SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2The state and the profession: initiatives and responses to the organisation of the accounting profession in South Africa, 1904-1951Kent gij dat volk: the Anglo-Boer War and Afrikaner identity in postmodern perspective author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Historia

    Print version ISSN 0018-229X

    Historia vol.56 no.2 Durban Nov. 2011

     

    ARTIKELS

     

    Die geskiedenis van Afrikanerbetrokkenheid in die rhodesiese tabakbedryf (1890-1980)

     

    The history of Afrikaner involvement in the rhodesian tobacco industry (1890-1980)

     

     

    Gustav Hendrich

     

     


    OPSOMMING

    Die tabakbedryf in Rhodesië (vandag Zimbabwe) het ongetwyfeld 'n kardinale rol in die ekonomiese ontwikkeling van Rhodesië gespeel. Sedert die Britse kolonialisering van Rhodesië gedurende die 1890's het die klem van goudontginning en algemene landbouproduksie geleidelik na die opkomende tabakbedryf verskuif. Alhoewel die maatskappybewind van die British South Africa Company die fondament van die bedryf gelê het, kon die teenwoordigheid van Afrikaners binne die tabakbedryf nie sonder meer ontken word nie. As oorwegend landelike gemeenskap is die toetrede van Afrikaners tot die bedryf egter dikwels deur allerlei probleme en mislukkings gestrem. As gevolg van verbeterde meganisasie, boerderypraktyke en omstandighede na die Tweede Wêreldoorlog, kon Afrikaners meer effektief aan die uitbreiding van die bedryf deelneem. Mettertyd sou hierdie Afrikanertabakboere insgelyks tot die verbouing van Rhodesië se primêre uitvoerkommoditeit bydra. Hierdie artikel het ten doel om die betrokkenheid, probleme en welvaart van Afrikanertabakboere binne die geskiedkundige konteks van die Rhodesiese tabakbedryf te bespreek.

    Sleutelwoorde: Afrikaners; boere; British South Africa Company; Eensydige Onafhanklikheids-verklaring; Rhodesië; tabakbedryf; veilingsvloere.


    ABSTRACT

    The significance of the tobacco industry in the history of Rhodesia (today Zimbabwe) became in de facto inseparable from the economic development of the country. Since the British colonization of Rhodesia during the 1890's, the emphasis on gold mining and ordinary agricultural produce gradually shifted to the evolving tobacco farming. Although it had been the rule of the British South Africa Company that ultimately laid the foundations of the tobacco industry, the presence of Afrikaners within the industry cannot be disregarded. Considered to be a farming community, the initial endeavours and embarkation of Afrikaner farmers in the industry were more often than not hampered by problems and failure. Due to improved mechanization, farming practices and circumstances after the Second World War, Afrikaners could more effectively and with greater prospect partake in the expansion of the industry. Afrikaner tobacco farmers over time contributed in the cultivation of Rhodesia's primary export commodity. This article seeks to address the involvement, problems and enrichment of Afrikaner tobacco farmers in the historical context of the Rhodesian tobacco industry.

    Key words: Afrikaners; auction floors; British South Africa Company; farmers; Rhodesia; tobacco industry; Unilateral Declaration of Independence.


     

     

    Inleiding

    In die ekonomiese geskiedenis van Rhodesië (vandag Zimbabwe) het die verbouing van tabak deurgaans as vername landboukommoditeit en uitsonderlike bron van ontwikkeling vir die land as geheel gedien. Internasionaal het Rhodesië toenemend vir die lewering van hoogstaande tabakkwaliteit bekend geword. Binne die raamwerk van die Rhodesiese landbou-ekonomie het talle Afrikanerboere tot die ontwikkeling van die tabakbedryf bygedra. Sedert 1890 het Afrikaners vanuit Suid-Afrika, merendeels weens die soeke na verbeterde lewensomstandighede en werksgeleenthede, geleidelik hulle weg na die gebied noord van die Limpoporivier gevind. Die georganiseerde en individuele Afrikanertrekke en die sporadiese verhuising van Afrikanerimmigrante na Rhodesië sou die fondamente van 'n selfonderhoudende, dog geografies wydverspreide bevolkingsgroep lê. Afrikaners sou op feitlik alle lewensterreine oorheers en groot verskaffers van werksgeleenthede word. Die aanloklike landboumoontlikhede, veral die tabakbedryf, het nie bloot as werksgeleenthede by Afrikaners aanklank gevind nie, maar het veral ook 'n geleentheid tot rykdom gebied. In hierdie artikel sal daar spesifiek op die aanvanklike probleme wat in die bedryf voorgekom het, asook die welslae en prestasies van Afrikanertabakboere, gefokus word.1

     

    'n Historiese agtergrond van die Rhodesiese tabakbedryf

    Alvorens daar in die besonder na die werksaamhede van Afrikaners in die tabakbedryf gekyk kan word, is dit belangrik om die tiperende gebeure en tendense in die ontwikkeling van die bedryf in ag te neem. In die aanvangsjare van Rhodesië tussen 1890 en 1923 het Afrikanerboere hulle hoofsaaklik op bestaansboerdery en veral die soek na weiveld vir hulle vee toegespits. Hulle was waarskynlik onbewus van die potensiaal wat die land vir die verbouing van tabak en tabakplantasies ingehou het, omdat dit Engelssprekendes was wat kort na die koms van die pionierskolonne in 1890 die inisiatief geneem het om met tabak te eksperimenteer. Die gebrek aan bewussyn van die potensiaal van die landbou-ontwikkeling was die gevolg van die British South African Company (BSAC) se sterker voorkeur vir die ontginning van Rhodesië se minerale hulpbronne. Naas die aanvanklike klem op mynbou, het die vroeë Afrikaners hulle as bestaansboere hoofsaaklik op gemengde boerdery toegelê.2

    Daar bestaan weinig historiese bronne oor die vroeë tabakbedryf in Rhodesië, maar dit is wel bekend dat die Engelse pionier, Lionel Cripps, in 1895 naby Umtali met die eerste kommersiële tabakbedryf begin het. 3 Alhoewel die eerste tabakoeste op rudimentêre wyse verbou is, het D.D. Brown, wat die hooftabakbeampte was, met vertroue dié tabak as "promising and, when manufactured, of an agreeable quality" beoordeel.4 Britse instansies en verenigings het stadig maar seker en met wisselende sukses die Rhodesiese tabakbedryf moontlik gemaak, veral deur die implementering van verbeterde produksiemetodes. In 'n artikel, The development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry, noem H.W. Roberts dat die tabakbedryf vanweë isolasie en onervare individuele landbouers, veel stadiger sou ontwikkel het as dit nie vir die medewerking van die BSAC was nie.5 Edward Harben, 'n tabakboer en latere lid van die raad van die Rhodesiese Tabakvereniging, het bogenoemde standpunt van Roberts ondersteun deur te verklaar dat die BSAC positiewe stappe geneem het om tabakkwekers by te staan. Teen 1900 is sowel 'n departement van Landbou, as die Rhodesian Scientific Association gestig en met die hulp van Amerikaanse tabakkundiges is die uitgebreide verbouing van hoofsaaklik Virginiese tabak aangemoedig. 6 Dié tabaksoort sou veral onder latere Afrikanertabakboere die variëteit van voorkeur word, omdat dit bestand teen pessiektes is, asook redelik maklik hanteer en onderhou kan word.

    Die grondslag van die tabakbedryf is in die eerste dekade van die twintigste eeu gelê. Reeds in 1903 het die Rhodesia Cigar and Tobacco Syndicate op aandrang van Lachie Black in vennootskap met E.W. Graham en ene dr. Sketchley tot stand gekom. Onder die maatskappybewind van die BSAC het die tabakmaatskappy in 1904 besluit om die Rhodesian Tobacco Warehouse (RTW) in Salisbury te open.7 In hierdie pakhuis kon die tabakoes oordeelkundig gegradeer en verpak word, maar dit is veral ook gebruik as kommersiële platvorm, waar kopers en verkopers handel kon dryf. As gevolg van groter ontwikkelings deur die Russiesgebore sakeman, Michael Pevsner, wat na die Anglo-Boereoorlog na Rhodesië geïmmigreer het, is die Rhodesian Tobacco Company spoedig op die been gebring en die belangstelling van ander maatskappye aangewakker.8

    Volgens die 1906-verslag van die departement van Landbou het die landboukundige assistent, G.M. Odlum, veral oor die toekomstige waarde van die tabakbedryf uitgebrei en gunstige vooruitskattings gemaak. Odlum se uitlatings het groot byval by voornemende tabakboere gevind. Hy het die volgende standpunte met sekerheid gestel:

    The future of the Rhodesian tobacco industry may now be regarded as assured, providing there is no relaxation of the effort to advance it. It is on quality alone that a new country can hope to secure recognition, and Rhodesian growers have still much to do before approaching perfection.9

    Aanvanklik het die verkope van tabak deur middel van kontrakte of privaat ooreenkomste met handelaars geskied, maar ná 1910 sou dit deur middel van veilings plaasvind. Daarby is die RTW deur die Tobacco Company of Rhodesia and South Africa gesubsidieer. Hierdie skuif het landbouers indirek aangemoedig om groter tabakplantasies aan te lê, om sodoende die prysdalings wat soms by veilings voorgekom het, te bowe te kom. Om hierdie rede is die Rhodesian Tobacco Planter's Association en die Rhodesian Tobacco Growers Co-Operative Society gestig, waardeur daar na die algemene belange, organisering en bemarking van gewone tabakboere se oesproduksie omgesien kon word.10 Oor die algemeen was die tabakbedryf voor die ekonomiese insinking van 1914 hoogs ongeorganiseerd en wankelrig. Die groter vraag na verhoogde produksie van die Britse Ryk gedurende die Eerste Wêreldoorlog, die kommersiële banke se onoordeelkundige lenings aan boere en veral die groot aantal boere sonder versekering, het uiteindelik tot 'n surplus gelei. Aangesien daar inderwaarheid geen veilings plaasgevind het nie, kon die BSAC egter nie die produksie verkoop kry nie.11 Gevolglik is die meeste tabakboere geruïneer. In 1913 sou daar van veilings afgesien word weens die krimpende aantal afslaers en dit is eers weer in 1935 heringestel. Volgens Harben en Clements het hierdie fatale mislukking van die sogenaamde gambler's throw van die "kansvatter-tabakboere" 'n groot les vir toekomstige tabakboere ingehou, hoewel dit hulle nie afgeskrik het nie.12

    Intussen het die Unie van Suid-Afrika, vanweë sy nabyheid, die vernaamste uitvoermark vir Rhodesiese tabak geword. Gevolglik het die United Tobacco Company Ltd tot stand gekom om tabakin- en uitvoere te reguleer en te beheer. Verskerpte mededinging het algaande tussen die maatskappye ontstaan. As gevolg van die deurslaggewende uitwerking van die referendum van 1922, het daar ook op ekonomiese gebied ná 1923 'n verskuiwing in die uitvoermark plaasgevind van hoofsaaklik afhanklikheid van die Suid-Afrikaanse markte na oorsese markte, veral die Verenigde Koninkryk en die Statebondslande. 13 Ten spyte van die stigting van die Rhodesian Tobacco Warehouse and Export Co Ltd in Salisbury in 1923, het die United Tobacco Companies Ltd steeds 'n dominante rol in die ooreenkomste en uitvoere van die tabakbedryf gespeel.14

    Ten spyte van die tweede groot ekonomiese insinking as gevolg van die Groot Depressie van 1929, was die meerderheid tabakboere gedurende die 1920's en 1930's positief en optimisties oor 'n volhoubare bestaan in die Rhodesiese tabakbedryf. Aangesien al die tabakboere nie aan verenigings soos die Rhodesian Tobacco Growers Co-operative Society behoort het nie, het daar ongerymdhede soos smousery aan kopers plaasgevind. Volgens J.R. van der Merwe van Salisbury, het sy pa sy tabakoeste by die Rhodesian Tobacco Warehouse and Export Co Ltd laat gradeer en klassifiseer.15 Nadat die totale hoeveelheid tabak egter "gepoel" is, is die wins op die oorskot bereken en die agterskot aan hom uitbetaal. Van der Merwe noem dat sommige van die maatskappye die tabak by die boere gekoop het - moontlik op onwettige wyse ten koste van die maatskappy.

    Na 1930 het die bemarking van tabak weens die totstandkoming van die Tobacco Marketing Board op 'n meer georganiseerde grondslag geskied. In 1935 is twee gelisensieerde veilingsvloere, naamlik die Tobacco Producers' Floor Ltd en die Tobacco Auctions Ltd in Salisbury gestig.16 Aangesien die regering nie meer ingemeng het in direkte verkope en prysvasstellings tydens die veilings nie, is die pryse deur bieërs van Britse, Suid-Afrikaanse en Rhodesiese handelaars bepaal. Tydens die veilingseisoen tussen Maart en September, het groot spekulasie onder die bieërs voorgekom. Van der Merwe het as ooggetuie van die veilings vertel dat baie tabakboere veral aandele van die Tobacco Producers' Floor Ltd gekoop het. 17 Op hulle beurt het dié kommersiële veilingsvloere stelselmatig 'n monopolie oor die tabakbedryf in Rhodesië verkry. Tabakboere is spoedig verplig om hulle oeste slegs op hierdie vloere te verkoop en privaatverkope is verbied.

    As gevolg van die groter stabiliteit wat monopolisering meegebring het, het die verhoogde belangrikheid van Rhodesiese tabak gedurende die Tweede Wêreldoorlog die bedryf kommersieel gestimuleer. Nieteenstaande die Verenigde Koninkryk se aanvanklike huiwering om 'n laer gehalte Rhodesiese tabakbesending in te voer, het die invoere na die Verenigde Koninkryk teen 1943 'n rekordhoogtepunt van 30 miljoen pond bereik. In 1944 het die Unie van Suid-Afrika se tabakoeste as gevolg van vloedskade 'n rampjaar beleef, sodat Rhodesiese tabak ter waarde van 11 miljoen pond benodig is om vir die verliese te vergoed. 18 Volgens Van der Merwe het die tabakpryse na 1939 sodanig toegeneem dat sy pa groot tabakuitbreidings, te wete agt tabakskure en twee tabakstasies van ongeveer 120 akker, kon onderneem.19

    Na die oorlog het die wêreldvraag na Rhodesiese tabak gestyg. Waar die Verenigde Koninkryk aanvanklik as gevolg van sy sogenaamde Imperial Preference in wese voorkeur aan Amerikaanse tabak gegee het, het die land se houding meer gunstig en toegeeflik teenoor Rhodesiese tabak geraak. In 1948 het verteenwoordigers van die Rhodesian Tobacco Association en Marketing Board in die Verenigde Koninkryk die sogenaamde Londen-ooreenkoms aangegaan, waarvolgens Brittanje twee-derdes van die Rhodesiese tabakoes sou koop.20 Gedurende die na-oorlogse jare sou markuitbreidings na vele ander Europese lande plaasvind en selfs Australië, Kanada en die Verre Ooste het potensiële markte geword.

    Gedurende die vyftigerjare was daar ongekende vooruitgang in die Rhodesiese tabakbedryf as gevolg van die groot verbruik en uitvoere na die Verenigde Koninkryk, asook die gebruik van meer doeltreffende verwerkingsmetodes en navorsing. Johan Adendorff, 'n oud-Rhodesiër wat op sy pa se Zerutabakplaas naby Gutu grootgeword het, noem dat die Landbank, asook ander kommersiële banke en instansies tabakboere finansieel ondersteun het. Volgens Adendorff was die sogenaamde tobacco boom grotendeels verantwoordelik vir die snelle vooruitgang en finansiële verryking van talle Engelse en Afrikanertabakboere.21 Gedurende die tydperk van die Federasie van Rhodesië en Njassaland tussen 1953 en 1963, het die tabakbedryf verdere fenomenale ontwikkeling beleef.22

    In Tabel 1 hierbo word die produksie van berookte tabak tussen 1952 en 1956 teen rekord hoogtes in Suid-Rhodesië aangedui. Daarteenoor was die produksievlakke van ander tabaksoorte, waaronder vuurgedroogte tabak, gedurende dieselfde periode veel laer en wisselvallig. Na fenomenale groei van Turkse tabak tussen 1944 en 1946, het 'n merkwaardige afname in die produksie van hierdie tabaksoort voorgekom, wat veral aan die groter voorkeur vir berookte tabak toegeskryf kon word.24 Dit is interessant om daarop te let dat die aantal boere wat berookte tabak verbou het, terselfdertyd geleidelik toegeneem het. Ná 1958 het verbeterde tabakoestegnieke grootliks daartoe bygedra dat Rhodesië, naas die Verenigde State van Amerika, die tweede grootste uitvoerder van berookte tabak in die wêreld geword het.25

     

     

    Die direkte gevolg van hierdie vooruitgang en aanloklikheid van die tabakbedryf was 'n merkbare bevolkingstoename van blankes, insluitend 'n beduidende aantal Afrikaners wat as immigrante na Rhodesië verhuis het. Volgens C.H. Thompson en H.W. Woodruff se studie, Economic Development in Rhodesia and Nyasaland, was die uitbreiding van die tabakbedryf die vernaamste rede vir hierdie immigrasietoename.26 Adendorff het hierdie standpunt ondersteun deur aan te voer dat ouers en hulle kinders die land binnegekom en as't ware tot 'n "skielike blanke bevolkingsontploffing" aanleiding gegee het.27

    Gedurende die tydperk na die Rhodesiese onafhanklikheidsverklaring in 1965, wat amptelik as die Unilateral Declaration of Independence (UDI) bekendgestaan het, het politieke en ekonomiese druk op die tabakbedryf egter toegeneem. Weens sanksies wat die Verenigde Koninkryk na 1965 ingestel het en die gevolglike verlies van die Verenigde Koninkryk as Rhodesië se vernaamste uitvoermark, moes die Rhodesiese tabakboere noodgedwonge vir ander buitelandse markte produseer. Ten spyte van die aanvanklike intense verknorsing van die tabakbedryf en die ekonomiese oorlogvoering van die Verenigde Koninkryk teen Rhodesië, het die Rhodesiese tabakbedryf en uitvoere steeds relatief ongeskonde daarvan afgekom.28 David Rowe, 'n politieke wetenskaplike van die Ohio State University, het beweer dat die markte deur die skepping van die Tobacco Corporation gemanipuleer is om sodoende 'n bestendige kapitaalinvloei te verseker.29 Schalk Viljoen, voorsitter van die Enkeldoorn Boerevereniging, het ook beweer dat velerlei Rhodesiese produkte, insluitend tabak, dikwels sonder etikettering en dus ongeїdentifiseer wêreldwyd uitgevoer is.30 Die tabakbedryf is daardeur in stand gehou en het tot 1980 daardie relatiewe standvastigheid vertoon.

     

    Die probleme van die Afrikanertabakboer

    Tydens die ontwikkeling van die Rhodesiese tabakbedryf het Afrikanertabakboere wel probleme en terugslae beleef. Die eerste fout wat talle begaan het, was om nie hulle boerderye behoorlik te diversifiseer nie. Afrikanerboere was geneig om al hulle kapitaal uitsluitlik in die verbouing van slegs een gewas, soos tabak, te belê, eerder as om dit oor 'n wyer verskeidenheid gewasse of beesboerdery te versprei. Volgens Roberts het hierdie neiging tot disproporsionele kontantgewasboerderye 'n risiko vir die stabiliteit van die bedryf geword.31 Reeds in 1928 het die Rhodesian Agricultural Journal die waarskuwing aan tabakboere gerig om teen "excessive enthusiasm and optimism over one crop" te waak. Boere is herinner dat 'n gemengde vorm van boerdery die enigste veilige weg tot vooruitgang was.32 Die meeste boere het hulle klaarblyklik nie aan hierdie vermanings gesteur nie, wat hulle later duur te staan sou kom. Adendorff het in hierdie verband vertel dat die meeste boere as gevoolg van die skiellike ekonomiese insinking wat nna die boom jare ggevolg het, mettertyd "allles verloor het".33

     

     

    'n Twweede faktor wat 'n intrinsieke efffek op die suksess van tabakboerdderye gehad het, was die gebrek aan kennnis ten opsigte vvan tabakverbouiing wat by baie Afrikaners voorgekom hhet. Volgens M.II. Martin was diee grootste probleeem die praktiesse onkunde wat hoofsaakklik onder die jonnger Afrikanerimmmigrante voorgeekom het. D.M dde Kock, 'n Afrikanertabaakboer, was van mening dat verkeerde opleidingg en onkunde diie redes vir die meeste mmislukkings was. De Kock het tee kenne gegee daat sy eie seun, wwat as jong tabakboer gewwerk het, na vieer jaar steeds geeen doeltreffendee plan teen oesmmislukkings gehad het nie.35 Sonder 'n goeie praktiese opleiding en 'n kennis van die tabakbedryf, het hierdie boere onder moeilike omstandighede probeer boer. Dit is moontlik dat verskeie jonger boere juis vanweë hierdie onkunde te veel masjinerie en implemente gebruik het omdat hulle nie hulle arbeid effektief kon organiseer nie. In sekere gevalle is te veel tabak gekweek of verkeerd bewerk, omdat daar te min arbeiders beskikbaar was. Volgens De Kock het die praktyk van stukwerk, wat deur tabakassistente en hulle werkgewers begin is, een van die grootste uitvloeisels van onkunde en onoordeelkundigheid geword.36 In bogenoemde verband is daar ooreengekom dat hierdie werkers betaal moes word vir die hoeveelheid arbeid of produksie wat gelewer is, en nie vir die arbeidsure nie. Omdat daar dikwels nie voldoende toesighouding oor die werkers was nie, het die probleem van oorbewerking of die misbruik van grond onder bewerking dikwels voorgekom.37

    K. van Rensburg, 'n Afrikanertabakboer wat met Turkse tabak op sy plaas Lenteflos naby Mayo Ranch geboer het, vertel dat veral die immigrante uit die Unie van Suid-Afrika geen kennis of ondervinding van tabak gehad het nie. So het twee Afrikaners, H.J. Smuts en P.N. Genis, byvoorbeeld na 1948 uit die Unie gekom en feitlik sonder ondervinding op sy plaas gaan werk.38 D.M. de Kock het beklemtoon dat enige persoon tabak kon kweek, maar dat slegs een uit elke honderd tabakboere 'n sukses daarvan gemaak het en dat dit vir net een uit tien boere 'n goed betalende bedryf sou wees.39 Roberts het egter verduidelik dat daar deur regeringsinisiatiewe, soos die oprigting van navorsingstasies, gepoog is om kundigheid oor tabaksiektes, oesrotasies en grondgehalte onder tabakboere te bevorder.40

    Die mislukking van Afrikanertabakboere weens 'n gebrek aan basiese kennis van die bedryf, was nie 'n ongewone verskynsel nie. Piet Malan, seun van senator F.S. Malan, het in 1950 na Rhodesië verhuis en twee plase, Grand Chase en Onse Rust, teen £18 000 gekoop. Nadat Malan egter grootskaalse oesmislukkings ervaar het, moes hy sy plase teen 'n skamele £3 000 verkoop.41 Malan is daarna terug na Suid-Afrika. Volgens J.J. Rossouw van Marandellas, was die direkte oorsaak van Malan se probleme sy weiering om kennis en advies aangaande tabakverbouing in te win. Jean Potgieter, Willie de Jager, S. van der Merwe, P.J. Nel en andere het almal as gevolg van mislukkings weens onkunde die tabakbedryf binne twee jaar verlaat.42 Nel het selfs nadat hy vier tabakskure vir Virginiese tabak opgerig het, steeds teen 'n verlies geboer, sodat hy uiteindelik na melk-en groenteboerdery moes oorslaan.43

    Vanuit 'n landboukundige oogpunt beskou, is dit belangrik om die kompleksiteit van die verbouing van tabak in ag te neem, aangesien die uiteindelike sukses of mislukking van die vaardighede en wetenskaplike bedryfskennis van die tabakboer afgehang het. Eerstens moes die tabaklande vanaf September deeglik bewerk en in saadbeddings omskep word. Tussen die middel van Oktober en November moes die saailinge op die beddinglande uitgeplant word. S.W. van der Merwe van die tabakplaas Fortuna te Chipinga, vertel dat boere veral in hierdie grondslagfase voorsorg teen pessiektes, swamagtige skimmelprobleme en plantsuiers moes tref.44 In die vroeë stadium van die bedryf was daar geen gifstowwe teen plantsiektes in Rhodesië beskikbaar nie, en boere moes van arbeiders gebruik maak om die plantsuiers fisies te verwyder.

    Tweedens moes die tabakblare teen Januarie geoes en in spesiale baksteenskure geberg word. Tydens hierdie bergingsperiode moes die skure deur middel van verwarmers of buiteoonde kunsmatig verhit word, sodat die tabakblare gedroog kon word. Volgens Adendorff, wie se pa die Zeru Tobacco Barns bedryf het, was hierdie proses van die spannendste en ingewikkeldste uitdagings vir die tabakboer.45 Die ryp tabakblare moes dan sorgvuldig vasgemaak en in die skure opgehang word, waarna die verhittingsproses sou voortgaan. Gedurende hierdie stadium was temperatuurkontrole van die skuur van die grootste belang, omdat die geringste fout katastrofiese gevolge kon hê. Indien die temperature verkeerd aangepas of oormatig verhoog is, kon dit die tabakblare onherstelbaar beskadig. Clements en Harden noem dat die korrekte regulering van die voggehalte en hitte die geheim vir die sukses van die tabakboer is.46

    Wanneer die tabak gedroog is, moes die tabakskure geleidelik afgekoel word om verkrummeling van die blare te verhoed. Om die hantering en bewerkbaarheid daarvan te vergemaklik, moes koel stoom in die skure gepomp word. Die tabakblare is aangeklam en in sogenaamde "sweetskure" gelaat om te sweet. Daarna is die tabak in kartondose verpak en na die markte, dit wil sê die twee tabakveilingsvloere in Salisbury, geneem waar dit gegradeer en verhandel is. Vir die meerderheid Afrikanertabakboere was die komplekse aard van die bedryf, plus hulle onwilligheid om raad te vra, 'n belangrike rede waarom hulle soveel probleme ondervind het.

    'n Verdere probleem wat egter selde voorgekom het, was die pleeg van roofbou.47 Die onbeplande rotering van oesgewasplante, grotendeels deur Afrikanerboere se eie toedoen, het veroorsaak dat die landbougrond uitgeput geraak het. Hierdie probleem het nie net in die tabakbedryf voorgekom nie, maar ook in die ander boerderybedrywighede van Rhodesië. Ander kwessies, soos 'n tekort aan kapitaal, slordigheid en spandabelrigheid op landbougebied, het ook deurentyd onder sommige Afrikanertabakboere kop uitgesteek. 'n Opvallende tendens onder Afrikaners was die spandabelrige aankoop van onbenullighede of luukse implemente, wat op die lang duur nadelige gevolge en selfs bankrotskap tot gevolg het.48

     

    Tabakassistente

    Die departement van Landbou het reeds in 1938 'n skema van stapel gestuur om jong Rhodesiërs aan te moedig om vir poste as tabakassistente aansoek te doen. Volgens die verslag van 1938 het enkele suksesvolle en selfstandige boere hulle bereid verklaar om hierdie voornemende assistente op te lei.49 Gevolglik is 'n komitee aangestel om die reëlings vir die plasing van assistente te behartig. Na die Tweede Wêreldoorlog het talle Afrikaners van jeugdige ouderdom na Rhodesië geïmmigreer en hulle in die snelgroeiende tabakbedryf begewe. Oor die algemeen het hierdie grootliks onkundige Afrikaners spoedig besef dat hulle nie sonder die nodige leiding en veral wetenskaplike landbou-opleiding van reeds gevestigde tabakboere 'n volhoubare boerdery kon begin nie. Beide die departement van Lande en die Land Settlement Board het voornemende immigrante en tabakassistente aangeraai om hulleself op eerbare wyse by gevestigde boere diensbaar te stel. Die verblyfkoste van hierdie assistente moes egter nie meer as £5 of £6 per maand oorskry nie.50 Hulle sou wettiglik 'n blok aan die been van die boer bly tot die assistent sy plaas verlaat het. Om hierdie rede het die meerderheid van alle Afrikanerimmigrante wat na werksgeleenthede in die tabakbedryf op soek was, as sogenaamde tabakassistente begin werk. 'n Informele geskrewe of mondelinge werkskontrak is gewoonlik tussen die tabakassistent en sy werkgewer aangegaan, waarvolgens die assistent 'n wisselende persentasie van ongeveer 20 persent van die winste uit tabak ontvang het. Na gelang van die aantal diensjare kon dit tot bykans 35 persent verhoog word.

    L.J. Botha, wat as tabakassistent in die Inyazuratabakdistrik begin het, vertel dat hy eers 25 persent van die wins ontvang het en stelselmatig sy eie klein tabakstasie opgebou het. Buitensporige arbeidspligte, soos sogenaamde "stomp-werk", wat met die verwydering van boomstompe, die skoonmaak van landbougronde en die verrigting van swaar of fisiese arbeid gepaard gegaan het, asook die bewerking van die gronde, het 'n algemene verskynsel op die plase geword. Botha bevestig dat hy en ander assistente in die proses noodsaaklike ondervinding en kennis opgedoen het. Volgens Botha is die assistente relatief goed betaal en kon hy byvoorbeeld na ongeveer drie jaar finansieel onafhanklik word en gevolglik met sy spaargeld sy eie plaas bekom.51

    In die distrik van Inyazura was daar veral na 1946 'n toestroming van tabakassistente. 'n Gedetailleerde uiteensetting van die Afrikanerinkomelinge is deur J.H. Kok van De Rust verstrek. Die Afrikanertabakassistente was mense soos Piet Martin, Hennie Albert, Mike Bosch, Frik Muller, Chris du Plessis, Piet Wiese, Willie Smit, John Ferreira, Derrick Hoffman, Tys Hoffman, Alfred en Thom Holloway, Lewis Botha, Japie Sadie, Daan Robberts, Frik Marsh, Frans Sadie, Fanie Olivier, Petrus Pretorius, J.C.D. Serfontein, Sarel du Plessis, Johan Voigt, D. Meiring, Danie Steel, John Morkel, Leo Schoeman, Barry Mynhardt, W. Joubert en H. du Toit. Hulle het egter slegs in die hoedanigheid van assistente in die bedryf voortgegaan of later ander beroepe beoefen. Enkele assistente het wel vasbeslote gepoog om onafhanklike grondeienaars van tabakplase te word. In die Inyazura-distrik was hierdie Afrikaners mense soos Chris du Plessis, Frik Muller, Piet Martin, Nicholaas du Plessis, Wille Smit, ene Roux, Piet Wiese, Joop Steyn, Jan Celliers, Hennie Theron en J. Ferreira.52

    Namate die tabakassistente geleidelik hulle finansiële posisies verstewig en selfstandig geword het, het die aantal assistente na die vyftigerjare afgeneem. Hierdie afname kon heel waarskynlik aan die groter kompetisie om werksgeleenthede met inheemse swart werkers toegeskryf word. Ander redes was waarskynlik die beskikbaarheid van swart landelike arbeiders vanuit Njassaland en Mosambiek, asook die skaarste aan blanke werknemers veral ná 1965 in Rhodesië.53

     

    Welgestelde Afrikanertabakboere en hulle prestasies

    'n Ontleding van die opkoms van suksesvolle en welvarende Afrikanertabakboere toon ook die merkbare vooruitgang van enkele tabakassistente. 'n Belangrike bepalende faktor tot hierdie aanvanklike sukses was die feit dat die meeste van dié Afrikaner-immigrant tabakboere oor voldoende kapitaal beskik het om gou plase na willekeur te bekom. Hierdie Afrikaners, insluitende die tabakassistente, het finansieel 'n definitiewe voorsprong in die tabakbedryf geniet. Met 'n groot mate van onkunde ten opsigte van tabakverbouing, het hierdie skynbare kapitaalkragtigheid van die boere egter nie soseer beteken dat hulle onmiddellik welvarend of ryk sou word nie. Inteendeel, sommige boere het dikwels reeds tabakplase wat reeds deels uitgewerk was en waarop plantsiektes soos vrotpootjie voorgekom het, gekoop. Weens die oorhaastige aankoop van eiendomme moes hierdie boere dus oor die korttermyn die gevolge van hulle onoordeelkundige optrede dra.

    Ná 1947 het die verskynsel van Afrikaners met beduidende kapitaal in Rhodesië toenemend voorgekom en insgelyks het hulle groot beleggers in tabakplase begin word. Die meeste van hierdie Afrikaners het op die potensieel ryk tabakgebiede tussen Salisbury en Umtali in die noorde en noordoostelike distrikte van Rhodesië gekonsentreer. M.C. Bosch van die plaas Doornspruit in Inyazura, verwys na enkele voorbeelde van hierdie sogenaamde "tjekboek-boere" vanuit die Unie van Suid-Afrika. Ene Le Roux van die Oranje-Vrystaat het byvoorbeeld in 1947 en 1948 met £30 000 'n plaas gekoop, waarna dit 'n suksesvolle boerdery geword het wat op verhoogde tabakproduksie toegespits was.54 Nadat Frits Bredenkamp 'n plaas vir £28 000 aangekoop het, het hy 'n verdere bedrag van £40 000 vir uitbreidings gedeponeer. Tielman Neethling van Stellenbosch het 'n plaas met toerusting vir ongeveer £60 000 gekoop en 'n verdere £120 000 daarin belê.55 Senator Daantjie Viljoen het in 1948 die plaas Sysalvale vir ongeveer £48 000 gekoop en 'n merkwaardige eerste oes sukses van £27 000 behaal. Prof. De Villiers, dr. Ben, A.G. du Toit, dr. Walters, Van Niekerk en enkele ander onbekende Afrikaners, was verdere voorbeelde van hierdie suksesvolle "tjekboek-boere". Hierdie boere het kennelik 'n voorsprong gehad vanweë hulle kapitaalkragtigheid en die feit dat hulle 'n reëlmatige inkomstevloei kon verseker, asook vanweë hulle beduidende kennis van die landboubedryf. Die groter welvaart van sommige Afrikaners kan aan sowel die herstel en normalisering van die ekonomie na die Tweede Wêreldoorlog, as die immigrasie van Afrikaners met relatiewe kapitaalbronne, toegeskryf word. Onderliggend daaraan het die

    Reddingsdaadbond (RDB) in Rhodesië verdere stukrag verleen om Afrikanerkapitaal vir opvoedings- en ontwikkelingsdoelwitte te mobiliseer.56

    Dit wil voorkom asof die welvarende tabakboere veral vanweë kapitaaluitbreidings hulle stempel geleidelik op die algehele ontwikkeling van die Rhodesiese tabakbedryf afgedruk het. P.J. Erasmus van Salisbury het verklaar dat hy en ander boere 'n vennootskap gestig en daarna nog twee plaasuitbreidings aangekoop het. Bo en behalwe die geleidelike toevoeging van skure en implemente, kon die houtvoorraad op dié plase baie kostedoeltreffend as brandhout vir die tabaksweetskure gebruik word. Erasmus het verder vermeld dat hy geen misoes gehad het nie en ná 1948 'n stabiele kapitaalbasis van £140 000 gegenereer het. 57 Tesame met die volgehoue vooruitgang in die bedryf, het die latere beskikbaarheid van landbou-implemente, soos ysterwiel-trekkers, spuitstowwe en algehele meganisasie ná die 1950's ook tot Afrikanertabakboere se vooruitgang bygedra. D.M. de Kock het daarop gewys dat boere weens die aanvanklike skaarsheid aan arbeidsbronne sedert die "vroegste dae na arbeidsparende meganismes" gesoek het.58 Daar het groot landboukundige verbeteringe ten opsigte van die saadbeddings en skure plaasgevind. De Kock verduidelik dat die gebruik van onder meer Amerikaans-ingevoerde trekkers in die besonder beteken het dat "... trekkers kon ploeg wanneer dit die geskikste is, en nie slegs wanneer die boer op die land kan kom nie".59 Die direkte uitwerking van meganisasie was dat die reeds gevestigde, welvarende tabakboere daardeur nog effektiewer kon vooruitboer.

    In vergelyking met Engelssprekende tabakboere, soos die bekende E.R. Campbell en die boere van Harland Bros, het die Afrikanertabakboere hulle mettertyd sowel in getal as die kwaliteit van tabak oortref. M.I. Martin was van mening dat die Engelssprekende tabakboere die Afrikanertabakboere nagevolg het nadat hulle die potensiaal van die tabakbedryf besef het. Martin het verder verklaar dat Afrikaners veral vir hulle bekwaamheid en goeie oeste geloof is. Hyself, D.M. de Kock, Tys Hoffman en andere het in die Rhodesiese tabakraad gedien en is telkens as die beste tabakkwekers van die jaar aangewys.60 Die welvaart van dié boere het wel substansieel vergroot, maar dit het ook somtyds met 'n mate van hoogmoed gepaard gegaan. Veral vanaf 1960 het die algemene lewenstandaard van die tabakboere algaande verbeter, sodat allerlei materiële luukshede bekostig kon word. D.M. de Kock het in sy mededelings oor sy eie aanvanklike hoogmoed berig. Oorkoepelend beskou, het D.M. de Kock, S.A. de Kock en J.P. de Kock inderwaarheid as tabakpioniers die grondslag vir latere opkomende boere in die bedryf gelê. Hulle het ongetwyfeld as inspirasie en aansporing vir ander Afrikanertabakboere gedien. D.M. de Kock, wat aanvanklik 'n tabakassistent was, het uiteindelik 'n indrukwekkende landgoed van tien tabakplase, wat gesamentlik 12 000 morg beslaan het, asook dergelike belange in verskillende maatskappye in Rhodesië besit.61 In 'n berig in Die Burger van Julie 1949, is die baanbrekersrol van veral D.M. de Kock beklemtoon en is beweer dat hy as die "onbetwiste tabakkoning" van Rhodesië bekend geword het.62

    Ander Afrikanertabakboere wat ook befaamd vir hulle tabakproduksie en ontwikkelings geword het, was P.W. Coetzer, J.G.A. de Beer, Hans de Beer en C.G. Steyn wat aan die grensgebiede met Mosambiek geboer het.63 In die Middellande het Piet van der Merwe in 1948 as hoogaangeskrewe kenner met tabakveredeling en uitbreiding begin. In die noordelike Domadistrik het P.A.L. Haarhoff en C.G. Naudé in 1953 as tabakboere uitgeblink. 64 Hierdie boere het deurgaans met tabakverbouing geëksperimenteer en probeer om deur middel van gemengde boerdery groter diversifisering te verseker.

    Afrikanertabakboere is in latere jare met groot respek en eer deur die Rhodesiese owerhede vir hulle deelname aan en prestasies in die bedryf bejeën. Volgens ds. Sarel Kotzé, 'n oud-Rhodesiër, was Afrikanerboere baie innoverend ten opsigte van produkontwikkeling, implementontwerp en om veral in die sanksiejare ná 1965 nuwe uitvoermarkte te vind.65 Talle Afrikaners het ook in tabakrade en verenigings gedien. Johann Adendorff het met groot trots daarna verwys dat sy pa, R. Adendorff, tydens 'n toekenningsplegtigheid The Order of the Legion of Merit-medale vir voortreflike gemeenskapsdiens van die jaar van die waarnemende president van Rhodesië, mnr. Euwerhardt, ontvang het.66 R. Adendorff het ook gedurende 1965 en 1966 saam met ander Afrikaners, soos J.I. de Wet, J. Kirstein, J.P. de Kock, J.H. de Kock, J.J. Buitendag, J.J. van Vuuren en ene Haarhoff in die raad van die Rhodesian Tobacco Association gedien. Daarby het Adendorff in die raad van die Rhodesian National Farmers Union gedien. Hy het ook een jaar die trofee en medalje vir die beste tabakkweker van die jaar ontvang.67 Laasgenoemde prestasie bevestig dat talle Afrikaners op soortgelyke wyse 'n bydrae tot die ontwikkeling van die Rhodesiese tabakbedryf gelewer het.

     

    Ekonomiese krisis en nalatenskap van Afrikanertabakboere in Zimbabwe

    Na die onafhanklikheid van Zimbabwe in 1980, het die gevestigde tabakbedryf vir die grootste tydperk tot ongeveer 2000 belowende ontwikkeling getoon. Ten spyte van politieke en ekonomiese veranderinge het 'n ontleding van die Zimbabwiese tabakbedryf getoon dat tabak steeds die land se grootste uitvoerkommoditeit was en dat die land as die wêreld se grootste tabakuitvoerder bestempel is.68 As gevolg van verdiepende sosioekonomiese probleme weens die radikale grondhervormingsbeleid van grondkonfiskering, plaasaanvalle en gerugte van intimidasie deur die sogenaamde "oorlogsveterane", die beslaglegging op plaaseiendomme en ongeregtigheid teen blanke boere veral sedert 2000, is die tabakbedryf in 'n onrusbarende krisistoestand gedompel. Weens die verlies aan buitelandse beleggings het die inflasiekoers die hoogte ingeskiet en insgelyks negatief op die handel in tabakprodukte geïmpakteer. Talle Afrikanerboere het uit moedeloosheid besluit om na aangrensende buurstate, veral Mosambiek en Suid-Afrika, te verhuis.69

    Die nalatenskap van die Afrikanertabakboere in die ontwikkeling van die tabakbedryf kan geensins geringskat word nie. Die argument kan aangevoer word dat die Afrikanertabakboere 'n wesenlike landboukundige bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die tabakbedryf, aangesien baie van hulle oor grondige kennis van boerdery beskik het. Die Afrikaners verteenwoordig ná hulle koms na Rhodesië hoofsaaklik 'n landelike bevolking wat veral bekendheid verwerf het as bestaans- en later ook as tabakboere. Verskeie probleme en terugslae wat aanvanklik deur voornemende Afrikanertabakboere ervaar is, is langsamerhand deur moderne landboumetodes en die opdoen van gespesialiseerde kennis oorkom. In hulle strewe tot persoonlike welvaart, is hierdie Afrikaners ook genoop om by Rhodesiese landboupraktyke en verbeterde meganisasie aan te pas, asook om by tabakrade en -verenigings betrokke te raak. Veral na die Tweede Wêreldoorlog sou die welgestelde Afrikanertabakboere ook die toon vir jonger tabakassistente gee om geleidelik 'n suksesvolle bydrae in die opkomende Rhodesiese tabakbedryf te lewer.

    Uit 'n ontleding van die landbouproduksiestatistiek van die Commercial Farmers' Union, blyk dit duidelik dat daar tussen 1998 en 2009 'n skerp afname in die lewering van tabak voorgekom het. Dit is opvallend dat die produksiesektore waarby veral Afrikaners betrokke was, te wete die tabakboerdery, uitermate gekwyn het. Volgens die totale landbouproduksiesyfers het die lewering van tabak (deur onder meer die grootskaalse kommersiële sektore) van 209 91 000 ton in 1998 gedaal tot slegs 36 20 000 ton in 2009.70 'n Studie oor grondhervorming en die posisie van die grootskaalse kommersiële boerderye, toon duidelik aan dat die aantal plase in blanke besit sporadies van ongeveer 6 000 in 1979, tot 4 500 in 1992 gedaal het.71 Wanneer die afname in die vlakke van produksie dus met die afname in die aantal grootskaalse plase van blanke boere vergelyk word, kan afgelei word dat die vertrek van boere, insluitend Afrikaners, as 'n grondliggende oorsaak vir die vinnige agteruitgang van die Zimbabwiese landbou en tabakbedryf voorgehou kan word. Dit is hoogs onseker wat die toekoms vir die oorblywende Afrikanertabakboere in die hedendaagse Zimbabwe sal inhou.

     

    Gevolgtrekking

    Dit is te betwyfel of Rhodesië se ekonomiese ontwikkeling sonder die opbloei van die tabakbedryf merkwaardig sou kon vooruitgaan. Ten spyte van allerlei probleme en ekonomiese insinkings, het die tabakbedryf na 'n aanvanklik stadige begin, 'n groot mate van stabiliteit aan die Rhodesiese ekonomie in die breë verleen. Binne die bedryf het baie Afrikanertabakboere eers as tabakassistente begin werk - grootliks met weinig diepgaande kennis daarvan - maar geleidelik deur ondervinding en onderrig selfstandige boere geword. In latere jare is talle van die Afrikaners vir hulle kundigheid en prysenswaardige bydraes tot die tabaknywerheid vereer. Die Afrikanertabakboere het dus onteenseglik in die "glorie van tabak" gedeel.

     

     

    Gustav Hendrich het in Desember 2010 die graad PhD van die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy is 'n vryskut navorser en met die departement Geskiedenis geaffilieer.

     

     

    1. Ten spyte daarvan dat verskeie ander boerderybedrywighede, te wete beesboerdery, katoen, en die verbouing van graan- en mieliegewasse, groot sukses in landbou-ontwikkeling getoon het, het Rhodesië ongetwyfeld vir die gehalteproduksie van tabak beroemd geword. Die uitgangspunt van hierdie artikel is dus om slegs die Rhodesiese tabakbedryf en die Afrikaner se rol daarin, histories te ontleed.
    2. G.H. Tanser, "Early years of agriculture in Rhodesia, 1890-1923", Rhodesia Agricultural Journal, 75, 4, July/August 1978, p 79.
    3. F. Clements and E. Harben, Leaf of Gold. The Story of Rhodesian Tobacco (Metheun, London, 1962), p 48.
    4. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 49.
    5. H.W. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", The South African Journal of Economics, 19, 1, March 1951, p 178.
    6. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 50.
    7. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 178.
    8. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 62.
    9. Rhodesia Government Publication (hereafter RGP), Southern Rhodesia, Report of the Department of Agriculture for the year ended 31st March, 1906 (Argus Printing and Publishing Company Limited, Salisbury, 1906), p 22.
    10. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", pp 178-180.
    11. Wes-Kaapse Provinsiale Argiefbewaarplek, Kaapstad (hierna WKPA), P.J. van der Merweversameling A2599, 134: Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, Bemarking voor slump, Various Outspans, pp 2-3.
    12. Clements and Harben, Leaf of Gold, pp 66-77.
    13. Voor 1922 het intense politieke debatte oor die moontlike unifikasie van Rhodesië met die Unie van Suid-Afrika plaasgevind. Gevolglik is 'n referendum in November 1922 gehou om tussen selfregering en unifikasie te kies. Aangesien die maatskappybewind van die BSAC geleidelik by die Rhodesiese publiek in onguns verval het, het die keuse op selfregering geval. Op 1 Oktober 1923 het Suid-Rhodesië 'n selfregerende kolonie van die Britse Ryk geword.
    14. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 180.
    15. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157: Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1196, J.R. van der Merwe, pp 49-50.45
    16. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 123.
    17. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157: Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1196, J.R. van der Merwe, pp 50-51.
    18. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 188.
    19. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157: Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1196, J.R. van der Merwe, p 51.
    20. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 123; Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 187.
    21. J. Adendorff, The Lost Link (Private publication, no place, no date), p 42. Volgens historiese en statistiese bronne oor die Rhodesiese landbou is dit opvallend dat geen duidelike onderskeid tussen Afrikaans- en Engelssprekende Rhodesiërs getref is nie. Sedert die 1950's is bogenoemde twee groepe hoofsaaklik as een groep, naamlik "Europeërs", in regeringstatistieke geklassifiseer.
    22. Anonymous, The Tobacco Industry of Rhodesia and Nyasaland (Tobacco Export Promotion Council of Rhodesia and Nyasaland, Salisbury, 1963), p 26.
    23. RGP, Report on the Agricultural and Pastoral Production of Southern Rhodesia, Northern Rhodesia and Nyasaland, 1956-1957 (Government Printer, Salisbury, 1958), no page number.
    24. RGP, Report on the Agricultural and Pastoral Production of Southern Rhodesia, no page number. Geen betekenisvolle statistiese gegewens of inligting rakende die produksievlakke van tabak tussen 1960 en 1980 kon in die Rhodesiese regeringspublikasies opgespoor word nie. Die Zimbabwean Tobacco Association (ZTA) het die skrywer in kennis gestel dat geen noemenswaardige statistiek aangaande tabakproduksie voor 1980 in hulle argiewe beskikbaar is nie.
    25. Anonymous, Rhodesia's Golden Harvest. A special review of the tobacco industry of Rhodesia and Nyasaland. International Tobacco Trade Congress (Parker Publications, Salisbury, 1963), p 75.
    26. C.H. Thompson and H.W. Woodruff, Economic development in Rhodesia and Nyasaland (Dobson, London, 1954), p 145.
    27. Adendorff, The Lost Link, p 53.
    28. J. Handford, A portrait of an economy under sanctions 1965-1975 (Mercury Press, Salisbury, 1976), p 21.
    29. D.M. Rowe, Manipulating the market. Understanding economic sanctions, institutional change, and the political unity of white Rhodesia (University of Michigan Press, Ann Arbor, 2001), p 94.
    30. Privaatonderhoud met S. Viljoen, Pretoria, 8 Mei 2009.
    31. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 179.
    32. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, Rhodesian Agricultural Journal, June 1928, p 4.
    33. Adendorff, The Lost Link, ppp 42-44.
    34. Die boostaande kaart dui die vernaamste geoografiese gebiede wwaar die meeste tabbakproduksie plaasgeevind het, aan. Di t is opmerklik datt die tabakprodukssie hoofsaaklik in die vrugbare noordeelike en noordd-oostelike gebie de voorgekom het, terwyl feitlik alle tabakprroduksiemoontlikheede weens onbeweerkbare en droeër toestande in die ssuid-westelike gebiedee ontbreek het. RGGP, Report of the Secre t t ary for Agriculture fo r r the period 1st Octobe r r 1969 to 30th Septem b b er 197 0 (Governmeent Printer, Salisburyy, 1970), p 6.
    35. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, pp 57-58.
    36. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134: Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, pp 57-58.
    37. L.T. Tracey, Approach to farming in Southern Rhodesia (University of London Press, London, 1953), p 353.
    38. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157, Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 152A, K. van Rensburg, pp 3-4.
    39. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, p 58.
    40. Roberts, "The Development of the Southern Rhodesian Tobacco Industry", p 183.
    41. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 159, Onderhoude, S-U, Rhodesië na 1890, 1211, J.J. Rossouw, pp 6-7.
    42. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 159, Onderhoude, S-U, Rhodesië na 1890, 1211, J.J. Rossouw, pp 2-3.
    43. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 159, Onderhoude, S-U, Rhodesië na 1890, 1211, J.J. Rossouw, pp 2-3.
    44. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 158, Onderhoude, Melsetter-O, Rhodesië na 1890, 67, S.W. van der Merwe, p 8.
    45. Adendorff, The Lost Link, p 35.
    46. Clements and Harben, Leaf of Gold, p 200.
    47. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157, Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1384, M. Martin, p 68.
    48. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157, Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1384, M. Martin, pp 68-69.
    49. RGP, Southern Rhodesia. Report of the Secretary, Department of Agriculture and Lands for the year 1938 (Rhodesian Printing and Publishing Co Ltd, Salisbury, 1939), p 16.
    50. Anonymous, Farming in Southern Rhodesia. A brochure for benefit of persons desiring to settle on the land (Public Relations Department, Salisbury, 1945), p 22.
    51. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 910, L.J. Botha, p 7; Tracey, Approach to farming in Southern Rhodesia, p 353.
    52. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 28, J.H. Kok, L-M.
    53. Clements and Harben, Leaf of Gold, pp 190-191.
    54. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 186, M.C. Bosch, pp 3-6.
    55. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 186, M.C. Bosch, pp 3-6.
    56. In Suid-Afrika het Anton Rupert as handelsmagnaat van die Rembrandt Groep groot sukses in onder meer opheffingswerk onder Afrikaners behaal. Volgens Hans Knoetze, gewese woordvoerder van die Rembrandt Groep, het die maatskappy wel tabak vanuit Rhodesië verkry, hoewel dit hoofsaaklik op groothandel in Suid-Afrika bekom is. Na die oorname van die maatskappy is 'n vakuum egter in die holistiese beskrywing van die geskiedenis van die maatskappy veroorsaak, wat uiteraard latere geskiedskrywing en navorsing oor die onderwerp nadelig sou raak. Knoetze het verklaar dat: "Die Rembrandt Groep in 2000 ontbondel is toe die tabakbelange aan British American Tobacco verkoop is. Alle dokumentasie rakende Rembrandt se betrokkenheid by die tabakbedryf is in die daaropvolgende jare vernietig". As gevolg van die leemte in die historiografie weens die ontbreking van grondige argivale bronne, is 'n weldeurdagte ondersoek na die rol en invloed van die Rembrandt Groep in Rhodesië en teenwoordigheid van Afrikaners daarin dus nie moontlik nie. E-pos korrespondensie: H. Knoetze, 23 Maart 2011.
    57. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 1619, P.J. Erasmus, pp 9-12.
    58. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134, Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, p 54.
    59. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134: Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, p 51.
    60. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 157, Onderhoude, M, Rhodesië na 1890, 1384, M. Martin, pp 71-72.
    61. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 134: Rhodesië na 1890, Landbou: tabak, onderhoud 53A, D.M. de Kock, p 15.
    62. Die Burger, 7 Julie 1949, p 4 (Afrikaners was die baanbrekers).
    63. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 98, Rhodesië na 1890, Trekke na Rhodesië (Rhodesian Tobacco Journal, August 1952, pp 59-61; Rhodesian Tobacco Journal, January 1953, p 75).
    64. WKPA, P.J. van der Merwe-versameling A2599, 98, Rhodesië na 1890, Trekke na Rhodesië (Rhodesian Tobacco Journal, February 1953, pp 62-72).
    65. Vraelys aan ds. Sarel Kotzé, 29 Mei 2009, p 5.
    66. Adendorff, "The Lost Link", pp 27-29.
    67. Adendorff, "The Lost Link", pp 29-30.
    68.Zimbabwe Tobacco Industry. (Available at http://www.tobacco-facts.net/tobaccoindustry/Zimbabwe-tobacco industry, as accessed on 30 August 2010).
    69. S. Viljoen, Zimbabwe - wat is die plan? (Privaat memorandum, geen plek, geen datum).
    70. Commercial Farmers' Union, Total Production of Agricultural Products (Preliminary for 2009).
    71. P. von Blanckenberg, Large Commercial Farmers and Land Reform in Zimbabwe (Aldershot, Avebury, 1994), p 19.