SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 n.2 Durban Nov. 2010

 

Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap se rol ten opsigte van politieke mobilisering in die aanloop tot 'n nuwe Suid-Afrika, 1980-1992

 

The role of the South African business community regarding political mobilisation in the run-up to a new South Africa, 1980-1992

 

 

Salomon Hoogenraad-Vermaak; Grietjie Verhoef

 

 


OPSOMMING

Die erodering van apartheid as politieke beleid, 'n verswakkende ekonomie, vrees vir 'n rewolusie en sterker kohesie in die sakeomgewing het die blanke Suid-Afrikaanse sakegemeenskap oor kultuur- en rasgrense heen saamgesnoer ter beskerming van hulle belange. Die Rubicon-toespraak van 1985 het as 'n sneller gedien vir sakelui se aanvaarding van 'n politieke rol, sodat hulle met die stigting van die CBM openlik en gesamentlik teen apartheid gemobiliseer het. Swart sakelui het hierdie mobilisering gesteun, omdat hulle 'n belang in 'n vryemarkekonomie en onderhandelde politieke skikking gehad het. Die blanke sakegemeenskap het die regering beïnvloed om politieke hervorming op die agenda te hou. Omdat politici sakelui nodig gehad het om die politiek te stabiliseer, is hulle invloed versterk. Die CBM het die ekonomiese debat na praktiese probleme gestuur om van ideologiese oplossings weg te skram. Besigheid is vir verandering voorberei en verandering is deur 'n brugbourol en katalisatorrol gefasiliteer. 'n Konsensusbenadering het gesprekvoering tussen ekonomiese rolspelers vergemaklik en die klem op sosio-ekonomiese opheffing geplaas. Met gemeenskapsbetrokkenheid en sosiale opheffing het Suid-Afrikaanse sakelui in die praktyk geïllustreer waarom 'n vryemarkstelsel eerder as sosialistiese tegnieke, die erge ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika kon aanspreek.

Sleutelwoorde: Afrikaanse Handelsinstituut (AHI); Consultative Business Movement (CBM); demokratisering van besigheid; ekonomiese groei; Federated ; gemeenskapsbetrokkenheid; gemeenskapsontwikkeling; "lydelike verset" van Afrikanersakelui; National African Federated Chamber of Commerce and Industry (Nafcoc); politieke mobilisering van sakelui; politieke rol van sakelui; politieke transformasie van Suid-Afrika; Rubicon-toespraak; sosiale opheffing; sosioekonomiese verantwoordelikheid; Stedelike Stigting; Suid-Afrikaanse sakegemeenskap; swart ekonomiese bemagtiging; vryemarkekonomie; vryemarkstelsel.


ABSTRACT

The erosion of apartheid as political policy, a weakening economy, fear for a revolution and stronger cohesion within the business community caused the white business community to unite across cultural and racial divides to protect their interests. The Rubicon speech of 1985 acted as a trigger for business to embrace a political role. The CBM was established and business started to mobilise openly against apartheid. Black business supported this mobilisation, as they had an interest in a free market economy and a negotiated political settlement. The white business community influenced government to keep political reform on the agenda. This influence was substantial, given the importance of the white business community in stabilising politics. Within the CBM, debate about the economy was shaped around identifying practical problems as to bar the adoption of solutions based on ideology. By adopting a bridge-building and a catalyst role, the CBM prepared business for change. The adopted consensus approach eased communication between economic role players and focused all role players on socio-economic development. Through social involvement and social development, South African business demonstrated the suitability of the free-market system to address the grave economic inequalities of South Africa.

Key words: Afrikaanse Handelsinstituut (AHI); Black Economic Empowerment; community development; community involvement; Consultative Business Movement (CBM); democratisation of business; economic growth; Federated Chambers of Industry (FCI); free market economy; free market system; National African Federated Chamber of Commerce and Industry (Nafcoc); "passive resistance" of Afrikaner businessmen; political mobilisation of business; political role of business; political transformation of South Africa; Rubicon-speech; social development; socio-economic responsibility; South African business community; Urban Foundation.


 

 

Inleiding

Die toenemende erodering van apartheid as politieke beleid in die 1980's het die Suid-Afrikaanse gemeenskap met nuwe moontlikhede gelaat om oor kultuur- en rasgrense heen alliansies te vorm vir die beskerming van hulle belange. Sakelui as belangegroep het ook op politieke verandering gereageer deur 'n sterker politieke rol aan te neem en openlik teen apartheid te mobiliseer. Hierdie artikel wil 'n oorsig oor die reaksie van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in die 1980's verskaf deur die kohesie van sakelui te analiseer en die motiewe vir hulle politieke ontwaking te ondersoek. Die stigting van die Consultative Business Movement (CBM)1 word as mobiliseringsmeganisme van Suid-Afrikaanse sakelui belig, deur die filosofiese grondslag daarvan te ontleed, maar ook op die reaksie van Suid-Afrikaners op die stigting daarvan te wys en die doelwitte, dryfvere en werking daarvan te ontleed. Die doel van die artikel is om aan te toon dat sakelui tot so 'n mate kon verenig dat hulle deur middel van die CBM 'n redelike invloed kon uitoefen om hulle belange tydens die politieke oorgang te beskerm. Laastens word die politieke rol van die CBM geëvalueer. Die afsnydatum van die artikel is 1992, toe die Rekord van Verstandhouding onderteken is. Dit word algemeen beskou as aanvaarding dat 'n nuwe politieke bestel hierna onderhandel sou word.

 

Teoretiese besinning

Aan die begin van die 1980's was dit vir waarnemers van die politieke situasie in Suid-Afrika nie voor die hand liggend of maklik om die reaksie van Suid-Afrikaanse sakelui op die politieke uitdagings van die land te voorspel nie. Yolanda Sadie het byvoorbeeld opgemerk dat die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap nie gereed was om 'n politieke rol ten gunste van vinnige hervormings aan te neem nie.2 Hierteenoor het Van Zyl Slabbert geargumenteer dat die sakegemeenskap na 1990 wel liberaaldemokratiese vryemarkwaardes sou bevorder en 'n rol sou speel om verskeie politieke organisasies nader aan mekaar te bring ten einde 'n vreedsame politieke oorgang te fasiliteer.3 Dat sakelui wel 'n rol gespeel het, word selfs deur die African National Congress (ANC) erken: "We acknowledge, too, that the business community in South Africa played an important role in the 1980s in setting our country on a path towards a negotiated transition".4

Hoewel daar 'n begin gemaak is om sakelui se aandeel aan die politieke transformasie van Suid-Afrika na te vors, veral onder die liberale skool, is die volle omvang van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap se rol in die politieke transformasie van Suid-Afrika nog nie uitgepluis nie. Waar die politieke rol van Engelssprekende sakelui wel aandag kry, word daar steeds weining of geen aandag aan Afrikaanssprekende sakelui en swart sakelui gegee nie.5 Herman Giliomee wys daarop dat Afrikanersakelui se rol nog nie werklik ontgin is nie.6 Die rede is in hoofsaak omdat die waarnemers van die politieke proses (soos Sparks, Friedman, Atkinson en Waldmeier, onder andere)7 hulle grootliks op die politieke aspekte van transformasie toegespits het en sakelui en ekonomiese faktore oorgesien het.8 Ook Peter Gastrow, 'n parlementariër, wat wel 'n uitvoerige uiteensetting van die rol van sakelui in die vredesproses verskaf het, het nie volledig reg aan die rol van sakelui agter die skerms laat geskied nie.9

Die radikale skool met sy materialistiese historiese beskouing staan sterk krities teenoor 'n rol vir sakelui om teen apartheid, as politieke stelsel met ekonomiese voordele vir die heersersklas, te posisioneer.10 Kritiek soortgelyk aan dié van die radikale skool - veral ten opsigte van die motief van sakelui - word in die boek, A History of Inequality in South Africa 1652-2002 (2005) uitgespreek. Hierin redeneer Sampie Terreblanche dat daar vroeg in die 1990's 'n reeks informele onderhandelings parallel met die konstitusionele onderhandelings plaasgevind het, waartydens die plaaslike korporatiewe sektor, gesteun deur magtige internasionale finansiële instellings, 'n doelgerigte poging aangewend het om ongebreidelde kapitalisme aan die ANC se leierskader voor te stel en te "verkoop". Terreblanche dui aan dat die rede vir hierdie sektor se inisiatief, 'n meëdoenlose navolging en beskerming van hulle eiebelang was en dat dit plaasgevind het ten koste van die welsyn van die breëre Suid-Afrikaanse samelewing.11 Sy beredenering berus tot 'n groot mate op die sieninge van nieu-Marxistiese politieke ekonome soos Bond en McKinley, wat 'n ontleding van die proses gemaak het.12 Dit is eers redelik onlangs (2007) dat Lipton, 'n liberale geskiedskrywer, bevind het dat die neo-radikale perspektief begin toegee het dat sakelui wel 'n bydrae gelewer het om druk teen apartheid op te bou - hoewel hulle steeds negatief teenoor die rol van sakelui in die tydperk gestaan het.13

 

Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in die 1980's

Apartheid as politieke beleid het effektiewelik die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in drie groepe verdeel, naamlik Afrikanersakelui, Engelssprekende sakelui en swart sakelui. In die artikel verwys die begrip Afrikanersakegemeenskap na ondernemings waar die beheer Afrikaanssprekend was met die meerderheid, indien nie almal op die direksie nie, sowel as die voorsitter en besturende direkteur, wat Afrikaners was. Onderskeid met Engelssprekende maatskappye word op dieselfde wyse getref.14 Met swart sakelui word bedoel sakelede van die swart bevolking, Chinese, kleurlinge en Indiërs.15 Die Afrikaanse sakegemeenskap was in hoofsaak deur die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) verteenwoordig, die Engelssprekende sakegemeenskap deur die Federated Chambers of Industry (FCI) en die swart sakegemeenskap deur die National African Federated Chamber of Commerce and Industry (Nafcoc).16 Die Foundation for African Business and Consumer Services (Fabcos) was ook 'n rolspeler in die swart sake-omgewing, maar dit was by mikro-ondernemings en maatskappye in die informele sektor betrokke.

Apartheidswetgewing het 'n ongelyke magsverhouding veroorsaak wat blanke sakelui bevoordeel en swart sakelui benadeel het. Hierdie bevoordeling was nie absoluut in ekonomiese terme nie. Blanke sakelui het wins ingeboet omdat Suid-Afrika internasionaal gebrandmerk is, hulle self gebrandmerk is asof hulle die regering was en omdat normale handelsbedrywighede nie kon plaasvind nie. Prof. Raymond Parsons som die situasie só op: "While it would be disingenuous to claim that no single business benefitted under apartheid, this perception is misplaced to the extent that it fails to take into account the real costs imposed on commerce and industry because of the legislation and the sanctions that followed it."17 Hoewel blanke sakelui nie in absolute terme voordeel getrek het nie, en swart sakelui daarvan bewus was,18 lê die onregverdigheid daarin dat swart sakelui nie op 'n gelyke voet met blanke sakelui om wins kon kompeteer het nie. Swart sakelui se sakebedrywighede was weens apartheidswetgewing soos die Groepsgebiedewet ingeperk 19 en swart entrepreneurskap was gekortwiek weens 'n gebrekkige onderwysstelsel en naskoolse opleiding.20 Ten spyte hiervan, het dit swart sakelui nie verhoed om gevestigde belange op te bou nie.21

Die grootste rolspelers in die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap was Engelssprekende sakelui, gevolg deur Afrikanersakelui. Teen die 1980's het vyf Engelssprekende maatskappye (Anglo American Corporation, Barlow Rand, Anglovaal, Liberty Life en Old Mutual) saam met twee Afrikanerondernemings (Sanlam en Rembrandt) die Johannesburgse Effektebeurs oorheers. Hierdie sewe konglomerate het teen 1983 reeds 80 persent van die waarde van die R90-biljoen se aandele wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer was, beheer. Anglo American Corporation het 56 persent van die totale aandele beheer, die Sanlamgroep 9,4 persent van die aandele, Barlow Rand 7,4 persent, Anglovaal 3,2 persent, Rembrandt 2,1 persent, Liberty Life 1,1 persent, en Old Mutual 0,6 persent. Teen 1987 het Anglo American Corporation sy deel in die Suid-Afrikaanse ekonomie tot 60,1 persent vergroot, Sanlam syne na 10,7 persent uitgebrei en Rembrandt syne na 4,3 persent. Die aandeel van hierdie konglomerate in die totale nasionale welvaart (in terme van bates wat nie op die aandelemark genoteer was nie), was egter veel minder. In 1984 was hierdie aandeel maar op 16 persent vir die 11 grootste konglomerate beraam.22

Hoewel wetgewing sake-organisasies op rasbasis laat vorm aanneem het, kon dit nie kulturele verdeling afdwing nie. Dit word weerspieël in die opname van Afrikaanssprekende sakelui in die Engelssprekende sakegemeenskap (byvoorbeeld dr. Zac de Beer) en die aanstelling van Afrikaners as leiers van Engelssprekende sakeorganisasies, soos Johan van Zyl by die FCI, en oud-regter Jan Steyn as hoof van die Stedelike Stigting. Dit is vergemaklik omdat Afrikaner-ondernemings teen die 1980's toegang tot feitlik elke aspek of bedryf van die Suid-Afrikaanse ekonomie verkry het en hulle ondernemings verweef geraak het met dié van die Engelssprekende sakesektor.23 Afrikanerondernemings het verder ook hulle kliëntebasis na Engelssprekende Suid-Afrikaners uitgebrei en openlik verkondig dat hulle produkte op die breër Suid-Afrikaanse mark gerig was. In 1988 het Sanlam 'n 74 persent toename in Engelssprekende tak- en assistent-bestuurders getoon en het die polisaansoeke onder Engelssprekendes met 20 persent verhoog.24 Die volgende aanhaling illustreer Sanlam se veranderde fokus: "Waar Sanlam sewentig jaar gelede die simbool was van die Afrikaner se opstaan uit die stof om sy geregmatige plek in die ekonomiese sfeer in te neem, het dr. (Fred) Du Plessis die maatskappy se strewe en sy aansienlike geldmag gelei op weë wat dit 'n vertroude steunpilaar in die breë SA samelewing maak".25 In die middel van die 1980's het die kulturele verskille tussen Afrikaner- en Engelssprekende sakelui toenemend vervaag, sodat dit nie 'n hindernis vir samewerking onder blanke sakelui was nie.26 Michael Spicer merk op dat die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap toe reeds 'n mate van 'n Suid-Afrikaanse identiteit aangeneem het, waar hulle 'n "exclusive cultural identity" verruil het om 'n "sort of common South African perspective" te vorm.27 Kulturele verskille ten opsigte van swart sakelui was egter nog aanwesig.28

Politieke verskille tussen blanke sakelui was na 1985 ook nie meer onoorkombaar nie. Hoewel Engelssprekende sakelui lank reeds openlik ten gunste van magsdeling was,29 het Engelssprekendes toenemend die Nasionale Party (NP) gesteun. 'n Rapport-peiling bevind dat 40 persent van die Engelssprekende Suid-Afrikaners 'n hoë dunk van die regering gehad het.30 Engelssprekende sakelui was aanvanklik meer bewus van hulle politieke rol en het daarom onder leiding van Gavin Relly van Anglo American Corporation die ANC in Augustus 1985 in Lusaka besoek. Afrikanersakelui was genooi, maar het onder druk van die NP en uit onsekerheid oor die reaksie van die Afrikanergemeenskap, besluit om dit nie by te woon nie. Dit was egter net 'n kwessie van tyd voor hulle self met die ANC kontak gemaak het, naamlik in Dakar in 1987. Afrikanersakelui het hulle by die verligtes en "nuwe Natte" in die NP geskaar.31 Waar die meer verligte groepering in die NP se politieke fokus voor 1980 in hoofsaak eerder op 'n "bestuurde" transformasie (evolusionêre hervorming) met die geleidelike infasering van politieke regte vir alle Suid-Afrikaners gedui het, het hulle teen die middel van die 1980's openlik begin verklaar dat die wetgewende raamwerk van apartheid verbreek moes word. Later het hulle selfs die moontlikheid van 'n swart meerderheidsregering erken. Polities verligte Afrikanersakelui in die Stedelike Stigting het hierdie groep in die NP doelbewus beïnvloed om politieke hervorming op die politieke agenda te hou en om apartheidswetgewing af te breek.32

Die aanspraak op Afrikanersakelui se verligte politieke denke word gesteun deur 'n skatting van die AHI dat nie meer as 15 persent van hulle lede aan die Konserwatiewe Party (KP) behoort het nie.33 Dit is dan ook daarom dat daar niks van die dreigement van die KP gekom het om 'n alternatief vir die AHI te stig en om konserwatiewe sakekamers in KP-beheerde gebiede te loods nie.34 Dit dui ondubbelsinning daarop dat 'n konserwatiewe standpunt nie vir Afrikanersakelui ekonomies sin gemaak het nie. Afrikaner- en Engelssprekende sakelui het gevolglik op politieke gebied gemene grond gevind.

Swart en blanke sakelui het 'n belang in die vryemarkekonomie gedeel. S.N. Sebotsa van Nafcoc het verklaar dat werkskepping eerder onder 'n vryemark as 'n sosialistiese bestel bereik kon word.35 Hy is hierin deur die leier van Nafcoc, dr. Sam Motsuenyane, gesteun: "The free-enterprise system, if honestly applied, was the only system which would transform SA into a great economic power in Africa".36 Swart sakelui het die skepping van 'n middelklas ook as prioriteit gesien al was elemente in die swart bevrydingsbewegings daarteen gekant, omdat dit 'n buffer tussen die "onderdrukkers" en die "onderdruktes" kon skep.37 Ruel Khoza, 'n bemarkingskonsultant en raadslid van Stannic, het verklaar dat die swart middelklas, "largely a force for change" was en 'n rol gehad het om in swart bevryding te speel. Hy het geargumenteer dat hierdie rol nie geweld en 'n rewolusie ingesluit het nie: "It's not for us to take the might of the state, like the youth has over the past ten years". Hy het die rol van swart sakelui as gematig en redelik beskou, "to inspire those who follow us to seek economic as well as political greatness".38

Die swart jeug se assosiasie van die vryemarkstelsel met apartheid was daarom vir Nafcoc 'n bron van kommer.39 Die jeug was aandadig om swart besighede tydens onluste aan die brand te steek en te beroof en selfs om sakelui te dood. Motsuenyane het verklaar: "We already struggle against a discriminatory system, now we also face discrimination from our own people".40 Motsenyane se huis is ook afgebrand.41 Swart sakelui se standpunt het veroorsaak dat hulle as regeringsgesindes gebrandmerk is.

Samewerking tussen blanke en swart sakelui het meestal in die Stedelike Stigting plaasgevind.42 Blanke sakelui het aan die Stedelike Stigting se antiapartheidswetgewingsinisiatiewe deelgeneem,43 met swart sakelui saamgewerk om gemeenskapsaksies te identifiseer wat swart gemeenskappe ekonomies sou baat en tog ook vir maatskappye ekonomies sin gemaak het,44 swart sakeleiers geïdentifiseer wat die tekort aan swart bestuurslui in blanke maatskappye kon aanvul,45 by opleiding van swartes betrokke geraak46 en politieke aksies wat rasseverhoudings kon kelder, met politici opgeneem.47 In die Privaatsektorraad van Verstedeliking, het Suid-Afrikaanse sakelui (Assocom, FCI, AHI en Nafcoc) voorstelle vir 'n nuwe nasionale verstedelikingsbeleid ondersoek.48 Die grootste samewerking het rondom sanksies en disinvestering plaasgevind.49 Tydens senator Ted Kennedy se besoek aan Suid-Afrika, het die ses grootste werkgewersorganisasies, wat sowat 80 persent van Suid-Afrikaanse werkers verteenwoordig het, vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis 'n gesamentlike standpunt teenoor sanksies en disinvestering onderskryf. In die proses het Nafcoc, die AHI, FCI, die Vereniging van Kamers van Koophandel van Suid-Afrika (Assocom) en die Steel and Engineering Industries Federation of South Africa (SEIFSA) oor ras- en kultuurgrense verenig.50 Hulle siening oor die rol van sakelui tydens Suid-Afrika se politieke transformasie is selfs gesamentlik aan die Verenigde Nasies oorgedra.51

Waar Afrikaner- en Engelssprekende sakelui se politieke belange saamgevloei het rondom vrees vir 'n rewolusie, verlies aan politieke mag en die moontlikheid van 'n sosialistiese ekonomiese bestel, het swart sakelui die NP-regering uiteraard polities teengestaan en spoedige politieke verandering vereis. Die eis kon hulle nie gesinchroniseerd oorgedra het nie, omdat daar nie ooreenstemmigheid was oor watter organisasie hulle in die tydperk van politieke transformasie moes verteenwoordig nie.52 Dit het tot frustrasie oor die gebrekkige ontwikkeling van 'n nasionale strategie vir swart besigheid gelei.53 So 'n strategie was nodig om swart belange in 'n post-apartheid Suid-Afrika te vestig en te beskerm. Dit was veral nodig omdat die uitdagings van swart sakelui met apartheidswetgewing en die vyandigheid wat hulle van hulle eie gemeenskappe ondervind het, die indruk versterk het dat ekonomiese hervorming ook swart ekonomiese bemagtiging moes insluit.54 Swart sakelui het daarom verwag dat blanke sakelui kapitaal vir swart bemagtiging sou beskikbaar stel en dat blanke sakelui druk op die regering sou uitoefen vir hervorming.55 Hierdie verwagting het tot spanning tussen blanke en swart besigheid gelei, omdat hulle verskil het in fokus ten opsigte van die oopstel van die ekonomie, met swart sakeorganisasies wat op swart ekonomiese bemagtiging en blanke sake-organisasies wat op ekonomiese groei gefokus het.56

Ten spyte van spanning, het die Stedelike Stigting in 1988 bevind dat swart besigheid steeds beter verhoudings met blanke sakelui gesoek het en hulle rol in swart ekonomiese bemagtiging as noodsaaklik beskou het. Swart sakelui het ook waardering gehad vir die veranderings wat in die swart sake-omgewing plaasgevind het.57

Die fragmentasie in die swart sakegemeenskap is teen 1996, met die stigting van die Black Business Council (BBC), grootliks oorkom. Die rassepolarisasie van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap kon hierna ook makliker oorkom word, omdat slegs twee organisasies sou moes verenig om die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap te verteenwoordig, naamlik die BBC en Business South Africa (BSA). Oudpresident Mbeki het minister Alec Erwin opdrag gegee om Patric Motsepe en Attie du Plessis te nader met 'n versoek om te verenig. Du Plessis was toe die voorsitter van BSA en Motsepe van die BBC.58 Hierdie twee organisasies het in 2003 saamgesmelt om Business Unity South Africa (BUSA) te vorm.59

Hoewel kohesie sterker as ooit in die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap na vore getree het, sal dit 'n oorvereenvoudiging wees om te wil voorgee dat die verskeie sakegemeenskappe absoluut verteenwoordigend was van 'n spesifieke bevolkingsgroep. Ten opsigte van die periode wat deur hierdie artikel gedek word, kan daar nie gepraat word van werklik "suiwer" ondernemings, indien aandeelhouers, filiale, kliënte of personeel in ag geneem word nie.60 Wat egter duidelik is, is dat hierdie mate van samewerking onder uiteenlopende sakegroepe onder die regte omstandighede vir groter samewerking sou sorg, waar beduidende politieke invloed uitgeoefen kon word. Wat ook duidelik is, is dat blanke sakelui nie die belange van swart sakelui rakende swart bemagtiging sou kon ignoreer nie.

 

Motivering van sakelui om by die nasionale politiek betrokke te raak

Voor 1985 het Engelssprekende en swart sakelui luidkeels teen die NP-regering se beleid van apartheid beswaar aangeteken.61 Afrikanersakelui was nie so luid in hulle protes nie, maar het hulle op 'n strategie van "lydelike verset" beroep.62 Die eerste babatreë in sakelui se politieke rol, was om die Stedelike Stigting na die 1976-onluste te stig. Die Stigting het in 'n polities-gelade omgewing probeer om konfrontasie met die regering te ontwyk deur binne 'n (ekonomiese) raamwerk van verstedeliking teenstand teen apartheid te bied. In dieselfde trant het dit evolusionêre verandering bepleit deur veral apartheidswetgewing aan te spreek en agtergeblewe gemeenskappe op te hef. Hierin is die meer verligte deel in die regering nagepraat ten einde hervormings op die politieke agenda te hou. Dit het die Stigting se geloofwaardigheid as voorstander van politieke transformasie geknou. Die Stigting is verder gediskrediteer omdat dit die regering se standpunt rakende wetgewing oor plaaslike regering ondersteun het. Hoewel swart sakelui die sakenut van goeie plaaslike regering ingesien het, kon hulle hierdie standpunt nie onder die swart gemeenskap verdedig nie.63 Swart sakelui en swart sake-organisasies was daarom nie bereid om openlik en op groot skaal by die Stigting betrokke te raak nie. Dit het verhoed dat die stigting teen apartheid gemobiliseer het.

Die goue draad wat sakelui deurlopend by die politiek betrek het, was die impak van die apartheidsbeleid op die ekonomie.64 Vanaf 1973 het die Suid-Afrikaanse ekonomie stelselmatig agteruitgang begin toon. Krimpende netto beleggings, verhoogde werkloosheid, 'n kwynende gemiddelde reële werkloon en toenemende onaanvaarbare vlakke van armoede en inkomste-ongelykheid het 'n broeiplek vir burgerlike onrus geword.65 Die groei in die Bruto Binnelandse Produk (BBP) het van 5,5 persent in die 1960's na 1,8 persent in die 1980's en -1,1 persent in die 1990's gedaal. Beide vaste- en privaatbeleggings was slegter daaraan toe omdat onluste, onrus en wydverspreide sanksies Suid-Afrika laat boet het ten opsigte van mededingendheid en die vermoë om lenings aan te gaan om ekonomiese probleme aan te spreek. Die kombinasie van kapitaalvlug en krimpende vlakke van persoonlike besparing het die ekonomie verder geskaad. Hiermee saam het jare se besteding op militêre kwessies tot die volskaalse resessie in die 1990's bygedra.66 Op makro-ekonomiese vlak was Suid-Afrika nie beter daaraan toe nie.

Teen 1990 was al drie Suid-Afrika se tradisionele ekonomiese sektore in die moeilikheid. Myne regoor die voormalige Transvaal en Vrystaat was besig om toe te maak of af te skaal. Die vervaardigingsektor was in 'n krisis omdat uitvoere nie kompeterend was nie en die landbousektor se bydrae tot die BBP het van 9 persent tot 6 persent geval.67 Stakings was aan die orde van die dag. Na die Rubicon-toespraak van P.W. Botha op 15 Augustus 1985 (Durban) is Suid-Afrika feitlik onmiddelik versoek om sy korttermynlenings terug te betaal, wat sowat 67 persent van die land se buitelandse lenings uitgemaak het. Dit het ekonomiese groei negatief geraak. Buitelandse banke het ook hulle Suid-Afrikaanse aandele verkoop. Die waarde van die rand het gevolglik tussen Junie en September 1985 van R1-97 tot R2-48 teenoor die dollar gedaal. Verder het die Verenigde State van Amerika en Brittanje - Suid-Afrika se laaste internasionale politieke bondgenote - ook sanksies teen die land ingestel.68 Teen die einde van 1985 het die ekonomiese krisis in Suid-Afrika vanweë internasionale isolasie, internasionale ekonomiese uitdagings (soos wêreldinflasie, olieprobleme en globalisering) en die hoë ekonomiese koste van apartheid verdiep. Die omvang van hierdie ekonomiese uitdagings en die toepaslikheid van regeringsbeleid om dit aan te spreek, het Suid-Afrikaanse sakelui bekommer. Jones verklaar: "It is no exaggeration to say that the South African economy grew despite the government policies and not because of them in the last three decades of the twentieth century".69

Die Rubicon-toespraak van 1985 het 'n keerpunt in Suid-Afrikaanse sakelui, en veral Afrikanersakelui, se persepsie van hulle politieke rol gebring.70 Afrikanersakelui en Engelssprekende sakelui het hande gevat en die toespraak met 'n stortvloed negatiewe mediakommentaar begroet.71 Die "lydelike verset" van Afrikanersakelui het hierna grootliks verdwyn.72 Hierdie nuwe houding van Afrikanersakelui is deur die Engelssprekende media opgemerk: "Now, at last, it's action after dissatisfaction" ['n sinspeling op 'n Rembrandt advertensie vir Peter Stuyvesant-sigarette]: "Big Business in South Africa is no longer reacting to the Government - they're acting".73 Fred du Plessis, die uitvoerende hoof van Sanlam, het byvoorbeeld opgemerk: "Ons het in Suid-Afrika 'n motor sonder 'n stuurwiel... 'n Ekonomie sonder 'n strategie. As ons aanhou soos ons nou ry, sal ons teen walle uitry en van walle afry en in slote beland".74

Dr. Anton Rupert, uitvoerende hoof van Rembrandt, se kritiek op die regering is veral as striemend beskou, omdat hy die regering daarvan beskuldig het dat dit weereens, soos voor die Sharpeville- en Soweto-opstande, nie ag geslaan het op waarskuwings nie. Rupert het onomwonde verklaar dat 'n "man van visie" nodig was om Suid-Afrika te lei. Die Engelssprekende pers het soos volg daarop reageer:

In these few words Afrikanerdom's most respected and influencial businessman delivers damning indictment of the collapse of Government policy... he becomes the first of the Afrikaner-establishment to suggest publicly that the politically paralysed President should make way for someone who fully understands the critical issues and has the courage and capacity to lead the divided, riot-torn land...75

'n Afvaardiging van sake-organisasies, onder andere Rupert, het P.W. Botha hierna besoek en 'n verklaring uitgereik waarin hulle sterk daarop aangedring het dat hervormingsoptrede momentum moes kry.76 Engelssprekende en Afrikanersakelui het 'n "vredesplan" voorgelê, waarin die regering aangemoedig is om met alle swart leiers te praat, ook met Nelson Mandela.77 Die Rubicon-toespraak het verhoudings oor die blanke sakegemeenskap verstewig en die sakesektor nader aan mekaar getrek.

Na die Rubicon-toespraak kon sakelui nie onmiddellik tot aksie oorgaan nie. 'n Nuwe politieke rol en die aktiewe najaag daarvan was tussen 1985 en 1989 redelik beperk, omdat die konserwatiewe deel van die Suid-Afrikaanse stemgeregtigde bevolking 'n bedreiging vir die NP se magsbasis ingehou het.78 As gevolg daarvan het die regering (en veral P.W. Botha) redelik koersloos ten opsigte van die implementering van apartheid, maar ook in die hervorming van die Suid-Afrikaanse politiek, voorgekom.79 Die situasie het aan sakelui die geleentheid gebied om politieke invloed uit te oefen. Afrikanersakelui het hulle invloed gebruik om te sorg dat hervorming op die politieke agenda gebly het.80 Politici het besef dat sakelui se samewerking by 'n ekonomiese oplossing vir nasionale politieke uitdagings uiters noodsaaklik was. In die akkommodering van sakebelange het die staat 'n meer korporatiewe karakter begin aanneem.81 Sakelui het gevolglik die sekurokrate se invloed in die regering getemper. Na die 1987- en 1989-verkiesings en die bewindsoorname van F.W. de Klerk, het 'n meer verligte klimaat gesorg dat Afrikanersakelui nader aan die Engelssprekende en swart sakegemeenskappe begin staan het. Daarna sou die sakegemeenskap openlik begin uitreik na bevrydingsbewegings om bande met hulle te smee,82 maar ook om bande oor die rasverdeelde samelewing heen te smee. Dit het die bou van verhoudings tussen die regering, vakbonde en swart bevrydingsbewegings ingesluit.83

Die nuwe politieke rol van veral blanke sakelui is ook deur die post-koue oorlog bestel gesteun. Walsh, Best en Rai bevind dat sakelui weens internasionale politieke en ekonomiese turbulensie as nuwe leiersgroep op die voorgrond getree het.84 Hierdie leierskapsrol is ook gesteun deur 'n persepsie dat globalisering positief sou inwerk op die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ekonomiese groei kon dan aangewend word om die ekonomie aan alle Suid-Afrikaners oop te stel en om agtergeblewe gemeenskappe op te hef. Dit sou 'n rewolusie afweer en sosialistiese maatreëls (nasionalisering) kon beveg. Natuurlik het die val van die Berlynse Muur in 1989 verdere geleentheid gebied om 'n vryemarkekonomie te verkondig om Suid-Afrikaanse sakebelange te beskerm.

Samewerking rondom 'n gemeenskaplike doelwit, naamlik 'n vryemarkstelsel, het nuwe politieke agendas laat ontwikkel, omdat die potensiaal vir daadwerklike verlies aan ekonomiese posisie en sosiale aansien (deur 'n rewolusie of politieke skikking) ingesien en ingrypende veranderings voorsien is. Hierdie klimaat het tot die stigting van die CBM gelei.

 

Vereniging en mobilisering van die sakegemeenskap: Die stigting van die CBM

Met die groter samewerking in die sakegemeenskap is gehoop dat 'n konsultasieproses 'n forum tot gevolg sou hê wat 'n vryemarkekonomie sou beskerm en politieke onderhandelings sou fasiliteer. Dit was moontlik ten spyte van Nafcoc se toenemend "onversetliker houding" teenoor blanke sakelui.85 Kontak met die ANC na 1986 het Nafcoc bewus gemaak van sekere groeperinge binne die organisasie se positiewe houding teenoor kapitalisme,86 dat swart sakelui in 'n gunstige posisie was om voordeel te trek uit die Afrika-mark onder 'n toekomstige swart regering en dat hierdie verwikkelinge vir hulle bedingingsmag by blanke sakelui gegee het.87 Moses Maubane, die besturende direkteur van African Bank, verklaar byvoorbeeld dat hy uit gesprekke met ANC- en PAC-lede bemoedig geraak het: "... at least they like us. We're not seen as enemies of the struggle". Gevolglik het Nafcoc 'n sterker stem gehad oor swart ekonomiese bemagtiging, 'n wisselvallige houdig oor sanksies ingeslaan en hulleself meer openlik van die blanke sakegemeenskap begin distansieer. Dog, die verwagte voordele van swart bemagtiging en die moontlike bedreiging van 'n sosialistiese rewolusie (met sosialisme wat eers na 1989 gediskrediteer is) het samewerking verseker.

Tydens 'n tweedagwerkswinkel (6 en 7 Augustus 1988) in die Gencor Opleidingsentrum te Broederstroom, wat deur die onafhanklike konsultant, Christo Nel88, gekoördineer is, het 40 vooraanstaande sakelui en akademici, asook 40 verteenwoordigers vanuit die demokratiese beweging en ander buite-parlementêre groepe bymekaargekom om die CBM te stig.89 Nel som die essensie van Suid-Afrikaanse sakelui se samewerking soos volg op: "The business leaders who participated were probably united only by a broad recognition that South Africa is on a one-way road to economic and political failure... They were thus united in what they wished to escape from rather than what they aspire to".90

Onder die afgevaardigdes was Afrikanersakelui soos Naas Steenkamp (Gencor), David de Villiers (voormalige Naspers hoof uitvoerende bestuurder en lid van die Kaapse Balieraad),91 Albert Koopman (Trador) en M.C. Pretorius (Turner and Newall Holdings). Chris van Wyk (Trustbank) kon nie die stigtingsvergadering meemaak nie. Die Engelssprekende afgevaardigdes was Chris Ball (FNB), Mervyn King (Tradegro), Leon Cohen (PG Bisson), Brian Smith (Volkswagen), Cedric Savage (Toncoro), Alex Hamilton (Alex Hamilton Construction) en Ken Maxwell (JCI). Neil Chapman (Southern Life), Bob Tucker (SA Perm) en Mike Sanders (AECI) kon ook nie die vergadering meemaak nie. 'n Hoëvlak verteenwoordiging van die swart bevrydingsbeweging het dit bygewoon, onder andere UDF-leiers soos Azhar Cachalia, Dullah Omar, Andrew Boraine en Beyers Naudé; Cosatu-leiers soos Jay Naidoo, Sydney Mafumadi; asook Numsa-verteenwoordigers soos Alec Erwin. Die voormalige leier van die amptelike opposisie, Frederik van Zyl Slabbert, en akademici soos Sampie Terreblanche, Lourens du Plessis en Johan Kinghorn van die Universiteit van Stellenbosch; Loet Douwes Dekker, Johan van Zyl en Mark Swilling van die Universiteit van die Witwatersrand; Stuart Saunders en Ampie Muller van die Universiteit van Kaapstad; asook Ann Bernstein (Stedelike Stigting) en Mike Olivier (Five Freedoms Forum), was teenwoordig.92

Die eerste vergadering van die CBM het in Februarie 1989 plaasgevind. Twintig senior sakeleiers is in die Nasionale Konsultatiewe Groep (NKG) aangestel en het as direkteure van die CBM opgetree. 'n Konsultatiewe span, bestaande uit Theuns Eloff (uitvoerende direkteur), Colin Coleman (nasionale organiseerder) en Deborah Marsden (proseskonsultasie) het opdragte van die NKG vanuit die CBM se hoofkantoor in Jeppestown, Johannesburg uitgevoer. Die CBM het gou sakelui se steun gehad, sodat 92 van Suid-Afrika se grootste maatskappye teen 1991 reeds lede van die organisasie was. Hieronder het AECI, Anglo American Corporation, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, Caltex, Eskom, Gencor, Premier, Tradegro, Nampak, en Volkswagen getel.93

 

Reaksie op die stigting van die CBM

Die stigting van die CBM is met gemengde gevoelens deur die Afrikanergemeenskap begroet. Hoofstroomkoerante en die Afrikaanse finansiële pers het bloot gerapporteer dat die organisasie gestig is en het uitvoerig daaroor berig, maar die politieke implikasie daarvan is onderspeel.94 Die Nasionalis, die NP se mondstuk, het geen woord gerep oor die ontstaan van die CBM nie. Die Vrye Weekblad, 'n liberale mondstuk, het die politieke implikasie van die stigting belig en moeite gedoen om die Afrikaners agter die beweging se rol te erken.95 Verligte Afrikaners het hierdie stap verwelkom.96

Die konserwatiewe spreekbuis, Afrikaner, het die anti-apartheidsbaadjie van die CBM veroordeel.97 Die ewe konserwatiewe Aida Parker Newsletter het berig dat die CBM, "reinforces Lenin's dictum: 'The capitalists will sell us the rope that will hang them'".98 Hierdie mening sou deurgaans deur die twee genoemde publikasies gehuldig word. In 1990 het Afrikaner aangevoer dat die CBM 'n front van 'n "geheime Kommunistiese groep sakemanne" was, naamlik van die "geldmag" (lees Anglo American) se "Sekretariaat vir Openbare Aksie". Hulle het die CBM beskou as "die kern van 'n wyd vertakte bondgenootskap tussen die ANC en die geldmag (Anglo American) teen die georganiseerde Afrikanervolk". Afrikanerdeelnemers aan die CBM is uitgekryt as persone "wat al lankal as vyande van die georganiseerde Afrikanervolk geïdentifiseer is".99 Die Aida Parker Newsletter het sakelui daarvan beskuldig dat hulle kortsigtig en in eiebelang opgetree het om 'n "power grab" van die ANC te versag.100 Hiermee het die Afrikaner akkoord gegaan en verder aangevoer dat die betrokkenes "nuttige idiote"101 vir die ANC/SAKP koalisie was.102

Ekonomiese korrespondente uit die Engelse gemeenskap het opgewonde op die stigting gereageer en dit as 'n "binnelandse Dakar" bestempel.103 Die Engelssprekende pers het die belang van dié anti-apartheidsorganisasie in die fasilitering van die politieke transformasieproses duidelik belig.

Die swart pers het positief gereageer dat besigheid ook voortaan apartheid sou teenstaan.104 Swart bevrydingsbewegings het in ongeloof op sakelui se verbintenis tot fundamentele transformasie gereageer. Dr. Beyers Naudé het verklaar "(it) represents a step forward in that it allows concerned business people to engage with the forces of change and to play a more effective role in opposition to apartheid".105 Hoewel die stap verwelkom is, het die bevrydingsbewegings aangedui dat hulle nie hulleself aan verdere byeenkomste sou verbind nie, omdat hulle bedenkinge gehad het oor of die CBM werklik die implikasie van hulle verbintenis besef het.106

 

Rede vir samewerking: Die CBM se filosofiese grondslag vir die beskerming van 'n vryemarkekonomie

Die CBM kon die sakegemeenskap vanuit 'n breë spektrum verenig, omdat dit die vryemarkekonomie gesteun het, geen spesifieke ideologie aangehang het nie en ruimte gelaat het vir debat oor swart bemagtiging en ekonomiese groei. Die CBM het erken dat politieke en sosiale stabiliteit nou saamgehang het met ekonomiese regverdigheid, dat landsheil berus het op die vermoë om 'n groot en relatief gegoede swart middelklas te skep, dat wetgewing sosio-ekonomiese ontwikkeling moes dryf, dat samewerking tussen die staat, die sakesektor en vakbonde belangrik was, dat doelgerigte herverdeling van rykdom en geleenthede noodsaaklik was en dat die geweldige armoede en verstommende ongelykhede in Suid-Afrika deur daadwerklike intervensies aangespreek moes word ten einde politieke en sosiale stabiliteit, maar ook ekonomiese groei, te bewerkstellig.107

Hierdie filosofie het 'n meer praktiese benadering tot armoedeverligting verteenwoordig waar Suid-Afrikaanse sakelui by gemeenskapsbetrokkenheid en sosiale opheffing betrokke geraak het. Die rede hiervoor het Eloff soos volg beskou:

Symbols of black success in a market economy stand a chance of winning the confidence of South Africans in a market-orientated economy. If this is not achieved, the credibility of the market economy is jeopardised... When the majority finds it is not given an equal stake in the economy of the country, there is real danger that it will seize economic power - possibly through crude means such as nationalisation of mines or banks.108

In plaas daarvan om ongelykheid deur die herverdeling van rykdom aan te spreek, is swart sakelui se voorstel vir 'n sosio-ekonomiese opheffingsraamwerk aanvaar. Dit het behels dat swartes se belange in die ekonomie uitgebrei word109 om 'n middelklas te vestig en om die demokratisering van maatskappye voor te staan (waaruit die King-kodes ontwikkel het). Deur die roete van sosio-ekonomiese ontwikkeling te volg, kon die nut van kapitalisme in die opheffing van 'n gemeenskap vertoon word. Dit sou die ekonomiese debat losmaak van blote sosialistiese (veral radikale sosialistiese) of onbevange kapitalistiese (vrye markprofete) perspektiewe. 'n Nuwe ortodoksheid het daarom na vore getree waar nóg "groei deur herverdeling" (sosialistiese beskouing), nóg "herverdeling deur laissez faire-groei" (vryemark-kamp) as antwoord op die ekonomiese krisis beskou kon word. Konsensus is bereik dat die antwoord in 'n "en/en" benadering gelê het. Hierdie benadering het die interafhanklikheid tussen groei en die herverdeling van rykdom beklemtoon.

Die nuwe houding van Suid-Afrikaanse sakelui het dus die interafhanklikheid van ekonomiese-, gemeenskaps- en politieke beleidvoering erken. Omdat die politieke status quo teen 1988 tot 'n totale politieke, sosiale en ekonomiese ineenstorting kon lei, moes die gevaar van onstabiliteit en negatiewe ekonomiese groei deur 'n drieledige ooreenkoms oorbrug word waar die private sektor, die regering en die vakbonde ooreen sou kom om Suid-Afrika uit 'n ekonomiese verknorsing te help. Beleggers sou dan met ietwat laer opbrengste tevrede moes wees, die regering sou optimale belasting- en subsidiëringskemas moes loods om die ekonomie te stimuleer en vakbonde sou massa-mobilisering, stakings en wegblyaksies moes heroorweeg, aangesien dit die ekonomie geskaad het.110 Hierdie erkenning van elkeen se rol het die weg vir groter samewerking tussen die drie sektore gebaan. Die invloed van hierdie samewerking kon met die aanvaarding van die Makro Ekonomiese Forum (MEF) in 1992 gesien word. In hierdie forum is die grondslag vir samewerking in 'n post-apartheid ekonomiese bestel gelê, omdat dit die weg vir die stigting van BUSA gebaan het.111

 

Doelwitte, dryfvere en die werking van die CBM

Die hoofdoelwit van die CBM was om 'n vryemarkekonomie deur konsultasie met alle rolspelers in die sosio-ekonomiese terrein te verseker. Konsultasie sou verseker dat die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap oor alle grense heen verenig het, sodat sake 'n gesinchroniseerde rol in die politieke oorgang van Suid-Afrika kon speel. Twee duidelike fases is onderskei, die 1987 tot Januarie 1990 fase (voorbereidingsfase) en die Februarie 1990 tot 1992 fase (fasiliteringsfase).112

a. 1987-1990: Voorbereiding vir verandering

Die onafwendbaarheid van swart meerderheidsregering het die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap gedwing om apartheid vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis openlik te verwerp.113 Hulle strategie het behels dat 'n klimaat vir politieke verandering geskep moes word, wat dan ook in die CBM se missieverklaring van April 1990 weerspieël is: "Its mission is to participate and initiate processes geared towards bridging the polarisation in SA, as the means to restore economic strength, by consulting across the broadest spectrum of interest groups to help create a prosperous, non-racial, democratic SA"114. Dit het die CBM tot 'n veranderingsagent- en brugbouersrol verbind.

As veranderingsagent het die beweging dit ten doel gestel om oor ekonomiese sake te besin. Hierdie besinning sou vanuit 'n breë basis geskied waar met alle belangegroepe, insluitend swart bevrydingsbewegings en "legitieme leiers", op 'n deurlopende basis gekonsulteer sou word.115 Daardeur sou sakelui se "demokratiese" inslag getoon word, maar ook gemene delers geïdentifiseer word waarom toekomstige debat kon plaasvind en brûe gebou kon word ter bevordering van nasionale dialoog. Om gesprekvoering te vergemaklik, het die CBM uit die staanspoor aangedui dat hulle ten gunste daarvan was om komponente te ontwikkel vir optimale groei in die ekonomie wat direk verbind was aan die regverdige verspreiding van welvaart.116 As deel van die rol van veranderingsagent, het die CBM begin klem lê op waardes wat tot alle Suid-Afrikaners gespreek het en het hulle dit in die werkplek begin opeis.

b. 1990-1992: Fasilitering van verandering

Na oud-president F.W. de Klerk se toespraak in Februarie 1990, waarin hy die regering se verbintenis tot 'n onderhandelde politieke skikking aangekondig het, het die CBM sy rol vinnig aangepas van 'n "veranderingsagent" in 'n ongunstige politieke klimaat, na 'n "kataliseerder" en "fasiliteerder" in 'n meer gunstige en oper politieke klimaat. Die gevoel was dat die CBM 'n kataliseerderrol rondom ekonomiese debatvoering kon speel, sodat vryemarkbeginsels deur sosialisties-georiënteerde bevrydingsbewegings aanvaar kon word. In die proses het die CBM hulle rol betreffende sosiale ontwikkeling en gemeenskapsopheffing in heroënskou geneem. Hierop het die CBM hulle aandag op drie terreine toegespits: die ekonomiese debat, gemeenskapsontwikkeling en die demokratisering van besigheid.117 Hierdie strategie was so suksesvol, dat die CBM later aangewys is as fasiliteerder vir die politieke onderhandelings in Suid-Afrika, deur as sekretariaat van Kodesa aangewys te word.118

 

Ekonomiese debat

Met die groter vereniging van die belangrikste rolspelers in die blanke sakegemeenskap in die CBM, gesteun deur swart sakeorganisasies soos Nafcoc, het Suid-Afrikaanse sakelui konsensus oor ekonomiese realiteite en moontlike oplossings daarvoor nagestreef. Dit sou ten beste bereik word om die ekonomiese debat op 'n praktiese vlak te benader.

Ten einde die ekonomiese debat van ideologie weg te stuur, het die CBM gereeld op die ekonomiese realiteite van Suid-Afrika gewys wat werklike optrede vereis het vir wie ook al aan bewind sou kom. Hierdeur het die CBM konsensus oor die ekonomie uitgebou, sleutel belangegroepe bymekaar gebring en die debat daarom verdiep. Die resultaat hiervan was 'n samevloei van gedagtes tussen sakelui, die staat en swart bevrydingsbewegings waar hulle oor die volgende saamgestem het: die noodsaak van groei (wat groei en elemente van herverdeling ingesluit het); die noodsaaklikheid van 'n industriële strategie wat sou fokus op die interne en eksterne markte; die noodsaaklikheid van fiskale en monetêre dissipline en om die regering se uitgawes te beperk.119 Verskille oor die aard van die rol van die staat in die ekonomie en oor watter take die beste deur die staat verrig kon word en watter liefs aan die mark oorgelaat moes word, het nog voorgekom.120 Geleidelik het 'n "nuwe ortodoksheid" in die beskouing van die ekonomie ontwikkel. Dit het die interafhanklikheid tussen groei en die herverdeling van rykdom beklemtoon, waar die een as die grondstof van die ander sou dien - dus verspreiding van rykdom deur groei.121 Dit sou ook die hoeksteen van die Mbeki-administrasie se ekonomiese beleid word, naamlik "redistribution through growth".

Tydens die Carlton-konferensie (23 Mei 1990) - die sakegemeenskap se eerste formele binnelandse uitreikaksie na bevrydingsbewegings - is gesprek oor die vorm van 'n toekomstige ekonomie vir die eerste keer openlik gevoer.122 Die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap wou sien dat die ANC met sy rewolusionêre verlede breek en hulle ekonomiese beleid verduidelik word, sodat duidelikheid verkry kon word of die nuwe Suid-Afrika in 'n "African swamp" sou afgly.123 Tot die verbasing van sakelui het hulle gevind dat die ANC se ekonomiese opvattings nie so ver van hulle eie af gelê het nie. Mandela het verklaar dat die ANC hulle nie teen nasionalisering blindgestaar het nie, maar besef het dat die konsentrasie van ekonomiese magte in 'n paar wit hande sou moes verander. Mandela het ook onomwonde verkondig dat 'n stabiele ekonomie 'n voorvereiste vir politieke verandering was.124

Hierdie versoenende gebaar teenoor Suid-Afrikaanse sakelui is in Julie teenoor die pers125 en in Oktober 1991 tydens 'n banket in die Elangeni Hotel (Durban) weer deur Mandela herhaal.126 Dit het vir sakelui duidelik geraak dat 'n kompromie met die ANC, weens 'n verwatering van hulle sosialistiese beginsels, tot 'n fasiliteringsrol vir sakelui in die politieke onderhandelings kon lei. Weens dié ontwikkeling kon die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap voortaan meer verdraagsaam wees teenoor die "display of hostility" teenoor kapitaal en die bestuurders/beleggers wat kapitaal aangewend het om welvaart te skep. Suid-Afrikaanse sakelui het die standpunt ingeneem dat "ignorant revolutionary rhetoric" 'n manier was om stoom af te blaas.127 Die ANC het weer gewys dat hulle bewus was van die ekonomiese uitdagings wat op 'n post-apartheid staat gewag het, en die rol van sakelui in die verband.128

In gesprekvoering tussen die CBM en die PAC (op 29 September 1990 in Dar-es-Salaam, Tanzanië,129 en van 8 tot 10 Februarie 1991 in Harare, Zimbabwe)130 het die kwessie van sosio-ekonomiese ontwikkeling baie duidelik na vore getree. Weens die praktiese aard van die onderwerp, het dit retoriek uit die debat geweer. Sodoende is sakelui se besef van hulle korporatiewe sosiale verantwoordelikheid om werk te skep en die ekonomie te laat groei, versterk.131 Dit het uitdrukking gevind in sakelui se voorstelle vir "sosiale kontrakte" wat die privaatsektor in staat sou stel om die nuwe gemeenskap oor 'n tydperk van vyf tot sewe jaar te help.

