SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2The deed reveals (im)moralityMotion verbs in Van Wyk Louw's poetry author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

DU PLESSIS, Elize  and  VAN DER WESTHUIZEN, Gert. Onderwyserkennis van assessering - implikasies vir die opleiding van onderwysers. Tydskr. geesteswet. [online]. 2021, vol.61, n.2, pp.551-567. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n2a9.

Assesseringsgeletterdheid is 'n belangrike komponent van die professionele voorbereiding van onderwysers. Onderwysers moet hierdie kennis toepas, deel maak van hulle pedagogiese inhoudskennis en deur praktykervaring daarop voortbou. Die navorsingsvraag in hierdie studie word gelei deur die vraag: Wat behels onderwysers se ervaring en kennis van assessering nadat hulle 'n program vir die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) aan 'n afstandsonderriginstansie voltooi het? 'n Totaal van 20 diensdoende onderwysers is doelgerig gekies en 14 deelnemers het ingestem om aan die studie deel te neem. Die ouderdom van die vyf manlike en nege vroulike deelnemers het tussen 26 en 54 jaar gewissel. Die onderwysers, wat almal minstens vyf jaar se praktykervaring gehad het, moes oop vrae beantwoord oor die doeleindes van assessering, hulle eie sienings rakende goeie assesseringspraktyke, die rol van terugvoer en handelinge in assessering wat daarop gemik is om leer te optimaliseer. Die bevindings van die studie word bespreek aan die hand van Bereiter se raamwerk van kennisbou in die onderwys en die maniere waarop kennisoortuigings in professionele leer tot die uitbouing van pedagogiese inhoudskennis bydra. Die hoofbevindings was dat die onderwysers deeglik oor assesseringsdoeleindes en goeie assesseringspraktyke ingelig is en weet hoe om terugvoer te hanteer en wat om met assesseringsinligting te doen om leer te verbeter. Die onderwysers is ook vol vertroue dat hulle kennis en praktyke voldoende en doelmatig is. Hulle voorkeurpraktyke is daarop gerig om leerderprestasie te verbeter. Die onderwysers het 'n behoefte aan opleiding in die gebruik van taksonomieë en tegnologie, en het 'n verlenging van onderwyspraktykervaring voorgestel. Die implikasies hiervan vir die opleiding van onderwysers en voortgesette professionele leer is ten slotte bespreek.

Keywords : assessering vir leer; kennisbou; kurrikulumassessering; onderwyserkennis; pedagogiese oortuigings; professionele leer.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License