SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue1Book Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Historia

On-line version ISSN 2309-8392
Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.56 n.1 Durban May. 2011

 

BOEKRESENSIES BOOK REVIEWS

 

Waardevolle genealogiese bron

 

 

W.A. Cruywagen

Pretoria

 

 

J.C. Visagie, Voortrekkerstamouers, 1835-1845
Protea Boekhuis, Pretoria, 2011
752 pp
ISBN 978-1-86919-372-0
R350.00

Daar is 'n volgehoue en groeiende belangstelling in genealogie oftewel familiekunde en familiegeskiedenis, soos ook daarna verwys word, onder Suid-Afrikaners. Diepgaande genealogiese navorsing is egter 'n gedugte en tydrowende taak. Daarom is gepubliseerde bronne 'n onontbeerlike hulpmiddel vir die belangstellende of amateur-genealoog wat iets oor sy of haar familie wil saamstel. Sedert die totstandkoming van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika en hul lyfblad, Familia, asook die stigting van die genealogiese afdeling by die destydse Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het die publikasie van familiegeskiedenisse en stamregisters geweldig toegeneem, en aldus het baie meer bronne beskikbaar geword. Vir belangstellendes wat 'n beperkte en afgegrensde stukkie familiegeskiedenis wil saamstel, is die taak in 'n mate vergemaklik deur die beskikbaarheid van bronne wat op verskillende volksgroepe konsentreer, waarvan ek slegs enkeles noem. Ten opsigte van die Nederlanders is daar J. Hoge se Personalia van die Hollanders aan die Kaap, 1652-1806 (ongepubliseerde aantekeninge in die RGN-biblioteek te Pretoria), asook Jan Ploeger se Nederlanders in Transvaal, 1850-1950. Oor dié van Duitse afkoms bestaan die werk van J. Hoge, Personalia of the Germans at the Cape, 1652-1806, terwyl diegene met Hugenote-voorouers P. Coertzen se Die Hugenote van Suid-Afrika, 1688-1988 kan raadpleeg.

Die jongste toevoeging tot die genealogie van 'n meer afgegrensde groep is Jan C. Visagie se boek, Voortrekkerstamouers, 1835-1845. 'n Eerste uitgawe van die werk het in 2000 by Unisa Uitgewers verskyn, wat nou in 'n hersiene weergawe heruitgegee is deur Protea Boekhuis.

In die Voortrekkergeskiedenis word die trekjare gewoonlik aanvaar as synde tussen 1835 en 1838. Na 1839 het daar nie verdere groot trekgeselskappe die Kaapkolonie verlaat nie. Om die sogenaamde agternatrekkers ook in te sluit, het Visagie sy navorsing tot 1845 uitgeskuif. Gevolglik is alle gesinshoofde wat tussen die jare 1835 en 1845 uit die Kaapkolonie na die gebied noord van die Oranjerivier verhuis het, vir opname in hierdie werk in aanmerking geneem.

'n Kenmerk van die boek is die skrywer se strewe om 'n waarheidsgetroue weergawe van elke individu te probeer gee. Hy wys egter daarop daar nieteenstaande sy voorsorg wel foute kon ingesluip het. So byvoorbeeld is die name van bejaarde egpare in die amptelike vertreklyste as emigrante aangedui as sodanig opgeneem, terwyl die moontlikheid bestaan dat sommige van hulle glad nie getrek het nie.

Die gevestigde trekroete na die noorde was deur die Transoranje-gebied waar alreeds tientalle trekboergesinne gewoon het. 'n Beduidende deel van hierdie gesinne het by die Voortrekkers aangesluit en saam met hulle na Natal getrek. Sommige van die Voortrekkers het weer met die terugtrek uit Natal in die 1840's hulle weer onder die trekboere gaan vestig. Daar het dus 'n redelike vermenging plaasgevind tussen die trekboere en die Voortrekkers met die gevolg dat sommige trekboere moontlik as Voortrekkers aangeteken is. In baie gevalle is dit onmoontlik om met juistheid tussen Voortrekkers en trekboere te onderskei. Dit laat die leser egter getroos om te weet dat daar groot sorg gedra is om genealogiese identifikasie korrek aan te teken.

Visagie noem in die voorwoord by die eerste uitgawe (wat in hierdie hersiene weergawe opgeneem is): "Ondanks my herhaalde verwysing na gebrekkige bronne en moontlike foute ... kan lesers in 'n redelike mate daarop vertrou dat die lys van Voortrekker-gesinshoofde so volledig is as wat beskikbare bronne dit weerspieël." Hy wys verder daarop dat, soos ander en nuwe bronne te voorskyn kom, die lys van Voortrekkerstamouers dus aangevul moet word. Dit het hy dan ook gedoen met hierdie nuwe uitgawe: 246 persone is bygevoeg en enkeles is uitgelaat.

Belangstellendes, en selfs redelik onderlegdes, ken die Groot Trek as 'n groot migrasiebeweging waartydens 'n groot aantal Kaapse burgers hulle tuistes verlaat het onder leiers soos Hendrik Potgieter, Piet Retief, Gerrit Maritz en Petrus Lafras Uys. Visagie wys daarop dat van die 2 540 Voortrekkergesinne by benadering 1 093, oftewel sowat 43 persent, onder leiers ingedeel kan word. By ander kon die trekleiers nie vasgestel word nie. Talle gesinne (sg familietrekke) het op hulle eie verhuis tot in Natal en nie by 'n trekgeselskap aangesluit nie.

Die boek bevat 'n lys van 26 trekgroepe waarvan die leiers geïdentifiseer kon word met die aantal gesinne wat onder elkeen se leiding verhuis het ('n totaal van 1 093). Die lys begin met Andries Hendrik Potgieter (waaronder Sarel Celliers ingesluit is) met 158 gesinne en eindig met Johannes Jacobus Erasmus wat op sy eie met sy gesin getrek het.

Tussen 1835 en 1845 het ongeveer 2 540 gesinne aan die Groot Trek deelgeneem. Word die gemiddelde grootte van daardie tyd op sewe persone gestel, het daar oor die tien jaar sowat 17 000 blanke persone van die Kaap verhuis. Word daar verder aanvaar dat elke gesin deur een of twee werksmense vergesel is, word die getal trekkers op minstens 23 000 gestel. Verdere interessante inligting handel oor die distrikte vanwaar die Voortrekkers verhuis het. Hulle het nie net uit die sogenaamde Oosgrensdistrikte gekom nie, maar ook uit distrikte soos George (47), Clanwilliam (32), Worcester (24), Kaapstad (8), Stellenbosch (4) en Franschhoek (2).

Die 150 foto's van Voortrekkers wat ingesluit is, verhoog die waarde van die boek aansienlik en maak dit iets besonders. Ook die kaarte van die distrikte wat bygekom het, vergemaklik die geografiese identifikasie van die oorspronklike tuistes van die Voortrekkers.

Hierdie boek is nie 'n historiese werk met 'n deurlopende verhaal nie. Dit sal waarskynlik eerder soos 'n woordeboek geraadpleeg word met die fokus op bepaalde persone in 'n familie. Kortom, dit is 'n uiters goed-nagevorsde genealogiese bron met ander waardevolle feite oor die Groot Trek. Die uitgebreide bronnelys sal ook vir navorsers van groot nut wees. Genealoë, historici en leke-belangstellendes leer in hierdie boek mense ken wat deel was van die epiese gebeure van die Groot Trek, en die afstammelinge van Voortrekkers kan opnuut trots voel op hulle voorsate.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License