SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 n.2 Durban Nov. 2010

 

IN MEMORIAM

 

Maria Hugo - soeker na waarheid

 

 

Japie Brits

 

 

Ik meen te weten, dat mijn methode is om met twijfel te beginnen
en door die twijfel heen te trachten tot zekerheid te komen.

Jan Romein

Met die afsterwe van dr. Maria Hugo op 5 Augustus 2010 is 'n belangrike skakel met die verlede verbreek. Sy was die laaste van 'n geslag Afrikanerhistorici wat in die 1940s afgestudeer en begin publiseer het. Sy en dr. Anna Böeseken was ook die invloedrykste onder die Afrikaner-vrouehistorici van hulle tyd. Maria Hugo (Ria, soos sy onder haar tydgenote bekend was) se 93 lewensjare was in vele opsigte ryk geskakeerd - al was die laaste jare hoe moeilik.

Sy het in die Rustenburg-distrik grootgeword, waar haar pa hoof van 'n plaasskool was - 'n man wat 'n groot invloed op haar jong lewe gehad het. Na haar matrikulasie aan die Hoërskool Rustenburg, is sy na die destydse Normaalkollege, Pretoria, waar sy in 1937 die Transvaalse Onderwysdiploma verwerf het. Aan die Universiteit van Pretoria het sy in 1939 die B.A.- en in 1943 die M.A.-graad behaal, albei met lof. Drie jaar later het sy aan UP gepromoveer met die proefskrif Die Stemregvraagstuk in die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Maria Hugo was 'n deeglike en noukeurige navorser wat, eie aan die historiese metode van die Ranke-tradisie, 'n bron onbevange en met omsigtigheid betrag het. Beide haar magisterverhandeling, Die Kruger-Ultimatum, Vier Maande van Spanning (1943) en doktorale proefskrif oor die stemregkwessie (1946) wat in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis opgeneem is, bly gesaghebbende en oorspronklike werke oor die oorsake van die Tweede Anglo-Boereoorlog. Haar bronnestudie was omvattend, die bronnekritiek noukeurig, die sintese logies en haar gevolgtrekkinge oorwoë. Latere hervertolkings van die onderwerp het nie Hugo se basiese bevindinge omvergewerp nie.

Die belangrikste vormingsjare as historikus moes nog kom. Sy is in 1949 na die Universiteit van Amsterdam om twee jaar lank onder die bekende prof. Jan Romein Teoretiese Geskiedenis te bestudeer. Terselfdertyd het sy ook klas geloop in Kontemporêre Geskiedenis by prof. Jacques Presser. Voor haar terugkeer na Suid-Afrika het sy 'n tyd lank navorsing in die Public Record Office in Londen gedoen. Die opvoedkunde het haar ook altyd na aan die hart gelê, en na haar terugkeer het sy nege jaar lank onderwys gegee, onder meer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. Daarna was sy hoof van die Departement Teoretiese en Historiese Opvoedkunde aan die Onderwyskollege in Pretoria. Van 1972 af was sy redaksielid van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (SABW), waar sy die laaste bykans vyftien jaar van haar loopbaan gewerk het.

Maria Hugo was getoë in die opstuwende klimaat van Afrikanernasionalisme in die 1930s en 1940s. Die heroïese in die Afrikanergeskiedenis het haar aangegryp. So ook diensvaardigheid aan land en volk. Vandaar haar historiese roman Piet Retief (1961) en 'n Volk Praat met Sy Leier (1977). Laasgenoemde bevat 'n versameling van ere-adresse aan genl. J.B.M. Hertzog, vir wie sy 'n groot bewondering gehad het. Terselfdertyd is dit ook 'n waardevolle bronnepublikasie om hierdie vorm van eerbetuiging te ontleed. Piet Retief het hand aan hand gegaan met haar belangstelling in die historiese roman, wat ook in 1961 tot uiting gekom het in 'n artikel oor F.A.Venter se Geknelde Land. Interessant genoeg het sy selfs ná haar blootstelling aan die veel groter veld van Europese geskiedskrywing, steeds belang gestel het om kleiner monografieë oor Suid-Afrikaanse onderwerpe, wat dikwels nie indringende primêre navorsing vereis het nie, te skryf.

Hugo se sterk identifisering met die Afrikaanse taal en kultuur het nietemin nie van haar 'n kudde-Afrikaner gemaak nie. Daarvoor was sy té individualisties en krities ingestel.

Romein, wat groot aansien in die 1940s en 1950s in Europa geniet het, het ongetwyfeld die grootste bydrae tot Maria Hugo se vorming gelewer. Dit was hy wat die beoefening van teoretiese geskiedenis nuwe aansien gegee het. Hugo het hom heelhartig gesteun en ook in Suid-Afrika Romein se benadering bepleit. Benewens 'n artikel oor Romein en 'n bydrae in 'n versamelbundel ter ere van Romein op sy sestigste verjaardag, was Causaliteit in die Geskiedwetenskap: 'n Metodologiese Benadering (1951) die belangrikste werk wat uit Hugo se verbintenis met hom gespruit het. Hoewel dié onderwerp reeds deur verskeie befaamde historici in Brittanje en Europa aangeraak is, het Hugo baanbrekerswerk in Suid-Afrika met hierdie studie gedoen. Deur die verklaringsmodel wat kousale beginsels in die historiese metode met dié van die natuurwetenskappe te vergelyk, ten einde die aard van historiese verskynsels te ontleed, het sy 'n belangrike bydrae tot die teoretiese geskiedbeoefening van die 1950s en 1960s gelewer. Dié boek is jare lank by Afrikaanse universiteite voorgeskryf.

