SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 no.2 Durban Nov. 2010

 

BOEKBESKOUING BOOK FEATURE

 

Substansiële bydrae tot die literatuur oor die Angola Afrikaners

 

 

Deon Visser FakulteitI; Jacqueline A. FourieII

IKrygskunde, Universiteit Stellenbosch
IIPretoria

 

 

Nicol Stassen, Afrikaners in Angola 1928-1975
Protea Boekhuis, Pretoria, 2009
666 pp
ISBN 978-1-86919-340-9
R300.00

Soos saamstaan en veg, is tweedrag, twis en trek welbekend in die geskiedenis van die Afrikaner. Minder as veertig jaar na die Groot Trek en skaars twintig jaar na die totstandkoming van die twee Boererepublieke, het drie groepe Afrikaners tussen 1875 en 1877 hulle waens gepak en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) verlaat om 'n nuwe heenkome iewers agter 'n vreemde horison te vind. Hierdie groep Afrikaners staan as die Dorslandtrekkers bekend omdat hulle deur die dorre Kalahariwoestyn getrek het, waar baie van hulle van dors en honger omgekom het. Hulle het enkele jare in die noorde van Suidwes-Afrika (Namibië) rondgetrek, waar koors en malaria 'n hoë tol onder hulle geëis het, voordat hulle in September 1880 die Angolese grens oorgesteek het, om hulle met die toestemming van die Portugese owerhede te Huila en Humpata in Suid-Angola te vestig. Minder as die helfte van die sowat 600 mense wat die ZAR verlaat het, het Angola bereik. Nagenoeg 'n kwart van die trekkers het langs die pad gesterf, terwyl 'n verdere kwart omgedraai het as gevolg van die ontberings waaraan hulle blootgestel is. Die Afrikaners het geleidelik verder noordwaarts en noordooswaarts na Bié, Mombolo, Que, Cubal, Caconda, Hanha, Sacanjimba en ander plekke in Sentraal-Angola versprei. Nuwe aankomelinge uit die Transvaal, hoofsaaklik in die tydperk tot 1907, het hulle getalle van 325 in 1883 tot tussen 1 550 en 2 050 teen 1926 laat styg. Die Angola-Boere het 'n lewe gemaak uit gemengde bestaansboerdery, saai- en beesboerdery, jag en transportry. Enkele Boere het hulle tot bos- en mynbou gewend en het betreklik welvarend geword. Die meeste het egter 'n sukkelbestaan gevoer en onder erge armoede gebuk gegaan. Daarom was dit vir hulle 'n groot uitkoms om as huursoldate van die Portugese owerheid aan pasifikasie-oorloë teen die inheemse swart bevolking deel te neem.

Die Portugese het die Boere entoesiasties in hulle midde verwelkom omdat die Boere 'n daadwerklike bydrae tot hulle veiligheid, die pasifikasie van die inheemse volke en die uitbreiding van Portugese beheer oor die binneland gemaak het. Die twee groepe het goed saamgewerk, maar, anders as wat die Portugese gehoop het, het daar bitter min assimilasie plaasgevind omdat die Boere hulle deur die uitlewing van hulle kultuur en godsdiens as 'n aparte gemeenskap gehandhaaf het. Die middelpuntvliedende krag van uiteenlopende godsdiens (Katoliek versus Protestant) en kultuur, tesame met faktore soos armoede, gebrek aan ekonomiese geleenthede, vermeende Portugese wanadministrasie, asook die onderdrukking van die Afrikaners se taal- en godsdiensregte, het mettertyd die goeie verhouding tussen die Boere en hulle Portugese gasheer laat verbrokkel. Dit het daartoe gelei dat die meerderheid van die Afrikaners (1 922 persone) gedurende 1928 en 1929 na Suidwes-Afrika gerepatrieer het. Slegs sowat 386 tot 473 Afrikaners het na raming in Angola agtergebly, waarvan sommige ook die gebied in die tydperk tot 1931 verlaat het. Hulle getalle het egter teen 1958 tot ongeveer 600 toegeneem deur natuurlike aanwas, die terugkeer van sommige van dié wat na Suidwes-Afrika getrek het, en die aankoms van enkele nuwelinge. Gedurende 1958 tot 1963 het sowat 456 van die 600 egter na Suid-Afrika en Suidwes-Afrika gerepatrieer. Sowat 63 van hulle het weer na Angola teruggekeer omdat hulle nie in hulle nuwe omgewings kon aanpas nie, sodat daar na raming 211 Afrikaners in Angola oorgebly het.1 Dié totaal sluit nie diegene in wat heeltemal verportugees het nie. Met die uitbreek van die bevrydingstryd in Angola in 1961, het omtrent 89 Afrikaners die land verlaat, waarop die laaste klompie Afrikaners saam met haas alle Portugese en ander blankes landuit gevlug het toe Angola in 1975 onafhanklik geword het en die land in 'n vernietigende burgeroorlog gedompel is.

Die treurige geskiedenis van die Dorslandtrekkers het vroeg reeds die pers gehaal. Jagter-handelaars soos die Sweed, Axel Erikson, en die "gekleurde Kapenaar", William Jordan, met wie die Dorslandtrekkers in aanraking gekom het, het 'n helpende hand na hulle uitgereik deur hulle armoede en ellende by wyse van berigte aan Kaapse koerante in Suid-Afrika bekend te maak.2 Jordan was dan ook die eerste outeur om 'n oorsigtelike geskiedenis van die Dorslandtrekkers die lig te laat sien toe hy in 1881 en 1883 artikels oor hulle lotgevalle in die Cape Quarterly Review gepubliseer het.3 Jordan se werk is in 1888 in D.F.C. Moodie se bekende The history of the battles and adventures of the British, the Boers, and the Zulus, etc. in Southern Africa4 opgeneem. Verskeie populêre werke het daarna die lig gesien, wat hoofsaaklik die heroïek en morele deugde van die Angola-Boere besing het. J. Von Moltke se Jagkonings (1943)5 en Veldsmanne (1958),6 asook P.J. van der Merwe se outobiografiese Ons halfeeu in Angola (1951),7 is waarskynlik die bekendste hiervan. Hieronder tel ook Swerwer op die Sonpad (1959)8 en ander werke van W.A. de Klerk. Stassen (p 27) wys egter daarop dat daar 'n eeu verbygegaan het voordat die eerste omvattende akademiese werk, J.L. Hattingh se doktorale proefskrif (1975)9 oor die Dorslandtrekkers, die lig gesien het. N.A. Burger se proefskrif drie jaar later (1978),10 is die mees omvangryke en deurtastende werk oor die Dorslandtrekke tot op datum.11 H.F. Heese se doktorale proefskrif (1976)12 was tot en met die verskyning van Stassen se boek, nie alleen die mees omvangryke akademiese studie oor die Afrikaners in Angola nie, maar was ook die eerste werk wat Portugese bronne,13 primêr (argiewe) en sekondêr, geraadpleeg het. As akademiese studie het Heese se werk ook weggebreek van die subjektiewe, heroïese beskouing van die Angola Afrikaners deur bepaalde mites aan die kaak te stel en ook negatiewe aspekte uit te lig.14 Heese se studie dek egter net die geskiedenis van die Angola-Boere tot en met die repatriasie van 1928, sodat daar voor die voltooiing van Stassen se doktorale proefskrif, "Die Afrikaners se laaste halfeeu in Angola, 1928-1975" (2009),15 en die publikasie daarvan in boekvorm as Afrikaners in Angola 1928-1975, geen gesaghebbende navorsing oor die Angola Afrikaners se geskiedenis van 1928 tot 1975 bestaan het nie. Ofskoon bovermelde werke belangrike gapings in die geskiedenis van die Afrikaners in Angola gevul het, moet gemeld word dat alle noemenswaardige publikasies oor die Afrikaners in Angola, met die uitsondering van die beknopte oorsig in D.L. Wheeler en R. Pélissier se geskiedenis van Angola (1971),16 tot dusver net in Afrikaans verskyn het; dié onderwerp is gevolglik haas onbekend in die Engelse literatuur. Volgens Stassen (pp 28-29, 31, 187) bestaan daar ook geen noemenswaardige navorsing oor die Angola-Boere in Portugees nie.

Stassen stel hom ten doel om "'n beeld te vorm van die Afrikanergemeenskap in Angola gedurende die tydperk 1928-1975" (p 25). Met die oog daarop, ondersoek hy die geskiedenis van Angola en hoe dit die geskiedenis van die Afrikaners in Angola beïnvloed het; alle fasette van die Angola Afrikaners se leefwyse op ekonomiese, opvoedkundige, godsdienstige, maatskaplike en kulturele gebied; die redes waarom Afrikaners by verskillende geleenthede besluit het om weer te trek of in Angola te bly; en die wyse waarop die Afrikaners hulle as 'n etniese groep geïdentifiseer het, asook hoe hulle hulle groepsidentiteit gehandhaaf het en daardie identiteit teenoor die identiteit van ander groepe gestel het (p 26).

Die boek beslaan sewentien hoofstukke wat Stassen in vyf17 dele indeel. Deel I (Hoofstuk 1) behels 'n bondige, dog insiggewende skets van die leefwêreld van die Angola-Boere in terme van hulle fisiese omgewing, te wete die geomorfologie, rivierstelsels, geologie, klimaat, grondtipes, plantegroei en dierelewe van Angola wat so nou met hulle bestaan verweef was. Deel II bestryk die geskiedkundige ontwikkeling van Angola tot 1975 (Hoofstuk 2), die samestelling en aard van die Angolese bevolking (Hoofstuk 3), en die ekonomie van Angola (Hoofstuk 4). Deel III handel oor die Dorslandtrekke en die geskiedenis van die Afrikaners in Angola van hulle aankoms in 1880 tot die repatriasie van 1928 (Hoofstuk 5), die geskiedenis van die oorblywende Afrikaners in Angola tot 1958 (Hoofstuk 6), hulle ekonomiese omstandighede (Hoofstuk 7), hulle materiële en geestelike kultuur (Hoofstuk 8 en 9), hulle onderwysstelsel (Hoofstuk 10), hulle godsdienstige lewe (Hoofstuk 11), hulle verhouding met ander gemeenskappe (Hoofstuk 12), en hulle maatskaplike omstandighede (Hoofstuk 13). Deel IV bestaan uit 'n enkele hoofstuk (Hoofstuk 14) wat die tweede repatriasie van die Afrikaners uit Angola (1958) ondersoek. Deel V ondersoek die geskiedenis van die oorblywende Afrikaners in Angola tot 1975 (Hoofstuk 15), die vlug van die laaste Afrikaners uit Angola in 1975 (Hoofstuk 16), en die betekenis van die Afrikaners se bykans eeu lange verblyf in Angola (Hoofstuk 17). Elke hoofstuk word volledig in eindnote gestaaf.

Stassen se werk word deur 'n indrukwekkende lys van primêre en sekondêre bronne ondersteun. Benewens 'n wye verskeidenheid van argivale bronne in Suid-Afrika, het hy ook argivale bronne in Namibië, Switserland en Portugal geraadpleeg. Hy kon weens die chaos wat die Angolese Burgeroorlog geskep het, nie Portugese argiewe in Angola raadpleeg nie, maar het wel die sowat 1 000 Portugese dokumente wat Heese in 1973 en 1975 in Luanda gekopieer en daarna in die Nasionale Argief in Pretoria gedeponeer het, geraadpleeg. Daar hy ook argivale bronne in Portugal geraadpleeg het, het Stassen sy net wyer as Heese gespan, aangesien Heese slegs toegang tot Portugese argivale bronne in Angola gehad het.18 Stassen het ook meer gepubliseerde Portugese bronne as Heese geraadpleeg en voorts twee navorsingsbesoeke aan Angola gebring en ruimskoots van mondelinge bronne gebruik gemaak. Hy het nagenoeg 100 persoonlike en 50 telefoniese onderhoude gevoer met, onder andere, Angola pioniers en hulle afstammelinge wat die gebeure persoonlik beleef het, asook persone wat die Afrikaners in Angola besoek het. Die vaslegging van hierdie mondelinge getuienis is van besondere belang omdat die oorlewendes uit daardie tydperk vinnig uitsterf.

Ofskoon Stassen op die Angola Afrikaners se geskiedenis van 1928 tot 1975 fokus, behandel hy ook hulle geskiedenis tot 1928 in redelike detail om 'n geheelbeeld van die Afrikaners se verblyf in Angola te vorm. Sy inleidende hoofstukke oor die fisiese omgewing, historiese ontwikkeling, bevolkingsamestelling en ekonomie van Angola slaag daarin om die omstandighede, leefwyse en lotgevalle van die Afrikaners in 'n wyer perspektief te plaas. Stassen wys egter daarop (pp 30-31) dat sekere belangrike perspektiewe ontbreek omdat daar nog geen omvattende werk oor die kolonisasie van Angola verskyn het nie; die sensuur wat die Salazar diktatuur toegepas het dit vandag steeds moeilik vir historici maak om die toestande in die Portugese kolonies gedurende die dertiger- en veertigerjare van die twintigste eeu na te vors; die vernietigende Angolese Burgeroorlog (1975-1991 en 1992-2002) die verkryging van inligting verder bemoeilik het; en deurdat daar nog geen omvattende navorsing oor die geskiedenis van Angola uit 'n Afrosentriese perspektief bestaan nie.

Stassen vind dit onmoontlik om al die redes vir die Afrikaners se verhuising na Angola presies te omlyn, aangesien die "trekke komplekse verskynsels was wat waarskynlik die gevolg van 'n hele aantal ekonomiese, godsdienstige en politieke faktore was... [en] dit 'n fout (sou) wees om te dink dat al die trekke gemeenskaplike oorsake het, hoewel daar... heelwat ooreenkomste... is" (pp 114-115). Hy beskou godsdienstige oorwegings, nuwe arbeidswetgewing en vrees vir die gelykstelling van wit en swart, onsekere politieke en ekonomiese toestande, vrees vir Britse imperialisme, asook gebrek aan grond as geloofwaardige trekredes. Hy betwyfel Hattingh se uitspraak dat armoede 'n trekrede was, aangesien tydgenote van die Dorslandtrekkers getuig het dat hulle "welaf" was, asook vanweë die feit dat hulle groot getalle vee besit het en heelwat van hulle 'n leidende rol (as kerkraadslede) in die gemeenskap gespeel het (p 121). Siende dat daar heelwat bywoners onder die trekkers was (meer as die helfte van die trekkers uit die Rustenburg-distrik was bywoners - p 120), moet 'n mens myns insiens aanvaar dat armoede tog wel 'n rol gespeel het. Stassen verwerp met reg Hattingh se opvatting, minstens wat die eerste drie trekke betref, dat "goudkoors" 'n trekrede was, aangesien die ontdekking van goud toe nog "in die toekoms gelê het" (p 122). Hy verwerp droogtes en natuurrampe, asook die koms van intensiewe veeboerdery, wat Hattingh as moontlike trekredes opper, hoofsaaklik omdat dit nie deur tydgenootlike bronne as redes aangevoer word nie.

Aangesien die meeste trekkers uit gebiede gekom het waar die wild reeds 'n geruime tyd uitgeskiet was, betwyfel Stassen ook Hattingh se uitspraak dat die vooruitsig van ryk jagvelde sommige Boere getrek het. Dit is egter nie noodwendig afdoende bewys dat sommige trekkers nie wel so 'n motief kon gehad het nie - vir pioniers wat goed met die jagterslewe bekend was en dalk ook onder ekonomiese druk verkeer het, kon dit sekerlik 'n oorweging gewees het. Stassen haal immers 'n "weduwee uit die Waterberg" aan (p 204) wat in ongeveer 1932 verklaar het:

Baie van ons Transvalers het nooit geleer werk nie; ons was gewoond om agter die wild aan te trek met waens en tente. Dit was 'n gemaklike, aangename lewe. Af en toe trek ons dan na die kus met velle, rieme sambokke en biltong om te handel... Hierdie trekgees is nog in ons boere... Hierdie swerwende onsekere bestaan is byna die reël onder die ou Transvalers.

Alhoewel van die trekkers dit self geopper het (p 125),19 byt Stassen swaar aan die idee van "een of ander inherente 'trekgees' eie aan die Afrikaner... [of] 'n 'rustelose swerwersnatuur'" (p 126) as moontlike trekrede. Hy wys tereg daarop dat dié verskynsel nie uniek aan die Afrikaner is nie, maar gee toe dat "daar gespekuleer (sou) kon word dat die Dorslandtrekke 'n voortsetting van 'n nomadiese leefwyse was wat reeds so vroeg as 1657 onder sommige Afrikaners begin posvat het en dat dit gevolglik tweede natuur onder die Dorslandtrekkers" (p 128) was. Daar is myns insiens 'n verband tussen 'n "nomadiese leefwyse" wat "tweede natuur" by die Afrikaner was, en 'n "inherente trekgees" of 'n "rustelose swerwersnatuur"; die Afrikaner, soos pioniersbevolkings elders, het histories getrek as ekonomiese, politieke, sosiaal-maatskaplike, of welke ander vorm van druk ook al, vir hulle te veel geword het. Stassen verwerp voorts, sonder om sy argument enigsins te staaf, bespiegelings "dikwels deur Engelse skrywers" (p 120) dat die trekke in 'n mate ook "pogings was om aan die aankomende beskawing te ontvlug". Stassen bring dit glad nie met die "nomadiese leefwyse wat tweede natuur onder die Dorslandtrekkers was" in verband nie, terwyl daar wat my betref, tog wel 'n raakvlak is. Van der Merwe verwys in dié verband na diegene, hoewel 'n klein minderheid, wat verknog raak aan 'n selfgenoegsame pioniersbestaan en "benoud raak... as die samelewing... allerlei maatskaplike eise (aan hulle) opdring... [en] geneig is om telkens verder weg te trek namate die beskawing nader kom, om as't ware vir die beskawing te vlug".20 'n Inherente trekgees of swerwersdrang, en vrees vir die beskawing was miskien nie deurslaggewende redes vir die Dorslandtrekke nie, maar hou besmoontlik met mekaar verband en kan nie sonder meer verwerp word nie.

Stassen stip in hooftrekke die bekende feite oor die geskiedenis van die Angola-Boere tot 1928 aan - hoe hulle 'n bestaan uit boerdery, jag, transportry en as huursoldate gemaak het, hoe hulle ossewaens 'n vervoerrewolusie in Angola teweeggebring het, hoe hulle krygsvernuf die Portugese gehelp het om die inheemse bevolking te onderwerp en Angola effektief te beset, hoe die Afrikaners hulleself as 'n aparte gemeenskap gehandhaaf het, die vrese wat dit by die Portugese geskep het dat die Afrikaners 'n eie staat in Angola wou skep, die beperkende maatreëls wat hulle gevolglik ten opsigte van die Boere ingestel het, hoe dit verhoudings versuur het en hoe die meerderheid van die Afrikaners Angola in 1928 verlaat het. 'n Aspek van die Angola-Boere se geskiedenis tot 1928 waarop Stassen wel nuwe lig werp, is die kwessie van slawerny. Heese voer aan dat ten spyte daarvan dat "tradisionele slawerny gedurende die Afrikaners se verblyf in Angola voorgekom het... die Afrikaners dit nie beoefen (het) nie".21 Stassen daarenteen, beskryf in besonderhede (pp 292-295) hoedat die Boere wel aan slawerny deelgeneem het. Hulle het van die begin af slawe van die Portugese aangekoop, van die plaaslike bevolking geruil en "soms op ekspedisies gegaan om slawe op die hoogland van Angola te gaan vang" (p 293). Bykans alle Boere het slawe aangehou; enkeles het selfs meer as 'n honderd slawe besit. Die Boere was immers histories goed met slawerny bekend; die sogenaamde "mak volk", die sowat 43 swart werkers wat saam met die Boere na Angola getrek het, is met enkele moontlike uitsonderings as kinders (Zulus, Tswanas, Ndebeles en ander) op die slagveld gevang en as slawe grootgemaak. Van die "mak volk" het self ook slawe in Angola aangehou (p 295).

Die meerderheid van die sowat 600 Afrikaners wat in 1928 in Angola agtergebly het, het op die sentrale hoogland van Angola gewoon, waar hulle hulle steeds hoofsaaklik op kleinskaalse gemengde bestaansboerdery en jag toegelê het. Waar die Boere se ossewaens in die laat negentiende eeu 'n rewolusie in transport in Angola teweeggebring het en baie boere 'n bestaan uit transportry tussen die kus en die binneland gemaak het, het die koms van treinspore en (later) motorvoertuie dié bedryf geleidelik doodgedruk. Die oorgrote meerderheid van die Afrikaners het ná 1928 'n verarmde, sukkelbestaan gevoer. Stassen haal verskeie Afrikaner, Portugese en ander kommentators aan wat die Afrikaners se verarming aan hulle luiheid en hulle gevolglike verknogtheid aan 'n luilekker jagtersbestaan toegeskryf het. 'n Kommissie van die Hervormde Kerk het in 1950 verklaar "die mans persone [sic] bly maar baie lui om te werk en wil net jag" (p 191). Pieter Nannings, 'n gebore Hollander wat "in hart en siel Afrikaner geword het" (p 288), het opgemerk: "Elk kind wat hier onder ons menzen geboren word, word gebore met de erfsonde in zyn kop 'jacht' en word niet geboren met de schone erfenis in zyn kop 'arbeid'" (p 191). Stassen skram hiervan weg en argumenteer "[d]ie oorsprong van die armoede wat onder die Afrikaners van Angola ná 1928 geheers het, lê in die rampspoedige Dorslandtrekke wat hulle verarm het" (p 203) en verder dat hulle armoede nie die resultaat van luiheid was nie, maar eerder van "werkskuheid" omdat hulle weens "isolasie en agteruitgang... die vermoë om te werk afgeleer (het). Werk as 'n daaglikse roetine het opgehou om te bestaan" (p 208). Daarby het faktore soos ongunstige boerderyomstandighede, insluitende 'n gebrek aan kapitaal, arbeid en markte, asook 'n wispelturige klimaat, en Angola se gebrek aan ekonomiese ontwikkeling, ook 'n rol gespeel.

Weens hulle isolasie, hulle vasklou aan eie kultuur en hulle weiering om deur die Portugese meerderheid geassimileer te word, het die Angola Afrikaners op kerklike en onderwysgebied agteruitgegaan. Dit, tesame met hulle neerdrukkende armoede, het tot maatskaplike agteruitgang en sedelike verval onder sommige Afrikaners gelei. Stassen haal verskeie gevalle van losbandigheid, saamwonery, buite-egtelike kinders, seksuele verbintenisse oor die kleurskeidslyn en dies meer aan, maar kom tot die gevolgtrekking dat die meerderheid van die Afrikaners steeds goeie morele waardes gehandhaaf het. Misdaad was "feitlik onbekend onder hulle" en was meestal beperk tot "oortreding van jagregulasies en onwettige diamanthandel... [wat] die gemeenskap nie as ernstige misdaad beskou (het) nie" (p 326). Omdat die Afrikaners die Portugese as hulle sosiale minderes beskou het (onder meer weens hulle goedkeuring van rassevermenging) en dus traag was om met hulle te trou, was ondertrouery 'n alomteenwoordige probleem in die klein Afrikanergemeenskap. Stassen meld dat "die meeste Dorslandtrekkers reeds familie van mekaar (was)" en dat die Boere "teen 1915... as gevolg van ondertrouery omtrent almal familie van mekaar (was)" (p 322), maar verklaar dat "hierdie bedreiging [ondertrouery]... nooit gerealiseer het nie omdat al meer lede van die gemeenskap mettertyd huwelike met persone buite die Afrikanergemeenskap gesluit het" (p 323).

Stassen bestee nie veel aandag aan die klein groepie Afrikaners wat ná die repatriasie van 1958 in Angola agtergebly het nie. Hy bevind dat min van die Afrikaners gedeel het in die "skouspelagtige" ekonomiese opbloei in Angola as gevolg van olie-, diamant- en staalproduksie gedurende die sestigerjare van die vorige eeu. Die meeste Afrikaners het steeds ekonomies swaargetrek. Gebrekkige onderwys was steeds 'n probleem en so ook kerklike isolasie, alhoewel geringe verbeteringe sedert 1928 in daardie verband plaasgevind het. 'n Klein groepie van sowat 200 Afrikaners het hulle Afrikanerskap daar "onder moeilike omstandighede gehandhaaf", terwyl die meerderheid van nagenoeg 600 Afrikaner-afstammelinge "toenemend in die Portugese samelewing opgeneem is" (p 387).

Die Afrikaners se verhouding met ander groepe in Angola het uiteraard sentraal gestaan in hulle wel en wee en Stassen bestee derhalwe heelwat aandag daaraan. Die Boere het goed met die nie-Portugese blankes oor die weg gekom en geredelik met byvoorbeeld die Duitsers ondertrou. Met die Portugese burgers het hulle aanvanklik goed oor die weg gekom, maar verskille ten opsigte van kerk, taal, kultuur en rasse-opvattings het grootskaalse assimilasie verhoed. Die Portugese owerhede het aanvanklik die Boere verwelkom omdat hulle krygsvernuf van waarde in die onderwerping van swart stamme was en hulle met hulle ossewaens en gepaardgaande padbou-aktiwiteite 'n belangrike ekonomiese bydrae gelewer het. Nadat die Portugese, aldus Stassen, "by die Boere veeteelt, die kuns om ossewaens te dryf en skietkuns geleer het, het hulle begin dink hulle kan sonder die Boere oor die weg kom en wou hul van hulle ontslae raak" (p 128). Die Portugese het die Boere van haat, wandade en veediefstal teenoor die swart bevolking beskuldig, terwyl ingebore Portugese paranoia en xenofobie (pp 48-49) gemaak het dat die Portugese die Boere voortdurend as 'n militêre en politieke bedreiging gesien het. Om dié redes het hulle veral sedert die Eerste Wêreldoorlog die Boere prakties "ontwapen" deur middel van beperkende vuurwapenregulasies. Volgens Stassen het daar eers vanaf die sestigerjare van die twintigste eeu toe "beide die Suid-Afrikaanse en Portugese owerhede moes saamwerk om terroristeaanslae die hoof te bied" by die Portugese owerhede "meer begrip vir die Angola-Boere gekom" (p 286). Die Boere het dikwels met die inheemse swart bevolking, wat hulle nie as hulle gelykes beskou het nie, oor veediefstal gebots, en dikwels groot getalle van hulle vee gebuit as "straf" vir die verlies van enkele stuks vee. Dit, tesame met die Boere se deelname aan die Portugese pasifikasie-oorloë, het sekerlik nie goeie verhoudinge in die hand gewerk nie. Die Afrikaners se verhouding met swart Angolese het eers ná 1958 werklik verbeter, veral vanaf 1961 toe rassediskriminasie afgeskaf is en jong Afrikaners onder meer saam met swart soldate in die Portugese leër diensplig begin verrig het. Met die sogenaamde "mak volk" en hulle afstammelinge het die Afrikaners goed oor die weg gekom aangesien hulle "dieselfde taal, godsdiens en kultuur gedeel het" (p 301).

"Terugkeer", skryf Stassen, is volgens kenners "die groot ongeskrewe hoofstuk in die geskiedenis van migrasie" (p 327). Hy sê in dié verband:

'n Beduidende persentasie mense wat aanvanklik emigreer, keer mettertyd na hulle land of plek van oorsprong terug. Volgens beskikbare getuienis is die besluit om terug te keer dikwels meer kompleks en ambivalent as die oorspronklike besluit (gewoonlik om ekonomiese redes) om te trek. Die terugkeer is nie altyd vreugdevol nie, want diegene wat na hulle oorspronklike tuiste terugkeer voel dikwels of hulle dubbeld gemarginaliseer is.

Stassen bring die kwessie van terugkeer of repatriasie met die konsep van "diaspora" in verband. Hy verwys in daardie verband (p 33) na Van Hear wat aanvoer dat 'n etniese groep aan drie kriteria moet voldoen om as 'n diasporagemeenskap geklassifiseer te word: die groep moet in twee of meer gebiede buite hulle land van herkoms gevestig wees; hulle verblyf aldaar moet relatief langdurig wees; en daar moet volgehoue kontak of interaksie met hulle land van herkoms wees. Die groep moet derhalwe sterk bewus wees van 'n eie identiteit wat hulle van ander groepe onderskei en oor 'n "groepsgeheue" beskik wat hulle in hulle nuwe tuiste saamsnoer en met hulle land van herkoms verbind. Sou 'n groep volkome by hulle nuwe omgewing aanpas en totaal in die nuwe samelewing geassimileer word, is daar nie sprake van 'n diasporagemeenskap nie. Afrikanerdiaspora het volgens Stassen wel gedurende die vorige twee eeue plaasgevind, deurdat groepe Afrikaners na onder meer Oos-Afrika (Kenia en Tanzanië), Rhodesië (Zimbabwe), Suidwes-Afrika (Namibië), Betsjoeanaland (Botswana), die Belgiese Kongo (Demokratiese Republiek van die Kongo), Zambië, Swaziland, Argentinië, Mexiko, Texas en elders getrek het. Heelwat van hierdie emigrante het later teruggekeer. In die geval van Afrikanerdiaspora in Afrika, het die meerderheid van hulle na Suid-Afrika teruggekeer toe die "winde van verandering" ná die Tweede Wêreldoorlog oor die kontinent begin waai het en Afrikastate sedert die sestigerjare van die twintigste eeu die een na die ander onafhanklik geword het.

Onder die Angola-Boere was daar reeds so vroeg as 1883 pogings om met buitelandse hulp na Suid-Afrika te repatrieer. Die eerste repatriasie het egter eers 45 jaar later plaasgevind toe die meeste van die Angola-Boere met grootskaalse finansiële en logistieke hulp van die Unieregering (Hertzog) na Suidwes-Afrika getrek het. Stassen lys in hooftrekke dieselfde redes as Heese vir dié verhuising - onder meer griewe teen die Portugese in verband met burger-, grond-, taal- en godsdiensregte, asook wanadministrasie en vyandigheid van die Portugese owerheid, handelsbeperkinge, verminderde ekonomiese geleenthede, asook die Portugese "naturellebeleid" en bedreiging deur swart stamme. Alhoewel hy nie aandui dat hy die redes vir die verhuising in volgorde van belangrikheid weergee nie, is dit vreemd dat "verminderde ekonomiese geleenthede" slegs die negende plek in sy lys van elf trekredes (pp 130-138) beklee. Gegewe die totale verarming van die meerderheid van die Afrikaners, sou 'n mens verwag dat dit redelik hoog op die lys moes verskyn.

Stassen werp heelwat meer lig as Heese op die redes waarom sommige Afrikaners in 1928 in Angola agtergebly het - wat uiteraard buite Heese se fokus val. Die belangrikste redes wat hy aanvoer (pp 139-147), is dat party Afrikaners nie hulle vaste besittings of gevestigde handelsbelange (soos saagmeule en plase) wou of kon (daar was nie 'n afset nie) agterlaat nie; ander het geglo dat hulle hulle griewe deur direkte onderhandelings met Lissabon kon oplos en wou nie trek nie; van laasgenoemdes se familielede het agtergebly omdat hulle hulle nie alleen wou agterlaat nie; die owerhede het feitlik geen persone met Portugese bloed (Portugese eggenote van Afrikanervroue en hulle gesinne) toegelaat om Angola te verlaat nie; Afrikaners (hoofsaaklik vroue) wat met Portugese (of ander vreemde nasionaliteite) getroud was of saamgeleef het, wou nie trek nie; enkele Afrikaners sou weens huweliksbande oor die kleurgrens heen nie in Suidwes-Afrika toegelaat word nie; sommige Afrikaners het waarskynlik in Angola agtergebly omdat hulle sedes (ontug, owerspel, drankmisbruik en dies meer) nie vir die res van die groep aanvaarbaar was nie; sommige het omgedraai toe hulle van die ongunstige boerderyomstandighede (onder meer die gebrek aan water en veevrektes weens gallamsiekte) in Suidwes-Afrika verneem het; en, laastens het sommige nie oor die nodige vervoermiddels beskik om te trek nie, terwyl ander na bewering nooit van die trekbeweging gehoor het nie. Die Portugese owerhede het ook die "mak volk" verbied om Angola te verlaat. Sommige het wel saam met die Boere uitgeglip. Afstammelinge van hierdie "swart Afrikaners", mense met Afrikaanse name en vanne, woon vandag steeds in Angola (p 298).

'n Gebrek aan toekomsvooruitsigte was volgens Stassen een van die vernaamste redes vir die repatriasie na Suidwes-Afrika en Suid-Afrika in 1958. 'n Dertigtal Boere het hulle wanhoop soos volg in 'n brief aan die Suidwester verwoord (p 331):

Die toekoms hier is vir ons maar bitter ellendig, want ons kan dit aanvoel en vooruitsien. Ons en ons kinders verdwyn as volk en nasie, ook ons kultuur en tradisie. Ons almal gaan beland saam met die naturel in sy krot. Ons toevlug sal tot die naturel wees, soos dit vandag reeds is dat van ons mense op 'n naturel se grond en in sy stroois woon.

Armoede en die afwesigheid van 'n lewensvatbare bestaanswyse (hulle kon nie meer met boerdery, jag en transportry die mas opkom nie), tesame met isolasie en vervreemding van die Portugese, was dus weereens die basis van hulle probleme. Al dié aspekte het voorts tot 'n gebrek aan onderwysgeriewe, godsdienstige agteruitgang en immer toenemende ondertrouery gelei, wat vir baie Afrikaners onaanvaarbaar geword het. Die klompie Afrikaners wat hierdie keer agtergebly het, was hoofsaaklik 'n paar betreklik welvarendes wat nie wou trek nie, armoediges wat moeilik in Suid-Afrika sou aanpas, gesinne met Portugese gesinshoofde en persone van gemengde bloed wat nie in apartheid-Suid-Afrika welkom was nie (pp 371-374). Soos vroeër aangedui, het daar, soos ná die 1928-repatriasie, weer 'n klompie verhuisers na Angola teruggekeer omdat hulle nie in Suidwes-Afrika of Suid-Afrika kon aanpas nie. Die verhuising van Afrikaners vanaf 1961 en die vlug van die laaste groepie in 1975, het direk uit die politieke onstabiliteit en onveiligheid wat die land verswelg het, gespruit, en het dus radikaal van die vorige verhuisings verskil.

