SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 no.2 Durban Nov. 2010

 

HERINNERINGE: DIEGENE WAT MY BESIEL EN BEÏNVLOED HET REMINISCENCES: THOSE WHO INSPIRED AND INFLUENCED ME

 

Persone wat my beïnvloed en geïnspireer het

 

 

Con de Wet

 

 

Soos seker die meeste ander historici kan ek ook getuig dat 'n hele aantal persone 'n invloed op my vorming as historikus uitgeoefen het. Sommige het wel 'n groter bydrae gelewer as ander, maar tog kan niemand se invloed onderskat word nie. Persoonlik is ek baie dank verskuldig aan veral twee leermeesters, proff. P.J. van der Merwe en D.J. Kotzé, wat elkeen op sy eie wyse 'n besondere bydrae gelewer het tot my vorming. Hulle vormende invloed op hulle studente is egter reeds volledig toegelig in Johan Bergh se artikel oor Van der Merwe en Kotzé.1 By hierdie geleentheid sal ek dus hoofsaaklik aandag bestee aan ander persone wat my beïnvloed het, soos familielede, onderwysers en kollegas.

My ouers, Danie en Susan de Wet, is albei in die laaste jare van die Vrystaatse Republiek se bestaan gebore en het as jong kinders die Anglo-Boereoorlog meegemaak. My ma was byvoorbeeld as jong dogtertjie saam met haar ma in die konsentrasiekamp op Winburg. Oupa de Wet was weer 'n neef van genl. Christiaan de Wet en my pa het altyd met trots gesê dat hulle eintlik "dubbele neefs" was, want hulle vaders was broers en hulle moeders was susters. Insgelyks het my ma met eweveel trots vertel dat oupa Rademeyer letterlik tot die laaste skoot van die oorlog 'n bittereinder in genl. De Wet se kommando was. Dit is dus duidelik dat ek van kindsbeen af die geskiedenis beleef het uit hulle vertellings, al was hulle siening daarvan waarskynlik baie sterk Boer-gesentreerd.

My pa het in 1917 as 20-jarige jongman uit die suidoos-Vrystaat standerd 8 (graad 10) - of Skool Hoër (School Higher Certificate) soos hulle dit genoem het - aan die Stellenbosch Hoër Jongenskool voltooi. Daarna kon my oupa nie sy verdere skoolopleiding bekostig nie en moes hy terugkeer plaas toe. Tot my skande weet ek nie eens of geskiedenis een van sy skoolvakke was nie, hoewel ek uit sy dagboek weet dat hy 'n afkeur gehad het in Ou Polla (mnr. Paul Roos) se Latin. Hy het egter 'n lewende belangstelling in die geskiedenis gehad en het dit op my oorgedra. Tydens ons gereelde vakansies in die Kaapprovinsie - die Vrystaters het toe nog steeds van die Kolonie gepraat - het hy oral waar ons gekom het geskiedkundige plekke aan my uitgewys. Een van ons gewilde vakansiebestemmings was die Strand en dan het ons gewoonlik een dag Kaapstad besoek. Pa het as ons toergids opgetree tydens 'n besigtingstoer na die stad se belangrikste geskiedkundige plekke. Dit het ingesluit die Kompanjiestuin, die Kunsmuseum, die Suid-Afrikaanse Museum, Tuinhuis, die Parlementsgebou en die Groote Kerk met sy indrukwekkende preekstoel, die rouborde teen die mure en die grafstene in die vloer. Laastens het die Parade, die Kasteel en Koopmans-De Wet Huis in Strandstraat aan die beurt gekom. Ek onthou nog hoe Pa tydens een van die besoeke aan die Kompanjiestuin 'n groot gebou met 'n groen koepeldak aan my uitgewys het en gesê het dit is die argief, waar ons land se geskiedkundige dokumente bewaar word. Min het ek daardie dag besef dat ek negentien jaar later daar my brood as argivaris sou verdien.

Daar was altyd 'n boekrak in ons huis en daarop was daar heelwat boeke oor die geskiedenis. So was daar byvoorbeeld N.J. van der Merwe en J.D. Kestell se biografieë van onderskeidelik pres. M.T. Steyn en genl. C.R. de Wet. Verder was daar ook boeke oor die Anglo-Boereoorlog soos Die Kappie Kommando van Johanna Brandt; Met die Boere in die Veld deur Sarah Raal; Kaptein Hindon: Oorlogsaventure van 'n Baas Verkenner deur Gustav S. Preller; Hoe zij Stierven deur G. Jordaan en Ewald Steenkamp se werk oor die konsentrasiekampe, Helkampe. Hierdie boeke het vandag almal 'n plek gevind op my boekrak.

Nog 'n familielid wat 'n liefde vir die geskiedenis by my aangemoedig het, was oom Dewald Steyn, 'n swaer van my pa wat by Breyten geboer het. Sover ek weet het hy nooit enige formele opleiding in geskiedenis gehad nie, maar hy het 'n groot belangstelling in die Anglo-Boereoolog gehad. Ek onthou dat sy kantoor op die plaas boekrakke teen al die mure gehad het, wat almal gevul was met boeke oor die oorlog. Ek herinner my ook nog hoe hy ons tydens besoeke aan hulle in sy 1936-Chevrolet gelaai het vir 'n begeleide toer oor die plaas, waartydens hy plekke waar veldslae plaasgevind het aan ons uitgewys en vertel het wat daar gebeur het. By een geleentheid het ons gehoor hoe die Engelse teen die randjie waarop ons gestaan het, op beweeg het, onbewus daarvan dat die Boere agter 'n klipplaat geskuil het en op kort afstand vuur op hulle geopen het.

Twee van my geskiedenis-onderwysers het ook 'n belangrike aandeel aan my skoling in die geskiedenis gehad. Aan die laerskool op Ottosdal in die toenmalige Wes-Transvaal was dit mnr. H.R. Lemmer, of Ou Vlam, soos hy op die skoolterrein en selfs in die gemeenskap bekend was. Dit was die jare wat ons geleer is dat elke historiese gebeurtenis oorsake en gevolge gehad het en Ou Vlam het die oorsake en gevolge vir ons woordeliks gedikteer, wat ons dan moes neerskryf en na skool uit ons koppe gaan leer het om dit die volgende dag vir hom te kom "opsê". Dit is seker pedagogies nie die mees aanvaarbare metode nie, maar dit het minstens daartoe bygedra dat ek vandag nog onthou dat een van die (destydse?) oorsake van die Groot Trek was die manier waarop die slawe vrygestel is - let wel, nie die vrystelling as sulks nie, maar die manier waarop dit gedoen is. Ou Vlam het ons egter ingelig dat daar een oorsaak vir die Groot Trek was wat nêrens vermeld word nie, maar wat na sy mening baie belangrik was, naamlik die Boere se treklus wat hulle altyd na die verre horisonne gelok het. Toe ek dit later by die huis gaan vertel het, het Pa gesê dat Ou Vlam - wat 'n Bloedsap was - natuurlik altyd die Boere sal swartsmeer! Dit het my egter weer daaraan laat dink toe Nicol Stassen in sy onlangse artikel oor die Dorslandtrekke2 die treklus of trekgees ook as 'n moontlike rede vir daardie trekke bespreek het.

By die Hoërskool Klerksdorp was my geskiedenisonderwyser mnr. Koos du Plessis (Koos Kubiek). Vandag voel dit vir my of ons die hele standerd 9 en 10 (grade 11 en 12) net aan die Franse Rewolusie bestee het. Dit was die eerste keer dat ek van die ancien regime verneem het en ek moet bely dat my simpatie toe by die hoër en middestand gelê het, want die gepeupel wat die Bastille bestorm het om die skorriemorrie te bevry en die koningsgesin se koppe laat afkap het, was na my mening nie die tipe mense waarop jy jouself moes modelleer nie. Vandag weet ek egter dat Koos Kubiek my gehelp het om te verstaan dat, soos alle ander aardse dinge, regimes ook eindig is en tot niet gaan om plek te maak vir ander.

Toe ek in 1953 universiteit toe is, was Geskiedenis vir my maar eintlik net 'n "stopvak" om 'n gaatjie in my vakkeuse vir die eerste jaar toe te stop. My kennis van die vak het grootliks gedraai om Jan van Riebeeck, die Franse Rewolusie en die Groot Trek, maar gelukkig was ek geseënd met 'n paar puik leermeesters wat my horisonne verbreed het en my belangstelling en liefde vir die vak gestimuleer het. In die eerste jaar was daar (die toe nog) dr. Dirk Kotzé, ons dosent in algemene geskiedenis en hy het die wêreld van die antieke beskawings vir my geopen. In prof. H.B. Thom se klasse oor Suid-Afrikaanse geskiedenis het hy my beïndruk met sy deeglikheid en die beheersing van sy bronne. Ongelukkig het dit net een jaar geduur, want hy het in 1954 rektor geword.

Die drie dosente wat ongetwyfeld die grootste invloed op my vorming as historikus gehad het, was proff. Piet van der Merwe, Dirk Kotze en J.A. Wiid. Laasgenoemde het in die Honneurs-jaar die tydperk van heropbou ná die Anglo-Boereoorlog met ons behandel aan die hand van sir Alfred Milner se gepubliseerde korrespondensie. Dit was my eerste kennismaking met oorspronklike bronne, al was dit dan in gepubliseerde vorm. Kotzé se uitgebreide kennis van die wêreldgeskiedenis en sy vermoë om verbande tussen die hede en verlede raak te sien, het baie bygedra tot my begrip van die geskiedwetenskap. Van der Merwe het weer by my tuisgebring dat jy jou feite uit die geraadpleegde bronne "moet kan verantwoord" en dat die inligting uit verskillende bronne teen mekaar opgeweeg moet word. Aldrie van hulle het, soos Thom, hulle nagraadse opleiding aan Europese universiteite ontvang. Dit was toe nog nie so 'n algemene verskynsel soos vandag nie, maar die verruiming wat hulle blootstelling aan Europese leermeesters op hulle geskiedbeskouing gehad het, het hulle aan hulle studente oorgedra. Aan hulle belangstelling en aanmoediging dank ek die feit dat Geskiedenis nie maar net 'n gat in my kursus toegestop het nie, maar een van my hoofvakke geword het en uiteindelik tot nagraadse studie daarin gelei het.

Toe ek in 1963 as redakteur van bronnepublikasies by die Kaapse Argiefbewaarplek begin werk het, het ek met dr. Anna Böeseken, die hoof van die publikasie-afdeling, kennis gemaak. Sy was 'n kenner van die Kaapse VOC-geskiedenis en het haarself so daarin verdiep dat sy selfs by geleentheid teenoor my beken het dat sy "in die sewentiende eeu vasgesteek het". Op daardie stadium het my kennis van die VOC-geskiedenis aan die Kaap nog steeds nie veel verder as Jan van Riebeeck en 6 April 1652 gestrek nie. Dr. Anna het egter spoedig daarin 'n verandering ten goede by my te weeg gebring en dit is grootliks aan haar invloed te danke dat ek op 'n sewentiende eeuse onderwerp vir my proefskrif besluit het. Daarmee saam het sy ook 'n waardering vir argivale navorsing, wat vorige leermeesters reeds by my wakker gemaak het, versterk en vasgelê.

Verskeie leermeesters het dus elkeen op sy/haar eie manier meegehelp om 'n liefde en 'n lewende belangstelling in die geskiedenis by my wakker te maak en verder te ontwikkel. Dit het reeds in die gesins- en die wyer familieverband begin en is later voortgesit deur onderwysers, dosente en kollegas. Ou Vlam het my byvoorbeeld geleer dat dit soms nodig is om buite die kassie van die algemeen aanvaarde opvattings en sienswyses te dink. Koos Kubiek het die besef by my tuisgebring dat alle regimes tot 'n einde kom, of dit nou die Babiloniese, die Persiese of die Romeinse Ryk, die ancien regime of die apartheidsregime is. Selfs die één ryk waarvan almal geglo het dat die son nooit daaroor sou ondergaan nie, het dit ook nie gespaar gebly nie. Laastens was daar my universiteits-dosente wat die afrondingswerk gedoen het en my voete stewig op die pad van die geskiedenis geplaas het.

 

 

1. J.S. Bergh, "P.J. (Piet) van der Merwe en D.J. (Dirk) Kotzé aan die Stuur by Stellenbosch, 1959-1977: Goue Jare of Verspeelde Geleenthede?", Historia, 53, 2, November 2008, pp 208-262.         [ Links ]
2. N. Stassen, "Die Dorslandtrekke na Angola en die Redes Daarvoor (1874-1928)", Historia, 55, 1, Mei 2010, pp 32-54.         [ Links ]