SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


De Jure Law Journal

versión On-line ISSN 2225-7160
versión impresa ISSN 1466-3597

Resumen

WETHMAR-LEMMER, Marlene. Streeksharmonisering van Internasionale Koopreg via Toetrede tot die Weense Koopverdrag en die Belangrikheid van Eenvormige Interpretasie van die Verdrag. De Jure (Pretoria) [online]. 2014, vol.47, n.2, pp.298-309. ISSN 2225-7160.

Internasionale unifisering of harmonisering van substantiewe reg is in die afgelope paar dekades primêr deur middel van internasionale verdrae teweeggebring. In die veld van internasionale koopkontrakte vir roerende goedere, is die Weense Koopverdrag 'n invloedryke internasionale verdrag wat die internasionale unifisering van die reg in dié veld ten doel het. Unifisering of harmonisering van substantiewe reg by wyse van 'n internasionale verdrag kan egter slegs bewerkstellig word indien die verdrag eenvormig in die verskillende lidlande geïnterpreteer word. Artikel 7(1) van die Weense Koopverdrag is die verdrag se interpretasieklousule en vereis dat, eerstens, die internasionale karakter van die Weense koopverdrag, tweedens, die noodsaaklikheid daarvan om eenvormigheid van die verdrag se toepassing na te streef en derdens, die behoud van goeie trou in internasionale handel, in die interpretasie van die verdrag in ag geneem moet word. Die eerste interpretasievoorskrif het tot inhoud dat daar aan die verdrag se bepalings 'n outonome betekenis geheg moet word - sonder verwysing na regskonsepte en instellings van nasionale jurisdiksies. Die tweede interpretasievoorskrif bevestig die feit dat eenvormige toepassing van die verdrag slegs by wyse van eenvormige interpretasie van die verdragsbepalings bewerkstellig kan word. In hierdie verband is dit van kardinale belang dat jurisdiksies in die interpretasie van die verdrag se bepalings, interpretasies van ander jurisdiksies in ag neem. Op die wyse ontstaan daar 'n internasionale gesprek ten aansien van die interpretasie van die verdrag wat eenvormige interpretasie bevorder. Daar bestaan verskeie omvattende elektroniese databasisse waarop nasionale Weense Koopverdraguitsprake beskikbaar gestel word en hierdie feit maak dit daagliks makliker vir nasionale howe om relevante uitsprake van ander jurisdiksies in ag te neem. Die derde interpretasievoorskrif in artikel 7(1) vereis dat die verdrag se bepalings op so 'n wyse geïnterpreteer moet word dat die toepassing van die bepalings tot redelike en billike resultate lei. In lig van die feit dat artikel 7(1) van die Weense Koopverdrag nie 'n teoretiese interpretasiemetodologie voorskryf nie, is dit van belang dat daar na die relevante bepalings van die 1969 Verdragsregkonvensie verwys word. Die interpretasiemetodologie soos toegepas op die Weense Koopverdrag word in hierdie bydrae ontleed. Die gevolgtrekking word gemaak dat eenvormige interpretasie van die Weense Koopverdrag inderdaad moontlik is indien daar aan die vermelde interpretasie voorskrifte gehoor gegee word. Waar dit die geval is, sou die Weense Koopverdrag 'n geskikte instrument wees om internasionale en regionale harmonisering van die reg aangaande internasionale koopkontrakte teweeg te bring. Daar word dus aan die hand gedoen dat alle SAOG-lede lidlande van die Weense Koopverdrag word.

        · texto en Inglés     · Inglés ( pdf )

 

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons