SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3Person-oriented citizenship education in public secondary educationEntrepreneurial leadership style in schools: Good versus poor socio-economic circumstances índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Resumen

OLIVIER, Bert. Tydskr. geesteswet. [online]. 2023, vol.63, n.3, pp.615-631. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a12.

Waneer 'n mens die huidige wêreld onbevange, met literêre voorkennis in oënskou neem, is dit onteenseglik so dat pogings om toenemende beheer oor burgers uit te oefen by sogenaamde "demokratiese" regerings asook by gesondheidsbeheerliggame opmerkbaar is. Dit herinner 'n mens onwillekeurig aan George Orwell se distopiese roman, Nineteen Eighty-four (of 1984), wat in 1949 verskyn het, en wat in literêre terme paradigmaties is van totalitêre heerskappy aan die hand van uiteenlopende vorms van tegnologiese toesig en bewaking, waar al die demokratiese vryhede wat tot onlangs in die meeste lande as vanselfsprekend aanvaar is, afwesig is, soos spraakvryheid, vryheid van beweging, en so meer. Hedendaagse ontwikkelings resoneer veral met Orwell se roman in terme wat simptomaties is van die breinspoel-georiënteerde samelewing van "Big Brother", "Ingsoc" ("the Party"), "Newspeak" (die taal wat ontwerp is om kritiese denke te inhibeer), die gevreesde "Thought Police", en die konstante bewakende toesig van elke burger via tegniese bemiddeling (soos die "telescreen" in elke tuiste en openbare ruimte), asook die onopsigtelike spioenering op mense se handelinge deur agente van die "Party", vir ingeval hulle moontlik tekens van denkmisdaad (thoughtcrime) of rebellie sou toon. Dit is betekenisvol dat Shoshana Zuboff se werk oor tydgenootlike "surveillance capitalism", waarin sy die aandag op die bedekte tegniese inbreuk (deur maatskappye soos Google en Facebook) op mense se internet-privaatheid vestig, versoenbaar is met Orwell se insig in totalitarisme, sowel as met Hannah Arendt se bekende ontleding daarvan. Bowendien het Zuboff se werk 'n jaar voor die uitbreek van die sogenaamde Covid-19-pandemie verskyn, wat dit verder relevant maak vir 'n indringende ondersoek van laasgenoemde, met die oog daarop om dit met Orwell se 1984 in dialoog te plaas. Net soos wat die omvattende bespieding van burgers in 1984 uit hul vrees vir die onsigbare denkpolisie, die alomteenwoordige beeld van "Big Brother", asook van die tweerigting "teleskerm" (telescreen), wat 'n soort "Panoptikon" voorstel, blyk, bestaan daar vandag opvallende ekwiva-lente vir hierdie metonimiese beliggaming van totalitêre mag, wat blykbaar nie maklik met 'n identifiseerbare "Big Brother" of denkpolisie in verband gebring kan word nie. Daarby kan totalitêre beheerstrategieë veelvuldige, onverwagte vorms aanneem, soos wat Agamben, Kennedy en Wolf onweerlegbaar aangetoon het. Onder voorwendsel van 'n mediese noodtoestand, byvoorbeeld, is mense wêreldwyd aan onmenslike noodmaatreëls onderwerp, wat 'n aanwysbare negatiewe psigologiese, patogeniese, asook patologies-fisiese en ekonomiese uitwerking op bevolkings gehad het. Gevorderde tegniese middele is kenmerkend van die soort beheer waaraan mense globaal onderwerp is - nie slegs as beheer-georiënteerde "bespieding" nie, maar ook in die gewaad van mediese ingrypings wat misleidend as "entstowwe" bestempel is, ofskoon hulle (veral die mRNA-soort) volkome eksperimenteel is. Hierdie artikel fokus op die ooreenkomste tussen die spektrum van beheermiddele in 1984 en dié wat tans in samelewings aangewend word, waaronder onder meer die kolossale sensor-masjinerie om alternatiewe perspektiewe te snoer, naamlik die sogenaamde feite-kontroleerders, entstof-mandate en entstof-paspoorte.

Palabras clave : beheer; distopie; fiksie; huidige wêreld; tegnologie.

        · resumen en Inglés     · texto en Africano     · Africano ( pdf )

 

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons