SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Historia

Print version ISSN 0018-229X

Historia vol.55 no.2 Durban Nov. 2010

 

IN MEMORIAM

 

Dr. Maria Hugo (21 mei 1917 - 5 augustus 2010)

 

 

O.J.O. Ferreira

 

 

 

'n Eiesoortige bydraer tot die Suid-Afrikaanse historiografie

Ek het dr. Maria Hugo die eerste keer in 1970 ontmoet toe ek as vakkundige beampte onder mev. Kotie Roodt-Coetzee (1913-2005) by die destydse Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum gewerk het. Dr. Hugo het die museum dikwels besoek om oor die ere-adresse aan genl. J.B.M. Hertzog (1866-1942) navorsing te doen en het die opening van uitstallings gereeld bygewoon. Sy was vroeër, van 1964 tot 1967, 'n lid van die beheerraad van dié museum. Maar ek het haar eintlik goed leer ken terwyl ons van 1972 tot 1980 kollegas in die Instituut vir Geskiedenisnavorsing van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) was. Dáár het 'n vriendskap ontstaan wat my lewe aansienlik verryk het.

Maria Hugo is op 21 Mei 1917 op Kafferskraal, die historiese plaas wat deur staatspresident W.C. Janse van Rensburg (1818-1865) in die distrik Rustenburg aangelê is, gebore as die dogter van Gabriel Johannes Hugo en sy eggenote Maria Susanna Heyns. Nadat sy aan die Hoërskool Rustenburg gematrikuleer het, het sy eers die Transvaalse Onderwysdiploma (1937) aan die Normaalkollege Pretoria en daarna die grade B.A. (1939) en M.A. (1943) - albei met lof - aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Haar M.A.-verhandeling het oor Die Kruger-Ultimatum, vier maande van spanning gehandel en is in Historiese Studies, 4 (3 & 4), Oktober-Desember 1943, gepubliseer. Die graad D.Phil. is in 1946 deur dieselfde universiteit aan haar toegeken op grond van haar proefskrif Die Stemregvraagstuk in die Zuid-Afrikaansche Republiek, met as byvakke Wysbegeerte en Historiografie. Prof. I.D. Bosman (1897-1947) was haar promotor. Dié proefskrif is in 1947 in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis gepubliseer.

'n Europese studiebeurs van die Unieregering het dr. Hugo in staat gestel om kolleges in die Teoretiese Geskiedenis by prof. Jan Romein (1893-1962) van 1949 tot 1950 aan die Universiteit van Amsterdam te volg. Wetende dat sy 'n groot bewondering vir Jan Romein gehad het, het ek haar in my hoedanigheid as redakteur in 1983 gevra om 'n artikel oor die betekenis van sy werk vir die kultuurhistorikus te skryf. Die resultaat was haar "Jan Romein en die problematiek van die kultuurhistorikus (enkele aspekte)" wat in die heel eerste uitgawe van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 1 (1), Januarie 1984, pp. 7-9, verskyn het. Dit is waarskynlik steeds een van die stewigste bydraes wat in dié tydskrif opgeneem is. Dr. Hugo het destyds ook kolleges in Kontemporêre Geskiedenis by prof. Jacques Presser (1899-1970), Nederlandse historikus, skrywer en digter, bygewoon, waarna sy in 1950 in die Londense Public Record Office navorsing gedoen het.

Maria Hugo het nege jaar lank aan Transvaalse skole onderwys gegee, onder meer aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. Daarna was sy vir vier jaar dosent en later hoof van die Departement Teoretiese en Historiese Opvoedkunde aan die Pretoriase Onderwyskollege. Somtyds dink ek dat sy haar tyd as dosent en hoof van dié departement dalk as die hoogtepunt van haar professionele loopbaan beskou het.

Sedert 1972 het dr. Hugo vir bykans vyftien jaar lank in die redaksie van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek by die Instituut vir Geskiedenisnavorsing van die RGN gedien. Sy was nie net die uiters noukeurige historiese redakteur van die woordeboek nie, maar het self ook etlike biografiese sketse daartoe gelewer.

