SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número2NP van Wyk Louw's ideal of justiceRelativisation in the poetry of NP van Wyk Louw índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Resumen

ROSSOUW, Jannie. Die laaste geografies omvattende kulturele viering van Afrikaans: Die fakkelloop tydens die Taaljaar 19751. Tydskr. geesteswet. [online]. 2023, vol.63, n.2, pp.307-326. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a8.

Hierdie artikel fokus op die fakkelloop met "taalfakkels" wat op 10 Oktober 1975 by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl geëindig het om saam te val met die inwyding van die Monument. Terwyl die Afrikaanse Taalmonument en die Afrikaanse Taalmuseum (beide in die Paarl) heelwat aandag in die literatuur geniet, is daar, ondanks die wye geografiese en kulturele omvang van die fakkelloop, min gestruktureerde inligting daaroor beskikbaar. Die fakkelloop het deel uitgemaak van die Afrikaanse taalfeeste in 1975, 'n jaar wat deur die Suid-Afrikaanse regering tot Taaljaar verklaar is. Die oogmerk van die Taaljaar was onder meer die herdenking van die stigting 'n eeu vroeër, op 14 Augustus 1875, van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl, die erkenning van Afrikaans as amptelike taal 50 jaar later in 1925, en die opening van die Museum en inwyding van die Monument in die Paarl gedurende die Taaljaar. Uit die navorsing wat vir hierdie artikel gedoen is, blyk die wye geografiese en kulturele effek van die fakkelloop, selfs buite die grense van Suid-Afrika. Voorts is taalfeeste in verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika georganiseer, wat saamgeval het met die aankoms van taalfakkels by daardie feeste. Afrikaanse taalgedenkstrukture is ook op verskeie van die dorpe en stede waar die taalfakkels aangedoen het, onthul. Die fakkelloop was 'n groot sukses en het die verbeelding van mense aangegryp. Dit het op 14 Augustus 1975 simbolies by die Voortrekkermonument begin. By daardie geleentheid is agt taalfakkels aangesteek wat elk na een van die agt stigterslede van die GRA vernoem is. Die taalfakkels is oral deur Suid-Afrika gedra en het selfs besoeke aan die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië) en Rhodesië (tans Zimbabwe) ingesluit. Die fakkelloop was die laaste geografies omvattende kulturele viering van Afrikaans. In omvang staan dit gelyk met nasionale feeste soos die Simboliese Ossewatrek in 1938, wat die Groot Trek herdenk het, die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument (ook in 1938) en die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Die Soweto-opstand van 1976 teen onderrig in Afrikaans het sentimente teenoor die taal aansienlik verander. Afrikaans het verpolitiseer geraak, en die koms van televisie in Suid-Afrika in 1976 het ook die aptyt van Afrikaanssprekendes vir taal- en kultuuraktiwiteite verander.

Palabras clave : Afrikaans; Afrikaanse Taalmuseum en -monument; fakkelloop; Namibië; Rhodesië; Suidwes-Afrika; taalgedenktekens; Taaljaar; taalmonument vir die Nederlandse taal; taalmonumente; taalmuseum; Zimbabwe.

        · resumen en Inglés     · texto en Africano     · Africano ( pdf )

 

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons