SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2The role of the South African business community regarding political mobilisation in the run-up to a new South Africa, 1980-1992"The story of a disease": African horsesickness and its direct influence on the necessary development of veterinary science in South Africa c. 1890s-1920s author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Historia

On-line version ISSN 2309-8392
Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 n.2 Durban Nov. 2010

 

Die Congregational Kerk in Uitenhage en die Groepsgebiedewet

 

The Congregational Church in Uitenhage and the Group Areas Act

 

 

H.O. Terblanche

 

 


OPSOMMING

Die bruin mense het die Groepsgebiedewet beskou as 'n wet van geweld, 'n wet van onteiening en 'n onregverdige wet. Hierdie artikel fokus op twee kerkgemeenskappe in Uitenhage, die Rose Lane Congregational Kerk (gestig in 1828) en die Dale Street Congregational Kerk (gestig in 1896). Beide hierdie gemeentes is vernietig omdat hulle geïsoleerde kleurling eiendom in 'n geproklameerde wit groepsgebied was. Hierdie hegte gemeenskappe is met dwang verskuif van die historiese hart van Uitenhage na nuwe bruin woonbuurte aan die buitewyke van die dorp. In 1968 is die bruin mense, wat almal eiendom besit het, van Naabosch verskuif. In 1975 is al die eiendom van die Rose Lane Kerk verkoop omdat dit in "'n geproklameerde gebied" geleë was. Al die bestaande geboue (kerk, skool en pastorie) is daarna gesloop. Die twee pastorieë, skool- en kerkgebou van die Dale Street Kerk is ook gesloop. Eerw. Allan Hendrickse, wat Dale Street 35-jaar lank as predikant gedien het, was bereid om te vergewe, maar kon nie vergeet wat met hulle kerkeiendomme gebeur het nie.

Sleutelwoorde: Bruin mense; Driekamerparlement; eerw. Allan Hendrickse; Groepsgebiedewet; Rose Lane en Dale Street Congregational Kerk; Uitenhage.


ABSTRAC

The coloured people regarded the Group Areas Act as an act of violence, an act of dispossession and an iniquitous act. This article will focus on two church communities in Uitenhage, the Rose Lane Congregational Church (founded in 1828) and Dale Street Congregational Church (founded in 1896). Both of these congregations have been destroyed because they were isolated pockets of coloured property in a proclaimed white group area. These closely-knit communities were forcibly removed from the historic heart of Uitenhage to new coloured areas on the outskirts of the town. In 1968 the coloured people, who all owned their properties, were removed from Naabosch. In 1975 the total property of the Rose Lane Church was sold because it was situated in "a declared area". All the existing buildings (church, school and manse) were demolished thereafter. The two manses, school building and church building of the Dale Street Church, were also demolished. Rev. Allan Hendrickse, who served as a minister for 35 years at Dale Street, could forgive, but not forget because of what happened to their church properties.

Key words: Coloured people; Group Areas Act; Rev. Allan Hendrickse; Rose Lane and Dale Street Congregational Church; Tricameral Parliament; Uitenhage.


 

 

Inleiding

Die bekende dr. J.T. van der Kemp, Nederlandse offisier en geneesheer (1747-1811), het in 1797 sy dienste aan die Londense Sendinggenootskap (LSG) gebied. Hy het op 31 Maart 1799, vergesel van drie assistente, J.J. Kicherer, William Edwards en John Edmonds, in die Kaap aangekom. Die aankoms van hierdie vier sendelinge word algemeen gesien as die oorsprong van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA).1

Die Nederlandse bewindhebber aan die Kaap, goew. J.W. Janssens, het tydens sy besoek aan Algoabaai in Mei 1803 die plaas Roodepan aan die Swartkopsrivier aan Van der Kemp as 'n sendingterrein geskenk. Laasgenoemde het dit toe Bethelsdorp genoem en in Junie 1803 beset. Destyds was Bethelsdorp sewe myl van Fort Frederick af, vandag is dit deel van Port Elizabeth se noordelike gebiede.2

Bethelsdorp kan beskou word as die moedergemeente van die Congregational Kerk in Uitenhage. In hierdie artikel sal veral gefokus word op twee gemeentes, te wete Rose Lane en Dale Street. Beide gemeentes is erg ontwrig vanweë die vernietigende uitwerking van die Groepsgebiedewet.

Volgens adv. V.G. Hiemstra kon die Wet op Groepsgebiede (Wet No. 41 van 1950) "ongetwyfeld die belangrikste maatreël op die gebied van rasseverhoudings word wat nog ooit in Suid-Afrika aangeneem is". Hy het die hoop uitgespreek dat die toepassing van die wet "in die oorgrote meerderheid van gevalle pynloos en sonder groot ontbering" kon geskied.3 Sy hoop is egter beskaam, want die Groepsgebiedewet sou tot groot bitterheid en ontwrigting lei.

Een van die argumente wat van regeringsweë aangevoer is en wat tot hierdie wetgewing aanleiding gegee het, was "... dat die ondervinding geleer het dat rassestryd en -spanning ontstaan wanneer lede van verskillende rasse naasmekaar woon en dat dit in die belang van rassevrede is dat punte van gekonsentreerde kontak sover moontlik uitgeskakel moet word".4

Die verslag van die Erika Theron-kommissie, wat in 1973 aangestel is om sake rakende kleurlinge te ondersoek, het in 1976 verskyn. Die kommissie het uiteraard ook ingegaan op die Groepsgebiedewet. Die verslag het dit duidelik gestel dat "daar geen statutêre maatreël bestaan wat soveel bitterheid, wantroue en vyandiggesindheid by die Kleurlinge verwek het as daardie wet nie."5 Die begrip "kleurlinge" verwys na gemeenskappe wat volgens die wetgewing van daardie stadium as kleurlinge geklassifiseer is. Die rasseklassifikasie-wetgewing was 'n konstruksie van die destydse wit regering.

Die Theron-kommissie het onder meer na die volgende knelpunte verwys. Die gedwonge verhuising na sekere gebiede was vir baie 'n harde finansiële slag en 'n aantasting van hulle menswaardigheid. Die nuwe woonbuurte was dikwels ver van die middedorp. "Daar was soms 'n gretigheid om 'bruin kolle' skoon te maak in gebiede waarin die blankes belang het." Blanke selfsug het dus 'n rol gespeel. Bruin gesinne is teen hulle sin verskuif uit buurte waar daar 'n hegte gemeenskapslewe was, waar bure mekaar geken het en die kerk 'n sentrale rol gespeel het. In die nuwe gebiede is hulle gedwing om met mense met 'n ander leefwyse saam te woon.6

Kragtens die Wet op Groepsgebiede (Wet No. 36 van 1966) het die Groepsgebiederaad tot April 1975, 783 blanke en 455 bruin groepsgebiede in die Republiek geproklameer. Die proklamering het tot gevolg gehad dat gesinne of hele gemeenskappe van 'n dorp- of stadswyk op kleiner of groter skaal verskuif moes word. Op 31 Desember 1974 was die volgende getal bruin gesinne volgens destydse regeringsplanne hervestig: Kaapprovinsie: 41 718 en die totale getal: 53 203. Op 31 Desember 1974 moes die volgende getal bruin gesinne nog hervestig word: Kaapprovinsie: 15 606 en die totale getal: 22 369.7

Prof. Theron het in haar outobiografie daarop gewys dat sy reeds in die tyd van die kommissie haarself begin afvra het waarom die wet behou moes word: "Die kwaad wat menseverhoudinge aangedoen is, sal ons oor geslagte nie kan uitwis nie." Mettertyd het die oortuiging by haar posgevat dat die Groepsgebiedewet afgeskaf moet word: "Daar kan nie aan getorring word nie. Dit kan nie gewysig word nie. Dit is swak wetgewing - dalk goed bedoel, maar dom. Wrywing word daardeur nie uitgewis nie, maar vererger." Aan die einde van 1979 was 74 909 bruin gesinne reeds hervestig.8

Prof. A.J. Christopher, 'n kenner op die gebied van stedelike apartheid en die uitwerking van die Groepsgebiedewet, het verklaar dat dit veral die Indiër en bruin gemeenskappe was wat deur hierdie wet geaffekteer is. In die periode tot 1984 is 'n totaal van 126 000 gesinne verskuif vanweë die toepassing van die Groepsgebiedewet:

Of these only 2 per cent were White, such was the skill of the Group Areas Board in drawing the boundaries to interfere with the White community as little as possible. By contrast, in many towns, virtually the entire Indian and Coloured population were displaced.9

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Munisipaliteit (NMMM), bestaande uit Port Elizabeth, Uitenhage en Despatch, het in Desember 2000 tot stand gekom. Die uitwerking van die Groepsgebiedewet in Port Elizabeth is reeds in verskeie publikasies behandel. Uitenhage het egter tot op datum agterweë gebly. Vanweë politieke druk is die wit bevolking in Port Elizabeth so min as moontlik deur die toepassing van die Groepsgebiedewet geraak. Christopher maak die stelling dat

... in 1951 some 98,9 per cent of the White population lived in the areas later proclaimed as White, while only 45,5 per cent of the Coloured population lived in its designated area and none of the Asian.10

Suideinde staan bekend as die Distrik Ses van Port Elizabeth. Suideinde was vroeër jare 'n kosmopolitiese, veelrassige en multikulturele woonbuurt, wat deur die volgende bevolkingsgroepe bewoon is: Maleiers, Indiërs, Chinese, Afrikaans- en Engelssprekende blankes, Portugese, Grieke, Khoikhoi, Fingoes en Xhosas. Proklamasies van 1961 en 1963 het Suideinde tot 'n blanke groepsgebied verklaar. Teen 1960 het daar 12 407 mense in Suideinde gewoon; die persentasie blankes was 33,2 persent. Die eerste inwoners het hulle uitsettingsbevele in 1965 ontvang. Suideinde is daarna feitlik heeltemal gesloop en is 'n hartseer hoofstuk in die geskiedenis van die Nelson Mandela Metropool.11

 

Uitenhage: Die voorspel

Die stadsraad van Uitenhage het in ongeveer 1955 'n plan vir die afbakening van groepsgebiede aan die betrokke owerheid, die Adviserende Raad vir Grondbesit, voorgelê. Hierdie skema was onaanvaarbaar vir die Adviserende Raad. Die Raad se voorgestelde amendemente is deur die stadsraad verwerp, omdat dit tot ontberinge kon lei vir minderheidsgroepe soos die bruin mense en Indiërs. Die probleem het daarin gelê dat die Adviserende Raad as beginsel aanvaar het dat "no group area may be broken up into two or more zones." Volgens die stadsraad kon die toepassing van die voorskrif dat "each group area must form a continuous and unbroken bloc" tot aansienlike ontberinge lei.12

Die stadsraad het in die vyftigerjare 'n beleid van "voluntary segregation" voorgestaan ten opsigte van bruin mense. Nuwe woonbuurte vir bruin mense, soos byvoorbeeld Gerald Smith, is in die 1950's in die westelike deel van die dorp aangelê. Bruin mense is aangemoedig om vrywillig daarheen te verhuis. Hierdie benadering het vrugte afgewerp, want toe groepsgebiede amptelik in Oktober 1967 in Uitenhage geproklameer is, was "the vast majority of the Coloured group already concentrated in the area which has now been proclaimed for Coloured occupation."13 Die probleem was egter dat wit mense, bruin mense, Indiërs en Chinese deurmekaar in die ou dorpskern van Uitenhage gewoon het. Honderde bruin mense en Indiërs het vir geslagte lank eiendom in die ou dorpskern van Uitenhage besit.14

Uitenhage se stadsraad het in Julie 1961 geweier om met die Groepsgebiederaad saam te werk ten opsigte van die toepassing van die Groepsgebiedewet op Uitenhage. Die meerderheidsgevoel van die raad was dat "die nie-blankes van Uitenhage baie trots is op die stadsraad se houding". Die raadslede het gevoel dat hulle in die bresse moet tree vir bruin mense en Indiërs, want "they have elected White men whom they trusted not to harm their property, trading and civic rights."15 Die Oosterlig, mondstuk van die Nasionale Party, het die raad skerp gekritiseer omdat hy die amptelike beleid van die land dwarsboom. Die stadsraad is gemaan om nie teen die prikkels te skop nie.16

Die stadsraad het uiteindelik besluit dat samewerking beter as konflik is. In Februarie 1962 het die raad laat blyk dat hy bereid was om binne drie maande planne vir die afbakening van groepsgebiede op Uitenhage aan die departement van Gemeenskapbou en Ontwikkeling voor te lê. Die vrees is uitgespreek dat indien die stadsraad nie bereid sou wees om saam te werk nie, "the Group Areas Board would 'simply draw lines through Uitenhage with a blue pencil' and that the Council would then be forced to accept such group areas." Die raad het dus die feit aanvaar dat die Groepsgebiedewet 'n wet van die land is wat hulle moes uitvoer; tog het die raadslede hulleself nog steeds gesien as "the guardians of the minorities".17

Daar is besluit om blanke en nie-blanke inwoners van Uitenhage te raadpleeg voordat die stadsraad sy groepsgebiede planne gefinaliseer het. 'n Vergadering in dié verband is aan die einde van Mei 1962 in die stadsaal gehou. Eerw. Allan Hendrickse het namens die Dale Street Congregational Kerk ernstig beswaar geopper teen die stadsraad se voorstelle. Hy het verklaar dat "anything which caused one's neighbour suffering was sinful and that the proposals were un-Christian." Hy het daarop gewys dat "the uprooting of homes under the Group Area proposals would cause undue hardship and suffering, particularly in as far as the Non-White people of Uitenhage are concerned..." Die vryheid van die individu om te woon in die plek van sy keuse, is benadruk.18

Die Groepsgebiederaad het Uitenhage daarna meermale besoek ten einde die voorstelle te finaliseer. Groepsgebiede in Uitenhage is uiteindelik geproklameer deur Proklamasies 269 en 270 in Die Staatskoerant van 20 Oktober 1967. Bruin mense, Indiërs en Chinese is gevolglik sedert die begin van 1968 uit die ou stadskern verwyder. In daardie stadium was die oorwig van die bruin mense in Gerald Smith en Jubilee Park gevestig. Nuwe bruin woonbuurte moes dus aangelê word om die verskuiwing van bruin gesinne sedert 1968 te akkommodeer. Thomas Gamble is gevolglik in die laat 1960's aangelê en Rosedale in die vroeë 1970's.19

 

Rose Lane

Die Rose Lane Congregational Kerk is die tweede oudste kerk in Uitenhage. Die Ned. Geref. Kerk (Moedergemeente), gestig in 1817, is die oudste. Rose Lane, wat oorspronklik 'n buitestasie van Bethelsdorp was, het in 1828 'n aparte gemeente geword. Die eiendom van die LSG in Rose Lane het bestaan uit Perseel 25, een van die oorspronklike erwe waarin Uitenhage verdeel was. Die onderste gedeelte, wat aan Bairdstraat grens, was 'n geskenk van die Kaapse goewerneur, sir Lowry Cole, in Desember 1832. Die gedeelte wat grens aan Johnstraat, is verkry van dr. James Rose-Innes, die stigter van Muir College. Rose Lane het na bewering sy naam van dr. Rose-Innes gekry.20

Die hoeksteen van die historiese Rose Lane kerkgebou is in Maart 1832 gelê. Die Rose Lane Kerk was oorspronklik bekend as Union Chapel. Hierdie kerkgebou en die Ned. Geref. kerkgebou was vir baie jare die enigste plekke van aanbidding in Uitenhage. Eerw. Thomas Paterson het vir 35 jaar (1847-1882) in Rose Lane gearbei. Tydens sy lang bediening moes die kerkgebou vergroot word vanweë die groeiende getal lidmate. Eredienste is in drie tale gehou, naamlik Nederlands, Engels en Xhosa.

Christene van verskillende denominasies het tot en met die 1850's die dienste in die Union Chapel in Rose Lane bygewoon. Soos die dorp uitgebrei het, het die Engelssprekende lidmate hulle eie kerke en gemeentes in ander dele van die dorp gestig. Die Caledon Street Congregational Kerk is byvoorbeeld in 1881 gestig. Die swart lidmate van Rose Lane het ook mettertyd hulle eie kerke elders gestig. Die Rose Lane Kerk is toe dus slegs deur bruin lidmate bygewoon.21

'n Nuwe era het vir Rose Lane aangebreek met die aankoms van eerw. Thomas Gamble in 1897. Hy het vir 34 jaar (1897-1931) in die gemeente gearbei en dadelik aan die werk gespring om die verwaarloosde ou kerk op te knap. Binne agt jaar na sy aankoms, is die ou kerk herstel en vergroot. 'n Nuwe vleuel is by die oorspronklike struktuur gevoeg, sodat die kerk nou 'n kruisvorm aangeneem het. Die binnekant van die kerk is heeltemal vernuwe en 'n nuwe preekstoel is aangebring. Die besondere houtsneewerk het opgeval. Die hernieude kerk is in 1905 onder blyke van groot belangstelling ingewy.22

Die geskiedenis van die Rose Lane Skool dateer terug na 1823 toe 'n skool vir bruin kinders in Uitenhage opgerig is. In 1844 is 'n voorbereidende skool gestig, wat die Rose Lane Skool geword het. Dié twee skole het toe saamgesmelt. Eerw. Gamble het as die superintendent van die skool veel gedoen om die skool op 'n stewiger grondslag te plaas. Teen 1906 is meer klaskamers al aangebou. Die skool het ook voorsiening gemaak vir die kinders van talle plaaslike Indiër, Moslem en Chinese families. Die Rose Lane Skool het dus in 'n groot opvoedkundige behoefte voorsien.23

Met die 150ste herdenking van Rose Lane Kerk se bestaan, is genoem dat die pastorie ook 150-jaar oud is. Die oorspronklike ingang na die pastorie was van Johnstraat. Die gebou met sy dik mure se vloere en daksparre was van geelhout. Die groot eikebome het die nodige skaduwee gegee. 'n Paar kamers is later aangebou. In die vroeër jare was die pastorie 'n gerieflike oornagplek vir reisigers en sendelinge. Van die bekende persone wat daar oornag het, was Robert Moffat van Kuruman en die sendeling-ontdekkingsreisiger, David Livingstone. Baie mense wat die pastorie besoek het, "felt its peaceful atmosphere, for it was a place where God was honoured".24

Uit die bogenoemde is dit dus duidelik dat die Rose Lane Congregational Kerk met sy drie geboue (kerk, skool en pastorie) histories van groot belang is in die wordingsgeskiedenis van Uitenhage. Rose Lane het 'n besonder groot opheffingsrol gespeel (geestelik en opvoedkundig) in die lewe van die bruin mense van Uitenhage. Tog sou die Groepsgebiedewet wreed ingryp in die lotgevalle van hierdie ou gevestigde gemeente.

Die area begrens deur Lower Marketstraat, Lower Johnstraat, Cradockstraat en McAlisterlaan het in die 1920's algemeen bekend gestaan as Naabosch. Dié buurt was digby die Rose Lane Kerk. Volgens eerw. Charles Milborough, wat van 1950 tot 1976 die sekretaris van die Rose Lane Congregational Kerk was, is hierdie deel van Uitenhage bewoon deur "a close-knit, deeply religious, freedom-loving and predominantly coloured community, with a sprinkling of white residents, who all owned their properties. These residents, who followed well established and well paid trades, professions and occupations, were independent and fairly well off financially." Die beroepe en ambagte wat die inwoners gevolg het, was onder meer messelaars, timmermans, verwers, skoenmakers, onderwysers, kelners en kokke.25

Die meerderheid van die families het aan die Rose Lane Kerk behoort. Die bruin inwoners van Naabosch is in 1968 verskuif omdat dié buurt tot 'n blanke gebied geproklameer is. Volgens eerw. Milborough was hulle uitsetting uit hulle huise

... the severest blow that the coloured community had suffered. In 1968 the cruel, selfish and ungodly Group Areas Act not only robbed the people of Naabosch of their properties, but shattered and scattered the old folk from one another. Very few of them survived the humiliation of being forcibly evicted from their houses they had built and treasured. Many died of broken hearts. Up to this day coloured people are bitter because of the way they were treated. The youth, who fought in the 1939-1945 war for their country, could have been the proud owners of property in Cradock Street.26

Eerw. Milborough het die feit beklemtoon dat "the only people who gained from this inhuman act were the whites, for they could now live in the well constructed, well kept homes which the coloured people had to vacate. The estate agents (vultures) gained financially for they sold the properties for close to 200 per cent to 800 per cent more than what they had paid the original owners." Eerw. Milborough, wat in Cradockstraat gewoon het, was die laaste wat die gebied verlaat het. Hy wou nie uit sy huis trek nie en het tot die bittereinde gebly. Hy was R3 000 vir sy huis en erf betaal; daarna het die agente dit vir omtrent R24 000 verkoop. Hy moes toe R4 000 betaal vir sy nuwe munisipale huis in Thomas Gamble. Al die bruin mense is tussen 1968 en 1970 verskuif na die nuwe bruin woonbuurt, Thomas Gamble. Die hart van Rose Lane Kerk is daardeur uitgeruk.27

In 1975 is al die eiendomme van die Rose Lane Kerk verkoop omdat dit in "a declared area" geleë was. Die Departement van Onderwys het dit aangekoop vir die Winterberg Primêre Skool (oorkant Rose Lane) om te gebruik vir sportgronde. Rose Lane se historiese kerkgebou, een van die oudstes in die Oos-Kaap, se deure is op 20 Junie 1976 na die oggenddiens vir die laaste keer gesluit. Dit was in velerlei opsigte die einde van 'n era. Al die bestaande geboue (kerk, skool en pastorie) is daarna gesloop. Selfs die bome is ontwortel.28 Die gedenkboek oor Uitenhage se 200 jaar het hom sterk uitgespreek teen hierdie sloping:

The fact that these historic buildings were demolished was an injustice: it was a crime against the Congregational Church, it was a crime against the coloured community of Uitenhage and it was a crime against the historical heritage of Uitenhage. All these buildings should have been preserved and declared national monuments.29

In sy boodskap aan die Rose Lane Kerk (1978), het eerw. H.J. (Allan) Hendrickse van die Dale Street Congregational Kerk ook verwys na die vernietigende uitwerking van die Groepsgebiedewet:

... there is so much sadness that has resulted from the iniquitous and ungodly legislation of the present regime. What should have been a monument to the past when Black and White worshipped together now lies in ruins and all the historicity lies crumbled. A closely-knit community has been destroyed and uprooted. People's homes have been sacrificed on the ideological altar of Apartheid and they have had to build new houses in new areas.30

Die Rose Lane Kerk moes toe noodgedwonge in die middel 1970's na Thomas Gamble, een van die nuwe bruin woongebiede, verhuis. 'n Nuwe kerkgebou is in 1982 daar opgerig. As 'n herinnering aan die ou kerkgebou is die besonderse ou preekstoel in die nuwe kerk ingebou. Vir die gemeente was dit die begin van 'n nuwe era in 'n nuwe woongebied, kilometers verwyderd van die ou hartland van die gemeente.

Prof. Erika Theron verwys in dié verband na dr. R. van der Ross wat eenkeer gesê het: "In baie gevalle was hulle vorige lewe 'n gemeenskapslewe; in die meeste gevalle is hulle nuwe lewe dit nie meer nie... al hierdie dinge het skielik verdwyn. 'n Nuwe adres, 'n nuwe huis, nuwe bure. Maar geen saamwees, geen huislikheid, geen buurmanskap nie". In die lig hiervan het prof. Theron dan ook opgemerk: "Van al die apartheidswetgewing het die Wet op Groepsgebiede die meeste bitterheid en verdeeldheid veroorsaak... Om gedwing te word om na ander gebiede te trek, was nie net 'n gevoelige geldelike slag vir baie mense nie, maar talle van hulle is ook ontwortel uit die gemeenskappe waar hulle reeds geslagte lank gewoon het".31

 

Dale Street

Eerw. James van der Kemp van Rooyen, die eerste bruin predikant van Rose Lane, se bediening (1883-1896) is deur sosiale verdeeldheid en onenigheid gekenmerk. Daar was naamlik 'n klassestryd tussen die bevoorregte mense en die minder bevoorregtes. Die minder bevoorregtes het in 1896 'n eie gemeente gevorm, naamlik die Dale Street Congregational Kerk. Volgens eerw. Allan Hendrickse is daar aanvanklik na die Dale Street gemeente as die "Hotnotkerk" verwys.32 Eerw. Van Rooyen, 'n afstammeling van dr. Van der Kemp, het in Desember 1898 as 'n gebroke man gesterf.33

Na die dood van hulle eerste predikant, eerw. Van Rooyen, het lekepredikers die eredienste van Dale Street waargeneem. Die dienste is toe in 'n sinkkerk gehou. Een van dié predikers was C.W. Hendrickse, wat in daardie stadium 'n Sondagskoolonderwyser en diaken in die gemeente was. Hy het hom geroepe gevoel om die gemeente as predikant te dien.

Charles William Hendrickse (1896-1972) is in 1918 aangestel as die hoof van die primêre skool afdeling van die Hankey Instituut (Kollege). Hierdie opleidingskollege is in 1921 na Uitenhage verskuif. Sedertdien staan dit bekend as die Dower Kollege.34 Die Dower Practising School onder die hoofskap van Hendrickse is in April 1921 in Uitenhage gestig. Hy het in Desember 1959 as skoolhoof afgetree.35

Na die voltooiing van sy teologiese studies is Hendrickse op 6 Mei 1929 as predikant van die Dale Street Kerk georden. Hy het sy roeping met die onderwys gekombineer en het die gemeente sonder enige vergoeding gedien - tot sy dood in Januarie 1972.36

Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou in Dalestraat is op 19 Januarie 1929 gelê. Eerw. C.W. Hendrickse het die hoeksteen van die kerkkloktoring op 25 Desember 1929 gelê.37 Die ou sinkkerk in Dalestraat is toe omskep in 'n skool. Eerw. C.W. se eerste pastorie, Scanlanstraat 17, was 'n houthuis wat hy op Despatch by 'n kolonel in die weermag gekoop het. Hy het dit toe na Uitenhage aangery en daar opgeslaan (Scanlanstraat loop parallel met Dalestraat). In 1934 het eerw. Hendrickse 'n stewige steenhuis laat bou te Scanlanstraat 15, wat as pastorie gedien het.38

Eerw. C.W. Hendrickse was 'n gesiene man in die Uitenhaagse gemeenskap. Hy het 'n reuserol in die plaaslike bruin gemeenskap gespeel; hy was immers skoolhoof vir 38 jaar (1921-1959) en predikant vir 42 jaar (1929-1972). Sy naam word met eer vermeld in die annale van die Congregational Kerk:

He came to a struggling, disheartened congregation of less than 400 members in 1929; in 1969 the membership of the church was almost 3,000. Known and respected throughout Uitenhage, 'C.W.' (for so he is known by his friends) has exercised a profound influence on the social, cultural, educational and spiritual aspects of the life of the Coloured people.39

As 'n pleitbesorger vir rasse-samewerking, het eerw. C.W. Hendrickse steeds groter kontak tussen die verskillende rasse aangemoedig. In 1945 het hy die eerste bruin voorsitter van die Congregational Union of South Africa (CUSA) geword. Hy het dit aanvaar as 'n bevestiging van die "oneness of all men in Christ." In sy voorsittersrede van 1946 het hy onder meer verklaar: "The old order of things must pass away. Love must take the place of hate, brotherhood the place of racialism. Let us work, strive and pray for a new era when mankind will arise above creed and colour." In 1967 is hy ook verkies as die voorsitter van die Oos-Kaap Streek van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA).40

Helenard Joe (Allan) Hendrickse is op 22 Oktober 1927 as die vyfde van die sewe kinders van eerw. en mev. C.W. Hendrickse in Uitenhage gebore. Op 1 Januarie 1928 word hy as die 869ste baba in die oorspronklike sinkkerk van die Dale Street gemeente gedoop.41

Klein Allan se kinderjare was sorgeloos en gelukkig. Dit sou 'n belangrike invloed op sy beskouing van die ordening van die Suid-Afrikaanse gemeenskap hê. Hulle bure in Scanlanstraat was in hierdie jare voor die Groepsgebiedewet, 'n weerspieëling van die Suid-Afrikaanse reënboognasie. Daar was blanke Afrikaners, Engelssprekendes, Jode, Indiërs en Chinese. Die kinders van die buurt, wat bruin en swart ingesluit het, het saamgespeel en oor en weer bymekaar gekuier. Almal het mekaar aanvaar.42

Allan Hendrickse het sy B.A.-graad en Diploma in Teologie in 1950 verwerf aan die Universiteit van Fort Hare, of die South African Native College, soos dit destyds bekend gestaan het. Hy is op 6 Mei 1951 in die Dale Street Congregational Kerk as predikant georden deur sy vader, eerw. C.W., en so het hy sy vader se medeleraar geword.43 Sy ordening as predikant was vir eerw. Allan Hendrickse 'n hoogtepunt:

6 May 1951 will always be indelibly inscribed in my memory as a day above all days... Above all else stands out the memory of my father on this auspicious and rare occasion where a father ordains his son to the Christian ministry, for my dad was then the Moderator (of the Midland District Association of CUSA) and thus the presiding minister... I think my life and ministry was unique in that I was baptised by my grandfather, Rev. A.J. Hendrickse of Cradock, confirmed a member of the church by my dad, ordained by my dad and then married by him. He also baptised our first child, Peter."44

Eerw. Allan het eers as medeleraar en later as leraar van die Dale Street Kerk gedien - soos sy vader, sonder enige vergoeding. Hy het hierdie gemeente vir 35 jaar, "as Paul in a tent-making ministry", tot April 1986 gedien. Soos sy vader, het hy die rolle van onderwyser en predikant gekombineer. Hy was tot 1969, toe hy voltyds tot die politiek toegetree het, 'n hoërskool-onderwyser. Sedert 1969 het hy die rolle van politikus en predikant gekombineer.45

'n Groot eer het eerw. Allan Hendrickse in 1971 te beurt geval toe hy ingehuldig is as voorsitter van die UCCSA, wat Botswana, Rhodesië, Swaziland, Mosambiek en Suid-Afrika ingesluit het. Die tema van sy voorsittersrede was "Reconciliation through liberation". In sy rede het hy onder meer verklaar:

Our ministry as Black people is one of liberation, to make freedom possible for them (white people) as well... Whites are shackled by a self imposed bondage of fear; fear of domination by a black majority, fear of inter-racial mixing, fear of the loss of privilege... It is, I believe, our duty as Black people to be agents of reconciliation. We have every reason to hate, but we have been able to love and forgive, and out of our suffering, we have come to experience a real sense of hope. We have it and so we must give to those and to society, a society which is sick with fear.46

Die Groepsgebiedewet, en veral die verklaring van Dalestraat en Scanlanstraat tot 'n blanke gebied, het verwoestende gevolge vir Dale Street se gemeente gehad. Vier geboue van die kerk is daardeur geraak en uiteindelik gesloop.

Allan Hendrickse en Terry Heber is in 1957 getroud. Ná die geboorte van hulle eerste seun, Peter, in 1958, het die jong gesin in die Hendrickse familie se hout-en-sinkhuis te Scanlanstraat 17 ingetrek. In daardie stadium was die omgewing reeds blank verklaar. Eerw. Hendrickse het tydens 'n parlementêre debat in September 1988 vertel wat toe gebeur het:

Ek is in die huis waar ek gebore is deur die polisie besoek omdat ek in stryd met die Wet op Groepsgebiede daar gewoon het. Dit was die huis waarin ek gebore is! Weet agbare lede wat ek bedoel? Het hulle dit ervaar? Deel hulle in my ondervinding?

Mnr. Frans Conradie, 'n vorige agbare lid van die Volksraad, het vertoë tot die Groepsgebiederaad gerig. Hy het 'n brief ontvang waarin daar gesê is dat indien die onmiddellike bure bereid was om die Hendrickses daar te hê, die uitreiking van 'n permit oorweeg sou word. Al die bure in daardie omgewing waar ek grootgeword het - Afrikaners, Jode, Engelssprekendes, Indiërs en Chinese - het 'n dokument onderteken waarin hulle verklaar het dat hulle tevrede was om ons daar te hê en dat ons daar grootgeword het. Toe word die permit geweier! Frans Conradie het toe weer vertoë tot die raad gerig, en ek het 'n permit ontvang om 'n jaar lank daar te woon.47

Hierdie gebeure het uiteraard 'n bitter smaak in eerw. Allan Hendrickse se mond gelaat. In dieselfde debat het Hendrickse gesê daar word van hom verwag om hom los te maak van wat hy en sy gesin deurgemaak het, maar hy onthou ook 'n ander voorval. Een van sy ouer broers, Paul, het in Brittanje as kinderarts en daarna ook in die verloskunde gespesialiseer. Hy het dan ook lid geword van die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists (MRCOG). Hy het in Brittanje met 'n wit Engelse verpleegster getrou en as gevolg daarvan kon hy hom nie in Suid-Afrika vestig nie. Hy het uiteindelik in Nigerië beland en as professor hoë aansien aan die Universiteit van Ibadan verwerf. Eerw. Allan vertel verder: "Toe my vader siek was, het hy om 'n visum aansoek gedoen, wat voorwaardelik toegestaan is. Die voorwaarde was dat sy vrou, in die lig van die Wet op Groepsgebiede, as Kleurling beskou sou word terwyl sy in die land was. Wat 'n vreemde land!"48 Dit wat met sy broer Paul gebeur het, het eerw. Allan diep geraak en hy het dan ook meermale in parlementêre debatte daarna verwys.49

Die Groepsgebiedewet het wreed ingegryp in die lewe van eerw. C.W. Hendrickse. In die aand van sy lewe is hy aangesê om sy stewige steenhuis en pastorie, wat hy in 1934 laat bou het, te verlaat. Hy het in hierdie huis te Scanlanstraat 15 gebly tot sy dood. Nadat die omgewing tot 'n blanke gebied geproklameer is, is 'n uitsettingsbevel op die ou en sieklike eerwaarde bestel. 'n Finale uitsettingsbevel is 'n paar maande voor sy dood op hom bestel. Die eerbiedwaardige eerw. C.W. Hendrickse het toe sy lus om te lewe heeltemal verloor en in Januarie 1972 as 'n gebroke man gesterf.50

Eerw. Allan Hendrickse was uiteraard bitter hieroor. In 'n parlementêre debat het hy hom as volg hieroor uitgelaat:

Ek kan aan agbare lede foto's wys van die huis wat eens op 'n tyd my vader se tuiste was. Dit was baie mooi, en geleë in 'n gebied, Uitenhage, waar daar kleigrond is, en feitlik elke huis barste het. Ek sal graag wil hê sommige agbare lede moet daarna kyk - as deel van hul opvoeding; ek wil hulle wys dat dit baksteen vir baksteen afgebreek is. Dit herinner my dat daar van ons verwag is om, soos die Israeliete van ouds, 'n nuwe liedjie te sing en nie te huil of verdriet en swaarkry te voel nie.51

Dit was na aanleiding van hierdie debat oor die Groepsgebiedewet dat min. Pik Botha in 'n brief aan eerw. Hendrickse verklaar het: "Jammer, ons het nie geweet nie."52

Die oorspronklike sinkkerk in Dalestraat wat omskep is in 'n skool, die Dale Street Primary School, is ook geraak deur die toepassing van die Groepsgebiedewet. 'n Kontemporêre koerantberig het onder meer verklaar: "The Group Areas Act has struck again - this time tearing up the work of a lifetime of a well-known, highly respected coloured minister in Uitenhage (Rev. C.W. Hendrickse)". Voor sy dood is die beginselbesluit aan hom meegedeel dat die skool moes sluit. In daardie stadium was daar nog 250 leerlinge in die skool, "and the terribly sad thing about closing the school is that there is no accommodation for the pupils in any of the existing schools in Uitenhage," aldus eerw. C.W..53

Die Dale Street Primary School het op sy toppunt ongeveer 300 leerlinge gehuisves. Nadat die gebied tot blanke gebied verklaar is, is die bruin mense na nuwe bruin woonbuurte verskuif, gevolglik het die skool se getalle dramaties gedaal. Aan die begin van 1978 was daar nog 165 leerlinge. Toe die skool gesluit het in Desember 1978 was daar nog slegs 65 leerlinge.54

Nadat mnr. Dawie le Roux, 'n plaaslike prokureur, bemiddel het, het die Dale Street Kerk in Desember 1977 'n aanbod van die Departement van Gemeenskapsbou (Gemeenskaps-ontwikkelingsraad) vir die kerkeiendomme aanvaar. Die bedrag wat die kerk aangebied is vir die eiendomme (ses erwe) was R73 000.55 Die skool is toe in Mei 1979 gesloop. In daardie stadium was die twee pastorieë reeds gesloop.56

Onder die Groepsgebiedewet is die lidmate van die Kerk uit die Dalestraat-omgewing na nuwe bruin woonbuurte aan die buitewyke van die dorp verskuif. Die historiese dorpskern moes dus ten alle koste blank bly. Eredienste is egter steeds oor die jare in die ou kerkgebou gehou. Kerkgangers is toe Sondae met gehuurde busse vervoer. Mettertyd het die kerkgebou egter onder die hande van vandale deurgeloop. Die kerkraad het gevolglik in 1979 besluit om die kerkgebou te ontruim. Vir eerw. Allan Hendrickse was dit traumaties omdat hy in dié kerkgebou wat in 1929 opgerig is, aangeneem, getroud en as predikant georden is. Al sy kinders is ook daar gedoop. Hyself is in die oorspronklike sinkkerk gedoop.57

Die Dale Street kerkgebou se deure is op 16 Maart 1980 vir die laaste keer gesluit. Die "deconsecration service" is deur eerw. Allan Hendrickse waargeneem. Dit was een van die bedroewendste dae van sy lewe. Dit was soos 'n groot begrafnis: "If ever there was a sadness and a flow of tears, it was after the deconsecration prayer, when people were carrying out the offering plates, the communion glasses, the cup, the organ. The pews were carried out. Then the two oldest members of the church together locked the door..." Terwyl die gemeentelede na buite beweeg het, het hulle gesing: "Senzeni na? What have we done? Wat het ons gedoen? My only sin is the colour of my skin."58

Die historiese kerkgebou is daarna gesloop. Vandag is die terrein steeds kaal en verlate. Die twee groot palmbome wat sy vader nog geplant het, staan daar as 'n stille getuienis van die onreg en vergryp van die verlede. Ook op die terrein is die beton voetstuk waarop die kloktoring geanker was. Eerw. Allan se vader het die hoeksteen van die kerkkloktoring op Kersdag 1929 gelê: "Wat daarna op hierdie terrein gebeur het in die naam van die Groepsgebiedewet was strydig met die gees van Kersfees en sondig."59 Eerw. Allan Hendrickse was nooit haatdraend oor dit wat gebeur het nie:

He looks up at the two palm trees planted by his father - all that remains of the front garden. In measured, rhythmic tones, part pulpit, part platform, he puts his case with irony. "John Vorster once said, if you take a man's purse, you take nothing; if you take a man's clothes, you take nothing. But if you take his house, you take his life".

Hendrickse was bereid om te vergewe, maar nie om te vergeet nie: "Even in my recollection, I am not forgetting what happened. But out of conviction, and from a religious point of view, there is a willingness to forgive... And yet being angry! Angry at their unwillingness to recognise someone else's perception... they have destroyed life, property, communities." Sy probleem met pres. P.W. Botha was "that the President is 'completely incapable' of making an emotional connection between how he himself would react to discrimination and injustice, and the actual reaction of those who have suffered under apartheid."60 Volgens Hendrickse was daar by die regering 'n gebrek aan begrip vir die emosies wat die bruin mense ervaar het rondom die verwerping van hulle menswaardigheid: "... the American saying still holds true, namely that we must walk a mile in the other man's moccasins."61

Allan Hendrickse het met nadruk verklaar dat die Groepsgebiedewet 'n wet van geweld is en 'n wet van onteiening: "Terwyl daardie wet ons van ons grond ontneem het, kan ons nie die deel van Die Stem van Suid-Afrika saamsing waar gebid word 'Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly' nie. Ons erfenis is ons dan ontneem. Ons geskiedenis is een van onteiening."62 Mev. Terry Hendrickse vra vandag nog waarom hulle huis en kerk afgebreek moes word. Sy glo dat dit onnodig en "spiteful" was. Sy kan egter nie met haat lewe nie. Sy kan vergewe, maar kan dit nooit vergeet nie. Tot vandag toe sing sy nie die paar reëls van Die Stem in die Nasionale Volkslied nie.63

Die indrukwekkende nuwe kerkgebou van Dale Street in Rosedale, Uitenhage, is op 4 April 1981 feestelik ingewy. Die naam van die nuwe bruin woonbuurt, Rosedale, is afgelei van Rose Lane en Dale Street. Mev. Terry Hendrickse het die hoeksteen onthul. Die kerkgebou is teen 'n koste van R350 000 opgerig. 'n Gedenkmuur is gebou uit die bakstene van die ou kerk en die twee hoekstene van die oorspronklike Dale Street kerkgebou (1929) is ook aangebring in die gedenkmuur. 'n Gedenksteen is onthul met die bewoording: "In memory of Rev. C.W. & Mrs. M.L. Hendrickse and the founders of Dale Street Congregational Church and all victims of the Group Areas Act." Die voorste gedeelte van die preekstoel is afkomstig uit die ou Dale Street kerkgebou wat gesloop is.64 In die toewydingsgebed is God geloof dat dié kerk gebou kon word:

Aware of the inexpressible grief and hardship experienced by His people as a result of the uprooting and displacement and removal under the Group Areas Act and other iniquitous legislation, we are gathered today not in a spirit of hatred and bitterness but in faith for we believe that calls us to reconciliation and to rededication so that His Kingdom may come.65

 

Die Driekamerparlement

Allan Hendrickse sou die Driekamerparlement as 'n forum om heftige kritiek teen die regering uit te spreek wat die toepassing van die Groepsgebiedewet betref, tot groot effek aanwend. Dit wat met sy vader en hulle kerkeiendomme gebeur het, is iets wat hy nooit kon vergeet nie en wat in parlementêre debatte opgehaal is. Hendrickse kon die regering kasty en hulle gewete aanspreek omdat hy uit eerstehandse ervaring kon praat. Hy het dus nie op grond van hoorsê getuienis die regering gekasty nie.66

Hy was veral baie effektief ten opsigte van die debatte van die Gesamentlike Vergadering. As voorbeeld kan verwys word na sy toespraak oor die Groepsgebiedewet op 28 September 1988. Hierdie toespraak het die gewete van die regering soos min ander aangespreek:

I want to repeat that the Group Areas Act is fundamental to the National Party policy and it can only be described as an act of violence. It is an act of violence because it is an act of dispossession... Our interpretation can only be based on what we have experienced, and that is why it is impossible to exclude emotions.

Hy het 'n sterk pleidooi gelewer dat die Groepsgebiedewet afgeskaf moes word, want ingevolge dié wet "people are categorised and classified and by virtue of classification are denied the right to live where they want to live. They are denied the right to associate with whom they want to and are denied the right to be the person God created them to be."67

Die Financial Mail het eerw. Allan Hendrickse dan ook in 1988 aangewys as hulle "Man of the Year", vanweë "his dramatic use of 'the system' to go for the jugular of apartheid - the fraying Group Areas Act". Dié blad het Hendrickse se toespraak van 28 September 1988 bestempel as 'n "tour de force - exposing the crassness of apartheid laws and the hurt caused by them." Hierdie toespraak in die Gesamentlike Vergadering "earned itself a place among the parliament's most memorable speeches".68 Die veteraan joernalis, Norman West, het hieroor geskryf: "Never before in the history of South Africa has a coloured man had the protection of Parliamentary privilege in directly confronting the white law-makers about their own laws. Every one of those 55 minutes was epoch-making."69

Pres. F.W. de Klerk het in sy outobiografie ook toegegee dat die bruin mense se deelname aan die Driekamerparlement en die politieke wisselwerking wat daar was, onderlinge begrip bevorder het. Hierdie gereelde kontak en debat "het die houdings van al die betrokkenes verruim. Dit was vir ons almal 'n leerproses." De Klerk se denkwyse en gevoelens is hierdeur beïnvloed en hy het 'n groter waardering vir die bruin gemeenskap ontwikkel. Die feit dat De Klerk met ander oë na die bruin mense gekyk het, het in 'n sekere sin die pad help voorberei vir die verreikende veranderinge wat hy later sou aanvoor. Die roerende toesprake van Hendrickse en ander bruin leiers oor die ongeregtigheid van apartheid, het De Klerk daarvan oortuig "dat alle vorms van rassediskriminasie eers verwyder moes word voordat 'n oplossing gevind kon word."70

 

Slotbeskouing

Die destydse Nasionale Party-regering het 'n obsessiewe drang gehad om skeidingsmaatreëls op alle vlakke en ten alle koste deur te voer. Die Groepsgebiedewet het tot groot bitterheid en opgekropte woede aanleiding gegee. Dit het tot vervreemding tussen bruin mense en Afrikaners gelei. Die bruin mense het tot 'n groot mate die spit afgebyt wat die uitwerking van die Groepsgebiedewet betref.

Die Congregational Kerk in Uitenhage het sedert die vroeg-negentiende eeu 'n reuserol op geestelike en opvoedkundige gebied in die plaaslike bruin gemeenskap gespeel. Uitenhage, die tweede oudste dorp in die Oos-Kaap, het in 2004 sy tweehonderdste bestaansjaar gevier. Die geskiedenis van die Congregational Kerk en die dorp vorm 'n onlosmaaklike eenheid.

Rose Lane, die oudste gemeente, is in 1828 gestig. Alle rasse het aanvanklik die eredienste in die Rose Lane-kerkgebou bygewoon. Die dienste is in Nederlands, Engels en Xhosa gehou. Eerw. Thomas Gamble het die gemeente vir 34 jaar gedien (1897-1931). Sy seun, pastoor Henry Gamble, was van 1931 tot sy dood in 1973 in die gemeente werksaam. Vader en seun het op gemeentelike vlak en wat die onderwys betref, 'n groot rol in die Uitenhaagse gemeenskap gespeel.

Dale Street, 'n dogtergemeente van Rose Lane, is in 1896 gestig. Die parallelle tussen hierdie twee gemeentes val op. In Dale Street het 'n vader/seun kombinasie, eerw. Charles William Hendrickse en sy seun, eerw. Allan, die gemeente met groot vrug van 1929 tot 1986 bearbei. Vader en seun het insgelyks 'n diepgaande opvoedkundige, kulturele en geestelike invloed uitgeoefen.

Beide hierdie gevestigde en tradisieryke gemeentes is grootliks deur die uitwerking van die Groepsgebiedewet vernietig. Bruin lidmate wat dekades lank in die sentrale dorpskern gewoon het, is onder dwang na die buitewyke van die dorp verskuif. Historiese kerkgeboue wat tot nasionale monumente verklaar kon word, is gesloop. Die historiese erfenis van Uitenhage is daardeur grondig aangetas. Dit wat gebeur het in die naam van die Groepsgebiedewet, is 'n donker hoofstuk in die tweehonderdjaar-oue geskiedenis van Uitenhage. Uit hierdie geskiedenis is dit dus duidelik dat geen ander statutêre maatreël soveel bitterheid en vyandiggesindheid by die bruin mense verwek het, as juis die Groepsgebiedewet nie. Die bittere naweë daarvan is vir dekades lank gevoel.

 

 

Prof. Otto Terblanche is mede-professor in Geskiedenis aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. Sy jongste publikasie is die gedenkboek, Uitenhage 200, 1804-2004, wat in 2004 verskyn het.

 

 

1. D.W. Krüger (red.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek II (Tafelberg Uitgewers, Kaapstad en Johannesburg, 1972), pp 795-796;         [ Links ] http://www.uccsa.co.za; I.H. Enklaar, De Levensgeschiedenis van Johannes Theodorus van der Kemp (H. Veenman en Zonen, Wageningen, 1972), pp 129-143.         [ Links ] Kyk ook: D.R. Briggs and J. Wing, The Harvest and the Hope: The Story of Congregationalism in Southern Africa (UCCSA, Johannesburg, 1970).         [ Links ]
2. A.J.F. Meijers, "Die geskiedenis van Bethelsdorp tot 1830." M.A.-verhandeling, UPE, 1972;         [ Links ] J. Bennie, "Bethelsdorp Mission Station, 1803-2003", Looking Back, 42, November 2003;         [ Links ] L. Williams, "Bethelsdorp se erfenis bewaar", Die Burger Oos-Kaap, 26 Augustus 2005.         [ Links ]
3. V.G. Hiemstra, Uiteensetting van die Wet op Groepsgebiede 1950 (Ventus Uitgewers, Pretoria, 1951), p 3;         [ Links ] Anoniem, Groepsgebiede en die Indiwidu (Die Staatsdrukker, Pretoria, 1960).         [ Links ]
4. Anoniem, Opsomming van die Wet op Groepsgebiede, 1950 (Wet No. 41 van 1950) (Die taatsdrukker, Pretoria, 1950), p 3.         [ Links ]
5. E. Theron, Sonder hoed of handskoen (Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1983), pp 73, 106.         [ Links ]
6. E. Theron en J.B. du Toit, Kortbegrip van die Theron-verslag (Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1977), p 43.         [ Links ]
7. Verslag van die Kommissie van Ondersoek na Aangeleenthede rakende die Kleurlingbevolkingsgroep, RP 38/1976 (Die Staatsdrukker, Pretoria, 1976), p 212; Oosterlig, 18 Junie 1976.
8. Theron, Sonder hoed of handskoen, pp 74, 104; Theron & Du Toit, Kortbegrip van die Theron-verslag, pp 42-43.
9. A.J. Christopher, The Atlas of Apartheid (Routledge, London, 1994), p 116.         [ Links ]
10. A.J. Christopher, "Segregation in Port Elizabeth", Fokus, 1990, pp 78-79;         [ Links ] Christopher, The Atlas of Apartheid, pp 103-121. Kyk ook: A.J. Christopher, "Apartheid Planning in South Africa: The Case of Port Elizabeth", The Geographical Journal, 153, 2, 1987;         [ Links ] J.G. Nel, Die Geografiese Impak van die Wet op Groepsgebiede en verwante wetgewing op Port Elizabeth (UPE, Port Elizabeth, 1988).         [ Links ]
11. R.H. du Pré (ed), South End: As we knew it (Private, Port Elizabeth, 1997);         [ Links ] A.C. George and S. Hendricks, South End: The Aftermath - Where are they now (Private, Port Elizabeth, 2003);         [ Links ] R.H. du Pré, "The Battle for South End: Group Areas Removals in Port Elizabeth in the 1960s", Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, Junie 1999;         [ Links ] H.O. Terblanche, "Suideinde: Die moskee en die snelweg", Looking Back, November 2009.         [ Links ]
12. Port Elizabeth Argiefbewaarplek (PEA), Reeks 80124, Group Areas Act of 1950, Band 274, Lêer 207 (3), Verslag van Stadsklerk, 18 Februarie 1956.
13. PEA, Reeks 80124, Group Areas Act of 1950, Band 274, Lêer 207 (5), Memorandum van Stadsklerk, 6 Desember 1967.
14. "Group Areas Call on Uitenhage", Evening Post, 10 Februarie 1962.
15. "Council snubs Group Areas Board", Sunday Times, 23 Julie 1961; "Justice stand in Uitenhage", Evening Post, 7 Augustus 1961; "Stadsraad wil nie saamwerk oor Groepsgebiede", Die Oosterlig, 19 Julie 1961; "Stadsraad weier uit hardkoppigheid", Die Oosterlig, 28 Julie 1961.
16. "Koppige Stadsraad", Die Oosterlig, 21 Julie 1961.
17. "Group Areas fear in Uitenhage", Evening Post, 20 Februarie 1962; "Groepsgebiede: Nou gaan Uitenhage saamwerk", Die Oosterlig, 21 Februarie 1962; "Kommentaar ... deur Piet Politiek", Die Oosterlig, 23 Februarie 1962.
18. PEA, Reeks 80124, Group Areas Act of 1950, Band 274, Leer 207 (4), Verslag van sub-komitee insake die afbakening van Groepsgebiede, 28 Mei 1962.
19. PEA, Reeks 80124, Group Areas Act of 1950, Band 274, Leer 207 (5), Memorandum van die Stadsklerk, 6 Desember 1967; Kyk ook A.J. Christopher se oorsig in H.O. Terblanche (ed), Uitenhage 200:1804-2004 (Uitenhage Bicentenary Committee, Uitenhage, 2004), pp 121-123.
20. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, 150th Anniversary, 1828-1978 (Uitenhage, 1978), p 23.         [ Links ]
21. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, p 24.
22. Terblanche (ed), Uitenhage 200: 1804-2004, p 45.
23. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, p 30.
24. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, pp 36, 38.
25. W.N.K. Hickson, A brief history of Uitenhage (Publisher unknown, Uitenhage, 1993), p 22.         [ Links ]
26. Hickson, A brief history of Uitenhage, p 23.
27. Hickson, A brief history of Uitenhage, p 23; Persoonlike onderhoud met eerw. Charles Milborough, 10 September 2003.
28. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, p 38; Weekend Post, 19 June 1976.
29. Terblanche (ed), Uitenhage 200: 1804-2004, p 47.
30. Anonymous, Rose Lane Congregational Church, p 15; "150th Anniversary for historic church", UD News, 22 Junie 1978.
31. Theron, Sonder hoed of handskoen, p 106.
32. Persoonlike onderhoud met eerw. Allan Hendrickse, 5 September 2003.
33. Eerw. Van Rooyen se graf is in die Jubilee Parkbegraafplaas op Uitenhage. Eerw. Allan Hendrickse se ouers, en hyself, is ook hier ter ruste gele.
34. Kyk P.R.T. Nicolaai, "The contribution of the Hankey Institute and Dower Memorial College towards education in the Eastern Cape during the period 1899 to 1976." D.Phil. thesis, Rhodes University, 1992.
35. Anonymous, Dower Practising School, 1921-1971: Golden Jubilee Anniversary (Publisher unknown, Uitenhage, 1971), pp 3, 7.         [ Links ]
36. P. Coetzer, Allan Hendrickse: Verhoor-afwagtende (Librarius, Alberton, 1984), pp 15-19.         [ Links ]
37. Persoonlike onderhoud met eerw. Allan Hendrickse, 30 Mei 2003; H.O. Terblanche, '"n Kerk op sy knieè", Die Burger Oos-Kaap, 7 Augustus 2003.
38. Coetzer, Allan Hendrickse, pp 15, 22, 170.
39. Briggs and Wing, The Harvest and the Hope, p 235.
40. Briggs and Wing, The Harvest and the Hope, pp 235, 314.
41. A. Matabata (ed), Golden Anniversary of Ordination - Rev. H.J. (Allan) Hendrickse (Uitenhage Congregational Church, Uitenhage, 2001), p 2.         [ Links ]
42. Persoonlike onderhoud met eerw. Allan Hendrickse, 30 Mei 2003; Terblanche, Die Burger Oos-Kaap, 7 Augustus 2003.
43. L. Dolley (ed), Silver Jubilee of Ordination - Rev. H.J. Hendrickse (Dale Street Congregational Church, Uitenhage, 1976), pp 17-22.         [ Links ]
44. Matabata (ed), Golden Anniversary of Ordination, pp 44-45.
45. A. Fortuin (ed), 44th Anniversary of Ordination - Rev. H.J. (Allan) Hendrickse (Uitenhage Congregational Church, Uitenhage, 1995), pp 2-3.         [ Links ]
46. Dolley (ed), Silver Jubilee of Ordination, pp 6-7. Eerw. Hendrickse is ook in 1967 verkies as sekretaris van die Oos-Kaap Streek van die UCCSA.
47. Wet op Groepsgebiede: 'n Uittreksel uit die Parlementêre debat van 28 September 1988 (Raad van Verteenwoordigers, Kaapstad, 1988), pp 16-17; Coetzer, Allan Hendrickse, pp 22-23.
48. Wet op Groepsgebiede: Parlementêre debat, 28 September 1988, pp 17-18; Coetzer, Allan Hendrickse, pp 20-21.
49. Debatte van die Gesamentlike Vergadering, 7 Februarie 1991, kolom 404; Debatte van die Gesamentlike Vergadering, 3 Februarie 1993, kolom 284.
50. Coetzer, Allan Hendrickse, p 22.
51. Wet op Groepsgebiede: Parlementêre debat, 28 September 1988, p 17.
52. Persoonlike onderhoud met eerw. Allan Hendrickse, 16 Mei 2003.
53. Terblanche (ed), Uitenhage 200: 1804-2004, p 54.
54. Eastern Province Herald, 23 May 1979.
55. Persoonlike onderhoud met mnr. Dawie le Roux, 16 Julie 2004.
56. Eastern Province Herald, 23 May 1979.
57. Coetzer, Allan Hendrickse, p 134.
58. P. Bell, "Our only sin", Leadership, 3, 1988, p 51; Eastern Province Herald, 17 March 1980.
59. Terblanche, Die Burger Oos-Kaap, 7 Augustus 2003.
60. Bell, "Our only sin", pp 52, 54.
61. Group Areas Act: Parliamentary Debate, 28 September 1988, p 14.
62. Coetzer, Allan Hendrickse, p 23.
63. Persoonlike onderhoud met mev. Terry Hendrickse, 27 Mei 2005.
64. Dale Street Congregational Church: Dedication of New Building, 4 April 1981; UD News, 23 April 1981; Oosterlig, 3 April 1981.
65. Dale Street Congregational Church: Dedication of New Building, p 7.
66. Debates of the House of Representatives, 24 August 1987, column 2404-2405; Debatte van die Gesamentlike Vergadering, 4 Februarie 1991, kolom 78.
67. Group Areas Act: Parliamentary Debate, 28 September 1988, pp 3, 17.
68. "Tweaking PW's tail", Financial Mail, 23 December 1988, pp 14-15.
69. N. West, "The speech that shocked", Inside South Africa, December 1988/January 1989, p 15.
70. F.W. de Klerk, Die laaste trek - 'n nuwe begin (Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria, 1998), pp 114-115;         [ Links ] H.O. Terblanche, "Eerw. Allan Hendrickse en die Driekamerparlement: Persepsies en Werklikheid", Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, Junie 2006.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License