SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.15 issue5Unpacking the public trust doctrine: a journey into foreign territory author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Potchefstroom Electronic Law Journal (PELJ)

On-line version ISSN 1727-3781

Abstract

TERBLANCHE, A  and  PIENAAR, GJ. Raamwerkwetgewing ter verwesenliking van die reg op toegang tot voldoende voedsel. PER [online]. 2012, vol.15, n.5, pp.228-286. ISSN 1727-3781.

Voedselsekerheid word in verskeie Suid-Afrikaanse regeringsverslae as 'n ontwikkelingsprioriteit gelys. Ten spyte van die prioritisering en ten spyte van die feit dat Suid-Afrika tans voedsel-selfonderhoudend is, bly voortgesette voedseltekorte 'n daaglikse realiteit vir ongeveer 35 present van die Suid-Afrikaanse bevolking. Tot op datum van skrywe manifesteer die regering se verbintenis tot voedselsekerheid in verbandhoudende beleide, strategies, programme en sektorale wetgewing met die fokus op voedselproduksie, -verspreiding, -veiligheid en -bystand. Sedert 2009 is 'n paradigmaskuif binne die internasionale voedselsekerheidsdebat aangemoedig, naamlik om voedselsekerheidsinisiatiewe op die reg op voldoende voedsel te fundeer. Gedurende 'n 2011 besoek aan Suid-Afrika het die Verenigde Nasies se Spesiale Rapporteur vir die Reg op Voedsel dienooreenkomstig aanbeveel dat 'n menseregte-gebaseerde benadering tot voedselsekerheid in die Suid-Afrikaanse regs- en beleidsraamwerk nodig is ten einde die enorme ongelykhede met betrekking tot voedselsekerheid (veral wat geografie, geslag en ras betref) aan te spreek. Deur 'n menseregte-gebaseerde benadering tot voedselsekerheid te volg, word voedselsekerheid gekomplementeer met dimensies van waardigheid, deursigtigheid, verantwoordingspligtigheid, deelname en bemagtiging. Die erkenning van regte sluit daarby aan deurdat die bereiking van voedselsekerheid as 'n uitkoms van die verwesenliking van bestaande regte, vernaamlik die reg op toegang tot voldoende voedsel, beskou word. Die reg op toegang tot voldoende voedsel, soos verskans in artikel 27(1)(b) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 sal gevolglik 'n sentrale rol binne 'n menseregte-gebaseerde benadering tot voedselsekerheid speel. Artikel 27(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 kwalifiseer egter artikel 27(1)(b), naamlik dat die staat redelike wetgewende en ander maatreels moet tref om binne sy beskikbare middele elk van die regte in artikel 27(1) vervat in toenemende mate te verwesenlik. Soos reeds aangedui, manifesteer die Suid-Afrikaanse regering se verbintenis tot voedsel-sekerheid in verbandhoudende beleid, strategiee en programme welke inisiatiewe in die lig van artikel 27(2) as ander maatreels beskou word. Hierdie bydrae het egter ten doel om die grondwetlike staatsplig om redelike wetgewende maatreels te tref, soos vereis in artikel 27(2), in die bree konteks van voedselsekerheid toe te lig. Meer spesifiek word die bydrae beperk tot die wyses waarin 'n menseregte-gebaseerde benadering tot voedselsekerheid as ontwikkelingsdoelwit in Suid-Afrikaanse nasionale wetgewende maatreels geakkommodeer kan word. Verskeie onderliggende temas geniet aandag in hierdie bydrae, onder andere: (a) die verband tussen voedselsekerheid en die reg op toegang tot voldoende voedsel; (b) voedselsekerheid as 'n ontwikkelingsdoelwit; en (c) die toenemende tendens om 'n menseregte-gebaseerde benadering tot ontwikkelingsinisiatiewe in die algemeen, maar ook ten opsigte van voedselsekerheid, te volg.

Keywords : voedselsekerheid; die reg op toegang tot voldoende voedsel; raamwerkwetgewing; menseregte-gebaseerde benadering; ontwikkeling.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License