Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
In die Skriflig
On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441
Abstract
DE LANGE, Magdalena C.. 'n Geïntegreerde etiese benadering tot bioetiese besluitneming: Voorgestelde model vir predikante. In Skriflig (Online) [online]. 2012, vol.46, n.1, pp.1-7. ISSN 2305-0853.
Hierdie artikel het 'n model geskets wat moontlike riglyne aantoon vir die beoefening van bioetiek binne 'n Gereformeerde konteks. Die voorgestelde model argumenteer dat verwysing na beide kontekstuele elemente en teorie onafwendbaar is om tot verantwoordelike bioetiese besluite te kan kom. Die teoretiese begronding vir hierdie model het op die integrasie van deontologiese- en karakteretiek berus en is gebaseer op die argument dat karakteretiek persone in staat stel om die regte morele doelwitte te ken en motiveer hulle ook om die nodige stappe te neem om dit te bereik. 'n Geïntegreerde model skep die moontlikheid vir bioetiek as 'n sistematiese stuk gereedskap om die individuele besluitnemer met die kritiesreflektiewe vaardighede en gronde vir regverdiging van die finale keuses toe te rus, aspekte wat in algemene besluitnemingsprosesse ontbreek. Dit kan ook lei tot helderder denke en groter vertroue in die motivering van besluite binne die Gereformeerde tradisie. Die voorgestelde hermeneutiese perspektief op etiese besluitneming verteenwoordig 'n verskuiwing in aanvaarde sienings oor die aard van kennis en die prosesse wat tot kennis lei. Die sleutel tot hierdie hermeneutiese benadering is om erkenning te gee aan die dialektiek tussen die universele en subjektiewe menslike verhoudings. Dit is veronderstel dat persone wat in spesifieke geloofsgemeenskappe werk daarop ag moet slaan dat kennis binne die konteks van menslike verhoudings - waarbinne die interpreteerder funksioneer - gesetel is wanneer die betekenis van bioetiese ervaring geartikuleer word. 'n Verdere aspek was die erkenning van die feit dat mense wat met bioetiese dilemmas worstel nie as geïsoleerde individue beskou moet word nie, maar as lede van 'n breër geloofsgemeenskap.