SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.56 no.1 Durban May 2011

 

BOEKRESENSIES BOOK REVIEWS

 

Interessante nuwe terrein

 

 

Con de Wet

Somerset-Wes

 

 

Sandra Swart, Riding High: Horses, Humans and History in South Africa
Wits University Press, Johannesburg, 2010
344 pp
ISBN 978-1-86814-514-0
R220.00

Sandra Swart is mede-professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch met 'n DPhil in Omgewingsgeskiedenis en 'n MSc in Omgewingsverandering, albei van die Universiteit van Oxford. Sy het reeds artikels oor 'n verskeidenheid van onderwerpe gepubliseer, maar haar besondere belangstelling is sosiale en omgewingsgeskiedenis in Suider-Afrika en veral die rol wat diere daarin gespeel het. Sy was medeskrywer en redakteur van twee publikasies oor hierdie onderwerp, naamlik Breeds of Empire (saam met Geoff Bankoff) en Canis Africanis: A Dog History of Southern Africa (as mederedakteur saam met Lance van Sittert). Die publikasie onder bespreking is 'n samevatting van verskeie van haar artikels wat voorheen in tydskifte verskyn het.

Oor die afgelope tagtig jaar is daar periodiek navorsing gedoen oor aspekte van die geskiedenis van diere in Suider-Afrika, soos byvoorbeeld dié van G.D. Nel, D.J. Jacobs en E.L.P. Stals oor die beesboerdery, H.B. Thom se geskiedenis van die skaapboerdery en J.J. Nel se werk oor perdeteelt in Suid-Afrika. Al hierdie werke behandel die onderwerpe egter bloot as landbou-ekonomiese bedrywe. Vir Swart gaan dit egter om veel meer, te wete die rol wat diere, in hierdie geval perde, gespeel het in die ontwikkeling van Suid-Afrika soos ons dit vandag ken. Sy beskryf die doel van die publikasie as 'n poging

to scour the archives to try to find "the bloody horse" - both the corporeal animal and the fictive beast - in order to reinsert the horse into the larger historical narrative. No guild historian has attempted a monograph devoted to horses in southern Africa. Yet historically, horses existed, and they "mattered" (p 10).

In hierdie doel het sy na my mening goed geslaag en die eindproduk behoort sowel die vakkundige as die belangstellende leser stof tot nadenke te gee.

Die publikasie bestaan uit agt hoofstukke, waarvan die eerste die terrein vir die ondersoek afbaken. Die daaropvolgende sewe hoofstukke handel oor die tydperk van die Vereenigde Oostindische Compagnie aan die Kaap (1652-1795); die ontwikkeling gedurende die negentiende eeu; Die Anglo-Boereoorlog; die invloed van meganisasie gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu en die perd as statussimbool in die twee heflte van die eeu; en laastens die wêreld en lewenswyse wat perde gedurende die afgelope 350 jaar in Suid-Afrika help skep het.

Hoewel die perderas verwant is aan sebras en donkies, was hulle nie inheems aan Suider-Afrika nie, maar is deur die Europese koloniseerders hierheen gebring. Een van die baie interessante brokkies inligting wat die skrywer uitlig, is juis dat Jan van Riebeeck en sy groepie amptenare nie die eerste Europese immigrante in Suider-Afrika was nie, maar dat daardie eer 'n perd toekom. Hy het tydens een van die vele skipbreuke aan die Kaapse kus daarin geslaag om aan land te swem en hoewel die amptenare van die VOC-pos hom daarna dikwels gesien het, het hy so wild geraak dat hulle hom nooit kon vang en tem nie.

Swart beskryf hoe die vroeë koloniseerders perde gebruik het om hulle gesag op die inheemse bevolking af te dwing en te verstewig. Dit het veral in oorlogsituasies aan die Europeërs 'n belangrike voordeel gegee deurdat hulle ruitery vinniger kon beweeg as voetsoldate. Daarbenewens is perde ook gebruik as trekkrag vir die vervoer van passasiers en vrag. Geleidelik het die inheemse bevolking egter ook die voordeel van die perd as militêre en ekonomiese hulpmiddel ontdek en toenemend daarvan gebruik gemaak. Mosheshwe het gedurende die eerste helfte van die negentiende eeu met groot sukses perde gebruik in sy militêre operasies om die Basotho-bergkoninkryk tot stand te bring. Later in die eeu, en veral tydens die Anglo-Boereoorlog, het perde ook 'n belangrike rol gespeel om vir die Basotho's 'n plek in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verseker.

In hoofstuk 8, "The Last of the Old Campaigners", word die rol van die perd in die Anglo-Boereoorlog op boeiende wyse uitgebeeld. Dit beskryf die lief en leed wat ruiter en perd tydens die oorlog beleef het, soos die geval van 'n jong burger in genl. De Wet se kommando en sy perd wat deur 'n Britse bom getref is en wat altwee aan stukke geruk het (p 117). Die hegte band wat tydens die oorlog tussen ruiter en perd ontstaan het, word treffend geïllustreer deur die toneel toe Malpert, Deneys Reitz se perd, aan perdesiekte gevrek het en die hele kommando gekom het "to pay a last visit to his poor emaciated carcass" (p 127). Daar is ook verwysings na die beroemd geworde perde van bekende figure uit die oorlog, soos Fleur, Starlight, Very Nice en Charlie, die perde van onderskeidelik genls. De Wet, De la Rey, Malan en Smuts. Lord Roberts se Arabierperd, Vonolel, wat hom ook deur veldslae in Indië, Afghanistan en Birma gedra het, het selfs diensmedaljes van koningin Victoria ontvang (p 124). Die drie jaar wat die oorlog geduur het, het egter aan albei kante sy tol van mens en perd geëis. Afgesien van verliese in gevegte het die gevreesde perdesiekte ook baie perde afgemaai. Deneys Reitz skryf byvoorbeeld dat hoe langer die oorlog geduur het, hoe meer het die Boerekommando's soos "long columns of shaggy men on shaggy horses", begin lyk (p 125).

Die proses van meganisasie wat in die eerste heflte van die twintigste eeu ook in Suid-Afrika plaasgevind het, het die rol van die perd drasties verander. Veral op die gebied van die landbou en vervoer is die perd toenemend deur die masjien vervang. Dit het tot gevolg gehad dat perde geleidelik hulle tradisionele rol as trek- en rydiere verloor het en dat hulle veral in die tweede helfte van die eeu in 'n sekere sin statussimbole vir die welvarendes geword het. Hulle is nou spesifiek geteel om sekere kenmerke te hê en is afgerig as skouperde om hulle passies op skoue en gimkanas te vertoon.

Die publikasie is nie sonder gebreke nie, maar dit doen nie afbreuk aan die nut daarvan nie. Die boek sou beslis gebaat het by 'n noukeuriger redigering. Daar kom byvoorbeeld enkele gevalle voor waar inligting wat reeds verstrek is, verder aan in die teks herhaal word. Hier kan verwys word na 'n beskrywing van die epidemie van perdesiekte aan die Kaap in 1719 op p 24, wat op die volgende bladsy woordeliks herhaal word. Dieselfde geld die feite oor die lande van herkoms van Suid-Afrikaanse perde op pp 32 en 39. Dit is waarskynlik daaraan te wyte dat die publikasie op verskeie vroeëre artikels van die skrywer berus, wat oorvleueling veroorsaak het. Die skrywer gebruik endnote in plaas van voetnote. Waarskynlik weens finansiële redes word endnote vandag meermale gebruik, maar dit veroorsaak frustrasie by die leser om telkens heen en weer te blaai tussen die teks en die endnote. In hierdie geval word dit nog verder bemoeilik deurdat die note nie aan die einde van elke hoofstuk geplaas is nie, maar aan die einde van die boek. In twee gevalle kom die inligting in die teks en in die noot wat daarop betrekking het nie ooreen nie: noot 10 van hoofstuk 2 (pp 20 en 230) en noot 89 van hoofstuk 6 (pp 153 en 273). Die boek bevat 'n uitgebreide bronnelys wat van die skrywer se deeglike en uitputtende navorsing getuig. 'n Mindere punt van kritiek is dat die bronnelys net die naam van die argiefbewaarplek waar die betrokke bronne bewaar word vermeld. Hoewel volledige verwysings na argivale bronne in die note verstrek word, sou dit nogtans nuttig gewees het as die belangrikste argiefgroepe waarin navorsing gedoen is ook in die bronnelys by die naam van die betrokke bewaarplek vermeld is. 'n Volledige persoons-, pleknaam- en saakregister aan die einde van die publikasie vergemaklik die opspoor van inligting.

Met hierdie publikasie het Sandra Swart 'n interessante nuwe terrein in die geskiedskrywing betree, 'n terrein wat vir baie van die lesers seker onbekend sal wees. Sy slaag egter daarin om die feite interessant en onderhoudend aan die leser oor te dra, sonder om aan wetenskaplikheid in te boet. Haar taalgebruik is nooit akademies-swaarwigtig nie, maar lig en humoristies. Dit lewer selfs 'n paar pragtige Engelse nuutskeppings op, soos die opskrif "Making horsetory" vir die onderafdeling in hoofstuk 8 waarin besin word oor "the history of horses" (p 197). Dwarsdeur die boek laat sy die leser sien hoe perde, wat net soos die eerste Europeërs as immigrante na Suid-Afrika gekom het, 'n belangrike bydrae gelewer het in die vorming van die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope 350 jaar. In die slotbeskouing wys die skrywer op die verskil in die rol van die perd in Amerika, waar dit 'n inheemse spesie was, en in Suid-Afrika. In eersgenoemde geval "the horses were themselves a frontier to be conquered, but in southern Africa they were a tool in the conquest of the frontier and remained vulnerable" (p 220). Hierdie rol as medeskepper van die geskiedenis het tot gevolg gehad dat die Boerperd en die Basothoponie, net soos die Afrikaner, hulle daarop kan beroem dat hulle vandag ook boorlinge van Afrika is.

Dit sal interessant wees om te sien of ander navorsers hulle ook op hierdie terrein gaan begewe. 'n Soortgelyke studie oor die rol van die os in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sal moontlik vir ons meer duidelikheid gee of Jan F.E. Celliers se osse werklik so geduldig, gedienstig, gedwee deur die stowwe aangestap het. Of het hulle dalk ook - soos hulle perdebroeders-in-die-verdrukking - in rebelse opstandigheid letterlik en figuurlik jukskei gebreek? Intussen kan Riding High egter sonder voorbehoud by historici, diereliefhebbers en elkeen met 'n belangstelling in die ontstaan van die Suid-Afrika wat ons vandag ken, aanbeveel kan word.