Die stigting van die MEF in 1992 dui op die mate waartoe die staat, sakelui en veral georganiseerde arbeid juis weens 'n praktiese ingesteldheid, nader aan mekaar begin beweeg het. Die doel van die MEF was om 'n forum te stig waarin die ekonomiese rolspelers die ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig gestaar het, kon aanspreek. Dit was dus 'n poging om te verseker dat kritiese ekonomiese sake aandag verkry, terwyl die politieke onderhandelings voortgegaan het.132 Die forum het die NP-regering tot deursigtigheid ten opsigte van ekonomiese beleidsformulering verbind en het 'n gemeenskaplike inligtingsdatabasis verskaf vir voortgesette besprekings.133 Daardeur het Derek Keys, die nuwe Minister van Finansies, se plan om die apartheidekonomie op 'n samewerkende en konsultatiewe basis deur liberalisering en deregulering te herstruktureer, beslag gekry. Dit het die grondslag vir die post-apartheid ekonomiese bestel gelê.

 

Gemeenskapsontwikkeling

In 1991 reeds is gemeenskapsontwikkeling in CBM-streekswerksessies aangespreek.134 Vir hierdie doelwit is vier groepe met 'n belang in ontwikkeling geïdentifiseer en mee gekonsulteer: die regering, gemeenskapsorganisasies (insluitende politieke partye), die privaatsektor en nie-regeringsorganisasies. Die werksessies was daarop gerig om onder die genoemde rolspelers gemeenskapsontwikkeling deur beplanning ten opsigte van sake soos huisvesting en gesondheid te koördineer, deur rolspelers aan mekaar se werk bloot te stel en hulle samewerking en aanvaarbare leweringsmeganismes te laat ondersoek. Eloff het ook aangetoon dat die CBM "op aanvraag" 'n kataliseringsrol in die skep van aanvaarbare en doeltreffende strukture vir ontwikkeling op plaaslike vlak kon speel.135 Soos met die politieke werksessies, het die praktiese inslag van hierdie werksessies die ekonomiese debat van ideologiese sake na praktiese sake verskuif. Dit het ook die vermoë van sakelui rondom organisasie en hulpbronne geïllustreer.

 

Demokratisering van besigheid

Die CBM het gefokus op hoe korporatiewe lede intern moes verander om by die veranderende politieke klimaat aan te pas. Dit was nie net daarop toegespits om sake te rig op winsneming in 'n post-apartheid omgewing nie, maar ook om sake se morele onderbou te versterk, deur die klem op waardes te plaas en demokratiseringsaksies in die werkplek deur te voer.136

 

Evaluering van die CBM

Die stigting van die CBM verteenwoordig 'n tydvak van volwassewording in die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap, waar blanke sakelui grotendeels saamgesmelt het en die steun van swart sakelui gehad het. Hierdie vereniging het dit moontlik gemaak dat Suid-Afrikaanse sakelui hulle belange op die politieke voorgrond kon stoot - belange wat in konflik met die belange van beide die NP-regering137 en die ANC en ander sosialisties georiënteerde bevrydingsbewegings138 was.

Met fragmentasie in die sakegemeenskap uit die weg geruim, was die CBM in 'n sterker posisie om druk op die regering te plaas om sakelui se belange te beskerm. Hierdie belange was 'n onderhandelde politieke skikking en 'n vryemarkekonomie. Die sakegemeenskap se posisie is versterk deur die meer verligte rigting wat die regering ingeslaan het en die gevolglike aanklank wat hulle by die regering gevind het, maar ook omdat die regering sakelui se rol om onrus deur ekonomiese groei te temper, erken het. Hierdie erkenning het gesorg dat sakelui se waarskuwings oor ekonomiese probleme wat die land in die gesig gestaar het en wat oor die toekoms sou opbou, ernstig deur politici opgeneem is. Weens kommer oor die impak van 'n swak ekonomie op die staat, het politici veral aandagtig geluister na die aanbevelings van sakelui, ook die in die CBM. 'n Swak staat sou die NP se bedingingsmag om die onderhandelingstafel aansienlik ingekort het.

Die aanvanklike rol van die CBM, dié van veranderingsagent, het die Suid-Afrikaanse gemeenskap op politieke verandering voorberei. In hierdie opsig het dit 'n waardestelsel gepropageer wat brûe in die samelewing gebou het en onversetlike houdings by teenstanders afgebreek het. Sodanig is 'n ideologies bevryde fondament gelê vanwaar alle ekonomiese rolspelers met mekaar kon konsulteer, idees gewissel kon word, geharde menings getemper kon word en misverstande uit die weg geruim kon word. Die CBM se klem op die demokratisering van Suid-Afrikaanse besigheid het 'n kragtige raamwerk vir goeie bestuur tot gevolg gehad - die internasionaal aangeprese King-kodes. Hierdie waardegrondslag het besigheid verbind aan 'n regverdige arbeidsomgewing, met bewustheid oor sy rol in die gemeenskap en omgewing. Hierdie rol het vertroue in sakelui se erns met politieke verandering herstel, wat op sy beurt weer debat vir 'n brugbourol vergemaklik het. Vir hierdie bydrae tot die wonderwerk van 'n geweldlose magsoordrag moet sakelui krediet gegee word.

Om sakelui te kritiseer dat hulle in eie belang opgetree het, is soos om 'n hart te kritiseer dat dit bloed sirkuleer. Sakelui wou ten alle koste verseker het dat politici 'n onderhandelde skikking aanvaar om sodoende 'n rewolusie af te weer. 'n Rewolusie en die ekonomiese impak daarvan sou onmeetbare skade vir hulle eie belange, maar ook vir die land en sy mense ingehou het. Dit kon tot 'n sosialistiese bestel gelei het waar Suid-Afrikaanse maatskappye genasionaliseer sou word of waar grootskaalse regeringsinmenging in die ekonomie sou plaasvind. Sakelui was bewus daarvan dat hulle 'n konsensusstrategie kon aanwend om tussen die staat en swart bevrydingsbewegings te fasiliteer om hulle tot 'n politieke vergelyk te bring, omdat hulle in 'n ideale posisie was, gegewe hulle organisasievermoë en toegang tot hulpbronne.139 'n Konsensusstrategie sou ook gemene grond vir latere gesprekvoering tussen die twee opponerende politieke groepe ïdentifiseer. Dog, ten spyte daarvan dat sakelui hulle eie belange beskerm het, is dit duidelik dat die belang van 'n politieke herskikking en 'n post-apartheid vryemarkekonomie nie los gestaan het van hulle sosio-ekonomiese verantwoordelikheid nie. Dit is juis deur die swart sakegemeenskap en die PAC vereis, selfs in ruil vir openlike steun teen disinvesteringsaksies. Sanksies kon ekonomiese groei benadeel het, wat 'n negatiewe uitwerking op Swart Ekonomiese Bemagtiging kon gehad het.

Gemeenskapsbetrokkenheid en sosiale opheffing was ook in die belang van Suid-Afrikaanse sakelui, omdat dit in die praktyk geïllustreer het waarom 'n vryemarkstelsel, eerder as sosialistiese tegnieke soos nasionalisering, ekonomiese ongelykheid kon aanspreek.

Die CBM se brugbourol na die swart gemeenskap, swart bevrydingsbewegings en arbeidsorganisasies het Suid-Afrikaanse besigheid se politieke invloed onder die bevrydingsbewegings en die regering versterk en die grondslag vir sakelui se suksesvolle fasiliteringsrol in die politieke veranderingsproses gelê. In 'n land waar mense van verskillende rasse nie van mekaar se standpunte bewus was nie en mekaar bloot net nie geken het nie, was 'n brugbourol uiters noodsaaklik om onderhandelings vir 'n nuwe politieke bestel te loods. Slegs deur onderlinge gesprek kon dit moontlik wees om vas te stel of 'n rewolusie afgeweer kon word, hoeveel van die sosialistiese ideologie na die val van kommunisme nog by bevrydingsbewegings oorgebly het en om daarna invloed te laat geld sodat vryemarkbeginsels bevorder kon word.140

Die katalisatorrol van die CBM het rigting aan 'n post-apartheid ekonomiese bestel gegee, omdat dit die emosionele debat oor ekonomiese bevryding van die meerderheid Suid-Afrikaners van 'n ideologiese onderbou losgemaak het. Samewerking van ekonomiese rolspelers in die MEF het hierdie punt bevestig. Deur hierdie rol is die ekonomiese debat verdiep, sleutelbelangegroepe bymekaar gebring en agtergeblewe gemeenskappe as prioriteit vir opheffing uitgesonder.

 

Gevolgtrekking

Die stigting van die CBM het 'n verenigde fase in die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap oor taal-, kultuur- en (tot 'n mate) rassegrense ingelui. 'n Meer gekonsolideerde sakegemeenskap het aan sakelui die geleentheid gebied om 'n sterker politieke rol in die tydperk van politieke transformasie in Suid-Afrika te speel ter ondersteuning van ander burgelike instansies en kerklike organisasies. Hierdie rol was gerig op die verkryging van 'n onderhandelde skikking, die beskerming van 'n vryemarkekonomie en die aanwendig van Swart Ekonomiese Bemagtiging om die ekonomie vir almal oop te stel. Die stigting van die CBM het in vele opsigte die finale vereniging van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in BUSA moontlik gemaak.

 

 

Salomon Hoogenraad-Vermaak is 'n nagraadse student aan die Universiteit van Johannesburg.
Prof. Grietjie Verhoef is 'n professor in Ekonomiese en Rekeningkundige Geskiedenis in die Departement Rekeningkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Sy is tans besig met die Geskiedenis van Sanlam en die Geskiedenis van die professionele rekenmeesters in Suid-Afrika.

 

 

1. Die Afrikaanse benaming "Konsultatiewe Sakebeweging" het nie inslag gevind nie.
2. Y. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies oor die invloed van die Suid-Afrikaanse sakesektor op openbare beleidsformulering." D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Kaapstad, 1990, p 300.         [ Links ]
3. F.v.Z. Slabbert, The quest for democracy. South Africa in transition (Penguin, Londen, 1992).         [ Links ]
4. African National Congress, Submission to special Truth and Reconciliation Commission hearing on the role of business (ANC, Johannesburg, 1997).         [ Links ]
5. Sien M. Lipton, "The role of business under apartheid: Revisiting the debate", in H.E. Stolten, (ed), History making and present day politics: The meaning of collective memory in South Africa (Nordiska Afrikainstitutet, Uppsala, 2007), p 297.         [ Links ]
6. H. Giliomee, "Ethnic business and economic empowerment: The Afrikaner case, 1915-1970", South African Journal of Economics, 76, 4, 2008, pp 765-788.         [ Links ]
7. A. Sparks, Tomorrow is another country. The inside story of South Africa's negotiated revolution (Struik, Sandton, 1994);         [ Links ] S. Friedman and D. Atkinson, The small miracle. South Africa's negotiated settlement (Ravan, Johannesburg, 1994);         [ Links ] P. Waldmeier, Anatomy of a miracle: The end of apartheid and the birth of a new South Africa (Viking, New York, 1997).         [ Links ]
8. Vergelyk onderhoud met dr. Theuns Eloff, Noord-Wes Universiteit, 12 Februarie 2008 en T. Eloff, "The business community after apartheid and beyond - An analysis of business' engagement with (part of) the old and the new South Africa." Ongepubliseerde artikel voorberei vir die "After Apartheid"-konferensies, Augustus 2006, Kaapstad en April 2007, New Haven, Noord-Wes Universiteit, p 9.
9. P. Gastrow, Bargaining for peace - South Africa and the National Peace Accord (United States Institute of Peace Press, Washington, 1995).         [ Links ]
10. Sien byvoorbeeld: M. Legassick, "Legislation, ideology and economy", Journal of Southern African Studies, 1, 1, 1974, pp 5-35;         [ Links ] H. Wolpe, "Capitalism and cheap labour power in South Africa: From segregation to apartheid", Economy and Society, 1, 4, 1972, pp 425-456.         [ Links ]
11. Sien: S. Terreblanche, A history of inequality in South Africa 1652-2002 (University of Natal Press, Pietermaritzburg, 2005), Chapter 9, pp 306-312.         [ Links ]
12. P. Bond, Elite Transformation: From Apartheid to Neoliberalism in South Africa (Pluto Press, London, 2000);         [ Links ] D.T. McKinley, The ANC and the Liberation Struggle: A Critical Political Biography (Pluto Press, London, 1997).         [ Links ]
13. Lipton, "The role of business under apartheid: Revisiting the debate", p 297.
14. Die indeling is oorspronklik deur Sadie gemaak. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", p 106.
15. 'n Verwysing na etnisiteit is vir die doeleindes van analise noodsaaklik. Dit word noodwendig aangetref by navorsing waar 'n spesifieke groep in die diverse Suid-Afrikaanse samelewing as fokus dien. Vergelyk byvoorbeeld: A.H. van Wyk, "Die rol van verligtes in die Nasionale Party in die politieke ontmagtiging van die Afrikaner, 1966-1994." M.A.-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 2005, p 2
16. Die National African Chamber of Commerce (Nacoc) is in 1964 in Orlando gestig, waarna dit in 1969 as Nafcoc onder die sambreel van 'n federale handelskamer herorganiseer het. Vergelyk www.mcli.co.za/mcli-web/members/nafcoc.htm, toegang 27 Februarie 2010. Nafcoc het ook Indier-verteenwoordiging gehad; vergelyk Natal Post, 20 February 1985, p 1.
17. Die aanhaling is uit Parsons se voorlegging namens die Suid-Afrikaanse Besigheidskamer (Sabek) aan die WVK oor sakelui se rol gedurende apartheid geneem, "We strove to undermine apartheid: SACOB", gedateer 11 November 1997, www.justice.gov.za/trc/media/1997/9711/s971111d.html, toegang 25 Januarie 2010.
18. The Star, 6 August 1985, p 8.
19. Die Groepsgebiedewet het die verkryging van banklenings vir sakegeleenthede bemoeilik. Eers teen 1988 is wetgewing rakende vennootskap in swart besigheid ingestel, lisensiewette hersien, 'n 30-jaar pag vir swartes in stedelike gebiede ingestel en die sentrale stedelike gebied vir swartes oopgestel. Sien Finance Week, 25 August 1988, p 25.
20. Finance Week, 25 August 1988, p 25.
21. Leon Louw noem dat swartes in die tweede helfte van die vorige eeu "spectacularly successful" in besigheid was, maar dat wetgewing wat hulle verhoed het om met blanke sakelui te kompeteer, swart vooruitgang (black advancement) vernietig het. The Cape Times, 7 July 1986, p 7.
22. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", p 106; Rapport, 22 Februarie 1987, p 3.
23. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", pp 105-111.
24. Finansies en Tegniek, 6 Junie 1988, p 66; Finansies en Tegniek, 10 Junie 1988, p 5; Finansies en Tegniek, 10 Junie 1988, p 40; Finansies en Tegniek, 10 Junie 1988, p 20.
25. Finansies en Tegniek, 10 Junie 1988, p 40.
26. Onderhoud met Michael Spicer, Business Leadership South Africa-kantore, St Margaret's, Rockridgeweg 3, Parktown, 10 Julie 2008. Spicer is hoof uitvoerende beampte van Business Leadership South Africa (BLSA) en 'n prominente figuur in die Engelssprekende sakegemeenskap.
27. Onderhoud met Michael Spicer, 10 Julie 2008.
28. Finance Week, 25 August 1988, p 25.
29. The Wall Street Journal, 11 November 1985, p 1; Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (hierna KAB): 2562 Stedelike Stigting argief (ongeorden): Daily Letter File November 1986, "Internal memorandum 12 Junie 1986" en "Memorandum on Economic Strategy" daarby aangeheg, geskryf deur J. Ogilvie Thompson, Johannesburg, 7 Desember 1985.
30. Vergelyk: The Star, 30 July 1985, p 9.
31. Vergelyk: Van Wyk, "Die rol van verligtes".
32. Vergelyk: S.C.J. Hoogenraad-Vermaak, "'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikanersakelui in die vestiging van 'n nuwe politieke bestel: 1985-1992." D.Litt. et Phil.-proefskrif, Universiteit van Johannesburg, 2010, pp 154-219.         [ Links ]
33. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", p 126.
34. Nasionalis, Julie 1988, p 4.
35. Daily Dispatch, 5 February 1985, p 3.
36. Business Day, 5 December 1985, p 3.
37. City Press, 26 July 1992, p xiv.
38. Fair Lady, 17 August 1988, p 66.
39. Sien Pretoria News, 19 February 1987, p 5.
40. Financial Mail, 23 August 1985, p 110.
41. Sowetan, 12 August 1985, p 11; Weekly Mail, 24 July 1986, p 4.
42. Hoogenraad-Vermaak, '"n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 186-205.
43. Onderhoud met Michael Spicer, 10 Julie 2008.
44. Sankorp het'n gelyke geleenthede strategie begin volg om gelyke geleenthede vir sy werkers te voorsien, gebaseer op modelle van leiers op die gebied soos Barlows, AAC en IBM. Vergelyk Sankorpargief, Stellenbosch: "Sankorp Management, 4/11/86" en Sankorpargief, Stellenbosch: "Sankorp Discussion Document: Equal Employment Opportunity, Mei 1987", cp 1. Met die hulp van Barlows het Nafcoc die African Bank gestig, sodat geld vir grondlose swartes beskikbaar sou wees om besighede mee te begin; City Press, 28 August 1988, p 3 en Finance Week, 25 August 1988, p 25. Barlows het ook gehelp met 'n werkskeppingsprojek; vergelyk The Citizen, 13 December 1985, p 25, en Oosterlig, 13 Desember 1985, p 4.
45. KAB: A2562 Stedelike Stigting Argief (ongeorden): Daily Letter File 1988, "Korrespondensie 14 Augustus 1987, Memo 5 Desember 1989 aan Nestlé se mnr. Sealy-Fisher." Vergelyk ook KAB: A2562, Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Daily Letter File 1986, "Korrespondensie 21 Januarie 1987".
46. Die Joint Management Development Project is ook met die hulp van die Stedelike Stigting, Black Management Forum (BMF), Nafcoc en Paryse Handelskamer (van Europa) gestig. Dit het gefokus op opleiding vir swart bestuurders. Business Day, 11 December 1985, p 2; Nasionalis, Maart 1988, p 3.
47. KAB: A2562, Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Dr. Gerrit Viljoen, adv. A.J. Ardington, Anglo American Corporation, "Korrespondensie 18 Junie 1987". Hierin word Viljoen oor moontlike onruste in Botshabelo, QwaQwa en die Oranje Vrystaat gewaarsku weens die beoogde inlywing van dié gebiede by Botshabelo. Vergelyk ook: Hoogenraad-Vermaak, '"n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 171-205.
48. Business Day, 11 December 1985, p 2.
49. KAB: A2562, Stedelike Stigting Argief (ongeorden), Lêer CBI, "Leeds Castle 10.3.86". Dit toon dat Motsuenyane tydens die Leeds Castle-beraad 'n oorsig oor swart sakelui se siening van sanksies gegee het (die titel van sy toespraak was, "Black Business Perspective"). Vergelyk ook Nasionalis, Maart 1988, p 6.
50. Die Vaderland, 9 Januarie 1985, p 8; Die Volksblad, 8 Januarie 1985, p 1; Volkshandel, 22 Februarie 1985, p 12.
51. Weekend Post, 21 September 1985, p 9; Business Day, 20 September 1985, p 2.
52. City Press, 2 June 1985, p 7; The Citizen, 17 February 1986, p 3; Sowetan, 17 February 1986, p 2.
53. http://www.mbendi.com/orgs/cjkh.htm, toegang 2 Maart 2010.
54. Beeld, 21 Februarie 1991, p 6.
55. Vergelyk byvoorbeeld: Finance Week, 25 August 1988, p 25.
56. Onderhoud met Attie Du Plessis, Moolenhof, Johannesburg, 13 Mei 2008. Du Plessis is in 1990 as die president van die AHI aangewys en was ook ten nouste by die stigting van BUSA betrokke.
57. Finance Week, 25 August 1988, p 25.
58. Onderhoud met Attie Du Plessis, 13 Mei 2008.
59. http://www.busa.org.za/, toegang 2 Maart 2010. BUSA se webblad lys 49 lede, waaronder die vernaamste: Agri SA, AHI, Black Lawyers Association (BLA), BMF, BLSA, FABCOS en SEIFSA.
60. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", p 106.
61. Raymond Ackerman het reguit gevra dat met Mandela onderhandel moet word. Finansies en Tegniek, 30 Augustus 1985, p 27.
62. Die konsep "lydelike verset" is die eerste keer deur N.P. Van Wyk Louw op die Suid-Afrikaanse konteks toegepas. Vergelyk ook H.O. Terblanche, "Lojale verset: Piet Cillié en die oop gesprek", Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 44, 4, 2004, pp 263-275.         [ Links ]
63. E-pos korrespondensie: S. Hoogenraad-Vermaak/dr. Robin Lee van die Stedelike Stigting, 27 April 2009; Onderhoud met oudregter Jan Steyn, Constantia, Kaapstad, 8 April 2009.
64. S. Jones, (ed), The decline of the South African economy (Edward Elgar Publishing Inc, Cheltenham, 2002);         [ Links ] D. Goedhuys, "South African monetary policy in the 1980's: Years of reform and foreign financial aggression", South African Journal of Economic History, 9, 2, 1994, pp 145-164.         [ Links ]
65. Michie and V. Padayachee, The political economy of South Africa's transition (Dreyden Press, Londen, 1997);         [ Links ] Jones (ed), The decline of the South African economy (Edward Elgar Publishing Inc, Cheltenham, 2002), pp 1-3;         [ Links ] G. Maasdorp, "Economic survey, 1970-2000", in S. Jones, (ed), The decline of the South African economy, pp 7-10.         [ Links ]
66. G. Maasdorp, "Economic survey, 1970-2000", pp 7-28.         [ Links ] Vergelyk ook: H. Marais, Limits to change, The political economy of transformation (University of Cape Town Press, Cape Town, 2001).         [ Links ]
67. G.J. Smith, "Globalisation and the political economy of post apartheid South Africa: The possibilities and constraints for an African state." MA-dissertation, University of Cape Town, 2003, p 30;         [ Links ] S. Jones (ed), "The mining sector 1970-2000", in S. Jones, (ed), The decline of the South African economy (Edward Elgar Publishing Inc, Cheltenham, 2002), pp 68-80.         [ Links ]
68. Onderhoud met Barend du Plessis, Kosmos, 19 November 2008. Sien ook G. Maasdorp, "Economic survey, 1970-2000", pp 14-18.
69. Vergelyk Jones (ed), The decline of the South African economy, p 4.
70. Vir 'n analise van die impak van hierdie toespraak; vergelyk: Hoogenraad-Vermaak, "'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 171-186.
71. Finansies en Tegniek, 30 Augustus 1985, p 27; Business Day, 20 September 1985, p 9; The Star, 30 August 1985, p 13; Die Burger, 30 Augustus 1985, p 30; The Star, 6 August 1985, p 16; City Press, 11 August 1985, p 6; Eastern Province Herald, 6 September 1985, p 6; Sunday Tribune, 1 September 1985, p 3; The Star, 26 September 1985, p 1.
72. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies", p 299. Attie du Plessis (onderhoud 13 Mei 2008) bevestig hierdie "lydelike verset". E. Dommisse beskryf dr. Anton Rupert se lydelike verset teen die regering se ekonomiese beleid: E. Dommisse, Anton Rupert: 'n Lewensverhaal (Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2005).
73. The Sunday Star, 22 September 1985, p 19; Die Transvaler, 2 September 1985, p 8.
74. Die Transvaler, 2 September 1985, p 8.
75. The Sunday Star, 22 September 1985, p 19 en Sunday Tribune, 1 September 1985, p 18.
76. The Sunday Star, 22 September 1985, p 19 en Sunday Tribune, 1 September 1985, p 18.
77. Sunday Tribune, 1 September 1985, p 1.
78. Die AWB stuur byvoorbeeld 'n telex aan die ANC wat die organisasie waarsku om uit die politiek te bly. Sien: The Star, 26 May 1986, p 1.
79. Onderhoud met Barend Du Plessis, 19 November 2008.
80. Hoogenraad-Vermaak, "'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 96-116, 171-186.
81. Sadie, "Regerings en sake-elite se persepsies"; J. Maree, "Trade unions and corporatism in South Africa", Transformation, 21, 1993, pp 24-54.         [ Links ]
82. In 1987 besoek ongeveer 60 Afrikaners - insluitende sakelui - onder aanvoering van Van Zyl Slabbert, die ANC in Dakar (Senegal). H. Giliomee, Die Afrikaners: 'n Biografie (Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2004), p 584;         [ Links ] Van Wyk, "Die rol van verligtes", p 99.
83, Hoogenraad-Vermaak, "'n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 171-205.
84. D.F. Walsh, P.J. Best and K.B. Rai, Governing through turbulence: Leadership and change in the late twentieth century (Praeger Publishers, Westport, 1995), pp 4-5.         [ Links ]
85. Nafcoc het gereeld gedreig om hulle standpunt oor sanksies en disinvestering te hersien en het ook die regering se voorgestelde National Statutory Council verwerp. Hulle was onder druk van ander swart organisasies om disinvestering goed te keur. Vergelyk byvoorbeeld: The Cape Times, 9 July 1988, p 8; Pretoria News, 24 July 1986, p 3; The Citizen, 10 July 1986, p 10; The Cape Times, 8 July 1986, p 7.
86. City Press, 2 June 1985, p 7; Sowetan, 15 July 1987, p 9; Business Day, 13 July 1987, p 4; Beeld, 29 Mei 1986, p 2; The Natal Mercury, 29 May 1986, p 9.
87. Business Day, 10 July 1986, p 3; Daily Dispatch, 10 July 1986, p 5; Business Day, March 1987, p 4.
88. Nel het ook konsultasiewerk vir Nafcoc, BMF en die FCI gedoen -Financial Mail, 9 December 1988, p 40.
89. Weekly Mail, 12 August 1988, p 22; Sowetan, 9 August 1988, p 4; Afrikaner, 17 August 1988, p 12; Weekly Mail, 19/25 August 1988, p 16.
90. Weekly Mail, 19/25 August 1988, p 16.
91. Sowetan, 9 August 1988, p 4; Weekly Mail, 12/18 August 1988, p 20.
92. Weekly Mail, 12/18 August 1988, p 20; The Star, 29 August 1988, p 9.
93. Finansies en Tegniek, 3 Mei 1991, p 49.
94. Finansies en Tegniek, 3 Mei 1991, p 49.
95. Vrye Weekblad, 9 Junie 1989, p 10; Vrye Weekblad, 9 Junie 1989, p 16.
96. Weekly Mail, 19/25 August 1988, p 16; Weekend Argus, 13 August 1988, p 6.
97. Afrikaner, 17 Augustus 1988, p 12.
98. The Aida Parker Newsletter, August 1989, p 6.
99. Afrikaner, 9 Mei 1990, p 5; Afrikaner, 31 Julie 1991, p 3.
100. The Aida Parker Newsletter, August 1989, p 6.
101. Hierdie frase van Lenin oor die kapitalis se geldsug, is ook deur P.W. Botha tydens die Dakarsending geuiter.
102. Afrikaner, 31 Julie 1991, p 3.
103. Weekly Mail, 12/18 August 1988, p 20; Weekly Mail, 19/25 August 1988, p 16; The Star, 29 August 1988, p 9; Financial Mail, 9 December 1988, p 40; Weekend Argus, 13 August 1988, p 6.
104. Sowetan, 9 August 1988, p 4.
105. Weekly Mail, 12 August 1988, p 22; Sowetan, 9 August 1988, p 4.
106. Weekly Mail, 12 August 1988, p 22; Sowetan, 9 August 1988, p 4.
107. Vrye Weekblad, 1 Maart 1991, p 8.
108. Business Day, 10 November 1992, p 3.
109. Uit hierdie benadering het die Sankorp Methold/NAIL transaksie, die eerste Suid-Afrikaanse Swart Ekonomiese Bemagtigingstransaksie, in 1993 ontstaan.
110. Business Day, 10 November 1992, p 3.
111. Onderhoud met Attie Du Plessis, 13 Mei 2008.
112. Hoogenraad-Vermaak, "n Kritiese ondersoek na die bydrae van Afrikaner-sakelui", pp 300- 341.
113. Weekly Mail, 12 August 1988, p 22; Business Day, 26 April 1990, p P1 [sic]; The Star, 26 April 1990, p 24; The Star, 22 May 1990, p 5; The Star, 29 August 1988, p 9.
114. Business Day, 26 April 1990, p P1 [sic]; The Star, 26 April 1990, p 24; The Star, 22 May 1990, p 5.
115. Weekly Mail, 12 August 1988, p 22; The Star, 29 August 1988, p 9.
116. The Star, 29 August 1988, p 9.
117. Finansies en Tegniek, 3 Mei 1991, p 49; Financial Mail, 18 October 1991, p 28.
118. T. Eloff, "The business community after apartheid and beyond - An analysis of business' engagement with (part of) the old and the new South Africa." Ongepubliseerde artikel voorberei vir die "After Apartheid"-konferensies, Augustus 2006, Kaapstad en April 2007, New Haven, Noordwes-Universiteit.
119. CBM, "A Summary and Analysis of Economic Debate During Transition." Ongepubliseerde finale verslag van Projek Ekonomiese Debat, Januarie 1992.
120. The Sunday Star, 12 January 1992, p 3.
121. Vrye Weekblad, 1 Maart 1991, p 8.
122. The Aida Parker Newsletter, August 1989, p 6; The Star, 26 April 1990, p 24; The Citizen, 26 April 1990, p 4; The Star, 22 May 1990, p 5; Business Day, 23 May 1990, p 1.
123. Business Day, 23 May 1990, p 6.
124. The Aida Parker Newsletter, August 1989, p 6; The Star, 26 April 1990, p 24; The Citizen, 26 April 1990, p 4; The Star, 22 May 1990, p 5; Business Day, 23 May 1990, p 1.
125. Afrikaner, 31 Julie 1991, p 3. Die Afrikaner beskou die uitspraak natuurlik as "ene heuning en stroop" teenoor die kapitaalbesitters omdat die ANC en ander bevrydingsbewegings "geld" en "borge" soek.
126. The Leader, 18 October 1991, p 8.
127. The Star, 24 May 1990, p 1.
128. The Leader, 18 October 1991, p 8.
129. Business Day, 28 September 1990, p 1.
130. The Sunday Star, 17 February 1991, p 14.
131. Gemeenskapsontwikkeling was nie 'n nuwe begrip vir sakelui nie, omdat dit ook by die Stedelike Stigting en CBM 'n fokusarea was.
132. D. Marsden, "The Macro Economic Forum - prospects and problems", South African Foundation Review, 18, 8, 1992, p 7;         [ Links ] Weekly Mail, 24/30 January 1992, p 9.
133. Marsden, "The Macro Economic Forum", p 7.
134. Financial Mail, 18 October 1991, p 28.
135. Finansies en Tegniek, 3 May 1991, p 49; Financial Mail, 18 October 1991, p 28.
136. Finansies en Tegniek, 3 May 1991, p 49.
137. Ten opsigte van blanke politieke mag.
138. Ten opsigte van ekonomiese uitkyk.
139. Sien T. Eloff, "The business community after apartheid and beyond"; KAB: A2562, Stedelike Stigting Argief, Background material to speeches File 7 E/6, "Second draft: Business in a changing South Africa: Speech to be delivered at the international conference on South Africa in transition", New York, 29 September 1987 to 2 October 1987, Ann Bernstein.
140. Business Day, 23 May 1990, p 6.