; J. Malan, Die Boere-offisiere van die Tweede Vryheidsoorlog: 1899-1902 (Van der Walt, Pretoria, 1990), p 19; Bloemfontein Post, 23 Maart 1901.
44. VAB: HG, 4/1/2/1/2, vertaalde getuienis van Smallberger voor die krygsraad, voorverhoor, getuienis: Wessels, Hattingh, De Vos en Davel, pp 13, 15, 18, 27. Sien ook Van Schoor, "Rocco de Villiers", p 19.
45. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Davel, p 27.
46. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: De Vos, pp 19-20.
47. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Wessels, p 15.
48. Van Schoor, "De Wet", p 54 (voetnoot 8).
49. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Hattingh, p 18.
50. Malan, Die Boere-offisiere, p 106.
51. Malan, Die Boere-offisiere, p 121.
52. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Wessels, p 14.
53. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Moll, p 16.
54. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Wessels, Hattingh, De Vos, pp 14, 18, 21, 27.
55. VAB: HG, 4/1/2/1/2, vertaalde getuienis van Smallberger voor die krygsraad, pp 10-13.
56. Cd 820, Despatches by General Lord Kitchener (HMSO, Londen, 1901), p 5 verwys na die dokumente soos volg: "Mr. Steyn's official papers and his recent correspondence with the leaders of the Transvaal Boers, were found amongst the captured baggage.
57. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Wessels, Moll, De Vos, Botha, pp 14, 17, 23, 30; TAB: SOP 16, 1523, beëdigde verklaring: O.A.I. Davel, 5 September 1901.
58. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Wessels, Moll, pp 14, 17; TAB: SOP 16, 1523, beëdigde verklaring: Davel.
59. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Moll, p 17.
60. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Davel, p 28.
61. Geen verdere biografiese besonderhede omtrent Eva kon opgespoor word nie.
62. VAB: A, 170: Krygsraad, Hartbeesfontein, 14 September 1901 (notule).
63. VAB: A, 170: Krygsraad, Hartbeesfontein, 14 September 1901 (notule).
64. Notule, Uitvoerende Raad, 11 Oktober 1901 te Violet, distrik Bethlehem, soos aangehaal deur Van der Merwe, Marthinus Theunis Steyn II, p 43.
65. R.C. Delport, Barend Cilliers (Honneursskripsie, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1966), p 4.
66. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Palmer, pp 3 4; TNA: CO, 224/12, verhoor, getuienis: Palmer, Boyle, pp 14-16, 29.
67. J.D. Kestell en D.E. van Velden, De Vredesonderhandelingen Tusschen de Regeeringen der twee Zuid-Afrikaansche Republieken en de Vertegenwoordigers der Britsche Regeering welke Uitliepen op den Vrede, op 31 Mei 1902 te Vereeniging Gesloten (De Bussy, Pretoria, 1909), pp 135, 145.
68. TAB: LD, 163, 5585, Solomon-Littleton [Lyttelton], 27 October 1902.
69. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis.
70. VAB: HG 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: Celliers, p 8.
71. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor, getuienis: pleit, Celliers.
72. VAB: HG, 4/1/2/1/2, verslag, prokureur-generaal, 18 Desember 1902.
73. Archibald Walter Fawkes (1855-1941) het in 1877 die BA-graad aan St. John's College, Cambridge, behaal. Hierna het hy aan die Inner Temple studeer en is hy in 1879 as advokaat toegelaat. Hy het sy loopbaan in privaatpraktyk begin, waarna hy verskeie poste in die Britse staatsdiens beklee het. Op 22 Oktober 1901 het hy die aanstelling as tweede regter van die hooggeregshof van die ORC aanvaar. S.D. Girvin, "The Influence of an English Background on Four Judges Appointed to the Supreme Courts of the Transvaal and Orange River Colony", Tijdscrift voor Rechtsgeschiedenis, 145, 1994, pp 158-160.
74. Die lede van die jurie is deur The Friend, 23 February 1903 gelys as: David Banks, H. Barrows, St. John Bennett, Daniel Fick, Alex Greyling, J.W. Jones, Geo. Levy, Wm. Olds en Geo. Parkin.
75. Volgens The Friend, 21 February 1903, was J.P. van Zyl 'n advokaat wat namens Celliers verskyn het. Die South African Law Reports: Orange River Colony, 1903, p 6 vermeld egter duidelik dat hy die prokureur in die saak was. Geen verdere besonderhede kon oor hom gevind word nie.
76. "Rex versus Celliers", pp 1-3, 6.
77. VAB: HG, 4/1/2/1/2, voorverhoor: aanklag.
78. "Rex versus Celliers", pp 2-3.
79. "Rex versus Celliers", p 3; TNA: CO, 224/12, verhoor, p 13.
80. "Rex versus Celliers", p 3; TNA: CO, 224/12, verslag: prokureur-generaal, verhoor, pp 8, 13.
81. TNA: CO, 224/12, verslag: prokureur-generaal, verhoor: Botha, pp 8, 9, 22-23; The Friend, 24 February 1903.
82. TNA: CO, 224/12, verslag: prokureur-generaal, pp 9-10.
83. TNA: WO 105, Aanstelling, 14 Februarie 1900. Sien ook C.J. Beyers (red.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek IV (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Kaapstad, 1981), pp 53-54.
84. M. Davitt, The Boer Fight For Freedom: From the Beginning to the Peace of Pretoria (Funk & Wagnalls, New York, 1902), pp 489-490.
85. G.H.A.V. de Villebois-Mareuil, Oorlogsdagboek van veggeneraal De Villebois-Mareuil (in Afrikaans vertaal deur J. Rossouw en D.P.M. Botes) (Protea Boekhuis, Pretoria, 2000), p 136.
86. W.L. von R. en I.M.E. Scholtz, "Dagboek van C.J. Asselbergs", Christiaan de Wet-annale 5, Oktober 1978, p 32.
87. Bloemfontein Post, 27 Maart 1901
88. Bloemfontein Post, 26 Maart 1901.
89. "Rex versus Celliers", p 6; TNA: CO, 224/12, verslag: prokureur-generaal, p 12; The Friend, 24 February 1903.
90. Bloemfontein Post, 24 Maart 1903.