Hugo se belangstelling het nog wyer gestrek en ook die biografie as genre omvat. Die inspirasie het waarskynlik weer van Romein gekom wat 'n boek oor die onderwerp gepubliseer het. Hugo het oor die ingewikkelde interaksie van die menslike psige en die gebeurtenisse binne sy bewustelike ervaringsveld besin en tot die slotsom gekom dat in so 'n ondersoek die historikus dikwels vakwetenskaplike en skeppende kunstenaar tegelyk word.

Hoewel sy in haar praktiese geskiedskrywing 'n Rankeaan was, het dit geensins beteken dat Hugo 'n verstarde benadering oor bronne en bronnekritiek gehad het nie. Sy het met beangstelling kennis geneem van nuwe vorme van historiese getuienis en veranderende vraagstelling aan die verlede. Ook het die Ranke-tradisie haar in een opsig glad nie aangestaan nie, naamlik die eng fokus op die politiek en op magsfigure. Dit was vir haar 'n leemte in die Afrikanergeskiedskrywing dat daar soveel aandag aan politieke geskiedskrywing en so min aan sosiaal-ekonomiese temas geskenk word. Aan die ander kant was sy lugtig vir die assimilasie van ander dissiplines met die geskiedeniswetenskap. Sy was gesteld op die outonomie van die historiese dissipline en kon geen vat kry aan die multidissiplinêre benadering van die Franse Annales-skool nie. Sy was skepties oor die beoefening van eietydse geskiedenis, omdat die perspektief van tydsafstand ontbreek.

Hugo se skoling in die geskiedwetenskap en ondervinding in die vakmetodiek het haar 'n natuurlike kandidaat vir 'n universiteitspos gemaak. Dit was haar nooit beskore nie. In die vyftigerjare het sy onsuksesvol aansoek gedoen vir 'n dosentpos by Unisa - en eienaardig genoeg het die gebruiklike binnepolitiek wat moontlik daaraan verbonde was, nooit aan my bekend geword nie. In dié tyd het persoonlike omstandighede ook 'n rol gespeel. Sy het volle verantwoordelikheid vir die opvoeding van haar twee kinders geneem en 'n loopbaan tweede gestel.

Haar vriendskappe met vakgenote het meestal hulle werk ten goede gestrek. So het haar lewenslange vriendskap met prof. Floors van Jaarsveld (veral vanweë hulle gemeenskaplike belangstelling in die teorie van Geskiedenis) hom bewus gemaak van die waarde van 'n deeglik-afgeronde eindproduk. Sy het nie gehuiwer om hom tereg te wys as daar slordighede ten opsigte van styl en formulering in konsepmanuskripte voorgekom het wat hy met die oog op publikasie aan haar voorgelê het nie. Sy het 'n skerp oog gehad vir nuwe talent onder jong historici en haar oordeel oor die gehalte van geskiedskrywing was meestal akkuraat.

As redaksielid by die SABW (waar ek van 1972 tot 1980 nou met haar saamgewerk het) het sy voortreflike werk gelewer. Met haar wye kennis van en belangstelling in die Afrikaanse kuns en letterkunde, sowel as dié van Europa, van klassieke musiek en opera en verskeie ander akademiese dissiplines, was sy by uitstek bekwaam vir hierdie werk. Sy het geglo dat die historikus daarna moet streef om volledig mens te wees. Hoe wyer sy horisonne, hoe beter sy toerusting. Die biografiese artikels wat sy sorgvuldig geredigeer het, het sy in haar netjiese drukskrif oorgeskryf: 'n tikster se droom.

Hugo was 'n mens met integriteit wat te alle tye professioneel opgetree het. Sy het selfs nie eers 'n kollega op die voornaam genoem nie - altyd die korrekte titel. Sy het 'n renons in grootdoenerigheid en selfvoldaanheid gehad. Organisasiemense wat self nie take aanpak nie ("kultuurpraters"), kon sy ook nie veel nie. Waar sy self in 'n komitee gedien het (soos byvoorbeeld as beheerraadslid van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum), het sy wanneer nodig administratiewe of skryfwerk self gedoen.

Sy was 'n ernstige mens. Ook fyngevoelig, soms oorgevoelig. Sy kon by tye driftig raak, selfs bitsig, wanneer iemand haar verkeerd opgevryf het. Maar dan het sy ook oor 'n unieke humorsin beskik. Sy kon die snaakse in 'n situasies raaksien en met 'n ondeunde vonkel in die oog 'n onnutsige kwinkslag kwytraak. Sy was 'n fyn waarnemer wat intens belang gestel het in wat om haar aangaan. Op 'n Maandagoggend, wanneer dit teetyd was, sou sy graag oor die naweek se rugby gesels (as geswore Noord-Transvaalondersteuner). Sy het miskien nie elke reël in die boek geken nie, maar het 'n verstommende insig gehad in die strategieë van spanne en die vermoëns van individuele spelers.

So was Maria Hugo. Die skraal, netjiese vrou met die hoërige, fyn stem en oë wat toegaan as sy lag. Die skrander vrou met die ongekende werketiek en die lojaliteit teenoor haar vriende en geesgenote. Sy het die waarheid nagestreef, al was dié waarheid hoe ontwykend en onvolkome.