Soos uit voorafgaande blyk, het die Afrikaners hulle wel deeglik as 'n afsonderlike etniese en kultuurgemeenskap in Angola gehandhaaf. Ofskoon die Afrikaners in Angola betreklik geïsoleerd van hulle volksgenote in Suid-Afrika was, het hulle tog deur middel van besoekers (onder meer familie, vriende, predikante en reisigers), briefwisseling, leesstof en later die radio in 'n mate in voeling met die tuisgemeenskap gebly. Hulle het ook volksfeeste soos Geloftedag ("Dingaansdag") in stand gehou, wat hulle samehorigheidsgevoel versterk en hulle band met die volksverlede bevestig het (pp 228-236).22 Selfs die "mak volk" het aanvanklik "Dingaansdag" gevier (pp 295-296)! Die Angola-Boere het dus volkome aan die vereistes vir 'n groep in diaspora voldoen. Ofskoon daar bepaalde vooroordele teenoor hulle by sommige van hulle volksgenote in Suidwes-Afrika en Suid-Afrika was, het hulle historiese verbintenis met die res van die Afrikanergemeenskap, tesame met menslikheids- en godsdienstige oorwegings en die opbloei van Afrikanernasionalisme, daartoe gelei dat hulle tog weer in die breë Afrikanergemeenskap opgeneem en ingeskakel is (pp 299-301, 327-369).

Afrikaners in Angola 1928-1975 maak 'n belangrike bydrae tot die bestaande kennis oor en begrip van die Afrikaners se geskiedenis in Angola omdat daar tot nog toe geen diepgaande studie oor die tydperk ná 1928 onderneem is nie. Dit help ook om 'n geheelbeeld van die geskiedenis van die Angola Afrikaners van die Dorslandtrekke in 1875 af, tot hulle finale uittog in 1975 te skep, aangesien Stassen ook die tydperk voor 1928 in betreklike detail behandel. 'n Aspek wat egter steeds agterweë bly, is 'n omvattende studie van die Afrikaner se deelname aan die Portugese pasifikasie-oorloë in Suid- en Sentraal-Angola. Afrikaners in Angola is taalkundig goed versorg en is deurgaans in 'n boeiende, leesbare styl geskryf. Tegnies is dit 'n pragpublikasie, goed versorg, stewig gebind en uitstekend toegelig.

Enkele kleinere punte van kritiek kan geopper word. Ten spyte daarvan dat hy deurgaans positiewe sowel as negatiewe aspekte oor die Angola Afrikaners uitlig, skemer daar tog 'n mate van subjektiwiteit ten gunste van die Afrikaner in Stassen se werk deur. Sy deurgaanse verwysing na "terroriste" eerder as "insurgente", "guerrillas" of "vryheidsvegters", verraai ook 'n Westerse en Eurosentriese ingesteldheid. Sy tematiese benadering skep die probleem dat sy hoofstukopskrifte nie altyd die "lading" dek nie. Hoofstuk 5 se opskrif suggereer 'n uiteensetting van die Afrikaners se geskiedenis in Angola tot 1928, maar die hoofstuk bevat bloot 'n oorsig van die Dorslandtrekke, gevolg deur 'n beknopte opsomming van die repatriasie van 1928 en die redes daarvoor. Hoofstukke 7 tot 13 se opskrifte dui aan dat hulle oor die tydperk 1928 tot 1958 handel, maar die hele tydperk vanaf 1880 tot 1958 kom telkens in die tematiese onderafdelings van die betrokke hoofstukke onder die loep. Enkele tegniese foutjies het verder hier en daar ingesluip met die haastige verwerking van die proefskrif in boekvorm. Op p 25 word vermeld dat die werk uit drie dele bestaan (en word Dele I tot III daarna dan bespreek), terwyl die inhoud inderwaarheid in vyf dele verdeel word. Op p 26 word daar steeds na "hierdie verhandeling" verwys. Daar is ook 'n paar glipse met die statistiese gegewens in die boek. Op p 148 en ook op p 174 word aangedui dat daar in 1928 tussen 386 en 473 Afrikaners in Angola agtergebly het, maar die tabel in Bylae 2 dui die getal as 386 tot 471 aan. Op p 369 word gesê dat 'n geskatte 148 Afrikaners in Angola agtergebly het, waaronder 63 wat weer teruggetrek het nadat hulle aanvanklik (1958-1963) gerepatrieer het. Enkele bladsye verder, op p 377, word egter aangedui dat 148 Afrikaners in 1958 in Angola agtergebly en dat daar saam met die 63 wat ná die repatriasie teruggekeer het ná 1958 nog ten minste 211 Afrikaners in Angola was. Stilisties word die teks soms onnodig deur klein opskriffies versnipper en byna tot 'n lys gereduseer (byvoorbeeld pp 162-174), of swaar met genealogiese detail belaai (byvoorbeeld pp 390-396), wat leesbaarheid strem.

Hierdie kleinere tekortkominge doen egter geen afbreuk aan Stassen se substansiële bydrae tot die literatuur oor die Angola Afrikaners nie. Sy boek sal saam met H.F. Heese se baanbrekerswerk bly staan as een van die standaardwerke oor die onderwerp. Gegewe die feit dat die geskiedenis van die Afrikaners in Angola haas onbekend in die Engelse literatuur is, sal 'n Engelse weergawe van die boek beslis ook 'n leemte in die internasionale arena vul.

 

Die heroïese geskiedenis van die Angola-Boere

Die verhaal van die Dorslandtrek word deur E.T. Meyer in sy voorwoord tot die Gedenkboek van die Dorslandtrek deur J.P. Jooste beskryf as "hierdie enersyds aangrypend-mooi en andersyds tragiese geskiedenis".23 Sedertdien het verskeie publikasies oor hierdie boeiende onderwerp die lig gesien. Een van die werke is Heese se 1976-proefskrif: "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928". Heese was ook tot op hede, die enigste navorser wat gepubliseerde werke in Portugees, asook Angolese argivale bronne oor die Angola-Boere geraadpleeg het (p 28). Nicol Stassen se Afrikaners in Angola: 1928-1975 vul laasgenoemde studie aan en hy maak ook van bronne in argiewe in Portugal, asook Angolese argivale bronne en gepubliseerde werke gebruik.

Alhoewel die boek hoofsaaklik ten doel het om die geskiedenis van die afstammelinge van die Dorslandtrekkers in Angola sedert 1928 te beskryf, behels dit ook die geskiedenis van die Dorslandtrek self. So word die redes vir die trek, die trekkers se bydrae tot die ontwikkeling van die suide van Angola en hulle repatriasie in 1928 behandel. Die fokus is op die Angola-Boere, 'n klein gemeenskap wat in 1928 uit ongeveer 1 600-2 000 individue bestaan het, maar tot slegs 600 persone in 1958 afgeneem het (pp 114, 156). Dit word beklemtoon dat, ten spyte van hulle bydrae, die Boere min erkenning daarvoor ontvang het, en in die jare na 1928 as 'n groep grootliks vergeet is (pp 274, 280). Portugese bronne verskaf ook nie veel inligting oor die Boere se deelname aan die sogenaamde "pasifikasie-oorloë" teen die inheemse bevolking nie (p 187). Die uitsondering blyk te wees dat enkele Portugese bronne wel verwys het na die toekenning van 'n militêre eerbewys, medalje en kruis aan Willem Venter (Figuur 41) deur die owerheid (p 285).

