SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.82 issue3Female leaders in an international evangelical mission organisation: An empirical study of Youth With A Mission in GermanyWhen western leadership models become a mixed blessing author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Abstract

BECKMANN, J.L.. Gedagtes oor strategieë en 'n paradigmaskuif om billikheid in die onderwys te bereik. Koers (Online) [online]. 2017, vol.82, n.3, pp.1-20. ISSN 2304-8557.  http://dx.doi.org/10.19108/koers.82.3.2330.

Alhoewel die terme "billikheid" en "sosiale geregtigheid" dikwels saam gebruik word in frases soos "billikheid en sosiale geregtigheid", en al is díé begrippe duidelik verwant, sal ek my bespreking beperk tot die begrip "billikheid". Ek sal my bespreking ook beperk tot billikheid in die konteks van onderwys in skole. Daar is duidelike tekens van h wydverspreide oortuiging dat billikheid bereik kan word as beleid net beter geïmplementeer en praktyk gemaak kan word en as almal net hulle pogings in dié verband kan verskerp. Hierdie oortuiging dui daarop dat billikheid h ontwykende doelwit bly in Suid-Afrika, ten spyte van die feit dat h menigte beleide ontwikkel is wat as gepas beskou is om van die meer dringende uitdagings aan te spreek, en om impetus aan die onderwys te verleen op die pad na billikheid. Dit wil voorkom of daar opvattings is wat sonder meer aanvaar word, soos die aanname dat mens h operasionele definisie van billikheid kan formuleer, en dat wette en beleide gebruik kan word as hefbome om h kommerwekkende situasie, soos n skynbare gebrek aan billikheid, om te keer Dit is, in die besonder, beleidmakers wat oënskynlik glo dat doelstellings, waarvan die bereiking in kwantifiseerbare terme geformuleer kan word, in die onderwys gestel kan word Van die aannames oor billikheid en die onderwys is aanvegbaar, en moontlik selfs verkeerd, en ek sal dit in hierdie artikel ondersoek. Ek sal aanvoer dat deur bloot die kousale verband tussen beleid en praktyk ten opsigte van billikheid te herbesoek waarskynlik nie die bereiking van billikheid in en deur die onderwys in die hand sal werk nie. Betekenisvolle vordering kan nie gemaak word voordat helderheid bereik is oor die betekenis en implikasies van die begrip "billikheid" nie. Ek sal aanvoer dat h paradigmaskuif oor billikheid h herbesinning oor beleid en praktyk in hierdie verband moet voorafgaan. Ek wil my argument, wat waarskynlik hoogs debatteerbaar sal wees, ontwikkel deur, onder andere, 1. Te poog om die oorsprong en betekenis van die konsep "billikheid" na te speur, 2. Die oënskynlik algemene verwarring oor begrippe soos "gelykheid", "billikheid", "herstel", "kwaliteit", "regstellende aksie", "(her)verspreide geregtigheid", en "sosiale geregtigheid" in die onderwysbeleid, -reg en -praktykliteratuur te ondersoek, 3. Vrae te stel wat kan lei tot anttwoorde wat die konsep sal verhelder. Die vrae sal verband hou met, onder andere, vertrekpunte om oor billikheid te dink, soos a. "Is dit n doelstelling, n vertrekpunt, of 'n uitkoms?" b. "Is dit meetbaar, en is daar n wyse waarop die bereiking van billikheid gemeet kan word?", en c. "Kan mense deur die onderwys gelei word na n plek waar hulle sal besef of hulle billikheid geniet, of nie?", en 4. Aan die hand te doen dat die essensiële betekenis van billikheid is om dit wat mense se inherente waardigheid aantas en wat dus onhoudbaar, verwerplik, en ondenkbaar in enige maatskaplike sfeer (soos die onderwys) is te verwyder. Alhoewel billikheid moeilik meetbaar is (indien dit hoegenaamd meetbaar is), sal ek aanvoer dat n mens daarvan bewus kan word wanneer hy oortuig is dat n voorheen-ver-werplike, -ondenkbare of -onhoudbare situasie, wat die kern van sy menswees en bestaan negatief geraak het, uit die weg geruim is en dat dit nou vir hom moontlik is om menswaardig te lewe. Daar moet n paradigmaskuif kom waar ons besef dat ons nie bloot daarmee kan aanhou om numeriese teikens, wat op stuk van sake nie werklik bewys dat ons nader aan billikheid beweeg het nie, na te strewe nie. Ons moet onderwyskundige strategieë om ongelykhede uit die weg te ruim volg, maar tesame daarmee moet ons ook n samehangende begrip van wat mense as billikheid verstaan ontwikkel, en ons moet dink aan wyses waarop mense van so n moont-likheid bewus gemaak kan word, en nader aan so n plek beweeg kan word. Billikheid speel homself af in, en moet essensieel bereik word in, die sfeer van interaksie en kontak tussen mense. As sodanig is dit nou verbonde aan, onder meer, mense se menswaardigheid en sosiale geregtigheid. As ons billikheid wil gebruik om gelykheid te bereik, moet onthou word dat absolute gelykheid, gegewe die hoogs-ingewikkelde veelvoudige sub-kontekste waaruit mense kom, prakties onmoontlik voorkom, en, in elk geval, statisties onwaarskynlik is. Verder moet onthou word dat mense nie die reg het op gelykheid per se nie, maar dat elkeen gelyk is voor die reg en die reg het op gelyke beskerming en voordeel van die reg (Artikel 9(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996). Ek kan nie afdoende antwoorde verskaf op vrae soos "Wat is billikheid?", "Hoe bereik mens billikheid?" en "Hoe weet mens dat billikheid bereik is?" nie. Wat ek wel kan doen is om te suggereer dat ons anders kan dink oor billikheid, en dat ons sodoende nader daaraan kan kom om die term behoorlik te begryp.

Keywords : Billikheid; gelykheid; herstel; beleid; regstellende aksie; reduksionisties; aanvullend; paradigmaskuif.

        · abstract in English     · text in English     · English ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License