SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

DURAND, François. Insekte en voedselsekerheid in Suid-Afrika in die lig van klimaatsverandering. Tydskr. geesteswet. [online]. 2022, vol.62, n.4, pp.623-646. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a1.

Afgesien van die lewensverlies weens die Covid-19-pandemie gaan Suid-Afrika, soos die res van die wêreld, gebuk onder die sosioëkonomiese uitwerking daarvan, wat grootliks tot die agteruitgang van die ekonomie en werkverliese bygedra het. Dit, tesame met die toenemende uitwerking van klimaatsverandering, is van die grootste krisisse wat Suid-Afrika tans teister. Suid-Afrika gaan gebuk onder 'n abnormale reënpatroon, wat storms in sekere gebiede en droogtes in ander tot gevolg het. Hierdie omgewingskrisisse maak die ekonomies worstelende Suid-Afrikaanse samelewing nog meer kwesbaar. Van die belangrikste gevolge van klimaatsverandering en die ekonomiese agteruitgang in Suid-Afrika is kospryse wat die hoogte inskiet, terwyl oproer al hoe meer dikwels voorkom. Hierdie situasie sal nog verder agteruitgaan na gelang die gevolge van klimaatsverandering op die landbou en dus die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van kos oor die volgende dekades vererger. Suid-Afrika se voedselsekerheid is ook in die gedrang weens die onvermoë van die regering om die Suid-Afrikaanse bevolking teen buitelandse belange in Suid-Afrika te beskerm. Die afhanklikheid van Suid-Afrika van kos uit Oos-Europa en Asië word geopenbaar wanneer mens die effek van die oorlog in Oekraïne op die beskikbaarheid van sonneblomolie en koring in Suid-Afrika sien. Vis, wat eens die goedkoopste vleisbron was, is nou vir die meeste Suid-Afrikaners onbetaalbaar duur weens die oorbenutting van visbronne deur buitelandse vissers, veral van China, wat binne ons gebiedswaters vis vang. Suid-Afrika voer ongeveer 6 miljoen hoenders per week uit die buiteland in, hoofsaaklik uit Brasilië, wat die inheemse hoender- en graanboere ekonomies bedreig en werksgeleenthede in die gedrang bring. Hierdie ongesonde situasie ondermyn plaaslike landbou en vissery en veroorsaak dat Suid-Afrika se voedsel-sekerheid deur die politieke beleid van die regering jeens ander BRICS-lande in die gedrang kom. Landbou is een van die grootste oorsake van die vernietiging van die natuur en een van die belangrikste redes vir klimaatsverandering. Boerderye is een van die hoofbronne van metaan en stikstofdioksied, wat veel erger kweekhuisgasse as koolstofdioksied is. Terselfdertyd word amper tweederdes van Suid-Afrika se water deur landbou en bosbou gebruik. Die oorbenutting van water, die vergiftiging van riviere, vleilande en grondwater met landbou-chemikalieë, die toediening van gifstowwe en die gepaardgaande vernietiging van die ekologie, insluitende dié van riviere, stuur reeds op 'n ekologiese ramp af. 'n Derde van die riviere in Suid-Afrika bereik al klaar nie meer die see nie, wat tot die ineenstorting van vleilande en riviermonding ekosisteme gelei het. Oewerbosse, wat rivierwalle stabiliseer, vrek in plekke waar boere waterpompe in of langs rivierbeddings in gebruik het. Veenlande, wat oor duisende jare vorm en water stoor en suiwer wat deur vleilande vloei, droog uit en brand weens die ooronttrekking van grondwater op plase en bosbougebiede. 'n Groot deel van die uitwerking wat die landbou op die ekologie het, kan vermy word as alternatiewe kosproduksiemetodes ondersoek word. Dit is 'n wanpersepsie dat 'n vegetariese dieet minder skade aan die ekologie doen as een wat vleis bevat. Gewasverbouing het 'n veel groter uitwerking op die natuur as wat natuurlike vleisproduksie het. Die grootste negatiewe uitwerking wat vleisproduksie op die natuur het, is metaangas, hoë watergebruik en die verbouing van graan wat as voer gebruik word. Insekte bied egter 'n alternatiewe bron van voer, wat op 'n baie goedkoper en betroubare manier tot voedselsekerheid in Suid-Afrika kan bydra en talle plaaslike werksgeleenthede kan skep. Die larwes van insekte soos die swart soldaatvlieg (Hermetia illucens) word reeds wêreldwyd, maar veral in die Verre Ooste, met groot sukses as voer vir lewende hawe gebruik. Hierdie hoëkwaliteitbron van proteïene, onversadigde vette, vitamiene, minerale en vesel kan bykans gratis met behulp van organiese afval geproduseer word. Daarbenewens kan hierdie insekte sonder gif of kunsmis en met min water in 'n relatief klein gebied, vergeleke met weiding of mielielande, geproduseer word.

Keywords : entomofagie; insekte; swart soldaatvlieë; hongersnood; klimaatsverandering; dierevoer; voedselsekerheid; metaan; afvalhope; volhou-baarheid; watergebruik.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License