Dr. Hugo was 'n groot bewonderaar van genl. J.B.M. Hertzog. Dit is een van die punte waaroor ek en sy nie heeltemal saamgestem het nie. Haar studie van die ere-adresse wat Hertzog deur sy lewe aangebied is, het in J.B.M. Hertzog: 'n Volk praat met sy leier (Pretoria, 1977) en in haar Generaal J.B.M. Hertzoggedenklesing, "Dag Generaal! Die ere-adresse as tydgenootlike getuienis", in 1991 neerslag gevind. In die proses van Hertzog-ophemeling het sy dr. D.F. Malan (1874-1959) nogal afgekraak en daarmee saam ook sommer - soos Transvalers geneig was om te doen - 'n klap of twee na die "halfhartige Kolonialer-republikeine" uitgedeel. Ek kon nooit presies bepaal waarom sy so behep met Hertzog was nie, maar ek het 'n vermoede dat dit iets met sy stryd vir Afrikaans te make het, want die Afrikaanse taal het haar baie na aan haar hart gelê. Maar dan: Malan was tog ook 'n groot vegter vir Afrikaans.

Biografieë het dr. Hugo baie geïnteresseer en sy het haar hand selfs aan een gewaag, naamlik Piet Retief (Johannesburg, 1961), 'n geromantiseerde biografie oor die Trekleier vir gebruik in middelbare skole om die belangstelling van die jeug in die Groot Trek te prikkel. Daarbenewens het sy nege biografiese sketse vir die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek geskryf. Uit haar pen het drie en twintig tydskrifartikels, maar ook resensies en talle bydraes tot gedenkboeke, ensiklopedieë en versamelwerke gevloei. Dr. Hugo se spesiale belangstelling in Jan Romein en die Teoretiese Geskiedenis het veral in twee artikels neerslag gevind, naamlik "Jan Romein, die Nederlandse Teoretiese Historikus", Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, April 1951, en "Die Teoretiese Geskiedenis en die Suid-Afrikaanse Historiografie", Weerklank op het Werk van Jan Romein (Amsterdam, 1953). Laasgenoemde bundel is ter ere van Jan Romein op sy sestigste verjaardag uitgegee en dr. Hugo het die eer te beurt geval om die enigste Suid-Afrikaner te wees wat om 'n bydrae gevra is.

Wat haar eie werk betref, was Maria Hugo nogal beskeie. Toe sy op 'n keer 'n eksemplaar van haar Causaliteit in die Geskiedwetenskap, 'n metodologiese benadering (Pretoria, 1951) aan my geskenk het, het sy daarna as haar "jeugsonde" verwys waaroor ek nie 'n harde oordeel moes uitspreek nie - asof ek daartoe in staat of geneig sou wees! Op 'n keer het sy vir my 'n oordruk van haar "Die historiese siening in Geknelde Land" van F.A. Venter (1916-1997) gegee en daarop geskryf: "Liewer probeer as kritiseer". Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) skryf sy op 8 Oktober 1999 aan my: "Neem jy aan al die verrigtinge ter herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog deel? Dit is vir my onrusbarend hoé onverskillig ek teenoor alles staan. Daarby die besef dat ek tog nooit 'n Leopold von Ranke kon wees nie - nou doen ek niks." Ten spyte van haar ingebore nederigheid, is dr. Hugo in Oktober 1981 met lidmaatskap van die Nederlandse Maatschappij voor Letterkunde (Leiden) vereer. In April 1982 is sy tot volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies.

Hoewel ons in verskillende afdelings in die Instituut vir Geskiedenisnavorsing gewerk het, het ons in die personeelkamer gewoonlik langs mekaar gesit en in teetyd gedagtes gewissel oor alles en nog wat. Gesprekke met haar het altyd van haar intelligensie en haar droë, maar vlymskerp humorsin getuig. Wat ek baie goed onthou, is dat as daar 'n persoon "van buite die Instituut" saam met die personeel kom teedrink het, dr. Hugo die gas onmiddellik volgens sy/haar fisiese voorkoms en lyftaal opgesom het, en as dit haar nie aangestaan het nie, het sy onderlangs na my kant toe gefluister: "Ek het nie van sy/haar soort in my vriendekring nie!" Daardie eerste indruk was finaal en ek moet erken dat ek my in verreweg die meeste gevalle met haar aanvoeling en/of oordeel kon vereenselwig.

Sy het baie besliste menings omtrent mense gehad. Ek dink nie sy het baie vriende gehad nie, maar die wat sy wel gehad het, het sy opreg waardeer. Dit is nogal vreemd (of dalk nie), maar ek dink sy het meer manlike as vroulike vriende gehad. As ek nou aan ons gesprekke terugdink, het veral die name van die radioman dr. J.H.T. (Jan) Schutte (1919-1999), die filosoof prof. P.S. (Piet) Dreyer (1921-1999) en die historikus prof. F.A. (Floors) van Jaarsveld (1922-1995) telkens in hierdie verband opgeduik. Onder haar regtig goeie vriendinne kan ek, helaas, net aan die kultuurhistorikus en museumkundige mev. Kotie Roodt-Coetzee dink. Ek dink sy het veral vir mev. Coetzee se werkywer 'n groot bewondering gehad en was dan ook daarvoor verantwoordelik dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan mev. Coetzee 'n erepenning vir Kultuurgeskiedenis toegeken het. Sy en mev. Coetzee se denkpatrone het in vele opsigte ooreengestem, maar mev. Coetzee was die meer "emosionele" en dr. Hugo die meer "wetenskaplike".

Maria Hugo was sy beslis nie blind vir haar vriende se foute nie en het hulle ook daarop gewys. Die aand toe prof. F.A. van Jaarsveld geteer-en-veer is, het ek en sy buite die hoofgebou van Unisa gestaan nadat die konferensie tydelik verdaag is. Daardie aand het sy vir my gesê dat sy die daad van die AWB ten sterkste afkeur, maar dat "Floors" daarna gesoek het. Ek is daarvan oortuig dat sy dié mening ook teenoor prof. Van Jaarsveld sou geuiter het. Sy het teenoor my opgemerk dat prof. Van Jaarsveld te haastig gewerk het en 'n obsessie met die publisering van sy werk gehad het en in die proses kwaliteit ingeboet het. Maar sy het ook 'n grenslose bewondering vir sy ruimheid van gees en openheid vir nuwe idees en rigtings gehad. Ek kon aflei dat sy nogal 'n hoë dunk van prof. P.S. Dreyer se filosofiese geskiedbeskouinge gehad het.

As daar een persoon was in wie dr. Hugo 'n renons gehad het, was dit die kerkhistorikus prof. S.P. Engelbrecht (1891-1977). Sy het my meer as een keer van sy kerkisme vertel; hoe hy in die eerstejaarsklas op en af tussen die verskrikte eerstejaars geloop, hulle name gevra en dan uiteindelik by die "kernvraag" uitgekom het: "En aan watter kerk behoort u?" Die gevoel teen prof. Engelbrecht is waarskynlik versterk omdat hy, volgens haar, ook daaraan "aandadig" was dat sy nie 'n aanstelling in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria gekry het nie. Hoewel sy nie dikwels daaroor gepraat het nie, het ek tog uit terloopse opmerkings afgelei dat haar nie-aanstelling by Tukkies een van die grootste teleurstellings van haar lewe was. Ten regte of ten onregte, was sy van mening dat sy die geskikte kandidaat vir die betrokke pos was. Dit het haar vanselfsprekend van diegene binne die destydse Departement Geskiedenis vervreem.

Moontlik het dr. Hugo vermoed dat die feit dat sy 'n vrou is ook tot haar nieaanstelling in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria gelei het. Eintlik sou 'n mens verwag dat sy as gevolg daarvan feministiese neigings moes gehad het, maar ek het haar nooit as sodanig ervaar nie. Trouens, sy het min ooghare gehad vir vroue (veral in haar vakgebied) wat na haar mening te hoog oor vroueregte opgegee en werk van mindere gehalte gelewer het. Ek vermoed dat bekwaamheid en gehalte van werk vir haar voorop gestaan het. Enkele artikels uit haar pen wat wel die vrou as onderwerp het, is "Die Vrou in ons Volkslewe", Amptelike Program en Gedenkboek, Inwyding van die Voortrekkermonument, Pretoria 13 tot 16 Desember 1949; "Die Voortrekkervrou", Geloftedag 1953 (Kaapstad, 1953); "Die Voortrekkervrou: 'n huldeblyk", De Oude Emigrant. Groot Trek Herdenkingsjaar, 8 Augustus 1988, en, saam met K.W. de Pauw, "Feite en Fiksie - Freudiaanse Fantasie en 'n Feministiese Beeld van Susanna Smit", Historia, 36 (1), Mei 1991. Wat min mense waarskynlik weet, is dat die jonge Maria Hugo 'n leidende figuur in die jeugbeweging vir vroue van die Ossewa-Brandwag was.

