SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número4-1The Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in AfrikaansThe source text for the 2020 Afrikaans translation of the New Testament índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Resumo

BOTHA, Willem J. Is dekolonialisasie 'n mite?. Tydskr. geesteswet. [online]. 2021, vol.61, n.4-1, pp.1039-1056. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a5.

Suid-Afrika is 'n voormalige Britse kolonie. Die Britse koloniale invloed het oor die hele spektrum van die samelewing beslag gekry, veral gedra deur die koloniale taal Engels. Lord Alfred Milner, Britse Hoë kommissaris in Suid-Afrika was ná die Tweede Anglo-Boereoorlog terdeë bewus van die krag van taal ter uitbreiding en bevordering van kolonialisme toe hy aan die Natalse goewerneur skryf hulle doelwit was "to make English indispensable in the future, and to prepare the rising generation for that state of affairs by practically compelling them to learn it, but to admit Dutch until the Anglicizing process is consummated" (vergelyk Steyn, 2014:52). In 1961 is die Unie van Suid-Afrika gedekoloniseer en het die status van die land verander na die Republiek van Suid-Afrika. Sekere aspekte van dekolonialisasie daarna het as 'n natuurlike proses gevolg om by die omstandighede en aard van die nuwe Republiek te pas. In 1994 het die ANC die regering oorgeneem. Veranderinge het noodwendig gevolg, maar later (so onlangs as 2016) het dramatiese eise (gepaard met geweldpleging) gevolg. Die onderbou van die slagspreuke wat daarmee gepaard gegaan het, was gerig op versnelde en dramatiese dekolonialisasie van die land. Die werkwoorde dekoloniseer en dekolonialiseer is afwisselend gebruik sonder dat daar enige onderskeid tussen die betekenisse van die twee woorde getref is. In hierdie artikel word die verskil in betekenisse van die tersaaklike werkwoorde eers ontleed. Dit word gedoen vanuit taalkundige oorwegings. Daar word uitgegaan van die beskouing dat die ontleding van woordbetekenis vanuit drie verskillende benaderings gedoen kan word, naamlik 'n woord-wêreld-benadering, 'n taal-interne benadering en 'n konseptuele benadering. Omdat die genoemde werkwoorde na abstrakte prosesse en handelinge verwys, is die woord-wêreld-benadering nie geskik vir die ontleding nie. 'n Taal-interne benadering veronderstel dat daar ook kennis geneem moet word van woordeboekdefinisies. 'n Vergelyking tussen verskillende woordeboeke (Afrikaans, Nederlands, Duits en Engels) se leksikale defi-nisies met betrekking tot die betekenisse van koloniseer en kolonialiseer (en hulle afgeleide vorme) bring geen duidelikheid nie. Twee taalkundige verskynsels, naamlik "aspek" en "konseptuele versmelting" (dus aan-sluitend by die konseptuele benadering) bring meer helderheid op grond waarvan die gevolgtrekking gemaak kan word dat daar 'n besliste betekenisverskil bestaan ten opsigte van die twee werkwoorde. Die werkwoord koloniseer het perfektiewe aspek, wat beteken dat die handelinge en prosesse waarna dit verwys, 'n eindpunt het - dat dit termineer. Aansluitend by koloniseer - en afhanklik van die prosesse en handelinge waarna koloniseer verwys - versmelt (of integreer) die betekenis van kolonialiseer met die betekenis van koloniseer, maar met die inherente aspektiese waarde imperfektief of duratief. Vervolgens word die verhouding tussen taal en denke ondersoek. Tale se denkstrukture verskil van mekaar. Dit word duidelik wanneer verskillende tale se taalmanifestasies van bepaalde konsepte vergelyk word. Die uitwerking wat kolonialisasie op Afrikaans gehad het, word kortliks onder die loep geneem. Teen die agtergrond van die hele betoog word tot die gevolgtrekking gekom dat indien aanvaar word dat dekolonialisasie "gedra" word deur die koloniale taal Engels, ware dekolonialisasie nie moontlik is nie - dat ware dekolonialisasie 'n mite is.

Palavras-chave : aspek; betekenis; denkstrukture; koloniseer; dekoloniseer; kolonialiseer; dekolonialiseer; versmelting; tyd; kleur.

        · resumo em Inglês     · texto em Africaner     · Africaner ( pdf )

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons