SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.56 n.1 Durban May. 2011

 

Die periodisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in resente oorsigwerke

 

The periodisation of South African History in recent overviews

 

 

Pieter de Klerk*

 

 


OPSOMMING

Verskeie vraagstukke in verband met historiese periodisering is in wetenskaplike publikasies bespreek. In aansluiting by hierdie studies word tien oorsigwerke wat sedert 1990 verskyn het en waarvan professionele historici die skrywers en/of redakteurs was, in die artikel in oënskou geneem. Dit blyk dat daar heelwat ooreenkomste tussen die periode-indelings in hierdie werke bestaan. Dit dui daarop dat historici, ten spyte van verskillende uitgangspunte en oogmerke, dieselfde patrone van kontinuïteit en verandering in die Suid-Afrikaanse geskiedenis identifiseer. Tog kom geen van die periodiserings presies ooreen nie en verteenwoordig elke skrywer se periode-indeling en periodebenamings 'n besondere interpretasie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die sterk klem wat steeds deur oorsigskrywers op politieke en ekonomiese geskiedenis gelê word, bring mee dat sosiale en kulture aspekte nie 'n belangrike rol in hulle periodiserings speel nie. In toekomstige oorsigwerke sal groter aandag aan hierdie aspekte waarskynlik 'n belangrike invloed op periode-indelings van die Suid-Afrikaanse geskiedenis hê.

Sleutelwoorde: Apartheid; Boererepublieke; dekolonisasie; ekonomiese geskiedenis; Groot Trek; historiese oorsigwerke; historiese temas; industrialisasie; inheemse bevolking; Kaapkolonie; kolonialisme; kultuurgeskiedenis; Mfecane; Natal; periodisering; politieke geskiedenis; segregasie; sosiale geskiedenis; Suid-Afrikaanse geskiedenis; Unie van Suid-Afrika.


ABSTRACT

Various issues relating to historical periodisation have been discussed in scholarly publications. Against the background of these studies the article examines ten overviews written or edited by professional historians since 1990. It appears that there are many similarities between the periodisations of these authors. This indicates that despite differences in aims and viewpoints, they identify the same patterns of continuity and change in South African history. Yet, no periodisations are exactly the same, and the identification, as well as the naming of the different periods in the various overviews, reflect particular interpretations of South African history. Writers of recent overviews still emphasise political and economic developments. Therefore social and cultural aspects do not play an important role in their periodisations. If authors of future overviews pay more attention to these aspects, this will probably have a significant influence on the periodisation of South African history.

Keywords: Apartheid; Boer Republics; Cape Colony; colonialism; cultural history; decolonisation; economic history; Great Trek; historical overviews; historical themes; indigenous population; industrialisation; Mfecane; Natal; periodisation; political history; segregation; social history; South African history; Union of South Africa.


 

 

Inleiding

In 2010 is die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika 'n eeu tevore, in herinnering geroep. Voor 1910 was die gebied waaruit Suid-Afrika tans bestaan, in verskillende politieke eenhede verdeel. Uit die geskiedskrywing blyk dit dat die unifikasie van Suid-Afrika 'n ingrypende invloed op die ontwikkeling van die land gehad het en beskou kan word as die begin van 'n nuwe tydvak.

Word die unifikasie van Suid-Afrika deur alle historici as die begin van 'n nuwe historiese periode aanvaar? Hiermee hang 'n verdere vraag saam, naamlik of daar 'n algemeen aanvaarde indeling van die land se geskiedenis in periodes bestaan. Om hierdie vrae te beantwoord, moet die plek en betekenis van periodisering in die geskiedwetenskap en ook die wyse waarop Suid-Afrikaanse historici periode-indelings doen, ondersoek word.

Oor die vraagstuk van die periodisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is daar, sover vasgestel kan word, nog geen publikasies gelewer nie, maar verskeie geskiedkundiges het oor algemene aspekte van historiese periodisering besin. Daarom word hulle uitsprake oor hierdie onderwerp in die volgende afdeling kortliks bekyk en word enkele algemene afleidings rakende die periodisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak. Daarna word die periodiserings wat in wetenskaplike oorsigwerke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedoen word, nagegaan. Op grond daarvan word tot 'n aantal gevolgtrekkings gekom. Oorsigwerke wat sedert 1990 verskyn het, word in oënskou geneem. Sedertdien het belangrike ontwikkelinge in die land plaasgevind, wat noodwendig periodiserings sal beïnvloed, maar slegs twee oorsigte waarin 'n periodisering gedoen word, is ná 2006 gepubliseer. In die jare van 1990 het daar tien werke van belang verskyn, wat dit moontlik maak om periodiserings te vergelyk en vas te stel of bepaalde periode-indelings, soos byvoorbeeld 'n indeling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in tydperke voor en na unifikasie, wyd onder historici aanvaar word.1 Oor periodiserings in geskiedwerke wat voor 1990 verskyn het, word net enkele opmerkings gemaak, aangesien by periode-indelings wat byvoorbeeld vyftig jaar gelede gedoen is, 'n groot deel van wat tans deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vorm, nog nie in ag geneem kon word nie. Hierdie artikel is daarop gerig om na te gaan hoe historici die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot op hede (of tot so na as moontlik aan die hede) in tydperke indeel.

Periodisering speel ook 'n belangrike rol in skoolhandboeke en in skool- en universiteitsillabusse. In hierdie artikel word opvoedkundige aspekte wat met periodisering verband hou, buite beskouing gelaat.

 

Die periodisering van die suid-afrikaanse geskiedenis - algemene opmerkings

Reeds in antieke tye het mense wat oor die geskiedenis besin het, gepoog om dit in tydperke in te deel. Sowat 2 800 jaar gelede het die Griekse digter Hesiodus geskryf dat daar vyf geslagte in die geskiedenis van die mensheid onderskei kan word.2 Sedertdien het talle filosowe die wêreldgeskiedenis in tydperke probeer indeel. Onder die bekendstes is die indelings van G.W.F. Hegel, Auguste Comte en Karl Marx.3 Ook vakhistorici het hulle met hierdie vraagstuk besig gehou en in die afgelope dekades het artikels oor aspekte van die periodisering van veral die wêreldgeskiedenis in gesaghebbende vaktydskrifte soos History and Theory en die American Historical Review verskyn.4 Die feit dat daar voortdurend akademiese besinning oor die vraagstuk van periodisering plaasvind, dui reeds aan dat 'n indeling in periodes nie net gedoen word ter wille van oorsigtelikheid by die aanbieding van historiese leerstof in handboeke en skool- en universiteitskursusse nie. Bentley is van mening dat periodisering moet berus op patrone van kontinuïteit en verandering in 'n samelewing, maar dat historici verskillende perspektiewe op hierdie patrone het en dat hulle opvattinge oor watter prosesse en gebeure die belangrikste rol in die ontwikkeling van gemeenskappe speel, hulle periode-indelings beïnvloed.5 Ook Van der Pot, skrywer van 'n omvattende werk oor historiese periodisering, glo dat periodisering 'n objektiewe én 'n subjektiewe element bevat en dat 'n periodisering die "laatste algemene synthese" van historiese kennis is.6 Hy meen selfs dat die indeling van die geskiedenis in periodes "de eigenlijke kern is van de vorm, die de geschiedschrijving aan het verleden geeft".

Uit Van der Pot en Bentley se opmerkings kan afgelei word dat, wanneer twee of drie skrywers se periodiserings ooreenstem, dit soms hoofsaaklik met die sogenaamde objektiewe element en soms hoofsaaklik met die subjektiewe element te make kan hê. Die skrywers het moontlik dieselfde patroon van kontinuïteit en verandering geïdentifiseer, maar dit is ook moontlik dat die ooreenstemming primêr teruggevoer kan word na 'n gemeenskaplike uitgangspunt of denkrigting. Beide faktore kan 'n rol speel, maar nie noodwendig in gelyke mate nie. Daar moet egter ook met 'n verdere aspek rekening gehou word. Soms het daar bepaalde konvensies oor die indeling van die geskiedenis van 'n samelewing of land tot stand gekom. In die Westerse wêreld het die indeling Oudheid, Middeleeue en Moderne Tyd baie diep ingang gevind in die periodisering van nie net die algemene Europese geskiedenis nie, maar ook die geskiedenis van besondere Europese lande, en aan baie Europese universiteite was daar jare lank aparte leerstoele vir Antieke, Middeleeuse en Moderne Geskiedenis.7 Die indeling van die geskiedenis van Afrika in 'n voor-koloniale, koloniale en na-koloniale periode kom ook in verskeie universiteitsillabusse en handboeke voor.8 In die slotafdeling word enkele gevolgtrekkinge gemaak oor die rol van die verskillende faktore in die periodisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Wanneer 'n aantal oorsigwerke oor die geskiedenis van Suid-Afrika, of van enige land, deurgeblaai word, blyk dit reeds dat 'n indeling in hoofstukke of afdelings en onderafdelings selde geheel en al saamval met 'n historiese periodisering. In 'n boek oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan daar byvoorbeeld aparte hoofstukke oor die geskiedenis van die Kaapkolonie, die Zulukoninkryk en die verstedelikingsproses wees. Kronologiese, geografiese en tematiese faktore kan dus almal 'n rol in die indeling speel. Verder geld daar dikwels praktiese oorwegings, soos dat die lengte van hoofstukke nie te veel moet wissel nie. Hierdie sake moet in ag geneem word as nagegaan word watter periodisering in elke boek na vore kom.

Oor die verskillende denkskole onder Suid-Afrikaanse geskiedkundiges is reeds heelwat deur historiograwe geskryf.9 Soos hierdie skrywers aantoon, het daar in die periode van ongeveer 1960 tot 1980 'n belangrike historiografiese paradigmaverskuiwing plaasgevind. Dit hang saam met die besondere wyse waarop die Europese kolonisasie van Suid-Afrika verloop het. In die Verenigde State van Amerika, byvoorbeeld, is 'n Westerse samelewing gevestig waarin die oorspronklike inheemse groepe heeltemal verdring is en die geskiedenis van hierdie land word tans deur die meeste historici vanuit 'n Westerse perspektief beskou en beoordeel. Ten opsigte van Suid-Afrika, daarenteen, moes aanvanklik wyd aanvaarde interpretasies vanuit die gesigspunt van die Westerse koloniseerders plek maak vir beskouings waarin die inheemse bewoners in die sentrum staan. Wat die periodisering van die geskiedenis betref, sou dit egter onjuis wees om van 'n groot paradigmaverskuiwing te praat. Die geskiedenis van al die inwoners van die land is reeds in periodiserings wat in vroeë geskiedwerke gedoen is, in ag geneem. Ken Smith se opmerking in sy bekende oorsig oor die Suid-Afrikaanse historiografie, naamlik dat die Oxford History of South Africa10 "dispelled the myth that South African history had begun when the Portuguese discoverers rounded the Cape in 1487",11 is nie heeltemal korrek nie.

G.M. Theal (1837-1919), een van Suid-Afrika se mees produktiewe geskiedskrywers, was geen opgeleide historikus nie, maar sy werke het 'n wetenskaplike inslag en hy het 'n baie groot invloed op latere interpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad.12 Hy het reeds in die laat negentiende eeu 'n groot aantal werke gepubliseer, waarvan sommige later saam in 'n reeks opgeneem is, wat 'n oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot 1884 vorm.13 Die eerste band handel oor die etnografie en die toestande in Suid-Afrika voor 1505, die tweede oor die Portugese in Suid-Afrika in die periode 1505 tot 1795, die derde oor die stigting van die Kaapkolonie deur die Nederlanders, die vierde oor die Kaapkolonie tot 1795, asook die Korannas, Bantu en Portugese in Suid-Afrika tot 1800, en die vyfde oor die Kaapkolonie van 1795 tot 1828, die "Zulu wars of devastation" en die vorming van nuwe Bantu-gemeenskappe. Verdere bande is ook geografies en kronologies ingedeel en handel oor tydperke in die geskiedenis van die Kaapkolonie, Natal en die twee Boererepublieke. Theal het dus die eerste van sy elf bande gewy aan die inheemse bevolking van Suid-Afrika en die titels van die latere bande toon dat hy heelwat aandag aan die geskiedenis van die inboorlinge gee. Die eerste band van sy reeks bevat wel hoofsaaklik etnografiese of antropologiese inligting, maar dit geld ook vir die eerste vier hoofstukke van die Oxford History.14 In die meeste latere oorsigwerke neem die periode voor 1500 'n heelwat kleiner deel van die totaal in beslag as in die Oxford History. In die gesaghebbende oorsig van Davenport en Saunders,15 byvoorbeeld, vorm hierdie tydperk nie 'n hoofafdeling nie, maar net 'n hoofstuk of onderafdeling wat enkele bladsye (sowat 3 persent van die totale inhoud) beslaan. In die onlangse sintesewerke van Giliomee en Mbenga,16 en Ross,17 handel slegs ongeveer 8 persent van die totale inhoud oor die geskiedenis voor die sestiende eeu. Hiermee kom na vore dat periodisering nie losgemaak kan word van die kennis wat oor 'n tydperk beskikbaar is nie. Daarom kan verwag word dat, altans vir die voorsienbare toekoms, periode-indelings van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, anders as in die geval van werke oor lande soos Egipte, China, Italië en Mexiko, hoofsaaklik die geskiedenis vanaf die sestiende en sewentiende eeu in ag sal neem.

Theal se werk oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis voor 1884 was, wat die omvang daarvan betref, uniek. Die latere oorsigte oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis beslaan, met 'n paar uitsonderings,18 'n enkele band waarvan die lengte van 200 tot 800 bladsye wissel. Verskeie, veral vroeëre, oorsigte bevat nie hoofafdelings of onderafdelings nie, maar slegs 'n hele aantal hoofstukke, en bied dus nie 'n periodisering van die geskiedenis nie.19 Die werk van Van der Walt, Wiid en Geyer20 beklee 'n uitsonderlike posisie tussen die sintesewerke deurdat die eerste band 'n kronologiese oorsig van hoofsaaklik die politieke ontwikkeling van Suid-Afrika bevat. In die tweede band word temas soos die ekonomiese ontwikkeling van die land, inboorling- en kleurbeleid, en die kultuurstryd van die Afrikaner behandel.21 In die meeste oorsigte is daar egter 'n indeling in hoofafdelings, afdelings, onderafdelings, ensovoorts, of in 'n beperkte aantal hoofstukke, en hoewel so 'n indeling nie noodwendig direk met 'n periodisering saamval nie, word daarmee tog 'n afbakening van periodes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedoen.

 

Periodiserings in onlangse oorsigwerke

Sedert 1990 is periode-indelings, sover vasgestel kan word, in tien wetenskaplike en populêr-wetenskaplike oorsigte oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedoen. Professionele historici was die skrywers en/of redakteurs van hierdie werke, wat bedoel is vir gebruik aan universiteite en vir almal wat in die geskiedenis geïnteresseerd is.22 Nege van hierdie boeke is, volgens die outeurs of redakteurs, algemene oorsigte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, terwyl daar ook 'n publikasie is wat 'n oorsig van die ekonomiese geskiedenis van die land bied.23

Die skrywers van die tien oorsigte dui almal in hulle werke aan dat hulle 'n geheelbeeld van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wil verskaf, wat gegrond is op die nuutste beskikbare navorsing. Die oorsigskrywers wil egter nie almal dieselfde oogmerke met hulle werke bereik nie. Cameron en Spies wil met hulle boek,24 waaraan 23 wetenskaplikes - hoofsaaklik Suid-Afrikaners - meegewerk het, "die insigte in Suid-Afrika se verlede van 'n aantal eerlik gemotiveerde geskiedskrywers in die middel van die tagtigerjare"25 weerspieël. Die skrywers van die Reader's Digest Illustrated History of South Africa: The Real Story,26 verklaar in die eerste uitgawe van hulle werk dat die geskiedskrywing en veral geskiedenisonderrig sterk deur Afrikanernasionalisme beïnvloed is en dat hulle, op grond van nuwe navorsing, "the real story of South Africa, a story uncluttered by nationalism, imperialism or, indeed, any other 'isms'" wil vertel.27 In die derde uitgawe word verder aangedui dat die boek lank gekoesterde mites oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wil bevraagteken en omverwerp.28

Twee outeurs skryf dat hulle veral wil verduidelik hoe die apartheidstelsel, wat tot ongeveer 1990 in Suid-Afrika bestaan het, tot stand gekom en ontwikkel het. J. Fisch, 'n historikus verbonde aan die Universiteit van Zürich, verklaar in die voorwoord tot sy boek29 dat, toe hy die werk aangepak het, Suid-Afrika die enigste land op aarde was met 'n omvattende stelsel van wetlik vasgelegde rassediskriminasie. Hy meen dat, omdat hierdie stelsel wêreldwyd op morele gronde veroordeel word, daar groot belangstelling in hierdie land en sy geskiedenis is. Hy het met die boek dan ook beoog om veral aan te dui watter faktore tot die ontstaan en ontwikkeling van die stelsel van apartheid gelei het.30 Omer-Cooper beskou die historiese verklaring van "that peculiar system of systematic racial discrimination, repression and exploitation known as apartheid" as die hooftema van sy sintesewerk.31

Enkele skrywers van oorsigwerke dui ander oogmerke aan. Parsons wil veral 'n einde maak aan die aparte behandeling van die geskiedenis van verskillende groepe, soos die Britte, die Afrikaners en die inheemse bevolking. Dit is, volgens hom, 'n kenmerk van die meeste ouer werke.32 Ross skryf dat sy boek veral 'n poging is om aan te toon hoe Suid-Afrika 'n enkele land is en almal in die land deel van dieselfde ekonomiese stelsel geword het.33 Feinstein het met sy oorsig ten doel "to provide a broad overview of the character, transformation, initial growth, and final decline of South Africa's economy, and my interpretations of the major factors that explain these developments".34

Cameron en Spies skryf dat politieke, grondwetlike, sosiale, ekonomiese, kulturele en intellektuele kwessies in hulle boek aan die orde kom.35 Omer-Cooper dui aan dat hy die ontwikkeling van die politieke, ekonomiese, wetlike en sosiale raamwerk van die apartheidstelsel behandel, maar nie veel aandag kan gee aan die invloed van historiese ontwikkelinge op individue en gesinne nie,36 terwyl Giliomee en Mbenga verklaar dat hulle veral op politieke en in mindere mate op ekonomiese geskiedenis konsentreer en nie sosiale en kulturele aspekte behandel nie.37 Ander skrywers dui hoofsaaklik net aan dat hulle 'n algemene oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wil bied. Die periodisering wat in al die werke gedoen word, is egter op ekonomiese en veral politieke ontwikkelinge gebaseer.

Drie oorsigwerke is ingedeel in vier of minder hoofafdelings, wat hoofsaaklik kronologies afgebaken is. Die eerste afdeling in die boek van Parsons is getiteld "The Peopling of Southern Africa", en daarin word ontwikkelinge vanaf die Laat Steentyd bekyk. Dit sluit die Europese kolonisasie in die tydperk voor 1800 en die Mfecane in. Die tweede afdeling, "Conquest and Resistance", handel oor die tydperk 1800-1906 en die derde een, "Colonialism and Independence", oor die twintigste eeu.38 Soos ook uit die onderafdelings blyk, beskou Parsons die stryd tussen die inheemse bevolking en die koloniseerders as die hooftema van die geskiedenis van Suider-Afrika. Hy meen dat 'n nuwe periode in die vroeë twintigste eeu begin het omdat 'n besondere Suid-Afrikaanse vorm van kolonialisme toe sy beslag gekry het. Daarvolgens moes Europese setlaars ekonomies wel in beperkte mate met geskoolde en halfgeskoolde inboorlinge meeding, maar polities het hulle 'n groot voorsprong bo die inheemse Afrikane gehad en dieselfde demokratiese regte verkry as Europeërs in Westerse lande.39 Davenport en Saunders se indeling kom in belangrike mate met dié van Parsons ooreen. Die eerste hoofafdeling van hulle werk het die titel "The Prelude to White Domination" en handel oor die periode tot 1910. Die tweede hoofafdeling is getiteld "The Consolidation of a White State" en gee 'n oorsig van die geskiedenis van 1910 tot 1990. Hoofafdeling drie, "Challenge and Response", behandel dan die dekade 1990 tot 2000.40 Parsons se boek het reeds in 1993 verskyn, dus nog voor die politieke omwenteling van 1994. Die werk van Davenport en Saunders is gepubliseer in 2000 en, met die breër perspektief tot hulle beskikking, het die twee skrywers geoordeel dat 'n nuwe periode in 1990 aangebreek het.41

Die boek van Giliomee en Mbenga is verdeel in vier afdelings. Die titels van die afdelings is: "Van die Eerste Mense tot die Eerste Nedersettings"; "Van die Groot Ontwrigtings tot Afrika-nasionalisme"; "Van 'n Landelike tot 'n Nywerheidsamelewing (1850-1945)" en "Van 'n Afrikanerstaat na 'n Afrikastaat (1945-2005)".42 Dit is 'n gedeeltelik geografiese indeling omdat die eerste afdeling ontwikkelinge in die Kaapkolonie tot ongeveer 1850 behandel en die tweede afdeling handel oor, onder meer, die Mfecane, koloniale uitbreiding in die binneland van Suid-Afrika en ontwikkelinge ten opsigte van die Xhosa in die oostelike Kaapkolonie, wat uitgeloop het op die eerste tekens van swart nasionalisme in die laat negentiende eeu. In die laaste twee afdelings word die ontwikkelinge in die hele Suid-Afrika bekyk. Die titel van die derde afdeling lig die ekonomiese omvorming van die land in die laat negentiende en vroeë twintigste eeue uit, terwyl die titel van die laaste afdeling weer die belangrike politieke omwenteling van blanke na swart politieke beheer na vore bring. In albei afdelings word egter politieke én ekonomiese ontwikkelinge behandel. Terwyl die rol van Westerse kolonialisme in Suid-Afrika as die hoofelement in Parsons, asook Davenport en Saunders se periodiserings beskou kan word, toon Giliomee en Mbenga se indeling 'n kompromis tussen politieke en ekonomiese faktore, waarby industrialisering en dekolonisasie albei as belangrike hooftemas in die Suid-Afrikaanse geskiedenis onderskei word. Giliomee en Mbenga se werk het sewe jaar later as dié van Davenport en Saunders verskyn, en dit het moontlik daartoe bygedra dat die outeurs van hierdie werk nie meer Westerse kolonialisme en dekolonisasie as die enigste groot tema in die ontwikkeling van Suid-Afrika beskou het nie.

In die ander sewe oorsigte is daar 'n hoofsaaklik kronologiese indeling in sewe tot elf afdelings of hoofstukke. Daar bestaan heelwat ooreenkomste, maar ook verskille tussen hierdie indelings. Anders as in die drie bogenoemde werke, word die begin van Westerse kontak en kolonisasie in hierdie sewe boeke deurgaans as die aanvang van 'n nuwe periode beskou en word een of meer afdelings aan die geskiedenis van die Kaapkolonie gewy. Dieselfde skrywers wy ook een of twee afdelings aan ontwikkelinge in die tydperk voor die stigting van die Kaapkolonie. In twee van die sewe boeke word die Mfecane en die Groot Trek saam gegroepeer in afdelings met die volgende opskrifte: "Die Omvorming van die Binneland" en "The Mass Migrations of the Mfecane and the Great Trek".43 In drie oorsigwerke word die Mfecane, die Groot Trek en verdere ontwikkelinge in die binneland van Suid-Afrika tot ongeveer 1870 saam in 'n afdeling behandel.44

Die ontdekking van diamante en goud word deur verskeie skrywers as die begin van 'n periode beskou, soos blyk uit die opskrifte van die betrokke afdelings. Fisch en die Reader's Digest Illustrated History baken albei die tydperk van die ontdekking van diamante tot by die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) as 'n enkele periode af,45 terwyl Omer-Cooper en Thompson die tydperk tot die unifikasie van 1910 daarby inreken.46 Een van die hoofstukke in Feinstein se oorsig is getiteld "Exporting the Gold: the Vital Role of the Mineral Revolution",47 maar hy volg 'n gedeeltelik tematiese indeling en behandel die ontwikkeling van die mynbou-industrie tot diep in die twintigste eeu in hierdie hoofstuk.

Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 word deur sewe van die tien oorsigskrywers as die begin van 'n nuwe periode aangedui. Soos hierbo aangedui, sien Parsons, asook Davenport en Saunders dit as die begin van 'n nuwe tydperk in hulle indeling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in drie periodes.48 Terwyl Parsons, asook Davenport en Saunders die hele tydperk tot ongeveer 1990 as 'n eenheid beskou (hoewel hulle dit in verdere afdelings verdeel), word die jare van 1910 tot 1948 deur vier skrywers as 'n aparte periode afgebaken met opskrifte soos "Von der Einheit Südafrikas zur Einigkeit der Buren; Festigung des Staates und Verfestigung der Sozial- und Rassenordnung";49 "From Union to Apartheid: The Politics of Segregation";50 "The Segregation Era";51 en "Consolidation".52

In 'n vorige paragraaf is gemeld dat die laaste van die vier afdelings in die werk van Giliomee en Mbenga handel oor die periode na 1945. Sodoende word die voorspel tot die verkiesing van 1948 by hierdie afdeling ingesluit. In byna al die ander werke word 1948 as die beginpunt van 'n periode beskou. Die tweede hoofafdeling in die boek van Davenport en Saunders is in twee afdelings verdeel, waarvan die tweede een, met die opskrif "The Age of the Social Engineers",53 handel oor die tydperk 1948-1990. In ses van die sewe oorsigte wat ingedeel is in sewe of meer afdelings word die tydperk na 1948 as 'n periode afgebaken, hoewel dit soms verder verdeel word in twee of drie afdelings, en al die skrywers gebruik die woord apartheid in die titels wat hulle aan die periodes na 1948 gee. Fisch noem sy laaste, baie lang, hoofstuk "Der Apartheidstaat seit 1948".54 Die twee laaste afdelings van die Reader's Digest Illustrated History is getiteld "Apartheid and Defiance, 1948-1976" en "Resistance, Negotiation and Reconstruction, 1976-".55 'n Soortgelyke indeling van die periode na 1948 in twee tydperke kom in die werke van Omer-Cooper, Thompson en Ross voor, maar in elk van hierdie werke is daar 'n derde afdeling wat handel oor die oorgang na 'n nuwe demokratiese bestel.56 Die boek van Feinstein bevat 'n hoofstuk met die titel "Separating the Races: The Imposition of Apartheid"57 en dan nog drie verdere hoofstukke58 wat onderskeidelik handel oor die vinnige ekonomiese vooruitgang van die sestigerjare, latere ekonomiese agteruitgang, en die finale ekonomiese krisis wat volgens hom tot die beëindiging van apartheid gelei het.59

 

Gevolgtrekkings

Daar bestaan baie groot ooreenkomste tussen die periodiserings in die tien werke wat hierbo bespreek is. Die verskille in die skrywers se oogmerke het nie gelei tot ingrypende verskille in periodisering nie. Hoewel die outeurs sekerlik nie almal dieselfde geskiedenisbeskouing huldig nie, kan hulle moeilik in denkskole gegroepeer word. In die laat twintigste eeu het die verskille tussen die twee belangrike denkrigtings in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing van die 1970's en 1980's, naamlik die liberale en radikale skole, vervaag.60 Uit die vergelyking van die tien onlangse oorsigwerke blyk dit verder dat, terwyl al die skrywers die resultate van die nuutste navorsing verreken, hulle in hulle sinteses sover moontlik verskillende sieninge probeer versoen. Hiermee word nie beweer dat ideologiese verskille geen invloed op interpretasies in resente Suid-Afrikaanse oorsigwerke het nie, maar slegs dat hierdie verskille nie sterk na vore kom in die periodiserings nie.

Die vergelykende ondersoek van die tien werke toon dat die beskouing van Bentley dat periodiserings gegrond behoort te word op bepaalde patrone wat in die geskiedenis voorkom, ook deur die oorsigskrywers gehuldig word. Patrone in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat in die periodiserings 'n neerslag vind, is onder meer die Nederlandse en Britse kolonisasie van die Kaapkolonie, die omvorming van die binneland deur die Mfecane en die Groot Trek, die proses van industrialisasie en die ontstaan, ontwikkeling en beëindiging van die apartheidstelsel. Interpretasieverskille kom eintlik net duidelik na vore in die benaming wat aan 'n bepaalde periode gegee word. 'n Goeie voorbeeld is die opskrifte van die afdelings oor die vroeë geskiedenis van die Kaapkolonie. Drie outeurs gebruik neutrale titels of beklemtoon die totstandkoming van 'n nuwe gemeenskap: "Die Kolonie der Kompanie, 1652-1795" (Fisch), "Die Kaap van 1488 tot 1854: Die Vorming van 'n Nuwe Gemeenskap" (Cameron en Spies) en "The Establishment and Early Development of the Cape Colony" (Omer-Cooper).61 In die Reader's Digest Illustrated History word die betrokke afdeling egter "The Fatal Impact, 1652-1800" genoem, terwyl Thompson se opskrif vir die betrokke hoofstuk "The White Invaders: The Cape Colony, 1652-1870" is.62 In laasgenoemde werke word die impak van die Europese kolonisasie op die inheemse bewoners dus as kernelement in die periodebenaming uitgelig.

Die sterk klem wat in die oorsigwerke op politieke en ekonomiese ontwikkelinge geplaas word, lei daartoe dat patrone soos die verandering van 'n plattelandse na 'n stedelike samelewing (wat betref al die bevolkingsgroepe) en van 'n inheemse na 'n verwesterde kultuur nie deeglik in die oorsigte behandel word nie en feitlik nie in die periodiserings figureer nie. Die gemeenskaplike fokus op politieke en ekonomiese geskiedenis is, naas die aanwesigheid van bepaalde patrone in die geskiedenis, moontlik die vernaamste faktor wat tot ooreenstemming in periodiserings by die tien skrywers lei. Die feit dat die "apartheidsperiode", dit wil sê die jare 1948 tot 1990 of 1994, in die meeste werke as 'n periode afgebaken word, mag moontlik dui op die ontwikkeling van 'n konvensie waarby historici sonder meer inval, maar hierdie tydperk lê nog te naby aan die hede om tans so 'n gevolgtrekking te kan maak.

Volgens Van der Pot behoort historici die kenmerke van 'n periode te bepaal voor hulle poog om grense tussen periodes te trek en moet die grense tussen periodes in elk geval nie te skerp getrek word nie.63 Dit blyk uit die periodiserings wat hierbo bespreek is dat die meeste skrywers verkies om periodes met jaartalle af te baken. Sulke afbakenings van periodes is waarskynlik gewens om lesers nie te verwar nie, maar kan aan die ander kant die indruk skep dat daar werklik sulke skerp grense tussen periodes in die geskiedenis voorkom. Die jaar 1910 is 'n belangrike datum in die Suid-Afrikaanse geskiedenis omdat Suid-Afrika in daardie jaar 'n politieke eenheid geword het, maar dit was die einde van 'n proses van etlike jare waartydens die vier kolonies al nouer begin saamwerk het en daar reeds 'n groot mate van ekonomiese eenheid bereik is.64 In die lig daarvan is dit begryplik dat die Reader's Digest Illustrated History die tydperk 1902 tot 1948 as 'n eenheid sien.65 Verder het politieke en ander verskille tussen die vier provinsies na 1910 voortgeduur en was daar met die Rebellie van 1914 nog 'n poging om die Boererepublieke te herstel. Giliomee en Mbenga behandel dan ook die tydperk 1902-1919 in een hoofstuk.66 Hierdie voorbeeld toon dat historici nie maklik oor die presiese afbakening van 'n bepaalde periode sal saamstem nie.

Die meeste hoofstukindelings bevat, naas kronologiese, ook geografiese en tematiese elemente. In Suid-Afrika was daar 'n lang proses van politieke en ekonomiese eenwording en gedurende die agtiende en negentiende eeue het daar ontwikkelinge in verskillende gebiede plaasgevind, wat nie direk met mekaar verband hou nie. Soos hierbo aangedui, behandel Thompson, asook Giliomee en Mbenga die geskiedenis van die Kaapkolonie tot ongeveer die middel van die negentiende eeu en die ontwikkelinge in die oostelike dele van Suid-Afrika in twee aparte afdelings. In die werke van Cameron en Spies, asook Davenport en Saunders, is daar verder aparte hoofstukke oor die negentiende-eeuse Britse kolonies, Boerepublieke en inheemse koninkryke.67 Davenport en Saunders volg ook 'n gedeeltelik tematiese indeling deur onder meer 'n hoofstuk of onderafdeling te wy aan botsings oor grondbesit tussen koloniale owerhede, koloniste en Boere aan die een kant en die Griekwas, die Xhosa, die Pedi en ander groepe aan die ander kant.68

In enkele gevalle word 'n kronologiese indeling gebruik, maar wek die titel van die hoofstuk of afdeling die indruk van 'n tematiese afbakening. Onder die opskrif "From Union to Apartheid: The Politics of Segregation",69 behandel Omer-Cooper nie net die implementering van die beleid van segregasie nie, maar 'n verskeidenheid ontwikkelinge gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu, onder meer die opkoms van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Ook die titels van die laaste twee afdelings in die werk van Giliomee en Mbenga, naamlik "Van 'n Landelike tot 'n Nywerheidsamelewing (1850-1945)" en "Van 'n Afrikanerstaat tot 'n Afrikastaat (1945-2005)",70 wek verkeerdelik die indruk dat bepaalde temas behandel word, terwyl elke afdeling in werklikheid 'n breë oorsig van politieke en ekonomiese ontwikkelinge bied.

Uit die bespreking van die periodiserings van Parsons; Davenport en Saunders; asook Giliomee en Mbenga het na vore gekom dat die ontwikkelinge van die afgelope twee dekades 'n invloed op historici se perspektief op die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis en sodoende ook op die identifisering van periodes gehad het. Sekere ontwikkelinge sal waarskynlik 'n langer en groter invloed op hierdie perspektief hê as ander. Die apartheidstelsel sal moontlik nog lank 'n kardinale rol in periodiserings speel. In feitlik al die oorsigwerke onder bespreking word, wat die tydperk 1948-1990 betref, weinig behandel wat nie met die apartheidstelsel te make het nie. Parsons, asook Davenport en Saunders, het tog met hulle periodiserings aangedui dat hierdie periode gesien moet word as deel van 'n groter geheel, naamlik die tydperk van beheer deur die blanke inwoners oor die hele Suid-Afrika.

Die Westerse kolonisasie van Suid-Afrika was eers teen 1900 in so 'n mate voltooi dat die hele land toe onder blanke beheer was. Parsons; Davenport; en Giliomee en Mbenga wyk dan ook af van die ander sewe oorsigte in dié opsig dat hulle die tydperk vanaf die vroegste bewoners tot in die negentiende eeu as 'n geheel sien71 en nie die koms van die eerste Europeërs na Suid-Afrika 'n kernelement van hulle periodiserings maak nie.

Die tydperk van Westerse kolonialisme is, wat die politieke aspekte daarvan betref, wel beëindig met die oordrag van politieke beheer na die swart meerderheid in 1994, maar dit vorm deel van 'n groter proses waarin inheemse samelewingstrukture en kulture omvorm is om 'n meer Westerse karakter te verkry en waar Suid-Afrika betrek is by ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkelinge wat die hele wêreld ingrypend verander het. Hierdie proses duur tans nog voort. Soos reeds aangedui, het die oorsigskrywers se sterk fokus op politieke geskiedenis en (hoewel in sommige gevalle in mindere mate) op ekonomiese ontwikkelinge, 'n belangrike invloed op die periodiserings gehad. Onder baie historici oor die wêreld heen is daar tans 'n reaksie teen die klem op politieke en ekonomiese geskiedenis en 'n groter belangstelling in sosiale en kulturele geskiedenis.72 Indien hierdie belangstelling 'n neerslag in oorsigte oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis vind (wat tot dusver nog nie die geval was nie), kan dit tot ingrypende veranderinge ten opsigte van periodisering lei. Dit is moontlik dat die Westerse ekonomiese en kulturele invloed tans wêreldwyd aan die afneem is, terwyl die Ooste 'n belangrike plek op die wêreldtoneel begin inneem. Sulke ontwikkelinge kan 'n ingrypende invloed op Suid-Afrika hê. Hieruit kan afgelei word dat die plek van Suid-Afrika binne die groter geheel van die wêreldgeskiedenis in toekomstige periodiserings 'n kardinale rol sal speel.

 

 

* Pieter de Klerk is professor in Geskiedenis aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit. Hierdie artikel is gebaseer op 'n voordrag gelewer tydens die tweejaarlikse konferensie van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika in Potchefstroom, 23-24 Julie 2010.
1. In elke geval word die laaste hersiene uitgawe gebruik. Vyf van die oorsigwerke se eerste uitgawes het reeds voor 1990 verskyn. Die hersiene uitgawes se hoofstukindelings verskil nie altyd van die oorspronklike uitgawes s'n nie en behels dus nie noodwendig 'n nuwe periodisering nie. Daar moet egter aanvaar word dat die laaste uitgawe die skrywer(s) of redakteur(s) se nuutste interpetasie van die geskiedenis verteenwoordig. Indien die vyf werke buite rekening gelaat word, sou daar te min boeke oorbly om sinvolle afleidings oor tendense in die periodisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis ná 1990 te kan maak.
2. W. den Boer, F.W.N. Hugenholtz en T.J.G. Locher, Gestalten der Geschiedenis in de Oudheid, Middeleeuwen en Nieuwe Tijd (Fibula-Van Dishoeck, Haarlem, 1978), p 13.         [ Links ]
3. 'n Oorsig van hierdie indelings word verskaf in J.H.J. van der Pot, De Periodisering der Geschiedenis; een Overzicht der Theorieën (Van Stockum, 's-Gravenhage, 1951).         [ Links ]
4. W.A. Green, "Periodizing World History", History and Theory, 34, 1995, pp 99-111;         [ Links ] J.H. Bentley, "Cross-cultural Interaction and Periodization in World History", American Historical Review, 101, 1996, pp 749-770.         [ Links ]
5. Bentley, "Cross-cultural Interaction and Periodization in World History", p 749.         [ Links ]
6. Van der Pot, De Periodisering der Geschiedenis, p 17.         [ Links ]
7. Van der Pot, De Periodisering der Geschiedenis, pp 113-153;         [ Links ] W.A. Green, "Periodization in European and World History", Journal of World History, 3, 1, 1992, pp 13-14.         [ Links ]
8. Byvoorbeeld R.W. July, A History of the African People (Waveland Press, Prospect Heights - Illinois, 1998).         [ Links ]
9. Die verskillende denkrigtings onder Suid-Afrikaanse historici word onder meer bespreek in: F.A. van Jaarsveld, Omstrede Suid-Afrikaanse Verlede; Geskiedenisideologie en die Historiese Skuldvraagstuk (Lex Patria, Johannesburg, 1984);         [ Links ] C. Saunders, The Making of the South African Past; Major Historians on Race and Class (Philip, Cape Town, 1988);         [ Links ] K. Smith, The Changing Past; Trends in South African Historical Writing (Southern, Johannesburg, 1988);         [ Links ] P. Maylam, South Africa's Racial Past; the History and Historiography of Racism, Segregation and Apartheid (Aldershot, Ashgate, 2001);         [ Links ] H.E. Stolten (ed), History Making and Present Day Politics; the Meaning of Collective Memory in South Africa (Nordska Afrikainstitutet, Uppsala, 2007).         [ Links ]
10. M. Wilson and L.M. Thompson (eds), The Oxford History of South Africa (Clarendon Press, Oxford, 1969-1971).         [ Links ]
11. Smith, The Changing Past, p 139.         [ Links ]
12. Smith, The Changing Past, p 31.         [ Links ]
13. G.M. Theal, History of South Africa (Allen & Unwin, London, 1918-1919), 11 volumes. 'n Faksimilee-uitgawe van hierdie reeks is in 1964 deur C. Struik, Kaapstad, gepubliseer.         [ Links ]
14. In die tydperk voor 1970, gee baie skrywers feitlik geen aandag aan die voor-koloniale periode nie. Die eerste hoofstuk in L. Marquard, The Story of South Africa (Faber & Faber, London, 1955) handel tog oor die tydperk voor die Europese kolonisasie,         [ Links ] terwyl daar ook in E.A. Walker, A History of Southern Africa (Longmans, London, 1957),         [ Links ] enkele bladsye gewy word aan die Khoisan en die Bantu, voordat die vroegste Europese kontak met Suid-Afrika in oënskou geneem word. Verder behandel F.A. Van Jaarsveld in sy Van Van Riebeeck tot Verwoerd; 'n Inleiding tot die Geskiedenis van die Republiek van Suid-Afrika (Perskor, Johannesburg, 1969),         [ Links ] anders wat die titel sou laat vermoed, die geskiedenis van die Khoisan en hulle afstammelinge (voor en na 1652) in sowat sestien bladsye voordat hy die Europese kolonisasie van die land en die ontstaan en wording van die Afrikaners bespreek.
15. R. Davenport and C. Saunders, South Africa; a Modern History (Macmillan, Houndmills-Basingstoke, 2000, fifth edition).         [ Links ] Die eerste uitgawe het in 1977 verskyn en is beplan as deel van 'n reeks boeke oor die geskiedenis van verskillende lande wat almal "a modern history" as deel van hulle titels het. Davenport en Saunders vermeld nie in die inleiding van die boek dat dit net op die moderne geskiedenis konsentreer nie. Op die agterblad van 'n ouer uitgawe van die werk word trouens verklaar dat "this major history covers the whole range of South African history from the earliest times". See T.R.H. Davenport, South Africa; a Modern History (Macmillan, Johannesburg, 1987, third edition).         [ Links ]
16. H. Giliomee en B. Mbenga (reds.), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (Tafelberg, Kaapstad, 2007). Die werk het in Engels verskyn as H. Giliomee and B. Mbenga (eds), New History of South Africa (Tafelberg, Cape Town, 2007).         [ Links ]
17. R. Ross, A Concise History of South Africa (Cambridge University Press, Cambridge, 2008, second edition).         [ Links ] Die eerste uitgawe het in 1999 verskyn.
18. A.J.H. van der Walt, J.A. Wiid en A.L. Geyer (reds.), Geskiedenis van Suid-Afrika (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1951) en Wilson &         [ Links ] Thompson, The Oxford History of South Africa,         [ Links ] het albei in twee bande verskyn en elke werk beslaan in totaal tussen 1 100 en 1 300 bladsye. Daar is ook nog A.J. Böeseken, D.W. Krüger en A. Kieser (reds.), Drie Eeue; die Verhaal van ons Vaderland (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1952-1953),         [ Links ] 'n populêr-wetenskaplike publikasie wat uit vyf bande bestaan en altesaam ongeveer 1 400 bladsye beslaan.
19. Onder meer: O. Hintrager, Geschichte von Südafrika (Oldenbourg, München, 1952);         [ Links ] Walker, A History of Southern Africa;         [ Links ] Wilson & Thompson, The Oxford History of South Africa;         [ Links ] C.F.J. Muller (red.), Vyfhonderd jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis (Academica, Pretoria, 1980, derde uitgawe);         [ Links ] D. Denoon and B. Nyeko, Southern Africa since 1800 (Longman, London, 1984, new edition);         [ Links ] F. Welsh, A History of South Africa (Harper Collins, no place, 2000, revised edition).         [ Links ]
20. Van der Walt, Wiid & Geyer, Geskiedenis van Suid-Afrika.         [ Links ]
21. A.J.H. van der Walt, J.A. Wiid, A.L. Geyer en D.W. Krüger (reds.), Geskiedenis van Suid-Afrika (Nasou, Kaapstad, 1964), aangedui as 'n tweede uitgawe,         [ Links ] is grotendeels 'n heruitgawe van die eerste band waarby sekere gedeeltes van die tweede band ingewerk is.
22. Soos reeds gemeld, is Welsh, A History of South Africa,         [ Links ] net verdeel in 'n hele aantal (agtien) hoofstukke en daarin kom nie werklik 'n periodisering na vore nie. N. Worden poog nie om in sy The Making of Modern South Africa; Conquest, Segregation and Apartheid (Blackwell, Oxford, 1994) 'n geheeloorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te bied nie,         [ Links ] maar fokus slegs op 'n aantal belangrike temas. Dit word daarom ook nie bespreek nie. Van C. Hamilton, B. Mbenga and R. Ross (eds), The Cambridge History of South Africa (Cambridge University Press, Cambridge, 2009),         [ Links ] het nog net die eerste van 'n beoogde twee bande verskyn. Dit kan daarom nie in oënskou geneem word nie. Verder word oorsigwerke wat nie meer as die laaste 150 jaar van die geskiedenis behandel nie, byvoorbeeld J. Pampallis, Foundations of the New South Africa (Maskew Miller Longman, Cape Town, 1991) en B.         [ Links ]J. Liebenberg and S.B. Spies (eds), South Africa in the Twentieth Century (Van Schaik, Pretoria, 1993),         [ Links ] nie in ag geneem nie.
23. C.H. Feinstein, An Economic History of South Africa; Conquest, Discrimination and Development (Cambridge University Press, Cambridge, 2005).         [ Links ]
24. T. Cameron en S.B. Spies (reds.), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (Human & Rousseau en Southern, Kaapstad en Johannesburg, 1991, tweede uitgawe).         [ Links ] Die eerste uitgawe het in 1986 verskyn. Die Engelse weergawe van die tweede uitgawe is T. Cameron and S.B. Spies (eds), A New Illustrated History of South Africa (Southern and Human & Rousseau, Johannesburg and Cape Town, 1991).         [ Links ]
25. Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, p 7. Hierdie woorde, wat ook in die voorwoord van die 1986-uitgawe voorkom,         [ Links ] is nie in die 1991-uitgawe verander nie, hoewel die laaste onderafdelings uitgebrei is om tot 1991 te strek.
26. Reader's Digest (publisher), Reader's Digest Illustrated History of South Africa; the Real Story (Reader's Digest, Cape Town, 1994, third edition).         [ Links ] Die eerste uitgawe het verskyn in 1988. Die name van 'n hele paneel skrywers verskyn voor in die boek. Geeneen van hulle is, sover bekend, as historikus aan 'n universiteit verbonde nie. Twee historici, C. Saunders en C. Bundy, word onderskeidelik as raadgewende redakteur en historiese adviseur aangedui.
27. Reader's Digest (publisher), Reader's Digest Illustrated History of South Africa; the Real Story (Reader's Digest, Cape Town, 1988), p 7.         [ Links ]
28. Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History of South Africa (third edition), p 7.         [ Links ]
29. J. Fisch, Geschichte Südafrikas (Deutscher Taschenbuch Verlag, München, 1990).         [ Links ]
30. Fisch, Geschichte Südafrikas, pp 9-16.         [ Links ]
31. J.D. Omer-Cooper, History of Southern Africa (Philip, Currey and Heinemann, Cape Town, London and Portsmouth - New Hampshire, 1994, second edition), p xi. Die eerste uitgawe het in 1987 verskyn.         [ Links ]
32. N. Parsons, A New History of Southern Africa (Macmillan, London, 1993, second edition).         [ Links ] Die eerste uitgawe het in 1982 verskyn. Hierdie werk, soos dié van Omer-Cooper, behandel ook die geskiedenis van Suid-Afrika se buurlande.
33. Ross, A Concise History of South Africa, pp 1-2.         [ Links ]
34. Feinstein, An Economic History of South Africa, p xviii. In die oorblywende drie oorsigte, naamlik Davenport & Saunders, South Africa; a Modern History; L. Thompson, A History of South Africa (Yale University Press, New Haven, 2001, third edition - reprinted by Jonathan Ball, Johannesburg, 2006);         [ Links ] en Giliomee & Mbenga, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, word nie besondere oogmerke aangedui nie.
35. Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, p 7.
36. Omer-Cooper, History of Southern Africa, p xi.
37. Giliomee & Mbenga, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, p x.
38. Parsons, A New History of Southern Africa, p iii.
39. Parsons, A New History of South Africa, p 227.
40. Davenport & Saunders, South Africa; a Modern History, pp vii-xiv.
41. In die vroeëre uitgawes van die boek word dit dan ook nie as 'n aparte periode onderskei nie.
42. Giliomee & Mbenga, 'n Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, pp vi-vii.
43. Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, p 113; Omer-Cooper, History of Southern Africa, p 52.
44. Fisch, Geschichte Südafrikas, pp 118-163 ("Schwarze und weisse Revolutionierung des Hinterlandes, 1820/1836-1867"); Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History (third edition), pp 77-161 ("Conquest and Dispossession, 1800-1868"); Thompson, A History of South Africa, pp 69-107 ("African Wars and White Invaders: Southeast Africa, 1770-1870").
45. Fisch, Geschichte Südafrikas, p 164 ("Edelsteine, Gold und die Festigung der weissen Herrschaft, 1867-1899"); Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History (third edition), p 163 ("Diamonds, Gold and War, 1868-1902").
46. Omer-Cooper, History of Southern Africa, pp 101, 126 ("Diamonds and the First British Attempt to Unify South Africa"; "Gold and the Unification of South Africa"); Thompson, A History of South Africa, p 108 ("Diamonds, Gold and British Imperialism, 1870-1910").
47. Feinstein, An Economic History of South Africa, p 90.
48. Soos aangedui, laat Parsons hierdie periode reeds in 1906 begin.
49. Fisch, Gechichte Südafrikas, p 234.
50. Omer-Cooper, History of Southern Africa, p 158.
51. Thompson, A History of South Africa, p 150.
52. Ross, A Concise History of South Africa, p 91.
53. Davenport & Saunders, South Africa; a Modern History, p 375.
54. Fisch, Geschichte Südafrikas, pp 286-361.
55. Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History (third edition), pp 367, 441.
56. Omer-Cooper, History of Southern Africa, pp 193, 223, 243 ("The First Two Phases of Apartheid"; "The Final Phase and Collapse of Apartheid"; "Order or Anarchy?"); Thompson, A History of South Africa, pp 182, 215, 234 ("The Apartheid Era, 1948-1978"; "Apartheid in Crisis, 1978-1989"; "The Political Transition, 1989-1994"); Ross, A Concise History of South Africa, pp 122, 154, 174 ("Apartheid"; "The Costs of Apartheid"; "Let Freedom Reign"; "The Ending of Apartheid and the Transition to Democracy, 1980-1994"). Die werke van Thompson en Ross bevat elk nog 'n verdere hoofstuk oor die tydperk na 1994.
57. Feinstein, An Economic History of South Africa, p 143.
58. Feinstein, An Economic History of South Africa, pp 165, 200, 224 ("Forcing the Pace: Rapid Progress Despite Constraints"; "Hitting the Barriers: from Triumph to Disaster"; "Confronting the Contradictions: the Final Crisis and the Retreat from Apartheid").
59. Van die tien oorsigwerke is dit net twee waarin 1945 of 1948 nie as die begin van 'n nuwe periode gesien word nie, hoewel hulle ook die term apartheid in opskrifte gebruik. In Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, is daar twee afdelings wat handel oor die periode na 1910, naamlik "Die Unie van Suid-Afrika, 1910-1961: Blanke Konsolidasie en Swart Bewussyn" (pp 231-289) en "Die Republiek van Suid-Afrika, 1961-1991: Die Debakel van Apartheid" (pp 290-322). Die werk van Parsons, A New History of Southern Africa, wat oor die hele Suider-Afrika handel, bevat hoofstukke oor die periode 1940-1953 ("The Second World War and Aftermath, 1940-1953", pp 269-292) en die tydperk 1953-1968 ("Apartheid and African Independence, 1953-1968", pp 293-322).
60. Vergelyk Thompson, A History of South Africa, pp xi-xii, in die verband.
61. Fisch, Geschichte Südafrikas, p 53; Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, p 53; Omer-Cooper, History of Southern Africa, p 17.
62. Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History (third edition), p 39; Thompson, A History of South Africa, p 31.
63. Van der Pot, De Periodisering der Geschiedenis, pp 22-26.
64. Vergelyk Ross, A Concise History of South Africa, pp 59-90, in die verband.
65. Reader's Digest, Reader's Digest Illustrated History (third edition), pp 263-365.
66. Giliomee & Mbenga, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, pp 224-244.
67. In Cameron & Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, pp 143-179, is daar drie onderafdelings, geskryf deur verskillende outeurs, oor onderskeidelik die Boererepublieke, die Kaapkolonie en Natal in die periode voor 1881. In Davenport & Saunders, South Africa; a Modern History, is daar 'n afdeling, getiteld "Chiefdoms, Republics and Colonies in the Nineteenth Century" (pp 55-125), waarin die inheemse koninkryke, die Boererepublieke en die Britse kolonies in aparte hoofstukke behandel word.
68. Davenport & Saunders, South Africa; A Modern History, pp 129-193.
69. Omer-Cooper, History of Southern Africa, pp 158-192.
70. Giliomee & Mbenga, Nuwe Geskidenis van Suid-Afrika, pp 183, 305.
71. Soos hierbo aangetoon, beskou Parsons, asook Davenport & Saunders die tydperk tot in die vroeë twintigste eeu as 'n eenheid, terwyl Giliomee & Mbenga dit doen ten opsigte van die periode voor ongeveer 1850.
72. Vergelyk hieroor: W.H. Sewell, "Crooked Lines", American Historical Review, 113, 2, April 2008, pp 223-240.         [ Links ]