Maria Hugo het 'n vreemdsoortige huwelik met 'n Belg, Wilfried Jan de Pauw (1996), gehad. De Pauw het Nederlands aan die Universiteit van Elizabethville in die destydse Belgiese Kongo doseer en was later professor in Afrikaans/Nederlands aan die Universiteit van Suid-Afrika. Daarna het hy die diplomatieke diens betree en was uiteindelik ambassadeur vir België op die Filippynse Eilande en in Australië. Uit die huwelik is twee kinders gebore: Karel Wilfried de Pauw (*1955), 'n psigiater in Engeland, en Johett Maria Martine Oberholster (née De Pauw) (*1959), wat uit eie beweging in haar moeder se voetspore gevolg en 'n M.A.-graad in Geskiedenis verwerf het.

Dr. Maria Hugo is op 5 Augustus 2010 in Die Palms Renaissance Aftree-oord in Pretoria oorlede. Met haar oorlyde het een van die voorste vroulike Afrikaanse historici van die toneel verdwyn. Sy sal onthou word vir haar kritiese aanwending van bronne en haar uiters keurige tegniese en metodiese werkwyse. Dr. Hugo was een van die heel eerste Afrikaanse historici wat belangrike probleme in die teorie van Geskiedenis onder die loep geneem het. Haar Causaliteit in die Geskiedwetenskap, 'n metodologiese benadering (Pretoria, 1951), met 'n voorwoord deur Jan Romein, is 'n goeie voorbeeld daarvan. Die persoonlike kontak wat sy met Romein in Nederland gehad het, het bygedra tot 'n ryper insig in sy idees en filosofie, wat sy met groot sukses in haar bydrae tot die geskiedskrywing in Suid-Afrika oorgedra het. In haar geskiedbeskouing was sy 'n aanhanger van die Von Ranke-idee "wie es eigentlich gewesen [ist]". Sy het eietydse historici verkwalik omdat hulle hulleself te veel tot die politiek beperk en die kulturele en ekonomiese aspekte verwaarloos het. Sy was nie ten gunste van die skryf van eietydse geskiedenis nie, omdat sy geglo het dat daar eers met verloop van tyd perspektief op gebeure verkry kan word. Verder was sy van mening dat by die (her)skepping van die verledebeeld nie van eietydse maatstawwe gebruik gemaak moet word nie, maar sy was ook terdeë daarvan bewus dat die problematiek van geskiedskrywing juis hierin geleë is. Volgens dr. Hugo is die intrekking van die Historiese Wetenskap by die Sosiale Wetenskap problematies en sy was dus nie 'n aanhanger van die Franse Annale-skool nie, omdat die Geskiedwetenskappe (en Letterkunde) volgens haar op ander beginsels as die Sosiale Wetenskappe gegrondves is. Maria Hugo het 'n eiesoortige bydrae tot die Suid-Afrikaanse historiografie gelewer wat waarskynlik eers deur toekomstige geslagte historici behoorlik na waarde geskat sal word.

Ek sluit af met 'n vers van Friso Wiegersma (1925-2006), Nederlandse teksskrywer en kunsskilder, wat dr. Hugo op 19 September 1999 in haar uiters keurige en kenmerkende drukskrif vir my gestuur het:

Alles
Wat voorbij is en vergaan,
Is niet weg, niet echt vergeten,
Alles blijf bestaan.

Want het verleden
Slaat door het heden,
En je verleden
Dat blijft bestaan.

Dié vers kan moontlik as haar credo beskou word.