Deel I en II, wat handel oor die omgewing, bevolking en ekonomie van Angola, verskaf die agtergrond waarteen die geskiedenis van die Afrikaners in Angola ontleed word. Deel II fokus op Portugal se rol in die kolonisering van suidelike Afrika en die Portugese beleid van lusotropicalismo, wat die ideaal van rasseharmonie gepropageer het (p 63). Daarteenoor, word die aandag ook op slawerny, asook die stelsel van kontrak- en dwangarbeid en die uitwerking daarvan op die inheemse bevolking gevestig (p 55).

Die grootste gedeelte van Deel III word gewy aan die geskiedenis van die Angola-Boere na 1928 teen die agtergrond van hulle ekonomiese omstandighede, materiële en geestelike kultuur, onderwys, godsdienstige lewe, maatskaplike toestande en hulle verhouding met ander gemeenskappe. Deel IV en V beskryf die repatriasie in 1958 en die redes waarom sommige Afrikaners na 1958 in Angola gebly het. Die boek eindig met 'n beskrywing van gebeure rondom die ontrekking van die Portugese magte uit Angola in 1975 en die daaropvolgende chaos. Die lotgevalle van die Portugese setlaars wat oor die grens na Suidwes-Afrika moes vlug, word ook verhaal. Aangesien relatief min inligting oor die rampspoedige uitwerking van die dekolonisering van Angola op die blanke koloniste in boekvorm beskikbaar is, bied die werk 'n belangrike bydrae in Afrikaans tot dié onderwerp (pp 70-71, 389-393).

Die outeur skryf met 'n groot mate van deernis oor die Afrikaners in Angola. Ten spyte hiervan word die feite deurgaans objektief aangebied en waar nodig, spreek hy tog kritiek uit. Wanneer hy byvoorbeeld die Angola-Boere se ekonomiese omstandighede behandel, skroom hy nie om werkskuheid as gedeeltelike oorsake van sommige Afrikaners se armoede te noem nie (pp 206-209).

Daar is min twyfel dat die outeur gesaghebbend oor die onderwerp kan skryf. Alhoewel dit grootliks verswyg word, is die boek grotendeels gebaseer op sy navorsing vir 'n doktorale proefskrif getiteld "Die Afrikaners se laaste halfeeu in Angola, 1928-1975".24 Dit is jammer dat hierdie feit nie pertinent in die voorwoord, soos gebruiklik in sulke gevalle is, genoem word nie. Sy twee promotors, proff. Johan Bergh en Fransjohan Pretorius, wat in die bedankings genoem word, kry ook nie in hierdie hoedanigheid die nodige erkenning nie. Behalwe vir twee terloopse verwysings, een na "hierdie verhandeling" op p 26 en een na "hierdie proefskrif" in die eindnotas op p 415, sou die leser nooit geweet het dat die boek op die outeur se proefskrif gebaseer is nie. Aangesien daar 'n verbod op toegang tot die tesis tot September 2011 is, was dit ongelukkig nie moontlik om dit met die gepubliseerde werk te vergelyk nie.

Een manier om navorsing bekend te maak, is juis om dit in boekvorm te publiseer. Indien wel, moet die teks vir die algemene publiek in 'n meer leesbare formaat aangebied word. Indien die navorsing voortspruit uit 'n proefskrif, verg dit egter 'n aansienlike mate van skaafwerk om dit te omskep in 'n boek wat gemaklik lees en boei. In hierdie verband het die outeur na my mening nie genoeg moeite gedoen nie. Die feit dat die proefskrif in boekvorm uitgegee is, sal waarskynlik 'n wyer leserspubliek tot gevolg hê, maar om tot die algemene leserspubliek te spreek, moet die formele, indirekte en onpersoonlike styl en formaat van 'n akademiese studie aangepas word.

Die struktuur is meer tipies van die wyse waarop 'n proefskrif geskryf word as van die onderhoudende logiese gang van 'n boek. Die akademiese en formele wyse van aanbieding is 'n uitdaging vir die leser wat op 'n vriendeliker wyse kennis wil maak met die onderwerp. In sy proefskrif was dit sekerlik meer wetenskaplik vir die skrywer om vergelykings te tref tussen toestande onder die Angola-Boere en Afrikaners in die res van Afrika. Om byvoorbeeld die omvang van die armoede van die Angola-Boere in Hoofstuk 7 te verduidelik, word die armblankevraagstuk in Suid-Afrika, asook die armoede van Afrikaners in ander kolonies in Afrika by die bespreking betrek. Dit lei die leser se aandag af van die hooftema van die hoofstuk, naamlik die meedoënlose ekonomiese agteruitgang van die Angola-Boere wat na 1928 plaasgevind het.

Voorts, word die leser meermale onverwags gekonfronteer met 'n begrip, gebeurtenis of persoon sonder dat die persoonlike of agtergrondsgeskiedenis daarvan verduidelik word. Die begrip mesticos (gekleurdes) word byvoorbeeld vir die eerste keer op p 59 genoem, maar die omskrywing van die term verskyn eers op p 76. Op p 337 word daar byvoorbeeld na 'n vergadering van die Volkskomitee vir Angola-Boere verwys, maar die funksie van hierdie belangrike komitee, wat by die repatriasie van die groep na Suidwes-Afrika en Suid-Afrika in 1958 betrokke was, word eers op p 343 verduidelik. Dieselfde probleem kom voor met die eerste vermelding van die Kanadese sendeling, John T. Tucker, wie se agtergrond en kerklike affiliases eers in die tweede en derde verwysings aan die leser openbaar word (pp 258, 260-261). Verskillende aspekte wat met mekaar verband hou, kan ook op 'n meer geïntegreerde wyse aangebied word. As voorbeeld is die verband tussen die trekredes in 1928 (Hoofstuk 5) en die ontstaan van die repatriasiegedagte (Hoofstuk 14) voor die hand liggend (pp 130-131, 327-331).

In Hoofstuk 10 word belangrike feite oor die onderwyssituasie van die Angola-Boere behandel. Die stand van geletterdheid word ook bespreek en ons verneem op p 239 dat nie 'n enkele Afrikanerkind in Angola voor 1928 ongeletterd grootgeword het nie. Op p 244, egter, word ons gekonfronteer met die skokkende feit dat, in 1956, uit 'n groep van 10 seuns van 18-jaar, daar nie een was wat kon lees en skryf nie. Die leser sou self die afleiding kon maak dat ongeletterdheid na 1929 toegeneem het, maar die skrywer kom tot die gevolgtrekking dat gevalle van ongeletterdheid feitlik nie voorgekom het nie (p 254). Miskien moes die outeur meer aandag aan die stand van geletterdheid van die Angola-Boere gegee het.

Wat die lys bronne (pp 559-614) betref, het die outeur waarlik verstommende werk verrig. Die noukeurige raadpleging van primêre en sekondêre bronne is indrukwekkend. Bronverwysings word sorgvuldig in eindnotas gelys en die bronnelys word ingedeel in verskillende soorte bronne in alfabetiese volgorde. Dit sluit ongepubliseerde argivale dokumente (beide Suid-Afrikaans as Portugees); huweliksregisters van die destydse Gerformeerde en Hervormde gemeentes in Suid-Afrika, Suidwes-Afrika en Angola; verslae aan die staatssekretaris van die ZAR regering (een gedateer uit 1852); manuskripte; handgeskrewe dagboeke uit die negentiende eeu; bandopnames van die trekkers se ondervindinge; regeringspublikasies; persoonlike onderhoude en korrespondensie in, om maar enkele soorte bronne te noem.

Aangesien die Angola-Boere se geskiedenis, godsdienstige lewe, maatskaplike toestande en onderwyssituasie in Angola baie nou gekoppel is aan die kerkgeskiedenis van die Gereformeerde en Hervormde Kerke in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika is 'n groot aantal bronne in kerkargiewe geraadpleeg (pp 28-29). Die Hervormde Kerk was ook gemoeid met die repatriasie van die Angola-Boere in 1958.

Die bronnelys sluit ook 'n indrukwekkende aantal Portugese bronne in. Soos hy tereg noem, is vorige studies oor die onderwerp gekortwiek deur die feit dat navorsers geen Portugese of Angolese bronne geraadpleeg het nie. Die feit dat hy Portugees magtig is, het in dié verband 'n wesenlike bydrae tot die volledigheid van die navorsing gemaak (pp 15, 27).

Benewens 'n reeks interessante foto's, wat agtereenvolgens volgens tema genommer is, word die boek ook voorsien van kleurvolle kaarte wat die administrasie, geomorfologie, klimaat, landbou en mynbou van Angola voorstel. Die register of indeks vergemaklik die leser se toegang tot inligting oor verskillende onderwerpe in die boek wat uiters noodsaaklik is in 'n historiese werk van hierdie omvang. Die bylaes is ook 'n waardevolle toevoeging tot die boek, want dit verskaf die persoonlike inligting van die Afrikaners wat in 1928 in Angola agtergebly het, asook geografiese naamsveranderings na 1975.

In sy inleiding tot In die woeste weste deur J.G. Prinsloo en J.G. Gauché, skryf prof. S.P. Engelbrecht in 1932: "Ook die Dorslandtrek het sy betekenis gehad, en eenmaal sal die tyd daar wees dat dit aan 'n wetenskaplik-historiese ondersoek onderworpe sal word".25 Laasgenoemde hoop is verwesenlik met hierdie boek wat daarin slaag om die heroïese geskiedenis van die Angola-Boere aan te vul en die lotgevalle van hulle nasate te boekstaaf.

 

 

1. Soos onder aangedui word, is dit nie duidelik wat die korrekte getal is nie.
2. H.F. Heese, "Transvalianos en Estrangeiros: Afrikaners in Angola, 1880-1928" (elektroniese manuskrip, 2005), p 9.         [ Links ]
3. W.W. Jordan, "Journal of the Trek Boers", Cape Quarterly Review, 1, 1881, pp 145-175;         [ Links ] W.W. Jordan, "From Damaraland to the Nhemba Country", Cape Quarterly Review, 2, 1883, pp 519-539.         [ Links ] Kyk ook: Heese, "Transvalianos en Estrangeiros", p 261.
4. W.W. Jordan (comp.), "Journal of the Trek Boers to Mosamedes", in D.C.F. Moodie, The history of the battles and adventures of the British, the Boers, and the Zulus, etc. in Southern Africa From the time of Pharaoh Necho, to 1880. With copious chronology II (Murray and Leger, Cape Town, 1888), pp 300-375.         [ Links ]
5. J. von Moltke, Jagkonings (Nasionale Pers, Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth, 1943).         [ Links ]
6. J. von Moltke, Veldsmanne (Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg, 1958).         [ Links ]
7. P.J. van der Merwe, Ons Halfeeu in Angola (Afrikaanse Pers Boekhandel, Johannesburg, 1951).         [ Links ]
8. W.A. de Klerk, 'n Swerwer op die Sonpad (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg, 1959).         [ Links ]
9. J.L. Hattingh, "Die trekke uit die Suid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat, 18751895." D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1975.         [ Links ]
10. N.A. Burger, "Die Dorslandtrek. 'n Histories-geografiese studie, 1870-1954." D.Phil.proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1978.         [ Links ]
11. Heese, "Transvalianos en Estrangeiros", p 3; N. Stassen, Afrikaners in Angola, 1928-1975 (Protea Boekhuis, Pretoria, 2009), p 27.         [ Links ]
12. H.F. Heese, "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928." D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Kaapstad, 1976.         [ Links ] Heese het dié proefskrif in 2003/5 in verwerkte vorm in elektroniese formaat gepubliseer as "Transvalianos en Estrangeiros: Afrikaners in Angola, 1880-1928".
13. Heese, "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928", pp iii-iv.
14. Heese, "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928", p iv; Stassen, Afrikaners in Angola, p 28.
15. F.J.N. Stassen, "Die Afrikaners se laaste halfeeu in Angola, 1928-1975." D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 2009.         [ Links ]
16. D.L. Wheeler and R. Pélissier, Angola (Praeger, New York, 1971).         [ Links ]
17. Stassen meld verkeerdelik op p 25 dat sy werk in drie dele ingedeel is.
18. Heese, "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928", p iv; Stassen, Afrikaners in Angola, p 27.
19. Kyk ook: De Klerk, 'n Swerwer op die Sonpad, pp 15-16.
20. P.J. van der Merwe, Trek: Studies oor die Mobiliteit van die Pioniersbevolking aan die Kaap (Nasionale Pers, Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth, 1945), p 98.         [ Links ]
21. Heese, "Die Afrikaners in Angola, 1880-1928", p 270.
22. Verwysings na die herdenking van Geloftedag is ook te vinde in Heese, "Transvalianos en Estrangeiros", pp 147, 152, 172.
23. J.P. Jooste, Gedenkboek van die Dorslandtrek (Potchefstroom Herald (Edms) Bpk., Potchefstroom, 1974), p 5.         [ Links ]
24. University of Pretoria Electronic theses and dissertations - http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-10212009-173521/ (accesssed 14 June 2010).
25. J.G. Prinsloo en J.G. Gauché, In die woeste weste: die lydensgeskiedenis van die Dorslandtrekke, opgeteken uit die mond van 'n Dorslandtrekker (JH de Bussy, Pretoria, 1933), p ix.         [ Links ]