SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Angels and demons, innocents and penitents: An analysis of different "characters" within the penal discourse of apartheid South Africa 1980 to 1984 - Part OneThe 2014 credit-information amnesty regulations: What do they really entail? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

De Jure

On-line version ISSN 1466-3597

Abstract

BRITS, Reghard. Die "Herstel" van Kredietooreenkomste: Opmerkings in Reaksie op die 2014 Wysiging van Artikel 129(3)-(4) van die Nasionale Kredietwet. De Jure (Pretoria) [online]. 2015, vol.48, n.1, pp. 75-91. ISSN 1466-3597.  http://dx.doi.org/10.17159/2225-7160/2015/V48N1A5.

Voor die 2014 Wysigingswet het artikel 129(3) en (4) van die Nasionale Kredietwet voorsiening gemaak vir verbruikers om kredietooreenkomste te herstel deur alle agterstallige bedrae asook sekere kostes te betaal. Die idee was dat die skuldafdwingingsproses onderbreek word wanneer die verbruiker aan die voorgeskrewe vereistes voldoen het. Die bestaan van hierdie maatreël is belangrik om verbruikers te beskerm teen die potensieël negatiewe gevolge van die streng afdwinging van vervroegingsbedinge in kredietooreenkomste. Ook vanuit 'n konsti-tusionele perspektief is hierdie meganisme 'n noodsaaklike element van ons kredietreg. Subartikel (3) het die basiese reg beskryf terwyl subartikel (4) die beperkings daarop omskryf het. Ten spyte van 'n paar onsekerhede aangaande die werking van hierdie meganisme, het regspraak en akademiese kommentaar 'n algemeen werkbare uitleg van hierdie bepalings opgelewer. Die wetgewer het dit desnieteenstaande nodig geag om die subartikels te wysig. Die doel van hierdie bydrae is om sodanige wysigings te analiseer om uit te pluis wat die stand van sake is nou dat die wysigingswet in werking getree het. Dit is belangrik om te besef dat die spesifieke wysigings wat aangebring is waarskynlik nie daarop gemik is om die substansie van hierdie meganisme te verander nie. Inteendeel, die doel was waarskynlik slegs om sekere konseptuele teenstrydighede uit die weg te ruim. Die wysigings aangebring aan subartikel (3) is duidelik gemik op hierdie oogmerk en is daarom onproblematies. Subartikel (4) se wysigings verg egter meer kopkrapwerk, want die letterlike bewoording mag onlogies voorkom. Die gevolgtrekking is dat die doel van artikel 129(3) en (4) steeds is om enersyds te voorsien vir die verbruiker se reg om agterstallige bedrae op datum te bring en andersyds om die beperkinge van hierdie reg te omskryf, ten spyte van die verwarrende bewoording van veral subartikel (4).

        · text in English     · English ( pdf )