SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.44 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


De Jure Law Journal

versão On-line ISSN 2225-7160
versão impressa ISSN 1466-3597

Resumo

MCGREGOR, Marié. Geregtelike kennisname: Diskriminasie en benadeling in die konteks van regstellende aksie. De Jure (Pretoria) [online]. 2011, vol.44, n.1, pp.111-125. ISSN 2225-7160.

Die artikel ondersoek die vraag of onbillike diskriminasie en die gepaardgaande benadeling van sekere groepe in Suid-Afrika, bewys moet word en of die leerstuk van geregtelike kennisname voldoende is in die konteks van regstellende aksie. Die begrippe en terminologie in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, sowel as gewone wetgewing wat die Grondwet aanvul - die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998 en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000 - word ontleed en uitgelê. Die artikel stel voor dat die land se geskiedenis van onbillike sistemiese diskriminasie gegrond op kolonialisme, apartheid en patriargale praktyke, so welbekend en berug is dat die leerstuk van geregtelike kennisname van toepassing is op regstellende aksie. Voorts, omdat sodanige geskiedenis, die tradisionele oorsake daarvan en uitwerking op swart persone en vroue breedvoerig en volledig gedokumenteer is, word aan die hand gedoen dat die toepassing van die leerstuk kan meehelp om sodanige persone te integreer in die Suid-Afrikaanse werkplek en breër samelewing. Hierdie benadering neem die huidige aspirasies en verwagtinge van die Suid-Afrikaanse bevolking in ag en maak 'n bydrae om die verlede te genees. So 'n benadering ondersteun verder die begrip van substantiewe gelykheid ('n groeps-gebaseerde begrip) en voldoen aan die Grondwet se waarde-gebasseerde metodologie van uitleg. Dit sal ook bydra tot die langtermyn doelwit om 'n nie-rassige en nie-seksistiese samelewing daar te stel. Dit is dus nie nodig om historiese diskriminasie en benadeling te bewys nie omdat sodanige diskriminasie en benadeling nie kontensieus is as 'n sosiale feit nie; dit is inteendeel 'n vraag van kennisname van die geskiedenis omdat dit wyd en volledig gedokumenteer is. Die saak van Minister of Finance v Van Heerden 2004 6 SA 121 (CC) wat verg dat benadeling in die konteks van regstellende aksie "aangetoon" moet word, word ondersteun slegs in soverre inligting voor die hof geplaas word by wyse van byvoorbeeld boeke en verslae. Indien dit nie gedoen word nie, kan die hof uit eie beweging geregtelik kennis neem van onbillike historiese diskriminasie en benadeling. Ten laaste, sou die opvoedkundige, sosiale en ander ekonomiese werklikhede met betrekking tot ras en geslag verander in Suid-Afrika, sal die toepassing van die leerstuk van geregtelike kennisname heroorweeg moet word. Dit sal ook die geval wees waar nuwe diskriminasie en benadeling voorkom en nie goed gedokumenteerd is nie.

        · texto em Inglês     · Inglês ( pdf )

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons